Digstring: Die res is net seëlversameling (De Waal Venter)

Digstring: Die res is net seëlversameling (De Waal Venter)

 

Die res is net seëlversameling

 (Uit “Oop sirkel” p. 78)

 

Die filatelis

waad ’n ent

deur die kolkende molekules.

Uiteindelik gaan sit hy

onder ’n boom

en vee die sweet van sy voorkop.

 

Hy betrag ’n silikon-atoom

met twee suurstof-atome wat aan die kante vasklou,

en ’n swerm parmantige waterstof-atome om hulle.

 

Kry net ’n kalsium of twee

plus ’n natriumpie

en jy sal glas wees,

dink die filatelis.

Hy hou nogal van glas

want sy vergrootglas

kan lig in wyer hoeke buig

vir hom sodat hy die fynere details

op ou seëls kan uitmaak.

 

Daar is baie van julle kêrels hier rond,

mompel die filatelis,

en stoot met sy vinger aan ’n amper belaglik ingewikkelde

string koolstof-atome met suurstowwe en waterstowwe,

ysters, swaels, stikstowwe en selfs ’n koper of twee

aangehak aan die trein.

Dit lyk soos ’n kersboom

wat ’n belastinggaarder aanmekaar gesit het

sonder ’n greintjie styl of smaak.

 

Die filatelis herken die samestelling

en glimlag –

deel van ’n organiese molekule

wat een keer deel was

van ’n vriendelike bakterie

wat op ’n menslike tong gelewe het.

 

Ek skat jy was deel van ’n woord,

peins die filatelis,

in die lug uitgeskiet

en nou besig om te ontbind

soos die waarheid.

 

Ons sal moet aanhou

om jou weer aanmekaar te sit.

 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Die gedig het ontstaan ongeveer 06:30 op Maandag 9 Maart 2015 en is oorgetik om 12:12. (’n MS Word-dokument se ontstaantyd en datum word outomaties vasgelê wanneer dit geskep word.) Is dit nodig om so presies te wees? Ek dink wel so in hierdie geval. Hoekom?

Die gedig leun in ’n taamlik speelse wyse aan by wetenskaplike begrippe en opvattinge. Akkuraatheid is van die uiterste belang in die wetenskap, al erken baie wetenskaplikes dan ook dat daar nie iets soos absolute akkuraatheid bestaan nie. Die titel van die gedig is ontleen aan iets wat toegeskryf word aan Sir Ernest Rutherford (30 Augustuds 1871 – 19 Oktober 1937), maar dit is nooit bewys dat hy dit gesê het nie. Hy word beskou as die “vader van kernfisika” en hy sou gesê het dat net fisika as wetenskap beskou kan word, ander “sogenaamde” wetenskappe is “net seëlversameling”. En toe kry hy die Nobelprys in 1908 vir Chemie, nie fisika nie!

Dit verklaar ook gedeeltelik hoe die gedig ontstaan het. Ek lees graag oor die kenniswêrelde van die verskillende eietydse wetenskappe. My geamuseerdheid oor hierdie beweerde stelling van Rutherford het my laat dink aan ’n verbeelde filatelis wat verstommende insigte in die molekulêre strukture van stowwe kon hê en ook metafisies peins oor “waarheid”, waarmee die gedig dan afsluit.

’n Tweede verklaring van die ontstaan van die gedig is die opduiking (“emergence”) van die sentrale poëson van die gedig. (“Emergence” in die sin van die filosofies-wetenskaplike konsep wat deesdae druk bespreek en bedink word – bv. die ontstaan van lewe op aarde.) Uit hierdie poëson het ander gevloei en so deur die gang van die gedig verloop. Lees meer oor die “poëson” in vraag 4.

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel? 

 Op die MacGregor Poetry Festival in Augustus 2019 het die digter Brian Walter twee gedigte voorgelees. Die een het beskryf hoe vinnig en spontaan ’n gedig kan ontstaan, die ander hoe moeisaam en hoe hard daaraan gewerk moet word. Tussen hierdie twee uiterstes is daar ’n hele spektrum van digterlike werkwyses.

My werkwyse grens aan die “spontane” kant van die spektrum. Ek skryf ’n gedig met die hand in een onafgebroke sessie. Ek mag hier en daar ’n klein verandering aanbring met die herlees. Dan word die gedig getik en dan mag daar nog klein wysigings kom. Maar die oorgrote meerderheid van my gedigte is amper identies aan hoe hulle vir die eerste keer uit die papier opgeskemer het.

