Brieweboks

Blogfokus: ‘n Bundel na aan my hart

Friday, May 28th, 2010

Blogfokus

 

2005 was ’n besonderse jaar vir my omgaan met die verskuns, besef ek agterna.

Van 7 Februarie tot 7 Mei daardie jaar het ek stoksielalleen in ’n groot, gerieflike woonstel in die Groot Begynhof in Leuven gewoon, een maal ’n week twee ure lank klas gegee – en die res van die tyd oorgehad om te lees en skryf.

Twee bedrywighede van laasgenoemde soort het baie gedoen om my selfvertroue te gee as digter. Die eerste was die afhandeling van dertien Brel-chansonvertalings in korrespondensie met my kollega in Frans aan die Vrystaatse Universiteit, Naòmi Morgan, waaroor ek al vertel het.

Die tweede was ’n totale meevaller. Net voor ek oorsee vertrek het, vertel Jaap (J.C.) Steyn my dat daar, ná ’n digterlike swye van meer as vyf-en-twintig jaar, weer ’n bundelmanuskrip van I.L. de Villiers gereed is. En dat I.L. by hom wat Jaap is kom aanklop het om “klankbord” te wees in die slypingsproses voor die bundel uitgewer toe gaan. Sou ek nie liewer wou help nie, vis Jaap.

Met meer nuuskierigheid as wysheid stem ek in.

Toe ek in Leuven aankom, deel die neerlandistiekkollegas daar my mee die klasse begin eers einde Februarie se kant. Ek sien aan hul mooi maniere hulle wil intussen nie juis gebodder wees met my nie.

Die lees aan Van Jerusalem tot Johannesburg (eers later sou die Van wegval) het egter ál die vreemdvoel laat verdamp. Ek weet nie of ek al ooit so intens met ’n digbundel geïdentifiseer het nie. Die sintuiglike en woordgevoeligheid wat daaruit gestraal het, was as ’t ware my eie – daar waar ek in ’n omgewing nuut vir my gesit het, omring van stad- en landskappe wat ek net vaagweg en tweedehands uit films, foto’s en skilderye geken het, omgewe van ’n taal wat half herkenbaar, half vreemd op my ontvanklike Afrikaanse ore geval het.

Die besinning in die bundel, ja, die wysheid wat daaruit gespreek het, het my verder aangetrek. Dit het ontspring aan ’n lewens- en wêreldbeskouing wat ek intiem geken het. Ek het gelees aan stilisties en verstegnies indrukwekkende gedigte, energiek en gespierd vanweë die uitmuntende hantering van paradokse en vanweë die oorheersing van vaste vorme met hul ingeboude noodwendighede.

Strate beter as De Villiers se vorige werk, het ek gevoel.

Kortom, ek was getref en dikwels ontroer deur wat ek gelees het.  De Villiers was amper sewentig, en saam met Barend Toerien, Pirow Bekker, Lucas Malan, Hennie Aucamp en Petra Müller het hy gewys dat dit die senior mense is wat die kragtigste Afrikaanse digkuns van die eerste klompie jare van die derde millennium voortgebring het.

Alles aangaande die gedigte in die bundel was nie honkiedorie in my oë nie, nee. En omdat ek so betrókke geraak het, spring ek weg met vrae, kommentare, suggesties, herskrywings van gediggedeeltes … veertien bladsye lank. Ek las ’n ‘skadeloosstelling’ vooraf in:

Ek gaan soms iets onbetaamliks doen as kommentator, merendeels egter iets meer betaamliks. Ek gaan ‘n aantal gedigte van u in meer besonderhede bekritiseer, en dit waag om moontlike alternatiewe voor te stel waar wendings of formulerings my (in my subjektiwiteit!) hinder; ander kere gaan ek slegs aandui waar bepaalde dinge in heroorweging geneem kan word.

Volg dit alles op met ’n ‘bemoedigende’ slotwoord:

Ek het omtrent net die probleemdinge uitgewys, min kere aangedui wanneer verse my tref of ontroer. Dit doen ek om die verdere skawing van die gedigte te stimuleer. Laat ek weer sê: dié bundel, sou hy afgerond word, gaan na mening I.L. de Villiers se beeld as digter heelwat sterker maak.

En gaan beveel toe ten slotte aan dat die bundel ná slyping “nog ’n paar maande laat lê” moet word voor dit na die uitgewers gaan!

