Brieweboks

Resensie-kliniek by die US Woordfees

Wednesday, February 8th, 2012

Kom leer die fynere kunsies van resensie-skryf (2012)

 

Is jy tevrede met die gehalte van boekresensies wat jy in die koerante, op die web en op tydskrifte se boekeblaaie sien? Dink jy soms dat jy beter sou kon vaar? Miskien is dit tyd om jou verborge talente as resensieskrywer na die oppervlak te bring en jou skerp tong verder te slyp.

Na aanleiding van die hewige debat wat in 2011 uitgebreek het oor die verskraling in die boekgesprek in Afrikaans het ons besluit om ‘n gesoute resensent te nooi om belangstellendes te kom oplei in die fynere kunsies  van resensie-skryf. 

LitNet bied ‘n jaarlikse skryfskool by die US Woordfees aan in samewerking met Sanlam, en vanjaar val die fokus op die skryf van resensies. Die resensiekliniek vind op 6 Maart plaas by De Hoek-gastehuis in Stellenbosch.

Marius Crous is ‘n letterkunde-dosent aan die Nelson Mandela Metropolitan Universiteit in PE, en sy resensies verskyn gereeld in koerante, tydskrifte en ook aanlyn-publikasies.  Hy sal slypskool-deelnemers op ‘n praktiese vlak help om te onderskei tussen ‘n goeie, regverdige resensie en ‘n minder suksesvolle poging, en hulle touwys maak ten opsigte van die moets en moenies wat elke resensent moet ken.

Is jy moeg daarvoor om te hoor: “Hulle sê dis ‘n goeie boek.” Wie is die “hulle”? Deelnemers aan die resensiekliniek by die Woordfees sal uitvind wie die “hulle” sodanig is - en of jy mag sê ‘n boek is “mooi”.

Na afloop van die skryfskool word deelnemers getrakteer op ‘n heerlike seekos-middagete by De Vette Mossel, waartydens resensiekenners Elmari Rautenbach (Media24 se nasionale boekeredakteur) en Kerneels Breytenbach (skrywer en afgetrede uitgewer) met Marius in gesprek sal wees oor die stand van Afrikaanse resensies in die media.

Deelname aan die slypskool kos R200 en is onderhewig aan keuring. Voornemende deelnemers moet ‘n kort resensie (500 woorde) van Theo Kemp se Skool of Dana Snyman se Hiervandaan aan LitNet voorlê vir keuring.  Die resensies moet ons teen 20 Februarie bereik.

Vir verdere inligting oor die resensiekliniek, stuur ‘n e-pos aan skryfskool@litnet.co.za

 (Bibi Slippers)

Elmarie Westerink. ‘n Ope Brief aan die Afrikaanse Akademici

Monday, January 23rd, 2012

Hier vanuit ‘n bedompige Kuala Lumpur, kyk ek die afgelope paar maande met tweestrydige gemoed na die al-groterwordende gaping wat blykbaar tussen die literêre “have’s” en die bourgeois “have nots” van die Afrikaanse skryfwêreld bestaan. As Afrikaner behoort dit my nie te verbaas nie, want twis en onmin - soos bewys tydens die Groot Trek - is vasgevang in ons DNA, en die idee van saamstaan vir ‘n saak (en iets groots soos die groei van die Afrikaanse taal) was nog nooit ‘n konsep wat ons nasie onderskryf het nie.

Nou wonder ek maar net of die feit dat dit deesdae so maklik is vir enige mens om sy of haar versies te publiseer, al is dit net in die kuberruimte hier op Facebook of ander webwerwe soos WOES, wat die tradisionele skrywerselite ongemaklik op hul stoele laat rondskuif? Dan is daar ook die oordeel wat gefel word oor die kwaliteit van die Facebookverse. Ja, elke gedig wat so teen die spoed van lig op al die verskillende blaaie en in verskillende groepe geplaas word, is nie noodwendig ‘n literêre meesterstuk nie en voldoen nie aan al die vereistes van rym, ritme en ekonomie nie. Maar moet ons nie eerder jubel nie oor die feit dat daar elke dag DUISENDE Afrikaanse woorde geskryf en vir die publiek beskikbaar gemaak word?

