Brieweboks
Sunday, January 8th, 2012

Nuwe Stemme 5 poësie kompetisie is nou oop vir inskrywings:
Heilna du Plooy en Loftus Marais stel Nuwe Stemme 5 saam. Dit sal die nuutste versameling in hierdie opwindende poësiereeks wees. Alle aspirantdigters word genooi om werk voor te lê vir keuring.
Heilna du Plooy is professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy is ‘n gerespekteerde literator en het ook twee digbundels gepubliseer, Die donker is nooit leeg nie (1997) en In die landskap ingelyf (2003).
Loftus Marais het in Nuwe Stemme 3 gedebuteer. Sy eerste bundel, Staan in die algemeen nader aan vensters (2008), is met niks minder nie as vyf letterkundepryse bekroon. Hy het al opgetree by internasionale poësiefeeste soos die Badilisha! Poetry Exchange en Poetry Africa.
Die reeks se geskiedenis
- Nuwe stemme 1 (1997) met George Weideman en Anastasia de Vries as samestellers
- Nuwe stemme 2 (2001) met Petra Müller en Nèlleke de Jager as samestellers
- Nuwe stemme 3 (2005) met Antjie Krog en Alfred Schaffer as samestellers
- Nuwe stemme 4 (2010) met Danie Marais en Ronel Foster as samestellers
Die bundelreeks het met die verloop van slegs ‘n paar jaar reeds ‘n instelling geword, en een waarin verskeie gerekende digters gedebuteer het. Hulle sluit die volgende bekende name in: Martjie Bosman, Ilse van Staden, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Jo Prins, Melt Myburgh, Danie Marais, Ronelda S. Kamfer, Loftus Marais, Jasper van Zyl en Fourie Botha.
Reëls
- Die sperdatum vir voorleggings is 31 Maart 2012.
- Stuur ‘n manuskrip met sewe ongepubliseerde gedigte wat aan die volgende voorwaardes voldoen:
- Slegs Afrikaanse gedigte sal oorweeg word
- Die manuskrip moet in dubbelspasiëring getik word
- Geen elektroniese weergawes sal in aanmerking kom nie
- Manuskripte moet in drievoud voorgelê word, en ‘n inskrywingsblad moet vooraan elk van die drie stelle voorleggingskopieë vasgekram word - die inskrywingsblad kan by www.tafelberg.com afgelaai word.
- Stuur jou manuskrip na:
Nuwe Stemme 5
Posbus 879
Kaapstad
8000
- Geen manuskripte sal ná die inskrywingsproses aan digters terugbesorg kan word nie. Suksesvolle digters sal deur Tafelberg in kennis gestel word waarna die uitgebreide redigeringsproses in oorleg met die samestellers sal geskied. Ongelukkig sal daar nie verslae of kommentaar aan alle deelnemers gelewer kan word nie. Die finale oordeel berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
Nuwe platform op Facebook:
- 1. Hoewel bogenoemde gedrukte inskrywings noodsaaklik is, word alle aspirantdigters ook genooi om reeds vanaf 10 Desember 2011 deel te word van Nuwe stemme 5 se Facebook-groep en drie van hulle beste verse op hierdie blad te plaas. Kommentaar van belangstellendes in die groep kan digters help met die vormgewingsproses voordat hulle finale inskrywings indien.
- 2. Hierdie internet-gespreksruimte, gefasiliteer deur Facebook, sluit op 1 April 2012.
- 3. Die beste digters - nie minder as 15 maar nie meer as 30 individue nie - sal uit die voorlegging van manuskripte aan Tafelberg-Uitgewers geselekteer word. Daar sal direk met hulle in verbinding getree word. Hulle sal dan genooi word om eksklusief lede van ‘n finale Facebook-groep te word. Vanaf 1 Julie tot 31 Augustus 2012 sal die twee samestellers, binne hierdie geslote groep, kommentaar en raad plaas. Hierdie lede word aangemoedig om na aanleiding van kritiek en kommentaar van die samestellers ‘n hersiene weergawe aan Tafelberg voor te lê, sodat die redigeringsproses reeds met hierdie terugvoer begin.
- 4. ‘n Finale, kleiner groep van digters sal dan hierna geselekteer word, en hulle moet verkieslik beskikbaar wees vir ‘n naweekwerkswinkel in September 2012. Insluiting in hierdie groep verseker egter nie opname in die bundel nie. Net die heel beste gedigte sal ná afloop van die werkswinkel geselekteer word vir publikasie.
- 5. Tafelberg beoog om die bundel in die eerste helfte van 2013 te publiseer.
Navrae kan gerig word aan:
Danita van Romburgh
Tel: (021) 406 3412
Faks: 086 531 1609
E-pos: dvanromb@tafelberg.com
NB-skakelbord: (021) 406 3033
Media navrae kan gerig word aan: Eben Pienaar (eben@nb.co.za of 021 406 3450)
Inligting en inskrywingsblad ook beskikbaar by www.tafelberg.com en www.nuwestemme5.com
Thursday, January 5th, 2012
Dit is een wintersoggend in Protea Boekhuis Stellenbosch. Ons is ‘n paar digters wat gedigte gaan voorlees. Ek verken die winkel en gewaar die groot reus met ‘n reënjas en sambreel. Ek vermoed dit is John. Nog nooit ontmoet. Ek hoop hy gaan nie na ons kom luister nie. Miskien net ‘n boek koop en waai.
Nee, toe ons begin voorlees, neem hy en sy vriendin lieflik stelling in, reg voor ons.
