Artikels, essays, e.a.

Carina van der Walt. Aardse paradys of poel van verderf in “De tuin der lusten”?

Monday, April 17th, 2017

 

Die titel van hierdie blog betrek die middelste paneel van Jeroen Bosch se skildery De tuin der lusten. Dit is ’n vraag wat die Nederlandse bioloog dr. Thys Caspers stel en ’n onderskrif in sy essay Gesnawelde viezeriken in plaas van gevleugelde vrienden. Caspers konsentreer op die simboliek van herkenbare voëlsoorte in hierdie skildery. Die voëlsimbole, spreekwoorde en vooroordele oor voël het onder die mense van die middeleeue geheers. Bosch het hom onder andere deur taal laat verlei om die sonde van sy tyd al skilderend te hekel. Hy het ’n baie fyn aanvoelig vir duiwelse verleiding gehad en het voëls oorvloedig ingesluit in sy beeldtaal. Wie na De tuin der lusten kyk, moet onthou dat dit hier gaan oor die lees van afbeeldings binne die konteks van destyds. Voëls het vyfhonderd jaar terug beslis nie die onskuldige betekenis gehad wat hulle vandag het nie. Die soorte sondes wat voëls destyds verteenwoordig het, is onkuisheid, owerspel, ontug, losbandigheid, dranksug, vraagsug, brassery, kwelsug, opvlieëndheid, verdrukking, veglus en bloeddorstigheid. Al hierdie sondes kan saamgevat word tot impulsiewe eet, drink, vry en veg. Hoewel die vierings van die Jheronimus Bosch 500 jaar verby is, ontstaan daar nog steeds interessante dinge om sy werk mee te bewonder of te verwerp. Die jongste daarvan is ’n vituele toer deur De tuin der Lusten in die huis waar Bosch sy lewe lank gewoon het. Dis ’n lekker speletjie vir oud en jonk en kan as ’n app op jou selfoon gelaai word. In die huis op die mark van ’s Hertogenbosch kry jy ’n driedimensionele bril en oorfone in die hand gestop om op ’n vis se rug die drieluik in te swem.

 

 

Die aankondigingsfoto van hierdie blog is ’n uitsnede halfpad tussen onder en bo aan die linkerkant van die middelste paneel. Daarin kom die volgende voëlsoorte voor: ’n eend, hoep-hoep, visvanger, (groen Europese) houtkapper, Europese rooiborsie en Europese goudvink. Oor die algemeen het die volgende beskouing in die middeleeue gegeld: hoe langer ’n voël se snawel, kuif en stert, hoe groter die erotiese toespelings. In hierdie afbeelding kompeteer die hoep-hoep, visvanger en die netjiese geelgroen houtkapper met mekaar betreffende die lengte van hulle snawels. (Tussen hakies: die Suid-Afrikaanse houtkapper lyk in vergelyking met sy Europese neef asof hy deur ’n vliegtuig se enjin deurmekaargeskud, verfomfaai en toe uitgespin is.) Natuurlik is die hoep-hoep met sy ekstra kuif, ongeag wáár in die wêreld, die verleidelikste van almal! Daar het egter ook negatiewe betekenisse van die hoep-hoep bestaan en dit is ingesluit in De tuin der lusten. ’n Venusgek, aldus ’n man wat hoere opsoek, is in die middeleeue ’n kuifvoël genoem. Rondom die jaar vyftienhonderd was die verkleinwoord van “hop” (Nederlands vir hoep-hoep) “hopken” of prostituut. Die hoep-hoep was dus die sinnebeeld van vleeslike liefde, maar dit stop nie daarby nie. In die sewentiende eeu is die hoep-hoep beskryf as “een quaet vogel die selffs sijns nest untreynt”. Vuil en ongebreidelde lyflike wellus – dis die hoep-hoep se negatiewe betekenisse in hiérdie beroemde skildery. As jy mooi kyk, sien jy mense agter hom wegkruip.Die visvanger is weer gesien as onversadigbaar en vraatsugtig, want hy vang en vreet voortdurend klein, onskuldige vissies. Ook die nes van die visvanger kan jy op ’n afstand ruik. Op die vis se rug deur die Paradys begelei klein, swart voëltjies my. Hulle word later kraaie in die middelste paneel en dan moet ek klou, want my vis vlieg!

Al skrywende oor hierdie drieluik die afgelope jaar, ontdek ek dat die benoeming van die middelste paneel problematies is. Hoe meer kennis, hoe groter die verwarring! Die Paradys aan die linkerkant is maklik – alles is relatief onskuldig in hierdie kraakvars tuin van Eden. Dit geld ook vir die Hel aan die regterkant, want daar is alles relatief skuldig in die duistere en immer brandende verdoemenis. Maar die mengsel van goed en kwaad in die middelste paneel ontwyk die krag van benoeming, want wat hét ons hier?

 

 

Dit is propvol geskilder met naakte jongmense in die fleur van hulle lewe – geen bejaardes of kinders is te sien nie. Hulle is almal familie, want die vrouens lyk soos Eva en die mans soos Adam in die Paradys. Bosch was nou nie juis ’n begenadigde skilder van menslike trekke nie! Hulle eet vrugte soos rooibessies, swartbessies, kersies, aarbeie, frambose, moerbeie en brame en word soms gevoer deur ’n eend, ’n goudvink of ’n kraai. Hulle drink met oorgawe, soen mekaar, streel mekaar, vroetel aan mekaar en kruip twee-twee weg in ’n mossel of sit saam in ’n reuse bel van ’n distel (hoe lieflik kan onkruid nie wees nie!) of binne-in die vrugvlees van ’n perske.  In die foto hierbo steek daar ’n bos blomme uit die anus van ’n hurkende man. Dit is duidelik ’n verwysing na anale seks. Regs bo in dieselfde afbeelding dryf weer ’n toe mossel. Miskien is dit ’n belofte van afgeskermde seks na aanleiding van ‘n ánder afbeelding waaruit pêrelsballetjies tussen die vryers ontsnap? Bokant die koppe van die twee in die foto hieronder steek ’n reier kopuit. Sy lang snawel vertel alles wat vir die oog onsigbaar is. Die man gryp gulsig na ’n reuse braam waaraan ’n groep mense in die water staan en hap. Agter dié groep verdrink ’n man in sy eie kalbas en dans ’n paartjie vas.

 

 

Afrikaanse digters bly gefassineerd deur Bosch se De tuin der luste, ondanks die feit dat die voël- en vrugtesoorte, die blom-, plant- en vissoorte daarin nogal on-Suid-Afrikaans is. Marlene van Niekerk se gedig TUIN VAN AARDSE VREUGDES uit die bundel Sprokkelster doen iets heetemal anders as DJ Opperman se JEROEN BOSCH. Dit is moontlik om Opperman se gedig as ’n sedeles te lees en dit pas ook in die tyd van die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans en die Afrikaner. Hy het Bosch se funksie oorgeneem as waarskuwer teen morele verval en sedeprediker in die laat middeleeue. ’s Hertogenbosch was toe saam met Antwerpen, Brussel en Gent die middelpunt van welvaart. Dit het duisende mense na hierdie stede toe gelok met die gepaardaande morele verval van verstedeliking. Daarenteen preek W.E.G. Louw nié in sy gedig Drieluik: die tuin van aardse luste oor De tuin der lusten nie. Dit is die slotgedig in sy bundel uit 1976 – Vensters op die vrees. Hy benoem en beskryf eerder die vreemd-eksotiese in Bosch se skildery.

Van Niekerk trek al die heerlike vergrype in die middelste paneel as ’n aardse paradys na die Suid-Afrikaanse landskap toe. De tuin der lusten word aanvoelbaar Afrikaans met woorde soos “kapokbos, wag-’n-bietjie, jantjieberend, bokgousblom, bokbaaivuur en tjienkerientjee”. Bosch se eend met al sy simboliek van die ‘einde’, soos wanneer iemand aan die einde van sy verstand gekom het van teveel drank of te dronk van die liefde is en daardeur ook nog dom en onnosel optree, kry ’n nuwe baadjie in ’n relatief onskuldige “wildegans” wat “roep” en “hoog trap / met rooi bene / in die riete!”  Van Niekerk se Wes-Kaapse “klokkiesheide” van die Ericafamilie is styf en stokkerige kranse om die vryers se koppe. Dit is iets heeltemal anders as die klokwinde wat Bosch met hulle slap takke skilder. Dieselfde geld waarskynlik ook vir die eenvoudige “bokbaai”-vygie wat omgedig is tot “bokbaaivuur” as simbool van brandende hartstog. Die welluidende Afrikaanse “tjienkeringtjee” is eintlik giftig en veroorsaak maagwerkings en selfs blindheid onder skape volgens prof. Neil Fourie op die webwerf Landbou.com van Media 24. Daarom is dit ’n pragtige Bosch-agtige plant met ’n dubbelle gelaagdheid van bekoring en gevaar.

 

TUIN VAN AARDSE VREUGDES

 

in hierdie tuin van aardse vreugdes

lê ek en jy soos soet kapokbos

in mekaar se hande wag-‘n-bietjie

jantjieberend luister hoe roep

die wildegans saggies

iewers

ek en jy met klokkiesheide

om ons koppe

sy skud sowaar blink vissies

uit die water daar

ek en jy my bokgousblom om-adams-wil

laat die bokbaaivuur tog wind af hou

die wildegans se oog raak stil

ag beesbulletjie stadig-nou ek hoor

viole in my ore tjienkerientjee

wat maak die wildegans

in hierdie tuin van aardse vreugdes o-

genade-kyk sy trap hoog

met rooi bene

deur die riete!

 

Afrikaans is anders as Nederlands deurdrenk van liefdesnaampies. Dit is duidelik in Van Niekerk se “bokgousblom”en “beesbulletjie”. Met hierdie troetelname suggereer Van Niekerk viriele manlikheid. Die “ek” se aandag in die liefdesspel word heeltyd afgetrek deur die wildegans.  Die geliefde en die natuur kompeteer as’t ware met mekaar vir aandag en die geliefde kom tweede.

 

 

Ook Antjie Krog se gedig BOKKIE uit een van haar eerste bundels, Dogter van Jefta, het ’n troetelnaam as titel. “Bokkie” word dikwels in liefdevolle verbintenisse gebruik teenoor beide mans én vrouens. Daar bestaan egter ook die naam “Bokka” uitsluitlik vir mans. In die middelpaneel se uitsnede hierbo snuffel ’n bokkie aan ’n man. Nuuskierig? Besorg?

BOKKIE is waarskynlik nie geskryf na aanleiding van Bosch se middelste paneel in die De tuin der lusten nie. Alhoewel!

 

BOKKIE

 

My bokkie ek en jy

lê onder in die vlei

tussen die wilderiet en vry.

Jou lyfie nes ’n bruin viool

gestrek om eers harpius te kry.

Daar’s bloureën in jou oë

aandblom in jou hare

en uit jou naeltjie peul ware

wit jasmyn.

Ek sny jou mond en drink jou sap

en huil as die bloureën uit jou oë tap.

Ek kneus die blomme in jou hare

breek jou fyngestemde snare

en skreeu hardop as ek jou stukkend kap.

 

’n Opvallende ooreenkoms  tussen bogenoemde twee gedigte is “lê ek en jy” (reël 2, Van Niekerk) en “ek en jy / lê” (reëls 1 -2, Krog), maar die meeste mense staan en dans maar ’n bietjie rond in Bosch se “Onkuisheidsdrieluik” – so genoem deur die Nederlander D. Bax in sy ontleding uit 1956.

Beide die gedigte TUIN VAN AARDSE VREUGDES en BOKKIE bevat tipiese Suid-Afrikaanse landskappe, maar tog verskil hulle hemelsbreed. By Van Niekerk word die leser met geharde plantsoorte van die Karoo en die Weskus in die gedig gekonfronteer. By Krog vertel die “wilderiet, bloureën, aandblom en jasmyn” tog ’n ander storie. Bosch kon netsowel die sagte “wilderiet” en die slap takke van die “bloureën” in sy middelste paneel gebruik het as hy hierdie plantsoorte geken het. Die skaam “aandblom” is net so welriekend soos Van Niekerk se “tienkeringtjee”, maar vriendeliker – nie so gevaarlik nie. Die wit van Krog se “aandblom” en “jasmyn” is amper sereen saam met die “bloureën” en beslis minder speels as in Van Niekerk se gedig. Die liefdespel in BOKKIE is gevaarlik!

Anders as by Van Niekerk betrek Krog ’n kultuurelement in haar gedig – die viool. Sy gebruik veral die hoë, fyn klanke vir ’n verwoestende klimaks, waarin die geliefde “stukkend (ge-)kap” word nadat die “ek” gesny, gedrink, gehuil, gekneus, gebreek en geskreeu het. Alle aandag word opgeslurp in hierdie petite mort. Snaarinstrumente kom ook voor in Bosch se skildery, naamlik in die derde of die Hel-paneel.

Ek sit nog steeds op my vlieënde vis soos die ridder met sy swaard waaraan ’n bloedrooi kersie vir verleiding hang. Bosch se ridder vlieg bo-aan die linkerkant van die middelste paneel sy rivaal op ’n griffioen tegemoet.

 

 

Ek sit nog steeds op my vis as die Hel se luike vir my oopgaan. Ek het in hierdie visuele toer onderdeur die water van die hemelse Paradys geswem na die lug toe in die aardse paradys. Daar het ek rustig gevlieg om alles mooi van bo af te bekyk. Gaan ek nou hartkloppings van benoudheid in die Hel kry? Gaan my keel van angs toetrek? NEE. Dit gebeur nie. Alhoewel ek rakelings onder daardie mes deur is en moes koes dat ek nie ’n bossie hare verloor nie!

Robert Schall. Verse en landskap: Boerneef en die Seressekro

Friday, February 17th, 2017

20170214_foto_1

Verse en Landskap: Boerneef en die Seressekro

“Perhaps the most effective way in which our sense of what to look for in a scene can be enriched is through visual art.“ So beskryf die Engelse filosoof, Alain de Botton, in sy essay On Eye-opening Art hoe kuns ons oë kan oopmaak vir plekke en landskappe wat ons andersins sou misgekyk het (The Art of Travel, London: Hamish Hamilton, 2002).

Een somer is De Botton genooi om ʼn paar dae by vriende in Provence te kuier; in teenstelling met baie mense vir wie die woord Provence ryk assosiasies het, het dit tot dusver min vir hom beteken. In sy gastekamer vind hy ʼn koffietafelboek oor Van Gogh, en De Botton beskryf hoe Van Gogh se werk vir hom die Provensaalse landskap met nuwe oë laat sien het. “We could conceive many works of art as immensely subtle instruments for telling us what amounts in effect to: ‘Look at the sky of Provence, redraw your notion of wheat, do justice to olive trees.‘“

De Botton noem dat Provence nie die enigste plek is wat hy deur ʼn uitbeelding in ʼn kunswerk leer waardeer het nie. Byvoorbeeld word hy deur Wim Wenders se film Alice in the Cities aangespoor om Duitsland se industriële gebiede te besoek. Maar dit is nie net visuele kuns wat ons siening van ʼn landskap kan verryk nie. Wat poësie betref, noem De Botton James Thomson se gedigsiklus The Seasons (1726 – 1730) wat die landelike lewe en landskappe van suidelike Engeland vier. Die Seasons se sukses, skryf hy, het die werk van ander ploughmen poets prominensie verleen (Stephen Duck, Robert Burns, John Clare), en saam met die proses “ … there was an explosion in the number of people travelling around the [British] isles. For the first time, the Wye valley was filled with tourists, as were the mountains of North Wales, the Lake District and the Scottish Islands – a story that seems perfectly to confirm the contention that we tend to seek out corners of the world only once they have been painted and written about by artists.“ Dit kan dus gebeur “[that we] overlook certain places because nothing has ever prompted us to conceive of them as worthy of appreciation, or because some unfortunate but stray association has turned us against them.“

ʼn Landskap in Suid-Afrika wat waarskynlik nog deur baie mense beskou word as nie “waardering werd“ nie, is die Karoo, ten minste sy droër dele. Dink net aan die streek tussen Laingsburg en Beaufort Wes se mislike reputasie, ʼn streek waarteen seker baie mense gekant is deur die “ongelukkige maar los assosiasie“ van die lang, vervelige en gevaarlike stuk nasionale pad tussen dié twee dorpe. ʼn Ander deel van die Karoo, die Ceres- of Tankwa-Karoo, was tot redelik onlangs nog taamlik onbekend buite die Kaap; omtrent 10 jaar gelede het die meeste van my kennisse in Bloemfontein die Tankwa nie geken, of nie eers van sy bestaan geweet nie. Intussen het die Tankwa, tot ʼn mate, bekend geword; daar is nou die jaarlikse  Africa Burn, die Tankwa Padstal het beroemdheid verwerf, en die stofpaaie het o.m. onder motorfietsryers baie gewild geword.

Boerneef se prosa het my oorspronklik aan die Seressekro bekend gestel het. Ek het veral sy verhale oor die lewe op Boplaas in die Koue Bokkeveld geniet, asook sy verhale oor die jaarlikse trek na en lewe op Kafferskraal, die van der Merwes se legplaas (vir winterweiding) in die Seressekro. Toe ek later ʼn advertensie vir ’n aandeel in die plaas Karooruggens in die Ceres-Karoo sien, vind ek gou uit dat die plaas se oorspronklike naam Kafferskraal was. Ek het besef dat Karooruggens Boerneef se Kafferskraal is, wat verdere aansporing was om die aandeel in die plaas koop.

Die afgelope agt jaar het ons as gesin gereeld vakansies op die plaas deurgebring, en het ons die landskap se fasette leer ken, sy mooi, maar ook sy wreedheid tydens droogte. Ons weet ook van die verlange na die plaas en na die landskap wanneer ʼn mens nie daar kan wees nie, want ʼn mens moet mos sy brood in die stad verdien, of skoolgaan daar.

Al hierdie aspekte, die mooi en die wreedheid van die landskap, en die verlange, word in Boerneef se verse verwoord; die waardering van mooiheid en wreedheid, die gevoel van verlange, waar dié dinge klaar bestaan, kan deur die verse verdiep word. Ek is oortuig daarvan dat my ervaring van die Tankwa-Karoo of Seressekro deur Boerneef se prosa en veral sy verse bepalend beïnvloed is. Dus is ek dit met De Botton eens: die kunswerk – Boerneef se verse en prosa – bepaal my siening van en insig in die landskap. As dit so is, wonder ek of mense wat Boerneef se werk oor die Seressekro nie ken nie die landskap anders ervaar. Verstaan hulle minder van die landskap, ken hulle die landskap minder goed – al het hulle die landskap gesien?

Omgekeerd kan ʼn mens natuurlik ook vra hoe kennis van die landskap die verstaan van en insig in Boerneef se verse oor die Seressekro beïnvloed. As jy nog nooit in die Seressekro was nie, ervaar jy sy Seressekro-verse anders, verstaan jy minder, ken jy hulle minder goed – al het jy hulle gelees?

Hieronder, as ʼn aanhangsel, haal ek ʼn paar van Boerneef se verse oor die Seressekro aan, verse oor die mooi en die wreedheid van die landskap, en die verlange (nostalgie). Saam met die verse plaas ek foto’s wat in hierdie geskrewe stuk die landskap moet verteenwordig; dit kan hulle natuurlik net gebrekkig doen – ongelukkig, of miskien gelukkig, is dit nog nie moontlik om die hele landskap op ʼn webwerf te laai en per hiperskakel te besoek nie. Maar oordeel self of die verse die ervaring van die landskap aanvul, en omgekeerd, of die landskap die ervaring van die verse aanvul.

