Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans

Magmoed Darwiesj. In Afrikaans vertaal deur Bester Meyer

. 

Die Hoep-Hoep – Magmoed Darwiesj (Ek sien wat ek wil sien, 1993)

 

Ons het nog nie by die land van ons veraf ster aangekom nie.

Die gedig trek ons deur die oog van ‘n naald

om so ‘n kabaai van ‘n nuwe horison te weef.

Ons is gevangenes-

selfs al groei ons koring oor die drade

en al neem swaeltjies vlug vanuit ons stukkende kettings.

Ons is gevangenes van wat ons lief het,

dit wat ons begeer

en dit wat ons is.

 

Maar in ons is daar ‘n hoep-hoep

wat sy briewe dikteer aan die olyfboom van ballingskap.

En ons briewe is na ons toe teruggestuur

vir ons om te herskryf,

dit wat die reën skryf van primitiewe blomme op die steen van die verte.

‘n Eggo breek in ons, en gaan dood,

om geboorte te gee aan die reis se voleinding.

 

Ons was nie basilie wat in die lente terugkeer na ons klein vensters toe nie.

Ons was nie blare vir die wind om ons na ons kuste toe te dwarrel nie.

Hier en daar merk ‘n duidelike lyn die roete van ons swerftogte.

Vir hoeveel jare moet ons ons dooies opoffer

aan die vergetelheid gespieël in die klankryke dubbelsinnigheid?

Vir hoeveel jare moet ons gewondes berge van sout optel,

sodat ons die gebooie mag vind?

Ons briewe is na ons toe teruggestuur, en hier en daar,

merk ‘n duidelike lyn die skaduwee.

Hoeveel oseane sal ons in die woestyn moet deurkruis?

Hoeveel grafstene sal ons agter ons moet laat?

Hoeveel profete sal ons om die lewe moet bring teen hoogmiddag?

Hoeveel nasies sal ons moet verteenwoordig voor ons ‘n volk sal kan wees?

Die weg- ons weg:- is ‘n tapisserie van woorde.

Daarmee heel ons die soom van die kabaai wat uitgestrek lê tussen ons alleenheid en die nomadiese land wat slaap in ons saffraan skemer.

Laat ons dan oopgaan soos ‘n hand,

ons tyd geoffer aan die gode.

 

Ek is ‘n hoep-hoep het die gids aan die meester van alle dinge gesê,

Op soek na ‘n verlore hemel.

 

Ons’t gesê: Wat van die wildernis oorgebly het, is slegs wat die wildernis van ons kan vind:

die oorblyfsels vel oor doring, ‘n kryger se lied vir sy vaderland en ‘n mond vol leegte.

Ons ruïne lê voor ons, en agter ons, absurditeit se dop.

Ek is die hoep-hoep het die gids gesê en weggevlieg met die strale en die stof.

 

Toe het die wyses probeer sin maak van die reis en die legende:

Waar kom ons vandaan?

Ons oorblyfsels lê voor ons, en agter ons, die wilger.

Ons name is afgelei van ons name en ons steek ons vergeetagtigheid van ons kinders af weg.

Bergbokke spring uit bergbokke tot bo-op tempels,

en voëls lê hulle eiers op vreemde standbeelde.

Ons het nie gevra waarom die mens nie uit bome gebore word

om so herbore te word in die lente nie.

Die orakels het voorspel:

Harte sal op ‘n skaal geweeg word in antieke Egipte.

Die obelisk sal steun verleen aan die gebroke horison

en verhoed dat dit op die tye ineenstort-

Die buitenste duisternis sal opnuut getuie wees van ons swerftog.

Die orakels het voorspel:

Konings sal ons regters wees. Ons vyande sal ons getuies wees.

En ons siel sal beskerm word deur skaapwagters.

Ons reis is ‘n brug oor twee riviere.

Ons is nie gebore om deur die lewe uitgewis te word nie,

of vir die lewe om die lewe self uit te wis nie…

 

Ek is die hoep-hoep het die gids gesê

Ek sal my weg na die lente vind wanneer die plante verwelk.

Ons’t gesê: Ons is nie voëls nie.

Hy’t gesê: Julle sal Hom nie bereik nie. Alles is Syne.

Alles is in Hom, en alles is Sy manifestasies.

Soek Hom as julle Hom binne Hom wil vind. Hy is binne Hom.