Natuurlik het ek nie op daardie stadium vir Izak de Villiers persoonlik geken nie. Ek kry ’n beleefde e-posbriefie terug: Dankie vir die aandag en alles; dit en dat lyk na verbeterings, maar doerie en darie gaan nie werk nie, en soms lyk dit ek verstaan nie wat hy sê nie. En moenie vir ’n man kort voor sewentig aanbeveel hy moet sy bundel “laat lê” nie, want een van die dae word hy self “laat lê”.

Ek kruip terug in my dop, daar in my groot, leë begynhofwoonstel…

Maar later dieselfde dag duik daar weer iets in die e-posbus op. Hoe klink “Goue poort, Jerusalem” (openingsgedig van die bundel) nou?

 

Die Goue, die Genadepoort, bly dig gesluit,

(net langs die Vullishek), met ruwe klip gestut

- die boog sou val. God is lankal self daaruit

in ballingskap tot Gabriël aan die mure ruk.

 

Elia sal die sjofar drie maal blaas en roep,

en glansend sal die Seun van Dawid nader gaan.

Stutte krummel waar die goudboog Hom begroet.

Dié dag sal engelwagte in krom stegies staan,

 

glo vrome Jode. O, Jerusalem, ek hoop,

ek snik psalms vir jou: Maak, Heer, iets hiervan waar;

beveel u Seun, ontsmet die vuil ou stad, maak oop

die boë, was die bloed, hoor bid die tollenaar!

 

Die roep van imams raas ’n swerm spreeus op.

Vier vaalgroen tenks rusper verby die poort, en stop.

 

Heelwat het tóg verander, sien ek, waarvan heelparty verbeterings darem mý voorstelle was. Ek skryf terug die gedig is gewis nóg beter as voorheen; dis lieflik, om die waarheid te sê; ek sien die vingermerke van die berymer van meer as ’n honderd gesange daarin.

’n Paar uur later wys die rekenaar daar’s wéér pos. Wat van “My straat” soos hy nóú lyk?

 

Die bome van my straat maak katedraal

waar die punte van die takke hoog bo raak,

soos Orfeus en sy lied in die verhaal

die bome, berge kon laat buigings maak.

 

My straat is lewe, vullis; iewers loei

sirenes, word gelag; en honde blaf

terwyl hadidas in blomperskes broei,

hul nes digby die huisie van die wag.

 

Miskien is daar nog strate voorkant toe.

Ek wik en weeg en dink soms om te trek,

maar kom weer hierheen terug, want hoe

val lig deur blare op ’n ander plek?

 

My straat, jy’s aards en heilig, maak my bang.

Ek is van ruimtes, iewers, en verlang.

 

In my noppies, merk ek hy het my aanpassing van strofe een nét so aanvaar. Maar my voorstel dat die slotreël iets lees soos “selfs al bly ek hier, kry ek die verlang / bly ek maar verlang / ly ek aan die verlang” het hy gelukkig in die wind geslaan, en self vorendag gekom met die wonderlik suggestiewe een hierbo.

So het die korrespondensie weke lank aangehou. En kon ek eintlik net bewonderend, met al minder saakmakende insette van mý kant, toekyk hoe die bundel se ware gedaante – wat hy as ’t ware van die begin af bedoel was om te wees – uit die e-posbriewe van Izak te voorskyn tree. (Hy’t gou op die voornaamterme aangedring.) Party gedigte is min of meer herskryf, ander het van posisie in die bundelopset verskuif, een of twee het mettertyd weggeval, ’n sestal is bygeskryf. Die gedigte het groepe begin vorm en in bundelafdelings te staan gekom.

Toe dit later daardie jaar verskyn, het Jerusalem tot Johannesburg baie lowende resensies ontvang; die jaar daarna het Izak die M-Netprys vir Afrikaanse poësie daarvoor ontvang. Ook by die lesers was die bundel gewild. By twee kunstefeeste moes ek openbare gesprekke met hom daaroor voer, en ’n hele paar leeskringe het my gevra om die bundel met hulle te kom bespreek.

Vervreemdeling, sy bundel wat in 2008 verskyn het, het ek onder oë gekry toe dit al by die uitgewers was. I.L. de Villiers het nie meer klankborde nodig gehad vir wat hy dringend moes voltooi nie.

