Buiteblik
Wednesday, May 23rd, 2012

Na aanleiding van Louis Esterhuizen se skrywe oor satiriese spotprente , herinner dit my aan ‘n Kanadese skilder wat niks van die Kanadese eerste minister Stephen Harper hou nie het Vrydag hierdie skildery (bo) ten toon gestel. (Met die kommentaarblokkie kan foto’s helaas nie ingelaai word nie.)
Een van die opposisie se parlementslede het gequip: I don’t care who buys it, but I’m sure it will be well hung somewhere.
Harper se reaksie? “We’re not impressed. Everyone knows the PM is a cat person,” said Andrew MacDougall, Harper’s director of Communications. (Ek weet nie hoekom daar ‘n hond in die foto is nie - Harper is baie lief vir katte en elke keer wanneer mens ‘n foto van hom aan huis sien is daar ‘n paar katte in die nabyheid.)
Ek dink die skildery is tot ‘n mate gebaseer op hierdie skildery van Manet?

Wednesday, May 23rd, 2012
Op 10 mei het die Nederlandse Dichter de Vaderlands, Ramsey Nasr (foto), die E. du Perron-prys 2011 gewen vir sy digbundel Mijn nieuwe vaderland. Gedichten van crisis en angst. Die Du Perron-prys is ‘n kultuurprys wat jaarliks uitgereik word aan persone of instellings wat ‘n aktiewe bydrae gelewer het aan die bevordering van wedersydse begrip en goeie verstandhoudinge tussen verskillende bevolkingsgroepe in Nederland. Soms val die kollig in hierdie prys ook op verhoudinge met bevolkingsgroepe wat historiese bande met Nederland het.
In 2008 het Adriaan van Dis die E. du Perron-prys gewen. Hy is alombekend vir sy betrokkenheid by Indonesië (vanweë sy herkoms) en Suid-Afrika. Sy roman Tikkop en die televisiereeks Van Dis in Afrika getuig van ‘n deurgaanse en opregte geïnteresseerdheid in Suid-Afrika. Met die uitreiking van die E. du Perron-prys in 2010 het Antjie Krog die eerste Du Perron-lesing kom hou. Hierdie prys word reeds meer as twee dekades lank uitgereik. ‘n Lesing was ‘n noodsaaklike vernuwende stap, omdat die uitreiking nie meer saam met ‘n simposium vir Kinder- en jeugliteratuur plaasgevind het nie. Dat Krog as digter ‘n jaar gelede uitgenooi is, het miskien onbewustelik die klokke ingelui vir die uitreiking aan ‘n digter. As dit gaan oor kontroversie en maatskaplike betrokkenheid by hulle onderskeie samelewings, staan Krog en Nasr op dieselfde lyn. Albei digters vervul die rol van intellektuele kritici.
 E. du Perron
Die E. du Perron-prys is vernoem na Charles Edgar de Perron (1899-1940), ‘n Nederlandse skrywer, digter en kritikus. Hy het opgegroei in Nederlands-Indië, maar woon en werk in sy volwasse lewe in Parys, Brussel en in Nederland. Hy was baie aktief in kuns en literêre kringe. Du Perron het bekendheid verwerf met sy roman Het land van Herkomst (1935). Die res van sy literêre werk was veral essays, wat gepubliseer is in die invloedryke literêre tydskrif Forum. Du Perron het ‘n skerp tydsbeeld gegee van die destydse Europa deur sy fyn waarnemings, aangevul met verbeeldingryke taalgebruik. Die kragtige taalgebruik in die volgende gedig van Du Perron was Nasr se inspirasie toe hy Mijn nieuwe vaderland geskryf het.
P.P.C.
Vaarwel, Clary. Ik wens u geen geluk.
Zoiets klinkt dom, bij hen reeds die het menen.
Gij hebt u goed verkocht. Maak u niet druk
over de rest: want álle mensen wenen.
Uw huis was klein. Uw heer heeft het vergroot.
De bron van zijn fortuin heet niet te stelpen.
Uw roem wordt groot en duurt wel tot zijn dood.
Uw ziel is klein. Ik kon het niet verhelpen.
Uw lijf is goed. Gij zijt een mooie vrouw.
Gij zult uw heer veel mooie kindren baren.
Uw hart is nauw; gij blijft ook wel trouw.
Gij zult hoogstaan en goed uw naam bewaren.
Vaarwel, Clary. Mij zult gij niet meer zien.
Ik zal u mijden, zelfs tot in uw dromen.
Gij waart mijn droom, voor ik u had gezien.
Gij zijt uzelf. Ik minacht u volkomen.
Met sy gemengde herkoms van Nederlands en Palestyns en sy kritiese beskouings op al die huidige veranderinge in Nederland, is Nasr ‘n waardige wenner van die E. du Perron-prys 2011. Die sewe jurielede het hulle keuse so verduidelik:
Juryrapport E. du Perronprijs 2011
De jury heeft besloten de E. du Perronprijs 2011 toe te kennen aan Mijn nieuwe vaderland. Gedichten van crisis en angst (De Bezige Bij, 2011).
 Omslag
“In deze bundel doet Ramsey Nasr wat van een Dichter des Vaderlands verwacht mag worden: hij geeft een cultuurkritische en pijnlijke diagnose van het hedendaagse Nederland. Het is ongebruikelijk dat de jury van de Du Perronprijs een dichtbundel bekroont, maar Nasrs bundel is zo dwingend en aansprekend dat de jury zich gelukkig prijst deze dichtbundel te mogen lauweren.
Nasr stelt zich op als een klassieke geëngageerde schrijver: haaks op de tijdsgeest, uitgesproken kritisch over het politieke beleid, en dit alles in een zeer poëtische taal die trilt van urgentie. Hier geen landerige gedichtjes uit een slappe tijd, maar het zout der aarde rechtstreeks in de wonden. Nasr laat zien dat poëzie vandaag de dag ertoe doet. Met zijn optreden als Dichter des Vaderlands, waar deze bundel de neerslag van vormt, roept Nasr controverse op, zowel in de samenleving als in literaire kringen. De dichter deinst er niet voor terug om zich in scherpe bewoordingen uit te laten over maatschappelijke misstanden; hij neemt daarin zijn rol als publieke intellectueel serieus. Daarmee getuigt hij een erfgenaam van Du Perron te zijn.
Nasr zet de sluizen van de poëzie open en overspoelt de lage landen, die gebukt gaan onder een krampachtige vrees voor natte voeten. Hij schreef een hybride bundel waarin gedichten, essays en lezingen verzameld zijn. Verschillende tekstsoorten lopen door elkaar en allerlei stemmen uit de samenleving worden geïncorporeerd. Nasr schrijft een poëzie met veel adem en uit volle borst. Dan weer lijken zijn gedichten klassiek en ingetogen, dan weer zijn zij uitbundig en onconventioneel. Hij neemt de rol aan van de klassieke bard: zanger en (aan-) klager. De poëzie in deze bundel is uitgesproken zonder dat de boodschap voor de lezer wordt uitgespeld. Nasr weet de mystiek van de poëzie te laten klinken zonder dat dit afdoet aan de begrijpelijkheid ervan. Daarmee slaagt hij erin een adequate vorm te vinden voor het dichterschap des vaderlands: hij verbindt poëtische finesse aan maatschappelijke relevantie en verstaanbaarheid. In een rancuneuze prozaïsche tijd laat Nasr een even lyrisch als noodzakelijk geluid horen.”
(c) Carina van der Walt
Monday, May 21st, 2012

Wordsworth en die Mere
Grasmere, Cumbria, April 2012
‘n Voetpad slinger berg-op van die oewer van Buttermere na die piek van Haystacks. “Piek” is half vrypostig: dié heuwel se beskeie 597m bo seespieël sal kwalik ‘n selfrespekterende bergklimmer se pols laat jaag. Die voetpad bied eerder ‘n gesinstaptog - ek het Daniel se 10 maande (en 10 kilogram) in die “rugsak” op my rug - van ses ure.
Hoe hoër jy klim, selfs na hierdie beskeie hoogte, hoe oper die vergesigte van valleie en kruine, mere en bergpoele, rûe, hange geklee in brandsiek patrone van lentegroen, roesbruin heide en die vuilgeel van steekbrem, strome wat kabbel en tuimel in watervalletjies sonder naam of getal, afgeleë en afgewitte plaashuise in die valleie, teksture - die vloeibare goud van die laatmiddagson op ‘n meer, die kroes van dennebosse teen ‘n heuwelhang, die grys oneweredigheid van granietkranse -droë klipmure wat kronkel oor die kontoere as ‘n menslike verlengstuk van die natuurlike geografie, in die verte die Ierse See en die Isle of Man, wolke wat rusteloos rol in ‘n veranderlike uitspansel - dan eensaam in die blou lug, dan weer dig gepak in ‘n grou hemel.
Dit is ‘n landskap tegelyk wild en beheers - wild wanneer ‘n yswind skielik hier deur die nekke dwarrel en jy omring is deur pieke tóé onder die strooisuiker van laasnag se lentesneeu; beheers wanneer jy besef elk van daardie newelagtige kruine het ‘n naam. Elk is benoem - Scafell Pike, Great Gable, Kirk Fell, High Crag en tallose ander - in ‘n daad van besitneming en heerskappy, soos Adam met die diere van die Paradys.
Die Haystacks-roete en sy uitsigte is swanger met ‘n digterlikheid wat teruggryp na een van die grootste Engelse natuurdigters van hulle almal: hierdie is immers die vleeswording van “the fall of rivers, winds and seas, / Smooth fields, white sheets of water, and pure sky” wat William Wordsworth hom verbeel in sy sonnet To Sleep.
En in daardie sneeu op die hoogste pieke eggo die eerste reëls van nog ‘n sonnet, November 1, 1815:
How clear, how keen, how marvellously bright
The effluence from yon distant mountain’s head,
Which strewn with snow as smooth as heaven can shed,
Shines like another sun…
Wordsworth is in 1770 in die dorpie Cockermouth net noord van hier gebore en het sy lang lewe feitlik uitsluitlik in hierdie valleie geslyt: tussen 1799 en 1808 by Dove Cottage naby die dorpie Grasmere aan die oewer van die gelyknamige meer, en daarna tot en met sy dood in Ryland, tussen Grasmere en Windermere. In 1850 is hy in die kerkhof van St. Oswald’s in Grasmere ter ruste gelê, langs sy vrou, Mary, en sy suster, Dorothy.
Die digter se spore het Grasmere omskep in een van daardie Engelse dorpies wat bestaan alleen om die pelgrims van ‘n reputasie gedienstig te wees: ‘n handvol hotelle en gastehuise, ‘n paar alte-liefies teewinkeltjies, twee of drie buitelewewinkels, en ‘n beknopte kothuiswinkeltjie langs St. Oswald’s waar ‘n span vrouens in ouderwetse wit voorskote en kappies die beroemdste gemmerbrood in Engeland bak.
En tog, hierdie Ye Olde England voorkoms ten spyt, is daar aan Wordsworth se laaste rusplek iets van daardie tydloosheid wat soms onder die oppervlak van massatoerisme op hierdie eiland oorleef. Vermaarde ou taksusbome troon donker in die kerkhoffie wat knus in ‘n boog van die Rothay-rivier lê waar hy sluimer onderweg na die meer. St. Oswald’s se 13e eeuse oorsprong is deur eeue van “opknapping” versluier, maar hy word bewaak deur ‘n erewag van grysleikliphuisies. Die sagte pienk waas van ‘n kersieboom se lentebloeisels verlig die somberheid van ‘n muisgrou dag, en berg en meer omsluit die toneel.
‘n Entjie se stap anderkant die teerpad (wat lank ná Wordsworth se tyd gekom het) wink ‘n klein afgewitte twee-verdieping huisie langs ‘n stil straatjie: Dove Cottage. In hierdie weergalose literêre pelgrimsoord oorleef die besittings en gees van Wordsworth se verblyf tydens die produktiefste dekade van sy loopbaan. En nie alleen van Wordsworth nie, maar van ‘n rolverdeling van die Romantiek op hierdie eiland: die Skotse romansier, sir Walter Scott, het in 1805 hier oorgebly, en so ook die Engelse skrywer Thomas de Quincey (hy van The Confessions of an English Opium Eater) in 1807. Die Wordsworths se goeie vriend, Samuel Taylor Coleridge, was ‘n gereelde besoeker.
Die huis dateer uit die 17de eeu en voordat die Wordsworths dit in 1799 betrek het, was dit ‘n pub, die Dove & Olive. Ná hulle vertrek na Rydal Mount was De Quincey vir 26 jaar die huurder van Dove Cottage. Die huisie is haas onveranderd, met ‘n steil tuintjie wat voor die agterdeur teen ‘n effense hang oprys. Eens sou die voorkamer ‘n uitsig gebied het op die kalm water van Grasmere, maar die Victorianers het ‘n ry huise opgerig wat die uitsig versper.
Andersins is die huisie feitlik onaangetas deur die verloop twee eeue: die onderste vertrekke het steeds die donker houtpanele en vloerstene van die ou pub en ‘n tasbare gevoel van die teenwoordigheid van die Wordsworths en hulle gaste. In die beknopte ingangsportaal hang ‘n skildery van Wordsworth se terriër, ‘n geskenk van sir Walter Scott, wat met dié brakke geteel het. ‘n Uitstalkas op die tweede verdieping is ‘n horing van oorvloed met die intieme relieke van die Engelse Romantici: daar is Wordsworth se klein, ronde brilletjie, soos ‘n 19e eeuse John Lennon, en die opiumskaal wat De Quincey gebruik het om sy Romantiese dwelm uit te meet.
Deesdae dreun die toerbusse van ons era van ongebreidelde massatoerisme tussen die mere wat eens net toeganklik was met wandelstok of perdekar. Wordsworth het die koms van toerisme na hierdie beeldskone hoek van Engeland verwens, maar hyself was ook ‘n bron en argitek daarvan.
In 1810 is sy Guide to the Lakes gepubliseer - die jongste heruitgawe pryk steeds op die rakke van elke Mere-dorp se boekwinkel - as ‘n “Companion for the Minds of Persons of taste, and feeling for Landscape“. Teen die einde van sy dekade in Dove Cottage was Wordsworth so ‘n gesiene figuur dat besoekers hierheen gekom het juis om die Digter van die Mere te sien.
Om die drukker verkeer van akoliete en nuuskieriges te hanteer, het Wordsworth en sy huismense in 1813 na die imposanter Rydal Mount verhuis. Die huis troon steeds op ‘n effense hoogtetjie bo die dorpie, omgeef deur ‘n tuin wat deur die digter en sy vrou self uitgelê is. In die portaal hang ‘n gelid gelamineerde gidsblaaie in ‘n twee dosyn tale, insluitend een in Afrikaans. Ek vra die opsigter uit daarna. Dit is die kurator, sê sy, wat self met sy gesin in die geskiedkundige huis woon: hy is Suid-Afrikaans en tans met verlof, verduidelik sy, en gee my Peter Elkington se besigheidskaartjie.
Ten spyte van sy veel langer verblyf hier, is die eggo’s van Wordsworth se teenwoordigheid by Rydal Mount dowwer as by Dove Cottage. Dit is ‘n meer konvensionele museum: borsbeelde, skilderye, eerste uitgawes van sy werke en kopieë van sy korrespondensie in glaskaste. Dove Cottage is soos om die digter met sy wandelstok op ‘n voetpad langs die meer raak te loop; Rydal Mount is soos om sy spoor in ‘n modderige voetpad te kry.
Tog is hier ook roerende herinneringe aan hierdie huislikste digter, die gesinsman met sy oog netsoveel op sy tuin as op die landskap van die Mere. Deur die venster van sy solderstudeerkamer glinster die water van Windermere deur ‘n opening tussen die heuwels. Dit het hom beweeg om te skryf:
Soft as a cloud is yon blue Ridge - the Mere
Seems firm as solid crystal, breathless, clear,
And motionless; and, to the gazer’s eye,
Deeper than ocean, in the immensity
Of its vague mountains and unreal sky!
But, from the process of that still retreat,
Turn to minuter changes at our feet;
Observe how dewy Twilight has withdrawn
The crowds of daisies from the shaven lawn,
And has restored to view its tender green,
That, while the sun rode high, was lost
Beneath their dazzling sheen.
Anderkant daardie “shaven lawn” tuimel die helling weg van ‘n lae houtheining in ‘n lappie aarde bekend as “Dora’s Field”. Toe die bejaarde digter se sieklike dogter, Dora, in 1847 op 43 oorlede is, het hy - die groot digter van die Mere se natuurskoon - ‘n natuurmonument vir haar opgerig: hy en Mary het hierdie helling toegeplant met wilde affodilbolle. Die twee bejaardes se blom herinnering aan hul geliefde dogter is tegelyk so broos soos ‘n stuifmeeldraad en duursamer as graniet: dit bloei steeds elke jaar in die lente, ‘n monument aan ‘n sterfte wat vlietend herleef in die seisoen van nuwe lewe.
Maar ons is te laat vir Dora se affodille: die opbloei van die lente is verby en al wat roer in die bries is die groen blare van die uitgeblomde bolle.
Die driehoek waarin Ryland Mount geleë is - rofweg tussen die drie mere van Grasmere, Windermere en Ullswater - is die hart van “Wordsworth se Mere”. Ons koers suidoos in die rigting van Windermere, maar voor ons daar kom draai ons links af op ‘n smal paadjie in die rigting van Ullswater. Die paadjie word die Kirkstone-pas, ‘n weg-wêreld roete hoog deur die kaal rûe van die fells- die woord vir hierdie heuwels, afgelei van oud-Noors - met alleen fell-skape en hier en daar ‘n toringvalk as geselskap.
“The Pass of Kirkstone and the descent from it are very impressive,” het Wordsworth in sy Guide geskryf, en aan die einde daarvan lê Ullswater, “perhaps, upon the whole, the happiest combination of beauty and grandeur, which any of the Lakes affords“.
Aan die oewer van hierdie meer vind ons opnuut ‘n eggo van Wordsworth in die gedaante van ‘n lappie uitgeblomde affodille. Die omstreke van Glencoyne-baai aan die suidwestelike oewer van Ullswater het Wordsworth se digterspen meer as een keer geroer. Drie keer het hy gedig oor die Mere se bekendste waterval, Aira Force, wat ‘n entjie van die meer in ‘n smal ravyn tuimel, insluitend in The Somnambulist:
List, ye who pass by Lyulph’s Tower
At eve; how softly then
Doth Aira-force, that torrent hoarse,
Speak from the woody glen!
Fit music for a solemn vale!
 Dove Cottage
Maar dit was nie Aira Force wat Wordsworth se bekendste gedig ingegee het nie, dit was die nabygeleë lappie land wat deesdae tussen die teerpad en die meer ingewig lê. Hier het die digter en sy suster, Dorothy, op 15 April 1802 aangedoen op pad terug na Dove Cottage. Dorothy het die insident in haar Grasmere Journal opgeteken: “When we were in the woods beyond Gowbarrow Park, we saw a few daffodils close to the water side. We fancied that the lake had floated the seed ashore and that the little colony had so sprung up. But as we went along there were more and more and at last under the boughs of the trees, we saw that there was a long belt of them along the shore, about the breadth of a country turnpike road. I never saw daffodils so beautiful they grew among the mossy stones about and about them, some rested their heads upon these stones as on a pillow for weariness and the rest tossed and reeled and danced and seemed as if they verily laughed with the wind that blew upon them over the lake, they looked so gay ever dancing ever changing.”
Daardie plaat affodille groei steeds aan die meer se oewer, maar ook hier was hulle tyd vir vanjaar verby en net enkeles se geel gesiggies het nog saam met die wind gelag. Tog was daar in hierdie toneel ‘n roerende eggo van Wordsworth se bekendste gedig, want ‘n paar jaar ná sy suster die affodille van Glencoyne-baai in haar joernaal besing het, het William hulle in sy gewildste gedig in herinnering geroep:
I wandered lonely as a cloud
That floats on high o’er vales and hills,
When all at once I saw a crowd,
A host, of golden daffodils;
Beside the lake, beneath the trees,
Fluttering and dancing in the breeze.
Continuous as the stars that shine
And twinkle on the milky way,
They stretched in never-ending line
Along the margin of a bay:
Ten thousand saw I at a glance,
Tossing their heads in sprightly dance.
The waves beside them danced; but they
Out-did the sparkling waves in glee:
A poet could not but be gay,
In such a jocund company:
I gazed - and gazed -but little thought
What wealth the show to me had brought:
For oft, when on my couch I lie
In vacant or in pensive mood,
They flash upon that inward eye
Which is the bliss of solitude;
And then my heart with pleasure fills,
And dances with the daffodils.

