Resensies

Resensie: Stof en ster (Pieter Fourie)

Wednesday, June 5th, 2019

Stof en ster, deur Pieter Fourie. Naledi, 2019; 978-1-928426-70-7

Resensent: Amanda Lourens

ʼn Mens begin al byna té gewoond raak aan uitstekende poësie deur Pieter Fourie, sowel as aan artistiek keurig versorgde digbundels uit Naledi se stal. Stof en ster, die derde bundel uit Fourie se pen nadat Afrikaans se voorste dramaturg se digterlike wal in 2017 met Knapsekêrels gebreek het en in 2018 met Bidsnoer opgevolg is, sluit tematies en tegnies naatloos by sy voorgangers aan, sonder dat daar enige dalende lyn in terme van gehalte te bespeur is.

Fourie se poëtiese styl en aanslag is teen dié tyd kenmerkend, en die bundel bevat ongetitelde verse wat die leser se middelklas- verstedelikte gemaksone deur die eerlikheid en gestrooptheid daarvan uitdaag. Hierdie digter skroom nie om deur te dring tot in die diepste kern van die menslike psige met sy primordiale drifte nie, maar nêrens word dit met grootdoenerigheid of vertoon aangebied nie – trouens, Fourie is die meester van die nugter en eenvoudige, maar altyd gelade en meerlagige gedig. Soos in die vorige bundels lei die volkse taalgebruik tot besondere klankeffekte, maar skep dit ook die eiesoortige aardse en lokaal realistiese tekstuur van Fourie se poësie. (Fourie self bestempel sy werk as “folk”-realisme, en verskaf voor in die bundel ’n aanhaling van David Barnett wat hierdie kunsrigting soos volg omskryf: “Folk realism is the new genre as literary work, reminding us that under our veneer of sophistication we are of the soil that still breathes and remembers the old ways onder the layers of tarmac and concrete that we hide it beneath.”)

Die bundel het sy oorsprong in die lang gedig “gehuggie” in Bidsnoer (geïnspireer deur Dylan Thomas se bekende Under Milk Wood), volgens ʼn nota van die digter voor in die nuwe bundel.

Die lieflike kunswerk op die voorblad deur Maletta Fourie is ʼn soort impressionistiese beeld van ʼn landskap, sonder té veel realisme of detail. Eerder skep dit die indruk van ʼn vloeibaarheid of ’n vormingsproses, wat sterk aansluit by die “swerfsand” binne ’n groter kosmiese opset, soos wat in die eerste gedig  aan die orde gestel word:

 

die oerknal sper

sy heelal af

mens plant insek dier

leef hier stil deurdag

verken hul al

kortom

swerfsand

strawasie

vervlietend

onder

ster en son:

 

Op ʼn manier kan die titel “Stof en ster” geïnterpreteer word as ʼn deel-geheelverhouding, veral wanneer die kosmiese situering van die bundel in gedagte gehou word. Stof is ’n relatief klein vorm van materie, en ook die samestelling van die twee naamwoorde (“sterstof”) aktiveer die moontlikheid van stof as die boustof van sterre, oftewel aansienlik groter konglomerate van materie, alhoewel hulle op hul beurt weer dele van die veel meer komplekse sterrestelsels is. En wat in die bundel voorgehou word, is ook niks ander nie as ʼn deel-geheelverhouding: Die bundel gaan naamlik oor ʼn landelike gemeenskap, maar word saamgestel uit bepaalde karakters en hulle individuele wel en wee.

Terselfdertyd stel die insetgedig die aardse lewe, hetsy menslik of dierlik, as ’n maar vervlietende aspek binne die groter opset van “ster en son”, en die dubbelpunt aan die einde van die vers suggereer dat die tydelike lewe, met sy vervloeiings (“swerfsand”) en moeilikhede (“strawasie”) die boustof is van die verse wat gaan volg.

Fourie verken die spektrum van lewe binne  ’n gemeenskap op meesterlike wyse, en ontbloot met humor en deernis die tragiek van individuele menselewens, maar skroom ook nie om die skadukant van die gemeenskap aan die kaak te stel nie.

Daar is die netjiese klein gedig oor die  koeksisterbakkende Tant Breggie, wat kos as substituut vir seksuele onvervuldheid gebruik:

 

vir tant breggie koesisterkoningin

(nie sleg met kaas- en pannekoek)

ook toornaar in die melktertkring

was daar nie tyd om man te soek

 

maar nooit gebed, het sy gestoel

om pik-sluk-pik by basaar te woel

.

’n Verhaal van onbegrip vir en verwerping van ’n individu met ’n eie traumatiese geskiedenis is die tema van die fyn onderspeelde vertelling oor Stil Sarel:

stil sarel kan net ná middernag

sluip-sluip deur die strate stap

bedags sal die dorp hom stenig

tot hul verraaierbloed sien spat

 

net hy en drieka uit sy kinderjare

wis waarom hy moes joiner word

met volmaan kan hy dofweg sien

haar malvas bloei gewonde hande

in bruin roeskanne van paraffien

 

nooit ooit sal een van hul vergeet:

ma’s, dogters ontklee soos hoere

die kakies dreig verkraggereed

twee kinders magteloos afgepers

verklap oornagplek van die boere

 

kry natwang koers na eie huis

klim in sy bed met seer berou

hier gekoester nooit verguis

in arms van mina, sy barolongvrou

 

Hoe die kat ook in kerklike kringe in die donker geknyp word, word met verkwiklike woordspel vertel:

orrelis raak opgewonde

die nuwe proponent

is nie so ongeskonde

sy energie pols penorent

 

as sy ná kerkkoor-uitvoering

agterbly vir nog ’n oefening

proponent die blaasbalk pomp

weet sy hy’s warmbloedig jonk

 

In die bodorp, weer, is daar “koos hoë-kringe”se sleutelpartytjies:

in die bodorp bou

koos hoë-kringe

kleinkind van jan blink

met vreemde dinge

 

’n yslike glaskasarm verrys

ware garden and home-paradys

 

in spogwit garderobe en skoenateljee

200 hangers aan relings van chroom

50 skoenskedes se leerkondoom

die swembad is olimpiese standaard

die biljartkamer ’n manne-hemelvaart

 

sagte porno word trompop blou

deftige bene nie meer kuisgevou

 

die motorsleutels in ’n pluiskeilhoed

in die ligrooi skrik-vir-niks-dameskroeg

almal geblinddoek niemand kan kroek

ploeg katoolsvingers in hul lotingsoek

 

die getrekte sleutel kom met vrou inkluis

(as bonus die kamersleutel van haar huis)

in sjampanjekaskades word almal omgeruil

vir ’n kroonwild-orgasme op kakebeenskuil

 

Tog is al hierdie aardse besigwees uiteindelik aan die sterflikheid onderworpe, soos die deernisvolle maar steeds nugter tweede laaste vers in die bundel van vertel:

 

oupa praat nou sag aldag al temer

die aandster kom so net ná skemer

 

tyd vir lang witjurk en slaapmussie

’n laaste lopie na die parlement

vroetel rond in medisynekissie

aha! ’n hoesstropie en pipperment

 

vannag kom ’n uil op daknok roep

weet oupa worstel met die kroep

kis staan blinkvernis op die solder reg

vir leeftydstapper van die smalle weg

 

daar kom hoe-hoeeee die engelkoor

ouma trek dig die kantgordyntjie

’n vlugsoutjie ’n proppie rooi jerepiko

speel met respek op trapserfyntjie

 

sing pianissimo:

 

“uit diep van donker nagte

roep ek, die here hoor …”

 

In die slotgedig keer Fourie terug na die kosmiese opset wat in die eerste vers opgeroep is, en verklaar dat alhoewel “die verband / tussen /ster / en korreltjie sand”duister is, dit “helder” is dat alle oënskynlik onverwante komponente in die heelal in ’n groter spel aan mekaar verbonde is:

[…]

 

helder:

onversoen afgesper

’n soekmekaar

triljoen ná triljoen

in duin in hemelruim

vir heelalspel

albaster en ghoen

 

Stof en ster is in alle opsigte ’n merkwaardige bundel deur ’n digter wat hom in ’n kort tyd as ’n belangrike rolspeler binne die Afrikaanse poësiesisteem gevestig het.

 

Resensie: Verslag (Clinton V du Plessis)

Tuesday, June 4th, 2019

Omslag

Verslag deur Clinton V du Plessis / 2019

Resensent: Gisela Ullyatt

In ’n onderhoud met Heindrich Wyngaard (“Michausdal deur die oë van die digter Clinton V. du Plessis” ̶ Klop, KykNET en Kie: 30 Januarie 2019) antwoord Du Plessis Wyngaardt se vraag  ̶  waarom Du Plessis verkies om in Michausdal te woon  ̶  soos volg:

Kyk, ek sal nooit kan trek na die voormalige wit buurte nie: dis te serebraal. Hier [Michausdal] leef mense nog, hier kan jy rustig met mense gesels, hulle stel belang in jou doen-en-late; iemand sal ’n bietjie meer suiker leen, jy weet, daai tipe van medemenslikheid, terwyl in die dorp voel jy mense is afgestomp en toegesluit agter hulle veiligheidshekke.

Met sy tiende digbundel, Verslag, keer Clinton V. du Plessis terug met ’n volgehoue raison d’être wat herinner aan dié van die hoofkarakter, Jacques Rynard, in Ballade van ’n enkeling waaroor Richardt van der Westhuizen skryf en sing: “enkeling/vreemdeling/verstoteling, rug gedraai na die ligte kring”.

Uiteraard sou hierdie vergelyking nie heeltemal op sosio-politieke vlak kan strook nie: alhoewel Jacques Rynard grootword in ’n bitterlik arm spoorweg-milieu (Du Plessis se vader was ook verbonde aan die Spoorweg), is Rynard se ma in staat om die volwasse Jaques-die-skrywer se romans te lees, iets wat Du Plessis se moeder nooit die geleentheid onder die ou politieke bedeling gegun sou word nie: sy is reeds in haar negentigs, maar steeds ongeletterd, iets wat verskriklik tragies is. Alhoewel die bundel nie hierdie spesifieke gegewe oor Du Plessis se moeder direk verken nie, is daar spasmodies ’n verwysing wat hierdie tipe onreg onderstreep soos die motto van “Sleur” (59): “My mother was a kitchen girl/my father was a garden boy/ That’s why I’m a communist”. Die digter dui aan dat hierdie woorde uit ’n bekende struggle song afkomstig is.

Verslag se voorblad intrigeer: die leser se oog word as ’t ware  na buite gedwing, na ’n urban landskap wat deur ’n sleutelgat beloer word: die enigste menslike element is ’n jong bruin man met ’n bakkebaard, ’n oorring en ’n pet wat kletsrymers gewoonlik dra. Die outjie rook ’n pyp en derhalwe speel die voorblad dalk met die idee van “sit dit in jou pyp en rook dit”. Op die agterblad is daar ’n goue sleutel vir die leser wat hopelik hiermee die bundel sal kan ontsluit. Liézel Els, die kunstenaar, kwyt haar uitstekend van haar taak om die gevoel van binne- en buitewêrelde te visualiseer.

Die bundel het drie tematiese veronderstellings en word dan ook so ingedeel: lewe, werk en dood. Elk van die drie afdelings het ’n keurige illustrasie en ’n motto. Dis ook nie om dowe neute dat Du Plessis die lirieke van John Mellencamp en Bruce Springsteen as motto’s vir die eerste twee afdelings gebruik nie: albei is bekend as musikante vir die blouboordjie gemeenskap in Amerika; Mellencamp het veral bande met die boerderygemeenskappe daar.

