Onderhoud: Vandag is boordensvol. Pablo Neruda (vert. De Waal Venter)

Vandag is boordensvol:  Pablo Neruda in Afrikaans.

Vertaal deur De Waal Venter. (Naledi, 2019) 

’n Onderhoud met de Waal Venter deur Gert Brits

De Waal Venter

  1. Hoe het jy Pablo Neruda ontdek?

Neruda is een van die bekendste digters van ons moderne tyd. Hy is al beskryf as die belangrikste digter van die twintigste eeu en die belangrikste digter wat in ’n Europese taal geskryf het. Dit is veral sy vroeë liefdesgedigte wat oral in die wêreld gewild is, ook in Suid-Afrika.

Ek het in my jonger jare kennis gemaak met sy verse in vertaling, hoofsaaklik in Engels. Die hartstog en aardsheid van daardie verse was vir my aantreklik en ek het gewens ek kon dit in die oorspronklike taal lees. Eers baie jare later het ek my kennis van geskrewe Spaans in so ’n mate verbeter dat ek sy verse in die oorspronklike taal kon geniet. In ongeveer 2011 het ek begin om van sy verse te vertaal en die proses is nou nog aan die gang – hy het ’n baie groot oeuvre.

 

  1. Kan jy geloofbaar vertaal as jy Spaans nie goed ken nie.

Ek het ’n voldoende leeskennis van Spaans, maar nie van die spreektaal nie. Ek het nooit die geleentheid gehad om in ’n Spaanse spraakomgewing te wees nie. Daar is nadele daaraan en ook voordele. Die nadele is dat mens nie met Spaanssprekende mense in hulle taal kan praat en hulle reaksie en terugvoering kan kry nie. Mense wat Afrikaans en Spaans goed magtig is, is dun gesaai. Gelukkig ken ek darem ’n paar.

Die voordeel is dat jy met hoofsaaklik leeskennis, ekstra versigtig is wanneer jy vertaal, wetende dat jy nie kan bekostig om foute te begaan nie. Foute kom wel voor in vertalings. Een voorbeeld is in die gedig “Algunas bestias” (’n Klompie gediertes).

In die begin van die gedig is daar die Spaanse reëls:

“ … el hormiguero monacal pisaba

con meliodoso pie la selva …”

My vertaling:

“… die monnikagtige miervreter
het met musikale voete deur die oerwoud gestap …”

’n Bekende Engelse vertaler het een reël só vertaal:

“… the monastic ant-heap was melodiously …”

Hoekom “miershoop” en nie “miervreter” nie? ’n Wandelende miershoop? Die woord “hormiguero” is wel “miershoop”. Wat hier gebeur het, is dat Neruda eintlik “oso (beer) hormiguero” bedoel het, wat “miervreter” beteken. Ek vermoed dat in die spreektaal die “oso” maklik weggelaat word wanneer daar van ’n miervreter gepraat word.

Nog ’n voorbeeld is in die gedig “Jy speel elke dag” waarin die Spaanse reël voorkom: “Pasan huyendo los pájaros.” ’n Vlot Spaansspreker sal maklik praat van die voëls wat verbyvlieg – voëls vlieg mos. As jy mooi kyk na die teks, sien jy daar staan eintlik: “Die voëls vlug verby”. In die gedig is “vlug” ’n sterk tema.

 

3. Neruda het ’n massiewe digterlike oeuvre gelewer – hoe verteenwoordigend is jou weergawe in Boordensvol?

Party literators praat van “Die Twee Nerudas”. Die een Neruda het duidelik politieke gedigte geskryf. Die ander een het die bekende liefdesgedigte en in ander interessante vorms geskryf. Dit word algemeen aanvaar dat die “Politieke Neruda” se werk min of geen literêre waarde het nie. Hy het dit in diens gestel van sy oortuiginge as sosialis en kommunis. Ek het geen van hierdie verse vertaal nie.

