Gedigte

De Waal Venter. Menslike genade

Thursday, July 27th, 2017

Menslike genade

 

Die punt is, sê die bonobo,

ons is eenvoudig

nie so skerp soos hulle nie.

 

In sekere opsigte,

werp die orang-oetang teë,

is ons skerper – reuk, byvoorbeeld.

 

Die bonobo skud sy kop treurig,

ons het net nie hulle drang

tot vernietiging nie.

Dit lyk my hulle geniet dit,

dis asof hulle daarop floreer.

 

Dink jy hulle gaan ons mis?

vra die orang-oetang

en sit ’n halwe appel in sy mond.

 

Waarskynlik nie, antwoord die bonobo,

ek het nog nie enigeen van hulle

’n enkele traan sien stort oor die Neanderthallers nie.

 

Die orang-oetang sluk ’n stuk appel in.

Jy’t ’n punt, sê hy tussen die appel deur.

 

(c) De Waal Venter / Julie 2017

 

Breyten Breytenbach. Omswerwing

Tuesday, July 18th, 2017

omswerwing

 

ons is die rondreisende troebadoers

my jong vriende, in hierdie winderige wêreld

om ons tekste voor te lees

vir ‘n onsigbare publiek wat nie die taal verstaan nie

 

moenie julle van stryk laat bring

deur die gestotter van masjiengewere nie

kom ons verbeel ons dis die kaalwang katlagters

van ons jeug

 

laat ons in ‘n sirkel staan

my jong vriende : wys my weer

die omslag van my laaste boek

bedenkinge, die foto wat ek nog nooit

vantevore gesien het nie, a,

van die kaalkop kind voor die outydse huis

in ‘n tuin van winde

 

ek onthou nou iets van die liefde

en dat ek ‘n onsigbare hond

aan ‘n tou om die hals gehad het

met die naam Zen – julle moenie

lag nie mense

miskien is hy nog steeds hier iewers brak

om vir die maanverstand en die wind te blaf

 

sal ons die tekste repeteer ?

moenie julle laat afsit deur die gestotter

van ‘n vreemde taal nie

my jong vriende : ek sal elke gedig

eien as synde myne opgedra aan Zen

want die dood is maar net ‘n tuin

 

as ons mekaar in die oë bly kyk

my jong vriende, sal ons

ons nie steur

aan die publiek wat die hond wegjaag

of nie weet wanneer die klippe ons weer

en weer doef nie

 

en luister, dit wil ek nog sê :

laat my die koda resiteer :

l’amour est un merdier de mouches

dit wil sê

die liefde is ‘n laken van vergeet

oor die kakemmer vlieë

 

 

© breyten breytenbach/ 2017

 

Melanie Grobler. die gebreekte vaas

Monday, May 29th, 2017

 die gebreekte vaas

 

1.

 

My ma het reeds haar naam vergeet

toe sy die trappe klim na die skemerhuis

 

waar stapels klere eens op ’n somermiddag

op die strand gedra is, nou slordig oor die meubels hang.

 

Ek droom van my ma, haar brandende gees

as sy na die mistige blou porselein vaas

deurdrenk met vreugdes en klaagliedere loop.

 

Daardie vaas op die tafeltjie wat draaiend

en tuimelend deur die ruimte geslinger word

die ligblou skerwe wat die ruimte vul

 

ek hoor die herhalende klank van versplintering

iets wat breek, asof sy vanaf die rant

van die afgrond al haar besittings

in die donker dieptes gooi.

Ek het nooit die gewig

van ware waansin ervaar nie.

 

 

2.

 

Ek is die enigste dogter van my ouers

beeldskoon maar nie sterk nie

 

alles het verander toe ek in die stad

met sy helder elektriese ligte gaan bly het

 

daar het my komplekse gemoed verdeel

my hoogtes het torings geword

my laagtes ’n dooie see

 

die driwwe en riwwe en onstuimige branders

van my siekte, word my lêplek

ek verdrink in die donker see

 

hier waar ons voor die kaggel van die strandhuis

sit, takseer my oplettende vriende my gedrag

hulle sien die reën as dit teen die melkhout slaan

 

buite die venster

tuimel een mal seemeeu

na die voue van waansin

die kosmos frons oor sy uitspattige gedrag.