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou gegeeen hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet? 

Ek dink ek het hierdie vraag reeds gedeeltelik hierbo beantwoord. My begrip is dat die sentrale poëson (kyk vraag 4) opduik (emerge) uit die onbewuste. Die “onbewuste” is ’n baie ingewikkelde begrip, maar laat my toe om vir die doeleinde van hierdie gesprek te oorvereenvoudig: kom ons dink hier aan die “onbewuste” as die som van die mens se ervaringe, denke en uitinge. Om ’n metafoor te gebruik: die onbewuste is soos ’n oseaan, die bewuste denke is soos die laaste rimpeling van ’n brander wat uitstrek oor die strand. Bewuste denke is ’n manifestasie van ’n baie klein deeltjie van die onbewuste en verander, versterk en verswak van oomblik tot oomblik.

Die sentrale poëson word dus gevorm in die onbewuste op ’n manier waarvan ek geen begrip het nie. Dit duik dan op sodra ek myself in ’n ontvanklike staat plaas. Al wat ek hiervan kan sê, is dat hierdie opduiking deels beïnvloed word deur ’n onlangse stimulus – iets waaraan ek gedink het, gelees het of ervaar het.

Ek is dus in groot mate ’n “ontvanger” van die gedig en “wroeging” en “sweet” is vir my onbekende begrippe in hierdie verband. As ek sou wroeg en sweet met ’n gedig sou ek net met ’n koue lykie op my skoot bly sit het.

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas? 

Toe alle digters vaste “ordeningsbeginsels” gehad het – sonnetvorm, kwatryn, villanelle, rymskema, ritmeskema, filosofiese en godsdienstige ondergrond, ens – was dit maklik om ’n gedig te skryf, en dit was moeilik.

Dit was maklik omdat jy ’n skema gehad het om te volg, jy hoef nie ’n nuwe uit te dink nie. Dit was moeilik omdat sulke skemas en godsdienstige (e.a.) vereistes ’n digter ingeperk het en sy uiting die harnas ingejaag het.

Ek skryf nie met enigeen van hierdie beginsels wat om my staan en kibitz en kvetz nie. Maar ek wend wel ’n beginsel aan – die poëson. Dit is ’n woord wat ek geskep het om my besondere werkwyse te kenmerk.

Maar prosodiese elemente soos ritme, klankverwantskappe, selfs spontane binne- en eindryme partykeer, reëllengtes en strofe-indeling speel wel ’n belangrike rol in my skryfwerk. Dit is egter tegniese aspekte van die gedig, nie sentraal tot die ontstaan daarvan nie.

Dalk moet ek hier nou iets meer oor die poëson sê. Wat is dit? Die poëson is ’n intuïtiewe konsep wat uit die onbewuste opduik. Dit is nie iets wat uitgespel staan in die gedig soos byvoorbeeld ’n sonnetvorm nie. Dit is ’n idee wat implisiet deur die gedig loop, wat vervleg is met ander, verwante, idees en wat deur assosiasie en sametrekking, konflatering, van soortgelyke (alhoewel dikwels oënskynlik anderse) gedagtes eenheid aan die gedig gee. Soos in bygaande gedig: molekules, woorde en waarheid”.

’n Voorbeeld? In die gedig hierby:

 

“Ek skat jy was deel van ’n woord,

peins die filatelis,

in die lug uitgeskiet

en nou besig om te ontbind

soos die waarheid.”

 

Hier is die sentrale poëson die idee van organiese (en ander) molekules wat onstabiel is en maklik kan vergaan, soos alles in die fisiese wêreld, en trouens ook in die geesteswêreld. Dit word metafories van die woord wat die “waarheid” probeer vaslê, maar dit tog altyd verloor. Die begrip van die waarheid, soos met organiese molekules, moet voortdurend weer van vooraf saamgestel word.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan n vers werk?  

My verse word in een onafgebroke sessie geskryf en in daardie tyd praat ek met niemand nie. Dit sou die gedig fataal verwond. Ek gebruik niemand as klankbord terwyl ek skryf nie. Soms wys ek ’n voltooide gedig aan my vrou of ’n goeie vriend of twee. Verder publiseer ek dikwels op my poësieblog waar enigiemand welkom is om kommentaar te lewer.

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn? 

Die vers hierby is in 2015 geskryf en is onmiddellik op my poësieblog gepubliseer. Daarna is dit in my bundel “Oop sirkel” in 2017 gepubliseer.