Ek het verlede jaar met die Vryfees in Bloemfontein by ‘n boekstalletjie sy blou dik Literêre boek 1652 tot 2004 vir R30,00 gekoop. Vir weke en nou nog lees ek hierdie omvangryke werk van die GROOT GEES. Ek vind my naam ook opgeteken in sy boek. Ja, hy skryf iets moois. Iets positief van my gedigte asook van vele ander woordkunstenaars.
Na my Huldiging deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans - Die Woordfees & Versindaba op Stellenbosch 24 September 2011, kry ek ‘n woordjie in by John en bedank hom vir sy reuse aandeel tot die kultuur-historiese skatkis van die Suid-Afrikaanse letterkunde. Nooit gedink ons sal ooit weer die voorreg hê om in sy teenwoordigheid te wees nie.
Uit my hart dra ek graag onderstaande gedig aan hom op:
Magnoliopsida
(Vir: John C Kannemeyer)
op jou stil swygsame manier van doen
het jy my roosboom subtiel kom versier
woordkunstenaars se lower pronk diepgroen
soos jy ons opteken in Literatuur
Saterdagoggend Protea Boekhuis
Stellenbosch, staan ek voor ‘n mikrofoon
voor my John Kannemeyer ewe tuis
ek voel hoe my hart sink tot in my toon
‘n Literêre Kannon, ‘n Groot Gees
wat jou kan wegblaas of op ‘n wolk plaas
so het ons gesels, sporadies in vlees
tot met my Huldiging vir oulaas
soos ‘n boom wat olifante verdwerg
lééf jy in saadskiet van elk goue gerf…
© Floris Brown. 2012
Monday, November 28th, 2011
Dit is enkele ure gelede bekend gemaak dat Phil du Plessis vroeër vanoggend in die Constantiaberg Hospitaal in Kaapstad oorlede is. Klaarblyklik het hy vir etlike maande in swak gesondheid verkeer. Die begrafnisreëlings word deur ConstantiaBerg Funeral Home hanteer en hulle kan gekontak word by (021) 671 2400. of 0836536536.
“Die landskappe om my resoneer met sekere dinge wat in my gedagtes en gevoelslewe aangaan en daar gaan ek. En andersom ook: as ek in ‘n situasie in my gevoelslewe verkeer, dan soek ek in die natuur om my, metafore wat dit reflekteer, dit maak dan die gedig.” (Phil du Plessis)
Lees by LitNet die skrywersalbum wat deur Erika Terblanche saamgestel was oor Phil du Plessis se lewe en werk.
***
 Omslag
Thursday, November 17th, 2011

Leserskring/RSG/BY stel ‘n bundel saam van die Gewildste Afrikaanse Gedigte – en jou stem tel!
Stuur jou lysie van 5 gepubliseerde gedigte (met die digtername) voor 31 Maart 2012 aan mygedigte@leserskring.com. Tien bydraers kan elk ‘n R1 000 losslaan*
*Bepalings en voorwaardes geld. Sien webwerf vir meer inligting.
Saturday, October 29th, 2011
Indien jy ‘n gepubliseerde skrywer, vertaler, resensent, akademikus, uitgewer of boekhandelaar is, mag onderstaande inligting van belang wees vir jou. Dit handel oor die ter stigte Afrikaanse Skrywersunie wat dit as oogmerk het om die belange van die Afrikaanse skrywer en verwante bedrywe te verteenwoordig.
Afrikaanse Skrywersunie
In opvolging van ‘n mandaat wat aan ons verskaf is deur ‘n vergadering van Afrikaanse skrywers tydens die Woordfees vroeër vanjaar op Stellenbosch, verneem ons graag langs hierdie weg van u of u as mede-skrywer daarin sou belang stel om lid te word van die Afrikaanse Skrywersunie. Ons onderneem om binne die volgende maande ‘n amptelike stigtingsbyeenkoms te belê. ‘n Aanduiding van u steun in hierdie stadium sal help om sake te bespoedig.
Die agtergrond vir die stigting van ‘n liggaam wat die belange van alle Afrikaanse skrywers sal dien, is die volgende:
- Kommerwekkende tendense op die gebied van media-wetgewing open die deur vir verdere sensuur en voorskrifte deur die staat oor wat ons mag en nie mag skryf nie. Dit is nodig dat ons ‘n verteenwoordigende liggaam tot stand bring wat dit kan teenstaan.
- Die onderwysowerhede het reeds ver gevorder met planne om self boeke vir die onderwys te publiseer. Dit kan meebring dat skrywers se literêre werke gemarginaliseer of volledig geïgnoreer kan word by die saamstel van publikasies vir die onderrig van Afrikaans op skool. Nie alleen sal dit die inkomste van skrywers raak nie, maar dit sal ook beheer oor oordrukregte moeiliker en selfs ontoepasbaar maak. Dit is nodig dat ‘n skrywersliggaam hierteen stemming maak, as waghond optree, die hand van uitgewers versterk, asook verseker dat ou ooreenkomste tussen skrywers en uitgewers oor vergoeding uit onderwys-bloemlesings steeds van krag bly.
Die volledige uiteensetting van die loodsingsplanne en oogmerke van die unie word uiteengesit in die dokument hieronder.
Indien u belang stel om die Afrikaanse Skrywersunie te ondersteun en deel te wees daarvan, moet u asseblief onderstaande inligting verskaf in ‘n e-pos wat u stuur na loods.asu@gmail.com
Kerneels Breytenbach 7 September 2011
(namens loodskomitee)
1. JA, ek stel belang om die Afrikaanse Skrywersunie te ondersteun en lid te word.
2. NAAM:
3. SKRYWERSNAAM (Indien anders as hierbo):
4. E-POSADRES:
5. POSADRES:
6. Besonderhede van publikasies (hoef nie volledig te wees nie):
7. Indien 6 hierbo nie van toepassing is nie, vermeld of u aktief is as vertaler, resensent, akademikus, uitgewer of boekhandelaar:
Inligtingstuk: Afrikaanse Skrywersunie
Loodskomitee:
- Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, Breyten Breytenbach, Kerneels Breytenbach, Willie Burger, Marga Collings, Willem Fransman, Amanda Lourens, Desmond Painter, Andries Visagie
- Sameroeper: Kerneels Breytenbach
Naam van die organisasie:
Die Afrikaanse Skrywersunie.
