Brieweboks
Tuesday, May 15th, 2012

THE 2012 INGRID JONKER PRIZE FOR ENGLISH POETRY
To be considered for the Ingrid Jonker Prize 2012, please submit three copies of any English poetry debut published in 2010 and 2011 for adjudication to:
Ingrid Jonker Prize Committee
PO Box 657
STELLENBOSCH
7599
The closing date for submissions is the 30th of June 2012.
The winner will be announced during September 2012.
For the rules and regulations of the Ingrid Jonker Prize, see here.
Danie Marais
Convener of the Ingrid Jonker Prize Committee
—-
DIE 2012 INGRID JONKER-PRYS VIR ENGELSE POËSIE
Stuur asseblief drie eksemplare van enige Engelse digdebuut wat in die jare 2010 en 2011 verskyn het en dus vir vanjaar se Ingrid Jonker-prys vir Engelse poësie in aanmerking kom, vir beoordeling na:
Ingrid Jonker Prys-komitee
Posbus 657
STELLENBOSCH
7599
Die sluitingsdatum vir voorleggings is 30 Junie 2012.
Die wenner sal gedurende September 2012 aangekondig word.
Die reglement van die Ingrid Jonker-prys, kan hier gelees word.
Danie Marais
Sameroeper van die Ingrid Jonkerprys-komitee
Wednesday, May 9th, 2012
SAAMGESTEL EN UITGESTUUR DEUR DIE ATKV SE HOOFKANTOOR IN RANDBURG
Posbus 4586 RANDBURG 2125, (atkv@atkv.org.za, www.atkv.org.za)
TELEFOONNOMMERS : (011) 919 9088 en (011) 919 9087
9 Mei 2012
ATKV-WOORDVEERTJIES - INSKRYWINGS WORD INGEWAG
Woordkunstenaars word die vyfde keer vereer tydens die jaarlikse ATKV-Woordveertjies wat op Vrydag, 14 September by Nooitgedacht net buite Stellenbosch aangebied word.
Daar kan in die volgende kategorieë ingeskryf word vir die ATKV-Woordveertjies:
- - ATKV-Prosaprys
- - Prys vir Dramateks
- - Prys vir Liefdesroman
- - Prys vir Poësie
- - Prys vir Romanses
- - Prys vir Spanningslektuur
- - Woordwystoekenning (Woordeboektoekenning)
Werk wat vanaf 1 Januarie tot 31 Desember 2011 geskep/gepubliseer is, kom in aanmerking vir vanjaar se ATKV-Woordveertjies.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag, 6 Junie 2012. Die onderskeie reglemente en inskrywingsvorms is beskikbaar by www.atkvprojekte.co.za (klik op Woordveertjies).
Inskrywings is gratis.
Die wenners ontvang ‘n Woordveertjie-trofee ontwerp deur die beeldhouer Sanna Swart en ‘n kontantbedrag.
Onderhoude kan gevoer word met Jeanné Naudé 083 232 7276 of Nita Cronjé 082 577 0102.
(PROJEKORGANISEERDERS : Jeanné Naudé en Nita Cronjé)
Monday, April 23rd, 2012

Persverklaring: Die US Woordfees en Versindaba Poësie-fees
Die US Woordfees het besluit om die Versindaba Poësie-fees, wat jaarliks in September as item op die fees se jaarprogram aangebied is, nie meer as aparte entiteit voort te sit nie. Poësie-items op die Versindaba-program sal voortaan opgeneem word in die Woordfees se omvattende skrywersprogram.
In 2013 vind die veertiende Woordfees op Stellenbosch plaas van 1 tot 10 Maart.
Die Versindaba Poësie-fees is die afgelope twee jaar onder die vaandel van die US Woordfees aangebied nadat die stigters, Louis Esterhuizen en Marlise Joubert, die feesbestuur genader het om die reëlings daarvan oor te neem. Esterhuizen en Joubert het die Versindaba in 2005 in die lewe geroep toe die Afrikaanse poësie erg gemarginaliseer was en hulle die kollig daarop wou laat val. Dié situasie het intussen verander en die egpaar het sedertdien die Versindaba-webwerf met groot sukses gevestig.
Die US Woordfees ondervind dat feesgangers verkies om hul tyd en energie vir literêre vermaak te reserveer vir ‘n enkele feesgeleentheid per jaar. Tydens die Woordfees word literêre pitkos boonop aangevul deur musiek, drama, kuns en diskoers-aanbiedinge.
Organiseerders is dit eens dat Versindaba 2011 in alle opsigte op ‘n hoogtepunt geëindig het. Dié fees-in-die-kleine het ‘n besliste bydrae gelewer om die kollig op Afrikaanse poësie te laat val in ‘n tyd toe dié genre afgeskaal en vanuit verskeie oorde en onder beleg was.
