Gedigte

Emma Bekker. Die laaste sê

Friday, October 20th, 2017

Die laaste sê

 

My ouma het ons op ’n windgekotste dag

uit strandhuismuf gejaag, om strandlangs te loop speel.

 

Snotsandspore op bolippe,

stofverstopte traankliere,

herekleinekinderbende,

besetenevangadaraseeskuim om enkels,

middeloorontstekingtrotserend,

het ons vir skaars babatoonskulpe

gekrap in die loopsand van die golflyn,

die streep tussen bloubibber en plesierril

so dun soos die sonrokkie onder my handdoekstof strandjakkie.

 

Ouma was bekommerd oor die sluipaanslae van die duiwel,

die skerpsteek van die son op wit velletjies,

die uitlokkendheid van loslanghare,

die vuurklip van lostonge. Die gesoute seewind se gesang

was vir haar gewyd: “Nader, my God, by U.”

 

“Eer jou vader en jou moeder,”

het my ma se mond gebodgesnoer

oor Ouma se windgeteisterde telgtoer.

 

Daar bly Ouma sit,

gestrand in my limbiese streek,

veramber in ’n laaste seevakansie,

haar glasoog op ander einders gerig:

“Kinders moet weet hoe die wind voel.”

 

 

© Emma Bekker – 2017

 

 

Pieter Fourie. Twee gedigte

Wednesday, October 18th, 2017

seisoene

 

lente:

botsel

blaartjie

 

somer:

blaar

lowernet

 

herfs:

elke blaar

verkleurmannetjie

klief die net

tot net n wit skelet

 

winter:

bleekwit

geraamtes hier

sonspinnerakke

encore populier!

 

***

 

 

liedjie

 

as trassie nou

met tollie trou

skei jakkals,ja

van wolf se vrou

 

die droogte lag

weer in sy mou

 

© Pieter Fourie – 2017

De Waal Venter. Beginnend by die begin

Monday, October 16th, 2017

Beginnend by die begin

 

Sy gedagtes het eienaardige vorms,

en party van hulle

pas netjies in mekaar

soos drie-dimensionele legkaartstukke,

molekules wat geure oordra

en knus pas in die vorms

van die regte senu-eindpunte

in die slymvlies van die neus.

 

Een besondere gedagte

kom nogal dikwels voor.

Dit is naastenby gevorm

soos ’n outydse tikmasjien

met bewegende toetse en rolstel.

 

Gewoonlik fladder hy vrolik rond

sonder om ’n spieëlbeeld

van homself te kry waarin hy kan pas.

 

Maar vanoggend loop hy hom vas

in so ’n gedagte,

alhoewel met ’n ander kleur –

elektries blou met ’n neiging

om te iridesseer.

 

Die twee smelt saam

met ’n klank soos die laaste bietjie water

wat uit die bad loop.

 

Die toetse begin beweeg

en die rolstel rol na regs.

Woorde verskyn:

Sy gedagtes het eienaardige vorms.

 

 

© De Waal Venter / 2017

 

 

Johann Lodewyk Marais. A Day of Celebration

Friday, October 13th, 2017

A Day of Celebration

 

Jy drink ’n cocktail in die Library Bar

van die Royal York waar die koningin

’n goue hysbak en eie suite het.

 

Met ’n glas Célibatiere in die hand

blaai jy benieud deur die Toronto Star

en kiek die interieur met jou iPhone.

 

Ek sien leer, hout en lig op die foto

en op ’n skemerdrankielys name

wat Munro, Atwood en Negroni eer.

 

Van die spyskaart af bestel jy later

’n seafood chowder met salm, mossels

en garnale in ’n geurige sous.

 

Ek skryf vir jou boodskappe oor Bangui,

Dakar en Douala en die lappe

wat daar oraloor op straat te koop is.

 

Jy hou van die atmosfeer, geluide

en reuke van verskillende plekke

en skuif na die balkon bo die foyer

 

met groot leesstoele en skryftafeltjies

voor jy in jou drome met die hysbak

na ’n suite, onder wit lakens, verdwyn.