Die John Mellencamp-aanhaling som die tematiek van die eerste afdeling op: “And I am glad to say I’ve enjoyed every day/Of the full catastrophe of life”. In hierdie afdeling word stip gekyk na onderwerpe soos fetale alkoholsindroom (“Dop”:15) en modernisering van die karretjiemense en hoe hulle steeds een van die mees gemarginaliseerde gemeenskappe bly ten spyte van “sassakaarte’ en die “plaasboer se nommer op whatsapp”(“Karretjie”:17). In “God se aap” (25) aktiveer die digter die hedendaagse individu se beheptheid met tegnologie en sosiale media asook koddige SMS-taal wat gebruik word in plaas van die hele woord. Die l’ennui van die moderne samelewing word ook saamgevat:

Die mens:

duh,

wud,

lib,

12m,

lol,

lmimm,

brb,

die grotman, stamel onsamehangend.

.

Tien minute na middernag,

nog 1 238 persone aktief

op dié werf,

anoniem of skuilgenaam,

lugtyd vir intieme foto’s,

naelgestring

aan die kuberruim

vreemdeling word vriende vir ’n wyle

die siekte van ’n nuwe tyd:

verveeld tot die dood toe.

.

Selfs die program, “Boer soek ’n vrou”, word parodies ingespan (“Hubaar”43):

.

Boer soek vrou:

stoetkudde met stamboek,

selektief geteel,

mense-mens,

kerkvas […]

.

grond in sy are,

familieplaas (veilig) in sy inter vivos trust,

sy koffie, Nespresso.

.

In ’n indertydse onderhoud met Louis Esterhuizen noem Du Plessis die volgende:

Een van die dinge wat my altyd sal bybly kom uit een van die eerste keurdersverslae wat ek destyds van Petra Grütter (Müller) gekry het. Sy het opgemerk dat ek “brutaal genoeg is om ’n digter genoem te word”. Ek het daarvan gehou … dat digters ook met ’n voorhamer, of soms ’n AK-47 kan/moet werk of dan skryf! http://versindaba.co.za/2010/04/17/onderhoud-clinton-v-du-plessis/

Hierdie mate van brutaliteit word veral merkbaar in die tweede afdeling wat die moderne sleur van werk simboliseer. Alhoewel die gedigte nie grafies is soos byvoorbeeld dié van Nathan Trantraal se Chokers en survivors nie, word die leser gekonfronteer met ’n taamlik lywige afdeling wat handel oor onder andere mensehandel (“Human trafficking”:71)

[…] sy vriende, kennisse

en ander aanhangsels

deel nou kortstondig haar bed,

die daaglikse dosis fok

om sy kostes te verhaal, gelyk te breek […]

.

In sommige van die gedigte word karakters nie net beskryf nie, maar ook op die naam genoem: Minah, die huiswerker wat ’n welgestelde familie se “drie honde, oorgewig en op spesiale dieet” gereeld “moet bad en borsel” en selfs ’n papegaai in ’n koutjie se beledigings moet aanhoor. Daar is Nomashe in ’n “afgeleë tuisland” (“Salig”:63) en Thandisizwe, die rotsbooroperateur (“Die boor”:65) wat “agt ure die aarde se baarmoeder in / die donker warm vagina [waarin / hy] verbete boor”. In “Sela” (52) tree Du Plessis in gesprek met Uys Krige: “Die see gee nie meer vis nie, meneer/nou sit ons hier rond”.

Die gevoel van die tweede afdeling is dat korter gedigte soos “Drywer” (90) en “Tjailatyd” (91) die leser meer effektief bereik as van die gedigte wat geneig is om té uitgesponne te raak en wat, vanweë hul katalogiseringstegniek, te eenselwig lees, alhoewel die inhoud uiteraard verskil. Hier sou ’n ferm redigeerhand die gedigte kon snoei.

Die derde afdeling, met ’n  motto uit ’n Billy Joel song, is myns insiens die sterkste afdeling in die bundel.

“Noodberig” (98) tree in gesprek met Jan FE Cilliers se gedig, “Dis al”:

.

Dis die rooi, dis die blou

dis die wêreld wat vir ’n Twitter-oomblik jou

verdrinkte lykie onthou

dis die rooi, dis die blou

dis die wêreld wat vir ’n nanosekonde rou

.

Daar is ’n volgehoue toonaard van melancholie wat deur meeste van die gedigte loop. In “Erfskuld” (105) word ’n “spoorwegbruin oorpak” van die gestorwe vader tot objektief-korrelatief uitgebou: “dat ek vir jou ’n gedig uit jou bruin oorpak sou probeer maak?”

Daar is ook ’n wrangheid ten opsigte van die self, in sekere van die verse, veral wanneer die spreker in gesprek met die spoorweg-vader verkeer (“Brokstukke”:104):

.

Ek met die boekgeleefde antwoorde,

ek met al die halfgebakte oplossings,

ek wat verleer het om te huil,

ek met die pantserhande gestel […]

.

Ander lykdigte word opgedra aan Ryk Hattingh, Tom Gouws, Dulcie September, Dr. Lionel Snyders, Faith Snyders (hulle was eggenotes) en Charlton Alexander.

“With or without you” wat inspeel op ’n bekende U2 song, is ‘n roerende liefdesgedig, maar ek verstout my om te sê dat “Aksioom” (118) selfs meer geslaagd is vanweë die puik gebruik van algebra as metafoor van die liefde.

Een van die laaste gedigte, “Due diligence” (116), ’n term wat in die praktyk deur veral rekenmeesters gebruik word, is ’n ars poetica wat die digter se beskouing ten opsigte van dig, leef, werk en sterf behendig saamweef:

Die digter moet kan boekhou:

verlies se struktuur kan vaslê

as bewysstuk van die brose bestaan

hy moet soms opgaar en bewaar

stoor, in onthou se vasteskryf

ook die drifte van die lyf.

.

Die digter moet omsigtig leer omgaan

met verhouding, tussen

sentiment en substans

onderskei, kaf van koring kan skei

die illusie blootlê van

visie en missie

noulettend leer let,

syferseker sin kan soek

versigtig woorde kan aftel

sonder vooroordeel

hierdie tog se balansstaat op kan stel.

.

Is die dood krediet en lewe die debiet?

.

Verslag is ’n bundel waarin Du Plessis ’n verskeidenheid van insigryke onderwerpe (soms met ironie en parodie) onder die digterlike loep neem; iets wat tot meeste lesers sal spreek. Voorwaar ’n digter wat steeds die hart van die werkersklasmens verstaan en liefhet.

Resensie: Die jaar toe Pa … (Hannes Visser)

Saturday, June 1st, 2019

omslag

Die jaar toe pa … deur Hannes Visser. (Naledi, ISBN 978-1-928426-07-3)

Resensent: Amanda Lourens

Hannes Visser, van wie ses gedigte in Nuwe Stemme 6 verskyn het, se solodebuut met die ongewone (en prikkelende) titel Die jaar toe pa … is een van daardie bundels wat jou ineens laat regop sit daar waar jy jou ook al ingerig het vir ʼn lui aand van poësie lees.

Visser neem die leser in 61 gedateerde gedigte terug na die jaar 1967, waar die 10-jarige verteller die leser intrek in ʼn wêreld wat vir sommiges heeltemal vreemd mag wees, en vir ander ʼn eggo uit ʼn eie kindertyd lank gelede in ʼn andersoortige domein is.

Deur die oë van die kind-verteller word jy geneem na ʼn beskeie myndorp in 1967, waar ʼn aantal ingrypende gebeure hulle deur die loop van die jaar afspeel. Die sentrale rol van die vaderfiguur blyk reeds uit die titel, en suggereer dat die vader se optrede en sienswyses, maar veral sy dood, daarvoor sou sorg dat hierdie jaar ʼn vaste baken in die verteller se psige word.

Die insetgedig (“Donderdag 5 Januarie 1967”) vertel hoe die pa vroeg in die jaar ʼn “for sale”-bordjie voor die gesinshuis inslaan, en verklaar dat hy van voorneme is om “ʼn plaas met perde” te koop. Die moeder wys hom egter op die klasse-afgrond wat tussen hom en sy droom staan: “welders op die myn / koop nie plase en perde nie”, waarop die plaaslike dokter en dominee ingeroep word om die pa te kalmeer en op mediese en geestelike vlak sy suikersiekte en dranksugtigheid te probeer besweer.

In eenvoudige en gestroopte verse, maar wat nietemin van groot woordvaardigheid én ʼn besonder skerp waarnemingsvermoë getuig, verneem die leser van die verdere verloop in en rondom die gesin. Deurgaans word materiaal uit die konteks van die sestigerjare in die verse geïntegreer, en die onreg van apartheid word skrynend konkreet aangebied vanuit die kind se naïef eerlike oogpunt in “Saterdag 7 Oktober”:

die polisie was laasnag

agter in ons jaart en

violet skreeu miesies help

.

maar die polisie het klaar

haar man wat kom kuier het

uit haar kaia gesleep en

geskop en agterin gelaai

.

ma het probeer om te keer

en die polisie het haar gestamp

.

toe kom oom tiny

van bo in die straat

om met ma te praat

jy weet mos die meid

moet alleen in die kaia bly

Ander sleutelgebeure van die betrokke jaar – internasionaal en nasionaal – word ook versmatig verwerk, maar op ʼn wyse wat ook veel oor die dorp se inwoners verklap. Die vader en ʼn dorpstante se reaksie op die Apollo 1-ramp – soos verhaal deur die neutrale kind-verteller – wys byvoorbeeld op eersgenoemde se aard as ʼn kleindorpse visioenêr, terwyl laasgenoemde se bekrompenheid duidelik blyk:

drie mans is dood in amerika

wat met ’n vuurpyl tot by

die maan wou vlieg

dit was op die draadloos

.

pa sê hulle het verbrand

nog voor hulle kon vlieg

maar eendag gaan mense

nog op die maan kan land

.

dit was die here se wil

sê antie hester want dis

die here se maan en

niemand mag op sy

maan gaan land nie

(“Maandag 30 Januarie”)

Ook die eerste hartoorplanting word skepties en haas bygelowig deur die dorpenaars bejeën in “Woensdag 6 Desember”:

oom theuns van die kerk

loop van huis tot huis

en bid en lees uit genesis

.

hy sê chris barnard

dink hy is die here

hy het ’n vrou se

hart in ’n man geplant

.

en dit op die heilige

sabbatsdag maar

almal weet die

skepper slaap nie

Die moord op Verwoerd word in “Woensdag 6 September” vanuit ʼn werkersklas-oogpunt beskou (teenoor die welbekende middelklasnarratief oor die dag as een van nasionale rou):

vandag was skool kort

almal was in die saal en

meneer oosthuizen het

gesê dis ’n jaar na

verwoerd se dood

met ’n mes van

’n kommunis

[…]

toe het ons huis toe

gegaan en ma sê

dis sommer stront

wat maak kinders

alleen by die huis

as mens moet werk

Tog is die bundel ook ʼn Bildungsroman in versvorm, met die jong seun wat seksualiteit begin ontdek en met sigarette eksperimenteer, maar ook sy pa verloor wanneer dié onverwags op 42-jarige ouderdom sterf. In die tyd hierna raak hy die onbegrypende waarnemer van sy ma wat nuwe verhoudings aanknoop en ook weer trou, maar tog begin hy algaande ontdek dat die grootmenswêreld nie sonder bedrog is nie, soos in “Sondag 27 Augustus”:

die man met die cortina het ’n vrou

en twee kinders

ek het hulle gesien op die swing

in die park oorkant sy huis

toe ek met my fiets gaan

kyk het waar hy bly

.

hy het gesê hy het ’n groot

huis en ’n swembad en ek

moet eendag kom swem

maar die huis is klein

en sonder ’n jaart

hy het uitgekom en die

kinders ingejaag en

my weggejaag

Uiteindelik word sy breuk met die vormgodsdiens van die dorpskerk uitgebeeld in “Sondag 3 September”, wanneer hy in ʼn familielid se slegpassende klere kerk toe gestuur word met twintig sent, maar wat hy besluit om eerder aan “ʼn coke en vyf toffies en twee / games pinball by costa se kafee” te bestee.

