Digstring
Tuesday, July 27th, 2010
Digstring
| Poets van ons vaderland unite
hierie, landgenote, isse klein scarlattigrappie vir princess benjamin
en sweetness pikini altwie offisiere in macassar se poeliesietasie.
kom sweetness pikini wattie inpas inne bikini soe ten o’clock
by princess benjamin wyl sy canderel roer in haar rooibos
dis nou agterie klagtetoonbank assie muise ophou piep
ennie walrus ingeslaap het
wattie grass ennie crystals ennie ecstacy
die coke ennie pitte ennie acid
die lollies ennie tubes ennie enema direct
moet guard wat afgevat is vannie witpype
ennie rook-ore ennie tikgatte ennie lanies
mettie raybans innie omtes
en soes hultwie ok maar peanuts merrit verdien
hierie isse klein scarlattiwietelattie virrie princess mettie stokkie
ennie swietiepaai twiere in bevel mettie hectic schemes: check haar,
uitie stasie se kantien uit kom sy swaaigat met haar koffie
tik pikini die roaring royalty op haar linker epaullettie mettie peitsie
left right left soes hulle tieliepels klieketietieng
innie macasserse terrible twieling koppies
ennie security mettie klokkie byrie ingang gan slaap het in sy hokkie
heita blue blood vannie station, wienk nikita pikitini
my coolste kortrokqueenie wattie baas is
ek wiet iets van hierie piepmuis macassarse poeliesiestasie
wat twie mighty meisies soes ons nie kan wiet
sonner ommie pieperellekoors te slaatie :
‘n hooimied dagga in goingsakke wat lê en kwagga
vir fokol in ons store room, wat sê jy kom ons varrit
hierie kamtige evidence van ‘n swart gat innie universe
ons is mossie magtagge ladies van hierie vloere
en fokkie wieke lank wag oppe kieriekopsalaris
ek wietie van jou nie kommissaris ma’ my tjieng is oppiedoppie
en ek soeke sony enne aaiPot enne perm
ek soeke lexus soesie ene van-aai merrim
van korrektiewe dienste wattie langer wou ry nie inne krokkie
en hierie tonne woollies quality dagga lê nagge
en dagge onner onse nieste vir miljoene
mettie hele township wattie sal droom om te splittie
as onsie bale wiet op hulle voorstoepe gan droppie
hierie isse klein scarlattijumpstart virrie poelieste
wattie wiet hoelat hul met hulle highnesses
en swishy swieties innie macassars in moet makie:
nou varrit van my, al wat mens kan maak isse musiekie
net ‘n biekie met domenico scarlatti wattie winkel uit my tong yt tickle
en my answitch soes dominoes op trickle
got, ennie princess issie starrag oppie uptake-ie en sy sê:
fok pikini nou maak jy my tieties tight en pieng
sit sy haar tieliepel innie piering en rukkie klokkie yt sy bracket
en twiekie walrus se slietelbossie
yt sy belt en da ’ gat hulle soes thelma en louise
soes bonnie en clyde, ma met daai sjiek sashay
vannie swinging macassar chickies en hulle begin laai
daai dagga ytie evidence hold binne innie gat vannie meraai
hierie gattie vyf trips wiesie, more likely fortie, sê miss benjamin
virrie swiet poppie mettie brainwaves van macassar se poeliesiestasie,
ons korte fokken lorrie enne paar cool copse vannie flatse
vir operation transport
dissie klein scarlattikotiljonsie dié virrie inhouse scandal van macassar
ennie understandable motives vannie verdagtes,
want guilty kan hulle byna nie wiesie mettie example
vannie selebi’s ennie miesies van cwele wat mettie mules
smsies piep ennie hele effing country wat in sy moer in is nie
hierie isse klein scarlattisongkie bietjie sad ok hier om middernag
mettie screech owl wat skrou ennie ruik van brand uitie hiewels
dis tyd virre modulation innie minor key ma’ my ghrêmmer is exhausted
en pogorelich spelie bure wakker hoe lykit as ek jitsvinger invite
om hierie item te promote onnerie slogan:
poets van ons vaderland unite
en hourie nasie ytie crooked ways
vannie law enforcers yt
(Ps: En dan wil hulle nog ‘n threeday million dollar paartie gooi, so lank as warrit
gevat het vi’onse djirre djesus om te resurrect! Daais mos totally insane!
Maggie potholes om hulle insak innie godforsaken Bloemfontein!)
© Marlene van Niekerk. April 2010
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Marlene? Hoe het dit ontstaan?
Ek het die gediggie geskryf na aanleiding van ʼn storie in die koerant van die twee polisievroue wat dagga uit hulle eie polisiestasie in Macassar gesteel en toe daarmee gaan smous het, baie snaaks. (DB 13 Januarie p. 9)
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Nee, dit was redelik vinnig, miskien met ʼn bietjie duikkloppery die dag of twee nadat die lyf uitgekom het.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet? )
Heelwat was “gegee”, nie soveel gewroeg en gesweet nie. In die eerste plek was dit die polisievroue se wonderlike name Princess Benjamin en Sweetness Pikini wat my aangedraai het.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
So tydens die skryf het ek twee vormingsmiddele beetgekry, as mens nou hierdie noemer wil gebruik, naamlik klank en ʼn handeling: die “ie”-klank deurgaans, soms met bondels alliterasie op “s”en “t”, en voorts ʼn anekdotiese inslag met ʼn refreinagtige betragting tussen die “hoofstukkies” van die verhaaltjie. Ek wou ʼn komiese praatvers skryf, iets met die oog op voordrag, vandaar die langerige reëls met baie sillabes, en met sinkopasies wat deur grondmetrum hik, met ander woorde ʼn verhaal wat ook klink na iets. Ek dink nie dat anekdotiese gedigte noodwendig klankskraal of prosaïes hoef te wees nie, of dat die praatvers in opposisie gemaneuvreer moet word teenoor klankdigte nie. Mens kan met een en dieselfde lepel ʼn storie én ʼn musiekie in die ore gee. En my ore is altyd hongerig vir’n musiekie. Ek toets hierdie soort gedig ook altyd in mondelinge vorm uit op mense wat nie reëlmatig poësie lees nie, en maak aanpassings waar nodig sodat dit goed begryplik is.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ja, ek lees dit altyd voor aan my eerste leser, iemand met geoefende ore vir klank en ritme en ʼn antenna vir swak reëls en ongepaste woordkeuse. Soms slaan ek natuurlik goeie raad in die wind.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Ek het dit so twee maande nadat ek dit geskryf het op Versindaba gepubliseer. Dit is ʼn goeie plek om lesers se reaksies te toets.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Wel, die feite staan in die koerantberig, die twee polisievroue het regtig die dagga gesteel uit hulle eie polisiekantore en dit gaan verkoop in die township. Die sosiaal-maatskaplike omgewing van korrupte polisiëring en ongebreidelde gierigheid en dwelmgebruik klop geredelik met die Suid-Afrikaanse werklikheid. Die dramatisering, die dialoog, die ruimtelike inkleding, die psigologie van die betrokkenes is natuurlik volledig gefabriseer. Die spot en die kritiek, is van die spreker in die gedig, is tendensieus en subjektief, die gebruik van ʼn soort Afrikaaps maak dit familiêr. Ek luister dikwels straatgesprekke af en gaan werk dit tuis verder uit. Die worldcupgedig op die Versindaba webblad het ek in Andringastraat voor die drankwinkel gehoor en met slegs klein bystellings net so gaan oorskryf. Ek dink ons lewe in ʼn soort limerick in hierdie land.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dis gewoon grappig, slapstick satire. No great shakes, geen pretensie tot enige of ewigheidswaarde en inhoudelik ook absoluut niks nuuts nie. Mens lees elke dag sulke stories in die koerante. Dis maar net variasie op die tema, ʼn klein kritiese klank- improvisasie.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?
Toevallig was ek tydens die koerantlees aan die luister na sonates van Scarlatti soos gespeel deur Pogorelich. Die klank van die polisievroue se name, die ritmes van die Scarlatti-musiek, die gedefinieerde, stuwende aanslag van Pogorelich, het saamgewerk om die vorm van die gediggie in te gee. Nie dat ek so ʼn oordrag van musiek na woorde ooit kan laat slaag nie. Digters bly altyd ver agter by musiek, by wat musiek kan regkry. En dis ʼn lang tree van Kaaps tot Scarlatti, maar wat die ritme en die speelsheid betref, voel ek, is hulle familie!
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
My vraag by die “politieke”gediggies wat ek deesdae soms skryf is: hoe kom ek by die ore uit van die groter publiek? Maar ek dink die groter publiek het hoofsaaklik ore vir lui-tone van selfone en die geskal van vuvuzelas. Ek het die na die media gestuur. Die Son wou dit nie publiseer nie. Die Burger ook nie en ook nie BY nie. Gewoon te lank miskien? Of op papier te moeilik? Of politiek onkorrek? Die teks het ondertussen in aangepaste vorm ʼn plek gekry in ʼn stuk dialoog in ʼn “betrokke” toneelstuk wat ek vir vanjaar se Aardklop geskryf het. Ek weet nie of daardie gehoor soveel sal lag soos die vroue agter die toonbank by die BP garage vir wie ek dit voorgedra het nie.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Toe ek jonk was het ek soeterige natuurgediggies geskryf. En toe vir dekades geen poësie meer nie. Vanaf 2005 is ek weer besig om in alle rigtings te eksperimenteer met poësie. In die laaste tyd skryf ek soms kortverhale en romanteks aanvanklik in versreëls en plaas dit dan terug in prosavorm. Ek ondersoek straattaal, soos in hierdie gediggie, maar ook minimalistiese liedagtige inkledings, en ook ʼn impressionistiese styl, af en toe iets filosofies. Ek beskou myself as eksperimenteerder. Deesdae bring die politieke toestand in ons vaderland my in beweging, op dieselfde manier as in die laat tagtigs toe ek kabarettekste en rymelary geskryf het teen die wit nasionaliste. Die tyd is lankal ryp vir fel kritiese poësie, soos Zapiro-spotprente, maar dan in digvorm. Vandaar die oproep in die Kaapse gediggie: poets van ons vaderland unite.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ek dink dis ʼn hiper-Suid-Afrikaanse gediggie. Ek dink dis krols en kreools en dit was lekker sports om dit te skryf. Mens wonder natuurlik terwyl jy dit skryf of nie-Suid-Afrikaners hoegenaamd iets daaraan sou hê. Ek het die kans gevat, en ʼn Engelse vertaling wat ek self gemaak het, uitgedeel aan die gehoor by ʼn onlangse poësievoorlesing van PEN se World Voices Festival in New York en dit vervolgens in Afrikaans vir hulle voorgedra, min of meer in ʼn “rap” styl. Die reaksie was heel entoesiasties, miskien vanweë die “inheemse” klank daarvan? By dieselfde geleentheid het ek ook gedigte in Afrikaans van Antjie Krog uit Die sterre sê Tsau, in Afrikaans voorgedra, en ook dit het groot byval gevind. Ek dink die meeste mensdiere hou gewoon van ritmiese patrone, dis waarskynlik ons reptielbrein wat val daarvoor, miskien ʼn soort refleks. Van peristalsis tot fornikasie is ons lewe ritmies, dat ons gedigte soms ritmies is, voel vir my heel natuurlik.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek dink hierdie ene is weens die aard van die materiaal redelik “klaar”. Dis vir my makliker om sluiting te vind vir so ʼn soort aktuele vertelgediggie as vir ʼn komplekser gedig wat vir my op baie vlakke moet sin maak of in ʼn meer gebonde vorm moet beslag kry.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan..
Daar is altyd ʼn mengsel van aanmoediging en kritiek. Maar ek glo: marsjeer op jou eie trommelslag, en doen wat jy moet doen, wat jy kán doen, wat jou tevrede maak, of dit nou mode is of nie. Op die ou end gaan dit tog eintlik net daarom om ʼn bietjie plesier te beleef op hierdie ondermaanse. Die res sal net die tyd kan leer.
ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Dit was ʼn langerige gedig oor die Suidoos, met die beginreël iets in die lyn van: “My heer die Suidoos, Don Juan van die winde” wat ek geskryf het toe ek in matriek was. Kon dit toe reeds moeilik verdra dat die Suidoos bloot die Suidoos is, tsk. Dit is waarom Pessoa vir my so boei. “Er is metafysica genoeg in denken aan niets”, (in die vertaling van August Willemse). ʼn boom is niks behalwe boom, ʼn klip is alleen ʼn klip. Maar dan net in die stem één van sy heteronieme. Pessoa het sy Herostratos-kompleks baie goed begryp en dit op aangrypende en intelligente wyses aangewend, onder andere deur stemvermenigvuldiging. Mens kan leer daarvan.
 Marlene van Niekerk
Marlene van Niekerk is die skrywer van twee digbundels Sprokkelster (1977) en Groenstaar (1983), een bundel kortverhale, Die vrou wat haar verkyker vergeet het (1992), en twee romans Triomf (1994) en Agaat (2004). Sy is tans verantwoordelik vir die begeleiding van M.A.-studente in die skeppende skryfkunde. Sy vra haar af of die enigste subversiewe daad in ʼn gebrutaliseerde samelewing nie dalk die skryf van klein gediggies is nie.
Van Niekerk het die volgende toekennings ontvang: 1978: Eugène Marais-prys en Ingrid Jonker-prys vir Sprokkelster en die Kanseliersprys van die Universiteit van Stellenbosch; 1995: M-Net-prys, CNA-prys en Noma-prys vir Triomf; 2005: UJ-prys vir skeppende skryfwerk vir Agaat. Sy het ook in 2007 die Hertzogprys vir hierdie roman ontvang.
Luister hier na ʼn video-greep van ʼn onderhoud met Marlene van Niekerk.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Tuesday, July 20th, 2010
Digstring
| Man diesel
Hoe kom ‘n vers
na jou toe
vra jy op vrouedag in hendrik potgieter
ek skud my kop
en sê nee ek weet werklik nie
want dis soms vreemd
die hele ding
ons sou byvoorbeeld
op pad makro toe
wees om te gaan wyn koop
en dan klim daar
sommerso
‘n vers by ‘n man diesel
se deur uit
en tuur ver in sy blou overallbroek
na die metrocop wat hom pas
afgetrek het
en verstel onder sy maag
aan sy belt se kopergespe
vee met swart naels
en ‘n hand so groot
soos my oupa s’n
oor sy sweterige
voorkop
en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe
en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself
(c) Johannes Prins (Uit: een hart, 2009: Lapa Uitgewers)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jo? Hoe het dit ontstaan?
Seker so ses maande voor die publikasie van een hart.Ek ry gereeld in Hendrik Potgieterrylaan aan die Wes-Rand Makro se kant toe om te gaan wyn koop. Wyn koop is vir my effe van ‘n ritueel - ek kan ‘n uur of langer daar tussen die rakke staan en niks koop nie. Óf ‘n kis of twee - afhangend van die finansies & die behoefte…
Dit was op pad terug van só ‘n ekskursie (op Vrouedag) dat ek die grote Man Diesel-trok langs die pad sien staan het - daar waar dit deur die metropolisie afgetrek is. Op my eie - maar die gesprek in my kop was dié van ‘n vroeëre vraag wat my vrou my eenkeer gevra het: “Hoe kom ‘n vers na jou toe?”
En, soos dit in die vers uitkom, weet ek dikwels nie hóé dinge inmekaar val nie. Maar die ryery - soos bestuur met my maak - stem my dikwels tot skryf. En skielik het ek dié groot ou met die boeppens by die trok sien uitklim, en daar staan my oorle oupa voor my. ‘n Groot man van Adelaide in die Oos-Kaap wat ek dink beter Xhosa as Afrikaans kon praat.
In ‘n oogwink staan ek daar langs my oupa op die rooi stoep in Millstraat 1, Adelaide. Die ou groot huis agter ons met die silwer sinkdak wat neerbuig op wit pilare terwyl sonbesies die stofstrate se hitte besing.
En my oupa wat met sy geliefde sakmes ‘n appel sit en skil & dan die skil so langs my op hou om te wys “dis langer as jy!”.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die laaste twee reëls het aanvanklik heeltemal anders gelyk (in vorm). Maar die res het redelik vinnig gekom.
Dit was vir my baie belangrik om daai twee reëls “reg” te kry, want dis die laaste woorde in dié gedig wat die sluiting van die hele bundel moes bewerkstellig.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Al’s is gegee - gelukkig. Maar die laaste twee reëls - soos hierbo gesê - het bietjie tob & ‘n glas of wat Thelema Shiraz geneem…
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?
Geen ordeningsbeginsel nie, nee. Toe die laaste twee reëls se wending vir my werk, toe werk hy.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Gewys ja, maar nie bespreek nie. My vrou sien meeste van my gedigte & ek hang nuwe verse gewoonlik teen die muur langs my rekenaar by die werk. Dan daag daar soms mense op & sê iets daaroor.
Van die verse in een hart is vir vriende in Kaapstad & Pretoria gestuur. Maar meer as reaksie op ‘n e-pos eerder as ‘n “kan ons die vers bespreek”. Natuurlik is die gevolg kommentaar op die vers waaraan ek my gewoonlik steur.
