Resensies
Friday, August 19th, 2011

Kodeks. Nini Bennettt. Cordis Trust Publikasies. ISBN 978-0-620-50030-2. Prys: R80. 68 bladye. Sagteband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
Die digbundel van `n debutant benader jy soos ‘n verrassingspakkie; sonder aangekorste verwagtinge omtrent ‘n digter se aanslag, tematiek of vermoëns, en gretig om te sien hoe ‘n nuweling die kaal tablet beskryf. Al weet jy dat Bennett reeds vir haar kortverhaalbundel (Stoornis, 2002) bekroon is, bly die poësie tog ‘n spel van ‘n gans ander aard.
Die geoefende leser kom binne die bestek van die eerste paar bladsye agter of die bundel die aankoms van `n ware digter sinjaleer; en of jy by wyse van spreke “die seep in die gastekamer hoor kraak”, om by die digter Wessel Pretorius te leen. Jy vergeef aanvanklik die opvallende tegniese steurnisse; dit is immers ‘n nuweling wat hier aan die woord is. En jy behou deurgaans ‘n oop gemoed, omdat daar in die loop van die bundel ‘n treffer of twee mag opduik.
Met die vergrootglas van die literêre kritiek in die hand, en ‘n gawe skoot mededoë in die glas, soek die resensent na blyke van vakmanskap. Maar wat is dit wat aan ‘n gedig sy toorkrag gee? Die antwoord(e) hierop sou ‘n lywige handleiding in beslag neem, maar opsommenderwys kan ‘n mens sê dat ‘n gedig slaag wanneer die digter jou lei (nee, verlei) om ‘n stuk werklikheid as onthutsend, boeiend of ontroerend te beleef; en dat dit gebeur wanneer die gedagte-inhoud so gestileer en gestruktureer is dat die gedig jou hoendervleis gee, of hartkloppens, of ‘n knop in die keel. Hierdie proses slaag alleenlik wanneer die digter sekere oorbekende slaggate vermy en ‘n hele reeks digterlike tegnieke en kunsgrepe bemeester het.
Nie alle debutante is sterre nie, al het daar in die afgelope tyd heelwat van hulle aan die digterlike trans verskyn. ‘n Mens dink aan Melt Myburgh, Martina Klopper, Andries Samuel en ‘n hele paar satelliete in hul nabyheid. Tog is daar onder beginnerdigters ook dié wat wel hier en daar flikker, maar nog nie durend en helder skyn nie. So iemand is Nini Bennettt. Baie van haar gedigte gee blyke van woordgevoeligheid en/of raak beelde, moedige taaleksperimente en/of boeiende temas. Dit help haar om met gedeeltes van `n vers die mas op te kom. Ek het byvoorbeeld gehou van die gemaak-naïewe styl en die inhoud van “Motorwag” (26), maar ‘n paar vraagtekens oor die vloei en ritmiek, woordordening en herhalings in die kantlyn geplaas. Dit was trouens my reaksie op elke vers in die bundel. Die bogenoemde gedig word hier aangehaal:
my oupa is ‘n motorwag
sy maer lyf weerhaak in die verte
eens op ‘n tyd
was hy ‘n taalpraktisyn
het julle hom gesien,
my oupa, die motorwag?
hy is oral
hy is die ou man wat woordeloos
naby jou motor ronddool
met sy hande agter sy rug, gebuk vooroor
die wind ruk aan sy baadjie
sypel deur die dun takelwerk van sy lyf
sy kantpaadjie zig-zag oor sy kop
en verwese hang sy keelvel
oor sy kraag
soos sagte slaaiblare
alles aan hom druk
die kunstande die skoene die klein pensioen -
sy bene word reguit
sy hele lyf word hande:
sy klim hoog uit haar vier-by-vier
draai weg en sê: kyk maar
dalk gaan sy munte gee, die mooi blinkes
of miskien ‘n noot
maar dit maak nie saak
my oupa is terminaal
eens dokter-van-die-woord,
taalpuris en -praktisyn
nou praat hy die broodlyn van die taal
‘n dankie tot die dood
Met betrekking tot die bundel in die algemeen is dit die opbou van die gedigte wat die meeste hinder; of eenvoudig gestel, hoe die gedigte aanmekaar gesit is. Die digter moet woorde met die grootste omsigtigheid kies en kombineer, niks ongemotiveerd herhaal nie, nie geforseerde woordsamestellings uitdink nie, wegbly van oorbekende “digterlike” woorde of ander clichés, en abstraksies spaarsaam gebruik. Die gekose woorde moet sinvol ingespan word sodat die reëls nie ‘n lomp, aanmekaargelaste of onbeholpe indruk maak nie.