Die wêreld wat geteken word, is een van armoede, gebrek en maatskaplike probleme, maar ook een wat toegelaat het dat ʼn sensitiewe gemoed uit hierdie dikwels traumatiserende omstandighede ontwikkel. In die slotgedig, met die datum nou 17 November 2018, is die volwasse verteller uiteindelik aan die woord, nadat hy tydens die lees van Ena Jansen se Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (2016) diep geraak is deur die verontmenslikende omstandighede waarin die gesin se huiswerker haar bevind het, en hy besef dat sy, soos hy en sy gesin, ʼn slagoffer van ʼn klassestelsel was, maar dat sy daarnaas óók die wreedheid van die rassestelsel moes deurmaak:

violet ná vyftig jaar ontdek ek jou

tussen die blaaie van ’n boek oor

mense soos familie mense soos jy

wat gewerk het vir mense soos ons

.

in die stories oor kopdoekvrouens

agter besems en stofsuiers in huise

en agter stootwaentjies in strate

sien ek jou en begin ek onthou

.

ek onthou my wegkruip onder

jou kaiabed op bakstene as pa se

studebaker die driveway instorm

en sy kop en sy hande uithaak op ma

.

ek onthou hoe jy my engels leer

uit fotostories in drum agter in

die jaart met esther se kleintjie

in ’n bont kombers op jou rug

.

maar wat ek nie kan onthou nie

(want niemand het jou ooit gevra nie)

wat was jou van en het jy ooit verjaar?

want vir ons was jy net die ousie van

dobsonville in ’n kaia agter in die jaart

violet ek sou graag op ’n beter plek

waar almal dalk vir almal verstaan

vir jou wou vra wat was jou van

maar veral sou ek jammer wou sê

Hierdie kort resensie en die enkele aangehaalde verse laat nie reg geskied aan die rykheid gesetel in die bedrieglike eenvoud van Visser se bundel nie. Diegene wat hierdie bundel misloop, ontneem hulle van ʼn onthutsende maar ook diep verrykende reis na die Afrikaanse werkersklaswêreld van die sestigerjare.

 

Resensie: Jan, Piet, Koos en Jakob (Loftus Marais)

Tuesday, April 23rd, 2019

Jan, Piet, Koos en Jakob

Loftus Marais

Human & Rousseau.

978 0 7981 7717 7

Resensent: Marius Crous

 

Jan, Piet, Koos en Jakob is die ongewone titel van Loftus Marais se derde digbundel sedert sy debuut Staan in die algemeen nader aan vensters (2008). Die voornemende leser verwag dus dat ons hier met ’n slagorde van mansfigure te doen gaan kry; almal met sulke goeie Boerename. Op die oog af gee die inkkolle voorop ook nie veel weg; selfs al word elke naam met ’n bepaalde kol geassosieer (Jan=groen, Piet=swart, Koos=blou, Jakob=geel).

Verskillende variante van die name word as gedigtitels gebruik: “Jakob Engelstoeier”, “Jantjie Skuinsdwars”, “Jan Pikbroek / Janmaat”, “Piet X”, “Piet-my-vrou”, “Piet Langpoot”, “Jan Pierewiet”, “Koos”, “Jakobregop / Jakobslap”, “Jakobstaf”, “Piet Pixel”, “Piet Lawaai”, “Piet Mondriaan”, Geldpiet”, “Piet Kapater”, “Jan Bantam”, “Jan Balie” – tot en met “Jacob Zuma, op perd”.

Die onderskeie naamkeuses kan ook in verband gebring word met die openingsreël van die gedig “Liefkoos” (49):

           ek bring vir jou die ouderwetse woorde

           op my palm, een vir een …

Want in hierdie bundel word heelwat gespeel met ouer, bekende frases en woorde en word hulle in ’n eietydse idioom verwerk.

Temas uit Loftus Marais se ander twee bundels wat hier voortgesit word, is die fyn satiriese blik op die samelewing, die familie, die verhouding met die pa, die digterskap en die futiliteit van skryf (vergelyk bl.38) en, soos hy dit stel, “die fokken kommingeit van mag”. Dié digter is ook bekend vir sy aweregse ontluistering: dis nie Jesus of Maria in die Pietà van Michelangelo wat bewonder word nie, maar die “plooimateriaal wat eerste aandag trek” (85). Of die piet-my-vrou se bors is “wimpy-rooi” (23) en jakarandas word as “psigotiese pers” (56) beskryf. Selfoontorings “opgetert as boom” (69) is vir hom mooi. Die affektasie van Franse motto’s in tekste, “asof almal frans kan lees” (62), laat hom die borselbelletrie op sy sjampoe of tandepasta verken. Selfs ’n Middeleeuse monnik word nie ontsien nie, wanneer sy klankeksperimente met sy abdy se klepel beskryf word (84).

Deurlopend in Marais se poësie is ook sy blik op mans en manlikheid en ek wil veral hierdie “taal van pielverdriet” (28) ondersoek. In etlike gedigte is daar ’n falliese verlusting in mans en hul seksualiteit en word ’n manlike seksobjek uitgebeeld wat iets “christeliks en nasionaal en macho” (50) aan hulle het.  In die metropolitaanse konteks van die bundel word verskeie van hierdie Jan Allemanne gecruise.

Reeds in die openingsgedig, “Jakob Engelstoeier” (9), geskryf met ’n kopknik na Andrew McMillan se “jacob with the angel”, word die engel se liggaam in fyn besonderhede beskryf en word genoem dat daar “wel piel en balle” is, wat Jakob tydens die worstelslag teen hom voel. Die res van die gedig bied ’n estetiese beskrywing van die engel se lyf en des te meer is die frase opvallend. Kontrasteer hiermee die geobsedeerde vrou se keuse van benaminge vir die roede: “tolleman en pister, tros en voël en tril” (28) en haar tipering van “die boerepiel as teken van belediging”. As begeerde seksobjek is dit ‘n teken van bevrediging, maar as falliese magsimbool word hy beledig en ontkrag.

Die voorstedelike kantoorwerker wat nie besonder gelukkig is in sy huwelik nie (hy dra die argetipiese naam, Koos van der Merwe) se lewe is so afgestomp, dat hy selfs te moeg is vir “aftos” (43).

Die derde gedig van “Om met Pieter te vry” (47), lui soos volg:

.

blow jobs bied ’n veelheid vreemdheid

byvoorbeeld: die onverwagse slurpklank soos ‘n

kreepy krauly wat te hoog klim in voorstedelike stilte

of hoe mans terloops probeer ’n balhaar

uit hul mond uit vee voor verder gaan.

maar ek onthou jy het gestop, ’n nat haar

tussen duim en vinger uitgehaal

dit stip bekyk, nes, ha, ’n skaars veldplantjie of leë distel

in ons trille-idille.

Die “trille-idille” word deel van die metropolitaanse bestaan en word selfs teen die lamppale verkondig (“obeliske gecartouche met penis / enlargements” (55)). Die “veelheid vreemdheid” van anonieme seks word beskryf, maar ook die eiesoortige tipe intimiteit. Dit word ’n opheffing van wat Michael Warner in sy boek The trouble with normal (1999) die etiek van seksuele skaamte noem. ‘n Intieme (dog komiese) gebaar soos die haar in die mond illustreer hoe die grense van moralisering deurbreek word.

In enkele gedigte is daar ook die bekende ruimtes soos stoomkamers en die gym (hoe ironies is die naam Virgin Active nie), waar mans mekaar optel. Veral die gedig “Heet” (51) het so ’n heerlik sardoniese byt in die slot.

Selfs die volkskunstenaar Pierneef word nie ontsien nie. Vergelyk die volgende:

.

neem die kronk van ’n oumansbalhaar en

ook die vertakking van ’n spataar,

plant dit in bruinbloue bosveld

siedaar spruit dit tot ’n koepel- en sambreelding. (58)

Een van my gunstelinggedigte in die bundel is “Retro cruising” (74), wat as ’n samevatting van die deurlopende temas gelees kan word. Dit handel oor die cruising-aspek, die taksering van mans se liggame, en die anonieme kameraderie wat tussen mans ontstaan. Die spreker omtoor die oënskynlik normale man “aan die geslete kant van vyftig” tot ‘n “ware, ruie pappa”.

 In ’n onderhoud met AJ Opperman (17 April 2019) merk Marais op dat die bundel uit heelwat biegerige verse bestaan en hy dit “baie meer vir homself geskryf”. En selfs al weet die leser nie wie die digteres is wat so vrot parkeer nie, of ken nie al die mans in die bundel – figmente of werklik – nie, is daar heelwat in hierdie teks wat hy vir ons geskryf het.

 

.

 

Resensie: op weg na kû (Breyten Breytenbach)

Monday, April 15th, 2019

op weg na kû. ’n geboorte-memoriaan (vir woorde) hiermee opgemaak tot vermaak en bemaak aan Ene Nee-Een. Deur Breyten Breytenbach. 2019. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-7862-4 

  • Resensie deur Bernard Odendaal

.

In die (selfgeskepte) skildery op die voorblad van hierdie vier-en-twintigste dig- en/of prosaversebundel van Breyten Breytenbach sit “Boetatjie van die Kaap” kruisbeen, in die zazen- of lotusposisie dus, onder sy meditasieboom; oog van insig tussen die vingers; ’n donker gesigsmasker op. Boetatjie Blackface, van voorheen in sy oeuvre, is terug in die Kaap.

Hy, “ons ou monnik in die berge” (“2.6 bergdenke”), is eintlik onderweg na Kû – soos deur die omkykende, voëlagtige figuur, geskilder langs ’n maan bokant wat na die Bolandse berge lyk, op die voorblad gesuggereer. , luidens een van die vertaalde aanhalings in die “tweede mottoblad” (dis ’n sitaat wat ook in sy 1983-bundel (“Yk”) opgeduik het), beteken leeg.

“Luister, Shariputra (Leser) …

die vorm (shiki) is nie verskillend van die leeg (kû)

en léég is nie verskillend van vórm nie.

shiki ís kû, kû ís shiki.

‒ Maka Hanya Haramita Shingyo”

Daardie leegheid, wat herinner aan die Zen-Boeddhistiese begrip van die leë, dog wonderbaarlike toestand van die niet, die satori, verteenwoordig ons ware aard; en dít is bevat in die vorm, die liggaam – ook die van die gedig. Kû vergestalt die oorspronklike bewussyn (noem dit ook god, of werklikheid, of niet), en dis ’n dinamiese veelheid van ’n leegheid, ’n belewing van “kontradiktoriese eenheid”. Laasgenoemde is ’n bestempeling wat Hein Viljoen gebruik in sy profiel van Breytenbach as skrywer in die nuutste uitgawe van Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. “Tussentoestande” (of “liminaliteit”), “nietweeledigheid” (van byvoorbeeld fiksie en werklikheid, of van taal en werklikheid, of van mens en kosmos), “dialogisering” (van byvoorbeeld self en ander, of van teks en interteks), “permutasie”, “transformasie”, “verbastering” en “topologiese vervorming” – dit is sommige van die ander terminologie wat benut word om die dinamiese, “surreazennistiese” (Viljoen se woordskepping) manifestasies van sodanige bewussyn in Breytenbach se oeuvre te (probeer) benoem.

“Hoe moet ek dit by jou tuisbring, Leser?” skop die gedig “9.12 Kû” af, wat saam met “9.11 op pad na Kû” as die titelgedigpaar van die bundel gesien kan word:

Hoe moet ek ruimte skep ook terug in die verlede verspeelde leemte

om te verduidelik dat alles moontlik is en niks sin maak nie?

Dat die skrywe nie wentel om ’n simbool, nie die beeld is vir nêrens

anders bestaan nie

maar die bymekaarkomkopulasie in beweging van lewe en dood, van

binne en buite,

van ’n verlede nou teenswoordigheid wordende om te vergaan in ’n hede

wat nog net in verdwyning ontstaan?

