Nuwe Stemme

Lewies Botha.Oorlog en gerugte van oorlog

Friday, July 30th, 2010

Niel van Deventer se blog neem my toe terug na 1989. Dit is die jaar wat die SAW uit Namibie ontrek. Dit is eintlik al wat ek wil sê daaroor;

 

Tuiskoms -1989

nêrens beweeg daar optog-vlotte deur die strate

nie.voëltjies fladder nie linte blinkertjies vanuit hoë geboue

nie. kerkstraat is nie gevul met vurige omhelsings tussen jagse jonges

nie. nêrens blaas toeters en hang dronk lag lywe uit stampvol motors

nie. meisies wapper nie soos swerms wilde vinkies

nie. reik nie oopbloes na helde in oopbus konvooie langs strate

nie. strooi nie klam blom broekies op die verhoë voor voete

nie. niemand swaai aan oom paul se pluiskuil

nie. leiers glimlag nie met moses oop arms nie

op voorblaaie brand steeds motorbande

kerkraadvergaderings woed voort

ouers is besonders besorgd

wat gaan jy volgende jaar doen ?

want die oorlog is verby.

 

©  Lewies Botha

Niel van Deventer. Youtube en drome.

Friday, July 30th, 2010

 

Ek het pas Andries Bezuidenhout se blog oor Maputo gelees, ek was nog nooit in Mosambiek nie. Wel al in Portugal. Ek het my opnuut voorgeneem om te gaan. Hopelik nog binne die volgende jaar of twee.

Toe ek die kommentaar van Andries lees met die lirieke van die song Mozambique van Jack Hammer  het ek op youtube weer daarna gaan luister.

Ek het al vergeet hoe mooi dit is.

Aan die regterkant waar youtube vir mens videos voorstel wat mens ook na moet kyk, is Bok van Blerk se Kaplyn. Ek weet nie hoe werk dit nie, want ek sien weinig ooreenkoms tussen die twee songs, maar ek klik op die Bok video en kyk vir die eerste keer daarna.

 

Die hele video gaan oor die Grensoorlog tussen 1966 en 1989. Dit is ‘n goeie video en ‘n song wat verseker daarin slaag om emosie wakker te maak. Die hele video bestaan uit oorspronklike beeldmateriaal van die oorlog en die troepe en oor die feit dat nie een van daardie troepe herdenk word op mure met name van slagoffers nie (hy praat natuurlik van Freedom Park in Pretoria).

My ma het my een keer vertel hoe sy in 1980 toe sy swanger was met my broer so baie gebid het dat hierdie seuntjie van haar tog net nie eendag sal hoef grens toe gaan nie.

Die ontstellendste greep in die video vir my is waar daar ‘n skoot van ‘n grafsteen is wat lees “Ons troepie en held – Johann” daar is ‘n fototjie regs bo van Johann. Hy lyk vir my soos Trompie.

Ek onthou toe ek agttien was, was ek verseker nie toe lus om dood te gaan nie.

Maar dis wat daardie oorlog gedoen het, hy het kinders doodgemaak en die res gedeeltelik gefok gelaat. Was daar al ooit ‘n oorlog in die wêreld wat werklik ‘n wenner gehad het, of is almal wat ooit by ‘n oorlog betrokke is maar verloorders?

Vroeg in die 90’s net na die einde van die oorlog het Kol. Jan Breytenbach (Breyten se broer as ek reg is) gesê hy is bevrees die vrede gaan erger wees as die oorlog.

Eergister aand het ek die TV aangesit en die laaste deel van ‘n onderhoud met Julius Malema gevang. Ek weet nie waaroor dit was nie, maar ek neem aan oor die Wes-Kaap. Sy laaste woorde was “we will work 24/7 to remove that racist woman, Hellen Zille.”

Soms ontken ek dat ek verstaan wat Kol. Jan Breytenbach bedoel het, soms wens ek dat almal wat elke dag hier sterf wie se dood nêrens herdenk word nie op die ou einde sal sterf vir ‘n beter land vir ons almal. Dat ons oor twintig jaar vir oulaas ‘n nuwe muur sal bou en almal se name daarop skryf met ‘n lyn onder wat ‘n werklike einde aan die moord en pyn en haat simboliseer. Dat ‘n tier wat ontsnap nie die grootste nuus sal wees nie, maar die enigste.

