Nuwe Stemme

Hilda Smits. Bangkok & Siem Reap Gemengel-oes vir die ou jaar

Monday, December 29th, 2014

 

Ankor Wat

die lig besit alles hier

in die gange flits jou kamera

soos ‘n eerste vuur

die lig besit jou

sê jy vir elke vervalle muur

en vir die klein donker vroutjie

voor haar Buddha

toe jou kamera oor haar boggelrug blits

asof sy water is

 

 

Ayutthaya toe

op die trein Ayutthaya toe myself skielik weer in Indië bevind

’n af-been man smous koeldrank water lemoene

seningrige arms sy stem soos die einde van die dag

sy lyf taai bruin spinnekop om ’n kierie gespin

my agt oë staar en na die landskap wat riviere maak in die venster

stormagtige gras dan ’n gladde meer huise word gevloed

later die dag vir ure deur die mure van Wat Mahathat gestap

lighoofdig die hoë torings van die aarde beklim

klam-hand aan ’n af-kop Buddha gevat-vat

agter my het julle stemme in die hitte verdamp

die son stadig en swaar soos ’n emmer oorgehel

toe hoor ek die man op die trein weer skel

hy verkoop ek en jy, ons jare-terug soos warm koeldrank soos ou lemoene

sy stem staan regop soos ’n murasie in die veld

 

 

Siem Reap

nie regtig plek in hierdie gedig vir ek of jy

jou ma, pa, broer, jou pa se niggie

vir 17 ure van hardlywig wees op die vliegtuig

vir familie kibbels of opmaak nie

om hierdie gedig te skryf moet die Westerse toilet

wat kon flush die groot wit bed soos ’n koninkryk

die kersboom op my Starbucks koffie geroom

moet alle luukshede uit

geen olifant van ’n kamera lens

geen krummels van die internet

geen belaglike Fransman, verdagte Eiffeltoring, duur Belgiese bier

om hierdie gedig te skryf sit ons in ’n tuk-tuk

swerf my kamera verby ons drywer Channa se breë rug tot in die grondpad

waar ek draf met die versigtige voete van ’n basterhond verby

drie skoolkinders wat grootwiel fiets-trap verby

’n ou man wat steier en krimp onder die bondel op sy rug verby

langbeen winkelpoppe met parmantige wit borste verby

die dorp mark waar ’n duisend bruin hande in dollars smous verby

die swanger teef haar uithang ribbes uithang tong verby

die grommende motorfiets sy swaar wiele wat wortel skiet in die grond onder pa

se gewig en ma haar lyf soos deeg waaraan twee seuntjies klou verby

die kleuter agterop haar sterk tande flits wit likkewaan in die son haar

bruin hand waai soos ’n vlag vir ons verby die woud waar die sonbesies skril

skreeu en skreeu en skreeu en ek omdraai en jou vra of hoor jy dit, of jy dit regtig hoor

 

Hilda Smits. Frank Stanford, ‘n slagveld, Putin, en die maan.

Sunday, May 4th, 2014

Frank Stanford. Foto deur Fred Kuhlman Jr.

Ek het so twee jaar terug op ‘n Herfsdag in New York vir die eerste keer oë op Frank Stanford se “The battlefield where the moon says I love you” gelê. Dit was ‘n week van eerste ontmoetings – Ben, New York, ‘n Tyrannosaurus rex, Stanford se epiese 15 283 lyn gedig. In die afwesigheid van strofes of punktuasie lees ek Stanford soos wat die mense hier in Nashville die Bybel lees – in geen spesifieke volgorde, vreeslik entoesiasties, honger vir inspirasie, en op tye wanneer ek eintlik ander dinge moet doen. Daar is iets aan ‘n 15 283 lyn gedig wat my afgunstige muse se rughare soos ‘n kat laat rys. Op dae wanneer ek soos die wafferse Kafka (sonder al sy kwale) wil voel, maar net aan uie, werkopdragte, die skobbejak Putin, en die son op die stoep kan dink, sit ek met my neusvleuels tussen Stanford se blaaie vir inspirasie. En dan dink ek weer aan uie en Putin.  Onlangs kom ek op nog ‘n juweel af op bladsy 244. Ek vertaal dit hier:

 

Ek word wakker en dit reën op die vlot.

‘n Duisend Sjinese martelare, ‘n orkes, en ‘n boek met dierefabels,

so die gat in die emmer maak nie saak nie.

Jy vind my naak en dood langs stilte en water.

Jy sien die wolwe kerm oor my spore in die sneeu,

die reise wat ek onderneem het, die vlieë wat ek doodgeslaan het.

Die dood is in die ruïnes van die aarde wat voor die skare buig met ‘n sakdoek,

dit is in my liggaam van twee skaduwees,

in die bloedige aand, en in die verminkte boesem

van ‘n sak gesteelde appels. Dit is waar meisies aan hulleself vat

wanneer die wind oor hulle bloese waai.

Die dood is sy eie ontheiliging,

dit is oop gespes en handdoeke.

Die dood sweet soos ‘n eier in ‘n broeikas.

Jy kan dit proe in melk en in seëls.

Dit is iewers in die bodem van die boot.

Dit lê in hinderlaag vir ‘n kind alleen en wag, dit is net soos die kind,

sy wimpers en knieë en elmboë,

die vlek in die tuin.

Die dood is soos ‘n anker, soos ‘n geruïneerde net.

Dit is golwend onder die blou vel, soos die lyk van ‘n meisie deur ‘n slang gepik.

Jy sien dit in die nag, jy gooi klippe

dit keer terug, en broei uit op jou kussing.

Dit wil ‘n drom van jou vel maak.

Dit wil jou aandag hou met ‘n blou lig.

Gooi jou skaduwee onder die boom, Judas.

Dit neurie trou met my, neem hierdie ring,

en spoeg in jou oog soos ‘n sprinkaan.

 

Stanford is in 1948 in Richton, Mississippi gebore en deur sy weduwee ma opgegee vir aanneming. Hy publiseer The battlefield where the moon says I love you en ses korter digbundels in sy twintigs. Hy pleeg selfmoord op die ouderdom van 29 deur homself drie keer in die hart te skiet tydens ‘n onderonsie tussen sy vrou, die skilder Ginny Stanford, en sy minnares, die digteres C.D. Wright Sedertdien het hy ietwat van ‘n kultus figuur in die Amerikaanse briewe sirkels geword. Volgens die wikipedia is Stanford se nalatenskap gehul in legende, raaisels en foutiewe informasie. Stanford het glo self die lyn tussen fiksie en werklikheid in sy briewe vervaag, en vele gepubliseerde artikels en opstelle verwar selfs die mees basiese besonderhede soos sy geboortedag en dorp. Baie van die raaisels rondom sy nalatenskap is skynbaar as gevolg van sy eie fabrikasies.

