Digstring
Monday, October 8th, 2012

Josef
Wassit nou te veel gevra
om te die vrou wat jy het,
ennie kjind wat sy in ha dra,
te hou, Josef, klong yt Nasaret?
Toe jy stilletjies beslyt
om hierielike vrou te los,
het jy altemit begryp
wat hóm dood kan kos?
En toe ‘n ingel aan jou veskyn
en sê Maria moet by jou bly,
het jy toe gedink hoelike pyn
en venedering hý sou ly?
Josef, seun van Dawid, vegjeet
die spanriem van jou se vrees:
wat in háár is, en aan jou vreet,
kom net so vannie Heilage Gees.
Da sal ‘n kjind yt Maria ytkom!
Wat ek jou beveel, moet jy doen,
want hý sallie hele mensedom
met hille se sondes kom vesoen.
Toe jy wakker skrik oppie bed,
en laterder byrie krip loop staan
en jy hóm Jesus doop, het
jy die boodskap tóé vestaan?
(c) Hans du Plessis (Uit: Karos orie dyne, 2012: Lapa Uitgewers)
***
Hans, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ongeveer 2007. Dit is deel van die afdeling oor Kersfees in die bundel, en Elisabeth Eybers se Maria bly vir my een van die mooiste gedigte in Afrikaans en ek het lankal gedink ‘n mens sou dieselfde gegewe kon gebruik vanuit Josef se perspektief.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Vele pogings.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Omdat dit ‘n soort parodie is, is dit gegee, maar die herdigting daarvan was nogtans wroeging en sweet.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die oorspronklike gedig was my model.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Nee, ek doen dit nooit met poësie nie, wel as ek prosa skryf. Moet my net nie vra hoekom nie, want ek het dit voor jou vraag nooit besef nie.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Aanvanklik gou in die klein bundeltjie Kalaharikrismis.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Moeilik om te sê, omdat dit op Eybers reageer en die Bybelse gegewe betrek.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Oor Josef se gewaarwording van en “onkunde” oor die geboorte van Jesus.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Inderdaad: Eybers se Maria en die Bybelse verhaal.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nee.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dit is deel van die sg. Griekwagedigte en stem daarmee ooreen, maar my ander gedigte is meesal natuurgedigte.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Die dialek en Eybers, ja.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Weer eens: die Eybers-Maria het my gelei.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ja.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Ek onthou niks meer van die inhoud nie, maar dit was ‘n gedig wat ek in Hennenman geskryf het toe ek vir die vakansie op ‘n saaiplaas gewerk het en die mielietjies al aan die doodbrand was toe die reën skielik in die nag op die sinkdak val. Dalk maar goed ek kan niks verder daarvan onthou nie …
***
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
 Omslag
Tuesday, May 29th, 2012

Brief aan Ebba
nou is hierdie is my laaste faks aan jou
voor my foon afgesny word
en my verkoopte huis
agterbly
met arms vol bosveldbome
en die blou asem van ʼn wolklose dam
ek het alreeds ons wildepou
agtergelaat
ek het hadedas en kwêvoëls versaak
blousysies wat op bakke saad leer vertrou het
sal vergeefs opdaag
en rooibiskoppies sal die lente inwy
sonder my
ek het
my rug gekeer
op visvangers en vleiloeries
in my kar geklim waar olyflysters wei
weggery
van tiptolle en kraalogies
wat al mak was vir my
begin bestuur in die rigting
van ʼn vreemde adres
anderkant die krokodilrivier
met een laaste terugkyk was daar ʼn
stilte
op die waterkant
en oopgespreide vlerke van ʼn rietkormorant
© René Bohnen (Uit : In die niks alom, 2011 : Lapa Uitgewers)
Wanneer het jy dié gedig geskryf, René? Hoe het dit ontstaan?
In die winter van 2002 het ek met baie kort kennisgewing verhuis, alles was vreeslik deurmekaar en die vragte admin rondom die trek het my bietjie oorweldig. Fakse was toe nog vir baie mense die voorkeur vir kommunikasie, bo die internet en ek het die gedig in ʼn sakboekie geskryf terwyl ek op die mat in die leë huis gesit en wag het vir iemand om sleutels by my te kom haal.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Hierdie gedig is vinnig afgerond.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Díe gedig was ʼn geskenk. Dit is in een lang asemteug geskryf. Twee of drie woorde is verander en een of twee herhalings is uitgehaal. Strofe-indeling en reëlbreuke is al waarmee ek eintlik rondgespeel het, maar uiteindelik verskil die finale weergawe van die gedig baie min van die oorspronklike “draft”.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Hierdie vers was eintlik bewussynstroom wat ek bloot toegelaat het. Ek kan wel die innerlike gewaarwording onthou toe die eerste voël in die vers verskyn en ek besef het ek moet maar net die deur oopmaak sodat die voëls in die reëls kan kom sit net waar hulle wil. Ek het dus meer dopgehou as georden terwyl die gedig gebeur.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek het die gedig aan ʼn vriendin gefaks en daaruit is die titel gebore. My mede-studente het ook kommentaar gelewer. Ek skryf gewoonlik eers klaar voordat ek verse wys en kommentaar vra.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Tien jaar het verloop voordat die vers opgeneem is in my tweede bundel, in die niks al om. Ek het die vers al verskeie kere voorgelees by poësiegeleenthede en kunstefeeste.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die vers lyk vir my heeltemal feitelik te wees, alhoewel ietwat geteleskopeer. Die laaste strofe is ʼn verbeelde oomblik, ek het die rietkormorant soveel kere vantevore gesien en ek het die emosionele lading daarvan net verplaas na die “laaste terugkyk”. Die impak van hierdie verbeelde oomblik is egter so sterk dat dit vir my werklik voel en ek dit as ʼn feit ervaar. Boonop het ek al dikwels die gewaarwording gehad dat tyd stilstaan terwyl ek die kormorant dophou; dat dit die laaste oomblik van my aardse bestaan is en dat die oomblik vir ewig aanhou.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die spreker beeld haarself uit as die verraaier van voëls en as mislukte versorger. Sy is vasgevang in die “vryheid” van gedwonge verhuising. Gevoelens van verlies word aan die voëls toegeskryf en die leser verstaan dat dit projeksie van die ek-spreker is. Dit is vir my interessant dat die onbewuste soveel ordening kan toepas wat die digter agterna bloot hoef te ontleed. Ek sien die voëls in hierdie vers as dubbelsinnige simbole van vryheid. Dit tree in gesprek met die geykte aanname dat vlerke vryheid verteenwoordig en dat voëls kan trek.
Uiteindelik is daar vir my net een wat nie vasgevang is in die bevrore oomblik nie en dit is die Ebba wat klaarblyklik die brief (en by implikasie die gedig) lees. Hierdie gedagte sluit aan by my oortuiging dat ʼn leser eintlik ʼn gedig voltooi deur dit met elke lees te laat leef. Ek hoop dat die leser vir ʼn oomblik bereid is om “Ebba” te wees.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Dis die vreemdste ding: toe ek die eerste keer die gedig gelees het, nadat ek dit in so ʼn bietjie van ʼn waas geskryf het, het ek die musiek van Ennio Morricone uit die fliek The Mission gehoor speel in my kop. Die kormorant wat met sy oopgespreide vlerke bo die water sit het nog altyd vir my gelyk soos iemand met ʼn toga of ʼn monikkekleed, iemand wat dalk ʼn seën uitspreek, maar ek voel altyd ʼn gevaar ook aan, miskien omdat die vlerke so donker is. Het ek die kormorant en The Mission lank voor die tyd al onbewustelik aan mekaar gekoppel gehad sodat dit bloot na bo gedryf het tydens die skryf van hierdie gedig? Ek weet nie. Ek is doodgelukkig om dit ook nooit uit te pluis nie.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Gewoonlik nie, nee.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dit is een van die enkele gedigte wat in ʼn voltooide vorm aan my gegee is.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Dit is vir my suiwer Suid-Afrikaans, die inheemse voëls en bome anker dit. Die enigste uitheemse element is die pou. Maar daaroor is veel te sê en dit is ʼn hele subtema op sy eie.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek is tevrede dat hierdie gedig daarin slaag om ʼn oomblik vas te vang wat nou vir my verby is en ek sal nie daaraan verander nie. Die gedig mag dalk nie perfek wees nie, maar dit staan.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Dit maak my gelukkig dat hierdie gedig goed ontvang word deur uiteenlopende mense – soms deur ʼn bejaarde in ʼn stads-ouetehuis wat weemoedig raak oor die natuur en die voëls, soms omdat ʼn jongmens die vlakke van beelding wil ondersoek en soms omdat ʼn persoon kennis dra van wat elke voël beteken as totem. Alle gedigte vervul nie alle funksies nie, maar hierdie vers het my al baie onverwagse vreugde verskaf. Dit is baie maklik om te lees en dit is maklik verteerbaar.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Eerste ooit geskryf? Nee, ek onthou nie dat daar ʼn vóór en ʼn ná was nie, dit voel soos een lang vloeiende beweging. Eerste gepubliseer, was op die ouderdom van sewe of agt, ʼn gediggie oor ʼn wurm. Ek kan net die titel onthou, die versie is verlore en dis seker goed so. Party dinge moet liewer net herinneringe bly.
***
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Tuesday, May 22nd, 2012

Taalles
Moet haar nie so styf
vashou nie, sy versmoor:
Stuur haar terug
om die wêreld
te herinner sy lê
tussen almal se lakens.
So kom sy van orals
na haar Afrikabed:
Excuse-moi, moet haar
nie so styf vashou
nie, sy krimp.
Kyk hoe sexy is sy,
as sy so suutjies
almal met hul eie
woorde verlei.
Onthou: Sy lê
tussen alle lakens.
Tula-tula, tula-tula.
So kom hulle van oral
na haar Afrikabed:
Gesundheit én ينمو
(c) Karen Kuhn (Uit: Ingeboek, 2012: Griffdel Media)
Nota: ينمو is Arabies vir “groei”
***
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Karen? Hoe het dit ontstaan?
Die gedig is in 2009 gedurende my MA in Kreatiewe skryf studies geskryf. Ek het heelwat kontak met buitelanders gehad en veral bewus geword van die invloede van ander tale op Afrikaans.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig het lank geprut voordat dit gestalte op papier gekry het.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Dink die twee prosesse werk in simbiose met mekaar.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Jeanette Ferreira het ‘n leesverslag oor my verse geskryf en het helaas die laaste waarde tot die vers gevoeg.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Joan Hambidge en my klasmaats het hul waardevolle insette gelewer.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Die vers het vir die eerste keer in die Versindaba 2010 bundel verskyn.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die feit dat Afrikaans uit soveel ander tale spruit is feitelik en dit speel af teen die metaforiek van ‘n begeerlike minnares.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die vers handel oor die voortbestaan van die Afrikaanse Taal en die aantreklikheid van die taal weens die diverse invloede.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Die gesprekke met mense wat ander tale praat: sowel ‘n Afrika taal as Europese taal en die herkenning en ooreenkomste van woorde of uitdrukkings in beide tale.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nee nie as eerste prioriteit nie, maar ek dink op ‘n tweede betekenisvlak speel die gehoor wel ‘n groot rol.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Die vers handel oor Afrikaans, wat aansluit by ‘n paar ander verse met dieselfde tematiek.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Tipies Suid-Afrikaans’ is die verwysing na Afrikaans en die taal se voortbestaan.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Is ‘n vers ooit klaar?
