Nuuswekker

Donald Friedman. The Writer’s Brush

Friday, March 12th, 2010
Omslag

Omslag

In haar kommentaar op Andries Bezuidenhout se nuutste blog-inskrywing verwys Marlise na die boek “The Writer’s brush” wat deur Donald Friedman saamgestel en deur Mid-List Press (Minneapolis) uitgegee is. Graag volg ek haar voorbeeld en wei vanoggend se Nuuswekker aan dié 457 bladsy knewel van ‘n boek. Die kwessie van “beelddigter” ís immers ons blogfokus vir die maand …

“There is no such thing as ‘Art.’ There are only artists,” het E. H. Gombrich by geleentheid gesê, maar die verbysterende ding is dat die bykans 200 kunstenaars uit die 19de en 20ste eeu van wie 400 werke in dié boek opgeneem is, almal skrywers is … Boonop nog van die heel belangsrikste skrywers in die wêreld van letterkunde: Blake, Pushkin, Hugo, Poe, Dostoyevsky, Proust, Kafka, Yeats, Plath, Tagore, Kipling, Faulkner, Elytis, Hesse, Grass, Walcot, en nog vele ander. Ook verteenwoordig hulle bykans al die belangrikste kunsbewegings wat in die wêreld van die kunste gevind kan word: van die Klassieke-skool, tot die Romantiese, Pre-Raphaeliste, Simboliste, Moderniste, Dadaïste, Surrealiste, en selfs die Beats.

En wat het die skrywers self oor hul tweede liefde te sê gehad?

Wel, Strindberg het die ekstase daarvan met die rook van ‘n daggasigaret vergelyk. “Painting is marvelous; it makes you happier and more patient. Afterwards you do not have black fingers as with writing, but blue and red ones,” het Hermann Hesse kwytgeraak. Mark Twain het weer die volgende te sê gehad: “I am living a new and exalted life of late. It steeps me in a sacred rapture to see a portrait develop and take soul under my hand.” En D.H. Lawrence? “All my life, I have from time to time gone back to paint because it gave me a form of delight that words can never give. Perhaps the joy in words goes deeper and it is for that reason more unconscious. The conscious delight is certainly stronger in paint.”

Ai, mense - wat ‘n verbysterende boek … Afgesien van al die visuele en tekstuele verleidings daarvan, bevat dit boonop twee essays: “La maison d’en face or That Other Art” deur William Gass en “Writers and Artists” deur John Updike. En teen ‘n aanbevole verkoopsprys van R400 is dié lywige boek beslis ‘n winskoop.

Terloops, volg hierdie skakel na ‘n webblad waar jy deur ‘n gedeelte van die boek kan “blaai” en vergewis jouself van die verbysterende omvang daarvan. (En indien jy wonder: die skildery op die omslag van die boek is deur Sylvia Plath.)

***

Dan het Desmond Painter sy kant deeglk gebring en sommer twéé blogs geplaas: een oor Simon Armitage en een oor die aangeleentheid van “doodle“; op Wisselkaarten is daar eweneens twee nuwe bydraes: Luuk Gruwez skryf oor die kortstondigheid van Anton Korteweg, terwyl Edwin Fagel weer ‘n uiters belangrike (filosofiese) besinning geplaas het oor die hele kwessie van kuns en werklikheid.

Ten slotte is dit vir ons aangenaam om Willem van Toorn by Wisselkaarten te verwelkom. Sy biografiese besonderhede is reeds hier geplaas en hy sal aanstons begin deelneem. Baie welkom, Willem. Mag hierdie vir jou ‘n plesierige ervaring wees …

Aan julle almal - dankie vir jul besoeke dié week. Inderdaad was dit ‘n besonderse week vir ons gewees aangesien ons tans 128% bokant die wêreldgemiddelde staan ten opsigte van unieke besoekers aan ‘n poësie-webblad, met Woensdag as die dag waarop ons die meeste besoeke nóg ontvang het. En dit is jý wat hier lees, wat dit moontlik maak. Dankie daarvoor.

Nuuswekker hervat weer Maandag.

Mooi bly.

LE

 

 

 

 

 

Mislukking as kunsvorm

Thursday, March 11th, 2010
Nihil desperandum

Nihil desperandum

Op die weblog  As it ought to be lees ek ‘n besonder interessante artikel oor die ewige kwessie van vertaling raak. Nie net is dit die opskrif van dié artikel, “The art of failure” wat my ook vang nie, maar ook (en veral) die Paul Auster-aanhaling wat as motto gebruik word: “Translators are the shadow heroes of literature, the often forgotten instruments that make it possible for different cultures to talk to one another.” Dit is natuurlik geneem uit Auster se versameling essays wat as “The art of hunger” byeengebring is.