 

The battlefield where the moon says I love you, Stanford, F. (1977).

 

In die inleiding van sy boek skryf Stanford se minnares die volgende “I do not know whether he was drinking steadily or heavily – water or strictly whiskey. I believe he was both dreaded and loved for his intelligence, his beauty, and his pervasive mystery. I believe that the poem anchored him to the world, and that it stood solidly between himself and a much earlier death than he died. He wrote ‘I’ll just bleed so the stars will have something dark to shine in’. What can you say to that”. ..Wright, C.D. (1978). ‘n Gedig getiteld “Instead”, vertaal uit sy digbundel, You, wat na sy dood in 1978 deur C.D. Wright gepubliseer is:

 

Die dood is ‘n goeie woord.

Dit keer dikwels terug

wanneer dit baie

donker is buite en warm

soos ‘n visserman

oor sy limiet,

sonder pyn, seks

of melancholie.

Jonk soos wat ek is

hou ek lig vir hierdie boot.

 

Toe die res van julle nog kind was

het ek ‘n monnik geword

van my eie verbeelding.

Dae en nagte het oor die bordeel

gedryf soos spinnerakke op ‘n meer,

‘n klooster gevul met lawaai en meisies.

 

Die maan gooi die messe,

die digters eggo totsiens,

en sleep die stilte soos nette in.

 

Digby my huis was ‘n eiland

waar ‘n perd alleen gestaan en skuim het.

Abednego was sy naam

skemerig, so wreed soos ‘n gedig

teenoor ‘n swart sigeuner.

 

Verdriet en whisky

kos meer as vriende.

Ek besoek tronke,

weeshuise, kroeë,

hopend om hulle weer te sien.

Wilgers, ys,

aas, geen geld.

Jy sal dit binnekort moet sê, jy weet

aan jou vrou, jou kind, jouself.

 

‘n Gedig vir Ben wat my aan Frank Stanford, Brooklyn, die 76’ers en die definisie van ‘n goeie bagel voorgestel het.

 

Nashville

 

ons stap in die pad af krieke skree in die kele van bome

Stravinsky net vir ons

ons laat die stoep agter die huis asof ons nie daar bly nie

en stap myle verby vensters waarin TV’s

so gesellig soos goudvisse flits

huise waarin mense so gesellig soos gesinne is

 

skil die donker af

die magnolias hang gloeiend en hoog swanger in bome

 

swart is die pad wat sweet soos ‘n slaaf onder voet

jou hand is warm en benerig soos die vibrasies van ‘n voël jou stem

knetter soos ‘n buitelandse enjin tussen ons

 

diep-long drink ek die magnolias in

vannag sal ek droom van die dronk mot wat al om die stoep lig gons

 

 

Nog ‘n foto van ‘n poel water in New York

 

Bronne & meer oor Frank Stanford en The battlefield where the moon says I love you:

http://en.wikipedia.org/wiki/Frank_Stanford

http://www.english.illinois.edu/maps/poets/s_z/cdwright/stanford.htm

http://writing.upenn.edu/epc/authors/thomas/thomas_stanford.html

http://www.npr.org/2012/08/08/158438476/strange-fruit-and-stranger-dreams-in-the-deep-south

http://www.poetryfoundation.org/bio/frank-stanford

Hilda Smits. Oor Hemingway se snor & tuimeldroërs

Sunday, March 16th, 2014

Een van ‘n reeks foto’s wat Walker Evans op  New York metro treine geneem het

 Ek was onlangs in New York en het myself voorgeneem om ‘n gedig van formaat te skryf. ‘n Gedig met Lorca se verwoede wenkbroue, Hemingway se vreeslose snor en Kafka se formidale neus. My gedig wou ongelukkig niks weet van sulke dinge nie, en het soos ‘n hardnekkige pug terug gebeur Nashville & tuimeldroërs toe. En my beledig van chauvinisme. Al wat ek kan sê is dat ‘n hele paar talentvolle dames ook verwoede wenkbroue, vreeslose snorre en formidale neuse gehad het. Dink maar aan Frida Kahlo, en Gertrude Stein en Virginia Woolf op die neus front. Ek het darem ‘n paar kiekies van plasse water in Central Park geneem.

Lig & water & die lig was water & die water lig & hier groei hart blik tak & die roes van dit alles onthou jy in die nag as die water met jou eie bene uit die bad loop & die lig

 

hier in die huis onder die lamp in die stilte

my hond sug in haar drome

dra sy hoenders & bene so groot soos die maan

in haar neusvleuels rond

in die kelder skommel die tuimeldroër solied & eensaam

soos Hemingway se vrouens

onder drie lae muurpapier het ‘n noukeurige hand 1903 & Wright

geskribbel vir ons om oor te wonder

verbeel myself die straatligte hang soos die sagte ingewande van magnolias

oor die pad & hoe gelei die maan vannag soos ‘n swaar silwer mot water

al langs die telefoonlyn af

hier drup die bad haar rooi siklus soos ‘n horlosie tussen kraan & prop

slaap die hond in‘n gedig wat waterig wil wortel skiet

in ‘n droom wil vuur word & die sneeu van vier hande

soos ‘n vliegtuig teen die muur soos die senuweestelsel van ‘n lamp

 

Nog ‘n plas water in Central Park

Jaco Barnard-Naudé. Anne Sexton: ‘n analise

Thursday, January 9th, 2014

45 Mercy Street

In my dream,
drilling into the marrow
of my entire bone,
my real dream,
I’m walking up and down Beacon Hill
searching for a street sign –
namely MERCY STREET.
Not there.

I try the Back Bay.
Not there.
Not there.
And yet I know the number.
45 Mercy Street.
I know the stained-glass window
of the foyer,
the three flights of the house
with its parquet floors.
I know the furniture and
mother, grandmother, great-grandmother,
the servants.
I know the cupboard of Spode
the boat of ice, solid silver,
where the butter sits in neat squares
like strange giant’s teeth
on the big mahogany table.
I know it well.
Not there.

Where did you go?
45 Mercy Street,
with great-grandmother
kneeling in her whale-bone corset
and praying gently but fiercely
to the wash basin,
at five A.M.
at noon
dozing in her wiggy rocker,
grandfather taking a nap in the pantry,
grandmother pushing the bell for the downstairs maid,
and Nana rocking Mother with an oversized flower
on her forehead to cover the curl
of when she was good and when she was…
And where she was begat
and in a generation
the third she will beget,
me,
with the stranger’s seed blooming
into the flower called Horrid.