 

Aanhangsel: ʼn Paar van Boerneef se Seressekro-verse

Die mooi: Die Kro is selle nat …

Na goeie reën in die winter kan die Seressekro se blomme, in die laatwinter en lente, wonderlik mooi wees; die meeste mense kan die skoonheid seker waardeer sonder dat hulle Boerneef se verse ken, tog verwoord die vers die mooi (dan skitter die vygies die glyktes vol), en sê dat dié tipe mooi maar selde kom (… so sien jy die Kro maar selde ou swaer, … wanneer kry jy weer so ‘n  jaar …):

.

As ʼn Krojaar blom soos hy nou daar blom

dan skitter die vygies die glyktes vol

so sien jy die Kro maar selde ou swaer

speel jou aghorria tussen die vygies

vir moflam en skilpad en plakkieblaar

wanneer kry jy weer so‘n jaar

wie weet hoe lol dit aankomde jaar

speel nou die aghorria tussen die vygies

vir skaaplam en korhaan en kanniedoodblaar

(Op die flottina, 14)

20170214_foto_2

ʼn Mens behoort natuurlik dankbaar te wees vir ʼn Krojaar soos daardie; die bekommernis dat die mooi van landskap nie bewaar kan word nie, eendag doodgetem kan word, word ook verwoord:

 

Vir hierdie vygieplate en kleur heb dank

vir pers en pienk en rooi en geel

vir stilte en son wat dae lank

die Krovlak stil en warm en Krovlak maak

en as die Vlak dalk eendag doodgetem is

as al die kleur en stilte net ’n naam is

(Palissandryne, 8)

 

Die wreedheid: …. en dikwels dro

Maar, soos reeds gesê, reën wat die vygieplate laat skitter kry ʼn mens selde. Soms kry ʼn mens (en Boerneef) dit nog reg om dié feit “filosofies” te aanvaar:

.

Dit is en bly nou emal so

die Kro is selle nat en dikwels dro

janee dit is nou emal so

was hy nie so nie was hy nie meer Kro

was Ceres sonner Seressekaro

en weg my ghaap en my kambro

(Palissandryne, 19)

20170214_foto_3

Maar daar is ook die brutale werklikheid van die droogte, soos dit veral die plaasdiere bedreig:

.

Die kraal is leeg die dorings wit

die dam is leeg die skaapbos wit

vou hande saam as jy kan bid

die veld is leeg geraamtes wit

(Mallemole, 15)

20170214_foto_4

Die gevoel van wanhoop word ook verwoord in wat seker een van Boerneef se bekendste verse is:

By Pramberg blêr ’n moflam

van hongerte en dors

by Pramberg vrek ’n moflam

dit is vanjaar die stryk

sny keelaf wat nog lewe

dis hoeka sukke tyd

by Pramberg blêr geen moflam

maar die jakkals hou jolyt

(Krokos, 16)

20170214_foto_5

Daar is hy baie duidelik, Pramberg, soos hy van Karooruggens (Kafferskraal) af sigbaar is. Dit was droog toe die foto geneem is, en die jakkalse hou al weer jolyt daar, waarskynlik meer as ooit.

.

Verlange:  Na baie jare

As volwassene het Boerneef in Kaapstad gewoon en gewerk, maar altyd terugverlang na die landskappe van sy jeug, die Koue Bokkeveld en die Seressekro, en daar was ook die terugverlang na die jonk-wees. Ook die plaas se hedendaagse eienaars moet die grootste deel van hulle tyd in die stad deurbring (en word ouer), en ken die hunkering na die plaas. ʼn Mens verstaan Boerneef waar hy, na aanleiding van ʼn skildery van Cecil Higgs, die volgende skryf:

 

‘n Staanvuur knetter teen sy kamermuur

en brand herinneringe los aan Krotoe-trek

aan skaapwerfruik en moflamblêr en jonk-wees

by Gansfontein Grootsand en Gemsboknek

dae en nagte van toeka praat uit hierdie vuur

die taal van veld van vee van krans en ster

laat die beeld bly laat die vlam helder brand

laat die staanvuur steeds knetter teen sy kamermuur

(Palissandryne, 11)

20170214_foto_6

Cecil Higgs. Fire II

 

Cecil Higgs.  Fire II

En dan is daar die vers oor die ou man wat na baie jare weer Krotoe-ry. Die roete na die Seressekro, van Boplaas en Op Die Berg af is, bygesê, baie mooi en ʼn mens kan dit vandag nog ry; herlees die vers voor jy dit doen!

.

Na baie jare ry ons weer

Katbakkies uit tot doer diep in die Kro

Pramberg verby en Skitterykloof af

tot in die hart van Seressekaro

kontrei so grensloos wreed en goed

louter Karoo so ver soos jy kan kyk

sal hulle jou ooit makmaak en verfoes

met blik en bottel en die roesemoes

van blêrgeraas dat hoor en sien vergaan

miskien miskien maar dit sal barstens gaan

van Toorberg tot in Grootnamakwalaan

(Palissandryne, 9)

 

Die verlange en die geskenk van ʼn egte Kro-karwats laat Boerneef skape deur Moltenoweg in Oranjezicht aandryf:

.

Gister kry hy n spogkarwats persent

deur bobaas meesterlik gevleg kompleet

met hingsel voor- en agterslag

olienhoutsteel net hy die ene Kro

en nous n stukkie van die stad die ene Kro

hy klap Moltenoweg vol lammerskaap

voorbok se klok klink in n Kaapse straat

sy voorslag kloof die stedelike lug

ou Tafelberg praat Krotaal trug

n engel knip n oog en glimlag breed

so klap n man die Kroverlede trug

(Op die flottina, 25)

.

Ten slotte, die vers wat die verlang na die verlede op die plaas vir my die aangrypendste verwoord is dié waar Boerneef liries raak oor ‘n dooie trekos:

(By die staanplek het Goeieman, die hotnaasagter, altyd kort na middernag vandaan sulke sagte kreuntjies begin gee tot ons inspan en die jeuk teen sy skof rus. Dan is hy dadelik stil.)

 

Wou jy oor hom en oor sy kreun iets skryf

skei uit ou snaar jys dwaas die os is dood

leef jy ’n lewe lank dan in jou jeug

jys ouderwets die trekos lankal dood

versterk jou hart met ’n masjien se dreun

vergeet oorlee ou Goeieman se kreun

(Palissandryne, 5)

20170214_foto_7

.

.

[© Robert Schall]

 

Helize van Vuuren. Breyten Breytenbach se Die na-dood (2016)

Friday, November 18th, 2016

die na-dood breytenbach

Breyten Breytenbach se Die na-dood (2016):

’n Afrika-sprokie of ontstaansmite oor blindemolle en ’n koningin met “’n ware towerstaf”

“Die jare gaan verby…maar mens se sondes is geneig om jou in te haal. Eintlik was dit sommer lawwigheid van my en ek was aan die begin nogal half trots dat niemand my uitgevang het nie. Ek wil darem byvoeg dat “plagiaat” nie slegs so oud (en verslete) soos die mensegeskiedenis is nie – want wie skryf nie na of oor nie? – maar dat dit ook ’n huldebetuiging is. Mens steel immers slegs dit wat jou aanspreek, dit waarmee jy dink jy kan werskaf, van die bron waarmee jy jou kan vereenselwig.”

(Breyten Breytenbach in ‘n kommentaar oor “Niklaas Abraham Izak Liebenberg” se fiktiewe bundel, Die eerste gety (1971). Versindaba, 23 Oktober 2013:

http://versindaba.co.za/2010/10/15/debuutwerke-in-die-afrikaanse-poesie-1944-2002/  )

Ure, dae, maande – ’n hele volle jaar het ek gestoei met Die na-dood – om te probeer begryp waaroor dit gaan en waarom dit so onpoëties is. Sopas het die lig gedaag. Die na-dood is ’n laslappiekombers van raapsels en skraapsels, van woordspore van herwaarts en derwaarts (baie van Litnet en Versindaba bydraers: lesers, digters, resensies. Die meeste kom uit die periode van 2014-2015). Aanmekaar geheg aan die mees vae algemene elemente met ewigheidswaarde binne ’n narratief van ’n pelgrim op reis (klip, berg, huis, see, boot, nag, dag) met skuim en lym, soos die digter opmerk aan die slot van sy laaste versamelbundel, Die singende hand. Slim verby! So slim “dat byna niemand dit wou vat nie” (Tristia, 1962), al is diep onderlangs op stoepe van die Kaap tot in Wenen gebrom oor ’n “insinking”.

Die waarheid is eenvoudig, en absurd: die bundel bevat ’n blufspel, om te toets of enigeen sou agterkom as hy woorde (meesal beelde) en frases van ander digters insmokkel, dit aanmekaar weef met sinledigheid en dit dan onder sy eie naam presenteer. Dié gesprek oor “digterlike duimafdrukke” het al op Versindaba begin in September 2013 (http://versindaba.co.za/2013/09/19/plekgedig-22-johannesburg-witwaterwyser/#comments).

’n Toets dus vir lesers, veral resensente. Ook ’n uitdaging, ’n toets van sy eie statuur, om te kyk wie durf na soveel jare reguit seg: “Dis minder geslaagd”. En tot dusver nog geen inkelte een… In die resensies wat verskyn het was besonder hooggestemde lofsange (veral Tom Gouws, maar ook Daniel Hugo), as sou die bundel geen enkel verskil van styl toon met ander Breytenbach-bundels nie. Daar is wel elders die vermoede uitgespreek dat dit oorblyfsels sou wees (Hambidge), en gewonder oor wat die “valstrik” sou wees (Van Vuuren).

In Die na-dood is die ru-materiaal beelde uit die skryfsels van digters, lesers, kritici van toeka tot nou, van hier en wêreldwyd. Hulle is almal daar, meesal in woordspore: “kwartels op sy” van Sheila Cussons uit Plektrum, ’n “doringheining” vlak “(L)angs die pad” vir Totius se “Vergewe en vergeet”, Leipoldt se Oom Gert vertel wie se hart nie wou bedaar, Van Wyk Louw se “Rondloper”…tot diep in die een-en-twintigste eeuse internasionale digters. Ook lirieke van sangers. Van A tot Z, van Celan-agtige neologismes tot Leonard Cohen (vergelyk “hartkraak” en talle ander krake met, “there is a crack in everything”, en sy “Tower of song” met “Toring van stilte”). Van Griekwapsalms in die gebed vir die Noord-Kaap (Hans du Plessis) tot kritici.  Vergelyk die openingsgedig, “Opsomming”: waar sou so ’n abstrakte parafrase ooit ’n gedig kon wees? Die vers bevat min of meer een beeld – “verkluimde trekganse in die sneeu”. En orals is doelbewuste feitefoute, teenstrydighede, spelfoute, ongrammatikaliteite (bv. “soos in nou” vir “dadelik” in die gebed om reën vir die Noordkaap) – as verwysings, met spesifieke funksie, maar tot dusver deur geen enkele kritikus opgetel nie. Kwartels hou nie in loekwartbome nie (titel van afdeling 4), maar onder bosse of vleie. ’n Boot met “gestrykte seile” kan nie “wegvaar” nie (“Ons gedig”, 2016:39). Dié foute is klaarblyklik daar om lesers attent te maak daarop dat dinge nie is soos hul voorgee om te wees nie. Daar is meerdere bodems…

Met Die na-dood het hy orals leidrade gelaat – soos aan die slot van Die singende hand, en rondom sy onlangse verjaardag op Versindaba, in bydraes daar. Sien veral die handleiding oor Carl Thunberg se Marmota Africana (die Kaapse mol en sy familielid, die Namakwalandse duinemol, te lese as ’n beeld van die wit en bruiner Afrikaanssprekendes), en sy skilder-metodologie as parallel vir die ars poetica in hierdie bundel. Die mees singewende elemente is die verwysings na Afrikaanse woorde of begrippe wat die herkoms van die taal aandui: Khoi of San in “koekemakranka” en “noem-noem”, Maleis-Portugees in “katjiepiering”, Frans en die “dubbele ontkenning” in die druiwetros waaraan in ’n vers gepeusel word, plus die harde gutturale “g”-klanke in “Ons gedig” (die “koninginneboot” waarin hierin gevry en gereis word, is nie dié van die Koningin van Engeland nie, maar van die Afrikaanse Taal). Al voorgaande elemente roep die eintlike onderwerp van die bundel op, “Die Afrikaanse Taal”, as die beminde vrou en die “juweel in die goue lotus”, waaraan die bundel opgedra is. In 1896 het Jan Lion Cachet (1838 – 1912) die taal só laat praat:

.

Die  Afrikaanse Taal

 

 Ek is ’n arme Boerenôi,

      By vele min geag;

Maar tog is ek van edel bloed,

       En van ’n hoog geslag.

Uit Holland het myn pa gekom

       Na sonnig Afrika;

Uit Frankryk, waar die druiftros swel,

       Myn liewe, mooie ma.

.

Hul skel my uit vir Hotnotsmeid,

       Maar ek gee daar nie om;

Want aan my lippies kan jy sien

        Van wat geslag ek kom.

Soet vloei die woordjies uit myn mond;

        Dit het ek van myn ma;

Maar as ek bid, dan hoor jy wel,

       Ek is ’n kind van pa.

.

Myn sussie wat uit Holland kom,

        Die hou verniet haar groot:

Die lug is alte skerp vir haar,

         Sy is al amper dood.

Die dokters kom nou bymekaar,

        Hul maak tesaam ’n “Bond” ;

Maar tog met al die doktery

        Word sy nooit weer gesond.

.

Myn niggie met haar stywe nek,

         Die loop in rooi satyn;

En baing jonkmans loop haar na;

        Sy denk hier baas te syn.

Maar as die awenduurtjie kom,

        Dan is die klomp by my:

Dis  “hartjie” voor en “hartjie” na:

         ” Laat ons ‘n bietjie vry!”

.

As ek maar eers myn vryer het,

        ’n Digter vol van moed;

Een wat my om myself bemin,

         En nie maar om my goed;

Wanneer dié vryer tot my kom,

         Vat ek hom by die hand,

En maak ek hom, hoe swak ek skyn,

         Nog koning in die land.

.

Want ek het onder in myn kis

         ’n Ware towerstaf,

Wat ek nog van myn ouma het,

         en niemand weet daaraf.

Hef ek die staf op, “Moedertaal” ,

          Dan volg die land my na:

En ek is netnou koningin

          Van heel Suid-Afrika!

.

Breyten Breytenbach se ‘fiktiewe’, ‘bewerkte’ bundel is ook ’n huldiging van almal werksaam in die “huis” van Afrikaans, deur gebruik te maak van die woorde van Afrikaanse lesers, vertalers, kritici, en sangers van toe tot nou. Maar dis ook ’n lang uitgesponne toetsing van NP van Wyk Louw se kunsteoretiese uitlating:

.

Uit die gevormde literatuur

is nooit weer poësie te maak nie,

uit die ongevormde wél…

            Tristia (1962:34)

.

Die bundel bewaar die DNA van die geliefde moedertaal, gevang-in-vlug van 2014-2015, en verwysend na die veranderende taalgebruik van 1896-2016, ’n periode van 120 jaar. Hiermee dien hy ’n finale nekslag toe aan Diena Dood, in die gloed van 14 November se supermaan…

.

© Helize van Vuuren / 2016

NMMU

Naskrif: Ondersteun die “Gelyke kanse”-inisiatief, gedenk dié bundel waarin ’n digter alles sit op die altaar van Afrikaans, en help om ons taal te probeer red van politieke ondergang.

 

Breyten Breytenbach. Here be I-side : die ontstaanspore van ‘n skildery

Wednesday, September 14th, 2016

b1

Here be I-side : die ontstaanspore van ‘n skildery

*

2 Augustus 2016, Can Ocells

Die tekening. Alles reeds daar. Hoekom hierdie beeld ? Jy probeer voorgee (in gedagte) dat dit ‘n genealogie van bemoeienisse is wat die beeld voortbring as een van ‘n reeks, of as een in gesprek met ander beelde. Eintlik weet jy nie hoekom nie en, om eerlik te wees, jy gee ook nie om nie. Jy sal voorgee dis tegniese oorwegings – vorm, ruimte, verhouding, later kleur en tekstuur –  wat die beeld kristalliseer. Eintlik is die beeld ‘n verskoning om die ander oorwegings te artikuleer.

Die doek is op ‘n 80F spanraam, d.w.s. 114cms breed by 146cms hoog.

« There comes a moment when what hapens on the surface (cloth, canvas, paper) is more important / (takes precedence over) / (takes over from) / than what you ‘think’ you’re doing, what’s in the head or what you’re looking at. Take-off. Autonomy. » Henri Matisse.

Die skets op doek. Vanaf begin gaan wat beskikbaar is (oorskietverf, ‘n breë kwas, lap) die proses bepaal. Grondlaag, elke veeg en haal gaan deelneem aan die gesprek wat die voltooide werk gaan wees. Dogen sê : in die oomblik is alles ; daar is geen tyd nie. Is dit regtig so ? Om iets te vergestalt (versgestalt ?) wat uit ‘n proses groei, wat self proses is, is om die oorgange van moment na moment te belewe. En jy moet besluite maak. Belangeloos maar nie sonder gevolge nie. Hoe bewerkstellig jy organiese oorgange tussen ‘happy accidents’ en ontwikkeling/verdieping/verheldering ?

« Everything you do in the studio is equally important – whether drawing a bird or scraping old paint off the palette. » Henri Matisse.

*

b2

3 Augustus

Die agtergrond is eintlik al alles. Dis die sfeer, die omgewing, die kondisie waarbinne die res (die onderwerp, die bewegings van die hand en dus die bewussyn) asem en substansie gaan kry.

Om so aantekeninge te wil maak terwyl die werk ontstaan (‘ont-staan’) is om oor jou eie skouer te kyk. Dis inhiberend. Jy word oorbewus van die wisselvorming of die vloei tussen ‘ontstaan’ en die keuses of verskuiwende fokus wat maak dat jy dinge raaksien en dalk verder neem. (Om ‘n klad te behou is nie ‘n morele besluit nie.) Maar dit verskerp ook jou aandag op die dinamiek van doen. Jy voel hoe sterf die tyd.

« Don’t be afraid – neither of outline nor of texture. » Henri Matisse.

*

4 Aug

Wanneer die agtergrond – die ‘bodem’, le fonds – ingevul is (voorlopig ?) begin die tyd van huiwering en twyfel. Jy gaan nie nou veel verder kan kom met die ‘suggestie’ van betekenis nie. Dis een ding om te reken op die aanvullende of voltooiende of besitnemende van die oog wat te staan kom voor die werk ; dis iets heel anders om oppervlakke, skaduwees, dalk bewegings opsetlik vaag of selfs ‘leeg’ te laat. Stellings kan nie gemaak word nie maar beelde (soos metafore) moet uitgewerk word, nou binne ‘n eie net van bestaan en volgens ‘n genetika van vormsoeke. Is die pienkerige smeersel bo in die hoek van die blou vlak wat ‘buite’ is veronderstel om ‘n wolkie te wees ?

Die oppervlak is gedek – en skielik lyk die doek of die potensiële ruimte kleiner.

Jy moet die balans kry (en dis ‘n lewende gelykstaandestelling) tussen verder te wil gaan, en dit wat (dalk) reeds voltooi is eie aan die ontstaansbeweging so te laat.