Jannie Malan. Die gedig as klip

Sunday, July 25th, 2010

‘n maand gelede kuier ons as ‘n groep vriende saam naby Bela Bela. Laatmiddag pak ons die vuur aan en die manne begin lang brandewyne en Coke Light’s gooi. Die gesprek draai op ‘n stadium na die Stemme 4 publikasie. Ek lees iets voor, en daar volg ‘n stilte wat ek inisieël met ‘n tevrede gloed bejeen… tot een van my vriende, van waar hy met sy skouer teen die braaimuur leun, ‘n sigaret uitskud, in die hoek van sy mond hang-maak, en dit met ‘n tegniek wat respek afdwing, in die geniepsige winter-wind aansteek. “Poësie! Man… dis net woorde op papier”

Of hy dit as ‘n grap bedoel het, ons ken mekaar al lank en is geneig om mekaar uit te lok, en of hy heeltemal eerlik was oor sy ervaring van gedigte weet ek nie, maar vir ‘n lang tyd sedert daardie namiddag kon ek die frase net nie uit my kop uit kry nie… en laat dit my ongemaklike vrae oor die nut van gedigte vra.

Masahiro Motoki in Departures

Masahiro Motoki in Departures

Gelukkig kry ek onlangs ‘n DVD van die Japanese film “Departures” in die hande. Ek het dit vroeër vanjaar in Rosebank onder oë gehad, maar was ywerig om dit weer te beleef.

Departures, geregisseur deur Yojiro Takita, en losweg gebaseer op Aoki Shinmon se autobiografiese boek: Coffinman: The Journal of a Buddhist Mortician, het tien jaar geneem om te voltooi.

Die storie - in kort - is as volg: ‘n jong tjellis (Masahiro Motoki) verloor sy werk by die Tokyo simfonieorkes. Op soek na ‘n nuwe loopbaan beantwoord hy ‘n advertensie in die koerant wat foutiewelik “Departures ” adverteer, dit moet eintlik “the Departed” wees. Die werk behels eintlik die verwikkelde kuns van lykbesorging - die serimoniële was, aantrek en plaas van die afgestorwene in die kis in die teenwoordigheid van die naasbestaandes.

Dit is ‘n juweel van ‘n film wat ek ten sterkste aanbeveel, met ‘n einde wat ek nie graag hier wil uitblaker nie. Waarby ek egter wil uitkom is ‘n treffende oomblik in die rolprent waar die tjellis/lykbesorger sy jong vrou, Mika, ‘n klein, ronde rivierklip in die hand stop. Wanneer sy hom vraend aankyk, verduidelik hy dat dit ‘n “klip brief” is, en hoe in die verlede, voor die dae van skryf, jy aan iemand ‘n klip sou stuur wat ooreenstem met hoe jy voel. Uit die gewig, vorm, kleur en tekstuur van die klip sou hulle jou gemoedstoestand kon peil. Uit ‘n gladde klip kon die ontvanger dalk aflei dat jy gelukkig is, vanuit ‘n growwe een, dat jy bekommerd is oor hulle. Die klip word ‘n leidmotif deur die film.

Diago, Mika en die klipbrief

Diago, Mika en die klipbrief

Ek kon nie help om die ooreenkoms met die gedig te sien nie. Die enkodeer van betekenis in ‘n gedig - elk met sy eie vorm, gewig, tekstuur en kleur - en die dekodering, oor afstand, deur die ontvanger/leser. ‘n Goeie gedig is een wat jy in die palm van die kop of hart kan hou, die gewig daarvan toets, die tekstuur daarvan in die onbewuste voel skaaf. Wel, dit is die gedigte wat ek graag sou wou skryf; en kies ek daarom voortaan om die gedig as ‘n klip te sien, nie net woorde op papier nie. Ek wil kopknik wanneer William Carlos Williams in Asphodel, that greeny flower skryf:

“It is difficult

to get the news from poems, yet men die miserably every day

for lack

of what is found there”.

Buitendien, as dit ‘n skerp, gepunte klip is wat gemaklik in die palm lê, kan jy iemand se kop daarmee oop kloof (veral die wat reken gedigte is net woorde op papier), of jy kan twee klippe teen mekaar kap en met vonke ‘n vuur begin, of jy kan ‘n ronde, gladde plat klip tussen duim en voorvinger uitskiet oor die water, kyk hoe dit plek-plek van die water bons, sink, en rimpels oor die oppervlak stuur… jy kan ook ‘n klip gebruik om papiere op jou lessenaar vas te pak of om ‘n deur oop te hou…

-

na(weke)

-

jy onthou tog daardie dag

toe ek so siek was, miskien

van die vorige aand se salm by Cape to Cuba

of dalk was dit net wingerdgriep?

dis tóg die Boland after all

-

ek ry ‘n draai by jou ou Bellville laerskool om

onder die eike tel jy akkers op;

ek hou jou dop van waar ek wag

op die blou dra-paviljoen se trappe met ‘n stokkie sit

en krap krap krap aan roes en roep “wat wil jy daarmee maak?”