Dat die skryf, Leser, intiem bewus bly van die aai van jou oog onder lede

wanneer jy die saamvloei van uiterstes laat stol en terugdraai

na waar die oorspronklike pyn vandaan? (sic)

Die onderons van die digter met die leser, met “Nee-Een”, staan in op weg na kû voorop. Die bundelsubtitel wys al hierheen: ’n geboorte-memoriaan (vir woorde) hiermee opgemaak tot vermaak en bemaak aan Ene Nee-Een. Die dialogiserende verbondenheid van digter en leser vind juis in Nee-Een se palindroomstruktuur vergestalting; dié eienaam voorspel egter ook reeds die nivellerende “uitveegesig” van die digkunspoging. Die leser is, luidens die bundelopeningsgedig, vir die “ek” in die “strewe om verby sterwe” te kom, om betekenissképpend met die leser om te gaan, as ’t ware ’n lewensmaat – ’n “Lot se vrou” – in sodanige (noodlottige!) poging. Of soos dit in die tweede gedig in die bundel heet:

[…] jy wat met my die stéél is

van twee bewussyne

die dronkenskap van vlinderlig

in hierdie duisternis.

(“mottoblad”)

In die voorlaaste bundelafdeling word Nee-Een derhalwe tot “Saamnaatmaakmaat” en “saamnaatmaker” van die digter verklaar. Hoe intiem dié verbondenheid geag word, word duidelik gemaak in die visuele kunswerk wat die bundel besluit, dit wil sê heel aan die einde van die afdeling NOTAS. Dit behels ’n collagewerk waarin ’n liefdespaartjie uitgebeeld word, met “en nege ene” as opskrif  – ’n frase wat meerduidig toespeel op benamings soos “Leser Eenneenee” vroeër in die bundel.

’n Mens sou dus kon sê op weg na kû is veral ’n bundel oor die digkuns en die daarvolgense verhouding digter-leser (“tweelingmotte” word hulle in die gedig “tweede mottoblad” genoem). Hulle “eenmalige lotsverstrengelde / strewe” (“(vir Lot se vrou)”) via “die gedig se bewegang” is juis (tevergeefs!) gemik teen die dood – daardie “perfekte palindroom” (“2.7.1 (fokof)”).

“I am Life dancing with Death / I am Death dancing with Life / You are the Dance / We are one breath,” word ene Ka’afir in die titellose gedig 1.1 aangehaal (’n skrywersnaam, maar wat klankgewys ook op die kontinent Afrika sinspeel).

Van hierdie (voorlopig) onbesliste stryd, hierdie digterlike doenery-én-ontdoenery, is die taal- en (inter)teksspel wat hierdie bundel deurspek (soos voorheen in sy oeuvre), ’n teksvergestalting. Die talige en tekstuele spel – daar is ook talle meesprekende foto’s, skilderye en collage-agtige visuele kunswerke opgeneem in die bundel – funksioneer verikoniserend van ’n dubbele, ironiese noodwendigheid (of gedoemdheid): die onvermydelike (her)skeppende omgaan met die bestaan en sy betekenisse én die nivellering daarvan. Oftewel: die verwering teen én deur die verganklikheid. Vergelyk:

in die oord van word

dra ‘woord’ immers beide

die demensie van ‘droom’

en die skadu van ‘moord’[.]

(“4.5.1.1”)

Die titel van die eerste genommerde afdeling, en die uitgebreide onderskrif daarby, is ’n sprekende voorbeeld van sodanige klank- en woordspel (en die betekenisspel wat daarmee gepaard gaan): “1. METAFORISMES / met meta-aforismes, is-mos, / asem, meisies, messe, / metafore, sêmafore en maaifoedies”.

’n Lewensdriftige skeppingskrag word beklemtoon, maar ook die noodwendige vergeefsheid daarvan; die nietweeledigheid van bestaan en vergaan. “Kom laat ons sing,” so weerklink die bekende frase uit een van wyle Adam Small se bekendste gedigte herhaaldelik in op weg na kû op – maar, relativerend, ook die ewe bekende “aanhougeraasmaak”, na aanleiding van een van Jan Rabie se surrealisties-absurde werke.

Hierdie lewe is maar “Die helle Seite des Todes” (die helder kant van die dood); daarom dat, in die lig hiervan, “[d]ie klipvis wat in Wakkerstroom swem se naam […] Jetztzeit” (“Noutyd”) is. Aldus twee van die oënskynlik teenstrydige ‘wyshede’ wat in dié afdeling opgeteken staan.

Ook die sosiopolitieke betrokkenheid en die erotiese inslag wat so kenmerkend van heelwat van Breytenbach se werk is, word in sommige van hierdie inleidende “metaforismes” aangekondig as temas wat deur die bundel vleg, onder meer as uitingsvorme van die genoemde lewens- en skeppingsdrif.

In afdeling 2. nagpsalms: WOKNAAKWYFWEESHEID (met die kopknik rigting Peter Blum) word die liefdeserotiek-motief juis reeds uitgelig – maar eerder as metafoor vir die digkuns se “naakwoord” (luidens die titel van gedig 2.4). Dié spulse, besete soort digkuns gee (weer en weer, al word dit uitgewys as ’n vergeefs strewe) woordgestalte aan verhoudings soos dié tussen digter en leser, gedig en wêreld, bestaan en vergaan. Een en ander en saam, na-een en naat en soom is woorde wat as motiewe hiervan opduik. Nog prominenter is die liefdeserotiektema in die “volopmaan se woordoorloopsels” van afdeling 3. Dit bevat naamlik ’n reeks haikoeagtige tersines in speelse volkstaalstyl, en wat iets van N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk” in gedagte roep.

Afdeling vier is “die dood is ’n oordrywing” (’n klein reis)” getiteld. “[D]oodgaan” word as motief sentraal gestel – “[l]et wel: nie dood nie”, luidens gedig “4.2 Bring doodgaan ooit verlossing?” – maar terselfdertyd, getrou aan die nietweeledigheidsaard van die Zen-Boeddhistiese beleweniswyse, ook die viering van “Oupa Lewe”. Laasgenoemde geskied by wyse van verkennings van die bewussyn en die geheue, van droom en verbeel, en van poësieskepping. ’n Roerende gedig soos “4.2.5 wakkerword is ’n gebed” het ’n opvallend religieuse toonaard:

dankie vir die geleentheid

nou dit nog vroeg in die dag is

om asem te mag haal,

dankie om te belewe

[…]

dankie om die geleidelike dynserigheid

van vergaan mee te maak

[…]

dankie vir hierdie lyf as ervaring

se organe en ledemate die sintuie

nou swaar en byna verby

[…]

[…] dankie

vir wat deurgaan as verstand,

meer versand maar met die wete

van maan om verdonkering te laat taan

[…].

Afdeling vyf, Interlude, bied hierna ’n beskoulike verposing, naamlik (weereens) aangaande die (soms eroties getinte) “tussen-spel”, “die saam-een” wees (gedig 5.1), van digter en leser. Hierteenoor oorheers beweging, reis, verandering, (ver)wording – en die taal/digkuns, die “metafeer” van sodanige vaart (gedig 6.12.1) – as tematiese kompleks in afdeling ses (titel: téénwoord/maanwater/skryfvleis). “[O]ns is die inheemse veranderaars  vertaal in die eerste en laaste mense  se inkleurtaal,” maan die digter naamlik sy (Afrikaanse) leser in gedig 6.3.1, met “enjambemente/oorgang/oorkant” as sprekende titel.

Aangrypend is die klag wat Breytenbach aangaande Afrikaans se bedreigde status aanhef in gedig 6.9. So luit die eerste strofe:

wanneer jy die moedertong

in my mond laat verdor

neem jy die wêreld weg

verduister jy my geheue

maak jy dat ek as vreemdeling

en sonder ’n eie paar skoene

die toekoms moet ondergaan

wat ek nie meer fatsoeneer nie

nog net interpreteer

nie betree nie[.]

Die (gewaande) aard en funksie(s) van die digkuns – “daaigoed vir ’n eenbeen-dans”, luidens ’n subtitel) – kom in die kalklig in afdeling  7. HANDSANGE. Meer spesifiek word die digkuns as vergestalting van bewussyn en derhalwe van gemeenskapskepping onder woorde gebring. (Nie verniet dat die erotiektoespelings weer hier opduik nie.) Kort daarop word gemeenskapskepping as moontlikheid egter in die wind geslaan:

jy soek gemeenskap?

probeer jou ’n samelewing verbeel?

dit sal in asemmerking geneem

die nodige aanddag geniet

om van die hand gewys te word[.]

(“7.1 vir die skryfmaat: Ene Nee-Een”)

Op gepaste wyse word ’n kanonieke digvorm soos die sonnet hier ingespan – in ’n reeks gedigte waarin die tradisionele kenmerke daarvan al hoe meer sóék raak.

“[O]m die maan in ’n net van son te probeer vang” – so lui die (self)spottende titel van een van hulle (gedig 7.4). Dis soos om “te wil sing in Berg Kû se voëltaal,” verklap ’n ander (“7.3 die sonnet as aankomeling”).

Die gesprek oor digwerk en die digter-leser-gemeenskapverhouding word weergegee in onder andere twee uitgebreide monoloë: die (nou al in Breyten se oeuvre te verwagte) eie verjaarsdaggedig “7.12 weer en verweer: maanpoen vir die 16de September 2016: monoloog vir twee monde” (’n gesprek met ’n “sy” word oorvertel); en “7.13 (m)aanwesig: die saamnaat ’n landelike berig”, gerig aan “Johnny Blom” (“Jan Blom” synde een van die skrywersname wat Breytenbach voorheen in sy werk benut het).

Ingesluit is voorts ’n aanmoedigingsvers vir mededigters (“7.10.1 omswerwing”), en een (die reeds vermelde “7.1 vir die skryfmaat: Ene Nee-Een”) gerig aan “liewe hand”, die digter se skryfhand – en wat, soos die titel aandui, die naam gegee word wat ons tot dusver in die bundel leer ken het as toegesê aan die leser.

Laasgenoemde is wéér die gespreksgenoot in die voorlaaste bundelafdeling: 8. ’n Handboek Skryfnotas vir Leser as Saamnaatmaakmaat. Die bepeinsinge hierin, “[s]onder kop of stert of deurlopendheid” soos een van die afdelingmotto’s dit wil hê, kry beslag in sowel prosa- as poësie-agtige teksvorme.

[J]y sê die gedig is die waan

van saameenweesbestaan?

die raam waarbinne ons staan

om te vergaan en soek na asem

sodat jy wat ek is

namens skrywer leser

ook mag salaam

om die ruim te aanbid

en aanhou beweeg om stil te word?

droom dan maar jou leë droom

kom laat ons sing,

lui dit aan die slot van gedig 8.13. Vorm bly/word leegte; leegte bly/word vorm.

Des te dringender word dié besef in die aangesig van die einder (titel van die negende en slotafdeling), hier waar Breytenbach hom op die drumpel van sy negende lewensdekade bevind (hy word in September tagtig). Nege is simbolies ’n voltooiingsgetal, die getal van die kroonblare van die lotusplant se blom – so het ons al geleer uit ’n Breytenbachbundel soos Lotus (1970). “Leser, jy moet maar maak of ek nie daar is nie sodat ek ’n wyle nog mag maak vir waar,” skerts hy (ietwat weeïg) in die onderskrif by hierdie afdelingtitel.

Die luimigheid én die weeïgheid oor die betreding van hierdie uiterste limiet weerklink ook op ander plekke in hierdie afdeling.

Die sterflikheidsgegewe het, soos Viljoen in sy Breytenbachprofiel aantoon, uit die staanspoor ’n sentrale plek in die digter se oeuvre beklee. Dwingender as in op weg na kû het dit egter nog nie gefigureer nie.