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek glo so.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Oh nee, ek dink die laaste vers wat ooit geskryf gaan word, gaan die finale weergawe wees van die heel eerste poging.
***
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
(c) Karen Kuhn
Tuesday, May 15th, 2012

Rooikappie en die wolf
Toe ek vir oulaas gaan totsiens sê,
was dit ‘n vreemdeling wat gelê
het in Ouma se bed. In plaas van
rose het sy geruik na bedpan,
kanker en hospitaal. Haar sagte
Ouma-lyf ‘n sakkie bene,
in die plek van haar witgrys-perm net
spinnerakdraadjies. Die blink het
soos trane gestort uit haar oë.
En wanneer het Ouma se lag so
kléin geword? Ek het haar liggies op
die voorkop gesoen, buite geskop
aan die sypaadjierand: nie oor dood,
maar teen lewe wat vreet in haar skoot.
(c) Aniel Botha (Uit: pirouette, 2012: Queillerie)
***
Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ek het dit drie of vier jaar gelede geskryf terwyl ek besig was om ‘n graad in kreatiewe skryfwerk te voltooi. Die gedig het ontstaan in reaksie op my ouma se siekbed wat ek as baie traumaties ervaar het. Dit is egter eers lank ná my ouma se siekte geskryf. Die Rooikappie-beeld is waarskynlik te danke aan die feit dat ek tydens die skryf van die gedig ‘n Grondslagfase-onderwyseres was.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Hierdie was een van my vroeë pogings en dit is etlike kere herskryf.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die gegewe was alles daar vir my om mee te werk. Die harde werk was om die kolle te verbind.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die gebruik van die distigon het my gehelp om die inhoud te struktureer.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ja, ek het die gedig gedeel met Professor Joan Hambidge en my mede-studente aan die Universiteit van Kaapstad. Hulle kommentaar was baie waardevol.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Die vers is omtrent drie of vier jaar nadat ek dit geskryf het in my bundel Pirouette opgeneem.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Hierdie spesifieke vers is hoofsaaklik op feite gebaseer.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Oor siekte en die dood. En oor die onvermoë om dit te verwerk.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Die storie van Rooikappie en die Wolf, uit die aard van die saak.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nee.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Wat tema en styl betref, stem die gedig eintlik baie met my ander verse ooreen.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee, siekte en die dood is universele verskynsels en die storie van Rooikappie is ook nie eie aan Suid-Afrika nie.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek besef dat geen gedig ooit perfek sal wees nie, maar ek is tevrede met hierdie een se imperfeksies.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ja, ek weet van ten minste een persoon vir wie die vers iets beteken het en dit is vir my meer as genoeg.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Ek het dit genadiglik vergeet.
(c) Aniel Botha
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Thursday, May 10th, 2012

Uitkyk
Vir Gerben
In ‘n geslote wêreld-
beeld begrens die rede,
oë, hande, voete en gevoel
ons uitsiglose uit-
kyk op die lewe.
Alles is dig, selfs
god bly dood-
gerus op die solder
bestrooi met vergetelheid
en die laaste dae se stof.
In ‘n poreuse wêreld-
beeld glip ‘n engel
geruisloos
asof deur ‘n venster-
skreef, raak onverhoeds
aan my vinger.
Ek sien vonke dans
glansend.
***
Cas, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ek en Lida was in Maart 2011 saam met ons Nederlandse vriende, Gerben en Lientje Heitink, by Buffelspoort vir ʼn naweek. Gerben en Leintje se aangenome seun, Alfred, wat by die Universiteit in Neijmegen gewerk het, is ʼn paar maande tevore dood nadat sy valskerm nie oopgegaan het nie. Hulle het ons besoek as deel van die verwerking van die ramp. Ons is al jare vriende. Ek het die Vrije Universiteit van Amsterdam dikwels besoek en deur Gerben se bemiddeling ʼn besondere band en werksverhouding met die Departement Praktiese Teologie en die Fakulteit Teologie opgebou. Ek beskou Gerben as een van die uitstaande internasionale teoloë in die wêreld. Die Universiteit van Pretoria het ook al ʼn eredoktorsgraad aan hom toegeken.
Ons het ure aan die murg van woorde gesuig. Daar is oor die misterie van lewe en dood nagedink. Gerben het my ingelig oor die filosofie van Charles Taylor. Die gesprekke het my gefassineer. Ná ons verblyf in Buffelspoort het ek Taylor se werke begin lees. Dis veral sy siening van die “poreuse wêreldbeeld” wat my geboei het. Gerben se boek, Golfslag van de tijd, het in Augustus 2011 verskyn. Ek het die gedig kort na hulle vertrek aan hom gestuur. Dit is ook aan hom opgedra. Hy het dit in sy boek opgeneem. Die boek, met ʼn groot oplaag, is binne drie maande uitverkoop. ʼn Tweede oplaag het reeds sy opwagting gemaak. Die boek is ook vir ʼn gesogte prys genomineer. Gerben noem in ʼn e-pos aan my dat daar in byna elke resensie na die gedig verwys word. Hieroor is ek en hy dankbaar.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Dit een van daardie gedigte wat net gebeur het. Ek het die konsep op Buffelspoort gekry en by die huis die gedig opgeteken. Ek het later ʼn enkele woord verander. Amper soos Johannes op Patmos, hoewel ek alles behalwe Johannes is.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die hele gedig is deur die gesprek tussen my en Gerben gebore. Wel, geboorte is ʼn geskenk.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Ek het die twee wêreldbeskouings (geslote en poreus) as fokus van die gedig gebruik. Dis waarom die gedig en die lewe draai. Daarvoor is twee strofes nodig.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Dit is Gerben se gedig. Hy het my die poëtiese moontlikhede tydens die gesprek laat sien. Dit is daardie “blink” moment waarvan Malcolm Gladwell praat.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Dit het eers in Gerben se boek (2011) verskyn en daarna in my bundel, Weerloos lewe (2012).
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die gedig het beslis ʼn filosofiese grondslag. Hoe dink ons oor die wêreld waarin ons lewe? D.J. Opperman en N.P. van Wyk Louw het verskil oor die rol van filosofie in die poësie. Vir Opperman het die filosofie die konkrete beeld ondermyn, maar nie vir Van Wyk Louw nie. Toe Van Wyk Louw op 18 Junie 1970 dood is, was Opperman die oggend laat vir sy klas. Met weemoed het hy aangekondig dat N.P. van Wyk Louw dood is. En toe dié merkwaardige woorde: “Seker ons gróótste.” Ek vind soos Van Wyk Louw die filosofie nie ʼn bedreiging nie, maar ʼn kyk na die mens en die wêreld rondom ons.
Die teenstelling “feit” of “fiksie” geld nie vir die gedig nie. Dit gaan om ʼn werklike beskouing wat elke mens oor die lewe nahou of terughou.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit gaan om twee lewens- en wêreldbeskouings wat mekaar nie hoef uit te sluit nie. Behalwe as die geslote beskouing geen voorsiening vir die poreuse beskouing laat nie. ʼn Geslote lewens- en wêreldbeskouing berus onder andere op die filosofie van René Descartes, Karl Popper, Jürgen Habermas (die rede), John Locke en David Hume (die empiriese, dit wat ʼn mens kan waarneem), Friedrich Nietszche (die nihilisme) en Jacques Derrida (dekonstruksie). In dié siening is alles “dig”. Selfs god bly doodgerus op die solder van vergetelheid. En daar vergaar net stof van die laaste dae.
Natuurlik moet ons as redelike en emosionele wesens met ons rasionele, sigbare en tasbare werklikheid rekening hou, maar daar is meer as net dit. Daar is ook ʼn poreuse lewens- en wêreldbeskouing. Die gedig volg in die tweede strofe dié pad van Charles Taylor. In die siening is daar sprake van die koms van ʼn engel wat aan ons vingers raak. Dan is daar vonke wat glansend dans. Dit is net meer as wat ons kan sien en ervaar. En dié wonder lei tot verwondering.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot stand koming van dié betrokke vers gelei het?
Gerben Heitink se insigte en Charles Taylor se filosofie. Dis al.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Meestal gaan dit oor ʼn konsep wat tot ʼn gedig groei. Ek het byvoorbeeld drie gedigte aan die briljante internis en kardioloog James Ker opgedra. Dit het gevolg uit mediese konsepte wat hy aan my, sy leerling, verduidelik het. Wanneer dit ʼn gedig geword het, moet hy dit nagaan of dit medies korrek is. Netnou verwar ek die hart met die long! Soms het ʼn gedig ʼn bepaalde persoon of gebeure in die oog. In Weerloos lewe, is Dae vol herfs ʼn voorbeeld van ʼn liefdesgedig wat aan Lida opgedra is.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Die filosofiese grondslag maak dit anders en betrek alle mense.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ja, dat dit in Afrikaans is en met mense van ons dag hier en nou praat.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek is dankbaar oor die vers. Ek wil dit nie anders hê nie.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ja, in ʼn besondere mate. Veral deur die resensies van Gerben se boek. Talle lesers het al na die vers verwys as ʼn gedig wat ʼn nuwe insig ontsluit.
ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Onthou is ʼn probleem! Tog kan ek. Ek was in standerd agt. Die vers is in die skool se jaarblad opgeneem en my Afrikaanse onderwysers het my aangemoedig om aan te hou skryf. En ek het!
(c) Cas Vos, 8 Mei 2012
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Tuesday, May 8th, 2012

The drama of being a child
As jong kind bekoor die reuke
van die somerse veld my veral.
Die dam met stilstaande water,
biesies in die vlei en paddavissies spartelend,
kwakende paddas, selfs ‘n slang onder ‘n klip,
glimwurms, grassade en giftige vrugte,
onthou ek helder soos ‘n gedroogde boekmerk
in My Bybel skeefgedruk by Jesaja.
“Oppas vir Bilharzia”, sou my ma maan.
Bo-op die berg was daar ‘n halfgeboude huis
met ‘n sementpad en ‘n Toegang verbode-bordjie.
Die huis is nooit voltooi nie; niemand weet waarom nie.
Nie toe nie en ook nie nou nie.
Daardie huis, daardie onvoltooide huis,
sou my later agtervolg. In Málaga
raak ek aan die growwe sement, skrik
vir ‘n draad; die somerson ‘n briesende koperkapel.
Ook die dam met verrottende water soek my op
in ‘n droom: vasgevang tussen daardie biesies,
roep ek om hulp, wyl water oor ‘n afgrond stort.
Hoe breekbaar en skrynend is die geheue nie.
Reuke soos smake is sigbaar, skryf Neruda iewers.
‘n Klein pampoentjie op my tong sing steeds
van dit wat wild en onveilig en onstuimig-vreemd proe.
© Joan Hambidge (Uit: Lot se vrou, 2012: Human & Rousseau)
Joan, wanneer het jy die gedig geskryf? Hoe het dit ontstaan?
