Blogs
Biografiese inligting oor ons Suid-Afrikaanse Bloggers
(Biografiese inligting oor die bloggers by Nuwe Stemme is ook beskikbaar & meer oor die Nederlandse & Vlaamse bloggers by Wisselkaarten.)
Kyk ook na inskrywings deur elke blogger op die Tuisblad waar die jongste blogs gelys word.
|
Andries Bezuidenhout is ’n sanger, digter en akademikus. Hy was vroeër lid van die Brixton Moord & Roof Orkes. Die orkes het twee CD’s vrygestel, Spergebied (2002) en Terug in skubbe (2004). Hy het ook ’n solo-CD, Insomniak se droomalmanak (2003), vrygestel. Sy debuutdigbundel Retoer is aan die einde van 2007 deur Protea Boekhuis gepubliseer. Hy skryf ’n tweeweeklikse rubriek vir Rapport. Bedags werk hy as sosioloog aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy woon in Johannesburg en Trompsburg. Lees Andries se Blog |
|
| Ilse van Staden het grootgeword in die Waterberge in die Limpopoprovinsie. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Pro Arte (Pretoria) en studeer veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy is deeltyds veearts en deeltyds skrywer. Haar debuutbundel Watervlerk (2003) ontvang die Eugène Marais- en Ingrid Jonker-pryse. Sy is tans besig met ’n B.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Suid-Afrika. Haar tweede digbundel, Fluisterklip, het in 2008 by Lapa verskyn. Lees Ilse se blog | |
| Yves T’Sjoen, als docent verbonden aan de Vakgroep Nederlandse Literatuur van de Universiteit Gent. Promoveerde op In duizenden varianten. Historisch-kritische uitgave van Richard Minnes Gedichten (KANTL, Gent 2003). Bezorgde of werkte mee aan kritische leesuitgaven van Louis Paul Boon, Cyriel Buysse, Jos de Haes, Richard Minne, Paul Snoek, Wies Moens, Hugues C. Pernath, Eddy van Vliet en Karel van de Woestijne. In druk: leesuitgaven Ben Cami en Herman Teirlinck. Redacteur van Zacht Lawijd. Literair-historisch tijdschrift. Samen met Koen Vergeer redigeert hij De Volksverheffing. Jaarboek voor poëzie (2004-). Recente boekpublicaties: Stem en tegenstem. Over poëzie en poëtica (Atlas, 2004) en De gouddelver. Over het lezen van poëzie (Lannoo/Atlas, 2005). Lees Yves se blog. | |
|
Johann Lodewyk Marais is in Johannesbrug gebore. Hy debuteer in 1983 as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is ‘n dag oud waarvoor hy ook die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog vyf bundels daarna waarvan die jongste Plaaslike Kennis [2004] is. Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort. Hy promoveer in 2001 met die proefskrif oor die wetenskaplike prosa van Eugéne N. Marais. Lees Johann se Blog |
|
|
Charl-Pierre Naudé werk as vryskutjoernalis en woordpraktisyn en woon in Stilbaai. In 1995 publiseer Tafelberg sy debuut, Die nomadiese oomblik, waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys wen. Sy tweede digbundel In die geheim van die dag verskyn by Protea Boekhuis in 2005 en hy ontvang die MNet-prys en Protea Poësieprys hiervoor. Laat in 2007 verskyn ‘n tweetalige bundel met nuwe Afrikaanse gedigte met Nederlandse vertalings, Sien jy die hemelliggame, wat gunstig in die pers bespreek is in Nederland en te lande. Lees Charl-Pierre se Blog |
|
|
|
Bernard Odendaal het as een van vyf broers grootgeword op die hoewe Harmonie, in die Waterbron-gebied buite Bloemfontein. Ná studie aan die Universiteit van die Vrystaat het hy onderwys gegee in Duits en Afrikaans by skole in en om Bloemfontein. Sedert 1990 is hy werksaam as dosent in Afrikaans en Nederlands aan sy alma mater, waar hy tans ’n medeprofessor is. Hy lewer gereeld poësieresensies, vakkundige kongresreferate en tydskrifartikels. Sedert 2000 tree hy op as subredakteur van die tydskrif Stilet, lyfblad van die Afrikaanse Letterkundevereniging. Sy debuutbundel, Onbedoelde land, het in 2007 by Tafelberg verskyn. Hy is ook vertaler en medevertaler van liedtekste deur die Belge Jacques Brel en Willem Vermandere, asook van Duitse Liedermacher soos Reinhardt Mey, Thomas Friz en Franz Josef Degenhardt. In 2007 en 2008 het hy die Johannesburgse liedskrywer Herman van den Berg bygestaan met die skryf van lirieke vir die album Dit Is Wat Dit Is, wat in November 2008 op CD uitgegee is. Lees Bernard se Blog |
