Resensie: Brisant (Hein Viljoen)

Brisant

Hein Viljoen

Uitgegee deur Naledi, 2019

Resensent: Charl-Pierre Naudé

Die titel van hierdie epiese gedig, van 85 bladsye, Brisant, deur die digter-akademikus, Hein Viljoen, skep met oogopslag die verwagting dat jy met ’n blomsoort te make gaan kry hier. Iets in die klank van die woord maak daardie verwagting wakker. Maar, as jy kyk na die verloklike voorblad, wat ’n gedeelte van ’n stadige-aksie-foto uitbeeld, en wel van iets soos ’n gespat of ’n ontploffing, dan weet jy, jy is verkeerd.

Jou ánder vermoede is dan reg: “Brisant” beteken inderdaad die geweldskrag van ’n ontploffing, en het niks met blomme te doen nie. Of het dit wel? Met hierdie spanning tussen die twee betekenisse, kom beide ’n leitmotief in die bundel – naamlik die relativering van betekenisse en menslike ervarings – sowel as ’n strukturerende tema aan die bot (en ek gebruik die woordspeling opsetlik) – naamlik die ontstekende (lees bevrugtende) onmisbaarheid van geweld vir die bestaan van alle lewe of ervaring.

Die storie in Brisant is oor Jan, die hoofkarakter, ’n akademikus by ’n binnelandse universiteit, waarskynlik in Pretoria, wat ’n klein en onmeevoerende stedelike bestaan voer, buiten nou vir sy oogmerke en sy fantasieë, en sy buite-egtelike verhoudings, en sy geheue aan ’n passievolle huwelik (sowat twintig jaar gelede).

Onmeevoerend? Wel, dis alles relatief, sien. En hiermee word ook ‘n belangrike toonaard aan die leser verklap: hierdie lang gedig wemel van ironieë en dubbelsinnighede.

Die epiek is al goed in Afrikaans gevestig. Van die ikoniese, klassieke voorbeelde is Joernaal van Jorik deur D.J. Opperman of Germanicus van N.P. van Wyk Louw. Hier het ons met ’n soort laatpostmoderne opsturing van The Wasteland, T.S. Eliot se beroemde modernistiese epiese gedig, te doen. Daar is ’n toon van absurditeit wat die hele tyd in die agtergrond seëvier, maar nooit heeltemal die gebeure oorrompel nie tot aan die einde, wanneer ’n soort ontploffing plaasvind wat eintlik nie regtig ’n ontploffing is nie. Maar die opsturing van ’n ontploffing. Letterlik. En nou wik en weeg ek of ek hierdie moment moet verklap. Daar is suurstof by betrokke, ʼn oormaat van, sowel as geweld (van ’n sagte soort, sou mens kon byvoeg), daar is baie kleurvolheid in hierdie epifaniese oomblik te bespeur, en ’n “bom” is ook nie te ver van die toneel nie.

Moenie te gou raai nie. Ek praat nie van ’n relatief intense minnetoneel nie, o, nee. Hoewel vele van die bladsye van hierdie epos wel sulke tonele behartig (weereens moet ek bieg ek gebruik die woordspel opsetlik). Die ontploffing wat die genoemde klimaks van hierdie storie uitmaak, is heeltemal iets anders. Maar, dis weliswaar ’n perfekte metafoor vir die resensieleser se stoutste vermoede.

Die storie handel oor die “klein man” se opstand, iemand wat nie die aandag vang nie en wat die bedreiging van totale anonimiteit in die gesig staar weens afdankings in die eietydse Suid-Afrika. Die passies van hierdie verhaal – die vuur van ons tyd – is inderdaad ’n samelewing met gefnuikte ideale, wat afspeel binne verskillende kulturele kontekste, swart sowel as wit, almal ewe gefnuik en almal ewe wrewelagtig oor hierdie toedrag van sake.

Dit skep haat, ’n soort dinamiet van die siel, sou mens kon reg raai, wat die hele tyd teikens soek, maar teikens is so snoep met hulself. Teikens doen nie aldag voor nie, net soos heldedade (maar nou betrek ek dalk Johan van Wyk) per ongeluk, hopelik akkuraat.

Die bundel is vol toespelings van ander Afrikaanse sowel as Engelse internasionale werke, soos die gedig The Wasteland van Eliot, wat onder meer die vergaan van tradisionele Westerse etiese waardes lamenteer. Maar waar Eliot se gedig ’n netwerk van baie subtiele resonansies inbou, wat almal gelyktydig waar kan wees, het Viljoen se gedig ’n soort blatantheid van segging. Of dit nou ’n sekstoneel is wat beskryf word of emosies of die uitdrukking van medemenslike wrewel. Wat dit versag is die ironie en absurditeit wat onder in die sediment van die reëls roer.