In die “Digstring”-portaal op hierdie einste webwerf het ek onlangs vertel hoe ek in Leuven in alle erns begin werk het om die manuskrip van my eie bundel, Onbedoelde land (2007), afgerond te kry. Die Brel-vertalings en die ‘saamwerk’ aan Izak se Jerusalem tot Johannesburg het my die vertroue en ’n ‘afgekoelde’, kritiese  oog gegee om dit te kon doen.

En die e-posverkeer het omgekeer. Kort-kort was dit nou ék wat verse aan Izak gestuur het vir kritiese bekyking. En wat wenke aanvaar het, maar ook baie keer my eie kop gevolg het na aanleiding van sy suggesties.

Op ’n keer laat weet hy: Herder, soms voel dit my dis ek self wat jóú gedigte geskryf het, so naby kom die gevoelighede en sieninge daarin aan my eie lyf!

Einste hier, Izak, einste – as die identifikasie van diékant af nie alte voorbarig is nie.

Chris van der Westhuizen. Bloot mens

Tuesday, May 25th, 2010

Blogfokus

 

In die eerste gedig in haar bundel haal Jelleke Wierenga die deelteken van “poësie” af.  Kru miskien, maar hierdie sê is ‘n raaksê oor die houding van die gemiddelde Afrikaanssprekende teenoor die digkuns.

Sy het redelik lank gesukkel om gepubliseer te kry, dus is die gedigte in haar debuutbundel goed “ingeleef”.  Ek dink deel 3, “Galery van gewese geliefdes”, is eintlik haar forté en ek het gehoor dat gedurende een van die eerste probeerslae om haar werk voor te lê vir publikasie, Charles Fryer haar aangeraai het om te konsentreer op die erotiese gedig.  Dit is egter nie al nie, in deel 1 en 2 stel sy haarself en haar verhouding met die woord bekend, met ‘n aantal intertekstuele verwysings na Breyten Breytenbach.en bv. die gedig Profiel, waarin amper elke tweede woord met ‘n P begin.

Sy skryf oor die omgewingskwessies, in “Geklassifiseer Gedoem“: Bome my bome / vergewe ons: / want ons wil nie weet  / wat ons doen nie. Sy sê ook haar politieke sê, bv. in die gedig “Dislojale Verset“, die titel n.a.v. N.P. van Wyk Louw se Lojale Verset.

Sy skryf diep rakende gedigte, soos 10 September 2007:


My sussie Sybokkie,
onthou jy hoe ons perskes gesteel het

Sussie,
jy het die kanker gekoester
in jou kop die ondraaglike pyn
want as kind al
was jy te kaal teen die kil.

Sy raak geestelik in God, ons almal se pel:

Heilig ons nog iets/iemand
knieverniel op die viniel
in die koue kombuis

Ek lees poësie om twee redes.  Eerstens seker die normale rede hoekom lesers poësie lees, tweedens omdat ek altyd besig is om te soek na woorde wat hulle in ritme en note wil laat hokslaan tot liedjes.  Aangesien my eie woorde maar min is, soek ek ook in ander mense se woorde.  En as ek dit kry, dan is daardie bundel my gunsteling bundel tot eendag.  So ‘n paar weke gelede het dit met my en die gedig “Van Blou” uit hierdie bundel gebeur.  Ek moet sê dit was nie maklik nie, by tye het ek gedink dis onmoonlik, maar ek het geweet daar is iets in daardie gedig.  En toe werk dit.  Dit wérk! Gisteraand het ons die nuwe fliek Jakhalsdans gaan kyk,  ek sien  Theuns Jordaan in die rol van die kluisenaarsanger Ruan Landman met sy bloedbelope oë “deur die windpomp se wieke”, welliswaar in Loxton, nie Barrydale nie, maar skielik word die liedjie vir my werklikheid:

nooit het die blou
verdof in jou dronk
of rooi geaar
of pers gepimpel
soos jou arme knol
van ‘n neus nie

Blou was jou oë
in Barrydale
die dag deur die windpomp
se wieke en blouwinde
wat wapper

 

Daarom is hierdie my gunsteling bundel op die oomblik, van Jelleke Wierenga, bloot mens: “Bloot mens“.