I walk in a yellow dress
and a white pocketbook stuffed with cigarettes,
enough pills, my wallet, my keys,
and being twenty-eight, or is it forty-five?
I walk. I walk.
I hold matches at street signs
for it is dark,
as dark as the leathery dead
and I have lost my green Ford,
my house in the suburbs,
two little kids
sucked up like pollen by the bee in me
and a husband
who has wiped off his eyes
in order not to see my inside out
and I am walking and looking
and this is no dream
just my oily life
where the people are alibis
and the street is unfindable for an
entire lifetime.

Pull the shades down –
I don’t care!
Bolt the door, mercy,
erase the number,
rip down the street sign,
what can it matter,
what can it matter to this cheapskate
who wants to own the past
that went out on a dead ship
and left me only with paper?

Not there.

I open my pocketbook,
as women do,
and fish swim back and forth
between the dollars and the lipstick.
I pick them out,
one by one
and throw them at the street signs,
and shoot my pocketbook
into the Charles River.
Next I pull the dream off
and slam into the cement wall
of the clumsy calendar
I live in,
my life,
and its hauled up
notebooks.

In sy beroemde analise van ‘n droom oor sy pasiënt Irma, argumenteer Freud dat drome in hoofsaak gemotiveer word deur die begeerte na wensvervulling. Drome kan dus beskou word as meganismes waardeur die psige wensvervulling nastreef. Wanneer mens Anne Sexton se 45 Mercy Street vanuit hierdie perspektief beskou is daar reeds in die openingstrofe van die gedig ‘n wens teenwoordig – die wens om genade, om bevryding, verlossing van ‘n sekere lyding. Hierdie droom (let op die spanning in ‘real dream’) dring deur haar hele gebeente soos ‘n lugdrukboor – dit is die fisiese belewing van die psigiese toestand. Ons het hier nogmaals te make met ‘n soort ineenstorting van die Lacaniaanse verbeelde in die reële, welke ineenstorting neerkom op die belewing van trauma (in Duits is droom natuurlik traum: droom én wond) en welke trauma weer aangemerk word deur die verlies van suiwer prosaïese  of kubernetiese taal. Trauma kan nie (volledig) gekommunikeer word nie.

Die digterlike ‘I’ loop op en af op Beacon Hill (wat dui op haar verwagting dat dit waarna sy wens / waarvan sy droom (die aanwysing na Mercy Street) by hierdie baken te vinde sal wees), maar  die wens bly onvervul, die genade uitgestel. In strofe 2 keer sy na Back Bay, sy soek ‘n alternatiewe roete – ompad – na dieselfde adres wat sy ken, 45 Mercy street. Dit word duidelik dat die digter al voorheen by hierdie adres was; sy ken die fisiese eienskappe van die adres – daar is ‘n huis met loodglasvensters in die foyer, 3 verdiepings met parketvloere. Sy ken die meubels, die bediendes en haar moeder, grootmoeder en oergrootmoeder is daar teenwoordig. 45 Mercy Street is ‘n tuiste, ‘n heenkome.

Ons behoort te let hier op die psigoanalitiese belang van die afwesigheid van die vaderfiguur. Op die plek waar die digter wil wees, waar haar droom vervul word, is die vader-patriarg afwesig. Op simboliese vlak dui die afwesigheid van die vader op die suksesvolle vadermoord waardeur die kind herenig sou word met die moeder – ‘n opstand van die Oedipus-konflik. Die afwesigheid kan ook daarop dui dat die digter haar verset teen simboliese kastrasie deur die naam-van-die-vader (wat Lacan as noodsaaklik vir onafhanklike ego-vorming en toegang tot die simboliese netwerk beskou het). In beide Freud en Lacan is die punt hier egter dat die primordiale wond hierdie prosesse aandryf en suksesvolle ego-vorming uitstel. Mens moet egter in gedagte hou dat Freud nooit die Oedipus-kompleks behoorlik kon verduidelik wanneer dit by die toepassing daarvan op die vroulike kind gekom het nie. Die afwesigheid van die vader by 45 Mercy Street sou ook gelees kon word as Sexton se (feministiese) opstand / weerstand teen die patriargale plektoekennings van Freudiaanse psigoanalise. So gesien, kan Sexton se skryfwerk as ‘n nie-kliniese terapie-ruimte gelees word en hierdie terapie-ruimte staan in sterk kontras tot die patriargie van die kliniek – die terapie-ruimte waaraan sy onderwerp is gedurende haar moeilike lewe.

In strofe 3 vra iemand die digter waar sy was (in haar droom). Die digter antwoord met verwysings na gesinsverwantskappe. Die soeke na ‘n eens vreedsame bestaan in die gesinsverlede word op ‘n wrang wyse verder gevoer: ‘n 45 Mercy street van lank gelede word verder beskryf, haar ouers is nog jonk en woon in by die aangesprokene (moontlik ‘n ongebore kind?) se oorgrootmoeder. Die digter (‘Mother’) is ‘n kindjie wat deur ‘Nana’ gesus word in ‘n oënskynlik vredige agtermiddag (let daarop dat ‘grandfather’ steeds afwesig is – hy dut). Tog is daar in hierdie toneel ‘n suggestie van gesinsgeweld waar die digter verwys na die ‘oversized flower’ op die kind se voorkop wat aangebring is om ‘n krul te verdoesel ‘of when she was good and when se was …’. Die ongelyke, gefragmenteerde metrum reflekteer hier die donker suggestie van geweld en trauma in die strofe wat byna onmiddellik verbind word met die suggestie dat die kind wat sy aanspreek buite-egtelik en onbepland verwek is.

In die volgende strofe is daar ‘n skielike en skokkende terugkeer na die werklikheid. Hierdie werklikheid is donker. Die digter verlig straattekens met vuurhoutjies – sy is dus steeds op soek, maar sy erken die hardheid van die werklikheid – dat dit bestaan in teleurstelling, verlies en onvervulde wense. Daar is natuurlik ook weereens sterk opstand hier teen die patriargale orde wat die vrou se geluk definieer in terme van die kerngesin. Dit is byna of die digter sê dat daar vir haar (en vir vroue soos sy) wat geen geluk in haar patriargale rol voel nie, geen geluk elders lê nie. Hierdie is die werklikheid waarin 45 Mercy street (die vervulling van die wens) ‘n leeftyd lank onvindbaar bly. Die verlede is ontoegangbaar, ónherhaalbaar.

