Resensie: Voorspraak (Hendrik J. Botha) 

 

Voorspraak deur Hendrik J. Botha. Naledi, 2019.

Resensie: Nini Bennett.

 

Hendrik J. Botha is ’n narkotiseur van Pretoria. Die digter trek reeds in 2015 aandag met sy debuutbundel, Atropos en lewer ’n belangrike bydrae tot mediese poësie. Botha se debuut, die uiteindelike produk van ’n MA-graad in Skeppende Skryfkuns onder leiding van professor Joan Hambidge, is in 2017 gekortlys vir die Ingrid Jonker-prys in poësie.

Die bydraes van dokter-digters tot die Afrikaanse letterkunde dateer terug tot die dae van Arnoldus Pannevis, wat beskou word as een van die heel eerste digters in Afrikaans. En die lys dokters wat gedig het, is inderdaad indrukwekkend; só dink mens byvoorbeeld aan Louis Leipoldt, A.G. Visser, A.D. Keet, Theo Wassenaar, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Henk Rall, Gilbert Gibson, Hennie Nortjé en Jasper van Zyl. Leipoldt en Visser se invloed op hulle mededigters was vir geslagte later nog sigbaar. Dit was egter Henk Rall wat in Donker van mere (1976) die eerste keer die mediese beroep betrek het in sy poësie en gestalte gegee het aan “medical poetry”, oftewel mediese poësie.

Ook met sy tweede bundel, Voorspraak tree Botha na vore as ’n belangrike eksponent van mediese poësie. Die bundel bemoei hom egter nie net met die dokter-digter-simbiose nie; dis ’n versameling verse wat ryklik reflekteer op die digter se jeugjare, ’n bemoeienis met familie, die Grensoorlog, liefde en die dood, om enkeles te noem.

Die omslagkuns deur Anlerie Botha toon ’n tipe Janus-gesig of ’n superposisie van twee gesigte; ’n tema rondom die Self wat subtiel neerslag vind in enkele verse.

Die programgedig, “Apoptose” (1) se titel verwys na die geprogrammeerde seldood in multi-sellulêre organismes.  Ek haal aan, strofes 2-3:

 

’n slang ná die winter,

sy vel skubbig afgestroop;

saad sterf in die grond

alvorens dit ontkiem;

’n akkedis wat wriemelend

sy stert verloor.

 

’n Soma biologies fyn gestem

om selle apoptoties te beheer –

so sterf ons daagliks stuk-stuk

ten einde te oorleef.

 

Temas van verwording, destruksie en dood as voedingsbron vir die lewe loop dwarsdeur die bundel. Ook in die vers “Heroorweeg” (44) word verwys na Asklepius se staf wat deur ’n slang omstrengel word as die simbool van geneeskundige praktyk: “die slang met die afgestroopte vel”.

Die eerste gedeelte van die bundel open met die motto uit Charles Bukowski se nihilistiese gedig, “The crunch”:

there is a loneliness in this world so great

that you can see it in the slow movement of

the hands of a clock

In “Vyeboom” (3) word daar teruggekyk na die digter-spreker se jeugjare en ’n terugkerende droom om soos Saggeus in ’n vyeboom te sit. Een van die betekenisse van die bundeltitel, ‘Voorspraak’, is ’n religieuse een; Christus en die Heilige Gees dien as voorspraak by God die Vader. Die stroewe verhouding tussen vader en seun word subtiel verwoord:

 

Onderweg probeer ek uitpluis, Pa,

hoe my pad sou loop

as jy my destyds sou toelaat

 

om één maal terug te keer,

vir oulaas soos ’n Saggeus

in die vyeboom se takke te kon speel.

 

Die gedig staan in jukstaposisie met die Bybelse Saggeus wanneer Christus laasgenoemde vra of Hy  mag tuisgaan in sy huis. “Speel” verras eweneens as woordkeuse – die spreker was nog ’n jongeling, in tandem met Saggeus, wat klein van gestalte was.