 

Groete,
Chris van der Westhuizen

Breyten Breytenbach en Charl-Pierre Naudé in gesprek met mekaar

Sunday, May 23rd, 2010

The DAAD Artists-in-Berlin Program in South Africa presents:

Of literary buccaneers and global (master)minds: an evening with Breyten Breytenbach and Charl-Pierre Naudé, chaired by Ingrid de Kok

Breyten Breytenbach and Charl-Pierre Naudé in conversation on a postmodern and postcolonial world and its many realities. They speak of global literature, middle worlds and a life in transit, of expectations and reality of the New South Africa, about awakening and remembrance, visions
and sore spots - and the hope of the fruition of the rainbow-nation.

Breyten Breytenbach is internationally known as one of South Africa’s most important poets and was a 1989 DAAD Artists-in-Berlin Program guest. Charl-Pierre Naudé’s literary works are considered to be milestones in Afrikaans poetry.

Date: Wednesday 26 May

Time: 5:00 for 5:30pm

Venue: Idasa’s Cape Town Democracy Center, 6 Spin Street

RSVP: Andreas Spath at aspath@idasa.org.za or 021 467 7606

www.democracycentre.wordpress.com

The DAAD Artists-in-Berlin Program (Berliner Künstlerprogramm, www.berliner-kuenstlerprogramm.de) is one of the most renowned international programs, offering grants to artists in the fields of visual arts, literature, music and film. As part of the German cultural weeks entitled “Football meets Culture”, the DAAD Artists-in-Berlin Program is organising a series of art events in Johannesburg and Cape Town. They are meant to highlight the global and cosmopolitan dimension of soccer and to bring together artists who are cross-border forward thinkers in a postmodern world.

Pieter Hugo. Kom in Gert kom in

Friday, May 21st, 2010

BLOGFOKUS

Aangeheg is my “brief” oor ‘n besondere Afrikaanse digbundel. Goed, ek het die opdrag ‘n bietjie “gerek”. Dit gaan oor Gert Vlok Nel se enigste digbundel, “Om te lewe is onnatuurlik“, maar ek het van sy songs ook betrek. Sy digbundel en sy CD, “om beaufort-wes se beautiful woorde te vergeet”, het kort na mekaar verskyn en is onlosmaaklik aan mekaar verbind, sowel poëties as verteenwoordigend van, dusver, Gert se volle gepubliseerde ouvre.   

Julle sal ook my gedig, “Kom in Gert, kom in”, uit “Nuwe Stemme 4“, hierin raaklees, maar hierdie is ‘n laaaaang uitbreiding van genoemde gedig (eintlik is die NS4 gedig ‘n drastiese inkorting van hierdie stuk, maar ek sal julle nie nou met die storie daaragter verveel nie…)  

Groete  

Pieter Hugo 

 

KOM IN GERT KOM IN

 

daar kom ‘n man daar kom ‘n man

hy sê gert kom in kom in gert kom in

gert sê hy

hoekom skryf jy nie meer i gedig gedigte nie gert

nie meer ‘n CD vol songs nie gert ons

wag nou al jare en jare maar al

al die treine het gaan staan

ons beautiful afrikaans het net een gert maar al

die lyne is dood tussen my hart en jou mond

se mooiste woorde wat nog wag op geboorte in

die magnificent woord van die môre nee nee nee

daars niks nie gert jy’t jouself argeloos illusieloos

uitgesjant op ‘n sideline spoorloos op beautiful-west

onthou jy gert onthou jy die dag toe jy amper ons grootste

digter sou word gert hoe het jou storie toe verder geloop gert

treine wat sjant treine wat altyd hier in kringe ry

hoekom gert hoekom wat maak in die meantime alles jou bang

dat jy in ‘n taal so ver as moontlik van afrikaans af gaan woon

 

daar kom ‘n man daar kom ‘n man

hy sê gert ons lees nou bloot in kringe op jou spoor ons

word ongerymd opgeruimd al is jou verse so swart soos bybel

jou verse wat soos i trein inseil in die mooiste vallei jou songs

so beautiful gewas met timotei shampoe jou verse soos ‘n brief

van someone somewhere in my hand so bekend so doodgewoon

so dodelik hartseer soos die lewe soos ‘n storie uit die huisgenoot

soos klein attie in die gang

attie wat huil in die gang van die trein alleen met sy tassie

gert jou verse is die essensie van dié treinrit maar gert

nou moet ons min of meer maar net al hierdie dinge rekonstrueer want

al die treine het gaan staan

 