Doelstellings van die organisasie:
- Bevordering van die belange van die boek. Benewens skrywers word lesers, resensente, akademici en uitgewers dus ook betrek.
- Bedingingsmag aan skrywers. Die belange van die Afrikaanse skrywer moet só gehoor word dat laasgenoemde inspraak het by groter organisasies.
- Protes teen totalitarisme; behoud van alternatiewe denke en individualiteit.
- Internasionale skakeling.
- Teenstand teen marginalisering van Afrikaans, Afrikaanse skrywers en gehalte, spesifiek t.o.v. staatspublikasies, en veral op onderwysgebied.
- Solidariteit met die verdruktesen betrokkenheid by die wyer gemeenskap.
- Diversiteit.
- Oorkoming van die probleme van ras; die uitleef van nie-rassigheid in die praktyk.
- Onafhanklikheid van politieke partye en van monopolisme.
- Die stryd teen sensuur.
Aard van die organisasie:
- Inklusiewe liggaam, d.w.s. ‘n boekorganisasie.
- Fokus eerstens op Afrikaans en’n stem vir Afrikaanse skrywers. Die organisasie moet Afrikaanse skrywers verenig en namens hulle praat, maar skakeling na buite is belangrik.
- T.o.v. die vraag of dit ‘n unie, ‘n organisasie, ‘n vereniging, ‘n gilde of ‘n vakbond moet wees: Tydens die vergadering is bespreek sowel die kwessie van regsimplikasies van ‘n vakbond as die vraag of ‘n skrywersorganisasie oor verteenwoordigende mag beskik.
- Morele of simboliese mag moet nie uit die oog verloor word nie, en die organisasie moet hierop bou.
- ‘n Onafhanklike organisasie, sonder enige partye aan wie verantwoording gedoen moet word.
Lidmaatskap:
- Almal wat professioneel doenig is met die skryf, vertaal, resenseer, analiseer, uitgee en verkoop van boeke. D.w.s. skrywers, vertalers, resensente, akademici, uitgewers, boekhandelaars en so meer. Leserskringe behoort geaffilieerde lidmaatskap te geniet.
- Lidmaatskapsgelde sal gehef word.
Thursday, October 20th, 2011
Die uitstalling Digkyk/Eye Poetry, wat deel was van die Melville Poetry Festival die naweek, duur nog tot 30 Oktober in die “Wopko Jensma”-winkel in Sewende Straat, Melville (reg langs DVDGurus, tussen 3de en 4de Laan). Soos Jensma se werk, gaan Hans Pienaar se fotogedigte en Charl-Pierre Naude (Jan Kolonie Hoenderdief) se metafoorposse oor die integrering van teks en beeld.
As ‘n mens die tyd afstaan om ‘n goeie foto te “lees”, sien jy nuwe dinge wat nie met die eerste oogopslag altyd waarneembaar is nie. Hoewel dit op die oog af lyk of foto’s en gedigte nie by mekaar hoort nie, wys Pienaar se fotogedigte hoe die lesing van ‘n foto aangehelp en verruim word deur ‘n gedig met die lesing te integreer.
Pienaar het self die foto’s geneem op reise die wêreld deur as joernalis, van Melville se agterplase tot Timboektoe en Tromso, die mees noordelike stad. Die gedigte het ontstaan uit die kursoriese notas by die foto’s.
Naude is al geruime tyd besig met sy “metafoorposse” en het van hulle tydens verskeie kunstefeeste versprei. Hy werk met epigrammatiese sinsnedes en/of enkele woorde, waarby hy sy eie kleurvolle tekeninge gemaak het.
Wednesday, October 12th, 2011
Hallo versindaba,
Kom asb na die Melville Poetry Festival. Die Afrikaanse digters wat gaan deelneem sluit in Loftus Marais, Toast Coetzer, Charl-Pierre Naude, Andries Bezuidenhout, Hans Pienaar, Johann Lodewyk Marais en Rene Bohnen.
Daar’s ‘n konsert met Andries, Riku Latti en Les Javan en ander bands die aand. Uitstallings sluit in Digkyk/Eyepoems deur Hans Pienaar en Charl-Piere Naude (fotogedigte en metafoorposse) en nuwe werke deur Elza Botha (Miles).
Ook ‘n paneelbespreking oor Wopko Jensma, met Leti Kleyn, Johann L Marais en Michael Gardiner.
Engelse digters sluit in name soos Robert Berold, Kobus Moolman, Arja Salafranca, Koreopatse Kgositsile ens.
Dis alles op 15 Oktober, in Sewende Straat.
Sien julle daar!
Tuesday, September 27th, 2011
LitNet: Fotoverslag - Versindaba 2011

“Die groot opkoms en algemene entoesiasme oor die digkuns wat by hierdie jaar se Versindaba te bespeur was, asook die hoë kwaliteit van die gedigte wat voorgelees is en die bundels wat bekroon is, is beslis aanduidings dat dit goed gaan met die Afrikaanse digkuns, en dat die doemprofete vir eers kan gaan vakansie hou in Mauritius.”
Lees en kyk na Bibi Slippers se verslag van die pasafgelope Versindaba op LitNet.
Sunday, September 25th, 2011
Die Versindaba se Digtersgala het vanjaar plaasgevind in De Kelder, by die Lanzarac Hotel.