Die bundel se volgehoue mineurtoon, tesame met die terugkerende motiewe van dood, lyding en verlies, bring op die duur ‘n moeisame leeservaring mee. Dit sou ‘n eenheidskeppende procedé kon wees, maar te veel verse word geskaad deur herhaalde verwysings na dinge soos trane, brandende kerse, spieëls, verlange en verdriet - waarvan die laaste twee (en meer) telkens by die naam genoem word, instede daarvan om die emosie slegs te suggereer. ‘n Mens wonder ook waarom die digter nie meer selfkritiek toegepas het deur die oormaat aan beskrywende woorde te skrap nie, omdat woordoortolligheid die indruk wek dat die digter nie geloof het in die krag van haar kernwoorde nie.
Bennett het nietemin`n interessante titel vir haar bundel gekies. Die HAT se woordverklaring vir “kodeks” lui: “Ou handskrif of manuskrip, veral van die Bybel of geskrifte uit die oudheid op papirus en later perkament geskryf”. Volgens die WAT is die Latynse woord cōdex ‘n variant van caudex, `n boomstomp waaraan oortreders in die antieke Rome vasgebind is. Die titel skep dus die verwagting dat die digter haar verse, en die dinge wat daarin gebeur, as so ‘n geskrif of “kodeks” aanbied. Die woord “kode” klink ook hierin mee, en waarskynlik word die lewensverdriet hier gesien as kodes met ‘n dieperliggende betekenis, wat die digter dikwels laat aansluit by die Christelike geloof. Die ligpers omslag roep reeds ‘n gevoel van rou en verlies op, terwyl die skets van ‘n kop met neergeslane oë omswagtel is met iets soos verbande waarop die woord “kodeks” op drie plekke leesbaar is. Dit kom voor of die twee hande besig is om die verbande af te haal - moontlik ‘n metafoor vir heling deur die skryfproses, (waarvan daar trouens meermale in die bundel gewag gemaak word) - en asof die halfoop en gekweste oog die kodeks en kodes van naby probeer lees. Die gedeeltes van die brein wat aan die bokant van die afbeelding uitsteek is onderskeidelik lig en donkerpers gekleur, en kan geïnterpreteer word as ‘n emosionele teenoor ‘n rasionele instelling, of ‘n botsing van een of ander aard waarvoor daar versoening gesoek word.
Die titel van die eerste afdeling, “Indeks”, het ‘n klankverband met die bundeltitel Kodeks, terwyl die openingsgedig (”Weduweeskof” ) beide die woorde “kodeks” en “indeks” bevat, en die inhoud origens ook na die digterlike arbeid verwys. Die gedig en die situasie wat beskryf word, wil waarskynlik `n aanset tot die bundel as “geskrif” wees. Daarby herken die spreker haarself in die vrou (en moontlik as die skrywende instansie) wat oor die gehawende figuur (haarself?) buk, wat op sigself ‘n interessante gegewe is. Ook die gebeurtenis word herken as `n teks in eie reg; `n stel tekens (of kodes) wat deur iemand (God?) geskryf of “gedig” is, en soos die rillende aandrang van die selfoon uitwys na iets anders. Die woord “kouevuur” resoneer in “die vuurdoop het pas begin” in die losstaande slotreël - en sluit aan by die terugkerende motief van vuur in die res van die bundel. Belangrike elemente word dus in hierdie gedig saamgetrek, en die digter verdien krediet vir haar poging om ‘n bepaalde eenheid van gedagte te konstrueer terwyl sy tog die leser aan die raai hou. Ten spyte van treffende beelde soos die “wintergras” op die ongeskeerde ken en die “ritssluiter [wat] soos ‘n treinspoor/ dwars oor jou lyf geloop [het]“, sou ‘n bietjie skaaf- en snoeiwerk aan die versstruktuur ‘n sterker gedig uit die klip verlos het.