Dikwels voel ‘n mens gefrustreerd as jy vers op vers deur die kuberworsmasjien op bladsy na bladsy sien, en jy wens dat daar net ‘n bietjie meer tyd geneem is om dit af te rond…maar dink net daaraan: ons taal herleef! Nuwe woorde word gevorm. Die gewone man op die straat hoef nie in Exclusive Books ‘n digbundel deur te blaai om ons taal te hoor weergalm nie. In plaas daarvan dat daar neergekyk word op hierdie grassroots beweging, moet dit eerder aangegryp word vir die momentum en groei wat dit bring. ‘n Ware leier eien nie die sukses aan homself toe nie. ‘n Leier help ander om hul innerlike krag en potensiaal en talent te ontwikkel!

‘n Baie bekende skrywer van leierskapsliteratuur, John C. Maxwell, skryf in sy boek, “Everyone Communicates Few Connect”, dat navorsing op effektiewe leierskapstyle van suksesvolle leiers bevind dat die manier waarop die leiers kommunikeer geweldig belangrik is (en ja, dit is nou nie eintlik vir ons nuus nie, is dit!) Dit gaan nie, volgens Maxwell, oor die woorde wat jy gebruik nie. Jy kry mense se lojaliteit as jy jou boodskappe oordra op ‘n manier wat wys dat jy rerig in hulle sukses en welsyn belang stel. Dat jy kommunikeer, nie op ‘n koue en kliniese wyse wat jou geleerdheid in ander se gesigte druk nie, maar op ‘n manier wat die gewone man aanklank by jou laat vind. Dit is my ondervinding dat akademici hulself beskerm met die doringtakke van akademiese woordeskat en frases en dus nie dit regkry om daardie band met die gewone volk te maak nie. Soms wil mense net voel daar is rerige omgee vir die taal, want ons taal is ons bakermat, en wil nie teen ‘n muur van kliniese woordeboektaal vasloop nie.

Te midde van die nuwe Afrikaner diaspora, met ons mense wie nou oor die hele wêreld heen woon, het ons ‘n nuwe band wat ons bind. ‘n Nuwe gemeenskap leef hier in die webblaaie - kom ons bind dit sterker vas! Help ons om te verbeter. Gee ons raad, bou ons op en help ons groei in ons taal, want hoe sterker die fondament, hoe meer verdiepings kan by die ivoortoring bygevoeg word. Praat met ons hartstaal, en ons sal julle volg tot anderkant die son.

 

Elmarie Westerink

Kuala Lumpur, 23 Januarie 2012

Inligtingstuk: Nuwe Stemme 5

Sunday, January 8th, 2012

Nuwe Stemme 5 poësie kompetisie is nou oop vir inskrywings:

Heilna du Plooy en Loftus Marais stel Nuwe Stemme 5 saam. Dit sal die nuutste versameling in hierdie opwindende poësiereeks wees. Alle aspirantdigters word genooi om werk voor te lê vir keuring.

Heilna du Plooy is professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy is ‘n gerespekteerde literator en het ook twee digbundels gepubliseer, Die donker is nooit leeg nie (1997) en In die landskap ingelyf (2003).

Loftus Marais het in Nuwe Stemme 3 gedebuteer. Sy eerste bundel, Staan in die algemeen nader aan vensters (2008), is met niks minder nie as vyf letterkundepryse bekroon. Hy het al opgetree by internasionale poësiefeeste soos die Badilisha! Poetry Exchange en Poetry Africa.

Die reeks se geskiedenis

  • Nuwe stemme 1 (1997) met George Weideman en Anastasia de Vries as samestellers
  • Nuwe stemme 2 (2001) met Petra Müller en Nèlleke de Jager as samestellers
  • Nuwe stemme 3 (2005) met Antjie Krog en Alfred Schaffer as samestellers
  • Nuwe stemme 4 (2010) met Danie Marais en Ronel Foster as samestellers

Die bundelreeks het met die verloop van slegs ‘n paar jaar reeds ‘n instelling geword, en een waarin verskeie gerekende digters gedebuteer het. Hulle sluit die volgende bekende name in: Martjie Bosman, Ilse van Staden, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Jo Prins, Melt Myburgh, Danie Marais, Ronelda S. Kamfer, Loftus Marais, Jasper van Zyl en Fourie Botha.