Sommige verse bied Botha aan as raaisels; die leser moet as’t ware soos ’n speurder die digterlike leidrade ontknoop ten einde die groter enigma te ontrafel. In die volgende gedig, “Kinderdae” (5) is dit ook die geval. ’n Ou foto laat die spreker met vrae oor sy gesin en dwing die leser om fyn te kyk na die detail soos die liggaamstaal van die persone en die verfilming van die hele toneel, ten einde vas te stel wie die foto “so kon verbrou”, ’n segging wat verder die moontlikheid van ’n disfunsksionele gesinsopset suggereer. Ook in “Stamboom” (6) word hierdie gesinsraaisel voortgesit. Wat veral opval is die afstandelikheid, die sober beriggewingstyl: die spreker is onemosioneel in die taksering van sy sibbe, juis dáárom tref die gemaskeerde bitterheid in die slotstrofe soos ’n uitknikker:

 

Pa: ek het vergeet om hom te vra

hoekom hang mens die naam

van ’n kind wat voortydig vertrek

doodluiters om die volgende een se nek.

 

Daar word egter ook aangename familieherinneringe voor die gees geroep, byvoorbeeld “Preserveer” (7). Die tipografiese nabootsings van die reëls in strofes 1 en 2 resoneer met die ingelegte kwepers, “netjies ingelê om nes sillabes / perfek te pas”.

“Terugblik” (9) open met nog ’n aanhaling van Bukowski:

There are worse things than being alone …

there is nothing worse than too late

Die digter-spreker word gekonfronteer met ’n ou skoolgetuigskrif. Die raaisel lê in dít wat die skoolhoof oor die leerder verswyg, naamlik dat nonkonformiteit en kreatiwiteit hand-aan-hand loop (en uiteindelik tot volwasse digterskap sou lei).

Die opeenvolgende gedig, “Onbewus”, betrek die omslagkuns wat onder meer vertolk kan word as ’n asimmetriese of verwronge spieëlbeeld van ’n gesig.

 

Vir jare dié droom

wat repeteer:

’n Fontein breek deur,

 

’n stroompie water

kies koers tussen klip en sand

na ’n poeletjie waaruit ek stilte put,

 

my spieëlbeeld bestudeer.

Dan ’n naaldekoker

wat plotseling die oppervlak versteur.     (10)

 

‘n Naaldekoker is ’n kragtige en gelade simbool wat kan dui op transformasie, selfrealisering of ’n dieper kennis of belewenis van dinge. Andersyds verbeeld die gedig ook die transendentale aard van die Self tydens digterskap, ’n proses wat met pynlike selfkonfrontasie gepaard gaan.

Reeds in Atropos het die leser kennis gemaak met die dogter van Zeus, een van die drie skikgodinne. As een van die beskikkers oor die noodlot beëindig Atropos die sterflinge se lewensdraad deur dit kort te knip (die dood). In “Lotgeval” (11) sit die digter hierdie noodlotstematiek voort, maar die dubbelduidige “Lotgeval” sinspeel ook op Lot se vrou wat omgekyk het en in ’n soutpilaar verander het tydens die verwoesting van Sodom en Gomorra.

Die slotstrofe:

 

Wat kan ek en jy verwag

wanneer ons die lewe dag na dag

so oor die skouer bly betrag?

 

Implisiet tot die Christelike tematiek in die bundel kan die gedig waarskynlik ook gelees word in reliëf tot Lukas 17:31-32. Die stagnasie van iemand wat bly terughunker na die verlede word sinvol gesimuleer deur die rym, met monotone effek. Met hierdie vers tree Botha intertekstueel in gesprek met sy mentor, Joan Hambidge, en haar bundel Lot se vrou – ’n dubbele kameevertoning, dus.

In “Alternatief” (12) smag die spreker daarna om ’n nomadiese en pastorale bestaan saam met die Himbas te voer.

 

Met verdrag sal ek die taal aanleer:

’n oeroue Herero-dialek

sonder ’n woord of beeld

vir dié begrip deur ons onwetendes

as “selfdood” gedefinieer.

 

Moderne Westerse sofistikasie word denkbeeldig verruil vir ’n primitiewe bestaan, ’n idilliese leefwêreld waarin die konsep ‘selfdood’ nie bestaan nie – net onder die sogenaamde gesofistikeerde ‘onwetendes’. Hierdie ironie suggereer dat die Himbas inderwaarheid spiritueel veel verder geëvoleer het as hulle Westerse eweknieë.