Die gedig het onstaan tydens die skryfproses van Lot se vrou, twee jaar gelede. Maar ek glo soos Opperman dat die ontstaan van ‘n gedig moeilik bepaalbaar is. Hierdie gedig is geskryf na die lees van Alice Miller se The drama of being a child en my worsteling met jeugervarings. Dit is egter duidelik dat die gedig reeds in my gemoed begin vorm aanneem het toe ek as jong kind dikwels avonture onderneem het soos die besoek aan ‘n ongeboude huis op die berg in Pretoria waar dit ‘n verbode terrein was. Die jong kind wat egter reeds ondersoek instel, die ma wat waarsku teen gevare en Neruda wat dan vanuit ‘n agterna-perspektief die gedig “orden”. Ek het ook hierdie gedig, in ‘n aangepaste vorm, voorgelees vir KykNet met beeldmateriaal. Ek het dit toe verander na Zanzibar, omdat ek lieflike foto’s gehad het wat by die gedig gepas het. Ek lees die vers voor en die beelde “verduidelik” die gedig. Daardie huis “agtervolg” my dan soos wat my jeug my in my digkuns bly besoek. Dit vind ‘n mens eweneens in Pablo Neruda se digkuns.
Kon jy die bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Dit het deur verskillende weergawes gegaan. Emosioneel in die onbewuste; daarna deur sowat ses weergawes.
Hoeveel van die vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Om gedigte te skryf is nie “wroeg en sweet” nie. Om ‘n gedig te herskryf, is wonderlik. Ek het nou onlangs vir vier weke lang geswoeg aan ‘n gedig “Meditasie, siekte” en uiteindelik is ek nog nie tevrede met die vers nie.
Ek droom my gedigte dikwels. Hierom het ek altyd ‘n notaboek by my en ek het eenkeer op ‘n bus tussen Israel en Egipte in die donker nag selfs ‘n gedig op my Nokia E71 geskryf. Dit was dus dieselfde as om dit op ‘n rekenaar te doen. Ek skryf altyd ‘n vers met die hand sodat ek die gedig kan sien – daarna herdig ek dit. Afwerking is die moeilikste deel van die digkuns.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die ordeningsbeginsel was om Neruda se siening (Reuke soos smake is sigbaar, skryf Neruda iewers.) as meta-kommentaar te gebruik en die werklike gevaar waaraan die spreker blootgestel word, is die seksuele: die soeke daarna wat gevaar inhou. Die gevaarlike liefde van die eensgesindes.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan In vers werk?
My klankbord is my vriend De Lange en hierdie gedig is “getoets” in ‘n klas van kreatiewe digters wat onder my studeer en een van my studente, ‘n puik digter, het my weer bewus gemaak van die belang van Alice Miller wat ‘n mens dwing om te treur oor jou jeug en die uniekheid van jou jeug te (h)erken. Want volgens haar is dit wat jou beskerm teen die lewe.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Die vers het sowat twee jaar lank tussen manuskripte geswerf en het verskyn in beeldvorm op Kyknet en dan in Lot se vrou.
Kan jy ietsie se oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in die vers?
Dit verwys na my werklike jeug, ‘n werklike reis na Spanje toe ek Málaga (in 1995) besoek het, die lees van Miller, die lees van Neruda (via Uys Krige in Spaanse dans) wat dan in een vorm tot stand kom toe ek reg was vir die gedig. Dis verskillende ervarings wat saamgevoeg of gefabriseer word … Hoe dit gekom het: ek is in my jeug terug gedonder met ‘n uitnodiging na ‘n matriekreünie en dit het my so ontstig dat ek die bundel aangepak het om iets van my “displaced” jeug onder woorde te bring.
Kan jy kortliks se waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die terugkeer na die jeug en om daardie pynlike en intense ervarings konkreet te vergestalt. Digkuns werk by uitnemendheid met die gebruik van konkrete beelde -Die Bybel (die religieuse), huis (die self), die water (onbewuste), die klein pampoentjie (die seksuele) om die “unheimliche” uit te beeld. Die gedig aktiveer ook ‘n droom van gevaar – hierom die verrottende water wat ek kan ontkom deur gedigte te skryf. Jung het beweer die onbewuste is ‘n pedantiese simbolis en as jy nie na jou drome luister nie, kan dit gevaar inhou. Ek het na my droom gekyk en die “verrottende water” van my jeug aangespreek.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skilderv) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van die betrokke vers gelei het?
Alice Miller se studies: The drama of being a child en al haar ander studies. Die sub-titel heet: The search for the true self. Dit was die kernteks, saam met Žižek se The pervert’s guide to the cinema en hoe ons emosies “konstrueer”. Natuurlik dan ook Jung en altyd ander digters. Hier dan veral Pablo Neruda.
Het jy In bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan In vers werk?
Die Ideale Leser is die liefhebber van die gedig waarin die konkrete beelde ‘n abstraksie of abstrakte gedagte so goed oordra dat die balans presies reg is. Die leser wat hou van ‘n eerlike vers wat jou laat nadink, treur en beter voel, Want die gedig moet ook op ‘n manier ‘n emosionele oplossing bied.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dalk meer emosioneel? Ek het diep en ver ingegaan …
Is daar iets in die vers wat jy as tipies “Suid- Afrikaans” sal beskou?
Bilharzia! Grassade, glimwurms, giftige plante.
Kon jy die vers tot In bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
‘n Gedig is nooit “afgehandel” nie. ‘n Gedig is vir my afgehandel wanneer ek binne ‘n bepaalde siklus dit voltooi. Ek worstel met ‘n psigiese of intellektuele probleem wat ek met ‘n gedig oplos. A.P. Grove het my indertyd hierop gewys. Ek kyk nooit meewarig terug na my verse van ‘n jonger digter nie. Ek weet presies waar ek was en hoekom ek dit so geskryf het. ‘n Mens word met die jare tegnies flinker – die jonger digter se broosheid en “oopheid” is wel ook aantreklik.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek meen so.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nag die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Toe ek ‘n jong kind was – “Die verlange passer vannag in my” – daarvoor het ek ‘n paar rand gewen in ‘n wedstryd in Die Vaderland van toentertyd. As jong kind het ek al ‘n intense binne-Iewe gehad. En met Lot se vrou val alles presies in plek …
© Joan Hambidge 7 Mei 2012
Thursday, November 10th, 2011

Let wel: Vanweë die lengte van die versreeks waarop hierdie vrae en antwoorde gebaseer is, volg die reeks “Swerwende verse” uit Onversadig (2011), heelonder.
Wanneer het u dié gedig geskryf, professor Cloete? Hoe het dit ontstaan?
Hierdie gedig is in 2005-2007 geskryf in die tyd toe my vrou baie siek was, betreklik kort voor haar dood, en toe ek baie gelees en herlees het langs haar siekbed. en my verdiep het in die ou Egiptiese poësie, met name Ichnaton se “Himne aan die son”, waarmee ek jare lank al vertroud was. Ek het toe my vrou se lyding en my eie probeer weglees deur sonnige gedigte te lees.
Kon u dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek het aanvanklik al die gegewens as ‘t ware in my hand gehad maar dit het ‘n tyd gevat om dit te rangskik en te laat voeg. Dit gaan naamlik hier om die integreer van verskillende ou tekste en wêrelde: Egiptiese, Joodse, Italiaanse, my eie en ander Afrikaanse.
Hoeveel van dié vers is aan u “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die gedig het ‘n lang aanloop gehad. Die konsep van swerwende verse het ontstaan toe ek by die lees van die “Ilais”, “The Secret History of the Mongols”, die Ou Testamentiese Psalms, Ichnaton se “Himne aan die son” en Franciscus se “Sonlied” ingesien het hoe die een gedig tot die ander een lei. Ek het daar ‘n artikel oor geskryf in Tydskrif vir Letterkunde 44[2] 2007 Lente. Kort daarvoor het ek Goethe se “Faust” herlees, en dit het toe vir die eerste keer tot my deurgedring dat Van Wyk Louw se “Die Swart Luiperd” tot in die woordelikse toe teruggaan op “Faust”. Daaroor het ek ‘n artikel geskryf wat opgeneem is in die huldiginsbundel vir Ina Gräbe, “Word, (Wo)men, World ” [ red. H. Roos e.a., 205]. Intussen het die gedig parallel met die skryf van die artikels gegroei tot wat dit tans is.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het u byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Dit was ‘n kwessie van rangskikking van materiaal wat hulle self aangebied het. Soos JC Bloem sou gesê het: ek het die raam gekry, ek moes net invul.
Het u die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat u as klankbord gebruik terwyl u aan ‘n vers werk?
My vrou was altyd my klankbord. Sy het my gedigte altyd gelees. Ek kon haar oordeel vertrou. Na haar dood is daar wel so ‘n twee- of drietal vertrouelinge, vriendinne, maar ek is sku om voor pulikasie iemand se raad te vra.
Hoe lank na die vers voltooi is, hetu dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Die gedig het begin ontstaan in 2005 en het in “Onversadig” [2011] verskyn.
Kan u ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Wel, die feite is dat digters mekaar lees, van toeka af veral in lande rondom die Middellandse See, en later oral in Europa, Engeland, Amerika, en dat gedigte ander gedigte maak, dus: fiksie maak fiksie, net so goed as wat feite fiksie maak. Dit is waarom ons van ekfrasis praat. Ek het hierdie term wat taamlik vreemd in Afrikaans was ‘n klompie jare gelede onder die aandag van die WAT gebring en sien dit slaan nou oral uit..
Kan u kortliks sê waaroor die vers, volgens u, handel?
Moeilik om te sê. Ek hoop daar is nie net een inhoud nie. Sê maar die gedig handel oor ons gesamentlike menslike besit, met name ons verering vir die wonderlike in die skepping en die goddelike daarvan. Digters is meestal so besitlik, maar niks is werklik joune nie, nie in die kunste nie en allermins in die wetenskappe.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Ja, ander gedigte, soos ek hierbo gesê het.
Het u ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer u aan ‘n vers werk?
Nee glad nie, maar ek is beslis nie gerig op populisme nie.
In welke mate verskil hierdie vers van u ander gedigte?
Ek dink dit is meer epies as my ander verse, konseptueel en integrerend omvattender?
Is daar iets in dié vers wat u as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nie tipies Suid-Afrikaans in sy geheel nie, maar die lesers sal sien dat ook Eugène Marais iewers ingewerk is, en iets van my eie bewonderende belewe van ons natuurlewe, wat ons Suid-Afrikaanse wêreld integreer met die Europese, Egiptiese [Afrika-se] Welt, selfs dus met die ou-ou wêreld.
Kon u dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Nee, ek is doodtevrede.
Was u tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ja.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan u nog die eerste vers wat u ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Die vroegste reëls wat ek onthou, en wat vandag nog nie klaar is nie, is ‘n melankoliese gedig:
Trek dig die dekens oor jou kop en slaap
Die lug is somber buite…
Ek onthou nog dit was ‘n reënerige dag, in die koshuis, ‘n bleek dag. Later in my lewe het ek geleer om liewer na die sonnige te kyk.Ek het daardie fragment nog in my deurmekaar argief, dink ek.
_____________________________________________
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
***
swerwende verse*
1 (Akhenaton: Hymn to the Sun)
May you always appear thus gloriously in the horizon of the sky,
O living Aton, origin of life!
