Suid-Afrikaanse blogs

 

Biografiese inligting oor ons Suid-Afrikaanse Bloggers

Kyk ook na inskrywings deur elke blogger op die Tuisblad waar die jongste blogs gelys word.

 

Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout is ’n sanger, digter en akademikus. Hy was vroeër lid van die Brixton Moord & Roof Orkes. Die orkes het twee CD’s vrygestel, Spergebied (2002) en Terug in skubbe (2004). Hy het ook ’n solo-CD, Insomniak se droomalmanak (2003), vrygestel. Sy debuutdigbundel Retoer is aan die einde van 2007 deur Protea Boekhuis gepubliseer. Bedags werk hy as sosioloog aan die Universiteit van Pretoria. Hy woon in Pretoria en Trompsburg. Lees Andries se Blog

Pieter Odendaal

Pieter Odendaal

 

Pieter Odendaal is in 1989 in Pretoria gebore en het in Bloemfontein grootgeword. Hy  studeer tans B.A. Taal en Kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch. Na drie jaar se rondlê en boeke lees, beoog hy om in 2011 met ’n B.Sc. in Menslike Lewenswetenskappe te begin. Breytenbach, Beckett, Brahms en die brein maak hom opgewonde. Hy skryf ook so af en toe ’n gedig – van sy verse het al op LitNet, in die studentebundel Penseel en in die versamelbundel Versindaba 2010 verskyn. Lees Pieter se Blog
Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen

 

Louis Esterhuizen behaal ’n B.A. (Hons.) in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Sedert Junie 2002 is hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007) volg. Sy agtste digbundel Wat die water onthou verskyn in 2010 by Protea Boekhuis en word bekroon met die Protea Poësieprys. Van sy verse is in verskeie bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ’n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset. Hy was een van die stigters van Bekgevegte, ’n verbale “boksgeveg” waartydens twee spanne van drie digters elk teen mekaar meeding aan die hand van temas wat deur die gehoor gegee word. Esterhuizen is die inisieerder van die jaarlikse poësiefees Versindaba. Lees Louis se blog.

Desmond Painter
Desmond Painter

Desmond Painter het grootgeword in Brackenfell, gestudeer aan die Universiteit Stellenbosch, en later vir ses jaar gewerk by Rhodes Universiteit in die Oos-Kaap. Tans doseer hy sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. In sy doseerwerk en navorsing fokus hy op sosiale sielkunde, kritiese sielkunde, kwalitatiewe navorsingsmetodes (spesifiek diskoersanalise), kritiese sosiale teorie, en die filosofiese grondslae en historiese ontwikkeling van die sielkunde as ‘n dissipline. Sy huidige navorsingsprojek is ‘n studie oor die konseptualisering van taal, subjektiwiteit en politiek in die sosiale sielkunde, met taalpolitiek in Suid-Afrika as die spesifieke empiriese konteks. Benewens akademiese publikasies oor hierdie onderwerpe, skryf hy ook gereeld essays, opiniestukke en resensies oor verskeie politieke, kulturele en literêre kwessies in publikasies soos Die Burger, Rapport en LitNet. Hy stel ernstig belang in letterkunde, musiek en films, reis graag wanneer hy die kans kry, en boer in Stellenbosch se koffiewinkels. Lees Desmond se Blog

René Bohnen

René Bohnen

René Bohnen skryf en neem foto’s. Soms tree sy op as fassiliteerder by kreatiwiteitswerkswinkels of spanbougeleenthede.  Sy woon in Johannesburg, is ʼn Nataller van geboorte, het al in 13 dorpe en 5 provinsies gewoon en dalk is dit nog het einde niet. Sy behaal in 2009 die graad M.A. Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Haar debuutdigbundel, Spoorsny verskyn in 2000 en in 2011 publiseer LAPA-Uitgewers haar tweede digbundel, in die niks al om.