Bo: Caro Wiese (borg) & Melt Myburgh van Woordfees US (organiseerder van die Versindaba 2011)
 Nicol Stassen, (Protea Boekhuis) in gesprek met Melt Myburgh
 Digters André Trantraal en Bibi Slippers (van LitNet)
 Digter Martjie Bosman saam met Marina le Roux
 Daniel Hugo, Bernard Odendaal & Louis Esterhuizen
 Prof Louise Viljoen van die dept. Afrikaans by US
 Gaste buite De Kelder van die Lanzarac Hotel.
 Christel Foord van Protea Boekhuis & Ilse Volschenk van NB Uitgdwers.
 Marlise Joubert
 Cas Vos
 Digters Alfred Schaffer en Zandra Bezuidenhout
 Melt Myburg ontvang die Ingrid Jonker-prys (2011) vir sy debuutwerk, Oewerbestaan. Caro Wiese oorhandig die prys. Agter staan Bernard Odendaal, een van die beoordelaars.
 Louis Esterhuizen ontvang die Protea poësieprys vir 2011 van Caro Wiese vir sy digbundel "wat die water onthou". Agter staan Nicol Stassen wat hierdie prys 5 jaar gelede ingestel het.
 Louis Esterhuizen bedank Protea Boekhuis vir die poësieprys aan hom toegeken.
 Johann Lodewyk Marais lees sy gedigte voor
 Bernard Odendaal gee sy voorlesing van gedigte
 Pieter Odendaal kry hom reg vir "Verras" se oop mikrofoon
 Loit Sôls steel die harte met sy songs
Saturday, September 24th, 2011

Tydens die 7de jaarlikse Versindaba wat op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch gehou word, is die Proteaprys vir Poësie vir die beste Afrikaanse digbundel van 2010 op Saterdagaand 24 September 2011 by die Lanzarac Hotel, vir die sewende keer oorhandig. Die wenner is vanjaar Louis Esterhuizen vir sy bundel wat die water onthou.
Baie geluk, Louis!
COMMENDATIO (opgestel deur prof. Henning Pieterse):
Water, as oerbron, as heilige en geduldige element, is die sentrale beeld in hierdie bundel. Tematies word hierdie simbool en metafoor - met betrekking tot binding, ontkieming, begin, einde, lewe en dood, kuns, geheue en liefde - regdeur in fyn afgewerkte, liriese verse ontgin, onder meer by wyse van talle see- en rivierbeelde en metafiksionele “akwarelle”. Kaplinski se woorde “No self. Water again water” en reëls uit Van Ostaijen se “Melopee” word vernuftig verwerk in gedig na gedig. Telkens word verskeie fasette van water ingespan in verse oor jeugherinneringe en dan, veral, die liefde. wat die water onthou is ‘n hoogtepunt in Louis Esterhuizen se oeuvre en ‘n waardige wenner van die Proteaprys vir Poësie.
DIE PROTEAPRYS VIR POËSIE
- Die prys word elke jaar toegeken vir die beste Afrikaanse digbundel wat by enige uitgewer gedurende die vorige jaar verskyn het.
- Alle gepubliseerde digbundels gedurende die vorige jaar tot en met Januarie van die jaar waarin die prys toegeken word, verskyn het, kom outomaties in aanmerking.
- ‘n Bundel word dus eenmalig oorweeg vir die prys.
- Bloemlesings, versamelde werke, vertaalde werke en herdrukke kom nie in aanmerking nie.
- Dieselfde digter mag die prys meer as een keer (vir verskillende bundels) ontvang.
- Die beoordelaarspaneel bestaan uit drie lede wat deur Protea Boekhuis aangewys word. Vanjaar was dit Charl-Pierre Naudé, Marlies Taljard en Henning Pieterse.
- Die prys bedra R10 000 en ‘n geraamde protea.
Die volgende bundels was vanjaar onder die aanspraakmakers op die prys: Johan Lodewyk Marais met Diorama en Melt Myburgh met oewerbestaan. Myburgh het tydens die Versindaba wel die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel ontvang.
Die Proteaprys is voorheen aan Charl-Pierre Naudé (2005), Gilbert Gibson (2006), Antjie Krog (2007), Loftus Marais (2009) en Breyten Breytenbach (2008 en 2010) toegeken.
Lees die onderhoud wat Andries Visagie met Louis Esterhuizen gevoer het
oor sy digbundel wat die water onthou.
Volg ook die digstring van een van die gedigte uit die bundel.
 wat die water onthou
Saturday, September 10th, 2011
Die ATKV se tweede Woordveertjie vir Poësie word vanjaar toegeken aan die digter Tom Gouws vir sy digbundel Ligloop. Verlede jaar se wenner was Gilbert Gibson.
Dié prestige geleentheid vir die ontvangers van Woordveertjies in 2011 het by Nooitgedacht op 9 September, net buite Stellenbosch, plaasgevind.
Veels geluk, Tom!
 Tom Gouws en gade by die toekennings-aand. Foto: Book SA
 Omslag
“Met hierdie vierde bundel van hom in 20 jaar versterk Tom Gouws sy aansien as Afrikaanse digter van die Christelike, selfs Christelik-mistieke lewens- en werklikheidservaring. Dié belewing is sterk intellektueel getint, en literêr bewus - en herinner vandaar in bepaalde opsigte, soos al deur heelparty kritici uitgewys is, aan dié van ‘n T.T. Cloete in Afrikaans. “ Lees verder aan Bernard Odendaal se resensie oor Ligloop op hierdie webblad. Daar is ook ‘n interessante onderhoud wat met Tom Gouws gevoer is.
advent
“She said to me: ‘What an instrument your body!
Single and perfectly distinct from everything else!
What a tool in the hands of the Lord!