Oomblikke van verruklikheid, van brose, verganklike skoonheid, soos dié wat hierdie gedig onderlê, is steeds te vinde in die Mere. En om hulle teë te kom, is soos om ‘n volmaakte koeplet raak te lees.
Soos wanneer die sonlig na ‘n gedempte, omgesukkelde dag skielik wonderwerklik deur die wolke val en die heuwels klee in ‘n juweelagtige klaarheid - ‘n edelgesteente van ‘n oomblik wat die landskap se palet vernuwe en in nuwe fasette onthul. Of die delikate geel satyn van ‘n klos affodille - hulle is nog nie almal uitgeblom nie - teen die growwe, leikleurige tekstuur van ‘n klipmuur. Of die uitsig van hoog teen Haystacks op verre groen hange waar skape wei in lukrake patrone, soos wit miere. Of die blik van Catbells se hang op die glinstering van Derwentwater met die skemer kolle van sy beboste eilandjies waarheen heilige kluisenaars en gevalle aristokrate deur die eeue om die beurt uitgewyk het. Of die dartelende, bruisende gesang van die stroompie onder die hobbelbruggie by Ashness en die uitgelate goue jubeling van steekbrem - gorse vir die Engelsman - wat die kloustrofobiese hemel uitdaag. When the gorse is out of bloom, kissing is out of season, lui ‘n Engelse spreuk, want die plant blom heeljaar - maar nooit met soveel uitbundigheid as in hierdie lenteseisoen nie.
Of die digterlikheid waarmee die klipkerkie van St. Bega in die middagsonnetjie hurk tussen die hang van Skiddaw en die waters van Bassenthwaite-meer. Een van Wordsworth se opvolgers as koningin Victoria se hofdigter, Alfred, Lord Tennyson, het die inspirasie vir die vroeë reëls van sy gedig Morte d’Arthur in hierdie toneel gevind:
a chapel nigh the field,
A broken chancel with a broken cross,
That stood on a dark strait of barren land.
On one side lay the Ocean, and on one
Lay a great water, and the moon was full.
En tussen hierdie tonele van skoonheid, die patrone, is die ritmes van die lewe. St. Bega staan in die weiland tussen die beskeie herehuis van Mirehouse en die meer. Hy word bewaak deur twee dosyn slippedraers van verweerde grafstene - die mosbegroeide laaste mylpale van lewens deur die eeue in hierdie landskap. In die kerkie self - ‘n klein, intieme bidplek van afgewitte binnemure, muwwe houtbankies en helder brandglas - is die plaaslike priester besig om ‘n verloofde paartjie voor te berei vir hulle huwelikseremonie. Die bruidspaar is jonk en verleë tussen hulle twee families en strooijonkers en bruidsmeisies. Ongemaklike kwinkslae klink op uit die groepie van seker so vyftien, terwyl die priester beduie wie moet waar sit en staan en hoe die diens gaan verloop.
Later kom ons buite, in die golwende weiding tussen herehuis en meer, ‘n familie teë wat ‘n Paasfees-verwante eierspel van hierdie omstreke speel: drie geslagte gooi gekookte eiers met ‘n boog na ‘n teiken op die sagte weigras - ‘n soort boules. Alom wei skaapooie, party nog swaar dragtig, party met een of twee lompe lammertjies agter hulle spene aan. ‘n Klein seuntjie - ons s’n - kruip vervaard en vergeefs agter ‘n ooi-en-lammetjie aan op sy eie ontdekkingstog deur die lewe.
So speel die rites van die lewe hulle af, elk so broos, so verganklik, soos ‘n affodil in die lente. Die landskap van die Meredistrik is ‘n tydlose agterdoek vir hierdie tydgebonde dramatjies en dit is asof die vastigheid van daardie landskap die vlietende oomblik belig en verskerp. Geen skrywer het ‘n nouer band met hierdie landskap gehad as Wordsworth nie en een van die vreugdes van sy digkuns is sy vernuf om in die tydlose landskap en ritmes van die seisoene betekenis vir die hiér en nou te sien en oop te skryf. Op ‘n wyse wat self vry staan van die bande van tyd - om my te laat sien soos hy twee eeue gelede gesien het, en self saam met my te kyk.
 Wordsworth se graf in Grasmere
© André Pretorius
Grasmere
April 2012
Sunday, April 22nd, 2012

Vergeet-my-nietjies plaat blou onder die mos-oortrekte stamme. Rietpypies swaai hulle kwassies fraai-fraai in die ligte lentewind. Viooltjies staan kordaat orent soos sappige miniatuur Stradivariusies. Baie blou. En wit, natuurlik. Soos die gaasige bloeisels op die pruimbome. Op die kersiebome en amandelbome. Daar is besige bye om die botsels en nuutgevlegte neste in die oksels van die bloureënlote. Die eerste tulpe skreeu met bloedrooi sloerielippe die dag vaarwel. Daar is ‘n handvol stomende aspersies op by bord in die agter-kombuis.

Na die wasgoedwaterbloudae van die winter is die vierde maand ook ‘n tyd van terugkyk oor die skouer. Om met ‘n brandende hart verloopte liefdes uit die gisters terug te roep. Die gang van die lewe in oënskou te neem - die lief en die leed - om met oorgehaalde ywer die lewegewende lente tegemoet te loop.
April is die maand wat opgedra word aan Afrodite, maar as jy ‘n Romeinse kronometer het - dan behoort die maand April aan Venus. Daar bestaan soveel uiteenlopende vertolkinge rondom die ontstaan en etimologiese oorsprong van die skone Afrodite dat mens skoon lighoofdig kan raak - en dit sonder enige gulsige slukkies eau de vie of afrodisiakum. My gunsteling, effe benede-die- gordel-verduideliking, word uit toeka se dae oorvertel, dat die beeldskone godin haar ontstaan te danke het aan die dobberende en skuimende geslagsdele van die god Uranus. Die tragedie het na ‘n woeste struweling tussen Cronus en Uranus plaasgevind. Eersgenoemde het die verdwaasde Uranus glo op ‘n onbehoede oomblik tydens die geveg gekastreer en sy goed bedeelde parte in die golwende see gewerp! Dit kom daarvan om kort geplooide skirtjies tydens butch gevegte te dra.
When in Rome
Rompies moes hulle dra
want Aleksander het gevra.
Die dye van Hefaistos
het hom in die nag gepla
en:
Aphrodite Kallipygos
Die hart (hoewel gestileer),
universeel simbool
van liefde, is op die heuwels
van die boude gebaseer.
© Weerlig van die ongeloof Johan de Lange Protea Boekhuis 2011
Uit dobberende skuim en drywende dele is die skoonheid onverklaarbaar, en sonder groot seremonie, verwek. Sommer so volgroeid en volwasse het sy daar op die strand van Paphos aangekom - viets en vroom op ‘n reuse kammosselskulp. Nie ‘n haar op haar hoof uit plek nie!
 Geboorte van Venus. William-Adolphe Bouguereau. 1879
Afrodite is nie uitsluitlik die godin van liefde nie, maar onder andere is sy ook die skikgodin van voëls. Alle soorte voëls - kuifreiers, kraaie en korhane, kokkewiete, kropduiwe en kwikkie kuikens. Maar veral vir ‘n swaan is sy bitter lief. As ek aan swane dink fladder ‘n swerm migrerende woorde voor my uit die vlakwater op.
Uit Marlene van Niekerk se: © Die sneeuslaper. ( Human en Rousseau 2009) Uit die eerste hoofstuk getiteld Die swanefluisteraar, bl.21.
…Ek het gekyk na waar hy kyk, na die rimpellose water onder die brugboog. Wat sou hy daar sien?
Hy het regop gekom, steeds prewelend, sy hande in die lug, soos ‘n dirigent voor die inval. En toe gee hy die eerste pols. En daar, van onder die brug, swem twee swane op hom af, majestueus, met getoonde nekke, asof hulle aan hom behoort.
Dit was asof ek vir die eerste keer gesien het wat ‘n swaan is: pluimedos van melkwit glas, ‘n nek geblaas in ‘n droom van vuur, ‘n vaas wat vaar, dig aan sy weerkaatsing vas, ‘n tweeling gemasker, bors aan bors gebind in ‘n dans, ‘n donker musiek in die webbe.
Die swaneroeper het sy bondel losgeknoop en ja, lees maar, daar staan presies net wat daar staan, professor, ‘n touleer uitgehaal waarmee hy homself neergelaat het tot op die dek van ‘n seilbootjie wat daar vasgemeer was teen die kade.
‘n God in die wieg van die witbevrore môre.
Op sy maag, met sy hande uitgesteek oor die water, het hy die voëls aangehaal, hulle kwaste kwispelend, hulle koppe digby syne. Orfeus aan die oewer. Dat ek met my vinger in my skamel asem skryf, een reël van ‘n vergete digter en dat dit oorspring van raam tot wal en ‘n swanefluisteraar oplewer? Van sulke toeval is die hart verruk.
Van sulke woorde is die hart verruk. Van voëls en verrukking gepraat:
optelswaan
Marlene van Niekerk*
pluimdos van melkwit glas
nek geblaas in ‘n droom van vuur
‘n vaas wat vaar
dig aan sy weerkaatsing vas
gemaskerde tweeling
in ‘n dans gebind bors aan bors
donker musiek in die webbe
van sulke toeval is die hart verruk
*” Gedigte is soos voëls, hulle migreer oor die grense van mense heen asof die grense nie bestaan nie.” ( T.T. Cloete: Die Burger, 9 Desember 2010)
© stigmata tom gouws Human & Rousseau 2012
April is ook die maand waartydens kinders en leepoog verliefdes margrietjie- kransies maak. ‘n Mooi legende wil dit hê dat die margrietjie ontkiem en begin blom het waar die trane van ‘n bewoë Maria Magdalena op die dorstige aarde geval het. Verliefdes probeer vandag nog die toekoms inkyk deur die blommetjie se kroonblare een vir een uit te pluk: she loves me, she loves me not…
Die onsekerheid, die ewige vrae waarmee die liefde ‘n mens soms opsaal:
hoekom reik jy jou hand
hoekom reik jy jou hand
uit na my
reik jy jou hand uit
uit na my hand se jy
reik jy my ruik
my reik se reuk
my hand in jou hand
hoekom reik jy na my toe
waarheen gaan jy
met jou reikende hand in my
jou hand in my hand
my reik in jou reuk
waarheen vat jy my
hoekom vat jy aan my
se altyd buite bereik
bly
© wanpraktyk andries samuel gedigte Human & Rousseau 2011
Als is nie net maanskyn en rose in Aprilmaand nie. Kyk wat sê T.S. Elliot van die spulletjie:
1. The Burial of the Dead
April is the cruelest month, breeding
Lilacs out of the dead land, mixing
Memory and desire, stirring
Dull roots with spring rain.
T. S. Eliot The Waste Land, 1922
Op my boekrak is daar ‘n handvol nuwe digbundels wat my deur die wintermaande vergesel het. Van hulle ken ek intiem soos ‘n minnaar - kan uit hulle oopmond opsê- soos Juffrou Buitendach my in graad een aangepor het. ‘ Sê op jou versie kind! ‘ Een van my gunsteling Amerikaanse digters is Dorianne Laux.
WHAT’S BROKEN
The slate black sky. The middle step
of the back porch. And long ago
my mother’s necklace, the beads
rolling north and south. Broken
the rose stem, water into drops, glass
knob on the bedroom door. Last summer’s
pot of parsley and mint, white roots
shooting like streamers through the cracks.
Years ago the cat’s tail, the bird bath,
the car hood’s rusted latch. Broken
little vinger on my right hand at birth-
I was pulled out too fast. What hasn’t
been rent, divided, split? Broken
the days into nights, the night sky
into stars, the stars into patterns
I make up as I trace them
with a broken-off blade
of grass. Possible, unthinkable,
the cricket’s tiny back as I lie
on the lawn in the dark, my heart
a blue cup fallen from someone’s hands.
Facts About The Moon Dorianne Laux W.W. Norton & Company 2006
en:
DARK CHARMS
Eventually the future shows up everywhere:
those burly summers and unslept nights in deep
lines and dark splotches, thinning skin.
Here’s the corner store grown to a condo,
the bike reduced to one spinning wheel,
the ghost of a dog that used to be, her trail
no longer trodden, just a dip in the weeds.
The clear water we drank as thirsty children
still runs through our veins. Stars we saw then
we still see now, only fewer, dimmer, less often.
The old tunes play and continue to move us
in spite of our learning, the wraith of romance,
lost innocence, literature, the death of the poets.
We continue to speak, if only in whispers,
to something inside us that longs to be named.
We name it the past and drag it behind us,
bag like a lung filled with shadow and song,
dreams of running, the keys to lost names.
The Book of Men Dorianne Laux W.W. Norton & Company 2011
Die jong bekroonde Engelse digter, Jacob Polley geniet welverdiende aandag met twee digbundels, THE BRINK (2003), Little Gods (2006) en vir sy skitterende debuut-roman Talk of the Town (2010).
 Jacob Polley
April
Now there is only the sound of the rain
which is the shape of the streets and the ropes
of overflow knitting at the mouths of drains
and frying from the gutters and the downpipes.
Whatever the leaves were saying must wait:
rain has filled the trees with its own brisk word.
There’s thunder in the darkened slates.
The pond’s green eye rolls heavenwards.
You can’t charge a page with the hiss, with this
cooling of the city like a new horseshoe.
Rain in the hair, at the neck and the wrists:
for rich and poor, there’s rain to hurry through.
The boil and spit of pavements: mirrored brick.
Every patch of grass is fiercely lit.
© Little Gods Jacob Polley Picador 2006
Afrodite metamorfoseer oor die Etruskiese periode na ‘n skitterende Venus tydens die Romeinse Ryk. So helder flikker haar liggies dat die aanbiddende mensdom die tweede helderste planeet, naas die maan, na haar vernoem. Venus gloei op haar helderste net voor sonsopkoms en net na sononder. So word sy dan ook die beminde Oggend- en Aandster van die hemeltrans. Venus is so liggewend dat sy ‘n skaduwee kan werp. Is jou lig helder genoeg om ‘n skadu te gooi?

Agape
Die droom vou weids
uit die donker oop-
pinsbek dagbreekuur.
Die landskap sing van
blou bieseroeibosse.
In die koelgewaaide skadu
van ‘n helder baldakyn
voer ek jou lippe
soet ronde korrels
barlinkadruif,
granaat en vy.
Beheks deur purper kruike
koue ambrosyn
sweer ongierig trou.
Venus lag hierop
hardop,
laat haar aandster bibber.
Appelmotte vlieg benepe rond,
maraboe sluk die spikkelslang
en ons gaan lê belief
waar die bergpruim blom.
© Tempermes LJvV Queillerie 2010
 Hope Diamant
Die diamant is April se towersteen. Geliefdes skenk ruimhartig, soms ook ‘n bietjie teensinnig, vermoed ek, ‘n diamant as simbool van suiwer en ewigdurende liefde. Dit moet oor die regte helderheids-graad beskik. Ten minste in die F-kategorie. Die klip moet ook voorts gewigtig wees , die kroonhoeke en paviljoendiepte moet ʼn innerlike lig uitstraal.( ‘n Skaduwee kan gooi!) Nie dat ek dink die liefde nie suiwer of ewigdurend wil wees nie- ek bly maar skrikkerig vir die sogenaamde eeu -oue vloeke wat oor sekere diamante vertoef. Dink maar aan ‘n paar van die grotes, die Hope -diamant, die Orloff -diamant, die Lepelmaker-diamant en die Klopmans-diamant. ‘n Oulike relaas oor die Klopman-diamant-vloek lui soos volg. ‘n Reisiger beland oorkant Mev. Klopman die Derde op ‘n Concord vlug tussen Parys en New York. Hy merk die gewigtige klip aan haar mooi versorgde ringvinger en vra ewe hand- om -die -blaas aan haar:
” Mevrou Klopman is dit waar dat daar ‘n onrusbarende vloek oor jou vleklose steen hang?”
Die bouffant kop met die Dior sonbril draai elegant na die afwagtende reisiger en antwoord met karmosynlippe:
” Dit is inderdaad waar dat daar ‘n bose vervloeking saam met die rare juweel kom -dis Meneer Klopman.”
So often, are you as a blazing torch with flames
of burning rags falling about you flaming,
you know not if flames bring freedom or death.
Consuming all that you must cherish
if ashes only will be left, and want Chaos and tempest
Or will the ashes hold the glory of a starlike diamond
The Morning Star of everlasting triumph.
Ashes and Diamonds Cyprian Kamil Norwid 1821-1883
April se dae is amper getel. Die lentereëns val en in dieperige tuin stuwer botsels oop. Oop op my tafel, onder die venster, onder die dakbalke, lê Joan Hambidge se nuwe bundel, Lot se Vrou. Oop.