 

 

Amanda Lourens

Amanda Lourens

 

 Amanda Lourens behaal haar DLitt aan die Universiteit van Pretoria met ‘n proefskrif oor die kanonisering van die vroulike outeur in die Afrikaanse literatuursisteem. Sy is tans dosent (Afrikaanse letterkunde en redigering) in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, en is ook verantwoordelik vir die koördinering van slypskole oor verskeie fasette van taalpraktyk wat deur die Departement aangebied word.  Sy is mede-outeur van Wetenskaplike skryfvaardighede [Scientific writing skills].  Lees Amanda se Blog.          
Heilna du Plooy

Heilna du Plooy

Heilna du Plooy het in Bronkhorstspruit en Alberton grootgeword.  Sy studeer aan die PU vir CHO en aan UP. Na haar huwelik met Andries du Plooy woon sy 6 jaar in Durban, 11 jaar in Pretoria en sedert 1986 in Potchefstroom waar sy tans professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde  aan die Noordwes-Universiteit is.  Sy het ’n paar kortverhale in literêre tydskrifte gepubliseer asook ’n akademiese werk, Verhaalteorie in die twintigste eeu (Butterworth, 1986), en bydraes in verskeie versamelings van artikels en essays oor die Afrikaanse letterkunde. Sy het twee digbundels, naamlik  Die donker is nooit leeg nie (1997) en In die landskap ingelyf (2003
Philip de Vos
Philip de Vos

 
 

Philip de Vos is ’n oud-onderwyser, oud-operasanger, fotograaf, vertaler en versiemaker. Sy foto’s van boekmense is landwyd uitgestal en sy fotoboek Milieu met foto’s van 132 kreatiewe Suid-Afrikaners is in 2006 deur Protea Boeke gepubliseer. Hy is veral bekend vir sy lawwe verse en limericke en het sedert 1984 reeds 25 boeke en meer as 50 rymvertalings gepubliseer. Mallemeuleman [2004] bevat ’n keur van meer as 300 van sy versies. Sy eie Engelse weergawe van die Karnaval van die Diere het in die VSA verskyn asook in vertaalde vorm in Italië, Duitsland en Nederland. Hy het hierdie versies reeds verskeie kere saam met simfonieorkeste voorgedra en sedert 2009 tree hy landwyd op saam met die konsertpianis Tertia Visser-Downie met versies wat hy vir Moessorgski se Prente by ’n Uitstalling geskryf het. Sestien komponiste het reeds van sy werk getoonset en sy CD Brommer in die Sop, waarop hy die Albie Louw-toonsettings van sy versies sing, is in 1998 vrygestel. Vir sy versies het hy die Eugène Marais-, Alba Bouwer-, en M.E.R.-pryse ontvang asook 2 internasionale IBBY-toekennings vir sy rymvertalings. Lees Philip se Blog

 

Alfred Schaffer

Alfred Schaffer

Alfred Schaffer (1973) woon van 1996 tot begin 2005 in Kaapstad, waar hy sy doktersgraad behaal aan die Universiteit van Kaapstad by die Departement Afrikaans en Nederlands. Vir Beeld en Die Burger skryf hy rubrieke oor Nederlandse poësie en saam met Antjie Krog is hy samesteller van Nuwe Stemme 3. Hy debuteer in 2000, met sy digbundel Zijn opkomst in de voorstad, en sy sesde en voorlopig laaste bundel, Kooi, het in 2008 verskyn. Na ‘n tydperk in Amsterdam, waar hy by die literêre uitgewery De Bezige Bij gewerk het, het hy weer terug na Suid-Afrika verhuis & is werksaam by die Universiteit van Stellenbosch.

    

Marlies Taljaard

Marlies Taljard

 

 

Marlies Taljard is in Pretoria gebore en getoë en het etlike jare op Rustenburg in Afrikaans en Duits onderrig gegee. Tans is sy verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waar sy klasgee binne die Skool vir Tale. Sy behaal ‘n MA in Afrikaans-Nederlands met ‘n fokus op psigoanalise en kreatiewe skryfwerk en promoveer met ‘n proefskrif in Literêre Teorie soos toegepas op die poëtika van Antjie Krog. Sy is die outeur van verskeie artikels wat in vaktydskrifte verskyn het, ‘n Afrikaanse vertaling van Dostojevski se “Die droom van ‘n belaglike man” wat deur Frans van Rensburg bekend gemaak is in ‘n reeks solo-vertonings, asook mede-outeur van die Toets van Akademiese Geletterdheidsvlakke wat deur verskeie SA universiteite as plasingstoets gebruik word. Sy skryf gereeld resensies oor Afrikaanse literêre werke, dien as keurder van LAPA-boeke, is deel van die Afrikaanse Bybelvertalingspan, asook lid van die beoordelingspaneel wat verantwoordelik is vir die toekenning van die SA Literary Awards en redakteur van die tydskrif Woord en Daad. Lees Marlies se Blog.

 
 

   
Bookmark and Share