Die metafoor is die bewussyn van die gedig : week dit in die woorde.

Sebald, in ‘n opstel oor die skilder Jan Tripp, haal vir Roland Barthes aan wat beweer het hy sien in die alomteenwoordigende man met ‘n kamera die dood se agent, mens sou kon sê die boodskapper, en in foto’s die oorblyfsels (relikwieë) van lewe wat aaneen oorgaan in die namaals. Waar kuns van fotografie verskil, skryf Sebald, is dat die nabyheid van dood haar onderwerp is maar nie ‘n obsessie nie. Sy dweep nie daarmee met ander woorde nie. « Art deploys the deconstruction of outward appearances as a means of countering the obliteration. » Ons skilder en skryf en staan in die geheiligde ruimte van die teaterverhoog voor ‘n donker publiek om te lewe en lewe oor te dra, nie om dood te gaan nie. Miskien omdat daar met die hande beduie word. Nie om die dood te lok of verlei nie. Om te lewe is ‘n strewe. Niemand kan die lewe weergee nie. Maar jy skep die illusie dat dit wel so is : presentasie is illusie. Deur weg te laat, te kies, uit te lig, blind te wees om beter te mag sien. Dis die leser, die kyker, die toehoorder wat die teks of die beeld of die beweging aanvul tot ‘n skyn (en verskyning) van lewe. Jy is dan ek. Ons maak soortgelyke afleidings, ons is ewe blind, ons deel die kode. Ons maak dieselfde bokkespronge. Die teks is die tweeling – die afwesige én die vergestalting van afwesigheid. En dan vergaan Jek en die kwaswoorde bly agter soos spore. Maar omdat onvoltooiing en uitvee ingeskryf is in die beweging sal ook die nakomelinge in interaksie die teksbeeld ervaar as die (re)inkarnasie van lewe. « And what is the business of painting in any case but a kind of pathological investigation in the face of the blackness of death and the white light of eternity ? » W.G. Sebald,

« As Day and Night… »

*

5 Aug

Jy wonder of die eienskappe van droëkwaswerk soos in teenstelling met natkwaswerk ook oorgedra kan word na ander uitingsprosesse ? Wat sou dit beteken in terme van skryf ?

*

b3

7, 8 Aug

« Which is form and which is mind ? Pursue and investigate this in detail. When you penetrate this matter, the coming and going of birth and death is a painting. Unsurpassed enlightenment is a painting. The entire phenomenal universe and the empty sky are nothing but painting. »

Dogen, « Painting of a Rice-cake », 11th month of 1243.

Wat ek presies probeer aandui is dat by (sommige) skilderye die eindproduk (nooit ‘voltooi’, want daar kan nog weer aan verander word, of dit bly lewe – vir ‘n tydjie – en verander in die oogkluise van die toekykers) laag vir laag opgebou word. Dat ‘betekenis’ ‘n sedimentering is en konkreet van aard (woorde is afleidings) en voortkom uit die handeling tussen lae. Dis ‘n bewegende teiken.

Mens is gekondisioneer om begrip of betekenis te verbaliseer, te vertaal in woorde. Miskien om die aanvoeling te probeer reproduseer, dalk meer so in wysie en klankstruktuur as in semantiese verwysing. Dis byna asof iets nie bestaan tot tyd en wyl jy dit nie (vir jouself) kan vertel nie. Jy moet ruimte skep om dit wat per definisie anders is te akkomodeer. Die uitwerking (of inwerking) van waarmee jy gekonfronteer word kan slegs in ruimteskepping opgeneem en belewe word. Die omgaan met die onbekende, die prikkel van buite, is ‘n ontwrigting van die stilte wat jou primêre vertoef is. Om te lewe is om herhaaldelik verkrag te word sodat jy kan vertél in ‘n poging om die binnedringende agent te inkorporeer, en jou eie te maak.

Herkenbare of afleibare elemente – objekte, vertroude ruimtes en illusies van perspektief, die afkortings wat jou plaas in die prentjie, gesigte van bekendes, die onbekende gesigte van self in vervloeiing – al hierdie elemente is leeuvuil oor die spore gestrooi om die hond van stryk te bring. Hoe meer ‘realisties’ die werk hoe meer ontwykend of selfs onsigbaar die werklike ontsluiting tussen kyker en proses. (Ek is ‘n proses.)

Die doek is uiteindelik nie van belang nie : dis slegs die momentele toeverlaat, vlies of vel waarteen die pogings om tyd (en ruimte) substansie te gee afgespeel word. Dis as ware jou tekenbord.

Thom Gunn sê : « At worst, one is in motion ; and at best, / Reaching no absolute, in which to rest, / One is always nearer by not keeping still. »

If you’re going nowhere

            One place is as good as any other

            To start from

            The point is to start

            The start is to point

            You can always only start

            From where you are

            And ‘methodology’ then is a metholody

            Like any other ritual

            Just an automatism to start

            (And sustain) the process

b4-300x225

 

handhandel

(die lewe is die dood se sêskaduwee)

hoe lank het dit jou geneem

om te weet dat alles verniet is,

niemand iets sal neem en eet

‘n skuit kan laat vaar

of pêrels snoer aan die toutjie

woorde wat uit jou mond kom nie ?

.

dat sekstette niks vermenigwoordig

in hierdie druisende wêreld

waar klere geknip en verkoop word,

tamaties geplant en natgelei

en die dood al aanwesigheid

waaraan jou woorde gestalte kan gee ?

.

uit die hawestad het ‘n verlede

van skepe vertrek om al langs

die kuste van onbekende vastelande

te dryf op soek na ‘n wedersydse toekoms

van skape en die uitruil van snuisterye

(leë woorde sou ook alles besoedel)

.

niemand het jou nodig gehad om te sien

alles sal ophou of aanhou bestaan

in dimensies wat gedigte nie van weet :

kyk, die man met die graaf

wat die verrottende maan inspit

het ten minste in koerante gelees

.

hoe honderde swart katte kamaai aan boord

wanneer vaartuie terugkeer uit ‘n verre hede

waar wonderwerke vanself spreek :

van watter nut dan die woordgrawer

se onsigbare konstruksies

as dit nie eens ‘n ruimtetuig

.

na die dieptes kan vuur

om die nag uit te meet nie ?

moet ek gaan met leë hande

moet ek so my stof ontmoet ?

in die voorhuis so grys

soos jou gesig troos jy my

.

met die lewensdoel dat iemand verbeelding

sal help onthou wat gebeur in geborduurde

lappe teen die muur nagelaat toe Tartare

in die Boere-oorlog kom sneuwel het

teen die rante van ons gedoemde kontinent,

want jy wéét ons verstaan nie die skrif

.

omdat hierdie hande niks mak kan maak nie :

kyk, wat oorbly as merkers in die blinde stanza

is om die moue met vuur te bestryk

en te wag op uitgeteerde honde

se verslindende tande

wanneer hulle die koue bewuspyn leeg kom vreet

‘n Klein reis deur die wêreld se kwyning aan die hand van woorde

Monday, August 29th, 2016

‘n Klein reis deur die wêreld se kwyning aan die hand van woorde

(« so lewe-lewe deur die lewe sal jy wel by die dood uitkom » – Sancho Panza se raad aan ‘n oorhaastige reisiger)

(« die dood is soos die son : as jy direk daarna kyk word jy blind » – Le Rochefoucauld)

Jy vra my, vriend, wat die aard van die mens se lewe mag wees ? Is dit ‘n onveranderlike gegewe ten spyte van die variante ? Dan het dit nie eintlik ‘n temporele dimensie nie. Ons weet die elemente wat daardie aard bepaal is nog altyd dieselfde vandat ons met ‘n klip as werktuig op ander klippe begin kap het om bruikbare of mooi dinge te maak. (‘Mooi’ het besweringspotensiaal omdat dit uitreik na wat ons nie verstaan nie.) Die vrees. Die verbeelding. Die poging om te onthou wat nie net instinktiewe oorlewing is nie en dan vormend word wanneer mens probeer wees soos jy dink jy onthou hoe jy is. Selektief, al verdwyn niks en word sommige uitinge en drifte slegs onderdruk om vanuit die ondergrond ‘n rigtingwysigende of verwoestende invloed te hê.

Wat is die aard van bewussyn dan ? ‘n Projeksie ? ‘n Skerm ? ‘n Beskerming ? Wat jy wel weet is dat dit aan- en ineenvloeiend te doen het met lewe wat voortdurend vergestalt word in insek en grashalm en dolfyn en wind en klank en droom. Die droom. Wie droom ? Wat word gedroom ?

Wat is die sin van ‘n mens se lewe, vra jy ? A, dis nou waar jy kom by hoe ‘n lewe behoort te wees. Wat is die impak van jou optrede of jou gelatenheid ? Hoe interageer jy met die ander klankvurke of klipkappers ? Of behoort  « die lewe » ‘n groter sin te hê – wat miskien nie vir jou vertel is nie ? Dink jy daar is ‘n stygende lyn, iets soos ‘n suiwering deur te kies vir die goeie ? Maar dan moet jy glo dat daar ‘n doel sou wees. Beginsels. ‘n Uiteindelike betekenis (waarde ?) waarteen jou handelinge gelees en geëvalueer kan word.

Kom ons sê voorlopig : dit gaan oor die groei van bewuswording.

A, my medemens – dis ‘n vermoeiende storie en daar is baie klippers op die pad…

‘Calzots’ is die Katalaanse woord vir die sagte en soeterige winteruie wat, wanneer hulle begin uitloop, onder ‘n ekstra lagie grond bedek en verder gekweek word sodat die lelle of blare met die uithaal lank en wit en sappig sal wees. Daar is ‘n spesiale fees, dikwels in die wingerde, waar hierdie uie liggies oor kole gerooster word. Enige verskoning vir ‘n fees, la fiesta, is goed. Saterdag word na verwys as fiesta.

Dis van die aantekeninge wat Jek in sy notaboekie vind en agterna, soos nou, aanmekaar probeer ryg met die draadjie van herplasing. Die draadjie bly breek.

Ons is vroeg reeds weg uit Barcelona saam met die Anguerra gesin. Bestemming Madrid vir twee dae om na die oorsigtelike Bosch uitstalling in die Prado te gaan kyk. Dis ‘n eenmalige bymekaarbring van Jeroen Bosch se altaarstukke, drieluike, skilderye, tekeninge en grafiese werk van oral in die wêreld waar hulle ook al via duistere handelstransaksies in privaatversamelings of in museums beland het. So ‘n omvattende uitstalling sal nie weer in ons leeftyd gebeur nie.

Joan (uitgespreek Djohan) Anguerra, teaterman en ou vriend, bestuur. Lotus, Canelle en Vigata sit agter. Die lugverkoeling werk nie sterk genoeg nie ; ons sal die ruite moet afdraai. Die roete neem ons eers deur die industriële gebied rondom Barcelona. Die getande spitsereeks van Montserrat wink blou op die einder. Baie stede in die suide van Europa word soortgelyk ontsier deur handelsareas met hulle konsentrasie van opslaangeboue, pakloodse, uitstallingslokale, advertensieborde, winkelkomplekse en internasionale kitskosrestaurante net buite die stadsmure. Die kontras met die historiese kern is skril.

« La Barça o Barzakh » is die gewilde mantra onder migrante uit Afrika – vlugtelinge, swerwers, party doodgewoon avontuurlustiges op soek na ‘n verdienste in Europa om terug te stuur na die familie in die land van oorsprong, maar almal gee voor dis ‘n kwessie van lewe of dood. La Barça, die stad se kampioensokkerspan, staan in vir Barcelona, die hemel wat ten alle koste bereik moet word ; Al-Barzakh, ‘n Arabierse woord, beteken ‘obstakel’ of ‘versperring’ of ‘grens’ : die oorgang tussen hierbenede en hiernamaals, ‘wagkamer’ of newewêreld waar dooies ontvlees en nie meer vasgekeer kan word deur tyd of ruimte nie en die siel vertoef tot by heropstanding se oordeelsdag. Nou is hulle bloot teenwoordigheid. Die verdoemenis.

  

die verskriklike gelaat van my land

sê jy, jy sê

selfs wanneer ek die tyd

van skaduwees en stilte binnegaan

sal die woord bly

hierdie of iets

wat die naklank is

.

en selfs wanneer die vlees

tot verby die stank

van ‘n laaste naklank

vergaan het, sê jy

en ophou stotter

sodat die eentongbaas

ongestoord in sy herehuis mag slaap

asof hoor en sien

maar net ‘n waan was

.

ook dan sal die woord

bly lewe, hierdie

of iets wat daaraan herinner

solank die aarde

bewerk onder die maan

die silwerhemp arbeiders toekom

sodat amandels soos klinkers

kan blink in die bome

Ons ry verby wingerde bekend vir die cava en die witwyne wat hulle oplewer. Teen die skuinstes pryk kelders breed. Dan deur ‘n wêreld van olyfboorde waar die Borges olyfolie vandaan kom. Wat mooi is aan Katalonie is die streke met ‘n eie aard en dikwels ‘n eie dialek van Katalaans, elk ‘n eie Boland. Empurias. Priorat. Valleie tussen bergreekse, sommiges gebluste vulkane. ‘n Handvol jare gelede het ons ook hierlangs gery saam met Van Zyl Slabbert en Jane, dit was die laaste fase van sy lewe en ons het dit nie geweet nie, om in die Priorat te oornag in ‘n osbloedrooi dorpie waar die landarbeiders glo hulle messe en sekels sommer so teen die mure kon slyp. Toe ook heeldag landskappe met aan die kim draaktand spitse wat ‘n swye uit die blou uitspansel kam. Naby Lleida strek sagtevrugteboorde weerskante so ver soos die oog kan sien. Vorentoe gaan dit swart en bar wees, die hoë woestyn, Monegros, nou hier en daar bewerk danksy die aanlê van water. Land van struikrowers en geharde pagters. Rympies wat gesing word staan bekend as ‘jotas’ – met iets van dieselfde funksie as die coplas verder suid gewroeg deur flamencosangers eweseer uit die volk gegroei, maar hier is die strekking meer bitter en met ‘n angel in die stert.

Joan vertel die mooi verhaal van Barcelona se geliefde oud-burgemeester, Pasqual Maragall. In 2007 kondig hy aan dat hy Alzheimers het en spot nog dat hy nie sy naam sal kan vergeet nie want almal ken en herken hom tog. (Wanneer dit my beurt is sal ek ‘n bordjie met ‘Jek’ daarop geskryf moet saamdra.) Waar hy ook gaan en wat hy ook belewe neem hy ‘n foto van om dan agterna te onthou. In ‘n teaterstuk waarin Joan gespeel het was hy so meegevoer dat hy hard vanuit die gehoor begin saampraat het om repliek te lewer. ‘n Stigting na hom vernoem doen navorsing om beter insigte te bring in die wegraaksyn.

Een uit elke tien mense ouer as vyf-en-sestig is aangetas deur Alzheimers se slakkegang van genade. Vroeër het ons dit kênsheid genoem, senielsiekte, ‘n weggaan in vergeetkunde en ingedagtenis. Of is dit iets anders ? Dat wat die mens aan die wêreld en die lewe doen te veel geword het vir die voorlopige groei van bewustenissigheid ? Na vyf-en-tagtig word die helfte van ons met die stomafgryse geslaan.

binnelandsreis (‘n trekseltjie onthou)

(oneindig in sy verbuigings is die brein

kronkels en krake en gaping en verbystering :

‘n ontplooiende heelal nestel in die holte van been :

soms landskap dit oneindig helder in tydlose

verduistering van grense as berge

afgeteken met ‘n dynserige lig van aanvoeling)

.

wit is die aarde van Bujalaroz

oor Castejon de Monegros verby Alfajarin

met die witte van room en die gryse van verlede

in die leegtes van sien –

onvrugbaar soos ‘n vervloekte see van sand

waar branders lankal uitgebrand het

.

regs tuimel die vaal berge – lewende

lawa van die maan of ‘n tong

se heidense kontorsies om te sê

wat nie gesê kan word nie – en bewende

links al langs die Ebro die lawende

soom van groen genade

.

op die oorkantste oewer in Zaragoza

in iets wat lyk soos ‘n posbus van steen –

Martin Miquel de Goicoechea se familiekelder –

is die helder doodsiener

en uitryger van die sombere lotsbeskikking

Francisco Goya y Lucientes

se lyk die 17de April 1828 toegebeen

(eers later sou die asse Madrid toe verhuis)

.

vrouehoofde is in die grafklip gebeitel

hulle wat die dood beween met blinde oë

soos slakke wat die week herinneringe

aan liefdesbeweging uitdop na die reën

.

en hoog op sy voetstuk soos ‘n geniale gogga

kort van draad en van been gegiet in brons

staan en frons die skilder oor die stad

.

(o, om in dood se mond te wees

soos ‘n ou woord met die smaak

van bloed en van droom

‘n klippie onder die tong

teen die moeg van hardloop

glad gesuig

gedoop in spoeg

vaag en presies soos ‘n klank van die gepeupel

en uiteindelik geborge

kind in die kissie

geraamte in die krip)

Ons steek die grens oor tussen Katalonie en Aragon. Goya en Bunuel die filmer was albei Aragonese. Koppige, eiesinnige mense met baie skadu’s in die kyk. Bujaraloz (Boegalarôthz – die j in Kastiliaans is ‘n keelklank wat jy agter die kleintongetjie gaan haal, ‘n jota, sodat jy eintlik gij word en jek ‘n gek) is die eerste dorp net binne die Aragonese grondgebied. Die gerug word onder jong en gretige Katalaanse manne versprei dat die beste en veral die goedkoopste bordeel in die hele Iberiê in Bujaraloz gevestig is. Bowendien, word gesê, die gesellige gesellinne daar is vlot in beide Spaans én Katalaans. Menige kultuurvraat het al gaan soek na die plek wat, by wyse van spreke, uit die duim van ‘n fabulista in Barcelona gesuig is. Dit word ook vertel dat toe daar enkele eeue gelede wedywering was tussen die hertog van Katalonie en sy neef die hertog van Aragon oor wie voorrang behoort te geniet, ‘n tweegeveg die beslissing moes vel. Die Katalaan het die Aragonees kon omdop – elk toktokkielomp in die harnas ! – en sou gewen het as dit nie was vir die Aragonees se lyfkneg wat die Katalaan op strategiese wyse van agter aan die knaters beetgekry het nie. « Ek het nie besluit wie koning moet wees nie, ek het maar net my baas gehelp, » het hy agterna verduidelik. (Ni quito ni pongo el rey / solo ayudo a mi señor. »)

Oor die radio kom van die jotas deur Joaquin Sabina gesing. Later ook Manuel Serrat se sterk stem wanneer hy met getoonsette gedigte van Hernandez en Machado die harde en diep werklikhede in hierdie klowe en valleie se stof en kluite begrawe onder die rotse oopgrawe in woorde.

bb1

Goya, jy daar op jou voetstuk voor die Prado met die wulpse maja in marmer verewig aan jou voete, Jek wil vir jou ‘n brief skryf om te vertel ek en my vrou en vriende is hier om te kom kyk na die werke van Jheronimus van Aken, die laelander wat julle El Bosco noem.  Moenie dink Jek weet nie dat jy oor hierdie museum troon, dat jou donker visie hierdie ruimte oorvloei nie.