Uiteraard kan die belangrikheid van Engels as wêreldtaal nie ontken word in die sfeer van vertaling nie. So was dit ene Henry Howard wat reeds in 1554 die sogenaamde “blank verse” ontwikkel het ten einde Virgil se nie-rymende, dog metriese,  Ǽneid te kan vertaal. En dít het weer direk aanleiding gegee tot die feit dat Shakespeare in staat was om sy versdrama’s te kon skryf. Net so is vele ander digvorme uit ander tale via Engels na die wêrelddigkuns oorgehewel: die sonnet, koeplet, villanelle, sestina, en ook die “vrye vers”, wat volgens Okla Elliott, skrywer van die artikel, grootliks ontstaan het vanweë die drif (Ezra Pound s’n?) om Chinese poësie in Engels te vertaal.

Maar watter posisie beklee die vertaalde teks tans in die era van globalisasie?

Volgens Elliott is die prentjie alles behalwe rooskleurig: “According to a Center for Book Culture study on the number of books translated into English between 2000-2006, it’s a pretty dismal place. Most countries had fewer than one book per year translated into English, and literary heavyweights such as France, Italy, and Germany had fewer than ten books per year translated into English - and this includes novels and nonfiction as well as poetry.” In die VSA lyk die prentjie egter aansienlik beter. Daar word bereken dat ongeveer ‘n derde van alle boeke wat per jaar in die VSA verskyn, vertaalde tekste is.

Na ‘n indringende kyk na die kwessie van vertaling en die besondere uitdagings wat dit vir die vertaler inhou, kom Elliott tot die volgende gevolgtrekking: “The primary goal of translation is to recreate the effect of the original poem in the target language (the language into which you are translating). The problem, of course, is that if the poet did her work properly in the original (or source) language, then she made use of every available trick and tactic, thus making the job of recreating the poem almost impossible. This is why Umberto Eco calls translation ‘the art of failure’.”

Mmm, heerlike (en verpligte) leesstof vir enige persoon wat selfs net rakelings met vertalings en vertaalde tekste te make het. Die volledige artikel kan hier gelees word.

***

Vanoggend is daar drie nuwe plasings op die webblad: Philip de Vos vertel van ‘n onlangse filmervaring, Desmond Painter wonder oor Bob Dylan se obsessie met kunsmuseums, terwyl Chris Coolsma  op Wisselkaarten weer netjies aansluit by Andries Bezuidenhout se inskrywing gister in sy vertelling van die 70s in Amsterdam en die kwessie van vernuwing, veral in die kader van musiek.

Die besonderse aankondiging vanoggend is egter Koos Oosthuysen se bundel, Twintig verse in vertaling, wat in 2008 privaat en in klein oplaag vir familie en vriende uitgegee is en nou (uiteindelik) in die handel beskikbaar is. Hierdie bundel bevat naamlik ‘n aantal verse wat uit Xhosa na Afrikaans vertaal is, en ook van Afrikaans na Xhosa. “Dis vir my Pa se 75ste verjaardag in Desember 2008 gedruk - ons familie het dit sommer self uitgegee. Ek het eers in 2009 sover gekom om die inligtingstuk daaroor op te stel in die hoop dat ‘n mens dalk  ‘n paar eksemplare sou kon verkoop of die boekie onder die aandag van die publiek of mense wat daarin sou belangstel kon bring,” skryf sy dogter ter verduideliking. Wat ‘n aanwins! Wat ‘n vreugde … Lees gerus ook weer Charl-Pierre Naudé se inskrywing oor dié tema indien jy dit nog nie gelees het nie. 

Ten slotte, vir jou leesplesier volg ‘n vers hier onder wat Johann de Lange in reaksie op my verwysing na Loftus Marais se “Gesprek met die ui” gestuur het vir plasing.

Lekker lees en geniet jou dag.

Mooi bly.

LE

 

Valentine

Carol Ann Duffy

 

Not a red rose or a satin heart.

 

I give you an onion.

It is a moon wrapped in brown paper.

It promises light

like the careful undressing of love.

 

Here.

It will blind you with tears

like a lover.

It will make your reflection

a wobbling photo of grief.

 

I am trying to be truthful.

 

Not a cute card or a kissogram.

 

I give you an onion.

Its fierce kiss will stay on your lips,

possessive and faithful

as we are,

for as long as we are.

 

Take it.

Its platinum loops shrink to a wedding-ring,

if you like.

Lethal.

Its scent will cling to your fingers,

cling to your knife.

 

(c) Carol Ann Duffy 

Nadoodse roem

Wednesday, March 10th, 2010
Franz Kafka

Franz Kafka

Nou ja, toe. Die volgende is altyd ‘n vermaaklike speletjie vir mense met te veel tyd op hul trapmeuelens: hoeveel en watter skrywers is oorlede alvorens hulle roem bereik het. In ‘n groot mate is dit sekerlik ‘n nuttelose stukkie statistiek, maar tog interessant. Op die webblad Online Degree is daar ‘n omvattende artikel, met ‘n lysie van die Top 10 roemloos-gestorwe skrywers.