Steeds het dit ’n verhewigde kreatiwiteitsdrif as reaksie by die digter tot gevolg. Alles word tot digkuns verwerk en omgewerk. Selfs motto’s word as digwerk aangebied, en waarin eie en ander se woorde moeilik ontwarbaar raak. Dieselfde geld die NOTAS wat agterin die bundel aangebied word, soms ter verklaring van aspekte van die gedigte waarvan hulle die nommers dra, maar heel dikwels as voortdigtings op daardie gedigte. ’n Web van aangehaalde en eggo-ende tekste, ook van eie skepping, en in meerdere tale, strek deur die bundel. Voeg hierby die vervaging van literêre genregrense, asook die deurspekking van die bundel met visuele kunswerke. Dis die héle Breyten Breytenbach, pseudonieme en al, foto’s van homself en sy vriende/geliefdes en al, woord- en beeldende kunswerke en al, wat die leegte voor ons oë vol kom dans.

Dit geskied by wyse van ’n bundelstruktuur – soos eintlik die opset van sy hele oeuvre – wat as van transformerend-variërende, oftewel fugale aard bestempel kan word. (Hein Viljoen praat in sy profiel van Breytenbach van ’n “swerfjoernaalagtigheid’ in hierdie verband.) Een van die gedigte in die bundel (4.3.3) dra juis “fuga” as titel. ’n Ander (7.8.3) heet “cantus firmus” – ’n term wat dui op ’n musikale struktuur waarin ’n bepaalde melodie as basis dien vir ’n polifoniese komposisie. Die sterflikheidsgegewe is die “cantus firmus” van hierdie bundel; die digkuns die polifoniese uit- én kontrawerking daarvan. Soos dit teen die einde van gedig 4.3.3 lui:

[…] gee […] toe

dat die dood ’n herrangskikking

van veranderende en so verskuiwende

(verganende) danspatrone

gaan uitstippel tot in die verskiet[.]

Om ’n omvangryke, diepsinnige digwerk soos hierdie bundel onder oë te neem, is geen geringe onderneming nie. Ek het in hierdie resensie maar net hier en daar kon krap in die vrugbare grond daarvan.

Tog voel ek reeds ryklik beloon deur my poging. Aangevuur om steeds nuut te word teen die niet in; om op “die lang sterwensgang na Kû, die koebaai” soos die groot Duitse skrywer Goethe te bly vra na “Mehr Licht!”, en te bly “negeergenereer (aanhalings uit gedig 8.3).

Watter belewenis is hierdie bruisende sterflikheidsbundel nie.

Resensie: Donkerwerk (Nini Bennett)

Wednesday, April 3rd, 2019

Resensie: Donkerwerk (Nini Bennett)

Donkerwerk deur Nini Bennett. Naledi, 2019.

Resensent: Dewald Koen

Donkerwerk is konkelwerk. So lui die Afrikaanse idioom. Alhoewel laasgenoemde ’n negatiewe konnotasie aktiveer, verwys die titel van Nini Bennett se derde bundel Donkerwerk eerder na ’n sentrale konsep van die psigoanalis Carl Gustav Jung wat as motto in die bundel verskyn: “One does not become enlightened by imagining figures of light, but by making the darkness conscious… who looks outside, dreams: who looks inside, awakes.” Die kontras tussen lig en donker op letterlike sowel as figuurlike vlak resoneer sterk in dié bundel.

Bennett het haar skrywersloopbaan as kortverhaalskrywer afgeskop. In 2002 debuteer sy met die kortverhaalbundel Stoornis wat in 2003 met die UJ-debuutprys (voorheen die RAU Mardene Marais-prys) bekroon word. Naas jeugverhale skryf sy ook gedigte met Kodeks (2011) en Boekstaaf (2015) wat by Cordis Trust-Publikasies verskyn het.

Met eerste oogopslag is Liekie Fouché se kunswerk op Donkerwerk se voorblad opvallend aangesien dit met die kunswerk op Bennett se vorige bundel in gesprek tree. Soos met Boekstaaf bevat Fouché se kunswerk getiteld “Obsession” raakpunte met die Belgiese Surrealis René Magritte se kunswerke. Weer eens verskyn die manlike figuur met die hardebolkeil wat aan Caspar David Friedrich se “Der Wanderer über dem Nebelmeer” (1881) herinner op die voorblad. Op Donkerwerk se voorblad betrag die manlike figuur die leser/kyker deur middel van ’n verkyker in kontras met die voorblad van Boekstaaf waar die manlike figuur sy rug op die leser/kyker keer.

Beide Kodeks en Boekstaaf is met gemengde reaksie deur resensente ontvang. Dit is egter verblydend om te sien dat Bennett kritici se taksering van haar vorige bundels ter harte geneem het aangesien Donkerwerk duidelik tekens van digterlike groei en ontwikkeling toon.

Van die mees geslaagde gedigte kom reeds in die eerste van vyf afdelings voor. Verganklikheid, verlies, die verhouding tussen mens en natuur asook liefde, familie en geskiedenis is maar van die temas wat in die bundel aan bod kom. Die titel figureer in twee gedigte naamlik die programgedig “Genus” asook “Donkerwerk”. In “Genus” lewer Bennett kommentaar op die verganklikheid van die mens.

Ons is die geveerde begeerte

van swaartekrag; swerfklip

se sleur in vallei

van verlatenheid. Ons leef,

die stamlyn van sterre

weinig meer

as organismes wat in die kelders

van ou vulkane voed. Ons dring

dieper as die oseaan se mantels

deur die sonlig- en skemer-

en digter as die middernagstreke vóór

die abissale vlaktes

die donkerwerk

van Hades binnegaan, Ons is

stofnaam; weinig meer.

In die gedig “Vir Sheila” (wat verwys na die digter Sheila Cussons) verwoord Bennett op genuanseerde wyse dié bekende digter se fisieke weerloosheid teenoor die menslike verganklikheid. In “Skaal” en “Nag” skryf die digter oor die dood van haar moeder. “Nag” is ’n roerende ode aan die sterwensproses en bied die leser ’n blik op die intieme ruimte van die dodekamer.

Waak oor haar, motte, klein ikarusse

van die nag; sy slaap langs

’n oorvol bedkassie, intiem soos handbagasie

vir die stil vlug; waak oor die Yorkie,

wakend in haar nek en groter as die hele lewe;

waak, bedlamp, waak langlewegloeidraad

knipperend teen die besies bonsend na die smeltkroes lig.

ouer word sy, en swaarder die kassie met die geraamde gesigte,

medisyne, radio, snuisterye; en soms prewel

omroeperstemme – eensaamheid se huisvriende –

vir ure aaneen. O gode, uitkykpunte van sterre:

Daar slaap saadhuisies in die lentegrond.

Waak oor my ma, my allereerste uur.

Die natuur en landskap figureer veral sterk in “Binsbergen se landskap”, “Weer”, “Wolke”, “Storm” en “Gebed”. Bennett slaag daarin om sterk beelde te skep met versreëls soos “die knettervuur van hael op dakke” en “wek blomme op uit rotse”. Die versreël “want die voëls skinder losbek” in die gedig “Storm” verleen ’n ligter noot aan die meer donkere temas in die bundel.

Die gedig “Imago” verken die konsep van figuurlike lig versus duisternis.

Soms herken ek iets van hom

die stiplees van ’n blinde,

’n beeldhouer van lig.

Die grein van leivoortjies

in blare,

die mandalas

wat in sneeuvlokkies

sluimer.

Die skepper skuil

in sy eie lig.

Bennett betrek ook ’n aantal Bybelse intertekste in gedigte soos “Midsomerfees”, “L’evoi” en “Die Taube”. In “Midsomerfees” kom 1 Korinthiërs 13 aan bod:

Al verstaan ek die tale van diere,

en al vind ek verborge skatte;

ja, al skik ek oor sterfkennis, maar het nie

die liefde nie, dan is ek niks.

Donkerwerk as geheel is meer geslaagd as sy voorgangers. Dit blyk duidelik dat Bennett haar digterstem meer beheersd laat geld. Alhoewel die wetenskaplike terme wat in ’n groot aantal gedigte voorkom (hou maar ’n woordeboek byderhand) vir die meeste lesers ontoeganklik sal wees, is daar ’n hele paar geslaagde beelde in die gedigte. Aanvanklik mag die bundel met die eerste lees strak en afstandig voorkom, maar mettertyd het die gedigte tot dié leser deurgedring en vind die leser waardering vir die unieke wyse waarop Bennett temas soos verlies en verganklikheid verwoord.

Met haar digterlike verkyker verken Bennett daardie duister gebied wat vir die meeste mense nog blote donkerwerk is – ’n spreekwoordelike gekonkel in dit wat die mens nie kan sien of begryp nie. Soos Bennett in “Verslag van ’n studeerkamer” tereg skryf:

Die lewe is ’n wisselspel

tussen koolstof en as.

Resensie: grondwater (Marlise Joubert)

Sunday, March 3rd, 2019

Resensie: grondwater – Marlise Joubert (Protea Boekhuis, 2019)

Resensent: Marlies Taljard

 

en wat anders is ‘n gedig

as om syferwater klankryk te vind

‘n spoor van bestaan agter te laat

vir die gewaande leser

(Uit: “so is die dood”, p.54)

Hierdie strofe uit Marlise Joubert se bundel “grondwater” verskaf ‘n interpretasiesleutel tot die ontsluiting van die bundel –  ‘n bundel waarin belangrike elemente van ‘n ryklik geleefde lewe ontgin word. Herinneringe, afskeid, eindigheid en skrapse tekens van ‘n bestaan is die oorheersende temas wat aangesny word in dié formidabele bundel met sy sterk mineur-toonaard.

Oorkoepelend gesien is “grondwater” ‘n bundel met sterk kohesie- en koherensiekragte – ‘n onberispelik beplande en fyn afgewerkte teks. Dit is ‘n deurgekomponeerde bundel waarin verskeie belangrike simbole, motiewe en metafore deurgaans ‘n belangrike ordenende funksie vervul. Die sterk narratiewe onderbou van baie gedigte, asook die aansluiting van gedigte by mekaar (onder andere op narratiewe en metaforiese vlak) versterk die struktuur van die teks as geheel.

Die bundel bestaan uit 5 afdelings, naamlik “ruite in ‘n raam”, “al die woorde”, “syferwater”, “palm in die hand” en “villa palmeira”. Die eerste afdeling is ‘n belangrike afdeling, omdat dit ‘n kortbegrip van die belangrikste vormende episodes uit die sprekende ek se lewe bevat en omdat al die belangrike temas wat later met variasies aan bod sal kom, reeds hier verskyn. Die tweede afdeling bevat ars poëtica-gedigte. In Afdeling 3 besin die digter oor lewe en dood, en veral oor die stadige wegsyfering van die lewe. Afdeling 4 bevat in memoriam-gedigte vir die digter se oorlede moeder, terwyl die slotafdeling verskeie verse bevat wat aan familielede opgedra is, maar die laaste paar gedigte sluit weer by dié in die eerste afdeling aan.

Wat strukture van enkelgedigte betref, vertoon die bundel ‘n groot variasie waarin die digter haar poëtiese bedrewenheid tentoonstel. Sy hou meestal by redelik formele strukture, maar kry dit reg om ook in die gedigte met losser struktuur nie beheer oor die poëtiese aard van die gedig te verloor nie. Die gedig “bad things happen” (p.12-13) is byvoorbeeld ‘n prosagedig, waarin die metrum en die klankrykheid van die teks, asook die kriptiese aard van poësie behoue bly en waarin die digter steeds met die belangrike semantiese funksie van beelde, metafore en simbole rekening hou. Versvorme wat dikwels gebruik word, is die koeplet en die tersine. Die reeks “bootwoestyn” (wat verwys na Joubert se debuutbundel) bevat pragtige tersines met ‘n aba-rymskema:

die woestyn het ook sy waterlus

vlootblou bekken tussen gras

die oase gee geboorte aan ‘n vis

(Uit: “bootwoestyn”, p.25).