Arisen from the eastern horizon,
you have filled all earth with your splendor;
You are beautiful, great, dazzling, exalted above each land,
yet your rays encompass the lands
to the limits of all which you have created;
There in the Sun, you reach to their boundaries,
making them bow to your Son, whom you love;
And though you are far, your rays are over the earth,
and you are in the faces of those who watch your journeying.
2 (Psalm 19: 5-7)
Die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
Die een dag gee die berig deur aan die ander
en die een nag deel die kennis aan die volgende mee
en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel ‘n tent opgeslaan.
As hy stralend begin om sy baan te volg,
is hy soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.
Aan die een kant van die hemel kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
3 (Hymn)
You go to rest in the western horizon,
and earth is in a darkness like death,
With the sleepers in bedchambers, heads covered
Every lion comes forth from his doorway
The Sunfolk awaken and stand on their feet,
for you have raised them up;
Their bodies are bathed, they put on their clothing,
their arms raised in praise of your appearing.
Throughout the land they take up their work.
4 (Psalm 104)
U is beklee met koninklike luister,
U is met ‘n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel
soos ‘n tentdoek gespan het.
As U die donker bring en dit nag word,
roer al die diere in die bos.
Die leeus brul op soek na prooi
As die son opkom, sluip hulle weg
dan gaan die mens na sy werk toe
en hy werk tot die aand.
5 (Hymn)
You have risen, and they are alive;
you go to rest, and they die.
For you are the measure of Time itself
6 (Psalm 104)
U het die maan gemaak
om die vaste tye mee aan te gee,
die son weet wanneer om onder te gaan.
7 (Hymn)
Ships go downstream or upstream as well,
each path lies open because of your presence;
The fish in the River dart about in your sight,
and your beams are deep in the Great Sea.
8 (Psalm 104)
Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
Daar vaar die skepe, en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
9 (Hymn)
For you have placed a Hapy in the sky
that he might come down upon them -
Making waves upon the mountains
like those of the Great Green Sea
to water the fields in their villages.
10 (Psalm 104)
Uit die hemel laat U dit op die berge reën,
die aarde word versadig deur die reën wat U gee.
11 (Hymn)
The herds are at peace in their meadows,
trees and the vegetation grow green,
Birds fly from their nests,
their wings spread wide in praise of your Person;
All the small beasts leap about on their feet,
and all who fly up or settle to rest
live because you have shone upon them.
12 (Psalm 104)
Daar kom al die wilde diere drink
en die wildedonkies hulle dors les.
Die voëls maak hulle neste langs die water
en kwetter tussen die takke.
U laat gras uitspruit vir die diere
die seders op die Libanon,
dié wat Hy geplant het,
waar die voëls hulle neste maak,
en die reier sy huis in die boomtoppe bou.
Die hoë berge is ‘n tuiste vir die klipbokke,
die rotse is ‘n skuilplek vir die dassies.
13 (Hymn)
It is you who create the seed in women,
shape the fluids into human beings.
Nurturer from the womb to those given breath
to bring into life all that he has created.
You have risen, and they are alive;
you go to rest and they die.
14 (Psalm 104)
Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood.
U gee die lewensasem en daar is lewe.
15 (Vagebond 1)
van verwondering vervul
dink ek aan my vrugbestaan
in my Ma se skoot verhul
al die bene van my lyf
elke dag van my bestaan
was toe reeds volledig opgeskryf
16 (Vagebond 2)
eeue daarvóór was ek lankal daar
in die donker slaap
toe breek die lig en ek ín haar
gedroom die tyd wat roer roteer
nou word ek weer en weer
gebore elke oggend staan ek op en elke keer
is dit ‘n avontuur
tienduisend kilometer en derduisend jaar
skei my van die digter-koning van die Jode
en nog verder terug die digter-farao
van die Egiptenare
tog is dit steeds dieselfde bruidegom
wat uit die ooste se slaapkamer
soggens met opstaantyd na my in Afrika toe kom
dit is dieselfde mense wat dan ontwaak
en land toe gaan
en rou aarde braak
en wat die son se lig
in hul gesig laat straal
en in dieselfde suurstof
en atome asemhaal
steeds drink die donkies en die ander diere
hier in die verre suide
soet koel lafenis uit die aarde se riviere
bo my ver van die Middellandse See soveel later
bo my uitgedroogde bar land
versamel die wolke in hulle kamers water
as Krom Joggom Konterdans
uit die Groot Woestyn reën maak
op sy Afrikaviool
en die weerlig die wolke oopkraak
die wind en die grootwild maal
dan op die vlaktes rond
en die kleinvolk roer ontroer
diep onder in die grond
vinke maak hulle neste
aan die wilgertakke wat druip
oor die Vaalrivier
waar die reier ‘n padda bekruip
die Bosveld se Leviatan
die luislang se spiraal
soos ‘n cochlea wurg uit die impala
sy laaste asemhaal
by Letaba lê die Nylkrokodil en rus
op die sand
in die deining
speel die walvis by Hermanus
by Satara hoor ek snags lig beangs
hoe brul die leeus Egipte en Palestina
se verre nakomelinge by hul vangs
dit is dieselfde see waarop die skepe vaar
kruis en dwars
en oor dieselfde ewenaar
dieselfde horlosie van die maan en son se lig
laat mense gesamentlik vir die Omvattende Gedig
lofliedere sing
onder dieselfde son
waar ek in God se bakhand knus
en doodgerus
luister na Dawid en Achnaton
17 (Akhenaton: Hymn to Aton en Sint Franciscus:
Canticle of the Sun)
met geringskatting van die nasies word
onmerkbaar langsaam en sag
fluisteringe van die een dag in die ander dag
millennium ná millennium uitgestort
Achnaton en Franciscus is op ‘n interdigterlike plek
binne die fanakalo se poëtiese taal
skoon glansend bonasionaal
buite tydruimte onder die son saamgetrek
waar waters is wat in borrelende wolke vry
en minagtend oor ons kwansuise grense
hoog oor ons klein aarde ry
18 (Hymn)
May you always appear thus gloriously in the horizon of the sky,
O living Aton, origin of life!
Arisen from the eastern horizon,
you have filled all earth with your splendor;
You are beautiful . . .
19 (Canticle)
Most high, all powerful, all good Lord!
All praise is yours, all glory, all honor, and all blessing.
Be praised, my Lord, through all your creatures,
especially through my lord Brother Sun,
who brings the day; and you give light through him.
And he is beautiful and radiant in all his splendor!
Of you, Most High, he bears the likeness.
20 (Hymn)
For you have placed a Hapy in the sky
that he might come down upon them -
Making waves upon the mountains
like those of the Great Green Sea
to water the fields in their villages.
21 (Canticle)
Be praised, my Lord, through brothers Wind and Air,
and clouds and storms, and all the weather,
through which you give your creatures sustenance.
Be praised, My Lord, through sister Water;
she is very useful, and humble, and precious, and pure.
22 (Vagebond 3)
die een dag roep die ander dag op met lig
met mense en bome gevul, met diere en water die een gedig
roep die ander op oor tyd en afstand
met minagting vir mense se taal en afgegrensde land
agter die ooste staan daar ‘n immergroen boom vol
ryp appelkose elke oggend nou al
millenniums lank kom ‘n enkele een oor die horison aangerol
om ‘t ewe of dit oor Italianer
is of Jood, Egiptenaar of Afrikaner
of is dit elke keer dalk, van son
gemaak, ‘n nuwe diskobolos
van die onvermoeide Griek Myron
***
* Nota: Daar is onmiskenbare ooreenkomste tussen die Egiptiese farao Achnaton se Himne aan die Son (Aton: die son) en uit ‘n later tyd Psalm 19 en 104, al drie lank v.C., en ook tussen die Himne aan die Son en Sint Franciscus se Canticle of the Sun (Cantico di frate Sole) van nog veel later (1224). Die Himne en die Psalms kan as skeppingsgedigte al drie dalk teruggaan op ‘n mondelinge bron wat rondgeswerf het rondom die Middellandse See. Achnaton, later die Psalmdigter Dawid en baie later Franciscus het al drie gekom rondom die Middellandse See. Franciscus se verwantskap met Achnaton is dalk direk, dalk indirek deur middel van die Psalms, wat Franciscus goed sou geken het.
Die ooreenkomste tussen hierdie skeppingsgedigte is maar by benadering deur my gekursiveer om die identifisering van die interdigterlike te probeer vergemaklik. Ons het welliswaar hier met vertalings te make, maar die oorkoepelende ooreenkomste is onmiskenbaar, en dat die ooreenkomste selfs woordeliks ondanks die vertalings deurskemer, maak dit soveel merkwaardiger.
Die vertaling in Engels van Achnaton se Himne is van J.L. Foster. Van Franciscus se Canticle is daar talle Engelse en ander vertalings.
© TT Cloete (Uit: Onversadig, 2011: Tafelberg)
Friday, October 14th, 2011
die eerste steen
vir adam small
ek sou graag net ‘n klipgooi vêr
van jou af wou leef, meneer small
van die bankies die deure
die treine die skole die strande
die riots die klippe in hande
maar ek staan anderkant die storm
waar ons reënboë teen die grys skerm
van die dag projekteer
‘n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
en ek weet nie hoe om
van hier vir jou te skryf nie
hier waar die blindes dans dans dans
met iPods in hul ore
en dollars in hul oë
‘n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
ek wens ek is vroeër gebore
dat ek al kon loop die dag
toe Hector gaan lê het
miskien sou ek hom optel
miskien sou ek saam
cowboys en kroeks speel
maar my hande is nog altyd
te klein gewees om klippe te gooi
al stoei my pa se bloed in my
en al was my oupa in die senaat
hy’s dood die jaar
toe my pa begin skiet het
my pa is ‘n goeie man, meneer small
al praat slegs sy oë oor die grens
en al drink hy soms te veel
hy’s ‘n goeie man, meneer small
al skree hy soms op taxi’s
en al was hy en sy god
maar oukei met als gewees
hy’s ‘n goeie man, meneer small
en ek hoop dat ek eendag skroomloos
langs sy graf kan staan en huil
© Pieter Odendaal, Augustus 2011.
Let wel: Hierdie vers was geskryf as opdragvers tydens die huldiging van Adam Small tydens die pasafgelope Versindaba-fees.
 Pieter Odendaal
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Pieter? Hoe het dit ontstaan?
Iewers in Augustus. Ek dink die winde het al in die Vrystaat begin waai en dit was woes reënerig in Stellenbosch. Melt Myburgh het my gevra om die gedig te skryf as deel van ‘n kollektiewe huldeblyk aan Adam Small by Versindaba.
