Johann Lodewyk Marais. Rivierpampoen

RIVIERPAMPOEN

Gunnera perpensa

 

Die rivierpampoen se lappe blare

floreer op plekke waar dit modderig,

verafgeleë en onbegaanbaar is.

 

Met voete in die drasserige vlei

skuifel die tydelose grysgroen plaat

miljoene jare lank die skuinste af.

 

Dié krui skep sy eie metafore,

speek sy groot, gelobte sambrele oop

en hang ’n skaduwee aan die middag.

 

Enter the dinosaurs! Die plasenta

van dier en mens is hier gevoed en verlos

om lewe te baar en te verseker.

 

Die taai, hardnekkige rivierpampoen

weer hom met sy ruie gebladerte,

behaarde nerf en krullende slingels.

 

Uit die oerbos kom genesing en troos

vir veldsere en ek brou wortelbier

sodat ek snags aan die sterre kan raak.

 

 

©Johann Lodewyk Marais / 2019

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Rivierpampoen”

  1. Mooi gedig, Johann. Ek hou van die voortkruipende klank in: skuifel / skuinste / krui / ruie. En daardie lieflike slot!

  2. Johann Lodewyk Marais :

    Dankie, Daniel. Dit is ‘n riem onder my groen hart.

  3. Waldemar Gouws :

    Hierdie vers is moetie in ‘n kweltyd. Mag jou vleiland lank behou bly, Johann Lodewyk Marais.

  4. Johann Lodewyk Marais :

    Dankie, Waldemar. Dit is ‘n bladsy uit my “Veldboek”.