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van feit” en “fiksie” in dié vers? 

Molekules bestaan uit groepies atome wat op bepaalde maniere aan mekaar vasklou weens sekere molekulêre, inter-atomiese kragte. Dit is ’n feit. Maar is dit? Dit is wat fisici en chemici aflei uit hulle waarnemings. Hulle stel modelle op en maak grafiese voorstellings van hoe molekules en atome sou lyk. Maar eintlik is dit fiksie. Niemand het hierdie verskynsels nog ooit werklik gesien soos mens ’n olifant kan sien nie.

As iets waar is is dit “waar” – soos ’n koei, soos daar gesê word. Dit is ’n feit. Maar eintlik is dit fiksie. “Waarheid” word gedurig afgetakel en word dan van nuuts af weer aanmekaargesit. Die son draai om die aarde, nee, die aarde draai om die son. Alles in die heelal werk berekenbaar soos ’n masjien (klassieke Newtoniaanse fisika). Nee, die gedrag van sub-atomiese partikels is onvoorspelbaar – hulle kan selfs op twee plekke gelyktydig bestaan (Hedendaagse kwantumfisika). Demokrasie is ’n ideale en regverdige regeringstelsel. Nee, demokrasie is dwingelandy van die meerdere oor die mindere.

Hierdie lukrake aard van “waarheid” is onder andere wat in die vers gelees kan word.

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?  

Soos hierbo gesê: waarheid vergaan voortdurend in die speeksel van die woord. Dan word ’n nuwe opgebou.

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?  

Ek lees graag oor die beginsels van “emergence (opduiking) en kompleksiteit et al in boeke van mense soos Douglas Hofstadter, Matt Ridley, Roger Penrose en Jay Gould.

In die “Internet Encyclopedia of Philosophy” word “emergence” soos volg beskryf:

“If we were pressed to give a definition of emergence, we could say that a property is emergent if it is a novel property of a system or an entity that arises when that system or entity has reached a certain level of complexity and that, even though it exists only insofar as the system or entity exists, it is distinct from the properties of the parts of the system from which it emerges.”

  1. Het jy n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan n vers werk? 

Nee, ek dink nie aan die potensiële leser wanneer ek skryf nie. Ek is te besig om die stuwing van gedagtes naastenby in ’n hanteerbare (en leesbare) vorm vas te lê.

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte? 

Ek skryf in verskeie toonaarde. Hierdie gedig maak gebruik van ’n skeut humor om  moeilike konsepte oor te dra. Daar is heelwat van my ander gedigte wat soortgelyk is. Maar ander neig weer in die rigting van magiese realisme, satire, liriek, filosofie, prosagedigte, ook die vaste vorm van die haikoe en ook liefdespoësie.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies Suid-Afrikaans” sal beskou?  

Ja, die molekules is Suid-Afrikaans, soos die vervlietende waarheid. Maar dan kry mens dit in ander wêrelddele ook?

  1. Kon jy dié vers tot n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”? 

Soos ek voorheen gesê het, ek begin skryf en maak dan klaar. Ek beplan nie ’n vers bewustelik nie. Sodra die primêre poëson by my opduik, begin ek skryf en is altyd verras oor hoe die vers eindig.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan? 

Ja, ek het nie reaksie op hierdie spesifieke vers gekry nie, maar die bundel het in die algemeen gunstige kommentaar opgelewer.

  1. n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan? 

Ek kan dit nie meer onthou nie, dit is gehul in die Götterdämmerung van die verlede. Ek kan wel onthou dat ek as seun gesoek het na ’n verduideliking van wat poësie nou eintlik is. Maar ek kon niks kry nie, toe skryf ek maar soos wat ek gedink het dit moet wees.

Ek het nooit formele akademiese “leiding” gekry nie, soos byvoorbeeld in ’n kreatiewe skryfkursus of studie vir ’n graad nie en het my eie werkwyse op die been gebring deur ’n handjievol dekades.

Ek onthou nou ook dat ek in die vroeë sestigerjare verse gepubliseer het in Stiebeuel II, Standpunte, Sestiger en Tydskrif vir Letterkunde en natuurlik in Wurm, waarvan ek stigterslid en eerste redakteur was. In die Sestiger van Mei 1964 het ek vyf gedigte gepubliseer. Een met die Middelnederlandse titel “Mi lanct na di” begin so:

 

Die skoenlapper

het ’n sagte

murwerige

pensie …

.

einde

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*