Resensie: Vandag is boordensvol (Gedigte van Pablo Neruda, vertaling)

“Wild en heerlik was jy tussen genot en slaap”

Resensie: Vandag is boordensvol: Pablo Neruda in Afrikaansvertaal deur De Waal Venter (Naledi, 2019)

Resensent: Marlies Taljard

Pablo Neruda is een van die mees vertaalde digters van die twintigste eeu. Verskeie digters het al vertalings van dié Chileense digter in Afrikaans die lig laat sien, waaronder dié van Uys Krige waarskynlik die bekendste is. So ‘n paar jaar gelede het De Waal Venter en Johann Lodewyk Marais enkele Afrikaanse vertalings van Neruda op Versindaba gepubliseer en die kommentare was besonder positief. Dat daar ‘n behoefte aan so ‘n bundel bestaan, is duidelik. Breyten Breytenbach het destyds aangebied om saam te werk aan ‘n projek om ‘n bundel Neruda-gedigte in Afrikaans te maak. Johann de Lange het ‘n knap vertaling van die Ode aan die Kat in sy kommentaar geplaas. Ook ander digters het onlangs op Versindaba en in gebundelde werk Neruda-vertalings gepubliseer. Pas verskyn die bundel Vandag is boordensvol: Pablo Neruda in Afrikaans van De Waal Venter by Naledi-uitgewers. Ek het dadelik gewonder wat dan van die ander vrywilligers geword het … Ewentwel, die ander digters kan natuurlik steeds vertaal, want ‘n digter soos Neruda is nooit “klaar” vertaal of “uitgeput” nie. Ook is die tersaaklike publikasie slegs ‘n klein proeseltjie aan die enorme Neruda-oeuvre. Om ‘n omvattende vertaling van Neruda se werk te onderneem, is myns insiens bykans onmoontlik, aangesien hy ‘n besonder vrugbare digter was wie se versamelde werk meer as 3 500 bladsye beslaan en waarvan die verkope, in dosyne vertalings, etlike miljoene beloop. Die literêre verdienste van sy werk is egter wisselend. Ten spyte daarvan bly dit ‘n uitdaging om ‘n seleksie van die digter se werk te maak vir ‘n vertaling soos dié wat Venter onderneem het.

Hoewel die bundel ‘n Inleiding bevat wat deur Charl-Pierre Naudé geskryf is, is dit jammer dat die vertaler self geen formele rekenskap gee van sy onderneming nie. ‘n Mens verwag immers by so ‘n groot projek dat die digter/vertaler ‘n soort teoretiese verantwoording van, byvoorbeeld, die keuse van gedigte wat vertaal is, sal verskaf. In ‘n onderhoud onlangs op Versindaba sê hy wel dat hy hoofsaaklik op Neruda se liefdesgedigte gekonsentreer het, aangesien hy die gedigte met ‘n politieke agenda waaruit die digter se kommunistiese sentimente blyk, as swakker gedigte beskou. ‘n Mens moet egter onthou dat literêre vertaling tans beskou word as ‘n wetenskap met ‘n teoretiese onderbou aan die hand waarvan die vertaler sy gekose vertaalstrategie kan beredeneer en motiveer. Kyk byvoorbeeld wat Amanda Lourens in dié verband op LitNet sê: https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-vertaling-as-oortekening-amanda-lourens/ Vir die leser wat die bundel vanuit ‘n literêre oogpunt benader, is die gebrek aan teoretiese verantwoording ‘n tekortkoming, veral omdat relatief min Suid-Afrikaners Spaans verstaan en dus nie self die brontekste kan lees om sodoende die vertaalstrategie te kan naspeur nie. Die teorie wat in die reeds genoemde onderhoud met die digter op Versindaba verskyn, sowel as enkele opmerkings deur Naudé in die Inleiding, werp wel gedeeltelik lig op die onderneming, maar dit laat die ingeligte leser steeds met talle vrae.