Die enigstes uit dié lysie wat ‘n mens in ‘n mate mee akkoord kan gaan, is Franz Kafka, Sylivia Plath, Emily Dickinson, Jane Austen en Anne Frank. Oor Franz Kafka het Online Degree die volgende te sê: “Today considered one of the quintessential existential (and, to a lesser extent, modernist) writers, many unfamiliar with Austrian writer Franz Kafka’s life will be shocked to discover that his intensive influence never coagulated until after his 1924 death from tuberculosis. Kafka actually spent much of his short life working in insurance and factories with the occasional dabbling in theatre. Most of his dark, deeply psychological short stories, novels, novellas, letters, and essays never saw publication in his lifetime - in fact, he ordered his contemporary Max Brod, the executor of his estate, to burn every manuscript without reading them. Obviously, Brod disobeyed these last requests. As a result, Kafka’s descriptive exploration of the more twisted, unknown corners of the human psyche entered into the literary canon. Loved and appreciated throughout the world, critics laud works such as The Metamorphosis, The Trial, The Metamorphosis, and many, many others as some of the greatest literary contributions from the 20th century. They have gone on to heavily inspire not only other writers, but artists, musicians, and other creative types as well.”

En ter plaatse? Hoe sal ‘n lysie met Afrikaanse skrywers daaruit sien? O, ja - beslis Eugène Marais en Ingrid Jonker, natuurlik. Koos Prinsloo? Waarskynlik nie, want hy was reeds ’n gerekende ten tye van sy dood … En wat van Wilhelm Knobel? Waarskynlik Wopko Jensma (en Peter Blum?) rondom wie daar ‘n hele leeskultus ontstaan het na hul onderskeie verdwynings uit die openbare oog.

Maar, nou ja. Ek skat die lysie van miskende digters wat nooit tydens hul leeftyd na waarde geskat was nie, en nog steeds ná hul dood pleit om herwaardering, is waarskynlik baie langer as bogenoemde paar name. ‘n Mens se gemoed sidder liggies om selfs net in dié rigting te begin dink: SJ Pretorius, GA Watermeyer, RK Belcher en Barend Toerien. Stephan Bouwer?

Ai, soveel name. Soveel hartseerverhale. Soveel verbeurde kanse …

***

Op die webblad is daar vanoggend sommer heelwat nuwe plasings. Robert Pearce se huldeblyk aan Peter Snyders, wat verlede jaar 70 geword het, is ‘n moet lees. So ook Andries Bezuidenhout se Blogfokus-bydrae oor Paul Klee, Walter Benjamin en ‘n gedig van Klee. Bernard Odendaal het weer ‘n aflewering geplaas in sy reeks oor gedigbesprekings; dié keer gaan dit oor ‘n aangrypende gedig van Stephan Bouwer, een van ons “vergete” digters … Ook Ilse van Staden het ’n nuwe inskrywing en by Nuwe Stemme is daar sommer drie: Lewies Botha, Niel van Deventer en Hennie Meyer. Dan het ons gister ook nog die Klikbord opgedateer met vele skakels na interessante leesstof wat tans op die internet te lese is.

Soveel onverdunde leesplesier! Geniet dit.

LE

 

 

Woordfees-hoogtepunte

Tuesday, March 9th, 2010
Loftus Marais

Loftus Marais

Na afloop van die Woordfees moes ek nou al ‘n paar keer antwoord op die vraag wat vir my persoonlike hoogtepunte tydens die fees was … Ongelukkig, vanweë my boekwinkel se betrokkenheid op soveel fronte, was dit nie moontlik om alles wat ek graag sou wou, by te woon nie. Daarom sal my lysie per definisie maar gebrekkig en eensydig wees.

Maar vir my persoonlik was Loftus Marais se voorlesing tydens Sondag-aand se “Skemerverse“ onverdunde vreugde. Liewe hemel, watter talent is dié man nie! Hy het die gehoor omtrent in ekstase gehad met sy nuwe gedigte. Bykans elke vers is gevolg deur die mees uitbundige applous wat ek seker nog ooit by ‘n voorlesing gehoor het. En telkens om die regte rede, want sy nuwe verse is inderdaad onvergeetlik. Veral “Gedagtes oor ‘n ui” gaan een van die klassieke gedigte in Afrikaans word, vermoed ek.  Om nie eens van “Boerpampoen” te praat nie!

Dan het ek ook enorme plesier gehad aan Ronel Nel-hulle se “Oopmond”-aanbieding.  Dié konsep werk. Nog steeds is die ou Bekgeveg-magic daar met sy frenetiese tempo en verrassende wendinge, maar nou is daar die stertjie van ‘n uiters afgeronde (en professionele) klimaks om die program mee af te sluit: die getoonsette uitvoering van die impromptu-gedigte. Pure toonkrullekkerte, inderdaad. En geoordeel aan die gehoor se reaksie, ‘n wenresep.

Nog ‘n besonderse geleentheid was die bekendstelling van Nuwe Stemme 4. Wat ‘n voorreg was dit nie om so ‘n bietjie met dié nuwelinge te kon skouer skuur nie. ‘n Wonderlike aand met volle komplimente aan NB Uitgewers met hul organisasie rondom dié geleentheid, inderdaad. (En dankie vir die heerlike gesprek by die winkel Saterdagmiddag, Hennie. Dit was eweneens ‘n hoogtepunt.)