Sunday, April 22nd, 2012
Skrywers & Boeke word nou elke Woensdagaand om agtuur uitgesaai op RSG met Corina van der Spoel as die ankerpersoon. Luister vir onderhoude met digters soos Philip de Vos, Louis Esterhuizen, Charl JF Cilliers, Henning Pieterse, Carina Stander, e.a. in gesprek met Joan Hambidge.
Saturday, March 31st, 2012
Persverklaring
Ons, die ondergetekende digters, skrywers, dramaturge en belanghebbendes wil deur middel van hierdie verklaring ons opregte dank teenoor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (die Akademie) uitspreek vir die toekenning van die Hertzog-prys aan professor Adam Small. Vir ons was Small deur al die jare ‘n simbool van verset, inspirasie en ‘n ongevraagde mentor.
Vir Prof Adam Small wil ons opreg gelukwens. Ons kan aan geen waardiger ontvanger van die prestige prys dink nie!
Dat die Akademie, in stryd met hul eie reglemente, (slegs werke van skrywers wat in die ‘vorige drie kalenderjare ‘ nuwe, oorspronklike werk gepubliseer het, mag in ag geneem word vir die toekenning) tog die gesogte prys aan Small toegeken het, is vir ons tekenend van ‘n organisasie wat poog om vanuit eie geledere vernuwend en versoenend op te tree.
Gegewe die feit dat daar wel vanjaar voorleggings was en nie een aan die vereistes voldoen het nie, én dat die Letterkundekomitee met die volle wete van moontlike reaksies wel die prys aan Small gemaak het, dui ook op die feit dat die Akademie hulself bereid verklaar het om die toekenning te verdedig …sou dit nodig wees.
Die blote feit dat prof Jacques van der Elst openlik oor die besprekings agter geslote deure met die publiek was, slaan presies op kwaliteite wat Prof Adam Small op 19 Junie 1995 tydens sy aanvaarding van lidmaatskap van die Akademie gestel het. Tydens die Akademie se eerste veelrassige konferensie te Stellenbosch, het Small in sy toespraak gesmeek dat daar gebieg moet word “soos in die oop en eerlike omgang tussen mense.”
Laat ons maar die beswaardes gelyk gee. Hul besware is nie ongegrond nie. Maar in die geval van die toekenning van die Hertzog-prys aan Small het die Akademie beslis ‘n doelbewuste besluit met ‘n duidelike antwoord geneem: om die skreiende onreg van die verlede reg te stel. Daarvoor is ons u innig dankbaar. Veral so kort op sy 75ste verjaarsdag.
Wat die beswaardes egter nooit uit die oog moet verloor, is dat daar historiese redes was dat die prys nooit aan Small toegeken kon word nie. Dit is ook ‘n feit dat daar ‘n veel groter polemiek in 1965 (of kort daarna) toe “Kanna hy ko’ hystoe” geskryf was, sou die Hertzog-prys aan Small toegeken word. Ook het die Akademie eers in 1995 ‘n werklik inklusiewer of ‘oper’ organisasie geword. Ook moet die destydse greep van invloedryke groepe soos die NG Kerk en die Afrikaner Broederbond nie geringgeskat word in die ontsegging van die Hertzogprys aan iemand van kleur nie!
Daar mag besware omtrent die toekenning wees, maar sover vasgestel kan word, het geen beswaarde oor die hoë kwaliteit van Small se werk gekla nie! Dit op sigself is ‘n teken dat Small se werk, deur al die jare, op ‘n besondere wyse tydloos en selfs universeel gebly het.
In ons oë en ook vele ander Afrikaanse skrywers wat saam met ons in vreugde gehuil het by die aanhoor van die nuus, bly “Kanna” steeds die grootste enkele prestasie in Afrikaans.
Einde van persverklaring
Die volgende persone ondersteun die verklaring:
Willem Fransman Jr, Peter Braaf, Sandra Braaf, Floris Brown, Paul Cookson, Albertus Davids, Joey Erasmus, Sammy Frans, Edwina H Fransman, Victor C Fredericks, Sameerah Frost, Zavey Goliath, LLuwellyn Abdoll, Kaapse Woordenaar, Berni Kleinveld, Karin Newman, Edgar Magerman, Muriel Mapling, Martha Marcus, Selvyn Milborrow, Elias P Nel, Ria Olivier, Susan Ongansie, Anna Oppel, Robert J Pearce, David Pieters, Surita Riffel, Brenda Sylvester, Danny Titus, Edna van Harte, Barend van Vuuren, Daniel van Wyk, Karel A Willemse, Anthony ‘Speedo’ Wilson.
Ingestuur deur: Willem Fransman Jr
Monday, March 12th, 2012
Die Afrikaanse Skrywersunie is toe op 7 Maart tydens die Woordfees op Stellenbosch gestig. Die vergadering is baie goed bygewoon, en die 54 teenwoordiges het na afloop van die stigting die res van die aand gesellig verkeer.