Toe’t ek maar al Small se boeke gaan lees en besef dat ek nie weet hoe om hom te skryf nie. Ek het hom nooit ontmoet nie, net soos ek nooit die gatkant van apartheid geken het nie. Ek is in 1989 gebore, en my eerste regte herinneringe begin eers na Mandela se vrylating.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Dit het redelik lank gevat om die ding klaar te kry, maar die sperdatum het gehelp. Ek skryf baie stop-en-start, baie fragmentaries. Daar is agt drafts op my rekenaar gestoor. Die groot werk begin as ek die stukkies aan mekaar probeer stik.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Geen wit lig van bo of muse met groot buuste het neergedaal nie. Bloot met my vingers op die keyboard gaan sit, sigur ros, tumi and the volume en liszt opgesit en begin droom.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Ek het baie op ritme en klank gekonsentreer. Dis die eerste gedig wat ek geskryf het deur hoofsaaklik op die musiek van Afrikaans te fokus. Adam Small is ‘n meester van luister en hy werk so mooi met klank – die dat ek gevoel het dat ek een van sy belangrikste ordeningsbeginsels wil gebruik om die gedig te skryf.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek het die gedig een of twee keer opgevoer voor my podiumdigter-vriende en hulle het baie gehelp om as klankbord te dien. Annel Pieterse het ook geluister en die regte vrae gevra. En ek het dit vir myself voor die spieël gelees. Dit help baie.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Wel, die gedig is nie gepubliseer nie, maar is by Versindaba opgevoer as deel van die huldeblyk aan Small, soos ek hierbo gesê het. Ek is nog nie seker of die gedig regtig goed op papier werk nie.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
My oupa is nie dood die jaar toe my pa begin skiet het nie. Dit was eers later, maar ek het van die reël gehou, so ja. Die res is alles waar, soort van.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Oor hoe moeilik dit vir my is om vir en oor Adam Small te skryf en hoe moeilik dit vir my is om te skryf oor ‘n geskiedenis wat ek nie self deurleef het nie. Ag, en oor wat klippe alles kan doen om mense van mekaar te skei.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Small se werke, veral sy eerste publikasie, Die eerste steen, wat in die fifties verskyn het en ‘n redelik emosionele, maar ook onthutsende en ontstellende, aanklag teen apartheid is. Hy is werklik ‘n profeet – hy’t voorspel hoe ons menswees van ons af weggevat sou word in hierdie land.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Terwyl ek in die wêreld van die halfgeboude gedig is, dink ek nie aan enige toekomstige bewoners nie. Maar as ek later weer terugkeer om verder daaraan te skaaf, dink ek gewoonlik eers aan die volgende mense: My gesin en my vriende wat Afrikaans kan verstaan. Dan dink ek aan my ander vriende wat gaan luister na die musiek in die gedig omdat hulle nie die taal verstaan nie. Ek dink ook aan Charl-Pierre Naudé se woorde oor Afrikaans: “Afrikaans’ most noticable – and most denied – facet is that it is an inherently mixed culture, coloured and white. The entire culture is pinned onto this tragic divide, like tatters on a skeleton. It will take time to heal, if it ever will. Indeed, the culture of Afrikaans is a Siamese twin that got seperated very badly, and should never have lived. For which half am I writing, then? Sometimes I fell like the shattered mother insisting to love something unlovable because it is my inalienable right to do so.” (Uit: Imagine Africa, saamgestel deur Breyten Breytenbach)
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dis die eerste opdragvers wat ek geskryf het en verskil ook in die sin dat dit die eerste gedig is waarvoor ek so baie vooraf leeswerk gedoen het.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Die taal. Die klanke. Die tematiek wat dit aanspreek. Die kern van geweld waarom dit alles draai.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Sien, dis daar waar ‘n sluitingsdatum baie handig te pas kom. Jy’s bloot ‘n surrogaatmoeder en daar’s ʼn streng delivery-tyd ter sprake.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ja. Ek het baie positiewe terugvoer en insiggewende kommentaar gekry. En die ou in die spieël het ook die vers gelike.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Dit was eintlik ‘n liriek gewees. Oor visse wat heeldag lank in die see rondswem. Die liedjie was oukei, maar die woorde het swaar op ‘n Christelike kinderliedjie-interteks gesteun en ek kan net die eerste vers onthou. Ook maar goed so.
Die visse swem die visse swem
o die visse swem
hulle swem na hulle gate
en hulle eet hulle kos
o die visse swem.
_______________________________________________________________________________
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Tuesday, August 30th, 2011
My eerste Bybel
Openbaring 5
Wie is waardig om dié boek oop te maak?
Die verse versigtig geasterisk,
God se beloftes dat Hy oor jou waak
netjies met pen onderstreep, aangestip.
Wie mag die sewe seëls breek?
Die briewe van jou skoolvriend lees?
Boekmerk by ‘n vergete preek:
Die Here sou jou herder wees.
Wie kan na die foto’s kyk
van jou dooie troetelhond
of weet hoe het jou ma gelyk
voor sy bril gedra het?
Ek is die een met sewe oë
die sywurmkruis ‘n swaard in my mond.
Slaan die boek óóp; slag my lyf.
Pa het voorin my naam geskryf.
Uit: Donkerkamer (2011, Queillerie: p. 72)
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Fourie. Hoe het dit ontstaan?
Die eerste weergawe van die gedig staan in ‘n dagboek by 6 Februarie 2006. Die plan was om ‘n tipe himne te skryf. Ek het deur my bybel geblaai om na die vorm van hierdie soort gedig te kyk. Ek kon die Psalms nie naboots nie. Toe blaai ek deur Openbaring. (Ek onthou hoe bang dié boek my gemaak het toe ek klein was. Om oor die vrees te kom, het ek op laerskool die hele Openbaring deurgelees en vurig kantaantekinge in pen in die kantlyne ingeskryf.) Toe sien ek die gedeelte oor die name in die boek waarvan Openbaring 5 praat en onthou dat my eie name voorin my bybel staan – in my pa se handskrif en onderstreep met die datum 5 Junie 1988. Toe het ek die begin en die einde, die beeld en die toepassing as jy wil, van die gedig.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Daar is vier erg bekrapte weergawes op papier in die dagboekie voordat ek dit op die rekenaar verder afgewerk het. Die finale vorm het hom nie onmiddelik aangemeld nie – die dagboek wys hoe ek rymskemas oorweeg het en die lettergrepe getel het. Johann de Lange het my met die finale woordorde in die laaste reël gehelp
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Baie goed wat ek in die vers noem was reeds voor my: die onderstreepte bybelverse; my naam voorin die bybel; al die dinge wat ek tussen die bladsye opgegaar het toe ek klein was en vir jare daarna nie gesien het nie. Dan was daar ook Openbaring 5 om mee te werk. Al wat ek moes doen was om dit wat voor my was in ‘n vorm te kry en dit so te rangskik dat daar ‘n soort dramatiese verloop is.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die interteks het gehelp om goed te orden. Die klimaks lê in die slot, so ‘n mens weet waarheen jy op pad is en waar jy sterker beelde moet gebruik. Die eindryme wat ek gebruik het het ook rigting gegee.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek het die gedig aan Joan Hambidge en my klasmaats gewys toe ek kreatiewe skryfwerk aan UK gestudeer het. Ek wys my gedigte eerste vir haar.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Vyf jaar nadat ek die gedig geskryf het, is dit in 2011 in Donkerkamer gepubliseer.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die beskrywings is van my eie bybel. Die asterisk staan langs die negende vers:
Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.
Ek het nou wel nie ‘n boekmerk wat ‘n sywurm gespin het nie, maar ek dink ek het sulke boekmerke al gesien. Die briefies en die foto’s bestaan.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit gaan vir my oor ‘n pa se toe-eiening van sy seun. Wat dit beteken as ‘n pa sy kind uitkies – dit is ‘n ingewikkelder ding as wat ‘n mens dink.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ek het ‘n ondersteunende, onkritiese, waarderende leser, iemand wat nooit oordeel nie, maak nie saak wat jy sê nie, in gedagte. ‘n Goeie vriend wat jy nie ken nie maar vir wie jy geheime dinge kan vertel. Dalk ook iemand met geheueverlies, sodat hy nie verveeld raak wanneer jy dieselfde storie oor en oor vertel totdat jy klaar is daarmee nie.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Nee, die gedig werk nou saam met die ander gedigte in die bundel.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee, ek dink nie so nie. Die ingewikkelde verhouding tussen mense en die kerk en mense en hul pa’s kry ‘n mens oral, maar die manier waarop hierdie verhoudings uitgedruk word, is dalk Suid-Afrikaans. Hier is ook iets wat my herinner aan die Statebybel wat dikwels ‘n familie se stamboom voorin gee.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek het dit gelos toe die toonaard en die metrum vir my reg geklink het.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Iemand het vir my eenkeer gesê die gedig herinner hom aan ‘n kerkliedjie. So dalk het ek dit tog reggekry om ‘n tipe himne te skryf.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Dit was ‘n liedjie wat ek op my blokfluit gespeel het – oor ‘n haas wat ‘n wortel by ‘n boer steel en versigtig moet wees om nie geskiet te word nie. Die arme haas wou groentesop kook – ek vermoed die versie sou minder bloeddorstig gewees het as kop nie met sop gerym het nie.
_______________________________________________________________________
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Wednesday, August 10th, 2011

Skilder
(In die oomblik van verf staan kop en tyd doodstil.)
Kleure smelt op die palet -
word ritme en lê sag in volle vlees.
Sabelkwasse dans en koek om die oeroue rite:
lewe te gee aan die lap.
Waaierkwasse lek oor die doek en
terpentyn versag die vloeibaarheid
met die voel en die vat van elke vorm.
Damar en roulyn verdik
en plak blink, lyf op lyf.
Nippelpuntjies verstyf onder die kielie en
sagte pienk naeltjies kruip weg in tortellinivoue.
Lywe, in en oormekaar
lewe en golf saam,
haal asem,
word taal.
(c) Anne Ghrett Erasmus (Uit: Die lekkerste perske is ‘n vy, 2011: Benedic Boeke)
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Anne-Ghrett? Hoe het dit ontstaan?
Ek kan nie presies onthou wanneer ek “Skilder” geskryf het nie. Dit was egter in ‘n tyd toe Magritte ‘n groot invloed gehad het oor hoe ek probeer skilder het. In daardie tyd het ek ook intens bewus geword van die proses van skep, in beide taal en beeld. Dit was sy skildery van die pyp, “Ceci n’est pas une pipe,” wat my geprikkel het. Om te sê, kyk, hier het ek ‘n pyp geskilder, maar dit is nie ‘n pyp nie. Ook Magritte se skildery, “L’empire des lumières.” Dit is steeds een van my gunsteling- skilderye, die nagtoneel in helder dag.
Die gedig het na my toe gekom terwyl ek geverf het. As mens verf en skryf, staan tyd mos stil. En dis waar die gedig begin het. Daardie vreugde van hard en stip werk en dan die terugstaan en kyk en sien of lees hoe dít waaraan jy soveel energie spandeer het, lewe kry.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Sodra ek ‘n reël kry of dit by my opkom, skryf ek alles neer. Hierdie gedig was aanvanklik taamlik lank en lomp. Ek het geweet wat ek wou sê, maar het gesukkel om die gedig tot op die die been geskaaf te kry. En lank daarna, toe ek weer begin skaaf het, het dit net gekom.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die meeste van die gedig is aan my gegee. Soos ek sê, skryf is vir my ‘n proses van skaaf. Om die vleis van die been weg te kerf tot net die skelet oorbly.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?
