Resensies
Sunday, July 25th, 2010
oewerbestaan. Melt Myburgh. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-369-0. Prys: R140. 76 bladsye.
 oewerbestaan
Dis al amper ‘n dekade sedert ek van Melt Myburgh as digter te wete gekom het, naamlik deur ‘n bydrae van agt gedigte tot Nuwe stemme 2 (2001).
Intussen het dié oud-onderwyser (aan ‘n Engelse privaatskool in Grahamstad) bekendheid verwerf as redakteur van LitNet, ook via sy verslaglewering oor literêre gebeure in veral die Wes-Kaap op die einste webwerf. Onlangs is verneem dat hy by die Woordfees-span op Stellenbosch aangesluit het as mede-organiseerder van dié jaarlikse fees, asook van die jaarlikse Versindaba (tot verlede jaar georganiseer deur Louis Esterhuizen en Marlise Joubert).
Poësieliefhebbers se nuuskierigheid oor sy digterskap word nou bevredig met die verskyning van oewerbestaan, sy solodebuut.
Dis ‘n ietwat teruggetrokke, fyngevoelige maar tog beheersd-hartstogtelike persona wat na vore tree uit die bundel.
Die bundeltitelwoord wys nie slegs heen na Myburgh se grootwoordjare op Karos, ‘n besproeiingsboere-nedersetting naby Upington langs die Oranjerivier nie. (Hiervan verneem ons veral uit die gedigte van afdeling1 in die bundel.) Ook die eenkant-houding van die buitestandersfiguur, die betragtende bewonderaar van die driftige lewenstroom word hierdeur aangedui - van die stoepsitter wat “geduldig die agterplaas [fynkam] / vir leidrade wat dalk mag verklap / dat ‘n visioen op hande is” (eerste strofe van die titellose openingsgedig van die derde bundelafdeling).
Daar word méérmale op die stoep gesit in dié bundel, veral in die genoemde afdeling 3. En die bundelmotto (’n vertaling van ‘n ou Sjinese spreuk) lui:
as ‘n mens lank genoeg op een plek bly sit,
sal die hele wêreld mettertyd verby jou draai.
Vandaar - vanuit ‘n ietwat onttrokke posisie - is dit miskien makliker om ‘n (illusie van) deurskouing en beheer te handhaaf. Onbewaakte blootstelling aan die werklikheid, so word in die alleenstaande openingsgedig van die bundel gesuggereer (’n gedig wat, beeldveldspronge en al, myns insiens ook iets poësiebeskouliks kommunikeer), kan ontluisterend wees:
aankoms
daar is iets sexy in die manier
waarop die falcon sy flappe beur teen die wind
en met hidrouliese presisie neerstryk op warm teer
wanneer die kajuitdeur lig en treetjies sak
slaan die hitte bloedneus
die matador se hemp geruïneer[.]
As sensitiewe, gay persoon (soos ‘n mens al uit ‘n gedig soos “swem in die kanaal” uit die openingsafdeling kan aflei) moes die digter hom van jongs af ‘n buitestander gevoel het te midde van die veeleisende, nugtere en rigiede boerderybestaan in die woestynagtige gebied waar hy opgegroei het. Dis in die lig van só ‘n lewenservaring dat ‘n kort, titellose gedig soos die volgende veelseggend word:
sleepwaens met kafbale waterpas gepak
kruip in ‘n prosessie deur hekke wawyd oop
werkers wag in oorpakke, lusernhake in die hand,
gereed om die vrag by die koöperasie
se halfklaar piramide te voeg[.]
Sonder liefde vir daardie wêreld is die digter nie. Maar dan behels dit ‘n gekompliseerde, ironie-gelade deernis. Één gedig ter illustrasie:
terugblik
alles lyk so eenvoudig
deur die oë van ‘n kind
bekend aan my die flets gesig
van ‘n lyk uit die rivier gebring
my oog het gewoond geraak
aan trekvoëls in oranje kolomme lig
lokasievroue rek tussen takke
na nawels soet en pit en skurf
die herfs speel met windpompsterte
bedompig luier die aandwind in wingerdblare
hart-karos, besaai met motorwrakke
standplaas van omsingelde gedagtes
eendag kom ek permanent terug
om in ‘n kameeldoring se koelte te rus[.]
“[K]anale en onderpaaie” is nie verniet die titel van afdeling 1 nie.
Iets wat met die komplekse verhouding met daardie wêreld verband hou, is die tekening van die vaderfiguur in enkele boeiende gedigte. “[I]nfancio y muerte” in die eerste afdeling lyk plek-plek voorafskaduwend van “by my pa se dood” in die slotafdeling. Uit laasgenoemde blyk dat die vader selfmoord gepleeg het (”maneuvers vir dié klein slagveld sorgsaam beplan”). Die “ek” in die gedig stel hom die vader in die hemel voor, arbeidsaam “in die grootbaas se olyfboord”, wakend oor die geliefdes wat op die aarde agtergebly het. Diepe deernis, innig identifiserende medelye met die vader, blyk uit die onstellende slotreëls:
intussen hou ek die spieël angstig dop
vir lyne wat jóú lees as voorsaat[.]
Van vroeg af in die bundel word ‘n behoefte uitgespreek om te ontsnap aan so ‘n (eintlik bedreigende) werklikheid (kyk die treffende gedig “visioen van die kanaalape”); ‘n strewe om dit te transformeer of transendeer. ‘n Lokkende figuur, wat redelik gou assosieerbaar word met die Spaanse digter Federico Garcia Lorca (vergelyk die Spaanse woorde vega en sierra, en die aanspreking van “dierbare frederik” in “karos”), duik al in enkele gedigte van afdeling 1 op.
Lorca lyk, gemeet aan wat byvoorbeeld Uys Krige in sy inleiding tot Verse van Lorca oor hom skryf (in 1987 by Human & Rousseau gepubliseer), na die identifikasiefiguur wat die ingetoë subjek in oewerbestaan wens te wees. Lorca was ‘n “vulkaan van geesdrif en lewenskrag”, onweerstaan in sy sosiale aantreklikheid, veelvuldig begaafd - aldus Krige. Dat hy homoseksueel was, en oor “‘n diep tragiese sin vir die lewe” beskik het, vermeerder die identifikasiemoontlikhede.
Vandaar dat die tweede bundelafdeling “om federico” heet, met die volgende openingstrofe:
ontvlugting bring troos
só wou hy altans glo
daarom rol hy ‘n kaart van spanje oop[.]
Die dor jeugwêreld van Myburgh (en ander dele van Suid-Afrika) word in ‘n hele paar gedigte hier verheffend parallel gestel aan die Spaanse suide (of ander dele van Spanje). Ook die vader word, in ‘n roerende gedig, by wyse van spreke na dié ‘grootser’ wêrelddeel (Lorca se geboorteplek) verplaas:
nét hier
fuente vaqueros
hierso, pa, nét hier
deur die landerye in die vega
kan jy met die honde loop
en soos christus op ‘n hoë noot
jou hande hemelwaarts reik
terwyl hulle op agterpote
jou lyf probeer natrek
hiér, pa, is die ideale plek
waarheen jy hulle ook kan lei
en met ‘n gedempte knal verlos
van pyn opgedoen met hondebaklei
soos don federico garcía rodriques eens
kan jy jou vingers berekend
oor die toppe van suikerbeetlote sprei
(die diere aanbiddend aan jou skene)
en as hulle vermoeid vas wil steek
sal jy met ‘n laaste blyk van genade
‘n oomblik lank wag
en verwonderd in die rigting van die alhambra kyk[.]
Dis eers in hierdie sfeer dat die grootliks onderdrukte (homoëroties getinte) sensualiteit tot duideliker botviering kan kom:
duende
dié gedig sneuwel in my hand
ek mis jou ek verlang ek wil aan
jou raak seën my met jou lippe
bederf my met jou hande wys my
af stal my uit beroof my van alles
draai my om eet my op ek sal jou
koester seun van my welbehae[.]
Ander wyses van omvorming of oorstyging van die alledaagse geskied deur die deurskouende, openbarende en verwonderde kyk, soos met die titel van die derde afdeling, “gesigte”, vooropgestel. Indrukke, insigte, verbeeldingsvlugte en vergesigte (ook aangaande die self), maar ook bevooroordeelde sienings en pretensies (uiteraard gesatiriseerd) word gebied in gedigte wat meermale aantreklik en/of treffend is (”eisteddfod”, “privaat skool”, “voor elsa se stoep I”, “gedagtes van ‘n stoepsitter”, ensovoorts). Gedigte oor die virtuele wêreld van digitale speletjies (”playstation 2″) en films (”sissy spacek in ‘n kombuistoneel”), asook oor die mistieke wonderwêreld wat deur “miss helen” in die Uilhuis op Nieu-Bethesda geskep is (”‘n beeld raak los”, “www.owlhouse.co.za”), kom voor - maar ook verse waarin ontdek word dat “die wêreld sy wonders versteek onder klippers / wat vir ‘n oomblik lank onder skoensole blink” (”gedagtes van ‘n stoepsitter”).
Die “donker stroom” van verval en die dood (om vir ‘n oomblik ‘n beeld by Eugène Marais te leen) maak egter dat die lewe self eintlik ook ‘n soort “oewerbestaan” is. “[I]nkdood”, die slotafdeling, stel dié tematiek, en verwante motiewe soos verlies, versaaktheid en afskeid (en ook die digterlike ínskryf daartéén), aan bod.
‘n “[C]lose encounter” word deur die digter self beleef:
dagsê, mnr. myburgh
long time no see
jy het ietwat kleiner geraak
jou oë effens rooierig
jou ken ‘n aks skerper
jou mond stink na knoffel en dooie woorde
staan bietjie terug, so ja,
laat die warm damp opklaar
ek sien
daar’s ‘n love bite
op jou nek[.]
Een van die mooiste gedigte in die bundel staan ook hier - ‘n gedig wat herinner aan bekende Afrikaanse ‘liefdeswaak’-gedigte soos Breyten Breytenbach se “nagmaal” en “slaap klein beminde”, en Stephan Bouwer se “jy slaap nou”:
jy slaap nog, my skat
terwyl ek bloots op die rug van die highway ry.
onder my vingers vibreer
die klein spiertjies van jou lae rug.
in die baai trek die fregatte laer
fyn komeetstertjies waaier olierig agter hulle.
ons is beleër in ons liefde!
op die strandfront klap nigeriërs kleurvol hulle lappe uit,
(jy roer onrustig in jou slaap) ek wonder
op watter markplein is jou droom te koop.
werkgedagtes seil stroef saam met die eerste boeing in oor
die stad.
my hart hunker na die soet reuk van jou slaap.
die taxi’s se getoet sit vas in die beton
en sinjale bly die spoor leepoog byster.
jou sluimering kerf lieflike patrone onder die laken.
ou mense trap met sweetbande en honde
‘n verbete mars teen die dood wat in die oggendmis hang
iewers los ‘n hadida ‘n smeekroep[.]
Uit die liefs onderbeklemtonende, eerder suggestiewe as uitsêende hantering van byvoorbeeld die vader- en gay-motiewe blyk ‘n sekere huiwering tussen ver- en onthulling in oewerbestaan. Dit is hoofsaaklik ‘n wins vir die bundel, deurdat die gedigte meermale aan suggestiekrag wen en gevolglik, deur die sterker appél op lesersdeelname, oorstyging van die vertolkte indiwiduele belewenisse help bewerkstellig.
Aan die debietkant staan die gevaar van mistifikasie, waaraan Myburgh myns insiens nie heeltemal ontkom nie. Om sommige van die gedigte wat inspeel op die lewens en leefwêrelde van Lorca en Helen Martins te verstaan, verg byvoorbeeld nogal besondere agtergrondkennis. En wie is die “jy” en “ek” in “waarheen dra jou voete jou, my liefste”? Watter gebeurtenis en omstandighede moet ‘n mens jou voorstel wat tot die skuldgevoelens van die digter aanleiding gee in “beswering”? Waar bevind die skrywende ek hom in “grahamstad”? (Dit sou makliker gewees het om uit te maak indien “dié ou stadjie” as “daai ou stadjie” gestel was.)
Maar selfs al trek ‘n mens hiervoor punte af, slaag Myburgh die toets van die solodebuut oortuigend. [O]ewerbestaan getuig van volbloeddigterskap.
Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Saturday, June 26th, 2010
Vlerke vir my houteend. Deur Kobus Lombard. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-354-6. R130.
 Vlerke vir my houteend
Kobus Lombard se Geknipte naelstring uit 2001 was na my wete die heel eerste digdebuut wat deur Protea Boekhuis uitgegee is. Dit was in ‘n tyd toe uitgewers nie maklik sulke finansiële ‘waagstukke’ sou aangaan nie.
Vier jaar later kon Tussen wysvinger en duim egter by dieselfde uitgewer volg, nou ook Lombard se derde bundel.
Heelparty van die temas uit sy vorige werk is terug in Vlerke vir my houteend: die liefde vir die Namibiese natuur en landskappe, asook die (christelike) geloofsworstelinge en -belydenisse (beide in veral die eerste, maar deels ook in die derde bundelafdelings); die plattelandse mens se gevoelens van ontuisheid in die stad (in enkele gedigte in die derde bundelafdeling - minder dringend verwoord as in byvoorbeeld die digter se debuut); die (gemis aan ‘n vervullende) verhouding met die biologiese, “wegloop”-ma en die identiteitskwessies wat hiermee saamhang (die kort slotafdeling).
‘n Temakompleks in sy oeuvre wat aansienlik uitgebou word in hierdie derde bundel, is die poësie- en digterskapbeskoulike gedigte van afdeling II. (In die debuutbundel het die slotgedig en in Tussen wysvinger en duim die slotafdeling dié onderwerp aangeroer.)
Die eis dat die taal in versverband ‘n sintuiglik oortuigende werking moet hê, is veral opvallend. Vergelyk:
Taal
as woorde nie op my lippe
wil sterf nie
moet dit ruik
na kameelhout se vuur
dit moet vrank wees
soos rosyntjiebosblaar,
‘n duin se maanhaar
lemskerp na kan trek
as woorde kan blêr
soos pasgebore lammers
hoe kan dit ooit op my lippe sterf[.]
Dit is daarom tog ‘n bietjie ironies dat, naas bevredigende en onthoubare voorstellings, onderdele van die beelding in hierdie afdeling (maar ook in die ander afdelings, soos ook voorheen in sy oeuvre) mank gaan aan troebel- en gesogthede. Die (titellose) openingsgedig en die slotvers van hierdie bundeldeel bied byvoorbeeld sluitende, suggestiewe beelde van die gedigskryfproses. Ek haal laasgenoemde gedig aan, omdat dit ook die een is waaraan die bundeltitel ontleen word.