Only God could have brought it to its shape!”
-D.H. Lawrence
2 Kor. 4:16
sy kyk stip na die troufoto teen die muur,
dan stip na hom waar hy stol as naakfiguur,
die los buiteflappe van sy vleestent weggeskuif.
“my bruidegom het nou ‘n middeljarige se lyf,”
sê sy hartseer bruid gedemp. met dowwe oë kyk
hy onwillekeurig na die spieël wat vaagweg lyk
soos hy, skaamherken die indertydse bruidegom,
maar veel, véél is anders nou aan hom:
die eens welige swart boskaas is nou asgrys yl;
die tande afgevyl deur tyd; die lyf wat soepel geil
en passievol kon buig, is seer en stadig, ‘n ou kolos
met wit deeg aan die flanke; uit ‘n woeste klos
snorbaard loer ‘n moeë leeu se droë snoet;
vel verlep tot ou skil, mangogeel-en-swart gesproet.
sy kyk stip na die bruidegom se gerinneweerde tent.
met dieper oë probeer sy sin sien in dié patent
van weerloosheid. diep binne eien sy dit wat latent
gloei, ‘n sagte lig wat dié ou lap sonder fondamente
openbaar: ‘n staning vol goud en edelsteen, talente
silwer, spesery … die lyf word ‘n sakrament
- beleë wyn en uitgespaarde brood - ‘n testament
sonder sediment. sy kyk stip na dié spotprent
van die Bruidegom en hoe óngesiens Hy Hom inent.
© Tom Gouws (Uit: Ligloop, 2010: Human & Rousseau)
Monday, August 22nd, 2011

bied aan
Versindaba
Roer die snare!
23 en 24 September 2011
Ouditorium, J.S. Gericke-biblioteek | Ou Hoofgebou | De Kelder, Lanzerac
Toegang: R30 per sessie, tensy anders aangedui.
Spesiale dagkaart (alle sessies): R120.
Kaartjies: Woordfeeskantoor (kamer 615, Lettere-gebou, US-kampus), Protea Boekwinkel, Stellenbosch, of by deur. Telefoniese besprekings: 021-808 3513.
Vrydag 23 September
D.J. OPPERMAN-GEDENKLESING
God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D.J. Opperman - Lina Spies
Aangebied deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch
 Lina Spies
In die 13de D.J. Opperman-gedenklesing verken prof. Lina Spies die godsdienstige inslag in die poësie van haar mentor en leermeester, met ‘n interessante visie gegrond op haar eie geloofsbeskouing. Die lesing word aangevul met boeiende digitale beelde verskaf deur die US se Dokumentesentrum. Geniet ‘n glasie wyn en ligte verversings agterna saam met die spreker.
19:00 vir 19:30 ● Ouditorium, J.S. Gericke-biblioteek ● Gratis
Saterdag 24 September 2011
ʼn Laaste gedagte tussen ons … Briewe van die Louw-broers
Met John Kannemeyer, Suzanne Bezuidenhout, Shané Kleyn, Catrina Aldrich en Marelize Ferreira.
 NP van Wyk Louw
In hierdie interessante gesprek lig J.C. Kannemeyer en van sy medewerkers die sluier oor die fassinerende gegewens in die korrespondensie tussen die digter-broers W.E.G. en N.P. van Wyk Louw in die periode na 1940, tot en met Van Wyk Louw se dood in 1970. Sensitiewe snare word geroer wanneer die broers in konfrontasie tree oor Van Wyk se veelbesproke verhouding met Sheila Cussons en onderlinge gevegte in die destydse literêre gemeenskap.
09:00 - 09:45 ● Ou Hoofgebou ● R30
Dana Mouton-gedenklesing: Marthinus Nijhoff se “Impasse”
Ronel Foster
 Ronel Foster
Ideaal vir die ernstige poësie-liefhebber: prof. Ronel Foster werp ‘n boeiende blik op ouer en jonger literatore en digters in Suid-Afrika en Nederland, soos T.T. Cloete, Merwe Scholtz, K. Michel en Alfred Schaffer, se uiteenlopende reaksies op Nijhoff se bekende gedig “Impasse”.
10:00 - 10:45 ● Ou Hoofgebou ● R30
WOW Woelige werkswinkels
Ondersteun deur die ATKV
Die toekoms van die poësie lê klinkend in die mond van die jeug. Die Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek bied ʼn opwindende werkswinkel aan waar laerskoolleerders van omliggende skole leer om verse te skryf, dit voor te dra en in lirieke om te sit.
10:00 - 13:00 ● Ou Hoofgebou ● Gratis vir genooide leerders
WOW Verf- en Vers-werkswinkel
Ondersteun deur die ATKV
By die prettige Verf- en Vers-werkswinkel word graad 1 tot 5-leerders se sluise van kreatiwiteit oopgetrek wanneer hulle gedigte en verfwerk kombineer om woordkunswerke te skep. Geheime word gedeel oor hoe om jou eie verf te maak waarin jy jou vingers kan doop om aan jou woorde vlerke te gee op papier. Wenners van die WOW-projek se Verf- en Vers-kompetisie word in 2012 by die Woordfees se WOORDtroFEES bekend gemaak.
10:00 - 13:00 ● Ou Hoofgebou ● Gratis vir genooide leerders
Floris Brown, die Worcester-troebadoer
Aangebied deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans
 Floris Brown
As digter pluk Floris Brown se poësie aan die hartsnare van heelwat poësieliefhebbers in Suid-Afrika en in Nederland. Charles Beukes en Michael le Cordeur salueer dié woordkunstenaar se lewe en loopbaan, waarna Brown self repliek lewer.