Lot se vrou
Snags keer hulle terug,
die verlore geliefdes
in my troebel drome.
My eerste groot geliefde,
‘n Medusa, lag grys en bitter
oor my donker woorde.
Kriptomnesia, skel sy:
alles wat jy skryf reeds elders op-
geteken. In drome word jy
ge-Delmore Schwartz, ge-Delmore Schwartz.
O ek is Lot se vrou,
Lot se vrou,
wat terugkyk na die hart wat brand.
Die ander onwillige muse
hou glo ruggespraak oor ons,
verklap aan almal hoe slordig
aanmekaar gestik is my gedigte.
O, ek is Lot se vrou,
Lot se vrou,
wat luister hoe my woorde smeul.
Die ander een
ja, sy die donker skikgodin,
het my in die openbaar verguis,
my woorde, liefdeswoorde verpand
om haar nie-aandadigheid te bewys.
oor haar droom ek nooit.
O, ek is Lot se vrou,
Lot se vrou.
© Lot se vrou Joan Hambidge Human & Rousseau 2012
 Delmore Schwartz
Calmly We Walk Through This April’s Day
Calmly we walk through this April’s day,
Metropolitan poetry here and there,
In the park sit pauper and rentier,
The screaming children, the motor-car
Fugitive about us, running away,
Between the worker and the millionaire
Number provides all distances,
It is Nineteen Thirty-Seven now,
Many great dears are taken away,
What will become of you and me
(This is the school in which we learn…)
Besides the photo and the memory?
(…that time is the fire in which we burn.)
(This is the school in which we learn…)
What is the self amid this blaze?
What am I now that I was then
Which I shall suffer and act again,
The theodicy I wrote in my high school days
Restored all life from infancy,
The children shouting are bright as they run
(This is the school in which they learn . . .)
Ravished entirely in their passing play!
(…that time is the fire in which they burn.)
Avid its rush, that reeling blaze!
Where is my father and Eleanor?
Not where are they now, dead seven years,
But what they were then?
No more? No more?
From Nineteen-Fourteen to the present day,
Bert Spira and Rhoda consume, consume
Not where they are now (where are they now?)
But what they were then, both beautiful;
Each minute bursts in the burning room,
The great globe reels in the solar fire,
Spinning the trivial and unique away.
(How all things flash! How all things flare!)
What am I now that I was then?
May memory restore again and again
The smallest color of the smallest day:
Time is the school in which we learn,
Time is the fire in which we burn.
© New and Selected Poems Delmore Schwartz Doubleday & Company 1959
Terug by Marlene van Niekerk se Sneeuslaper:
En hoe klink swanetaal?
Rie mrie,rapuu,
kriep, !tewiek, miruu,
tohoe wa bohoe,
askla mor usa,
pierokgriemok sklahoe
***
/ # ! / / O *
wind woel die melkweg toe
ver wolke vat vlam
buierig reën stort later neer
met die klapklank van inheemse taal
grondbestandele van aarde en klip
wat losspoel tot water
© eggo’s in bewolkte water Mari Grobler Protea Boekhuis 2004
Meimaand wink uitlokkend in die voorhuis. Die reuk van lelie-der-dale hang swaar in die gang, op die wind se asem ruik ek heuning. Bye wat stuifmeel steel vir die soet wat later kom.

A Jar of Honey
You hold it like a lit bulb,
a pound of light,
and swivel the stunned glow
around the fat glass sides:
it’s the sun, all flesh and no bones
but for the floating knuckle
of honeycomb
attesting to the nature of the struggle.
© The Brink Jacob Polley Picador 2003

Sunday, April 15th, 2012
Die vrou onder my bed begin my lei in my navorsing.
“Jy moet met my ou kennis, Riva Rubin, ‘n onderhoud gaan voer - sy sal jou baie dinge kan verduidelik,” fluister sy.
Ek bel Riva. Sy is besig - ek moet later weer bel. Ek probeer later - sy versorg die proewe van haar nuwe boek. Drie jaar later se die vrou onder die bed, “Bel weer, maar benader haar die keer anders - sê vir haar…”
En so gebeur dit dat ek my die ander dag bevind in Bilu Straat in sentraal Tel Aviv. Dit grens aan die hartjie van toeriste Tel Aviv, maar geen toeriste sal hul ooit daar bevind nie. Die straatjies is nou, die woonstel blokke lyk eenders en dikwels verwaarloos, want die woestynwinde wat in hierdie land waai bedek alles met stof. Maar klop aan ‘n deur en word ingenooi en jy bevind jou in ‘n ander wêreld. Miskien is dit in ‘n kunstenaarsateljee of in ‘n stukkie Berlyn of Vilnius of Cracow met swaar donker hout meubels en boekbelaaide rakke of dalk maak ‘n jong skryfster vir jou oop. In haar woon/skryfplek lê groot kussings bedek met Midde-Oosterse lappe op die vloer, ‘n rekenaar op die lessenaar en al die belangrikste skrywers uit Israel, Amerika en Europa in tweedehandse slapband uitgawes probeer om in stapels tussen die kussings op die vloer ‘n balans te handhaaf.
Riva maak vir my die deur oop. Sy’s kleiner, fyner as wat ek verwag het. Haar glimlag is groot en sy nooi my hartlik in. Voor my is ‘n ruim vertrek met ‘n studeerhoek aan die eenkant, gemaklike banke om ‘n koffie tafel in ‘n ander hoek en die eetkamer-kombuis in die derde hoek. Oral aan die mure hang kuns, skilderye, afdrukke, foto’s. Van dit erken ek, meestal nie. Sy stel my dadelik bekend aan die werk van haar ou vriend, Joram Kaniuk. Hy is ‘n Israeliese skrywer maar ook soms kunstenaar. Hier hang ‘n poster wat van dosyne vuurhoutjiedose gemaak is. Op elkeen het hy ‘n gesig geteken terwyl hy, soos die gewoonte in hierdie land is, in kafees koffie gedrink en gesels het. Hy’t hulle gehou en dit vorm die mees fassinerende collage van gesigte.
Riva bedien my tee, gemaak soos ons dit in Suid Afrika drink, sterk met melk, want Riva, soos Olga Kirsch, is ‘n dogter van Suid Afrikaanse immigrant Jode. Ook haar pa se familie kom uit Lithuania. Sy is in Johannesburg gebore en het daar grootgeword. Na matriek besoek sy Israel vir die eerste keer in 1949 as deel van ‘n Joods-Israeliese jeugprogram onder die beskerming van Betar. Sy keer terug na Suid Afrika waar sy haar onderwysopleiding voltooi aan die ‘Hebrew Teachers’ Seminary - “I got a good basis in Tenach!” Haar eerste man is op tragiese wyse in ‘n vliegtuigongeluk dood. Sy trou met haar tweede man, Harold Rubin, in Johannesburg in 1957 en uit hierdie huwelik is twee seuns gebore. Harold Rubins was ‘n bekende figuur in Suid-Afrikaanse kunssirkels wat sy verset teen Apartheid uitgeleef het as jazzmusikant - hy speel die klarinet - en na die Sharpeville onluste in a reeks sketse gewy aan die brutaliteit van Apartheid. Later doen hy ook in ‘n kunsprojek “My Jesus“. Dit lei tot inhegtenisname weens ‘n klag op godslastering, maar hy word in die hof vrygespreek. Kort daarna, in 1963, het hy en Riva Suid-Afrika verlaat en hul in Tel Aviv gevestig.
Riva vertel dat sy reeds van jongs af geskryf het- altyd in Engels. “I was born writing! Allow me to talk to you about poetry in poetry,” sê sy.
HOW THE BUTTERFLY GOT ITS COLOURS
She is eight, on the top step by the kitchen door.
The yard is cemented grey,
The shed is corrogated black, the door
and the window wood of the hut in the corner
are servant brown.
She will invent a butterfly. The first story.
“There’s a river, I dip watergreen on the wing tip.
There’s s thistle, I dab silvery purple on the throat.
There’s an orchard, I splash yellow and orange as I wish
on the back of my beautiful butterfly.
I take golden feelers from on high.”
She is eighty, behind the shutter, looking out.
An old white butterfly presents
itself on the windowpane.
Reeds in 1963 wen sy die Suid Afrikaanse PEN Sentrum Kortverhaaltoekenning. Tog is dit so dat sy, soos vele ander immigrant digters, ‘n groot gevoel van vervreemding beleef wanneer na sy in Israel aankom. Soos hulle staan sy voor die keuse om óf in ‘n landsvreemde taal te bly dig, d.w.s. in Engels in Israel, óf om te probeer aanpas en in Hebreeus te dig - ‘n oorgang wat sy, soos Olga Kirsch, besluit sy nie kan maak nie. Haar werk geniet sukses hier, maar dikwels as ‘n soort ‘tweederangse’ burger. Selfs na sy in 1999 die eerste Engelse digter is om met die Israelse Prys vir Letterkunde bekroon te word, word daar van haar gesê, “Sy’s ‘n goeie digter al is dit in Engels!” Haar werk herinner mens aan Elisabeth Eybers in die sin dat in haar gesprek met haar aangenome land sy haar moedertaal, Suid-Afrikaanse Engels, aanpas by die plaaslike kultuur en beeldspraak. Net soos die Nederlandse invloed hoorbaar in Eybers se Afrikaans is, so is die Hebreeus-Israeliese invloed aanwesig in Rubin se poësie.
THE SILENCE
In the inexplicable silence at the heart of my life,
I‘ve shielded my cheeks in a locust storm
I’ve crouched in long grass in my father’s dark night
I’ve touched the blood on my mother’s mouth
I’ve heard the lion’s brusque cough in the bush
I’ve seen my two sons to war
I’ve watched the wall of my house billow inward
I’ve looked into my black dog’s eyes through a gasmask,
in the inexplicable silence at the heart of my life.
In hierdie gedig uit haar nuutste versameling¹, wat vroeër vanjaar gepubliseer is, is die beelde van Afrika en Israel intiem verstrengel. Terwyl Riva diep betrokke is by die kulturele lewe van Israel, het sy nie haar geboorteland vergeet nie. Sy is in kontak met skrywers en die Joodse gemeenskap daar. So byvoorbeeld lewer sy in 2005 die Inleidende Lesing, tydens die Konferensie oor minderheidsliteratuur aan die Universiteit van Kaapstad. In Israel speel sy ‘n kardinale rol in die stryd om die herkenning van minderheidstale in ‘n Hebreeus dominante kultuur en was sy ‘n stigterslid van die ‘Israel Association of Writers in English’ waar sy ook vir etlike jaar as voorsitter gedien het.

Ons gesels soos twee vrouens wat mekaar al lankal ken - oor ons kinders, oor ons ouers, my pa uit Berlyn, haar ma uit Vienna. Sy lag lekker as sy sê dat sy my aksent geniet: “It’s home!” Dit lei spontaan tot die issue rondom die keuse van taal - Riva spreek Hebreeus vlot. Sy vul haar inkomste aan deur uit Hebreeus na Engels te vertaal.
“Hoekom kon iemand soos Aron Appelfeld die sprong van sy moedertaal tot Hebreeus maak, maar skrywers en veral digters soos jy en Olga Kirsch nie?” wil ek weet.
“In my opinion the Europeans, but more so the Russians had the culture,” verduidelik sy. “The Hebrew writing of those generations had very little to do with Hebrew, it had more to do with… they brought the idiom from overseas and they made it the idiom here. If was not just writing in Hebrew, but if you didn’t write in Hebrew like the Russians wrote in Hebrew you didn’t stand a chance. It was writing in a certain manner, in a certain voice. Bialik’s Hebrew was very beautiful but it had more to do with Poland or Russia or wherever he came from than it had to do with here. That’s what I’m teasing him about in my little poem.”²
BIALIK’S BIRD AT MY WINDOW
Little birdie at my window
teases me in Hebrew
tsuktsik, tsutsik
he calls me small fry - I
don’t write about him in Hebrew
like Bialik, but I
did make the journey.
Soos ons kuier en gesels, begin ek dinge verstaan wat vir my tot noutoe onseker was - dinge rondom immigrant wees en skrywer wees en vrou wees. Dinge waaroor ek mooi sal moet dink voor ek verder kan skryf.
¹Al drie Gedigte kom uit haar nuwe bundel: Rubin, Riva. Bialik’s Bird. 2012 KESHEV Publishing House, Israel.
²Hierdie is ‘n direkte kwotasie wat ek digitaal opgeneem het en nie graag sou wou vertaal nie.
Wednesday, March 21st, 2012
So drie jaar gelede het ‘n vreemde vrou onder my bed ingetrek. Al was sy onbekend aan my het ek haar genooi. Ek het ‘n kontrak met haar gesluit - ek sal haar weer onder die aandag van haar gehoor bring, sy sal haarself aan my bekend maak - sy sal my lei om van haar geheime te ontdek. Niemand vertel ‘n ander al hul geheime nie, maar as mens ‘n vertrouensverhouding kan opbou, dan deel jy tog ‘n paar van jou geheime met ‘n vriendin.
Toe ek haar ingenooi het, het ek min van haar geweet - Jodin, digteres, Vrystaat gebore, in Israel gewoon en gesterwe. Haar naam - Olga Kirsch. Sy’t my glad nie geken nie, maar haar suster en twee dogters, na ek hulle opgespoor het, het namens haar opgetree. Hulle het besluit Olga sal my probeer vertrou.
Al waarmee sy onder die bed ingetrek het, was een bundel gedigte: Mure van die Hart, gepubliseer in 1948. Die het ek by my ma geërf en sy by haar tante wat nie ver van Olga se geboortedorp gewoon het nie. Die tante, Sussie Buckle, het op Kroonstad drama doseer. Met die bundel as inspirasie moes ek begin soek - die internet het nie veel opgelewer nie - een kort Wikipedia berig. Toe google ek haar man - Prof Dr Joe Gillis, wiskundige. Die inligting het ek in die Wikipedia-artikeltjie gevind. Joe lei my na Ted, medewiskundige wat aan Joe ‘n huldeblyk geskryf het. Ted lei my na ‘n fisikus, die fisikus lei my na Prof Ada Zohar, sy nooi my om haar in persoon aan haar tante se huis Olga se jonger suster te kom ontmoet. Ada is Olga se jonger dogter. Een ding lei na ‘n ander en voor ek my kom kry plaas Olga fotokopieë van haar ses ander bundels langs Mure van die Hart onder my bed.
“O terloops,” sê Janette die jonger suster van Olga, “hier is ‘n ongepubliseerde manuskrip maar dis Engels.” Ons maak ‘n kopie en ek gaan lê bo-op die bed met die Engelse manuskrip, Nevertheless. ‘n Lang epiese gedig oor die aankoms van die nuwe immigrante uit oorlog-verskeurde Europa. Dis by tye aangrypend, by tye hartverskeurend, selfs soms regtig amusant veral as mens Israel ken. Die manuskrip gaan kruip onder die bed in langs haar Afrikaanse sussies. Ons probeer vasstel wie is ouer.
Die soektog duur voort. John Kannemeyer, nog fiks en flink, besig met John Coetzee, antwoord al my vrae en verwys my na Daniel Hugo. “Daniel weet meer as enigiemand anders in Suid Afrika oor Olga - praat met hom,” stel groot John voor. “O ja en jy moet met Lina ook praat,” voeg hy by.
Daniel help, gee raad, stuur fotokopieë van allerhande artikels en weier dat ek hom betaal daarvoor - “Skryf net asseblief ‘n biografie oor Olga - ons soek nie nog ‘n doktoraal nie,” is al wat hy vra.
Lina vra niks, gee niks. “Ek skryf my eie memoir oor Olga,” sê sy, “dus kan ek nie my materiaal deel nie!” Stilte. “In elk geval gaan jy seker in Ingels skryf,” voeg sy verwytend by.
Die soektog gaan verder.
Ek gaan gereeld vir Janette in Haifa kuier. Ons raak bevriend en die vrou onder my bed versamel al hoe meer besittings. Nou het sy al ‘n stapel foto’s - van haar kinderdae, van haar ma en pa, haar broers en susters. Ek ontmoet haar niggies en een nefie, gaan kuier by haar skoonsuster.
“Kom kuier in Jerusalem,” sê haar dogter Ada, “my ma het baie van haar gedigte na Engels vertaal.”
Judy en ek gaan na Jerusalem. Ada oorhandig ‘n pak vertalings. Judy begin hulle afneem sodat ek kopieë sal hê. Ek begin lees - ek raak al hoe meer opgewonde. Ada hou my gesig dop. “Ag sê tog iets,” pleit sy terwyl ek al hoe breër glimlag.
“Hier’s nie een vertaling by nie - dis alles oorspronklike gedigte,” sê ek. Ons tel vinnig - seker dertig of meer. Ada lees voor:
Thorns and Thistles
Their beauty is not
in the greenness and succulence
of summer,
but in the meagerness of season’s end
when rigid, grey, dry to the very pith
robbed of corolla and colour’s camouflage
each etches with a fine style on air
the delicate skeleton
of its florescence.

“Besef jy hoe lief my moeder die natuur gehad het?”
“Dis tog duidelik uit baie van haar Afrikaanse gedigte,” vertel ek haar dogter wat geen woord Afrikaans verstaan nie. “Sy’t ook ‘n sagte plekkie vir ons tuisgebied gehad,” voeg ek by.
“Wel, sy’t amper daar gaan woon,” se Ada. Dis waar. Die feite ken ek al. Ek weet sy was lief vir Galilea en daarom nooi sy haar geliefde man om saam met haar weer daar te gaan kuier.
Kom, my beminde, laat ons ry
ver van die laagland langs die kus
waar saans en soggens roetswaar mis,
die einder grimmig verf; verby
fabrieke en teer-versmoorde grond
wag van die Middellandse See -
Saffo se glasklaar see, nou mond
gedwing om slyk en vuil te sluk,
al die uitwerpsels van die land,
totdat die troebel dieptes ruk
en vullis uitbraak op die strand.
Laat ons opgaan na Galilea,
klim tot die lelike en die groue
wegduik agter blou heuwelvoue:
Hoogte - swart skagte kloof aan kloof,
stilte-insekgebrom verdoof,
vry aarde nooit getem deur teer,
bome wat op die rante buk
voor wind wat slegs berge keer,
wolke alleen tuur op ons neer.
Saans, omgeskep deur ruimte en lug
keer ons tot vreemde kamers terug
en reik in blinde oergebaar
arms en lippe vir mekaar.
Buite die skemerige gordyn
rankende takke van die Tuin.
(Ruie Tuin, 1983 p7)

Sunday, March 11th, 2012

Die Koreaanse winters is koud teenoor ons Suidelike Somer
Die wind waai knersend soos skerp tande en beseer jou
hande en lippe en droog jou siel uit soos ‘n uitgemergelde lap.
Son is traag om uit te kom en wys die vuil uit in die lug.
Die Suid Afrikaanse somer is wildwarm en met musiek gepeper.
Ek mis dit nogal hier in my kokend verhitte Koreaanse kantoor.
Inspirasie kom makliker op De Rust waar soggens ‘n koor stemme
Uit die bome jou wakker sing, die stilte hier laat my voel ek
het aangekom aan die einde van die wereld om agter te kom,
elkeen is alleen, uiteindelik soos Koos Du Plessis gesing het.
Dis nie lekker om huis toe te verlang nie, maar dan te onthou
Wat sal mens doen vir werk? Geld het so sentraal geword tot oorlewing.
Hier is die ingewings wankelrig en slaan verveling plek plek uit om
met ‘n konformerende koor te sing in ‘n aan die slaap rakende lied.
Ja. Nee. As mens nog Afrikaans wil wees in die wereld, dan moet jy
leer, konformeer, en sterk staan teen die verweer.
Tuesday, February 28th, 2012