daar kom ‘n man daar kom ‘n man

hy sê gert jy is nie afrikaans se grootste digter nie jy

skryf nie slim sonnette nie maar hy lieg wat van oupa op sterwe

 jy was nie in die tronk nie jy is nie

‘n letterkunde professor wat eksistensiële

marxistiese leksikale morfologiese & andersinse verbande

tussen disparate dinge en desperate mense verdig nie

maar

ons beautiful afrikaans het net een gert & mooi mooi mooi

was jou woorde wat daai sweet sweet dinge vir ons sê soos

miskien moet ek gelukkiger lyk

want jy is ons leonard cohen gert en ek weet nie of jy ooit

‘n song van cohen geluister het nie gert maar in take this walz skryf hy

there’s a shoulder where death comes to cry on

en gert iemand wat so ‘n reël geskryf het kan tevrede sterf

tevrede eindelik gaan lê onder dun bome in die more anderkant

maar gun jou fans dan nou nog beautiful poetry gert don’t

go gently into that night moenie

dat ons net moet retrace op jou ou steps nie gert

 

daar kom ‘n man daar kom ‘n man

hy sê gert gert got gert al het jy niks anders

reggekry nie gert het jy ons treine verlos van die transkaroo

na matjiesfontein op die ontstemde uur op die beliggaamde landskap

met jou versskap wat soos i sediment i beautiful sediment in

ons gemoed kom lê en sê om te lewe is onnatuurlik

en dat alle dinge uiteindelik

nie eintlik help nie

nie eintlik help nie

dat niks uiteindelik oorstelp nie

 

daar kom ‘n man daar kom ‘n man

hy sê gert nee nie dit nie nie noodwendig dit nie gert

mens kan nooit van mense werklik weet nie mense wat

desnieteenstaande i fokken cruel lonely summer veroorsaak

anderster etters warse wetters en ma’s wat uitgehol kom en

ons soos wasgoed inneem voor die reën mense

wat verdig word tot die onredelike blydskap in september

wat alles iets te doen het met hartstog en jare en lyding & leed en

sukses & seks mense wat

weggaan en sterf ίn in die heiliger nag in

toe die liefde nog nie intertekstueel was nie en

alles & god altyd weer gevind kon word

maar mens kan nooit van mense werklik weet nie nooit

van jou werklik weet nie gert

 

daar kom ‘n man daar kom ‘n man

hy sê gert jy’s donker & lig & lieg ineen gert

jy’s ‘n eenvoudige spoorwegstorie gert jy

interteks beautiful met vanwyklouw gert jy’s black soos label

jy’s kouewateromoskoon jy’s op nightshiftduty jy’s die

diepste woord jy dink jy’s smart met jou alfokkenewige i

likewise interweef jy postmodernistiese poems op jou eie model van

cervantes se versos de cabo rato gert het jy hom al ooit gelees

gert bestorm jy nog windmeulens met jou pen in die hand gert

daar op die laaste stasie op die derde planeet op beautiful-wes

waar jou ou dikwielfiets vanself moeg verbyrym

het jy nog katte & komete op die tong

of is daar nou nog net i trein wat ysig vir jou fluit gert

hoekom sjant jy jou uit

uit uit die gedigte uit

inner inner in die skemer in

hoekom is jy so fokken wel ter stilte gert

 