In een só ‘n e-pos het ek die slot van die inka-vers “melkweg” by Joan gekry.
Verskeie vroue figureer in die bundel - meeste van hulle is geken in die saak. Ek dink net een nie… dalk twee.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Spesiaal vir een hart geskep - hoewel ek dit nie toe geweet het nie.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die gesprek in my kop in die vers is heeltemal fiktief - dit het nooit gebeur nie.
Die herinneringe aan die stoep en my oupa-hulle en Adelaide is heeltemal gesien deur die filter van my jeug. Fiksie voorop!
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Metapoësie; kommunikasie; kreatiwiteit; vertaling van ‘n realiteit; transportasie; herinneringe - dis wat by my opkom.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Nope.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Beslis ja. Dikwels spreek ek iemand spesifiek aan oor wie die gedig gaan of wat by die ontstaan daarvan betrokke is. Ander kere is dit ‘n meer algemene leser ingedagte om insae te gee waarheen ek met die bundel gaan.
By een voorlesing by die Stoep in Nelspruit so maand of wat gelede, het ek agtergekom dat brugspelers (natuurlik!) dié bundel meer toeganklik vind. Hulle verstaan die taal - hulle kliek net.
Deesdae wanneer ek voorlees begin ek met: “Wie van julle speel brug?” By die Stoep was die gesprek tussen my en die gehoor soos ‘n brughand self.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Net twee verse in die bundel is “poësiebeskoulik” soos Bernard (Odendaal) daarna verwys het: die eerste een & die laaste een.
Hier wou ek sluiting bewerkstellig wat aansluit by baie verse (wat tussen hakkies is) & die hart én selfs die “a” van die hart op die voorblad. Om uit die hart te praat en om úít te praat (uit ‘n spesifieke konteks) & om dit verstaanbaar & op ‘n kreatiewe manier aan te bied.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Dalk die knipmes en die appelskil, maar ek verstaan oupa’s elders (in Argentinië byvoorbeeld doen ook sulke goed.
Dis waarskynlik eerder ‘n landelike verwysing as tipies Suid-Afrikaans.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Nee, ek dink die vers werk.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Baie ja. Meeste mense het daarvan gehou.
Minstens twee resensente se reaksie was vir my baie interessant.
Met verwysing na “verse” (die eerste gedig in die bundel) en dié een, het Bernard gesê:
“Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.”
Wat Bernard ook tereg sê is dat ongewone beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie - want my poësie vermoed ek sluit aan by Fado (wat met die alledaagse werk, die werking van dit wat is).
In Beeld (7 Desember 2009) skryf Marius Crous weer (oor die genoemde twee verse):
“En terwyl hierdie gedig (‘verse’) geslaag is, vind ek die slotgedig ‘man diesel’, minder geslaag en effe geforseer.”
Uiteenlopende reaksie dus.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Op dees aarde - nee glad nie.
 Johannes Prins
Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA in Afrikaans en Nederlands.
Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar.
In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook by tot As die son kom oogknip, die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji.
In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante.
Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Tuesday, July 13th, 2010
Digstring
| Kortstondige kalligrafie
Adolph Jentsch
Nou ís dit so
dat ek jou asemhaling mis:
elke deinende penveeg
ougoud oor skuiwende duine
van hierdie oerwoestyn
palet na doek
strepies grysroos pastel op horisonne
meng en waai met gryswit newelbanke
na die binneland by Swakopmund
daardie wuiwende grashalms
wit pluise in die wind
kwas jy roeserig in met rooigrassade
rondom die heuwels van die Omatako
die sonblou hemel styg op
uit die leegte van Khowas
en vang die oog van die watergat
tussen fyn getrapte grysgroen stof
titsels klipperige stippellyne
van die Skaaprivier stol
waar die boomblaarare
gryswit ophou fotosinteer.
Uit dié kortstondige kalligrafie
wou ek skoon leer skryf.
© Lucie Möller (Uit: Watermerke, 2009: Protea Boekhuis)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Lucie? Hoe het dit ontstaan?
Ongeveer vyf jaar gelede in Mei 2005, maar die inkubasietyd daarvan was heelwat langer. Baie prikkels het bygedra tot die gedig se ontstaan: Van my eerste kennismaking met die skilderkuns van Adolph Jentsch in 1969; later boeke wat ek daaroor gelees, en gedagtes wat ek met mense gedeel het wat hom persoonlik geken het (soos Olga Levinson en Matty en Helen Druker). Die ingewing om miskien iets daaroor te skryf, het gekom toe ek ‘n boek, Art in Namibia (saamgestel deur Adelheid Lilienthal en uitgegee deur die Nasionale Kunsgalery van Namibia, 1997), geskenk gekry het van die destydse President daarvan, André Strauss. Daarin is van Jentsch se werke afgebeeld en sy styl en kunsfilosofiese beskouinge bespreek.
Hoe die aanvanklike persoonlike ervarings, die gesprekke, boeke en so meer tot ‘n gedig gelei het wat ‘n eie bestaan kom voer, is moeiliker om te verduidelik. Soms is dit ‘n hele smeltkroes van juis dié dinge, soms is dit iets heeltemal anders wat die geleier is wat bydra tot die finale skryfproses van ‘n gedig. Daar is die ervarings, die gedagtes of idees wat in ‘n taal uiting soek, wat mens vorm wil gee, maar nooit dit alleen nie. Dit is immers nie nét ‘n taaluiting nie. Dikwels is dit eers ‘n soort belewenis van iets wat mens nog nie kan beskryf nie, ‘n gewaarwording of gevoel en daarmee saam die inherente ritme van dié ding wat vers wil word, inkanterend soms. Dis asof die “iets” (daardie “thought fox” van Ted Hughes, die donker embrio soos T.S. Elliot dit noem miskien) wat op sy eie wysie “aangeslibben” kom en in jou kop bly pols tot dit geuiter kan word, maar sy eie wysie reeds het. Dit is vir my soos ‘n stroom van geleiding en hierdie “ritmiese fragment” van ‘n taaluiting, is dan wat as basis dien vir die vormgewing. Dit kan die spesifieke stemtoon van die gedig skep, die inherente ritme en betekeniskonteks van ‘n gedig dra. Dis daardie asemhaling van die ritme wat dwarsdeur die gedig bly verklank wat aanvanklik net sien, ervaar of gedagte was. Ek glo dis daardie ongeskonde deel, die ritme van alle skeppende kuns, dit wat nie verwarbaar is nie maar eg, wat dit vir ‘n digter moontlik maak om in sy regter breinhelfte (of is dit nou sy deel van laterale denke?) te gaan delf . Dit is miskien die “smal poort” waardeur daardie “onsegbare” (toegegee, soms met heelwat getimmer), gesê wil word.
My “ritmiese fragment” was daardie deel van die gedig “…dat ek jou asemhaling mis”, omdat dit vir my spesifiek na die kunstenaar se ingesteldheid verwys; om die skilder se eenwording met die voorwerp (om artefakt, onderwerp daaruit te skep), te illustreer. Met daardie ritmiese fragment wou ek die wisselwerking tussen voorwerp en kunstenaar, die brug tussen die ruimtelike en die geestelike suggereer. Daarna deur spesifieke landskapstonele te beskryf, te wys hoe die skilder die kleurskemas meng, met vinnige en akkurate kwashale die lig en skadu, die illusie van beweging in die toneel in die moment vasvang. Daardie meesterlike spel van kleure, sy soort van chiaroscuro wat ons in sy werke sien, dit het ‘n blywende indruk op my gemaak.
My gedig is my persoonlike weergawe van hierdie ervaring van sy skilderye, niemand anders s’n, en die opnoem van kleurmengsels, die herhalings en kontraste, was ‘n poging om dit uit te druk. Daaruit laastens, die versugting om maar só te kon skryf soos hy skilder. Die bedoeling was nooit om my te vergelyk met die skilder nie. Uit hierdie besef van: Hier staan ek nou by die aanskoue van groot kuns, en die gewaarwording dat ek in die teenwoordigheid van iets groter as die kunswerk en die kunstenaar self is, daaruit het die gedig moontlik sy ontstaan gevind.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Al my gedigte gaan deur ‘n proses van aanvanklike vinnige notas maak van die gedagtes of idees wat aankom. Soms kom net ‘n enkele fragment van ‘n reël wat ek uitbou in versreëls en strofes, dit skommel om meer dramatiese effek te bereik, veral as dit vertellend van aard is. Alhoewel meeste begin as ‘n gedagte of gevoel oor iets, wat soms op waarnemings of ervarings teruggaan, kom almal nie ewe maklik tot vorm nie, maar hierdie een is wel vinnig afgehandel
In die begin skryf ek dus taamlik intuïtief, so op die gevoel af. In hierdie geval was dit juis daardie iets wat my in sy werke diep geraak en geestelik verruim het, wat dit miskien makliker laat vorm vind het. Ek hou nie juis volledige joernale nie, maar tog vouers waarin ek elke gedig vanaf sy kriptiese aantekeninge met aanhalings uit boeke en artikels daarby, tot by sy finale uitdruk bymekaar hou. Dis maar ‘n metode om my gedagtegange of gedig-”idees” uiteindelik in “vorm” te kry. As ek daardeur sif, kry ek soms nuwe ingewings en werk dit in totdat die versreëls en strofebou, saam met die inherente ritme en betekenis, my minstens bevredig.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die vers is wel aan my gegee in “erster Fassung”, d.w.s. sy oorsprong het ek taamlik onmiddellik beleef toe ek die skilderye gesien en ervaar het. Dit het my inderdaad so geïnspireer dat ek toe reeds geweet het ek sou eendag daaroor iets wou sê. Daardie respek wat alle groot kuns by ‘n mens wek, en wat mens hoop gee om self skeppend te raak.
Elke digter het seker al die ervaring gehad dat sommige gedigte maklik kom, gegee is. Dat so ‘n gedig gou op homself afsmelt om skoon en suiwer sonder sy gietvorm of was, daar te staan op papier. Dan is daar die ander gedigte wat dalk heelwat inspirasie het, maar nog baie ”hamer en stut” of gietwerk verg, en met dié gedigte kan mens sukkel verby die herskryf en oorskryf tot by doodskryf toe. Na te veel van die soort dissekterende aksie hoeveel van “das Ding an sich” (Rilke) bly nog oor? Soms loop die vers suiwer en ongestoord tot sy eie afsmelting, miskien nog nie in finale vorm nie, maar tot waar jy weet: Dis nou sover soos my stel taaluitinge (wat ook maar soos ‘n stang in die mond werk) my wil vat.
Een hoofgedagte of versreël kom gewoonlik maklik in die begin, maar dit maak nog lank nie die hele gedig nie. Soms is dit wel die hele gedig. Maar daardie “alfa-kuiken” (J.L. Marais) wil oorleef, en sal bly vassteek soos ‘n neet en hopelik die kern van die gedig bly.
Daar is altyd woorde wat ek heroorweeg, toets aan die klanke, ander opsoek en probeer kies vir die algemene gevoel en stemtoon van die gedig, dus nie net vir sy betekenis of logiese korrektheid nie, maar ook nie net vir sy klankeffek nie. Oral moet die woord met sy klankbeeld, sy enkelvoudige of meerduidige betekenis, bly saambeef op die hele web of stramien van die gedig.
As iets my werklik aangryp, soos in hierdie geval die kuns van ‘n meester, tesame met die ervarings wat ek self met die landskap van Namibië gehad het, dan gebeur iets: Dis asof mens ontvanklik gestel word vir woorde, idees. Dié gedig het ek dus redelik vinnig en gemaklik geskryf, sonder gewroeg. Daar is ook nie eintlik veranderinge op hierdie gedig aanbeveel deur my klankborde, redakteurs of keurders nie.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Dis seker een van die moeilikste aspekte waarmee ek as digter sukkel, die versoeking is altyd daar om nog iets (hoe klein ookal, dalk net ‘n voorsetsel of komma) te verander, om so ‘n ander moontlike interpretasie te bring, of uit te sluit.
Ek gebruik wel ‘n soort ordeningsbeginsel al is dit aanvanklik taamlik lukraak. Die hele vers is dan nog losserig in sy kompartemente, in hierdie geval rondom die vier prente opgebou. Al lyk dit miskien voorafbeplan, het dit eintik maar so by my opgekom en verteenwoordig vir my die verskillende stadia van ‘n reis deur die landskap van die skilderwerke en die lewe self.
Die vraag duik dikwels by my op: wat laat ek weg, wat sluit ek in, maar ek probeer tog om een of ander dramatiese en chronologiese opbou of ordening in te werk. Daarvoor gebruik ek stemme of sprekers, soms is dit ‘n alleenspraak. In hierdie geval het ek ook iets anders probeer, naamlik die dramatiese instrument van simboliek, hier spesifiek die opnoem van kleure, of wat dan met sekere kleure geassosieer word (nie dat dit as universeel gesien word nie), maar tog om ‘n interpretasie van die skilderye te gee soos ek dit ervaar het, ook in die kontraste wat ek probeer skep het daarmee, ens.
Dis vir my as digter dus belangrik dat die gedig ook sensories ervaar word, daarom is die visuele beskrywend benader en die ondertone van die helder kleure saam met die grys telkens spesifiek genoem. Jentsch het juis helder kleure gemeng met grys om ‘n sagter effek te bewerkstellig wat meer subtiel is op die oog: soos lig, die sonstrale in natuurtonele, mistigheid en newels, maar ook om die illusie van iets diafaan, daardie ligdeurlatende effek te bereik. Dit vergestalt daardie leegheid van die oop ruimtes, daardie ruimtelike ervaring op sensories vlak. Aanvanklik was die kleur- en detailbeskrywings dus vir my belangrik, maar dit wou ook ‘n ragwerk van betekenislae suggereer, en ek het gehoop, meer as dit.
Hier wou ek met die beskrywing van kleure “momente van lig” en beweging in die ervaring van die skilderye verwoord. Dit was nogal belangrik vir my gesien in die lig van die kunstenaar se kalligrafiese en pointillistiese styl en tegniek waarvoor hy bekend is.
Met die verdere afwerking van die gedig het ek ook plekname ingewerk om as bakens te dien vir die plasing van die “reis” deur die skilderye, die agtergrondtonele, die landskap waar dit afspeel.
Verder het ek woorde en uitdrukkings gekies met betekenisvolle klanke en ritmiese effek: In die beginstrofes die lang vokale, volronde en stemhebbende klanke, daarna in die slotstrofes al hoe meer stemlose sluitklanke en frikatiewe byvoorbeeld die “titsels klipperige stippellyne… stol” wat as grondtoon die soort dramatiese effek bewerkstellig wat tot die denouement lei: om spraakloos te staan.
Want, ten slotte raak selfs die digter stemloos en woordloos: Dit wat sy grootste vrees is, het ek probeer klankmatig vergestalt. In die slotstrofe besef die digter - veral die nog wordende digter, dat hy stom gelaat is, tot stilte gedwing is voor die kunswerke. Uit die kortstondige kennismaking het hy weliswaar dalk nog nie geleer “skoon skryf” nie, maar die besef en die versugting is daar. Is of sal hy ooit in staat wees daartoe, dit bly die onbeantwoorde vraag, ook in hierdie gedig. Daarom eindig dit nie met ‘n “greep” op sake nie, maar ‘n floue “wou”. Met die tegniek om “the voiced against the unvoiced sounds” te plaas in hierdie gedig, wou ek die dramatiese effek verhoog, en terselfdertyd miskien ‘n geskakeerdheid op ‘n ander vlak teweegbring. Die hele relaas verduidelik natuurlik my ervaring van die dinge en sal nie noodwendig so deur ‘n ander persoon gelees word nie.
Vir my was hierdie gedig “klaar” toe ek die futiliteit van my blote beskrywings van die kunswerke besef. Toe ek dié insig kry, self ‘n “aha”- moment beleef wat vir my die lig laat opgaan: Hier is iets wat eintlik groter is, of waarvan die impak groter is as wat ek ooit in woorde kan stel. Ek het iets probeer vasvang wat hom nie laat vasvang nie. Daardie kortstondige moment as die lig by jou opgaan dat hier staan jy nou voor groot kuns, soos die skepping van daardie landskappe daar buite, van die Skepping self .
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Aanvanklik torring ek self daaraan totdat ek voel nou is hy klaar uitgeloop uit die wordingsproses: tot daar iets van ‘n afgeslote geheel, vir my immers, op papier is. Verskeie persone wat ek gereeld vra om ‘n eerste klankbord te wees, is my vriend Peter Raper, en daarna die digtersgroep by die Huis vir Afrikaanse Poësie waar ons die geleentheid kry om gedigte voor te lees, ook aan buitemense. Daar kom dikwels goeie voorstelle wat my help om die teks af te rond, maar poësie soos skilderwerk, soos seker enige ander kunsuiting, duld nie graag vennootskappe nie.