In “Droom” word die gesprek met dieselfde figuur voortgesit en die situasie verder uitgebrei, maar ook hier tree meer digterlike sondes in: “vingers” wat “strengel” en “arms” wat om mekaar “sirkel” is clichés, terwyl die dooie ster wat “witdwerg” (as werkwoord) en die nuutskepping “duisterwyke” gesog voorkom, veral in samehang met die alleenstaande slotwoord “binnestraal”. Daarna volg die gedig getiteld “(met apologie aan Breyten)”, waarvan die hakies myns insiens nie funksioneel is nie, maar waar die woorde moontlik kan sinspeel op Breytenbach se beklemtoning van die rol van die skrywersgeheue. Die vermoede ontstaan dat die digter ook in die daaropvolgende verse te doelbewus poëties gaan probeer skryf, wat reeds in die res van die gedig bevestig word deur ‘n kwasi-digterlikheid soos “verlange wat nie genees nie”, “sieloue verlange” en bybelblaaie wat “fladder”. Die gedig word verder ontsier deur reëloorgange wat begin met “en” (vyf keer), “ook”, “tog”, “maar” en “want”. Sulke woorde is nie per se taboe in die digkuns nie, maar verraai meesal `n onbehendigheid met die opbou van die vers, soos dit ook blyk uit die woordorde wat vernuftiger aangewend sou kon word. Daarby is dit erg steurend om ook die woord “verlange” vyf keer in dieselfde gedig raak te lees.
Hinderlike omskrywings (’n kwaal van menige beginnerdigter) kelder telkens die leesplesier. Weereens is daar in die bostaande gedig talle adjektiewe wat liefs sou kon bly: “rukkerige beelde”, “beseerde vlerke”, “gedweë ghoeroes”, “sieloue verlange”, “stowwerige boek”, “leë juwelekis”, “rooi malvas”, “gekalkte potte”, “bloeiende monde”, “tenger vreugdes”, “huilende tjello”, “bruin blomme”, “heilig onvolmaak”, “skitterende juwele” - alles binne ‘n een vers). Ook skuil daar pretensie in frases soos “vlieg krysend”; “van opstand roes ons harte vuur in yster”; en in feitlik die hele “Gelykenis” (15), een van die verse wat oor die spreker se moeder handel, en waarvan die laaste gedeelte as volg lui:
[...] Nou skêr die voëls deur haar
laaste vrugte: pienk vlees die oop-
gevlerde wonde en uit die stempel bloei
die melk die vermolmde vrugte
dood,
die stempel die definisie van honderde
vruggies wat wring soos maaiers deur
die bleker bloedvrug.
Haar vrugbeginsel is beseer.
Jesus wees dié vyeboom
genadig want dis my ma
Dit val op dat “‘n huilende tjello” (6) in ‘n ander vers (31) opduik in die oorlaaide beeld van ‘n “tjello tremolando huilnoot”, terwyl “mondig” (6) weer later voorkom as “in die dood het sy mondig geword” (31), en tref jy in een gedig beide “kinderoë” en “baba-oë” aan (5, 7). Daar is etlike gedigte sprake van oë, lense, glas, spieëls en weerkaatsings, om maar ‘n paar te noem. Dit is op sigself geen doodsonde nie, maar ‘n volgehoue oorbenutting van bepaalde woorde en beelde binne een gedig of bundel kan dui op ‘n beperkte digterlike leksikon en ‘n gebrekkige beeldarsenaal. Hieraan sou dit digter kon werk - die oordeelkundige benutting van woord en beeld is een van die basiese beginsels van digterskap. Ewe belangrik is die ritmiek, en die soms onbevredigende versbeweging of vloei sou maklik reggestel kon word deur wysigings in die woordorde of -keuse.
Die digter moet ook versigtig wees vir segswyses soos “bibber soos `n vlam” en “hand wat die rose pluk”, omdat dit maklik boekerig en ouderwets aandoen. Die alliterasie in “winterwrak” en “niks van nood” lyk bedag; die geïmpliseerde uitroep “o” moet met omsigtigheid aangewend word om nog nuut te klink; en “verlange wat nooit sal vergaan” nie, is darem te blatant en oorbekend.