Die intense gevoel van verlies en onvervuldheid vertaal in die volgende strofe na uiterste aggressie wat die digter aanspoor om te maak asof sy nie meer omgee oor die vervulling van die wens nie – die straattekens kan maar afgeruk word. Daar is frustrasie oor die verlede wat nie besit kan word nie, wat die digter slegs laat met papier. (Mens sou hier ook kon wys op die volgehoue negatiewe selfspraak wat ‘n bekende simptoom van kliniese depressie is.) Dan volg die enkele strofe ‘Not there.’ wat aandui dat papier (skryf) nie die digter se foltering kan oplos nie – die vervulling van die wens is nie geleë in die skryfproses nie. Hierdie interpretasie word bevestig in die daaropvolgende strofe waarin die digter visse (lewe) sien swem tussen die dooie goed (lipstick en dollars) in haar sakboek en sy hierdie visse simbolies teen die straatname doodgooi. Myns insiens het ons hier te make met ‘n suggestie van die digter se selfmoord (sy gooi eindelik ook haar sakboek in die rivier). Dan besluit die digter om nie langer op drome te wag nie – sy verwerp die moontlikheid van drome en gevolglik kom sy tromp-op te staan teen die slordige kalender wat haar lewe is – maar dit is háár lewe, haar lewe as digter, ‘n lewe waarin die weggesmyte notaboek elke keer weer en weer uit die rommel opgegrawe word, selfs al kan dit die wens nooit vervul nie.

*

Die sanger Peter Gabriel het, na aanleiding van bogenoemde gedig, ‘n lied, ‘Mercy Street’, vir Sexton geskryf. Hieronder is die lirieke:

Mercy Street

for anne sexton

looking down on empty streets, all she can see
are the dreams all made solid
are the dreams all made real

all of the buildings, all of those cars
were once just a dream
in somebody’s head

she pictures the broken glass, she pictures the steam
she pictures a soul
with no leak at the seam

lets take the boat out
wait until darkness
let’s take the boat out
wait until darkness comes

nowhere in the corridors of pale green and grey
nowhere in the suburbs
in the cold light of day

there in the midst of it so alive and alone
words support like bone

dreaming of mercy st.
wear your inside out
dreaming of mercy
in your daddy(‘s arms again
dreaming of mercy st.
‘swear they moved that sign
dreaming of mercy
in your daddy’s arms

pulling out the papers from the drawers that slide smooth
tugging at the darkness, word upon word

confessing all the secret things in the warm velvet box
to the priest-he’s the doctor
he can handle the shocks

dreaming of the tenderness-the tremble in the hips
of kissing Mary’s lips

dreaming of mercy st.
wear your insides out
dreaming of mercy
in your daddy’s arms again
dreaming of mercy st.
‘swear they moved that sign
looking for mercy
in your daddy’s arms

mercy, mercy, looking for mercy
mercy, mercy, looking for mercy

Anne, with her father is out in the boat
riding the water
riding the waves on the sea

(Kliek hier om die musiekvideo op YouTube te sien.)

Hilda Smits. Oor Tarkovsky, Tyd, Spieëls en Polaroid Foto’s

Tuesday, January 7th, 2014

 Tarkovsky op die filmstel van The Sacrifice, 1986.

“…a stone is a kind of diary of the weather, a meteorological concentrate as it were.  A stone is nothing but weather excluded from atmospheric space and put away in functional space.  Meteorology is more basic than mineralogy: it encompasses it, washes over it, it ages and gives meaning to it.  [It] is not only the past, it is also the future: there is periodicity in it”, (Mandelstam, 1933, bl.  103).

Hierdie aanhaling van die Russiese digter, Osip Mandelstam, voel vir my soos ‘n metaforiese beskrywing van my gunsteling regisseur, Andrei Tarkovsky se outobiografiese film, Mirror.  Tarkovsky se poëtiese film voel soos ‘n steen wat al die elemente – vuur, water, wind aarde – van die seisoene oor jare absorbeer. Sy film praat in stemme van Bach, die wind oor die lang gras, die knetter van ‘n vuur terwyl ‘n skuur afbrand, die drup-drup van ‘n lekkende dak, blare onder voet…“Above all, I feel that the sounds of this world are so beautiful in themselves that if only we could listen to them properly, cinema would have no need for music at all” (Tarkovsky, 1986).  In ‘n stroom van bewussyn duik fragmente van sy kinderjare op,  vervaag die grense tussen swart/wit en kleur, verlede en hede,  tussen surrealisme en werklikheid, word jy meegesleur in ‘n vloed van onthou.

Oor herinneringe aan ons kinderjare skryf Tarkovsky (1986), “Generally people’s memories are precious to them.  It is no accident that they are colored by poetry.  The most beautiful memories are those of childhood…There’s an enormous difference…between the way you remember the house in which you were born and which you haven’t seen for years, and the actual sight of the house after a prolonged absence.  Usually the poetry of the memory is destroyed by confrontation with its origin”. (Tarkovsky, 1989, bl. 29).

Tarkovsky en sy pa, die digter Arseny Tarkovsky

 

Sy pa, die Sowjet digter en vertaler Arseny Tarkovsky, het die gesin verlaat gedurende Tarkovsky se kinderjare, en sy gedigte vleg deurgaans deur die film soos ‘n stem.  ‘n Stem van wyse alomteenwoordigheid, maar ook van afwesigheid en verlies.  Een so ‘n gedig wat voorgelees word is “First Meetings”,

 

We celebrated every moment

Of our meetings as epiphanies,

Just we two in all the world.

Bolder, lighter than a bird’s wing,

You hurtled like vertigo

Down the stairs, leading

Through moist lilac to your realm

Beyond the mirror.

 

When night fell, grace was given me,

The sanctuary gates were opened,

Shining in the darkness

Nakedness bowed slowly;

Waking up, I said:

‘God bless you!’, knowing it

To be daring: you slept,

The lilac leaned towards you from the table

To touch your eyelids with its universal blue,

Those eyelids brushed with blue

Were peaceful, and your hand was warm.

 

And in the crystal I saw pulsing rivers,

Smoke-wreathed hills, and glimmering seas;

Holding in your palm that crystal sphere,

You slumbered on the throne,

And – God be praised! – you belonged to me.

Awaking, you transformed

The humdrum dictionary of humans

Till speech was full and running over

With resounding strength, and the word you

Revealed its new meaning: it meant king.

Everything in the world was different,

Even the simplest things – the jug, the basin –

When stratified and solid water

Stood between us, like a guard.

 

We were led to who knows where.

Before us opened up, in mirage,

Towns constructed out of wonder,

Mint leaves spread themselves beneath our feet,

Birds came on the journey with us,

Fish leapt in greeting from the river,

And the sky unfurled above…

 

While behind us all the time went fate,

A madman brandishing a razor.