Ons’t gesê: Ons is nie voëls wat kan vlieg nie.

Hy’t gesê: My vlerke is die tyd.

Liefde is die vuur van liefde, so brand:

om julleself te bevry van die liggaam van plek.

Ons’t gevra: Het jy van Skeba af teruggekeer,

om ons na ‘n nuwe Skeba toe te neem?

Ons briewe is na toe teruggestuur

maar jy is nie teruggestuur nie…

jy het nie teruggekom nie.

In Griekeland het jy Aristophanes nie verstaan nie.

In die stad het jy nie die stad gevind nie.

Jy het nie die delikate huis, om ons te omhul met die kalmte van sy, gevind nie.

Jy het nie die betekenis verstaan nie en

die geheimenis van die digkuns het jou obsessie en bekoring geword:

“Vlieg, dogters van eenderse vere, vlieg!

Julle voëls van die vlakte en vallei, vlieg!

Vlieg vinnig na my vlerke toe, na my stem toe!”

Daar is ‘n brandende begeerte in ons om te vlieg

tot (ver)by die oopheid van ons hunkering!

 

O hoep-hoep van woorde, mense is voëls wat nie kan vlieg nie.

Gee lewe aan ‘n broeisel betekenis,

sodat die voëls ons kan aangryp van die woorde af.

O kind van spanning,

wanneer die skoenlapper haar vlerke oopmaak en gewaarwording haar oorweldig,

stook ons klinkende klei, sodat die beeld van hierdie dinge sal vlam vat deur lig.

Sweef, sodat die afstand tussen ons verlede en ons naaste hede, oop sal wees.

Hoe verder ons weg beweeg, hoe nader kom ons aan ons realiteit en die grense van ballingskap.

Ons enigste begeerte is om dít oor te steek. Ons is die dualiteit: aarde-hemel; hemel-aarde.

‘n Grens binne ‘n grens omring ons. Wat lê agter die grens?

Hy het vir Adam al die name geleer,

sodat die groot verborgenheid ons reis na die misterieuse kon bekendmaak.

Mense is voëls wat nie kan vlieg nie.

 

Ek is die hoep-hoep, het die gids gesê.

Noag se vloed is onder ons, so ook Babilon, stukkende kadawers, geraamtes, tempels,

en die klank van mense se geroep om hulp op die gesig van die waters.

En ‘n einde soos ‘n begin, soos ‘n begin van ‘n einde.

Ons’t gesê: Sweef, sodat die moordenaar sy slagoffers sal vergeet.

Sweef bo ons. Sweef, sodat die Skepper sy skepsel kan vergeet,

so ook die dinge en die name van dinge

in die gemeenskaplike skeppingsmite wat ons met mekaar deel.

-Het jy al hierdie dinge vooraf geweet, hoep-hoep?

-Ek het geweet dat ‘n vulkaan sou vorm gee aan ‘n nuwe beeld van die heelal.

-Alhoewel jy die boodskapper is van hierdie aarde, het jy niks gesê nie?

-Ek het probeer. -Ons het geweet daar is genoeg skimme in die hoep-hoep

vir die minnaar om na sy beminde te soek in die begraafplaas.

Hy het ‘n moeder gehad en ‘n suide wind om op te ry.

Sy mitiese intuïsie was met water gekroon.

Op sy roete was daar ‘n koning, ‘n vrou, en ‘n weermag wat wag hou

oor die begeerte van ons twee liggame teen die lasteraar.

Ons het genoeg woestyn in ons om die leisels van ons lugspieëling

en die wolke aan die hoep-hoep te oorhandig.

Ons is delikaat genoeg om die droom van ons droom aan hom te skenk.

Neem ons, hoep-hoep. Ons tonge is verward.

Hoe prys ons die Een as Sy lofprysing in Hom is?

Sy lofprysing is in Hom. Alles is in Hom: vir alles.

Ons het ons menslikheid in hierdie woestyn aanvaar en in liefde opgelos.

Waar is ons palmboom, sodat ons ons harte kan vind in sy dadelpitte?

God is skoner as die roete na God toe.

Daar is geen terugkeer vir dié wat na nêrens reis nie.

Hulle raak verlore in verlies.

Hulle weet dat die regte pad, na die begin van die onmoontlike roete lei.

 

O hoep-hoep van geheime,

stry vir ons liefde om waardevol te wees vir ons geliefdes.