 

 

(© Johann Lodewyk Marais)

Breyten Breytenbach. Om die pampoen te soen

Saturday, September 16th, 2017

                                          « om die pampoen te soen »

(fragmente van ‘n brief uit WOKNAKWYS)

 

elke stilbeweegstonde van die dag
is gedig
wanneer jy ontvanklik is –
elke moment van mou en mansjet
ontmoeting met wat lewe
of gelewe het
‘n lewegewende lewensles

alles wat ooit bestaan het
alles wat ooit gelewe het
alles wat ‘n ruimte laat bewe
om ‘n merk te laat
vir die vergeet
van altyd se wees
want al manier om die lewe
verby vashou te onthou
is om dit veilig te bêre
onder die pols-sing van maanvergeet –
elke asemteug grasspriet goejop
voëlsang wolk potlood tong

is boeddha, my boet pampoen

alles wat bloei tot boeddhawees
is pampoenmaan
en jy net (‘n) bewuswording
om onder te gaan in die lewe
en so te bly bewe in die dood

jy mag maar huil
want alles huil
in stilte se syn

jy mag maar
intiem by nie-syn ingaan

daarom: indien jy boeddha
teenkom op die weg:
maak hom dood
met al die liefde
van jou vergaanbestaan

en éét daai soetpampoen

 

Liewe susters en sisters, koeke en kadawers, mede-sterwelinge, taalverknottes, grootbekke en stilblyers en swygsames en verkneukeraars, spieëlversottes, spotters, spoorsnyers –

Vir liewe broer Ampie wat saam met my gejolliebôjaan het toe die berg van ‘n onmoontlike revolusie uitgeklim moes word (en die dors ons oorval het), en vir julle almal wat ook soos kameraad Ampie en Jôrs Troelie moet begin aanlê uit die donker, boesempêlle word met die skaduwees (en die ore sluit vir die vergaanwete dat skaduwees die koggelende vernietiging van enige en alle substansie is :

Liewe Leser, jy wat al so lankal dood is, vir wie ek nog aanhou skryf omdat dit die enigste manier is om te vergeet en te laat gaan :

  jy lees hier, Leser

 en is daarmeegaande ewe hiér

 aandadig aan die gesigbaarmaak

 van woordverwording

 se bewelewe


Ek wou vir julle, vir jou, ‘n brief skryf soos dit hoort. Dit sou ‘n soort reisverslag kon wees van die afgelope pampoensiklus se swel en verrotting, van vlugte na verre eilande, van dans met die skemering as lig. Miskien om vir julle (jou) te vertel van die voortslepende verlange na sangerigheid.

 

jek is soms terneergeslaan

deur die donker vergang

van my denke

 

maar onthou dan :

niks wat nie neergeskryf is

sal weer kan bestaan nie

 

*

 

jek het te veel ewe windgat

                         rondgehang

met konsepte

                        bo my vuurmaakplek

 

en is nou die spreekwoordelike

                        gerookte snoek

dikbek van dronkverdriet

 

*

 

 

Nou wanneer mens begin soek na die uitgang (ganôg es ganôg) neem elke skrywe die gedaante van ‘n testament aan – ek bedoel, dit pas die magiese snyerskleed van verdwyning aan om seker te maak die moue is lank genoeg sodat die honde nie die hand wat die wind vang kan bykom nie, ook as verweer teen die koue natuurlik. Of dalk maak ek my verniet dit alles wys en bly die skrywe by wyse van spreke maar soos altyd ‘n pepermentjie om gesuig te word as teenspeeksel vir die voet in die mond se lawwe smaak.

Hierdie is egter nie ‘n testament nie, dêmmit ! Stel dit liewer vir julle voor as ‘n dêmmitse boerpampoen in die hoer se kruiwa gekarwei so al agter die stoot aan : om in die Boland begrawe te word in daardie gat wat slegs die eenhoring sal weet om verby donkerword in die maanlig te kom uitsnuffel.