Voorspraak is deurweef met Bybelse en Christelike metaforiek (soos reeds genoem). In “Oorgegee” word die passiewe oorgawe aan Christus, as antidoot vir die siklus van geweld, verbeeld. Met ander woorde: ’n versoenende gebaar versus die volhardende en kwaadwillige aard van oorlogvoering kom aan die bod.

 

Vanoggend staan ek in ’n kerk –

mense met hul arms na bo gestrek,

oë gesluit terwyl hulle sing,

en ek wonder wie van hulle weet

wat het die korporaal ons toentertyd geleer?

 

In die daaropvolgende gedig “En op die sewende dag” (16) word die weerhaan op die kerk se dak ontgin as die simbool van Christus se verloëning, maar ook van Sy herrysenis – terwyl “Slaggereed” (17) die gevoel van onheil voortsit met die verwysing na ’n kapelaan wat sy manskappe afsien “met drie versies en ’n gebed”. Die skadukant van Christenskap word hier belig: soldate word ‘slaggereed’ gemaak deur godsdiens as ideologiese wapen te gebruik, ’n vers wat sy skeut sosiale kommentaar lewer op die ou apartheidsregime.

In die volgende paar gedigte word daar gefokus op reise, sosiale onrus, Mandeladag en xenofobie. “Seisonaal” (25) se slotreël, en ek haal aan: “(…) my eie spieëlbeeld / versplinter in die water” eggo die voorafgaande temas van die transformasie van die Self (digterskap), terwyl “Reisplan” (26) aangebied word as ’n digterlike raaisel. In “Anargie lê dieper as die vel” (19) eskaleer die geweld van studenteprotes na die lesers en beoefenaars van literêre kritiek wanneer die spreker ’n ander digter se bundels met petrol aan die brand steek – myns insiens is die belewenis van Schadenfreude universeel.

In die volgende gedeelte doen die digter bestekopname van die natuurlewe in Angola en Namibië, verse wat gelees kan word as herinneringe aan die Grensoorlog. Botha weeg elke woord; skryf met ’n besondere helderheid en ’n egalige hand, soos ook “Epupa” (33) getuig:

 

Makalanipalms styg uit

bo die Kunene wat maalkolk

rondom klippe, drifsels en dooie stompe

verdoesel deur die newels.

 

Ewe bedrieglik die benedeloop –

strelend sereen sonder tekens

van vlymskerp rotse en onderstrominge,

die bovlak rol stilweg uit

soos ’n blinkgestrykte lint.

 

Die afdeling mediese poësie open vervolgens met ’n motto van die Palestynse digter, Mahmoud Darwish:

 I see poetry as spiritual medicine.

Mediese poësie fokus op die sinergie tussen letterkunde en die mediese beroep, byvoorbeeld watter rol speel literatuur in die refleksie en beïnvloeding van goeie geneeskundige praktyk? Ook die terapeutiese waarde van poësie kom onder die soeklig – dié van digtende, sowel as lesende dokters en pasiënte. Die lees van pamfletpoësie in oorsese lande bereik miljoene pasiënte terwyl hulle in dokters se spreekkamers op hulle lot, diagnose of prognose wag. Oor mediese poësie sê Danny W. Linggonegoro, ’n mediese student verbonde aan Harvard se Mediese Skool, die volgende: One part of the Hippocratic Oath, the vow taken by many physicians, requires us to “remember that there is art to medicine as well as science, and that warmth, sympathy, and understanding may outweigh the surgeon’s knife or the chemist’s drug.”  When I, along with my medical school class, recited that oath at my white coat ceremony a year ago, I admit that I was more focused on the biomedical aspects than the “art.”

Physicians are beginning to understand that the role of language and human expression in medicine extends beyond that horizon of uncertainty where doctor and patient must speak to each other about a course of treatment. The restricted language of blood oxygen levels, drug protocols, and surgical interventions may conspire against understanding between doctor and patient—and against healing. As doctors learn to communicate beyond these restrictions, they are reaching for new tools—like poetry. (…) Poetry is a way to both embrace the hospital encounter, and escape from it.

Ook Catherine Belling, ’n mediese professor, spreek haar só uit oor die rol van poësie in geneeskunde: Poetry is a beautifully condensed form of what all of language does, which is what captures the real world and turns it something manageable and meaningful. Physicians and patients can sometimes assume that the other party is on the same page, when they are not. Language is not always transparent and sometimes our vocabulary is insufficient to describe our mood. Poetry is, in some ways, uniquely capable of addressing this problem. Poetry has a structure, which is something we can experience with our bodies.