Dis ‘n ewigdurende reis soekende na ‘n eienskap wat niks soos Hy is nie,

wat verder strek as dit wat Hom beskryf en selfs verder strek as Sy beskrywing van Homself.

Al wat van ons oorbly, is ons reis na Hom.

Ons pleit by Hom dat ons die heengaan sal kan verduur.

Ons bloed is die wyn van Sy mense by die skemeraandfees.

Hoep-hoep, daar is geen jy, behalwe jy nie.

So as jy sou wou, neem ons na jou toe: lei ons na die onbegrypbare land.

Neem ons, voor ons wegdraai in die diepe niet.

Lei ons eendag terug na die bome waar ons in geheim gebore was,

sodat hulle takke ons skadu’s kan wegsteek.

Lei ons na die ryk van ons kinderjare toe, na die duiwe toe,

wat die vir eerste keer vlieg, om ons nederig te hou.

Duiwe wat hulle kuikens verbied het om te vlieg, en wat nooit gevlieg nie.

Hoe het ons het dít begeer: Miskien sal ons eendag kan vlieg…

Mense is voëls wat nie kan vlieg nie.

 

Onkunde maak die aarde groter. Kleiner, wanneer ons ons onkunde besef,

maar ons is almal afstammelinge van hierdie klei.

En vurige Satan poog, net soos ons, om die intieme geheimenisse te ontsluier,

sodat hy ons kan brand, ons verstand aan die brand kan steek.

Tog is die verstand is niks behalwe rook nie- laat dit verlore gaan!

Laat die hart die gids wees wat ons lei, O hoep-hoep van geheime,

wees ons gids om te verdwyn in Sy verdwyning.

Sweef saam met ons, en land, om ons so vaarwel te laat roep

aan ons moeder wat vir eeue op ons perde wag.

Laat haar doodgaan terwyl sy die lig aangryp, of laat haar lewe vir Nishapur,

‘n weduwee wat ons nagte bekoor. Sy “begeer slegs God van God”

…neem ons!

 

Ware liefde, is om lief te hê, dit wat nie besit kan word nie, het die hoep-hoep gesê:

Met die eggo van fluite stuur die minnaar die merrie van sy ballingskap na sy beminde toe,

om die pad te verkort, en sê: Ek is haar “sy” en sy die “ek” wat ontrafel van wanhoop na hoop

en wat dan weer in wanhoop verander. My paaie na haar deure toe, is eindeloos.

My “ek” het weggevlieg, so die enigste “ek” is dié “ek”.

Die eindelose paaie van die nasies lei nie na dieselfde ou fonteine toe nie.

Ons’t gesê: Die hemel se boodskap sal volbring word, wanneer ons hierdie eilandsee oorsteek

en die gevangenes van die grafstene bevry.

So kroon dan hierdie niet, sodat ons menslike natuur die migrasie kan voltooi.

Waarna is hierdie fluite in die woude opsoek?

Ons is die vreemdelinge, en ons, die mense van die verlate tempel, is agtergelaat op ons wit perde,

terwyl biesies spruit uit ons lywe en komete ons hoofde oorkruis.

Tog bly ons soekend na ons finale stasie.

Daar is geen plek op aarde waar ons nog nie ons tent van ballingskap opgeslaan het nie.

 

Is ons die huid van hierdie aarde? Waarna is die woorde (binne ons) op soek?

Is dit dieselfde woorde wat ons in die onderwêreld voor die hof van insigte daag?

Dieselfde woorde wat die tempels gebou het om die wilde dier

van hulle isolasie te tem met ikone en kornette?

Ons ruïne lê voor ons, en agter ons. Hier, maar ook daar.

Die orakels het voorspel:

Die stad in antieke Sjina het sy voorvaders aanbid.

Die orakels het voorspel:

Die voorvaders neem ‘n troon met hulle saam na hulle heilige graf

en hulle neem jong meisies as hulle vrouens, en krygsgevangenes as hulle wagte.

Die orakels het voorspel:

In antieke Indië was goddelikheid en menslikheid ‘n tweeling.

Die orakels het voorspel, wat alle wesens voorspel het:

Julle is ook wat Hy is.

Maar ons het nie ons vyeboom geklim, sodat die suidelike invallers ons daaraan kon ophang nie.

Is ons die huid van die aarde? Ons het voorheen aan rotse geknaag om spasie te maak vir jasmyn.