Vlerke vir my houteend
‘n ruwe eend
dryf tussen snawel en stert
op die gehekelde water
van die eikehouttafel
kraaloog staar sy na die man
met ‘n plank op sy skoot
en ‘n harpsnaar in sy oor
sy woordmes gereed
om vlerke vir sy houteend te kerf[.]
Maar dan lol dit in gevalle soos die volgende (uit hierdie én ander afdelings):
kewer ek my weg
in die rooi pit
van ‘n kameelboom se stam
piets blitse my
fyn tot vuurmaakhout
(Uit: “Water, hout, sand”)
hoe ver van die sweepklap
kan jou pen se op en neer
met jou oortrom resoneer
(Uit: “Wegskryf”)
somers buig my pen
as dit vrug wil dra
(Uit: “Ryping”)
Op ‘n hele paar plekke in die bundel word die geharde kameeldoring vermeld, en eintlik tot beeld van Namibiese bewoners (van menslike slag, al dan nie) uitgebou. Ook die gedig met hierdie boomnaam as titel is belangrik in hierdie verband:
Kameeldoring
kleintyd was jy die agterplaasboom
die klimboom en die tekenboom
vir my dom hande
in ydeler jare was jy net ‘n ver boom
op die horison, ‘n vryboom
met die maan agter sy takke
maar nou is jy die nabyboom -
ons bas het ewe vaal en skurf geword
ons wortels tas na dieselfde klamte
nes jy moet ek my kroon vol dorings
met gekromde arms dra[.]
‘n Gedig met bekoorlike momente strand op ‘n haperende slotbeeld. “[M]y kroon vol dorings” is ‘n uitdrukking wat dadelik bekende voorstellings van die lydende Christus met ‘n doringkroon op die hoof oproep. As in die slotreël dan staan dat dit “met gekromde arms” gedra word, strook dit wel nog met die voorkoms van die boom oortrek van dorings aan gekromde takke en twye, maar wil dit nie steek hou met die opgeroepte beeld van ‘n persoon wat met dorings gekroon is nie.
‘n Gesonde skeut digterlike (self-)relativering, soos in die gedig “Ek maak versies, Enos”, help dan om die leser se oordele in hierdie verband ietwat te versag.
Die derde afdeling, ongetiteld soos die ander in die bundel, maak die indruk van ‘n tematiese potpourri. Trouens, hegtheid en noodwendigheid van struktuur en samehang is nie ‘n opvallende kenmerk van die bundel in sy geheel nie. Die bundeltitel kry dit myns insiens kwalik reg om die hele inhoud daarvan te oorkoepel; dit speel té beperk toe op die digterskapstrewe en -ervaringe soos verwoord in die tweede afdeling.
Hoewel (noukeurig beplande) bundelopbou geen beslissende kriterium vir oortuigende digwerk of vir ‘n suksesvol geagte digterskap hoef te wees nie, wek die spesifieke, klinkende bundeltitel - soos dit boonop resoneer binne die konteks van die gedig waaruit dit geneem is - tog bepaalde verwagtings in hierdie verband. Vandaar dat ek meen die bundel as geheel ook ‘n bietjie teleurstel.
Soos die vorige Lombard-werke bevat Vlerke vir my houteend ‘n aantal gedigte wat op alte weinig uitloop; verse waarvan die betekenisimplikasies te kort skiet. “Briefwisseling”, “Gesprek met ‘n portret”, “Skryfplank”, “Konstante veranderlike”, “Moederskamer”, “Skoonmaakster” en “Foto’s teen die muur” is na my oordeel sulkes.
Maar daar staan in die bundel ook treffender werk. Naas enkeles wat hierbo aangehaal of vermeld is, noem ek graag nog “Klokkespel” (met sy T.T. Cloete-eggo’s), “Visserman”, “Ander oë”, “Hardekool”, “Sondag in Windhoek, 2007″, “Namibië”, “Verkyker”, “Eenrigtingkaartjie”, “Naggeluide”, “Terugreis”, “Sluitsteenwerf”, “Onthou” en “Ma se erflating”.
Die afskeidsgedigte na aanleiding van die afsterwe van die “wegloopma” van die slotafdeling bou plek-plek roerend voort op veral die gedigte in Geknipte naelstring waarin die soektog na haar verwoord is.
Lombard se verse is dikwels van korter bestek, en tematies en stilisties nogal beperk. Ander digters het al gewys dat dít nie ‘n belemmering op die pad na onvergeetlikheid hoef te wees nie. Hy kan dus bemoediging put uit die wete dat sy derde bundel al ‘n klompie gedigte bevat wat ‘n stewiger indruk maak as sy vorige werk.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Tuesday, June 8th, 2010
Notas uit die empire. Deur Hans Pienaar. Alto Media, mwhanspi@mweb.co.za. ISBN 978-06-620-4509-0.
 Notas uit die empire
Hans Pienaar, joernalis wat vanweë sy beroep dikwels buitelands reis, is ietwat van ‘n geleentheidsbesoeker aan die Afrikaanse poësiewêreld.
Meer bekend vir sy drama- en fotografiekunsbydraes by kunstefeeste (waarvoor hy al vir pryse in aanmerking gekom het), of vir sy nie-fiksie-skryfwerk (in 1992 is die Rapportprys vir die geskiedskrif Die derde oorlog teen Mapoch aan hom toegeken), het ‘n klompie gedigte van hom tog wel oor die jare in literêre tydskrifte en verskunsversamelings verskyn. En in 2002 het Die taal van voëls die lig gesien, ‘n selfgepubliseerde bundel deur Pienaar.
Teen die tyd dat ek egter kontak met hom kon maak om daardie bundel aan te skaf, was dit nie meer beskikbaar nie - volgens Pienaar te wyte aan een van die bekendste kwale van Suid-Afrika: misdaad. (Die dose met die meeste van sy bundelkopieë is gesteel, as ek korrek onthou, met die motor waarin dit was en al.)
Ek lei af dat ook André P. Brink nie Die taal van voëls onder oë gehad het nie, want die vyf gedigte van Pienaar wat in die 2008-uitgawe van Groot verseboek opgeneem is, kom almal uit Nuwe stemme 2 van 2001.
‘n Opvallende verskil tussen hierdie vyf gedigte en die verse in Notas uit die empire (voortaan: Notas) betref die vormgewing en stilering. Waar die vroeër gedigte vryer vorme gehad het, is die neiging in Notas na vastigheid, en daarmee saam na stilistiese eksperiment en geswollenheid.
Hierdie kenmerke van Notas staan vermoedelik in verband met, of verteenwoordig waarskynlik ‘n vorm- en stylvergestalting van die (gewelddadige) magsuitoefening en retoriek wat met imperiale politiek geassosieer word. Historiese én eietydse imperiums en tirannieke staatsbestelle word te berde gebring, soms op a-historiese wyse deuréén. In byvoorbeeld die openingsgedig, “Lank leef”, is die funksie van die a-chronologiese aanbod om die terugkerendheid van die imperiale strewe te beklemtoon:
Dis eenvoudig. Solank daar elektrisiteit
op hierdie aarde van gods (sic! - BO) is. Solank
die nulpunt sonder huiwering (Allah
sy behaag) staan by sy aansprake. So
dikwels as wat die koeie gemelk word
in lugverkoelde stalle (Boeddha bo).
So ver as wat die blote oog kan sien,
panteïsties ofte nie. Shakespeare is
die kommissaris van ede, Marco Polo
die doeanedokter, Hammoerabi houvas
die mikrofoon. Solank sekondes sekondes
is, en tril in hul orbitale soos Helena
van Troje op haar tone in haar desperate
striptease: Ek is die verdunner in jou bloed,
die asem van mag in jou murg.
Die empire is dood. Lank leef die empire!
Pienaar wil sodanige magswellus blootlê, ook die meer verhulde vorme daarvan, byvoorbeeld die hedendaagse variante wat onder die dekmantel van “demokrasie” voortleef, maar beheers word deur die (weer eens hegemoniserende) ideale van tegnologiese vooruitgang, inligtingsvloei en welvaartskepping. Hy skryf op die agterkant van die bundelomslag: “Vandag is daar [...] net ‘empire’ wat dwarsdeur die heelal strek, en in die virtuele ruimtes tussenin en daaromheen. Sy hoofkwartiere en hoofstede is oral te vinde, en nêrens. Almal staan in diens daarvan, en almal kom in opstand daarteen.”
Uit sommige gedigte in Notas spreek ‘n byna apokaliptiese wanhoop in hierdie verband. Nie verniet word George Orwell se 1984 deur middel van suggestie én direkte verwysing (die dubbele reeks “Tweeduisend-en-vier”) betrek nie. Vergelyk ook die slotsonnet uit die reeks “Die smarte van die empire”:
Later jare sal die ryk se uitverkorenes
hul seëninge en gemodifiseerde gene
in die suiwer bloed van eersgeborenes
tel. Die regering van die algemene
belang en gedrang sal gaan oor homo sapiens
sapiens en hoe in ‘n heelal van gebrek
ons sorg vir oorlewing van die mens.
In verrinneweerde woude en gestrek
oor megaplakkerstede sal die misrook
dryf waarin goddelike gedaantes spook
om groter aanhang onder die afvalliges.
En so sal ons aanbid word, die helde
wat die aarde nog moet red en selde
iets kan doen vir sy armsaliges.
Slegs in die enkele liefdesgedigte, soos “Hals” en “Maaglandskap”, is spore van behae en suggesties van ideologiese onbevangenheid te vind.
Treffende momente kom in bepaalde gedigte voor: sekere beelde in “Dienaar”, “Au clair de lune”, “Ete in die burokratiese hoofstad” en “Gedeeltelike sonsverduistering”; en ‘n gedig soos “Die tyd is ryp vir die revolusie” bevredig byna in sy geheel. Verder is daar egter werklik te min wat die mas op kom in vergelyking met die gedigte van Pienaar wat uit Nuwe stemme 2 in Groot verseboek oorgeneem is.
Die strenger vorme en gewaagde stilistiese aanpak wat hy gekies het, het, soos al deels gesê, té dikwels iets gedwonge, gesogs of geswolle tot gevolg: rymelary en rymdwange, byvoorbeeld bewerkstellig deur geforseerde sintaktiese omkerings, valse of twyfelagtige woordkeuses (”temende lewe”, as klaarblyklik in die eerste plek iets soos “wemelende lewe” bedoel word), en afkappings waarin selfs die gewone lettergreepbreuke geïgnoreer word (”meesterlik” wat as “mee- / sterlik” afgekap word om met “smee” te rym); dreunende klankherhalingsvorme, soos alliterasies en akkonsonansies, wat gepaardgaan met vertonerige maar weinig treffende woordspel en -nuutskepping (”om pletterbote / ploeter myne, tenks vertrap, vermink, vermank / beter al beter, monderige wonder verteer / bajonet, koeël, granaatgespat…”); lomp of ongewone, implikasietroebele fraserings en beelde (”winde [...] skuur / hul af teen hierdie mure”; “verdampte voetsole / in ‘n nulgrond”).
Die vyfde ‘sonnet’ in die reeks “Die smarte van empire” (ek plaas ‘sonnet’ tussen aanhalingstekens, want dit kom my nie voor of dié gedigte die wesenskenmerkende wending van die sonnet vertoon nie) illustreer baie van hierdie stylgeforseerdhede:
Ou tale glinster op uit versigtig ontblote
palimpseste, en in fyn beplande mutasies
ontflikker hul in skimpe van hergeboorte
en wil luister gee aan ou ryke se murasies
in ‘n futurale lig van nostalgiese verval.
Waar offerandes eers gemaak is en bloed
gestort is ter wille van vermaak spel pal
die logoletters wette uit van voorspoed.
In die kampanjes om ons drome, die beleg
van skadu’s om ons idiome, is die uitweg
afgesluit soos opgeskorte woordeboeke.
Die tale van ons harte waarin ons skuiltes
eenmaal veilig was weergalm uit die holtes
van die hinterland se afgesperde hoeke.
Die styl- en vormspel word ver gevoer in party gedigte, sodat dit soms grens aan konkrete poësie (”Tombe-taal”, “Vigelied”, “Prozac Dreams”) - maar myns insiens sonder besonder verdiepende effek. Dieselfde geld die gedigte-by-foto’s in die afdeling “Tweeduisend-en-vier”, wat meestal bly steek in impressieverwoordings wat implikasiegewys nie die spesifieke situasies wat deur die foto’s en die plekaanduidings ingegee is, verbygestreef kry nie. Alternatiewelik doen die pogings tot “betekenisverdieping” bepaald geforseerd aan.
Één voorbeeld van laasgenoemde (bladsye 94-95): By ‘n foto van ‘n windverweerde muur met die oorblyfsels van ‘n haarwasmiddel-advertensieplakkaat daarop, geneem by Mampong in Ghana, staan die gedig “Sand”.
Winde waai al dekades lank en skuur
hul af teen hierdie mure, laat laag
op laag van stof gevang in sweet
en dalk bloed sodat die blindelingse
tyd wat die skrif in braille kom lees
kan voel hier was mense ook, al kan
hy nie sien al wat hul wou hê is een laaste
vlaag om die hare te skik soos ‘n voël
haar vere as sy regmaak vir die vlug[.]
Meer indrukwekkend is die Peter Blum-agtige woordwaansin oor die Amerikaanse besetting van Irak in “Edenode” - maar weens die uitgesponnenheid daarvan begin dit op die duur ongelukkig verveel.
Die ironie is dat die stilistiese en vormlike ‘geweld’ wat die taal aangedoen word, die ontstemming oor die verwoorde menslike vergrype ontkrag of fnuik. Pleks daarvan om belewing van afgryse en onthutsing oor die verwoorde gebeure en verskynsels te wek, trek die bombastiese stem van die spreker die aandag. Hiertoe dra die neiging tot abstrakte segging in baie gedigte (eerder as verlewendigende, verbeeldingprikkelende uitbeelding) nie weinig by nie. ‘n Gedig soos die volgende bly slap mededeling - ook omdat die beeldspraak wat wel voorkom, al geyk is:
Die empire heers diktatorloos en sonder
keiserlike dekreet of edik van konings.
Algar is nou howelinge aan die wonder
of hul ontvangers van belonings
is of teikens van messe in die rug.
Die gewone man dink dis demokraties
en klou aan die hardnekkige gerug
dat hy sy eweknie tot mag verkies.