Die titel van Afdeling 2, “Vuurdoop”, sit die “vuur”-gedagte voort wat in die eerste en en derde gedig in die vorige afdeling gefigureer het. “Voetpad” begin met woorde uit die gedig “Bitterbessie dagbreek” van Ingrid Jonker, wat nie erkenning geniet nie, ten spyte daarvan dat aanhalings so `n kontensieuse kwessie geword het. “Voetpad” kan ook gelees word as `n eggo van die “paadjies” en “grootpad” in die Jonker-gedig. Hier begin Bennett se werk belofte toon wat die versbou en beelding betref, maar weereens is daar hinderlikhede, soos die woord “oë” wat drie maal voorkom, met “oogholtes” en “oënskynlik” ook nog in die buurt; terwyl die “gebarste spieël” die woorde van Jonker te ooglopend herbenut. “[G]e-twyg” is `n skerp vonds, maar die koppelteken, soos op etlike ander plekke in die bundel, is onnodig; en “my skadu, sku vooruit” sou sonder die komma kon deug om aan “sku” `n werkwoordelike funksie te gee. Ook sou “oop” in “bewe miere om haar oop mond” met sukses weggelaat kon word - om maar een voorbeeld te noem.
“[D]oods-voyeur” is ‘n mooi vonds, maar ook hier doen die bewustelike gebruik van die koppelteken afbreuk aan `n andersins knap samestelling. So ook bederf die “doodsertifikaat” en “dood” (twee maal) die varsheid van die beeld “doodsvoyeur”. En waarom word “kraai” gevolg deur “opgestopte kraai”, en later weer deur “kraai”? Herhaling kan slegs ‘n effektiewe stylmiddel wees as dit gemotiveerd aangewend word. Die gebruik van “gles” as werkwoord en die invoer van “megapixels” is vindingryk, maar ook in hierdie gedig staan daar nog te veel byvoeglike naamwoorde (”gloeiende”, “gefossileerde”, “roerloos”, “opgestopte”, “gebarste” “leeggeloopte”). Die spel met identiteit wat reeds in die openingsgedig voorgekom het, word voortgesit in “dra my naam en identiteitsnommer…”, maar `n mens begin wonder of die “ek” nie te dikwels sentraal gestel word nie, tensy dit `n motief in die bundel wil wees. Ander kleinere besware is dat “feëtjie” met ‘n deelteken geskryf is, en die “c” in “mascara” met ‘n “k” vervang sou kon word.
Die derde en vierde afdelings, “Mespunt” en “Vlugtyd”, maak ‘n sterker indruk. “Slaggoed”, “Motorwag”, “Christmas”, “Die vleesloses” en “Ode” is verbeeldingryk en toon die digter se potensiaal om treffende, en selfs aangrypende verse te skryf - mits die gedagtegoed in ‘n bevredigende vorm gegiet word. Oor wat hierdie vorm moet wees, kan ‘n mentor, uitgewer of slypskool meer uitgebreid leiding gee.
Bennett het ‘n aanvoeling vir die poësie en ‘n goeie oog, maar vir ware digterskap is meer nodig. Ook die oor en tegniek moet ontwikkel, en elke skryfpoging moet geslyp en gesuiwer word om as gedig te glinster. Na my mening is hierdie debuut voortydig en nie besonder aantreklik uitgegee nie. Indien die digter die kritiek as ‘n leerkurwe benut, mag sy met ‘n volgende bundel haar lesers verras.
Friday, August 12th, 2011

Resensent: Heilna du Plooy
Fourie Botha se debuut bevat volgens die nota op die laaste bladsy van die bundel heelwat gedigte wat geskryf is tydens sy M.A.-studie in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad. Die gedigte is dan ook inderdaad netjies afgerond en getuig van ʼn sorgsame skryfproses en deeglike besinning, sowel wat die tematiese as die poëtiese aspekte betref.
