Onderhoud met WJ (Bill) Henderson (Die Geleerde Digter)

 

Martjie Bosman in gesprek met WJ (Bill) Henderson oor Die Geleerde Digter band 1–3 [1]

 

Bill, jy het ’n indrukwekkende akademiese loopbaan in Suid-Afrika gehad en het in Suid-Afrika en die buiteland erkenning gekry, met talle navorsingstoekennings en artikels wat in gesiene internasionale tydskrifte gepubliseer is. Jy is erepresident van die Suid-Afrikaanse Klassieke vereniging en dien steeds op die raad van die redaksie van Acta Classica, die Suid-Afrikaanse tydskrif vir Klassieke Studies.[2] Maar vir hierdie gesprek wil ons graag meer weet van jou vertaling van antieke Griekse poësie. Vertel ons asseblief van die ses volumes vertalings van antieke Griekse poësie en kortliks wat die onderwerp van elkeen van hierdie boeke is.

Die sosio-politieke, kulturele en ekonomiese konteks van die eerste drie bundels was die stadstaat (polis), soos Sparta, Korinte of Atene. In Op Griekse lier val die fokus op die vroeë Griekse liriek, in strenge sin gedigte wat gesing is met begeleiding op die lier, in die geval van ’n gedig se eerste openbare voordrag deur die digter self. Die gedigte is meestal fragmentaries, deur geleerdes versamel van aanhalings deur antieke skrywers (meestal Alexandrynse geleerdes) en papirusvondse; net Pindaros het die geluk gehad om bewaar te word in ’n deurlopende manuskriptradisie. Om hierdie gedigte te rekonstrueer en vertolk is soos om die stukkende Griekse standbeelde en ander argeologiese materiaal weer op te bou en te verstaan. ’n Groot verskeidenheid temas word behandel: seremonie en ritueel, politiek, oorlog, die simposium, die lewe, die liefde, die poësie, outobiografie, oorwinnings by die Olimpiese en ander spele.

      Vir Griekse fluite handel oor die elegie wat met fluitbegeleiding voorgedra is, maar nou sing die digter terwyl iemand anders op die fluite speel. Die gedigte se vorm, in koeplette van alternerende sesvoetige en vyfvoetige reëls, maak hierdie digvorm verwant aan sowel die epos as die liriek. Die temas is grotendeels dieselfde as in liriek, maar met die byvoeging van narratief of vertelling, rou en vertroosting, vriendskap en patriotisme.

      Die berispende stem behandel die vroeë Griekse jambiese gedigte, wat op die jambe (’n kort lettergreep gevolg deur ’n lang lettergreep: ᴗ ‒) gebaseer is. Hierdie digvorm is nie deur ’n musiekinstrument begelei nie; die digter het die gedig voorgedra of miskien geïnkanteer. Die tematiek en toonaard is ook heel anders: hekel, berispe, waarskuwing en vermaning. Die digter ontleed al die euwels in die daaglikse lewe van die samelewing en kritiseer persone, maar kan ook speels terg.

      Met Die geleerde digter verskuif die soeklig na die stad Alexandrië met sy paleis en beroemde biblioteek of Mouseion wat die middelpunt van die Griekse kultuur geword het. Die nuwe regeerders, Ptolemaios I Sotêr en sy seun Ptolemaios II Philadelphos, het wetenskaplikes, ingenieurs, wiskundiges, filosowe, skrywers en digters as gaste in die Mouseion gehuisves. Duisende boekrolle met oud-Griekse tekste is versamel en gekatologiseer, en as basis vir letterkundige ondersoek benut. Twee nuwe genres is geskep: die pastoraal of landelike lied, en die epigram. Eersgenoemde word in Band 1 en laasgenoemde in Bande 2 en 3 behandel.

 

Waarom het jy, wat eintlik van huis uit Engelssprekend is, besluit om hierdie vertalings in Afrikaans te doen?

Uit huis uit was ek eintlik altyd tweetalig. My oupa aan moederskant was ’n Smit, my pa se ma was ’n Prinsloo, terwyl my ouma aan moederskant ’n afstammeling van Britse setlaars, met die van Tee (!), was. Dan was ek op Worcester Seunshoërskool wat tweetalig was, en verder op Stellenbosch en aan Kovsies.