 

Jek gee niks as belewenis aan

Maar wil julle tog maan :

Moet dit nie laat val nie !

 

 

besinning

           

ek skryf

in Afrikaans

met ander woorde

ek praat met die dooies

 

gisterende dooies

nou dooies van nou

die toekoms se dooies

sonder hede of verlede

 

is om’t ewe dood :

om leefwoord en woordbewe

nie te onthou : skryf ek

in Afrikaans

 

gedig vir woorde

 

dis nie dat ek na my woorde soek

(sê wié van wanneer ?)

want ek weet julle soek my eweneens

kom klop aan die sinnelose hart

wat lankal ‘n eggokamer

van vlerkslae is

en jaag soms sillabes op in die donker

soos die ettering van ou swere

weer bloei

 

luister,

moenie blindemol speel

moenie ophou soek

na omlyning van die herinnerde gesig

in die donker bloed nie

 

ek sal hier wees

soos altyd

(effens vervloek van ‘n té lang reis)

in die leë gedig

 

om verby genade die holtes oop te hou

en die fees van vlervoëls weer verbeel

vir julle huis toe kom

 

en indien dit dan moet wees

dat ons ons afwesighede aanneem

is dit ook goed

 

kyk,

in die skryflaai van raaisels

is die goëlaar se handkaart

gebore en weggebêre

(myne ? van wanneer af ?)

 

neem dit

sodat julle die beweging

na mag maak

om aan die skyn

van volbringing te raak


die sestiende versreël verbeel

 

ons word oud

en weet nie meer

dat ons verdrink in die lippe se inkskink

van blindbestaan nie

 

donkermaan pampoen

voorgeboorte klip

gee gesig

aan afwesigheid

 

pampoen geëet

het vergeet om te vergaan

behalwe geboen in die weerblink

van ‘n naam

 

om die saamsaam

van ons sinkende skip

met hierdie gewiglose soen

te verseël

 


om uit te kyk op niks

te belewe daar is niks

of selfs die vel van niks

of selfs die skyn van niks

wat uit kan kyk nie

 

asof die son om die planeet

sou wentel om die bome

teen die bult gebaai

in lig te vra vir die dans

van bewegingloosheid

 

wit bedwelming jasmyn

deur die raam

oop asemhaling van wind :

goeiemôre, son.

hoe ? nee, niks slaap nie

 

 

« going home without this sorrow /

   going home sometime tomorrow /

   going home to where it’s better than before /

   going home without this costume I wore… » (Oupa Lewe Cohen)

Pampoenmaandag, 2017

[© Breyten Breytenbach]

 

 

De Waal Venter. Menslike genade

Thursday, July 27th, 2017

Menslike genade

 

Die punt is, sê die bonobo,

ons is eenvoudig

nie so skerp soos hulle nie.

 

In sekere opsigte,

werp die orang-oetang teë,

is ons skerper – reuk, byvoorbeeld.

 

Die bonobo skud sy kop treurig,

ons het net nie hulle drang

tot vernietiging nie.

Dit lyk my hulle geniet dit,

dis asof hulle daarop floreer.

 

Dink jy hulle gaan ons mis?

vra die orang-oetang

en sit ’n halwe appel in sy mond.

 

Waarskynlik nie, antwoord die bonobo,

ek het nog nie enigeen van hulle

’n enkele traan sien stort oor die Neanderthallers nie.

 

Die orang-oetang sluk ’n stuk appel in.

Jy’t ’n punt, sê hy tussen die appel deur.