Die teenwoordiges het altesame elf persone benoem om op die eerste bestuur te dien; sodra ons gehoor het van almal wat nie die aand daar kon wees nie en benoem is vir die bestuur, sal ons die name aan almal stuur wat belangstelling uitgespreek het om lede te word. Intussen vind asb hierby aangeheg ‘n afskrif van die konsep-grondwet wat deur die loodskomitee saamgestel is.
(Kerneels Breytenbach)
————————————
- 1. NAAM: Die naam van die vereniging is AFRIKAANSE SKRYWERSUNIE (hierna die Skrywersunie genoem).
- 2. DOELSTELLINGS:
- Ons bevorder die belange van die Afrikaanse boek en betrek skrywers, lesers, resensente, akademici en uitgewers by hierdie strewe.
- Ons beywer ons vir meer bedingingsmag aan Afrikaanse skrywers.
- Ons is gekant teen totalitarisme en bevorder alternatiewe denke en individualiteit.
- Internasionale skakeling.
- Ons beveg die marginalisering van Afrikaans, Afrikaanse skrywers en werke van gehalte, spesifiek t.o.v. staatspublikasies, en veral op onderwysgebied.
- Ons bied solidariteit met die verdruktes en beywer ons vir betrokkenheid by die wyer gemeenskap.
- Ons beywer ons vir die oorkoming van die probleme van ras en propageer uitleef van nierassigheid in die praktyk.
- Ons is onafhanklik van politieke partye en doen nie verantwoording aan enige monopolistiese organisasies nie.
- Ons is gekant teen sensuur.
- 3. LIDMAATSKAP:
- Alle persone wat professioneel doenig is met die skryf, vertaal, resenseer, analiseer, uitgee en verkoop van Afrikaanse boeke; d.w.s. skrywers, vertalers, resensente, akademici, uitgewers, boekhandelaars.
- Ons voorsien geaffilieerde lidmaatskap aan leeskringe en boekkringe.
- ‘n Ledegeld sal gehef word. Sou ‘n lid in gebreke bly om dit te betaal, verbeur hy/sy sy stemreg tydens die jaarvergadering asook by geleenthede waar die Afrikaanse Skry-wersunie se lede versoek word om hul mening by wyse van ‘n stemming uit te druk.
- 4. BYEENKOMS:
- ‘n Algemene jaarvergadering sal elke kalenderjaar gehou word.
- Besluite wat tydens die algemene jaarvergadering geneem word, sal alleen geldig wees indien ‘n kworum van lede teenwoordig is.
- ‘n Kworum van lede is gelykstaande aan 30% van die totale ledetal. As ‘n kworum van lede nie binne ‘n halfuur ná die vasgestelde aanvangstyd teenwoordig is nie, moet die vergadering verdaag word. Die voorsitter en dagbestuur sal in só ‘n geval ‘n nuwe vergadering belê.
- Die datum en plek van die algemene jaarvergadering sal enersyds bepaal word deur die lede van die dagbestuur in oorleg met die ledekorps, of andersyds deur die dagbestuur op versoek en/of aandrang van ‘n kworum van lede.
- ‘n Agenda vir die algemene jaarvergadering, asook vir alle bestuursvergaderings, sal deur die dagbestuur saamgestel word, of deur ‘n persoon wat daartoe versoek is, en ten minste een maand voor die datum van die vergadering onder alle lede versprei word. Veranderinge aan die agenda in die maand wat die vergadering voorafgaan, moet deur ‘n meerderheid van stemme op die dagbestuur aanvaar word, of, indien dit tydens die vergadering op die tafel geplaas word, deur ‘n meerderheid van stemme van die teenwoordiges aanvaar word.
- Geen vergaderings van die Afrikaanse Skrywersunie sal sonder ‘n behoorlik gesirkuleerde agenda gehou word nie.
- ‘n Notule sal van die besluite van die algemene jaarvergadering gehou word deur ‘n persoon aangewys deur die dagbestuur, en moet deur die dagbestuur goedgekeur word voordat dit onder alle lede versprei word. Dieselfde geld dagbestuursverga-derings, indien daar enige gehou word. Alle notules moet onderteken word deur die voorsitter van die vergadering, of die voorsitter van die daaropvolgende vergadering.
- Spesiale algemene vergaderings sal gehou word indien dit versoek word deur ‘n kworum van lede; dié versoek moet redes vir die vergadering uiteensit, moet skriftelik aan die voorsitter en dagbestuur oorhandig word en geteken wees deur al die lede wat dit versoek. Ná ontvangs van só ‘n versoek, moet die dagbestuur dit onmiddellik onder alle lede versprei, en binne dertig dae ná onvangs van die versoek ‘n spesiale algemene vergadering belê, en dit binne drie maande ná die uitstuur van die kennisgewing aan die lede hou.
