Resensie: Vlug van die gees (Cas Vos)

.

Vlug van die gees deur Cas Vos. Naledi, 2019.

Resensie: Dewald Koen

 

Vanjaar blyk ’n goeie oesjaar vir die Afrikaanse poësie te wees met ’n hele boel digbundels wat tot dusver verskyn het. Wat veral opval is die aantal digbundels uit die Naledi-stal – laasgenoemde uitgewer is stadig maar seker besig om sy merk in die poësiemark te laat. Dit is opwindend en terselfdertyd verblydend dat uitgewers steeds bereid is om poësie te publiseer en sodoende die gedigte van ‘nuwe digstemme’ tesame met gevestigde digters aan poësieliefhebbers beskikbaar te stel.

Cas Vos se jongste bundel heet Vlug van die gees. Vos is naas digter ook bekend vir sy akademiese werk sowel as samesteller van verskeie bundels. As vertaler het hy Fragmente uit die Ilias sowel as Fragmente uit die Odusseia van Homerus vertaal. Sedert sy debuutbundel Vuurtong in 1999 verskyn het, het die digter sy digstem stelselmatig verfyn. Laasgenoemde is veral opvallend in Vlug van die gees.

Die bundel is pragtig uitgegee deur Naledi met ’n skildery op die voorblad van die Nederlandse skilder Jan Asselijn getiteld “De bedreigde zwaan” (circa 1650). Die swaan neem ’n aggressiewe houding aan wat tematies binne die konteks van die bundel op menslike verganklikheid en verlies dui. ’n Swaan word in die algemeen bewonder vir sy uiterlike skoonheid en simboliseer ook liefde weens swanepaartjies se lewenslange verbintenis tot mekaar. Soortgelyk aan die swaan se beskermende liggaamstaal word die mens genoop om hom- of haarself teen verskeie vrese en gevare (hetsy liggaamlik of geestelik van aard) te ‘beskerm’.

Die bundel as geheel fokus veral op menslike verganklikheid, die ars poëtika en faktore wat mense daagliks affekteer soos ’n gebrek aan liefde en deernis, verlies, siekte en die sosiale uitdagings wat ons in die gesig staar. Die eerste van die elf afdelings waarin die gedigte gegroepeer is, bevat van die mees treffendste verse in die bundel. Die afdeling as geheel fokus op die ars poëtika en is getiteld “Woordmakers”. In “Skeppergees” maak Vos van ’n metafoor gebruik om die kreatiewe skeppingsproses met die skeppingsverhaal in Genesis te vergelyk:

Die digter se gees sweef

oor die donker leegtes

van chaos, op soek

na woorde in die duisternis.

.

Hy beweeg tussen die opdrifsels,

skep verslete woordbrokke

sekuur uit vir die gedig in wording.

Sy oë keur die strofes se tekstuur,

streel met behae oor die nuweling.

.

Reeds in die programgedig getiteld “Die fisika van ’n gedig” speel Vos met die metafoor van die gedig as ’n objek in wording: “Atoom / ondeelbaar / vir die oog, / buite sig / soos ’n gedig / voor dit in vorm vestig”. Die ars poëtika kom ook in “’n Gedig ontwaak” sowel as “Die ritme van metafore” aan bod. Die digter bring ook hulde aan die Italiaanse digter Dante Alighieri wat as inspirasie vir sy liefde vir die digkuns dien.

Een van die besonderse gedigte in die eerste afdeling is “’n Verjaarsdaggedig” opgedra aan die digter Breyten Breytenbach ter viering van sy tagtigste verjaardag op 16 September 2019. Die spreker neem bestekopname van Breytenbach se lewe en skrywersloopbaan met talle intertekstuele verwysings na Breytenbach se poësie. Wat my veral opgeval het omtrent dié gedig is die vernuftige wyse waarop Vos met beelde en woordvernuf uit Breytenbach se oeuvre omgaan – dit is inderdaad ’n spesiale verjaardagvers. In “Vlugtog van rymmakers” steek Vos op satiriese wyse die draak met die digkuns (en ’n hele paar Afrikaanse sangers se lirieke):

Rook krul soos vuil lappe by vensters uit,

dryf koersloos heen en weer oor elke ruit;

dit dawer in die ligtende skouspel

en horendes skater uit pure lus.

.

Op byna elke verhoog is daar ’n kunstenaar

wat jou aan asem laat stik, kyk net hoe die kitaar

se snare in sy hande note laat klaag.

Rympies word lomp aanmekaar geryg

en in konsertsale word alles skril

as bokkie en rokkie na hoër note styg.