 

(c) De Waal Venter / Julie 2017

 

Breyten Breytenbach. Omswerwing

Tuesday, July 18th, 2017

omswerwing

 

ons is die rondreisende troebadoers

my jong vriende, in hierdie winderige wêreld

om ons tekste voor te lees

vir ‘n onsigbare publiek wat nie die taal verstaan nie

 

moenie julle van stryk laat bring

deur die gestotter van masjiengewere nie

kom ons verbeel ons dis die kaalwang katlagters

van ons jeug

 

laat ons in ‘n sirkel staan

my jong vriende : wys my weer

die omslag van my laaste boek

bedenkinge, die foto wat ek nog nooit

vantevore gesien het nie, a,

van die kaalkop kind voor die outydse huis

in ‘n tuin van winde

 

ek onthou nou iets van die liefde

en dat ek ‘n onsigbare hond

aan ‘n tou om die hals gehad het

met die naam Zen – julle moenie

lag nie mense

miskien is hy nog steeds hier iewers brak

om vir die maanverstand en die wind te blaf

 

sal ons die tekste repeteer ?

moenie julle laat afsit deur die gestotter

van ‘n vreemde taal nie

my jong vriende : ek sal elke gedig

eien as synde myne opgedra aan Zen

want die dood is maar net ‘n tuin

 

as ons mekaar in die oë bly kyk

my jong vriende, sal ons

ons nie steur

aan die publiek wat die hond wegjaag

of nie weet wanneer die klippe ons weer

en weer doef nie

 

en luister, dit wil ek nog sê :

laat my die koda resiteer :

l’amour est un merdier de mouches

dit wil sê

die liefde is ‘n laken van vergeet

oor die kakemmer vlieë

 

 

© breyten breytenbach/ 2017

 

Melanie Grobler. die gebreekte vaas

Monday, May 29th, 2017

 die gebreekte vaas

 

1.

 

My ma het reeds haar naam vergeet

toe sy die trappe klim na die skemerhuis

 

waar stapels klere eens op ’n somermiddag

op die strand gedra is, nou slordig oor die meubels hang.

 

Ek droom van my ma, haar brandende gees

as sy na die mistige blou porselein vaas

deurdrenk met vreugdes en klaagliedere loop.

 

Daardie vaas op die tafeltjie wat draaiend

en tuimelend deur die ruimte geslinger word

die ligblou skerwe wat die ruimte vul

 

ek hoor die herhalende klank van versplintering

iets wat breek, asof sy vanaf die rant

van die afgrond al haar besittings

in die donker dieptes gooi.

Ek het nooit die gewig

van ware waansin ervaar nie.

 

 

2.

 

Ek is die enigste dogter van my ouers

beeldskoon maar nie sterk nie

 

alles het verander toe ek in die stad

met sy helder elektriese ligte gaan bly het

 

daar het my komplekse gemoed verdeel

my hoogtes het torings geword

my laagtes ’n dooie see

 

die driwwe en riwwe en onstuimige branders

van my siekte, word my lêplek

ek verdrink in die donker see

 

hier waar ons voor die kaggel van die strandhuis

sit, takseer my oplettende vriende my gedrag

hulle sien die reën as dit teen die melkhout slaan

 

buite die venster

tuimel een mal seemeeu

na die voue van waansin

die kosmos frons oor sy uitspattige gedrag.

 

 

3.

 

Na die storm lê die skerwe oop

en bloot op die wit strand

ek wag geduldig

 

my oë soekend na ’n besondere

blou, verdof deur sout en sand

ek wag geduldig

 

buk af om die stukkies te bekyk

na die sagte glimmende kleur

tussen die klippers en die skilfers

 

die porselein is droog en poreuse

die blou glans

vertroebel en gladgeskuur

 

sonder tekens van die verwoede golwe

wat hul vermorsel het; gloei en klik

hul teen mekaar in my handpalm

 

meteens is die blou meer helder

asof die pigment nog nat is

asof die glasuur so pas aangeverf is

 

die objek weet nie dat dit vermorsel is nie

die stukke weg gedra na verre strande

vyf stukke, een met ’n noukeurige geometriese

patroon, twee heeltemal wit, een wit met ’n smal

dubbel band donkerblou en die laaste skerf

die kleinste van almal, ’n goddelike kwatryn

op die dak van ’n piepklein pagode geverf.

 

© Melanie Grobler / 2017