Bernard Odendaal. By die dood van ’n reisgenoot

By die dood van ’n reisgenoot

(Christo Janse van Rensburg, 21/07/1938 – 13/08/2018)

 

Saam met jou was reis ook woordkoersvat.

Jóú pad het gerinkel van name en komvandane:

 

eers met die gru-slangputstorie af om Daniëlskuil se so-gedoop te snap,

of Wonderwerkgrot in waar skadu’s aan ’t danse gaan in die vertel

oor oudste mensgemaakte vure;

dan met die etimologie langs om vir Alpegems te kom staanmaak

as ons eie spiesdraerbok ‒ swart-en-wit Afrika-masker op ‒ in ’n duinestraat

 

op pad Kuruman toe,

Kalaharidorp met raaiselwateroog en raai-raai-naam

uit Khoi of San of Tswana se kalbas of skilpad of mens vandaan gehaal,

en toe gekaart-en-transport die hart van Afrikaans in:

 

’n groot hart, bedrywig

soos versamelvoëlnes in kameeldoringboom,

soos uitgevrete koringkriek en bidsprinkaan by lanternlig,

sidderend soos ’n brulduin by Witsand as mens gly-klim bo-uit

om sononder te gaan staar,

skaars ’n ingehoue eina te gaan uitkry

van die bitterboela wat jy ruik,

die toeka wat jy uit die omtes voel,

die Alommigheid se skittering op alles …

 

Ja, meer as die bestemmings anderkant die einders

was die taalstanings op die langpad

saam met jou.

 

Vierfonteijn oor Valschrivier na Vechtkop,

so-om reij onz ront (sou jy voorstandaards nog spel), ’n ander keer;

sit-sit so limiete oor van nóg Afrikaanse,

nuwe Voorposafrikaanse –

om dalk op Maokeng ’n Kroonstad te herdroom,

of op Mamafedu na die ou Petrus Steyn te soek,

na die grootwordplaas van J.C. Steyn, bul onder die woordbulle,

in die steierende voorgebergtekontrei.

En, eensklaps, deur verrinneweerde Riemlanddorpe was kannaroetes raak te sien;

was ’n mens bedag op reuseskimtroppe wildebees en blesbok op die veld,

op die bloedige stapels huid waaruit eens die streek se naam gesny is;

 

was kommetjiesgatmuishond, wildekalkoen, populierluiperdvlinder

volkse naamgerugte wat opgehaal tot lewe word daar, oor terpentyn- en rooigrasvlaktes

opgejaag, die sandsteendagsome oor, teen blousellug en stapelwolke uit …

óú omtes,

karosbont,

 

maar waar herfstyd deser dae lappe kosmosblomme pronk

uit Mexiko.

 

Reis was dreunpraatry;

met taal- en tydneem na die dinge gáán.

En hier sit ek nou.

Remme aangeslaan met die nuus oor jou.

Pletterreste, soos dié van insekte, teen die voorruit

van ’n vers.

 

  • © Bernard Odendaal / 2019
Bookmark and Share

5 Kommentare op “Bernard Odendaal. By die dood van ’n reisgenoot”

  1. Treffende en roerende gedig met Afrikaans so ryk soos Jerseykoei-room. Die einde laat mens dink aan Tomas Tranströmer se “klein grys telegramme van die lewe”.

  2. C P Naude :

    Dis n werlik pragtige gedig.

  3. joan hambidge :

    die Alommigheid se skittering op alles …

    Ek het pas Christo van Rensburg se taalboek gelees(waarin hy soos ‘n reisiger deur die geskiedenis gaan) en hierdie gedig resoneer goed hiermee.

    Van Afrikaans gepraat
    Christo van Rensburg
    Uitgewer: Lapa, 2018

  4. ‘n Lieflike vers, Bernard. Die dood laat lui welluidende klokke in jou vers. Ek mis Christo se kloklaggie.

  5. helize van vuuren :

    Afrikaanse fonologie (laat-Mei 2019)

    g [xi:]
    harde skraapgeluid in keel
    Afrikaanse merkdeel
    dieselfde klank as “/x” van /Xam
    uitgespreek “tk + g + am, TkGam
    seg oorle’ Tony Traill
    ander seg “tk + k + am”, TkKam
    hier leg die knoop, in die “ka”of die “gee”

    k [ka:]
    sentrale klank in /Xam
    meestal woorde wat begin met klapklank plus “k”
    dis die DNA in Doris se boek
    by eerste daeraad 29 tale
    nou amper almal soek

    g + k, g + /x
    dieselfde klank
    lê híér die streep ou bloed
    die erfgoed wat die taal en hierdie mense voed?