Nee, ek het geen beginsel toegepas nie. Nie by hierdie een nie. Die vry-vorm het spontaan ontstaan.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ja, ek het. Ek wys altyd eers my verse vir my man. Hy is baie gou om te sê of iets werk of nie werk nie. Omdat hy soveel kennis dra van die poësie, het hy ‘n intuïtiewe aanvoeling en as selfs die kleinste woordjie of komma pla, luister ek en gaan skaaf maar verder. Ek vertrou hom totaal en al.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Jinne Louis, ek sal jok as ek sê hoe lank, maar dit was ‘n paar jaar. Die vers het vir die eerste keer in Die lekkerste perske is ‘n vy, verskyn.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die “feit” in hierdie gedig is dat ek skilder en dat daar verwys word na die praktiese sy van verf en die gereedskap, soos “sabelkwasse, waaierkwasse, Damar, roulyn,” ens. word ook genoem. Die ‘fiksie’ is die skep van nuwe asem of lewe aan die skildery, deur die erotiese, en dan hopelik die gedig.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die skeppingsproses, ‘n skildery wat lewe kry, ‘n gedig wat gebore word. En dan miskien ‘n bietjie erotiek in die maak van beide.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Soos ek genoem het aan die begin, Magritte se skildery(e).
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nee, glad nie. Reëls en beelde kondig hulself aan en word vers of skildery. Ek hou nie van geforseerdheid in enige kunsvorm nie. ‘n Mens voel mos so ‘n geforseerdheid intuïf aan en dat die kunswerk/skrywe “uitgedink” is. Spontaneïteit ontbreek in geforseerdheid. Ek dink dat mense wat vir ‘n gehoor/leser skryf, nie altyd eerlike kuns pleeg nie.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Hierdie gedig was vir my een van die eerstes waar ek gevoel het, ek my eie stem gevind het. En selfs ‘n bietjie meer vertroue in myself gekry het. Die gedigte hierna het hulle baie meer gestroop en in eenvoud begin aankondig.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee, ek dink nie so nie.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Nee, ek het nie. As ek ‘n gedig uiteindelik versaak, gooi ek hom letterlik weg, want dan weet ek dit werk nie en was dit‘n goeie vinger-oefening.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Met hierdie gedig, ja.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Absoluut. Daar was twee wat ek baie goed onthou. Die een was oor die groot ou jakkarandaboom in ons tuin. Die ander was oor ‘n boksgeveg tussen Gerrie Coetzee en Big John Tate. My juffrou het so baie van dié gedig gehou dat sy dit laat plaas het in ons lokale koerantjie. Ai, ek was so trots!
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Sunday, August 7th, 2011

Digstring: Parys
| Parys If you are lucky enough to have lived in Paris as a young man, then wherever you go for the rest of your life, it stays with you, for Paris is a moveable feast. Ernest Hemingway
Intimiderende, invloedryke, imposante Parys:
plek van bloed, opstand
en onthoofding.
Jy is my Bastille én Versailles.
Ek is jou Marie Antoinette:
“As hulle nie brood het nie,
gee hulle gedigte”. Eers vetgevoer met mites
oor die tuimelende proses genaamd, dig.
Hier staan ek,
want ek is anders,
immer op reis, soekend na ‘n kern,
‘n finale woord
en oksimoron.
Bloed vloei in bruisende are
en die klippe die rol in vele opstande, afseggings,
afleggings…
Mens haat of aanbid hier,
geen halwe hart word geduld.
Vyf keer besoek ek jou,
vyf keer spartel ek om jou af te weer,
vasgevang in ‘n obsessiewe verhouding.
Die eerste keer ruik ek jou stink knoffelasem
in die agterbuurtes,
oorhoops verlief
met my hart op my weerlose mou.
Hierna ‘n minder roekelose besoek
met wriemelende weeluise in die beddegoed
en ‘n concierge wat die deur krities toetrek.
Die derde keer is altyd skeepsreg.
In die Gare du Nord wagtend op ‘n trein na Strasbourg,
karteer ek die anatomie van melancholie
tussen stasies en netwerke van stede
wat terughunker en altyd terugkeer na jou.
“Paris je t’aime”.
Jou bogrond word presies
in jou rioolsisteem herhaal:
‘n ewebeeld van jou dreunende, druisende bo-grond.
Geguillotine deur die liefde,
verkeerde keuses,
oordeelsfoute,
keer ek in herinnering terug na jou:
“je ne regrette rien” se metriese voet.
Ondergronds in die métro verdwaal
al die digters op soek na Paul Celan
en Michel Houellebecq
in ‘n eindelose Moulin Rouge,
‘n vuurwiel wat draai en draai en draai.
Ek struikel oor jou kieselstene
die vierde keer,
kyk vanuit die Eiffel
na jou presisie, jou beheer,
elke arrondissement
in mosaïekwerk verpak
soos verse in ‘n lykbundel.
Ondraaglik toe dit stuifreën
in die Place d’Italie
met verbouings en verskuiwings:
Parys onder konstruksie.
‘n Gedig is soos foie gras
of ‘n bloedrooi glas wyn.
In die Notre Dame lui ‘n klok
met hierdie vyfde, vrygemaakte besoek.
Ek werp my gedigte op die Seine
se koue waters. Die son,
‘n vetgemaakte eend,
skryn ‘n oordeel:
daar is geen buite-teks.
© Joan Hambidge. |
Joan, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ek was in Mei by ‘n kongres aan die Sorbonne, ‘n kongres ter viering van The empire writes back. Ek het gepraat oor gay-identiteite. Dit was ‘n klein kongres en daarna het ek tyd afgeknyp om weer deur Parys te beweeg, ‘n grootste stad waaroor ek ambivalent voel.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig het na my terugkeer letterlik in een sitting ontstaan. Daarna is dit afwerk, terugsnoei. Hierom die toespeling op Derrida se “daar is geen buite-teks nie” in die slot.
Ek verwys natuurlik ook na Ginsberg en Franse digwerk kom aan bod. Maar veral die stad-as-gedig. As jong mens my ekstatiese oorgawe aan die stad, wat ook ‘n oorgawe was aan die liefde en die digkuns. Tydens die skryf van Die anatomie van melancholie het ek deur Duitsland en Frankryk gereis per trein: ‘n soeke ook na my digterstem met die kritiese lesers as ‘n soort concierge.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Hierdie een is gegee. Ek het dit neergeskryf in ‘n klein skryfboek in die restaurant Arnold’s Tamboerskloof, maar agterna is dit altyd snoei en netjieser maak.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die vers is in my bundel Lot se vrou opgeneem wat volgende jaar verskyn by Human & Rousseau. Die vers al uiteraard van nou tot Maart verander en hopelik verbeter word.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
O ja. Ek doseer kreatiewe skryfwerk en daar word verse aan kritiek blootgestel. My uitgewer, keurder en mentor het dit ook gesien. En twee geliefde ouer vriende wat gaande is oor Parys. Verder staan dit op die internet al vir weke. Dus neem ek aan vele mense het dit gesien.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
‘n Maand later.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die gedig karteer my lewensloop as reisiger en digter. Met my nou onlangse besoek het ek uiteraard terug gekyk na vorige besoeke. Ek weet nie altyd wat eerste kom nie: die gedig of die reis?
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Oor Parys as ‘n soort “back drop” vir my eie geestelike ontwikkeling. Ek het nie te uitbundig gereis nie, omdat ek in September op daardie groot om-die-aarde-reis gaan: Ooste, VSA, Istanboel. Ek het hoofsaaklik net in Parys gebly en daar het hulle ook soos hier wonderlike oop-bustoere wat die stad karteer. Verder het ek gestap en natuurlik metro gery.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Invloede gis vir jare in ‘n mens. Derrida se Of Grammatology (De la Grammatologie) en die digkuns van Michel Houellebecq wat ek onlangs ontdek het by my vriend Henning Pieterse. Natuurlik is die film Paris je t’aime met sy verskillende vinjette van Parys ‘n invloed. Gertrude Stein, Picasso, Ernest Hemingway, James Joyce en al die ander groot figure wat hierdie stad bewoon het. En die Franse filosofie het ook deur my gewerk: Sartre, Derrida, Foucault. Lacan se psigoanalise vind ek al vir soveel jare belangrik.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Elke digter is in wese haar eie Ideale Leser. Jy moet jou eie sintuie en intuïsie glo. Indien ‘n intelligente leser daarby aanklank vind of sommer net ‘n leser, is dit altyd interessant en aangenaam. ‘n Mens kwel jou gelukkig nie meer oor kaalkop proffies sonder boeke wat byltjies te slype het nie. In my boek oor De Lange wys ek o.a. op die onkunde en gemeenhede wat hierdie digter se werk ontlok het. ‘n Kritise ontvangs is egter baie handig; dit daag ‘n mens uit.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dalk langer?
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Die gedig is in Afrikaans geskryf en vele toespelings verwys na Afrikaanse idiome. Soos die derde keer is skeepsreg.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Die slot suggereer dat ‘n mens dit net versaak. I’l n’y a pas de hors-texte.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek het baie e-posse ontvang en mense kon aanklank vind by die gedig. Parys is immers soos een van my vriende opgemerk het, ‘n karaktertoets. Mens haat Parys of jy aanbid dit. By verskillende geleenthede was my reaksie anders. Ek het ‘n komplekse verhouding met die stad – soos met New York wat ek vanjaar vir die eerste keer na 9.11 gaan aandurf.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Ja as jong kind het ek vyf rand gewen in ‘n poësie-wedstryd met ‘n gedig “die verlange passer vannag in my”. Ek onthou hoe opgewonde ek was toe dit in Die Transvaler verskyn het. Ek probeer altyd weer terugkeer na daardie gevoel oor die skryf van poësie: die ekstase, die opwinding.
(Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.)
Wednesday, August 3rd, 2011
Let wel: Die gedig wat betrekking het op hierdie digstring volg heelonder.