- Lede kan sake wat onder die aandag van die algemene jaarvergadering wil bring, moet skriftelik kennis daarvan gee aan die sekretaris, wat dit op die agenda van die volgende algemene jaarvergadering sal plaas en kennis daarvan aan alle lede sal gee.
- Elke opbetaalde lid het net een stem per vraagstuk of agendapunt. Indien enige lid deur omstandighede verhinder word om die vergadering by te woon, mag hy/sy ‘n ander opbetaalde lid volmag om namens hom/haar te stem. Sodanige volmag moet binne 24 uur voor die hou van die vergadering skriftelik aan die voorsitter en dagbestuur bevestig word.
- 5. BESTUUR:
- Die bestuur behartig die sake van die Afrikaanse Skrywersunie.
- Die bestuur bestaan uit ‘n voorsitter en ses verkose lede.
- ‘n Sekretaris en penningmeester word aangewys uit die geledere van die bestuur.
- Die voorsitter, sekretaris en penningmeester tree op as dagbestuur, en is in oorleg met die res van die bestuur verantwoordelik vir verklarings en reaksies wanneer nodig. Die dagbestuur kan afsonderlik van die res van die bestuur vergader, fisiek of elektronies per Skype, indien nodig; dagbestuursbesluite is alleen geldig wanneer geneem deur die voltallige dagbestuur.
- Die penningmeester/tesourier is verantwoordelik vir die insameling van ledegelde, die afhandeling van enige geldelike verpligtinge wat die Afrikaanse Skrywersunie mag hê, en behoorlike boekhouding van alle inkomste en uitgawes. Die tesourier se boekhouding sal oop wees vir insae deur lede van die unie, en versoeke daarvoor moet tot die dagbestuur gerig word. Die tesourier sal ook toesien dat die boeke jaarliks net voor die algemene jaarvergadering geouditeer word.
- Die dagbestuurslede bly in hul ampte tot met die afhandeling van die algemene jaarvergadering wat ná die lid se verkiesing volg. Hulle kan herverkies word.
- Alle lede van die Afrikaanse Skrywersunie kan benoem word om in die bestuur te dien. Benoemings moet skriftelik ten minste een week voor die algemene jaarvergadering aan die sekretaris gestuur word, onderteken deur twee lede en vergesel van die skriftelike toestemming van die kandidaat. Laat benoemings word tydens die algemene jaarvergadering toegelaat; die kandidaat moet in sy/haar teenwoordigheid benoem en sekondeer word deur twee opbetaalde lede van die Afrikaanse Skrywersunie en sy/haar kandidatuur sal alleen aanvaar word indien sy/haar ledegelde in goeie orde is.
- Lede van die bestuur dien vir ‘n termyn van een jaar, en is herkiesbaar.
- 6. BEFONDSING:
- Die Afrikaanse Skrywersunie verkry sy fondse van die jaargelde van lede, asook welke toegangsfooie op ad hoc-basis gehef word by samekomste.
- Die voorsitter en bestuur het ook die taak om borgskappe en skenkings te bekom.
- ‘n Bankrekening in die naam van die Afrikaanse Skrywersunie sal geopen word, met die voorsitter en tesourier wat gesamentlike tekenregte het. Alle tjeks, bankwissels, skuldbewyse en ander verhandelbare effekte moet deur die voorsiter en tesourier onderteken word in oorleg met die dagbestuur, indien nodig.
- Alle gelde wat ontvang word, moet so gou moontlik sonder enige aftrekkings in die rekening van die Afrikaanse Skrywersunie gedeponeer word, en toepaslike kwitansies moet uitgereik word.
- Die fondse van die Afrikaanse Skrywersunie sal aangewend word om die doelwitte van die unie na te streef, soos deur die bestuur bepaal en in die lig van besluite wat op die algemene jaarvergadering geneem is.
- 7. ALGEMEEN:
- Die verklaring van doelstellings en enige ander inhoud van hierdie grondwet mag net ingevolge ‘n buitengewone besluit van die algemene vergadering verander, herroep of bygewerk word, met dien verstande dat ‘n kworum verkry is en dat 70% van die teenwoordiges ten gunste van die voorgestelde verandering stem.
- Die Afrikaanse Skrywersunie se inkomste en eiendom moet uitsluitend gebruik word om die unie se doelstellings te bevorder. Geen deel van die inkomste of fondse mag aan enige lede van die unie of die bestuur betaal, oorgedra, uitgedeel, regstreeks of onregstreeks, deur middel van ‘n dividend, bonus, fooi of andersins nie. Die dagbestuur mag wel goedkeur dat lede van die bestuur vergoed word vir uitgawes uit eie sak wat aangegaan is in die uitvoering van sy pligte as lid van die bestuur; of ‘n diens wat ‘n lid van die bestuur in ‘n professionele of tegniese hoedanigheid aan die unie gelewer het, anders as in sy/haar hoedanigheid as lid van die bestuur waar die lewering van die diens vooraf deur die dagbestuur goedgekeur is, en die bedrag betaalbaar nie meer is as ‘n markverwante bedrag is nie.