 

 

3.

 

Na die storm lê die skerwe oop

en bloot op die wit strand

ek wag geduldig

 

my oë soekend na ’n besondere

blou, verdof deur sout en sand

ek wag geduldig

 

buk af om die stukkies te bekyk

na die sagte glimmende kleur

tussen die klippers en die skilfers

 

die porselein is droog en poreuse

die blou glans

vertroebel en gladgeskuur

 

sonder tekens van die verwoede golwe

wat hul vermorsel het; gloei en klik

hul teen mekaar in my handpalm

 

meteens is die blou meer helder

asof die pigment nog nat is

asof die glasuur so pas aangeverf is

 

die objek weet nie dat dit vermorsel is nie

die stukke weg gedra na verre strande

vyf stukke, een met ’n noukeurige geometriese

patroon, twee heeltemal wit, een wit met ’n smal

dubbel band donkerblou en die laaste skerf

die kleinste van almal, ’n goddelike kwatryn

op die dak van ’n piepklein pagode geverf.

 

© Melanie Grobler / 2017

Melanie Grobler. Die Botrivier delta

Saturday, May 13th, 2017

Die Botrivier delta

 

Kragtige winde woer oor die canola’s

’n geel rivier vloei oor die ronde heuwels

verder weg is die bergwind in ’n droë dennebos

nog verder die sanderige familiebegraafplaas

die skadu’s van die dennebos, die grafte, die plaasopstal

 

dubbelgangers wat oor die plaas se werf sluip

’n hoenderhaan verstik as hy slepende klanke hoor

die ou opstaldeur swaai sussend oop en toe

en die klanke van die konsertina roep die Aandster

die vastrap in al sy improvisasies woer deur my gemoed.

 

Op die buitewyke ’n donker vlek wat groter word

deurskynend soos sprinkane in turf

wat die gedagtegang van die canola’s verduister

die wildernis word nie in woorde beskryf nie

die onbeskryflike gedigte waai in alle rigtings.

 

Blou lig stroom nou uit sy klere

hy lig sy voet op en sit sy voet neer op die plek

waar die heuwel sag en geel staan

waar die amberagtige rivier vloei.

 

Hier maak hy die kissie oop

om die vlerke van ’n mot te vind.

 

 

© Melanie Grobler / 2017

 

Breyten Breytenbach. Wat die droom is

Friday, May 12th, 2017

Charl-Pierre Naudé. Glas

Thursday, May 11th, 2017

Glas

Svendborg, 2017

 

Wat my opval

is die aanleunbousels van glas

teenaan die baksteenhuisies –

 

om ʼn blertsie winterson in op te vang

sonder die koue wat inbreuk maak van buite.

 

Verder kuslangs

staan van dié skoonkykende winterhutte amper óp die water

en die effek van hul refleksies is soos “glas op glas”.

 

Op die dag van my aankoms

het ek langs die seesoom gaan staan

om in die wye stil vlak te staar

nét toe die laatlig skuins tref

só dat die buurt volmaak

 

daar in die oomblik

sowel as in die ewigheid

vasgelê word:

 

soos die gesinsfoto wat nimmer verweer

omdat dit op die maan

 

deur ʼn ruimteman vergeet is.

 

(Praat liefs nie oor ʼn vlag

wat nie kan wapper nie.)

 

En, toe. Rampspoed!

Die veerboot vaar verby.

Klaarpraat, korte mette.

Die universele oomblik

implodeer net daar.

Noem dit maar: ʼn opskroef (van gewone wette).

Bousels verwring, mure rek soos kougom en val om

en vervaard kom al wat straat is op my af gehardloop.

So goed as ʼn tsunami! Net so sleg.

