Wicus Luwes. Om hande te klap by ‘n tenniswedstryd

‘n Mens moet weet wanneer om hande te klap by skoletennis. Ek het baie tyd gehad om hieroor na te dink. ‘n Saterdag-oggend voel lank terwyl jy wag tussen wedstryde. Jy weet nooit presies wanneer dit die regte tyd is om die toebroodjies uit te haal nie. Daar is wel ‘n ongeskrewe stel reëls wat bepaal wanneer dit die regte tyd is om hande te klap. (Indien daar nog nie so ‘n stel reëls is nie, behoort daar so iets te wees.)

Reël 1: Moenie hande klap as iemand die punt verloor nie

‘n Mens wil graag jou eie kind motiveer met jou handeklap. Ons almal weet dat dit net ‘n spel is, maar een so ‘n wedstryd kan nog lank inwerk op die kind se onderbewussyn. Jy wil natuurlik ook die ouers van die ander kind wys dat jy ‘n gebalanseerde individu is. Soos ek sê: die wedstryd kan ‘n langdurige impak op die speler hê. Vir ‘n oomblik is jy self daar op die baan – by jou kind. Jy dink aan jou eie ondervinding by die skooltennis.

Die positiewe ding om te doen, is natuurlik om die kind te beloon wanneer hy of sy ‘n goeie hou geslaan het. Jy wil nie wys dat jy bly is dat iemand verloor nie, maar eerder ekstra dryfkrag ontsluit. Jy dink terug aan die tyd toe jy die wil om te wen begin kry het. Dit is ‘n fyn lyn – amper soos die lyn tussen die netbalbaan en tennisbaan wat op dieselfde oppervlak geverf is. Jy moet weet vir watter lyn jy moet kyk.

Reël 2: Klap eers hande wanneer die punt klaar is

Die begin van ‘n punt is maklik om te bepaal. Daar is ‘n dien. Die spelers staan op bepaalde plekke. Die einde van ‘n punt is moeiliker om te bepaal. Jy is nie altyd seker of jou kind die punt gekry het as die bal in die hoek van die baan en aan die teenoorgestelde kant aarde toe gekom het nie. Dit is goed om hande te klap tydens so ‘n situasie. So ‘n handeklap oordeel nie – dit is meer van ‘n aanmoediging om aan te beweeg.

Hoe weet ons in elk geval wanneer iets klaar is? Nie alles het lyne nie. Is dit die laaste kunsuitstalling? Is dit die laaste keer wat ek ‘n kliënt sal moet besoek? Die lyne op sement tennisbane vervaag na jare se spel. Dit vervaag ook na jare van ongebruik. Die presiese lyne aan die oorkant van die baan is moeilik om te bepaal.

“Tennis is a lifting game.”

Die tennisafrigters van my jeug kom sit in die gees langs my terwyl ek by die baan vir my kinders kyk. Een van die belangrikste dinge in tennis is waar jou rakket eindig. Goeie houe eindig gewoonlik met jou houe wat van onder na bo beweeg. Ek onthou hoe een van my afrigters, die woorde in my gedagtes ingeprent het: ‘tennis is a lifting game’. Kyk waar jou rakket eindig, want dan het jy beter beheer oor die bal.

Ek ry deur woonbuurte met vervalle tennisbane. Ek het op ‘n stadium by ‘n klub gespeel wat voortdurend gesukkel het met inbrake. Boemelaars het gereeld probeer nes skrop in die klubhuis. Hoe verander die ‘lifting game’ in ‘n ‘uplifting game’ sou ‘n mens kon vra. Is dit die moeite werd om die klubhuis veilig te hou? Dit raak dan ongelukkig te gevaarlik vir kleiner groepe om die bane te gebruik en dit veroorsaak dat die klubhuis selfs minder gebruik word.

“Jou voete is lui”

Ek is versot op daardie soort aanmerkings of opmerkings. Een van my speelmaats het een dag na ‘n wedstryd vir my vertel dat die hoofrede dat hy my wen, my voete is. Hy was vas oortuig dat ek beter sou speel as ek my voete beter gebruik. Dit is seker so en ek neem aan dat my voete steeds lui is. Die rede waarom ek hou van daardie tipe aanmerkings, is omdat dit my voete ‘n persoonlikheid van hulle eie gee. Ons verlengde persoonlikhede raak metafore. Iets soos: my voete speel tennis op ‘n Saterdagmiddag. Ek wonder hoeveel my studies sou verbeter as my hand meer deur die boeke sou blaai. Die ander rede hoekom ek van daardie tipe aanmerkings hou, is omdat dit vir my ‘n area gee om op te fokus. Hoe sou ek aan my lui voete kon werk as dit nie buite my gestaan het nie?

Reël 3: Moenie handeklap na elke punt nie

Nie alle punte verdien ‘n handeklap nie. Handeklap is gemaak om iets te laat uitstaan. Die waarde van handeklap gaan verlore as jy na elke punt handeklap.

Ek oordink die munisipale merkers vir ‘n woonbuurt wanneer ek verby die vervalle tennisbane en geroeste skoppel(in sy)maaie ry. Ek sien die leë munisipale swembaddens en die bushaltes wat sonder dakke staan. Ek het eers gedink dat die hoeveelheid badkamers in huise as merkers vir munisipaliteite dien. Daar moet tog sekere munisipale merkers wees wat deur stadsbeplanners gebruik word om die hoeveelheid en tipe dienste in ‘n woonbuurt te bepaal. Ek het toe uitgevind dat stadsbeplanners eerder na kombuise kyk, wanneer hulle bepaal hoeveel dienste aan ‘n sekere woonbuurt gelewer moet word. Ek wonder dus wat die kombuise van ‘n woonbuurt behoort te wees. Op watter manier kan tennisbane die kombuise of prioriteit van ‘n woonbuurt word?

Ek dink aan daardie ongeskrewe reëls en merkers wat ons tennisbane vir ons wys. ‘n Mens moet weet wanneer om hande te klap en wanneer om te werk aan jou spel, sodat die mense op die pawiljoen kan sien dat jy ‘n handeklap verdien. Ek droom graag oor ongeskrewe reëls wanneer ek langs tennisbane sit en vir my kinders kyk. Ek sien hoe hulle tennis speel en ek wonder of hul eendag sal verstaan hoekom ek handeklap.

 

jou kind se eerste tenniswedstryd

die oorwinning
is ‘n dbv-winkelrakket
wat niks het
om te verloor nie

elke tree is uitgetrap
een hou op ‘n slag
in die groewe
van ouboet se skoene

en met die opgooi van die bal
is icarus deur die lig verblind
maar sy vlerke smelt nie
en sy vere is een wedstryd

nader aan die son

 

Bookmark and Share

Comments are closed.