- Met die betaling van ledegeld bevestig lede van die Afrikaanse Skrywersunie dat hulle hul vergewis het van die inhoud van hierdie grondwet, en dat hulle hul vereenselwig met die strewes en doelstellings van hierdie skrywersunie en hulle sal neerlê by die bepalinge daarvan.
Tuesday, March 6th, 2012

Ons rig hierdie kennisgewing aan almal wat belangstelling uitgespreek het om by die Afrikaanse Skrywersunie aan te sluit.
Die stigtingsvergadering word op 7 Maart 2012 in die Erfurthuis, Van Ryneveldstraat, Stellenbosch gehou. Dit begin om 7 nm en hou aan so lank as wat nodig is. Die agenda is eenvoudig: Verwelkoming, Stigting van die Afrikaanse Skrywersunie, en verkiesing van die eerste bestuur. Daarna laat ons sake hul gang gaan!
Ons finaliseer tans nog die grondwet, en sal dit ruim voor die vergadering per e-pos aan almal uitstuur. Ons sal dit waardeer as diegene wat dit sal kan bywoon, ons net per kerende e-pos sal laat weet dat julle kom. Dit sal help met die aanlê van verversings, versnaperinge en lafenis.
Vir verdere inligting kontak Kerneels Breytenbach of Andries Visagie by loods.asu@gmail.com.
Kerneels Breytenbach, Andries Visagie
Saturday, March 3rd, 2012
Joan Hambidge kyk terug sonder om versteen te staan by die bekendstelling van Lot se vrou.
‘n Uitnodiging na haar hoërskoolreünie was die vonkie wat Joan Hamidge vuur en vlam aan die werk laat spring het met haar nuutste digbundel, Lot se vrou.
Dis nie dat die uitnodiging haar opgewonde gemaak het nie, in teendeel, sy was glad nie lus om te gaan nie. “Ek het nie juis goeie herinneringe aan my jeug nie,” het Hambidge gisteraand by die bekendstelling van Lot se vrou by The Book Lounge in Kaapstad gesê. “Alice Miller se studie The Drama of the Gifted Child kom by my op as ek dink aan die streng atmosfeer waarin ek grootgeword het.”
Om die reünie by te woon, was beslis nie vir Hambidge ‘n opsie nie, maar deur haar digkuns het sy wel haar eie, alternatiewe reünie onderneem. In die eerste gedig in Lot se vrou word daar byvoorbeeld teruggekyk na vergange skooldae, ‘n onderdrukkende skoolhoof en ‘n beskuldigende dominee. Die spreker in hierdie gedig se lamentasie oor die pynlike verlede bepaal die toon van die bundel. Dit word versterk deur die pragtige kunswerk deur Judith Mason, getiteld “The Bereaved”, wat op die omslag van die bundel verskyn.
Ook die titel van die bundel aktiveer die aksie van terugkyk, met die verwysing na die Bybelse figuur van Lot se vrou, wat gewaarsku is om nie terug te kyk nie toe hulle uit Sodom en Gomorra gevlug het, en in ‘n soutpilaar verander het toe sy dit wél gedoen het.
In die bundel word die waarskuwing aan Lot se vrou ter harte geneem en word daar nie by die pynlike verlede vasgesteek nie. “Lacan maak dit ook duidelik dat ‘n mens hierdie dinge moet verwerk en aanbeweeg. Jy moet dit agter jou plaas en daarvan wegdraai.”
Hambidge is bekend as ‘n baie entoesiastiese en energieke digter en daarom het Sonja Loots uit die gehoor opgemerk dat die verse in Lot se vrou ‘n ander kant van Hambidge openbaar. “Ek ís ‘n baie positiewe mens,” het Hambidge gesê. “Maar soos enige persoon het ek ook ‘n somber kant.” Tog kan sy nie mense verdra wat oor alles kla nie. “Dig dan eerder daaroor of bly stil!”
Stilte is ‘n herhalende tema in Lot se vrou. Hambidge het spottenderwys gesê dat sommige mense verbaas is dat so ‘n spraaksame persoon soos sy baie oor stilte skryf. Digkuns is egter vir Hambidge ‘n vorm van meditasie en van stil word. Die Boeddhistiese meditering en aanvaarding van jou lewenslot kom in Lot se vrou ter sprake. Hambidge meen dit is moeilik vir Westerlinge om die Boeddhisme ten volle te internaliseer, maar dat hulle sekere elemente daaruit kan neem…”Byvoorbeeld: ‘Karma is a bitch, baby, and she’s back in town!’”