Meer komplekse vorme kom egter ewe dikwels voor. By onervare digters lei dié oënskynlike vryheid van struktuur dikwels tot ‘n slordige, onpoëtiese tipe vers, maar Joubert kry dit ook hier reg om selfbeheersing aan die dag te lê en om van ander bindende elemente – byvoorbeeld waar (eind)rym afwesig is – gebruik te maak.

Die buiteblad en die voorwerk van die boek is belangrike semiotiese merkers wat by interpretasie van die bundel as geheel én van enkelgedigte in gedagte gehou moet word. Die skildery van Elizabeth Miller-Vermeulen wat die boek as’t ware omvou, is een van water wat by ‘n berg afstort en afsyfer en waarop diep krapmerke met ‘n skerp voorwerp aangebring is. Die waterskildery resoneer met die titel, “grondwater”, terwyl die krapmerke op die metaforiese vlak geïnterpreteer kan word as letsels wat op ‘n liggaam ingegrif is en wat die persoon as individu merk. Dit sou selfs, meer gewelddadig, as gletsermerke beskou kon word. Simbolies verteenwoordig dié merke natuurlik belangrike invloede op die gees wat die persoonlikheid gevorm het en waarvan in die bundel verslag gelewer word. Hierdie interpretasie word ondersteun deur die res van Joubert se oeuvre waarin liggaamlikheid en introspeksie ‘n belangrike rol speel. Op die linkerkant van die titelbladsy is daar ‘n foto van (waarskynlik) die digter as kleuter en haar moeder met die byskrif: “in memoriam didi joubert [1922 – 2016] / vir my kleinkinders: xander, felix, jasper en lente”. Dit verklaar die twee laaste afdelings van die bundel waarin die genoemde familielede in gedigte of opdragte verteenwoordig word. Dit wys egter ook heen op die goue draad wat van die voorgeslagte deurloop deur die digter na haar kleinkinders – ‘n sterk motief wat in die bundel as geheel gestalte kry. Ook hierdie bewustheid van die naelstring as simbool van liggaamlike en geestelike verbondenheid kom dikwels in Joubert se vroeër werk voor.

Verder resoneer daar in die titel “grondwater” ook die titel van ‘n bekende bundel van Louis Esterhuizen met wie Joubert getroud is, naamlik “wat die water onthou”. Dit sou inderdaad ‘n interessante studie wees om ooreenkomste tussen dié twee bundels te ondersoek, want ook die motto van die eerste gedig in Joubert se Afdeling 3 kom uit dieselfde gedig waaruit Esterhuizen die motto vir sy bundel neem.

Die woord “grondwater” kom op twee belangrike plekke in die bundel voor, naamlik op pp. 16 en 100: “genealogiese grondwater”; “grondwater waaroor haar vel drapeer” – in beide gevalle word “grond” dus gebruik in die sin van ‘n fondament of basis, hetsy van herkoms of verwysend na die liggaam as sodanig. Die woord “water” kom by herhaling (soms selfs hinderlik) voor: “brakwater” (p. 10); “waterkloof” (p. 17); “waterdroom” (p. 37); “waterspieël” (p. 38); “syferwater” (p. 45), “watergrond” (p. 83), ens. Hieruit behoort dit ook duidelik te wees hoe ambivalent en ontglippend die (simboliese) betekenis van die titel is. “grondwater” kan myns insiens onder andere gelees word as een van die primordiale skeppingsbestanddele (soos dit ook in Genesis voorkom). Verwysings na geologie, genealogie, biologie, biografie en geskiedenis kom dikwels saam met water- en grondbeelde in gedigte voor, soos in die gedig “gasteplaas” (p. 22):

uit kraakdun koerante waai

die plaas se geskiedenis weg

nogtans pomp die boorgat

water in ‘n swembad

om gaste langer te laat bly

verby die wind verby die droë

stilte in die dam

In hierdie konteks is die boorgat-beeld besonder veelseggend as verwysing na die ondergrondse, die onbewuste, die onsienlike en die oorsprong – alles aspekte van herinnering wat die basis van die bundel vorm.

Die drie motto’s van die bundel verwys na drie belangrike temas wat in die bundel aan bod sal kom, naamlik water as spieël (die Narcissus-simbool en selfondersoek, selfs die Dharma-spieël waarin die gevolge van ons persoonlike keuses openbaar gemaak word); herkoms en die moeder as vrug- of ontstaans-“grond”; en verhoudings (veral binne die opset van die familie).

Binne die konteks van die bundel is die eerste afdeling, “ruite in ‘n raam”, besonder belangrik. Dit herinner aan ‘n outydse skyfievertoning waarin beelde wat in ‘n karton- of plastiekraam gemonteer is, deur middel van ‘n skyfieprojektor op ‘n oorhoofse skerm geprojekteer word. Dit bevat tipies beeldmateriaal wat vooraf vir ‘n bepaalde doel deur die aanbieder vir ‘n gehoor uitgesoek is en dikwels deur verklarende teks of kommentaar vergesel word. Die bundel “grondwater” het beslis die geaardheid van ‘n sorgvuldig beplande skyfievertoning. Ook die beeld van die ruite van ‘n venster wat sekere detail sigbaar maak en ander verhul, is hier van toepassing.

Raming is egter ook, sedert antieke tye, ‘n belangrike literêre tegniek en is nooit onskuldig nie. Die raam plaas die teks binne die ordenende beginsel waarvolgens die digter haar werk konstrueer. Juri Lotman beskou die plekke waar die leser die teks betree en verlaat, naamlik die begin en die einde van die teks, as sterk gemerkte plekke. Hy argumenteer dat in die begin van moderne (narratiewe) tekste dikwels die belangrikste kodes teenwoordig is wat in die verhaal ʼn rol speel, terwyl die einde dikwels ʼn mitologiserende funksie het, dus die funksie van interpretasie of uitleg. Lotman wys daarop dat in tekste met ʼn sterk begin, die teks dikwels nie soseer op die afloop van die handelingsverloop gerig is nie, maar op die begin afgestem is – die oorsprong, en nie die uiteinde nie, is dus in dergelike verhale belangrik.  Die behoefte om ‘n verskyning aan die hand van sy oorsprong te verklaar, is volgens Lotman nie slegs by antieke tekste teenwoordig nie, maar is ook ‘n tendens van baie moderne tekste. Dit is trouens een van die vernaamste kenmerke van outobiografiese tekste om te fokus op die verlede ten einde lig te werp op die hede. My mening is dat Joubert se bundel belangrike eienskappe van die outobiografie vertoon en dat (hoewel dit streng gesproke nie ‘n narratiewe teks is nie) Lotman se insigte beslis ook vir “grondwater” geld.

Daar is ‘n sterk argument voor uit te maak dat die titel van Afdeling een (“ruite in ‘n raam”) ewe goed sou kon funksioneer as subtitel van die bundel as geheel. Eerstens is die raam as metafoor (selfs simbool) dwarsdeur die bundel teenwoordig, byvoorbeeld in die gedig “inventaris van ‘n geraamde verloop” (p. 43); ook byvoorbeeld verwysings na fotorame op p. 77 en frases soos “elke jaar is naatloos / ingeruit in ‘n raam” (p. 26) en, in die gedig “uitskotvers”, waarin die moeder vergelyk word met die moederbord van ‘n rekenaar:

[…]

ek is van jou en jy

die moederbord waaruit ek kom

jou kop ‘n hardeskyf waarop

jou taal al hoe meer fragmenteer

 

watter vensters moet ek laai vir jou?

windows 10 of dalk ‘n ouer een?

helaas, jou geheue is gans te min

vir die groter raam se uitkykpos […]

Tweedens – kyk ‘n mens na die begin en die einde van die teks – is dit duidelik dat hier wel sprake is van ‘n kodifiserende begin en ‘n mitologiserende slot, om Lotman se terminologie te gebruik. Die drie begingedigte en die drie slotgedigte vorm naamlik ‘n duidelike raam vir die teks as geheel, deurdat die belangrikste kodes, metafore en simbole wat die filosofiese onderbou van die bundel vorm, pertinend daarin teenwoordig is. In die eerste gedig, “geboorte van ‘n wolvin” (p. 8-9), kom die tema van lewe en dood as onlosmaaklike aspekte van die menslike bestaan voor, sowel as droefenis, ‘n motief wat ook deel is van die emosionele onderbou van die bundel. In die tweede gedig, “die plek waar ek eens gewoon het” (p. 10) kom die watermotief die eerste keer voor, asook beelde van oorsprong/ argeologie/genealogie:

[…]

lank voor ek vertrek pak ek ook

‘n middernaggedig in, een met ‘n ander

wisselaar waar ek afdraai

na ruite staar verswelg deur oorblyfsels

van jeugjare om my eie sterkfontein

se kleinvoet met woelige falankse

te ontdek, iewers in ‘n kalksteengrot

op die plek waar ek

eens gewoon het

Die derde gedig, “palmboom” (p. 11) beskryf die palmboom wat die spreker met haar plek van herkoms, Bela-Bela, assosieer. Dit is in die Egiptiese mitologie die heilige boom van ewige lewe, die boom langs die Nyl (bron van lewe), maar ook die boom van oases in woestyne. (Ook Bela-bela is langs die Nylrivier geleë!) Daarom is dit nie vreemd dat dié boom in hierdie gedig in kombinasie met die water-beeld voorkom nie. Herkoms is eweneens ‘n belangrike tema in dié gedig.

Hierdie drie gedigte dui dus reeds die koers aan van die bundel as sodanig deur metafore en simbole van lewe-en-dood, herkoms en herinnering, sowel as die toonaard van melancholie.

Die drie slotgedigte sluit as’t ware die raam van die verhaal-in-die-kleine, deurdat dit ‘n sikliese einde vorm waarin die ordenende kodes/simbole/metafore wat in die aanvang van die bundel geaktiveer is, weer sterk na vore tree. Die derdelaaste gedig, “jeughuis, mentzlaan 4” (p.102-103), sluit aan by die tweede gedig in die bundel: “ek sien die palmboom net regs / van die gaasstoep by die mentzlaanhuis” (p. 10). Ook die palmboom met sy dadels en die windpomp is simbole wat in die openingsgedigte (en dwarsdeur die bundel) voorkom. Die voorlaaste gedig, “agterstoep” (p. 104), sluit tematies hierby aan. Die laaste gedig, “villa palmeira, bela-bela” (p. 105) sluit aan by die derde gedig (“palmboom”, p. 11), maar verruim dié beeld tot ‘n metafoor van onthou en herinnering. Dit is ‘n besonder sterk slotgedig waarin die bundelaanvang “weerspieël” word. Die sikliese slot is een van die mees bevredigende stukture wat vir alle kunsvorme geld en kom dikwels in outobiografiese werk voor. Dit impliseer, volgens van Coller, dat ʼn ontwikkelingsgang hom voltrek het en, aldus Johl, dat daar ʼn “intensivering van die oersituasie” plaasgevind het. Mitologisering vind plaas deurdat die gegewe nou vanuit ʼn meer verruimde (selfs universele) perspektief belig word. Die slotgedigte bevat ‘n soort konsentraat van die bundel as geheel, terwyl dit beslis ook waar is dat sekere universele wetmatighede daarin uitgedruk word om sodoende ʼn spirituele (mitologiserende) dimensie aan die slot te verleen. Die sterk aanvang en einde en die streng gestruktureerdheid van die bundel is heeltemal buite verhouding tot die chaotiese “ware lewe” waar ons in medias res leef en plaas sterk klem op die intensionele vormgewing (dus raming) van die poëtiese en narratiewe materiaal. Ek haal graag die slotgedig as geheel aan:

villa palmeira, bela-bela

 

by die gastehuis skaar

’n woud palmbome

 

op die lapa se houtdek

mik lense na bo, korrel fyn

tussen pouveerblare in

 

daar is ’n veelheid palmfoto’s

te neem, oraloor: elke denkbare

tabberd se patroon

waaier oop

 

ek klik op een met elegante been

die sirkelrok staan wyd en einagroen

soos penne van ’n ystervark

waag dit net en jy word deurboor

selfs die dadels is te hoog

te trots en styf om

gemelk te word

 

buite die dorp

ruik ek weer karee en laventel

kiepersol en flambojant

 

langs ’n kleintydse waterplas

word my hand ’n blaarholte

en ek drink vir oulaas

uit die drupkrake

van ’n krans

Die semantiese reikwydte van die bundel word verhoog deur die kundige gebruik van simbole en metafore. Simbole en metafore representeer iets wat groter is as die beeld self en wat moet instaan vir woorde, idees, emosies of energieë. Die titel van Joubert se bundel bevat twee van die sterkste, mees antieke en argetipiese simbole, naamlik grond en water.