Later as ek myself kan distansieer van die gedig om meer logies daarna te kyk (soos die keurders, redakteurs en kritici), woel dit nog heelwat knope los, maar die gevaar is dat daardie eerste “ongeskonde” gedigidee of ritmiese fragment in sy oorsprong doodgesmoor word. Die finale vorm kom natuurlik eers in die proses waar jy met die keurders en redakteurs te make kry. In hierdie geval is die gedig feitlik sonder veranderinge aanvaar vir publikasie.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
In dieselfde jaar 2005 is dit opgeneem in die CD-gedigteversameling Klikspringer (uitgegee deur Ian Raper/Forum Pers, 2005), en later in my debuutbundel Watermerke ingesluit wat verlede jaar (2009) deur Protea Boekhuis uitgegee is.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die konkrete gegewe, die “feite” wat aanleiding gegee het tot die gedig, was my persoonlike kennismaking met die werke van Adolph Jentsch en wat ek oor hom en sy kuns gelees het. Hoe ek dit ingeklee het as ‘n soort belewenis waarin ek meegevoer is, miskien beginnende as ‘n gesprek met die kunstenaar, maar tog as alleenspraak, dit was die fiktiewe deel. Aanvanklik is die versugting die van die voorwerp om tot kunswerk omskep te word , daardie “iets” wat as voorwerp of objek dien vir die skilder of kunstenaar in die algemeen. Later is dit die digter se versugting om sy pogings tot kuns te kan omskep: om skoon te skryf.
Dat daar iets van ‘n besef van die kortstondigheid van juis dié “momente van lig”, en veral menslike verhoudings, die liefde en die lewe self, ingesluip het, vorm dalk die oorheersende ondertoon van die gedig.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Soos ek in die bostaande vrae probeer wys het, het dit eerstens gegaan oor die ervaring van vier skilderwerke van ‘n meester. Daarby is tog ook die suggestie dat dit oor veel meer as bloot die kortstondige kyk na vier skilderwerke gaan. Terwyl ek die “beskrywings, die drama opdis”, hoop ek merk die leser dat iets anders aan hom begin werk het, naamlik my gedig self wat miskien meer wil wees as waaroor dit onder andere “handel”, naamlik die kortstondige, vervlietende ervaring van alles.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?
Ja, soos hierbo genoem, was dit die skilderye van Adolph Jentsch self, gesprekke met kennisse en dan die boeke van Olga Levinson “Adolph Jentsch” (1973, uitgegee deur Human & Rousseau, Kaapstad), en die versamelbundel deur Adelheid Lilienthal Art in Namibia, wat bepaald ‘n invloed op die gedig gehad het. Die afdrukke van sy akwarelle en sy olieverfwerke daarin, onder andere landskaptonele met die Omatako-berge in die agtergrond, die “Watergat op die plaas Khowas”, en laastens die oliedoek van die droë Skaaprivier, is spesifiek gekies vir die beskouing hier. Verder, tydens die jare met my navorsing oor plekname en VN-werkswinkels in Namibië, kon ek die Windhoekse Kunsgalery, museums en argiewe gereeld besoek en daar weer eens onder die indruk kom van die sterk ruimtelike invloed van die woestynlandskap op meeste van die kunstenaars van die gebied. Uit al die bronne kon ek oplees oor sy styl, sy ingesteldheid jeens die natuur en sy kunsfilosofiese beskouinge en so meer. Dit wou ek herbesoek in my gedig
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nee, die ervaringe of belewenisse wat aanvanklik aanleiding gee tot ‘n gedig kom taamlik wisselvallig en toevallig. Dat naas hierdie ervaringe, die gedigidee in ‘n sekere taal verwerk word om miskien later saam met ander gedigte gebundel te word, het dalk so iets as basis, maar ek doen dit nie met die oog op ‘n spesifieke gehoor nie. Dit het waarskynlik meer te doen met die intuïtiewe aanvoeling van iets binne my, of sekere belewenisse wat in ‘n gedig uitgebeeld of gesê kan word, as met die gehoor daar buite. Behalwe dat mens in ‘n sekere taal skryf en die sprekers daarvan jou eerste gehoor is, kan dit dalk vertolk word dat dit gemik is op ‘n groep, maar ek skryf en publiseer ook in Engels en Duits.
Dit gebeur soms dat ek ‘n gedig in Afrikaans begin skryf of in Engels, net om oor te slaan na die ander taal waarin dit vir my makliker vloei. Dit het waarskynlik daarmee te doen dat met die skryf van die gedig ek taamlik op die klank en ritme ingestel is in ‘n spesifieke taal: soos die idees en beelde kom, soek dit sy taal- en spesifieke taaluiting. As dit nie met die regte, fyner verstegniese aspekte soos woordritme, vol-, half- en binnerym, woordklanke wat ook betekenisassosiatief werk, geskryf kan word nie, is ek dalk nie in die regte taal besig nie. Daarom is vertaling van verse ook nie maklik vir my nie.
Alhoewel ek al deelgeneem het aan versamelbundels oor spesifieke temas of wat opgedra word aan ‘n spesifieke persoon, kom die gedig op sy eie. Dit is vir my nie ‘n uitgesoekte groep lesers wat ek wil bereik nie, behalwe as ons redeneer: goed ons skryf in Afrikaans, en vir wie skryf ons dan, net die paar belangstellende akademici, of vir die gewone mens ook? Hoeveel mense kan my lees in my moedertaal? Maar ek glo, die oomblik dat die skrywer soos die skilder pen of kwas op papier sit, wil jy tog iets deel met iemand, en dat die potensiële leser/luisteraar/kyker altyd in die agterkop of in die gedagte is, sou ek nie wou ontken nie. Hoekom anders dit hoegenaamd met pen of kwas probeer vasvang ?
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dis nie ‘n suiwer natuurvers nie, al lyk dit in die “uiterlike natuurbeskrywings” miskien so. Eintlik is geen van my gedigte net bloot dit nie. Alhoewel ek intens belangstel in die natuur en uiteraard ook in natuurskilders, is dit veral Adolph Jentsch se kunsfilosofiese ingesteldheid jeens sy “onderwerpe”, sy meesterlike kalligrafiese en pointillistiese styl en vaardigheid as “natuurskilder” wat my aangegryp het en wat ek in die gedig wou verwoord. Want dis deur sy passie as skilder, sy oorgawe as persoon tot sy kunsuiting dat sy kunswerke baie meer as net natuurskilderye word.
Met my gedig probeer ek op ‘n vlak beweeg waar ek nie noodwendig net ‘n suiwer interpretasie van wat ek sien of ervaar in sy skilderye, probeer weergee nie. Die ervaring wat ek probeer verdig het tot ‘n vers was immers my eie interpretasie, die vervlietende kennismaking, die beskouinge, bewuswording van iets groter as kuns, en die onvermoë om dit vas te hou wat sulke kunswerke opwek. Daarom sluit ek in hierdie gedig met ‘n versugting (dus eerder ‘n “whimper” as ‘n “bang”), oftewel ‘n wens: as ek maar uit die kortstondige kennismaking met die meester en sy werke die skepping van kuns beter kon verstaan en so te leer “skoon skryf “; leer om die minimalisme te beoefen, die vers suiwer te hou en die ontdaangemaakte woord op die regte plek te kan plaas. Miskien is dit ‘n lang gedig, daar is baie beskrywende woorde ja, maar dit het van my ook baie fyn kalligrafiese strepies geverg om beweging en lig in my gedig te probeer vasvang.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee, behalwe die taal waarin dit geskryf is. Die milieu van die gedig wil egter ook nie net iets van die Suidwes-Afrikaanse landskapstonele oproep nie, alhoewel dit deur die beskrywing van die kunswerke van Adolph Jentsch, wat eg Namibiaans is, miskien daardeur aan die bod kom.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Dis beslis nie een van my gedigte wat ek versaak het nie, ek het nogal daaraan gewerk tot dit my bevredig het as afgeronde geheel, anders sou ek dit nie gepubliseer het nie. Met my gedig wou ek ‘n gevoel uitspreek van iets wat ek op ‘n diep persoonlike vlak ervaar het, en helaas die vervlietende aard daarvan. Die gedig wil sê: Dat my woorde tekort skiet om sy skilderye of die uitwerking wat dit op my as toeskouer maak, te beskryf, dat my waardering vir sy kunsuitinge eintlik nie in woorde gestel kan word nie: daarom die versugting. Dit het ek wel ingesien. Dit beteken nie, dat ek my pogings tot skrywe wou vergelyk met ‘n meester op sy gebied nie, eerder dat ek tot die besef gekom het “skoon skryf ” is ‘n kuns. Dis al. Soos ek sy skilderye beskryf het, die woorde en versreëls vorm begin aanneem het, en soos die gedig algaande sy eie loop met my geneem het, het dit tog vir my gevoel daar het iets van geword wat “afgehandel” is, al was dit net binne my.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ja, alhoewel die terugvoering uiteenlopend was, was dit oor die algemeen baie positief. Vir party van my mededigters en lesers was die gedig tog ‘n kunswerk in sigself, is selfs aanvanklik as ‘n liefdesvers gesien (nie dat dit my bedoeling was nie), maar is ook goed genoeg gevind om met ‘n prys vir die jaar 2005 bekroon te word. Maar met kritiek uit ander oorde wil ek my wel ernstig besig hou om daaruit te leer. Want ek vra my af: Wat in my gedig, soos hy nou daar staan, het die negatiewe reaksie uitgelok?
En dan moet ek seker maar aanvaar dat dit miskien nie so toeganklik was soos ek gereken het nie, of dat die meervlakkigheid ‘n hindernis was. Maar goed, mens leer algaande: Soveel lesers, soveel interpretasies. Op die ou einde is wat tel: Watter interpretasies laat die gedig toe en wat laat hy nie toe nie? Maak dit die gedig noodwendig beter of slegter as hy verskillend waardeer word?
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Watter gedig presies my eerste was, weet ek nie meer nie. Op hoërskool (onder aaansporing van ons onderwyser vir Afrikaans) het ek gedigte begin skryf en so vier of vyf is opgeneem in die Jaarblad van 1966. Dit was maar jeugverse en die invloed van die sestigers het oral deurgeslaan. Hier is een van daardie pogings:
want ek wil nie sien
dit was die son om en bo my
‘n dooie kat langs die sypad
wat my laat sien het
in die verborge
dit was die skewe kerk
op die hoek van Troye-en Kotzéstraat
met sy gekleurde vensters
sy lang toring soos ‘n vinger
gesigte teen woonstelvensters
wat uitstaar
op die dakke die grys duiwe
wat stil is
die smal brug oor die Apies
wat lei na
my groot stad se strate
vol skares wat vreemd is
‘n seun wat wink en glimlag
te ver is
en ek wat omdraai
want ek wil nie sien
in die verborge
van my lewe nie
 Lucie Möller
Lucie Möller promoveer in 1987 aan die Universiteit van Natal met ‘n proefskrif oor die inheemse tale se invloed op die naamgewing in Namibië. Vir die afgelope dertig jaar publiseer sy plaaslik en internasionaal boeke, artikels en referate oor naamgewing. Enkele titels is byvoorbeeld A World of Names, Changing Place Names in Southern Africa, en Plekname in die verhale van Herman Charles Bosman.
Vanaf 1999 tot 2007 verskyn van haar gedigte op LitNet se PoësieNet en die Engelse PoetryNet. Van haar gedigte verskyn in versamelbundels en op die CD Klikspringer, saamgestel deur Ian Raper (2005).
Haar debuutbundel, Watermerke, verskyn in 2009 by Protea Boekhuis. ‘n Groot deel van die gedigte het haar Bosveldplaas in die Waterberge as agtergrond, alhoewel die studies wat sy oor plekname in Suid-Afrika en Namibië onderneem het, die inspirasie tot ‘n aantal ander verse was.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Thursday, July 8th, 2010
Digstring
| kersrook
smoke drawing - diane victor
kerse vlam op
en laat visioene lig
dans
soos die eerste goddelike
asem se uitblaas lê
ek jou in rook
op papier uit
ek sien jou skaduvlek
weerloos teen vergaan stry
as ek bewend aan jou raak
verdwyn jy in ‘n wit
leegte
op my papier
is jou rookspore
nagelaat
(c) Cas Vos (Uit: Intieme afwesige, 2009: Protea Boekhuis)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Cas? Hoe het dit ontstaan?
Die gedig is een oggend in Maart 2009 geskryf. Dis een van daardie gedigte wat in die nag skielik en onverwags in my skoot geval het. Daardie aand was ek nog op soek na ‘n geskikte voorblad. Toe hoor ek van Diane Victor se “smoke drawings” en weet onmiddellik dat dit die voorblad is en hieruit moet ‘n gedig kom. Ek het die konsep ook die aand gekry toe ek hoor dat, indien die “smoke drawing” aan lig blootgestel word, verdwyn die tekening.
Die volgende dag het ek ‘n afspraak met Diane gemaak. Ek het by haar gehoor hoe sy die “smoke drawings” maak. Sy het die geheim aan my verklap. Met ‘n vlammende pen het ek gedagtes vir die gedig neergeskryf. Dit was ‘n oomblik van kerslig en kreatiwiteit tussen ons.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig het net na die gesprek met Diane gebeur. Dit is aan my “gegee”. En wie sê “nee dankie” vir ‘n present? Nie ek nie.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Daar was min sweet, eintlik net gloed en verwondering.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?
Dit was die konsep wat my geboei het. As jy aan die “smoke drawing” raak, raak die seuntjie weg. Soms is dit presies dieselfde met ‘n verhouding: dit is so broos en breekbaar dat selfs ‘n aanraking ‘n persoon kan laat verdwyn. En al wat oorbly, is die rookspore (vingerspore) van herinnering. Die “smoke drawing” wat ek as voorblad gebruik, dui ook op die aard van die bundel. Dit gaan oor die intieme afwesige, die breekbaarheid, die kwesbaarheid van verhoudings, die verlange en die pyn. Die gedagte loop deur die bundel en word veral in die persone van Abélard, Hélïose en hulle liefdeskind, Astralabe vergestalt.
Diane se kuns is in ‘n groot mate sosiale kommentaar. Kommentaar op die breekbaarheid, pyn en vlietenheid van die mens in verskillende omstandighede. Die intensiteit van sosiale verval, val telkens in haar werk op.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek het ‘n letterkundige wat noukeurig na my verse kyk. Daarna is ek in die hande van die keurders van die bundel.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Dit was van my laaste verse vir die bundel Intieme afwesige wat in September 2009 verskyn het.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die “feit” is dat dit op ‘n werklike kunswerk berus. Ek sien die “smoke drawing” elke dag, want ek het dit as verjaardagpresent gekry. Die weerloosheid, broosheid en verlange van die kunswerk praat elke dag met my. Die “feit” is dat dit verwys na Astralabe, die seun van Abélard en Héloïse. Die “fiksie” is dat dit nou nog na pyn, verlange, verlies, verdriet en vervlietenheid verwys. Enigeen kan hom/haar in die vers in verbeel.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit gaan oor Astralabe wat deur verdriet en verlange oordek is. Die spreker is die digter (of dan die leser) wat met Astralabe in gesprek tree. In die eerste strofe word die proses van “smoke drawing” verbeeld. Die voltooiing kom in strofe twee as Diane die kunswerk in rook uitlê. Maar dis ook die digter wat die seuntjie deur die gedig tot lewe bring. Deur die “smoke drawing” kry Astralabe na eeue van vergetelheid weer lewe.
Die “ek” in die derde strofe is die digter (leser) wat na die seuntjie kyk en sien hoe hy teen weerloosheid stry. Dit lei tot ontroering en ‘n bewende aanraking, maar dan verdwyn die kind. Al wat oorbly, is wit stilte. En natuurlik die herinnering: rookspore op papier. Hiermee kan elke leser maak wat hy/sy wil. Elkeen het tog die wit leegte en rookspore op papier.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Die gedig is deur Diane Victor geïnspireer. Sy is een van die voorste kunstenaars wat ek bewonder. Telkens is daat nuwe grensverskuiwings in haar werk. Dit blyk nou weer uit haar uitstalling, Trancend, by die Goodman-galery in Johannesburg. Daar het ek weer ‘n gedig gekry! As grafiese kunstenaar is Diane onverpoosd op soek na nuwe maniere van segging. Dis die mens in al sy gestaltes wat haar inspireer. Ek dink dis wat die digter ook behoort te doen: soek na en ondersoek voortdurend nuwe maniere van segging. Dit moet mense anders laat dink, kyk en leef.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
O hemel, dit wemel van persone. Werklikes, verbeeldes, dooies. Vir my is ‘n konsep belangrik. Dit vorm die draende grond van die gedig en stel my in staat om die gedig volgens ‘n patroon/patrone te rangskik. Maar ‘n gedig laat hom/haar nie maklik rangskik nie. Daarvoor is hy/sy te woelig en te vlugtig.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dit verskil, hoop ek, heelwat. Maar gedigte verskil weer van mekaar. Dit hang van elke gedig af. In hierdie geval het die “smoke drawing” die gang en ritme van die gedig bepaal en ‘n eie stempel daarop afgedruk.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ja, die uniekheid van die kunsvorm wat Diane gebruik. Dat sy van kersrook tekeninge kan maak, is verbysterend. En dan die menslikheid van die gedig in ons gebroke konteks.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Die gedig het my nie gelos nie. Daarom was daar die verlossing deur woorde. Ek het ‘n vlam aangesteek en toe die kers doodgeblaas. Woorde het op papier verdig.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek is baie dankbaar oor die reaksie. Veral die visuele kunstenaars ervaar dit intens en opwindend.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Louis, nou vra jy my ‘n ding. Ek moet deur die donker jare sluip. Dis ver ver terug. Lank lank gelde. Ek was so 10 jaar oud. Maar ‘n gedig? Miskien ‘n eerste vlagie rook.