Die bundel bestaan uit drie afdelings met ʼn enkelgedig wat vooraf alleen staan. In dié gedig, “Foto van my pa se gesig” (p.7), word die gesig van die vader beskryf in terme van ʼn foto van ʼn plaastoneel sodat gelaatstrekke en gesigteksture as volstruisdop, doringdraad en sink beskryf word. Die hantering van die metaforiese versmelting van die gesig en die toneel op die foto is baie knap gedoen. Die vader is dan ook so stil soos ʼn foto, waardeur ʼn diep gebrek aan kommunikasie en begrip gesuggereer word.
Die drie afdelings in DONKERKAMER is getitel” Bedgebied”, “Skoot” en “Roberts Birds”. Die eerste afdeling bevat ʼn aantal eksplisiete homo-erotiese gedigte, terwyl daar in die tweede afdeling verskeie ekfrastiese gedigte opgeneem is. Die slotafdeling, wil dit vir my voorkom, gaan oor inleiding of inwyding soos wat Roberts se voëlboek ʼn gids en ʼn inleiding tot die studie van voëls is. Die gedigte het te make met ontvoogding, die “aflê van die gids”, die inslaan van ʼn eie roete.
Daar is egter ook temas en werkwyses wat in al die afdelings ontgin word. Ek wil hier spesifiek verwys na die beeldgedigte waarin daar telkens ʼn oorspronklike siening van die kunswerk gebied word of waar die kunsbelewenis met persoonlike belewenis versmelt. Daar is ook ‘n aantal foto’s in die bundel opgeneem, ongelukkig nie geplaas direk by die toepaslike gedigte nie, maar soos die leser deur die bundel lees, stuur die foto jou soms terug na ʼn gedig om te herlees terwyl die lesing van die gedig teenoor die foto onvermydelik deur die foto beïnvloed word.
Daar is in die bundel ʼn sterk visuele ingesteldheid. Dit kom na vore sowel in die beeldspraak as in die gedigte wat oor foto’s en skilderye en ander kunswerke handel. In “Die gordyn in die kamer” (p.22) word ʼn verhouding beëindig en die teken daarvoor is die beeld van “(d)ie lamppaal voor die ruit/ trek ʼn sperstreep deur die aand” om maar een voorbeeld te gee.
Die gedig ” Caravaggio se Bacchus” (p.11) handel oor Caravaggio se skildery van ʼn Bacchus in die gedaante van ʼn ligbesope of babelaas jong man, selfs miskien ʼn selfportret volgens sommige bronne. Die skildery is geskilder kort nadat Caravaggio in Rome aangekom het en deel geword het van die sirkel van sy eerste belangrike beskermheer naamlik die Kardinaal Del Monte. Del Monte was bekend vir die ephebofiele aard van sy vriendekring, d.w.s. die voorkeur en erotiese aangetrokkenheid tot aantreklike adolessente jong mense. Die gedig interpreteer die skildery deur ‘n konteks te verbeel maar stel ook die toonaard van die hele afdeling.
Dieselfde benadering tot ʼn visuele teks kom voor in die gedig oor Frida Kahlo se skildery “Die twee Fridas” (p. 37) - die digter konstrueer ʼn bespiegelende interpretasie van die kunswerk, soos ook in “Lunch II” (p.44) wat inspeel op Manet se skildery “Le déjeuner sur l’herbe”. Die digter kontrasteer die verskillende rolspelers in Manet se skildery, waar twee geklede mans met twee naakte vroue ʼn piekniekete geniet, en in die foto vir die Les Dieux du Stade-kalender, waarop twee naakte mans en ʼn geklede vrou verskyn. Die digter dink in terme van representasies, vandaar sy gesprek met en oor en om Rodin, die foto’s van Owen Wilson en by Ombalantu en veral die grusame foto van die man wat slagoffer was in die xenofobiese aanvalle in 2008.