Boonop is týd die medium, nie bloot water nie;

 

die soort prentjie wat ʼn Van Gogh sou geskilder het.

 

Nou kyk, om te vertoef in die huis waarin Brecht

gewoon toe hy van die Nazis gevlug het,

en dan ingesuig te word – deur wat – ʼn terugtrekkende

tydgolf? Dis nie ʼn ligte rimpeling nie.

 

Bertolt kyk nou op na die verlede, nie die toekoms nie.

En Amerika gaan hom nie red nie, nie eens

vir ʼn gwano-sekonde nie.

Amerika gaan hom verraai, soos wat dit óns verraai.

Die deining groei, krul om

en donder met ʼn soliede massa neer.

 

Daar word gesê dat weens die vogtige lug

sommige skeeftrekkende wonings

hier soos ʼn moerstadig wapperende Deense vlag lyk –

sélle blokpatroon:

tipies van weerspieëlings; ʼn kwessie van omkering.

Dus hardloop ons vir ons lewe. Agteruit,

 

dieselfde huis in

wat ek in die water gesien het.

Waar die wynbottels volloop, nie leeg nie,

en die muurhorlosie, getroue meul-eseltjie, teenkloksgewys arbei.

 

En in ál die beddens slaap die blou lug.

 

In die leeskamer staan en wieg

ʼn man heen en weer in ʼn gety.

Hy’t ʼn toom uit die rak getrek oor “ewige wederkeer”.

Onbekend is hy soos môre heeldag

(tipies van die arme Nietszche),

en hy lees nou oor sy voorganger, die vername Naudé.

(Wat in die boek, dis algemeen bekend, ʼn klap

van ʼn vis se stert kry.)

 

Die kamerdeure word in die woud gekap.

En die dekriet groei wild op die grasvlakte.

Al die deursigtige huisornamente

moet nog gegiet word.

Ek sien dit, so duidelik soos gesmelte glas,

 

golf ná golf ná golf:

Eers kom die einde nader, dan weer ʼn begin.

 

Die lewe is ʼn nagmerrie waaruit mens wakker word

selfs al is dit so mooi.

 

 

*Die “blokpatroon”: 19de eeuse boumetode: Fachwerk (Duits), Bindingsværk (Deens), waarin houtbalke die struktuur verskaf wat deur klei- of baksteen gevul word.

 

©Charl-Pierre Naudé / 2017

Jacobus van der Riet. Gedigte oor Keltiese Heiliges, ter gedagtenis aan wyle Karel Schoeman

Monday, May 8th, 2017

Gedigte oor Keltiese Heiliges, ter gedagtenis aan wyle Karel Schoeman

  • deur Jacobus van der Riet

 

Die boek Uit die Iers, dekades gelede aan my geskenk deur my vriend Faan Herholdt, waarin Karel Schoeman vir ons Afrikaanse vertalings van Oud-Ierse gedigte gee, het ‘n groot indruk op my gemaak en my op ‘n speurtog geplaas na die Keltiese Heiliges van weleer. Toe Schoeman toevallig na my verwys word vir ‘n biblioteeknavraag oor sy jongste boek, het ek ‘n gedig oor die Heilige Kevin aan hom gestuur en het ‘n klein korrespondensie ontstaan waarin hy my van nog vele ander bronne oor die Keltiese Christendom vertel het. Ek het toe inderdaad verder gelees, o.a. ook Esther de Waal se wonderbare The Celtic Way of Prayer. Daarom wil ek graag drie gedigte oor die vroeë Britse Heiliges voorlê, ter gedagtenis. Terloops, die Christen-sendelinge na Noord-Europa was meestal uit die Britse Eilande afkomstig.

 

 

 

Die Heilige Brandaen die Seevaarder (ong. 486-575 n.C.)

Feesdag 16 Mei

 

O Vader, altoos voor my uit in die wind en weer,

op die kruin van die golf en ook diep in die trog

op hierdie dolende Eden-soekende pelgrimstog

as my siel soos ‘n kormorant oor die water skeer.