Benewens stilte, is woorde en klanke ook belangrik in Lot se vrou. Hambidge, ‘n liefhebber van musiek (veral opera), fokus in die bundel op die liriese aard van die gedig. “Veral aangesien gedigte deesdae dikwels voorgelees word.” Hambidge het self van haar gedigte by die bekendstelling voorgelees.
Monday, February 27th, 2012

Philip de Vos se bloginskrywings, plus ander artikels en versies wat hy oor die jare geskryf het, is nou ‘n boek en word by die Woordfees bekendgestel in ‘n program van vertellings, foto’s, voorlesings en sang deur Philip de Vos self.
plek: Boektent - 5 Maart om 17:00 toegang R50
Friday, February 24th, 2012

Pomp 12 verskyn eersdaags en ʼn opwindende teenwoordigheid in dié plesierige kultuurjoernaal is die 25 bladsy insetsel wat Versindaba rondom die Afrikaanse digkuns byeengebring en saamgestel het.
Afgesien van die gedigteblad, waarin gedigte deur Charl-Pierre Naudé, Bernard Odendaal, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert, Gilbert Gibson, Breyten Breytenbach, Daniel Hugo, Louis Jansen van Vuuren, Danie Marais, Andries Bezuidenhout en Andries Samuel, opgeneem is, is daar ook die volgende artikels:
Steakslag op die plankvloer: ʼn Blik op vrouedigters (deur Amanda Lourens)
“Dit is alombekend dat vroue sedert die 1970’s aan ‘n redelik stugge patriargale tradisie se onderbroek begin torring het, en sedertdien die sedige halle van die kanon ingrypend verander het [...] Die skroomvallige nis van “vroulike pendant” (dink maar aan ouer herskrywings wat Eybers tot poëtiese poster girl van die piëtistiese vrou en moeder verdoem het) is versplinter deur die werk van vrouedigters soos Cussons, Krog, Stockenström, Spies en Joubert.”
Tendense in die Afrikaanse digkuns (deur Joan Hambidge)
“Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde, word daar gesê. Die Afrikaanse digkuns het die afgelope tyd die tendense vertoon wat die afgelope jare al bestendig is: die laaggedig, die praatvers, die beelddig, die liriese vers, die vers verpak met intertekstuele toespelings, gedigte met foto’s of sketse in bundels, en so meer. Versindaba en Litnet plaas gedigte van gevestigde én minder bekende digters. Slipnet het bygekom as ‘n forum waarop digters ook kan optree [...] Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde? Al die radikale veranderinge wat aangestip is, het bepaald die digkuns verander. Die voormalig eensame digter is nou ‘n rockstar wat optree op die internet en in vele tale (en gedaantes) sy of haar stem dik maak.”
Onderhoud met Marlise Joubert, webmeester van Versindaba (Teks deur Linda Hartman)
“Ek is nie seker of my visie op ons digkuns in die kol sal wees nie en my menings is maar baie nie-akademies. Myns insiens was ons digkuns maar nog altyd ‘n gemarginaliseerde bedryf met lae verkope, ten spyte van ‘n enorme hoeveelheid digbundels wat die afgelope paar jaar begin verskyn het. Daar is egter heelwat positiewe tendense te bespeur en dit stem my geweldig opgewonde oor die toekoms van die digkuns, selfs die feit dat dit dikwels in vorm en aanbod verander, hetsy deur middel van performance, video, kuns, musiek óf ander elektroniese media.”
500 Woorde (Teks: Breyten Breytenbach)
Ou manne in lang gewade, mollige vrouens met uithangtiete, beskonkenes, gerooktes, befoeterdes, opregtes, liegbekke, egobefoktes - maar met so min op die spel dat dit eintlik nie saak maak nie. Digter wees is nie ‘n beroep of ‘n roeping nie; dis ‘n soekparty. Ganôg es ganôg. Sterkste ervaring? Om ‘n dag deur te bring met tronkvoëls in Medellín; om vir 6000 mense gedigte voor te lees; ook vir drie mense in ‘n boekwinkel in Manhattan.”
Digter-rockers & rocker-digters: Die krisis in Afrikaanse Rock (Teks: Andries Bezuidenhout)
“Dis Antjie Krog wat die hele ding begin het - die gesprek oor digters en rocksterre. Toe sy jonk was, wou almal digters wees. Deesdae wil hulle rocksterre word, het sy in 2004 aangevoer tydens haar NP van Wyk Louw-gedenklesing, aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. “Poësie is die barometer van ʼn taal se welstand. Te oordeel na wat gepubliseer word,” het sy gesê, “belewe Afrikaans ʼn noodtoestand. So wat gaan aan? … Waar en wie is die nuwe jong digters? [...] As ʼn taal se welstand aan die poësie gemeet word, lyk dit vir my daar is in 2011 nie meer sprake van die noodtoestand waarna Antjie Krog in 2004 verwys het nie. Dis so amper asof jong digters van iewers, uit donker hoeke, te voorskyn getree het om haar te beantwoord: “Ons is nog hier om ons vaders te vermoor.”"