In Vandag is boordensvol het ek probeer om in ’n relatief kort bestek so verteenwoordigend as moontlik te wees van die nie-politieke verse oor die hele verloop van sy lewe. Daar is gedigte uit sy beroemde “Twintig Liefdesgedigte”, die “Residencia en la tierra I en II”, sy “Kapteinsverse”, sy Odes en “Memorial de Isla Negra”. Die bundel bevat ook al twaalf die canto’s uit “Alturas de Macchu Picchu” (Die hoogtes van Micchu Picchu).

 

4. Waarom is Neruda se oeuvre so polities gelaai (hy is beskryf as ‘n ‘militante kommunis’) en hoe hanteer jy dit in jou projek?

Voor die Spaanse Burgeroorlog (1936 tot 1939) het Neruda in Spanje gewerk as konsul. Hy en Federico Garcia Lorca het goeie vriende geword. Hy het ook vriende geword van ander Spaanse en Franse digters. Genl. Franco se fasciste het al hoe meer mag in die hande gekry en hulle is teengestaan deur mense soos Lorca en ander kunstenaars. Dit word algemeen aanvaar dat Lorca deur die fasciste tereggestel is. Dit het Neruda diep getref en was waarskynlik die hoofoorsaak dat hy by die kommunistiese party aangesluit het.

Neruda se kommunisme was eerder ’n sterk sosialistiese oortuiging, as wat dit ’n ondersteuning van die kommunistiese staat se realpolitiek was. Hy het hom vereenselwig met die gewone en arm mense, veral van Suid-Amerika. Sy Canto General en veral die twaalf canto’s van die “Alturas de Macchu Picchu” (Hoogtes van Macchu Picchu) is ’n duidelike voorbeeld hiervan.

Ek het geeneen van Neruda se kennelik politiese gedigte vertaal nie, aangesien kritici saamstem dat daar min poëtiese meriete in daardie verse is.

 

5. Hoe belangrik is vertaling tans in ons Afrikaanse poësie?

Dit is belangrik vir ’n taal en letterkunde om gevoed en verryk te word uit ander tale en letterkundes. Gelukkig word daar tans heelwat uit ander tale in Afrikaans vertaal en so word Afrikaans ook in ander tale vertaal. Mens dink aan Cas Vos se “Paradiso” en “Die Goddelike Komedie”, vertalings uit Dante Alighieri se “Divina Commedia”. Of Marlise Joubert se samestelling van verskeie vertalers se vertalings van Afrikaanse gedigte na Engels, nl. “In a burning sea”.

Ons leef in ’n wêreld wat ons selfs twee dekades gelede nie baie bekend sou kon gevind het nie. Wêreldkulture en tale word toenemend met mekaar in verbinding gebring deur die ontsaglike mag van elektroniese kommunikasie. Geen taal kan bekostig om afgesonder te bly van die invloede van ander bewoners van hierdie planeet nie.

 

  1. ’n Mens sou kon sê dat Neruda op sensualiteit gefikseer is, eerder as op die sterk erotiese – bv. in sy Kapteinsvers Die koningin – wil jy sy liefdespoësie karakteriseer?

“La Reina” is een van Neruda se mooiste gedigte, maar nie een van sy mees tipiese nie. Die erotiek is baie gedemp en die digter konsentreer eerder op die eienskappe van die beminde wat nie beter is as ander vroue nie, maar tog het hy haar baie lief.

Neruda was ’n meevoerende digter van die liefde. Liefdesgedigte vorm die kern van sy oeuvre en hy het liefdesgedigte geskryf tot aan die einde van sy lewe. In 1971 het hy ’n Meksikaanse joernalis vertel dat liefde sy hooftema is. Hy het toe ontken dat politieke sake essensieel vir sy poësie is. Hy het gesê: “Wat is essensieel? Dit is om te ontdek wat mens werklik voel elke oomblik van jou lewe.”

Mens kan dit sien heel aan die begin van sy loopbaan as digter toe hy in sy gedig “Sensación autobiográfica” (Outobiografiese ervaring) gestel het dat hy ’n boom wil plant, ’n boek wil skryf en ’n kind saam met ’n vrou wil hê. In 1965 het hy vir Mario Vargas Llosa gesê dat sy raad aan ’n jong digter is om aan te hou om liefdesgedigte aan sy beminde te skryf, want “poësie ontstaan as kommunikasie tussen twee minnaars”.