Menswees behels ‘n komplekse samespel van neurologiese prosesse wat ons interaksie met die omgewing (wat natuurlik ander mense insluit) bepaal. So deur die jare het ek in my daaglikse doen en late agtergekom hoe belangrik geheue is en hoe ons dit as vanselfsprekend ervaar, iets waaraan ons eintlik nooit dink nie - ‘n modaliteit van ons menslikheid, integraal tot dit wat ons is en hoe ons ons lewens ervaar. Sonder geheue is ons niks, ‘n blote versameling selle wat nog doelloos bly metaboliseer sonder dat die: “eienaar” van die selle enigiets onthou van die verlede, al die vreugde en verdriet, die hoop en wanhoop, die geselskap van ‘n geliefde, die omhelsing van ‘n kind, die skoonheid van ‘n sonsondergang of die sensuele genot van die liefdespel.
Ek sien ten minste een of twee keer per week pasiënte wat nie weet wie hulle is of waar hulle is nie, mense wat hul gades en kinders nie herken nie, verwese ou mense in die greep van Alzheimer se siekte. Soms is hulle aggressief, soms skytbang vir als wat rondom hulle gebeur. Ek onthou die tannie wat ‘n paar weke gelede, toe ek haar pre-operatief wou ondersoek, my met haar dun, beaarde vuisies geslaan het sodat ek nie eers naby aan haar kon kom nie. Vir mense soos hierdie is die lewe iets afgrysliks - en vir ons wat hulle moet behandel, is sulke situasies nie juis veel beter nie. Wanneer ek ‘n tannie van 92 met Alzheimers, iskhemiese hartsiekte, hartversaking, hoë bloeddruk, diabetes en nierversaking veilig deur haar narkose en chirurgie kry is dit wel uit ‘n professionele oogpunt ‘n uitdaging wat my satisfaksie gee maar ek kan nie juis sê dat ek aan die einde voel dat ek iets betekenisvol uitgerig het nie. Niks wat ons vir haar gedoen het gaan haar geheue terugbring nie, haar lewe gaan na die tyd net so leeg, betekenisloos en sonder herinneringe wees soos voorheen. Studies het getoon dat sulke pasiënte wat major chirurgie ondergaan oor die algemeen binne ses tot nege maande na sulke chirurgie sterf, en dan nie weens die gevolge van die siekte waarvoor hulle geopereer is nie.
My eerste kennismaking met geheueverlies was in my vyfde jaar as mediese student toe ek my psigiatrie-inwoning by die Oranje Hospitaal, die psigiatriese opleidingshospitaal in Bloemfontein, gedoen het. Een van die eerste pasiënte wat aan my toegeken is, was ‘n baie aangename omie wie se naam ek nou nie meer kan onthou nie - ‘n afgetrede jokkie met Korsakov-sindroom. Hierdie toestand is ‘n onomkeerbare breinsiekte wat die gevolg is van alkoholverslawing, essensieel te wyte aan ‘n gebrek aan tiamien (vitamien B1). ‘n Baie aangename oom, maar hy het geen, soos in geen, korttermyngeheue gehad nie. Hy kon als onthou tot min of meer die tyd toe die siekte sowat dertig jaar tevore toegeslaan het, maar het geen benul gehad van wat gister gebeur het nie.
Ek dink dat meeste besoekers en bydraers tot Versindaba seker al Oliver Sacks se boek The Man Who Mistook His Wife for a Hat gelees het. Ek het nie die boek byderhand nie, maar ek onthou dat hy in daardie boek iemand met korttermyngeheueverlies beskryf het en dat die persoon by navraag aan hom iets gesê het soos: ek voel al vir baie jare asof ek nie leef nie.
‘n Familielid van my - kom ons noem haar A - het Januarie verlede jaar ‘n breingewas ontwikkel. Haar langtermyn geheue is intak en sy onthou als tot en met Januarie 2011. Haar korttermyngeheue is egter daarmee heen. Haar suster - kom ons noem haar B - het my die volgende vertel: B gaan besoek A en hulle sit en gesels. Na ‘n tyd staan A op en sê sy gaan gou badkamer toe. Twee minute later keer sy terug, sien haar sussie B op die bank sit en sê jislaaik B, ek is so bly dat jy kom kuier het, wanneer het jy opgedaag? Sy kan nie eers onthou dat sy haar sussie twee minute tevore gesien het nie.
Die neurobiologie van geheue is besonder interessant maar ek gaan nie daaroor uitwei nie want ek dink nie dat die lesers van Versindaba dit so boeiend soos ek sal vind nie. Laat ek volstaan met ‘n gedig deur Wislawa Szymborska wat als oor geheue vertel, net so indringend soos enige neurobioloog.
Hard Life with Memory
I’m a poor audience for my memory.
She wants me to attend her voice nonstop,
but I fidget, fuss,
listen and don’t,
step out, come back, then leave again.
She wants all my time and attention.
She’s got no problem when I sleep.
The day’s a different matter, which upsets her.
She thrusts old letters, snapshots at me eagerly,
stirs up events both important and un-,
turns my eyes to overlooked views,
peoples them with my dead.
In her stories I’m always younger.
Which is nice, but why always the same story.
Every mirror holds different news for me.
She gets angry when I shrug my shoulders.
And takes revenge by hauling out old errors,
weighty, but easily forgotten.
Looks into my eyes, checks my reaction.
Then comforts me, it could be worse.
She wants me to live only for her and with her.
Ideally in a dark, locked room,
but my plans still feature today’s sun,
clouds in progress, ongoing roads.
At times I get fed up with her.
I suggest a separation. From now to eternity.
Then she smiles at me with pity,
since she knows it would be the end of me too.
(Wislawa Szymborska. Vertaal deur Clare Cavanagh en Stanislaw Baranczak)
Monday, February 27th, 2012

Woordfees-gas: Wie is Leonard Nolens?
Leonard Nolens is die pseudoniem van die Vlaamse digter en dagboekskrywer, Leon Helena Sylvian Nolens. Hy is op 11 April 1947 in die Belgies-Limburgse dorpie Bree gebore. Na skool het hy aan die Hoger Instituut voor Vertalers en Tolken in Antwerpen gaan studeer. In 1968 verhuis hy na Antwerpen waar hy as vryskut vertaler begin werk. Vanaf 1969 tot 1973 was hy redakteur van die eksperimentele tydskrif Labris.
Nolens voldoen aan die klassieke beeld van die eensame digter. 40 jaar lank al skuif hy soggens agter sy rekenaar in om te skryf. Hy het nooit ‘n voltydse beroep gehad nie, al wou hy dit graag hê. Skrywerskap was nie vir Nolens ‘n doelbewuste keuse nie, maar eerder ‘n keuse deur eliminasie van ander beroepsmoontlikhede. Hy gewaar by homself ‘n gebrek aan sosiale intelligensie, waarskynlik as gevolg van vereensaming. Hy is sku. Hy praat moeilik oor sy werk, want (soos hy in ‘n onderhoud sê): “je bent eigenlijk je werk”.
In 1969 debuteer Nolens met die digbundel Orpheushanden by Uitgewery Querido. Dit was die eerste van vier-en-twintig digbundels en vyf dagboeke wat oor ‘n tydperk van twee-en-twintig jaar by Querido sou verskyn. Die soliede manier waarop Querido sy skrywers ondersteun, is bewonderingswaardig. In die publikasiewêreld van vandag is dit byna lewensvreemd.
Vir Nolens - en dus ook vir Querido - kom die eerste formele waardering vanuit die breër leserspubliek met sy tiende digbundel. Hy verwerf met Liefdes verklaringen (1990) in Nederland die Jan Campert-prys en in België die Driejaarlikse Staatsprys. Sewe jaar later volg ‘n oeuvreprys, die Constantijn Huygens-prys (1997). ‘n Verdere tien jaar later verwerf hy die grootste poësieprys in die Nederlandse taalgebied vir sy digbundel Bres (2007): die VSB-Poësieprys.
‘n Eersteklas romantiese digter - dit is Nolens. Rym gebruik hy spaarsamig. Sy gedigte is liries en vry van vorm, sonder om ‘n hegte konstruksie in te boet. In 2007 was hy die digter van die Gedichtendag. In aansluiting daarby verskyn Een fractie van een kus met tien van sy gedigte. Hierdie gebruiklike Gedichtendag bundeltjie was egter te klein om Nolens se liefde vir reekse gedigte en siklusse uit te druk.
Die temas in Nolens se werk is so wyd soos die lewe self: liefde, identiteit, vriendskap, ouerskap, die vraende jeug, eensaamheid, afskeid, alkohol, God, geld en daardie droomvrou of -boek. Al hierdie temas vorm saam die konstruksie van ‘n asketiese skrywerslewe. Hy het nooit die gevoel dat hy êrens tuis is nie. “Ik ben niet van deze tijd”, sê Nolens in die reeds genoemde radio onderhoud.

In sy laaste bundel, Zeg aan de kinderen dat wij niet deugen (2011) vertel Nolens dat hy nie ‘n familieman is nie. In die res van die bundel worstel hy met die verhouding tussen sy geskrewe “ik” en sy skrywende “ik”. Hy maak ‘n eerbetoon aan die muse van alle skrywers wat deur die Behoud de Begeerte geïnspireerd is. As voorbeeld hiervan geld miskien die volgende gedig:
Oogopslag
Toen je me vroeg waarom ik van je hou
Heb ik het antwoord veertig jaar verzwegen.
Veertig jaar ben ik bij jou gebleven
Om geen antwoord op je vraag te geven.
Het staat in kringen om ons heen geweven.
Neergeschreven. Vrienden en vreemden weten
Wat ik veertig jaar niet heb begrepen.
Wat ik veertig jaar probeer te lezen
In een oogopslag en zijn vragende blauw.
(uit: Zeg aan de kinderen dat we niet deugen. Amsterdam, 2011)
In sy eensaamheid rig Nolens hom ook tot ander skrywersvriende soos Gerrit Kouwenaar, Anton Korteweg en Rutger Kopland en ook tot sommiges soos Joseph Brodsky, wat al oorlede is. Dit is almal liefdesverklarings waarin hierdie liriese, skrywende “ik” sy eie posisie teen ander skrywers afweeg. Aanvanklik het SKRYF miskien vir Nolens teen wil en dank ‘n manier van lewe geword. Hy hou dit ‘n lewe lank vol. “Heel ons leven pennen”.
Luister hier na ‘n besondere radiomoment tussen Leonard Nolens en Ruth Joos op die Belgiese Radio1:
http://www.cobra.be/cm/1.992066?view=popupPlayer
http://www.cobra.be/cm/cobra/boek/1.991959
Leonard Nolens lees sy gedig Vermoeidheid voor op Gedichtendag, 29 Januarie 2007:
http://www.youtube.com/watch?v=sYGXJw0HidM
Vir ‘n volledige oorsig oor Nolens se publikasies, besoek die web van Uitgewery Querido:
http://www.querido.nl/web/Auteurs/Auteur/Leonard-Nolens.htm
(deur Carina van der Walt)
Saturday, February 18th, 2012
The card you hold close to your chest: In intieme gesprek met die Britse digterspaar Helen Ivory en Martin Figura