My keuse om op die kort Griekse digvorms te fokus is bepaal deur die groot leemte, wat vertaling in Afrikaans betref, tussen die eposse van Homeros (8ste eeu v.C.) en die tragedies van Aischulos, Sophokles en Euripides (6de–5de eeu v.C.). Daar was reeds vertalings in Engels, Frans, Duits en Italiaans. ’n Ander bepalende faktor was die beleid en aanmoediging aan die RAU om in alle vakke die Afrikaanse vakterminologie uit te bou.

 

Jou MA-verhandeling en doktorale proefskrif het oor die poësie van die Romeinse digter Horatius gehandel, en Latyn was dus eintlik jou eerste liefde. Wat is dit dan van die antieke Griekse digkuns wat jou so bly fassineer?

Ek het agtergekom dat hoe meer ek oor Horatius geleer het, hoe meer ek van sy modelle in die Griekse poësie wou leer ken. Toe het ek toevallig in ’n boek gelees van die instituut vir die studie van die Griekse liriek aan die Universiteit van Urbino, onder leiding van sy beroemde direkteur, wyle professor Bruno Gentili. In die weeklikse seminare is ek aan die rol van mondelinge tradisie en nuwe vondse blootgestel. Ek was, soos hulle in Engels sê, hooked.

 

Jou jongste publikasie, wat in drie bande verskyn het, het die oorhoofse titel Die geleerde digter. Verduidelik asseblief aan ons die titel?

Die regeerders in Alexandrië het die land deur middel van ’n uitgebreide burokrasie geadministreer. Papirus is as skryfpapier oral gebruik. Meer mense kon nou lees en skryf. Digters het nou insae gehad in die ou Griekse literatuur en die nuwe kennis wat in die biblioteek gegenereer is, en kon nou die nuwe kennis in hulle poësie aanwend en die nuwe teikengehoor van geletterde lesers bereik. Dus die “geleerde digter”.

 

Dit gaan dus om gesofistikeerde digters wat vir ’n gesofistikeerde publiek geskryf het. Hoe verskil hierdie pastorale en epigrammatiese poësie breedweg van dié in jou vorige boeke, naamlik die liriese, epiese, en jambiese digkuns?

Die genres verskil ten opsigte van (1) lokaal en gehoor, (2) voordrag, (3) vorm en (4) temas. Die vroeë liriese, elegiese en jambiese poësie is vir ’n openbare seremonie (wyding, herdenking) of private geleentheid (simposium, troue) geskep; hierdie vorms is lewendig, deur die digter self gesing of voorgedra; die gedigte het bestaan uit strofes en vrye metriese patrone; en die temas was soos in Punt 2 bo genoem is.

Die pastorale en epigrammatiese poësie is bedoel vir die hof van die regeerders, die kollegas in die Mouseion en die breër publiek om te hoor maar ook te lees; die pastoraal het die sesvoetige maat (soos by Homeros) gebruik, die epigram die vorm van die elegie, d.i. elegiese koeplette; en die temas is aansienlik uitgebrei om ook herdersliedere, nuwe gode en mites, beskrywings van platteland en stad, grafskrifte, wydingsinskripsies, beskrywings van kunswerke, die aktiwiteite van gewone mense, lof aan lede van die vorstehuis, en meer genuanseerde voorstellings van die liefde in te sluit.

 

In die Inleiding bespreek jy die resepsie van die pastorale en epigrammatiese poësie oor die eeue tot vandag. Een groot glips was byvoorbeeld dat ’n bloemlesing in die botaniese afdeling van ’n biblioteek beland het! Sal jy asseblief so ’n kort oorsig oor die resepsie kan gee?

Dat ons hierdie skat van epigrammatiese poësie besit, is die gevolg van die arbeid van ’n reeks samestellers van Meleagros in ongeveer 80 v.C. tot Konstantinos Kephalos in ongeveer 900 n.C., en van ’n onbekende groep wat die versameling in 950 n.C. geredigeer het, asook pure geluk. Hierdie versameling, die Palatynse Antologie of Bloemlesing (Latyn Florilegium), het weggeraak, totdat ’n student genaamd Claudius Salmasius (Claude de Saumaise) dit in 1606 in die biblioteek van die Palatynse Hertog in Heidelberg gevind het. Dit was as florilegium onder die botaniese boeke gekatologiseer!