Reëls

  • Die sperdatum vir voorleggings is 31 Maart 2012.
  • Stuur ‘n manuskrip met sewe ongepubliseerde gedigte wat aan die volgende voorwaardes voldoen:
  • Slegs Afrikaanse gedigte sal oorweeg word
  • Die manuskrip moet in dubbelspasiëring getik word
  • Geen elektroniese weergawes sal in aanmerking kom nie
  • Manuskripte moet in drievoud voorgelê word, en ‘n inskrywingsblad moet vooraan elk van die drie stelle voorleggingskopieë vasgekram word - die inskrywingsblad kan by www.tafelberg.com afgelaai word.
  • Stuur jou manuskrip na:

Nuwe Stemme 5

Posbus 879

Kaapstad

8000

  • Geen manuskripte sal ná die inskrywingsproses aan digters terugbesorg kan word nie. Suksesvolle digters sal deur Tafelberg in kennis gestel word waarna die uitgebreide redigeringsproses in oorleg met die samestellers sal geskied. Ongelukkig sal daar nie verslae of kommentaar aan alle deelnemers gelewer kan word nie. Die finale oordeel berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.

 

Nuwe platform op Facebook:

  • 1. Hoewel bogenoemde gedrukte inskrywings noodsaaklik is, word alle aspirantdigters ook genooi om reeds vanaf 10 Desember 2011 deel te word van Nuwe stemme 5 se Facebook-groep en drie van hulle beste verse op hierdie blad te plaas. Kommentaar van belangstellendes in die groep kan digters help met die vormgewingsproses voordat hulle finale inskrywings indien.
  • 2. Hierdie internet-gespreksruimte, gefasiliteer deur Facebook, sluit op 1 April 2012.
  • 3. Die beste digters - nie minder as 15 maar nie meer as 30 individue nie - sal uit die voorlegging van manuskripte aan Tafelberg-Uitgewers geselekteer word. Daar sal direk met hulle in verbinding getree word. Hulle sal dan genooi word om eksklusief lede van ‘n finale Facebook-groep te word. Vanaf 1 Julie tot 31 Augustus 2012 sal die twee samestellers, binne hierdie geslote groep, kommentaar en raad plaas. Hierdie lede word aangemoedig om na aanleiding van kritiek en kommentaar van die samestellers ‘n hersiene weergawe aan Tafelberg voor te lê, sodat die redigeringsproses reeds met hierdie terugvoer begin.
  • 4. ‘n Finale, kleiner groep van digters sal dan hierna geselekteer word, en hulle moet verkieslik beskikbaar wees vir ‘n naweekwerkswinkel in September 2012. Insluiting in hierdie groep verseker egter nie opname in die bundel nie. Net die heel beste gedigte sal ná afloop van die werkswinkel geselekteer word vir publikasie.
  • 5. Tafelberg beoog om die bundel in die eerste helfte van 2013 te publiseer.

Navrae kan gerig word aan:

Danita van Romburgh

Tel: (021) 406 3412

Faks: 086 531 1609

E-pos: dvanromb@tafelberg.com

NB-skakelbord: (021) 406 3033

Media navrae kan gerig word aan: Eben Pienaar (eben@nb.co.za of 021 406 3450)

Inligting en inskrywingsblad ook beskikbaar by www.tafelberg.com en www.nuwestemme5.com

 

 

Floris Brown. Huldeblyk aan John C Kannemeyer

Thursday, January 5th, 2012

Dit is een wintersoggend in Protea Boekhuis Stellenbosch. Ons is ‘n paar digters wat gedigte gaan voorlees. Ek verken die winkel en gewaar die groot reus met ‘n reënjas en sambreel. Ek vermoed dit is John. Nog nooit ontmoet. Ek hoop hy gaan nie na ons kom luister nie. Miskien net ‘n boek koop en waai.

 

Nee, toe ons begin voorlees, neem hy en sy vriendin lieflik stelling in, reg voor ons.

 

Ek het verlede jaar met die Vryfees in Bloemfontein by ‘n boekstalletjie sy blou dik Literêre boek 1652 tot 2004 vir R30,00 gekoop. Vir weke en nou nog lees ek hierdie omvangryke werk van die GROOT GEES. Ek vind my naam ook opgeteken in sy boek. Ja, hy skryf iets moois. Iets positief van my gedigte asook van vele ander woordkunstenaars.

 

Na my Huldiging deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans - Die Woordfees & Versindaba op Stellenbosch 24 September 2011, kry ek ‘n woordjie in by John en bedank hom vir sy reuse aandeel tot die kultuur-historiese skatkis van die Suid-Afrikaanse letterkunde. Nooit gedink ons sal ooit weer die voorreg hê om in sy teenwoordigheid te wees nie.

