PEN Afrikaans. Nuusbrief: Oktober 2019

 

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Die Konstitusionele Hof wys aansoek oor taalbeleid van die hand

Die Konstitusionele Hof het op 10 Oktober ten gunste van die Universiteit Stellenbosch (US) beslis en bevind dat die US se 2016-taalbeleid, wat Engels die voorrang gee as onderrigtaal by dié instelling, grondwetlik geregverdig is.

Gelyke Kanse, ’n drukgroep vir taalregte, het ’n aansoek gebring vir tersydestelling van die US se 2016-taalbeleid ten gunste van die 2014-taalbeleid, waarvolgens Afrikaans en Engels gelyke status by die universiteit geniet het. Hul aansoek is van die hand gewys.

Die hof het bevind dat die 2016-taalbeleid toegang tot die universiteit verseker en meertaligheid bevorder. Studente kan wel in Afrikaans klasloop indien dit redelik en prakties uitvoerbaar is.
PEN Afrikaans is dit eens dat die universiteit as openbare leerinstelling toeganklik moet wees vir diegene wat daar wil studeer, maar vind dit moeilik om te begryp hoedat die verengelsing van ’n universiteit tot die bevordering van meertaligheid bydra. Die teendeel blyk die geval te wees, en dit is veral skreiend met inagneming van die oorwegend Afrikaanse taalgemeenskap wat die Universiteit Stellenbosch dien.

In sy reaksie op die bevinding skryf Danie van Wyk die volgende:
Dit is ’n jammer dag vir Suid-Afrika waar een van die grootste bates van die land, naamlik die Afrikaanse taal, tot niks nie gereduseer is, en Engels verhef word as die belangrikste taal ten koste van al die tale soos vervat in die Grondwet, en waarvolgens alle amptelike tale op ’n gelyke basis geplaas is en dus veronderstel is om almal dieselfde status te geniet.

Lees sy kommentaar hier.

kykNET-Rapport-boekpryse toegeken

Baie geluk aan al die wenners van die kykNET-Rapportpryse wat op Saterdag 14 September in Stellenbosch oorhandig is.

Al vier wentitels van vanjaar se kykNET-Rapport-boekpryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys insluit, is debute – ’n veer in die hoed vir die skrywers én tekenend van die lewenskragtigheid van die Afrikaanse letterkunde.

Die kykNET-Rapport-boekpryse is vanjaar toegeken aan die volgende skrywers:

  • Fiksie: Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis (Tafelberg)
  • Niefiksie: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey (Tafelberg)
  • Film: Kinnesdeur Chase Rhys (Kwela)

 

Charl-Pierre Naudé wen die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut of tweede prosawerk in Afrikaans met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Volgens die beoordelaars is Naudé se roman benewens magies realistiese satire, kwasi-speurverhaal en vernuftige metafiksie ook ’n boek wat die leser gaandeweg oortuig dat die idee van een kenbare werklikheid verregaande is – veral in ’n land waar soveel mense as ’t ware in parallelle werklikhede rakelings aan mekaar verbyleef.

Die kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is toegeken aan:

 

Breyten Breytenbach by Tuin van Digters gehuldig

Daar was iets besonders in die lug by die Tuin van Digters-fees wat op 13 en 14 September by die Breytenbach-sentrum in Wellington plaasgevind het. Breyten Breytenbach is by die fees, waartydens sy tagtigste verjaarsdag gevier is, vereer.

In sy nabetragting en bedanking op Versindaba, sê Breyten onder meer dankie “vir die menswees, vir die oomblikke van vashou, vir die nugter-weet-van-waar insigte soms, vir die bloedmaan, vir die vloed van herinneringe. Vir die musiek. Veral vir die musiek en die gedagtes soos musiek. Omdat dit verbygaan sal dit bly.”

Lees gerus “Ewigdurende uit die vlietende“, die boodskap wat Andries Bezuidenhout die Vrydagaand ter herdenking van Breyten se 80ste verjaarsdag gelewer het.

Baie geluk aan Francois Lötter, die feesorganiseerder en bestuurder van die Breytenbach-sentrum, met die saamstel van ’n boeiende en verrykende feesprogram. Dit sal feesgangers nog lank bybly.

Vir PEN Afrikaans was dit ’n plesier om ‘n sessie op die program te kon aanbied. Verskeie digters het in gesprek met Frieda van den Heever besin oor huis, taal en vertaling – en ook gedigte voorgelees wat by hierdie temas aansluit.

Daar is ‘n video-opname van die sessie hier beskikbaar. Dankie aan LitNet.

Lewenslange lidmaatskap aan Kerneels Breytenbach

Danie Marais het tydens ons onlangse jaarvergadering gemotiveer dat lewenslange lidmaatskap aan Kerneels Breytenbach toegeken word as erkenning van sy waardevolle aandeel in die ontstaan en verdere vestiging van PEN Afrikaans, sy rol as voorsitter van die organisasie, en sy groot bydrae tot voordeel van skrywers en boeke gedurende sy loopbaan as skrywer en uitgewer.

Die lede het eenparig ten gunste van die voorstel gestem en ons is bly om te sê dat Kerneels ook intussen aangedui het dat hy dié eerbewys aanvaar.

Hartlik geluk aan Kerneels, en nogmaals dankie vir die besonderse bydrae tot PEN Afrikaans en tot die lettere in die algemeen.

Engemi Ferreira (1943 – 2019)

PEN Afrikaans het met hartseer kennis geneem van Engemi Ferreira se afsterwe op 10 Oktober. Dit is moeilik om te dink dat haar stem nou stil is en haar stoel by ’n volgende vergadering leeg sal staan.

Lees hier oor haar lewe en werk.

Ons innige meegevoel aan haar naasbestaandes in hierdie moeilike tyd.

Wat elke skrywer moet weet: die bundel            

Wat elke skrywer moet weet, die reeks artikels wat PEN Afrikaans verlede jaar as deel van ons maandelikse nuusbrief gepubliseer het, is vanjaar in die vorm van ’n bundel gepubliseer en gratis aan ons opbetaalde lede beskikbaar gestel by die algemene jaarvergadering. Hierdie bundel bevat bydraes deur kenners oor sake wat skrywers raak, soos outeursreg, publikasie-ooreenkomste en aanspreeklikheid vir laster.

Opbetaalde lede kan ons gerus laat weet indien hul ’n eksemplaar van dié publikasie wil ontvang. Ons sal helaas nie almal se bundels kan pos nie, maar sal probeer om aflewering of afhaal te reël.  Kontak ons by penafrikaans@gmail.com om ’n reëling te tref.

Nobelprys vir letterkunde: twee wenners aangekondig

Die wenners van die Nobelprys vir letterkunde van 2018 en 2019 is die afgelope week aangekondig: die Poolse skrywer Olga Tokarczuk (2018) en die Oostenrykse skrywer Peter Handke (2019) stap met die louere weg.

Die Nobelprys vir letterkunde word sedert 1901 deur die Sweedse Akademie toegeken. Hierdie instansie was egter verlede jaar in ‘n rits skandale gewikkel wat tot die uitstel van die toekenning van die 2018-prys gelei het.

Tans loop die toekenning van die prys aan Handke onder kritiek deur. PEN Amerika het byvoorbeeld in ‘n stellingname die toekenning ten sterkste betreur. Verdere perspektiewe is hier beskikbaar.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

[Nuusbrief verkort]

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*