Maar nou ja, te veel vreugde is ook nie goed vir ‘n mens nie. Daarom, Melt & Kie: Veels geluk met ‘n genoeglike fees en geniet die rustiger tyd wat voorlê, want binnekort is dit weer Versindaba-tyd. Of wat praat ek nou?! En dalkies ook tyd vir ‘n blog of twee? Ek vra maar net …

***

Op die webblad is daar vanoggend net een nuwe plasing: Desmond Painter wat die onderhoud wat hy met Fanie Olivier gevoer het, in sy blogkamer geplaas het. Ook vestig ons jou aandag op die nuwe bundel, Vlerke vir my houteend, deur Kobus Lombard wat pas verskyn het. Inligting omtrent dié bundel is by Publikasies te vinde.

En dan word daar darem vandag ‘n ietwat koeler dag vir die Kaap voorspel en dit is beslis iets om na uit te sien, want gister was daar net ‘n Bybelblaadjie tussen die Kaap en die hel, glo my.

Nietemin, lekker lees aan alles en geniet dit wat in jou hand gegee word.

Mooi bly.

LE

 

Die evangelie volgens David Baker

Monday, March 8th, 2010
David Baker

David Baker

Uiteraard word dit van my vereis om nogals heel dikwels die kuberruim te deurkruis op soek na bruikbare items vir elke oggend se Nuuswekker. En ja, ‘n mens se oog raak nogals vernuftig in die proses van gryplees ten einde die mees belangrike, of bruikbare, brokkies raak te sien. Maar soms gebeur dit tog dat jou oog dit onkant waag en meteens tref iets in ‘n totaal onbelangrike artikel of berig jou en dan voel dit inderdaad asof jy jou ure reeds in ‘n donker kamer bevind en dan kom iemand ingestap en skakel die ligte aan.

Presies só ‘n ervaring was die onderhoud met ene David Baker op die webblad Bookslut. (Blykbaar is Baker ‘n bekende digter uit die Amerikaanse Midweste en boonop die poësie-redakteur van die wonderlike Kenyon Review. Ook veral bekend vir landskapsverse.)

Nietemin, hieronder volg ‘n paar van die treffende uitsprake wat hy tydens die onderhoud gemaak het:

Oor die vraag oor hoekom hy gedigte skryf: “I write from a very vivid and sort of bipolar combination of inward and outward necessities. Writing gives me access, or gives me words for, an interior world of emotions and thoughts and music that I wouldn’t have otherwise; I mean, writing poetry does that. But writing poems also gives me a connective presence; poetry is language, and language’s use is to reach out and connect, to say something to someone. Both of those impulses, inward and outward, are especially intense in poetry.”

Oor hoe ‘n gedig vir hom tot stand kom: “After I have the first impulse for a poem, I take notes and memorize and plan, but do not start the poem. I wait. I stew, study, think; by the time I actually sit to write, I know the first several lines by heart and also have a sense of the line and line-break and structure of the syntax. Of course, those often change later. But I wait. I also will fold in the start of one poem with the start of another, or the material of one in the material of another, making one poem from the impulses of several. I like that kind of collision or friction. What is the first impulse? Sometimes a musical phrase, a tone of voice, an intonation.”

Oor die kwessie van liriese poësie en narratiewe poësie (Ja, dié debat woed inderdaad wêreldwyd!): “I’m not one of those folks who sees a poem as either lyric or narrative. I think all good poems are always both lyric and narrative, and can be loosely identified or placed along a continuum defined by those poles. A poem had better have a rich set of lyrical values; and all poems, all language, are narrative in some abbreviated or extended way. Grammar itself is narrative - time passes, things happen, whether that amount of time is tiny or huge, and whether its depiction is linear or fractured or multiply-layered. The relationship of subject to predicate is narrative.

Mmm, nou ja. Beslis is dit die moeite werd om die volledige onderhoud op Bookslut te lees.

***

Vanweë die Woordfees, wat gisteraand ten einde geloop het, het dinge ietwat agterweë gebly op die webblad. So is die enigste nuwe plasing op die webblad ‘n essay deur Daniel Hugo oor Villa Hellebosch wat enkele jare gelede op LitNet verskyn het.  Hierdie essay is veral vanweë die vertaling van ‘n Erik Menkveld-gedig van belang.

Maar sjoe, watter baldadige fees was die Woordfees nie … Veels geluk aan al die organiseerders. En dankie aan almal wat kom dagsê het by die winkel veral aan diegene wat ‘n besoek aan die stoep met sy prieël in Die Boord by hul skedule kon inpas.

Nou moet daar met mening uitgerus en opgevars word, want die KKNK lê óók nog voor …

Mooi bly en geniet die week wat op hande is.

