Marlise Joubert. Aankondiging: nuwe Inhoudsbestuurder vir Versindaba.

Marlies Taljard

Aankondiging: nuwe Inhoudsbestuurder vir Versindaba.

Versindaba het einde April vanjaar sy tiende verjaarsdag gevier!

Om as webmeester hierdie inisiatief (wat aanvanklik ook jaarlikse poësiefeeste aangebied het) te bestuur op verskillende vlakke, was nie net ʼn enorme voorreg nie, maar een van die mees bevredigende denkbaar. Boonop is ek beloon met entoesiasme en ondersteuning, met goeie vriendskappe, wonderlike bydraes en welwillendheid deur ons lesers, digters, akademici en borgskappe. ʼn Kollektiewe onderneming gewis.

Maar soos met alle goeie dinge kom daar ’n tyd om ook afstand te doen van jou skip en dit te oorhandig aan iemand anders; júís om nuwe hande aan boord te kry, maar ook om met nuwe idees en werkywer voort te bou aan hierdie interaktiewe webblad sodat dit voort kan gaan om nie net die stand van die Afrikaanse digkuns verder te reflekteer nie, maar ook om ’n  omvattende databasis te vestig en in stand te hou vir navorsingdoeleindes.

Daarom is dit vir my aangenaam om Marlies Taljard op die brug te verwelkom om as Inhoudsbestuurder oor te neem. Dis ‘n posisie wat Louis Esterhuizen behartig het tot ongeveer 2 jaar gelede en daarvoor is ek groot dank aan hom verskuldig. Hy was ‘n entoesiastiese meeloper, staatmaker en motiveerder as dit by onderhandelings, idees en hulp gekom het.

As webmeester sal ek steeds tot die einde van die jaar behulpsaam wees met instandhouding, waarna die volle bestuur van die webblad vanaf Januarie 2020 aan Marlies en haar bestuurspan oorhandig sal word. Enige donasies om haar te ondersteun in haar taak om mee te begin, sal absoluut welkom wees, asseblief. Uiteraard is insette op dié tydstip van kardinale belang – so ook enige moontlike finansiële steun en/of voorstelle ten opsigte hiervan. Haar kontakbesonderhede is hier te vinde.

Enkele biografiese agtergrond oor Marlies Taljard:  Sy is verbonde aan die Departement Afrikaans van die Universiteit van Fort Hare waar sy hoofsaaklik verantwoordelik is vir navorsing oor Afrikaanse Letterkunde en Literêre Teorie. Sy promoveer in 2007 met ʼn proefskrif getiteld Die representasie en konfigurasie van grense, liminaliteit en hibriditeit in “Kleur kom nooit alleen nie” (Antjie Krog). Talle artikels van haar het in geakkrediteerde vaktydskrifte verskyn en sy het hoofstukke in verskeie versamelbundels wat plaaslik en internasionaal verskyn het, bygedra.

Marlies Taljard tree ook op as artikelkeurder vir nasionale en internasionale akademiesetydskrifte en as manuskripkeurder vir uitgewers en skrywers. Sy is ʼn ervare teksversorger wat spesialiseer op akademiese tekste, verhandelinge en proefskrifte. Sy tree dikwels op as kritiese leser vir aspirant- en gevestigde skrywers en digters.

Sy het reeds talle referate op nasionale en internasionale kongresse gelewer, tree dikwels op as spreker by openbare geleenthede, dien op die uitvoerende bestuur van die South African Literary Awards (SALA) en insgelyks as keurder vir literêre pryse. Daar het reeds heelwat meer as 100 resensies oor Afrikaanse publikasies uit haar pen verskyn.

Op hierdie webwerf waarvan sy nou beheer gaan neem, behartig sy die afgelope jare al ʼn solo-blog oor die digkuns en dien sy ook op die paneel van resensente. Ander publikasies is byvoorbeeld enkele kortverhale, ʼn vertaling van Dostojefski se Die droom van ʼn belaglike man, ʼn reeks Afrikaanswerkboeke vir Graad 5-12 en verskeie letterkundegidse vir matriekleerders. Op navorsingsterrein is sy tans betrokke by navorsing oor die Afrikaanse letterkunde, met die fokus op poësie, en toegepaste linguistiek.

Ek kan my beswaarlik aan ʼn beter gekwalifiseerde en meelewende persoon voorstel om hierdie baie spesiale inisiatief aan toe te vertrou. Van harte geluk, Marlies! Met dankbaarheid en vertroue handig ek en Louis die skip se stuur aan jou oor as die nuwe Kaptein van Versindaba.

Mag die Afrikaanse digkuns steeds van krag tot krag gaan en mag hierdie webblad onder jou leiding altyd daar wees om hierdie prestasie vir die poësieliefhebber te dokumenteer.

Marlise Joubert

WEBMEESTER

Versindaba

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Marlise Joubert. Aankondiging: nuwe Inhoudsbestuurder vir Versindaba.”

  1. Rika du Plessis :

    Louis en Marlise, baie dankie vir die monnikearbeid wat julle oor so ‘n lang tydperk met liefde en entoesiasme verrig het. Versindaba is onontbeerlik vir elke poësieliefhebber.
    Sterkte aan Marlies – ‘n uitstekende keuse – om die skip voortaan te stuur.
    Rika du Plessis

  2. Lianda :

    Versindaba was nog altyd ‘n toevlug as mens poësiepitkos, nuwe publikasies en alles wat nuuswaardig was in die poësielandskap wou weet.
    Sien baie uit om hier te kan bly lees.
    Seënwense vir Marlise en Louis,
    en vir prof Marlies wat oorneem…baie geluk.

  3. Waldemar Gouws :

    Tot siens, Marlise en Louis. Baie dankie vir die werk en atmosfeer! Julle skip is nie roerloos nie. En baie krag vir prof. Taljard.

  4. Marie Bredenkamp :

    ‘n Skip wat by soveel oseane deurkruis, by soveel hawens aandoen, en poësie van kus tot kus
    dra: dankie Marlise vir wat jy geïnisieer het, en jou skeepsmaat, Louis, saam met jou help stuur het; en geluk aan jou, Marlies Taljard, met hierdie aanstelling: mag ons lank nog die myne van poësie ontgin. Groete, m

  5. Breyten Breytenbach :

    Liewe Marlise en Louis,
    Julle het hierdie tuiste ‘n werklike en gasvrye heenkome gemaak. Baie van ons het weer moed geskep en geput uit julle ‘goedertierendheid’ (as ek dit so mag stel). Myn of skip of werf – maak nie saak nie: dit was ‘n voorreg om ‘opgelaai’ of ‘ingeboek’ te kon wees. Maar sekerlik kan dit slegs wees dat julle die bondel na die ander heup verskuif en nog lank spoor gaan sny en roetes karteer.
    Baie dankie vir wat julle vermag het en hoe die kwaliteit van julle menswees so sterk deurgeskemer het.
    Mooi stap verder. En welkom aan die persoon wat die groot skoene moet vul en in wie julle (en daarom ook ons) vertroue het.
    Abrazos
    Buiteblaf

  6. Marlies Taljard :

    Marlise en Louis, ek betree die skip met eerbied en sien uit na die reis. Dankie dat ek reisgenoot mag wees.

  7. Charl-Pierre Naude :

    Sterkte en alle voorspoed, Marlies. Ek is seker die skip sal koersvas wees.