Die verdere geskiedenis het soos volg verloop: Maximilianus I van Beiere gee dit as buit aan Pous Gregorius XV vir die Vatikaanbiblioteek (1623); Napoleon kry die versameling, nou in twee bande, van Pous Pius VI en neem dit na Parys (1796); na die Slag van Waterloo kry Heidelberg een band en Parys behou die ander band (1815–1816); ná die Tweede Wêreldoorlog probeer Duitsland vergeefs om die band in Frankryk terug te kry; vandag behou elke land hulle eie band en ’n fotokopie van die ander band.

 

Dit was vir my verrassend om te lees dat daar nog steeds nuwe gedigte op papirusse ontdek word. Sal jy asseblief iets vertel van papirologie?

Met die vernietiging van die Mouseion het baie papirusrolle in die sand van die Sahara verdwyn waar die droë omgewing hulle tot ’n groot mate bewaar het. Groot hoeveelhede is en word steeds teruggevind en gepubliseeer, soos byvoorbeeld die papiri van Oxyrhynchus (el-Bahnasa) in Egipte. Maar lank voor dit is papirus, selfs waarop ou tekste geskryf was, as cartonnage gebruik om mummies mee op te stop en toe te draai. Twee onlangse vondse het groot opspraak verwek: Die eerste is ’n papirus in Keulen, Duitsland, wat van die omhulsel van ’n mummie afgehaal is, en waarop ’n heel nuwe liriese gedig van Sapfo gevind is (kyk Henderson, Tydskrif vir Letterkunde 43.2 [2006] 5–12). Die ander is ’n papirusrol wat deur die Universiteit van Milaan aangeskaf is met 110 totaal nuwe epigramme van Poseidippos. Dit is die eerste maal in meer as twee millennia dat hierdie gedigte weer gelees kan word. Met nuwe tegnologie in die hantering van die omhulsels van mummies kan verwag word dat verdere vondse gemaak gaan word.

 

In die Inleiding skryf jy oor die groot historiese afstand tussen ontstaanstyd van hierdie gedigte en ons tyd, wat die vertaler op een of ander wyse moet oorbrug. Vertel ons asseblief meer van hierdie probleem en hoe dit in die boeke aangebied word.

 Daar is drie elemente waarvan rekenskap gegee moet word: die taal van die Griekse tekste en die ontvangstaal, Afrikaans; die vorm van die tekste; en die konteks waarbinne hulle ontstaan het. Wat die eerste betref, is daar vir die klassikus net een manier om die brug te bou: “taalargeologie”, dit is baie ure se rondgrawe in Griekse leksika om die betekenisse en gebruike van woorde terug te vind; en dan die soeke na ’n geldige ekwivalent in Afrikaanse, Duitse en Nederlandse woordeboeke en gepubliseerde vertalings in ander tale.

Wat vorm betref: die meeste vertalings van klassieke poësie is in prosa, wat vir akademiese gebruik heeltemal voldoende is omdat dit die inhoud in ’n meer verklarende taal omsit, maar weinig van die oorspronklike bondigheid, verloop of ontvouing van gedagtes, die emosionele lading en “asemhaling” van die gedig, figuurlike taal of styl, en vaardigheid van die digter weergee. Vertaling van die pastorale poësie is redelik maklik omdat die langer sesvoetige reël ruimte aan die vertaler gee. In die geval van die epigram, met sy koeplette van sesvoetige en vyfvoetige reëls en baie kort formaat, is dit egter heelwat moeiliker om binne daardie beperkte ruimte reg aan die oorspronklike te laat geskied. Vir die konteks is die vertaler op die navorsing, kommentaar en kritiek van vele geleerdes aangewese om die oorspronklike teks in sy denkwêreld te plaas en oop te lê. In die laaste instansie, egter, kan die oorspronklike nooit presies weergegee word nie; ’n mens kan net hoop om soveel as moontlik van die segging oor te dra. Aan die positiewe kant: ons vertaal nie vir die Grieke nie, maar vir eietydse lesers ‒ so die gedigte moet op hulle eie Afrikaanse voete kan staan.