Ons het voorheen skuiling teen wagte en oorloë by God gesoek.

Ons het voorheen geglo in dit wat ons uit die woorde geleer het.

Toe het die digkuns neergedaal vanuit die vrug van ons nagte

om so ons wagters se kuddes na die weivelde te lei.

Dagbreek was blou, sag en douerig, en as ons gedroom het, was ons drome beskeie:

-die grootte van ons huise. Ons het heuning op die broodbome gesien en dit versamel.

Ons het sesam-saad op die terrasse opgestapel en gesif.

Ons sou (in die droom) sien wat ons teen dagbreek in die gesig sou staar.

Dróóm was die geliefde se serp. Tog het ons nie ons vyeboom geklim,

sodat die suidelike invallers ons daaraan kon ophang nie.

 

Ek is ‘n hoep-hoep, het die gids geantwoord, en weggevlieg met ons woorde.

 

Ons het die vloed aanskou: tog het ons nie ons aardse klere uitgetrek nie.

Ons het die vloed aanskou: maar ons het nie die oorlog teen die self begin nie.

Ons het die vloed aanskou: tog het ons nie die gars van ons goue vlaktes geoes nie.

Ons het die vloed aanskou: maar ons het nie ons stene gepoleer met die ram se horing nie.

Ons het die vloed aanskou: tog het ons nie ons begeerte vir appels versaak nie.

Ons hartseer moeder sal geboorte gee aan ander broeders van ons vlees:

maar nie aan kastaiingboom-stamme of yster nie;

om ballingskap vir die lied te bou;

om onder palmtakke of op die rûe van ons perde te bly, sou hulle dit verkies;

en hulle sal Abel as koning salf op ‘n troon van stof.

Ons reis na die vergetelheid is oneindiglik verleng.

Die sluier voor ons, verdoesel elke ander sluier.

Miskien sal die tussen-roete, ons na die pad van die wolke toe lei.

 

O hoep-hoep van geheimenisse,

miskien is ons niks anders as geeste, op soek na bouvalle nie.

Hy’t gesê: Julle moet afsien van julle liggame om my te volg.

Julle moet hierdie aardse-lugspieëling prys gee om my te volg.

Om my te volg, moet julle jul name prysgee en nie vir ‘n antwoord vra nie.

Die antwoord is in die pad.

Die pad is niks anders as om in die mis te verdwyn nie.

Ons’t gesê: Het Al-‘Attar jou betower en jou behep gemaak met die digkuns?

Hy’t gesê: Hy’t met my gepraat en verdwyn in die buik van die vallei van die liefde.

Ons’t gevra: Het Al-Ma’arri neergekyk op die vallei van kennis?

Hy’t gesê: Sy roete was futiel.

En Ibn Sina, het ons gevra, het hy die vraag beantwoord?

Het hy jou gesien?

Hy’t gesê: Ek sien met die hart, nie met die filosofie nie.

Is jy dan ‘n Sufi? het ons gevra.

Hy’t geantwoord: Ek is ‘n hoep-hoep.

Ek wil niks hê nie.

Ek wil sleg dít hê om nie te wil hê nie.

En hy het verdwyn in die koninkryk van sy verlange.

 

O liefde, jy het ons gemartel.

Jy het ons vergeefs van reis tot reis gedwing.

Jy het ons van ons familie vervreem, van ons water en lug, en ons verknoei.

Jy het die sonsondergang van die sonsondergang ontneem.

Jy het ons eerste woorde gesteel en die perskeboom van ons dae gebuit.

Jy het ons van ons dae berowe. O liefde, jy het ons gemartel en ons lewens geplunder.

Jy het ons van alles vervreem en jouself met herfsblare versluier.

Jy het ons lewens geplunder, o liefde.

Jy het niks agtergelaat om ons na jou toe terug te lei, of om die skaduwee daarvan te soen, nie.

Los een koringaar van jou liefde in die koringlande van ons siele oor.

Moet nie die kosmiese glastronk van ons smeekbede vernietig nie.

Moet nie kommer wys nie. Moet nie skree en huil nie.

Kalmeer, sodat ons die kosmiese bruilof van die elemente kan aanskou, alles offerande aan jou.

Kom nader, sodat ons ten minste dít kan verstaan:

Is ons waardig om slawe te wees van jou verborge ekstase?

Moet nie dit wat van ons gebroke hemel oorbly verboemel nie.