 Cas Vos
Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Sunday, July 4th, 2010
Digstring
| Die ander man
-Na Nina Simone se The ohter woman
die ander man
kan bekostig om duur etes te kook
kan maklik sy hare laat stileer
kan sy naels laat manikuur sy voete pedikuur
kan rits van die een boekwinkel na die ander
kan sy goue kredietkaart flash
kan bekostig om ingevoerde lakens op sy bed te hê
kan jou troetel met die regte wyn die regte boeke die regte
vakansieplekke
kan jou saaklik opbel vir foonseks by die werk
kan jou neervly op ‘n bed sonder kindergoed en hondehare
kan bekostig om jou lyf te masseer tyd te maak vir jou praatjies
kan saam oe en aa oor jou elektroniese musiek jou opgooiende
soprane
die ander man
kan maar afgaan en jou voël in sy mond neem
kan maar jou gat lek tot dit blink jou tiete knyp
kan maar jou spiere bewonder lofliedere lek op jou harige
boude
maar die ander man
is die een wat alleen slaap
is die een wat alleen woon
is die een wat kinderloos leef
is die een wat sondae moet omkry
is die een wat sy lyfhonger moet stil alleen op sy bed
alleen aan tafel alleen in die fliek alleen
is net ‘n groomed weergawe van my
in oggendjapon en deurmekaar hare koffiebeker in die hande
as hy so sit en uitstaar voor hom
‘n vaal swael in ‘n goudgetinte koutjie
(c) Marius Crous (Uit: Aan ‘n beentjie sit en kluif, 2006: Protea Boekhuis)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Marius? Hoe het dit ontstaan?
Hierdie gedig het ek in 2004 geskryf. Ek het een dag na die liedjie van Nina Simone geluister, “The other woman” en dit toe van toepassing gemaak op my eie ervaring.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Nee, ek het heelwat herskryf aan die gedig; veral om die beeldspraak reg te kry. Die moeilikste was om `n gepaste metafoor te kry vir die vasgevange geliefde.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Sjoe, uit eie ervaring kon ek heelwat put, maar moes - soos in 2 aangedui - ook heelwat dink en herdink.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die bladspieël verklap reeds hoe die gedig gestruktureer is. Dit begin met die “die ander man” en elke volgende versreël begin met “kan” wat die stelling voltooi. In die derde strofe kom `n mate van wending - “maar die ander man” en dan begin alles weer met “is”.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Nee, nie juis nie. Deesdae gee ek my verse vir my goeie vriendin Lenelle Foster. Sy is genadeloos eerlik en krities. Wanneer ek net sussende woordjies wil hoor, gee ek dit vir een van my onkritiese vriende. Mens het so `n vriend/in nodig wat jou kaalkop die waarheid kan vertel, sonder dat julle na die tyd kwaaivrinne is.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Dit het die eerste keer in my tweede bundel verskyn.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die gedig is redelik outobiografies, maar daar is ook aangedik.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die spreker is die verguisde vrou wie se man `n verhouding met `n ander man aan het en dan haar woede - a la Nina Simone- probeer verwoord. Aan die einde van die gedig speel sy haar troefkaart - sy het die man by haar, terwyl die geliefde (ander man) alleen is en tevrede moet wees met die bietjies aandag wat hy van die getroude beminde kry. Amper soos in die fliek “Ignorant Fairy” waar die geliefdes mekaar net oor naweke sien.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Die Nina Simone song.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nee.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Binne die bundelkonteks sluit die redelik goed aan by die tema.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nie wat ek kan dink nie? Dalk `n tipiese Suid-Afrikaanse toneel?
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?
Ja, want geen vers is ooit afgehandel nie.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Oor die spesifieke gedig - so ver ek my kan onthou - is daar nie iets gesë nie.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Ja, in standerd 5 het ons “kreatiewe skryfkunde” gehad en ek moes `n gedig oor berge skryf - wat nog moes rym ook. Iemand het my gedig geplagieer en tot vandag toe onthou ek nog sy weergawe: “berge hoog, berge laag / berge middeldeur gesaag.” Dit rym!
 Marius Crous
Marius Crous is in 1965 gebore. Hy debuteer met die bundel Brief uit die kolonies (2003), waarvoor hy die Universiteit van Johannesburg se debuutprys ontvang. In 2006 verskyn sy tweede digbundel Aan ‘n beentjie sit en kluif.
Benewens ‘n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands verwerf hy ook MA-grade in Afrikaans-Nederlands en Engels.
Hy het die Kreatiewe Skryfkundekursus onder leiding van prof. Marlene van Niekerk voltooi.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Thursday, July 1st, 2010
Digstring
| Reënboognasie: Fear dot com
In alle kleure reën
bloed hier beter
as kill bill
in cinemascope
the bride se kopwaai-
swaardtegniek
verfyn met vyf vingers
om ‘n made-in-china mes
soos clockwork orange
kreun ‘n vrou onder
the old ultra-violence
the old in-out in-out
the devil wears prada
en amagents snyerspakke
gucci lacoste arbite camel
drop dead gorgeous
halfmas hang ons trois couleurs:
bleu is onse hemelhel
blanc die lyke neergevel
rouge die rowe in ons grond
(c) Jelleke Wierenga (Uit: Bloot mens, 2009: Protea Boekhuis)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jelleke? Hoe het dit ontstaan?
Ek het dit geskryf terwyl ek besig was met die uitsoek, skaaf en skryf van gedigte vir my debuutbundel Bloot mens, so drie of vier jaar gelede. In die metropool Montagu waar ek woon, is daar geen bioskope of teaters om die inwoners se aandag van die natuurskoon en die af-en-toe-keelafsny-van-’n-vrou af te trek nie. Ek kyk net televisie wanneer ek iemand met DStv se huis oppas. My ou Blaupunkt het in elk geval ook al groen geword, nes ek, maar hy letterlik. Wanneer ek nie in ‘n leesfase is nie, kyk ek by tye kompulsief video’s. Drank werk nie vir my nie. Ek neem digitale videoskywe by ons plaaslike Vee’s Videos uit, waar hulle ook gebraaide hoenderstukke verkoop, en kyk hulle op my skootrekenaar in die bed, soms met sjokolade gedoop in tee. Die groot vreugdes van die lewe is dikwels klein. Die keuse van sielsverkwikkende DVS’e by Vee’s Videos is nie baie groot nie. Eendag, terwyl ek te midde van die oorverdowende gedreun van die TV en braaiende hoenders probeer besluit wat om uit te neem, besef ek skielik dat baie van die titels ‘n metafoor vir die opwindende gebeure in Suid-Afrika is. Fear dot com. Kill Bill. Running with scissors. Drop dead gorgeous. Army of darkness. Resident evil. Drag me to hell. Die idee het by my opgekom: Wat van ‘n protesgedig gemaak van die titels van DVS’e? Ek het later teruggekom met ‘n notaboekie en ‘n klomp titels afgeskryf. Ek het ook aantekeninge gemaak van die teks op die agterplat van die houers. Aan die hand van dié bladsytjies gekrapte woorde het ek die gedig geskryf.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig was heelwat langer as nou, want ek het probeer om soveel moontlik van die titels op my lysie in te werk. Ek het taamlik maklik geskryf aan sekere strofes, maar ander het my soveel probleme besorg dat ek dit naderhand geskrap het. Al my gedigte gaan deur baie oorskrywery en skrap van woorde - soms bly daar so min oor dat dit nie meer sin maak nie. Dan gaan ek terug na die oorspronklike weergawe en begin weer. As kopieskrywer is ek geskool om woorde te sny tot op ‘n bepaalde woordtelling. Ook om so direk en duidelik moontlik te skryf, wat dalk ‘n nadeel is. In die manuskripweergawe van die gedig was daar ‘n ekstra strofe:
running with scissors
hol ‘n malhuis mense
en all the president’s men
speel in hul masturbatorium
Ek het toe pas die DVS Running with scissors gesien (ook die boek gelees) en die verwysing na die “masturbatorium” kom daaruit. Inderdaad speel Jacob Zuma se manne (en vroue) in hul masturbatorium terwyl die land in duie stort. Jeanette Ferreira (of Martjie Bosman?) van Protea het voorgestel ek ruil die eerste twee reëls om:
‘n malhuis mense
running with scissors
Dit het die sintaksis dalk verbeter, maar hoe ek ook al met die strofe rondgespeel het, ek kon dit nie na my sin kry nie - dus: “when in doubt, leave out”, die ou gesegde destyds toe ek nog by Beeld gewerk het.
Strofe drie het ná heelwat wroeg en sweet na sy finale vorm ontwikkel. Die manuskripweergawe was:
op die ritme van ‘n vrouegil
clockwork orange
the old ultra-violence
the old in-out in-out
In ‘n stadium was die eerste reël ook:
op beethoven se negende
Die verwysing na Beethoven se Negende Simfonie is na aanleiding van Alex, die bendeleier in A Clockwork Orange, se obsessie met dié simfonie. Verbasend genoeg was die DVS van die rolprent in Vee’s Videos. Ek lees Wikipedia sê clockwork orange kom van ‘n ou Cockney-gesegde: “As queer as clockwork orange.” Dinge gaan vir my baie “queer” in ons land, en ek verwys nou nie na homoseksuele nie.
In die oorspronklike weergawe van strofe drie het ek “clockwork orange” as werkwoorde ingespan, maar die kommentaar van die redakteur was dat die betekenis en sinsbou nie duidelik is nie. Daar is voorgestel dat ek “op” skrap, maar dit het die betekenis vir my verduister. Ná ‘n lang gesukkel en kopkrappery het ek die idee gekry om “clockwork” te gebruik in die sin van “soos klokslag”. Die eerste sin het toe gekristalliseer:
soos clockwork orange
Nou moes ek “op die ritme van ‘n vrouegil” verwerk om as tweede reël daarby aan te sluit. Die sin verwys na die derduisende vroue wat in ons land verkrag word, gereeld, ritmies. “Ritme” skakel met “clockwork” sowel as die ritme van die seksdaad. Ek moes uiteindelik die hele sin laat vaar en iets heel anders uitdink wat steeds die daad van verkragting suggereer. Uiteindelik het die visuele en ouditiewe voorstelling van ‘n verkragting my die sin gegee:
kreun ‘n vrou onder
Nie alleen is die vrou letterlik onder die man tydens die verkragtingsdaad nie, maar ook in sosiale status onderwerp en ondergeskik aan die man en uiteindelik die prooi van sy magslus.
Die laaste twee sinne:
the old ultra-violence
the old in-out in-out
het ek van die teks agter op die DVS-houer gekry. Toe ek dit neerskryf, het ek geweet dié stukkie “new speech” van Alex en sy droogs is uitstekende kopie. Waar kan jy meer sinies en grafies kry?
Die laaste strofe verwys na die driedelige rolprent Trois Couleurs: Bleu, Blanc en Rouge. Blou, wit en rooi is die kleure van die Franse vlag. Elke prent in die trilogie is losweg gegrond op die slagspreuk van die Franse Republiek: gelykheid, vryheid, broederskap. Ek het die trilogie lank gelede in Kaapstad gesien en die titels het my te binne geskied toe ek kop gekrap het oor die laaste strofe. Die kleure het my laat dink aan die vlag van die “ou” Republiek van Suid-Afrika, waar oranje, wit en blou vir talle die simbool van verdrukking en onreg was. Vandag waarborg die grondwet gelykheid, vryheid en broederskap aan elke burger van die land … te midde van erger as ooit verdrukking en onreg. Die ironieë is eindeloos.
Die strofe was in manuskripvorm soos volg:
trois couleurs wapper ons vlag halfmas:
bleu vir onse hemel blou
blanc vir lyke wit gevel
rouge vir rooi die land gesooi
Martjie Bosman se kommentaar was dat die strofe nie heeltemal werk nie en moontlik te eksplisiet is. Ek stem saam: Dit was onnodig om die Franse kleurname in Afrikaans te herhaal. Sy het voorgestel ek oorweeg iets soos:
trois couleurs wapper halfmas
bleu is onse hemel
blanc die lyk se vel
rouge die grond gesooi
Of selfs:
ons trois couleurs hang halfmas
bleu is onse hemel
blanc die lyke (neer)gevel
die aarde rouge deurdrenk
Op grond van hierdie voorstelle het ek die slotstrofe soos volg aangepas:
halfmas hang ons trois couleurs:
bleu is onse hemelhel
blanc die lyke neergevel
rouge die rowe in ons grond
Die ritme werk vir my baie beter met sewe lettergrepe vir elke versreël. Die oorspronklike “sooie” wou om die dood (ha!) nie werk nie en uiteindelik het die beeld van “rowe” gekom, wat beter rym met “rouge” en “grond”.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Ek dink dit was so 20% inspirasie en 80% perspirasie. Die eerste strofe was ‘n geskenk - ek het dit so te sê net so neergeskryf. Ek is dankbaar oor die “hier” wat die redakteur in die tweede reël ingevoeg het. Dit het die gedig dadelik in die Suid-Afrikaanse bloederigheid geanker.
Met die skryf van die gedig het ek pas Kill Bill 1 & 2 op DVS gesien. Uma Thurman as die wraaksugtige bruid met haar fenomenale onthoofdingstegniek het my erg beïndruk. Vir die tweede strofe het ek Kill Bill 2 weer uitgeneem en gekyk. Ek wou graag iets insit oor die “five-point-palm-exploding-heart technique”, waar die Bride op vyf plekke op Bill se lyf druk en sy hart laat ontplof … nadat hy vyf treë gegee het. My Afrikaans vir die tegniek was iets soos die vyfpuntdood of die hoenderklou-tegniek. Uiteindelik het ek by die kopwaai-swaardtegniek gehou. Die vyf drukke het beslag gekry in “vyf vingers om ‘n made-in-china mes”.
Strofe 4 het ook taamlik maklik gekom. Die redakteur het my hier van ‘n flater gered: ek het “prado” geskryf, seker oor ek nooit etiketklere dra nie. (The devil wears Prada is ‘n aanbevelingswaardige fliek met Meryl Streep in die hoofrol.)
Die inligting oor die amagents het ek gekry in ‘n artikel deur Mariechen Waldner in Rapport van 16 September 2007, wat ek destyds uitgesny en gebêre het. Volgens die artikel verwys amagents na Suid-Afrika se transitorowers. Hulle beskou dit as benede hul waardigheid om misdadigers of gangsters genoem te word. Hulle noem hulself amagents (gentlemen) en dra net die duurste ingevoerde Europese klere.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Soos hy nou is, dink ek hy is finaal, hoewel ek natuurlik verskillende variasies op die tema kan skryf. Ek verstaan nie die vraag oor die ordeningsbeginsel nie.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek dig maar in my allenigheid. My oorlede kat het geen erg aan ‘n voorlesery gehad nie en dikwels weggeloop terwyl ek haar insette dringend nodig gehad het. Ek is baie dankbaar vir die insette van Jeanette en Martjie met die afwerking van die gedig.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Pas nadat dit geskryf is, is dit in manuskripvorm na Protea gestuur. Dit is dus die eerste keer in Bloot mens gepubliseer.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Fiksie word ingespan om die feite van die Suid-Afrikaanse werklikheid oor te dra. Die een vrou se feite is natuurlik dikwels die ander ou se fiksie, en andersom.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit borrel en prut maar gedurig in my oor wat in Suid-Afrika aangaan - die negatiewe, die slegte, die geweld, die aftakeling, die chaos, die waansin. Dit kook in my verse uit. Ek het ‘n donker streep van my pa geërf. Ek werk ernstig en hard daaraan om meer positief, mensliewend, begrypend, verdraagsaam, oopkoppig, vergewensgesind en veral minder veroordelend te wees, want ek wil nie in my volgende lewe met die karma van die negatiewe opgesaal sit nie.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Al die rolprente wat in die vers genoem word, het my aan die gewelddadigheid en waansin van Suid-Afrika laat dink. Die lysie was baie langer as dié wat genoem word.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ek skryf vir myself.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Ek skryf nogal uiteenlopende verse, van die lang, verhalende tot die kort en kriptiese. Ek glo nie hierdie vers verskil van my ander gedigte nie, maar ek is oop vir oortuiging deur ‘n minder betrokke leser.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Die groot leuen van die reënboognasie. Bloed wat in alle kleure reën. Die mes as aanvalswapen. Die hoë verkragtingsyfer. Transito-rooftogte. Die onbeskryfbare verdriet van ‘n volk wat ongeërg uitgemoor word. Moontlik gaan dit in sekere lande in Suid-Amerika erger as hier, soos sekere mense dit graag uitwys, maar moet dit ‘n mens nou beter laat voel? My ervaring is tog oorweldigend híér, nóú.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?