 

’n Verdere vraagstuk is die totaal verskillende denk- en morele raamwerk in die Hellenistiese era en vandag. Jy skryf byvoorbeeld oor die probleem wat die Britte met pederastiese gedigte gehad het. Hoe moet ons vandag oor hierdie digkuns dink? Het die antieke digkuns hoegenaamd nog iets te sê vir die hedendaagse leser?

Vir die antieke Grieke was die verskeie vorms van die liefde, of eerder begeerte, onder gode, mense of diere aan die godin Aphrodite toe te skryf en dus beskou as ’n mag van buite, normaal en onafwendbaar. In Plato se Simposium is daar juis ’n debat oor die verskillende vorms van liefde (kyk Vir Griekse fluite, bl. 153–156). Veral belangrik was die onderskeid tussen “Hemelse Aphrodite” (Aphrodite Urania), ’n meer verhewe liefde vir net mans met geestelike, morele en intellektuele ontwikkeling as doel (die bekende Platoniese liefde), en “Aphrodite vir die Volksmassa” (Aphrodite Pandêmos), ’n laer, seksuele liefde met vroue wat liggaamlik van aard en vir prokreasie bedoel is. Verhoudings tussen ouer mans en seuns was dus heeltemal aanvaarbaar en eintlik deel van die jongman se opvoeding en voorbereiding as burger. Dit is ook belangrik om te besef dat daar nie uitbuiting van die seuns was nie; inteendeel, daar was streng voorbehoude: geen verhouding met ’n prepuberteitse seun nie; geen betaling aan die seun nie; geen verleiding of verkragting teen die seun se wil nie; geen wellustige of onbetaamlike gedrag nie; en daar is verwag dat die seun ná die verskyning van sy baard ’n heteroseksuele verhouding in ’n huwelik sou aangaan. Ons moet hierdie verskynsel in die antieke Griekse beskawing verstaan en aanvaar eerder as om ons waardestelsel terugwerkend op hulle toe te pas. Daar moet ook onthou word dat hierdie verskynsel nie beperk is tot die antieke Grieke nie; dit word gevind onder ander beskawings in die verlede en vandag (kyk die Internet “man-boy relationships” en Wikipedia “Pederasty”). Wat die antieke digkuns vir die moderne leser gee? Ek dink groter verdraagsaamheid en aanvaarding van ons menswees.

 

Laastens, miskien ’n onbillike vraag: Watter van die digters in die drie bande is jou gunsteling en waarom?

Dit moet Poseidippos (ongeveer 310–240 v.C.) wees. Tot 1993 was net 13 van sy epigramme bekend. Met die publikasie van die Milaanpapirus het 110 epigramme vir die eerste maal sedert ongeveer 230–200 v.C. weer aan die lig gekom ‒ dit is tussen 2249 en 2219 jaar gelede! Dit is opwindend om aan sulke nuwe gedigte te werk en te ontsluit. Die kritiek en geleerde debat is vars en entoesiasties, en nuwe insigte verskyn gereeld. Die Poseidippos-papirus bied ons die vroegste Griekse digbundel. Daarin vind ons nuwe temas vir epigramme: inskripsies vir geboue (bv. tempel, vuurtoring) wat deur die Ptolemeërs opgerig is; of ter viering van die vorstehuis se oorwinnings in perdewawedrenne by die Olimpiese en ander spele; of oor edelgesteentes, voëlwiggelary en geneesmiddels. Daar kom ook woorde voor wat tot nou onbekend was en dus nie in die standaardwoordeboek, Liddell en Scott se Greek-English Lexicon, opgeneem is nie. Dit is werklik opwindend in ’n vakgebied wat deur die meeste mense as oud en dood beskou word.

 

Baie dankie vir die interessante gesprek, Bill!

 

 

 [1]   Die geleerde digter kan teen R450.00 vir al drie bande bestel word by www.imprimatur.co.za of per e-pos by redaksie@imprimatur.co.za.