11:00 - 11:45 ● Ou Hoofgebou ● R30
Adam Small se kitaar en kruis
In samewerking met RSG, met Iris Bester
 Adam Small
Byna twintig Afrikaanse digters bring hulde aan Adam Small met verse wat hulle spesiaal geskryf het vir dié geleentheid. Iris Bester verwelkom Lina Spies, Zandra Bezuidenhout, Johann Lodewyk Marais, Floris Brown, Martjie Bosman, Willem Fransman Jnr., Toast Coetzer, Andre Trantraal, Bibi Slippers, Marius Absalom, Pieter Odendaal, Izak de Vries, Elsibe Loubser, Anneleigh Jacobsen en Cas Vos. Gedigte van Joan Hambidge, Johan Myburg, Loit Sôls, Tom Gouws, Marius Swart, Diana Ferrus, Hein Viljoen en Fanie Olivier word ook voorgelees en ʼn keur uit Small se werk bekend gestel.
12:00 - 13:30 ● Ou Hoofgebou ● R30
Chris Chameleon aan die woord
Ondersteun deur Rapport Onderwysfonds (ROF)
Na die wegholsukses van Ek herhaal jou, spog Chris Chameleon met ‘n splinternuwe album, met nog toonsettings van Ingrid Jonker se verse. Louise Viljoen gesels met een van Afrikaans se trotse uitvoerprodukte oor As jy weer skryf. Die CD is ook by Versindaba te koop.
Rapport Onderwysfonds verleen finansiële hulp aan Afrikaanssprekende onderwysstudente deur middel van leningsbeurse. Kontak 073 122 8800 as jy ʼn verskil wil help maak.
14:00 - 14:45 ● Ou Hoofgebou ● R30
Musiek vir die ore!
Nasionale boekeredakteur Elmari Rautenbach stel digters bekend wat pas hul buiging in Afrikaans gemaak het. Sy verwelkom debutante Fourie Botha (Donkerkamer), Jasper van Zyl (Die lewe tussen pikkewyne), Anne-Ghrett Erasmus (Die lekkerste perske is ʼn vy), Andries Samuel (Wanpraktyk) en Nini Bennett (kodeks). Kom moedig die varsste digterstalent aan op hul opwindende nuwe pad.
15:00 - 15:45 ● Ou Hoofgebou ● R30
SLiP slaan toe!
Aangebied deur die nuwe Stellenbosch Literêre Projek
 Khanyisile Mbongwa
Die maandelikse InZync-poësiesessies in Kayamandi wys iets broei in die Boland: ‘n nuwe drif, ‘n ruwe poëtiese energie. Nou kan jy ook kom luister hoe praat podiumdigters uit die Kaapse townships en Stellenbosch-omgewing jou ore aan die brand. Adrian Different, Khanyisile Mbongwa, Pieter Odendaal en Mambesi Goje deel die verhoog in hierdie veeltalige, genre-oorskrydende vertoning.
16:00 - 16:45 ● Ou Hoofgebou ● R30
Digtersgala

Politika-Uitgewers nooi u uit na ʼn hoogtepunt op die jaarlikse poësie-kalender. ‘n Spoggeleentheid waar Lina Spies, Martjie Bosman, Marlise Joubert, Cas Vos, Bernard Odendaal, Johann Lodewyk Marais en Alfred Schaffer hulle gedigte kom lees. Luister ook hoe Joanie Combrinck en Marlo Minnaar verse van T.T. Cloete, Breyten Breytenbach, M.M. Walters, Hennie Aucamp, Joan Hambidge, Mari Grobler, Louis Jansen van Vuuren en Johann de Lange tot klank bring. Valiant Swart, wie se Toorwoorde roep my groot opslae maak, sorg vir die kombinasie van musiek en woord. Kom kyk ook wie ontvang die Ingrid Jonker- en Protea Poësiepryse.
18:30 vir 19:00 - 21:00 ● De Kelder, Lanzerac Hotel ● R50. Heerlike verversings ingesluit.
Verras!
 Pieter Odendaal
By hierdie gewilde oop mikrofoon-geleentheid stel jong opkomende digters hul talente ten toon, met Pieter Odendaal (self ʼn inspirerende nuwe digter) as sjarmante gasheer. Ongepubliseerde digters wat wil deelneem, kan voor 20 September ʼn e-pos stuur aan woord@sun.ac.za.
21:00 - 22:30 ● De Kelder, Lanzerac Hotel ● Gratis
Ons groot dank en waardering aan die volgende donateurs wat Versindaba moontlik maak:
Naas Steenkamp
John Daneel
Caro Wiese
Politika-Uitgewers
Naspers
SBA
Rapport ROF
ATKV
Lapa
Protea Boekhuis
RSG
Departement Afrikaans en Nederlands
Universiteit Stellenbosch
Distell
WOW-projek
Lourensford-wyne
Wednesday, August 17th, 2011
Beste Daniel
Dit was ‘n aangename verrassing om jou blog en die gedig (wat ek nie geken het nie) vanoggend op Versindaba te lees. Salf aan ou rowe. Dankie!
En dit het allerlei herinneringe weer wakker gemaak. In jou gedig verwys jy daarna dat jy my gevra het of daar destyds met die manuskrip van Voetskrif gepeuter is en dat ek jou vertel het dat die gedig “Help” uitgelaat moes word. Absurd, maar dis wat gebeur het. Verder het die bundel redelik ongeskonde anderkant uitgekom, behalwe dat dit natuurlik geskryf is onder die swaard van die wete dat Veiligheidsoë alles deeglik sou fynkam en interpreteer. ‘n Vreemde en donker kolk was dit alles - wat hulle daarmee wou bereik deur die publiksie te laat deurgaan; die ‘onderhandelinge’ wat daar seker was tussen Bartho Smit en die Gryskak; my eie verorberende behoefte om te kon kommunikeer met ‘buite’, om te sein dat ek nog leef, maar ook duidelikheid te kry en so helder moontlik te praat sonder om buite die spore van die toelaatbare te trap (nie ‘n slegte dissipline nie!); Bartho-hulle se geesteswroeginge sekerlik - hoe om nie gebruik te word deur die staat nie (en die staat was beman deur jou eie mense) en tog te sorg dat die man se goed verskyn. Ek is jammer dat ek nooit die kans gehad het om later van jare vir Bartho dankie te sê nie.