.
  1. Hoe pas jy jou poëson-teorie (oorheersing van die onbewuste in die skeppingsproses) toe op vertalings?

Die “poëson” is my benoeming vir die werkswyse (eerder as teorie) wanneer ’n gedig geskep word. Om streng te vereenvoudig: ’n poëson is ’n idee (konsep, gedagte) wat in ‘n gedig vervleg is met ander poësons om die bousel van die gedig tot stand te bring. ’n Poëson is nie noodwendig duidelik uitgespel en omlyn nie, maar moet dikwels deur die leser “ontrafel” word uit die matriks van die gedig. Poësons speel op mekaar in, in die gedig. Die term “poëson” is deur my geskep om die begrip hanteerbaar en kenbaar te maak.

Na my mening gebruik alle digters hierdie konsep wanneer gedigte geskep word, al dink hulle nie daaraan as sulks nie. Die werking van die poëson is hoofsaaklik onbewus. Rasionele denke speel ’n rol in die vorming van die gedig nadat die onbewuste skeppingsproses vorm gekry het.

In vertaling speel die poëson ’n mindere rol omdat die vertaler met ’n reeds gevormde gegewe werk. Maar wanneer die vertaler konsepte in ’n bronteks moet oorsit in ’n teikenteks, gebeur dit dikwels dat dit nie direk uit een taal na die ander omgesit kan word nie. Dan moet die vertaler, nes ’n digter, put uit sy onbewuste en ’n poëson ophaal wat die verlangde uitwerking kan hê.

 

  1. Jy is ook ’n sterk grafiese kunstenaar, veral met jou ‘fotografikas’ – wat het jy probeer uitlig in die omslag-illustrasie van Vandag is boordensvol?

My term “fotografika” beteken die kunswerk wat geskep word wanneer verskillende media ingespan word en vermeng word om iets nuuts tot stand te bring. In hierdie geval is een van die media fotografiese materiaal.

Ek het die omslag-illustrasie geskep deur ’n pentekening te maak, gebaseer op ’n bekende foto van Neruda. Dit is verder afgewerk met waterverf en toe elektronies met verskeie toepassings afgerond. Ek het probeer om Neruda se ietwat dromerige, ligtelik melancholiese en tog diep menslike warmte vas te vang.

 

  1. Hoekom het Neruda odes aan doodgewone goed soos tamaties (en chips) geskryf?

Neruda se liefdesgedigte wat hy as baie jong man in sy twintigerjare geskryf het, was van sy gewildste onder die breë publiek van Suid-Amerika. In later jare het hy gedigte in verskillende style geskryf, byvoorbeeld “Residencia en la Tierra I en II” in 1933 en 1935. In 1950 het hy sy magistrale “Canto General” geskryf.

In 1954 het hy besluit om weer sy oorspronklike gehoor, die werkers, die “gewone mense” van sy tuisland, aan te spreek. Hy het toe gedigte geskryf in die versameling “Odas elementales”. Odes in eenvoudige, direkte taal oor die gewone dinge in mense se lewens. Odes aan die tamatie, ’n kastaiing, ’n tuna in die mark, ’n horlosie, ’n boek, gestrykte klere en aan wyn! En dit het groot byval gevind by sy groeiende getal lesers oral in die wêreld.

 

  1. Hoekom ”Boordensvol”?

Die titel “Vandag is boordensvol” is ontleen aan ’n reël uit die gedig “8 September” wat in die bundel opgeneem is.

“Hoy, este día fue una copa plena …”

Direk vertaal is dit: “Vandag, hierdie dag, was die beker vol”. ’n Bietjie meer vrylik vertaal: “Die dag was oorlopens vol”. Maar ek het die pragtige Afrikaanse uitdrukking “boordensvol” gebruik en die teenwoordige tyd gebruik. Ek dink die titel lewer kommentaar op die rykdom, die oorvloed, van meevoerende, ontroerende poësie wat hier aangebied word.

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*