O liefde, jy het ons gemartel en ons uiteengedryf, om ons na ons onbekende bestemming te lei.

Nie hierdie onbekende of hierdie riviermond is ons s’n nie.

Die lewe wat ons lei van hunkering na hunkering,

styg voor ons uit soos die wind-geslingerde blare van ‘n ou sipres

O liefde, jy ons gemartel en ons van onsself vervreem.

Jy het selfs ons name van ons afgestroop!

 

Toe het dronk hoep-hoep weer verskyn en gesê:

Om te vlieg, moet julle vlieg.

Ons’ t gesê: Ons is niks anders as verliefdes nie.

Ons is moeg vir liefde se witheid,

en het ‘n sterk verlange na ‘n moeder, ‘n droë land en ‘n vader.

Is ons die mense wat ons was, die mense wat ons sal word?

Hy het gesê: Word een op alle paaie.

Word asem, om die Een te kan bereik wat anderkant begrip is.

Elke hart is ‘n kosmos van geheime.

Om te kan vlieg, moet julle vlieg.

Ons is niks anders as verliefdes nie, het ons gesê,

en ons het keer op keer op gesterf, en ons was uitgelate.

 

Verlange is ‘n plek van ballingskap.

Ons liefde is ‘n plek van ballingskap.

Ons wyn is ‘n plek van ballingskap,

en ‘n plek van ballingskap is die geskiedenis van hierdie hart.

Hoeveel keer het ons vir die aroma van die plek gesê

om stil te wees, sodat ons kan rus en kan slaap?

Hoeveel keer het ons vir die bome van die plek gesê

ontmasker die invallers, sodat ons ‘n plek mag vind?

Die geen-plek is die plek wat afstand bring tussen sy siel en sy geskiedenis.

‘n Plek van ballingskap is die siel:

wat afstand bring tussen ons en ons land, en ons na ons geliefdes toe lei.

 

‘n Plek van ballingskap is die siel:

wat afstand bring tussen ons en ons siel, en ons na die vreemdeling toe lei.

Is daar ‘n swaard wat nog nie in ons vlees skede gevind het nie?

Om afstand te doen van die droom, het ons broederlike vyande

die perde van ons vyande opgesaal, sodat hulle uit ons drome kon verdwyn.

Die verlede is ‘n plek van ballingskap:

ons het die pruime van ons geluk van die onvrugbare somer af gepluk.

Denke is ‘n plek van ballingskap:

ons het ons toekoms net buite ons ruite gesien.

Om dit te kon bereik, moes ons deur die mure van ons hede breek,

maar dít het die verlede geword in die skild van ‘n antieke soldaat.

Digkuns is ‘n plek van ballingskap:

ons droom, en as ons wakker word, vergeet ons waar ons was.

Verdien ons ‘n wildsbok, o hoep-hoep van geheimenisse?

…neem ons na ons eindelose môre toe!

Haak ons tyd oor die horison van hierdie uitgestrektheid, en sweef saam ons.

 

Die natuur is niks anders as gees nie.

En van hier af lyk die aarde soos ‘n boesem wat aangewakker word deur daardie edel koms.

Perde van wind is ons strydwaens, o voëls…

O voëls… om kan te vlieg, moet julle vlieg.

Die natuur is niks anders as gees nie.

Betower deur die geel hand- julle son. Fladder naby aan die son,

sodat julle kan smelt en om kan draai, om julle brandende verlange vir die land te volg- julle land. Die tonnel word verlig deur ondenkbare vrae oor hierdie bestaan

en die kortstondige muur van tyd.

Die natuur is niks anders as gees nie.

En die liggaam se laaste dans is gees.

Om te kan vlieg moet julle hoër as die vlug vlieg…hoër as julle hemel,

hoër as die altyddurende liefde,

die heiligheid en goddelikheid en sinlikheid.

Bevry julleself van alle vrae oor die begin en oor die bestemming.

Die heelal is kleiner as ‘n skoenlapper se vlerk in die grenslose uitspansel van die hart.

Ons het in die koringkorrel ontmoet,

en toe afskeid geneem in die brood en op die paaie van die lewe.

Wie is ons in hierdie loflied om dak te maak vir gietende woestynreën?

Wie is ons in hierdie loflied om die lewendes van hulle grafte te bevry?

O voëls, flap die vlerke van julle verruklikheid en vlieg weg op winde van sy.