In die ope mark is die dolrym in aanvraag,

laat nousluitende rokke, bobene en gleuwe

die liedmaker meer bedrewe lyk.

Met lae hals kan sy nog meer waag,

is sy by al wat lustig leef in aanvraag.

.

Sonder die kritiek van die hoë kunste

is daar vir rymelaars veel meer winste.

Wat oorbly, is karig, woes en yl

as ek by woorde se amulet wil skuil.

.

In die tweede afdeling neem die gedigte ’n meer somber toon aan en kom temas soos werkloosheid, korrupsie, aardverwarming, moord en geweld aan bod. Aardverwarming is ’n belangrike onderwerp waaroor wetenskaplikes, politici en omgewingsaktiviste gereeld debatteer. In “As alles verys” skep die spreker ’n beeld van ’n wêreld (dink maar aan die film Ice Age) wat in die nabye toekoms die realiteit kan word en poog sodoende om meer bewusmaking te skep oor die krisis waarin ons planeet verkeer en die mensdom se voortbestaan bedreig. Interessant genoeg sluit laasgenoemde gedig aan by die sikliese gang van die bundel: soortgelyk aan die menslike lewensiklus van geboorte en sterfte word die planeet se lewensiklus deur menslike toedoen stelselmatig beïnvloed en kan ’n tweede ystydperk weer in die vooruitsig gestel word.

Soos reeds in die inleiding genoem word die liefde naas verganklikheid as een van die sentrale temas van die bundel beskou. In een van die liefdesgedigte fokus die digter op die liefde tussen Dante en Beatrice wat in sonnetvorm weergegee word.

Dante aan Beatrice

.

Beatrice, jy was net vier en twintig

toe die ontydige dood sy vingers op jou lê:

Ek wou my onblusbare liefde vir jou sê,

maar die liefdesdoder het my woorde ontwrig.

.

Nou sal ek jou in elke gedig verbeel,

in elke sonnet is jy ingeweef:

op dié patroon bly jy in woorde leef,

ek sal só my liefdeswonde heel.

.

Al was Gemma Donati my bedgenoot,

het ek jou in my drome met satyn bedek,

jy was myne, myne alleen, selfs in jou dood.

.

Beatrice, die wind het oor ons liefde gestreel,

stof is jy en in stof sal jy voortaan leef,

vir my sal jy eendag uit stof herrys.

.

Vertalings van Dante Alighieri se sonnette sowel as ’n ballade uit Italiaans in Afrikaans verskyn naas die Italiaanse weergawe in die bundel. Selfs vir diegene wat nie Italiaans magtig is nie, is dit mooi om die Italiaanse woorde hardop aan jouself voor te lees en die spel met klank aan te hoor. (Dit sal egter interessant wees om die Italiaanse vertalings met die Afrikaanse weergawe te vergelyk.)

In die afdeling getiteld “Onder die nag se vlerke” fokus die verse hoofsaaklik op menslike verganklikheid en siektes soos kanker en motorneuronsiekte. Die gedig “Vlug uit die lewe” sluit tematies by die titel Vlug van die gees aan.

In die laaste grys verblyf is ek

ingebed in sinkende dae.

.

Ek voel die laaste stuiptrekkings van lewe

in my liggaam wat verslyt.

My lewensmoeë hart gaan nog om lewe spartel –

pupille swel in oë vol verskrikking.

Ek hoor die swart dood skuifelend op my spoor,

ruik sy stink asem

hoor sy gromstem

verwag sy laaste byt

voor hy my velle

sorgvuldig afskil.

.

In ’n oogknip sal hy my uitoorlê

om stil in die donker gat te lê

waar stof my sal verstik:

Ek is só verganklik.

.

Opvallend omtrent die afdeling, maar ook die bundel as geheel is die digter se wisselwerking met die sikliese gang van die menslike bestaan asook die mens se spirituele verhouding met ’n oppergesag – aldus die “gees”. Probeer die mens daarvan vlug, haal die dood elke individu tog in. Vos se bundel kan as laatwerk beskou word aangesien die digter soos in die geval van digters soos Breyten Breytenbach en Clinton V. du Plessis deurentyd bewus is van sy verganklikheid. Laasgenoemde word ook in die sikliese aard van die bundel uitgebeeld met die skeppings- of onstaanproses in “Die fisika van ’n gedig” en die slotgedig “In die paradys” wat die lewensiklus (maar ook die gedigsiklus – aldus die bundel) voltooi.

In die slotgedig sluit Vos die bundel af met die volgende versreëls:

.

Ek staar my blind in God se glansende Lig,

almal in die hoogste hemel skink sy lof,

sy heerlikheid is heilig, heilig, heilig.

