Kompetisies

Wenners van die lykdig-kompetisie!

Monday, August 4th, 2014


Wenners : Lykdig-kompetisie
Baie geluk!

 

EERSTE PRYS (R2000): Lykdig 23: René Bohnen. Peter Blum

TWEEDE PRYS (R1500): Lykdig 56: Dominique Botha. I always loved the wild things best

DERDE PRYS (R1000): Lykdig 40: Marius Crous. Lykdig vir Wisława Szymborska

EERVOLLE VERMELDING (R500):Lykdig 33: Louis Jansen van Vuuren. Maak dit ‘n dubbel

(more…)

Kortlys van finaliste: lykdigte

Thursday, July 24th, 2014

Die kortlys van 20 finaliste vir ons Lykdig-kompetisie!

 

Baie dankie vir al die inskrywings wat ontvang is.  Drie buite-beoordelaars sal nou die finale beoordeling van die lykdigte op die kortlys (steeds anoniem) behartig.  Ons sal die wenners se name hopelik teen die 4de of 5de  Augustus bekend kan maak.  Miskien selfs vroeër. Die keuse was moeilik, en ons het dus op 20 gedigte besluit ipv net 15 soos verlede jaar.

 

20 Finaliste vir die Lykdig-kompetisie.

Dié kortlys is nie in volgorde van belangrikheid of keuse nie.

  Dit word slegs numeries gerangskik.

Volg die skakels op die titels van die gedigte.

Lykdig 1: Ek het jou belowe

Lykdig 2: Vaarwel Pablo Neruda

Lykdig 9: Ingrid Jonker

Lykdig 12: Klipoog

Lykdig 14: Lykdig

Lykdig 16: wanneer verse begin droom

Lykdig 17: herdenking

Lykdig 19: Buiteblad

Lykdig 20: kersiewit : dorothy parker

Lykdig 22: Tuin van mondings

Lykdig 23: Peter Blum

Lykdig 30: By die graf van D.J. Opperman

Lykdig 33: Maak dit ‘n dubbel

Lykdig 35: Klipwerk

Lykdig 39: Dodemis vir Federico García Lorca

Lykdig 40: Lykdig vir Wisława Szymborska

Lykdig 50: Swiep van ‘n windswael

Lykdig 51: Lykdig vir Sheila

Lykdig 55: Klein manifes van ’n reisiger

Lykdig 56: I always loved the wild things best

 

Vorige lykdigte  kan ook weer hier  gelees word.

Met dank en waardering vir ‘n goeie aantal inskrywings wat ons ontvang het, al was dit ‘n moeilike opdrag!

Redaksie: Versindaba.

 

 

 

 

Lykdig 56: Dominique Botha. I always loved the wild things best

Tuesday, July 22nd, 2014

I always loved the wild things best

(vir Eugène Marais)

opgedra met dank aan Leon Rousseau

 

op sewentig eet die perdedief

Jakob Breytenbach beskuit in die tronk

aangedra deur Eugènetjie Marais

vir ‘n held van die eerste water

 

(oom Jakob steel want hy is lief vir diere sê Eugène se ma)

 

haar man kwyn sonder aansien

in ‘n skommelstoel op die voorstoep

haar laatlam se dae halm oop

in velde en voorkamers waar die ure

asem ophou in narsings

en kwikkies soos note op ‘n frase

by die kombuisvenster vleis afsmeek

 

wees bang vir die sonde

mijn kindjie

wees bang

hy pik en bijt nes ‘n giftige slang

 

op Markplein tussen nagmaalspore

onder doringbome verkwansel Eugène se oom

die hemelbesem Lang Piet

foto’s van hom en King Coffee die swart dwerg

wat hy later blosend terugkoop

 

(die swart gevaar omsluip nog soms die trekkers se nagte)

 

die kind is suide toe op ‘n wa

met ‘n vrag lemoene vir Kimberley bestem

en ruil vrot vruggies met oopmond Vrystaters

vir kuikens om

 