Vlieg in ‘n ekstase gelyk aan ons s’n.

Die universele eggo roep julle. Vlieg:

om die glansrykheid van julle visie te bereik.

 

Ons sal op onsself neerdaal,

en terugkeer na ‘n besoek aan die tye.

wat nie genoeg is vir ons vreugde of vir die ritus van ons opstanding nie.

Wie is ons in hierdie loflied, dat ons sy antitese in tyd moet ontmoet as ‘n deur in die muur?

En wat is die nut van ons denke dan anders as om die ontwil van die mensdom?

Aangesien ons nou gemaak is van vuur en van lig…

 

Ek is die hoep-hoep, het die gids geantwoord.

Ons is ‘n swerm voëls, het ons gesê,

Woorde het genoeg gehad van ons en ons is moeg vir ons verlies aan, en ons dors vir, woorde.

Vir hoeveel langer moet ons vlieg?

Die dronk hoep-hoep het gesê: Julle bestemming is die horison van hierdie uitspansel.

Ons’t gevra: Wat is anderkant die uitspansel?

Hy het gesê: ‘n Uitspansel agter ‘n uitspansel agter ‘n uitspansel.

Maar ons is moeg, het ons gesê.

En hy: Daar is nie ‘n denneboom hier naby om op te rus nie.

Julle sal vergeefs probeer land. So om te sweef, moet julle net sweef.

Ons’t gesê: Wat van môre, kan ons nie môre weer probeer vlieg nie…

Die aarde sal steeds daar wees, ‘n vol bors wat gemelk word deur die wolke,

en goud wat in hemelsblou lig rondom ons huise wapper.

Dit was alles daar en ons het dit nie eens besef nie?

Wanneer ons terugkeer sal ons die aarde sien met die oë van ons hoep-hoep.

Die één wat ons oë in besit geneem het. Vrede vir die aarde! Vrede vir haar.

Sy het die heelal as bed, gevorm uit visioene en wolke.

Sy lê en slaap in die arms van water. Sy slaap- ‘n beeld van haar en ons.

Sy het ‘n klein maan wat haar skaduwee soos ‘n dienskneg kam

en deur ons harte flikker in vrees vir ballingskap en die lot van mites.

Donkerte steek homself met lig aan die brand,

sodat hy oor homself kan wag hou in die ryk van wonderwerke.

Is dit hier dat woorde gebaar word, vir klei om mens te word?

Ons het die aarde geken, om haar, en ons kinderdae se visvang rondom haar naeltjie, te vergeet.

Is dinge duidelik vanuit hierdie verte?

Hoe dikwels was die dae soos perde vir ons om te jaag op woordstringe?

Die riviere was fluite en ons het dit nie eens besef nie.

Hoeveel van ons engele is gevange gehou in ons marmer sonder ons medewete.

Hoe dikwels het Egipte en Sirië die pad duister geraak.

Dié land is ‘n ander land, en ons hoep-hoep is daar gevange gehou.

Dié land het ‘n siel vir die wind om dít weg te waai.

Al die boodskappe is nie deur Noag agtergelaat nie.

Toe Christus in Galilea geloop het, het ons wonde gejubel van blydskap.

Maar híér is die duiwe, die woorde van ons dooies. Hier,

is die ruïne van Babilon die geboortemerk op die vlees van ons nalatenskap.

Die vrug van hierdie vlees dryf op die heelal se waterige sfeer

en dit vloei weg in ‘n ewigheid vasgevang in ons lofprysing.

Dan keer dit terug na die self, ‘n moeder wat ons omhul,

met haar naakte onoorwinlike barmhartigheid.

Sy verberg dit wat ons ons longe, en die vuur van haar rose, aangedoen het.

Sy verberg die oorlog van ons nalatenskap.

En dit wat die sens gedoen het aan die delikate plante aan die kuste van die heilige berg.

Ons moeder is ons moeder: moeder van die Atheners; moeder van die Perse;

moeder van Plato, Zoroaster; Plotinus en Suhrawardi.

Sy is die kosmiese moeder.

Elke kind is ‘n gesagvoerder in die skoot van sy moeder.

Sy is die begin en die einde.

Sy is wat sy is.

Sy is die geboorte of die onaantasbare dood, as sy so wil.

O moeder, jy het ons versorg en verslind om ons kinders te kon voed.