Grond verteenwoordig die aarde en die aardmoeder self. Dit is ‘n simbool van die vroulike argetipe, omdat dit geassosieer word met lewegewende kwaliteite, oorsprong, vrugbaarheid, groei, moederskap, liggaamlikheid en kreatiwiteit. Dit is die wieg van die mensdom, die mens se woning of huis, sy tuiste (sien p.10). Net soos water, is dit ook een van die elementêre bestanddele waaruit die Grieke geglo het dat alles wat geskape is, bestaan.

Water is eweneens ‘n simbool van die vroulike argetipe omdat dit lewe verteenwoordig. Dit kan verbind word met geboorte (die primordiale vrugwater), vrugbaarheid en suiwerheid (maagdelikheid). Water is die element wat dikwels in skeppingsmites voorkom, die element waaruit alle lewe ontstaan en wat verwant is aan bloed. Die antieke Grieke het die veranderlikheid van water (van vloeistof na vaste stof na gas) ingesien – dus die element van metamorfose. Die Taoisme beskou water as ‘n aspek van wysheid omdat dit die pad van die minste weerstand volg. Dit is eweneens so dat die geheime van die diepste waters selfs tot op hede nog nie verken is nie. Hierdie geheimsinnige aspek van water (as beeld van die persoonlike onbewuste en selfs die kollektiewe onbewuste) word geïmpliseer in die titel “grondwater” wat ook boorgatwater ( sien bv. pp. 20 en 22) en fonteinwater (pp. 45, 54, 105) is. ‘n Belangrike reël in dié verband kom voor in die gedig “rietbos” (p. 20): “ek hang in boorgatwater”. In hierdie betekenisonderskeiding kan water in verband gebring word met die onbewuste wat deur middel van herinnering bewus gemaak word. Hier is die windpomp, wat in verskeie gedigte opduik, die metafoor van herinnering, die fasiliteerder van die geheue wat die water van die onbewuste na die oppervlak bring. Water kom in baie gedaantes in gedigte voor, onder andere as “brakwater” (p. 10); “oog” (p. 11); “waterdroom” (p. 37); “waterspieël” (p. 38); “syferwater” (p. 45); en “watergrond” (p. 83).

Ook twee ander basiese elemente – vuur en wind – kom in die bundel voor: “wie, o, wie stook die vuur se vaart / en waar kom die kole vandaan?” (Uit: “stroomgedig”, p.34). As is ‘n beeld wat met vuur verband hou en wat selfs meer dikwels voorkom, byvoorbeeld in ‘n gedig wat handel oor die digter se afgestorwe moeder met sy verwysing na “die krematorium se vlammesee” en die stelling “haar keel sonder vuur haar lewe / is die stilte van as” (uit: “ek verbeel my”, p. 85-86).

Belangrike temas wat in die bundel voorkom, is die familie, verganklikheid, die skryfproses, herinneringe en intertekstualiteit (bv. met Breyten Breytenbach, pp. 9 en 41; D.J. Opperman, pp. 25 en 81; Louis Esterhuizen, p. 46; T.T. Cloete, p. 55; Elisabeth Eybers, p. 67; en Hennie Aucamp, p. 55. Intratekstuele verwysings na die digter se eie werk kom ook by herhaling voor, pp. 25, 43, 101, e.a.)

Verse oor familie staan dikwels in die teken van die dood, soos dié oor die digter se oom (“ons is dansende vertrouelinge, tartend teen die dood”, p. 14), haar niggie (“die vallei verslik sonder bloedverwant”, p. 16), haar skoonmoeder (“die biografie van ʼn landskap het afgebrand”, p. 18) en haar moeder. Aan die moeder word ʼn hele bundelafdling met 15 gedigte gewy. Belangrike beelde en kodes wat in dié afdeling voorkom, is byvoorbeeld die bekken:

as jy eendag dan móét gaan

sal ek aanhou staar na x-strale

van jou bekken so leeg en so yl

gekaart soos ʼn afgedeelde staat

(Uit: “bekken”, p. 67)

Ook die raam is ʼn belangrike motief in dié afdeling (bv. pp. 70 en 77); vuur en as kom in verskeie gedigte oor die moeder voor (bv. pp. 79 en 86), asook verwysings na liggaamlikheid (“tussen jou heupe dié vakuum / waarin ek lank gelede was”, p. 67) en liggaamlike en geestelike verval (“wie is sy nou, hierdie vreemde ma / met slegs die oorskietlap van geheue?”, p. 68). Een van die mooiste beelde in die bundel haal ek hier ter illustrasie aan:

ek veg verbete teen die kil

verwoesting deur jou lyf.

jou wange bly deurskynend

soos appelliefiedop, jou oë vaal

en dun soos gort.

(Uit: “versorging”, p. 72)

Soos te verwagte, is hierdie afdeling deurtrek met herinneringe en meditasies oor herkoms, identiteit, geboorte, lewe en dood: “die grond bly dors, die son ʼn vuurbees” (uit: “serp”, p. 81).

In aansluiting by ʼn lang digtradisie, kom daar ook in hierdie bundel verskeie ars poëtica-gedigte voor – trouens, ʼn hele afdeling (Afdeling 2, “al die woorde”). Ek moet onmiddellik byvoeg dat hierdie van die sterkste en mees oorspronklike metatekstuele gedigte is wat die afgelope tyd in Afrikaans verskyn het. Soos ek hierbo betoog het, is water in hierdie bundel veral die simbool van geboorte, skepping en lewe en is dit derhalwe nie verbasend dat dié simbool by herhaling in die ars poëtica-afdeling voorkom in kombinasie met of as uitbreiding op die dighandeling nie. Ook die raam kom dikwels in hierdie afdeling voor as heenwysing na die digpraktyk wat spesifieke gebeure of temas uit die “chaotiese lewe” afsonder en dit in nuwe verbande plaas of vanuit ʼn enger raamwerk daarop infokus. ʼn Interessante gedig is “sewe sondes, plus nog een” (p. 31). Dié gedig is ikonies van die digproses deurdat dit konkreet illustreer hoe die digter te werk gaan: Ongeveer nege tiendes van die gedig is doodgetrek en net die essensie het in kursief behoue gebly. Dié essensie lui:

om nog ʼn sonde by te voeg:

die begeerte

[…]

om ʼn gedig te skryf

[…]

… met die alfabet

se koord van verknoopte melodieë

[…]

om die dood as foutlyn uit te wys

[…]

… om die woord

in vertakte papier, asof trefseker

aanhoudend prys te gee –

In die eerste instansie illustreer die uitgekrapte dele van die gedig natuurlik dié prysgawe van die woord. In die tweede plek spreek dié dele egter ook des te sterker saam, en suggereer alternatiewe leesmoontlikhede en betekenisse, byvoorbeeld die gedeelte

om ʼn gedig te skryf, is die begeerte na

narsisme, en die leser met emosie te lei

die begeerte na selfdood met die alfabet

se verknoopte melodieë[.]

In die derde plek illustreer so ʼn gedig die gedurige proses van seleksie en kombinasie (wat kom in? wat moet uit?) wat deel van alle kreatiewe prosesse is. So ʼn gedig illustreer dus die wyse waarop die digter intensioneel betekenis skep – die raam wat doelbewus sekere (betekenismatige) aspekte insluit en ander doelbewus uitsluit.

Dit is in die aard van die resensie om oppervlakkig en sketsmatig enkele kenmerke en temas van ʼn nuwe bundel te verken – dit is die aard van akademiese navorsing om sodanige werke dieper te bestudeer. Marlise Joubert se oeuvre is na hierdie bundel redelik volledig – “grondwater” het inderdaad die geaardheid van ʼn afsluiting – en daarom dink ek dat daar nou ʼn grondige studie van die oeuvre as geheel (of dan tot op datum) onderneem behoort te word. Joubert is inderdaad een van die beduidendste Afrikaanse digters, veral as vrou wat eerlik skryf en sonder om hinderlik politiek en teoreties (feministies) korrek te probeer wees.

Ek sluit die resensie van hierdie uiters verdienstelike bundel af met ʼn gedig oor ʼn gedig (pp. 32-33):

gedig

 

as jy ’n gedig lees

moet jy ’n hoed opsit

sodat die son die woorde

nie doodbrand nie

 

as jy ’n gedig lees

moet jy agteroor leun

gemaklik in jou tuinstoel

gereed vir metafore

 

laat metrum en ritme stuk-stuk

in jou mond drup

totdat jy opeens

’n nuwe broeisel versin

 

wat in ’n oomblik

voor jou oë kom draal

een wat soos ’n naaldekoker

’n areola straal

 

en môre sal jy dalk ’n vlerk optel

van dié vlugtige fantoom

daarna onthou jy net die vreemde niet

waar iets eenmaal glip

 

en jare later terwyl jy mediteer of bid

of onder ’n boom gaan sit

sal ’n naaldekoker soos lint

verby jou spin

 

dán sal jy eers wis dis mos die gesig

in die niet van ’n gedig

wat jy eenmaal gelees het

toe jy nog ’n larwe was

Geraadpleegde bronne:

Johl, J.H. Raamvertelling. In: Cloete, T.T. 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM Literêr. pp. 414-416.

Lotman, Ju.M. 1981.   Die Struktur Literarischer Texte. München: Wilhelm Fink Verlag.

Van Coller, H.P. 2011. Die representasie van die verlede in verteenwoordigende Afrikaanse prosawerke: Voorstelle vir ’n tipologie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4):680–97.

Resensie: Tussen toeval en willekeur (Kobus Lombard)

Tuesday, January 29th, 2019

Tussen toeval en willekeur deur Kobus Lombard. (Naledi, 2018, ISBN: 978-1-928426-34-9, Formaat: Sagteband, 63p.)

Resensent: Amanda Lourens

Tussen toeval en willekeur, die digter Kobus Lombard se vyfde digbundel, is nóg ‘n keurig versorgde publikasie van Naledi, wat duidelik ál sterker na vore tree as ’n rolspeler om mee rekening te hou in die Afrikaanse poësiesisteem.

Lombard het homself sedert sy debuut in 2003 gevestig as ‘n digter van klein verse waarin besondere momente dikwels fyn geregistreer word, en Hambidge (2015) beskryf sy vierde bundel, Skadu oor die  sonwyser (2015), as “’n delikate klein bundel; ’n optekening van ’n lewe en landskap, sober beskryf.” Oor  hierdie bundel skryf Smith (2015) dat dit “stil poësie” is (wat sy nie noodwendig as negatief beskou nie), maar sy waarsku dat Lombard se oeuvre die gevaar loop om eerstens in eenselwigheid, maar uiteindelik vergetelheid te verval.  Taljard (2015) vergelyk Lombard se digkuns met die kuns van bonsai, gekenmerk deur die klein maar fyn gekonstrueerde opset daarvan. Tog waarsku sy ook in haar resensie teen ’n eenselwigheid, wat sy veral vind in die byna deurgaanse digtersprocédé van ’n soort Shakespeariaanse sonnet – waar die slot van die gedigte telkens die verdieping of insig bring.