Gemiddeld is sy wense en gematig
sy proteste teen alles wat te statig
plaasvind om ooit iets te kan vermag.
Dat sy wil swig voor groter besluite
geneem deur leiers wat hul te buite
gaan het hy nog maar altyd verwag.
Blykens ‘n gedig of twee uit die reeks “Die smarte van empire” besef die digter self iets van hoe sy digterskap te kort skiet - hoewel, weens die (lawwig-)ironiese trant waarin die gestel is, nie in die werklik kritiese sin soos ek dit hier moet aanvoer nie.
[...]
Die ritmes, gans te stadig, en ryme
wat hul lesers dwing tot swyme,
kan net trane pers uit weduwees.
Notas, tematies én in omvang ‘n nogal ambisieuse bundel, is mooi deur Pienaar self uitgegee (en sy fotografie dra heelwat tot hierdie indruk by). Ek skep dus geen behae daarin om soveel kritiek daarop te lewer nie.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Tuesday, May 25th, 2010
Die skyn van tuiskoms. ‘n Keur uit die gedigte van Lina Spies. Saamgestel deur Johann de Lange. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5144-3. Prys: R160.
 Die skyn van tuiskoms
By die oorhandiging, in 1973, van die Ingrid Jonker-prys aan Lina Spies vir haar 1971-debuut Digby Vergenoeg (sy het ook die Eugène Marais-prys daarvoor ontvang), het Uys Krige ‘n standpunt oor literêre oorspronklikheid herhaal wat hy al voorheen uitgespreek het: “‘n Digter moet ‘n oorspronklike eie stem hê. Maar oorspronklikheid is dikwels ‘n gejaagdheid. As jy jouself is, is jy reeds anders - oorspronklik; Lina Spies is in haar gedigte haarself.” (Terblanche, 2009)
Veertig jaar later is die digterstem van Spies steeds so “herkenbaar” haar “eie” as destyds (luidens die samestellerswoord op die agterplat van die onderhawige keur uit haar werk).
Daarvoor sorg eerstens die “meditatief-outobiografiese” inslag van haar werk (E.C. Britz, 1999:588), en die herhalende terugkeer van sekere uitstaande onderwerpe en temas:
- familiefigure en jeugherinneringe;
- ‘n voorliefde vir bepaalde omgewings, met name die Noord-Vrystaat (Harrismith waar sy grootgeword het), die Boland (veral Stellenbosch) en Nederland (veral Amsterdam);
- in samehang met laasgenoemde, die reistema;
- (hoofsaaklik onvervulde) liefdesverhoudings en vriendskappe (wat soms in afkerigheid eindig);
- vrouwees en kinderloosheid (waarin die intieme en kwesbare van die liggaam soms verken word);
- (’n indiwidualistiese) godsdiensbelewing, wat meermale opstandigheid jeens dogma tot gevolg het;
- verknogtheid aan die aarde en die aardse;
- kuns en kunstenaarsfigure “met wie sy ‘n sterk verwantskap voel en in wie se nood sy haar eie kan verreken” (agterplat);
- kinders (in verse waarin sy “onskuld, weerloosheid en verbondenheid deur die gebruik van die volkse, sprokies en kinderrympies [ondersoek]” - agterplat).
‘n Verdere faset van haar eiesoortige posisie in die Afrikaanse poësielandskap word eweneens deur Britz uitgewys: Dat sy “as ‘t ware ‘n Sestiger [is] wat haar ouderdom betref, en ‘n Sewentiger in terme van die publikasiedatums van haar eerste bundels, maar as digteres [...] nie werklik ‘n kind van sestig óf sewentig nie. Haar ontroerde, meditatiewe of belydende betoë, haar fraai en soms speelse poëtiese segging en haar preokkupasie met haar emosionele, spirituele en sosiale verhoudings maak haar nog die beste vergelykbaar met Elisabeth Eybers.” (Britz, 1999:588)
Spies identifiseer derhalwe nie net met Eybers nie, maar veral ook met iemand soos die Amerikaanse digteres Emily Dickinson. In die gedig “Vir Emily Dickinson” bestempel sy laasgenoemde as “naaste geesverwant”.
‘n Ietwat ouderwetse, elitêre estetiese houding spreek uit haar verskuns sowel as uit sommige van haar openbare uitsprake, veral vergeleke met die werk van haar dikwels eksperimenterende tydgenote. Onder meer hierom was sy meermale “vatbaar vir miskenning en selfs ridikulisering onder die meer radikale verteenwoordigers van die generasies van sestig, sewentig en ook tagtig” (Britz, 1999:589).
Voeg hierby dat sy van tyd tot tyd sterk en omstrede, selfs strydvaardige standpunte ingeneem het oor sake soos homoseksuele en nie-responsiewe mans, oor godsdiens, oor Pretoria as woonplek wat in haar oë sleg afsteek by byvoorbeeld Stellenbosch (in gedigte soos “Verpot” en “Verootmoediging” uit Van sjofar tot sjalom), oor die miskenning van Afrikaans … selfs oor die vraagstuk of katte in die hemel sal kom, al dan nie. Sulke standpunte het, soos reeds gesien, ook haar verse binnegedring (veral in sekere “haatgedigte” - Britz, 1999:592). Trouens, haar poësie neem meermaals ‘n betogende trant aan, vergestalt in hoofsaaklik beheerste maar dikwels ook woordryke, retoriekbesmette vryeverse, wat hoogstens “amusant” aandoen vanweë die felheid wat dit kan aanneem (Britz, 1999:595). In sulke gevalle mis ‘n mens dan die gedistansieerdheid en (self-)ironie, of taaldurf van byvoorbeeld ‘n Elisabeth Eybers en ‘n Emily Dickinson. Dit word volgens Britz (1999:591 & 592) “nogal breedsprakige ‘praatverse’” met ‘n gebrek aan “intensiteit”.
Oor sulke dinge is Spies dan ook in die kritiek oor die kole gehaal.
‘n Keur soos die onderhawige, wat baie van bogenoemde ‘besondigings’ wegsnoei, laat ‘n mens egter die sterker kante van Spies se werk sien. En laat myns insiens duideliker uitstaan dat Digby Vergenoeg (”haar oerbundel” - Britz, 1999:589) en Hiermaals uit 1992 (”‘n ryp, volwasse bundel” - Britz, 1999:595) hoogtepunte in haar oeuvre verteenwoordig.
‘n Groeipunt ná Hiermaals is die groter religieuse nederigheid in die aangesig van die naderende lewenseinde. Ná die rebelserigheid van Hiermaals en ook nog Die skaduwee van die son (1998), is daar in Duskant die einders (2004) ‘n religieuse inkeer te bespeur (al staan sy steeds “wars van elke leer”, luidens “Wyding”). Dis ‘n aantreklik aardse, sintuiglike religiositeit wat verwoord word. Die lewe duskant die graf word ervaar as ‘n bestek van verwondering.
Na my smaak is Spies op haar beste wanneer sy as spreker meer op die agtergrond tree, soos in sekere portrette, en baie van die kuns- en kunstenaarsgedigte wat verspreid deur haar oeuvre voorkom. Hoewel die onvermydelike vergelyking wat die intertekstuele verwysings in laasgenoemde gevalle tot gevolg het, meermale ongunstig vir Spies uitval.
Momente van weerloosheid, wat in Spies se later bundels steeds dikwelser verwoord ord, en waartydens sy dan suggestiewer te werk gaan as in die betogende gedigte, is ‘n ander bron van haar aantreklikste digkuns. Die slotgedig uit Duskant die einders is ‘n voorbeeld:
Heemkeer
For I am homesick after mine own kind
Ezra Pound: “In durance”
Daar is donker en valstrikke in ‘n bos
maar smagtend op pad na eie soort
moet jy daardeur; moet jy roep of skree
dat ‘n waaksame jou hoor,
‘n vuur maak of ‘n lamp aansteek
dat jy die spoor nie byster raak,
tuiskom by wie jy hoort.
Die titel van hierdie samestelling deur Johann de Lange is derhalwe eintlik ‘n goeie een om Spies se onthoubaarste bydraes tot die Afrikaanse poësieskat te benoem. By wyse van die relativering impliseer Die skyn van tuiskoms dat reis en verlange eintlik die sentrale motiewe van haar oeuvre is. Britz (1999:589) het juis aangetoon dat die meerderheid van die titels van haar vroeër bundels “met die idee van ‘n lewensreis verband hou” (soos ook enkele van die lateres): Digby Vergenoeg, Winterhawe, Dagreis, Oorstaanson, Duskant die einders… In ‘n aantal gedigte (byvoorbeeld “Weteringschans”, “Wie die verlange ken”, “Tweespalt” en “Manifes”) word die verlange as digterlike leitmotief pertinent uitgehef. Vergelyk laasgenoemde gedig:
Ek wil die heimwee behou
na al die Edens van my wêreld
sodat Goethe se versugting
na die land waar die sitroene bloei
nooit aan my vreemd sal word nie
en my verse kan leef
omdat die verlange
die asem is van die poësie[.]
So word die tema van die voortdurende (emosionele sowel as fisiese) migrasie tussen die genoemde drie streke waarin sy haar besonders tuis voel (veral die Boland en Holland), gesinjaleer. Ook, by uitbreiding, haar verse oor die kosbare, wonderbaarlike aardse - maar waarin dan dikwels juis ‘n bewussyn figureer van die tydelike van die belewing vanweë die mens se sterflikheid, óf waarin die lig van die hemelse afskyn (soos in “Heemkeer” hierbo). Die spanninge tussen bestaanekstase en bedroënheid, tussen liefde en onvervuldheid/afkerigheid, tussen kunsskepping (waaronder die “taalspel” en “tekstase” van die digkuns, wat op die boemlesingagterplat vermeld word) en ontnugterende werklikheid, word eweneens in die bloemlesingtitel opgevang.
De Lange se keur versterk dus Spies se profiel as unieke, nie-modieuse digter wat miskien nie poëtikale en tematiese berge versit het nie, maar toeganklik skryf “oor sentimente en menslike probleme van baie poësieliefhebbers [...] sodat sy altyd ook ‘n besonder gewilde en selfs geliefde digteres was” (Britz, 1999:589).
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Bronnelys
Britz, E.C. 1999. (Profiel oor) Lina Spies (1939-). In: Van Coller, H.P. (redakteur). Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies. Bladsye 588-597.
Terblanche, Erika. 2009 (geplaas op 5 Maart). Lina Spies (1939). Sanlam/ATKV/LitNet Afrikaanse Album. http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_itme&cause_id=1270&new... (Besoek op 25 Mei 2010.)
Friday, April 23rd, 2010
apostroof. Fanie Olivier. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5168-9. R130.
 apostroof
Fanie Olivier is een van ‘n hele handvol Afrikaanse digters wat, na lang digterlike swyes, in die afgelope jare aangenaam verras het met nuwe werke. [A]postroof, Olivier se sesde eie bundel (hy het ook enkele tematiese en geleentheidsbloemlesings en ‘n literêre dagboek saamgestel), volg 22 jaar na sy voorganger, Verklarings 1967-1987, wat in 1988 verskyn het.
[A]postroof is byna uitsluitlik toegespits op die digter se sowat 20 jaar lange verhouding met sy vrou, Rike. Sy was die dogter van die Vlaamsgebore en -getoë Rob Antonissen, toonaangewende kritikus en literatuurgeskiedskrywer in Suid-Afrika in die negentien-vyftiger- en -sestigerjare. Soos Olivier self, was sy vrou ‘n Afrikaans-dosent met aansienlike bykomende kennis van die Nederlandstalige kultuur en letterkunde. Vandaar dat meer as een maal in die bundel gewag gemaak word van “jou vlakkeland” in verband met Vlaandere.
Rike Olivier is in 2007 oorlede as gevolg van ‘n rare, slopende siekte wat onder meer haar woordgeheue en derhalwe uitdrukkingsvermoë aangetas het. Blykens die gedig “tussenteks” het die digter haar as gaan uitstrooi in die Schelderivier op die grens tussen Nederland en Vlaandere.
Die bundeltitel is derhalwe om verskeie redes ‘n goedgekose een.
As retoriese figuur slaan “apostroof” op die aanspreking van afwesiges - volgens die WAT op die situasie “waarby die redenaar of skrywer hom afwend van hulle aan wie sy woorde eintlik gerig is en die persoon of saak waaroor dit gaan onmiddellik aanspreek”. In dié bundel betref dit, op dikwels ontroerende wyse, die aanspreek van die gestorwe geliefde; plek-plek egter ook van God (in gebedstrant, maar ook as verbeelde vroulike respondent in “geding”, die gedig op die agterplat).
Vergelyk in laasgenoemde verband die aanvangs- en slotgedeeltes van “en god as hy bestaan” (opgedra aan “jou, my vrou”):
neem haar na die soet soel dal
van warm skaduwees van malse gras waar
die sleutel in haar hand op alle deure pas
die paar gebare om haar skielik duisend
vlerke kry skitterend met betekenis verbind
[...]
maar op my knieë veral
o God, veral, laat woorde vir haar sin maak, oweral[.]
Die bandillustrasie vergestalt iets van die patetiek wat ook uit bostaande gedigslot opklink. Dit stel ‘n foto van ‘n 15de-eeuse pronkskild uit Boergondië, getiteld “U of die dood”, sentraal op die voorblad. Op die skild word ‘n ridder in knielende, deklamatories gebarende houding voor ‘n vrouefiguur met neergeslane oë voorgestel.
Die gedigskryf-motief, wat vanaf bladsy 22 in die bundel steeds sterker op die voorgrond tree, word ook al hierdeur aangekondig. Soos ook deur die bundelopdrag met sy parenteties gestapelde meersinnigheid: “vir rike - (vir die sinne wat sy [ge-]maak [het])”. Én soos deur die tweede van die bundelmotto’s (’n frase uit W.E.G. Louw se “Die woord”): “alles wat genoem word, lééf”.
Poësie as teenwoordigstelling van die verlorene; die gedig as apostroof. Soos dit in “ewening” lui:
ek loop nou verder, soos in die poësie, met trae
tred, maar hou jou immers dig by my, onder my vel:
herken jou in ryme [...]
Maar ‘n apostroof is ook ‘n grammatikale weglatingsteken, ‘n soort duiding van verlies. Nie alleen die pynlike verlies wat Olivier ervaar en verwoord is ter sprake nie, maar ook die woordvergetelheid waarin sy geliefde moes verval: in lewe én in sterwe - ‘n situasie met bykomend tragiese dimensies waar dit mense raak wat deurentyd met woorde gewerk en geleef het. Daar sit dus talle pynlike stekels in ‘n Persiese kwatryn soos die volgende:
afwagting
en toe dit donker word die aand gee jy die gees:
jy hou, eenvoudig, asem op: dis klaar met kees.
en gegewe dié gegewe waarom sou jy
daarbuite later iets van jou, nou ‘n hiaat, wou lees?