 

O Seun wat lanterns hang aan die hemelgewelf,

wat Abraham uit Ur en my uit mistige Eire roep,

beide stuurman en roer van my haastige sloep,

die Poolster wat rig en ook die Salige Eiland self.

 

O Gees alheilig, Gees alom, wat waai waar U wil,

hetsy as rukwind of bries, hetsy tifoon of sefier,

God se vinger wat pluk aan ‘n snaar van die lier

wat die hart se storms, die gemoed se siklone stil.

 

O Heilige Drie, kom breek soos sproei oor my boeg,

oorspoel my dek waar my kiel deur die deining ploeg.

 

***

 

Die H. Dawid van Wallis (ong.500-589 n.C.)

Feesdag 1 Maart

 

Dank sy God vir die mollige uier en sluike speen,

vir die melkstraal wat skor in die houtemmer gor;

mag U wat immer die koei tot milddadigheid por,

Seun van Maria, die karring en botterskop seën.

 

Dank sy God vir ‘n weiveld waar lammers baljaar,

vir ‘n ram en ‘n trop swartkopooie, juis vir hul wol;

mag U, o Heiland, gee dat ons spinwiel egalig tol,

vir mantels en musse as ons om kaggels vergaar.

 

Dank sy God vir ‘n merrie en hings, ‘n teef en reun,

die sog met haar tepels en telge en ook vir die beer;

mag U ons omgeef, alle onheil en pes van ons weer,

o heilige, frisse Maagd se allerlieflike, minsame Seun.

 

In dier eenvoudige voege leer jy, Dawid, jou kudde bid,

jy wat die eerste sooie in hierdie druïdiese draakland spit.

 

***

 

Die Heilige Bonifatius van Mainz (671-754 n.C.)

Feesdag 5 Junie

 

Ek sou kon wens, Bonifaas, om ‘n boom te wees,

stram van regop stam en skurf van bas en knoes,

met kronkeltak en twyg wat wieg en kraak as hees

die wind weer naglank ween en ek vir weerlig koes.

 

Ek sou skuiling bied in holte of stokkiesnes of mik

aan al wat skarrel, hop, fladder, kruip of sedig sit,

al wat snater, koer, tok-tok pik, fluit of kweel of kik,

vredig in frisse groen, voor die koms van winterwit.

 

Dis dié dat ek deins voor jou byl wat in Thor se Eik

met elke kap al dieper keep terwyl die Hesse-volk

met vloek en skrik na die spattende spaanders kyk.

 

‘n Bliksemstraal splyt die hout om te val in ‘n kruis.

Weg die bloed van mens en dier, weg die offerdolk,

maar balke nou waar soos loof ‘n koor se note ruis.

 

 

© Jacobus van der Riet / 2017

Charl-Pierre Naudé. Skandinawiese speurverhaal

Saturday, April 15th, 2017

Skandinawiese speurverhaal

Svendborg, 2017

 

ʼn Ydelheidsakkie:

per definisie

verdag. Swart. Die sakkie glím

in die laatlig se bleek stuiptrekke

(en weens die rol van emjambement).

 

Op ʼn rakkie, in die badkamer.

(Let op: die staccato-effek,

dís beduidend.)

 

Swart, soos die priester

se rok. Hy’t ʼn skaduweebaard:

ʼn betekenisvolle leidraad.

Laat mens wonder of die sexy pop

wat deur ʼn venster loer, ook iets wegsteek.

 

Kom in, die tuinier.

Sy reguit antwoord: “Ek sou maai”.

Daai’s verdagte nommer drie.

 

Nog sneeu sak uit, en haar hand

klem stywer om haar boordjie.

 

Wit, wat bedek.

Middernag.

Die verhaal van ’n driehoek.

 

Die sakkie, oopgerits.

ʼn Rok eenkant gewerp.

Skuim, die ligtheid

van haar luim.

En ʼn witter-as-sneeu sneeu

so koud soos skeermeslemmetjies.

 

 

(© Charl-Pierre Naudé / 2017)