Dit is dan teen hierdie agtergrond dat ’n mens die nuwe bundel in die hand neem. Die afbeelding van die Namibiese duinelandskap op die voorplat suggereer die belangrike rol wat die Namibiese wêreld (soos in die vorige bundels) gaan inneem, terwyl die opvallende spel van lig en skadu die leser laat wonder wat die moontlike verband met die twee skynbare pole in die titel is.  ’n Aanduiding word gevind in die derde gedig in die bundel met die titel “Toeval en willekeur”, waarin die digter oor sy eie digproses skryf:

ek het ’n nuwe skryfplek

’n kantgordyn met vars patrone

die greine op my tafel

loop om ’n ander kwas

op die wit ringmuur

blom bougainviileas

dieper pers

.

tog rangskik ek steeds

woorde en spasies

met toeval en willekeur

binne die perke

van waarskynlikheid

Wat hieruit af te lei is, is dat die digter homself beskou as ’n skeppende instansie – moontlik nie sonder ’n toespeling op die Goddelike nie – wie se instrumente taal, maar ook sy teenhanger, stilte, is (en dus lig en donker eggo); wie se aktiwiteite op beurtelings toeval en willekeur berus, maar steeds – soos die heelal – deur die wette van waarskynlikheid beheers en aan bande gelê word. Die klem in die bundel, volgens hierdie interpretasie, sal dan waarskynlik wees op die digter se toevallige én willekeurige handelinge ten einde te skep, maar ook op al die ontelbare kombinasiemoontlikhede tussen die twee uiterstes. Terselfdertyd kan die leser verwag dat die digter sal skryf oor die resultate van ’n Goddelike skeppingsaksie (want wél blyk die digter om gelowig te wees, soos onder meer die slim bedinkte “Skepper” [ p.22] laat deurskemer) wat deur dieselfde twee impulse gedryf word, maar steeds ook die wette van waarskynlikheid gehoorsaam.

Die digterlike skeppingsproses waarvan daar in “Turbulensie” (p.7) sprake is, verwys die leser dadelik terug na Opperman se siening van kunsskepping as bevrydingsproses (“Engel uit die klip”), maar dit is tog ’n gedig wat nie oor die nodige innerlike binding beskik om hierdie gedagte op ’n oortuigende wyse aan die leser voor te hou nie.  Ook bly die verband met die titel onduidelik.

Die verkenning van die lewe rondom hom speel veral ’n prominente rol in die eerste afdeling van die bundel, waar die digter optree as waarnemer en optekenaar (’n welbekende en al deeglik ontginde tema in die Afrikaanse literatuur, soos veral deur Opperman ondersoek). “Onsienlike gode” (p.5) se laaste drie reëls lui:

[…]

Ná middernag staan ’n digter op,

Neem stelling in met pen en papier,

Om rekenskap te gee.

In die gestroopte, netjies afgewerkte “Woordkapper”(p.9) word die digterlike ambag met dié van houtkapper vergelyk, maar die slot , tipies van Lombard, bring die volgende angel-in-die-stert-gedagte:

Geen kern laat hom ontbloot

sonder splinters wat dreig

om die oog te verblind.

In die tweede afdeling bemoei die digter hom veral  met die religieuse, en slaag veral daarin om sy eie Namibiese omgewing met die Bybelse, maar ook met elemente uit die Westerse geloofstradisie te verbind.  Lombard lewer blyke van ’n geskakeerde nadenke oor die Goddelike, en belangrike religieuse vrae (en selfs kritiek) word uitgespreek in gedigte soos “Goeie herder” (p.15), wat nie sonder ironie is nie, en ook in “God van Gobabis” (p.18) waarin die bonum en die malum van die groter skepper aangeteken word.   Ek haal graag laasgenoemde aan as voorbeeld van Lombard se gawe om helder, fyn bewerkte verse te skryf; hierdie gedig slaag dan ook met suksesvolle enjambemente daarin om te ontkom aan die slaggat van ’n té berekende slot:

ek ry na Gobabis

om te hoor of dieselfde God

van die toringkerke

– net  suid van Nikodemusberg –

nog sy hand oor die stofstrate hou

of Hy steeds bek-en-klouseer

saam met die droogte stuur

en ná die eerste reën

die hele dorp laat saamdrom

om te baljaar as hul verlosser

in die Swart-Nossob afkom

Die derde afdeling bevat baie geslaagde liefdesgedigte, soos “Vierkuns” (p.24) waarin die digter bewustelik na sy eie oeuvre verwys, en ook die bedrewe “Lied sonder woorde” (p.27) waarin die bedrieglike aard van die woordkuns aan die orde kom, en daar beding word vir “’n lied / sonder woorde” as die ware voertuig vir ’n eerlike liefdesbetuiging:

waak teen die lied

wat die liefde bloot wil lê

die woordbedrewe minnaar

kan jou lippe besing

sonder dat jy wis

wie agter die lier

van die wilger skuil

.

straks moet hy sy lied

sonder woorde sing

die stilte vertrou

om die klank

van liefde te dra

Die Afrika-landskap en -realiteit, soos veral gestel teenoor die Europese wêreld, is die saambindende draad in die vierdie afdeling, wat die leser natuurlik ook aan Blum se oorspronklike kartering van hierdie soms skreiende teenstelling herinner.  Afrika en Afrika-elemente word hier verbind aan die natuurlike, en word die draers van ’n eko-boodskap; terselfdertyd word daar kritiek gelewer teen Westerse ordesisteme – vergelyk byvoorbeeld “Ou lokasie” (p.34). ’n Hoogtepunt in hierdie afdeling is “Selfverwesentliking” (p.41) wat opgedra word aan Abraham Maslow, vader van die welbekende behoeftehiërargiemodel, en waarin die arrogante toeëiening van natuurervarings deur bevoorregte verwesterde mense gestel word teenoor die lot van diegene wie se ryk kultuur juis deur verwestering verwoes is.  In dieselfde trant kritiseer die gestroopte “Kennisbestuur” (p.40) die appropriasie van inheemse kennis deur  Westerse kennissisteme:

noukeurig vors hulle na

die gekondenseerde vog

waarvan toktokkies leefs

staan met togas later

gereed om sertifikate

met rooi seëls te ontvang

.

aan die droë loop

van de Kuiseb

oorleef die Topnaars

op die !Nara plant

met eeue oue

wysheid aan die voete

van die woestyn geleer

’n Gedig oor twee naas mekaar bestaande lewens, maar wat tog geskei word deur die afgrond van ’n sosio-ekonomiese realiteit, word aan die orde gestel in “Twee vroue” (p.42). Die digter bied geen oplossing aan vir die enorme kloof tussen twee lewenswyses nie, maar die leser word wel aan die hart geruk deur die uiters realistiese beskrywing van ‘n toneel wat hom daagliks in talle gegoede Suid-Afrikaanse huishoudings afspeel wanneer die huishulp aanmeld vir haar dagtaak, wat daarop gemik is om die eienaars se bevoorregte lewenstyl in stand te hou.  Die digter sou hier dalk kon oorweeg om die gedagte van toeval en willekeur aan hierdie gedig te skakel, of ten minste die leser met die vraag te laat oor die rol van hierdie twee faktore in die beskikking van die mens se plek in die samelewing.

Afdeling V bevat besinnende gedigte oor onder meer die universele aard van menswees (“Konstante veranderlike”, p.47), die ontglippende aard van die waarheid (“Waarheid”, p.45) en die fundamentele verskil tussen menswees en die nielewende dinge (“Duine”, p.50).  Laasgenoemde gedig is ’n voorbeeld van Lombard se vermoë tot fyn kontemplasie en die optekening van die kwintessensiële:

duine het nie agendas nie

dit kan nie laat kom

of vroeg vertrek

verkeerde besluite neem

en bekommerd wees nie

duine hoef nie voluit te leef

bang te wees vir die dood

of ’n vers te skryf

voor dit sy gedagtes ontglip nie

duine is tot die laaste sandkorrel

uitgesorteer

Die besinnende aard word voortgesit in die sesde afdeling, waarin die verganklikheidsbesef ook al hoe sterker na vore tree.  Die digter se wens om die groter skepping beter  te ken en ook te peil, word verwoord in ’n gedig soos “Bywoner” (p.62):

ek wou nog weet

hoe die berge ontstaan het

hoekom my kontinent

steeds wegdryf van Suid-Amerika

soveel voëls wat om my tjirp

en grasse wat teen my enkels skuur

se name ken ek nie

.

ek wou nog uitvind

hoe my hart weet om te klop

en my oë om te knip

hoekom God my liefhet

en my naels selfs na die dood

nog aanhou groei

Dit sterwensbesef (wat prominent in die laaste afdeling van die bundel is – vergelyk onder meer ook “Skaduwee”[p.61] en die slotgedig “Siklies”[p.63]) blyk duidelik in hierdie gedig, en waarskynlik probeer die digter kommunikeer dat hy enersyds opstandig is, maar andersyds tog berus in die feit van sterflikheid, en hom dus oorgee aan die menslike lot wat êrens tussen Goddelike willekeur en die hand van die toeval gesuspendeer is.  Dit is tog my beswaar dat hierdie soort spanning nie regtig in veel diepte ondersoek word nie, en dat die leser op kognitiewe vlak ietwat onbevredig gelaat word met ’n redelike yl aanbod wat betref besinning oor die moontlike aard van die verhouding tussen toeval en willekeur as die dryfvere in ’n skeppingsopset. Dis is juis dan wat ek wonder of die keuse van die bundeltitel nie dalk té ambisieus was nie – ‘n geval waar die digter nie heeltemal die dwarslat bykom wat deur die titel in die vooruitsig gestel word nie?

’n Baie verdienstelike gedig met die sterwensbesef as tema, is wel “Gawe van vergeet” (p.56), waarvan die bekoring juis geleë is in die viering van ’n moment, en sonder dat daar veel gewag  gemaak word van gedagtes aan die sterflikheid wat in alles skuil.  Alhoewel hy die gedig opdra aan Paul Ricoeur met dié se ondersoek van die komplekse verhouding tussen vergeet en onthou in Memory, History, Forgetting, kan die Afrikaanse leser hom/haar eintlik nie verhelp om die roos – en die ander skuilhouplekke van die ondergang – in “Winternag” te onthou nie:

as ek nie meer kan onthou nie

sal ek my steeds verwonder

dat rose naamloos blom

sonder die pyn

dat die rooiste roos

so seer na liefde ruik

.

as ek nie meer kan onthou nie

sal wintervuur se flikker

my steeds betower

sonder die vrees

dat hy al smeulend

ons albei se suurstof steel

Dit is moontlik so dat Lombard se digkuns nie van grootse opset is nie. In wese is dit steeds ’n digkuns van die klein gedig, maar nie noodwendig sonder diepgang nie. Dit is wel verse wat toeganklik is vir waarskynlik ’n breë gehoor, en wat deur alle woordsensitiewes waardeer kan word vanweë die besliste vakmanskap wat Lombard hier tentoonstel.

Die digter het volgens my in hierdie bundel wel daaraan geslaag om grootliks die gevaar van eenselwigheid te systap, en ‘n resensent soos Smith se waarskuwing dat Lombard se poësie nie werklik in gesprek tree met die bestaande literatuur nie, is klaarblyklik ter harte geneem. Die lees van die bundel is uiteindelik bevredigend, en laat, soos in die geval van vele volwasse digters se werk, ’n naklank van behae.

Bronne

Hambidge, J. 2015. Kobus Lombard – Skadu oor die sonwyser. Woorde wat weeg [Aanlyn]. Beskikbaar: http://joanhambidge.blogspot.com/2015/04/kobus-lombard-skadu-oor-die-sonwyser.html

Smith, S. 2015. Resensie: Skadu oor die sonwyser deur Kobus Lombard. LitNet [Aanlyn]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/resensie-skadu-oor-die-sonwyser-deur-kobus-lombard/

Taljard, M. 2015. Resensie: Skadu oor die sonwyser (Kobus Lombard) [Aanlyn]. Beskikbaar:  http://versindaba.co.za/2015/04/10/resensie-skadu-oor-die-sonwyser-kobus-lombard/