Andries, Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
dit was na die israeli veldtog in ghaza aan die begin van 2009. ek was toe net daar om te kuier by my kind. ek was oorweldig deur die arrogansie en wellustigheid waarmee die israeli media die gebeure gevolg het. ek was redelik ver weg gemeet in reikafstand van vuurpyle, maar dit was nogtans gerusstellend om elke nou en dan verby die bomskuiling (elke huis het een) te loop en weer te kyk hoe dik die staal hortjies voor die venster nou eintlik is. terselfdertyd was ek geskok oor die totale (skynbare) gebrek aan enige publieke verantwoordelik vir burgerlike veiligheid onder die palestyne self, wat ook wel verstaanbaar sou wees. maar as buitestaander het dit soos ‘n absolute makabere passie vir gemeenskaplike selfuitwissing gelyk en ek het hierdie vreeslike bevliegings/ visioene begin kry daaroor. dit was moeilik om nie iets te probeer skryf nie, alhoewel ek nie ‘n politiek punt wou maak nie. dit was meer net oor’n gevoel van hopeloosheid.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
die bomskuiling deel voel nog steeds asof dit so ‘n beweginglose stuk vleis is waarmee mens niks kan doen nie – net sit en los dat dit stadig vergaan. die waarheid is dat ten spyte van hierdie gevoel, het die gedig baie verander sedert die eerste vorm. aan die begin was dit heeltemal vrye vers, of dalk minder vers en meer drama. dit het baie lank gevat voor ek genoeg van die melodrama kon wegsny om dit ernstig te begin opneem. ek het altyd aanvaar dis nie publiseerbaar nie en was verbaas dat ek aanhou karring daarmee. uiteindelik het ek die idee gekry om dit te laat saamwerk met ‘n ander gedig. dit sou ‘n soort implikasie van ‘n gesprek skep tussen twee wêrelde met gedeelde ervarings van meegesleep word in geweld en konflik.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
ek dink die helfte van elkeen van die twee gedigte het in die slag gebly. eers net deur verwerking en toe as gevolg van die samevoeging wat ander eise gestel het. die swoeg en sweet was met die uitwerk van wat weggelaat moet word en die verwerking van die impak van die weglatings. in hierdie spesifieke geval het daar baiekeer gate oorgebly, wat op die ou end doelbewus nie reggemaak is nie. ek dink uiteindelik was ook die idee van die gesprek tussen die twee dele iets wat gegee is en waarmee ek moes werk, al het dit eers baie later ontwikkel.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
dit was eers geheel en al vormloos vir die bomskuilingdeel. die skoolkind deel was meer tradisioneel met strofes en effense rym – hierde deel het ek eers teen die einde van 2009 geskryf toe ek besig was om die manuskrip saam te stel. die ordeningsbeginsel het gekom toe ek besef die twee kon praat met mekaar op ‘n direkte wyse, maar ek was nog nie seker hoe nie. dit was eers na die keurdersverslae teruggekom het dat ek die idee probeer het. daar was ook idees wat gehandel het oor die gesplete bladsy, een kant ingedruk en een kant met ‘n lukrake gevoel van vatkry maar tog los ronddryf. toe moes ek begin dink aan watter tegnieke hierdie idees van ingedruk- en afgekaptheid sal bevorder, sonder om weer te dramatiseer.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
ek het ‘n engelse vertaling (of dalk is dit oorspronklik in engels geskryf, ek onthou nie meer nie) gaan lees by ‘n eksperimentele teatergroep in observatory wat rare optredes het. ek het toe besef hoe problematies die stuk is en dat dit iets meer gaan nodig hê om dit vir myself aanvaarbaar te maak. van die terugvoer was dat ek meer dramaties moet wees met my voorlees en meer moes “op voer”. ek het besef uit watter oogpunt die advies kom en die teenoorgestelde probeer doen – ek sien myself nie as ‘n performance poet nie. nietemin lees ek altyd alle ernstige pogings tot gedigte minstens een keer voor in die openbaar. ek dink die klankbord is ek self en nie die gehoor nie, maar hulle teenwoordigheid verseker ‘n erns en eerlikheid in myself wat baie goed is vir my sintuie.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
die gedig is ses maande na die finale vorm gepubliseer in my debuutbundel wanpraktyk. gedurende die afronding van die manuskrip het ek baie gewerk aan die grafiese vorm ook. hoeveel afkappingstekens is te veel? hoeveel wou ek hê? is daar spasies tussen die /-tekens en die woorde langs hulle? hoe wyd is die ingedrukte kolom? is daar enige verborge boodskappe wat ek nie van bewus is nie? ek moes uiteindelik my eie uitleg doen en dit in pdf formaat na die uitlegkunstenaar stuur omdat ons nie dieselfde fonts gehad op ons rekenaars nie en dus nooit dieselfde resultate gekry het nie. hy moes dit waarskynlik kroek om dit soos myne te kry.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
in hierdie konteks is daar nie so iets soos feit en fiksie nie, die narratiewe is te gefragmenteer en onderhewig aan allerhande geweld. dit is my storie en my perspektief en in daardie sin niks meer as fiksie nie. ek probeer wel so ver as moontlik uit persoonlike ervaring skryf of uit beelde wat gebaseer is op dit wat ek ken.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
daar is nie ‘n maklike antwoord nie. ek het nog nooit gevoel ek wil iets sê oor die midde ooste en die probleme daar nie – ek sou nie sê dit handel uitsluitlik daaroor nie. my persoonlike ervaring van vasgevang wees in ‘n geweldige betwiste spasie, waar weerloosheid uiters gevaarlik is en mag geen logiese voordeel bring nie, het aanklank gevind in ander situasies waar hierdie ervaring verhoog is. dit gaan oor marginalisasie, die ooreenkoms in die bedreiging van die wat jou naaste is met die wat hou vyande is. die blindheid wat mense se stories en lewens vir mekaar het. dat jy jou kop kan stamp en stamp teen iets en al wat verander is die skuld wat jy dra. ek dink ek kyk hier van buite sowel as van binne na iets, wat dit ook al mag wees. die iets is so vreeslik dat ek nie direk daarna kan kyk nie maar daar rondom moet probeer praat. ten spyte van die onbeweeglikheid van die oorspronklike materiaal en die gevoel dat ek niks daarmee kan maak nie, het ek tog besef ek het iets wat ek wil uitwys met hierdie spesifieke agtergrond as voertuig.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
niks wat ek onthou nie, in terme van ‘n skeppende werk. net die meedoënlose televisienuusbeelde en die masjiengeweer gehamer van die nuuslesers en hulle korrespondente en ontleders. die titel was wel ‘n buite-invloed: dit kom uit ‘n lied van tanita tikaram – twist in my sobriety. ek onthou die musiekvideo het tonele gewys in so ‘n troostelose windverwaaide woestynlandskap en die lirieke en die musiek is baie beklemmend maar sonder dramatiese gewig. ek dink die verwysing was net soveel na dit as na die “all god’s children”, wat ironies mag voorkom.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
omtrent nooit. daar is eerder ‘n vreesaanjaende gedaante wat mens kan noem: “die oor”. partykeer is dit meer my eie sintuig en minder bedreigend, maar gewoonlik is dit iets met meer mag en outoriteit as wat ek teen opgewasse is. met daai oor in aksie kan ek al voor die tyd hoor dat iets nie gaan werk nie en dan skryf ek dit nie eers nie.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
die vorm is spesifiek vir hierdie gedig en ek dink dit leen baie uit my werk as argitek met diagramme en konsep-ontwerpe. mens kan maar sê form follows function op ‘n tipografiese manier. dit is baie moeiliker as wat ek gedink het, en ek hou gewoonlik by meer tradisionele poëtiese verbande tussen vorm en inhoud.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
behalwe dat dit ‘n lang storie is wat nie rêrig ‘n punt het nie? ek dink nie so nie, maar ek is seker mens kan iets miskyk in hierdie geval.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
die enigste rede hoekom ek dit nie uitgelaat het nie, is omdat ek dink dit vir my persoonlike narratief essensieel was om dit deel te maak van die bundel. die gedig voel soos iets wat nog baie werk nodig het, dis nie nog die laaste een of twee persent voor perfeksie nie. ek dink die verbetering van hierdie gedig lê nie binne my vermoë nie, maar ek het besluit dis goed genoeg, met ‘n genoegsaam ongewone vorm, binne die konteks van wat die bundel nodig het. ‘n goeie eksperiment.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
ek kan nie sê ek het al enige reaksie gekry wat my bygebly het nie. dit kom voor of meeste mense ongemaklik is hiermee maar dit oorsien. ek weet nie of dit die inhoud of die vorm is nie. ek hoop hierdie digstring bring dalk genoeg van ‘n reaksie om die eksperiment te laat uitloop.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
ek kan dit onthou ja, maar ek het geen kopie daarvan nie en die inhoud het ek nou geen idee meer van nie; waarskynlik was dit ‘n liefdesgedig. ek het in die hoërskool ‘n kompetisie uitgereik deur jong dames dinamiek daarmee gewen, so ek is seker dis nie iets waarmee ek gekonfronteer wil wees nie.
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.




(c) Andries Samuel (Uit: wanpraktyk, 2011: Human & Rousseau)
Sunday, September 12th, 2010
Digstring. Enkele vrae oor die rugstring van ‘n gedig
Louis Esterhuizen in gesprek met Johann Lodewyk Marais
| RICHARD E. LEAKEY
Here is the Africa of unlimited space,
of tranquility and of great beauty.
Die huis met sy wye uitkyk
suidwes oor die Groot Skeurvallei
bied aan die gesin na maande
se ondersoek ‘n verposing.
Hier kan hy Ol Donyo Lengai
ver in die vallei sien sluimer
en vroegaand die Masaikinders
met hulle beeste hoor aankom.
Wanneer die maan oplaas ligtend
bo die vlaktes en berge hang,
sal hy ‘n oomblik lank terugsit
en oor name van spesies peins.
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf? Hoe het dit ontstaan?

- RICHARD E. LEAKEY
Op 2 Maart 2008, maar ek het daarna weer aan die gedig verander. Ek het op hoёrskool ‘n artikel oor dr. Richard E. Leakey in Die Huisgenoot van 18 Januarie 1974 gelees. Dit vertel van Leakey se ontdekking van ‘n 2,8 miljoen jaar oue skedel aan die oewer van die Rudolfmeer (later die Turkanameer) in Noord-Kenia. Die artikel en ‘n foto van Leakey “met sy ‘Adam’” voor ‘n rak met natuurkundige boeke het ‘n geweldige indruk op my gemaak. Dit het trouens baie tot my jare lange belangstelling in die Leakeys en Kenia bygedra. Vroeg in die 1990′s het ek die charismatiese Richard Leakey twee lesings in Suid-Afrika hoor lewer. Saam met hom op die verhoog van ‘n volgepakte Great Hall van die Universiteit van die Witwatersrand was vermaarde paleoantropoloё soos proff. Phillip V. Tobias en Ron Clarke, en dr. Bob Brain. Leakey het ‘n lesing oor sý paleoantropologiese werk gelewer. Wat ‘n belewenis! Kort daarna het hy by Eskom se Megawattpark oor natuurbewaring in Kenia gepraat. Dié aand het hy korte mette gemaak met Suid-Afrikaners in die gehoor wat teen die CITES-verbod op ivoorhandel gekant was. Na dié besoek het ek omtrent alles gelees wat hy geskryf het. My latere besoeke aan Kenia het my na die Nairobi National Museum geneem waar onder meer van die skedels (eintlik “kroonjuwele”!) te sien is wat die Leakey-familie (en fossielsoekers soos Heslon Mukiri en Kamoya Kimeu!) in Oos-Afrika gevind het. Ek het ook besoek gebring aan museums en parke in verskillende dele van die land wat Richard Leakey as direkteur van die National Kenya Museums en later as direkteur van die Kenya Wildlife Service help vestig en in stand hou het (deur byvoorbeeld ‘n paramilitêre eenheid op die been te bring om wildstropery aan bande te lê). Op die eiland Lamu, hoog op teen die Keniase kus, het ek spesiaal moeite gedoen om Richard en Meave Leakey se Swahili-vakansiehuis te sien. Ek het ook gesprekke met gewone Keniane oor hierdie beroemde én omstrede man gevoer. Kortom, my gedig(gie!) oor Richard E. Leakey het eintlik ‘n lang ontstaansgeskiedenis.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
My gedigte is selde ná die eerste skryfpoging klaar. Gewoonlik is daar ‘n hele aantal handgeskrewe of getikte weergawes van ‘n gedig. Daarna kry en/of vra ek dikwels terugvoer oor die woordkeuse, woordorde, ritme en versbou. Ek het uitstekende “literêre adviseurs”, wat help om talle gedigte hulle finale vorm te gee. Veral wanneer ‘n mens tussen twee of drie woorde moet kies, help dit baie om ‘n tweede of derde mening te kry. Ek werk hard en dikwels jare lank voordat ek met ‘n gedig tevrede is. Wanneer die gedig eers in ‘n bundel verskyn, is daar min wat ek verder daaraan kan of wil doen. Dan stop ek en bepaal my aandag by nuwe werk.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
In die lig van wat ek vroeër gesê het, moet dit duidelik wees dat hierdie nie ‘n “toevallige” gedig is wat op die ingewing van die oomblik ontstaan het nie. Die skryf self het weliswaar redelik vinnig verloop, hoewel die gedig aanvanklik in die tweede persoon geskryf is en ek nogal met die slotreël gesukkel het. In die slot wou ek immers iets sê oor Leakey se paleoantropologiese preokkupasie, maar dit op so ‘n manier doen dat die gedig meer as net wetenskaplike feite weergee. Joan Hambidge het in haar resensie van Diorama in Die Burger (23.8.2010) bevind dat die beeldgedigte nie “dordroё navorsingsgedigte” is nie. Dit is vir my ‘n riem onder die hart.