daar kom ‘n man daar kom ‘n man

hy sê gert

gert sê hy

dis tyd dat jou wasgoed weer baldadig

wapper in jou vooryard gert

kom uit jou formidabele slaap

uit jou skugtige voortvlugtigheid op die dorp waar

die treine fluit en die sjanters nag na nag die

treinerige treine trein

laat die nag volledig breek

laat ons verlos word op alle vlakke al

kan jy nooit weer so onverwags klink soos met daai eerste

beautiful aweregse treinjazz wat jy uit afrikaans getoor het nie gert

al dink jy jy het jou mooiste plaat klaar van die draaitafel af

laat val weet ons jy kan weer ‘n trein dig wat die nag knip soos ‘n skêr

weer gedigterige omvattendhede dig

ons weer op grafte en op treine laat vry

ons erens subtiel & brutaal in alle erns laat sterf want

jy kan net jy kan presies so die woorde soos waens in

die verstreine sjant gert ons weet dit vat nagte nagte nightshiftduty

om die songs so beautiful oor die spore te laat rol dit lyk

so maklik jy laat dit so doodgewoon beautiful klink gert om al

die liegstories van die kollektiewe siel so terloops met

die duskant van jou hand aan te raak soos van ‘n eenvoudige

poëet maar nee nee dis nagte nagtelank gesjant tot

jy soos ‘n kamma obskure plattelandse digter so kamma

eenvoudig met jou beautiful woorde goël maar so goed

dat ek nou hierdie pleitmosaiek kan konstrueer gert uit die sak

steentjies van jou poëtiese woorde wat klaar klaar almal perfek

geslyp is wat maak dat ons nou

net die rook en die sweet in beaufort-wes onthou

en die lang cream callico gordyne wat soos

hande by die venster uit bye bye waai

en al daai poetry shit soos ‘n overexposed

foto uit ‘n ou familie foto-album moenie

moenie ons hier vergeet nie gert

moenie vir ons alleen agterlaat op

hierdie planeet waar die here nie meer van ons weet nie

want woestyn is die woord waardeur ons nou reis

moenie laat jou woorde leeg in jou hand lê nie gert

anyway laasjaar nou die dag eergister

moet jy weer droom dat jy weer in jou eie mooiste woorde woon

soos op die môre van die agste dag

 

daar kom ‘n man daar kom ‘n man

hy is van morrison ja daai een gert die einste moerse moerige morrison en

hy sê gert

gert sê hy

the show must go on

 

 

 

© PIETER HUGO

Woordfees 2011. Aansoeke nou oop

Friday, May 21st, 2010

Aansoeke vir optrede by 2011 se US Woordfees nou oop

 

Die US Woordfees wag aansoeke in vir woordkunstenaars wat in 2011 deel van dié besondere geleentheid op Suid-Afrika se kulturele kalender wil wees. In 2010 het dié snel groeiende fees sowat 47 300 feesbesoeke ontvang.

 

2011 se Woordfees vind plaas vanaf 4 tot 13 Maart. Die tema is “Elwe en Selwe”.

 

ʼn Aansoekvorm kan afgelaai word op die Woordfees se webwerf (www.woordfees.co.za). Indien belangstellendes ʼn aansoekvorm in Word-formaat wil hê, kan dit aangevra word by fees@sun.ac.za.

 

Die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Augustus 2010.

 

Vir meer inligting, skakel 021-808 3513 of 021-808 2901.

Ilse van Staden. Verlore gunsteling

Monday, May 17th, 2010

Blogfokus

 

Wanneer ek ‘n gunsteling Afrikaanse digbundel moet kies, gaan dit vir my meer oor sentimentele waarde as verdienste. Dit is nou die een wat ek sal gryp as die huis afbrand, eerder as die een waarmee ek op ‘n eiland wil uitspoel.

   Soos ek reeds iewers genoem het, het ek my eerste digbundel gekry as Kersgeskenk aan die einde van graad een. Dit was ‘n roomkleurige hardeband bundel en as ek reg onthou was dit net getitel Gedigte - ‘n versamelbundel van Elisabeth Eybers, met gedigte waarskynlik tot en met Kruis of Munt (1973) of Einder (1977). Op daardie stadium was ek skaars sewe jaar oud en my ma het voorin iets geskryf soos dat ek dit dalk nog nie sal verstaan nie, maar dat dit van die beste gedigte in Afrikaans is. Natuurlik onthou ek daaruit “Maria”, “Wes-Transvaal”, “Die eerste nag” en veral “Bome”. Iewers in my studentejare het my ma die bundel geleen en toe uitgeleen. Aan wie, kon sy later nie meer onthou nie en so is ek my geliefde bundel kwyt. Ek hoop maar dat dit aan iemand nog vreugde verskaf.

   Met my drie-en-twintigste verjaarsdag kry ek weer ‘n bundel - Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers. Voorin skryf my ma: Aan my liefste Blom. Om op te maak.

   ‘n Ander sentimentele geliefde is D.J. Opperman se Junior Verseboek, wat ek aan die einde van graad twee as boekprys kry. Voorin is ‘n plakker op Laerskool Melkrivier se briefhoof: Vir beste prestasie in Gr ii. Om een of ander onverklaarbare rede het ek met ‘n dik groen pen daarin gedigte afgemerk en ook die name van die digters onderstreep (en genommer, tot by nr. 60!). Jy kan sê wat jy wil oor vernuwing, party gedigte bly maar mooi, al kom dit uit ‘n ver verlede en ‘n sentimentele geheue - “Mabalêl” van Eugène Marais, Totius se “Repos ailleurs”, “Die strandjutwolf” van Van Wyk Louw, “Klara Majola” en “Sproeireën” van Opperman.