Die storie is van ’n akademiese opset, ’n universiteit en sy onmiddellike omgewing, waarin daar staatspioene voorkom, regse bomplanters, sekretaresses, baie aanvallige vrouestudente, en waarin die politieke korrektheid, en sy eweknie – politieke onkorrekte wrewel daaroor – hoogty vier.

Dis veral die “tradisionele” Afrikaanse wêreld wat hier aan die kaak gestel word, met al sy inkarnasies van die vuur – braaivleis, steaks, jag, jagsheid, opvlammings van argumente en vonkpos (om maar ’n paar te noem). Overgesetsynde: al sy inkarnasies van passie, veral onderdrukte en gefnuikte passie.

As daar iets is wat alle Suid-Afrikaners saambind, is dit hul grootpratery oor hoe hulle die samelewing des moers wil sien brand. Eintlik bly hierdie revolusie voortdurend egter op die vlak van die ontbrandende sinapse in almal se koppe. Daar waar die mikroskopiese brisant die botoon voer, en waarsonder ons niks sal hê nie, nie haat of liefde nie.

Die toespelings in die werk is die suksesvolste deel daarvan. Dis op die vlak van storie, op die eerste vlak, waar Brisant struikel en nie uit die verf kom nie. Dis asof die outeur op die toespelings gefokus het pleks van die storie, en lateraan raak die leser verstrengel in die eindelose herhalings van vrytonele en binnehof-rugstekery, en sloerende skeisake. Die metaforiese skakelings resoneer wel, maar die hele tyd ly die storie skade. Dit is vir hierdie leser ’n jammerte – dat soveel beskrywingskrag en beskrywende aanvoeling en al die dubbelbetekenisse, op die storievlak struikel en herhalend word en later die leser se aandag nie meer behou nie.

Die opstuur-formaat van die werk gee wel ruimte vir hierdie “fout” om asem te haal, maar ek dink beide uitgewer en digter moes meer aan die digtheid van die teks gewerk het.

Op die vlak van metaforiese inspieëlings van gegewens op mekaar is – en ek noem een voorbeeld – die klappers, die bomme, die donderweer, die sinapse en die blomme wat geluidloos “ontplof” – ’n interessante en betekenisvolle motief, waarvan die effek ’n relativering is. Dis ʼn relativering wat die erns uit gewigtige gebeure haal en die “gewigtigheid” van oënskynlik nietige gebeure se beduidendheid “opdraai”.

Maar pleks dat die reëls veelvoudige influisterings behou, soos aan die begin van die postmodernistiese epos wel die geval is, word beskrywings van soortgelyke verskynsels by herhaling naas mekaar ingeryg.  Hierdie opstapeling raak vermoeiend en is nie deurgaans funksioneel nie.

Daar is ’n lonende enigma in die ontknoping van die gebeure, wat ek ook nie gaan verklap nie, en ek laat dit aan die speurende leser oor om uit te snuffel.

Dis in die beskrywing van die klein moment, die onpoëtiese moment, waarin die gedig op sy sterkste vertoon., soos op bl. 5:  “die whisky kolk / rokerig om die ysblokkies in sy glas”.  In ’n beskrywing soos hierdie, waarin ʼn leitmotief van ontsteking en ontbranding resoneer, is die poëtikale waarde van die teks op sy beste.

Daar is baie werklik treffende beskrywings, soos: “luidsprekers soos lughamers” (bl. 10). En luister na hierdie suggestiewe aanloop tot ’n intense liefkosing: “Renate sleep hom na ’n bonesak in die hoek”.

Die tema van ontsteking en ontbranding, waarvan die uitbeelding van erotiese begeerte een van die belangriker metafore is, is baie goed geteken, meestal, maar dit raak ook te veel in die sin dat die opstapeling van erotiese gewaarwordinge nie in gelyke maat gepaard gaan met narratiewe ontwikkeling nie.

Die afwisseling van hede en terugflitse is op hul beste navrant, soos wanneer Jan sy passievolle jeug met Evette onthou, maar soms raak dit onduidelik in watter tydsgewrig die vertelling nou verkeer. Pleks van dubbelsinnig wees, raak hierdie oormekaarvleueling van tyd plek-plek “gesmeer”.

