PEN Afrikaans. Nuusbrief. {September 2019}

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

September kondig nie net die begin van die lente aan nie, maar is ook ’n bedrywige maand op die jaarkalender wat literêre feeste en boekverwante inisiatiewe betref.

Nasionale Boekeweek, ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Boekontwikkelingsraad in samewerking met die Departement Kuns en Kultuur, is van 2 tot 8 September gevier. Dit is gemik op die bevordering van ’n leeskultuur in Suid-Afrika en is vanjaar vir die tiende keer waargeneem.

Die South African Book Fair het ’n opwindende program oor drie dae in die hartjie van Johannesburg aangebied, terwyl die span van The Book Lounge gesorg het vir nog ’n suksesvolle aflewering van die Open Book-fees in Kaapstad.

In ’n tyd wat ook gekenmerk is deur skokkende gevalle van xenofobiese en geslagsgeweld mag dit dalk onvanpas voel om so feestelik te verkeer. Tog word die belang van vierings en byeenkomste van hierdie aard weer tuisgebring as ’n mens kyk na die statistieke oor leesgewoontes in Suid-Afrika. Hiervolgens is slegs 14% van die Suid-Afrikaanse bevolking aktiewe boeklesers, slegs 5% van ouers lees vir hul kinders, en in 58% van Suid-Afrikaanse huishoudings is daar nie ’n enkele leesboek te vinde nie. Laat ons dus hierdie insiatiewe omarm en ondersteun.

ATKV-Woordveertjies 2019 toegeken

Die ATKV-Woordveertjies is Vrydag 6 September by die Adam Small-teater in Stellenbosch toegeken. Baie geluk aan die wenners. Met die Woordveertjies vereer die ATKV jaarliks uitsonderlike bydraes tot die Afrikaanse woordkuns in ’n verskeidenheid kategorieë:

Die ATKV-Prosaprys se beoordelaars was Anastasia de Vries, Elmari Rautenbach en Kirby van der Merwe met die wenner: Die dao van Daan van der Walt – Lodewyk G. du Plessis (Tafelberg).

Die kategorie Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Shireen Crotz, Roela Hattingh en Madri Victor met die wenner: Uit die bloute – Chanette Paul (LAPA).

Diana Ferrus, Charl-Pierre Naudé en Bernard Odendaal het die Prys vir Poësie beoordeel met die wenner: Asof geen berge ooit hier gewoon het nie – Pieter Odendaal (Tafelberg).

Die Prys vir Romanses is deur Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Riette Rust beoordeel met die wenner: Blameer die skoenlapper – Elsa Winckler (Romanza).

Die Prys vir Spanningslektuur se beoordelaars was Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen met die wenner: Prooi – Deon Meyer (Human & Rousseau).

Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Hennie van Greunen was die beoordelaars vir die Prys vir Dramateks en die prys gaan vanjaar aan Klippe wat val – Philip Rademeyer.

Prys vir Niefiksie is deur Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard beoordeel met die wenner: Ingrid Jonker – Petrovna Metelerkamp (Penguin Random House).

Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is beoordeel deur Rufus Gouws, Sophia Kapp en Fred Pheiffer en is aan Pharos Afrikaansgids (2018) toegeken. Samesteller: Nicol Faasen. Uitgegee deur Pharos, ’n druknaam van NB-Uitgewers.

Die Toekenning vir Leesbevordering gaan vanjaar aan die Du Toitskloof Fairtrade Mobiele Biblioteek en Mediasentrum.

Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n kategorie waar die kinders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

·                Skrywer: Jaco Jacobs – Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het (LAPA)

·                Illustreerder: Johann Strauss– Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het (LAPA)

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

·                Skrywer: Jaco Jacobs – Spaghetti tussen jou tone (LAPA)

·                Illustreerder: Alex van Houwelingen – Spaghetti tussen jou tone (LAPA)

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

·                Skrywer: Jaco Jacobs – Max die masjien (LAPA)

·                Illustreerder: Stephen Wallace – Max die masjien (LAPA)

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

·                Skrywer: Celeste Slabber-Loriston – Jinx (Protea Boekhuis)

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

·                Skrywer: Fanie Viljoen – Veldiep (Tafelberg)

Die Koalisie vir Doeltreffende Outeursreg in Suid-Afrika: ’n video

Die Koalisie vir Doeltreffende Outeursreg in Suid-Afrika gaan voort met bewusmaking van en opposisie teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, wat steeds nie deur die president geteken is nie. Met drukgroepe wat luid vir én teen die beoogde wetgewing stelling inneem, is dit onwaarskynlik dat dit in die vergetelheid sal verdwyn.

Gerugte uit regeringskringe dui daarop dat die president kennis neem van die opposisie teen die wetsontwerp, veral uit die bedrywe wat die wetsontwerp bedoel is om te dien: die skeppende bedrywe.

Die volgende video gee ’n goeie oorsig van die Koalisie se bedrywighede: https://youtu.be/ISsB64R0le0
Algemene jaarvergadering by Tuin van Digters 2019

Tuin van Digters is om die draai en ons sien daarna uit om by die Breytenbachsentrum by mekaar te kom ter viering van die digkuns. Die finale feesprogram kan hier bekyk word.

Ons algemene jaarvergadering sal op 14 September om 13:00 in die Wellington-biblioteek oorkant die Breytenbachsentrum gehou word. Ons hoop om soveel as moontlik van ons lede daar te sien. Bevestig asseblief bywoning by penafrikaans@gmail.com sodat ons kan verseker dat daar genoeg stoele en lafenis is.
Met die oog op die vergadering word julle vriendelik versoek om op die volgende te let:

·                Slegs opbetaalde lede het stemreg by die AJV, waar ’n nuwe bestuur verkies sal word.

·                Opbetaalde lede wat nie die vergadering kan bywoon nie, moet asseblief ’n volmagvorm invul en stuur na penafrikaans@gmail.com

·                Opbetaalde lede word aangemoedig om bestuurslede te benoem deur van hierdie nominasievorm gebruik te maak. Stuur dit asseblief so gou as moontlik na die bogenoemde e-posadres.

Die wêreld van die skrywer

“Die wêreld van die skrywer” is PEN Afrikaans se artikelreeks waarin skrywers uitbrei oor temas wat met die praktyk van skryf te doen het. Die artikels verskyn kwartaalliks.

Lees hierdie keer hoe beantwoord bekroonde digter, vertaler en letterkundige Henning Pieterse die volgende vrae:

·                In watter mate is plaaslike en/of internasionale kontakte vir skrywers van belang?

·                Watter impak het verbintenisse met uitgewerye, skrywersorganisasies asook individuele vriendskappe met ander skrywers op skrywersloopbane?
Sy artikel is hier beskikbaar.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

[Nuusbrief verkort – mj]

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*