Buiteblik
Biografiese inligting oor korrespondente in die buiteland
Lees hulle gesamentlike blog by Buiteblik
| Marcelle Olivier is n digter en argeoloog wat haar deesdae in Cambridge, Engeland bevind. Ná skool op Stellenbosch het sy BDram en Engels honneurs by Maties studeer, en daarna by Oxford Universtiteit meesters en doktorale navorsing in feminisme en prehistoriese Afrika-rotskuns gedoen. Tans gee sy klas in die argeologie department by Cambridge Universiteit, en werk deeltyds as hoofeksaminator vir Afrikaans vir University of Cambridge International Examinations. Sy dig meestal in Engels, en jy kan haar werk in publikasies soos New Contrast, Carapace, Oxford Poets, en The May Anthologies opspoor.
|
|
|
Carina van der Walt is gebore in Welkom op die Vrystaatse goudvelde. Sy volg ’n akademiese opleiding aan die Puk (later die NWU) en ook die Katolieke Universiteit van Brabant in Tilburg (tans die UvT). In 2004 cum sy haar M in ’n vergelykende studie tussen Afrikaanse en Nederlandstalige poësie. Tussendeur reël sy vier jaar lank ’n skrywerskompetisie (Enter Net Skrywerskompetisie, 2000 – 2003) vir die ATKV. Vir haar werk word sy bekroon met ’n Afrikoon van die ATKV. Sy word deur die Suid-Afrikaanse ambassade in Den Haag uitgenooi om op te tree en ’n poëtiese invulling te gee aan die Vryheidsdagvieringe (2007) as Expert on Poetry. Sy tree op as simposium organiseerder namens die Stigting Lekoa-Vaal en die Universiteit van Tilburg in Tilburg in 2009. Hierdie internasionale simposium – South Africa in Transition - het die beste politieke analis vir nege agtereenvolgende jare uit Suid-Afrika, Allister Sparks, as hoofspreker gehad. Haar bande met die Suid-Afrikaanse letterkundige, kuns en kulturele wêrelde bly sterk. Sy deel dit graag met haar Nederlandstalige lesers en publiek. Daarteenoor is die invloed en blootstelling van verskillende Europese lande, kulture, tale en denkwyses iets wat sy met groot entoesiasme aan Suid-Afrikaners uitdeel. Dit maak haar ’n beter Suid-Afrikaner en ’n beter wêreldburger. |
|
|
|
Leon Retief het grootgeword in Wepener in die Vrystaat en word nog elke jaar groter. Hy het by Kovsies geswot en na ‘n kortstondige navorsingsloopbaan in biochemie het hy oorgeslaan na medisyne en gespesialiseer in narkose. Vir jarelank is hy werksaam as narkotiseur by ‘n hospitaal in Durbanville. Hy werk die afgelope twee jaar in Moose Jaw, ‘n dorp in die Kanadese prêrie. Hy meen dat hy eintlik niks weet van letterkunde nie maar hy het ‘n groot passie vir die digkuns. Ander belangstellings is evolusie, opera/lieder en motorsport. Hy is getroud met Lesli Hulle oudste dogter Liezl is in 2001 oorlede en hul jongste dogter Lenore woon in Johannesburg. |
|
|
Egonne Roth het in die Boland groot geword. Sy het haar skoolloopbaan op Worcester begin en op Stellenbosch in maatskaplike werk graad gekry, maar haar liefde vir kuns, musiek en letterkunde, veral Shakespeare, het sy op Herschel in Claremont, waar haar moeder hoof van die laerskool was, ontdek. Nadat sy in 1975 getroud is, het hulle op baie plekke gewoon - Oudtshoorn en Kaapstad, Bothaville en Nelspruit, en tussenin nog twee jaar in Skotland. Egonne ontdek egter haar ware tuiste in 2002 aan die noordkus van Israel. Egonne en haar vrou werk as Engelse onnies aan twee verskillende kolleges, maar hul groot liefde is reis en fotografie wat dikwels die inspirasie gee vir dit wat Egonne oor skryf. In Israel het Egonne haar in veral die Holocaust-letterkunde - fiksie sowel as memoir - begin verdiep. Dit lei tot ‘n belangstelling in „life-writing” en tans werk sy aan ‘n biografie van Olga Kirsch, die Joods Afrikaanse digteres. |
|
|
Frances Lubbe het grootgeword op Stellenbosch en by Maties ‘n BA in Letterkunde en Filosofie verwerf. Na ‘n MA in Engelse Letterkunde by die Universiteit van Kaapstad, het sy as redakteur by Oxford University Press se Suid-Afrikaanse tak gewerk. Sy het daarna die noordelike halfrond se uitgewery wêreld betree - tans is sy ‘n kontrak-koördineerder by ‘n literêre agentskap in Londen, en ‘n deeltydse Regsstudent. Sy dien ook as leser by die agentskap, en keur daagliks nuwe manuskripte, maar is steeds op soek na die ‘groot nuwe roman’ en hoop om iets opwindends (en Suid-Afrikaans!) te ontdek. |
|
|
Louis Jansen van Vuuren is in Middelburg, Mpumalanga gebore. In standerd sewe skryf hy in by Hoërskool Middelburg se kunsklas. Sy eerste kunsuitstalling vind op 17-jarige ouderdom in die Metodiste-Kerksaal in Middelburg plaas. Die uitstalling trek die aandag en The Rand Daily Mail en Vaderland skryf oor die jong man met belowende talent. Louis studeer later in die kunste en behaal ‘n BA Honneurs by die Universiteit van Stellenbosch. Vele uitstallings van sy kunswerke volg, plaaslik sowel as internasionaal. In 2010 publiseer Jansen van Vuuren sy eerste digbundel, Tempermes, wat goed ontvang word. Volgens Dr Riana Scheepers is hy ‘n digter wat dit regkry om sy lesers te beheks, om soos ‘n wilde, jong wolf die hekke van digterlike konvensies oop te huil, en dit boonop in oeroue digvorme soos die sestina, die aubade en die hooglied. Louis werk en woon in Frankryk op ‘n landgoed naby Boussac. |
|
|
|