Die rykdom aan aanhalings uit, eggo’s van en toespelings op allerlei ander tekste (literêre werke, liedjies, die Bybel, kerklike psalms en gesange, spreekwoorde en gesegdes) wat ons in apostroof hoor (soos voorheen in Olivier se oeuvre), funksioneer in die lig van bogenoemde tweërlei: Dit herinner aan wat verlore raak of geraak het, én dit verteenwoordig ‘n inskryf teen sodanige vergetelheid - teen wat dreig om ook die herinneringe aan ‘n woordmens soos sy oorlede vrou te vernietig. Ter illustrasie ‘n passasie uit “‘soveel gedigte gaan verlore’”:
[...] net deur [die flardes van 'n verlore gedig] te noem, nóú,
deur oor dit wat weg is, te lees, te hoor
daarvan, word jy betrek: hoop jy dat ek
dit vind, voel ek hoe jy my aanpor [...]
Die breë lyne van die verhaal van die onderhawige liefdesverhouding, vanaf die eerste liefdesgewaarwordings tot die berusting soekende, nadoodse nabetragtings, is uit die bundelgegewe af te lei. Die aanbod volg ‘n min of meer chronologiese volgorde en gebeure word geplaas in ruimtes wat deur die ingeligte as biografies getrou herken word aan die lewens van die Olivier-egpaar. ‘n Hele paar gedigte is, tekenend hiervan, gedateer en gesitueer.
Pragtige liefdesverse deurspek die bundel. Hartstog en patos staan in verwikkelde balans met bespiegeling en betragting, taal- en literêre spel, vinding- en insigrykheid. Één voorbeeld in sy geheel:
dis lekker hier waar die jare opgeskort
raak en tyd met verloop tog sy loop
neem: mens spelenderwys moet ouer word
en bowendien op die koop
toe ook wyser. aan die sak sout swaar
dra terwyl mens daaraan proe. en hoe
pikant lek die liefde nie uit die hart
en kom sit op die mou nie: toe,
toe jy kan dit nie ontken nie: verward
het veel minder betekenis as eers, rol
soos wyn van die tong af. klaar
met die dinge van ‘n kind, word jy vol
van die soelte van soveel te wees, soveel
te weet, soveel, helaas, ook te verlang.
en hier eenkant met die knop in die keel
oor ek jou liefhet, skor daarom in die sang
van die verloopte nugter digter, loer
ek na jou oor die onderdeur agter
die gordyn het jou aan die snoer
onder die kombers. sagter
sagter kom jy aan bod, verjaar jy
sonder om eintlik verder te verjaar
hier in die soelte van die jaargety
staan my arms oop vir jou en klaar.
In aansluiting by Olivier se vroegste bundels, doer uit die vroeë jare sewentig toe die invloed van D.J. Opperman se “letterkundige laboratorium” op Maties sig duideliker in sy oeuvre laat voel het, is die verse in apostroof vaster van vorm; word Engelse sonnette en Persiese kwatryne opgemerk; kom paarrymende distigons en langer strofes met gevarieerde eindrympatrone en min of meer reëlmatige versreëllengtes voor. Dit sónder dat vorm-geyktheid die botoon voer. Daar is eerder iets liefderyk speels in die verstegniek, in aansluiting by die taal- en liefdespel wat dikwels die uitgebeelde verhouding kenmerk.
Kyk maar self hoe die potensiële strakheid van die paarrymende distigons in die gedig op die agterplat - in dié sin aansluitend by die plegtigheid en erns van die “geding” wat hier teen God gevoer word om die gestorwe geliefde as ‘t ware terug te eis - verbreek word deur ‘n gesprekstrant in te voer, en strofelengtes hier en daar verrassenderwys af te wissel, en ‘n woord soos “wys” grappenderwys op die Engelse “i rest my case” te laat rym - om sodoende terselfdertyd iets van ‘n vormlike ekwivalent te vind vir die “buitenissig[e]” skikking wat tussen subjek en God bereik word: “[...] / ‘kom, los die aangeleentheid nou; trek t’rug die aansoek. leer om te aanvaar. / kry ander woorde waarmee jy jou goed kan besig hou. op stuk van sake is daar // ‘n hele woordeboek om mee te werk, en ander aansprake wat jy behoort te maak. / ek het jou dáárvoor en híérvoor uitgekies - jy wéét ons het gemene saak.’”
‘n Mens kan wel kibbel oor ‘n enkele tikfout, en oor “Vlissingen” wat verkeerd gespel is in die bundel; dat enkele idiosinkratiese verwysings en woordkeuses of sintaktiese gesogthede troebel (kan) aandoen (”gorter lank reeds uit die pad geskouer: / lig word mos dowwer, ‘n mens ook ouer”; “ek lê hier / vasgekeer op ‘n kussing, deur voorafgegaan geketting / ingebed“).
Min afbreuk word egter hierdeur gedoen aan die aantreklike, boeiende, inderdaad ontroerende indruk wat apostroof op ‘n mens maak - om kontekstuele sowel as teksvergestaltingsredes.
Dié bundel neem eervol sy plek in langs ander (meermale geprese) Afrikaanse bundels van die afgelope dekade waarin die gedenking en huldiging van gestorwe geliefdes ‘n belangrike plek inneem: Anlen Marais se muur van berge (1999), H.J. Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard (2000), Petra Müller se Die aandag van jou oë (2002), T.T. Cloete se Heilige nuuskierigheid (2007) en Dolf van Niekerk se Lang reis na Ithaka (2009).
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Friday, April 16th, 2010
Nuwe stemme 4. Saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04873-2. R150.
 Nuwe stemme 4
Sedert die publikasie van Nuwe stemme 1 in 1997 het daar ongeveer elke vierde jaar daarna nog ’n Nuwe stemme-opvolg by Tafelberg verskyn, sodat ons nou by nommer 4 staan.
Laasgenoemde is op vanjaar se Woordfees te Stellenbosch bekendgestel, en om dit in breër verband te plaas betrek ek in hierdie bespreking ook van my waarnemings omtrent die voorafgaande nommers, naamlik soos dit in 2005 in die tydskrif Spilpunt gepubliseer is.
Die reeks debutante-bloemlesings is ’n nuttige instrument wat deur die NB-uitgewersgroep ontwikkel is in die laat-1990s, ’n tydvak van gedwonge herstrukturering en besuiniging in die Suid-Afrikaanse boekebedryf. Dus was die Nuwe stemme–konsep (voortaan afgekort as NS) ’n teenvoeteroplossing vir die finansiële risiko’s verbonde aan die uitgee van (veral debuut-) solobundels.
Met NS kon NB-uitgewers egter ook ’n stimulant- en ontwikkelaarsrol speel. Die verklaarde bedoeling was om digters met afgekeurde bundels deur die publikasie van ’n keur uit hulle werk aan te moedig om in die rigting van eie, geslypte bundels voort te werk. By wyse van openbare uitnodiging kon ook bydraes gelok word van digters wat nog nie wou of kon waag om bundels voor te lê nie.
Digters is bygestaan om hul gekeurde verse na bevrediging van die samestellers af te rond. Wat NS 1 en 2 betref, is dit hoofsaaklik per korrespondensie gedoen. In die geval van NS 3 (en nou ook NS 4) is daar ook slypskoolgeleenthede gereël.
Of die bedoelde aanmoediging tot eie bundelafronding veel vrugte afgewerp het? As ek reg tel, het slegs 1 van die 11 debutante in NS 1, maar 8 uit die 16 in NS 2, en 3 van die 20 in NS 3 al eie bundels die lig laat sien. (Na verneem word, volg debuutbundels van Melt Myburgh en Jasper van Zyl, onderskeidelik veteenwoordig in NS 2 en NS 3, later vanjaar.)
Waar Antjie Krog en Alfred Schaffer in hul inleiding tot NS 3 vyf jaar gelede nog kon beweer – in daardie stadium tereg – dat klaarblyklik nie veel in hierdie verband gepresteer is nie, begin die prentjie tans anders daar uitsien. Dis dus gepas om NB-uitgewers te prys oor die bydrae wat op hierdie wyse gelewer is tot ’n tans lewenskragtige Afrikaanse poësiesisteem (waarbinne jaarliks rondom 20 digbundels verskyn).
Dat bloemlesingsamestellings nie vry van persoonlike voorkeure of van ideologiese en literatuurbeskoulike oorwegings geskied nie, is nie nuus nie. Die verantwoordings sowel as die aard van die samestellings van die vier nommers van NS is derhalwe boeiende inligtingsbronne in hierdie verband.
Opvallend is dat nuutheid (’n estetiese maatstaf) en verteenwoordigendheid (eerder ’n sosiaal-politiese kriterium) deurgaans as opname-oorwegings naas mekaar genoem word, hoewel telkens in verskillende voorkeurverhoudings tot mekaar.
In NS 1 is uit die drie-paragraaf-lange inleiding af te lei dat sowel die – soos dit daar lui – “ryke verskeidenheid” van stemme uit “die Suid-Afrikaanse leefruimte” en uit “die breë Afrikaanse spraakgemeenskap”, as die moontlikheid dat die opgeneemde gedigte “in die volgende eeu steeds vars en sterk sal klink”, in berekening gebring is. Dat dit, soos reeds genoem, ook gaan om “digters wat die potensiaal het om selfstandig te publiseer”, beklemtoon egter weer die belang van die estetiese oorwegings. Waarskynlik vandaar dat die samestellers (Anastasia de Vries en George Weideman) eerder minder digters gekies het om op te neem (11 uit 70 voorleggings), maar dan ’n meer definitiewe profiel van elkeen se werk verskaf het deur byna telkens tussen 10 en 15 gedigte in te sluit.
’n Soortgelyke balans van oorwegings is uit die samestelling van Nuwe stemme 2 af te lei, hoewel in die verantwoording van vyf paragrawe uitvoeriger uitgewei word oor die “verskeidenheid”-maatstaf. Die verskeidenheid sowel as die nuutheid wat die samestellers probeer het om in dié bloemlesing op te vang, betref egter eerder stilistiese en toonaardfasette (“op en wakker, soms raserig, soms gewaag, en ook woedend”; na deeglike beraadslaging is byvoorbeeld ook besluit om gedigte met ‘n sterk aanleuning “by Engelse segswyses” op te neem). Tematiese vernuwings, soos die ervarings van uitgewekenes en soekers na “interne asiel”, word egter ook as opname-oorwegings aangegee.
’n Mens kom dus tog tot die gevolgtrekking dat die estetiese oorwegings vir die twee NS 2-samestellers (Petra Müller en Nèlleke de Jager) swaarder geweeg het as sosio-politieke redes. Is dit miskien daarom dat dit die samestellers nie gehinder het dat slegs 1 van die 16 debutante in NS 2 bruin was nie, terwyl die ooreenstemmende syfers in vorige nommer 3 uit 11 was?
Hoe dit ookal sy, ook die samestellers van NS 2 het ten gunste van minder digters (16 uit 200 voorleggings) en ’n ruimer aantal gedigte per digter (gemiddeld sowat 10) besluit, om sodoende die ingeslote digtersprofiele sterker af te teken.
Dié profielskeppende funksie word toenemend prysgegee in die derde en vierde nommers van die reeks.
Slegs 2 van die 20 ingeslote digterskappe in NS 3 word verteenwoordig deur 10 gedigte of meer. Van 6 digters is slegs 4 of minder verse opgeneem.
In die verantwoording word die nuutheidskriterium sterk beklemtoon. Tematiese sowel as stylvernuwings met betrekking tot die Afrikaanse poësietradisie word aangelê as belangrike maatstawwe. Dit word voorts duidelik dat wat vernuwend geag word, dikwels te doen het met maatskaplike en politieke omstandighede. Bruin mense word byvoorbeeld deur Krog en Schaffer “beny” omdat hulle “op ‘n goudmyn van nuwe woordeskat, nuwe agtergronde en nuwe temas sit”.
Twee stilistiese “verkennings” wat verder in hierdie verantwoording van meer as 3 bladsye uitgesonder word, is die benutting van “die bekende gebrandmerkte Engfrikaans” en die terugkeer “na ou geykte Afrikaans” om dit te “verbrokkel […] tot feitlik betekenislose stukke”. Beide “verkennings” word deur die samestellers geïnterpreteer as ’n duidelike poging van “die jonger digters” om weg te kom “van die bagasie van die ouer digters en hulle verlede”.
Die weerspieëling van die volle spektrum van die Afrikaanse taal- en sosiale werklikheid blyk dus ’n rigtinggewende oorweging by Krog en Schaffer te gewees het, selfs wat betref stilistiese aspekte. Om watter ander rede sou meer as 10 gedigte van Vernie Plaatjies weer ingesluit word, terwyl hy reeds in NS 1 as debutant blootstelling geniet het met eweveel gedigte? Saam met Plaatjies is daar dié keer 5 bruin digters se werk opgeneem (25% van die totaal - ongeveer soos in NS 1).
Vir die samestellers van NS 4 is insluitendheid ’n ewe dominante oorweging, hoewel nie in die sosiaal-politieke sin van die woord nie. Danie Marais en Ronel de Goede sonder stilistiese en tematiese verskeidenheid uit as “een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie”, maar slegs twee van twee-en-twintig digters is nie wit nie.
Die verskeidenheid wat hulle in die “Verantwoording” van amper drie bladsye beklemtoon, betref eerder poësiebeskoulike aangeleenthede. Hulle het vermy om vas te hou aan “rigiede, vooropgestelde idees oor die poësie”, maar beskou – in ’n mate anders as Krog en Schaffer – ook nie vernuwing of oorspronklikheid per se as “’n oplossing” nie. Hulle gebruik die beeld van poësietradisie as “’n rivierdelta en nie ’n enkele stroom nie” om hulle poëtikale openheid te beskryf.
Gedigte van vaster en vryer vormgewing staan dus oral langs mekaar in die bloemlesing; liedtekste (deur Hunter Kennedy van die rockgroep Fokofpolisiekar) en liries belydende verse langs gedigte (deur veral Hennie Meyer, maar ook Jan A.F. du Plessis, Francilié Hoek en Pieter Hugo) wat primêr op tipografiese effekte vir hul trefkrag steun; gedigte wat eie ervarings uniek uitdruk langs verse waarin vir impak staatgemaak word op opvallende, soms parodiërende intertekstuele toespelings; werke in Standaardafrikaans langs gedigte waarin niestandaardvorme daarvan benut word om bepaalde leef- en belewingswêrelde outentiek weer te gee.