-

ons stap by Blouberg strandlangs

jy skriklag teen my skouer aan oor twee

baldadige nat honde; skop aan seebamboes

en probeer my oë vermy, kamstig op soek na

inkomende vragskepe net agter die deining

-

ons praat oor waar ons dalk sou bly en naweke sou doen

hoe jy die berge verkies en ek die see, maar

-

toe ons vir ‘n oomblik teen die pietsende suid-oos in buig

hurk kort langs ons reeds daar

-

die halfuur in ‘n Groep A, AVIS rental, lug-

langs ongeveer ‘n honderd minute noord

-

bagasie, hande, harte

hardnekkig reeds aan boord

-

© Jannie Malan 2010

Lewies Botha. Die waansin van balskop

Friday, July 23rd, 2010

Lodewyk van den Balskopper maak toe sy verskyning. ‘n Maand lank was lewe as Lewies uitgeskuif na die donkerste hoekies van die onderbewuste, vergete tussen bros vergeelde gedigte, in lee gange van verlange. Enkele opmerkings is gemaak oor waargeneemde snaaksighede, die  het later meer ernstige kommer geword en is daar gevrees vir die geestesgesondheid van die eens stil diep dog nugter digter. Sy vrou het tog beweer dat sy geweet het dat die waansin altyd naby die oppervlak gedreig het. Die waansinnige wat nou haar bed deel, het ‘n kanariegeel T-hempie werk toe (nogal) begin dra. (haar Lewies sou jy nooit in enige iets behalwe melankoliese verdrietige swart aantref nie) Die nou vreemde man het by sy  huis se sitkamervenster uit gehang en vir die wis en onwis, tydig en ontydig  kliphard op ‘n plastiek beuel getrompetter, tot die groot onsteltenis van sy buurvrou en die se skoothondjie wat dan onophoudelik bly kef het. “Ag, ten minste is hy gelukkig in sy eie wereld” is gese, of;  “Hy is onskadelik, sal nie ‘n vlieg seermaak nie” gevolg deur bekommerde kyke en koppe wat wiggel. Hy het later sy motor beplak en behang met vlaggies en soos hy deur die buurt ry het die lappies dapper in die wind gewapper. Honde en kinders al hollende en blaffende agterna.

Soesji

met die stokkie tik

jy altyd te veel wasabi

op jou salm rosies

en snak jy van die mosterd brand.

-

jy hou daarvan so sê jy

-

Die shashimi

laat swem jy eers

in die brak swart water

-

stomp bamboes vingers

probeer jy die vissie vang

gly gly sukkel jy met

hom soos ‘n kat

-

en eindelik met ‘n vingerknyp

hou jy ‘n stukkie vir my uit

om sy kop af te byt.

-

daars ‘n plekkie in jou nek

net neffens die lelie van jou oor

-

daars ‘n plekkie onder die vou

van jou boud nader

aan die binnekant van die dy

-

daars die naeltjie

jou vingerhoed gaatjie

jou klein uitlek glasie

-

daars peusel-happies

oral op jou soesji bord.

-

Padkos

Ek toer al om die nek se kontoere

af in die kloof van jou tweeling heuwels

padlangs na die neut bruin newels

sirkel tong al om die spitsvondige kruine

soek ‘n rusplekkie voor die verder (v)ry

kyk hoe jou vel styf bibber lekker kry

knoppietjies skurwe hoendervleis

my vingers streel soos ruitveers

oor hygwarm wasem ruite vee

vertoef by jou naeltjie soos ‘n oase

volg die padpredikant N2 na Knysna

afdraend gly teen die binnekant van die dy

wie eerste die see sien sal roomys kry

gulsig uit die padkos tupperbak ry-loop

frikkadel en mayonaise

en skelmpies beginne kou eers met lippe

en dan met klein bytjies happies peusel

snoepighede van jou tuinroete kontrei.

Hennie Meyer: Onder die belt

Monday, July 19th, 2010

Ek het met die werk deelgeneem aan die Sasol Nuwe Handtekeninge kompetisie in 2007.