 

@Arseny Tarkovsky. Uit Life, Life: Selected Poems by Arseny Tarkovsky (1997)

 

Die konsep van Tyd, van die wêrelde wat dit omsluit, is iets wat Tarkovsky na aan die hart lê in nie net sy films nie, maar ook sy boek Sculpting in Time (1986) en sy dagboek Time within Time (1970 – 1986).  Soos in T.S.  Eliot se gedig Burnt Norton skryf Tarkovsky (1986) oor Tyd:

“Time is said to be irreversible.  And this is true enough in the sense that ‘you can’t bring back the past’, as they say.  But what exactly is this ‘past’? Is it what has passed? And what does ‘passed’ mean for a person when for each of us the past is the bearer of all that is constant in the reality of the present, of each current moment? In a certain sense the past is far more real, or at any rate more stable, more resilient than the present.  The present slips and vanishes like sand between fingers, acquiring material weight only in its recollection.  King Solomon’s rings bore the inscription, ‘All will pass’; by contrast, I want to draw attention to how time in its moral implication is in fact turned back.  Time cannot vanish without a trace for it is a subjective, spiritual category; and the time we have lived settles in our soul as an experience placed within time.”   (Tarkovsky, 1986, bl.58).

Ter gedagtenis aan Tarkovsky vertaal ek sy pa se gedig жизнь жизнь of Life, life.  Ek het ook so tussen die lees en Google op ‘n spul van Tarkovsky se polaroid foto’s afgekom, en het ge-inspireerd ‘n paar eksperimente hieronder vasgepen.

 

1

 

Ek glo nie in tekens en vrees nie

voorbodes nie.  Ek vlug nie weg van laster

of van gif nie.  Die dood bestaan nie.

Almal is ewigdurend.  Alles is ewigdurend.

Geen punt om die dood op sewentien,

of op sewentig te vrees nie.  Daar is net die hier en nou, en lig;

geen dood of duisternis bestaan nie.

Ons staan almal reeds op die strand;

ek is een van die wat die nette sal insleep

wanneer ‘n skool van onsterflikheid verby swem.

 

2

 

As jy in ‘n huis woon – die huis sal nie ineenstort nie.

Ek sal enige van die eeue oproep,

binne gaan en ‘n huis daar bou.

Dit is waarom jou kinders en jou vroue

saam met my om een tafel sit  –

dieselfde vir stamvader en kleinseun:

die toekoms word nou volbring,

en wanneer ek my hand effens lig,

sal al vyf balke lig met jou bly.

Elke dag het ek my sleutelbeen gebruik

om die verlede mee op te stoor, en asof dit uit hout bestaan

het ek tyd gemeet met geodetiese kettings

en oor dit gemars, asof deur die Ural berge.

 

3

 

Soos ‘n kleremaker het ek die tyd verstel om my te pas.

Ons het na die Suide gestap, stof bo die trappe laat rys;

die lang onkruid het gebrand; die sprinkaan het gedans,

sy antenna aan die perdehoef geraak – en ‘n voorspelling gemaak,

my gedreig met vernietiging.  Soos ‘n monnik

het ek my lot gegord tot die saal;

en selfs nou, in hierdie komende tye,

staan ek in die stiebeuels soos ‘n kind .

 

Ek is tevrede met onverganklikheid,

vir my bloed om van tydperk tot tydperk te vloei.

Tog, vir ‘n knus hoekie waarop ek kon staatmaak

sou ek gewilliglik my hele lewe gegee het

toe haar vlieënde naald

my soos garing regoor die wêreld gepluk het.

 

 

spin die aand kat-suutjies deur die spoel

in die regisseur se hand

die vlak gras is water die wit lig ‘n klank

twee bome waaksaam

jy is ‘n oog omsingel die ronde nag

die grond is vrugbaar hier

waar jy stap

 

wag met die lyf van ‘n hond

elke senuwee soos ‘n harp elke spier gespan

vir die mis prik jou ore

oneindig die veld

haal jou in

 

 

waar jy staan praat die grond

modderig binnesmonds die heining

se taal van slagtand & skaduwee

breek die veld branders

‘n huis soos ‘n babavuis

by jou voete ‘n hond so lojaal

soos die son soos die heining om

 

 

Meer oor Tarkovsky, sy films en boeke:

 

http://andrei-tarkovsky.com/

 

http://en.wikipedia.org/wiki/Andrei_Tarkovsky

 

Sy films verniet aanlyn:

 

http://www.openculture.com/2010/07/tarkovksy.html

 

Bronne:

Brown, C.  en  Merwins, W.S.  Merwin.  (2004).  The Selected Poems of Osip Mandelstam.  New York: New York Review Books.  (Oorspronklik in 1933 gepubliseer).

Rounding, V, en  Robinson, M.R.  (1997).  Life, Life: Selected Poems by Arseny Tarkovsky.   Maidstone, Kent: Crescent Moon.

Tarkovsky, A. (2006). Instant Light: Tarkovsky Polaroids. London: Thames & Hudson. Aanlyn: http://www.diphotos.net/JJ/Tarkovskij/Web/li.htm

Tarkovsky, A. (1989).  Sculpting in Time.  Texas: University of Texas Press. (Oorspronklik in 1986 gepubliseer).

Carina van der Walt. Kraaie

Wednesday, October 30th, 2013

 

Kraaie in die Brabantse stede is ’n alledaagse verskynsel. Al is hulle teenwoordigheid eintlik nooit gerusstellend nie, inspireer hulle kunstenaars en digters. Die bekendste voorbeeld hiervan is waarskynlik Van Gogh se Koringveld met kraaie (Julie, 1890). Die skildery is op die Franse platteland geskilder. Hy het van Brabant tot Provence rondgeswerf. 

Kraaie plus stad of landskap bring my uit by Solet Scheeres, wat onlangs die Plekgedig-kompetisie hier op versindaba gewen met die gedig Om af te tree op Bela-Bela. Sy is ’n kortverhaal- en jeugboekskrywer, maar verlede jaar Septembermaand het sy die gedig ’n Kraai bly maar altyd swart vir my gestuur. Scheeres het hierdie gedig geskryf na aanleiding van Torenkraai, ’n beeldhouwerk van die kunstenaar en digter Sjon Brands, uit Tilburg.

 

’n Kraai bly maar altyd swart

Met apologie aan Ted Hughes

 

Kraaie skrop in torings nes

pik oë uit

steel blink goed

trompetteer lelike woorde

wapper hulle swartvlag-vlerke

en kondig die einde aan.

Ek wonder hoe lank nog

en soek hoog bokant Brabant se kerke

na die lawaai

van ’n verdwaalde kraai.

Maar die lug is leeg en blou.

Ek probeer dankbaar die oomblik

vashou.

Dan verskyn daar op die horison ‘n

swart spikkel,

’n klein wapperende vlag.

Die dooies draai in hulle grafte om

en ek timmer, om God’s wil

vir my nog ’n dag.

 

Scheeres verwoord in bogenoemde gedig die Christelike perspektief dat ’n kraai op aas afkom, oë uitpik en ’n simbool van sonde is. Die kraai se kras geroep word in Latyn uitgedruk as “eras, eras”. Dit beteken more-more en verwys na die kraai wat Noag eerste na die sondvloed uitgestuur het. Hy het nooit teruggekom nie. Op so ’n manier word hy in die Christelike wêreld ’n simbool van die slaaf van wêreldse luste, wat sy eie bekering bly uitstel. In die slot van hierdie gedig is die dooies geskok (Scheeres se Afrikaanse voorvaders?), terwyl sy na haarself toe skryf en elke dag in die Brabantse landskap aan haar eie doodskis timmer.