Vandaar dat die fokus nog verder as in NS 3 weggeskuif word vanaf die profilering van bepaalde indiwiduele digterskappe, in die rigting van beeldvorming van iets meer kollektiefs, naamlik van (aspekte van) ’n bepaalde tydsbestek in die Afrikaanse poësiegeskiedenis. Iets soos De Goede voorheen met Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 gedoen het (in 1997 onder haar huweliksnaam Foster, en in samewerking met Louise Viljoen).
Nes in NS 3 is min gedigte (ses of minder) per digter opgeneem. Dié keer is hulle selfs nie eers bymekaar onder die digtersname geplaas nie, maar kom die verse van ’n bepaalde digter verspreid – as ’t ware buite die konteks van die spesifieke digterskap – in die bloemlesing voor. In die inhoudsopgawe agterin die boek word die gedigte van elke digter wel onder sy/haar naam gelys: alfabeties volgens die beginletters van die gedigtitels (nes die digtersname alfabeties volgens vanne vermeld word).
Meer digters (22 uit ’n oorspronklike 250 insendings), maar minder gedigte per digter as voorheen; gedigte nie geplaas volgens digterskap nie, en in die inhoudsopgawe in ‘neutrale’ alfabetiese volgorde gelys… Daar sit iets ‘onpersoonliks’ hierin. En as ’t ware ter bekragtiging hiervan, is vir die eerste keer in die reeks geen biografiese sketse van die digters in die bloemlesing ingesluit nie. In die “verantwoording” word lesers wel na die internetwebblad LitNet verwys vir “nadere inligting” en “volledige onderhoude” met die digters. Dis egter duidelik dat ’n spesiale poging van die leser vereis word om ’n beeld van die indiwiduele digterskappe te probeer vorm.
Blykens die drie afdelings waarin die bloemlesing verdeel is, is vir ’n tematiese rubrisering gekies. Maar nou word die nette met die afdelingtitels telkens so wyd gegooi, en probeer dit kennelik sulke uiteenlopenhede saamknoop (“Hier en daar”, “Toe en nou”, “Oral en altyd”), dat ek twyfel of die identiteite van die verskillende afdelings vir die leser helder sal wees – die verduideliking van die gekose titels in die verantwoording ten spyt. Self erken die samestellers dat “van die gedigte ook in ander afdelings sou kon figureer”.
Maar nou het dit hoog tyd geword dat ek my respek betuig vir Marais en De Goede se poging om met NS 4 iets ánders te bied as bloot ’n versameling van opkomende digterskapsindrukke; om iets meer samehangends – ’n poëtiese tydsbeeld, soos gesê – te skep.
Laasgenoemde behels myns insiens ’n karnavaleske, grens- en hiërargie-vervagende inklusiwiteit – ’n weerspieëling van die stilistiese en tematiese verskeidenheid waarvan in die samestellers se verantwoording gewag gemaak word. Dis ’n beeld verwant aan die indruk wat die gewilde Afrikaanse kunstefeeste oral in die land op ’n mens maak – daar waar digters byvoorbeeld meermale in samewerking met musiek- en visuele kunstenaars optree. NS 4 is, soos sy voorgangers, ’n kind van sy tyd.
En inderdaad word daarin geslaag om “tog interessante gesprekke tussen digters, gedigte en betekenismoontlikhede [te] bewerkstellig”, soos die samestellers in die “Verantwoording” hoop. Ek noem ’n paar dinge wat my opgeval het.
Intertekstueel is werke van N.P. van Wyk Louw (veral sy ”Karoodorp, someraand”), Gert Vlok Nel, Breyten Breytenbach en Elisabeth Eybers op die voorgrond as lewende Afrikaanse tradisie in NS 4. Daarby is dit duidelik dat die plattelandse wêreld van plaas en dorp steeds ’n belangrike bron van Afrikaanse digwerk is (ook via toespelings op die genoemde gedig van Van Wyk Louw, en op Gert Vlok Nel se Beaufort-Wes-verse en -lirieke).
Niestandaardvorme van Afrikaans is grootliks funksioneel benut, en “Engfrikaans” nie uit die onmag wat deesdae so dikwels spreek uit die radbraakspraak van baie Afrikaanses nie. In twee gedigte van Bibi Slippers, naamlik “words of the day” en “OMW!”, is die Engels byvoorbeeld oorheersend, maar dan as spesifieke onderwerp én as refleksie van soveel hedendaagse Afrikaanse mense – as “nuwe indigents (nuwe behoeftiges) – se ironiese belewenis van hul “exile condign” (verdiende ballingskap) in ’n Engels-oorheerste wêreld.
Of daar “opwindende moontlikhede” vir al 22 die bydraers voorlê as digters, soos in die “Verantwoording” voorspel? Dit sal die tyd maar moet leer.
Soos eintlik verwag kan word van ’n bloemlesing van hierdie aard, bevat NS 4 heelwat wat minder indrukwekkend is, selfs studentikoos aandoen. Vergelyk onderstaande vers van Hunter Kennedy, wat (bedoeld of nie) tog ’n bietjie tam aandoen, sosiale kommentaar ten spyt:
Bokbefok
ons het saam met Bok gaan probeer tuna vang
die weer was te kak so toe drink ons maar
06:00
Jägerbombs
vissermanne
hulle het hom uitgevra oor “de la Rey” en hy het verveeld
en nugter gelyk
en toe ná al die vroumens- en kaffer-grappies
het die ooms
niks oorgehad om oor te gesels
behalwe die weer nie[.]
Aan die ander kant is daar weer ’n paar digters wie se werk sterker, frisser aandoen. Ek het in die lees regmerkies moes maak – uiteraard as spieël van eie poëtikale voorkeure – by gedigte van Lewies Botha, Corné Coetzee, Francilié Hoek, Pieter Hugo, Willem Jansen, Annie Klopper, Bibi Slippers, Adél Steyn en Marius Swart.
Die heel eerste gedig in die bundel (deur Annie Klopper) is een van dié wat my bybly, en ek sluit graag dié resensie daarmee af.
hoe om ’n dorp te verf
begin by die posbusse –
massiewe gholfballe, skoene, pampoene
geskakeer met fyn skadu’s van roes
verf dan die skoolbusse
skeur die banke en skryf op die dak
woorde wat rym met “oes” en “ak”
(onthou om spelfoute te maak)
skets die skoolmure na aan mekaar
om drome in te perk en daar te bewaar
teken dan ’n tandlose vrou by die drankwinkel-till
’n skoolrok by die kliniek in ’n ry vir die pil
’n beroofde bejaarde wat op ’n sypaadjie bewe
’n horlosie op ’n kerktoring sonder ’n sewe
’n kind wat rook agter ’n stegie se muur
en bergies wat baklei langs ’n uitgebrande vuur
laat alles dan verbleik en verweer
spoeg op die sypaadjies
boor gate in die teer
en herhaal
’n paar honderd maal
herhaal[.]
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Friday, April 9th, 2010
wat die water onthou. Louis Esterhuizen. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-353-9.
 wat die water onthou
Louis Esterhuizen kry dit reg om, ongeveer al om die drie jaar, met bundel na bundel ’n oeuvre op te bou wat ’n steeds sterker indruk maak. So ook dié keer.
[W]at die water onthou is sy agtste. Dit vind op meer as een wyse aansluiting by sy voorafgaande werk. In Die onderwaterweg (1996) – waarvan die titel uit ’n gedig in sy debuut, Stilstuipe (1986), oorgehewel is – was die watermotief al ’n sentrale een. “Posisies op ’n bord”, ’n gedigreeks in ses dele, herinner aan die skaakspelgegewe in sy 1999-werk Patzers, terwyl die gedig “skarniere” weer iets laat herleef van die huis- en deuremotiewe in Sloper van drie jaar gelede.
En die liefdesbelydenis wat sedert Opslagsomer (2001) so opvallend in Esterhuizen se oeuvre is, word hier (op bladsye 47-58) met soortgelyke stilistiese versobering as in Sloper uitgedruk – hoewel die gevaar van sentimentaliteit ook dié keer nie totaal uitgeskakel word nie. Die feitlik deurgaanse benutting van ’n tweedepersoonsperspektief in wat die water onthou werk sterker objektivering in die hand, sodat ook op dié wyse tot die versoberingsindruk bygedra word.
Wat hierdie jongste Esterhuizen-werk besonders maak, is die oorspronklike en boeiende wyses waarop die sentrale tematiese spanning tussen vervlieting en bestendiging (laasgenoemde veral via die geheue, die kuns en die liefde) vergestalt word op stilistiese en vormlike vlakke.
Maar eers iets meer oor die bundeltematiek.
Die ironie-gelade betekenismeerkantigheid van die bundeltitel word onder meer in die gedig op bladsy 12 belig:
dat herakleitos reeds aan die begin
daarop gewys het dat dit nie moontlik is
om dieselfde stroom twee keer
te betree nie, dat water nooit terug-
draai nie, maar te alle tye alles opneem
en onthou, aangesien elke klip,
elke gleuf en worsteling
saamgesleep moet word
na die geheue se uiteindelike
verdwarreling
met die groter water
sonder vaart[.]
Aan die vervlietingpool-kant word enersyds die verganklikheid van alles beklemtoon – byvoorbeeld alreeds deur die tweede bundelmotto, ’n aanhaling uit die Vlaming Paul van Ostaijen se bekende “Melopee”:
Zo zijn zij gezellen naar zee de kano de maan en de man
Waarom schuiven de maan en die (sic) man getweeën gedwee naar de zee[.]
Andersyds die vervloeiing van alles: die ‘herinneringe’ aan die (persoonlike, familiale, ewolusionêre, selfs metafisiese) oorspronge en verlede in die lewenshede, verbeeld met die watergegewe as (oer-, maar steeds vrugbare) lewenselement. Vergelyk die eerste bundelmotto in hierdie verband:
All in all. River again river.
No self. Water again water. Drip. Drop.
(Juan Kaplinsky, The wandering border)
Nie slegs hede en verlede is sodoende “verdwarrel” nie, maar ook die toekoms:
[…] want bron
is die water van lank voor
die mens
tot anderkant uit[.]
(Bladsy 16)
Selfs die verskynsels raak haas uitruilbaar verstrengel, verkeer in korrespondensie met mekaar (om ’n simbolistiese konsep te benut). Byvoorbeeld in die geheue. Of in die verbeeldingspel soos van ’n kind (uitgebeeld in ’n gedig wat aan sekere verse van T.T. Cloete herinner):
’n boom is ’n voël, ’n blaar,
’n ding wat vlieg, ’n vlerk,
’n vaandel vir die wind
die wind ’n boom, ’n voël,
die blaar ’n vangnet
in die stroom van wind en son
die son ’n greep, ’n hand
op die lig, iets wat alles
oogvas hou, ’n mallemeul
van kleur, van boom
en voël, blaar en vlerk,
vaandel en stroom
die vetkryttekening
van ’n kind[.]
Dis egter ’n (ver)vloeiing “waaraan jy deel mag hê / maar nooit mag besit” nie (bladsy 25). Pogings om deur die geheue of deur (die ver-beeldingswerk van) die kuns iets daarvan te bestendig – om soos in die liefde “hier aan wal [te probeer] gaan” (bladsy 48) – is gedoem tot mislukking. Sand, stof en woestyne, as eenduidiger verganklikheidsimbole, word meermale in die bundel ten tonele gevoer as teenhangers van die vrugbaarder, “geduldiger” water-motief.
Ek gebruik laasgenoemde adjektief in verband met die water-motief om aansluiting te soek by die belangrike kunsbesinningsgedigte-reeks “die geduld van water” (bladsye 38-46). Daaruit gedig 5 ter illustrasie:
lyne
na ’n balans tussen hard en sag
neig die akwarel glo altyd –
harde lyne hou die oog gevange
terwyl die voortvloeiende kwas
weer te min houvas bied
op kontoere van jul verlies –
gestilde drif, die eb en vloei
waarmee die akwarel
beweging vind en stol, beweeg
en stil – ingeklad by die ritme
waarmee die oog
verskuiwende lyne vind
en verloor[.]
Die prekêre posisie van die mens te midde van die verwikkelde spanninge tussen die “beweeg”- en “stil“-pole in hierdie lewe (om woorde uit die laaste aanhaling te benut) word treffend opgevang in gedigte waarin na vaarte per vlot of kano verwys word (met kennelike toespeling op die vermelde gedig van Van Ostaijen). Ek haal grepe uit die twee “roeier”-gedigte aan, waarvan die een vroeg in die bundel en die ander aan die einde daarvan voorkom:
dat ’n landskap van oewer en rivier
bestaan, ’n oomblik met bome
enkeldiep oor die breedte van ’n foto
en mis wat lê in elke kolking
deur die spaan gevorm
toe die roeier sy dun kano ritmies
wou stuur die spieëlbeeld in
na waar geen
versnelling moontlik is
in die bevrore posisie
van die lens nie[.]
***
[…]
die enkele roeier wat verby
kreukel, vir ’n oomblik
die watervlak steur: afdraand,
alles, alles, om gedwee spane
neer te lê en buite sig te verdwyn
met die water
as enigste verloop –[.]
Soos gesê, vind die spanningsvolle saambestaan van die pole ook neerslag in die opvallende benutting van sekere vormlike en stylgrepe.
Aan die een kant is die meeste gedigte ongetiteld. Aan die ander kant is daar ook bundeldele waarin dit anders gesteld is. Getiteld is die reekse “die heiligheid van water” en “die geduld van water” (in laasgenoemde dra ook die indiwiduele gedigte titels), asook die drie reekse en die enkelgedig wat as slotafdeling met ’n wit bladsy van die res van die bundel geskei is.
Aan die een kant begin ’n groot getal gedigte met die half-parallelistiese voorwerpsin-konstruksie “dat daar…” / “dat jy…” / “dat die water…” / ensovoorts – met die implikasie dat “die water onthou” of “jy onthou” telkens as voorafgaande werkwoordstukke veronderstel moet word. Aan die ander kant is daar ook ’n hele aantal verse waarvan die insette uniek is, en nié by die voorwerpsin-konstruksie aansluit nie.