« La memoria como sedimento de la libertad… » skryf Sergio Ramirez in El Pais van 22 Mei. Want om die toekoms te verbeel moet die verlede wat verdwyn het weer opgegrawe en neergeskryf word. Die oppervlakke van jou doeke is inderdaad ‘n neerslag van die verskriklike vryheid van gestalte gee aan menswees se skreeuende angs. Ek kan my kwalik ‘n vryer vertelling voorstel as hierdie visioene en verbeelding gefigureer teen die mure van jou huis waartoe min mense in jou tyd ooit toegang sou gehad het. Daarom was dit net reg om eers weer deur die sale te loop waar jou swart skilderye hang, oorweldig deur die onuitstaanbare aanwesigheid van die doeke, al is die hekse en bedelaars en flenteraars ook hoe vreemd vir iemand wat nie die versukkeling van jou Spanje kon ken nie. Jy het ook geen publiek in gedagte gehad by die maak en die oor-maak, elke keer nog somberder en meer gestroop as die toegeskilderde vorige weergawes van hierdie werke in die kamers, elk ‘n goeie 10×5 jaart ruim, van jou Quinta del Sordo nie. Jy was in gesprek met jouself, jou eie angsfigure en jou wrang kommentaar op mag en bygelowigheid en populisme. Selfs die narratief was bysaak en jy sou jou min steur aan die ‘lesings’ van jou werk sedertdien.

Jek is ‘n afloerder. Die skrywe is ‘n afloer al is dit ook in ‘n put sonder bodem op soek na maan. Iemand wat op morbiede wyse gefassineer is deur hoe mens die onsêbare oopvlek, want dis belangrik om te glo dat die onnoembare tog aangemeld kan word al is dit onvermydellik dat jy bewerig en koorsig soos ‘n brandsiek hond onder sou gaan en half begrawe sou word in die proses. Veral onder woorde.

Die glorie en die wanhoop, afgryse en ekstase. Dik kwashale aangewend met pensele swaar van verf om in enkele strepe ‘n mond van aakligheid of ‘n glinsterende oog vas te lê. Die hand moet kots. Dit moet seker die langwerpige formaat van die doeke wees wat maak dat so baie van die figure swewend uitgebeeld word bo landskappe van verlatenheid, so asof ‘n bose wind hulle oor jou bewussynsveld gewaai het. En oral die onaardse silwerwit gloed. Die bruine wat by plekke van ougeel oorgaan na byna goudkleurig.

Drie skilderye bly my by. Die Duelo a garrotazos – twee pagters tot by hul dye versink in ‘n moeras wat mekaar met knoetse doodmoker in ‘n tweegeveg tot die ewigheid toe ; die Perro semihundido, halfbegraafde hond waarvan net die kop bo die wal uitsteek – sou dit die werklike laaste selfportret wees ? Jek weet dat baie van jou werke kommentaar wou lewer, ‘n gedagte of ‘n oortuiging of ‘n stellingname wou vasvang – maar hierdie een dan ? En die derde skildery wat net buite een van die sale vol van jou eie werke hang, die een wat Vicente Lopez van jou geskilder het : ‘n nors ou man van oor die tagtig, grys baadjie, palet rustende op die voorarm, kwas in die hand, mond wat geen geduld meer het met vrotwoorde nie, oë wat nie wyk en stip staar na die afloerder.

Madrid toe en weer na Bordeaux, Burdeos, die plek van ballingskap. Jy het nooit Frans geleer nie. In Spanje word daar by koning Fernando V11 namens jou gepleit vir ‘n pensioen. Jy word gediagnoseer met verlamming van die blaas en ‘n groot kwaadaardige gewas aan die been. Die koning steur hom nie meer an jou nie, sit nie sy spioene op jou nie. Nog ‘n laaste skildery, Die melkmeisie van Bordeaux, waarskynlik Rosario die dogter van Leocadia, jou bywyf.  Begin April 1828 kry jy ‘n beroerte, gaan in ‘n koma, en twee weke later om twee-uur in die oggend, dis die 16de April, beur jy regop om met asem soos ‘n halfbegraafde hond wie se tong tas na verligting van versmoring die dood in ‘n roggel te herken.

bb2

Want dis vir Bosch dat ons die reis onderneem het en kyk nou net hoe koninklik is die ontvangs ! Skielik is mens sprakeloos. Jek probeer sin maak van haastige gedagtes/indrukke in my notaboekie. Elkeen verdien om herwin, uitgespel en uitgespeel te word. Maar dit sou wees soos om jou vingers te verbrand en dalk met ‘n halfduim as iets by te wil voeg tot die indeks wat die die maan se intieme vreemdheid probeer beskrywe. Jou mou sou leeg wees.

Is dit waarna mens kyk ‘n ‘taal’ wat tegelyk tergend bekend is en tog verwys na ‘n ‘werklikheid’ wat net-net buite bereik van die verstand onder die glans van die lae verf lê ? Wat lê daaragter ? Konkreet : met elektroniese ontledingsapparate, X-strale wat dieper as die vliese van kleur en vormgewing kan vors, weet mens nou van die kragtige tekeninge wat die ‘stemtoon’ van die werke aanhef (maar dit het mens tog instinktief gehoor ?) – die underdrawings wat Jek interpreteer as die onderbroeke, soms tekeninge met ‘n kwas gestoppel-en-veeg om die sintaksis te plaas. Van die ‘bobroeke’ het verdwyn of vervaag of is oorgeverf, soos die baard van Wilgefortis, die gekruisigde maagd wat die gode gevra het om haar onaantreklik te maak vir die man aan wie haar pa haar wou gee as vrou. Soos : die narratiewe samehang van verwysings en betekenisse, indien dit ooit so bedoel was, sodat elke ‘teken’ nou ‘n fenomeen is, foneme wat onderling met mekaar kommunikeer in ‘n taal wat miskien nie bedoel was om ontsyfer te word nie maar waarvan spore en klanke terugkeer in patrone waarin die toeskouer verstrik raak. Patrone : Die man het ‘n totale visie – met die glansstrepie wit van ‘n draad, die notisie van ‘n aktiwiteit tussen mense ver in die afstand, die delikate uitwerk van ‘n motief op ‘n kleed – is sy agtergronde nooit dood of van minder belang nie / niks is ‘leeg’ nie /daar gebeur altyd iets, soveel so dat dit ‘n onophoudelike gemurmel of gekwetter afgee wat netsowel ‘n stilte mag wees. Skaal is nie ter sake nie / jy kom nie eens agter dat dit wat in die natuur ‘klein’ sou wees (skulpe, insekte) hier groter as lewensgroot aktief onderhandel met mense en bome en diere nie / die ‘gesprekke’ het tot gevolg dat hiërargie wegval, alles praat op gelyke voet met mekaar, kanselleer die uniekheid sodat die saambinding van krioelende en getekstureerde lewe die ‘beeld’ is wat die werk verboodskap. Hier ‘n beer opgehang aan ‘n boom, daar ‘n kruisboog in die takke. Die ontstellende word vanselfsprekend / mense word ingesluk of uitgespoeg, verorber, gevierendeel / van naderby bekyk is daar straaltjies bloed. Die skerp kontraste tussen lig en donker / oral nag, onheilspellend en apokalipties. En die vure, sommer so maar oral, of wat deur vensters spuit in ‘n sproeireën van vonke / fonteintjies van verskroeiing. Hy het glo as kind belewe hoe die stadjie Hertogenbosch in vlamme opgaan in die nag. En, soos aantekeninge, note eindeloos herhaal, ‘n gerusstellende deuntjie, die alledaagse / ‘n hondjie drink water in die onderste hoek van ‘n doek, kruike, tregters, visse, implemente, voëls / nie net uile nie maar ook gewone of gewonde dagvoëltjies / kraaie smul aan die lyke. Maar dan word die visse lugballonne waarop ‘n vet dronkgat en sy squeeza hemel toe vlieg / of kroeg toe. Waar sou hy die olifante en kameelperde gesien het ? En wie is die enkele swart figure wat van werk tot werk uit Afrika hier opduik ? Howelinge ? Lyfknegte ? Reisigers uit ‘n ander wêreld ? Vignette van huislike tonele / pagters en ambagsmense besig met hulle dinge / iemand wat op die hurke sit en hengel. Kyk hoe maak hy gebruik van rooi. Vir Bosch is die verleidelike besoekers nie soos by Goya naggestaltes as sosiale wesens nie / sy verbeelding is vry alhoewel verbonde aan opdragte en noukeurig deur notarisse ge-itemiseer en opgeskryf / wat ons sien as duiwelstonele was vir hulle ‘motiewe’ / en van die onderbroeke wat onder ‘n vergeetlagie verf toegeskilder is was portrette van die borge of opdraggewers. Die Hooiwa Triptiek (Triptico del carro de heno) wys hoe hy die modernisme  antisipeer / hoe gewaag in die middelpaneel is die mied / ‘n leegte maar tegelyk met die ‘gevoel’ van strooi / en daarbo byna ewe groot die wolk waarbinne Jesus ‘n opwagting maak / melkgesig / die mied en die wolk groot kontrasterende en ook aanvullende vlekke / abstrakte artikulering van bladspieël. Hy is ‘n miniaturis ! Met eenhaarkwassies stippel hy hier ‘n oog of daar ‘n gil en skielik is dit wat andersins ‘n leë wêreld sou wees nou ‘n gelaaide ruimte. Het hy oorloë belewe ? Die gepantserde soldate is soos krapgeledinge van één gevegsmeganisme / aanvalsmasjiene word verwar met skulpe. In die Visiones de la Mas Alla (Gesigte van die Hiernamaals) is die laaste paneel ‘n ware strokiesprent met ‘n tydgeleide ontwikkeling. Die tonele wat op die panele afspeel is salig onbewus van afloerders of toeskouers / hulle is in intense onderlinge interaksie / die oppervlakke lewe met gesprekke, verduidelikings, fragmentariese verwysings, die gekoggel van eggo’s. En altyd die argitektuur van die werk self, die reguit lyne, leers en spiese en toue en takke / die verbeelding van ruimte gegeometriseer deur die imitasie van illusie sodat die elemente wat saam bestaan op die oppervlak mag rym.

 

in die stad waar die mense

nie arms het nie en alle oë

verlei word na die wieënde heupstap

                                                     van vroue,

in die stad waar die mense

nie arms het nie en wind soms

die leë moue van die mans

                                                   op die banke

elegant laat vou

terwyl swaeltjies geluidloos duik

                                           in die wolke,

in die stad waar die mense

nie arms het nie is dit onbeskof

om kersies te eet uit kardoese

en te vinnig op ‘n motorfiets deur die verbeelding

van mense te ry

Skielik is die afwesigheid van mense oorweldigend. Dis asof al die afwesiges, die skimme van eeue en eeue, elk met ‘n eie lewe nou eensklaps teenwoordig is, soos hulle waarskynlik nog altyd was. Dit het iets te doen met die stilte van wind in bome wanneer daar nie die minste beweging is nie. Daar is dan niks anders as aanwesigheid nie. Teenwoordig : hoe verskriklik is die woord. Dat die ewige hierwees van die afwesiges slegs in die woorde sigbaar word. Of juis dat hulle daardie ruimte vergestalt wat woorde nie kan dek of oppervlak aan kan gee nie. Dat dit téén woord is. Nooit verwoord kan word nie. Die dooies leef in die moedertaal.

Ek lees die boekie van Marcel Cohen, Sur la scène intérieur. In my ervaring daarvan is dit ‘n ‘boekie’ en nie ‘n boek nie – miskien omrede die nederigee formaat in die Gallimard Folio reeks, presies so groot soos die handholte, maar meer nog omdat dit die pogings van ‘n vyfjarige kind uitbeeld om met woorde iets terug te kry van die wesens wat van hom weggeruk is.

(Miskien gebeur alles tussen hakies of aan die rand van die gesigveld in daardie wêreld van stilte waar alles ewig meeklink. Marcel Cohen is ‘n genoot van Lettres sur Cour – die groep skrywers en digters en filmers en kunstenaars en musici wat al sedert ‘n kwarteeu eens per jaar tydens die internasionale jazzfees byeenkom in Vienne om in binneplase te luister na voorgeleesde tekste, gesprekke en klanke. Alles word deur vrywilligers georganiseer. Die pianis wat vanjaar se voorlesings begelei se van is Sauvage. Hy is ingedagtig, ken Abdullah Ibrahim se wysies, en dra ‘n strooihoed soos ‘n donkie s’n by ‘n dorpskarnaval. Ons ontmoet vir Cohen in die jaart van ‘n laerskool. Dis warm. Jek het so pas die gesprek waaraan hy moes deelneem voltooi, het stotterend aan die groep uitgelese luisteraars probeer verduidelik wat Afrikaans is en hoe dit nou beweeg na die ruimtes van vergeet waar daar niks meer is nie om tot in die verskiet te dein. Inderdaad, hoe dit keel-af gesny word deur groepies swart studente wat dink hulle is revolusionêre en hoe die messe geslyp en die bloed agterna afgespoel word deur mak wit Afferkaners wat dan sommer hulle hande ook in dieselfde water was. Jek weet dit nog nie, maar onder die aanwesiges wat so aandagtig luister is daar ou anargiste en kommuniste, mense vir wie die Suid-Afrikaanse oorgang in versoening, so het ons gedink, ‘n mirakel was. Vir so baie oral in die wêreld was die Suid-Afrikaanse narratief dié voorbeeld van die gemeenskaplike goeie waartoe die mensegeskiedenis onverwags tog in staat is… Cohen sit eenkant op ‘n bank, sy hoof slank soos dié van ‘n eensame roofvoël, die oë diep in hulle kaste. Hy is ‘n beleefde iemand uit ‘n ander, meer beskaafde era, met die diskresie van ‘n oorlewende wat viool speel wanneer dit donker word. Natuurlik gee hy ook uiting aan ‘n soort Mandelamania, die uitsonderlikheid van die figuur wat op die regte tydswerweling daar was. ‘n Trapsoetjies versigtig gedra op die wêreld se gewrig. Met oë wat alkant toe draai ? En nee, hy dink tog dat die utopie van Suid-Afrika ‘n deurslaggewende moment in die mensegeskiedenis was, daarna kan die mensdom nie weer dieselfde wees nie, net so belangrik as die Revolusie, en dat alles nie verlore is nie, dat dit die land van die toekoms is. Waarom sal Jek ook daardie skyntransendensie wil vernietig ? En sal al sy ontledings van wat toe van die bevrydingsbeweging geword het, hoe verword dit is, tog enigsins help ? Is dit nie beter om liewer die hakies te sluit nie ?)

Ons reis deur vreemde tye om by ons bestemming te kom. Dit het skielik versengend warm geword oor die afgelope paar dae nadat die lente vir lank koel en matig was met milde reënbuie sodat die plantegroei laat groen gebly het en die rose nog aanhou bloei en blom. Die lig bly tot laataand, daar is warm wind uit die berge wat aldag sterker gaan waai en oor enkele dae sal die seisoen se veldbrande soos vuurspuwende krake in die kors van die nag oor dele van Noord-Katalonie soos ook die suide van Frankryk begin slang. Die snelweë is vol voertuie. Kuddes in families is onderweg na waar hulle vakansie gaan hou. Soms ry ons deur rooksuile. Die verkoeling in die motorkar werk nie en ons is genoodsaak om die ruite af te draai.

Dit is ook die tyd van tweelinge. Verwantskappe waarvan ek vroeër nie bewus was nie word by Jek ingeskerp. In Krakow, ‘n paar weke gelede op besoek aan Auschwitz-Birkenau, het ‘n gids met donkerbril en ‘n sambreel en ‘n grillerige Amerikaansagtige aksent uit ‘n mond so verbitterd soos ‘n stomp skeermes (die vasvatsinoniem vir ‘aksent’ in Sterftaal is ‘tongval’) met afgemete frases vertel van die afgryslike eksperimente (ons staan voor die grys barak in die son) uitgevoer o.a. op tweelinge. Deur Mengele. Die dodemeester. Hy wie die kuddes mense by hulle aankoms in beestetrokke in die kamp met die geoefende oog van ‘n skerpregter daardie kant toe na ‘n langsamer dood of diékant toe vir onmiddellike uitwissing geskei het. Poef. Vetterige as en rook. Terwyl ‘n orkessie speel. Ook Joods. Sodat die mense nie paniekerig moet word nie. En Mengele het op rype ouderdom vredig aan sy hart beswyk in die plek van sy Suid-Amerikaanse asiel. Soos ‘n doodgewone mens aan die einde van die lewe…

bb3

Birkenau… Jek kan nie daaroor skryf nie, nie oor die skuifelende hordes besoekers met die woorde in hulle oorfone asof dit uit ‘n verre wêreld kom, nie oor die sieldooie ruimtes agter glas vol klosse hare afgeskeer om gebruik te word, verwerk in viltmatte en muurbehangsels en om matrasse mee op te stop, nie oor die stapels en stapels brille, nie oor die berge geskifte koffers, en die name…, nie oor die martelselle en nie oor die hokke in die kelders net groot genoeg vir ‘n mens om regopstaande in dood te gaan van verhongering en nie oor die galge skielik soos ‘n roep aan die eindpunt van ‘n gang of soos ‘n herinnering in ‘n binneplaas nie. No se puede mirar. (Beverly Hills. Singende stemme gang-af op pad na die galgkamer, dood toe, nog voor die dag breek.)

Nie eens die onder woorde probeer bring tussen hakies gaan hier help nie. Net flardes bly oor. Want waar daar vir ander dalk die laaste regop beur is wanneer dood in die keel roggel, bly die hand van die een wat kyk aanhou spasmodies beweeg. Ook al is daar niks om aan te teken of oor te dra of net te merk nie. Selfs al het julle net één mens doodgemaak dan was dit nog altyd die pleeg van ‘n onuitwisbare daad, vir altyd ‘n vergryp teen die lewe… so ‘n plek – beenboord, asheuwel, stilte van uitwissing – is waar taal en besinning verstom… ‘n onteenwoordigheid van lewe wat nooit weer onderbreek kan word nie – waar geskiedenis as die verflentering van sin se oorlewe ophou… in die dorpie Osywicu (Pools vir Auschwitz) ‘n groot advertensiebord met KEBAB TOURUS, vleis vir honger toeriste… Droga Smierci (the Road of Death)… al wat (ek) weet is dat (ek) nie mens wou gewees het nie, nie nou nie, nie toe nie, nie in die toekoms nie. Nooit. (ek) weet ek het geen keuse gehad nie maar om dan te moet wéét die dood hou nooit op nie… dit kan nie vertel word nie, dit moét vertel word… the mind born in chaos / aborted on the page / and you made it light / and gentle, oh reader… don’t put your heart / in the poem, dear poet – / the reader will eat it / and wipe her lips / and where will you then find the throbbing to keen and to keep / alive the illusion of life… die ongeneesbare wond van gebore te wees… en nou om verby die einde / van die gedig te skrywe… hoe kom ons

(jy leser, ek vleser) / uit hierdie genadelose / voortbeweeg van woorde ?

jy is nog ek – Jek –

maar in die uitreik na jou

maak ek van my die eie gek –

maar in die uitreik na jou gegalg

hou ek jou as eie vir die geksalige

asemritmeruimtes

Was dit nie die onderliggende etos van die Nazis (die Duitsers) dat alles herwin en weer gebruik word nie ? Mens is gemaak om te produseer, om vooruit te beur, dis immers die doel van die skepping en die dryfveer van ontwikkeling, en slegs op dié manier kan jy inpas en dalk aanvaar word. Arbeit macht frei… Dat die Jode (en homoseksuele, kommuniste,  sigeuners, swartes, Sowjet-krygsgevangenes, gebreklikes) uitgeroei moes word –  dis ‘n gegewe. Maar éérs benut as slawe-arbeid…

In Berlyn op ‘n onlangse besoek lees ek ‘n laaste onderhoud met ‘n kerkleier wat kort vantevore ontslaap het, in lewe was hy ‘n groot kampvegter vir die integrasie van migrante. Hulle is mense net soos ons, sê hy. Al manier, volgens sy testamentgetuienis, is dat hulle so gou moontlik in die werk gesteek word. Dis die enigste redding. Dis hoe hulle hul voete kan vind in die Weste.