Vir baie lank het kunshistorici gedink Koringveld met kraaie is Van Gogh se laaste skildery, miskien deur die oorweldigende simboliek daarvan. Sirkelende kraaie (einlik is dit rawe in die noordelike halfrond) is ’n voorbode van rusie en oorlog. Swart simboliseer dood. Die geel koringveld daaronder herinner mens aan die simboliese aankondigings van dood in die Bybel as oestyd, want die oes is ryp.

Van Gogh het olieverf gebruik as medium vir Koringveld met kraaie. Tog het hy ook houtskool as medium in die beginjare van sy loopbaan gebruik. Hierdie skildery is baie duidelik ’n landskap, maar Van Gogh het ook ander genres soos portrette (dink aan sy selfportrette) en stillewes (byvoorbeeld sonnebomme) geskilder. Beide medium en genre staan in diens van die uiteindelike skildery, in hierdie geval dan Koringveld met kraaie.

Op dieselfde manier werk ’n literêre produk. Die skrywer kies sy medium, byvoorbeeld Afrikaans of Engels of Nederlands. In vandag se geglobaliseerde wêreld is dit ’n mite dat ’n skywer net in sy moedertaal kan skryf. Inteendeel! Hoe meertaliger ’n skrywer is, hoe groter is die kans dat hy van medium kan verwissel. Maar die skrywer kies nie net sy medium nie, hy kies ook sy genre. Die drie omvattende literêre genres epiek, liriek en dramatiek word deur die skrywer verder uitgewerk in byvoorbeeld ’n kort-, kinder- of jeugverhaal binne die epiek. Of die keuse vir ’n plekgedig, beeldgedig of ’n simboliese gedig binne die liriek.

Dit moet vandag se lesers dus nie verras dat ’n skrywer van medium of genre kan wissel nie. En tog gebeur dit. Die mens is van nature geneig om te kategoriseer; om etikette op skrywers se oeuvres te plak. Dit is die verrassende van Scheeres. Al vertel die twee prosa-agtige titels van haar gedigte iets van haar agtergrond as verhaalskrywer, maak sy duidelik ’n stap na die poësie toe: onlangs met ’n plekgedig en eerder met ’n simbolies gekleurde gedig.

Behalwe vir Torenkraai is Scheeres ook geïnspireer deur die gedig Crow Blacker than Ever van Ted Hughes, die Poet Laureate van Engeland uit 1984. Dit is die Christelike simboliek van die swart kraai wat hulle in gedigte ooreenstem. In Hughes se gedig is daar ’n konfrontasie tussen God, mens en vrou – met die kraai as bindende skarnier, ’n gruwel sonder enige verlossing. Scheeres en Hudges se gedigte verskil egter met betrekking tot perspektief. Hughes skryf weg van homself af tot in ’n breër, hemelse sfeer, maar daar is ook ’n paradoksale oomblik van identifikasie met die kraai en dus die dood.

 

Crow Blacker than Ever

 

 

When God, disgusted with man,

Turned towards Heaven,

And man, disgusted with God

Turned towards Eve,

Things looked falling apart.

 

But Crow.      Crow

Crow nailed them together –

 

So man cried, but with God’s voice.

And God bled, but with man’s blood.

 

Then heaven and earth creaked at the joint

Which became gangrenous and stank –

A horror beyond redemption.

 

The agony did not diminish.

 

Man could not be man nor God God.

 

The agony

 

Grew.

 

Crow

 

Grinned

 

Crying: ‘This is my Creation,’

 

Flying the black flag of himself.

 

Terwyl Hughes se blik ver buite homself gerig is, maar ingeperk word deur die kraai se spotlag en aanspraak, rig Scheeres haar blik nader aan haarself “hoog bokant Brabant se kerke”. In boom en kraai  skryf ek net soos Hughes weg van myself af, maar my blik is nog baie nader as Scheeres se kerktorings gerig op ’n paradoksale situasie in die tuin (geen hemelse sfere nie). Die kraai simboliseer nie net die dood nie. Hy vrek. Tog is die Christelike simboliek verder dun gesaai in die gedig. Identifikasie lê vir my nie in die kraai se aanspraak nie, maar in my gewaande teenstrydige emosies agter die vlies voor sy oë.

 

boom en kraai

 

toen de boom gerooid werd

stierf ook de oude kraai

 

– dagen lang fladderde hij

ten dode opgeschreven onder

de bloeiende kersenboom

een sterfplek uitgezocht

voor zijn laatste uren

 

toen de belofte van zomer

zo snel voor zijn doffe oogjes

tenietging gaf hij het ook op

zijn onheilspellende krachten

haalde hem definitief in –

 

elders in een stenen hoekje

ontgoocheld en gelukkig

 

Die lesers wat tot op hierdie punt die artikel gelees het, kan vra: waarom is die medium van die gedig Nederlands? As antwoord: teen die uitgestrektheid en die gewelddadigheid van die Suid-Afrikaanse ruimte, maak ’n Afrikaanse gedig oor die dood van ’n kraai onder ’n boom in ’n tuin geen enkele indruk nie. Terug by Van Gogh wat kraaie bo ’n uitgestrekte koringland geskilder het, wonder ek of daar iemand is wat ’n Afrikaanse gedig geskryf het oor Koringveld met kraaie? Cas Vos het in sy laaste bundel – Duisend dae op jou spoor – laat blyk dat hy hierdie skilder se allerlaaste skildery ken:

 

Boomwortels

Vincent van Gogh se laaste skildery

op sy sterfdag, 27 Julie 1890

 

Hy skilder wortels van bome

wat in die grond knobbelrig beur

voordat ’n doodskoot hom verplant

in ’n ander beloofde land.

 

 

Solet Scheeres by die Torenkraai van Sjon Brands tydens die tentoonstelling TWIET TWIET gedurende September 2012 in Tilburg.

Hilda Smits. Oor dooie eekhorings & ertjies

Wednesday, October 30th, 2013

                       New York op 'n herfs besoek
 

Dit raak kouer in Nashville. Aan die een kant voel ek soos Robert Frost met sy frosty van wat sê, “You can’t get too much winter in the winter” & aan die ander kant ‘n bietjie soos Tom Waits, “I’m the last leaf on the tree. The autumn took the rest but they won’t take me. I’m the last leaf on the tree. I’m the last leaf on the tree. I’m the last leaf on the tree”.