   Maar miskien is daar plek vir nuwe gunstelinge. Dis lanklaas dat iemand my ‘n digbundel present gegee het…

 

Ilse van Staden

15 Mei. Verjaarsdag - Cas Vos

Saturday, May 15th, 2010
Cas Vos

Cas Vos

Vandag is dit die verjaarsdag van een van die gentleman’s in ons letterkunde, naamlik Cas Vos. Veels geluk, Cas … Mag jy vandag uitsonderlik bederf word deur jou geliefdes en mag die nuwe lewensjaar besaai wees met vreugde en inspirasie.

Vir die plesier van jou lesers plaas ons ‘n gedig uit jou verskamer hieronder.

Met waarderende groete,

Louis & Marlise

 

laaste woorde

 

tussen sterre skryf die maan

met jambes lig en donker

oor eeue wat vergaan

 

‘n engel kyk na die graf

waar dowwe sterspore lê

en skud die vaal stof af

 

hy buk oor ‘n grafsteen en lees

‘n laaste versreël:

die opstanding van die vlees

 

(c) Cas Vos

Nuusvrystelling. ATKV-Mediaprys vir Poësie

Friday, May 14th, 2010

ATKV-MEDIAVEERTJIES 2010

 

Die ATKV het besluit om van vanjaar af ‘n Prys vir Poësie by hulle lys van toekennings vir die jaarlikse ATKV-Woordveertjies, wat in samewerking met Sanlam aangebied word, te voeg.  

Poësie vorm ‘n onmisbare deel van die Afrikaanse letterkunde. Daar is soveel opwindende en uitmuntende bydraes wat in hierdie genre gelewer word, dat dit die nodige erkenning en verering verdien.

Die ATKV ondersteun kreatiwiteit en uitnemendheid rondom die Afrikaanse woord.   

 

Nita Cronjé: Organiseerder - ATKV Woordveertjies

Jeanné Naudé: Organiseerder - ATKV Projekte

                                                                                             

 

NUUSVRYSTELLING

 

SAAMGESTEL EN UITGESTUUR DEUR DIE ATKV SE HOOFKANTOOR IN RANDBURG

 

Posbus 4586 RANDBURG 2125 atkv@atkv.org.zawww.atkv.org.za  

 

PROJEKORGANISEERDERS : Jeanné Naudé en Nita Cronjé

TELEFOONNOMMERS             : (011) 919 9088 en (011) 919 9087

BLADSYE                           : 01

DATUM                               : 14 Mei 2010

EMBARGO                         : Onmiddellik

 

ATKV-WOORDVEERTJIES INSKRYWINGS WORD INGEWAG

 

Alle uitgewers word genooi om in te skryf vir vanjaar se ATKV-Woordveertjies.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag, 11 Junie 2010 en die reglemente en inskrywingsvorms is beskikbaar by  http://atkvprojekte.co.za/images/woordveertjies/2010/poesie_regl.pdf

 

Daar kan in die volgende kategorieë ingeskryf word:

  • ATKV-Prosaprys
  • Prys vir Dramateks
  • Prys vir Liefdesroman
  • Prys vir Poësie
  • Prys vir Spanningslektuur

 

Wenners word tydens ‘n glansryke toekenningsgeleentheid in Stellenbosch op 10 September bekroon. Die ATKV-Woordveertjies word in samewerking met Sanlam aangebied.

 

Vir navrae oor inskrywings kontak: Jeanné Naudé by 011 919 9088

 

 

EINDE

Pieter Kleynhans. “Bitter brood”

Monday, May 10th, 2010

Blogfokus

 

Die opdrag vir hierdie maand is nie so voor die hand liggend soos wat die redaksie mag dink nie, want as poësieliefhebber het ‘n mens tog seker meer as een “gunstelingbundel”. So sal ek altyd graag NP Van Wyk Louw se “Tristia” of Breyten Breytenbach se “Lotus” optel en met groot plesier daarin lees. Meer onlangs sekerlik HJ Pieterse se “Die burg van Hertog Bloubaard” en ‘n bietjie verder terug Johan van Wyk se “Heldedade kom nie dikwels voor nie.” Om natuurlik ook nie van Antjie Krog te vergeet nie; bykans ál haar bundels is uitsonderlik, maar haar bundel “Kleur kom nooit alleen nie” sal altyd ‘n gunsteling bly. So ook “Otters in bronslaai.”