Eintlik benodig ek ‘n bietjie schnapps om die Januariemaand-koue te verwerk. Die bleek treinrit vanaf Cambridge Norwich toe klap-klap oorwegend deur Swift se psigologies-besoedelde veenlande - wat jou laat vergeet dat daar ooit ‘n seisoen soos somer was - en ek arriveer met ‘n effe depressiewe hart. Benewens is Norwich ‘n stad wat haarself prostitueer aan die oostewind met sy ysige Siberiese tong, en selfs die imposante katedraal kan jou nie oorreed dat haar inwoners deur die eeue enigsins iets aan die eksploitasie kon doen nie. Vreemde treinstasies voel altyd effe onwelkom, en Norwich is geen uitsondering nie. Ek loer na ‘n kaart, kyk rond vir ‘n bus, besluit dis te koud vir enigiets behalwe ‘n taxi en spring in ‘n swart motortjie. Na ‘n kort rit, en ‘n effe langer stappie nadat ek eers tien huise te ver straatop afgelaai word, arriveer ek, bibberend, by die slagtery se voordeur. Die son het al gesak; vieruur se donkerte hier in die noorde is iets waaraan ek nog nooit gewoond kon raak nie.
Maar met my aankoms aan’t huis van die digters Helen Ivory en Martin Figura, in die Butchery met sy groot vertoonvenster wat uitkyk oor die straat, is daar ‘n warm verwelkoming, ‘n ewe warm koppie koffie, en ‘n klein skare blinkstil ogies wat van die rakke af loer. Nogal opbeurend, besluit ek terwyl ek van my jas en handskoene ontslae raak en begin dink oor die onderhoud vanaand. Die diertjies wat so staar is deel van Helen se kroos opgestopte huismaats, ‘n versameling wat eekhorings, muise, wesels, en rawe insluit, en wat afgewissel word deur Martin se geraamde foto’s wat die mure vol hang: portrette van kinders en volwassenes, oomblikke wat hy op sypaadjies raakgeloop het, die geheime hoekies van geboue; hy het ‘n goeie oog vir komposisie. Dis gepas, op ‘n ietwat makabere manier, dat hulle dié ou slagtery kon omskep in ‘n huis en kunsstudio, waar Helen shadow boxes maak van opgesnyde en aanmekaargeflansde poppe, vere, en vreemde goetertjies soos glasoë en duime en skoenlappers, en Martin sy fotografie bevorder. Die kamers voel besig, kreatief, en intiem. Hier word ook, is dit duidelik, baie gelag.
Ná koffie maak ons die eerste van ‘n paar bottels rooiwyn oop, en terwyl ek probeer om my opneemmasjientjie aan die werk te kry, maak my twee gashere hulself langsmekaar tuis op die rusbank en Martin spog (onsuksesvol) met sy Suid-Afrikaanse aksent. Op die boekrak agter my staan die oorspronklike kunswerk vir die voorblad van Helen se laaste bundel, The Breakfast Machine; die kopie wat ek saamgebring het lê op die koffietafel. Die gebreekte eierdop is op ‘n sekere vlak meer onrusbarend vir my as die chimeras en kraaivervlerkde langbeen-meisietjies. Ek vra vir Martin hoe hy voel oor Helen se voorliefde vir taksidermie. ‘Nervous’, lag hy, en insinueer dat wanneer eendag hy nie meer ‘n nut het nie, sy hom ten minste in haar kuns sal kan gebruik. Maar hy is ernstig as hy noem dat hy eintlik baie van haar werk en die inspirasie daaragter dink - hy is ook ‘n visuele persoon en vind die objekte aantreklik, interessant, en prettig, en hy dink dat sy foto’s en haar skaduboksies die spasies in die huis gemaklik deel.
Dink Helen dat haar kunswerke mense partykeer afsit, dat die ‘edginess’ daarvan ‘n muur kan wees? Ja, dalk, vir party mense. Die diertjies wat sy in haar kunswerke gebruik is almal reeds lank dood, of is padvertrap wat sy optel, en geen van haar dieredele is ooit afkomstig van iets wat spesifieks doodgemaak is om in haar kuns te gebruik nie, tog kry sy soms erg negatiewe kommentare van individue wat voel diere-opstop is verkeerd. Maar jy kan nie toelaat dat dit jou as kunstenaar te veel beïnvloed nie, sê sy, anders hou jy jou kreatiewe self terug. Haar kreatiewe werk is die mees belangrike en genotvolle ding in haar lewe juis omdat, as redakteur en lektor, ‘n groot deel van haar dag ander mense se poësie beslaan. Skryf en kuns is iets wat sy net vir haarself doen: ‘With the artwork and the poetry I’m just pleased that anyone likes it at all, really; I’m just pleased and surprised. It is a bonus that other people like some of the things I do. You have to have joy in your creativity.’ En voel sy dat daar ‘n sterk verbintenis tussen haar drie-dimensionele kuns en haar gedigte is? Ja, definitief. Sy het kuns geswot en was eens op ‘n tyd van plan om teaterontwerp as beroep te beoefen, maar na ‘n latere graad in Kultuurstudies het sy as ‘n skrywer die wêreld betree. ‘I didn’t really develop my voice as a visual artist until quite recently, and I couldn’t have done that unless I’d written the poems, because they feel as if they’re coming from the same place. The things that I’m making are 3D poems.’ Ek kyk rond na die objekte teen die muur en dit voel waar: elke boksie is soos sy eie verhoog, soos ‘n eie opvoering wat homself binne ‘n sekere raamwerk uitspeel.
 Dog Boy en Crow Angel, deur Helen Ivory
As skrywer het Helen Ivory drie digbundels agter haar naam, met ‘n vierde op die horison en ‘n vyfde in wording, almal uit die kraal van Neil Astley se hoogs-gerespekteerde Bloodaxe-boekhuis. Haar werk is idiomaties en fabelagtig en soos jy lees, veral deur die korter verse, sien jy hoe die idees geëggo word in die skaduboksies: ‘Harnessed to the town hall clock,/you send seconds like wild horses/loose into the sky.’ (uit When). Daar is ‘n intensiteit in haar metafore, iets wat die beoordelaars van die Eric Gregory-prys (wat sy in 1999 gewen het) ook opgemerk het. Penelope Shuttle verwys na The Breakfast Machine as ‘n ontploffing in kontemporêre poësie. Ek vra haar om my bietjie meer te vertel oor die bundel waaraan sy tans werk, ‘n Bloubaard-reeks. Dit is ‘n boek wat handel oor ‘n vrou wat in Bloubaard se huis woon, ‘and as we all know, people don’t tend to live in Bluebeard’s house, they tend to die there,’ sê sy: ‘She wakes early to what she thinks is thunder/but harder listening reveals Bluebeard/moving things around in the yard.//He has lit the furnace and its slit throat glows/from the corner of this workshop/where a handful of mice had nested.’ (uit Thunder). Enige parallelle met Angela Carter se omskrywing van dié en ander sprokieverhale? Sy noem dat sy Carter se boek op universiteit gelees het, en eers nadat sy omtrent vyftien gedigte geskryf het oor ‘n vrou se verhouding met ‘n man wat soos Bloubaard lyk, teruggegaan het na Bluebeard’s Egg. Dit bly vir haar ‘n interessant vertelling, maar haar eie interpretasie van die verhaal is nie eintlik beïnvloed daardeur nie. In haar reeks wil sy die onverklaarbare vertolk - hoe iemand in Bloubaard se huis kan (oor)lewe: ‘Sunday is music day, and by and by/a soprano will bleed through the walls/and Bluebeard will wail and sob/like a wolf in the jaws of a trap.’ (uit Postprandial Music).
Sprokiesverhale en illusie is ‘n belangrike invloed in haar skryfwerk die tema word dikwels herhaal. Waarom is sy aangetrokke hierna, en wat doen sprokies vir poësie? ‘For me fairy tales represent fundamental truths and fears, and all those things that trouble people.’ Die metafore, die argetipes, die mense en kreature trek haar aan - jy kan alles in sprokiesverhale vind, sê Helen. Dit is anders vir haar as mite. ‘The fairy tale is more grubby, it’s got dirt under its fingernails. I just keep reaching for them; it feels like something that is threaded into me somehow.’ Die normale dinge in die lewe soos televisies of telefone kom wel in haar gedigte voor, maar hulle verteenwoordig altyd iets meer magies. Kan die sprokiesverhaal dan nie ook alledaags wees nie? Nee, sê sy, want daar is nie wolwe in haar allerdaagse lewe nie, nie ‘n diep donkerte in die woude rondom Norwich wat die andersheid reflekteer nie. En alhoewel sy kan verstaan hoe ‘n moderne stad ook simbolies die argetipe van die woud sou kon illustreer, is dit nie hoe sy met sprokies omgaan nie: ‘I want my wolves to be real wolves. I don’t want them to be men in business suits. I want them to have fangs - actual fangs!’ Ek kan sien dat dit nogal moeilik is vir haar om presies te verwoord hoe diep sy die waarheid van sprokies ervaar. Hou dus ingedagte die kompleksiteit van die metafoor - ‘n egtheid eerder as ‘n weergawe - in die sprokie self wanneer sy skryf: ‘The girl in the room upstairs/is a woman now. In waking moments,/she sleepwalks to the mirror,/takes a brush to the long silk of her hair.//Before she lies down again, she’ll notice/the bird skulls on the window-sill,/how cobwebs have laced them together,/how her face has grown sharp as a knife.’ (uit Sleep).
Helen het ‘n baie hegte verhouding met die bekende Hongaarse digter George Szirtes wat saam met haar by die Universiteit van Oos-Anglia werk, maar wie ook haar mentor was gedurende haar graad in Kultuurstudies ‘n klompie jare terug. Dink sy die dikwels donker Oos-Europese vertelkuns waarmee sy deur Szirtes in kontak gekom het, beïnvloed haar werk? ‘Yeah, absolutely, it’s all George’s fault,’ glimlag sy. Dit is ook hý wat haar aan die Serbiese digter Vasko Popa se werk voorgestel het. Sy bespiegel dat dit dalk tóé was waar die surrealistiese saadjie geplant is, waar die konneksies tussen sprokiesverhale en die donker volkstradisies waarmee Popa ook speel, begin vorm aanneem het.
Hou sy van die benaming ’surrealisme’ wat mense rondom haar werk gebruik; enkapsuleer dit haar eie siening van haar poësie? ‘Good question,’ sê Martin, en kyk verwagtend na Helen op ‘n kamma-betekenisvolle manier, terwyl sy terselfdertyd met ‘n baie emfatiese ‘nee’ my vraag beantwoord. Dit is weereens vir my duidelik dat hulle hulself nie te ernstig opneem nie, iets wat eintlik wonderlik verfrissend is, en na die laggery bedaar, gaan sy voort: ‘I don’t mind it, but for me surrealism is more to do with experiments with the unconscious. What I feel that I’m doing is more magical realism - Matthew Sweeney talks about an ‘alternative reality’.’ Háár werk, voel sy, het orde en dit is iets wat sy nie in die tradisionele verklaring van surrealistiese skryfwerk vind nie: ‘There needs to be somebody that takes the interesting phrases and tries to make some kind of narrative or some kind of sense out of the chaos.’ Vanuit ‘n lesersperspektief voel hierdie verduideliking reg, want party van haar werk is juis skerp, juis verhalend sterk, selfs al is die tema effe ’surrealisties’: ‘In this, the dawn of the apocalypse/the cowboys have itchy fingers/as they ride into the centre of town.’ (uit Horsemen). Dit is asof die interne draad nie toevalligheid toelaat nie. Selfs in ‘n gedig soos The Reckless Sleeper, waar die surrealistiese wel die vers as geheel omarm (die gedig het, vertel Helen my toe ek vra, sy oorsprong gehad in ‘n uitstalling in Londen se Tate Modern Gallery) is daar ‘n eksplisiete orde van verhaal wat die abstrakte probeer teëwerk.
The Reckless Sleeper
All night he has been inventing a vocabulary -
a mythology of cities built like a circuit board;
a skeletal picture of where he’d like to belong.
He is wrapped in a blanket of grey paint,
and sometimes an apple will roll to the surface,
sometimes a mirror, or an apple in the mirror.
Sometimes a lion will lift a lazy paw
and pull the blanket from the other side of the bed;
leaving him exposed to the dark of the room.
He walks on the surface of heaven,
he holds his own heart in the palm of his hand,
his eye is a metronome; candle, bird, candle, bird.
Is die begeerte om orde uit wanorde te skep iets doelgerig in haar algemene skrywe? ‘Yes, absolutely. That’s what it’s for. They are just little boxes [...]; are ways of containing things. Poems look like boxes, don’t they?’ Sy huiwer ‘n oomblik. “Well, these are anyway. I don’t tend to write anything that goes over the page.’ Is dit selfopgeleg, wonder ek, of gebeur dit outomaties? ‘It happens automatically. And also, because my concern is with the visual I like to be able to see everything on one page. And the way that the white space of that page is working around it, so that it creates a frame.’
En is dit moeilik of maklik om oor gedigte te praat waar ‘n narratiewe vers so hand aan hand loop met die magiese, of met ‘n alternatiewe realiteit? Sy vind dit moeilik, ja, want sy weet steeds nie hoe ‘n gedig ‘gebeur’ nie. Sy begin meestal met ‘n spesifieke beeld waarvandaan sy uitbrei, maar sy het nie dikwels ‘intensies’ vir ‘n gedig nie: die gedig doen wat dit doen. Die verhaallyn mag dus dalk nie eksplisiet beplan word nie, maar vir Helen vind die vers sy verhaal en konklusie soos sy daaraan skryf. ‘As I’m writing, I can feel that what I’m writing is going to be coming to an end, maybe in the next stanza, or maybe I only have six more lines and I’ve got to tie it all up here. And sometimes that’s when I step out a little bit and then look back and think, within the poem-world, how are we going to wrap all this up?’
Hoe vereenselwig sy haar persoonlike idees oor poësie met haar werk as lektor vir kreatiewe skryfkuns by die Universiteit van Oos-Anglia? Sy is nie seker nie, en tob nogal lank oor die vraag voor sy antwoord: hulle lê in verskillende dele van haar brein, sê sy op die ou einde, en dus hoef sy nooit eintlik daaroor te dink nie - ‘maybe if I thought about it for a hundred years.’ Ongelukkig het ons net vanaand om daaroor te dink, so ek swaai dieselfde vraag oor na Martin, wat ook gereeld klasgee. Hy sê hy vind dit makliker om oor fotografie te praat as oor kreatiewe skryfwerk, as gevolg van al die jare wat hy al met die kamera omgaan. ‘Poetry is so collossal,’ sê hy. Dit is oud, en verg baie selfversekerheid. Dan lag hy, want op die oomblik behartig hy ‘n aanlynkursus in konfessionele digkuns vir die Poetry School, en die vergoeding is in morbiede wanverhouding met die emosionele voorbereiding wat mens moet insit om digkuns te doseer.
Ek vra Helen of sy dink goeie digkuns is iets wat aangeleer kan word, en of ’swak’ studente-skryfwerk haar pla? ‘I don’t know if you can teach someone to be a good writer unless they had some kind of ability in the first place, and you can nurture the ability by normalising the reading and writing of poetry. You should read as much poetry as possible to show you what other people have done and what you might do, and what you might include in your practise. Just try it out. It’s like putting on a mask. Try be someone else for a while. See if there is anything in that that works for you and helps you communicate.’ Hierdeur word ‘n mens ook ‘n beter leser, dink Helen, alhoewel sy, soos vroeër ook genoem, nie seker is hoe presies die ’siel’ van ‘n gedig gebore word nie, of hoe jy dit vir iemand kan leer nie. ‘It’s the Frankenstein’s monster thing: you can put all these bodyparts together but you need the fizz of lightning in order for it to get up and walk. And who knows where that comes from. If everyone had it, then everyone would be able to write amazing poetry, but not everyone can. Even if people can make the basic monster they can’t put a heartbeat in it’. ‘There’d be even less people reading it and more people writing it!’ lamenteer Martin tussendeur ‘n sluk wyn. Helen stem saam. Maar, nee, ‘rou’ skryfwerk pla haar nie solank daar ‘n konteks daarvoor is, solank sy in ‘n posisie is om terugvoering te kan gee. Sy dink ‘n bietjie langer, en voeg dan by dat dit haar wel nogal omkrap wanneer studente na drie jaar blykbaar geen advies van jou of hulle ander dosente ingeneem het nie. Inderdaad.
Helen werk verder ook vir die Nasionale Poësie Argief (gaan loer gerus- dit is ‘n insiggewende, uiters genotvolle tydverdryf met historiese opnames deur skrywers soos Sassoon, Sexton en Yeats) en as redakteur vir die oulike webzine, Ink Sweat & Tears. Haar rol by die Argief behels die skrywe van biografiese materiaal, onderhoude met lewende skrywers wie se werk in die Argief opgeneem word, en enige kommentare oor gedigte en voorlesings. Ek wou graag weet hoe belangrik sy dink die argief is vir Britse en wêreld-poësie? Ongelooflik belangrik, sê sy, beide as ‘n rekord van hoe die kuns verander het en as ‘n onderwyshulpmiddel. Dit is ‘n ervaring om te kan luister hoe rymwoorde in verskillende aksente opborrel, hoe metrum in sekere gedigte werk. “Listening to a poet reading their work in the way they intended it to be heard, and the music of their voice [...] is an amazing record to have. There are ancient recordings of Tennyson, and you can hear the delivery of his poetry compared to say Sylvia Plath or Tony Harrison.” Hulle is tans besig om uittreksels en opnames op MP3 beskikbaar te stel (jy kan alreeds kopieë op CD koop), maar hulle grootste inkomste kom uit doelgerigte befondsing wat toelaat dat sekere projekte geïnkorporeer kan word. So is Helen op die oomblik midde in ‘n projek oor die groot Amerikaanse digters, en ‘n paar jaar gelede was daar geld om jong Britse skrywers te dokumenteer. Dit is ‘n formidabele visioen om, soos Andrew Motion (direkteur van die Argief en ex-poet laureate) sou hoop, elke gepubliseerde digter daarin op te neem. Intussen is daar ‘n netjies uitgelegde labirint vir digters, navorsers, onderwysers, en lesers om in te verdwaal vir ‘n paar uur.
Voordat ons eindig laat Helen val dat sy dit eintlik baie moeilik vind om oor haarself, en haar verhouding met haar werk te praat. Ek bestudeer haar vir ‘n oomblik: ‘n bont persoonlikheid, maar dinge wat diep swem dink ek: ‘To lose yourself/is a very particular art./If you want ever to be found/scatter breadcrumbs,/pray the birds are not hungry.’ (uit A Little Spell in Six Lessons). Ek kan verstaan dat ‘verduidelik’ nie die regte woord is om haar poësie mee te benader nie. Is dit dus makliker, vra ek, om oor haarself te praat deur haar gedigte? Miskien. Dalk as sy kon skryf oor haarself, bespiegel sy verder, en tyd het om te dink oor gegewe vrae, sou dit makliker wees. Gedagtes is so groot, hoe moet jy dit alles uit jou mond uit kry in ‘n lineêre manier? Met skryf, skryf jy net; jy hoef nie dadelik sin te maak nie: ‘You can’t talk in images.’
 '...if that's what you want -/there's all manner of spells.'
Martin Figura se mees onlangse publikasie is Whistle (Arrowhead Press), ‘n outobiografiese bundel wat handel oor sy kinderjare, vol van atmosferiese verse wat die verhoudings tussen omgewing, kind en ouer detailleer met verwysing na sy ma se moord aan die hand van sy pa. Hy het tien jaar lank daaraan gewerk. In 2011 is dit gekortlys vir die hoogsaangeskrewe 2011 Ted Hughes prys (wat deur Kaite O’Reilly se Aeschylus-hervertelling, The Persians, gewen is). Ek begin ons gesprek met die idee dat ons oor sy skryfwerk self sal praat, maar binne die eerste paar minute besef ek dat dit - hetsy as gevolg van sy eie verstrikking met die nuutste boek, of die manier hoe ek my vrae bedink het - onmoontlik gaan wees om enigsins sonder die tragedie in die agtergrond voort te gaan.
Martin het die bundel verwerk as ‘n voorlesing vir groter teater-gehore - ‘n idee wat hom reeds voor die skrywe van die boek getref het - met behulp van Sarah Ellis en die spoken word organisasie Apples and Snakes, en het dit onder andere laasjaar Edinburgh toe geneem. (Vanjaar is daar ‘n paar opvoerings in Londen, en hulle is in die beplanningsfases vir ‘n toer van Amerika en Pole; ek wonder so sylangs of ons hom dalk Suid-Afrika toe kan lok vir die Grahamstadfees?) Die resensies sover lees meestal baie positief. In die vertoning word gekose gedigte en vertellings met foto’s geïllustreer - groot monochroom- en skerp kleur-herinneringe van toeka se jare, geprojekteer op doek; tussen die familie-foto’s en advertensies van eertydse produkte verskyn daar dan ook koerantuitknipsels, wat ‘n ekstra dimensie aan die verse leen - ‘n waarwording van die gebeurtenis wat eintlik in die digkuns verdoesel word.
Dink hý dit is anders, ‘n ander verhaal, op die verhoog as op papier? Daar is meer kritiese vereistes op die boek as op die verhoogstuk, sê hy, en ‘n leser of kyker se verwagtinge oor die verhaal is fundamenteel anders. Daar is verse in die vertoning wat nie in die bundel voorkom nie, en andersom, en die foto’s is natuurlik nie daar vir lesers om te verpersoonlik nie. Dit is ook vir hom interessant om te dink oor hoe iemand die vermoë verloor om terug te blaai, te herlees; die vertoning is meer kronologies uiteengesit, wat op ‘n manier hiervoor opmaak. ‘And I’m there in the room with you, which makes a difference.’ Dit is wel moeilik vir hom om te praat oor sy verantwoordelikheid teenoor die gehoor, veral aangesien mense op tye werklik deur sy storie aangeraak word. Hy voel dat hy sukkel om die regte woorde te vind om die ego uit die stelling te verwyder, en eindig met: ‘You have to take them on the journey with you, and show them you’re alright.’ Hierna geluister, wonder ek toe of hy as verhoogkunstenaar bewus is van sy vermoë om die kyker te kan dwing om op sekere aspekte van die verhaal te fokus, iets wat meestal buite sy beheer is as digter. Hy dink ‘n bietjie na, beantwoord (weereens) ‘n vraag wat ek nie eintlik gevra het nie, en verduidelik hoe belangrik dit vir hom is dat mense met hom wil kom praat ná sy vertonings, dat hy ‘n effek kon hê of ‘n konneksie kon maak met ‘n teaterganger en sy of haar spesifieke storie, en dít deur poësie. ‘It doesn’t get any better than that, really.’ En ek kan sien dat hy dit bedoel, en diep ervaar, amper soos ‘n kind wat erkenning ontvang het.
Ek wou ook graag weet oor sy keuse om eksplisiet en in detail oor ‘n traumatiese gebeurtenis te praat. Was dit ‘n moeilike besluit om die tema so openlik in woord en op verhoog te uit, en was die vertelling daarvan positief of negatief deur sy familie ervaar? Hy antwoord breedvoerig, alhoewel hy nie eksplisiet oor sy familie se reaksie praat nie. Die digbundel het wyd opslae gemaak en aangesien hy alreeds, by wyse van spreke, die aap uit die mou gelaat het, voel hy dat hy homself gemaklik moes maak met praat daaroor. Vóór die publikasie het bitter min van sy vriende geweet oor die moord, alhoewel hulle bewus was dat hy in kinderhuise en onder die sorg van voogde grootgeword het; nou moes hy dit aanvaar as deel van sy publieke en private lewe. Die issue van hoe jy jou geskiedenis word, kwel hom. Hy vertel my oor hoe hy en sy susters die ervarings dramaties verskillend verwerk het - natuurlik omdat hulle ander waarhede uit die gebeurtenis onthou het. En dat hy homself op ‘n manier - dalk deur sy sin vir humor - kon weerhou van die drang om dit sy hele identiteit te maak, terwyl sy een suster werklik daarmee gesukkel het. Waar hy homself tot ‘n mate as volwassene kon bevry van sy ouers se verhouding, bly dit vir haar haar hele lewe.
Martin hou voet by stuk - jy kan nie aanhou blameer en internaliseer nie: ‘I live by it. I think whatever’s happened to you, if you can just wave blame away with your hand’ en hy gooi sy hand agtertoe met ‘n gelate glimlag, asof hy ‘n vlieg wegwaai, ‘and get on with your life, you can actually get on with your life. If you forget about blame… It’s happened, and you can shake your fist at them all you like, but they’re on the other side of the river and they’re looking the other way. It’s pointless.’ Maar hy noem dat dit hom steeds wel raak. Die barmhartigheid van mense was uiters moeilik om oor skryf, daardie goeie en mooi en lewendmakende dinge; hy bied die prosavers, Piggots, aan as voorbeeld: ‘Once he tried to tell us the facts of life,/but couldn’t.’ Ek noem aan Martin dat dit my opval dat hierdie spesifieke gedig soveel anders lyk en lees as die ander verse, en hy knik: ‘It’s like a release. It’s a headlong rush.’ Evidence was ook moeilik om te skryf, sê hy - hy moes navorsing gaan doen oor hoe jou vingernaels lyk as jy dood is; hy moes dink oor die vel wat onder sy ma se naels sou sit, oor die kleur van krapmerke op sy pa se vel. En hy onthou hoe hy as kind om die hoë-sekuriteit Broadmoor hospitaal gestap het, gedurende ‘n besoek aan sy pa. Uit Dad’s Alma Mater: ’squats on a low hill at the end of a Berkshire lane,/watches the moor with its many eyes, keeps thoughts/inside heads, inside rooms, behind walls, behind wire.//A deer breaks from the gorse/shakes rain from yellow flowers,/I remember being small.’ En elke keer wanneer hy hierdie onskuldige finale versreël op die verhoog uiter, onthou hy daardie gevoel presies. En dít, sê hy, is hartseer.
Hierdie eenvoudige maar beskrywende ervarings deurdrenk die boek - dit is ‘n verhaal wat jou aanraak op menige vlakke. Die tekstuur van die spreker se identiteit - beide as kind en volwassene - word ontgin deur smaak, sig, en aanraking, waar vervreemding en verantwoording (en ook, miskien, verantwoordelikheid) in die binne- en buite-landskap afspeel: ‘He’s had to learn another language/Wear it like a different face/Sometimes he comes home with Polish sausage/He serves it up with pickled cabbage’ (uit Exile). Motiewe van die huislewe is ook sterk aanwesig: ‘As its representative on earth she sets/the lemon meringue onto the cloth -/its perfect roundness and snowy peaks.’ (uit Mother). Voel hy beskermend oor die boek? Hy bly lank stil, um en ah dan vir ‘n oomblik. ‘No, I don’t think so. The book… I wrote it, and it’s got in it what I want. A much more difficult experience was writing an article for the Times Magazine,’ waar sy woorde erg gemanipuleer en buite konteks geplaas of oorgedramatiseer is. Hy is steeds verras, kwaad daaroor - oor die simplifikasie, distorsie en die joernaliste se houding teenoor hom as digter en persoon; die druk van ‘n poniekoerant-artikel in die skaapklere van ‘n gerespekteerde publikasie. Hy las by dat alhoewel daar tog goeie dinge van die Times-artikel gekom het - publisiteit, positiewe kommentare - dit hom steeds effe ‘vuil’ laat voel. Maar die boek self is wat dit is, en hy is trots daarop dat dit die wêreld ingestuur is. Dit was die regte tyd daarvoor.
 'His languages return/all at once as thoughts.'
Die bundel is gebore gedurende Martin se MA, ook onder leiding van George Szirtes, en hy krediteer sy promotor veral vir besprekings oor idees van ballingskap en die oos-Europese psige (Martin se pa was ‘n Poolse immigrant, Szirtes ‘n Hongaarse vlugteling). Ook het hy en Szirtes ‘n agtergrond van fotografie en film gedeel en hulle ontmoeting in Norwich was, in Martin se eie woorde, ’serendipity’. Dié lighartige beskrywing neem nie weg van die intensiteit van die skryf-ervaring nie. Hy het hard gewerk daaraan - dit was moeilik en op tye traumaties, soos mens kan insien. Maar hy moes ook wag speel oor die vordering daarvan. Hy het ‘nee’ gesê toe daar vroegerig in die proses belangstelling in Whistle was, omdat die bundel in sy eie opinie nog nie gereed was nie. Toe hy dit uiteindelik aan ‘n groot uitgewer bied net om afgekeur te word, het dit tot ‘n verdere twee jaar van herwerk gelei - iets waarvoor hy dankbaar was toe die manuskrip daarna deur sy eerste keuse van uitgewershuis aanvaar is. Hy bly verras, sê hy, oor die resepsie daarvan.
Dink hy sy werk is, op ‘n manier, tipies ‘confession poetry‘, of staan die vertelling apart van die ervaring van ‘om gelees te word’? Pla die benaming hom? Ja-wat, sê hy, dis moeilik om dit nie as belydenispoësie te sien nie. Hy hou nie baie daarvan nie, maar so ook nie van die etiket ‘performance poet’ nie. ‘It carries too much baggage,’ sug hy. ‘And that can be inhibiting.’ Dat die gedigte op hul eie ook gelees moet word is belangrik vir hom - en dit is een van die min kere gedurende ons gesprek waar ek voel dat hy soms dalk moeg word om oor die narratief eerder as sy digkuns te praat. In 2010 het hy die Poetry Society se Hamish Canham-prys vir beste gedig gewen, vir die vers Victor. Dit kom voor in Whistle, maar is apart gepubliseer nog voor die boek verskyn het. Victor was die naam van ‘n bekende oorlogsprentverhaal, met die leuse ‘true stories of men at war’. Paul McGrane skryf dat dit ‘a beautifully crafted and poignant tale’ is. Vir my trek dit op ‘n manier die drade van die bundel bymekaar in terme van ware geweld teenoor spel, die skuiwe en ironie van veiligheid buite die huis (waar geweld onskuldig is) na die ouerhuis, waar die kinderlike verwagtinge van veiligheid dan verval; die implikasie, die sterk fokus op die strofes ‘The pavement is so littered with Germans//that men must pick a way through/to reach their gates and take their sons/down paths to quiet houses’.
Ek is geïnteresseerd of Martin ook hierdie gedig as ‘n belangrik spilpunt in die boek sien? Hy voel dié interpretasie is reg. ‘If I had an original insight - at all, ever - it is that poem.’ Beide hy en sy pa was in die weermag en die idee van vrye tyd binne die konteks van die organisasie het hom nog altyd geprikkel. So ook die konsep van vermaak vir troepe in oorlogstye, veral die absurdheid daarvan. ‘World War II hung heavy in the late 50s and early 60s, and all our fathers had an experience of it,’ en Martin het simpatie met die ouer geslag wat deur die intensiteit van oorlog geleef het en toe moes handel met hul seuns se beheptheid met details daarvan en entoesiasme daarvoor gedurende kinderspel. Dis veral die geval met Martin se pa wie in die Duitse weermag was en dit, te same met die kontradiksie dat die vader beide ‘n held van die oorlog en ‘n frustrerende ouer is, lê sentraal in die vers. ‘These things reach through generations [...] and impacts and impacts and impacts. The long reach of World War II: it didn’t just happen and end. It’s like the whole blitzkrieg swept through our little house twenty years after the end of the war [...] one night, briefly, and had its effect on us.’ En hulle is nie alleen nie: dié erfenis is steeds daar vir families in huise oor die hele Europa versprei, deel van ‘n ondenkbaar gekompliseerde geskiedenis.
Maar die gedig wat vir Martin as sentraal staan in die bundel, is Vanishing point. Toe ek hom daaroor vra praat hy lank, terwyl ek en Helen luister, oor die idee dat, in ‘n oogwink, die Martin-Wat-Moes-Wees - en dáárdie Martin se toekoms - op ‘n gegewe nag verdwyn het soos ‘n kers wat uitgedamp word. Dit was die gedig wat hy móés skryf, ‘n vers wat sy oorsprong in ‘n epiese raamwerk gehad het en toe ‘n paar sekondes van ‘n ou bioskoopprent geword het wat die oomblik kon distilleer: ‘The boy/pedals like mad to stay with us, but we stretch away/and leave him stranded, disappearing.//Then there is just white light/and the loose flapping sound/of a film end escaping its gate.’ Wat my bybly van hierdie gedig, en ook van die ander in die bundel, is die fisieke onthou en die fisieke doen van ‘n liggaam agter die woorde - die spreker se tasbare identiteit wat sorg dat die verse elk ‘n eie lewe het: ‘n lewe wat ervaar is. Hier word dit ook opgesom:
Touch
Stories pulled apart,
gristle stretched
and snapped, blood
drained away, a ghost.
My sisters and I
placed out of touch,
our own small diaspora.
In antwoord op my vraag oor die posisie van Vanishing point binne die bundel, noem hy dat dit nie kronologies geskryf of uitgelê is nie en dat Helen ‘n groot impak op die finale seleksie en orde gehad het. ‘I was quite brutal,’ bied sy nadenkend aan. Ek onthou wat sy vroeër gesê het oor hoe sy skryf, hoe die beeld wat sy herken as beginpunt dikwels deur die gedig self gekaap word, hoe sy nie eintlik weet presies hoe die gedig ‘gebeur’ nie, en ek vra vir Martin oor sy verse se evolusie. ‘I start with a story and facts, which is problematic because you can tie yourself into knots.’ (Ek herinner myself terwyl ek luister om hom later te vra of hy ál sy poësie so begin, selfs die humoristiese verse, en of hy meer spesifiek praat oor die manier hoe hy Whistle geskryf het, maar vergeet heeltemal daarvan na die volgende glas wyn geskink is. Nou ja.) ‘People who read poetry, or a writer, should be and are interested in language. And if you don’t engage them at the point of language, then you’re not going to engage them however sad your story is.’ Dus moet jy metodes hê om die deur na die alternatiewe realiteit (en ek neem hier aan hy bedoel die realiteit van die spreker) oop te maak; dit maak dit ook interessanter vir die leser, en bied ‘n wyer interpretasie. Hy dwaal effe af van die vraag en vertel hoe hy met Whistle oorspronklik ‘n tipe minimalistiese benadering in gedagte gehad het; hy noem Raymond Carver. En alhoewel die ingekortheid tog deel van die finale produk is, het hy weg beweeg van die intensiteit van die samehangende realisme.
Hy onthou die oomblik toe dit vir hom verander het: toe hy op Szirtes se aandrang ‘n vers sonder feite geskryf het. Hy vertel my die storie oor die beproewende etenstye by sy Oom Philip en Tannie Margaret (’which wasn’t their real names; I stole those from Angela Carter’s Magic Toyshop’) waar hy as negejarige vir ‘n tyd gewoon het nadat sy pa tronk toe is. Met ontbyt is die verwagtinge vir die dag, verwagtinge oor hóm, uitgelê, en gedurende aandete is elke verwikkeling dan in detail nagesien, wat hom gewoonlik in warm water laat beland het. En hy onthou hoe hy hom later begin verbeel het dat die familie hom soos ‘n hoender braai en eet. Die herinnering híéraan het aan die gedig Morning Room geboorte gegee, ‘and for the first time I kind of moved myself. I thought ‘that’s exactly how it felt’.’ Dit is baie roerend om hom te hoor praat oor hoe een metaforiese verkenning van ‘n ’storie’ in ‘n gedig hom so aangeraak het dat dit die hele rigting van die bundel verander het. ‘Obviously the family didn’t sit down and eat me. That never happened. It was metaphorical. But it seemed truer than anything I had written before.’ En dít was die ‘iets anders’ wat hy in sy skrywe ontdek het; iets wat hy moes nastreef. Dít was die deur wat hom in die bundel ingelaat het: ‘I stepped through the back of the wardrobe into Narnia. And looked for a metaphorical truth, rather than getting hung up on the facts. Know the facts and have them, yes. But just because you know them, because you’ve lived through it, doesn’t mean the reader needs to know them. [...] Memory and truth are two different things.’
Maar jy kan nie Whistle lees sonder om te besef dat humor ook vir die skrywer belangrik is nie: ‘n gedig soos Fountain Pen vertel die storie van ‘n kind wat sukkel om sy vader se (herhaalde!) geskenk van ‘n vulpen (en daarmee saam die implikasie van ‘n toekoms) te bewaar: ‘By the third purchase, all the pomp/has gone from the ritual.//My father carries out the transaction/in quiet disappointment.’ Dan, later, iets wat jou laat glimlag, veral dalk omdat die ironie homself vooruitpraat: ‘Of course, if one, or both of your parents/were to die in a terrible accident, then/the small matter of homework would be forgotten.//No one would mind if you asked for a new pen.’ Die humor kom sterk deur op die verhoog, in die vertolking van die storie - Martin is ‘n akteur wanneer hy lees, en dit is duidelik dat hy dit geniet om voor ‘n gehoor op tree. Humor is Martin se toevlug; sy onlangse pamflet Boring The Arse Off Young People is ‘n kolleksie van sy meer amusante werk: ‘Any day now,/my libido/will slip on/its knapsack/and old/turtle-neck/sweater/and slouch/off/over/the hill.’ (uit Fifty); sy twee vorige boeke was ook aan die ligte kant. Hoekom dink hy humor in digkuns is belangrik; hoekom is hy aangetrokke daartoe, en hoe vereenselwig hy die ekstreme van donker en lig? In Whistle speel dit ‘n rol in terme van gehoorsgemak, veral op die verhoog; hy beskou dit as ‘n middel om die spanning te verlig. Want dit is werklik ‘n tawwe stukkie drama om na te kyk! Party mense is net nie emosioneel opgewasse tot die direktheid van so ‘n vertelling nie. ‘There was a bloke in Edinburgh that went down really early,’ vertel hy voetstoots, en Martin moes vroeg in daardie vertoning die toon lig om hom deur te help: die humor is daar om die wat dit nodig het, te bewaar. Die genot wat hy uit lag put was maar nog altyd daar, sê hy, van kindsbeen af. ‘I’ve learnt more about humankind from Malcolm in the Middle (die TV-reeks) than I’ve ever learnt from poetry!’ Vir ‘n rukkie praat ons oor hoe belangrik humor is in die Britse psige - om vir jouself te kan lag. En hy vertel hoe baie hy van Randy Newman se swart humorsin hou: ‘I think you can say things that you can’t otherwise say with humour. And I don’t think it is always valued.’
Benewens is Martin ook ‘n bekwame bekvegter alhoewel hy nie eintlik diep aangetrokke tot die genre self is en dus nie baie deelneem nie - hy gebruik die woord ‘awful’ om sy bekgevegte te beskryf: ‘I just think it makes for bad work.’ Helen onderbreek hom om by te voeg dat sy dink daar wel goeie werk daaruit kan kom, maar Martin is nie heeltemal oortuig nie. Nieteenstaande, sy genot in en natuurlike aanleg vir verhoogkuns is die spilpunt van sy verhouding met ‘openbare poësie’, en hy lag gemaklik oor die dikwels klein en voorspelbare gehore wat voorlesings kan lok: ‘the demographic for the poetry audience is heavily [skewed] towards women between 40 and death’. Dit maak hom gelukkig om te sien, veral met die humoristiese gedigte of voorlesings, dat mense hulself geniet. Is hierdie tipe aktiewe, openbare aspek van poësie iets waarin hy glo as ‘n sosio-kulturele hulpmiddel om die toekoms van poësielesers, veral miskien jong lesers, te verseker? Hy is verskriklik lief daarvoor om vir jongmense, veral vir kinders, oor poësie te vertel en te sien hoe opgewonde hulle daaroor kan raak, en ja, hy moet toegee dat performance poetry tieners raak omdat dit tematies en dikwels stereotipies by hulle lewens insluit, maar nie juis omdat dit goeie poësie is nie. Maar hy het ook nie ‘n vendetta daarteen nie, voeg hy by. ‘Very few people like poetry, but when they do they’re kind of a bit fanatical and often have quite a narrow idea of what poetry should be.’ Hy sug diep, en lamenteer oor hoe baie verskillende style van poësie in bestaan is: ‘I don’t understand why people can’t like the poetry that they like and live with the other stuff.’ Goeie gedigte hoef nie altyd verhewe te wees nie, en om met jongmense te werk beteken jy kan daardie les vroeg reeds oordra, sê hy.
In terme van die interaksie met volwasse studente voel hy dat hy meer konserwatief te werk gaan, meer tematies. Hy sê oor die kursus in belydenispoësie wat hy tans aanbied: ‘Because I went through a very intense period of writing about difficult stuff, I’m much more comfortable within the boundaries of that. I’ve done it, and I’ve got a degree of success from it, and I feel more confident that I know what I’m talking about. I can see that when I’m teaching people, that there are things that I can tell them that will help, if they choose to listen. They don’t always choose to listen.’ Dis dalk omdat hulle nie gereed is om te luister nie, voeg Helen by. Ja, hy dink so, want die storie wat hierdie studente oor hulself wil vertel is natuurlik so uiters, uiters belangrik vir hulle. Dis so essensieel vir hulle dat hulle die wêreld moet vertel hoe hulle voel, en hoe die wêreld oor húlle moet voel. As ek Martin reg verstaan, bedoel hy dat die persoonlike trauma ‘n outomatiese probleemaspek word in die neerskrywe daarvan en in die kritiek van die eindproduk. Hy noem dat hy êrens die waarheid gelees het dat aanlynklasse in skryfkuns is soos om afgeplukte ledemate deur die pos te ontvang! Maar hy dink nog steeds skryfkursusse het ‘n plek. Hy is ter pyne om uit te wys dat hy die nodige vir sy bundel deur ‘n MA-kursus gevind het: ‘When I decided to do it, I knew that I didn’t have the requisite tools to do it; I was a different writer, an entertaining, funny writer. Which is fine, but it wasn’t the right writer to be to do this. And I set about becoming that writer - if I possibly could.’ Vir Martin is Whistle ‘n beter boek juis as gevolg van die leiding wat hy gehad het, en hy is veral dankbaar oor die kans wat eksperimentering in die verskillende modules hom gebied het. Hy verduidelik dat dit soos ‘n fotograaf is wat ‘n lens in sy kamerasak ronddra, en vir drie maande op ‘n slag slegs met daardie lens foto’s neem. Teen die tyd wat die finale projek bymekaar kom het jy ‘n hele sak vol lense, en jy weet presies hoe elkeen werk. Jy kan sistematies in jou kreatiwiteit wees, sê hy, en die regte lens vir die regte gedig kies: ‘I could print this photograph/so dark, there would only be/her hand on my shoulder.’ (uit Glove).
 Foto's uit Martin Figura se Coalfield Stories- en Norwich Millenium-reekse
Tussendeur die aanbied van skryfkursus, sy eie optredes en digtery, gee Martin ook klas in verhoogkuns, is op die raad van die Norwich Poësieklub, en behartig hy die voorsitterskap van die Café Writers-groep wat ‘live literature’ in Norfolk en die ooste van Engeland dek. En vóór hy homself as digter gesien het, was hy onder andere ‘n rekenmeester en vir vele jare in die weermag - iets wat mens moeilik glo as jy na sy redelik deurmekaar lessenaar loer. Maar sy passie was nog altyd fotografie (hy werk as ‘n baie suksesvolle vryskutfotograaf, en tematies is dit ook ‘n sterk motief in sy digkuns) en sy tyd in die weermag het gelei tot This Man’s Army, ‘n fotoboek wat handel oor die Britse weermag se worsteling met die veranderende atmosfeer beide binne en buite die tradisionele opset van rang, orde, en gemeenskap. Foto’s uit die kolleksie is uitgestal deur die Nasionale Portretgalery in Londen en die Royal Photographic Society, en het deel geword van die argief wat die Imperial War Museum behartig. “I made the work not as a polemic or as an exercise in public relations for the Army, but to try to explain to myself what it was that I was part of.” Lees Whistle met die tweede deel van hierdie stelling in gedagte, en mens word dalk ook ‘n bietjie wyser oor wat hom dryf in sy kreatiewe denke.
Toe ek wil weet of daar enige spanning in hulle verhouding gematerialiseer het as gevolg van die baie openbare sukses van Martin se laaste boek, loer hulle na mekaar en skud kop tesame. Hulle stel wel belang in hoe Whistle wyer die wêreld in is, só anders as die gewone trajek van ‘n digbundel. Martin dink die aandag wat die boek gekry het oorskry die meriete van die gedigte self, dat die agtergrond die verkope aanmoedig. Ek is geneig om te dink dat die Ted Hughes-kommittee nie sommer ‘n publikasie gaan nomineer net omdat die geskiedenis daaragter prikkelend is nie, en ek kan sien Helen dink dieselfde terwyl sy so onderstebo-langs na Martin kyk. Hy is effe onbewus van ons twee, besig om ‘n uitgebreide en ingewikkelde analogie oor ‘n voetbalklub se promosie en relegasie in die ranglys aanmekaar te slaan om die bundel se populêre lewensduur te verduidelik. Na ‘n rukkie stop ek hom noodgedwonge: sokker-analogieë is nou nie eintlik ‘n Suid-Afrikaanse kultuur-stokperdjie nie. Krieket, dalk. ‘n Braaivleis-analogie. Hy giggel, las later by dat hy eintlik, as gevolg van Whistle, nou maar in die middel vasgevang is: tussen ‘n vermaker en ‘n digter. ‘I’m probably too good a writer to reach a mass audience, and not a good-enough writer to be revered as a Great Writer.’ Dié stertjie laat Helen weereens uitbars van die lag, en dit neem ‘n hele paar minute voordat ons ons weg terug kan vind na die ernstiger aspekte van digkuns en digterparings.
Hoe voel hulle oor die vloek of seëning van die digterspaar? Is hulle gemaklik daarmee om as ‘n ‘paar’ gelees te word? Om as digters ervaar te word as deel van ‘n ander se storie? Die idee dat hulle gedigte ’saam’ gelees en geanaliseer sou word, is vir Helen snaaks genoeg dat sy weereens begin lag; klaarblyklik dink sy nie daar sou enige waarde in wees vir enigiemand om hulle verse met kruisverwysings te bestudeer nie. Maar om haar lewe met ‘n kreatiewe mens te deel maak haar wel baie gelukkig, en sy voel nie dat dit enigsins nadelig is om in dieselfde medium te werk nie. Hulle verstaan mekaar se manier van werk en vind dat dieselfde belangstellings beteken dat daar geen verwagtinge is omtrent jy wat jou lewensmaat se voetbalwedstryd moet bywoon as jy eintlik nie ‘n dooie duit vir balsport omgee nie. Die tweetjies praat gemaklik en sonder pretensie oor hoe baie hulle van mekaar hou, hoe sterk hulle op mekaar steun. Dit is duidelik dat hulle ‘n intieme verhouding het, en mekaar intellektueel stimuleer; Martin veral gee Helen baie krediet, beide as digter en as maat. ‘Helen would still be the writer Helen is if she never met me; I wouldn’t be the writer I am if I never met Helen. So I gained much more from it.’
Helen noem dat sy bedenkings gehad het oor haar komende bundel, wat ook handel oor familie en jeug, alhoewel sy dink die boek sal meer toeganklik wees vir ‘n wyer gehoor, iets wat Martin beaam. Dit is nie eintlik ‘n nuwe tema nie - kinderlike insig, ervaring, intuïsie, en verbeelding dryf deur haar vorige boeke - maar sy is steeds baie bewus van die feit dat die narratief nie dieselfde drama as Whistle dra nie. Martin vra vir Helen of sy dink dat sy deur die werk aan sy boek beïnvloed is om meer eksplisiet oor haar kinderjare te skryf. Sy kyk na hom en antwoord op die geimpliseerde betekenis agter sy vraag: ‘All the time while you were doing that I couldn’t really do mine, because mine is just about an unhappy family.’ Eers nadat hy klaar was, het sy gevoel die tyd was reg om aan hare te begin werk. Haar kommentaar vang my onkant - dit is ‘n interessante admissie, juis omdat hulle beide nadruk lê op hoe maklik hulle in mekaar se lewens inpas. Hoekom pla dit haar dan, wonder ek, dat haar storie nie so ‘traumaties’ soos syne is nie? Hoekom is verbeelding nie net so belangrik, so kwesbaar, soos ervaring nie?
World
A single blond kitten
bundled into a sack
weighted with stones
and thrown into the lake.
So winter begins
and the moon floats
to the surface
of the part-frozen water.
And nothing but
the trigonometry of stars
keeps things together,
keeps them apart.
Maar ek vra haar nie. Dis nie werklik my plek nie. Daar is te veel genot in die aand. Ek word herinner aan ‘n onlangse vertoning in Londen waar beide Helen en Martin opgetree het; die tema was liefde. Om mee af te sluit, het Helen uit haar eerste bundel, The Double Life of Clocks, ‘n gedig oor ‘n eertydse verhouding voorgelees, waarna Martin gevolg het. Hier is die twee verse soos gelees is.
Fairytale
If I was my boyfriend
I would not forget my birthday
or how to use a knife and fork.
If I was my boyfriend
I would not get drunk
and eat all of the cheese.
Or pretend to be asleep
while mice marched through the kitchen,
looking for bits of cheese
that just happen to be lying around.
If I was my boyfriend,
I would definitely treat me like a princess,
unless of course, I needed to feel independent
like a modern girl should.
If I was my boyfriend,
I would eat fire, move mountains, write operas,
swim the channel, change the world,
and serenade me from my window
while I plaited my hair
in a strong, thick rope for me to climb.
Reality
I am Helen Ivory’s boyfriend.
Forget her birthday
chance would be a fine thing.
I am Helen Ivory’s boyfriend.
Yes I eat all the cheese,
she is going through a non-dairy fad,
so who else is going to eat it.
I pointed this out
and apparently it’s a metaphor
and if I need to ask what for
then there is no point in telling me.
I am Helen Ivory’s boyfriend.
I would eat fire, but I’m busy with the cheese.
I could swim the channel
but the weight of expectation
might well drown me.
I am Helen Ivory’s boyfriend
and I’ll serenade her from under her window
just as soon as I’ve finished all the other jobs.
I am Helen Ivory’s boyfriend
I would rescue her if she plaited her hair
in a strong thick rope, but her hair
is a law unto itself.
This is both true
and a bloody metaphor
Ons beëindig die onderhoud toe hier, op ‘n dekselse metafoor - en uiters gepas. Later eet ons spaghetti bolognaise, drink wyn, en gesels oor die kompleksiteit van kraaivere vasplak aan opgestopte muise, diepseeduik, gevonde kunsobjekte en die feit dat ek nou alreeds die laaste vinnige trein terug Cambridge toe gemis het. Dit was ‘n vol, vet aand: my opnemertjie se hardeskyf is ingelê met ‘n goeie drie ure van Helen en Martin se stories, en hoe ek dit alles gaan omskryf weet ek op daardie stadium nugter alleen. Daar is lyflose poppe wat oor die sitkamer waghou, en onder die voordeur sypel daar die skaamste asempie van ‘n yswindjie in. Ek sien op na die stop-stop rit van die last train wat netnou op my wag, die koue, leë strate van ‘n studente-lose Cambridge wat my sal ontmoet wanneer ek na middernag op die platvorm sal afklim. Maar voor ek gaan, nog ‘n glas wyn, nog ‘n bietjie luister na die blink wat hier om die kombuistafel in die kelder van die ou slaghuis verwoord word.
 Waterverfie van Helen en Martin se Butchery-huis, in Norwich
Helen Ivory se vierde bundel verskyn in 2013 by Bloodaxe, wat ook The Breakfast Machine uitgegee het. Loer ook uit vir haar en Szirtes se In Their Own Words - Contemporary Poets on their Poetry (Salt Publishing) wat later vanjaar op die boekrakke verskyn. Martin Figura se mees onlangse vollengte bundel, Whistle, word uitgegee deur Arrowhead Press, en Boring The Arse Off Young People is beskikbaar by Nasty Little Press. Hulle webwerwe is te vinde by www.martinfigura.co.uk en www.helenivory.co.uk en beide skrywers se werk kan deur Protea Boekwinkels of Amazon bestel word. Kopiereg van outeursfoto’s: Sam Christmas, Martin Figura.
(© Marcelle Olivier, 2012)
Sunday, February 5th, 2012
Nasr reageer - Nasionale Gedigtedag 2012
Aflewering 5
Op 26 Januarie was dit weer tyd vir die nasionale Gedichtendag in Nederland. Jonk en oud, kind en kraai, arm en ryk het landwyd daaraan deelgeneem. As inleiding van die besondere dag is die wenner van die VSB-Poësieprys die vorige aand op 25 Januarie al aangekondig. Op radio en televisie het die versoek geklink dat alle vergaderings die volgende dag met ‘n gedig moes open. Hierdie jaar se nuwe Gedichtendag-bundeltjie was weer orals te kry.
 Jan Lauwereyns
Die Vlaamse digter Jan Lauwereyns was die wenner van die VSB-Poësieprys met sy digbundel Hemelsblauw. Hy is ‘n neuro-wetenskaplike en woon in Japan. Joke van Leeuwen het die bundeltjie met tien gedigte spesiaal vir Gedichtendag geskryf. Die titel is Half in zee. Dit is altyd ‘n groot eer as ‘n digter daarvoor gevra word. Verder het elke groepie poësieliefhebbers in elke stad op hulle eie manier aandag gegee aan die tema van die jaar: stroom. Ek was bevoorreg om die Gedichtendag in beide Tilburg en Eindhoven te beleef. Dit het soos nag en dag verskil.
In Tilburg het die stadsdigters de treinreisigers op die stasie met hulle voordragte verras. Of was dit vergas? Dit was nogal ‘n ongemaklike takie. Reisigers wat afklim is altyd haastig op pad na ‘n bus of ‘n taxi toe en stroom letterlik die trappe af. Hulle wou nie vir ‘n gedig voorgekeer word nie. Die digters moes dus konsentreer op vertrekkende reisigers wat vir hulle treine wag. Verder moes daar rekening gehou word met die akoestiek in die buitelug. Elke digter moes eers vinnig rondkyk of stroom daar nie ‘n trein binne nie, anders kon sy voordrag onderbreek word. Die digters se tydsberekening en vermoë om ‘n wildvreemdeling se aandag te trek én te behou, is behoorlik getoets. Ses ure lank het hulle saamgespan en net dít gedoen.