‘n geleerde man in ‘n krawat keer terug

en pendel in ‘n koets

tussen Pretoria en die goudstad

om klippe in die pad te lê

van die vrome takhaar Kruger

terwyl sy pa die stoeppilare

in die middel van die nag

kersierooi verf

 

(oud president Burgers wil in ‘n skaapkraal begrawe word)

 

na jare van versugting

net maande van geluk

‘n smoordronk arts

te laat uit die stad verjaag

die bruidegom geknip uit koerantpapier en fier

in die psalms van sy hande

die rokende na-vat

van ‘n verkoolde bruidsvlug

 

(‘n klippie val uit Kruger se skoen diep ‘n donker vywer in)

 

in sy dakkamer in Londen

troos Eugène ‘n siek sjimpansee

deur die ongeneeslike winter

in advokaatsleer het hy min sin

 

“g’n man met ‘n siel bokant die van ‘n streepmuis

kan hom voortdurend aan die soort werk gee nie.”

 

sy dae verdwyn soos spelde

 

met die laaste groet staan hy op ‘n bank

om oor die skare voor die hokke te wuif

die apie was met die wedersiens so dol van blydskap

dat Marais haar in die hok mog omhels

 

‘n newel op vlerke van papawer

krul om die nokke van die suiderkruis

 

ylend in Lourenço Marques

onthou hy die heerlikste maaltyd van sy lewe

as die seeskilpad met eiers in vet gebraai

deur die dronk kaptein wat belowe het

van pêrels so groot soos appels

 

‘n heuningvoël lok hom terug

deur versengde provinsies

om in die kaal takke van strofes en klinkers

‘n korf oop te breek

 

met versoete vleuels dra sy woorde

die mees beskeie blom van die veld verse aan

 

saans dop die maan soos die oog van ‘n malle om

 

terwyl daar nog vars papier is vlug

hy met ‘n sak vol truuks

oor riviere wat wemel van krokodille

en ken sy gelukkigste jare tussen bobbejane

waar hy kon stap soos ‘n boer deur sy skape

 

respyt en spyt

 

‘n nagrefrein wat

haarself met swaar voete

deur ‘n donkerwordende partituur sleep

 

alles kon hy besweer

maar nie die adder aan eie bors

wat met vrypas deur sy are

aan die hart kom drink het

soos by ‘n kuip

 

‘n verslete verstoteling

voortvlugtend vir beelde

wat deur sy drome galop

sonder behae in sy dae

en sy nagte hel

 

die knal van ‘n haelgeweer het die newel gevel

 

Jan Konterdans

die vioolspeler uit die groot woestyn

het hom kom haal

 

om hom terug te neem

na oom Dirk se huis.

 

Hy het dit so aan Jan vertel:

 

“Daar gaan ‘n wonderlike skouspel op die voorstoep wees.

 

Op die vloer sal dit wemel van bont vere in al die kleure van die reënboog.

Selfs die gedruis van die waterval is onhoorbaar onder die gefluit!

Op ‘n rusbank, in die middel van die gewemel en die geraas, sit oom Dirk.

Sy hoed, sy skouers, sy skoot, tot sy velskoene, vol voëltjies…..

 

bedaard en kalm

asof dit by hom van die gewoonste is.”

 

 

 

Lykdig 55: Kirby van der Merwe.Klein manifes van ’n reisiger

Monday, July 21st, 2014

Klein manifes van ’n reisiger

vir George Weideman

2 Julie 1947 – 27 Augustus 2008

 

 

Ek het gisteraand gedroom van jou, George.

Ons het op ’n rivierwal onder ’n boom gesit terwyl die son kliplangs spring,

die blare roeiend in die wind. En jou oë

het geswem agter jou brille. En daar was bye

wat gekom het vir die koelte en die water en die soet

sonnigheid van die geelperskeboord daar oorkant.

En ek het hulle met my hand weggeklap, want hulle het teen ons vasgevlieg,

hard en grof en iesegrimmig. En toe sê jy, nee, bye is maar net boodskappers.

 

En ek sê vir jou, George,

hier moet ’n korf wees iewers bo ons koppe

in ’n uitgeholde mik of in die donker kol treurwilgers daar oorkant.