LE

 

Wislawa Szymborska. Sounds, feelings, thoughts

Friday, March 5th, 2010
Omslag

Omslag

Dit is vry algemeen bekend dat die Poolse digkuns van die mees dinamiese en gewilde in die wêreld is, en sonder twyfel is die Nobelpryswenner, Wisława Szymborska, die helderste juweel in hul kroon. ‘n Mens kan jou wel afvra waarom dit die geval is aangesien die meeste van haar mees entoesiastiese ondersteunings haar gedigte net in vertaling kan lees. Een verklaring is moontlik die volgende, soos verwoord deur Scott Spires: “Polish poets tend to be less word-drunk than their Russian counterparts, perhaps due to the differing qualities of their respective languages, and Szymborska is one of the most sober of all in this regard. Her work is unpretentious, free of unnecessary adornment, and invariably thoughtful. Language is her assistant, rather than a selfish entity which always wants to be the center of attention.”

By Szymborska gaan dit dus primêr oor die “idee” en nié soseer oor die spel met woorde nie. En dít verklaar na alle waarskynlikheid waarom haar verse so maklik (en goed) vertaalbaar is. Daarom ook dat daar etlike bloemlesings met haar poësie in vertaling in die handel beskikbaar is, maar die een wat my telkens winduit slaan, is die tweetalige Sounds, Feelings, Thoughts - Seventy poems by Wislawa Szymborska, wat deur Magnus J. Krynski en Robert A. Maguire vertaal is en deur die Princeton University Press uitgegee is. Wat hierdie bloemlesing verder besonders maak, is dat dit uitsluitlik haar vroeëre poësie, 1957 tot 1979, byeenbring.

Die waarde van dié besonderse publikasie word myns insiens besonder goed weerspieël deur twee anonieme kommentare op Amazon.com se webblad waar ek gaan snuffel het na meer inligting oor die boek: “Wisława Szymborska writes with the wit and freshness of the American beat poets, layered with the sence of history and emotional depth that can only come from living through the last seventy years of turmoil in Europe. She has a very musical style. She begins by building descriptive lines, then rises to a staccato rediscovery of her subject, then resloving each poem with a kind of rational passion that is rare in even the most accomplished poets. More poems are offered in View with a Grain of Sand, but not with the level of quality of translation. Highly recommened for those who do not want sentimentality, endless rhyming and dull subject matter. Szymborska is deserving off all of the attention she is finally receiving, and more.” En dan ook nog - “Of all the compilations, I prefer this one as it gives you both the original Polish as well as the translated English. So if you are feeling ambitious, you can take a stab at the Polish. This is the best translation of her work by far - it retains the lyrical intent of the author without being too literal. The poetry dances off your toungue and into your mind.”

En daarvoor kan ek nie anders as om hande te klap nie.

Inderdaad, ‘n wonderlike, leesbare vertaling.

Soos gebruiklik volg ‘n gedig onder aan vanoggend se Nuuswekker vir jou leesplesier.

***

Nuut op die weblad vanoggend is nuwe blogs deur Desmond Painter en Adolph van Coller, asook twee nuwe gedigte deur Ilse van Staden. In Brieweboks is daar ook nog die vers as huldeblyk wat Floris Brown ter herinnering aan Leonard Koza, wat onlangs oorlede is, geskryf het. 

En dan verjaar twee digters vandag, te wete Charles Fryer en Loftus Marais, terwyl Lina Spies, wie se keur Die skyn van tuiskoms vroeër vandeesweek by die Woordfees bekend gestel is, môre verjaar. Veels geluk, julle. Mag die nuwe lewensjaar julle telkens verras met vreugde en onvergeetlike gedigte.

Mooi bly.

LE 

 

Under a certain little star

My apologies to chance for calling it necessity.
My apologies to necessity if I’m mistaken, after all.
Please, don’t be angry, happiness, that I take you as my due.
May my dead be patient with the way my memories fade.
My apologies to time for all the world I overlook each second.
My apologies to past loves for thinking that the latest is the first.
Forgive me, open wounds, for pricking my finger.
I apologize for my record of minutes to those who cry from
the depths.
I apologize to those who wait in railway stations for being asleep
today at five a.m.
Pardon me, hounded hope, for laughing from time to time.
Pardon me, deserts, that I don’t rush to you bearing a spoonful
of water.
And you, falcon, unchanging year after year, always in the
same cage,
your gaze always fixed on the same point in space,
forgive me, even if it turns out you were stuffed.
My apologies to the felled tree for the table’s four legs.
My apologies to great questions for small answers.
Truth, please don’t pay me much attention.
Dignity, please be magnanimous.
Bear with me, O mystery of existence, as I pluck the occasional
thread from your train.
Soul, don’t take offense that I’ve only got you now and then.
My apologies to everything that I can’t be everywhere at once.
My apologies to everyone that I can’t be each woman and
each man.
I know I won’t be justfied as long as I live,
since I myself stand in my own way.
Don’t bear me ill will, speech, that I borrow weighty words,
then labor heavily so that they may seem light.