‘n Groepie van die stadsdigters op Tilburg se stasie saam met Theater van de Verloren Tijd, wat binnekort weer uit Nederland op Woordfees sal optree.
In Eindhoven was dit ‘n perd van ‘n heeltemal ander kleur. Daar is ‘n voordragmiddag gereël. Enige iemand kon sy of haar gunsteling gedig gaan voorlees in ‘n luukse, warm en rustige ruimte. Enkele digters is gevra om ook iets van hulleself te gaan doen. Die akoestiek was geen probleem nie. Dit het volgens ‘n noukeurig saamgestelde program verloop. Geprojekteerde beelde en klankopnames van digters wat al oorlede is, het die middag verder opgeluister. ‘n Wonderlik ryke verskeidenheid aan poësiesmaak van die Eindhoven se publiek het hier die landelike Gedichtendag ingevul.
Rutger Kopland, Adriaan Roland Holst, Tonnus Oosterhoff, Guido Gezelle, Leo Vroman, Willem Elsschot, Remco Campert, M. Vasalis, Bart Moeyaert, P.J.H Mattheij… hulle het almal verby gekom. Vertaalde gedigte van die Poolse digteres, Wisława Szymborska en die Tsjeggiese digter, Miroslav Holub het ‘n eksotiese tikkie aan die aand gegee.
Drie verskillende aanbiedinge van Le pont Mirabeau (1912) van de Franse dichter, Guillaume Apollinaire het die publiek uitgeboul. As inleiding is hierdie gedig eers in Frans en toe in ‘n Nederlandse vertaling voorgelees. Daarna het ons na die stem van Apollinaire in ‘n krakerige opname geluister. Nog ‘n Franse gedig is voorgelees, van die digter Arthur Rimbaud. ‘n Japanse haikoe en ‘n stukkie in Sanskrit het die internasionale tint versterk. Hier was dit nie die reisigers of die treine wat gestroom het nie, maar was dit ‘n dik en ryk stroom aan digterstemme.
 Carina van der Walt saam met Kreek Daey Ouwens uit Eindhoven. Sy was verlede jaar een van die genomineerdes vir die VSB-Poësieprys.
Ramsey Nasr het hierdie jaar spesiaal vir Gedichtendag ‘n klassieke sonnet oor digterskap en die invloed van die digter op die leser geskryf. Die titel, Sonnet voor 456 letters, lyk asof dit lukraak gekies is. As mens die gedig elektronies gaan toets, kom jy agter dat ‘n Word-program álles (tekens, reëls, spasies ens.) kan tel in ‘n teks, behalwe die aantal letters. Dit bring mens uit by die vraag of die titel wel so “lukraak” gekies is? Of wil dit iets sê oor die professionele máák van ‘n gedig; oor die noukeurige konstrueer van woorde, klanke, betekenisse, ritmes, leestekens, letters en spasies om by ‘n treffende gedig uit te kom? Sonnet voor 456 letters bestaan uit honderd woorde, titel ingesluit. Die Afrikaanse vertaling bestaan ook uit honderd woord, titel uitgesluit. Die titel moes natuurlik ook “vertaal” word.
Hieronder volg die Afrikaanse vertaling:
Sonnet vir 414 letters
En hier gebeur dit alles: binne-in
lê die sinne doodstil opgeklap
soos chromosome, diep onder my kaf.
Hulle wag op ‘n oog om te begin.
U lees - en lomerig weet ‘n vers om te ontspin.
Dit was ‘n strik, u het daarin getrap.
Geld nog ewigheid word aan u verskaf.
Hoogstens het ‘n ander iets om in te win.
Iemand anders se letters kaap u gedagte:
my DNA uitgedink en opgeslaan
het uit niks uit alles wat bestaan, onttroon.
My liggaam vonkel op geroofde kragte.
Voel hoe ek groei en blakend oop gaan.
Wie lees, word deur hierdie lewe bewoon.
Die bronteks kan in Nederlands op Nasr se webwerf gelees word.
http://www.ramseynasr.nl/web/DDVpagina/Sonnet-voor-456-letters.htm
{Carina van der Walt}
Friday, February 3rd, 2012