Hoe het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Ek het ‘n resep wat goed vir my werk. Gewoonlik probeer ek die woorde in ‘n redelik beproefde struktuur giet, tel dikwels die lettergrepe in elke versreёl, luister of die klank reg is, en besluit of suggestie genoegsaam bewerkstellig is en die gedig visueel “reg” op die bladsy lyk. Maklik, nie waar nie?
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en met die persoon bespreek? Is daar iemand (of ‘n instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ja, ek wys graag my gedigte vir dié wat bereid is om as klankbord op te tree en, indien nodig, voorstelle ter verbetering van my gedigte te maak. Renée Marais was veral in die beginjare as ‘t ware ‘n tweede stoel agter my lessenaar. Met haar sintuig vir die poësie en taalgevoeligheid maak sy goeie voorstelle. Sedert 1986 is ek ook ‘n lid van die digtersbyeenkomste onder leiding van vader Bonaventure Hinwood wat gereeld in Pretoria bymekaarkom om mekaar se gedigte te bespreek. Mense soos Hinwood, Henk Havenga, Costa André Georghiou en Kobus van der Riet lewer almal ‘n bydrae tot my werk. Vroeër het Johann de Lange goeie wenke gehad en ek gaan steek soms kers op by die groot Sestiger, D.P.M. Botes. Ek moet ook Martjie Bosman se naam noem. Sy is ‘n intelligente leser van my poësie en kom meermale met uitstekende wenke vorendag. Ek is baie dankbaar vir die bydrae wat sy (en die twee keurders!) tot die afronding van veral Diorama gelewer het. Haar geduld is tot die uiterste beproef, want ek verander nog aan gedigte tot op die finale bladproewe! Dan benut ek ook literêre tydskrifte om van my gedigte afstand te kry en verander hier en daar nadat hulle daarin gepubliseer is. ‘n Digter hoef nie met die kaarte teen die bors te sit en speel nie, en moet ook nie!
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Die gedig het die eerste keer in Literator 30(3), Augustus 2009 verskyn. Daarna is die gedig in Diorama (2010) opgeneem.
Kan jy ‘n ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die gedig is op “feitelike gegewens” gebaseer, maar die “fiksie” dra tot suggestie by. Maar moet nooit vergeet nie, ek is baie op feite gesteld. Antjie Krog en Petra Müller het albei al gefrons oor die prioriteit wat ek aan feite in (my) gedigte gee. Ek wil nie leer nie! My benadering is anders.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit is nie ‘n moeilike gedig nie. Die leser behoort self ‘n antwoord op hierdie vraag te kan gee. Ek dink wel dat die gedig veral iets met verwondering te make het …
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?
Daar is sekerlik baie boeke agter hierdie gedig. Daar is nietemin veral ‘n gedeelte in Leakey (en Virginia Morell) se Wildlife Wars: My Battle to Save Kenya’s Elephants (2001) waarin Leakey skryf oor die gesin se woning met ‘n uitsig oor die Groot Skeurvallei “which drops away some fifteen hundred feet and stretches across forty miles”. Op ‘n helder dag “you can see for more than a hundred miles. The highlands of Tanzania’s famous Ngorongoro Crater and the last active volcano in this area, Oldonyo Lengai, are both clearly visible” (p. 24). ‘n Keer het ek tydens ‘n vlug na Nairobi dié vulkaan sien uitbars en by verskillende geleenthede oor die manjifieke Groot Skeurvallei uitgestaar. Leakey skryf mooi oor sy ervarings.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nie noodwendig nie. Ingeligte en literêr geskoolde lesers is belangrik, maar dit gee my groot vreugde indien nieliterêre lesers en lesers wat in ander dissiplines geskool is in my werk belangstel. Die nieliterêre leser is baie belangrik en ek wens ons kan nog meer van hulle in die Afrikaanse poësie geïnteresseerd maak. Die Afrikaanse poësie bied immers ‘n ryk skat. Met my werk oor die omgewing en bietjie belesenheid in die natuurwetenskappe hoop ek om ‘n effens ander dimensie by te dra, al het ek sekerlik voorlopers soos N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Wilma Stockenström en T.T. Cloete.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Verstegnies verskil die gedig waarskynlik nie baie van my ander gedigte nie. Tematies handel die gedig oor Oos-Afrika, wat al meer en meer ‘n onderwerp van my navorsing en gedagtes is. Ek het die afgelope tyd iets van ‘n digterlike ontploffing beleef en die meeste van die gedigte is geskryf na aanleiding van my Oos-Afrikaanse leeswerk en reise.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee. Nie alles wat ek skryf handel oor Suid-Afrika en hoef oor Suid-Afrika te handel nie. ‘n Mens sou dit dalk vir wat dit werd is ‘n Keniase of Afrika-gedig kon noem.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek is tevrede met die gedig. Oor Leakey sal ek moontlik nog meer (gedigte) skryf.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Die lede van die digtersbyeenkoms het positief op die gedig gereageer. Nadat Literator hierdie en nog ‘n klompie ander gedigte oor figure ontvang het, het die hoofredakteur, prof. Hein Viljoen, laat weet dat hulle “treffend en aktueel” is. Ek het dus niks om oor te kla nie, hoewel die gedig tot dusver deur min ander lesers uitgesonder is.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ‘n ietsie daarvan.
My eerste gedig was ‘n liefdesgedig wat ek oor my skoolmaat, Dalene van Rooyen, geskryf het. Ek was in standerd 5 op Harrismith en ek het haar een aand by ‘n volkspelebyeenkoms raakgeloop, met haar gedans en die aand dolverlief daar weggegaan en lank daarna verlief gebly. Dit sê nogal iets van die poësie dat iets so intens en persoonlik soos die liefde ‘n mens uitdrukking in hierdie medium laat soek of jou hart daarin wil laat uitstort. Ek was in standerd 5 nog geen groot leser nie, maar die muse het my om een of ander rede kom opsoek. Nou ja, eerste liefdes het ‘n manier om ‘n mens by te bly en dalk probeer ek maar nog altyd om daardie eerste gedig oor en oor te skryf en te verbeter! Ons Engels-onderwyseres in die hoёrskool, Miss El Bedford, het ons immers ad nauseam “corrections of corrections” en “corrections of corrections of corrections” laat doen. Dit het, vreemd genoeg, ‘n soort literêre perfeksionisme by my wakker gemaak.
 Johann Lodewyk Marais
Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het in 1975 aan die Hoёrskool Harrismith gematrikuleer. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 2001 ‘n D.Litt.-graad (cum laude) vir sy proefskrif oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf. Hy het vroeër onder meer ‘n M.A.-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal.
Marais debuteer as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is ‘n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog vyf bundels, naamlik Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002) en Plaaslike kennis (2004). Hy stel ook drie digbundels saam, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek. Sy nuutste digbundel Diorama het vanjaar by Protea Boekhuis verskyn. Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort. |
Erkenning: Die konsep van Digstring kom van Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Thursday, September 2nd, 2010
Digstring
Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig
|
Fluistering
Dis juis die ding van fluister –
dat mens nie maklik hoor nie,
dat jy jou voete skeef kan sit en struikel
oor iets ooglopend soos ’n klip
wat skynbaar niks anders is as dit nie.
Dis juis die ding.
’n Fluisterklip laat niks deurglip
harder as die hartklop van ’n klip,
niks luider as die spin uit kwartsietkele
of soms ’n gles uit diamant nie.
Fluister is die sluimering vóór woorde begin
soos berge beweging is,
diép binne-in.
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Ilse? Hoe het dit ontstaan?
Die gedig is geskryf in 2007, n.a.v. kritiek dat die begrip “fluisterklip” onrealisties en geforseerd is.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig het deur verskeie weergawes ontwikkel, hoewel die begin en einde min of meer dieselfde gebly het.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Soos gewoonlik gebeur, is die meeste van die vers aan my “gegee”. Die afronding is maar altyd wroeg en sweet.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Weet nie of ek die vraag mooi verstaan nie. Wat is “ordeningsbeginsel”? Onderdelingsbeginsel? Ordeningsbeginsel? In ieder geval.) Ek bedink nie juis die vorm wanneer ek skryf nie. Meestal timmer die keurders en/of uitgewer dit in plek indien nodig.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?
Nee. Ongelukkig het ek nie meer ’n klankbord nie. Ek dig maar in die duister.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Dit is in 2008 gepubliseer in Fluisterklip.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Vir my is dit alles “feit”, of dit nou realiteit is of metafoor. Daar is geen fiksie in dié vers nie.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit gaan oor die sluimerende poësie in die wêreld om ons, dié dinge wat mens mis as jy raserig verbyjaag. Al struikel jy daaroor, gaan jy dit steeds nie raaksien of raakhoor nie. Om dit te “ontvang”, verg vir my baie ure se stilsit, stilbly en fyn luister.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gehad het?
Die oorspronklike begrip van ’n fluisterklip kom van ’n sg. “whispering stone” wat my ma in die veld opgetel het en wat ons met gepaste seremonie in die fondasie van my huis ingebou het in 2004.
Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?
Nee, ek skryf maar neer wat na my kant kom. Wie lees, moet lees.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dis ’n terugantwoord, wat ek nog net in een ander gedig probeer het, nl. “Belydenis” in dieselfde bundel. Dit is ook selde dat ek ’n gedig begin met ’n vooraf konsep oor wat ek wil sê, gewoonlik beur ek maar die donker in totdat iets vorm aanneem.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee.
Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Die middelste strofe is steeds vir my nie bevredigend nie.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek weet selde wat lesers se reaksie is op my werk.
’n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan.
My eerste gediggie het ek in Mei 1979 geskryf, toe ek in graad een was. Dit gaan oor ’n eend wat ’n vis vang. Ek het dit gebruik as subopskrif (?) in die gedig “Variasie op ’n tema” in Watervlerk.
 Ilse van Staden
Ilse van Staden is in 1972 in Pretoria gebore, maar het grootgeword in die Waterberge in die Limpopoprovinsie. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Pro Arte (Pretoria) en studeer veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Van 1997 tot 2005 praktiseer sy voltyds as veearts. Sedertdien is sy deeltyds veearts en deeltyds skrywer. Haar debuutbundel Watervlerk (2003) ontvang die Eugène Marais- en Ingrid Jonke-pryse. Sy is tans besig met ’n B.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Suid-Afrika. Haar tweede digbundel, Fluisterklip, het in 2008 by Lapa verskyn.
|
|
|