Tale het weggeraak in Krakow. Jek was daar om deel te neem aan die Milosz Poësiefees. Die afgestorwe digter, Czeslaw Milosz, was vir ‘n goeie gedeelte van sy lewe ‘n balling in Amerika waar hy ook in Engels geskryf het voordat hy teruggekom het Pole toe om te sterwe, 2004, juis in Krakow. Sy seun is nou aanwesig. Hy ook reeds ‘n ou man uit ‘n ander wêreld, so oud soos sy vaar sou word, die plegstatigheid wat saamgaan met ‘n sakdoek waarvan net die punt uitsteek by die baadjie se bo-sak, en miskien eweneens ‘n bietjie ironies. Hy trek op sy pa. Maar sy wenkbroue is minder intimiderend, minder rusperagtig oor die slaaiblaar van die gesig. Die bewegende mens vul die skimvorm van die afwesiges, die vlees is ‘n herhaling en die lyf maak oorgeërfde gebare waarvan die aandag nie bewus is nie. Hy lees ‘n gedig van die ou man voor. Ruimtes waar verrigtinge plaasvind roep afwesigheid en ontheiliging op – ‘n sinagoge, ‘n kerk. Versierings is oordadig, dit druip van weelde. En jy wonder hoe die stadkern behoue gebly het en waarom die Nazis nie hierdie rykdom ook gestroop het nie. ‘n Milosz voorfamilielid (Oscar Vladislas de Lubiez Milosz) het in Frans gedig : « Tous les morts sont ivres de pluie veille et froide » – die dooies is almal dronk van ‘n ou en koue reën.

Metaphysics

 

It’s been and gone.

It’s been, so it’s gone.

In the same irreversible order

for such is the rule of this foregone game.

A trite conclusion, not worth writing,

if it weren’t an unquestionable fact,

a fact for ever and ever,

for the whole cosmos, as it is and will be,

that something really was,

until it was gone,

even the fact

that today you had a side of fries.

Bogaande vertaal deur Clare Cavanagh is die finale gedig in die laaste gepubliseerde bundel (Tutaj / Here) van daardie Swart Moedermaagd van Poolse poësie, ons boegbeeld, Wislawa Szymborska. Met die aand se voorlesing in die sinagoge het Jerzy Ilg  (Vaderkrismis) ‘n helderrooi baadjie sonder sakdoek aan. Hy sê Szymborska het dit vir hom gegee en laat aantrek toe hulle vir oulaas saam voorgelees het en hy wil hê sy moet dit nou sien, waar sy haar ook mag bevind.

Tale het weggeraak in Krakow. Die organiseerders van die fees, so aanvaar mens, ‘n ‘struktuur’ van die stadsregering, is duidelik daarop ingestel as eerste prioriteit om die stad te bemark en internasionaal te situeer. Vir hulle het dit nie gegaan om die onderlinge verstaanbillikheid van die deelnemers nie. Hulle het hul pligte uitgevoer, die nodige substansie vir verslae gegenereer, die toegestaande begroting benut soos apparatchiks uit ‘n vroeëre totalitêre bedeling sou doen maar nou sonder die inkleding van ‘n ideologie. Poësie as niche vir ‘n ambisieuse burokrasie ; niks meer nie. En tog was ons bewus van die onderliggende dichotomie tussen staat en kultuur. Of dan, die intellektuele se verset teen die nuwe nasionalistiese party aan bewind se pogings om die geskiedenis te herskryf. In Gdansk befonds die Ministerie van Kultuur die oprig van ‘n herdenkingsmuseum wat die vervolging en slagofferskap van Pole voorop stel ten koste van die Jode se uitdelging. Net buite Birkenau se poorte is ‘n gedenkteken staangemaak deur inwoners van Osywicu en omliggende dorpies wat sweer dat hulle van niks geweet het nie. Daar was nou wel ‘n pesreuk in die lug…

Die internasionale deelnemers sit en luister dikwels met dowe ore. Adonis, vroeë Siriese modernis en sekularis vir wie monoteïsme die oorsaak van alle kwaad is, probeer vertel by monde van ‘n Arabiese kollega ons moet bly glo in die Utopie van gelykheid. Maar later het hy teenoor my beken dat hy moeg is van al die gepiekel na byeenkomste van onbegrip. Hy het probeer glimlag. In sy oë was die medelydende kyk van ‘n melankoliese harlekyn.

Michael Ondaatje verwys in sy voorlesing oor die belang van poësie – so het Jek dit verstaan – na ‘n Japannese estetiese vormbegrip waar die geheel met opset wankelrig of ‘oop’ gelaat word. Wanneer hy sy gedigte voorlees lê hy baie klem daarop dat hy beïnvloed is deur die orale poësie van Sri Lanka, sy geboorteland, waarvan hy die taal verloor het en slegs die oë van ‘n melankoliese nar oorgehou het.

Die ou stad se strate is smal en loop dan byna almal uit op ‘n groot sentrale plein wat sekerlik reeds in die Middeleeue aangelê is. Uit die venster van ‘n gebou in ‘n verlate systraat, dit mag ‘n klooster wees, spoel onverwags die soet fuga-klanke van ‘n koor wat ‘n Bach lied oefen. Die moment is gewyd, it’s the hour for washing the gods, dink jy, dit is tog waarmee die sangers besig is. Mens bly staan in vervoering en tas instinktief na die maan geryg aan ‘n kerktoringspits.

In die Bernadynse Kerk beeld ‘n tafereel die Dans van die Dood uit, met die onderskrif (soos vertaal) : « It is, alas, a sorry chance / When Death asks us to dance » Soos skimme, wanneer tot die ou skuifelgebare van die dans verleer is, sien mens dan oral die verwese dronkaards een-een, al loop hulle dikwels twee-twee sonder om ‘n woord te wissel in geselskap van koning vodka. Miskien help dit hulle om te glo hulle sien nie dubbel nie.

En in die skemeruur ontmoet mens onverwags vir Olga Sedakova op pad iewers heen. Haar oë is treurig. « And I will walk down a familiar road, / At last, going where I am bidden to go. » { – } « Each of us wants to be recognized, known, / For birds to fly down in greeting, / For the dead to stand up as if living, / For the beasts to bring their young // And for time, slowly to unfold / Like lightning remembered from long ago. » (From Old Songs – THE JOURNEY, vertaal deur Stepfanie Sandler)

bb4

 

van val en vergeteling

.

om in die diepte die lewe te verloor

waar gevindes met oë wyd oop op duisternis

deur die einde en einderlose blou ruim

dartel en swenk en tuimel en vlerk

in arabeske van vlieg en vlug en vind en verandering

.

hoe moet dit wees

om eindeloos verorber te word

en weer te woord

begrawe in as

langs flanke van bergreekse koraal

onder gordyne sneeuende saad

hoe moet dit wees om te waterwees

Vorentoe van waar jy in die verlede was, terug in die teks. Patrone en motiewe dryf rond soos broodkorsies in ‘n kommetjie melk – berge, tweelinge, die nagmerrie van mens te wees, die doodgaan in die mond, dat Bosch al eintlik die swelgpartye vir die voorvarke en dodekampe vir die res geverf het, soos in Dachau en Auschwitz. Was/is dit dan altyd so ?

Van Van Gogh is gesê dat hy baie duisternis verorber het om ‘n bietjie lig uit te kan skei al het sy doeke gebrand van vuur. Wat sou mens dan sê van Bosch se werke waar alles tot glans omtower word, selfs die nagtonele met vlammetjies in die verte ? Is dit omdat sy beeldeskat so vanselfsprekend is, onbevraagteken soos ‘n moedertaal ? Wat sê dit dan van die nodige ontwrigting tussen oppervlak en suggestie wat dit moontlik gaan maak vir die kyker om in die prentjie te kom ?

Chronologies was daar eers die besoek aan Krakow en die rou wonde van die uitwissingskampe. Jek onthou nou dat die poësiefees ‘n tema gehad het, Road-side dog (na aanleiding van ‘n skryfstuk van Milosz), en dat hierdie droomknoop ‘n voorafskadu was van die halfversuipte hond, Goya se vergestalting van suiwer angs wat ek later in die Prado sou sien. Daarna kom die reis Madrid toe om onder die swart toesigoog van Goya te gaan kyk na die werke van Jheronimus Bosch.

Was al die werke deur hom geskilder ? Sekerlik nie (en dit maak nie saak nie) want leerlinge het tema’s oorgeneem, nageskilder. Goya se werke is eweneens van die mure waarop dit geskilder was verwyder, skoongemaak, gerestoureer, hier en daar kleiner getrim om in die oog van die afloerder te pas. Buitendien, Bosch behoort aan ‘n gilde, hy kom uit ‘n familie van skilders, ambagsmanne, en die werke is die produkte van ‘n gemeenskaplike ateljee. Tog bespeur jy die bewegings van die hand en die onrustige gees van die historiese mens wat van 1450 tot 1516 gelewe het met vrou en sorge en die plegtige plesier van ‘n gesiene stadsburger, gereis het, die sotlikhede van die mensdom met wrangheid gadegeslaan het. Hy het geweet van kadawers en rotte. Dis veral opvallend omdat jy kan sien hoe die impasto dikker en die penseelhale losser word in die laatwerk. Dis in die doodgaan dat die mens ‘n individu word. Skilder was sy vryheid – hier is ek, ek kan nie anders nie.

Daarna eers kom die reis na Vienne. Jy is nog nie klaar daarmee nie. Ook nie met Cohen se boek nie.

Ons is vroeg weg uit Poble Gran. Die landskap was lieflik soos oopvoue van die oog na die Pirenneë se kant toe. Daar was in die vroeë ure nog nie te veel lorries op die pad nie en die lug was so skoon soos water voor die dynserigheid van melk bykom.

Teen twee-uur was ons in Vienne, ons plek van aankoms – ‘n Gallo-Romeinse nedersetting aan die oewers van die Rhône. Vroeër was dit ‘n handelsplek met skure waar allerlei produkte uit die Romeinse Ryk en van naburige state verder noord opgegaar is om daarvandaan na Rome verskeep te word. Groot dele van die oorspronklike stad is opgegrawe en kan besoek word. Die luukse, die gemak, die ontwikkelde rioolstelsels wat nog te sien is, is verbysterend.

van mense in toga’s

wat op die linkersy gevly

in die nabyheid van watervywers

en fonteinklanke in binnehowe

onder prieels

eet met die regterhand –

en ‘n bietjie verder die latrines

want hier het mense toe lankal

binnenshuis begin kak

en dalk selfs in diepe bepeinsing

gestoei met die binnemens –

anders as in Afrika

waar mense neusoptrekkerig

buite op die hurke sit en eet

uit één bak

met die regterhand

Later die aand onder die maan ‘n goue skuit wat oor die donkerwordende heuwels vaar, tot kreun-en-kraak vol drome versteen as herinneringe, en met enkele sterre se helder weerkaatsings in die rooi hemel van sterfte, het ons deur die verdwaalstegies geloop na die Romeinse arena wat al vir so baie eeue teen die bergwand bo die stadjie lê om saam met ten minste seweduisend mense – ‘n see van mense in die nag – te luister na uitvoerings tydens die jaarlikse jazzfees. ‘n Yoruba tweeling meisies, baie lig van kleur, het gesing. Hulle krete het mekaar aangevul en teruggebons as eggo’s van die halfmaan volgepakte sitplekke in die arena. Soms het hulle gesing in ‘n taal wat net hulle ken. Die een met die boskasie hare het vertel hoe die geboorte van ‘n tweeling in die Afrika van hulle herkoms as ‘n onheil gesien word. Dat die een moet sterf sodat die ander kan lewe. Hulle was aangetrek in rooi werkersoorpakke – so asof hulle dalk lede sou kon wees van Djuliaas Malema se fascistiese party.

Jek moes dink : om te skryf is ‘n tweeling van lewe en elke uiting word instinktief die insae en weerklank van die ander.

bb5

Op pad terug probeer vang Lotus die maan. In die verbygaan voor ‘n winkel wat goëlgoed verkoop sien ek hoe wink Jek vir my tussen bric-à-brac van agter die glas. Hy dra glad das ! Die hotel is op ‘n haar na presies dieselfde een as dié van Madrid – funksioneel, minimaal, van plastiek, ‘n skakel in ‘n anonieme ketting. (In Madrid was die naasliggende arena egter bedoel vir bulgevegte.) In die verlate  foyer sit twee werknemers met fluitjies en veelkleurige hane van vilt op die koppe voor ‘n televisiestel om te kyk na die eindwedstryd tussen Portugal en Frankryk in die wêreldsokkertoernooi. Portugal sou wen.

Cohen – dit is die stamnaam, verstaan ek, van hulle wat toegelaat word om in die tempel te sing, die priesters dus – skryf volgens sy bibliografie ook in Judeo-Spaans. Oftewel Ladino. Nog ‘n taal wat weggeraak het. Met die wegraak bly slegs die woorde en die geure wat werklikhede en aanwesighede oproep oor. Wie sou weet of die een die ander voortbring ? Of verduister ? Hy skryf dat die mens in staat is om te onderskei tussen drieduisend verskillende reuke. Die geheue aan reuk is in die mees argaïese gedeelte van die brein gesetel, daardie weef-sel-herinnering wat ons in gemeen het met die amfibiese tweeslagtigheid aan die kern van ons evolusie. Elke stap vorentoe is ‘n verlies. Sy familie kom oorspronklik uit Turkye, Konstantinopel. Iedere hoofstuk van die klein, intens skrynende memoir wat ek nie wil lees nie want die afwesighede word ondraaglik, dra die titel van ‘n nabye familielid. Benewens Marie die ma en Jacques die pa kom die evokatiewe name van ‘n vervloë tyd aan bod : Sultana en Mercado en Rebecca Chaki en David Salem… elk afsonderlik verbind aan ‘n geurboeket. Leer en kleedstof en naskeermiddels en parfuum en sakdoeke en seep en kookolie en dit wat jy ruik wanneer jy jou neus in die geliefde se nek druk. Sy ma, Marie, se liprooisel. Nooit sou sy uie skil nie want die reuk bly kleef aan mens se hande vir dae. Onder die hoofstuktitels is daar die nommer en die datum van die konvooie wat hulle weggeneem het dodekampe toe om op te gaan in rook en as. Daarna niks. Soms wel ‘n asem van wat gebeur het. David, byvoorbeeld, was sy ma se jongste broer. Saam met Perla, sy vrou, word hy gedeporteer Birkenau toe. Hy probeer ontsnap uit die kamp vir mans om by sy vrou uit te kom. Sterf soos ‘n trekvoël wat verblind teen die geëlektrifiseerde heining vasgevlieg het. Die SS hang die lyk op bo die sentrale laan waarlangs die ander ingehoktes moet loop om te gaan werk. Vir dae. As afskrikmiddel. Hy was ses-en-dertig jaar oud. Saam met ander besoekers het Jek ook in daardie laan geloop. Die stank van ontbinding bly kleef aan mens se hande. Besprinkel die Nazi grootkokkedore dan nie ook hulself met oliekolonie nie ? In feite verkies hulle meer viriele reuke, soos Cuir de Russie. Selfs hulle eie Echt Kölnisch Wasser het hulle te veel herinner aan die swakheid van die Weimar Republiek.

Marcel ken die storie want Perla het oorleef al het sy nooit weer daaroor gepraat nie.

Skrywe is ‘n herwinning van daardie tweeling – die bewussyn, die geborgenheid, die onskuld, die ritmes – wat verlore gegaan het. Mens skryf al agter die beweging aan. Die skrywe is ‘n naspoor van die reuke wat lewe genoem word, wat soos die tweeslagtigheid van lewe-en-dood aan woorde bly kleef. Aan die hand van melkvaal kiekies probeer onthou hy wat hy moes geweet het nog voor hy bewus was van enige onthou. Hy ‘lees’ deur ‘n vergrootglas en elke foto word die ingang tot daardie vergane wêreld wat nooit ophou bestaan het nie.

Die groot wegraakherinnering begin die dag toe hy terugkom van die speelpark waarnatoe die oppaster hom geneem het, sy is ook in die boek en verdwyn ook, en toe van ‘n afstand moes sien hoe sy naasbestaandes uit die familiehuis geboender word – sy oupa Mercado het in alle statigheid en gekrenkte eer probeer vasklou aan sy geliefde leunstoel – en weggevoer word in lorries. Dit was altyd die Franse polisie wat die arresteerwerk gedoen het. Die Gestapo het die feit dat hulle in ‘n besette land is gerespekteer. Marie het nie dadelik in ‘n konvooi beland nie. Sy had ‘n jonggebore dogtertjie, Monique, Marcel se sussie. Die beleid was dat kinders onder ses maande nie gedeporteer word nie. Marie en die babatjie was dus aangehou in die Rotschild Hospitaal saam met ander in dieselfde geval totdat die kind oud genoeg was om doodgemaak te word. Marcel kom staan gereeld op die sypaadjie langs die hospitaal. Sy ma maak gebare maar geen geluide nie, ‘n engel in die oond, en later eers sal hy verstaan dis omdat sy nie die aandag wou trek na haar seun oorkant die pad nie. Totdat sy vir hom laat verstaan dat dit te gevaarlik sou wees om weer te kom.

Hy was vyf jaar oud toe die dood begin het. Hy haal aan : « Om oud te word – watter vreemde avontuur is dit tog vir ‘n klein seuntjie. »

bb6

Jek Breytenbach

Can Ocells, Augustus 2016

Helize van Vuuren. Die atoombom, sensuur en ’n geheime publikasie.

Friday, August 5th, 2016

Monument_of_the_A-bombed_Teachers_and_Students_of_National_Elementary_Schools

Monument vir die gebombardeerde nasionale skole
in Hiroshima.

 

Shinoe Shoda se versameling tradisionele tanka-verse, geskryf om die gruwels van die 1945 atoombombardering van Hiroshima te herdenk, en in die geheim gepubliseer tydens die Geallieerde Besetting, is ontdek in ‘n tempel in die Hirosjima-omgewing. So is vandag berig in The Japan News, van Woensdag 3 Augustus 2016 (bladsy 2).

n-poetry-a-20160730

Die versameling, Sange, ‘n Boeddhistiese term wat “jammerte, belydenis, boetedoening” beteken, is op 26 Julie geskenk aan die Hirosjima Vredesherdenkings museum. Vantevore was slegs een kopie van die bloemlesing, “’n kosbare en rare geskrewe stuk”, bekend. Shoda het die atoombombardering in haar huis ervaar, slegs 1.7 kilometer vanaf “grond zero”. Die bloemlesing bevat 100 tanka-verse wat grafiese beskrywings bied van wat sy self ervaar het of gehoor het van ander hibakusha atoombom oorlewendes. Een tanka lees:

 

die swaar beendere

moet die onderwyser wees

en daarnaas

klein skedeltjies

vergader

 

In 1947, die jaar toe die versameling gepubliseer is, was Japan beset deur Amerikaans-begeleide Geallieerde Magte. Ernstige beperkings is geplaas op publikasie en beriggewing oor die atoombombarderings van Hirosjima en Nagasaki, volgens Hirosjima-stadsbeheerders.