ʼn Baie vindingryke gedig (p.49) is die gesprek van Venus in die beroemde skildery van Velazquez, die sogenaamde “Rokeby Venus” (so genoem omdat dit in Rokeby in Engeland gehang het) met die Maria-figuur in Michelangelo se Piéta. Die skildery staan ook bekend as “Venus by haar toilette”, “Venus by die spieël” of “Venus en Kupido”. Hierdie skildery is in 1914 beskadig deur ʼn suffragette Mary Richardson uit ontsteltenis oor die inhegtenisneming van die een van die leidende figure in die suffragette-beweging, Emmeline Pankhurst. Die skade aan die skildery het bestaan uit 7 snye oor die rug van die Venusfiguur. In die gedig spreek Venus die Maria van Michelangelo se Piéta aan na aanleiding van hulle gedeelde lot as geskende vrouefigure in kunswerke aangesien ene Laszlo Toth in 1972 die Piéta met ʼn hamer aangeval en die Maria-figuur se arm afgekap het. Die digter se interpretasie is dat die twee gerepresenteerde vroue ook dit gemeen het dat hulle geskend word terwyl hulle manlike nageslag ongeskonde bly. Dit is natuurlik ʼn suiwer horisontale interpretasie van die Piéta wat aansluit by ander gedigte waarin religieuse opvatting ondermyn en herkodeer word (vgl. “My eerste Bybel”, p. 72).
Hierdie bundel bevat interessante tematiese materiaal, maar wat poëties gesproke belangriker is, is dat die gedigte heg gestruktureer is en ook goed vloei. Die versifikasie is knap, die ritmiese gang loop deurgaans goed, die metaforiek word goed hanteer - kortom, die gedigte is goeie gedigte, geskryf met ʼn goeie poëtiese aanvoeling. Wat ek wel moet opmerk, is dat die soort interpretasie van die tematiese stof wel geneig is om eenselwig te raak. Dit was later asof ek ʼn bepaalde soort wending te wagte was. Dit is mode om primêr en volgehoue ondermynend na die wêreld te kyk, om gewone tradisionele dinge soos ouers en ander instellings van die gemeenskap te bevraagteken, te dekonstrueer en te herkodeer. Dit geld ook die sterk homo-erotiese siening wat die deurlopende ondertoon van die bundel is. Die kyk is anders as tradisioneel en dit is inderdaad een van die funksies van die kuns om steeds met nuwe oë na die werklikheid te kyk. Die probleem is net dat daar nou al soveel bundels (en boeke en openbare gesprekke en artikels) is wat presies dit doen, dat die leser dit te wagte is en ek my afvra wat as “nuut” en “ondermynend” beskou kan word as “nuut” en “ondermynend” die norm geword het. Dit gaan hier om tegnies knap gedigte en as die inhoudelike voorspelbaar raak, is dit jammer.
Botha is ʼn jong digter met baie potensiaal, hy skryf met energie en rond sy werk goed af as en in dié lig beskou, is DONKERKAMER ʼn goeie debuut.
Fourie Botha. 2011. DONKERKAMER. Kaapstad: Quellerie.
ISBN 978-0-7958-0022-1
Monday, June 20th, 2011
Jasper van Zyl. 2011. Die lewe tussen pikkewyne. Kaapstad: Tafelberg. ISBN 978-0-624-04681-3
Resensent: Heilna du Plooy
 Die lewe tussen pikkewyne
Die lewe tussen pikkewyne is Jasper van Zyl se debuutdigbundel, maar hy skryf reeds vanaf sy skooldae. In 2005 is daar in Nuwe stemme 3 van sy verse gepubliseer en hy het ook al aan Versindaba deelgeneem. Dit blyk duidelik uit die bundel dat mens hier te make het met ‘n digter wat al ‘n hele tyd met sy digterskap saamlewe. Die gedigte is noukeurig afgerond en weldeurdag, daar is nie los draadjies wat rondhang nie. Die opvallendste eienskap is die verrassende wendinge in die gedigte, sowel metafories as “narratief”, maar die wendinge is boeiend en misterieus, nie lukraak of toevallig nie en veral nié daar vir die blote effek nie.