Wanneer word ons gespeen?

O spinnekop van liefde, die dood is ‘n moordenaar.

Ons is lief vir jou! Wees ons tog genadig.

Moet ons nie weer doodmaak en geboorte skenk aan slange naby die Tigris nie.

Steek ons in jou gordel en ry gaselle deur die nag.

Ons vestig onsself in die wind.

Lok ons na jou toe soos die ongelukkige patrys gelok word na die net, en omhels ons.

Was jy daar voor ons migrasie en het jy dit nie geweet nie?

Die liefde transformeer ons.

Ons word ‘n opening vir die gedig, haar vensters om opgesê, en voltooi te word, deur duiwe.

Ons word ‘n betekenis wat die sap terugbesorg

aan die onsigbare bome op die oewers van ons siele.

Vlieg dan, o voëls, in die binnepleine van hierdie hart, vlieg!

 

Wat is die nut van ons denke dan anders as om die ontwil van mensdom?

…want ons is van klei en van lig.

Het jy die kroon bokant jou kop herken, hoep-hoep?

Hy sê: Dit is my moeder se graf.

My hoof word met feeste gekroon soos ek die geheime en nuus in vlug dra.

Ons sê: Hy is ‘n hoep-hoep. Hy is die gids en wat in hom is, is ook in ons.

Die tye hang ‘n klok vir hom oor die valleie.

Maar in drome word tyd verbrokkel en ruimte word ingeperk.

Wat sien jy, hoep-hoep? Wat sien jy in daardie afgeleë vorm van die skaduwee?

-Ek sien die skaduwee van Sy beeld bo ons uitstrek.

-So kom ons sweef om Hom te sien. Hy is die enigste Hy:

“O hart, my moeder, my suster en vrou, loop oor met lewe om Hom te kan sien.”

Maar op die ou end, sê ons, is ons hoep-hoep tog slegs ‘n hoep-hoep…

Water: ‘n troon wat opreis deur die droogte en wat eikebome laat hoog groei;

Water: die kleur van die bos wat gelig word deur die bries tot op die rooidagperd;

Water: die eggo van skeppings-grasie soos dit bewaar word in die tuine van onthou;

Water: die reuk van ‘n beminde op marmer, wat ons dors maak, en dronk;

Water: die angel van die oomblik wanneer ons in twee geskeur word,

en openbaar word as: Mens en voël.                  

En ons hoep-hoep…

…het perde van water wat opreis deur die droogte en soos die septer opgaan.

…het ‘n tyd wat hy eens gedra het, en ‘n tong wat hy eens gehad het.

…het ‘n vaderland wat hy eens gedra het as boodskappe na ‘n veraf hemel.

Hy het elke goddelike boodskap, wat die skepping na die roete van God lei, aangehang.

Hy het onder elke liefde gely, en deurgebreek van een liefde na ‘n ander.

Hy is ‘n lewenslange reisiger.

Wie is jý in hierdie loflied? Ek is die gids.

Hy is ‘n lewenslange reisiger.

Wie is jý in hierdie loflied? Ek is die reis.

Ek is die heengaan.

“O hart- my moeder en suster,”

giet jouself uit in hierdie lewe vir die onmoontlike om jou te sien,

vir jou om dít te kan sien.

En neem my, die twee van julle, na die finale spieël toe, het hy gesê en weggevlieg.

 

Is ons wat ons is?

Bome groei in ons spore en ‘n beeldskone maan verhelder ons reise.

En ons het ‘n lewe dáár, in ander se lewens.

Tog word ons gedwing om te lewe in die verweesde Samarkand.

Nie een van ons voorvaders sal as koning gekroon word nie.

Die dae wat ons oor het, is wat die fluit aan ons bemaak het…

die van hulle wat die naaste is, is die verste.

Ons gebruik nie meer reën as wat die rankplante dit gebruik nie.

Ons is nou wat ons voorheen was.

Ons word gedwing om terug te keer na die mite wat nie gasvry is, en waar ons geen plek het, nie.

Ons kon nie die ooie naby ons huis melk, of die dae met ons loflied vul, nie.

Ons tempels is dáár, maar hier, het ons ‘n god wat geprys word deur sy martelaar.

Ons het blomme van nag-muskus wat aan die ongenooide tyd vashou.

Ons het ‘n lewe dáár, in ander se lewens.

Ons het koring en olyfolie.