Wat my egter as veel vreemder getref het, is die aard en plek van die vertaler se Toeligting by die tweede Canto uit die Canto General, “Hoogtes van Macchu Picchu” (pp 118-152) wat uit 12 afsonderlike gedigte bestaan, maar eintlik ‘n afgeslote geheel vorm. Na elke afsonderlike gedig word inligting deur die vertaler oor o.a. die inhoud, die doel, die bou of die beeldspraak van dié spesifieke gedig verskaf in dieselfde lettertipe as waarin die gedigte verskyn. Met die eerste oogopslag kan die leser dus nie die gedigte van die vertaler se toeligting onderskei nie. Niks word egter gerep oor die vertaalstrategie of -problematiek wat die vertaling onderlê nie … ‘n Mens sou immers verwag dat verklarende aantekeninge in ‘n Inleiding of as Toeligting aan die einde van die bundel (of selfs aan die einde van die Canto) sou verskyn – indien die uitgewer dit werklik nodig geag het, want baie van dié inligting is myns insiens oorbodig, terwyl die meerduidige en diepsinnige aard van die Canto smeek om ‘n verantwoording van die wyse waarop die vertaler die “ruimte” van die teks verken het om by ‘n finale produk uit te kom. Hierdie ondeurdagte strategie verbreek die eenheid van die meerdelige teks en werk verwarring in die hand. Selfs ‘n baie groen teksredakteur moes beslis van beter geweet het!

‘n Derde punt van kritiek, benewens ander inkonsekwenthede wat ek nie eens hier wil noem nie, en wat ek eweneens vierkantig voor die deur van die uitgewer/teksredakteur lê, is die ontbrekende bronnelys. Hoewel titels van brontekste en datums van uitgawe wel soms in die Inhoudsopgawe en aan die begin van afdelings verskyn, is dit gebruiklik om in ‘n werk soos hierdie ‘n volledige bronnelys te verskaf waarby alle geraadpleegde werke ingesluit is – ook byvoorbeeld geraadpleegde vertalings – waarin sowel die uitgewer as die plek van uitgawe verskyn. Nie net om ‘n klag van plagiaat te vermy nie, maar ook as riglyn vir die navorser. Het die vertaler byvoorbeeld verskillende weergawes van gedigte (in hersiene uitgawes) en verskillende vertalings in berekening gebring by sy vertaling? ‘n Mens sou dit wou weet … Dit is ook nie duidelik uit watter bundels gedigte wat in die afdelings “Liefdesgedigte” en “Sonnette” verskyn, kom nie. Alhoewel die liefdesgedigte gedateer is (die sonnette egter nie), moet die navorser bibliografiese gegewens van die brontekste blykbaar self naslaan. Hoewel die skrywer/vertaler bewus behoort te wees van die bogenoemde tegniese aspekte van tekskonstruksie, is dit die werk van die teksredakteur om toe te sien dat ‘n skrywer se werk op professionele wyse gepubliseer word en dat  (tegniese) gebreke nie reeds soos wolwe uit die bos spring nog voordat ‘n mens by die werk self uitkom nie.

Dit gesê, is dit inderdaad nou tyd om aan die werk self aandag te skenk en wil ek onmiddellik my waardering uitspreek vir die omvang en die kwaliteit van De Waal Venter se vertaling van ongeveer 100 Neruda-gedigte. Soos die vertaler in ‘n onderhoud sê, het hy hoofsaaklik (maar nie uitsluitlik nie) op Neruda se beroemde liefdesgedigte gekonsentreer. Ek kan myself met hierdie keuse en beperking vereenselwig, aangesien die liefdesgedigte (en gedigte soos die Elementele Odes) die digter beroemd gemaak het en waarskynlik die beste bekend is aan Suid-Afrikaanse lesers. Hoewel dit blykbaar algemeen aanvaar word dat Neruda se politieke gedigte nie op dieselfde literêre standaard as die res van sy werk staan nie, kan dit nie as ‘n veralgemening beskou word nie, en behoort ook ‘n seleksie van hierdie gedigte uiteindelik in Afrikaans te verskyn. Die digter se politieke insigte en sy ondersteuning van Kommunisme is immers belangrike temas in sy werk en in die werk van ander digters met wie hy gedurende sy lewe bevriend was, soos Federico García Lorca.