Ek is tevrede met hoe hy nou staan, maar is nogal spyt dat “all the president’s men” en die masturbatorium in die slag gebly het.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Is resensente ook lesers? Een het my nogal gelooi oor my politieke verse (dié oeuvre van my beslaan 3 van die 38 gedigte), maar ek kan nie onthou dat iemand spesifiek na Reënboognasie verwys het nie. Van my vriende verstaan die vers glad nie, wat my verbaas, want myns insiens is dit baie eenvoudig en vanselfsprekend (as jy bekend is met die rolprente waarna verwys word).
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Ek het op universiteit graag deur die Groot Verseboek geblaai en parodieë van bekende gedigte geskryf in plaas daarvan om te studeer. Ek dink die gedig hieronder is my eerste “ernstige” gedig. Ek het dit geskryf toe ek by Beeld gewerk het tydens ‘n universiteitsvakansie. Die koerant was toe nog in Nieu-Doornfontein en ek het ‘n kamer in ‘n gure buurt daar naby gehuur, binne stapafstand. (Daardie dae was studente mobiel per voet of fiets. Daardie dae het ek ook nog gerook.) Ek het die gedig nog al die pad gebêre, getik op my klein draagbare tikmasjientjie, ek dink dit was ‘n Antares:
kamer in johburg
vliegbesmetting keurig
gedétail
teen die groen plafon
rembrandt van rijn filter de luxe
verstomp
meesterstukkend
begatte draadstoel
sper
vierlynig wit
gelapte blomme
bries
krampend in en uit
 Jelleke Wierenga
Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer. Haar debuutbundel, Bloot mens, het by Protea Boekhuis in 2009 verskyn.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Sunday, June 27th, 2010
Digstring
|
‘n deurnagbraai in Oranjezicht
met Oros en vodka veg ons teen die daglig
en dros ons soos honde in Oranjezicht
ons wys tande en gooi ons koppe terug
teen die duifgrys glasure van die eerste lig
ons vyl ons tonge skerp teen growwe woorde,
ys klingel kil teen die dawerende akkoorde
van ons uitrafelende strontpraatsinode -
deur die donker omsingel, is ons die nag se gode
of net rompies en bene en longe en leuens
en stompies en biere en wyfies en reuns
wat blaf en sug en gluur en kreun
teen die eerste sig van oranje lig
© Annie Klopper (Uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Annie? Hoe het dit ontstaan?
Ek het na afloop van ‘n deurnagkuier saam met vriende die gedig van Peter Blum, “Drosterhonde bo Oranjesig” in my kop gehad. Ek hou nog altyd van die woord drosterhonde en die idee van honde wat dros en raas. Ook die onheilspellendheid van daardie gedig. Die inhoud van Blum se gedig het egter niks te make met myne nie, maar ek dink my vriendekring klink en lyk soms soos daardie drossende honde. (Ek hou ook van die naam Oranjezicht. Dis ‘n sintuiglike pleknaam en werk dus goed. Die braai het nie eintlik daar plaasgevind nie, maar dit kon netsowel.)
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Daar was aanvanklik eers twee strofes en toe drie en heelwat redekaweling oor die woord “stronpraatsinode”. Maar dit was ‘n redelike vinnige proses en dit is maar min of meer geskryf soos dit daar staan.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?
Nee wat, gedigte hoef nie altyd bloedsweet te wees nie. Dit moet lekker wees om te skryf. Dit is ook nie aan my gegee nie, dit het soortvan gebeur en ek het neergeskryf wat ek sien. (Ek sê nie gedigte benodig geen ekstra inspanning nie, maar dis vir my ‘n vorm van ontspanning bo enigiets anders.)
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?
Gewoonlik bepaal die eerste drie of vier reëls die ordening. As die eerste vier reëls toevallig lekker ritmies werk in ‘n vormvaste wyse, skryf ek die res in dieselfde toon. As die eerste twee of vier reëls nie vormvas is nie, probeer ek nie verder vormvas skryf nie, maar vind dan ander maniere om die gedig te orden.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek sal soms my vriende dwing om na ‘n nuwe gedig te luister. Dis dikwels ook ‘n goeie manier om mense te kry om huis toe te gaan wat te laat by my woonstel kuier. (Daar is darem een of twee wat omgee, maar hulle is te vriendelik en sê altyd alles is mooi.) Ek lees dit ook altyd hardop as dit klaar is. Dit moet goed klink. Ek is in elk geval my strengste beoordelaar.
Ander kere gesels ek graag met mense soos Danie Marais oor ‘n nuwe gedig. In hierdie geval het Danie en Ronel de Goede (samestellers van Nuwe Stemme 4) gehelp met ‘n sukkelende stukkie wat eers was:
ys klingel stom teen die dawerende akkoorde
van ons inkonsekwente strontpraatsinode -
En nou lui:
ys klingel kil teen die dawerende akkoorde
van ons uitrafelende strontpraatsinode -
Ook was “die nag se gode” eers “donderse gode”.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Ek het hierdie vers seker so twee maande voor voorlegging aan Nuwe Stemme 4 (waarin dit in 2010 verskyn het) geskryf. Gewoonlik neem dit maar ‘n tydjie vir my om gemaklik genoeg te wees met ‘n gedig om dit die wêreld in te stuur. Ek bêre en herlees dit eers.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Dit is ‘n feit dat ek en my vriende al baie deurnag gekuier het. Dit is fiksie dat dit in Oranjezicht was. Dit is ‘n feit dat dit nie vir my saakmaak nie. Dit is fiksie dat dit behoort saak te maak.
Is dit ‘n narratiewe vers?
Nee, ag, dis ‘n oomblik. ‘n Foto.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Oor dronk, verveelde mense wat raas. (En, as ‘n mens nou ernstig moet raak daaroor, is dit oor hoe ons onsself graag verhul agter die verskansing van drank, die nag en “veiligheid in getalle” by gebrek aan ‘n eie identiteit. Dis oor my liminale generasie jong Afrikaners wat voortdurend soek na ‘n nuwe vorm van solidariteit en in die proses dikwels oënskynlik kopverloor.) [Nota: limen = Latynse woord vir drumpel.]
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?
Soos reeds genoem: Peter Blum se gedig “Drosterhonde bo Oranjesig” en dan ook die FAK-liedjie “Die lied van jong Suid-Afrika”. Ook het ek ‘n uitsig op Oranjezicht vanaf my balkon in die stad en Fokofpolisiekar wat min of meer permanent in die agtergrond speel.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ek dink aan my vriende en tydgenote wat nie noodwendig omgee nie. As ek iets kan skryf wat hulle sal laat regop sit, is dit goed.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Al my gedigte verskil na gelang van my bui, maar ek dink hierdie een is “harder” as die res.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Dit is tipiese gedrag van my generasie wit Afrikaanssprekendes in die stad en voorstad, maar dit kan ook netsowel enige ander plek in die wêreld wees. Dis Suid-Afrikaans omdat dit tipies my ervaring in Kaapstad is.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?
‘n Vers is seker nooit klaar nie en daar is altyd nog iets wat anders kon wees. There are many ways to skin a cat. Maar gelukkig raak ek gou verveeld met een ding en wil die volgende een aanpak, so ek verlaat dit maklik.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Die leser kan jou nooit tevrede stel nie, want jy kan hom nie sien nie. Dis nie soos ‘n gehoor by ‘n rockshow wat horings met hulle vingers maak en skree nie. Die lesers wat gewoonlik vir jou sê dis cool, is gewoonlik mense wat jy ken. Daarom, dink ek, sal ‘n mens nooit tevrede wees met die leser se reaksie nie, want jy gaan altyd wonder wat mense regtig daarvan gedink het. Maar op die ou-end maak daardie anonieme, gesiglose lesers se opinie nie eintlik soveel saak as jou beste vriendin jou gedig gememoriseer het en soms dele daarvan aanhaal nie. Dit behoort genoeg bevrediging te bied. Net jammer dit is nie altyd die geval nie. En daarom skryf ons weer, met die hoop dat die volgende een sal bevredig.
 Annie Klopper
Annie Klopper (Die Rockjagter) woon in Kaapstad. Sy is redakteur by Protea Boekhuis en is LitNet se musiekkorrespondent. Haar rubriek oor plaaslike musiek op LitNet, getiteld Rockjagter, het gelei tot haar gereelde insetsels op RSG onder dieselfde titel. Annie behaal ‘n B.A. in Geesteswetenskappe asook ‘n Honneurs (cum laude) en ‘n M.A. (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Annie was mede-navorser vir die MK-dokumentêr Johnny en die Maaiers, mede-samesteller van die 2007-heruitgawe van Eugene Marais se Die Siel van die mier (Protea), bydraer tot Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar (Sun Media) en van haar gedigte is opgeneem in Penseel 2007 (Universiteit van Stellenbosch), Versindaba 2008 (Protea) en Nuwe stemme 4 (Tafelberg).
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Wednesday, June 23rd, 2010
Digstring
| ek lewe in stilswye
wanneer donkie donkiekar
sy vuiste bal
en vir meisie le fleur van mossiestraat 2
in haar donner slaan
met ʼn moerse klap
in ʼn poel bloed haar lewelose liggaam laat
en die skare sis
sy was maar net ʼn tert
die jezebel van die krotte
ek lewe in stilswye
wanneer meester jonas in sy pastoorgewaad
op die plaas besope
van oom flip se koringbier
vir rosie odendaal
in haar uitgebleikte linneromp
hoog teen die kreeberge
tussen klipdagga en willeals
skaad
edelagbare sy was so mooi
en ek so alleen
ek lewe in stilswye
wanneer tant siena geldskieter haar blinkgatkar
met bloedgeld van jannie janse se all pay-kaart
met tik en pine
die hel in jaag
en sondag ja en amen sê
en ‘n stuiwer in die armbeurs gooi
vir pastoor ritters se evangelie
die here het gekom
gesterf
vir die sondes van die mens
die susters juig
die here vergewe
ek lewe in stilswye
© Sydda Essop (Uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Sydda? Hoe het dit ontstaan?
Hierdie gedig is gedurende Junie 2007 geskryf op ʼn winterse Woensdagmôre. Weens my betrokkenheid as gemeenskapsaktivis, of sosiale aktivis, was ek ontsteld oor die fatalisme wat onder die gemeenskap heers, die traagheid van ons politieke leiers en regerings-departemente om ʼn verskil te maak op voetsoolvlak. Daar was ʼn wrede geval van familiegeweld daardie spesifieke week (een van baie), die desolate gevoel van angs, futiliteit, hopeloosheid en woede het my oorval.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek skryf en bêre dit vir ʼn tyd; kom dan weer terug; telkens, lees dit hardop sodat dit foneties ook sin maak. Dit kan somtyds baie frustrerend word om jou gedagtes te formuleer in sinne en verse sodat die boodskap deurskyn en dit was die geval met hierdie gedig!
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Ek glo hierdie gedig was aan my “gegee”. Die informasie, die inhoud, was daar rondom my en spook elke liewe dag by my, maar die vertelling daarvan op papier was wroeg en sweet; maar dit maak dit die moeite werd, soos die adrenalien wat daarmee gepaard gaan wanneer jy hom afbeitel tot tevredenheid. Terselfdertyd moet jy ook die verantwoordelikheid neem vir die objektiwiteit van die inhoud, ondanks die frustrasie.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Dit was net eers reëls wat neergeskryf was om van die inhoud te kon verklaar, ʼn tipe geraamte van sinne en idees sodoende om ʼn vers te vorm. In hierdie gedig moes die reëls telkemale ʼn verklaring wees sodat dit ritmies lees en amper ʼn melodieuse klaaglied word.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek skryf amper in totale isolasie! Met “Nuwe Stemme 4” het ek die geleentheid en voorreg gekry om dit aan Ronel Foster en Danie Marais te stuur en dit per e-pos te bespreek en te slyp. Dit was ʼn wonderbaarlike bemagtigende ondervinding met baie dank aan hulle.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Dit is amper drie jaar nadat ek dit geskryf het en dis vir die eerste keer gepubliseer: in “Nuwe Stemme 4“.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Hierdie gedig is gebaseer op “feit” en hierdie gedig maak voorsiening daarvoor. Dit weerspieël die sosio-politieke en ekonomiese probleme in die Karoo-gemeenskap; die fataliteit en ook die futiliteit, die salige aanvaarding van die geestesleiers wat gepaard gaan met skynheiligheid en uitbuiting; die feitelike ontkenning deur ons politieke leiers om die probleme in die gesig te staar.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dis ʼn verhaal, of eerder ʼn klaaglied, oor die hartseer en verval in my gemeenskap en die fatalisme wat daarmee gepaard gaan; die belangrike feit dat daar toeskouers in die verhoor is wat hulpeloos, magteloos, staan en treur.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Die groot invloed was natuurlik die gebeure in die gemeenskap. Hierdie gedig was ʼn hoogtepunt van frustrasie weens my betrokkenheid as aktivis … Jy kan nie blindelings en amper jammerlik wegstap en sê dit pla jou nie!
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ek is die gehoor eerstens. ʼn Gedig moet ʼn storie kan vertel. Ek wil tevrede voel dat die lewe van elke mens vir my belangrik is en dat ek kan luister en probeer om ‘n verskil te maak. Terselfdertyd is dit belangrik dat die gemeenskap baat vind daarby en diegene wat dit êrens gaan lees, verstaan, en met deernis ondersoek in hoe ‘n mate die “massas” in die skemas leer om te oorleef.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
My gedigte is amper almal “klaagliedere. Hierdie een meer ironies, sarkasties en sinies. In hierdie gedig skree ek om hulp!
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Tot ʼn groot mate is dit tipies “Suid-Afrikaans” ten opsigte van die storie en die inhoud; tog sukkel die inheemse inboorlinge in Australië en Amerika met dieselfde probleme. Hier in Suid Afrika is ons nog deel van hierdie idilliese euforie dat as dit goed gaan met my, is alles reg. Maar dat ons in ʼn post-apartheid landskap leef en jy sou dink dat die sogenaamde “leiers” van bevryding ons as voorbeeld van bemagtiging vir die wêreld kon toon, is teleurstellend. Dis ironies dat die volk nog glo bevryding van armoede, en die euwels wat daarmee gepaard gaan, gaan nog gebeur … Dis vir my baie tipies dat niemand omgee nie en die karakters in die gedig praat duidelik; die manier van woordspraak kan net in Suid-Afrika gebruik word en verstaan word.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek dink so, want al my karakters in my storie het ʼn stuiwer in die armbeurs gegooi of dit gesofistikeerd was of nie, kru en sleng taal, of nie. Dis die stemme uit my gemeenskap.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Dis goed om te weet wat ander mense dink. Ek glo ons moet die vryheid hê om ons menings so eerlik te lig solank dit opbouend en positief en nie afbrekend en negatief is nie.
ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Ek kry nog nagmerries daaroor! Dit was in die Graad 11 se Wiskunde-eksamen. Kon nie hond haaraf maak van ʼn probleem nie. Ook die feit dat die onderwyser nie ons gender ernstig beskou het in die konteks van Wiskunde nie. Dit was woede en frustrasie. Dit was my eerste probeerslag om te skryf.
 Sydda Essop
Sydda Essop
is in Beaufort-Wes gebore en het daar skoolgegaan. Sy studeer in die kunste by die Universiteit van Kaapstad. In die tagtigerjare is sy betrokke as sekretaris by die “Wynberg Crisis” organisasie om bystand te lewer aan ouers en kinders wat betrokke was met ”Public Violence”. Gedurende 1989 het van haar gedigte o.a. verskyn in die bundel I Qabane Labantu onder die redaksie van Ampie Coetzee en Hein Willemse. Sy raak betrokke in die familie se besigheid en word later ‘n voltydse gemeenskapsaktivis in die Groot-Karoo. Met die hulp van Maatskaplike Ontwikkeling loots sy die Gender program vir die bemagtiging van die vrou en dogter. Vir die afgelope drie jaar is sy betrokke in die navorsing oor die rol, invloed, mede-afhanklikheid van die multikulturele landskap en veral die inheemse bydrae op kos en medisyne in die Groot-Karoo, die rol van vroedvroue op plase en “arm kos”. Die boek hieroor word vroeg volgende jaar gepubliseer deur Quivertree. Tans is sy besig om “SANTA” op die been te bring omdat die Groot-Karoo met van die hoogste syfer van tuberkulose in die Wes-Kaap sit weens armoede, drank en dwelmmisbruik. Haar gedigte verskyn ook in Nuwe Stemme 4.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Sunday, June 20th, 2010
Digstring
| Kameeldoring
kleintyd was jy die agterplaasboom
die klimboom en die tekenboom
vir my dom hande
in ydeler jare was jy net ʼn ver boom
op die horison, ʼn vryboom
met die maan agter sy takke
maar nou is jy die nabyboom -
ons bas het ewe vaal en skurf geword
ons wortels tas na dieselfde kalmte
nes jy moet ek my kroon vol dorings
met gekromde arms dra
(c) Kobus Lombard (Uit: Vlerke vir my houteend, 2010: Protea Boekhuis)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Kobus? Hoe het dit ontstaan?