Hoekom het Kalfie Broodryk aangedring daarop dat die bundel aan hom opgedra word? Dit was ‘n opdrag van sy kant, nie ‘n versoek nie. Ydelheid, gewis. In opdrag van sy base of/en ‘n manier om die boek in die lewe te help? ‘n Manier om bekommerdes buite vet om die oë smeer? (Kyk, ons het die mak digter. Hy word goed opgepas en na omgesien, Hy kan selfs skryf en publiseer!) En onder die bekommerdes daar buite was daar mense met invloed: Olof Palme, bv., maar nog interessanter ook Leopold Senghor. Senghor, self digter maar ook president van Senegal was, net soos Houphouet-Boigny die Ivoorkus president, sleutelfigure in SA se berugte “détente” politiek in terme waarvan die isolasie van SA in Afrika omseil sou word. (Hulle had natuurlik ook ander gedeelde belange: ekonomie, wapenverkope, geldwassery, waarskynlik die gebruikmaak toe reeds van huursoldate.) Baie jare daarna, een winderige oggend op Gorée het Senghor se destydse Direkteur van die Presidensie, later ook Eerste Minister, my vertel hoe Senghor sy kabinet byeengeroep het en opdrag gegee het hulle moet in alle diskresie vir my in die bresse tree by Sitting Bull Vorster. Geen antwoord gekry nie. Weer geskryf en oplaas van die Ministerie van Buitelandse Sake ‘n mededeling gekry - was dit van Pik Botha? - met die versekering dat hulle my nie sou doodmaak nie. Tot sy eer moet gesê word dat Senghor nooit melding gemaak het van die insident nie. Van dit alles was ek salig onbewus.
Hierdie ‘vergunning’ om te skryf het gou soos mis voor Poestoria se son verdamp. Eers ná die tweede verhoor - ek dink dit was in 1977 of ‘78 - waartydens Ernie Wentzel en Johann Kriegler (my onwaarskynlike beskermengele) indringend gewag gemaak het van die omstandighede en buitensporige beperkings van my gevangeneskap - was ek weer toegelaat om te skryf met ‘n aantal belaglike voorwaardes. Toe ‘n Seisoen in die Paradys in Engels verskyn het, het die advokate ‘n vergunning kon beding dat ek kennis mog neem van die boek. Ek moes in ‘n gang sit onder bewaking van ‘n Boer (’n bewaarder) wat moes toesien dat ek deur die boek blaai maar nie léés nie. Dit moes binne ‘n halfuur geskied. Hulle wou nie hê dat ek blootgestel word aan gevaarlike en ondermynende materiaal nie! Inderdaad, allerlei passasies was in rooi onderstreep.
Die skildery wat as afbeelding op die omslag van Voetskrif gebruik is, het ook ‘n storie. Tydens die maande van interrogasie en verhoorafwagting was die destydse BOSS aanwesig. Een van hulle was ‘n offisier wat glo ook ‘n pos aan die Universiteit van Pretoria beklee het. (Deel van die Afrikaners se Groot Vergeet - en nou Rasende Gebelgdheid - is hoe diep en ver die vrot van informante en agente en operateurs en knoeiers en sluipmoordenaars en Walter Mitties gestrek het. So was daar seker byna geen buitelandse korrespondent wat nie ook ‘n spioen was nie.) Hierdie BOSS-meneer was ‘n beskaafde kêrel met ‘n dogter wat belang gestel het in die skone kunste. Hy het toe gereël dat skildermateriaal by Beverly Hills ingesmokkel word sonder dat die Veiligheidspolisie daarvan weet, want hulle het nie ooghare vir mekaar gehad nie en dit sou onwettig wees, en ek sou drie skilderye maak: een vir hom, een vir my vrou, een vir my broer. Hy sou die werke met die hulp van die Seksieboer, sersant Arselow, weer uitsmokkel en sorg dat die twee wat nie syne is nie aan my broer besorg word. So gesê, so gedaan, maar omdat hy ‘n skelm was - waar sou ‘n spioen tog enige eerbaarheid vandaan kry? - het hy probeer om al drie te hou. En toe ek, ook maar onderduims, later verneem dat die werke nie hulle bestemming bereik het nie, het ek gedreig om hom by die Veiligheidspolisie te verkla. Die werk op die omslag is in sy besit (hulle het ook gehou van trofieë: in Broodryk se huis was daar o.a. foto’s van hoe hy een van dié was wat vir Bram Fischer in hegtenis geneem het) en my broer het ‘n foto daarvan kon neem. Die tweede werk het met ‘n ompad veel later wel by my vrou uitgekom. Die derde het ek baie jare daarna kon terugkry nadat dit op een van Stephan Weltz se veilings deur Sanlam aangekoop is. Dis ‘n ander onplesierige storie.
Punt is dat daardie werk die “help”-gedig bevat. Ek heg ‘n baie onduidelike foto’tjie hierby aan.