Neftali Ricardo Reyes Basoalto is op 12 Julie 1904 in Parral, Chille, gebore en staan as digter bekend as Pablo Neruda, ‘n skuilnaam wat hy sedert die begin van sy digterskap gebruik het sodat sy pa nie moes uitvind dat hy ‘n digter is nie. Hy het dié naam in 1946 amptelik laat registreer. In 1971 word die Nobelprys vir Letterkunde aan Pablo Neruda toegeken. Hy word algemeen geag as die grootste Latyns-Amerikaanse digter van die twintigste eeu. Op 23 September 1973 sterf hy aan kanker.

Uit sy talryke werke lyk dit asof Neruda lewenslank op die wipplank van emosies gery het – soms is hy die ongeëwenaarde romantikus, en soms is sy werk donker en selfs duister met ondertone van die dood en vernietiging, soos dit onder andere blyk uit sy bekende bundels Twintig Liefdesgedigte en ‘n Lied van Wanhoop (1924) en sy beroemde 100 Sonnette (1960). ‘n Kenmerk van Neruda se liefdesgedigte is dat die mees sublieme ervarings baie dikwels met “’n druppel gal” gepaard gaan en dat ekstase dikwels in jukstaposisie met sinistere beelde gebruik word. ‘n Mens hoef nie ver te soek na voorbeelde nie:

Lyf van my vrou, ek sal voortbestaan deur jou guns.

My dors, my oneindige verlange, my besluiteloosheid!

Donker rivierbeddings waar die oneindige dors vloei,

en vermoeienis volg, en oneindige smart.

(Slotstrofe van “Lyf van my vrou”, p 3)

Beelde van ekstase en vervoering in jukstaposisie met donkerte, geheime en die skadukant van die siel vorm ook die skering en inslag van die bekende “Sonnet XVII” (sekerlik Neruda se bekendste gedig) waarvan ek Venter se vertaling hier in sy geheel aanhaal:

Sonnet XVII

Ek het jou nie lief asof jy ’n soutroos is nie, topaas

of die angelierpyl wat die vuur versprei:

ek het jou lief soos sekere donker dinge bemin word,

in die geheim, tussen skadu en die siel.

.

Ek het jou lief soos die plant wat nie blom nie

en in sy binneste versteek, die lig van daardie blomme behou,

en te danke aan jou liefde leef daar in my

die donker, volle aroma wat opstyg uit die grond.

.

Ek het jou lief, ek weet nie hoe, of wanneer, of waar nie,

ek het jou gewoonweg lief sonder probleme of trots:

so het ek jou lief omdat ek op geen ander manier bemin nie,

.

behalwe op hierdie manier waarop ek en jy nie is nie,

só naby dat jou hand op my bors myne is,

só naby dat jou oë toegaan op my droom.

.

Uit hierdie vertaling blyk Venter se vermoë om die liriese inslag van die Neruda-vers in vloeiende Afrikaanse ryme en metrum vas te lê sodat dit inderdaad na ‘n Afrikaanse gedig klink. Vertalings soos hierdie verryk die Afrikaanse poëtiese kanon deurdat ‘n nuwe, vreemde dimensie wat eie is aan die Romaanse digkuns daaraan toegevoeg word. Charl-Pierre Naudé stel dit soos volg in sy Inleiding tot die bundel Vandag is boordensvol: “In Venter se vertalings vind die Afrikaanse leser ‘n nuwe, begeesterde vertaling wat die ondertone en botone aktiveer van ‘n wêreldsimfonie …” Uit die vertaling wat hierbo aangehaal is, blyk egter ook enkele tipiese dilemmas waarmee die vertaler te kampe het. Die vierde- en derdelaaste reëls van die gedig lui: “so het ek jou lief omdat ek op geen ander manier bemin nie, / behalwe op hierdie manier waarop ek en jy nie is nie”. ‘n Onbekende digter vertaal dié reëls soos volg in Engels: “I love you in this way because I don’t know any other way of loving / but this, in which there is no I or you” en hy eindig die sonnet met ‘n sestet en nie met ‘n tersine soos in die bronteks nie. Dié keuse het natuurlik interessante betekenisimplikasies vir die gedig. Ook in Stephen Tapscott se vertaling (wat ek hieronder aanhaal) kom Venter se effe verwarrende frase “waarop ek en jy nie is nie” duideliker uit die verf, maar die wins van Venter se “só naby dat jou oë toegaan op my droom” in die slotreël word eweneens duidelik wanneer dit met Tapscott se weergawe vergelyk word:

Sonnet XVII

I do not love you as if you were salt-rose, or topaz,

or the arrow of carnations the fire shoots off.