Ek skryf ʼn datum by die ontstaan van elke gedig neer. Op daardie stadium is dit nog die eerste handgeskrewe poging. Hierdie gedig se geboortedatum is 25 November 2008. Die rypwording van ʼn gedig loop egter sy eie onsigbare pad binne in/deur jou ervaringswêreld. Wanneer dit gaan ontstaan, weet jy nooit. Vir lank het ek probeer om in gesprek te tree met ʼn kameelboom -‘n boom wat seker elke Namibiër na aan die hart lê. Maar nooit wou ‘n vers na my toe kom nie. Ek dink dis omdat ʼn kameelboom te ‘groot’ en oorweldigend is. Eers toe ek net na sy bas begin kyk, selfs net elemente daarvan, kon ek iets begin verwoord. Dis dalk hoe gedigte met my werk. Ek moet eers oor die splinters begin skryf voor ek iets oor die boom gesê kry.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Min verse is ooit reg gebore. Ek dink omrede hierdie vers lank rypgeword het, het dit redelik na aan sy finale vorm uitgekom. Ek behou die verskillende weergawes van elke gedig (handgeskrewe en per rekenaar), want soms wil ek teruggaan na die oorspronklike teks. ʼn Vroeëre sleutelwoord of frase kan jou weer op die spoor plaas. Maar die afrond van ʼn paar klein aspekte vat soms veel langer as die herskryf van groter gedeeltes.
Hierdie vers spesifiek wou my verlei om te veel te sê - veral omrede die boom so lank al met my praat en die sentiment daaraan baie sterk is. Die afrond was dus veral die wegsnoei van onnodige of té lowerryke takke.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
ʼn Kameeldoringboom groei onwillekeurig in elke Namibiër. In dié sin is die vers vir my gegee. Hoe dit egter in elkeen van ons groei, sal verskil soos wat elke boom se krommings verskil . Swoeg en sweet is deel van skryf - of seker van enige vaardigheid se toepassing. Of die swoeg en sweet ‘swaar’ gaan wees, hou verband met hoe na die vers aan jou hartsnare lê. In hierdie geval was daar darem ʼn effense soutsmaak aan die sweet.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Redigering hou bykans nooit op nie, maar iewers voel jy aan dat verdere afronding eerder skade gaan doen as waarde toevoeg. Meestal sit ek gedigte lank neer om eers weer vars oë daarvoor te kry. Hierdie spesifieke vers het ʼn volle jaar ‘gerus’ voor finale afronding. Teen die einde het dit sterk sy eie loop geneem - homself klaar geskryf. Die slot het sterk ‘toegemaak’, wat my ʼn gevoel van finale vorm gegee het.
Met die eerste skryf is die ordening sekondêr, sodat die gedagtes vry kan vloei - liefs ongeorden. Met die afronding kan die linkerbrein met ordening help. Omrede ek van nature redelik sistematies is, moet ek doelbewus waak teen te vroeë ordening. Elke skrywer moet homself ken in die opsig. Die ordening in hierdie gedig hou verband met die fases van ouer word.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek wys nie graag ʼn vers aan iemand in die vroeë stadium van skryf nie. Die gevaar bestaan dat hy/sy jou vers se vonk steel (of blus) nog voor dit vers kon word - al is dit ook met goedbedoelde kommentaar. Wanneer ʼn aantal verse redelik ‘klaar’ geskryf is, soek ek ʼn klankbord. My vrou Zouna is ʼn goeie klankbord omrede sy nie huiwer om eerlike terugvoer te gee nie. Verder gee ek my gedigte vir ten minste een ‘kundige’ in Windhoek voordat ek die finale afronding doen. Meerdere letterkundige opinies trek soms in te veel rigtings en dra nie positief tot afronding by nie.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Die vers is eers in September 2009 voltooi en verskyn in die bundel “Vlerke vir my houteend’ wat in Februarie 2010 gepubliseer is.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Soos genoem het die vers sy ontstaan uit my eie omgewing en ervaring. Die boom was fisies teenwoordig deur my hele lewe, so ook my ervaringe rondom die boom. Op die stadium dat ek één word met die boom, gaan die vers seker oor na fiksie. Is dit hoe ʼn metafoor werk? Die letterkundiges moet maar help!
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die vers probeer m.i. aandui hoe ek met die kameelboom identifiseer het deur die verskeie fases van my lewe. In vroeëre stadia het die boom bepaalde rolle vervul [om in te klim, dit te teken of agter hom te vry]. Uiteindelik, soos ons albei ouer geword het, raak die identifikasie só nou dat ek bykans een word met die boom. Selfs die gehardheid wat hierdie semi-woestynland vra van mens en natuur [plante], word ʼn gemeenskaplikheid tussen my en die boom. Hierdie is maar een interpretasie van die vers. Hopelik leen die vers hom tot nog wyer interpretasie(s) deur die leser.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Baie dinge uit jou omgewing neem jy aanvanklik as van selfsprekend - soos ʼn kameeldoringboom. Dan op ʼn dag tref die besondersheid daarvan jou. Dié tipe waardering kom seker met die ouderdom en met die besef van verganklikheid. So ek het die kameelboom as’t ware herontdek op ʼn latere tydstip in my lewe.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Met die aanvanklike skryf dink ek nie bewustelik daaraan nie. Dit kan inhiberend wees. Maar ek vra myself na die tyd af of die deursnee leser sal kan identifiseer met dit wat ek wou sê. Skrywers het seker almal ʼn onsigbare luisteraar vir hy hy/sy iets wil vertel. Hoekom wil jy dan iets sê as jy dit vir niemand wil sê nie?
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Die vers is in lyn met verskeie van my ander verse - wat op terugskouende wyse probeer klaarheid kry oor ons lewensloop. In die laaste bundel sluit dit veral aan by die idee om nie antwoorde te ver te soek nie - dis dikwels verkrygbaar onder ʼn boom op jou eie werf.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Soos reeds gesê, is die Kameeldoringboom tipies Namibies - en seker ook Suid- Afrikaans. Die ander beelde in die vers kan met enige boom verbind word.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?
Hierdie vers het my die gevoel gegee dat dit klaar geskryf is - of moet ek sê dat hy homself klaar geskryf het. Dit was een van die ‘gelukkige’ verse wat tot en met die finale redigering nie veel moes verander nie.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek het nog nie spesifieke terugvoer oor hierdie vers gekry na publikasie nie. Tydens die finale afronding het dit ʼn regmerk gekry sonder spesifieke kommentaar. Die tipe reaksie kan bedrieglik wees.
ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Dit was ʼn liefdesvers tydens my tweede jaar op universiteit. Begin ons nie maar almal so nie? Ek het nooit die moed gehad om dit vir haar te wys nie. Die gogga wat toe gebyt het was meer ʼn liefdesgogga as ʼn skryfgogga.
 Kobus Lombard
KOBUS LOMBARD is in 1952 in Waterval-Boven gebore en het as ’n aangenome kind – uit die Maria Klopper-kinderhuis – in Gobabis, Namibië grootgeword.
Nadat hy matrikuleer in Windhoek aan die hoërskool Jan Möhr, voltooi hy sy verpligte diensplig in die SA Lugmag. Hy studeer in die handelswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch en doen sy nagraadse studie in sielkunde deur UNISA. Sy werkloopbaan begin in Kaapstad en hy verhuis in 1980 terug na Namibië. Tans is hy werksaam by die Stadsraad van Windhoek as opleidingsbestuurder en is getroud met Zouna, gebore Joubert.
Sy debuut bundel. ‘Geknipte naelstring’, word uitgegee deur Protea Boekhuis in 2001 waarvoor hy in 2003 die kortlys haal vir die Ingrid Jonker-prys. Sy tweede bundel, ‘Tussen wysvinger en duim’ en sy derde bundel, ‘Vlerke vir my houteend’ verskyn onderskeidelik in 2005 en 2010, ook beide uitgegee deur Protea Boekhuis.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Wednesday, June 16th, 2010
Digstring
|
HONDE
Ons honde blaf opgewonde
by die voorhekkie toe ek van die werk af kom.
Op die tafel lê ‘n briefie.
Hulle smeek keffend vir ‘n stappie.
Ek steek jou briefie in my sak
en ons gaan uit.
Die honde blaf uitgelate
toe ek hulle in die park loslaat.
Hulle snuffel oral vir verlore skatte en
ek sit onder ‘n boom en lees jou briefie.
Later blaf hulle al om my bene vir aandag.
Ek sit met jou brief,
met die brief in my hande.
Die honde blaf heelpad huis toe,
sleep my saam van hek tot hek.
Ek smyt die stuk papier in die drom,
gee die honde kos,
staar na die TV,
klim by jou
reuk in die bed.
© Pieter Hugo (Uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Pieter? Hoe het dit ontstaan?
Ter voorbereiding vir DigBY se poësieslypskool in die winter van 2007, moes ons onder andere ‘n gedig oor diere skryf. Sover ek kan onthou, was dit my eerste dieregedig. Geen wonder die eerste weergawe was afgryslik sleg nie.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Goeiste aarde, nee! Dié vers het deur tientalle weergawes ontwikkel. Dit is maar die proses met die meeste van my gedigte. Behalwe vir die gegewe van die honde en die brief, is daar hoegenaamd geen ooreenkoms tussen die eerste weergawe en die uiteindelik gepubliseerde weergawe nie.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Dié vers was 100% wroeg en sweet.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die vers is klaar, reg en goed. Anders sou ek hom nie vir publikasie voorgelê het nie.
Ordeningsbeginsel? Dis die hele storie van hierdie vers. Ek het aanvanklik begin speel met twee dinge. Eerstens moes daar honde in wees, want ek moes mos ‘n gedig oor diere skryf. Tweedens het ek probeer speel met ‘n vormstruktuur wat nou te ingewikkeld is om hier te probeer verduidelik. (As jy belang stel, gaan lees my blog, “Die geboorte van ‘n gedig“, by die Nuwe Stemme blogs op Versindaba.) Snaaks genoeg, het die gedig uiteindelik eers begin “lewe” toe ek, op professionele aanbeveling en redelik teen my sin, hom van daardie vormstruktuur verlos het.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek het ‘n hele arsenaal “klankborde” vanuit ‘n verskeidenheid agtergronde, van “professionele poëte” tot lekepoësieliefhebbers. Terugvoer van ‘n hele handvol plus van hulle, deur verskeie stadia van hierdie vers, het bygedra tot sy vorming.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Van ek dit aanvanklik geskryf het, was dit amper vier jaar tot publikasie, maar die finale (en kardinale) veranderinge het ek gedoen net voor dit ingegee moes word vir publikasie.
Kan jy iets sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Hierdie gedig is suiwer fiksie. Dit is op geen werklikheid, ervaar óf waargeneem, gebaseer nie. Die enigste werklikheidsooreenkoms is dat ek ‘n hond het en soms met hom gaan stap. Jammer, liewe leser, maar ‘n goeie roman kan jou emosioneel aanspreek al weet jy dis fiksie. Waarom nie ‘n gedig ook nie?
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die oomblik van waarheid as jy ‘n “dear Johnnie” van ‘n geliefde kry, kamma subtiel verdoesel in die alledaagse gebeure van om met die honde te gaan stap.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Niks direk nie. Ek moes die gegewe van die gebeure seker maar iewers uit my ongeordende stoorkamer van geheue, aangehelp met ‘n bietjie verbeelding, gehaal het.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
As ‘n mens gedigte skryf is daar mos in elk geval nie veel lesers nie! J Nee, ek werk meestal maar aan ‘n vers vir eie plesier, maar hoop terselfdertyd dat dit darem vir ‘n paar ander mense ook ‘n oomblik se glimlag of traan of frons sal verskaf.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Ek skryf nie net een soort vers nie, maar hou van speel met verskillende skryfstyle en tradisies, van formele vorme tot vrye verse. Die meeste van my verse, in watter styl dit ook al geskryf is, het wel die deurlopende ooreenkoms van gestrooptheid en, hopelik, gepoleerdheid.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee, nie spesifiek nie.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Na al die geswoeg en gesweet met dié een, is ek eintlik verras met hoe goed hy uiteindelik is. Hy het vir lank in my laai van mislukte gedigte gelê, maar gelukkig gooi ek NIKS weg nie (tot my arme vrou se frustrasie). Toe ek weer aan hom begin werk het, het ek, uiteindelik, genadiglik wel daarin geslaag om my aan toepaslike kritiek te steur eerder as hom net weer te versaak.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ja, hy lok verassend positiewe reaksie uit na publikasie en met voorlesings, veral na sy vroeëre weergawes meestal lou tot negatiewe reaksie gekry het.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons iets daarvan?
Ek kan dit baie goed onthou. Ek was in Standerd 7 (Graad 9) en Aardrykskunde was my gunstelingvak. My ouer broers was al op universiteit en ek het by hulle die studentewoord “blok” geleer. (Ek weet nie of deesdae se studente nog vir eksamens blok en of hulle bloot maar net sit en studeer nie.) Dit was natuurlik eksamentyd en ek het een hele aand se bloktyd omgespeel met die skryf van dié gediggie:
ek blok en ek blok
maar die kennis bly
lê soos ‘n blokberg
voor die vlakte van my vaal verstand
 Pieter Hugo
Pieter Hugo: Ek is ‘n pastoriekind, ‘n bibliotekaris en nou, uiteindelik, net-net, ‘n gepubliseerde digter. Overgesetsynde dus, leef ek weens, vir en van die geskrewe woord. Dit doen ek tans in Kaapstad, maar vorige adresse sluit in Beaufort-Wes, Bonnievale, Worcester, Malawi, Stellenbosch (student), Windhoek (kind) en Greyton (baba). |
Sunday, June 13th, 2010
Digstring
|
Lima
Peru
probeer om te vergeet
waarsku die stad om lig te loop
want ek wil die kind op die sypaadjie nie sien nie
gesig versluier agter vuillug garúa
probeer om te vergeet
die koue kind ruik Mercado del Indios
se alpakkatruie en musse van wol
laat die stad in vlamme opgaan
want ek wil haar nie so sien nie
die kind staan met hartseer speelballe
in ‘n stad van waansin
waar sy stiptelik om spitstyd
al op die stippellyn wawiel
die munte traanblink in haar hand
steeds is haar voete duiwe
duiwe al op die stippellyne
kwetterend bo-oor die praatsang van priesters
swiepend oor verlamde moeders wat llamalammers brei
singend teen niksseggende vaders met arendsneuse
en koppe van klei
en haar voete praat luider as die stemme van priesters
en haar voete vleg vinniger as die hande van moeders
en haar voete dink verder as die koppe van vaders
fladderend in wawiele
is haar voete tweelingduiwe in vlug
asof die shajshas se bokhoewe ratel
en iemand ‘n vyfsnaar-charango
tokkel teen haar vel
moet die geluid van remme nie onthou nie
en die kras gefluit van die wind deur die straat
probeer vergeet
probeer vergeet
dat Lima ‘n dogtertjie was
© Carina Stander. Uit: woud van nege en negentig vlerke. Tafelberg, 2009
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Carina?. Hoe het dit ontstaan?
Op 7 November 2005 forseer ‘n oorstopvlug in Lima vir my en Gerrit om ‘n middag deur dié lugbesoedelde metropool met sy ritse dobbelhuise deur te bring. Elke stad het ‘n gesig. Die hoofstad van Peru se gesig is agt maande van die jaar versluier agter garúa, ‘n mislike mistigheid.
Mercado del Indios is ‘n kleurmal mark in die voorstad, Miraflores. Tussen stapels wolmusse en kussing, sien Gerrit ‘n piepklein rooi rokkie. Dit het ‘n kappie en is borduur met wolke wat reën oor kaktusse en llamalammers. “‘n Poncho vir ons dogtertjie vir eendag,” sê hy.
Spitstyd vleg ons deur die verkeer. Naby die lughawe sien ek haar. Sy is skaars drie jaar oud. Sy staan tussen die karre en gooi balle in die lug vir geld. ‘n Seuntjie van so ses maak wawiele op die stippellyn. Die motors jaag soos duiwels om hulle. My munt in haar hand. En sy kyk na my deur die oop karvenster. Sy kyk stip. Ek wil aan haar skouer raak, oor haar vuil hare streel. Om te dink, sê Gerrit, hoe mooi hierdie kind in ‘n rooi poncho sou lyk. Ek hoor hy wil huil.
Toe die verkeerslig verander, skryf ek in my notaboek: “Lima is ‘n dogtertjie.”
Daarna agtervolg die kind my vir weke lank - deur Arequipa, Titicaca, in Cuzco, oor die Andes en later ook in die Pantanal, die Amasone, Rio de Janeiro, Parati, selfs in Salvador da Bahia sien ek haar in elke straatkind.