Die werk het in die ou Things and Times in Pretoria ontstaan toe ‘n dowe man die alfabet

 op ‘n kaartjie aan die mense verkoop het.

Niel van Deventer. Op ‘n idle Sondag

Monday, July 19th, 2010

Ek het gisteroggend met my Fender Telecaster deur my woonstel loop en speel toe ek skielik ‘n rumoer hoor en by die venster uit kyk en ‘n ambulans sien. Daar was baie ambulansmanne en ook ‘n oom wat ek al gesien het. Ek het dadelik vermoed dat daar iets fout is met my buurvrou Tannie Ans. Sy het verlede jaar September ‘n heupvervanging gehad en was eers onlangs weer van die krukke af. Dit was toe ook so, sy het snaaks gedraai en geval en heel waarskynlik haar heup weer gebreek. Gelukkig was sy op daardie oomblik op die foon met haar seun in Australië en kon hy vinnig hulp ontbied.

Koos du Plessis

Koos du Plessis

Ek  was op die oomblik wat ek by die venster uitgekyk het besig om die solo van Pink Floyd se “Wish you were here” te speel toe ek die ambulans sien en natuurlik het dit my genoop tot ‘n Sondag van onvermydelike introspeksie oor verganklikheid, ou mense, die wêreld en sommer simpel dinge soos bier en die feit dat ek hopeloos te min op daardie lekker kitaar van my speel.

Toe ek jonger was het ek dae om gesit en wonder wat ek sal wens as ek net een wens kon kry en nooit tot ‘n definitiewe konklusie gekom nie, vandag het ek gewens dat ek een keer vir Koos Doep kon sien optree, net hy en sy kitaar. Ek dink om die waarheid te sê dat ek honderd keer so gig sou kies bo enige ander.

 

“Daar was ‘n huis met ‘n kombuis en greinhouttafel

  en ses mense het gedeel in lief en leed

  en mettertyd het alles uitgerafel

  maar wat die leed was, het ek jare terug vergeet”

In elke woord wat daardie ou ooit geskryf het is daar vir my vandag steeds vir my relevansie te vind.

Die rede hoekom ek egter bogenoemde stukkie ge-quote het is omdat dit is wat die lewe al oor en oor vir my bewys het. Die mooi bly agter. Dis ook hoekom dit soms so moeilik is om ‘n slegte verhouding vaarwel te roep, want die goeie en mooi bly baie duideliker sit as enige iets anders.

My gunsteling oupa is hierdie jaar 5 jaar reeds oorlede, amper alles wat ek van hom onthou is dinge wat gebeur en gesê is voor hy ons begin vergeet het. Ek mis die dae in die 90’s toe ons nog nie heinings om ons huise gehad het nie en vergeet dikwels van die oorweldigende moeilikhede wat daardie dae gehad het vir ons land.

Die sokker is verby, Eugene Terreblanche is steeds dood en Julius Malema lewe nog net so lekker soos altyd. Partykeer is kommer oorbodig, tyd sorteer baie dinge uit en die mooi bly agter in ons harte.

Ek het later die middag by my tjommie, die verlamde akteur, Erik Holm gesit en tee drink. Ons produksiehuis, Palama Productions, gaan hom en sy suter Nike nou help om ‘n avontuur program genaamd Quadventures te vervaardig waarin hulle vir 13 episode gaan kyk wat dit is wat hy as kwadrupleeg nog alles kan doen (en nie kan doen nie). Dinge soos skubaduik, valskerm spring en baie ander dinge wat gewone “normale” mense nooit eers eenkeer in hul lewe probeer nie.

Toe ek daar wegry het ek gehoop dat Tannie Ans en almal anders wat pyn en seer het okay sal wees, watter kant toe ookal, en myself opnuut voorgeneem om op te hou kla oor alles wat ek voel sleg is in my lewe. Daar is geen sin in, as dit wat oorbly op die ou end vir my hopelik net die mooi gaan wees nie…

“Droom en bou, al vreet die vrees my vrede,

  want die wêreld is maar oral halfpad hol.

  En ek onthou.”

Ek het my kitaar neergesit en sommer net op my bank gaan lê en dink aan almal wat ek al verloor het en ook die wat ek nog gaan moet groet (as ek nie voor hulle gaan nie). Ek het my Mp3 player gaan soek en musiek begin luister. Koos du Plessis om presies te wees, Skadus teen die muur, Kinders van die Wind en Molberge - herrineringe aan Springs.