 

Uit my hart dra ek graag onderstaande gedig aan hom op:

 

 

Magnoliopsida

(Vir: John C Kannemeyer)

 

 

op jou stil swygsame manier van doen

het jy my roosboom subtiel kom versier

woordkunstenaars se lower pronk diepgroen

soos jy ons opteken in Literatuur

 

Saterdagoggend Protea Boekhuis

Stellenbosch, staan ek voor ‘n mikrofoon

voor my John Kannemeyer ewe tuis

ek voel hoe my hart sink tot in my toon

 

‘n Literêre Kannon, ‘n Groot Gees

wat jou kan wegblaas of op ‘n wolk plaas

so het ons gesels, sporadies in vlees

tot met my Huldiging vir oulaas

 

soos ‘n boom wat olifante verdwerg

lééf jy in saadskiet van elk goue gerf…

 

 

© Floris Brown. 2012

 

 

 

 

 

 

 

Phil du Plessis oorlede (22 Maart 1944 - 28 November 2011)

Monday, November 28th, 2011

Dit is enkele ure gelede bekend gemaak dat Phil du Plessis vroeër vanoggend in die Constantiaberg Hospitaal in Kaapstad oorlede is. Klaarblyklik het hy vir etlike maande in swak gesondheid verkeer. Die begrafnisreëlings word deur ConstantiaBerg Funeral Home hanteer en hulle kan gekontak word by (021) 671 2400. of 0836536536.

“Die landskappe om my resoneer met sekere dinge wat in my gedagtes en gevoelslewe aangaan en daar gaan ek. En andersom ook: as ek in ‘n situasie in my gevoelslewe verkeer, dan soek ek in die natuur om my, metafore wat dit reflekteer, dit maak dan die gedig.” (Phil du Plessis)

Lees by LitNet die skrywersalbum wat deur Erika Terblanche saamgestel was oor Phil du Plessis se lewe en werk.

***

Omslag

Omslag

 

 

 

 

 

 

Gewildste Afrikaanse Gedigte

Thursday, November 17th, 2011

Leserskring/RSG/BY stel ‘n bundel saam van die Gewildste Afrikaanse Gedigte – en jou stem tel! 

Stuur jou lysie van 5 gepubliseerde gedigte (met die digtername) voor 31 Maart 2012 aan mygedigte@leserskring.com. Tien bydraers kan elk ‘n R1 000 losslaan*

*Bepalings en voorwaardes geld. Sien webwerf vir meer inligting.

Afrikaanse Skrywersunie. Inligtingstuk & Registrasievorm

Saturday, October 29th, 2011

 

Indien jy ‘n gepubliseerde skrywer, vertaler, resensent, akademikus, uitgewer of boekhandelaar is, mag onderstaande inligting van belang wees vir jou. Dit handel oor die ter stigte Afrikaanse Skrywersunie wat dit as oogmerk het om die belange van die Afrikaanse skrywer en verwante bedrywe te verteenwoordig.

Afrikaanse Skrywersunie

In opvolging van ‘n mandaat wat aan ons verskaf is deur ‘n vergadering van Afrikaanse skrywers tydens die Woordfees vroeër vanjaar op Stellenbosch, verneem ons graag langs hierdie weg van u of u as mede-skrywer daarin sou belang stel om lid te word van die Afrikaanse Skrywersunie. Ons onderneem om binne die volgende maande ‘n amptelike stigtingsbyeenkoms te belê. ‘n Aanduiding van u steun in hierdie stadium sal help om sake te bespoedig.

Die agtergrond vir die stigting van ‘n liggaam wat die belange van alle Afrikaanse skrywers sal dien, is die volgende: 

  • Kommerwekkende tendense op die gebied van media-wetgewing open die deur vir verdere sensuur en voorskrifte deur die staat oor wat ons mag en nie mag skryf nie. Dit is nodig dat ons ‘n verteenwoordigende liggaam tot stand bring wat dit kan teenstaan.
  • Die onderwysowerhede het reeds ver gevorder met planne om self boeke vir die onderwys te publiseer. Dit kan meebring dat skrywers se literêre werke gemarginaliseer of volledig geïgnoreer kan word by die saamstel van publikasies vir die onderrig van Afrikaans op skool. Nie alleen sal dit die inkomste van skrywers raak nie, maar dit sal ook beheer oor oordrukregte moeiliker en selfs ontoepasbaar maak. Dit is nodig dat ‘n skrywersliggaam hierteen stemming maak, as waghond optree, die hand van uitgewers versterk, asook verseker dat ou ooreenkomste tussen skrywers en uitgewers oor vergoeding uit onderwys-bloemlesings steeds van krag bly.