I love you as certain dark things are to be loved,

in secret, between the shadow and the soul.

.

I love you as the plant that never blooms

but carries in itself the light of hidden flowers;

thanks to your love a certain solid fragrance,

risen from the earth, lives darkly in my body.

.

I love you without knowing how, or when, or from where.

I love you straightforwardly, without complexities or pride;

so I love you because I know no other way

.

than this: where I does not exist, nor you,

so close that your hand on my chest is my hand,

so close that your eyes close as I fall asleep.

.

Ek haal met opset hierbo ‘n bekende Engelse vertaling van die Neruda-gedig aan, omdat dit die vergelyking met die Afrikaanse weergawe (om voor die hand liggende redes) vergemaklik. Onthou egter dat beide die gedigte vertalings is en dat daar dus in beide gedigte sekere vertaalkompromieë getref is. Een van die belangrikste vrae wat die vertaler sigself moet afvra, is hoeveel speling gelaat kan word by ‘n getroue weergawe van ‘n teks. Naudé gebruik die volgende metafoor om die sukses van Venter se vertaalwerk te beskryf: “Venter het skynbaar sy toulopery gedoen en die canyons van Suid-Amerika wat hy oorsteek eggo heerlik en op die punt af in robuuste, getemperde Afrikaans [my kursivering – MT].” Vir moderne lesers was dit wel nodig om die blomryke, hoogs emosionele taal van die Spaanse Nerudateks effens te temper – nog ‘n vertaalstrategie waarvan ek graag uit die vertaler se eie pen meer besonderhede sou wou bekom. Hoewel Naudé se uitspraak op ‘n groot persentasie gedigte in die tersaaklike bundel van toepassing is, het ek tog ook soms die idee gekry dat daar té woord-vir-woord vertaal word en dat gedigte effens lam klink in vergelyking met ander vertalings en die brontekste. Een rede mag wel wees dat die Afrikaanse liefdeswoordeskat (dalk) te yl is en “ek bemin jou” en “ek het jou lief” nie die ryke Spaanse liefdeswoordeskat na behore kan uitdruk nie. Aan die ander kant is dit egter ook frases wat deur Neruda self oorgebruik word. In “Sonnet XXIV” (p. 55) wonder ek byvoorbeeld ook of die woord “snelle” nog ‘n goeie vertaalkeuse is, terwyl daar genoeg moderne Afrikaanse sinonieme bestaan. Ek wonder, in dieselfde gedig, ook presies wat bedoel word met die strofe “Niks hier is sonder lig, hoeveelhede, groeperinge nie, / en ruimtes word geopen met behulp van die wind / tot dit die seeskuim se laaste geheim openbaar.” Hierdie is ‘n voorbeeld van té direkte vertaling met gevolglike lomp sinskonstruksie wat die bundel te dikwels ontsier.