 

Ander tankas:

 

Tanka (I)

 

In madness

a woman cries

“I left my child in the flames.

Now all I have

is my own life.”

 

Tanka (II)

 

I wonder

if there is an operation

that removes memories.

Where is a cure

for my pain-filled heart?

 

_______________________________________

 

Shinoe Shoda (正田篠 Shoda Shinoe, december 1910 – 15 juni 1965) was een Japanse dichter en schrijver bekend om haar atoombom literatuur.

Shoda werd geboren in Etajima in Hiroshima in 1910.  Rond 1920 verhuisde haar familie naar Ujina, net buiten Hiroshima, en in 1925 schreef ze zich in bij een Jōdo Shinshū middelbare school voor meisjes, waar zij afstuderen in 1929.

In de late jaren 1920 begon ze met het publiceren van poëzie in Koran, een maandelijks literair tijdschrift.

Shoda trouwde met ingenieur Takamoto Suematsu en ze hadden een zoon, Shin’ichirō.  In 1940 overleed haar man en in 1945 werd haar ouderlijk huis verwoest, waardoor de familie zich verplaatsen na de stad Hiroshima.  Op 6 augustus 1945 werd de stad verwoest door de atoombom aanval. Shoda was thuis op dat moment, slechts twee kilometer van ground zero. In februari van het volgende jaar is haar vader overleden aan darmkanker en later viel haar zoon ook ziek.

Naar aanleiding van de Japanse overgave, begonnen Shoda met het schrijven van traditionele tanka gedichten op het thema van de atoombom.  Ze had moeite met het publiceren, zowel vanwege het onderwerp en vanwege haar relatieve gebrek aan ervaring.  In 1946 slaagde ze in het publiceren van 39 van haar gedichten in het Shida tijdschrift Fuschichō. In 1947, om censuur te ontwijk, heeft ze Sange (“berouw” of “Repentance” in het geheim gepubliceerd), een tanka bloemlezing. 150 exemplaren van het boek waren gestencild door een klerk in de gevangenis van Hiroshima en door Shoda persoonlijk uitgedeeld aan de slachtoffers van de ontploffing.

Ze publiceerde weinig na Sange tot in de jaren 1960, toen zij in 1962  haar autobiografie, Een oorsuizen, publiceerde.  Kort na de publicatie werd ze ziek met borstkanker en haar gezondheid ging snel achteruit.  Zij overleed op 15 juni 1965, het jaar vóór de publicatie van haar tweede tanka collectie, Sarusuberi ( “krip mirte”), in 1966. “Reiko” samen met “Chanchako Bachan” (“Oude vrouw in chanchako, of een gewatteerde mouwloze jas”), werd postuum gepubliceerd in Dokyumento Nihonjin (“Document van de Japanse ‘) in 1969. Pikakko-chan bevat zeven verhalen, met inbegrip van “Reiko” en “Chanchako Bachan”.

Een van haar gedichten uit Sange verschijnt op het Monument van de A-gebombardeerde docenten en studenten van de Nationale Basisscholen in Hiroshima.

Referenties

–         John Whittier Treat (1996). Writing Ground Zero: Japanese Literature and the Atomic Bomb. University of Chicago Press. pp. 189–197.

–         Kenzaburo Oe; Kenzaburō Ōe; David L. Swain; Toshi Yonezawa (1996). Hiroshima Notes. Grove Press. p. 165.

–         Masamoto Nasu (1991). Children of the Paper Crane. M.E. Sharpe. p. 98.

–         “Social Damages”. AtomicBombMuseum.org. 2006.

–         Kaushik, Devendra (1970). Under the Mushroom Cloud of Death. Rachna Publishers. p. 17.

–         Roach Pierson, Ruth (1987). Women and peace: theoretical, historical, and practical perspectives. Croom Helm. p. 227.

(Nederlandse vertaling van https://en.wikipedia.org/wiki/Shinoe_Shōda)

Helize van Vuuren

 

Ampie Coetzee. Seks is ‘n Gebed

Monday, April 4th, 2016

C4Pgg7y

Seks is ‘n Gebed

(Hierdie teks is ‘n verwerking van gesprekke wat plaasgevind het met die verskyning van André P. Brink en Ingrid Jonker se liefdesbriewe, Vlam in die Sneeu, en ook met die bekendstelling van Anton Brink se kunsuitstalling, waar die verhouding tussen hom en sy pa pynlike herinneringe gebring het. Die gesprekke het plaasgevind in die galery van die Breytenbach Sentrum in Wellington, op 19 Maart. )

.

Die uitspraak van André wat ek as inleiding wil gebruik, kom uit ‘n artikel van hom wat in 1964 (Standpunte 18.2) verskyn het: ‘Oor seks en religie’. Ek haal aan :

‘Die geslagsdaad is die seksuele ekwivalent van gebed  … die belydenis van sonde, en die afstroop van die klere is, repektiewelik, die onontbeerlike vanselfsprekende voorwaarde vir die religieuse en die seksuele moment: elk is ‘n daad van blootstelling vir en voor die Ander, ‘n daad van weerloos-maak in volstrekte eerlikheid …’  (Contrary, 2013, 149)

Die rol van die vrouefiguur as sleutelfiguur word dan spesifiek uitgespel:

‘Die vrou bring geboorte; daarna  bring sy val; uiteindelik bring sy die moontlikheid van wederopstanding. Religie en seks is hier ongedifferensieer'(150)

Willie Burger haal soortgelyke woorde van André aan:  ‘ …seks is vir hom ” ‘n soort Mis-hou waarin die transsubstansiasie volkome is” en hy vra of seks miskien die ‘ongelowiges’ se ‘suiwerste religie ‘ kan wees  (Vlam in die Sneeu, 2015, 11).

th

André se eerste roman waarin die seksuele oomblikke geromantiseerd figureer is  Lobola vir die Lewe (1963, 89). Die verwoording van die seksuele is die vervulling van die liefdesdaad – en hier word die Bybelse betrek:

Ek haal aan :  ‘  … hoe mooi is jy , my roos van Saron, my beminde, en my hande reis teen jou sagte heuwels op, en af weer na die dale, beminde, o vannag, o vannag sal alle menslik eeue deur ons stroom

die bronstige Lilith wat met haar seun verkeer,

en Adam en Eva,

Simson wat hom lomerig aanvly teen die listige Delila,

en Dawid teen die skone Batseba,

en Salomo teen sy lelie-van-die-dale …’ (89)

.

En dan later, nou buite Bybelse verband :  ‘Kom, sê sy teen sy wang, Kom nou.

Hy voel hom diep ingly in warmte en sagtheid en genade terug in ‘n voorwêreldlike bestaan in lou diep water, beskermend, soos ‘n poel waar hy in afduik, diep, ver, teug na alle wondere en waar alles moontlik is en alles vriendelik en alles goed, so goed, so goed; en sy met soet gelukkige oë onder hom, met vuurlig en stilte …’ (90).

Hoe sou die Calvinistiese, die gelowiges, hierop reageer het – as skokkend en verbiedbaar? Die Wet op Publikasies het gekom. Dit was aan die begin van die Sestigerjare. En vir hierdie prosabegin, moet ons vir André dankbaar wees, alhoewel hy soms pretensieus was.

Byvoorbeeld: daar is in Lobola ook ander verbintenisse met die religieuse, wat taamlik eksplisiet is, nl. Die Katolieke Stasies van die Kruis. Dan ook ‘n soektog na selfontdekking (wat ‘n deurlopende tema in André se werk is). Dit sal seker verhelderend wees om die inhoud van hierdie 14 stasies na te gaan; maar dit sal beteken dat ooreenkomstes met Jesus se Via Dolorosa gesoek moet word in elke hoofstuk .

Die boeke wat deur André geskryf is in die begin van die sestigerjare waar seks en religie tot ‘n mate saamgaan (alhoewel die religie minder as die seksuele is), is dan Lobola vir die lewe ; Die Ambassadeur, ook in 1963; die liefdesbriewe van André Brink en Ingrid Jonker vanaf 1963-1965. Vlam in die Sneeu, onder redaksie van Francis Galloway. Dis uitgegee in 2015. Dan ook Orgie in 1965.  Dis belangrik om te besef dat die briewe nie fiksie is nie, maar dat daar deurgaans verwys word, spesifiek na die skryf van Die Ambassadeur, en in ‘n mindere mate Orgie.

thuneOs

Aangesien die briewe in Vlam dan waarskynlik van die eerste tekste was waarin die seks/religie-verbintenis tot ‘n mate figureer, sal ek eerste daarmee begin.

Die volgende gedagtes in die reeks is:

.

bl. 320: ‘Ek lees – of peusel – aan ‘n werk oor die magie The key of the mysterious. Mooi dinge in. Vir jou stuur ek dít: ‘”The least perfect act of love is worth more than the best act of piety. Judge not; speak hardly at all, love and act”‘

Ek verskil net:: elke daad van liefde is ‘n “act of piety”, is essensieel religieus. Dis al religie wat ons hét, waarvan ons séker is, en dalk wat ons nodig het.’

.

In Engels is ‘pious’: ‘for the glory of  God and the good of man’ (Oxford Woordeboek). Ek dink die gedagte in Engels gaan meer oor liefde in die algemeen, nie net tussen man en vrou nie. André wíl egter hê dat dit spesifiek ‘n ‘daad’ moet wees, die seksuele, en nie net liefde vir almal nie.

Dit gaan dan ook oor die verlange na die geliefde. In een van die briewe aan Ingrid skryf hy:

.

‘Ek leef in suiwerder verlange na jou as ooit tevore. Toe ek klein was, het my ma my soet gehou met ‘moenie liewejesus se hart seermaak nie’ Wees jy, my kokon, my liewe jesus. Dat ek in elke ding, elke dag, eers vra: is ek hierin waardig aan jou liefde’.

.

 (‘Kokon’ – die omhulsel waarin papies van skoenlappers toegespin word. André gebruik allerlei metafore vir aanspreekvorme by sy briewe. Hier is dit die pudenda, die privaatdele. Oral is daar sulke naampies waarmee briewe begin – meer by André as by Ingrid. Soos ‘Lagkind, my Kokon’; ‘Liefste liefling, ‘Kontjie; ‘ Beminde soos aarde’, ens. Mens sou ‘n bloemlesing kon maak – maniere om hallo te sê vir jou geliefde!)

Jesus, waardigheid, verlange, gaan saam met die godsdiens. Waarhede soos hierdie, dink ek, is emosioneel geskryf, wat natuurlik natuurlik is; maar ek glo nie dat ware liefde – seksuele liefde – met die liefde vir Liewe Jesus  hand-aan-hand hoef te gaan nie.

4daa35345cd645878bae6fa107ca07e5

In sy beskrywing van die seksuele daad, en ook die romantiek daar om is dit die meesterlike skryfvermoë van André, en (ook van Ingrid –miskien aanvanklik ingegee deur die leidende skrywer) die literêre insig, die kennis van ander skrywers se werk. Dis ‘n bloemlesing van aanhalings en metafore en beskrywings. Maar die sterkste was die seksuele.

Maar André dig ook vir haar. Hy sê:

.

 ‘En – gek, sal jy sê –jy’t ‘n onvermoede iets in my oopgemaak en my aan die dig gemaak! G’n “hoë en dwingende taak”nie – maar dalk ‘n soort noodklep om ons paar, maar kosbare, dinge te besweer en te laat dúúr’.  En van tyd tot tyd stuur hy ‘n paar ‘pleegsels’ (24. Dit was einde April, 1963).  Op die 9de Mei antwoord sy op hierdie gedig van hom:  ‘Weet jy, my hartjie, hierdie gedig “selfs heiliges” van jou is die mees geslaagde een sover. Het jou reeds gesê: net die einde aard te veel na Van Wyk Louw: wil voorstel dat jy dit inperk en werk om dié reëls’.

Dan haal sy aan:

.

Selfs heiliges

moet tekens nalaat om onthou te word

‘en: maar méér poëties: Dan’ (Sê sy tussenin)

maar jy word onthou net deur my liggaam

‘en:’ (sé sy)

die manier waarop jou klein duiweborste nesgemaak het

in my hande;

en jou maagdelike stil soet slaap by my daarná.

Maar noudat jy weg is

en ek jou enigste argief

wie sal hom op die woord verlaat …

…klein vergeefse vergeetbare tekens …(45)

.

Sy sê ook daarby  …’ ek stem ook saam met jou en Durrell: “‘Love is a form of metaphysical enquiry'”. (Miskien eerder dit as ‘n gebed!). (41)

André reageer nie op haar aantwoord nie. Sy het ook bygeskryf, as Ns.

‘Hoe lank sal dit duur

oomblik van werklikheid

sonder die waansin

En in aanraking met die droom’ (46-7).

.

Dit sal boeiend wees om te probeer vasstel vasstel watter van Ingrid se gedigte verwys direk na die liefdsverhouding.

Rook en Oker verskyn in 1963. Mens sou miskien al daaruit iets kon lees. Byvoorbeeld het die laaste strofe van die eerste gedig daarin – ‘Op alle gesigte’- nie iets wat alreeds, aan die begin van die verhouding, iets van ‘n eindiging daarvan, veral die bloed wat ‘wil verander in water’?

.

‘My dae soek na die voertuig van jou liggaam

my dae soek na die gestalte van jou naam

altyd voor my in die pad van my oë

en my enigste vrees is besinning

wat jou bloed wil verander in water

wat jou naam wil verander in ‘n nommer

en jou oë ontsê soos ‘n herinnering’ (3)

.

Dis briewe van die verhouding vanaf  21 April 1963 tot 31 Desember 1963, met ander woorde na die verskyning van Rook en Oker (die hele verhouding het natuurlik aangegaan tot 1965).

In Junie 1963 is daar  die volgende gedig:

.

Ons

Vir André

.

Só sal jy áfsterf van my

soos jou vergeefse saad

nakend soos water      brandblink

soos laat

april

soos hande nakend

mooi soos verganklikheid

soos ‘n laaste woord

treurig soos bloed

geen kleine

nét

dié kleine dood

Môre brandblink ons onverwekte

saad     die môre

breek aan die bloeisels

nuwe meisies soos maagde

môre

sterf en en jy                                    (Versamelde werke 91)

.

André probeer nóg gedigte skryf. Dit word later minder en minder!

Ek haal net enkele reëls uit ‘n later een aan:

.

‘Kon mens maar sonder sê

van liefhê liefhê

wéés

sodat niks gemeet hoef te word

aan die tyd nie

want hoe lank duur duur?

is? is? …..  (77)

.

Maar die liefde sterf.  Van André se kant af? Ek kan nie eintlik vasstel nie, behalwe dat hy ‘n ander vrou gekry het.

Hy en Ingrid se verhouding het twee jaar geduur, van April 1963 tot April 1965 (dit lyk asof dit beplan kon gewees het!)

Sy voorlaaste brief bring die Here by:

.

‘Twee jaar.

Ja, twee jaar. Loof die Here o my siel, en alles wat in my is, Sy Heilige Naam. Maar:

‘April is the cruellest month, breeding

Lilacs out of the dead land    …..’

.

Eers loof hy die Here (wat dan natuurlik deel van hulle liefde was!), dan haal hy aan ‘n strofe uit T S Eliot se Waste Land. Met April as eerste woord!

Die laaste brief is dan:

.

‘April

Lief kind, sit by my en luister  …..

….Ja, ek was toe by haar (Salomé). En ons het saam geslaap.

Ek staan nakend voor jou; ek wíl geen klere of beskutting behou nie.

Ek mag nie eens vergiffenis vra nie, want dit  impliseer skuld – en net so min as wat ek ooit skuld kan voel oor my en jou, kan ek dit hieroor voel’

.

Aan die begin het ek aangehaal dat André gesê het dat ‘die seksdaad is die seksuele aktiwiteit van gebed .. die belydenis van sonde’. Nou, wanneer hy afskeid neem van Ingrid sê hy dat hy by ‘n ander vrou gelaap het –en dat hy nie om vergiffenis vra nie want dit impliseer skuld .

Maar nou is dit nie die belydenis van sonde nie! En is seks dan nou nog ‘n gebed?

.

© Ampie Coetzee (Maart, 2016)

.

G.Brits. De Waal Venter, digter: ‘n Waardering, 2007 – 2015

Wednesday, February 10th, 2016

DWV BieC

De Waal Venter, digter: ‘n Waardering 2007 – 2015

Deur dr. G. Brits.

(Dr. Gert Brits is ’n wetenskaplike met ’n belangstelling in die kunste)

Opsomming Die Suid-Afrikaanse digter de Waal Venter se latere deel van sy oeuvre, in Afrikaans en Engels, hoofsaaklik self- en blog gepubliseer, word waardeer. Sy belangrike werk in Engels word opgeweeg teen sy Afrikaanse bydraes. Hierdie veelsydige woord-skepper verdien waarskynlik meer aandag as unieke bydraer tot die Suid-Afrikaanse poësie.

******

Hierdie waardering is gerig aan almal wat ”dubbeltalig” met Afrikaans en Engels omgaan – diegene wat die twee tale vrylik as gelyke kultuurerfenisse hanteer en bemin. Die toe-eiening van Engels as kultuurtaal onder Afrikaanses is myns insiens meer as pragmaties. Dit is ook, en veral, die ervaring van  en die behoefte aan ’n ander kontinent van kultuur, en is waarskynlik ’n tweede natuur by almal wat tot hierdie webblad bydra, of dan in Afrikaans dig.

P.A. de Waal Venter (1942) dig lank reeds in beide Afrikaans en Engels – soos hy sê: ’Many of my poems are created in (both) Afrikaans and English and coexist in the two languages’). Hier is HJJM van der Merwe se ”dubbeltalige” individu: eentalig met twee kommunikasiestelsels (Van der Merwe, 1965). Venter is hiermee in goeie geselskap, soos dié van Eugène N. Marais, C. Louis Leipoldt, Herman Charles Bosman en andere, wat almal ‘n Suid-Afrikaanse dubbeltalige literêre tradisie beoefen het (Gray, 2012). Die Suid-Afrikaanse kulturele internet webblad Litnet akkommodeer formeel bydraes in beide Afrikaans en Engels (http://www.litnet.co.za/category/als-oor-litnet/wie-is-ons/ ) en gee daarmee praktiese betekenis aan die konsep van dubbeltaligheid.

Venter is ‘n gevestigde digter in sy moedertaal, Afrikaans (Terblanche, 2012). Maar sy soepel lewering in Engels herinner aan wat van die Ier Beckett gesê is, wat sy beste werke in Frans geskep het: dat Beckett ‘n Frans gebruik het gestroop van ’n geërfde (en hinderlike) fraseologie van Engels (Winch, B., 2012).