|
Carina Stander het op ‘n plaas in Limpopo grootgeword. Ná ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria, werk sy vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan uitstallings met beelde en skilderye wat natuur en bonatuur verken. Haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg (Tafelberg, 2006), verskyn na ‘n meestersgraad (cum laude) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. As vryskutjoernalis is sy twee keer Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif, Lééf. Van haar kortverhale is voorgeskryf vir hoërskole. Carina se tweede digbundel woud van nege en negentig vlerke het in 2009 by Tafelberg verskyn. Sy woon in ‘n kuswoud saam met haar man en seun. Lees Carina se Blog |
|
|
Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword. Nadat hy in 1992 ’n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land. Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad. Sy debuutdigbunel sal in 2009 verskyn by Protea Boekhuis.
|
|
|
|
Philip de Vos is ’n oud-onderwyser, oud-operasanger, fotograaf, vertaler en versiemaker. Sy foto’s van boekmense is landwyd uitgestal en sy fotoboek Milieu met foto’s van 132 kreatiewe Suid-Afrikaners is in 2006 deur Protea Boeke gepubliseer. Hy is veral bekend vir sy lawwe verse en limericke en het sedert 1984 reeds 25 boeke en meer as 50 rymvertalings gepubliseer. Mallemeuleman [2004] bevat ’n keur van meer as 300 van sy versies. Sy eie Engelse weergawe van die Karnaval van die Diere het in die VSA verskyn asook in vertaalde vorm in Italië, Duitsland en Nederland. Hy het hierdie versies reeds verskeie kere saam met simfonieorkeste voorgedra en sedert 2009 tree hy landwyd op saam met die konsertpianis Tertia Visser-Downie met versies wat hy vir Moessorgski se Prente by ’n Uitstalling geskryf het. Sestien komponiste het reeds van sy werk getoonset en sy CD Brommer in die Sop, waarop hy die Albie Louw-toonsettings van sy versies sing, is in 1998 vrygestel. Vir sy versies het hy die Eugène Marais-, Alba Bouwer-, en M.E.R.-pryse ontvang asook 2 internasionale IBBY-toekennings vir sy rymvertalings. Lees Philip se Blog
|
| Desmond Painter het grootgeword in Brackenfell, gestudeer aan die Universiteit Stellenbosch, en later vir ses jaar gewerk by Rhodes Universiteit in die Oos-Kaap. Tans doseer hy sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. In sy doseerwerk en navorsing fokus hy op sosiale sielkunde, kritiese sielkunde, kwalitatiewe navorsingsmetodes (spesifiek diskoersanalise), kritiese sosiale teorie, en die filosofiese grondslae en historiese ontwikkeling van die sielkunde as ‘n dissipline. Sy huidige navorsingsprojek is ‘n studie oor die konseptualisering van taal, subjektiwiteit en politiek in die sosiale sielkunde, met taalpolitiek in Suid-Afrika as die spesifieke empiriese konteks. Benewens akademiese publikasies oor hierdie onderwerpe, skryf hy ook gereeld essays, opiniestukke en resensies oor verskeie politieke, kulturele en literêre kwessies in publikasies soos Die Burger, Rapport en LitNet. Hy stel ernstig belang in letterkunde, musiek en films, reis graag wanneer hy die kans kry, en boer in Stellenbosch se koffiewinkels. Lees Desmond se Blog. | |