[2] Prof.  W.H. Henderson het die B.A.- (1958), B.A. (Hons.)- (1960), M.A.- (1964) en D. Litt.- (1971) grade aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy was lektor in Latyn aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (nou die Universiteit van die Vrystaat) (1960–1966), waar hy Grieks III (1963) bygewerk het. Met ’n toekenning van die British Council het hy navorsing aan die Universiteite van Durham en Cambridge gedoen oor die beeldspraak in Horatius se Odes (1965–1966). Ná my terugkeer na Suid-Afrika is hy aangestel as Senior Lektor in Klassieke aan die Universiteit van Natal, Pietermaritzburg (nou die Universiteit van KwaZulu-Natal) (1967–1969). Daarna is hy aangestel as Senior Lektor in Klassieke Tale aan die nuutgestigde Randse Afrikaanse Universiteit (1970–1974), waar hy na Professor bevorder is (1975–1997). Ná vroeë aftrede was hy steeds aan die RAU en toe die Universiteit van Johannesburg verbonde as Spesiale Professor of op kontrak (1998–2014) en uiteindelik as Emeritus Professor (2015–hede).

        In 1976 ontvang hy ’n Senior Beurs van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) vir navorsing oor die vroeë Griekse liriese poësie aan die Centro di ricerca sulla lirica greca e la metrica greca e latina aan die Universiteit van Urbino in Italië. Toekennings van die RGN en RAU vir verdere besoeke na Urbino het gevolg, vir navorsing oor die elegie (1983) en jambiese poësie (1989). Hy het ook met korter besoeke aan die Universiteit van Basel (1993), die University of Western Ontario, Kanada (1997) en die Universiteit van Leiden (2001, 2003, 2006) navorsing oor die vroeë Griekse poësie onderneem. Navorsing oor die pastoraal en epigram is in Urbino begin, maar met jaarlikse toekennings van die Nasionale Navorsingstigting, hoofsaaklik in jaarlikse besoeke van een maand, in die biblioteek van die Institute of Classical Studies van die Universiteit van Londen gedoen (2012–2016).

        In 2003 is ’n huldigingsbundel aan hom opgedra: Literature, Art, History: Studies on Classical Antiquity and Tradition in Honour of W.J. Henderson, reds. A.F. Basson & W.J. Dominic (Frankfurt am, Peter Lang, 2003), wat bydraes van klassici van verskeie lande ingesluit het.

 

Artikels in buitelandse tydskrifte en boeke is die volgende:

  • “Theognis 702-712: the Sisyphus-” Quaderni Urbinati di Cultura Classica (Urbino) ns 15 (1983) 83-90.
  • “Criteria in the Greek lyric contests.” Mnemosyne (Leiden) 42.1/2 (1989) 24-40.
  • “South Africa: Greek and Latin Philology.” In G. Arrighetti (red.), La filologia greca e latina nel secolo XX, 2: 823-851 (Rome, 1989).
  • “Violence in Prudentius’ ” In A. Buttitta et al. (reds.), Studi di filologia classica in onore di Giusto Monaco, Vol. 3: 1291-1299 (Palermo, 1991).
  • “Pindar, fr. 140b Snell-Maehler: the chariot and the dolphin.” Hermes (Stuttgart) 120 (1992) 148-158.
  • “Fulgentius of Ruspe.” In A. Savvides, B. Hendrickx, T. Sansaridou-Hendrickx & S. Lambakis (reds.), Encyclopedic Prosopographical Lexicon of Byzantine History and Civilization, Vol. 3: 30-31 (Turnhout, 2012).
  • “Iamblichus Chalcidensis.” In A. Savvides, B. Hendrickx, T. Sansaridou-Hendrickx & S. Lambakis (reds.), Encyclopedic Prosopographical Lexicon of Byzantine History and Civilization, Vol. 3: 270-273 (Turnhout, 2012).
  • “Gessius again: Palladas, AP681-688, APl 317.” In W. Henderson & E. Zacharopoulou (reds.), Greece, Rome, Byzantium and Africa: Studies presented to Benjamin Hendrickx on his Seventy-Fifth Birthday, 348-370 (Athene, 2015).
  • Resensie van K.W. Wilkinson, New Epigrams of Palladas: A Fragmentary Papyrus Codex (P.CtYBR inv. 4000), Durham, NC, 2012. Classical Review (Cambridge) 66 (2016) 98-100.
  • “Imagery in the Yale codex: a semiotic probe.” In C. Cairns & M. Kanelou (reds.), (Beplande volume met artikels oor die Palladas-epigramme, Brill).

 

Bookmark and Share

Comments are closed.