Carina van der Walt. Twee sterk vrouens

 

Française

 

ek ontmoet haar in Chartres
se vervalle kerkie Saint André SY
is sy maaksel ’n kunstenaarsdroom

elfie klein sit sy op die top van haar leer
haar kleirok is aan flarde geskeur – hare
tot in haar middel huil donker trane

wasspons in die hand voete kaal
miskien op die top van wat sy KAN
sit die elfievrou onvergenoegd & kyk

hoog & droog ver verwyder van haar
sussies wat klere uittrek in wasskottels
hare was voor spieëls hulle boude bekyk

feetjie fyn het sy uit modder opgestaan
agterdogtig met bakoortjies luister sy
ek herken die gees van die aarde in haar

 

@Carina van der Walt
uit: Hollands Maandblad, 2019 – 3

 

 

selfie

 

sy kam haar heuningblonde hare
terwyl ’n geur van amber daaruit styg

sy vis uit haar skouersak ’n bossie blou Franse
lelies & ’n swerm hommels wat daarom zoem
– die hariges ruik dit sy’s nog ’n byemaagd
sy dra die familiewapen soos ’n sagte swaard

haar oë druip hars gestol in barnsteen
terwyl ’n kleur van amber daaruit straal

sy staan so ingehoue aandagtig & kyk
asof agter haar rug ’n ry streng ouma’s
asof agter die spieël voor haar ’n lyn
van vroue vir alle sonoorgote môres

haar oogopslag is wys vir haar 9 jaar
& ryk aan dié wete van oneindigheid

 

@Carina van der Walt
uit: Hollands Maandblad, 2019 – 3

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*