 

Die volledige uiteensetting van die loodsingsplanne en oogmerke van die unie word uiteengesit in die dokument hieronder.

Indien u belang stel om die Afrikaanse Skrywersunie te ondersteun en deel te wees daarvan, moet u asseblief onderstaande inligting verskaf in ‘n e-pos wat u stuur na loods.asu@gmail.com       

Kerneels Breytenbach                                        7 September 2011

(namens loodskomitee)

   

1. JA, ek stel belang om die Afrikaanse Skrywersunie te ondersteun en lid te word.

2. NAAM:

3. SKRYWERSNAAM (Indien anders as hierbo):

4. E-POSADRES:

5. POSADRES:

6. Besonderhede van publikasies (hoef nie volledig te wees nie):

7. Indien 6 hierbo nie van toepassing is nie, vermeld of u aktief is as vertaler, resensent, akademikus, uitgewer of boekhandelaar:

 

Inligtingstuk: Afrikaanse Skrywersunie

Loodskomitee:

  • Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, Breyten Breytenbach, Kerneels Breytenbach, Willie Burger, Marga Collings, Willem Fransman, Amanda Lourens, Desmond Painter, Andries Visagie
  • Sameroeper: Kerneels Breytenbach

 

Naam van die organisasie:

Die Afrikaanse Skrywersunie. 

 

Doelstellings van die organisasie:

  • Bevordering van die belange van die boek. Benewens skrywers word lesers, resensente, akademici en uitgewers dus ook betrek.
  • Bedingingsmag aan skrywers. Die belange van die Afrikaanse skrywer moet só gehoor word dat laasgenoemde inspraak het by groter organisasies.
  • Protes teen totalitarisme; behoud van alternatiewe denke en individualiteit.
  • Internasionale skakeling.
  • Teenstand teen marginalisering van Afrikaans, Afrikaanse skrywers en gehalte, spesifiek t.o.v. staatspublikasies, en veral op onderwysgebied.
  • Solidariteit met die verdruktesen betrokkenheid by die wyer gemeenskap.
  • Diversiteit.
  • Oorkoming van die probleme van ras; die uitleef van nie-rassigheid in die praktyk.
  • Onafhanklikheid van politieke partye en van monopolisme.
  • Die stryd teen sensuur.

 

Aard van die organisasie:

  • Inklusiewe liggaam, d.w.s. ‘n boekorganisasie.
  • Fokus eerstens op Afrikaans en’n stem vir Afrikaanse skrywers. Die organisasie moet Afrikaanse skrywers verenig en namens hulle praat, maar skakeling na buite is belangrik.
  • T.o.v. die vraag of dit ‘n unie, ‘n organisasie, ‘n vereniging, ‘n gilde of ‘n vakbond moet wees: Tydens die vergadering is bespreek sowel die kwessie van regsimplikasies van ‘n vakbond as die vraag of ‘n skrywersorganisasie oor verteenwoordigende mag beskik.
  • Morele of simboliese mag moet nie uit die oog verloor word nie, en die organisasie moet hierop bou.
  • ‘n Onafhanklike organisasie, sonder enige partye aan wie verantwoording gedoen moet word.

 

Lidmaatskap:

  • Almal wat professioneel doenig is met die skryf, vertaal, resenseer, analiseer, uitgee en verkoop van boeke. D.w.s. skrywers, vertalers, resensente, akademici, uitgewers, boekhandelaars en so meer. Leserskringe behoort geaffilieerde lidmaatskap te geniet.
  • Lidmaatskapsgelde sal gehef word.

 

 

Hans Pienaar. Digkyk / Eye poetry

Thursday, October 20th, 2011

Die uitstalling Digkyk/Eye Poetry, wat deel was van die Melville Poetry Festival die naweek, duur nog tot 30 Oktober in die “Wopko Jensma”-winkel in Sewende Straat, Melville (reg langs DVDGurus, tussen 3de en 4de Laan). Soos Jensma se werk, gaan Hans Pienaar se fotogedigte en Charl-Pierre Naude (Jan Kolonie Hoenderdief) se metafoorposse oor die integrering van teks en beeld.