Daar is iets metafories aan die dooie eekhoring met sy glaserige, steeds verskrikte swart ogies waaroor ek byna verlede week geploeg het gedurende ‘n drafsessie & die weer wat besig is om diep in my murg huis te bou. Iets aangenaams & bekend soos my ma se pannekoek op reënerige dae, of die bejaarde posman met sy vaardige hande wat weet wat my adres is. Iets onaangenaams & onbekend soos ‘n dooie eekhoring met glaserige ogies.

Herfs (dink Halloween pampoene & aan riviere blare wat bruis onder voet & aan truie wat die spiere van hulle sagte monde in ‘n vreemde land strek) voel soos ‘n fase. Volgens die H.A.T, ‘n “ontwikkelingstrap”. ‘n Stadium. Persoonlik verkies ek fase as“ die skyngestalte van die maan”. Miskien verander alles vorm, ietwat soos die maan, hierdie tyd van die jaar sodat selfs die krane soos silwer kraaie diep vanuit hulle kele protesteer. Miskien krimp ‘n mens gedurende die winter tot ‘n ertjie, serp en al. Skielik is jy oor teen die grond sodat jy beter na molballades kan luister, en die miere en allerhande ongewone dinge van naderby kan bekyk. Ek voel soos ‘n ertjie wat aan ‘n enorme serp brei en met miere praat. En ek mis my pa hierdie tyd van die jaar. Hy was ‘n man van min woorde & ‘n man vir geel bome, & vir Lig.

Vir my pa vertaal ek ‘n mede-mol, Larry Levis, se gedig In the City of Light:

In die stad van lig

Die laaste ding wat my pa vir my gedoen het
was om ‘n padkaart te ontwerp: hy het gesterf & so
die dood ‘n moontlikheid gemaak. As hy dit kan doen sal ek
ook, eendag, so vereer word. Een nag

het ek deur die verligte strate van New York gestap,
van die Gramercy Park Hotel op tot by Lexington,
& op daardie uur, alleen, was ek doof vir die verkeer,
stemme, die geroesemoes van ‘n koerant tot hoog bo die ligte geswiep
deur ‘n Lente wind. Die strate nat en blink . Geen klanke. Een nag

met my seun se geboorte het ek gedink
aan hoe luid hierdie wêreld moet wees vir hom, hoe finaal.

Daardie nag, uit respek vir iemand wat afwesig was,
het ek opgehou om te  luister daarna.

En uit respek vir iemand wat afwesig was,
moet ek ook sê

dat hierdie nie die hele storie is nie.
Die feit is, ek was nog steeds verlief.
My pa het gesterf & ek was verlief. Ek weet
dis in slegte smaak om dit so te sê . Sê vir my,
hoe sou jy dit stel?

Die storie lui: hunkerend om alleen te wees & hunkerend
vir die gemaklike eensaamheid van reisigers,

het ek totsiens gesê in ‘n lughawe & Wes gevlieg.
Dit het eintlik anders af gespeel,
& waar ek haar teen my lyf gehou het,
voel my vel steeds rou & broos.

Met die landing het ek afgekyk na die glimmende velde van lig,
van bleek wingerde & klein dorpies, elkeen
met ‘n watertoring & daarna die skadu van vlerke;
& dan niks .

My enigste raad is om nie weg te gaan nie,
Of, gaan weg. Die meeste

van my besluite was verkeerd.

Wanneer ek wakker word, lig ek koue water
na my gesig . Ek maak my oë toe .

‘n Lyf wil vasgehou & vasgehou word, & wat
kan jy daaraan doen?

Omdat daar gesigte is wat ek nooit weer sal sien nie,
is daar twee dinge wat ek wil onthou
oor lig & wat dit aan ons doen .

Haar helder, groen oë by ‘n lughawe – hoe hulle vergroot
asof  in ongeloof ;
& my pa wat die hek oopmaak : ‘n verligte, & stil

stad.

Die oorspronklike gedig: http://www.blackbird.vcu.edu/v5n2/poetry/levis_l/city.htm

 

 

Jaco Barnard-Naudé. Sheila Cussons se ‘1945’: ’n Lacaniaanse ontleding

Monday, October 28th, 2013

1945

Europa lê in puin: ‘n swart koerantberig,
staccato, stomp; ‘n oggendteegerug.
Europa is ‘n krater in die firmament, niks meer.

Maar deur die blokkiesraaisel van verstarde staal
tuimel die reëngrou duiwe heen en weer,
hunkerend na broeityd, neste op die plein
en paring bo die swart verminkte katedraal.

‘n Aartsengel lê in die reën se glans en stil verteer
die roes sy silwer vlerk, die kosmos van sy silwer brein.

Hierdie inskrywing begin by die outeur, terug van ’n kuier-naweek in Johannesburg, waartydens hy sy vriendin, die Bebaarde Digter, na lang maande weer te siene gekry het. Terug in Kaapstad, sit die outeur Sondagmiddag op sy stoep ’n salige sigaret en rook toe sy Freudiaanse superego hom aanspreek: ‘Waarom het jy so lanklaas iets vir Versindaba geskryf?’, vra die Superego parmantig. Nou omdat ek en die Superego goed bevriend is, weet ek teen dié tyd al dat verskonings – hoe geldig ookal – nie gaan help nie. Ek sal iets moet doen. Op dees aarde waarom ek toe op daardie oomblik aan Sheila Cussons se gedig ‘1945’ uit haar debuut, Plektrum (1970) dink, sal ek nie kan sê nie. Carl Jung sou wel met die een of ander verduideliking vorendag kon kom, dié weet ek. En as ek hard dink kan ook ek seker ’n Jungiaanse verduideliking saamflans, gebaseer op Jung se beginsel van sinkronisiteit en die waarneming dat 1945 die jaar is wat vereenselwig word met vrede (na die (Tweede) Wêreldoorlog). Maar op die ou einde is ek meer gemaklik met Freud en Lacan. Toe kyk ek of ek nog op die Versindaba-bydraersblad kan aanteken en vind toe dat ek wel kan. Op die daad besluit ek om dit as ’n teken te benader en (na ’n soektog van byna ’n uur na my eksemplaar van Plektrum – wat ek (tekenend) tussen Ted Hughes se Poetry in the Making (1967) en Carol Ann Duffy se Rumpelstiltskin and other Grimm Tales (1999) vind) skryf ek die volgende Lacaniaanse ontleding van ‘1945’:

Vanuit ’n Lacaniaanse oogpunt is die mees prominente beskrywing wat ons in ‘1945’ aantref dié van aftakeling en dan die spesifiek psigiese aftakeling wat plaasvind wanneer die Verbeelde ineenstort. Hierdie aftakeling is so aangrypend in die gedig as geheel, omdat dit op beide die vlakke van inhoud en vorm figureer. Wat vorm aanbetref, skep die wye kruisrym ‘n atmosfeer soortgelyk aan ‘n bomaanval – dit suggereer die trajekte van vuurpyle, handgranate, koeëls of bloot van ‘n val of ineenstorting (sien ‘staal’-‘katedraal’, ‘weer’-‘verteer’ en ‘plein’-‘brein’). Inhoudsgewys kan mens hierdie proses van aftakeling begin volg deur in die konteks daarop te let dat die eerste betekenaar in die gedig, die woord ‘Europa’, Lacan se kategorie van die Verbeelde verteenwoordig – ’n konsep wat Lacan onderskei van twee ander in ‘n analitiese triade: die Reële en die Simboliese. Saam vorm die Verbeelde, die Reële en die Simboliese die dimensies van wat Lacan as die Borromeaanse knoop van menslike belewing beskryf. In beide Lacan se geskrewe werk en in sy lesings is die Verbeelde die eerste term wat na vore tree. Dit is dus unheimlich en beduidend dat die betekenaar van die Verbeelde (‘Europa’) (ook) in Cussons se gedig eerste staan. Die Verbeelde verteenwoordig daardie gedeelte van ons psige waarin ideale en ’n Ideale Geheel bedink kan word. Die primêre proses van psigiese ontwikkeling waarin die Verbeelde voorop staan, is die proses van ego-vorming waarna Lacan as die spieëlfase verwys. Die jong kleuter-subjek sien haarself in die spieël en erken die spieëlbeeld as haarself. Tydens hierdie proses vorm die kind vir haarself ’n fantasie-beeld van haarself as stabiel, koherent en heel, terwyl dit nie die geval is nie – die subjek in Lacan is altyd ‘n gesplete subjek. Die vorming van die fantasie-beeld as Ideale (Voltooide) Ego is, volgens Lacan, noodwendig die geval aangesien die spieëlfase ’n kompensasie-reaksie is vir die gevoel van skeidingsangs wat die kleuter ondervind by bewuswording dat sy fisies onafhanklik van die moeder (en ander objekte in die onmiddellike leefwêreld) bestaan. Toegepas op Cussons se gedig, is dit my argument dat ‘Europa’ letterlik in ‘1945’ in die teken staan van die Westerling se kollektiewe ‘Ideale Ego’. Europa is immers die vasteland waarin die idees van die Verligting ontstaan het en ontwikkel is. Dit was en is steeds (hoewel in mindere mate) vir die Westerling die betekenaar van menslike Beskawing, Vooruitgang, Oorwinning, Voltooidheid en Eenheid.

‘Europa lê in puin’ dui, vanuit hierdie invalshoek, dus nie net op die ontsetting en vernietiging van die landskap deur oorlog nie, maar op die vernietiging van die ideaal van menslike verwerkliking wat Europa verteenwoordig. Europa is ’n ‘swart koerantberig’ afgetakel tot ’n ‘oggendteegerug’, met ander woorde, daar het van Europa op beide Verbeelde en Simboliese vlak minder as niks oorgebly nie. In Lacan is die Verbeelde en Simboliese nou aan mekaar verbonde en in ’n voortdurende spanningsverhouding met die Reële – die chaotiese primordialiteit van absolute voor-simboliese en onbemiddelde materialiteit, dit wat nie tot die Simboliese orde van taal behoort of kan behoort nie, wat letterlik onbeskryfbaar en onwerklik is. (Slavoj Žižek skryf in sy boek Welcome to the Desert of the Real (2002) insiggewend oor die rol van die Reële in die konteks van 9/11.) In ‘1945’ verteenwoordig die ‘swart koerantberig’ die Reële dimensie – ’n swart koerantberig is letterlik ’n berig wat geen woorde bevat nie. En dit is Europa self wat nou tot hierdie ‘swart koerantberig’ gereduseer is, ’n ‘krater’ of swart gat (’n ster wat op sigself ineengestort het) van niksheid, sinneloosheid, vernietiging – ‘n blackout. Van die Ideale Ego Europa, wat eenmaal goed en mooi was, het slegs ’n ‘oggendteegerug’ oorgebly. Dit is welbekend dat die Finale Oplossing ’n bepalende krisis in die intellektuele diskoers van die Weste veroorsaak het. Hierdie krisis van Rede en Orde is op sy eerlikste beskryf in die werk van die Frankfurt-skool en spesifiek in Adorno en Horkheimer. Ook Heidegger se werk oor Nietzsche en die einde van die metafisika staan in die teken van hierdie krisis.

Hoewel Cussons waarskynlik nie self met Lacan se werk vertroud was nie, was sy op intuïtiewe vlak egter deeglik bewus van die Lacaniaanse insig dat die menslike werklikheid nie sonder die Verbeelde kan bestaan nie, dat selfs die traumatiese ineenstorting van die Verbeelde in die Reële wat die Tweede Wêreldoorlog vir Europa beteken het, nie die moontlikheid van ’n herstel kon uitsluit nie, maar dat  enige sodanige herstel in die eerste plek afhanklik sou wees van ’n herstel van die Verbeelde / verbeelding. Met ander woorde, Cussons wou ruimte skep binne die gedig vir die moontlikheid dat Europa sou herstel van die kollektiewe psigose waarin dit tydens die oorlog verkeer het. Om hierdie rede bewoord sy hoop en verbeeld sy die moontlikheid van oplewing in Europa in die tweede strofe van ‘1945’, waarin die ‘reëngrou duiwe’ hunker na ‘broeityd’ en ‘paring’ – woorde wat dui op die proses van geboorte, die totstandkoming van iets nuuts.

Maar die slotstrofe dui daarop dat hierdie totstandkoming of herstel ’n lang, moontlik oneindige proses sal wees wat in 1945 ten beste vaag en ver weg was: die primêre proses is steeds die verterende uitwerking van die Reële op die Verbeelde en die Simboliese; die aftakeling van die aartsengel (feilbare mens-subjek) se ‘silwer vlerk’ (vryheid, die Verbeelde) en ‘silwer brein’ (rede, die Simboliese). Tog lê die aartsengel in die reën se ‘glans’ en bly die hoop van hergeboorte nie beskaam nie. Tot watter mate Cussons se versigtige hoop vir Europa / die Weste / metafisiese Rede ’n werklikheid geword het by wyse van ’n herstel van die Verbeelde en die Simboliese is ’n oop vraag. Sedert 1945 strompel Europa voortdurend van krisis tot voortslepende krisis. Kritiese teoretici soos Žižek en Badiou beweer gereeld dat Europa ‘dood’ is, dat dit ten beste ’n soort zombie-agtige na-lewe beleef. Hoe dit ookal sy, ‘1945’ is ’n gedig wat die toekoms (profetiese vooruitskouing) en verlede (sobere nabetragting) in ’n treffende tipering van ‘n huidige werklikheidsoomblik, meesterlik saamvat.