Dalk het ek die gedig geskryf om van haar ontslae te raak. Of miskien was dit meegevoel wat my gedryf het om te skryf. Ek wou haar vry skryf. Ek wou vryheid oor haar profeteer. Ek wou vir haar voete gee - “tweelingduiwe in vlug”.
 ʼn Peruviaanse dogtertjie. Foto: Carina Stander
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek skryf gereeld reisartikels vir tydskrifte - ‘n goeie manier om die wydheid van ‘n anderwêreldse ervaring te kondenseer. Dikwels vat ek dié kondensasie verder en maak verse daaruit. “Peru toe” was ‘n reisartikel oor die Peruviaanse Andes wat Mei 2006 in die Media24 tydskrif, Lééf verskyn het. Daarin het ek vir die eerste keer die verhaal van die kind in Lima vertel. ‘n Jaar later het ek dit in ‘n gedig omskep. Daar was maklik twintig weergawes van die vers, maar alles in een dag. Ek gaan slaap nie sommer voordat ‘n gedig of artikel of kortverhaal of watookal klaar is nie. Ek is heeltemal te nuuskierig om die slot te lees.:)
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?
Die impuls is aan my gegee.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Anders as met my digdebuut, is woud van nege en negentig vlerke vol vaste versvorme. Dit was vir my ‘n breinoefening om te sien of ek tot meer as vrye verse in staat is. Die uiteinde was ‘n villanelle, pantoen, rondeau, triolette en haikoes, maar meeste van die sewentig gedigte in dié bundel is vrye verse. “Lima”, het ek van die begin af geweet, moet ‘n vrye vers wees. ‘n Vertelvers. ‘n Liriese verhaalvers. Só kon ek na aan die werklikheid bly.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Eers nadat ‘n gedig duidelik vorm aanneem, lees ek dit vir Gerrit. Hy is een van daardie gevoelige linkerbreiners, ‘n ingenieur met meer as verstand. Maar letterkundige truuks beïndruk hom min - ‘n vers werk as geheel of dit werk nie. Punt. In die begin het hy my woedend gemaak, maar die laaste drie jaar of so vind ek hom ‘n besonderse nuttige eerste leser.
My uitgewer, Etienne Bloemhof, het beide die vloedbos sal weer vlieg en woud van nege en negentig vlerke aan Henning Snyman en Joan Hambidge gestuur vir keuring. Hulle albei was ook my dosente tydens die MA in Kreatiewe Skryfkuns by UCT - hulle ken my goed en hulle sien waarheen ek mik. Dit is my keuse om nie ‘n enkele vers te publiseer sonder dat een van hulle dit onder oë had nie. Meestal is die reaksie kort en kragtig: “Slot kort aandag” of “Snoei terug.” Maar om te weet daar is twee letterkundige indoenas en een nie-letterkundige impi wat my verse lees voordat ek dit die wye wêreld instuur, laat my veiliger voel. Meer oorlogbestand.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Ek het die gedig in 2007 geskryf. In September 2008 het LitNet gevra vir ‘n ongepubliseerde vers as deel van ‘n onderhoud met die nuwelinge van die Groot Verseboek. Ek het “Lima” ingestuur - presies soos wat dit nou is. As ‘n vers eers eenmaal verskyn het (op die internet, in ‘n koerant of waarookal) verander ek dit byna nooit.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Ek het ‘n lewendige belangstelling in antropologie en geografie en sonder uitsondering gebruik ek naslaangidse wanneer ek fasette hiervan in my werk betrek. ‘n Reiservaring is ook altyd vir my ‘n geleentheid tot navorsing; ‘n versameling van feite én fiksie vir werk én speel. Deur reise is ek opsoek na ‘n moontlike wêreld, ‘n eie mitologie, ‘n nuwe beelding.
Wat “Lima” betref: garúa is werklik ‘n grys mistigheid in die winter in Lima; Mercado del Indios was werklik stampvol “alpakkatruie en musse van wol”; die Peruviaanse mans het werklik “arendsneuse” en die priesters “praatsing”. In Arequipa het ek kennis gemaak met tradisionele herdersmusiek (”asof die shajshas se bokhoewe ratel/ en iemand ‘n vyfsnaar-charango/ tokkel teen haar vel”.) En natuurlik was daar die dogtertjie in Lima. Stiptelik. Om spitstyd. Op die stippellyn. Alles in die gedig is feit. Alles is waar, behalwe die geluid van remme in die straat. Of dalk probeer ek om te vergeet.
Is dit ‘n narratiewe vers?
Ja, dit vertel ‘n ware verhaal. Die verhaalvers ís ‘n universele medium, skryf Robert Frost: “Narrative is a mode of reconciliation, of healing, and of self-forgetfulness… At one level your ethnic or cultural background must influence your response to the linguistic medium. This is one reason why transparency in the telling can be not simply an artistic, but moral and political obligation as well. Once beyond words… stories are nation-blind” (2002:102).
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
In die bundel is “Lima” deel van ‘n afdeling getiteld “Vasteland, Wankelland”. Vastelande is nie vas nie, hulle wankel - ekologies, sosio-ekonomies, moreel, histories. Soos die ander verse in dié afdeling gaan “Lima” ook oor vernietiging en hoop, verwonding en verwondering, inperking (slawerny) en verbeelding of kreatiewe uitlewing as ‘n tonnel na vryheid.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?
My maandlange reis deur Suid-Amerika in 2005 was die grootste impuls. En ek het Uys Krige se Spaanse Dans gelees - sy vertalings van gedigte deur Lorca en Neruda en Jiménez, openbaar die psige van die Latino wêreld. Ek kan nie onthou watter musiek ek geluister het toe ek die gedig geskryf het nie, maar ek het beslis na iets geluister. Wanneer ek vashaak met die skryf van ‘n gedig, skakel ek altyd musiek aan. Klassieke musiek (Rachmaninov, Satie, Beethoven) of world music van Bulgarye, Frankryk, Kenia, Ierland, Brasilië, Peru.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
‘n Bepaalde leser? Nee. Ek hou my deure oop vir die literati én die nie-letterkundiges. Ek wil inklusief skep, want elitisme is die dood van die kunste. Ek skryf beslis nie net vir myself nie, anders sou ek nie wou publiseer nie. Poësie is klankkuns - dit moet gehóór word.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dit is ‘n intieme vers oor iemand wat ek nie ken nie.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Nee. En dis ook nie tipies Peruviaans nie. Wat tema en vorm betref, is dit een van die mees universele verse wat ek geskryf het. (Sien vraag nr. 8).
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?
Ek publiseer net ‘n gedig as ek bereid is om dit in lewende lywe voor ‘n gehoor te lees - dus, as ek bereid is om myself ten nouste aan daardie vers te koppel. Die verse wat ek abandon het, is almal op my rekenaar in ‘n lêer met die heerlike dubbelsinnige titel, “Gedigte om te verwerk.” Dit is 117 bladsye lank.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Die herhaling, klankrykheid en emosionele opbou van die gedig maak dit ideaal vir voorlesing en daarom het ek dit by feeste en bundelbekendstellings voorgelees. Elke keer is ek verras deur trane in die gehoor.
Vir interessantheid het ek nou weer na die resensies gaan loer. Een resensent noem “Lima” een van die “aangrypendste gedigte” in my bundel, terwyl ‘n ander reken dis ‘n ongeslaagde voorbeeld van “onskadelikstelling.” Dit, dink ek, was ‘n vinnige afleiding, want daar word immers gesuggereer dat die kind verongeluk (”die geluid van remme”). Tog, met die betrokke resensie het ek gewen aan die wonderlike term, “onskadelikstelling”. Dit het ‘n baie waardevolle vonk in my losgeskiet: die besef dat ek onskade wil skep. Dat dit vir my ‘n kreatiewe uitdaging is om verby obvious verdoemenis te skryf. Om hard en ver na rariteite soos ongereptheid en veral vryheid te soek en dit dan te omskryf, is my rebellie teen wreedheid. ‘n Aanklag teen sosiale apatie. Mens sou “Lima” as ‘n protesvers kon lees.
ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Op laerskool was ek skaam en stil, maar ek het ‘n maatjie gehad, Leonie. Dit was vir my die wonderlikste ding op aarde wanneer vreemdelinge dink ons is ‘n tweeling. In 1985 (ons was agt jaar oud), is Leonie se pa na ‘n ander provinsie verplaas. Ek was so verskriklik hartseer, ek kon skaars praat. Daardie aand, terwyl ek besig was om te bad, het die eerste versreël my besoek. Ek het dit dadelik neergeskryf - die “Leonie-week” was ‘n hele bladsy lank. As ek eendag groot is, het ek gesê, gaan ek gedigte skryf. My ma het gesê hierdie is ‘n gedig en vir my ‘n boek gegee waarin ek my versies kon neerskryf. Van daardie oomblik af het ek geweet dat ek my lewe aan die skeppende woord wou wy. In die middae na skool het ek met Opperman se Groot Verseboek en ‘n gehawende HAT gesit en lyste gemaak van woorde wat vir my mooi is. Op elf het ek begin om elke tweede Sondagmiddag ‘n gedig te skryf - ‘n ritueel wat ek volgehou het totdat ek 17 jaar oud was.
Leonie het nooit my briewe beantwoord nie. Twee jaar nadat sy weg is (ek was toe tien jaar oud) het ek die hele verdomde gedig met ‘n vergrootglas op ‘n plankie gebrand en vir haar gestuur. Steeds geen woord van haar nie. Sy is in ‘n motorongeluk dood toe ons 21 jaar oud was. Sy was my eerste liefdesteleurstelling.
 Carina Stander
Carina Stander het op ‘n plaas in Limpopo grootgeword. Nadat sy ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria behaal, werk sy vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan uitstallings met beelde en skilderye wat natuur en bonatuur verken. Haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg (Tafelberg, 2006), verskyn nadat sy ‘n meestersgraad (cum laude) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Dit word gevolg deur woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009.) As vryskutjoernalis by verskeie tydskrifte, is sy twee keer Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif, Lééf. Van haar kortverhale is voorgeskryf vir hoërskole. Sy woon in ‘n kuswoud saam met haar man en seun. |
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Bron:
Fraser, Robert. 2002. Ben Okri: Towards the invisible city. Devon: Northcote House.
Wednesday, June 9th, 2010
| Die Eerste Vrees Is Hier.
Waar die rivier soos ʼn skepbeker deur die mere loop
kom ek om middernag by die grenspos, hoog op ʼn heuwel aan.
Murgsat na ʼn uitgestrekte tentatiewe reis na die ewenaar
tuur ek suid, na onder toe die onvermydelike sigbaar word.
In ʼn brose teeplantasie omarm ʼn jong man die horison
voordat hy met dwalerende krete oor ʼn bruin grondwal spring.
Die eerste vrees is hier.
Die krygers se griewende machette lig die katedrale van slagting
na die planete. Toe die sekelmaan kerf aan die blou vlies
van die hemel, blom en swel liggaam sonder ʼn vlerk wat roer.
Stemme en liedere sal nooit weer oor hierdie kliphuisies drup nie
want ou vroue dra reeds hul drome na oggendwolke getint met bloed.
Oumansstories word opgevreet, soveel waardige veldslae gaan verlore.
Paniekbevange vlug die beeste na ʼn duisend veraf heuwels.
Net die wind onthou die yl stemme van kleuters wat swermende
spore in die as van die begrafniswond trap. Rotse kreun as die eruptiewe
krater wolke hoog die lug in slinger. Ek dink aan Atlas gebuk onder die juk
van die omwolkte wêreld. Die dop van my lyf weeg swaar as ek buk
onder die juk van krassende swart kraaie. My siel huil in my hand
en my voetsole buig ʼn boog oor die dooies. Nog ʼn keer en tevergeefs
draal die dreungesange oor die stad van strooi. ʼn Afgebreekte fort.
© Melanie Grober. Ongepubliseerde gedig. 2010
Funeral Bruise.
I arrive with the night wind on my brow.
Arrive at the border post near the equator
where I hunch quietly waiting for the blind inner eye
to bridge the thin line of apprehension.
A young man jumps over a brown ground wall
and when the militia step forward people stiffen.
Grievous the machettes gleaming like mountain dew
when the funeral bruise erupts from the Verunga Volcanoes.
The cries of orphans roaming along paths of scavenging crows
raise the cathedrals of slaughter to the sky and I think of Atlas
near the end of the world bending beneath his yolk
of clouds. Bending under the weight of the genocide
my soul cries in my hand. My raining feet covers
the raw wound of daybreak with love.
Vert. Melanie Grobler. Ongepubliseerde gedig. 2010
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ek het twee jaar die geleentheid gehad om saam met Lara en Andreas deur Rwanda, geleë in die Groot Mere Distrik in die oostelike gedeelte van Sentraal Afrika en omring deur Uganda, Burundi, Tanzanië en die DRK, te reis om nuwe roetes vir GPS Tracks for Africa te karteer. Ons het met die Pajero gereis na die Groot Gedenkklip waar Livingstone en Stanley mekaar vir die eerste keer ontmoet het en toe na die Verunga Vulkane waar Dianne Fossey se berggorillas woon. In die Nyungwe Oerwoud was ʼn kennisgewing wat die oorsprong van die Nyl aangedui het. Maar Kivu Meer, een van die twaalf diepste mere in die wêreld, word meer as enige ander plek in Rwanda onthou vir die Groot Menseslagting van 1994. In die Vallei van ʼn Duisend Heuwels, lees ek destyds in ʼn gidsboek, was die landelike gebiede bestrooi met verminkte lyke, dat honde en kraaie die land weer skoongemaak het. Paradoksaal tot vandag toe is daar weinig honde in Rwanda te siene. Ook die wonderlike tradisionele Ankole koeie met hul lang regop horings, wat die indirekte oorsaak van die eerste Menseslagting in Rwanda was, is heeltemal afwesig. Maar dis ʼn ander storie waaroor Ryszard Kapuściński geskryf het. Net die kraaie van Kigali laat mens aan die gruweldade van destyds dink. Anders as in die res van Afrika, sing beide die Tutsis en Hutus nie meer nie. Die enigste musiek wat ek gehoor het was die eentonige dreunsang van ʼn diep verwonde nasie. Tydens die jaarlike herdenking van die Genocide word hierdie musiek dag en nag, oor en oor gespeel. Tydens die skryfproses het vrae die heel tyd by my opgekom. Kan enige gedig die omvang van so ʼn gebeurtenis verwoord? Kan al mens se besoeke aan die vele plekke van slagting omskryf word? Kan enige woorde die ellende van ʼn Menseslagting dra? Ek weet dat my gedig nie die gebeure van 1994 kan verwoord nie.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek het die eerste gedagtes oor die Menseslagting reeds in die restaurant Heaven, in Kigali, in ʼn notaboek opgeteken en alhoewel ek ses weke daar was en die geleentheid gehad om daardie notas te omdig, kon ek nie. Ek het wel ʼn titel vir ʼn titel vir ʼn gedig gehad. Terug in Pringlebaai het ek ʼn onverwerkte vers geskryf en dit in ʼn legger vir onvoltooide werk op die rekenaar gebêre. Ek het Die Eerste Vrees nader gesleep toe die uitnodiging om die vrae (onderhoud) van Digstring, my per e-pos bereik het. Intussen het twee jaar verloop sedert my eerste gedagtes oor die Menseslagting vasgepen is. Genadiglik stomp mens se emosies met tyd af. Maar dit neem my laaaaank om gedigte te skryf en ek skryf stadig.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Ek het oor twee dae Die Eerste Vrees en ʼn onafhanklike Engelse gedig, Funeral Bruise, voltooi. Die Afrikaanse gedig het veel meer hoofbrekings gebied. Na twee dae se gesukkel het ek gaan slaap en toe ek opstaan het my onderbewussyn (?) sy of haar besluit aan my openbaar. Die Eerste Vrees, moet uit. Die gehalte van die vers is nie op standaard nie. Hoekom nie? vra ek myself af. My eerste gedagte is dat dit nie die metafisiese kwaliteit van Funeral Bruise het nie. Wat beteken die woord metafisika, wil ek van myself weet. Waar ek op die oomblik skryf is geen woordeboeke nie en ek kan nie die betekenis van die woord navors nie. Dis vroeg in die oggend en dis nog donker buite. Dit het die heel nag lank gereën en dis koud hier. Ons het gisteraand ʼn sms van die Overstrand Munisipaliteit gekry dat ʼn groot reënstorm Pringlebaai deur die nag gaan teister. Ons is in Stellenbosch en ons kat, Matewis, is alleen by die huis. Ek bekommer my nie net oor die kat nie, maar ook oor my besluit om Die Eerste Vrees uit die onderhoud te sny. Ek hoor nog hoe roep die kat my toe my onderbewussyn vir my ʼn nuwe stukkie inligting uitgooi. Die Argeoloog. “Hier’s hy”, dink ek opgewonde. “Hiermee kan ek werk.” “Maar is dit nie te hoogdrawend nie?” Hoekom moet die Afrikaanse gedig dan nou kwansuis uit? Gaan die lesers van die onderhoud nie kwaad wees as ek ʼn Engelse gedig aanbied nie? En dit nogal op Versindaba wat soveel vir die Afrikaanse digkuns doen! Op ʼn meer ernstige noot.