Ons het nie ons tent uit die wilgers gemaak nie.

Ons het nie gode uit swael gemaak om deur invallers aanbid te word nie.

Ons het alles gereed gevind: ons gebreekte name in flessies van klei…

Ons vroue se trane, ou moerbei-vlekke, op hulle klere…

ons ou jaggewere…‘n vergete feestelikheid wat ons nie kon herwin nie.

Die wildernis wemel met oorblyfsels van menslike afwesigheid…

…asof ons eens hier was.

Daar is genoeg gereedskap, hier, om ‘n tent bo die winde op te slaan.

Geen tatoeëermerk is in die skeure van die berg

wat deur groen begrens word, deur die vloed agtergelaat nie.

Tog het daar duisende verskillende mense verbygekom tussen lied en spies.

Ons het besef dat ons teruggekeer het van ‘n ongewenste afwesigheid af.

En ons het ‘n lewe wat ons immers nog nie ‘n kans gegee het nie.

En die sout wat ewenas nie sal verewig wat ons is nie.

Ons het die spore wat niemand nog voor ons geneem het nie, gevolg…

…so vlieg…vlieg dan, o voëls, in binnepleine van hierdie hart, vlieg!

Vlug saam met ons hoep-hoep, en vlieg…

…en vlieg, net om te (kan) vlieg!
.

.

Uit: Unfortunately, It was Paradise, vertaal uit Arabies deur Munir Akash en Carolyn Forché (2003, University of California Press) en verwysing na If I were Another (2009, New York: Farrar Straus & Giroux) soos vertaal deur Fady Joudah. Vertaal in Afrikaans: Bester Meyer.

[Bester Meyer studeer in die Regte by RAU. Tydens sy studies begin hy liedjies skryf en gedigte toonset. Na sy studies neem ‘n kortspeler Ontmoet jou onder ‘n Harvest Moon op saam met Albert Frost. Hy word voorgestel aan Magmoed Darwiesj deur Breyten Breytenbach se Oorblysel/Voice over. Hy werk tans in Johannesburg en vertaal Darwiesj se gedigte in sy vrye tyd.]

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Magmoed Darwiesj. Vertaling in Afrikaans”

  1. Breyten Breytenbach :

    Wat ‘n oorbluffende stuk vertaalwerk! Dankie, dankie Bester Meyer. Soos ‘n simfonie beweeg dit. Of liewer, ‘n lang en byna ondraaglik intieme klaagsang. Om dit te kon lees juis vandag na ‘n besoek aan waar Walter Benjamin in Portbou begrawe lê – of dalk nié begrawe lê nie. Met uitsig bo die see. Met die eerste sterk wind wat die inkblou oppervlak verfrommel. Hemels. Of aards. En wat is die verskil? Soos Magmoed Darwiesj was Benjamin eweneens ‘n grensoorsteker, ‘n swerwer, ‘n sterwer. Om verder te mag swerf.
    Indien dit ooit daar in Moerland in die hande gekry kan word is dit werklik die moeite werd om Samir Abdallah se dokumentêre film, “Ecrivains des frontières” te probeer sien. Dit loop op die spore van ‘n besoek van ‘n afvaardiging skrywers van die Wêreldparlement van Skrywers aan Palestina – as daad van solidariteit met Darwiesj. Onder die skrywers was daar Russel Banks, Vincente Consolo (Italië), Bei Dao, Juan Goytisolo (Spanje), Christian Salmon (Frankryk), José Saramago (Portugal – maar eintlik uit die Middelwêreld), Wole Soyinka, Elias Sanbar, Leila Shahid… En die hoep-hoep Meester, Magmoed Darwiesj – met sy diklensbril – is etlike kere te sien ente hoor. Veral na te luister, hoe hy voordra.
    Dankie weer eens!

  2. Marlise Joubert :

    Ek is dit absoluut eens met jou, Breyten, dis ‘n lieflike meesleurende vertaling. Ek was so opgewonde toe ek dit ontvang het. Het Bester Meyer ook gevra om nog van sy vertalings te stuur as hy kan. Om Darwiesj in Afrikaans te lees, is so ontroerend. Seg ek ook weereens vir Bester: baie dankie hiervoor!

  3. Bester Meyer :

    Die woorde word waardeer en ter harte geneem! Dankie. Mag Darwiesj se woorde bly sweef!

Los kommentaar

 

*