Enersyds is daar ’n neiging tot reëlmaat in die strofe- en gedigtebou. Drie- en vierreëlige strofes is die opvallendste in hierdie verband. Selfs enkele verse wat duidelike kenmerke van die Engelse sonnetvorm vertoon, kom voor. Die meeste gedigte, insluitende die wat in reeksverband staan, is nie veel langer as sowat ’n halwe bladsy nie.
Andersyds kom ook vryer versvorme voor, ontbreek eindryme en reëlmaat in versreëllengtes, is die meeste gedigte sonder hoofletters en leestekens.
’n Mens ontdek dus op alle vlakke ’n hoogs funksionele gestaltegewing van die spanninge tussen bestendiging en vervlieting (relativering) in wat die water onthou.
Dis nie maar net ’n versameling van dikwels treffende indiwiduele gedigte nie; die bundel vorm ’n boeiende eenheid.
Jammer is dit derhalwe dat ’n klompie woordkeuses en beelde (meermale geïnspireer deur die strewe om aansluiting by die water-motief te vind) gesog, troebel of vals aandoen, en enkele sinskonstruksies ietwat lomp voorkom:
· “die maalkolk / van jul droogste jare” (bladsy 13);
· “die uiteindelik verbryseling / van klip met dinamiet en gesin” (bladsy 14);
· “die bevrore posisie / van die lens” (bladsy 18);
· “selfs die kleinste saad // hoog te wortel” (bladsy 19);
· “soms klingel water rooi / in jou glas” (bladsy 26);
· “’n eerste gedagte aan / lewe as aangeklamde wasem // in alle dinge” (bladsy 32);
· “onkundig oor die doel // van hierdie verbryseling / so sonder rigting / of die gewig daarvan” (bladsy 33);
· “waar julle aan mekaar bly klou / asof julle nooit weer uitgedroog / of droog wil wees nie” (bladsy 56);
· “deur die verloop / te bloei na ’n verbeelde kant op ’n ander oewer” en “word die landskap / onder sirene byeengebring” (bladsy 60);
· “Skielik flits ’n voël by jou verby / en lê sy dors / lynreg voor jou neer” (bladsy 67);
· “toe ’n uitgedroogde hand / iewers agter in ’n grot die eerste mond vol / skep om te drink” en “’n vloed van droogte” (bladsy 68).
Gelukkig is daar talle en talle méér voorbeelde uit die bundel waar die gedigte in hulle geheel knap afgewerk is, en waarvan die beelding ’n mens bybly – soos al uit van die sitate hierbo behoort te blyk. Miskien nog een vers om laasgenoemde te onderstreep, naamlik uit die reeds vermelde mooi reeks liefdesverse:
dat jy jare gelede by breë water
gesit en hengel het, dag lank die ure
gerol het om die spoel
van jou katrol, die ligte stuwing
in die water gevolg het deur jou aas
daarheen te kaats, hopende
dat die vis die ligte gefladder
van die kunsvlieg op die oppervlak
sou smoor, maar telkens
rol die ure glad om jou spoel
terug – tot dit sy is wat langs jou
kom sit, hier, op die oewer
langs lustelose water –
om dan lag-lag haar moeë vis
uit sy donker bui te lig[.]
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Wednesday, January 13th, 2010
oogensiklopedie. Deur Gilbert Gibson. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04831-2.
 oogensiklopedie. gilbert gibson
Gilbert Gibson het met boomplaats (2005), waarvoor hy die Protea-poësieprys ontvang het, en Kaplyn (2007) ‘n reputasie as digter van die minder toeganklike, van die begripsuitdagende, sogenaamd “hermetiese” of “geslote” soort vers opgebou.
Met oogensiklopedie, wat laat verlede jaar verskyn het, versterk hy dié reputasie op oortuigende en kragtige wyse.
Laat my dadelik sê: Nie naastenby al die gedigte in oogensiklopedie is van die geslote soort nie. Verse soos “aisling”, “another roadside attraction”, “daguerreotipe”, “hoe ‘n motorfiets snags verby”, “huis 16″, “interim:”, “locus iste”, “nietig”, “rehabilitasie”, “ruach jahwe”, “sand”, “selakant (ii)”, “swerf”, ensovoorts spreek treffend genoeg as ‘t ware vir hulleself. Vergelyk die volgende gedig, met sy skreiende ironieë:
lamentasie (ii)
welgeluksalig is die wat van die veronderstelling uitgaan
dat alles, ja alles, beter sal word;
diegene van wie die hart van skone skok
in winterswem wil-gaan-staan.
welgeluksalig die wat die reuk van rooigras
as simbool van beterwete onthou,
wat dié gras tussen ander halms kan herken.
welgeluksalig die wie se asem van trappe klim opraak,
naelbyters, angstiges, die wat vroeg soggens wakker word
en nie verder kan slaap nie. welgeluksalig
die wat met die hand skrywe, sampioenplukkers,
horlosieversamelaars, die wat onnodig bang of verlang:
twee vir ‘n stuiwer; die binneste donkerte.
welgeluksalig die wat in vliegtuie vaak raak,
die wat ly aan roomyshoofpyn, oë
soos bloedgestude plasse in die gesig
welgeluksalig die wat bemin
met ‘n mond vol gif. in drome vry
is die geluk so gelede
soos ‘n kwashaal op ‘n skildery[.]
Maar dan staan daar ook ‘n hele aantal gedigte in oogensiklopedie waarvan ek, selfs na herhaalde lees, moet getuig dat hulle my lesersdrang na die lê van samehangende verband, na koherente betekenistoekenning, bly fnuik. ‘n Voorbeeld:
gras
ek vermoed aan die temper van stap
dat vorentoe vaar soos ‘n skip op donker water
en daaronder die rivier retireer soos ‘n oog voor skrik,
‘n oomblik beduidend tussen lig en donder.
ek vermoed dat elke intrek van asem
‘n aalmoes uit die weerkaatsing van terugkyk stroop:
‘n geheim; slitted eyes
die mond ‘n tergende wond
wat wind oper forseer
(deur en vir die wolwe).
bloed is vir my
soos gras vir waltwhitman,
‘n minuskule motief. daaragter,
a long history of madness[.]
Maar: júís, besef ‘n mens skielik. Staan die woorde “geheim” en “a long history of madness” nie daar in die gedig vir almal om te sien nie?
Tot tweemaal toe in die bundel (bladsye 16 en 95) word die haglike verband tussen taal en werklikheid uitgespel. Vergelyk uit die gedig “ataraksie” (’n titel wat waarskynlik ‘n funksionele kontaminasie tussen “attraksie” en “ataksie” behels, waar laasgenoemde term wanorde of ‘n onvermoë aandui om bewegings te beheer as gevolg van senusiekte):
hy verduidelik geduldig hoe taal
die wêreld verwring, hoe die wêreld taal verwring.
Die neerslag van hierdie dilemma in die bundel is ‘n voortdurende spanning tussen helderheid en duisterheid van betekening. En dit gaan nie net om die afwisseling van “begryplike” en “onbegryplike” gedigte nie. Byna elkeen van die meer toeganklike verse bevat ook iets “geheimsinnigs”; let maar op wat in die slotstrofe gebeur van die hierbo aangehaalde “lamentasie (ii)”.
En in elke “duister” gedig is daar minstens moménte van “helder”, onmiddellik treffende formulering, hoewel die implikasie van die gediggeheel mag stribbel teen die leser se begrip. Ek haal maar nog ‘n voorbeeld aan:
triste
die aand daal oor die huis nes lig
wat om vuur sirkel, en primitief in vroegdonker die vlam be-
sweer. dieper gekring het jou jesus
hierdie aand berei soos ‘n teug uit die hiernamaals, ‘n
vlugtige nabootsing van die intieme verhouding tussen lewe
en dood. hy het in die voornag
sinne enduit van asem laat opraak
agter die wrang trek aan die binnekant van die wang
die keel laat snoer tot stil.
hy het julle almal versorg, en toe uitgestap
in die donker en ver
‘n hond hoor blaf, geweerklank,
asof uit ‘n kerk. die donker was wispelturig
nes vuur om nat hout. in die huis
was die afwesige lig soos ‘n lam geslag,
verlos van pyn en poging tot.
en het bo ‘n paar sterre gefladder soos hande as hy
toe-oog sing, hande soos twee parkiete daardie oomblik
voordat die kou finaal oopgaan:
die aand daal oor die huis nes lig
wat om vuur sirkel
tot donker[.]
Motiewe soos slaap (en die afmattende teenstelling daarvan: slapeloosheid), drome, geslote oë, skemertes, donkerte, onthou en vermoed hou opvallend met sodanige spanning, asook met die epistemologiese twyfel wat dit onderlê, verband.
Trekke van wat al tot afslyting toe as postmodernistiese literatuurkenmerke bestempel is (en ek leen so stuk-stuk uit Hein Viljoen en Chris van der Merwe se Alkant Olifant. ‘n Inleiding tot die literatuurwetenskap), deurspek dus (die lees van) oogensiklopedie: onbepaaldheid (betekenisfragmentering en -onsekerheid); die gevolglike aktiewe rol van die leser in die konstruksie van die teks; beklemtoning van die ironiese en absurde; die problematisering en radikale relativering van werklikheidsbelewing en van die grense tussen literêre genres; vooropstelling van intertekstualiteit (besonder opvallend gemaak in die reeks “sewe dubbelsinnighede”) en van vasgevangenheid in taal (en literêre vorme, byvoorbeeld vooropgestel in die herhaaldelike benutting van die Shakespeariaanse sonnetvorm in die bundel).
Nie verniet nie lui die slotstrofe van die openingsgedig:
[...] ‘n woordige lei: interspasie taal
die oopveld atonaal[.]
Die bundeltitel suggereer ook ‘n spanning tussen die subjektiewe (oog, manier van kyk) en die objektiewe (ensiklopediese kennis, wetenskap) - ‘n teenstrydigheid wat ewe kenmerkend is van die postmodernisme, waar narcisme (ekkerigheid, selffokus deur die skrywer) en selfverlies (leegheid, platheid en fragmentasie van die ek) as ‘t ware meeding as gereflekteerde lewenshoudings.
Die “metafoor van die oog” waarvan daar in die genoemde “ataraksie” gewag gemaak word, slaan op die manier van kyk, op visie, dit wil sê op die beperkte, nie-omvattende, nie-allespeilende kyk (waarneming en gewaarwording) waartoe die menslike subjek gedoem is - die oomblik voor die visioenêre, soos in die woordelys agterin die bundel verduidelik word. Die herhaalde voorkoms van woorde soos kyk, sien, loer, oog, lig, donker, skemer, oftalmologiese, visie en foto’s stippel die deurlopendheid van dié motief in die bundel uit.
Dis eintlik ironies dat die openingsgedig “visioenêr” van inslag is - “uit fragment / tot resonansie geswiep”, hoewel daar ook maar net gevorder word van “onskuld” tot “onkunde”.
28°47′S; 27°19′O
daar is ‘n plek iktaal
‘n plek waarvan jy weet
waar jy jou geografiese einde
met die ope arms van epilepsie
omhels. die plek het gras uit fragment neuropoëse
tot resonansie geswiep, die spriet anoniem
en weerskante marginale sipresse
wat in die aand konfrontasies vermy
onder voed ‘n gefermenteerde reuk soos
aan die binnewand van ‘n populierbos
na reën: eers onskuld, toe onkunde,
die smalle en die breede weg
en all that shit. daar is ‘n plek in temporale
afstand in geheime relaas tot gras,
die lug gegrys die lig laag op laag
soos ‘n woordige lei: interspasie taal
die oopveld atonaal[.]
Twee gedigte verder word die waan van die interpretatiewe, begrypende blik (ook - ironieserwys - gesuggeer deur “interspasie” aan die einde van bostaande gedig?) egter skouspelagtig ondermyn as onder meer geykte religieuse sienings en retoriese stelwyses ortografies ontwrig word:
ama tis
diehe reis ‘n lig en ‘n heil
virwie souek vrees?
diehe reis dietoe vlugvanmyl ewe
virwie vervaar dwees?
‘n droo mgaanver bys oos
wat er wat vallens
kuurt een my
hoë rop hoë rop
jaso os ‘n doods kaduwee
so os ‘n groe ndal:[.]
Ook die digter bly beperk tot “die kyk se singende lens”, soos dit in deel (ii) van die reeks “://_mezangelle” gestel word. Dié gedigreeks, asook die gedig “ex libris”, kan uitgesonder word as gedigte waarin die problematiek van die digterlike vertolking op die spits gedryf word, juis ook deur die verregaande aandagvestiging (deur middel van kantaantekeninge en die benutting van allerlei tekens uit die rekenaar- en internettaal) op die tekenmatige, manipulatiewe aard van taal en poësie.
Dat die wyse “whereby visible Objects are represented to the Mind” (uit die aanhaling wat in die bundelmottoposisie staan) ingrypend deur die talige en poëtiese vergestalting daarvan geraak word, word op ‘n hele paar maniere in die bundel beklemtoon.
Eerstens kom ‘n rykdom aan intertekstuele verwysings, toespelings en aanhalings voor, met die Bybel en die tradisionele Afrikaanse geestelike liedereskat wat uitstaan as bronne in hierdie verband. (Onder meer word ook die volgende outeursname genoem of iets van hul werk geëggo: e.e. cummings, James Joyce, Michael Ondaatje, Van Wyk Louw, Borges, Margaret Atwood, Ingrid Jonker, Gert Vlok Nel, W.H. Auden, Wallace Stevens, D.J. Opperman, Breytenbach, Eugène Marais en Jan Celliers.)
Tweedens is kantaantekeninge en/of voetnotas by party gedigte aangebring, onder meer in die vorm van verklarings, uitbreidings en geassosieerde interteksvermeldings. Soms is die gesuggereerde verbande hier (doelbewus) yl, indien nie misleidend nie (soos by die gedig “hipostase”, wat hierna aangehaal word).
‘n Lys van woorde met verklarings is, in die derde plek, aan die einde van die bundel opgeneem, terwyl dié lys ook afgedruk staan op die voor- én agterplat van die bundelomslag. Ook hier is elemente van “onbetroubaarheid” te bespeur: Sommige inskrywings is nie werklik verklarend van aard nie, terwyl enkele verklarings slegs gedeeltelike toeligting bevat.