En jy kyk vir my

met jou rug teen die stam

op die klam molm op ’n flenterlap van droë eikeblare in jou chalk stripe kispak,

das, blink vasgerygde skoene.

 

En ek sê vir jou, George,

ek was in Onseepkans en toe het ek aan jou gedink.

Ek was op Pella en toe het ek aan jou gedink.

Ek was diep nag in ’n staning onder die sterre en ek het aan jou gedink –

ek was in die tuin van klip en vuur en ek het aan jou gedink.

 

En toe sê jy vir my, George,

kom ons doen iets met die eik. En ons saag dit met ’n treksaag en die boom

val in die koue duikpoel, sink tot op die bodem.

 

En toe sê jy vir my, George,

die boom week in stille waters,

dat die waters sap, son, siekte uit die selle loog.

En eendag gaan die boom op ’n sandbank uitspoel, sê jy, soos ’n geraamte, soos gebeente.

 

Ons loop versigtig deur die rivier na die oorkantste wal,

na die droë beenwit boom

op die witgewaste sand met die kantwerk van verkoolde takkies

uitgespoel na ’n bosbrand.

 

En toe tel jy ’n takkie van die sand af op, George,

en met die stukkie houtskool ets jy op die  wit gebleikte hout

jou klein manifes.

 

 

 

Lykdig 54: Marie Bredenkamp. Gedeelde geen

Monday, July 21st, 2014

Gedeelde geen:  vir NP van Wyk Louw

 

my voete tree met huiwering

oor die drumpel

waar jóú woorde in eie heiligdom

die stilte

is

die wande van die kluis

waarin alle seisoene

verhef tot liefdespoësie

en luike oopmaak

op wonders van die heelal

met skittering van son- en sterrestelsels

 

jy wat soveel nuanses van kleur

inskryf in wit

jou beelde in klipwerk en graniet

teen die lug laat beur

laat beitel en woordverfyn

tot jan-allemansbesit

en klank in desibel omskryf

dat die rimpeling van water

met klipgooi oor die dorp se dam

tintel deur gehoor én lyf

 

skugter sluit ek aan by naggesprek

oor liefde en vriendskap

oor volk en taal

oor golgota

oor kruis en katoliek

oor verraad en lojaliteit

 

en bedink kritiek en repliek

wonder vreemd hoekom die pluimsaad so ver

en wars sou waai

 

ek hoor die nuus dat jy gesterf het

‘n eerste keer op pad na amsterdam:

veertig jaar later wéét ek

die naelstring is nooit geknip

klein deeltjies van ‘n woordegeen

het uit die lae lande

in ‘n voorouer se are

na die nuwe heimat oorgeglip

 

is die draer van ‘n ouer skeppersgeen

 

jy moes ook skryf

omdat jy móés

 

 

Lykdig 53: Anna Johanna. Sylvia P

Monday, July 21st, 2014

Sylvia P

Al Digter

 

 

Sy het haar egste self nooit gewys

  behalwe vir die laaste drie van haar maande nie

  en voor dit één  keer

            kortstondig

  en oppad uit by die deur

  toe sy oor haar skouer drie lyne resiteer.

 

   Wat ek altyd kon voel het pas begin gebeur:

  Die vals personas wat ek vir ses jaar ken,

  die parasiete binne-in wat haar woorde monopoliseer

  verloor beheer

                       

en ‘n digter vind haar stem.

Dit skitter.

 

  Sylvia is ‘n stom mens wat skielik praat.”         

                                                                        Ted Hughes            1                                             

 

(i)

O om uit te stap in die spaanse mediterreen

of ou stad met keisteenplein

waar eeue mosserig nog

uit die klanke van ‘n kloktoring

drup

drup

– om weg te kom van hier:

 

Uit te stap in lug wat nie reeds lam

in haar longe kom lê nie.

Hy kla ook

– hierdie ingehókte bestaan,

vreemd tog

hoe hy haar eie wroegings

so in oormaat reflekteer,

en sy moet skryf

 

haar binne-ore toevou

die woorde van die predatoor binne haar wéghou,

sy is tog goed genoeg,

is sy nie?