As ‘n mens die tyd afstaan om ‘n goeie foto te “lees”, sien jy nuwe dinge wat nie met die eerste oogopslag altyd waarneembaar is nie. Hoewel dit op die oog af lyk of foto’s en gedigte nie by mekaar hoort nie, wys Pienaar se fotogedigte hoe die lesing van ‘n foto aangehelp en verruim word deur ‘n gedig met die lesing te integreer.

Pienaar het self die foto’s geneem op reise die wêreld deur as joernalis, van Melville se agterplase tot Timboektoe en Tromso, die mees noordelike stad. Die gedigte het ontstaan uit die kursoriese notas by die foto’s.

Naude is al geruime tyd besig met sy “metafoorposse” en het van hulle tydens verskeie kunstefeeste versprei. Hy werk met epigrammatiese sinsnedes en/of enkele woorde, waarby hy sy eie kleurvolle tekeninge gemaak het.

 

 

Hans Pienaar. Melville Poësiefees

Wednesday, October 12th, 2011

Hallo versindaba,

Kom asb na die Melville Poetry Festival. Die Afrikaanse digters wat gaan deelneem sluit in Loftus Marais, Toast Coetzer, Charl-Pierre Naude, Andries Bezuidenhout, Hans Pienaar, Johann Lodewyk Marais en Rene Bohnen.

Daar’s ‘n konsert met Andries, Riku Latti en Les Javan en ander bands die aand. Uitstallings sluit in Digkyk/Eyepoems deur Hans Pienaar en Charl-Piere Naude (fotogedigte en metafoorposse) en nuwe werke deur Elza Botha (Miles).

Ook ‘n paneelbespreking oor Wopko Jensma, met Leti Kleyn, Johann L Marais en Michael Gardiner.

Engelse digters sluit in name soos Robert Berold, Kobus Moolman, Arja Salafranca, Koreopatse Kgositsile ens.

Dis alles op 15 Oktober, in Sewende Straat.

Sien julle daar!

LitNet se fotoverslag van Versindaba 2011

Tuesday, September 27th, 2011

LitNet: Fotoverslag - Versindaba 2011

“Die groot opkoms en algemene entoesiasme oor die digkuns wat by hierdie jaar se Versindaba te bespeur was, asook die hoë kwaliteit van die gedigte wat voorgelees is en die bundels wat bekroon is, is beslis aanduidings dat dit goed gaan met die Afrikaanse digkuns, en dat die doemprofete vir eers kan gaan vakansie hou in Mauritius.”

Lees en kyk na Bibi Slippers se verslag van die pasafgelope Versindaba op LitNet.

Fotogalery: Digtersgala by Versindaba 2011

Sunday, September 25th, 2011
Die Versindaba se Digtersgala het vanjaar plaasgevind in De Kelder, by die Lanzarac Hotel.
Bo: Caro Wiese (borg) & Melt Myburgh van Woordfees US (organiseerder van die Versindaba 2011)
Nicol Stassen, (Protea Boekhuis) in gesprek met Melt Myburgh

Nicol Stassen, (Protea Boekhuis) in gesprek met Melt Myburgh

André Trantaal en Bibi Slippers (van LitNet)

Digters André Trantraal en Bibi Slippers (van LitNet)

Digter Martjie Bosman saam met Marina le Roux

Digter Martjie Bosman saam met Marina le Roux

Links na regs: Daniel Hugo, Bernard Odendaal & Louis Esterhuizen

Daniel Hugo, Bernard Odendaal & Louis Esterhuizen

Prof Louise Viljoen van die dept. Afrikaans by US

Prof Louise Viljoen van die dept. Afrikaans by US

Gaste buite die Kelder van Lanzarac Hotel

Gaste buite De Kelder van die Lanzarac Hotel.

Christel Foord van Protea Boekhuis & vriendin

Christel Foord van Protea Boekhuis & Ilse Volschenk van NB Uitgdwers.

Marlise Joubert

Marlise Joubert

Cas Vos

Cas Vos

Digters Alfred Schaffer en Zandra Bezuidenhout

Digters Alfred Schaffer en Zandra Bezuidenhout

Melt Myburg ontvang die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutwerk, Oewerbestaan. Caro Wiese oorhandig die prys. Agter staan Bernard Odendaal, een van die keurders.