Die verduidelik van die betekenis van die gedigtitel “hipostase” as “onderliggend tot” is van laasgenoemde ‘n voorbeeld. Eers as ‘n mens in woordeboeke naslaan dat dié term slaan op ‘n “fundamentele beginsel, basis, grondslag”, maar ook op ‘n “enkelvoudige substansie” en op ‘n “substansiëring van ‘n goddelike eienskap”, word iets meer aangaande die gedig duidelik.
hipostase
nes asof in ‘n ongedroomde lê voor dorpe
die wind onder my vingerafdruk vas:
afdraaipaaie dreigend,1 verweerde mure nog warm
van gister se son.2 na die droom
is die kneusing op my kussing soos die kleur van ploegskaar, alles
in the name of the lord
- 1. die arbeid van wind oor dorpe is goedkoop, is seisoenaal: ‘n fisant se opvlieg na onverwagte reën; murasies; die besleg van verskille
- 2. in die skemer is trekvoëls oor die donkerwordende die dorp se dialoog. en bleek die witskrif tot wolk soos ‘n vingernael reg van voor; ‘n maan oor die dorp
Vierdens is daar die reeds genoemde benutting van rekenaar- en internettaal en -tekens in bepaalde gedigte.
In die vyfde plek moet in hierdie verband die ontwrigting van die normatiewe en geykte woordgebruik- (byvoorbeeld deur woordsoortfunksiewisselings, of deur ortografiese verskrywings, soos in “ama tis” hierbo) en sinsboupatrone (veral ellipse) genoem word, asook ongewone beeldingswyses wat oral in die bundel voorkom. Die reeds vermelde “ataraksie” haal ek hier ter illustrasie in sy geheel aan:
hy verduidelik geduldig hoe taal
die wêreld verwring, hoe die wêreld taal verwring.
skets iets uit ‘n coen-film, vinnige nadertrek-
skote, in die voorgrond die gehuil
van ‘n deur wat oop- of
toegaan. hy wag op onsekerheid, of meer
gru nog, gewisse dood,
die element van verrassing. die woord
is ‘n hond van god. liefde is ‘n doek. hy
glo in die heilige maagd
soos aan die metafoor van die oog
die film is ‘n straal, ‘n pad na boek. verban; berou
die verinnerde vanwyklouw[.]
‘n Sesde opvallendmaking van die talige en poëtiese ingreep op die werklikheid(-swaarneming) is die benutting van (min of meer) vaster digvorme, soos die reeds vermelde Engelse sonnetvorm, en selfs enkele voorbeelde van Opperman-agtige verse opgebou uit rymende distigons. Meermale eindig andersins eindrymlose gedigte op ‘n nadruklike paarrym - iets wat ook in Gibson se vorige bundels voorgekom het, soos ook enkele voorbeelde van sonnetagtige gedigte en ‘n paarrymende vers in boomplaats.
‘n Besonder sprekende uiting van die taalmatige en derhalwe werklikheidsverwringende afdwinging van orde is die wyse waarop die gedigte in oogensiklopedie alfabeties volgens die beginletters van die bundeltitels gerangskik is. So ‘n alfabetiese rangskikking, byvoorbeeld van bestaande kenniseenhede en velde in ‘n ensiklopedie, is in wese ‘n buite-epistemologiese beginsel, iets heel arbitrêrs dus. Die (manipulerende, maar eintlik magtelose) arbitrariteit van só ‘n ordening word bykomend kenbaar gemaak in die gedig “ideografie” (waar dié titel blykens die woordelys agterin onder meer ironies slaan op “grafiese tekens wat idee [...] uitbeeld”). Dis opgebou uit ‘n lysting van die gedigtitels tot (nogal genommerde!) “versreëls” wat telkens een van die benutte alfabetletters dek.
Van die bekende wyses van bundelrangskikking (byvoorbeeld op sikliese en/of reeksmatige grondslag) het ‘n parodie oorgebly - selfs al kom ‘n aantal gedigreekse in die bundel voor, en al lyk dit of daar breedweg van ‘n meer spesifiek gelokaliseerde konteks aan die begin (vergelyk die kartografiese posisieaanduiding as titel van die openingsgedig soos hierbo aangehaal) na ‘n groter, selfs kosmiese verband aan die einde van die bundel gevorder word (waar die mens-God-verhouding in die slotgedig “wat die mens” ter sprake kom).
Hierdie “arbitrêre” bundelrangskikking stel egter juis ‘n funksionele gestalte daar met betrekking tot die strekking van die bundel.
Soos aangedui, sinjaleer die ensiklopedie-deel van die bundeltitelwoord ‘n meer objektiewe kennispool, as teenhanger van die uitgelewerdheid aan die subjektiewe persepsie van die indiwidu. Die uitdrukking “kenosis van die oogensiklopedie” in die reeds vermelde sentrale gedig “://mezangelle” (’n titel wat luidens die woordverklaringslys agterin op “poëtiese kodering” dui) vertolk die strewe in hierdie verband. “Kenosis” word soos volg in dieselfde woordverklaringslys verduidelik: “die gedeeltelike verlies van die goddelike natuur by die christus as mens. leegmaak; lediging (gr.), soos die afstanddoening van die eie ek in die skryf van ‘n gedig”.
Vandaar die (pretensie van) ‘n ensiklopediese aanslag, van die aanwending van wat gewoonlik as “tipies wetenskaplike” stylkenmerke geag word: begrippeverklaring, bronverwysings, voetnotas, nommering van sommige gedigtitels, strofes en verwysings.
Die woord “iktaal” word in beide die openingsgedig en die tweede laaste gedig in die bundel (”wantroue in die lettertipe”) gebruik om hierdie dubbelslagtigheid of polariteit tussen subjektiwiteit en objektiwiteit verder te beklemtoon. “Iktaal” is luidens die verklarende woordelys agterin ‘n woord afgelei uit die Latyns iktus, wat na sowel “aanval, soos in epilepsie” (= verlies van die “eie ek”) as na “klemtoon, soos in aksent” (= die persoonlike nuanse) verwys.
Via die Nederlands “ik” koppel Gibson die woord ook aan “‘n plek iktaal”:
[...]
‘n plek waarvan jy weet
waar jy die spasie wat in windgreep vou
met die warrelende arms van onheil omhels
die plek altoosdurend en by verstek
eie; ek[.]
(”wantroue in die lettertipe i”)
Die subjektiewe beperktheid blý geld. Geen wonder dat die antiek-Griekse siklope-mite oor die eenoogreuse in die bundel betrek word nie (in die sewedelige reeks “sikloop”).
‘n Besonder boeiende element in oogensiklopedie, gesien die postmodernistiese gees en die radikale epistemologiese twyfel wat so sterk daarin figureer, is die waarneembare religieuse inslag van dele daarvan, byvoorbeeld in gedigte waarin daar van gebed sprake is. Myns insiens kan die religieuse belewing, veral die menslike siening van en kennis oor die Godheid of ‘n godheid, analoog gesien word aan die algemene waarnemings- en kennisproblematiek wat so sterk in die bundel figureer. Die spanning tussen (die hoop op of vertroue in) ‘n samehangende, betekenisvolle beskouingsraamwerk, al is dit dan metafisies gefundeer, en die subjektiwiteit, ontoereikendheid en gefragmenteerdheid van die belewing van die goddelike teenwoordigheid en bestiering in die hiermaalse, bestaan ook hier. Vandaar frases soos die volgende:
toe ruite. maar ons here
was besig met die ewige
["die kind (ii)"]
u gee guns aan stof
u naam keer terug tot die gebede van verwerptes
u kom snel
u is selfde (ek veronderstel)
["mariamagdala (iii)"]
- daar is ‘n geluidlose verlange
uit die middelpunt
van ons, die bang gemoed,
en donkerte, ‘n herinnering
aan lig.
["tjernobil (ii)"]
- geloof, die sluipende suspisie
[...]
die stil gebed van prosac
(”wat die mens”)
In die lig hiervan is daar ‘n akute besef van die menslike nietigheid. Gras (en die verwante halms en kaf), ‘n ander opvallende motief van Bybelse oorsprong in die bundel, is simbolies hiervan.
Op die “skeel kyk” en “wegskramsê” van Gibson se debuutbundel, op die problematisering van die verwysende funksie in (digterlike) kommunikasie, word, soos gesê, kragtig en buitengewoon boeiend voortgebou in oogensiklopedie. Die leser word dikwels uitgedaag tot die invul van betekenisgapings, en selfs mislei in die proses, om die sentrale problematiek as ‘t ware aan eie lyf te voel.
Die bundel is ook ‘n uitstaande voorbeeld in Afrikaans (soos ook byvoorbeeld Antjie Krog se Lady Anne uit 1989) van poësie waarvan sommige gedigte buite die bundelverband heel moeilik leesbaar sou wees.
Nie ‘n bundel vir Jan en alleman nie. Maar ‘n unieke bydrae wat nie gemis kan word in Afrikaans nie.
‘n Mens is dus dankbaar dat ‘n “ruim subsidie” van die LW Hiemstra Trust (blykens die kolofon) die publikasie daarvan moontlik gemaak het. Dis ‘n subsidie wat nie aldag vir die uitgee van solodigbundels beskikbaar gestel word nie, en ook nie Gibson se vorige twee bundels beskore was nie.
Hierdie is ‘n relatief lang resensie. Maar veel val nog te sê oor die bundel, waarskynlik dikwels andersluidend as mý poging.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Tuesday, December 22nd, 2009
Een hart. Deur Johannes Prins. Lapa Uitgewers. ISBN 978-0-7993-4509-4.
 een hart
Johannes Prins, kwekeling van Stellenbosch en bekroonde joernalis by die Johannesburgse dagblad Beeld, het in 2001 as digter op die voorgrond getree met ‘n elftal gedigte in Tafelberg-uitgewers se Nuwe stemme 2. Met een hart is hy die sewende van die debutante in daardie bloemlesing wat met ‘n solobundel vorendag kom.
Dit bevat skaars 40 gedigte, maar lewer ‘n boeiende en meermaals ontroerende leeservaring op.
Die bundeltitel is ewe bedrieglik in sy bondige eenvoud. In die eerste plek roep dit die belangrike liefdesgegewe in die bundel op.
‘n Hele paar liefdesgedigte is gemik op die verhouding met ‘n vriendin en latere huweliksmaat, soos dit gekenmerk word deur hartstogte én (aanvanklike) onsekerhede en spanninge. Vergelyk:
pas
‘n begrafnisdiens van ‘n vriend van ‘n vriend
van jou in worcester lok ons uit die paarl
met dreunende sonbesies pak ons die tog deur
du toitskloof aan - hitte walm van die teer op
en jy sit en sweet in jou swart rok
wil jy ons ook nou dood hê vra jy soos ek die draaie
van die pas sny - agter skuif jou vriend met ‘n blink gesig rond
in die kerk kraak houtbanke terwyl die sin van ‘n motorongeluk
oorweeg word - die skielike-heengaan-trooswoorde
van ‘n jong dominee hang in die lug
deur loodwerkvensters vermeng die son kleure op die vloer,
‘n druppel loop agter jou oor in jou nek af
tussen die laaste gesang en die amen herinner ek my dat dit
‘n sekslose somerdag sal wees - een waar jy die aand stil sal rook
en later na ‘n glas wyn jou onderlyf teen my kom vasdruk[.]
Later, wanneer die nuus van ‘n eerste swangerskap vreugdevol ontvang is, verdwyn die spanninge en verloop ‘n motorrit byvoorbeeld op liefderik-speelse wyse:
soveel tale
“yo veo un letrero” sê jy op die langpad
agter die spaanse les in die cd-speler aan
“ja ek sien ook ‘n padteken en ek weet ons
moet seker hier afdraai of hoe?”
“sí señor,” sê jy met ‘n breë glimlag en pomp
my in die ribbes - ons draai af na paternoster
“ek verstaan nie die geslag-ding in dié taal nie,” sê ek.
hoekom is ‘n motor manlik en vragmotor vroulik?
“miskien omdat ‘n mens meer in ‘n vragmotor kan laai
en motors gewoonlik groter ego’s onder die enjinkap het?”
“en in chinees” dink ek hardop oor die drumpel by ons huis,
“is die karakter vir vrede ‘n kombinasie van ‘dak’ en ‘vrou’”[.]
Liefdevolheid, hoewel nie ongekompliseerd nie, kleur ook die spreker se verhouding met die Boland en die Karoo. Die treffende “juwelier” suggereer die deernis waarmee die spreker sowel die gesinslewe as die Karoo betrag:
wanneer die aandvoël
nes maak
en die plaaslyne
in kode
die komende
onweer verklap,
sug die huis ‘n warm sug
die gang verlang
na karookinders met amandeloë
wat vroeër die dag
luidkeels stille nag op
blokfluite geblaas het
en nou droom
van jakkalsvoëls
en reën
en wanneer twee
polisiemanne uit die bloute
opdaag om jou
goudregister na te gaan - een
druk selfs sy hande
in die suur - sê jy:
“elke ons is hier meneer,
elke kind is hier.”
‘n “Bolandse” gedig soos die volgende roep bekende terugkeer-na-die-vader-toe-verse van W.E.G. Louw en Breyten Breytenbach in herinnering:
Ek sal doodgaan
ek sal doodgaan
inkonk
so met die hand
op my bors
ek sal nie wellington
toe gaan nie -
ken niemand daar
met ‘n bordienghuis nie
ek sal een oggend
my arm oplig
om te skeer
en in die spieël sien
die oog
is verby
die bloed sal in my slape klop
die hart sal skuurloop
soos ‘n huurder -
‘n laataand-lister
voor die nag
se nag
ek sal doodgaan
stellenbosch toe
in dorpstraat óp dros
jonkershoek in
waar sneeubedekte pieke
met kranse die blou
uit die hemel hengel[.]
Hiermee word ‘n volgende belangrike tematiese veld aangeraak wat ook al deur die bundeltitel geaktiveer word: siekte en sterflikheid. Blykens gedigte soos “hart”, “basiskamp” en “diefstal” is die digter se familie aan vaderskant hartsiektelyers, terwyl sy moeder weens kanker gesterf het. Hy vrees dat ‘n soortgelyke lot hom sal tref, wat gevoelens van selftwyfel en weerloosheid aanwakker (”trapmeultoets”,”toewens”, “basiskamp”, “malaria”, ensovoorts).
Die ouderdom 33 word meer as een maal te berde gebring (”nasedit”, “drie-en-dertig”), telkens in verband met dood of doodsvrese. Christus se sterfouderdom word sodoende gekonnoteer.
Kaartspel blyk volgens die gedig “brugrubriek” egter die primêre vindplek van die bundeltitelkeuse te wees.
soos ek kan onthou was dit ‘n baie helder,
nugter oggend - geen voorbodes
of swanger afwagtings
met my by-die-deur-uitstap het hy
dié dag se roepery begin - dit was duidelik
en ondubbelsinnig: een hart
[...]