© Wisława Zsymborska

 

Kortlys vir Paul Snoek Poëzieprys bekend

Thursday, March 4th, 2010
Paul Snoek

Paul Snoek

Die kortlys vir die Paul Snoek Poëzieprys, wat al om die derde jaar toegeken word, is pas bekend gemaak. Die ses genomineerde digters is: Charles Ducal, Toegedekt met een liedje (Atlas, 2009), Eva Gerlach, Situaties (De Arbeiderspers, 2007), Peter Holvoet-Hanssen, Navagio (Prometheus 2008), Roland Jooris, De contouren van het verstrijken (Querido 2008 - foto), Bart Meuleman, Omdat ik ziek werd (Querido 2008) en Leonard Nolens, Bres (Querido 2007).

Die paneel beoordeelaars bestaan uit Bart Vanegeren, Yves T’Sjoen, Chrétien Breukers en Friedl’ Lesage. Die prys word op 25 April deur die stadsbestuur van Sint-Niklaas aangekondig en die prys geld beloop 4,000 euro.

Vorige wenners van dié gesogte prys is Joost Zwagerman, Peter Verhelst, Stefan Hertmans, Anneke Brassinga en Nachoem Wijnberg.

Wat vir Nuuswekker ‘n besonderse lekkerkry is hieromtrent, is die feit dat die meerderheid van dié betrokkenes nie onbekend vir jou behoort te wees nie: Charles Ducal vanweë sy Gedichtendag-essay en die ligte irritasie daaromtrent, Peter Holvoet-Hanssen, die pasaangestelde stadsdigter van Antwerp en bydraer tot hierdie webblad, Roland Jooris vanweë Yves T’Sjoen, nog ‘n gereelde medewerker, se bespreking van Jooris nuutste digbundel, Leonard Nolens vanweë my eie ongemak met die man se ego en natuurlik Chrétien Breukers, wat een van De Contrabas se vaste redakteurs is.

Nou ja, toe. Laat daar nie gesê word dat ons jou nie ingelig hou nie. Of hoe? Nietemin, vir jou leesplesier plaas ek vanoggend een van my gunstelingedigte deur Paul Snoek: die vyfde gedeelte van sy reeks Maria Magdalena.

***

Vanoggend is daar twee bydraes tot vandeesmaand se Blogfokus in die Brieweboks, en toevallig is albei vanuit die ander halfrond: Marie-Alice Boshoff vertel van ‘n besonderse kunsprojek by die Poëziecentrum in Gent, terwyl Chris Coolsma vanuit Groningen skryf oor Billy Collins se gedig oor die kunsmuseum in Brooklyn. Ook is daar ‘n nuwe gedig deur Joan Hambidge geplaas.

Lekker lees en geniet die dag wat in jou hand gegee is.

Mooi bly.

LE

Gedichten voor Maria Magdaleen, V

Van je eerste tot je laatste lichaam,
liefste, laat mij al de minnaars zijn.
Eerst de jonge danser, zacht en eenzaam,
die je speeksel zoekt en drinkt als wijn.

Later de gevreesde die zijn mieren
jaagt van hoer naar hoer, tot onze schade.
Soms de sterke met verstilde spieren,
hemelsbreed van blijdschap en genade.

Laatst de vader die het zaad zal dragen,
van je vrucht de vruchteloze pijn,
en aan je lichaam zal vragen:
liefste, laat mij de geliefde zijn.

© Paul Snoek (uit:Gedichten voor Maria Magdalena, 1971: Spermalie Uitgewers)

 

Nuwe aanslag by Poëziekrant

Wednesday, March 3rd, 2010
Poëziekrant

Poëziekrant

Volgens ‘n berig op Knack het Willy Tibergien, stigter en hoofdirekteur van die Poëziecentrum in Gent en redakteur van die Poëziekrant, pas bekend gemaak dat hy beoog om weens ‘persoonlijke redenen’ in beide poste aan te bly tot 1 januarie 2013. Dit is nadat hy sy uittrede verlede jaar aangekondig het.

Intussen het die nuutste uitgawe van Poëziekrant vir vele mense as ‘n verrassing gekom, aangesien dit wil voorkom as Tibergien nou wel die volgehoue kritiek dat sy tydskrif stokkerig en oud-modies aandoen, ter harte geneem het en ‘n uitgawe gelewer het wat in sowel inhoud as voorkoms gewis meer opwindend is as die laaste aantal uitgawes. (Dis nou volgens ‘n vroeëre berig in De Contrabas.)

In sy redaksionale brief het Willy Tibergien gesê dat die dertigjarige viering van die Poëziecentrum en die vyf-en-dertigjarige viering van die Poëziekrant die ideale geleentheid is om dié besonderse publikasie te vernuwe: “Wij willen af van het etiket ‘literair tijdschrift’ dat bij te veel potentiële lezers en vooral bij jongeren te veel weerstand oproept,” het hy gesê. “Wij willen van Poëziekrant een boeiend ‘maandblad voor poëzie’ maken. De stap is klein. De nuance groot. (…) Een nieuw lettertype en de frisse rustige full quadri lay-out moeten de leesbaarheid vergroten. Ook aan de inhoud is en zal nog gesleuteld worden.”