Benewens liefdesgedigte het Venter ook ander bekende Neruda-gedigte in sy versameling opgeneem. Ek bespreek ten slotte enkele gedigte uit Neruda se bekende Canto General (1950) waarin hy poog om die intrinsieke waarde van gewone dinge poëties te vergestalt. Die Canto General bevat sommige van Neruda se beste gedigte in ‘n styl wat sterk aan dié van Walt Whitman herinner – eenvoudig en gestroop van oormatige emosie. ‘n Anonieme blogger skryf: “Neruda’s greatest literary success was his ability to approach the grandiose and the minute, the tragic and the joyous, with equal patience and reverence.” Myns insiens is Venter se vertaling van gedigte uit die Canto General van sy mees suksesvolle vertalings, getrou aan die styl van Neruda, respekvol teenoor die “algemene dinge”, die “klein dingetjies” van die lewe, net soos teenoor die majestueuse, grootse en indrukwekkende. ‘n Besondere uitdaging was ongetwyfeld dié van die “Twaalf gedigte in die canto ‘Hoogtes van Macchu Picchu’”, waaroor Venter self in sy Toeligting skryf: “[Neruda se] verse is ’n fees van klanke en suggereer meer as wat dit dinge uitsê. Sy woorde het talle eggo’s en is gelaai met geheimsinnige inhoud. Hulle spoel dubbelsinnig teen mekaar aan, klouter oor mekaar en weerspieël mekaar. Die gedigte is nie altyd vatbaar vir rasionele ontleding nie. Dit is oop vir verskeie interpretasies en gee die leser die geleentheid om medeskepper te wees.” Die eerste gedeelte van die Sesde Gedig illustreer die rykdom van beeldspraak en nooi die leser uit om self betekenis aan die gelaaide woorde te gee. Venter vertaal só:

En toe het ek op die leer van die aarde geklim

deur die vreesaanjaende ruigte van verlore oerwoude

op na jou, Macchu Picchu.

Hoë stad van kliptrappe,

uiteindelik ʼn woning waar die aardse

nie weggekruip het in sy nagklere nie.

In jou, soos twee parallelle lyne

die wieg van die weerligstraal en die mens

saamgeskommel in ʼn doringagtige wind.

.

Moeder van klip, skuim van die kondors.

.

Hoë rif van die mens se dagbreek.

.

Graaf verlore in die oersand.

.

Dít was die woning, dít is die plek:

hier styg die vet mieliepitte op

en val weer terug soos rooi hael.

.

Venter vertaal hier baie woordgetrou. Dit is egter interessant dat hy afwyk van die oorspronklike strofeverdeling waar die eerste strofe na die derde reël afbreek. In ‘n vertaling van dieselfde gedig vertaal Anthony Kerrigen die Spaanse “Madre de pieda, espuma de los cóndores” met “Mother of stone and sperm of condors”, terwyl Venter getrou bly aan die vertaling van die Spaanse woord “espuma” met “skuim” … Traduttore, traditore … (vertaler, verraaier …)

Neruda is waarskynlik net so bekend vir sy Odes as vir sy liefdesonnette. In sy vertaling van 13 bekende Odes uit die Canto General kry Venter dit reg om die gedrongenheid van die oorspronklike gedigte in Afrikaans oor te dra sonder om die onderliggende spanning te verslap wat teweeg gebring word deur die kort versreëls met hul talryke enjambemente. Indrukwekkend is Venter se klankrykheid (mens wil byna van klankekstase praat!) wat ook by Neruda een van die kenmerkende eienskappe van die Elementele Odes is. Ek haal graag die eerste gedeelte van die “Ode aan Wyn” ter illustrasie aan:

Wyn met die dag se kleur,

wyn met die nag se kleur,

wyn met purper voete

of bloed van topaas.

Wyn,

sterrekind

van die aarde,

wyn, glad

soos ʼn swaard van goud,

sag

soos wilde fluweel,

spiraalgeskulpte wyn,

deurdrenk met liefde

soos die see;

nooit kon net een glas jou hou nie,

een lied, een man,

jy is koraal, mensliewend,

en op die minste moet jy gedeel word.

.

Hier is Neruda op sy treffendste, eenvoudigste aan die woord en Venter se vertaling van dié ode is ‘n kunswerk in eie reg wat, soos die res van die vertalings, behoort te spreek tot Afrikaanse poësielesers oor die algemeen en wat beslis met verloop van tyd poëtiese eiegoed behoort te word. Ek kan Vandag is boordensvol, De Waal Venter se vertaling van Nerudagedigte, met vrymoedigheid aanbeveel vir almal wat reeds Neruda-bewonderaars is óf wat dié buitgengewoon begaafde digter graag in Afrikaanse gedaante wil leer ken. Hierdie bundel is ‘n lank reeds noodsaaklike toevoeging tot die vertaalde digskat in Afrikaans.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Resensie: Vandag is boordensvol (Gedigte van Pablo Neruda, vertaling)”

  1. Charl-Pierre Naude :

    ‘n Uitstekende resensie, wat ook signale vir toekomstige soortgelyke publikasies bied. Geluk aan die vertaler met hierdie publikasie, en ook met die resensie.