.

Vlug van die gees is in sy geheel ’n geslaagde bundel ryk aan metafore, paradokse en ironieë. Die bundel vorm ’n hegte eenheid en die digter slaag daarin om toeganklike verse te skryf wat die mens se bestaan in sy totaliteit aanspreek. Hierdie bundel is myns insiens een van Vos se sterker bundels tot op hede. Dit is ’n bundel wat die leser sal noop om die verse meer as een maal te wil lees.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Resensie: Vlug van die gees (Cas Vos)”

  1. Louis Pienaar :

    Ek wil graag ’n stuiwer in Dewald Koen se resensiebeurs werp. Dit is sonder twyfel ’n insiggewende en knap resensie. Met reg gee Koen aandag aan die buiteblad. ’n Buiteblad is immers ’n sleutel tot ’n teks, en in hierdie geval die digbundel. Die resensent lig die verskillende betekenismoontlikhede van die voorblad toe. Ek is dit met hom eens. Net jammer hy het nie aangetoon dat die buiteblad die leser na ’n ontroerende gedig, Die bedreigdes, lei nie. In hierdie gedig is daar soveel betekenisontginnings van die bundel saamgevoeg. Verder is dit opvallend dat die rampspoedige gebeure van April 2019 in die Notre-Dame ná Die bedreigdes volg. Die een gedig kan nie sonder die ander gelees en verstaan word nie.
    Die resensent gee ’n sinvolle oorsig oor die komposisie van die bundel. Met reg verwys hy na die Verjaarsdaggedig opgedra aan Breyten Breytenbach as ’n hoogtepunt. Anders as die resensent reken ek dat die hele bundel vol treffende gedigte is. Vos se vertaling van Dante Alighieri se Il Paradiso is uiters gunstig ontvang. Hiervan getuig Ernst Kotzé se “Magnifico” oor die vertaling. Dit is jammer dat die resensent nie die Afrikaanse vertalings met die Italiaanse gedigte kon vergelyk nie. Maar selfs ’n resensent het sy beperkings! Die Nero-reeks is ook verrassend en nuut.
    Anders as Dewald Koen reken ek dat dit nie “een van Vos se sterker bundels tot op hede” is nie, maar ’n hoogtepunt. Daarom moet die gedigte, soos die resensent met reg opmerk, meer as een maal gelees word.

  2. Breyten Breytenbach :

    Vir Cas Vos: Hierdie bundel, “Vlug van die gees”, klink (en blink) asof dit ‘n groot en beskermende vlerk gaan gooi oor die Afrikaanse poësie. Vééls geluk! Ek hoop om dit te kan bekom en saam te neem. (Mens lees minder, meer tydsaam met die tyd, maar ook dieper.) Die epitaaf van Kenneth Rexroth sal tot jou spreek. Dis ‘n aanhaling uit een van sy eie verse in “The Silver Swan” en lees soos volg:
    “The swan sings / In sleep / On the lake of the mind.”
    Ons is bevoorreg om jou werk te mag hê.
    Groete en sterkte vir nog veel meer.

  3. Cas Vos :

    ‘n W(v)eerwoord vir Breyten Breytenbach.
    Liewe Woordmeester, baie dankie vir jou hartverwarmende woorde. Vol insig en uitsig. Ek waardeer dit opreg. Mag jou pad na tagtig toe vol lig, liefde en vreugde wees. Poca favilla gran flamma seconda (Dante). Mag jou vonkwoorde skitterende vlamme ontsteek. Die woorde van Kenneth Rexroth ontroer my. Ek sal dit koester. Mag die muse haar vlerke oor jou sprei en ontelbare troos- en liefdeswoorde in jou ore fluister.
    Dit is ‘n voorreg en vreugde om deur jou woordvonke begloed te word.
    Groete en sterkte vir die pad vorentoe.

  4. Marlies Taljard :

    Cas, baie geluk met ‘n sterk bundel waarin ek veral die diep menslikheid raakgelees het, ook empatie met die vreesbevange mens as slagoffer van ons siek samelewing. Daarby kom egter dié gedigte wat wyer kyk as ons eng ervaringswêreld, gedigte uit die Antieke en die Klassieke waaruit argetipiese waarhede ons menswees voed. Ons is nie net slagoffers nie. Jou bundel dui daarop dat ons nie ‘n suiwer sekulêre samelewing is nie – daar is altyd nog die Hoop.

  5. Hennie Smith :

    Cas Vos: vlug van gees. Intens geluk dat jy die woord-wereld roer. Die gees vlieg hoog!