Hieronder een van die gedigte deur Daniel Hugo:
Nege metafore en ‘n vergelyking
‘n kind kraai anders as ‘n haan
‘n kat lek anders as ‘n kraan
‘n deur piep anders as ‘n muis
‘n klok slaan anders as ‘n vuis
die wind huil anders as ‘n wolf
‘n vy swel anders as ‘n golf
‘n wolk dryf anders as ‘n skuit
‘n peer bloos anders as ‘n bruid
‘n voël sing anders as ‘n vers
die digter doof gou soos ‘n kers
© Daniel Hugo
Friday, February 17th, 2012
Uit Nederland besoek Theater van de Verloren Tijd vanjaar vir die 2de maal Woordfees. Hulle motto is dat poësie gehoor en ervaar moet word. Daarom ken hulle oor die seshonderd Nederlandstalige (en nou ook ‘n twintigtal Afrikaanse) gedigte, wat hulle aan die luisteraars op Woordfees kan voordra.
Nuwe toevoegings tot hulle repertoire sluit tekste in van onder andere Wopko Jensma, Adam Small, Antjie Krog, Elisabeth Eybers, Gert Vlok Nel, Lina Spies en T.T. Cloete. In die afrondingsfase van hulle voorbereiding laat Dorith van der Lee mens se tone omkrul van lekkerkry met die gedig Wiskunde. Sjon Brands verlustig hom in die humor van Die dongas gaap. Saam dra hulle by aan die meeslepende trance waarvoor Gert Vlok Nel se poësie so bekend is in Nederland. Die wydsheid van die Suid-Afrikaanse landskap word hoorbaar in Landskap en mens slaan onwillekeurig hoendervleis uit.
Theater van de Verloren beskik oor twee programme vir Woordfees: Groen (wat by die tema pas) en Kekkel Ekke. Dit is veral Kekkel Ekke wat sorg vir interessante kombinasies van tekste. D.J. Opperman se Sproeireën word byvoorbeeld gekombineer met Sylvia Hubers se wulpse je bent een geurige meneer en Breytenbach se ek sal sterf en na my vader gaan met Hugo Claus se Verdwaald Liedje.
Optredes sal plaasvind op 8 Maart (Plataankafee, 14:10), 9 Maart (Boektent, 11:00) en op 10 Maart met die Neerlandistiekdag (Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, 9:00 - 14:00) en ook tydens die program Soete Groete (Vette Mossel, 19:00). Theater van de Verloren Tijd sien ook besonder daarna uit om saam met Floris Brown en Sjaka S. Septembir in die Botaniese Tuine op te tree op 6 of 7 Maart. As losmakertjie vir Woordfees sal hulle by SASNEV in Pinelands optree (3 Maart) en as sluitstuk van hulle besoek tree hulle op in die Breytenbach-sentrum (Wellington,13 Maart, 20:00).
Uit: www.woordfees.co.za onder Vars Nuus.
Thursday, February 16th, 2012
Wednesday, February 8th, 2012
Kom leer die fynere kunsies van resensie-skryf (2012)
Is jy tevrede met die gehalte van boekresensies wat jy in die koerante, op die web en op tydskrifte se boekeblaaie sien? Dink jy soms dat jy beter sou kon vaar? Miskien is dit tyd om jou verborge talente as resensieskrywer na die oppervlak te bring en jou skerp tong verder te slyp.
Na aanleiding van die hewige debat wat in 2011 uitgebreek het oor die verskraling in die boekgesprek in Afrikaans het ons besluit om ‘n gesoute resensent te nooi om belangstellendes te kom oplei in die fynere kunsies van resensie-skryf.
LitNet bied ‘n jaarlikse skryfskool by die US Woordfees aan in samewerking met Sanlam, en vanjaar val die fokus op die skryf van resensies. Die resensiekliniek vind op 6 Maart plaas by De Hoek-gastehuis in Stellenbosch.
Marius Crous is ‘n letterkunde-dosent aan die Nelson Mandela Metropolitan Universiteit in PE, en sy resensies verskyn gereeld in koerante, tydskrifte en ook aanlyn-publikasies. Hy sal slypskool-deelnemers op ‘n praktiese vlak help om te onderskei tussen ‘n goeie, regverdige resensie en ‘n minder suksesvolle poging, en hulle touwys maak ten opsigte van die moets en moenies wat elke resensent moet ken.
Is jy moeg daarvoor om te hoor: “Hulle sê dis ‘n goeie boek.” Wie is die “hulle”? Deelnemers aan die resensiekliniek by die Woordfees sal uitvind wie die “hulle” sodanig is - en of jy mag sê ‘n boek is “mooi”.