Melt Myburg ontvang die Ingrid Jonker-prys (2011) vir sy debuutwerk, Oewerbestaan. Caro Wiese oorhandig die prys. Agter staan Bernard Odendaal, een van die beoordelaars.

Louis Esterhuizen ontvang die Protea poësieprys 2011 van Caro Wiese. Agter staan Nicol Stassen wat hierdie prys 5 jaar gelede ingestel het.

Louis Esterhuizen ontvang die Protea poësieprys vir 2011 van Caro Wiese vir sy digbundel "wat die water onthou". Agter staan Nicol Stassen wat hierdie prys 5 jaar gelede ingestel het.

Louis Esterhuizen doen 'n bedanking vir die Protea poësieprys wat hy ontvang het.

Louis Esterhuizen bedank Protea Boekhuis vir die poësieprys aan hom toegeken.

 

Johann Lodewyk Marais lees sy gedigte voor

Johann Lodewyk Marais lees sy gedigte voor

Bernard Odendaal gee sy voorlesing van gedigte

Bernard Odendaal gee sy voorlesing van gedigte

Pieter Odendaal kry hom reg vir Verras

Pieter Odendaal kry hom reg vir "Verras" se oop mikrofoon

Loit Sôls steel die harte met sy songs

Loit Sôls steel die harte met sy songs

 

 

 

 

Louis Esterhuizen wen die Proteaprys vir Poësie vir 2011

Saturday, September 24th, 2011

 Louis Esterhuizen

Tydens die 7de jaarlikse Versindaba wat op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch gehou word, is die Proteaprys vir Poësie vir die beste Afrikaanse digbundel van 2010 op Saterdagaand 24 September 2011 by die Lanzarac Hotel, vir die sewende keer oorhandig. Die wenner is vanjaar Louis Esterhuizen vir sy bundel wat die water onthou.

Baie geluk, Louis!

 COMMENDATIO (opgestel deur prof. Henning Pieterse):

Water, as oerbron, as heilige en geduldige element, is die sentrale beeld in hierdie bundel. Tematies word hierdie simbool en metafoor - met betrekking tot binding, ontkieming, begin, einde, lewe en dood, kuns, geheue en liefde - regdeur in fyn afgewerkte, liriese verse ontgin, onder meer by wyse van talle see- en rivierbeelde en metafiksionele “akwarelle”. Kaplinski se woorde “No self. Water again water” en reëls uit Van Ostaijen se “Melopee” word vernuftig verwerk in gedig na gedig. Telkens word verskeie fasette van water ingespan in verse oor jeugherinneringe en dan, veral, die liefde. wat die water onthou is ‘n hoogtepunt in Louis Esterhuizen se oeuvre en ‘n waardige wenner van die Proteaprys vir Poësie.

DIE PROTEAPRYS VIR POËSIE

  • Die prys word elke jaar toegeken vir die beste Afrikaanse digbundel wat by enige uitgewer gedurende die vorige jaar verskyn het.
  • Alle gepubliseerde digbundels gedurende die vorige jaar tot en met Januarie van die jaar waarin die prys toegeken word, verskyn het, kom outomaties in aanmerking.
  • ‘n Bundel word dus eenmalig oorweeg vir die prys.
  • Bloemlesings, versamelde werke, vertaalde werke en herdrukke kom nie in aanmerking nie.
  • Dieselfde digter mag die prys meer as een keer (vir verskillende bundels) ontvang.
  • Die beoordelaarspaneel bestaan uit drie lede wat deur Protea Boekhuis aangewys word. Vanjaar was dit Charl-Pierre Naudé, Marlies Taljard en Henning Pieterse.
  • Die prys bedra R10 000 en ‘n geraamde protea.

 

Die volgende bundels was vanjaar onder die aanspraakmakers op die prys: Johan Lodewyk Marais met Diorama en Melt Myburgh met oewerbestaan. Myburgh het tydens die Versindaba wel die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel ontvang.

Die Proteaprys is voorheen aan Charl-Pierre Naudé (2005), Gilbert Gibson (2006), Antjie Krog (2007), Loftus Marais (2009) en Breyten Breytenbach (2008 en 2010) toegeken.

Lees die onderhoud wat Andries Visagie met Louis Esterhuizen gevoer het

oor sy digbundel wat die water onthou.

Volg ook die digstring van een van die gedigte uit die bundel.

wat die water onthou

wat die water onthou