Die naasmekaarstelling van verskillende karakters se dialoog werk ook ook soms verduisterend. Een voorbeeld:

.

“Het jy gehoor? Die fakulteit moet 10 poste sny.

Hulle gaan ’n klomp pakkette aanbied.” Koue

sprei deur sy maag in sy bene af   Jan moet gaan sit

sy das wurg ondraaglik    dit moet af

“Julle is ver in die rooi.”  (bl. 23-4)

.

Die aaneenlopende sinne wat net deur groter gapings geskei word en nie punte nie, dra nie tot helderheid by nie. Daar is verskeie intertekste wat in die teks saamsing, tipies van ʼn postmodernistiese teks.  ’n Voorbeeld van ’n klassieke verwysing, na die verstrooiing van ledemate, as ’n eweknie vir die verstrooiing van ledemate na ’n bomaanval, kom voor op bl. 34-5, in die klassieke mitiese gegewe van Osiris en Isis. In die mite van Osiris, word hy opgesny deur sy broer Set, en sy ledemate word versprei. Daarna maak ’n bedroefde Isis, Osiris se geliefde, al die ledemate bymekaar. Wie was Osiris en waarom kom dit voor in die teks? Hy was die god van vrugbaarheid. Dus sien die leser hoe Viljoen die tema van geweld en bevrugting in allerlei verwysings saamtrek. Die ontploffing van ’n bom is net deel van hierdie iterasie.

Brisant is by uitstek ’n teks wat die postmodernistiese styl se effekte nastreef: gelykstelling van die verhewe en die banale, byvoorbeeld. Die beplanners van ’n bomaanval, wat normaalweg met Moslem-ekstremiste of Afghaanse kleinboere verbind word, is hier akademici aan ’n universiteit.  Daar is die gegewe van Aboobaker in die teks, geheimsinnig en nie heeltemal duidelik vir my nie. Maar hy staan op een of ander manier agter die bomplantplanne van die skynbaar regse sel te lande, as vergelding vir onder meer die moorde op Suid-Afrikaanse boere. Die implikasie is dat die Afrikaanse boer en die Islamitiese ekstremis dalkies nie te ver van mekaar te skeie is nie.

Die verdere vermoede wat by die leser ontstaan is dat die spektrum oneindige redes wat gegee word vir geweldpleging, eintlik net ’n rasionalisasie is wat ’n onderliggende tragiek verswyg: dat die aanwesigheid geweld, op groot óf mikrovlak, deel is van ’n groter prentjie, buite die mens om, waarin die mens se eie kategorieë van platvloerse en verhewe nie meer bestaan nie en eintlik bo op “geplak” is.

Soos reeds genoem, is die teks indrukwekkend op die vlak van subteks en interteks. Dis op die storievlak wat daar probleme is.

Die belangrikste interteks is ’n deel van The Wasteland, van T.S. Eliot, genoem “The Sermon of Fire”, waarin vuur deel uitmaak van ’n tema van verval. Maar hier word daardie eensydige siening juis aan die kaak gestel deur Viljoen se teks – op tipies postmodernistiese wyse.

Om op te som: ’n Interessante, selfs boeiende teks, wat die bekende stylfigure van postmodernisme, soos die afwesigheid van sekere leestekens, nastreef – maar met bepaalde gebreke veral van die strukturele soort.

Die heel laaste seksie in die epiek, is “Ryk swartgrond    die wêreld nuut”. Die swartheid van die ryk grond hang nou saam met vuur, en die teks eindig dus onomwonde as ’n aanvaarding van die vuur en bevrugting.

Dit het baie interessante, dalk vir sommiges aanvegbare, implikasies vir sienings oor die huidige Suid-Afrika en sy probleme.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: Brisant (Hein Viljoen)”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Ek gaan te wille van volledigheid, die ongewone ding doen. En as resensent van bogeoemde resensie, ‘n voetnoot plaas by my ve en hoe dit in Brisant voorkom. Eliot gebruik wel hierdie simbool op ‘n manier wat evolueer, net soos in Brisant. Die betekenis van vuur bly nie net by verval en die hel van die laatfase van Industrialisasie nie. Die “simbool” verwys ook lateraan na meer positiewe ervarings, soos die suiwerende krag daarvan. En Brisant betrek hierdie evoluering van ie simbool, soos wat dit voorkom in The Wasteland, naby die einde van Brisant, deur middel van die akademikus-hoofkarakter se mymering op die naam “Eliot”.

    Jammer. T.S. – dat ek jou hantering van simboliek bietjie te plat voorgestel het.