 

Dan sal sy – rower! parasiet! –

nie meer klou

aan die wande van potensiaal nie

maar self word.

 

Uiteindelik self word.

 

            (ii)

Swart telefoon waaruit die verraad infekterend drup,

swart woorde waaruit die swart sweervog drup,

die swart druppende sweer deur die telefoondraad

 

–       hoe ontsmet sy die huis?

die tafel met die telefoon?

keer keer

 

God! Hierdie druppende sweer van sy verraad.

 

(iii)

Fitzroy str 23.

Yeats het hier gebly, Yeats! en hyself

het sy boek oopgeslaan by

ek berei

die woning en jy

die noenmaal en die wyn…kyk!

haar nuwe skryfkamer kyk vir die son

en saans kyk sy die maan

vanaf haar balkon – ‘n gedig ‘n dag mami

soggens voor ontbyt!

 

Maar die sneeu nou

die koue en die sneeu

onophoudelik

perk haar in

net soos hy

selfs al is hy weg, net soos hy.

 

Sy kan nie skryf nie,

selfs ‘n vasteland ver is te naby.

Woorde!                                                       2

Byle!                                                                   3

Dit deug nie meer nie ,                                            4

deug nie meer nie, uitgediende swart skoen!                   5

O haar baba met die helder oog!                                         6

                        Sakhorlosie,                                                      7

sy tik so goed

tik so goed,

euforie!

Dansend tollend

al op die rant                                                                             8

al op die rant,

o makker!

 

O minnaar!

O soet depressant!

 

 

1.Verwerking van die 1ste weergawe van sy voorwoord   tot The Journals of Sylvia Plath (1982)

                       

Notas:

Reëls genommer  2 – 8 verwys na haar laaste gedigte.

Die res van die inhoud is ‘n interpretasie en/of verwerking van haar notas soos gepubliseer in The Journals of Sylvia Plath (1982)

 

Lykdig 52: Lehahn Swanepoel. elegie vir seamus

Monday, July 21st, 2014

elegie vir seamus

(vir Seamus Heaney: poetry as a dig, a dig for finds that end up being plants)

 

in bush* se biblioteek

in die tagtigerjare

troon jou poësie

soos ’n indringerstruik

oor kaaps-hollandse fynbos

my jong metropolitaanse ‘ek’ word ingelyf

skaamteloos teruggegee

aan grond

lewenskrag van die eenvoudigstes

bron van gedigte wat hul doel bereik

met metafore ingespan teen besetting en leegheid

ná ’n gegrawery met woorde uit ’n vreemde taal

eg verwikkeld met die landskap

 

toe dublin jou finaal wegstoot

bellaghy in derry jou onvoorwaardelik terugvat

besef ek opnuut mens en organisme bly gewikkel

in ’n stryd waarin daar verwerp of aanvaar móét word

afsterwe verlos elke vlieër

uit die lug van ’n ander lewe en tyd en plek* en tekortkominge

’n papierdun huid

en al die hekwagters

sal ek oorkom

 

 

* bush – UWK

* “Air from another life and time and place” – A Kite for Aibhín – Seamus Heaney

 

Lykdig 51: Carina Stander. Lykdig vir Sheila

Monday, July 21st, 2014

Lykdig vir Sheila

 

Jou verse is nie waar jy dit gelaat het nie, Sheila.

Dit het die héélal vol geswerm –

brandende engele

of insekte

gebore op die wind.

 

Ook toe ek dertien jaar oud en vlugvoos

in ‘n skoolbiblioteek

op die platteland

tussen die bleekwit vleuels van bladsye wou skuil

(die boeke grafsteenregop, willoos,

asof die biblioteek ‘n verlate begraafplaas was,

‘n landskap geskend, digter ná digter)

wou ek oor die warreling van motte huil.

 

Grysgrou poeiervlerke in die laatlig:

die spikkelstof van ‘n veraste vrou.

 

Die voelers al oor my gesig –

troostend, waarskuwend

‘n offergedig.