En oom Koot. So by my Koot! Kragtige broers, die Vorsters. En hoe is hulle nie na die mond gepraat deur van ons voorste skeppende intellektuele nie. Ek het in gedagte ‘n studie deur een van ons heel vroomste nasionale digters wat ‘n geleerde studie gemaak het vir die Veiligheidspolisie oor hoe ondermynend kommunisties André Brink en ek sou wees. Dit was natuurlik ‘vertroulik’. Vir André se kommunisme sal ek nou nie my hand in die vuur steek nie, want ek het maar net twee; my eie kommunistigheid het my al die jare bygebly soos ‘n lastige hoesie, en dit word net erger. Aan iets moet mens tog seker doodgaan? Ek probeer dit darem meesal agter die hand wegsteek.
Ek het nogal bewondering gehad vir die ou stormjaer vuurvreter Koot. Hy was ten minste pens en kootjies in sy eie kruistog. Goeie politieke dominee, al was hy seker meer blaas as koerasie. ‘n Goeie ding was dat hy en sy mede-vleespotoppassers hulle darem aan ons skrywertjies gesteur het (my pa het my vertel hoe daar van die preekstoel af teen die Sestigers gepreek is en toe hy dit agterkom - want hy het dwarsdeur die preek in die ouderlingbank sit en slaap - het hy summier uit die kerkraad bedank) - maar vandag? Dink jy die vreters aan bewind vat enige skrywer kop toe?
Nie dat ons so belangrik was nie. Ek sekerlik nié鮠 Maar hulle moes probeer om die geestelike en politieke hegemonie in stand te hou. Vandag sny die base net die beswaarmakers uit eie geledere se ligte en water af.
Nogmaals dankie. Ek hoop nie ek was te veel van ‘n verderflike invloed nie!
Groete,
Breyten

Wednesday, August 17th, 2011
Nooit weer oorlog maak nie
Soveel slanke meisies ontblaar
Soos jong boompies. Ek gaan by almal verby
Al staan hulle sy aan sy,
Met glansende hoofde bymekaar.
Wat kan die gode my nou nog skeel,
en in my dorpie die rooi aandgloed?
Ek het ʼn honderd wonde en niks kan hulle
genees nie.
Ek het die dood gesien, so dikwels en so groot.
Die oë van kinders is soos goue reën.
Versigtig dra hulle die bekers wyn.
Ek wil gaan lê en slaap langs die grootpad
en nooit weer oorlog maak nie.
Hierdie gedig was in die negende eeu in Sjina geskryf en ons weet presies hoe hierdie man gevoel het. Poësie verwoord die onbeskryfbare dinge van die lewe. So het Wilfred Owen se oorlogsgedigte sekerlik vir baie soldate ʼn mate van emosionele ontlading en gemoedsrus gebring, deur die trefkrag van die woord. Hierdie trefkrag is nou nog meer nodig as ooit.
Elke week probeer gemiddeld vyf VSA soldate, wat in Irak en Afghanistan veg, om selfmoord te pleeg. In 2010 het 301 Amerikaanse soldate suksesvol selfmoord gepleeg. Om uit ʼn gevegseenheid terug te keer na ʼn gewone huishouding is baie moeilik. Die weermag het verskeie metodes gebruik om die soldate te help; terapie, akupunktuur, fietsry, videospeletjies, troetel diere ens., sonder sukses.
In die VSA het teater regisseur, Bryan Doerries, besef dat soveel van die geweld van die terugkerende soldate wat in die koerante gerapporteer word, soos iets uit ʼn Sophokles toneelstuk klink van 2,500 jaar gelede. Miskien het Sophokles iets te sê wat hierdie soldate kon help. Sy teatergroep het vir 400 terugkerende soldate en hulle families uitgenooi om ʼn voorlesing van die stuk Ajax, van Sophokles by te woon. Ajax is ʼn soldaat wat in ʼn persoonlike hel neerdaal na ʼn oorlog waar hy deur ʼn offisier verneder was en hom wou doodmaak. Op die ou einde het Ajax selfmoord gepleeg.
Die stuk is aangrypend en uitmergelend, maar binne 3 minute was al die soldate volkome betrek by die stuk en het almal hulle selfone en Black Berries afgeskakel. Na die voorlesing sou daar ʼn bespreking van 45 minute wees, oor die effek van die stuk. Hulle het vir 3 ure lank gepraat. Toe die soldate gevra was, wie ken soldate wat selfmoord gepleeg het, het al 400 hulle hande opgesteek. Een trotse vrou wie se man en seun verskeie kere in Irak en Afghanistan geveg het, het toe opgestaan en vertel dat wanneer hulle terug kom van die oorlog sleep hulle onsigbare dooies saam huis toe en die huis word ʼn slagveld.
Sophokles het sy stukke geskryf in ʼn kode wat ons as burgerlikes nie volledig verstaan nie, maar dit spreek direk tot hierdie soldate wat soveel geweld eerstehands leer ken het. Na die voorlesing het een soldaat gesê hy voel asof hy weer vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd, kan asemhaal. ʼn Ander het gesê dat hy baie beter gevoel het toe hy besef het dat sy pyn al 2500 jaar gelede deur soldate beleef was.
Hierdie teatergroep, Theatre of War, werk nou pal om terugkerende soldate te help integreer. Hulle gebruik professionele akteurs. Die Pentagon het die teatergroep nou op lang termyn aangestel, om voorlesings te doen vir terugkerende soldate. Meer as 350,000 soldate en hulle families het die opvoerings al bygewoon.
In antieke Griekse dramas het die gehoor ʼn katarsis of ontlading beleef. Selfs nou 2,500 jaar later is hierdie Griekse dramas steeds helend. So ook die gedigte reeds gemeld. Dit is iets wat net digters, dramaturge en skrywers kan regkry. Om ʼn katarsis deur die woord te skep.
Data uit Pleidooi vir die Poësie van Eddie van der Vliet, en Theatre of War uit die Sunday Times van 6 Oktober 2010.
|
|