Kom ons sê dat my bedoeling is om ʼn gedig as argeologiese artefak aan te bied. Om hierdie stelling verder te neem; gedurende die ontginningsproses sif die argeoloog deur die grond (onderbewussyn) met die doel om ʼn argaïese objek, voorwerp of spore van lewe te vind. Gewoonlik is daar groot opgewondenheid in die kamp as iets gevind word. Na vele besluite denkprosesse en navorsing word die artefak na ʼn spesifieke museum geneem waar die kurators ook sekere besluite neem. Maar eers wanneer die museumganger voor die gevonde objek staan kry dit ikoniese waarde. Mens kan hier dink aan die replika van Lucy se skedel wat in die Maropeng Museum, gebou in die Wieg van die Mensdom Bewaringsgebied, uitgestal word. Lucy dien reeds as ikoon vir baie mense, wat in die afwesigheid van godsdienstige ikone, hierdie waarde aan haar toeskryf. In Afrikaans weet ek, het Ingrid Jonker en sekere van Breyten Breytenbach se gedigte ikoniese waarde.
Miskien, dink ek by myself, het Funeral Bruise reeds ʼn dun lagie patina. Maar Die Eerste Vrees het niks. Dis bloot ʼn klip wat in ʼn nuwe landskap rondlê. Na nog ʼn nag se slaap, staan ek op en haal diep asem. Na ʼn eienaardige nagtelike haelbui is die landskap hier in Pringlebaai besonders. My man en ek ruim die kombuis op. Ons het gisteraand mense vir supper, soos die Bolanders lief is om te sê, oorgehad. Nadat die skottelgoedwasser aangeskakel is en my man uit is vir sy daaglikse stappie na Pringle Mingle, die plaaslike koffiehuis, het Die Eerste Vrees kiers regop voor my kom staan. “Nou ja, ons gaan verder aan my werk. Of nie?” “Ja” antwoord ek gedwee. Ek maal Rwandese koffiebone wat per geleentheid vir ons aangestuur is, voltooi my daaglikse oggend ritueel, versamel my skryfgoed en gaan na Bloublom, die buitevertrek waar ek skryf, rol my vinger op die iPod, kies die musiek van die Portugese sanger, Amália Rodrigues en begin weer aan die gedig werk.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
As daar sprake van ʼn ordeningsproses was, was dit daardie onbewuste dissipline om die intellektuele en emosionele woordordening so na as moontlik tot ʼn perfekte digvorm te bring.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Die vers is onafhanklik geskryf en daar was niemand wat ek as klankbord kon gebruik nie.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Beide die verse is ongepubliseerde werk.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Hierdie vers handel oor ʼn Menseslagting en alhoewel ek Rwanda persoonlik besoek het, het ek na my tuiskoms in Suid-Afrika so veel moontlik boeke gelees en na films oor die gebeure gekyk. Die wyse waarop die gedig geskryf is plaas dit op ʼn metafisiese vlak en daarmee bedoel ek, dat dit in die gebied tussen fiksie en feit lê. Dis reeds getransformeer.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die vers handel hoofsaaklik oor ʼn enkele insident van ʼn jong man wat oor ʼn bruin grondwal spring. Hierdie enkele gebeurtenis dien as ʼn metaforiese vertrekpunt wat sy loop neem en eindig met ʼn metafisiese interpretasie van die Menseslagting van 1994.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Miskien die film, Hotel Rwanda?
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ek hou altyd die leser in gedagte. Ek wil graag helder en deurdagte verse skryf; al is die tema swaar en gewigtig moet dit maklik leesbaar wees.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Alhoewel Menseslagtings regoor die wêreld voorkom verwoord hierdie vers ʼn gebeure wat in Afrika plaasgevind het. Ek glo nie dat ek ryp genoeg was vir so ʼn vers in my digbundels, Tye en Swye van Hester H en die Waterbreker nie. Miskien sal hierdie vers nuwe deure oopmaak. Wie weet? Mens sal maar moet sien.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ek kan hierdie vraag net beantwoord deur ʼn ompad te loop. ʼn Vliegtuig wat op die punt was om te land in Kigali waarin die President van Rwanda, Juvénal Habayarimana en Cyprien Ntaryamika, die Hutu president van Burundi gereis het, is op 6 April 1994 afgeskiet. Die skuld is op Hutu ekstremiste geplaas. Die land is in chaos gedompel en berigte van die eerste menseslagting in die landelike gebiede, het na Kigali gestroom.. Beide die Verenigde Nasies, België, die voormalige koloniale heersers, en die res van die wêreld het hulle nie aan vroeë waarskuwings gesteur nie. Binne honderd dae is byna ʼn miljoen mense, beide Tutsis en gematigde Hutus, wreedaardig met pangas opgekap. Dae nadat die vliegtuig afgeskiet is, het Belgiese soldate van die UNAMIR, die Eerste Minister vergesel na ʼn gebou waar sy uitsendings oor die radio sou doen om die volk te kalmeer. Maar die weermag het die gebou bestorm en beset. Teen twaalf uur het die presidensiële wagte haar vermoor. Later is tien Belgiese soldate dood gemartel. Daar is ʼn spesiale gedenkplek vir die Belgiese UNAMIR Personeel van België in hierdie geboutjie opgerig. In die museum is ʼn uitstalling waar die belangrikste voorvalle van menseslagting opgenoem word; die uitwissing van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog, Joegoslawië, Armenië, Pakistan, Manturië, Suid-Amerika, Uganda, Rwanda, Irak, Kambodja, Australië en belangrik vir ons die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog. Mens sou dus my gedig kon opdra aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Beide is gedigte is nuwe werk en ek weet nie of hulle werklik voltooi is nie. Sal eers oor ʼn jaar kan sê.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Beide die gedigte is ongepubliseerd.
ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
So ver ek kan onthou is my eerste gedig, Die Kosmoloog, deur Andre Brink, wat toe die redakteur was, in die laaste uitgawe van Standpunte opgeneem. Ek sal na ʼn biblioteek toe moet gaan om weer toegang tot die gedig te kry. ʼn Ander vroeë gedig uit die digbundel, Tye en Swye in die Lewe van Hester H. 1991, is die volgende:
Afrika
Om hier te lewe is om verteer te word
heeltemal helder en heeltemal stil -
brand weer saam met my my lief
as jy Afrika aanvaar
kan jy hier sterwe.
 Melanie Grobler
Melanie Grobler debuteer in 1992 met Tye en Swye in die lewe van Hester H. Vir die bundel verwerf sy die Rapport-prys van daardie jaar. Die waterbreker het in 2004 verskyn. In Tye en Swye in die Lewe van Hester H word die “ek” se posisie in die speelveld van magstrukture ondersoek, veral in die politiek, die voorgeslag en die gesin. Die waterbreker beeld die bewussynsreis van die self uit. Daar word weer eens na die verhouding van die “ek” met die gesin gekyk. In plaas van die biologiese word daar oor die digtersvoorgeslag geskryf. Melanie woon op Pringlebaai. |
___________________________________________________________________________
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Sunday, June 6th, 2010
Digstring
| geluk
hier in die onvanpaste wêreld
van verrookte stukke veld
blom die ongewone liefdes
as skaaphompe per kim
soms dwaal my gedagtes
slaap ek agter stuur
strompel boekaspaai
bladloos oor die kaart
elke nuwe brug
bly rif roep oor rivier
waterbloed in karpkieu
suurstofbobbelbed
maar snags in vreemde dorpe
neon stasies petrolpense
baddens stoom soos woorde
om somer bid die reënval
rol die spoelklip van my gedagtes
vonke in die lospad los
tong my neus jou môre-oor
rol die teesakkie lek-lek om
elke eendag reëndag
hou die hoop gepoets
mensbloed per kruiwavrag
geluk geluk geluk
(c) Toast Coetzer (Die Burger, 31 Mei 2010)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Toast? Hoe het dit ontstaan?
2007, heel moontlik iewers in die wintermaande, kom ons sê Juliemaand. As ek reg onthou was ek besig om deur die binneland te reis, daar by Leeudoringstad, Wolmaransstad en Schweizer-Reneke rond. Wolmaransstad se hoofstraat het definitief “neon stasies petrolpense”.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek dink dis redelik vinnig geskryf. Ek sal soms ‘n nota of drie maak as ‘n reël by my opkom soos ek bestuur (ek sal aftrek en gou in my boekie neerskryf) en dan later voor my rekenaar sit en die idee uitskryf tot sy logiese einde. Ek sal selde teruggaan na iets en verder daaraan torring.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Gegee, soos die strepe in Aquafresh.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Nee, geen ordeningsbeginsel nie. Ek ken nie die “reëls” van digkuns nie. Ek probeer ‘n ritme in my kop volg, iets wat werk as jy dit hardop lees (omdat byna alles wat ek skryf eintlik bedoel is as materiaal vir my band, The Buckfever Underground).
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Nee.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Ek dink die onlangse publikasie daarvan in Die Burger was die eerste keer.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Nie eintlik nie, deur te veel te sê verdwyn die onvatbare uit die woorde, nes die Reader’s Digest-boek wat die geheim agter die Aquafresh-strepe verklap het en daardeur jou verstomheid daaroor laat taan. Verduidelikings verdoof verbeeldings.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Reis-indrukke en verlange.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Nee, net die wintertonele van daai geweste waardeur ek gery het.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Nee, ek lê op die grond en gooi klippies in ‘n boorgat af. Wie weet wie woon daar onder?
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Ek dink dis redelik tipies.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ja, ek dink die beelde is herkenbaar as Suid-Afrikaanse landskappe.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?
As mens baie krities daarna kyk - soos ek nou op ‘n manier deur hierdie vraag/antwoord-proses gedwing word - dan sien ek eintlik baie fout daarmee. Dis maar altyd so met iets wat jy jare gelede (of weke selfs) geskryf het. Ek sal dit seker “beter” kan maak, maar dis ook nie altyd nodig nie. As jy die elf beste sokkerspelers in die wêreld saam in een span sou sit, beteken dit nie noodwendig dat hulle vir Ghana gaan klop nie.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek het nog nie veel reaksie gekry nie, maar dit maak ook nie saak nie. Komplimente word waardeer, maar kritiek maak mens beter.
ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Jeepers, nee.
 Toast Coetzer
Toast Coetzer is in 1977 in Cradock gebore, het in Somerset-Oos skoolgegaan, in Grahamstad studeer en woon nou in Kaapstad. Sy eerste gedigte is in Nuwe Stemme 2 gepubliseer (2001) en sedertdien ook in ander joernale en zines. Sy debuut-novelle, Naweek, het in 2009 by Tafelberg verskyn. Hy werk as joernalis by Weg en Go! reistydskrifte. |
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Tuesday, June 1st, 2010
Digstring
| Ontnugterde digter
dít het hy geglo op vyf-en-twintig:
jy moet al die oseane bevaar
as jy gesout en wêreldwys wil dig
met ‘n bottel het hy die boot beman
en ‘n dekade lank hom dol gedra
toe tussen dek en kaai oorboord gegaan
op vyf-en-twintig - na baie skande -
weet hy jy kan die ryme ook takel
teen die kimme van jou kamerwande
hy wens hy kon die reis van voor begin
dan sou hy beslis uit die pekel bly
deur ‘n skip in die bottel te versin
© Daniel Hugo (Uit: Dooiemansdeur, 1991: Tafelberg)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Daniel? Hoe het dit ontstaan?
Die gedig staan in die bundel Dooiemansdeur wat in 1991 verskyn het. Ek het in 1990 vanuit Bloemfontein na Kaapstad verhuis en ek vermoed die gedig is in Kaapstad geskryf, gesien die teenwoordigheid van die see in die vers. (In Bloemfontein is daar wel ‘n Naval Hill, maar ek het nooit die branders daar hoor breek nie.) Ek sien nou dat die spreker in die gedig - word daar nog gepraat van die “liriese subjek”? - sê dat hy vyf-en-dertig jaar oud is. Aangesien ek in 1955 gebore is, moes die gedig dus wel deeglik in 1990 geskryf gewees het. Skaamteloos vereenselwig ek dus hier die liriese subjek met die prosaïese skrywer.
Van die ontstaansgebeure onthou ek niks, maar dit was klaarblyklik ‘n reaksie op D.J. Opperman se bekende gedig “Digter” wat handel oor ‘n krygsgevangene wat tydens die Anglo-Boereoorlog na Ceylon (vandag Sri Lanka) verban is en die tyd verdryf deur skippies in bottels te bou. Opperman se gedig lyk so:
Ek is gevang
en met die stryd
êrens in die ewigheid
op ‘n Ceylon verban
waar al my drange
na ‘n verlore vaderland
my dag na dag geëiland
hou met horisonne en verlange,
en in die geel gloed van die kers
snags deur die smal poort
van die wonder elke woord
laat skik tot klein stellasies vers
wat groei tot boeg en mas
en takelwerk - en die uiteindelike
reis met die klein skip
geslote agter glas.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek skryf ‘n gedig selde “in einem Guss” soos die Duitsers sê. Daar is waarskynlik baie gewik en geweeg, geskaaf, gewanhoop en gekarring. Dié gekarring behels onder meer rymwoorde vind vir die vier tersines waaruit die gedig bestaan en bloedsweet om elke reël presies tien lettergrepe lank te kry. (Ek is veral trots op die ryme “skande” / “kamerwande”. Daar is natuurlik ook bewuste alliterasie, soos: bottel, boot; dekade, dol; kimme, kamerwande. Verder is daar die woordspel “dekade” / “dek en kade” en die verletterliking van die idioom “in die pekel wees”, d.w.s in die moeilikheid wees, as “in die sout water of seewater beland”.)
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Die gegewe was die Opperman-gedig wat ek al sedert my universiteitsjare ken. Die res was waarskynlik “wroeg en sweet”, ja.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Die ordeningsbeginsel was klaarblyklik die vaste strofevorm, rymskema en reëllengte. Verder beskryf die gedig inhoudelik ‘n tydsverloop in die lewe van die “hy” (wat inderwaarheid “ek” is): van vyf-en-twintig tot vyf-en-dertig - dit wil sê van 1980 tot 1990, my Bloemfonteinse jare.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Nee, ek wag tot ‘n vers myns insiens afgerond is voordat ek dit vir iemand wys of voorlees. Die afgelope dekade is dit my vrou Carina wat ‘n byna feillose oordeel het.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die vers is in ‘n groot mate feitelik outobiografies, maar in ‘n verdigte, intensiewe, gemetaforiseerde mate. Op geen ander manier kan tien jaar se lewenservaring in 120 lettergrepe vertel word nie.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit gaan oor ‘n jong digter wat glo dat hy soveel as moontlik in die lewe moet ervaar voordat hy “diepsinnige” en “wyse” gedigte sal kan skryf, soos sy rolmodel D.J. Opperman (strofe 1). Hy het toe met die hulp van alkohol vir tien jaar lank losgebreek uit sy Calvinistiese pastorie-agtergrond. Ten slotte het hy te ver gegaan in sy bevrydingspoging (strofe 2, hoewel die godsdienstige repressie nie hier genoem word nie.) Dit was algemeen bekend dat sy idool Opperman ‘n alkoholis was. Opperman se laaste voltooide bundel handel juis oor iemand (hyself) wat in komas versink het weens ‘n alkohol-vergiftigde lewer. Die jong digter besef uiteindelik dat hy ook goeie gedigte sal kan skryf as hy hom doodgewoon huislik en burgerlik gedra (strofe 3). Soos Opperman se banneling sal hy voortaan by wyse van spreke ‘n skippie in die bottel bou, in plaas van “al die oseane” te wil bevaar (strofe 4). Inderwaarheid volg hy dus Opperman se “voorskrif” vir digterwees noukeuriger as wat die biografiese, werklike Opperman dit self gedoen het.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
In hierdie geval beslis ‘n leser wat die klassieke Afrikaanse digkuns ken. In ander gevalle lesers wat weet hoe die logika van ‘n gedig, en in besonder ‘n vernufsvers, werk.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Nee, ek dink dit is ‘n tipiese gedig.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ja, die intertekstuele verwysing na Opperman.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Ek is tevrede.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Daar is ‘n gepubliseerde interpretasie van Carina van der Walt waarmee ek dit uiters oneens is. Andersins is ek in my skik dat dié gedig opgeneem is in ‘n paar bloemlesings.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Dit was ‘n natuurgedig oor die aandson op die Erosberge suid van Windhoek. My slaapkamervenster het ‘n pragtige uitsig daarop gebied. Ek moes so vyftien jaar oud gewees het, en die gedig gaan so:
Die aandson kleur die berge pers
en in my styg hierdie vers.
Daardie vers is nog steeds aan die styg in my. Ek wag geduldig.
 Daniel Hugo
Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ‘n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK word hy ‘n vryskut-taalpraktisyn. Tans werk hy as vertaler & redigeerder by Protea Boekhuis.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
|
|