Assosiasies van waagspel, onsekerheid, onbeslistheid, huiwering, teenstrydigheid, tussenstandigheid en kwesbaarheid word derhalwe óók deur die bundeltitel geaktiveer - en sodanige lewensgevoel word, tot naby die einde van die bundel toe wanneer die geluk van die eie gesinsverband oorheers, die dominante in die bundel. Die digter se nering as joernalis hou met hierdie lewensgevoel verband. Daardeur word hy genoop tot ‘onpartydigheid’ en groter ‘objektiwiteit’, selfs tot ‘n sekere onthegtheid. Daar is ‘n diepe besef van die voorlopigheid en relatiwiteit van oortuigings en stande van sake , juis ook in die lig van die misdadighede en geweld wat die Suid-Afrikaanse aktualiteit deurspek.
‘n [N]uusredakteur
bid nie
want god is net nog
‘n storie[;]
en:
‘n nuusredakteur
bid nie
want god is net nog
‘n leser
- só begin en eindig die gedig “nuusredakteur”, ietwat sinies opgedra aan die fundamenteel Christelik-religieuse digter T.T. Cloete.
En die twee buitenste strofes van “glo” lui:
soms
maar net soms
wens ek
[...]
ek kan glo
dat alles nie tot niks
kom nie[.]
Die woord “nomade” word meer as een keer in die bundel gebruik in verband met die spreker en sy geliefde, terwyl half-gepakte en -uitgepakte kartondose herhaaldelik vermeld word om hulle tussenstandige posisies te beklemtoon. Enkele verwysings na die Boeddha-figuur bring ‘ontheemdheid’ as bestaanservaring - voordat uiteindelike ‘verligting’ en rus gevind word - verder ter sprake.
Myns insiens moet die hoofsaaklike vryer versvormgewing in die bundel met sodanige belewing van onbeslistheid en voorlopigheid in verband gesien word. Dit wissel van (oënskynlik) minimale digterlike ordening (met die kroegtoneeltekening in “koedoe-steaks in nieu-bethesda”, wat funksioneel in dié verband uitstaan) tot wel tog sterker graderings van tipografiese reëlmatigheid (soos uit van die hierbo aangehaalde verse behoort te blyk).
Relativering en onvoldongenheid word in ‘n sekere sin ook vooropgestel deur die opvallende benutting van omvangryke parenteses in ‘n aantal gedigte (”jy”, “malaria (ii)”, “glo” en “melkweg”). Ek het reeds die begin- en slotstrofes van “jy” aangehaal. Die drie binnestrofes daarvan lui:
(dat ek só
soos jy
skoorsoekend en kwaad
en verward kan bid
en verwyt
en vra
hoekom dit
en hoekom dat
om deur daai boek
te blaai
en ‘n vers te soek
vir krag
en verstaan
en hoop -
it softens the blow
nogal weet jy
om hande te vat
en die seën te vra
en te weet
dit kom van elders
van bo
dankbaar te wees
want iewers hou iemand
‘n oog)[.]
Laastens wil ek die titel een hart ook sien as indikasie dat al bovermelde, uiteenlopende ervarings en sienings in één gemoed setel.
Vandaar die bundelordening sónder bundelafdelings (maar waarin ‘n min of meer chronologiese lewensverloop merkbaar is). Reekse gedigte oor bepaalde temas volg mekaar ongeskei op; trouens, soms oorvleuel ‘reekse’ kennelik in bepaalde gedigte. Ter versterking van die vervlegtheidsindruk van die verwoorde belewings duik motiewe soos die liefde, lewensdreiging en onbepaaldheid telkens op verskillende plekke in die bundel op.
Die Taoïstiese jinjang-simbool aan die begin van die bundel is ‘n teken dat dit om die harmoniëring van polêre manifestasies gaan.
Voorts: Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.
Die slotgedig, met sy treffende ironieë en sterk sentrale beeld, lui:
man diesel
hoe kom ‘n vers
na jou toe
vra jy op vrouedag in hendrik potgieter
ek skud my kop
en sê nee ek weet werklik nie
want dis soms vreemd
die hele ding
ons sou byvoorbeeld
op pad makro toe
wees om te gaan wyn koop
en dan klim daar
sommerso
‘n vers by ‘n man diesel
se deur uit
en tuur ver in sy blou overallbroek
na die metrocop wat hom pas
afgetrek het
en verstel onder sy maag
aan sy belt se kopergespe
vee met swart naels
en ‘n hand so groot
soos my oupa s’n
oor sy sweterige
voorkop
en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe
en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself[.]
Juis die treffendheid van die man-in-blou-overallbroek-beeld in dié slotgedig laat ‘n mens besef dat ongewone of vindingryke beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie (waar dit byvoorbeeld die hartklop van die poëtiese effekte in Danie Marais se twee bundels uit onlangse jare is). Trouens, in gedigte soos “brugrubriek” en “Jasus klim uit die water (i) & (ii)”, waar daar hard gewerk word in die rigting van uitgebreide simbolisering of allegorisering, voel ek ‘n mate van onnoodwendigheid en geforseerdheid aan.
Maar in die geheel gesien, hoef Prins nie die kritiese toets te vrees waarop hy in die openingsgedig, “verse”, skimp nie:
[...]
dit rym
nie sê die man,
skryf jy nou maar
net wat jy wil
meneer
my verse is uitgelewer[.]
[E]en hart is ‘n sterk debuut. Dat ek ryklik daaruit in hierdie resensie aangehaal het, behoort my plesier by die lees daarvan te bewys.
Dit verdien ook ‘n pluimpie vir Lapa, wat maar eers in onlangse jare tot die uitgee van poësie oorgegaan het. Met bundels soos dié, ook met byvoorbeeld Ilse van Staden se Fluisterklip en Johan Myburg se aangrypende Kamermusiek in die afgelope jaar of twee, bewys Lapa sy ernstige intensies op klinkklare wyse.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Friday, December 18th, 2009
Watermerke. Deur Lucie Möller. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-312-6.

- Watermerke. Lucie Möller
Lucie Möller is ‘n Suider-Afrikaanse naamkundige met talle vakpublikasies op haar naam.
Sy is kennelik, en waarskynlik vanweë haar wetenskaplike belangstellingsveld, ook ‘n liefhebber van die landskappe en natuurlewe van Suid-Afrika en Namibië.
In die Waterberge (’n naam wat in die klanke van die bundeltitel eggo) besit sy ‘n stukkie Bosveldplaas. Ook daardie wêreld vorm ‘n belangrike inspirasiebron van die gedigte in hierdie debuutbundel.
‘n Mens lees van Liefdood, Kombersbrand, Khowas, Beenderebaai, die Swartebbehoutvlakte en nog baie ander plekke wat waarskynlik aan min Afrikaanse poësielesers bekend is. En met onmiskenbare genot en gehegtheid word natuurdinge soos sôu-sôu-gras, abiekwabome, graafwatersgate, oumansbaarde, swerwermammoetbome en pylvlekkatlagters genoem en uitgebeeld. Dit behels ‘n natuurliefde wat met taalliefde gepaard gaan, met raaksê en lekkersê, meestal soos dit uit die volksmond kom.
Hierby sluit ‘n simpatieke betragting van tradisionele (en dikwels bedreigde) volksleefwyses aan. In Watermerke is dit veral die leefwêreld van die Boesman wat ter sprake kom (afdeling II), hoewel ook ‘n vlugtige besoek aan die kontrei van ‘n Amerikaanse Indianestam gebring word (”Sequoyah”).
Sodoende voeg Möller toe tot ‘n tematiese terrein wat alreeds ryklik ontgin is in die Afrikaanse poësie, deur voorgangers soos, om maar ‘n paar te noem, Eugène N. Marais, C. Louis Leipoldt, N.P. van Wyk Louw, Boerneef, George Weideman, Johann Lodewyk Marais, T.T. Cloete en Carina Stander.
Möller word aangegryp deur sowel die dorrer streke van ons kontinent (afdeling II, “Aan voetsole”) as die ruier omgewings (afdeling III, “Die oerbos in”). Dis trouens duidelik dat haar fassinasie uitgaan na skaars-bevolkte lands- en wêrelddele, waar relatief min tekens van menslike teenwoordigheid en aktiwiteit te vinde is. Van die treffendste gedigte in Watermerke ontspring aan hierdie gehegtheid.
Ongewone samesyn
Ligene sprei in woude
en woestyne ‘n bont tapyt
van nuwe lewe oop.
Oor takke, rotse en kranse
drapeer hul oumansbaarde,
motgevrete lap
en damesfyngoed, patrone
van filigreinse kant en hang
agter ‘n plantgordyn
slingerblink syerige serpe
waaragter glimlagte skuil
oor die versteekte samesyn.
Hiernaas word die ontwrigtende impak van menslike bedrywighede op die omgewing onder die loep geneem, byvoorbeeld in afdeling I waar vuur tot ‘n opvallende motief van vernietiging uitgebou word - maar ook van loutering en van voorbereiding op nuwe groei.
‘n Kort gedig soos “Verneukpan”, met sy funksionele sintaktiese onvoltooidhede en sy sentrering op die bladspieël om ‘n ‘swewende’ indruk te maak, is vermoedelik sinnebeeldig van meer as net die vervlieting van verskynsels:
waar ‘n blou voël opstyg
en nie weer land nie
waar sy skaduwee grys vlerkstrepe trek
oor Vaderlandspan[.]
Die slotwoord suggereer dat dit ook om spesifiek die verydeling van nasionale drome (byvoorbeeld deur die Afrikaner) kan handel. Is daar weerklanke van Leipoldt se alombekende “Sekretarisvoël” te verneem in die vreemd ongeïdentifiseerde, vertrekkende “blou voël” in dié gedig, waardeur laasgenoemde interpretasie versterk sou kon word?
Hoe dit ookal sy, dis opvallend hoeveel keer in die bundel van ‘n ongespesifiseerde “ons” gewag gemaak word - aanduidend van sowel ‘n kleiner as ‘n groter identifikasiegroep (byvoorbeeld die spreker se naaste geliefdes én die volksgroep waartoe sy behoort).
Die verganklikheidsgegewe word deur die bundeltitel gesinjaleer, hoewel dit in die bundelverband ook toespeel op die ‘sagte’ kragte in die bestaan, waaronder drome en heugenis (ter sprake in die gedig “Wildepeerblom”), maar wat dan ‘n radikale (her-)skeppende uitwerking kan hê. Van laasgenoemde sou gedigte soos “Bivakberg” en “Skeurkloof” aan die begin van afdeling III as metafories gesien kon word.
Tydelikheid, die nietige en vernietigbare van die aardse bestaan soos dit kontrasteer met die kosmiese dimensies, is die motiewekompleks wat in die eerste afdeling (”Met fynhout en sterrestof”) en die laaste (met die ewe sprekende titel “Tot alles vloei”) oorheers. Sodoende vorm hulle as ‘t ware ‘n strukturele vergestalting van die gegewe dat die verganklikheid die raamwerk is waarbinne die liefderyke betragting van die dinge geskied in die drie binne-afdelings van die bundel. Ook die bandontwerp deur Hanli Deysel (’n voorstelling van ‘n ontbindende herfsblaar) vang iets van dié motief van die ‘raam’ van die bundel op.
Veelal boeiende onderwerpsmateriaal en -ordening dus - maar wat, helaas, ‘n hoofsaaklik onsuiwer poëtiese neerslag vind in Watermerke.
Die hierbo aangehaalde gedigte is van die min in die bundel wat ‘n werklik onthoubare geheelindruk maak (ek sou ook “Woudvaring”, “Pylvlekkatlagters” en “Melkweg” wou byvoeg), hetsy op openbarende, nuutmakende of geslaagd verdiepende wyse. Te veel gedigte reik nie verby beskrywing of indrukskildering of selfs mededeling nie. Let maar net op hoe ‘n gedig soos die volgende in suggestiekrag en betekenisreikwydte afsteek by ander voorbeelde uit die Afrikaanse poësieskat wat soortgelyke materiaal tot onderwerp het (soos C.M. van den Heever se “”Voëls in die skemering” of “Die vertrekkende wildeganse”):
Vertrek van die kolgans
sirkels in die wier
sirkels in die wier
niemand het gesien
die kolgans sit nog hier
staan sy op een been
botstil op die rand
span sy nog haar vlerke
in die najaarsaand
sirkels in die wier
sirkels in die wier
iemand roep die kolgans
dis tyd vir trek van hier[.]
Bowendien is die bundel deurspek van beelding- en steltroebelhede. Die wilde beeldveldspronge in ‘n geval soos die volgende doen myns insiens uiteindelik ietwat komieklik aan:
Vlam
Ek is die vlam
en brand in jou
om vers te word:
Maak my die stroom
waardeur jou woorde
soos ligdrade gloei
dat ek soos Josefskleed
verweef kan raak,
‘n Moses-staf met woorde kerf
en waterdruppels slaan uit rots:
‘n spies wat vlymskerp tref
tot waar die Suiderkruis oopvonk.
Onthou my in jou gebede,
onthou my lig in jou vers
‘n Ander besondiging is aan beskrywende oordaad, byvoorbeeld in “Vuurproef”, “Wandelpaaie” en “Kortstondige kalligrafie” - sodat dit in laasgenoemde gedig ‘n bietjie ironies klink as die digter aan wyle Adolf Jentsch, suinig-beeldende skilder van onder meer die leegtes van Namibië, sê dat sy uit sy werk “skoon [wou] leer skryf”.
Ook wat die afdelingsamestellings betref, kry ek nie altyd die kloutjie by die oor nie. Dit lyk byvoorbeeld vir my of die reeds genoemde gedig oor die Indiaan (”Sequoya”), asook “Wildepeerboom”, wat primêr handel oor ‘n Europese besoek waarvan die spreker se “hartlief” per brief berig, dalk té weinig (of té onoortuigend) aanhaak by die Suider-Afrikaanse “oerbos”-gegewe wat in die res van die gedigte in afdeling III domineer.
En hoe pas die twee slotgedigte van afdeling IV (”Verspoelings” en “As die reën dan kom”) in by die “Diere sonder maskers”-gegewe van die betrokke afdelingtitel?
Dat met Watermerke nie die volle poëtiese potensiaal verwesenlik word wat in die rykdom aan onderwerpmateriaal en in die daarmee samehangende taalskat steek nie, is ‘n jammerte. Ewe jammer vir hierdie debuut is dat die vindingrykheid en vernuf waarmee voorgangers in die Afrikaanse digkunstradisie met soortgelyke sake omgegaan het, die dofhede daarin des te sterker laat uitstaan.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
|
|