Szymborska oorlede: “Mozart van die poësie”
Op Woensdag, 1 Februarie, is die Poolse digteres Wisɫawa Szymborska na ‘n lang siekbed met longkanker in haar slaap oorlede. Haar familie en vriende was by haar in Krakau. Sy het 88 jaar oud geword. Die Poolse minister van buitelandse sake, Radek Sikorski, verwys na haar dood as ‘n “onvervangbare verlies vir die Poolse kultuur.” (NU.nl, 1 Febr.) Sy het die Nobelprys vir Letterkunde in 1996 gewen. Die beoordelaars van hierdie gerespekteerde prys het haar die “Mozart van die Poësie” genoem.
In die 60 jaar wat sy gedigte skryf, het sy nie vierhonderd gedigte gepubliseer nie. Toe sy gevra word waarom dit so min is, het sy geantwoord: “Daar staan ‘n snippermandjie in my kamer. ‘n Gedig wat saans geskryf word, word soggens herlees. Die gedig oorleef dit nie altyd nie.” (De Standaard, 1 Febr.) Daarmee demonstreer Szymborska haar humorsin.
De twee apen van Bruegel
Zo ziet mijn grote eindexamendroom eruit:
twee apen zitten aan de ketting voor het raam,
buiten waait de hemel voorbij
en baadt de zee.
Ik leg examen af in de geschiedenis van de mensen.
Ik stotter en modder.
De ene aap, die me aanstaart, luistert ironisch,
de andere doet alsof hij dut -
maar wanneer op een vraag een stilte volgt,
zegt hij me voor
met een zacht gerammel van zijn ketting.
Uit: Uitzicht met Zandkorrel (1997), Uitgeverij Meulenhoff, p.9, vertaler Gerhard Rasch)
Szymborska was ook ernstig van geaardheid en polities vir ‘n kort tydjie lid van die Kommunistiese Party. Na ‘n paar jaar bedank sy uit teleurstelling. Haar humor, nederigheid en erns vind weerklank in gedigte, wat dikwels subtiel en spookagtig mooi is. Hierdie “Mozart van die poësie” vermeng volgens die Nobelprys se jurie die elegansie van taal met die “raserny van Beethoven” (De Standaard, 1 Febr.)
Toe joernaliste haar na afloop van die prysuitreiking gevra het wanneer sy haar eerste gedig geskryf het, het sy so geantwoord: “Dit is moeilik om te sê wat die eerste gedig was, omdat ek baie klein was toe ek begin het om gedigte te skryf. Ek was ongeveer vier jaar oud. Natuurlik was dit lomp en belaglik. Maar as enetjie goed was, het my pa hom gevat en vir my geld gegee om sjokolade vir myself te gaan koop. Dus kan jy sê dat ek van my poësie begin lewe het toe ek vier was.” (De Standaard, 1 Febr.) Die meeste Nederlanders het met Szymborska kennis gemaak deur die vertalings van Gerhard Rasch in die reeds genoemde bundel. Uitzicht met zandkorrel het ‘n topverkoper geword. Dit gebeur nie sommer met ‘n digbundel nie. Hier volg drie strofes uit die titelgedig:
Uitzicht met zandkorrel
We noemen hem een zandkorrel
maar zelf noemt hij zich korrel noch zand.
Hij kan het af zonder een naam,
of die nu algemeen, bijzonder,
vluchtig, blijven,
verkeerd of passen is.
Onze blik en aanraking doen hem niets.
Hij voelt zich gezien noch geraakt.
En dat hij op de vensterbank is gevallen,
is uitsluitend ons, niet zijn avontuur.
Voor hem is dat vallen zonder meer,
zonder zekerheid of hij al gevallen is,
of nog valt.
Uit het raam heb je een mooi uitzicht op het meer,
Maar dat uitzicht ziet zich niet zelf.
Kleurloos en vormloos,
stemloos en geurloos
en pijnloos bestaat het op deze wereld.
Uit: Uitzicht met Zandkorrel (1997), Uitgeverij Meulenhoff, p.9, vertaler Gerhard Rasch)
Szymborska se laaste digbundel is Dwukropek (2006). In dieselfde jaar word dit tot die beste boek gekies deur die lesers van die Poolse koerant Gazeta Wyborcza. Verlede jaar het sy die hoogste Poolse onderskeiding vir verdienstelike werk in kultuur van pres. Bronislaw Komorovski gekry, die Orde van die Wit Adelaar.
Op 16 Mei verlede jaar het ek ‘n kort stukkie geskryf oor die eerste biografie wat oor Szymborska gepubliseer is:
Wislawa Szymborska - Prullaria, dromen en vrienden,
Anna Bikont en Joanna Szczesna
Uitgeverij De Geus
2007

(Carina van der Walt)
Thursday, February 2nd, 2012
Ek het as kind die Handspring Puppet Company se produksie van ‘A Midsummer Night’s Dream’ by die Baxter teater in Kaapstad bygewoon, en was in vervoering daaroor gewees. Ek het opgestaan om die marionette beter te kan sien, tot die konsternasie van die mense wat agter my gesit het. Ek wou ook kommentaar lewer oor wat op die verhoog aan die gang was (wel, dit was snaaks gewees!) Daar was iets magies en lewendig te bespeur in die beweging van die marionette, en in hul verhouding met die menslike akteurs, iets wat ek as kind nie stilweg kon aanskou nie.
In 2010 sien ek die teaterstuk ‘War Horse’ in Londen, en alhoewel ek nou as grootmens effens meer bedeesd in my sitplek bly sit het, was dit nog steeds ‘n besonderse ervaring. ‘War Horse’ is a verhoogverwerking van ‘n kinderboek deur Michael Morpurgo. Al die perde in die verhoogstuk word deur Handspring marionette vertolk, en in my opinie is dit juis Handspring se inset in hierdie teaterstuk wat dit ‘n veel meer intense en boeiende ervaring maak.
Verlede maand gedurende ‘n besoek aan Suid-Afrika het ek vir Basil Jones en Adrian Kohler, die twee stigters van die Handspring Puppet Company, ontmoet. Hul vennootskap op beide persoonlike en skeppende vlak strek al van hul studentejare by Michaelis kunsskool in Kaapstad. Adrian se ma het marionette gemaak en hy was van sy kinderjare af in daaglikse kontak met hierdie kunsvorm gewees. Basil in teenstelling het (soos baie ander mense) gevoel dat poppespel nie in dieselfde kraal as ander kunsvorme soos skilder of beeldhouwerk hoort nie. Maar Adrian het hom tog oorreed om met marionette te begin werk, en die Handspring Puppet Company is gestig in 1981.
Die poppemaatskappy het afgeskop met vertonings in kinderteater, maar het sukses begin behaal toe dit duidelik word dat grootmense ook gefassineerd is deur poppespel. Handspring het oor die jare ontwikkel tot ‘n veelsydige en dinamiese maatskappy wat in samewerking met kunstenaars soos William Kentridge ‘n besondere impak op Suid-Afrikaanse en wêreldwye gehore gemaak het. ‘War Horse’, byvoorbeeld, het die Laurence Olivier-prys in Engeland ontvang, en in 2011 kry Handspring ‘n spesiale Tony-eerbewys in New York vir hul marionette.
In gesprek met Basil en Adrian wou ek weet waarom die Handspring marionette so onvergeetlik is. Adrian, die hoof-ontwerper, bestudeer die bewegingsmoontlikhede van die marionette versigtig voordat hulle gebou word. In die geval van ‘n dier-marionet soos die perd, word daar ook gekyk na emosionele aanwysers, soos die ore en die stert, wat deur fietsremme beweeg word. Vir Adrian is die marionet se kapasiteit om realisties te beweeg (en te kommunikeer deur middel van hierdie bewegings) van die uiterste belang. ‘The shiver of the skin, the flick of an ear, all have meaning.’
Die perde in ‘War Horse’ is lewensgroot, maar is gemaak uit hout, rottang en materiaal, en die skroewe en laste op hul lywe is duidelik sigbaar. Soos die geval was in vorige Handspring produksies, is die marionetteurs duidelik sigbaar op die verhoog saammet die marionette.