Die stem van die dokter-digter in hierdie betrokke afdeling is nié die van ’n geneesheer wat die mediese professie verromantiseer nie, maar eerder ontgogel staan voor die kwesbaarheid van die menslike liggaam en gees. Die spreker bespiegel of ’n persoon wat met hermafroditiese geslagseienskappe gebore word, ook “vir Levitikus se god ’n gruwel sal wees” (37). Gender-klassifikasies in die Bybel is eksplisiet en binêr manlik / vroulik. Die vers is fyn gekonstrueer; die moderne mediese wetenskap word afgespeel teenoor die rigiede Oud-Testamentiese geslagsrolle, ’n raaisel sonder antwoord. Die demistifikasie van die hart as emosionele spilpunt word op berekende wyse geskets in “Om ’n hart oor te plant” (40), terwyl galgehumor die gedig, “Brokkie goeie nuus” (41) kenmerk.

Die vierde gedeelte handel vervolgens oor die liefde, en deel vyf sluit met gedigte oor die dood. Die liefdesgedigte is waarskynlik dié hoogtepunt in die bundel, byvoorbeeld “Ontluik” (49):

 

Laataand lê ons langs mekaar.

In die nanag raak dit koeler,

trek iemand, ek of jy,

 

’n duvet oor ons,

lê jy soos ’n papie opgekrul,

 

’n vlinder gereed

om te ontluik,

 

jou vlerke oop te sprei,

my silhoeët te eien,

 

dan amper terloops

my aan te raak.

 

Die gedig is veerlig. Bybelse simboliek vind verder neerslag in “Soms” (51) en “Verjaardagvers vir myself” (47): ‘n interessante kenmerk van Botha se poësie is die gevoelige, dog simboliese gebruik van getalle wat ook vra vir ’n numerologiese lesing. Die spreker is intens bewus van die tyd wat verbygaan – daar is meer as een verjaardagvers in die afdeling – en die stemming wissel tussen angst, nostalgie en ’n gevoel van gelatenheid.

In die laaste afdeling word die grusame werklikheid rondom selfdood negeer in “Aweregs” (55), terwyl “Vasbeslote” (56) weer met galgehumor getemper word. ’n Pasiënt, wat ’n gesonde leefstyl begin volg het ná ’n dreigende diagnose, se vooruitsigte op goeie gesondheid versomber egter in die slotstrofe:

 

Jou doelwit nou waarskynlik

om voor Kersfees,

in ’n mediumgrootte

doodskleed te kan pas.

 

Naas gedigte oor die dood, berig “Rooikappie revisited” (61) oor die verkragting en moord van die 16-jarige Franziska Blöchliger. Die misdaad word aangebied as ’n ontluistering van die tradisionele Rooikappie-en-Wolf-sprokie: die vernietiging van ’n jong meisie se onskuld.

In Voorspraak lewer Botha gestroopte en gepoleerde poësie; klankryk, en verrassend vry van ’n onnodig verliteratuurde effek. Dalk vat ’n reël uit die titelgedig, “Voorspraak” (48) die essensie van hierdie bundel saam: ” (…) besin ons oor poësie in eenvoud opgesluit”. Die leser moet hom egter nie laat flous deur die diafane aard van die gedigte nie. Dit is ’n bundel wat boei in verwikkelde eenvoud.

 

Verwysings:

 

Botha, Hendrik J. 2019. Voorspraak. Kaapstad: Naledi.

http://versindaba.co.za/2016/10/27/hendrik-botha-het-die-digkuns-dokters-nodig/?fbclid=IwAR0X5V3bEI08G61b4uofWlMlDB2wNLAVHf0QLDrjRvT_WmSpsMTNizUU_us

http://nautil.us/issue/64/the-unseen/how-doctors-use-poetry

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Voorspraak (Hendrik J. Botha) ”

  1. Nog n puik resensie Nini, dit klink na n skitterende bundel, ek sal hom graag aanskaf.

  2. Lianda :

    ‘n Bundel wat op my boekrak sal beland ná só ‘n positiewe resensie. Dankie, Nini!

Los kommentaar

 

*