    Ek moet sê, Neruda het in onlangse jare, waarskynlik weens sekere elemente in die tydsgees, begin sak in my estimasie. Maar as ek daardie aanhalings uit die Macchu Picchu-siklus hierbo in Afrikaans lees, dan voel dit vir my of ek Neruda vir die eerste maal lees, met dieselfde skok van ontdekking.

  2. Marlies Taljard :

    Charl-Pierre, ek het ook soms na my asem gesnak. Mens het tog die behoefte om die byna onsegbare in jou eie taal te lees. Daar is tussen die 103 gedigte so baie skitterende vertalings dat mens nie by almal kan stilstaan nie. Mens moet maar die boek aanskaf! Ek het jou Inleiding ook baie insiggewend gevind!

  3. Charl-Pierre Naude :

    Dankie, Marlies. Ek kry my bundel Donderdag. 🙂

  4. Marlies, ek moet darem in die bresse tree vir my medevertaler. Eers vertaal die vertaler en dan kom die akademikus agterna met sy teorie. Eers die kreatiewe werk, dan die analitiese. ‘n Vertaler wat hom steur aan die teorie, is gedoem. Dan swaai die stert die hond.

  5. De Waal Venter :

    Aan so ‘n mond moet daar beslis keurig bereide fyn appelkooskonfyt beskikbaar gestel word.

  6. Marlies Taljard :

    Daniël, tot ‘n mate stem ek met jou saam. Ek dink nie alle vertalers vertaal met die teorieboek langs hulle nie, maar ‘n vertaler dink darem seker oor sy/haar vertaalprojek. Daar duik sekerlik vertaalprobleme op (soos ek goed weet as iemand wat lank vanuit en na Duits vertaal het). Die ernstige leser wil graag weet wat dié probleme was en hoe die vertaler dit te bowe gekom het. Wat het die vertaler gedoen met onvertaalbare woorde en frases? Het hy/sy ouer tekste gemoderniseer? Watter winste en verliese was daar – het iets in die vertaling verlore gegaan? Hoe is daarvoor vergoed? Het die vertaler byvoorbeeld streng by die oorspronklike rympatroon gehou, en hoekom (nie)? Waarom het hy/sy soms van die oorspronklike vorm afgewyk? Ek glo dat dit wat ek hier genoem het, wel teoretiese aspekte van vertaling is. So ‘n verantwoording van die vertaler sal beslis waarde toevoeg aan die vertaling, veral vir die denkende leser en die leser wat die oerbronne ken. Ek bedoel nie noodwendig dat die vertaler allerhande hogere woorde en onverstaanbare filosofieë sal aanbied nie.Dit kan hy/sy later in ‘n akademiese artikel skryf as dit nodig is.

  7. Joan Hambidge :

    Ek stem met Marlies saam. Baie mooi vertalings hier, maar die leser wil tog weet watter ander vertalings is geraadpleeg?
    Wat was “lost in translation” en watter winste was daar? Ek het weer na Uys Krige se vertalings gaan kyk in Spaanse dans. De Waal het waarskynlik in sy onderhoud implisiet op die kwessies geantwoord.

    En elke vertaler gaan ander aspekte beklemtoon. En as ‘n mens die grein van ‘n taal ken, anders vertaal.

    Engels se “slim toes” is bepaald nie “slim tone” in Afrikaans nie … (om sommer ‘n lukrake voorbeeld te noem).

    Inderdaad vertaal ‘n mens nie met ‘n Derrida of Eco neffens jou nie, maar jou keuses verklap ‘n ingesteldheid. Ek het al saam met ‘n vertaler gewerk en gesien hoe ons dieselfde gedig anders vertolk weens taalverskille en klankverskille.

    Wat “foreground” jy? En dit is goed indien die bronteks ook gepubliseer word langs die vertaalde teks.

    Eco se “blow up” versus “narcotize” dus.

Los kommentaar

 

*