Bibi Slippers. Grom.

Wednesday, July 14th, 2010

Ek het maande laas geblog en dit laat my sleg voel.  Naar-op-die-maag van skuldgevoelens.  Angstig omdat ek sien hoe “blog” laer en laer afskuif op my ellelange to-do list.  Kortasem oor die skuld en angs oor my ongeblogde blogs.  Gestress oor my moeilike asemhaling.  Siek oor die stress my immuunstelsel opdonner.  Ensovoorts.

Dis nie dat ek niks gehad het om oor te skryf nie.  Ek het onlangs vir byna ‘n minuut langs Breyten Breytenbach gestaan.  Ons het beide gewag vir dieselfde toilet om onbeset te raak, in tyd en ruimte bymekaargebring deur ‘n mees menslike nood  - daar’s ‘n blog of drie daar:  staan ek voor die man met ‘n bek vol tande en gee geboorte aan niks anders as asem nie.  Ek het daardie selfde aand ‘n geselsie met Charl-Pierre Naudé gemaak - en ek kan ‘n hele blog daaroor ook volgemaak het, maar nee, eers nog stilte.

Ek het nie een woord geblog oor die sokker, die goeie boeke wat ek onlangs gelees het, die nuwe Almadovar-film of enige van die fantastiese gedigte wat sedert my laaste tikkie oor my pad gekom het nie.  Ek dink aan klomp goed om te skryf wat oulik en relevant sal wees maar ek kom nie daarby uit nie, want ek het reuse probleme.

Olifante.

Olifante is die rede waarom ek wanneer-laas geblog het.  Dis ook hulle skuld dat ek gladnie skryf tans nie.  Niks nie.  Nie eers to-do lists meer nie, wat nog te praat van gedigte.  Ek kan nie, oor die olifante.

Elke keer as ek met my notaboek reg sit en wag op ‘n gedig, verskyn ‘n olifant.  ‘n Inkerige olifant, soos die twee.

Ek teken olifant op olifant op olifant.  Ek skryf niks.  Hierdie maand het nie eers die  dreigende skryfkunde-klas my aan die skryf gekry nie.  Ek het ‘n paar power pogings ingehandig wat ek lank terug geskryf het, en daar gaan sit met my notaboek vol olifante.  My dosent het nie veel tyd gemors op die gagga gedigte nie - sy kon darem sien iets is nie lekker nie.  Ek verduidelik dat ek tans geïntimideer voel deur die grootsheid van my taak.  Stilgemaak deur die stemme van groot digters, die insigte van groot denkers, die waardigheid van groot geeste.  (Ek bly maar stil oor die teenwoordigheid van groot soogdiere.)  My dosent draai een van my swak gedigte om en begin vir my iets teken in ‘n poging om haar les te illustreer.  Sy teken, jou wragtag, ‘n olifant.  Haar raad:   “Eet die olifant happie vir happie.”  Baby steps (the baby elephant walk?), klein bietjies op ‘n slag, stukkie-vir-stukkie tot jy iets uitrig.

Sug.  Dieselfde woorde wat my klavier-juffrou op hoërskool gesê het toe ek nie die graad sewe Barok stukke kon baasraak nie.  Ek het ure voor die klavier gesit en tjank, maar happie vir happie is daai olifant in.

Vegan-of-nie-vegan-nie, ek begin nou weer aan my dig-olifant eet.  Met lang tande, ja.  Lang wit ivoortande.  En ek sien hier kom nog trane.  Maar dis reg.  Ek is reg vir hom.  My maag grom.

Hennie Meyer: son in blom van van gogh

Tuesday, July 6th, 2010

Karlien van der Merwe. Kunsuitstalling

Thursday, July 1st, 2010
Anne Archer

Anne Archer

Ek gaan hierdie week inloer by die uistalling van ‘n begaafde skilder en beeldhouer. Ek deel dit graag.

Lize Viljoen. Menslike wonings

Monday, June 14th, 2010
Huisie langs die pad.

Huisie langs die pad.

 

Daar bly nie meer mense nie,

maar dis asof ek my geroep voel

daartoe, om die mense te imagine
wat daar sou woon, die gedagtes
te deel langs hul kombuistafel,
so met die verbyry begin
die lang pad uitrafel tussen gesprekke,
fotos, en padkos en vat ek die kiekie
om  saam met my te bring na ‘n ver land.
Want my huis is ook leeg sonder my.