- ‘War Horse’ se perde: Topthorn en Joey
Dit neem drie mense om elke perd te beheer, en hulle werk as ‘n span om die lewenskern van hul dier uit te beeld. Volgens Basil is die drie ingedeel in ‘a head, a heart and a hind’. Die persone wat die ‘heart’ en ‘hind’ posisies inneem, staan binne-in die rottang-geraamte van die perd en manipuleer die dier se bewegings deur middel van hul eie bene, asook ‘n reeks interne hefbome. Die ‘head’ staan buite die marionet en beweeg die nek, ore en kop. Dit is harde werk - die marionet self weeg ongeveer 30 kg, en die ‘heart’ en ‘hind’ mense moet gedurende die loop van die vertoning ook nog akteurs op die marionet se rug dra, die perd op sy agterpote laat staan en selfs rondom die verhoog galop! Baie van die marionenetteurs het ondervinding van fisiese teater, of is gimnaste of dansers. Basil en Adrian is self gesoute marionetteurs. ‘War Horse’ is die eerste produksie waarin hulle nie self verskyn nie, alhoewel hulle as vervaardigers optree. Hulle is ook betrokke by die keuse en opleiding van die marionetteurs vir die rolle.

In ‘n artikel* oor hul kunsvorm verduidelik Basil: ‘Handspring’s movement philosophy is based on restraint, on carefully planned and co-ordinated gesture, and on stillness’ (Jones, 263). In die geval van die ‘War Horse’ perde moet die drie mense leer om saam te werk en op mekaar te reageer om die geluide, impulse en persoonlikheid van die dier voor te stel. As hulle dit suksesvol doen, en ‘n lewende wese skep, beteken dit ook dat geen vertoning van ‘War Horse’ presies dieselfde is nie. Soos Basil dit stel gedurende ons gesprek: ‘There are hot nights and cool nights.’ Sommige optredes is energiek of aggressief, ander meer kalm en rustig. Dit is onvoorspelbaar, en opwindend.
Selfs wanneer die perd stilstaan op die verhoog, is die marionetteurs besig. Want die perde in ‘War Horse’ haal asem. Handspring het ‘n metode ontwikkel waar die illusie van lewe geskep word: die marionet se ‘heart’ en ‘hind’, dus die ‘lyf’ van die perd, beweeg stadig op en af op gebuigde bene om die marionet stilweg te laat asemhaal. En die gehoor reageer hewig op die perde se kombinasie van asemhaling en stilte. ‘We find that one of the most eloquent ways of communicating on stage is indeed not through movement but through stillness, or more exactly, a breathed stillness. [....] Breath and silence on the part of the puppet stimulate, in the minds of the audience, proposals as to the thoughts and emotions…this breathing is physical, yet it has a profound metaphorical power.’ (Jones, 262)

Dit is fassinerend dat so ‘n betowerende lewens-essens geskep kan word uit iets minimalisties, ‘n marionet wat op subtiele en elegante wyse ‘n perd op die gedagte bring en aan die lewe hou.
There is a point where in the mystery of
existence contradictions meet;
where movement is not all movement
and stillness is not all stillness;
where the idea and the form,
the within and the without, are united;
where infinite becomes finite,
yet not losing its infinity.
uit ‘Stilness’ deur Rabindranath Tagore
*‘Puppetry and Authorship’ deur Basil Jones in Handspring Puppet Company, edited by Jane Taylor. David Krut Publishing (2009).
Wednesday, January 18th, 2012

Soos die geval is met baie Westerse lande is Kanada taamlik sekulêr alhoewel ek nie daarin kon slaag om betroubare onlangse syfers te kry nie. Dit wil my voorkom asof ongeveer 18-20% Kanadese hulself bestempel as behorende tot geen geloof nie, maar dit is moeilik om vas te stel hoeveel van die res van die Kanadese bevolking gereelde kerkgangers is. Wat die geval ook al mag wees, wanneer mens deur die land reis en dan veral buite die prêries word dit gou opvallend hoeveel kerkgeboue in onbruik staan of baie min gebruik word.
Alhoewel ek self godsdiens beskou as nie veel anders as ‘n kindersiekte nie is daar tog iets aan ‘n mooi kerkgebou wat vir my ‘n soort van viscerale bekoring het, soortgelyk aan kerkmusiek - ‘n waardering vir sowel die onderliggende religieuse emosie, die struktuur van die werk en die blote sensuele skoonheid van die gebou/komposisie self. Wat kerke betref is my gevoel waarskynlik ten dele te wyte aan my vrou Lesli omdat ek kan sien wat haar geloof vir haar beteken. Sedert 2001, die jaar toe ons oudste dogter Liezl oorlede is het ons telkens, waar in die wêreld ons ook al ‘n Katolieke kerk teengekom het, dit binnegegaan en ‘n kers in haar nagedagtenis aangesteek. Vir my is dit ook ‘n betekenisvolle gebaar al deel ek nie Lesli se sienswyse daaromtrent nie. En soos dit nou maar in politiek korrekte Kanada gaan en met die dat baie kerkgeboue van hout of ander vlambare materiaal gemaak is, is die aansteek van kerse in baie kerke verbied omdat die gebou kwansuis kan afbrand, gevolglik het ons sedert ons aankoms hier vier jaar gelede net twee keer kerse kon aansteek.
Ek het nie Andries se kennis van argitekte of boustyle nie, al wat ek kan bied is enkele foto’s van kerke wat vir my nogal treffend was, sowel as een of twee foto’s oor dinge waarvoor ek nie ‘n ander rede kan kry om te skryf nie maar wat ek tog graag wil plaas.
In September verlede jaar was Lesli en ek in Victoria, die hoofstad van British Columbia, waar ek ‘n kongres bygewoon het. Ons was net tien dae daar en benewens die feit dat ek natuurlik die kongres moes bywoon het ons ook baie tyd spandeer in die wêreldberoemde Butchart Gardens (google dit gerus), restaurante, boekwinkels, vlugte in “seaplanes” (dalk kan iemand help - wat is ‘n goeie Afrikaanse woord hiervoor, “vliegboot” klink nie vir my reg nie) en doodgewone rondwandel en dus net twee kerke gesien. Een was sigbaar uit ons hotelkamer en was regtig niks noemenswaardig nie, die ander een was die kapel van St. Anne’s Academy, Victoria BC, in ‘n nabygeleë klooster. (Kyk foto hier bo). As ek reg onthou dateer dit uit 1871.
Julie verlede jaar het ons twee weke lank deur Newfoundland getoer en dadelik op daardie provinsie verlief geraak, agterlik soos dit weliswaar deur baie Kanadese beskou word. Die Anglikaanse kerk, The Cathedral of St. John the Baptist, in St. John’s, hoofstad van die provinsie Newfoundland en Labrador, het ‘n besondere orrel, gebou deur die Engelsman Robert Hope-Jones in 1904 en in 1927 gemodifiseer deur die orrelbouer Casavant Frères van St. Hyacinthe in Quebec. Hope-Jones, wat in 1914 (as ek reg onthou) selfmoord gepleeg het, was ‘n baie innoverende orrelbouer, moeilik om mee klaar te kom maar sy baanbrekerswerk het na sy dood gelei tot die Wurlitzer orrel. Die orrel in St. John’s het ‘n besonder indrukwekkende klank alhoewel die uitstekende akoestiek van die kerk natuurlik ook ‘n bydrae lewer. Dit het vier klawerborde vir hande, een vir voete, 52 “speaking stops” (weet nie wat dit in Afrikaans is nie) en nagenoeg 3 600 pype. Ons het een van die gereelde Woensdagmiddag-uitvoerings bygewoon en na die tyd met die orrelis, David Drinkell, gaan gesels. Die uitvoering was werklik ‘n besondere ondervinding en die gemeente kan homself gelukkig ag met so ‘n goeie en begeesterde musikus.
Orrel van die Cathedral of St. John the Baptist in St. John’s, Newfoundland.
St. John’s is ook die tuiste van die Rooms-Katolieke Basilica of St. John the Baptist (twee katedrale van verskillende denominasies maar dieselfde naam - dalk ‘n soort van wedywering?) waarvan ek ongelukkig nie ‘n goeie naby-foto kon neem nie, maar ek skat dat hierdie foto, geneem vanaf Signal Hill, ‘n goeie idee sal gee van hoe hierdie kerk bo die stadjie uittroon sowel as van die argitektuur van die gebou. Dit is nogal ‘n indrukwekkend van binne sowel as buite.
Basilica of St. John the Baptist, ook in St. John’s.
Binnekant van die basilika.
Deel van ons reis het ‘n besoek aan die klein dorpie Cow Head in die Gros Morne National Park in die noordelike skiereiland van Newfoundland ingesluit en alhoewel die plaaslike Anglikaanse kerkie eintlik maar net ‘n soort van opslaangebou is, nie die moeite werd om af te neem nie, kan ek nie die versoeking weerstaan om hierdie foto te plaas nie.
Anglikaanse kerkie in Cow Head.
Ek het die foto hier onder geneem terwyl ons op ‘n bootrit in die Golf van St. Lawrence verby ‘n klein vissersdorpie gevaar het, die kerkie was hoog op teen ‘n berghang, geïsoleer van die dorpie self, dalkies tekenend van die algemene stand van godsdiens in Kanada as geheel?
Ons het die effens skewe kruis op die toring nogal amusant gevind en het gewonder: is hierdie kerkie die gemeente se religieuse en/of sosiale swaartepunt? Hoeveel mense in ‘n streek wat oor die algemeen as konserwatief beskou word woon nog kerkdienste by? Gesien die skynbare goeie toestand van die gebou mag daar dalk heelwat getroue kerkgangers wees, wie weet.
Kerkie in die Golf van St. Lawrence.
Christ Church Cathedral in Montreal se neogotiese styl het vir ons ‘n mooi kontras gevorm met die pienk gebou in die agtergrond. Die gebou is deur Frank Wills ontwerp en in 1859 voltooi. Dis nou die kerk, nie die pienk gebou nie…
Christ Church Cathedral, Montreal.
Die volgende twee foto’s is nie van ‘n kerk nie maar wel van ‘n tempel - een gewy aan Mammon.

Binnekant van die Royal Bank of Canada, Montreal.
Is daar iewers in die wêreld selfs ‘n middelmatige groot Franssprekende stad wat nie ‘n Notre Dame katedraal het nie? Montreal is geen uitsondering nie maar die Notre Dame katedraal aldaar het ons nie juis besonder beïndruk nie. Nogtans, hier is soos dit lyk - ongelukkig kon ek nie ‘n foto vanuit ‘n goeie perspektief neem nie want oral rondom die katedraal was werkers besig om strate, sypaadjies en parkeerterreine op te kap en als was afgesper.
Notre Dame katedraal, Montreal.
Die klein en pragtige dorpie Mahone Bay in Nova Scotia het drie werklik mooi kerke (Anglikaans, Luthers en United) aan die dorp se waterfront in Edgewater Street, almal binne sowat 300 meter van mekaar. Elkeen is grootliks van hout gebou en daar word dikwels musiekuitvoerings aangebied. Hierdie drie kerke is dwarsdeur Kanada bekend en waar mens ook al in Nova Scotia reis kan mens poskaarte koop met foto’s van die kerke langs die waterfront.
Ons het Mahone Bay oor ‘n naweek besoek en elke Saterdag is daar oorkant die kerke ‘n straatmark wat ons natuurlik besoek het. Ons het elkeen ‘n sny vars brood en ‘n Tim Horton’s koffie gaan koop en op ‘n bank langs die waterfront gaan sit en om die beurt na die kerke en die baai gekyk. Toe dink ek onwillekeurig aan oom Simon Uys, ‘n nou al lank oorlede algemene praktisyn in Bellville wat dikwels geassisteer het by operasies waarvoor ek narkose gegee het. Benewens ‘n pragtige bry het hy ook ‘n klein wynplasie besit en eendag vertel hy my hoe hy die Saterdagmiddag op sy stoep gesit het met ‘n glas wyn in een hand en ‘n sny vars, warm brood in die ander, en aan homself gesê het “Jiggghe, Simon, jy is dagghem gghyk!” Hy het nie van geld gepraat nie. Op daardie dag in Mahone Bay het ek ook so gedink.


Drie kerke in Mahone Bay.
Ons het ‘n onbeplande naweek in Antigonish (uitgespreek as AntIgonish) deurgebring, bloot omdat ons iewers vir ‘n paar dae wou ontspan en Antigonish was die naaste dorp vir hierdie doel. Ek het eers later uitgevind dat dit die tuiste is van die digteres Anne Simpson.
Seksuele molestering van seuntjies deur priesters het natuurlik ook in Kanada plaasgevind en skynbaar veral in Nova Scotia. Die voormalige biskop van daardie provinsie, biskop Raymond Lahey, is baie lof toegeswaai toe hy ruiterlik erken het dat hierdie skandale plaasgevind het en ‘n skriftelike verskoning sowel as ‘n skikking ter waarde van $15 miljoen bewerkstellig het om die slagoffers te vergoed. En sowaar, net ‘n paar maande later is hy betrap met kinderpornografie op sy rekenaar. Hier is St. Ninian’s katedraal waar Lahey gesetel was.

St. Ninian’s in Antigonish.
Nova Scotia het waarskynlik meer kerke per honderd vierkante kilometer as enige ander gebied wat ons nog besoek het. Dikwels kom mens ‘n kerk sommer in die middel van nêrens teen, soos die kerke in die onderstaande twee foto’s. Meestal is die geboue goed versorg maar dit was moeilik om te oordeel of dit wel nog vir dienste gebruik word. Plattelandse Nova Scotia en Newfoundland se kerke is oor die algemeen strak, wit en eenvoudig.
 
Twee kerke in Nova Scotia.
Gravelbourg is ‘n kleinerige dorpie in die suide van Saskatchewan en die tuiste van die Cathedral of our Lady of the Assumption wat in 1919 voltooi is. Gravelbourg was tot redelik onlangs een van die min Franssprekende enklaves in Saskatchewan en die katedraal het in 1930 die setel van ‘n Katolieke biskop geword. Die dorp het sedertdien al meer verengels en die Katolieke populasie het tot so ‘n mate afgeneem dat daar nie meer ‘n biskop is nie en deesdae is die gebou bekend as ‘n ko-katedraal, wat dit ook al mag beteken. Die gebou self is taamlik onaansienlik van buite maar die binnekant, geskilder deur Monsignor Charles Maillard, is ‘n fees vir die oog en is ‘n uitbeelding van die sondes van die wêreld, die veertien stasies van die kruis (ek hoop dis die korrekte Afrikaans vir stations of the cross) en die dood van St. Philemon - voordat die kerk ‘n katedraal geword het is dit vernoem na St. Philemon, wie hy ook al was. Ek kon nie vasstel wanneer Maillard die interieur geskilder het nie maar dit was waarskynlik in die vroeë 1920’s.
Wanneer mens Gravelbourg se buitewyke benader is een van die eerste sowat ses dinge wat mens opval die reklameborde (as dit nou in hierdie geval die regte woord is) wat aborsie afkeur. Die afname in die Katolieke populasie ten spyt het dit skynbaar nie die sienswyse van die inwoners verander nie. Nogtans is dit ‘n dorpie met ‘n taamlike kosmopolitaanse atmosfeer (wel, kosmopolitaans vir die prêries) en met ‘n paar lekker restaurante.
Katedraal in Gravelbourg.
Hierdie is waarskynlik die kleinste kerkie in Kanada, net buite Drumheller in Alberta se Badlands. Plek vir drie, die prediker en nog twee mense.

Kerkie in die Badlands.
Die Badlands.
Die rede vir ons besoek aan Drumheller was nie om die Badlands of Drumheller self te sien nie want dis maar ‘n redelik mistroostige dorpie - ons motivering was die Royal Tyrrell Museum net buite die dorp. Die Badlands het een van die rykste bronne van dinosouriërfossiele wat bekend is en hierdie museum is die enigste ter wêreld wat net aan paleontologie gewy is. Dit is ook ‘n “werkende” museum in die sin dat daar aktiewe navorsing gedoen word en van die uitstallings was werklik asemrowend. ‘n Verdere bydrae tot ons opwinding was ‘n uitstalling van Kambriese fossiele uit die Burgess-skalie wat in British Columbia se Rockies te vinde is, fossiele wat meer as 500 miljoen jaar oud is. Dit was die eerste keer dat ek van aangesig tot aangesig gekom het met onder andere Anomalocarus en Opabinia. Hier staan Lesli by die been van ‘n uitgestorwe dinosouriër.
Lesli in die Royal Tyrrell Museum
Andries het in sy uitstekende inskrywing oor kerke genoem dat toenemende ontkerstening tot gevolg het dat baie mense nie meer verwysings na die Bybel in letterkunde sal verstaan nie. Hy is waarskynlik korrek. Die King James weergawe van die Bybel, saam met Shakespeare se werke is sekerlik die twee geskrifte wat die grootste bydrae ooit tot die Engelse taal gelewer het. Dit bly vir my interessant hoe lank sulke kennis by mens bly voortbestaan. Ek het laas ‘n Bybel oopgemaak toe ek sestien was en moes katkiseer, maar steeds verstaan ek baie sulke verwysings - hoeveel by my verbyglip weet ek weliswaar nie. Dit laat my beslis armer - en nie net vir my nie maar ook daardie mense wat van kindsbeen af geen sulke kennis het nie.
In the secular night
In the secular night you wander around
alone in your house. It’s two-thirty.
Everyone has deserted you,
or this is your story;
you remember it from being sixteen,
when the others were out somewhere, having a good time,
or so you suspected,
and you had to baby-sit.
You took a large scoop of vanilla ice-cream
and filled up the glass with grapejuice
and ginger ale, and put on Glenn Miller
with his big-band sound,
and lit a cigarette and blew the smoke up the chimney,
and cried for a while because you were not dancing,
and then danced, by yourself, your mouth circled with purple.
Now, forty years later, things have changed,
and it’s baby lima beans.
It’s necessary to reserve a secret vice.
This is what comes from forgetting to eat
at the stated mealtimes. You simmer them carefully,
drain, add cream and pepper,
and amble up and down the stairs,
scooping them up with your fingers right out of the bowl,
talking to yourself out loud.
You’d be surprised if you got an answer,
but that part will come later.
There is so much silence between the words,
you say. You say, The sensed absence
of God and the sensed presence
amount to much the same thing,
only in reverse.
You say, I have too much white clothing.
You start to hum.
Several hundred years ago
this could have been mysticism
or heresy. It isn’t now.
Outside there are sirens.
Someone’s been run over.
The century grinds on.
© Margaret Atwood
|
|