  1. Agtergrond van de Waal Venter

De Waal Venter se veelsydigheid strek oor vele grense, in verskillende genres van dig-/prosa-/skryfkuns (onder andere romans, wetenskapfiksie, jeugverhale en radiodramas) oor lang periodes (kyk https://dewaalventer.wordpress.com/ ), onder verskeie heteronieme; en dan veral as vertaler uit verskeie literêre tradisies (hieronder bespreek; Terblanche, 2012). As jong digter was Venter ’n rigtinggewer in ’n vroeë Afrikaanse avant-garde beweging wat (’n deel van) die destydse Afrikaanse literêre toneel wou subverteer en ’n nuwe digtersmentaliteit wou aanmoedig: hy was die eerste redakteur van die klein literêre tydskrif Wurm (in 1966 – kyk https://dewaalventer.wordpress.com/wurm/ ) en het in sy intree-redaksionele kolom gewaarsku dat Wurm (soms sou kon) ”baie skerp optree teen dié dinge wat hulle ongesond vind” (Venter, 1966) of, soos ander medewerkers dit gestel het, (optree teen) te veel ”broederlikheid” en ”verstarring” in literêre tydskrifte. Wurm het betoog vir ’n radikale oop ingesteldheid in poësie wat die gangbare ”institusioneel”- en ”burokratiese” gewortelde verskuns van destyds moes uitwerp en wat die selfdienende ”normdeurbreking” ideaal van die gevestigde bestel moes vervang. Volgens John (2009) was die reaksionêre ontvangs (die Wurm-groep is getipeer as ”slagvaardig” deur Kannemeyer, 2005: 459) deur die Afrikaanse literêre establishment, die rede dat die impak van Wurm as’n verdienstelike literêre episode in Afrikaans, onder leiding van Venter en sy medewerkers, nog (steeds) nie na regte verreken is nie.

Tydsgewys beperk ek hierdie opstel tot Venter se latere periode van verhoogde kreatiwiteit in Engels (en in mindere mate Afrikaans), ongeveer vanaf 2007, toe hy ’n nuwe skrywersblad omgeslaan het (Terblanche, 2012). Dit sluit in toenemende elektroniese publikasie via blog en internet selfpublikasie en beloop tans moontlik 2000 gedigte. Sy bundel ”Entangling states of mind” (Venter, 2010) is verteenwoordigend, en ‘n hoogtepunt, van hierdie fase.

Op sy vroeë, eerste blog, (2007 tot 2014 – http://blogs.24.com/poems/ – Media24 – tans gesluit) publiseer De Waal Venter meer as ’n duisend gedigte, teen ’n tempo van moontlik drie of vier per week, meesal in Engels maar elders ook in Afrikaans. Lg. hoofsaaklik as ’n stewige versameling van vertalings vanuit nie-Engelse bronne. Sedert 2014 publiseer hy op sy nuwe blog Poetry/Poësie (https://inmogale.wordpress.com/) asook op ’n blog vir nuwe Afrikaanse poësie, genoem ’Oop sirkel’, op https://dwvphot.wordpress.com/ . Venter het die digversameling van die gesluite Media24-blog onlangs begin herpubliseer op https://westrand.wordpress.com/ , in ongeveer 16 rubrieke met die hoofaandag op Philosophical reality, Reality shifting, Love, Science, Satirical, en Humorous.

Venter is ook ’n begaafde tekenaar en fotograaf. Hy begelei dikwels sy skryfkuns met prikkelende eie illustrasies (”fotografikas”), iets wat menige literatuurliefhebber waardeer in die werk van bv. W.G Sebald en Breyten Breytenbach (kyk ”Die magiese van die alledaagse” by 2015-05-19 ).

  1. Sy digterlike fokus

Venter is ’n natuurfilosoof, met sy wortels in wetenskap. In ”Physiology of faith” (by 2014-11-20), byvoorbeeld, satiriseer hy die dualisme van die Cartesiaanse liggaam/siel skema (met die “gees in die masjien”). “Short poem” bevat ‘n klein meditasie oor die belangrikste woord in die natuur (sien 2014-11-19); “The neurobiologist writes a love letter  – Revised 02” (https://westrand.wordpress.com/humourous/ , gedig 2) is ‘n gedig oor liefde, ook aan sy minnares, die wetenskap, gerig. Sy hartstog is vir ‘n omvattende natuur, insluitend die kosmiese en die menslike bewussyn, en dit laat hom dikwels kwesbaar staan voor ‘n werklikheid wat kan oorweldig, maar met ‘n inslag wat afwysend teenoor die teleologiese staan. In sy bundel “Entangling states of mind” poog hy om die vertroude “human mind” te dekonstrueer (kyk die Afdeling “Hacking the human mind”, Venter, 2010), byvoorbeeld in “Something of unimportance” (p.18) trivialiseer hy die korpus van oorgeërfde heilige geskrifte en in “Not understanding simple things” (p.37) satiriseer hy die projek van die filosofie om die werklikheid klein te kry. Vanuit vele hoeke verruk die digter rondom die (soms onuitspreekbare) temas van die natuur, ‘n mens vermoed dat die natuur ’n diepgaande religieuse dimensie vir die digter is. In ”Waking up to dream” (https://westrand.wordpress.com/dreams/ , gedig 2) lei die skynbaar rustige beelde oor ontwaking tot die ironiese klimaks van slagting as ‘n eksistensiële hartstog, gedroom deur die leeu maar simbool van alle lewe (hier is ook kwistige beeldspraak in die Afrika-idioom): “This morning shook itself,/ licked its paw/ and yawned yellow glinting teeth/ into the sky…”.

Die digter as naturalis sien verbande tussen veelvuldige vlakke van sy komplekse natuur-werklikheid. In ”Tracking a thought in the Kalahari sands” is die (wetenskaplike) spreker ’n solitêre soeker, ietwat surreëel in sy onwaarskynlike vraag na die materiële (en simboliese) vorm van sy gees (maar wat ’n legitieme vraag is binne die magiese omgewing van die gedig), waar die ikoniese beeld van die eensame khoisan jagter in die woestyn, eers simbolies maar later ook in letterlike bloedverband met die soeker, ontwikkel word: die wyndrinkende wetenskaplike kry uiteindelik inspirasie uit sy gene: die oergene van sy spoorsnydende Khoisan voorsate. Venter bereik ’n gawe verstrengeling van ’n Afrikatema (khoisan spoorsnymotief), wiskunde (Möbius strook), oorerwing (die universaliteit van die mensdom in “dr White” en sy Khoisan voorsate) en die magiese (sy abstrakte spoorsnyprojek).

Tracking a thought in the changing Kalahari sands
(
https://westrand.wordpress.com/philosophical-reality-two-2/ , gedig 31)

After his third glass of wine
the mathematician, Jonathan, or Jakes, White
stumbled upon a question:
what shape does my mind have?

Dr White rather prided himself
on his tracking ability,
on a noble ancestry,
on the fact that some of his forebears
were Khoisan, those persistent hunters
who could track an animal for days
over seemingly featureless sand.

Was his mind perhaps octagonal?
he wondered, but could not see any reason why it should be.

Perhaps spherical, he mused, but then became uncomfortable
with the idea, as a sphere is limited on all sides.

Linear?

He hoped not. That would mean his thought processes
were limited and led to predictable ends.

After his fifth glass of wine
his mind cleared
and he saw the solution
taking shape in the liquid lines
of his stinkwood dining table
which was engaged in scratching behind its ear
with a left hind-leg.

Yes, the scientist smiled to himself,
the shape of my mind:
I was on the right scent with octagonal,
but it is not quite that;
it is shaped like eight
twisted by Möbius in such a way
that my thinking moves
on two surfaces simultaneously
and always arrives at the beginning;
yet every time the journey is different, and
I think
I should have another glass of wine

In ”How to write a poem at home” (https://westrand.wordpress.com/poems-on-poetry/ , gedig 2) vier Venter die voordele van ”dronkenskap”, in die tradisie van Baudelaire se gedig ”Be drunk” (Simpson, 1997; sien ook van Heerden, 1997), en met ’n komiese element: “A drunken butterfly ballerina/ falling about in the flowers/ comes blundering into my mind,/ clutching a glass of wine.”

drunken butterfly

Grafika deur Dewaal Venter: 
"Drunken butterfly divebombing a poet”
.

Die transendering tydens bedwelming wat tot inspirasie (en vertroosting) kan lei is vir die digter meer as bloot ontvlugting want dit betrek ook Venter se siening oor die onbewuste se oorheersende rol in die skeppingsproses. (Kyk ook “Drinking a glass of wine”, by 2015-06-21).

In die simbolistiese “Tracking a thought…” word die gevolge van dr White se toenemende alkoholiese imbibisie die draer van ‘n tweede Khoisan motief. Die Khoisan is tradisioneel mense wat al in die rondte dans tot hulle in ‘n beswyming verval. In dié beswyming kry hulle insigte en kom in aanraking met die gees van die diere wat hulle jag. So word hulle beter jagters. (Let op hoe die tafel metamorfoseer in ‘n dier, iets soos ‘n bok of luiperd wat agter sy oor krap met sy agterpoot). Dr White se vyfde glas wyn beland hom uiteindelik in ‘n toestand van buitengewone helderheid, baie soos sy Khoisan voorsate ook beleef het in die rieldans – en waarin die soeker deurbreek na die oplossing. Die insigte tydens beswyming speel in op die intuïtiewe “wormhole” waardeur die rasionele ondergrawe word in die skeppingsproses.

Sodoende begeef Venter hom op die vlak van literatuurteorie, spesifiek in sy selfrefleksiewe metapoësie. Poëtiese skepping is vir hom primêr uitdrukkings van sy onbewuste. Hy teoretiseer dat die digting-entiteite (dinamiese bronne) van die gedig kenbare entiteite (soos kragvelde) is met agentskap en wat hy “poësons” noem (Venter, 2012). Sy poëson is ’n sisteem wat met ander sisteme in die gedig (poësons) saamwerk en waarin die rasionele ondergeskik is. Byvoorbeeld, in ”Tracking a thought…” hierbo sinspeel Venter op die bekende reël uit D.J. Opperman se gedig (“Oud-digter”) oor ”Kalahari’s wit papier”. Vir Opperman was die Kalahari in sy gedig ‘n bar, lewelose wêreld, die metafoor van onvrugbaarheid en leegheid. In kontras ervaar dr White die woestynwêreld egter as sy tuiste, die ryk heem waaruit sy spoorsnyprojek gevoed word. Hierdie “poëson” of digtingentiteit het ‘n dinamiese bestaan binne die gedig: in geheel ontstaan ’n nuwe gestalt (Venter, 2012) intuïtief vanuit die onbewuste en nie vanuit rasionele (of meganiese “vers-maak” – de Vries, 1977) funksies nie. Kyk byvoorbeeld na die veelvlakkige “I have no idea what a poem is Three” (by 2015-05-15).

“Releasing the rock” is ‘n proloog tot die bundel “Entangling…” (Venter, 2010, p.6) waarin bogenoemde konsepte uitgespeel en verweef word met Venter se siening van “entanglement” (“verwikkeldheid” volgens die woordeboek maar ook sinspelend op die kwantummeganiese begrip van misterieusverwante aksie in skynbaar nieverwante entiteite) – en is daar ook ‘n parallelle verwikkeldheid tussen die gees van die digter en dié van die leser.

“How to write a poem at home” speel dus in op die enigmatiese ontstaan van die gedig vanuit die onbewuste. Die proses betrek ook die onbegrypbare dimensies van die “alledaagse” en “werklikheid”. In sy konstante soektog na die dieper, ontwykende aard van die alledaagse (sien “Die magiese van die alledaagse” by 2015-05-19 ) ontsetel Venter dikwels die leser vanuit sy vertroude denkomgewing en sensiteer hom daarmee vir die onverwagte, die on-alledaagse. In die minimale “Verstreke raklewe” laat opeenvolgende ostraneniese beelde die leser sy magtelose en illusionêre verhouding tot tyd besef (dat ons tyd kan beheer deur dit in diskrete eenhede “weg te pak”) (https://dwvphot.wordpress.com/ – Afdeling 6, gedig 53).

Verstreke raklewe

 

Die staanhorlosie raadpleeg homself

nadat ’n nagvoël ’n geluid uit sy keel gevroetel het.

Hy lig sy hamer op in die oneindige lig,

slaan nog ’n uur wat weggepak kan word op die rak.

.

Prokofiev in sy “Visions Fugitives” verbeeld (in klank) die vlugtige en efemeriese aard wat insigte in die werklikheid kan aanneem (Andreacchio, 2009). Hier is elemente by van droom en van die kortstondige. In kruisverwysing word hierdie “vlugtige visioene” van sy eie ervaringswêreld deur Venter verwoord (in https://westrand.wordpress.com/reality-shifting-two/ , gedig 31):

Identity emerging

.

He resided between

page seventy two

and seventy three.

.

His existence

was a reality

between the seventy second

second and the seventy third

before midday.

.

He emerged in the space

between the palm

of the hand

that held the other hand.

.

He was aware

in that instant

between the open eye

and the blink.

.

He spoke

when the lips opened

just before the sound emerged.

.

He is,

and he was.

.

Hier (en elders) verken Venter knaend die misterie van die werklikheid. Vir hom is hierdie topos van wesenlike belang ”om die werklikheid aan homself te verduidelik” (Terblanche, 2012). Dit is te sien in die strukturering van rubrieke op sy oorspronklike blog, tans op https://westrand.wordpress.com/ . In die intertekstuele ”Can sheep safely graze?” (https://westrand.wordpress.com/philosophical-reality-two-2/ , gedig 32) verken hy ‘n interne harmonieuse landskap in die metafoor van ‘n trop weiende skape – en verwysend na die kantate van J.S.E. Bach, – totdat die slotreël ’n element van ongemak intrek: ”This evening/ when I get them all together,/ my grazing thoughts,/ I will count them;/ they will be drinking at the troughs,/ bleating quiet comments to each other,/ oh … there is one missing.” Wat is die betekenis van een vermiste skaap? In die pastorale idioom dui dit op ‘n diepgaande krisis (Lukas 15: 3-7, Die Bybel).

In “I understand I don’t understand” (http://dewaalventer.bookslive.co.za/blog/ ) speel Venter met paradoks en inversie van deursigtige woorde om homself te beskryf as uitgelewer aan sy beperkte vermoëns:

foto de waal venter

Fotografika: de Waal Venter

  1. Morin
    The poetry of life, with the love it contains and that contains it, is the only response to death.

 

I understand I don’t understand

.

It is clear

that it is dark,

I can see

that I cannot see

everything there is.

I think

I can think

about everything there is,

but I know

I do not know

what there really is,

what really is.

I reach out

to find myself,

but I am not there.

Venter is ’n passievolle digter van die sensuele, die erotiese en van liefde. In ”The blankophile” (Venter, 2010, p. 9) neem hy die leser op ’n surreële uitstappie binne die wit, vreemde spasies in die letters van die woord ”love”: ”He loved the open freedom/ on both sides of an “l”,/ the elegance of the shimmering pond/ within the “o”,/ the deep, adventurous valley/ offered by the “v”,/ And the captured half-sphere/ of the “e” ”, en wys die digter hoe selfs die afwesige, paradoksaal, diepsinnigheid kan beteken, in sy ode aan die liefde. Die poëtiese gestaltes wat liefde aanneem in sy verse is veelvuldig: kyk ook “The neurobiologist writes a love letter” (hieronder); “The moisturous life of an analyst” (Venter, 2010, p.13); “The wisdom of whiskey, as well as whisky” (hieronder bespreek); ensovoorts.

Venter het blykbaar ‘n infatuasie met die sensuele werk van Pablo Neruda, van wie se poësie hy heelwat vertaal het – kyk verder-aan.

In sy beelding ontgin Venter graag die ryk bodem van Afrika, en dan op wisselende vlakke, soos eksistensie (”Waking up to dream” en “Jy’t my lief, Tsamma” hieronder), inheemse kultuur en spiritualiteit (”Tracking a thought…”), humor (“Thank you Kundera, try again, Saint-Saëns”, in https://westrand.wordpress.com/satyrical/ , gedig 2) en in sy eie denkwêreld (”Can sheep safely graze?”). Opvallend is sy omgang met die inheemse konsekwent méér as die gemoedelik-lokale: in bogenoemde voorbeelde gebruik die digter defamiliarisasie wat die leser opnuut die rykdomme van die kontinent laat ervaar.

Die ekologie van die wyer wêreld raak egter ook die digter (en almal) se bestaan. Alhoewel nie ’n smartvraat nie is sy elegie ”Musing Inuk” (https://westrand.wordpress.com/environmental/ , gedig 2), in die woorde van een blogleser, ’n ”beautifully tragic poem” (maar kyk ook ander blogkommentare) van opeenvolgende beeldspraak, woordvondste, kruisverwysing en woordspeling (soos in die eindsprong na ”Inuitively”).

Musing Inuk

.

The bergs look limp

to me nowaseasons,

I shouldn’t read

National Geographic,

that once was a tree

now covered in blinding shots

of glaciers gliding all the more

readily

sweating in the gloaming –

an old word I now use

for global warming.

.

I don’t need to read

journalistic twilight musings,

I can see when a bear

is panting to death,

I can see the whales flail

in the a-krillic blue sea,

I know the götterdämmerung

is going to be a hot event

Inuitively.

.

  1. Styl kenmerke

Venter se digstyl is opvallend deursigtig en die toon, veral in die inleidende strofe(s) van ’n gedig, gewoonlik geselsend, gevolg deur ’n logiese opbou en die gedig eindig dan meermale met ’n sterk slotstrofe wat diepte bevat. Sy verstegniek herinner soms aan dìe van Billy Collins, die befaamde Amerikaanse digter en bekroonde ”Poet Laureate of the United States” 2001-2003 (https://en.wikipedia.org/wiki/Billy_Collins). Die oënskynlike eenvoud van Collins se werk, wat meesal onderlê word deur diepsinnigheid, is een ooreenkoms, asook die geselstoon en fyn humor van sy poësie. Kritici kla dat Collins se poësie soms alledaags en kleindorps voordoen (http://www.poetryfoundation.org/bio/billy-collins). In ”The four-moon planet” skets Collins in tipies toeganklike taal en met wellewende humor die moontlike gevolge wat vier mane (in ’n vreemde sonnestelsel) op ‘n verliefde paartjie mag hê en hy eindig met die verrassing dat die geliefdes elk sy eie maan mag verkies – dus, die kiem van verdeeldheid is reeds aanwesig in hulle veronderstelde eenheidsgevoel (http://30poems.blogspot.co.za/2010/04/billy-collins.html). Vergelyk hiermee Venter se ”Cycling with the moon” (Venter, 2010, p.22) waarin speelse fassinasie met (ons) maan betoon word, met ’n vergelykbare beelding van die esoteriese atmosfeer van die ruimte, maar waarin Venter se knap woordspeling, intertekstuele verwysing (na W.B. Yeats, ”…the centre cannot hold”) en die ironiese heenwys na die dubbele verlies, uiteindelik, van beide ons maan en die son (soos wetenskaplik voorspel), die gedig uiteindelik verplaas in ‘n elegiese toonaard:

skets de waal venter

Skets: de Waal Venter

Cycling with the moon    23 march 2008  (In Venter, 2010, p.22)

 

Hey moon,

I’m rather enjoying

our cycling tour

around our yellow medium-sized star.

.

It never loses its fascination

the way we circle each other,

while cycling around the sun.

.

Thanks for all the help

keeping tides within timetables,

and keeping me from wobbling

in my saddle.

.

Let’s keep on doing this

for as long as the centre holds.

For now there is ample time

to enjoy the journey,

our cycling tour.

.