Nou ja, toe. My eksemplaar van die betrokke uitgawe het ek ontvang en dit lyk beslis indrukwekkend. As lusmaker vanoggend, die volgende treffende aanhalings:

Uit die onderhoud met Christophe Vekeman, een van Vlaandere se vernaamste podiumdigters: “De vorm - er is in de literatuur geen andere waarheid.” En verder aan: “Als je als lezer geen belang hecht aan vorm, kun je beter enkel de krant lezen. Als je als schrijver geen belang hecht aan vorm, kun je beter de krant volschrijven.”

En dan, in ‘n bespreking van die nuutste uitgawe van Armada - Tijdschrift voor wereldliteratuur, Maaike Meijer se uitspraak: “Lezen is een archeologie van het weten: je wordt weer herinnerd aan wat je vergeten was dat je wist.” En, ten slotte, Dirk van Hulle se pragtige uitspraak oor die digkuns: “Poëzie brengt niets teweeg, maar ze is wel de enige die de nauwliks hoorbare plof registreert.”

Inderdaad, steeds ‘n publikasie waarop enige digkuns met reg trots kan wees …

***

Sedert gister het daar net Ilse van Staden se nuwe plasing bygekom. En dan sien ek in vandag se publikasielys vertalings in Engels gereed lê met gedigte van Breyten Breytenbach, Boerneef en Wilhelm Knobel. Die vertalings is gedoen deur Tony Ullyatt. Die skakels sal later opgesit word in ons Vertaalkamers.

Geniet hierdie middel-in-die-week dag.

LE

 

Konkrete poësie

Tuesday, March 2nd, 2010
Heimrad Bäcker

Heimrad Bäcker

Met die uitsondering van Willem Boshoff se kykafrikaans is konkrete poësie maar skaars ding in ons digkuns. ‘n Meer onlangse voorbeeld is sekerlik Allooi, die tweegesprek tussen Ben Botma as kunstenaar en Bernard Odendaal as digter, wat tydens Woordfees hierdie week by die Stellenbosch Kunsgallery bekyk kan word, en dan meer spesifiek Bernard Odendaal se sms-haikoes wat hy na aanleiding van koerantberigte geskryf het. (Kyk na die voorbeelde onder aan vanoggend se Nuuswekker of lees meer op Bernard se blog. Nog haikoes is te vinde in sy gedigtekamer.)

Nietemin, in my soeke na beter begrip oor presies wat dié digstyl behels, vind ek op die New York Review of Books se webblad ‘n bespreking deur Charles Simic van ‘n fassinerende digbundel: die Oostenrykse digter, uitgewer en fotograaf, Heimrad Bäcker (1925 - 2003), se posthume bundel transcript wat deur Patrick Greaney and Vincent Kling na Engels vertaal is. Op die uitgewer, Dalkey Archive Press se webblad kry ek die volgende inligting: “transcript is a disturbing document. Using the techniques of concrete and visual poetry, Heimrad Bäcker presents quotations from the Holocaust’s planners, perpetrators, and victims. The book offers a startling collection of documents that confront us with details from the bureaucratic world of the Nazis and the intimate worlds they destroyed. Bäcker’s sources range from victims’ letters and medical charts to train schedules and the telephone records of Auschwitz. His transcriptions and reworkings of these sources serve as a reminder that everything about the Shoah was spoken about in great detail, from the most banal to the most monstrous. transcript shows us that the Holocaust was not “unspeakable,” but was an eminently describable and described act spoken about by thousands of people concerned with the precision and even the beauty of their language.”

Ter illustrasie die volgende gedig:

you are requested to leave the keys in the locks of all furniture, chests etc. as well as the keys in the locks of all interior doors. if the keys are on a separate key ring, they are to be taken off and placed in the lock of the receptacle to which they belong. to the building and hallway keys should be attached a ribbon and a piece of cardboard on which you are to write your names and apartment number and identification number. these keys are to be given to the authorized official. before leaving your residence, the list of assets that was issued to you is to be

Inderdaad, “konkrete poësie” op sy allerbeste. Volgens Charles Simic is die kumulatiewe effek van dié fragmente ‘n “harrowing experience” en sluit derhalwe sy bespreking af met die volgende opmerking: “Poetry is in the details, we usually say, but so is cruelty.” En dié uitspraak is net so van toepassing op Bernard Odendaal se sms-gedigte hier onder. Uiteraard behels die begrip “konkrete poësie” gedigte waar resonansie ontbreek, maar waarin lê die trefkrag van dié verse dan? In die buite-konteks? Ek weet nie … Dalk kan iemand dit vir my verduidelik? Want poësie is dit beslis, maar, helaas, ek beskik nie oor die vermoë om te verklaar presies hóékom nie …

***

Sedert gister oggend het Yves T’Sjoen die vyfde aflewering geplaas in sy reeks oor peritekste. Hierdie keer fokus hy op die digkuns van Roland Jooris. Dan het ons ook ‘n huldeblyk aan M.M. Walters, wat verlede jaar 80 geword het, van Daniel Hugo ontvang. Dit is in die Brieweboks geplaas.