Om ‘n nommer 1 gunsteling uit te sonder, is dus vir my ‘n onmoontlike taak.

Daarom sal ek eerder konsentreer op een van die “vergete digters” van Afrikaans en dit is GA Watermeyer. Sy gedigte het my nog altyd getref vanweë die aardsheid daarvan. Ongelukkig het hy hom tydens die opswaai van Nasionalisme baie sterk en direk aan die kant van die Nasionaliste geskaar en te midde van ‘n koppestamp met DJ Opperman en andere hom aan die verkeerde kant van die literêre spektrum bevind as gevolg van sy politieke agenda.

Dit is egter wanneer dié man liefdes- en erotiese verse geskryf het, wat sy ware krag volgens my na vore gekom het. Hierin is sy bundel “Bitter brood” (1965) vir my onvergeetlik en beslis ‘n gunsteling. Veral die gedigtereeks “Klein siklus” lees ek so gereeld as wat ek kan; sedert my skooljare al toe ek nog ‘n tjokkertjie was.

As voorbeeld:

 

I

 

Twee heuwels en die een vallei

kan nie ‘n man se dors bevry,

 

kan nie die donker bloed besweer

tot altyd helder wederkeer;

 

tussen die roosknop en die roos

styg die begeerte asemloos,

 

maar in die later, voller weet

dring dit terug in die vroeër leed:

 

word weer die wonding, die oop verlang -

dolk in die sterre, hoef teen die hang.

 

En dan ook nog die pragtige vers waarmee hy dié reeks afsluit:

 

Vir my vrou

 

Van al my heuwels van verlang

bly jy alleen die elder hang:

 

vallei van stilte en verskiet

wat wilgers stoot uit my verdriet

 

windbreek van deernis waar ek skuil

wanneer die nanag om my huil

 

die laagte se dorings en fontein

waar ek weer opstaan uit my pyn

 

om somersterk teen hierdie son

my gang te beitel uit beton.

 

 

Ek besef dat hierdie gedigte in vandag se tye maar ietwat “verouderd” klink, maar tog bly dit na al die jare nog steeds een van die mooiste voorbeelde van wat mense bedoel wanneer hulle praat van “suiwer poësie”; onopgesmuk, eerlik en vol van die wonderlikste sensitiwiteit.

 

Of ons digters van vandag nog hieraan voldoen? Ek weet nie. Ons digkuns het vir my so hard en berekenend geword. En tog, dalk is dit wat die tyd vandag van ons digters vra, is dit nie? Want waar kry ons vandag nog die rustige landelikheid waaroor Watermeyer byvoorbeeld in sy bekendste gedigte, “Reën in die voorwinter”, “Oestyd” en “Hings”  kon dig?

 

Dankie vir die geleentheid om aan ‘n mooi inisiatief te kon deelneem.

 

Pieter Kleynhans

10 Mei. Verjaarsdag - Trienke Laurie

Monday, May 10th, 2010
Trienke Laurie

Trienke Laurie

Veels geluk met jou verjaarsdag, Trienke!

Ons hoop dat jy heerlik gaan verjaar vandag en dat die bederf sommer baie groot gaan wees …

Vir die leesplesier van jou lesers plaas ons ‘n gedig uit jou verskamer hieronder.

Vriendelike groete,

Louis & Marlise

 

Seekat op Minoaanse amphora

     (Die kus van Zakros)

 

Haar oë is twee swart eilande

wat diepkyk in jou hart                         

Haar arms amper swagtelende sluiers.      

Suiers stippel die ranke pote -

vrolike staccato’s voortgesit in borrels.

Sy is ‘n sierlike Minoaanse prinses                           

met perdebymiddeltjie en golwende lyf.

Twee arms omlyn haar grootoogkop

terwyl die ander pote ‘n ritmiese dans uitklop

Hierdie ongewone ongrillige seekat op die amfora,

prikkel die sintuie -

sy wikkel jou tone; die seekatjie dans

sy dans ‘n Salome sekskat-riel, sowaar!  

 

© Trienke Laurie