In bogenoemde gedig bly Venter oorspronklik in sy styl, hy bly sy eie digter. Tog wonder ek of veel van sy pretensielose, skynbaar deursigtige verse, selfs in ligte/humoristiese toonaard en dikwels minimalisties (“Verstreke raklewe” hierbo), nie by sommige lesers as ongesofistikeerd, naïef – en daarom triviaal – aandoen nie. In ”Tracking a thought in the Kalahari sands” (hierbo) is ’n komplekse aanbieding op intellektuele-, assosiatiewe- en kulturele vlakke wat die idee van simplistiese digwerk troef; lees ook “Releasing the rock”, waarin meervoudige lae van konseptualisering voorkom (Venter, 2010, p.6). Verder put Venter se poësie uit ‘n bekwame agtergrond van natuurwetenskap en kultuur (soos met bogenoemde astronomiese verwysings).

Helder segging word ’n vertroude metgesel op hierdie digter se woordtogte, dikwels pragtig liries aangebied: Die dans van die ou kamerade (hemelliggame) hierbo is ’n voorbeeld; Venter speel sy verse liries uit ook in gedigte soos “How to write a poem at home” hierbo en “Drinking a glass of wine” (by 2015-06-21). Saam daarmee gaan die versekerde tegniek van ‘n ervare vakman. In ”Blown a bit out of myself” (Venter, 2010, p. 31) word ’n stemmingsvolle see-toneel geteken met sintuiglike genot, van onweer en wind oorland. Die digter word ingetrek in toenemende personifikasie van die wind, in ’n hunkerende, peinsende toonaard, en wat uitloop op ‘n visie van die digter se kortstondigheid en weerloosheid:

Blown a bit out of myself

The cloudscape changes
and floods excited crowds of sunlight
on a patch of playful sea,
turning fat green hills
into toyful bumping buses.

The wind turns her back,
shows me her cold white legs,
striding away.

The land is blackgreen,
the sky is dark coffee;
there is no exit sign.

She rips open the sky, the wind,
with a naughty laugh,
she breathes sea sand through my hair.

I do love you after all, she sings softly;
old apricot flavoured philosopher,
you ancient jingly bag of thoughts.

I love you
even though I cannot take you
yet.

Opvallend in Venter se werk is ‘n genuanseerde humorsin. In ”The wisdom of whiskey, as well as whisky” (https://westrand.wordpress.com/satyrical/ , gedig 3) vermaak hy aanvanklik met die lagwekkende proses van bedwelming, maar wat dan verrassend sublimeer in gevoelens van gemis: “/…but seeing this is a poem meandering straight to the point,/ allow me to reveal an inner truth – / utterly and inalienably, incontrovertibly sound,/ it’s got a lot to do with a ravishing girl called Ruth…” (kyk ook die waarderende kommentaar van verskeie bloglesers by hierdie gedig).

The wisdom

Verskillende skakerings van humor is ook te vind in: “How to write a poem at home” (hierbo aangehaal); “The geneticist who was puzzled by his dress code” (Venter, 2010, p. 12); “Symphony in A Major” (Venter, 2010, p. 46); “Bird’s eye view” (https://westrand.wordpress.com/ostranenie/ , gedig 2); “There are no bars on Mars” (https://westrand.wordpress.com/humourous/ , gedig 3); “The right steps to take” (https://westrand.wordpress.com/satyrical/ , gedig 4).

Die speelsheid wat die digter dikwels kombineer met humor is te sien in ”One-night stand” (https://westrand.wordpress.com/dreams/ , gedig 3): hy droom speels, in skynbaar ligte temas – in die ontknoping egter dui die droom op die felheid van die onomkeerbare “pyl van die tyd”; kyk ook “Looking for yesterday” in Venter, 2010 (p. 36). Speelsheid (soos ook in die geval van Collins) kan dus bedrieglik wees en kan dikwels dieper ontgin word (soos in “Cycling with the moon”, hierbo bespreek).

As wetenskap-entoesias speel Venter se “The neurobiologist writes a love letter” (https://westrand.wordpress.com/humourous/ , gedig 2) knap in op die befaamde Viktoriaanse tegnologiese liefdesgedig en parodie van James Clerk Maxwell, “Valentine by a Telegraph Clerk (male) to a Telegraph Clerk (female)” (“The tendrils of my soul are twined…” – https://www.newscientist.com/article/mg21228441-000-rhyme-and-reason-the-victorian-poet-scientists/ ). In “neurobiologist” vervleg hy moderne biologie met die aanslag van Maxwell se gedig: “…I bring thee these data,/ carefully arranged/ to codify the utmost meaning/ of my desire/ to share with thee/ my ever-lasting genome”. Sy parodie betrek terselfdertyd die ikoniese sonnet 18 van Shakespeare (http://www.shakespeare-online.com/sonnets/18.html ), byvoorbeeld in die doelbewuste gebruik van argaïese taal en die slottema van verewiging. Venter verkry dus’n fusie van verskeie digterwêrelde in sy driekunstige gedig. (Kyk ook: “The geneticist who was puzzled by his dress code” – Venter, 2010, p. 12).

Die digter spot skerp met die waardes van sy tyd en veral hoe dit in die massamedia oorgedra word – kyk ”Entertaining the barbarians” – hierdie gedig reflekteer ook op sy liefde vir wetenskapsfiksie (https://westrand.wordpress.com/satyrical/ , gedig 5); lees ook die volgende verse in sy satiriese rubriek (https://westrand.wordpress.com/satyrical/ ): “There used to be a gentleman” (gedig 6); “There are no bars on Mars” (gedig 3); “The startled solipsist” (gedig 7); The apotheosis of the pumpkin (gedig 8); en met akademia: “Gister is ‘n mite” (gedig 9); ens.

Venter is ook ‘n digter van patos, selfs van teerheid. In “Jy’t my lief Tsamma” (https://westrand.wordpress.com/lyrical-and-emotional/ , gedig 2) word die sensuele kwaliteite van die woestyn se watervrug‘n eksistensiële tema, in liefdestaal aangebied. Dit kulmineer in ‘n inversie van Descartes se denkvonds “ek dink, daarom is ek”, in ‘n intieme verstrengeling van die spreker en sy onderwerp.

 

Jy’t my lief Tsamma

 

Jy hou my hart koel

in jou handjies, Tsamma

aan die einde van die lang, droë sand

van die dag.

.

Ek soek jou

met plantende hande

tot ek jou vroue-maag voel.

.

Jou woorde sing

sagte water op my tong, Tsamma,

jy voed my

met die vlees van jou dink.

.

Jy dink

my en ek leef.

.

Die deernis van die digter vir sy nederige onderwerp val op, dit is ook sigbaar in “Little Finger” (by 2015-06-25 ), ‘n voorbeeld van die digter se empatie met ‘n eenvoudige bestaanselement wat as vanselfsprekend ge(min-)ag word – en waarin ‘n smeersel humor die gedig red van sentimentaliteit: “You are so junior/ to the powerful thumb,/ the clever index finger,/ the grand middle finger,/ the essential ring finger;/ your help is not really needed./ Yes, you are eager/ and pretty,/ but we can do without you./ Yet, little finger,/ we love you”. In “Redemption from an onerous sin” word die kringloop van versoeking, sonde, belydenis en verlossende vergifnis uitgebeeld, sonder ‘n sweem van proselitering, en met die kind, die seun, as voorwerp van redempsie (hierdie gedig is stilisties ook ‘n demonstrasie van ekonomiese woordgebruik en fyn versbeheer.)

Redemption from an onerous sin   (2008)

(https://westrand.wordpress.com/biographical/ , gedig2)

.

In the still of the night

the dog scratched himself

on the stoep.

.

The moon had got lost somewhere

and the little light

left in this night

is thin as water.

.

Down the passage

in the lounge

in which we never sit,

grandfather the clock

swings its scythe

left, right, death, life, left, right.

.

The boy lies still,

he watches something

that is almost a line

where the curtains meet,

he hasn’t told Jesus yet.

.

Jesus …

Hmmm?

.

Jesus tucks his nightgown

around his legs against the chill,

he is wearing his brown slippers.

.

I took an egg from the nest,

it is as blue as the sky

and it has freckles,

I’m sorry.

.

Hmmm, Jesus said, that bird will not be born.

I’m sorry, said the boy.

That was a bad thing,

Jesus said.

.

The boy cried.

It’s OK now, Jesus said.

The boy slept.

.

Venter is al beskuldig van ongelyke kwaliteit in sy werk (de Vries, 1977). Hy toon histories ’n nalatigheid teenoor selfrevisie (Johann Johl in Terblanche, 2012) wat ongelukkig soms nog steeds geld (miskien spruitende uit sy soggendse ritueel om ’n daaglikse gedig in die bad uit te bring?). Meer noukeurige geduld met selfkritiek kan dalk sy oeuvre ten goede strek.

De Vries (1977) opinioneer dat Venter se poësie (in die bundel Pols) ”…nie verbysterend gróót” is nie” maar erken dan die onvanpastheid van so ’n maatstaf… waarom dit dan in die eerste plek aanlê? Moet ons met elke nuwe Boerneef en Collins eers die vereiste van grootsheid insleep?

Hierbo het ek gesê dat Venter se Engelse poësie soms soepeler voorkom as sy Afrikaanse. In ”Discovering women” bied hy die gedagtewêreld en reaksies van ’n jong seun aan in sy eerste kennismakings met die ander geslag, waarin vreugde verskyn maar ook, profeties, pyn (https://westrand.wordpress.com/biographical/ , gedig 3):

21 January 2008                       2.1

Discovering women

 

In 1950 the boy’s world

was mostly populated by women.

Men were there as well

but they were like forces of nature

dark, incomprehensible, moving around

making deep sounds.

.

Women had red painted nails,

they had permed hair,

they had bosoms

smelling of babies.

They spoke often, mostly pleasantly,

their words left a dryish lipstick taste

on the boy’s lips.

When they kicked off their high heels

the damp odour

of their nylon stockinged feet

had a strange allure.

.

There were little girls,

small feral things

with glittering, gathering eyes

and they sometimes bit.

.

The boy wanted one of these

but did not know how to acquire her.

So he touched her hair

and she slapped him away.

.

That night he slept with the sting

of her eyes

cuddled in his arms.

.

In sy Afrikaanse weergawe hiervan (https://westrand.wordpress.com/from-the-past/ , gedig 1) praat Venter van (byvoorbeeld in strofe 2) “…Vroumense se naels was rooi geverf,/ hulle gepermde hare gehad,/ hulle het boesems gehad,/ na babas geruik./ Hulle het baie gepraat, gewoonlik oor lekker goed,/ hulle woorde het ‘n droërige lipstiek smaak/ op die seun se lippe gemaak./ Wanneer hulle hul hoë hakke afgeskop het/ het die klam geur/ van hulle nylon-geklede voete/ die seun sterk aangetrek./ Daar was dogtertjies; / wilde klein goedjies…” Hierdie vorm van die gedig vertoon heelwat growwer, met hinderlike clichés (“vroumense”, “wilde klein goedjies”), lomp taal (“het… die seun sterk aangetrek”), onoortuigende stylgrepe (“hulle woorde het ‘n droërige lipstiek-smaak… gemaak”) en soms ietwat argaïese woordgebruik (“gepermde hare”) – wat die aanbieding eerder koddig laat vertoon en wat die soetheid en sensualiteit van die Engelse weergawe mis.

Venter se werk kom soms oppervlakkig en selfs pedanties voor – ’n mens kan die skoolvossigheid nie miskyk nie in ”Growing organism”, waarin die menslike liggaam as metafoor vir die grootstad gebruik word. ”Darwin tob” (https://dwvphot.wordpress.com/afdeling-twee/, gedig 13), ’n wetenskapsgedig, probeer menslike moraliteit met die natuurwet kontrasteer, maar die gang van die gedig is prosaïes, die argument is slimpraterig, selfs vergesog:

”…Dit laat hom dink/ aan die Kaptein/ en sy eie geliefde/ ver in goeie ou Engeland.

Dieselfde spesie,/ maar hy sal eerder trou/ met die een en nie die ander nie./

As mens die Kaptein selektief kon teel…”: hier veronderstel ”goeie ou Engeland” ’n self-ingenomenheid en gemoedelikheid by Darwin wat nie te rym is met die wetenskaplike aanbod van die gedig nie; dieselfde geld vir die ietwat fasiele reëls wat daarop volg (kyk hierbo).

  1. Vertalings

Venter se vertalings uit die vreemde (nie-Engels) in tuis-Afrikaans vorm ’n sterk komponent van sy latere oeuvre. Gereelde vertaling, in ’n taamlik wye veld van uitheemse digters [uit Duits, Italiaans, Portugees, Spaans (Octavio Paz), Frans] lei in sy verskuns weg van die parogiale, stel avontuursoekende lesers bloot aan onverwagte en vars reise. Venter vertaal veral graag die warm emosieryke Spaanse poësie van Neruda en die dikwels ysige abstrakte perspektiewe van die Sweed TomasTranströmer. En hy balanseer die soms kontrasterende poëtiese buie van hierdie digters gemaklik.

In ”Spoor” (Tomas Tranströmer – https://tomaswordpresscomblog.wordpress.com/bladsy-een/ – 10de gedig) mesmeriseer die digter met sy weergawe van die doodse stilte van ‘n Sweedse wintersnag, die eensame trein ’n metafoor van die alleenheid wat in slaap maar ook in ernstige siekte ondervind word – hier suiwer vasgevang in vertaling:

Spoor

.

Twee-uur in die oggend: maanskyn. Die trein staan

in die veld. Ver ‘n dorp se liggies

wat koud flikker teen die horison.

.

Soos wanneer jy so diep in ‘n droom wegsak

jy nie eers kan onthou jy was daar

wanneer jy terugkom nie.

.

Of wanneer jy so diep wegsak in ‘n siekte

dat jou dae ‘n swerm flikkerende spikkels word,

yl en koud teen die horison.

.

Die trein staan doodstil.

Twee-uur: helder maanskyn, yl sterre.

.

In ”Van aangesig tot aangesig” (http://versindaba.co.za/2013/08/26/tomas-transtromer-vertaling-in-afrikaans/ – laaste gedig) herskep Venter die oer-vreugde van Tranströmer by sy skielike besef van die koms van die nuwe lente ná ’n uitgerekte Sweedse winter. Venter vang die sober understatement (selfs in sy ekstase!) van Tranströmer foutloos op:

Van aangesig tot aangesig

.

In Februarie het die lewe tot stilstand gekom.

Voëls was traag om te vlieg, en die siel

het teen die landskap geskuur soos ‘n boot

teen die brug waaraan dit vasgemeer is.

Bome het gestaan met weggedraaide rûe.

Sneeudiepte is gemeet aan dooie gras.

Voetspore het oud geword in die sneeukors.

Onder ‘n seil, vervagende taal.

Op ‘n dag kom iets na die venster.

Werk word gestaak, ek kyk op.

Kleure brand, alles keer om.

Die grond en ek spring na mekaar.

.

Venter het ’n aantal vertaalde gedigte van die Nobel-pryswenner Tranströmer op Versindaba gepubliseer wat die digter Breyten Breytenbach soos volg laat reageer het:

”… Jy illustreer weer hoe ‘n gedig gelei deur die hand van ‘n meester vakman deur tale kan beweeg, metamorfoseer (soos dit ‘n rustelose gedig betaam), ‘n nuwe baadjie aantrek by wyse van spreke en nog net so misterieus mooi anderkant uitkom..” (http://versindaba.co.za/2013/08/26/tomas-tranströmer-vertaling-in-afrikaans/ ).

Hierteenoor word die geliefde in die sensuele “La Reina / Die koningin” van Pablo Neruda (uit sy “Kapteinsverse”) diep emosioneel aangebied (Neruda Een, gedig 10, https://spaansafr.wordpress.com/bladsy-een/ ): “Ek noem jou koningin./ Daar is dié wat langer as jy is, langer./ Daar is dié wat reiner as jy is, reiner./ Daar is dié wat mooier as jy is, mooier./ Maar jy is die koningin./ Wanneer jy in die strate loop/ herken niemand jou nie./ Niemand sien jou kristalkroon nie, niemand kyk/ na die tapyt van rooi goud/ waarop jy loop as jy verbygaan nie,/ die tapyt wat nie bestaan nie./

En wanneer jy verskyn/ dreun al die riviere/ in my lyf, klokke/ laat die lug sidder,/ en ‘n loflied vul die aarde./

Net ek en jy,/ net ek en jy, my geliefde,/ luister daarna.”

******

In sy strewe na voortdurende hernuwing, in sy erns om egtheid in sy kuns te behou, en in die eiesoortigheid van sy digterstem, bied de Waal Venter aan as ’n ervare stilis, ’n unieke bydraer tot die Suid-Afrikaanse poësie. Ten spyte van sy oënskynlik deursigtige styl is daar genoeg verwikkeldheid vir die gesofistikeerde leser om ook sy komplekse verse te kan geniet.

******

 

Ander Bronne

Andreacchio, D.G., 2009. Kaleidoscope of thoughts, ideas and reflections based on Visions Fugitives, op. 22 by Sergei Prokofiev. Proceedings of the 9th Australasian Piano Pedagogy Conference “Expanding Musical Thinking”, The King’s School, North Parramatta Sydney, July 13-17, 2009.ISBN no. 978-0-646-55411-2.

http://www.appca.com.au/2009proceedings.php en:

http://www.appca.com.au/proceedings/2009/part_2/Andreacchio_Debra.pdf

De Vries, A., 1977. Saamleefgedigte wat van deeglikheid spreek. Die Burger, 10 November 1977.

Gray, S., 2012. Soul-brother Eugène N. Marais: Some notes towards a re-edit of his works. On-line version ISSN 2309-9070 Tydskrif vir Letterkunde 50 (nr.2) Pretoria 2013. http://www.scielo.org.za/scielo.php?pid=S0041-476X2013000200005&script=sci_arttext

John, P., 2009. Die tydskrif Wurm (1966–1970) en die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing. LitNet Akademies, 6(2) – Augustus 2009, 46-61. ISSN 1995-5928: http://www.litnet.co.za/die-tydskrif-wurm-1966-1970-en-die-afrikaanse-literatuurgeskiedskrywing/

Kannemeyer, J.C., 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Kaapstad: Human en Rousseau

Simpson, L., 1997 (vertaler). Modern Poets of France: A Bilingual Anthology. Story Line Press, Inc.

Terblanche, E., 2012. De Waal Venter (1942–). ATKV Skrywersalbum

https://dwvphot.wordpress.com/artikels/

http://litnet.co.za/assets/nuusbrief/nuusbrief392.html

Van der Merwe, H.J.J.M., 1965. Dubbeltaligheid as die brug van tweetaligheid tot eentaligheid. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. V, Nr. 3. Johannesburg. pp 275-284.

van Heerden, E., 1997. Miskien sal ek die wingerd prys. Die Burger. Joernaal: Kuns & Vermaak http://m24arg02.naspers.com/argief/berigte/dieburger/1997/10/09/4/6.html

Venter, P.A. de W., 1966. Wat die doel van Wurm is. Redakteurskolom, Wurm 1, p.3.

Venter, P.A. de W., 1977. Pols. Kaapstad: Tafelberg

Venter, P.A. de W., 2010. Entangling states of mind. Published by www.lulu.com . ISBN 978-0-557-83905-6: https://www.lulu.com/shop/search.ep?keyWords=entangling-states-of-mind&type=

Venter, P.A. de W., 2012. De Waal Venter. Die poëson. Versindaba. http://versindaba.co.za/2012/01/14/de-waal-venter-die-poeson/

Winch, B., 2012. Ben Winch’s Reviews: Watt. http://www.goodreads.com/review/show/177418468 )

——————————————

Meer gedigte is te lees by http://dewaalventer.bookslive.co.za/blog/, en sy oeuvre word uiteengesit by http://dewaalventer.wordpress.com/.