Gepraat van die Brieweboks - Gister is die Blogfokus vir Maart bekend gemaak en vandeesmaand kyk ons na gedigte oor skilderye (of skilders). So, skryf ‘n brief aan Brieweboks en kwalifiseer vir die boekprys ter waarde van R250 by Protea Boekwinkel. Begeleidende stukke tot die Blogfokus is Carna Stander se artikel oor “Breyten Breytenbach: Die skilderdigter as mitologiese figuur” en die Indeks van die sogenaamde “beeldgedig” wat deur Johann de Lange saamgestel is en in stand gehou word.

Lekker lees en mag hierdie Dinsdag ‘n plesierige affêre wees vir jou.

Mooi bly.

LE

 

JUWELE TUSSEN ALLANRIDGE & BOTHAVILLE 31/05/2008

 

stormwatrpyp-

vonds: jweelstuke & vr-

minkte jnkvroulyk

 

PUTTOILET BY SPITSKOP, BFTN 13/01/2009

 

‘lyk’ na j gvind

duikrs in ’n puttoilet

brokkis been ’n kind

 

GEREEDSKAP IN VIERFONTEIN-DISTRIK 30/03/2009

 

boer mt ystr dood-

gslaan, 2e mt ’n graaf

& toe vee hy stoep

 

MIELIES BUITE ODENDAALSRUS 02/04/2009

 

man soos 3talig

bord by grnsdraad dryg, doodg-

moer oor milis steel

 

KIERIE VAN THABONG, WELKOM 12/05/2009

 

ouma slat klynkind

toe sy hoenrboud uit pot

gaps mt kiri pap

 

DOEKSPELD TE DAGBREEKBUURT, WELKOM 21/05/2009

 

tas mt doekspeld toe-

gsteek by moskee gelos

peutrlyk ‘sielsbom’

 

(c) Bernard Odendaal

Woordfees en poësie

Monday, March 1st, 2010
Woordfees

Woordfees

Tussen die Woordfees en poësie het daar reeds sedert sy ontstaan in 1999 ‘n besonderse band bestaan en vanjaar se fees, wat vandag begin, is geen uitsondering nie. Die digkuns word gewis sterk verteenwoordig in vele vorme. Op sy blog het Melt Myburgh, Woordkuns-projekbestuurder by Woordfees, te kenne gegee dat hy van tyd tot tyd lusmakers gaan plaas vir die poësie-komponent van die fees. Maar, helaas, lyk my dinge verloop maar ietwat dol daar by sy kant van die draad.

Ek help hom dus graag in hierdie enorme taak deur jou aandag op die mees vername poësie-items te plaas deur hulle vir jou gerief onder aan vanoggend se Nuuswekker vir jou te lys. Maak seker dat jy nie dié besonderse geleenthede misloop nie. Hulle is in volgorde van dag-tot-dag ingedeel.

Die volledige program kan hier bekyk word. Ook het ek skakels by bepaalde items na toepaslike inhoud op die webblad aangebing.

 ***

Vanoggend wemel die webblad weer met nuwe inhoud. So is De Contrabas se Nuusbrief vir Februarie geplaas, terwyl Chris Coolsma sy toetrede tot Wisselkaarten maak. Aan die blogkant van sake is nuwe inskrywings geplaas deur Philip de Vos en Johann Lodewyk Marais, met nie minder nie as dríé nuwe inskrywings by die Nuwe Stemme-blog, te wete: Lize Viljoen, Lewies Botha en Jannie Malan. Ten slotte vestig ek jou aandag op nuwe gedigte wat van Zandra Bezuidenhout en Joan Hambidge ontvang is en in hul gedigtekamers geplaas is.

Lekker lees aan alles en mag dié week vir jou ‘n feestelike een wees …

Mooi bly.

LE

 

Klanktitels

Met Jan-Hendrik Harley (altviool), Brydon Bolton (kontrabas), John Pringle (perkussie) en Pierre-Henri Wicomb (klavier). Gedigte deur o.a. Willem Anker en Rob Bolton

In hierdie projek, spesiaal vir die Woordfees aangepak, word musiek op onkonvensionele wyse gekombineer met teks om aanknopingspunte tussen verskillende media te vind. Ejncp, oftewel Ensemble je nes comprends pas, is een van die weinige Nuwe Musiek-ensembles in die land. Die lede daarvan is almal komponiste in eie reg.

1 Maart 17:30 ● Fismer-saal ● 55min ● R65

 

Drieluik

Marion de Vos en Floris Brown lees verse voor uit hul publikasie Drieluik, waarin foto’s van Hilde Vaatstra opgeneem is. Nederlands en Afrikaans word verknoop rondom temas soos verbondenheid met die natuur, die kosmos, die liefde en ʼn soeke na spirituele wysheid.

2 Maart 14:00 ● Erfurthuis ● 60min ● Gratis

(more…)