Na afloop van die skryfskool word deelnemers getrakteer op ‘n heerlike seekos-middagete by De Vette Mossel, waartydens resensiekenners Elmari Rautenbach (Media24 se nasionale boekeredakteur) en Kerneels Breytenbach (skrywer en afgetrede uitgewer) met Marius in gesprek sal wees oor die stand van Afrikaanse resensies in die media.
Deelname aan die slypskool kos R200 en is onderhewig aan keuring. Voornemende deelnemers moet ‘n kort resensie (500 woorde) van Theo Kemp se Skool of Dana Snyman se Hiervandaan aan LitNet voorlê vir keuring. Die resensies moet ons teen 20 Februarie bereik.
Vir verdere inligting oor die resensiekliniek, stuur ‘n e-pos aan skryfskool@litnet.co.za
(Bibi Slippers)
Monday, January 23rd, 2012
Hier vanuit ‘n bedompige Kuala Lumpur, kyk ek die afgelope paar maande met tweestrydige gemoed na die al-groterwordende gaping wat blykbaar tussen die literêre “have’s” en die bourgeois “have nots” van die Afrikaanse skryfwêreld bestaan. As Afrikaner behoort dit my nie te verbaas nie, want twis en onmin - soos bewys tydens die Groot Trek - is vasgevang in ons DNA, en die idee van saamstaan vir ‘n saak (en iets groots soos die groei van die Afrikaanse taal) was nog nooit ‘n konsep wat ons nasie onderskryf het nie.
Nou wonder ek maar net of die feit dat dit deesdae so maklik is vir enige mens om sy of haar versies te publiseer, al is dit net in die kuberruimte hier op Facebook of ander webwerwe soos WOES, wat die tradisionele skrywerselite ongemaklik op hul stoele laat rondskuif? Dan is daar ook die oordeel wat gefel word oor die kwaliteit van die Facebookverse. Ja, elke gedig wat so teen die spoed van lig op al die verskillende blaaie en in verskillende groepe geplaas word, is nie noodwendig ‘n literêre meesterstuk nie en voldoen nie aan al die vereistes van rym, ritme en ekonomie nie. Maar moet ons nie eerder jubel nie oor die feit dat daar elke dag DUISENDE Afrikaanse woorde geskryf en vir die publiek beskikbaar gemaak word?
Dikwels voel ‘n mens gefrustreerd as jy vers op vers deur die kuberworsmasjien op bladsy na bladsy sien, en jy wens dat daar net ‘n bietjie meer tyd geneem is om dit af te rond…maar dink net daaraan: ons taal herleef! Nuwe woorde word gevorm. Die gewone man op die straat hoef nie in Exclusive Books ‘n digbundel deur te blaai om ons taal te hoor weergalm nie. In plaas daarvan dat daar neergekyk word op hierdie grassroots beweging, moet dit eerder aangegryp word vir die momentum en groei wat dit bring. ‘n Ware leier eien nie die sukses aan homself toe nie. ‘n Leier help ander om hul innerlike krag en potensiaal en talent te ontwikkel!
‘n Baie bekende skrywer van leierskapsliteratuur, John C. Maxwell, skryf in sy boek, “Everyone Communicates Few Connect”, dat navorsing op effektiewe leierskapstyle van suksesvolle leiers bevind dat die manier waarop die leiers kommunikeer geweldig belangrik is (en ja, dit is nou nie eintlik vir ons nuus nie, is dit!) Dit gaan nie, volgens Maxwell, oor die woorde wat jy gebruik nie. Jy kry mense se lojaliteit as jy jou boodskappe oordra op ‘n manier wat wys dat jy rerig in hulle sukses en welsyn belang stel. Dat jy kommunikeer, nie op ‘n koue en kliniese wyse wat jou geleerdheid in ander se gesigte druk nie, maar op ‘n manier wat die gewone man aanklank by jou laat vind. Dit is my ondervinding dat akademici hulself beskerm met die doringtakke van akademiese woordeskat en frases en dus nie dit regkry om daardie band met die gewone volk te maak nie. Soms wil mense net voel daar is rerige omgee vir die taal, want ons taal is ons bakermat, en wil nie teen ‘n muur van kliniese woordeboektaal vasloop nie.
Te midde van die nuwe Afrikaner diaspora, met ons mense wie nou oor die hele wêreld heen woon, het ons ‘n nuwe band wat ons bind. ‘n Nuwe gemeenskap leef hier in die webblaaie - kom ons bind dit sterker vas! Help ons om te verbeter. Gee ons raad, bou ons op en help ons groei in ons taal, want hoe sterker die fondament, hoe meer verdiepings kan by die ivoortoring bygevoeg word. Praat met ons hartstaal, en ons sal julle volg tot anderkant die son.
Elmarie Westerink
Kuala Lumpur, 23 Januarie 2012
|
|