Die bundel het ‘n interessante buiteblad. Getekende mansfigure in swart en wit is in ‘n sirkel gerangskik. Die figure nie almal dieselfde is nie - sommiges dra ‘n baadjie en das, ander ‘n onderbaadjie, nog ander ‘n jas en die liggaamshoudings verskil ook. Maar hulle val as’t ware in ‘n patroon en daar is ‘n voorspelbaarheid in hulle voorkoms en houding: hulle is meer of minder ernstige, saaklik geklede mansfigure. Aan die bokant van die sirkel is daar ‘n figuur van ‘n jong man in kleur. Sy bolyf is kaal en hy het ‘n hippie-agtige geblomde broek met uitklokpype aan. Hy is kaalvoet, staan gemaklik met gevoude arms en glimlag breed. Hy verskil dus in bykans alle opsigte van die figure in die tekening en daar word duidelik gesuggereer dat dit gaan om die uitsondering, die een wat nié soos die ander lyk nie, wat nié soos net nog ‘n pikkewyn tussen al die ander ononderskeibaar is nie (buitendien lyk die gebaadjiede en gedasde figure ook nogal soos pikkewyne).
Die titel van die bundel kom uit ‘n gedig met die titel ” dit is nes jy daar sê, ja” (p. 20). Hierdie gedig gaan oor ‘n spreker en ‘n “jy” wat saam in ‘n bootjie is en “silwer vissies” uit die see trek. Aanvanklik is die boot staties, rustend, “in utero”, waarmee ‘n periode voorafgaande aan ‘n nuwe fase of die werklike lewe gesuggereer word. Veral belangrik is dat die gedig begin met die reëls “soms is dit só dat een mens/deur ‘n ander kan praat” en gou besef die leser dat die “jy” in die gedig waarskynlik verwys na ‘n alter ego of ‘n ander persona van die self wat die boot met die spreker deel. Hierdie “jy” wat die “taal van meeue” praat, is die een wat droom dat hulle strand en dit gebeur dan ook inderdaad, maar onverwags. Die afloop en verloop van die boottog is nie beplan nie, dit gebeur, dit is ‘n verrassing maar nogtans onontkombaar. Dan moet die “jy” ‘n lewe in nuwe omstandighede voortsit en uiteindelik word dit ‘n manier van bestaan, hierdie yslewe tussen pikkewyne. Die “jy” wat ook soos ‘n geliefde uitgebeeld word, is “pragtig” en “yslik mooi”, lieflik en koud, maar ook groot, vir my dus onder meer ook in die sin van ysingwekkend. Die buikspreektaal van die geliefde is geheimsinnig en versluierend soos vaal rook.
Dit is vir my ‘n poëtikale gedig wat verwys na die onvermydelikheid van die poëtiese aktiwiteit, van die digterskap wat sigself soos ‘n ysberg aanmeld, wat aandring en sigself selfs opdring, wat alles in ‘n ander rigting stuur, iets wat pragtig is, maar ook ietwat skrikwekkend en waarteen die digter styf slaap totdat die koue warm word.
Hierdie bewustheid van digterskap en die implikasies van die poëtiese representasie van belewenis en van gedagtes, het my die gedigte laat lees op soek na verbande, patrone en voortgaande gedagtegange wat wel duidelik daar is, maar wat nogtans baie subtiel aangebied word.
Subtitliteit is een van die aantreklike eienskappe van hierdie bundel. Elke gedig het ‘n narratiewe lyn waarin en waarop diskrepante elemente vervleg word, en tog kry ‘n mens nooit die gedagte van geforseerdheid of die behoefte om ‘n effek te bereik deur bloot te skok nie. Die gedigte handel oor gewone dinge wat telkens so vervreemdend aangebied word dat die gewoonste aspekte van die lewe in hulle volle potensiële absurditeit nuut voor mens kom staan. En dit word gedoen in ‘n speels-ernstige toon wat ‘n baie spesifieke atmosfeer in die bundel laat ontstaan.
Aan die begin van die bundel is ‘n paar gedigte wat handel oor droomgesigte of gedagtes wat soos drome aangebied word waarin ontwykende figure ‘n rol speel. In “film” sleep die meisie Anine, wat haar yskasmagnete rangskik, se arms op die vensterbank voordat “haar lyf deur die venster breek”. Teen dagbreek ontmoet digter-spreker haar weer in die woud en dan sluit die gedig af met ‘n teruggryp na die eerste strofe. Aanvanklik “brul paddas vir mekaar” in vlak plantegroei voor die digter se koshuisvenster, maar ten slotte word die digter se droomervaring in terme van paddagedrag beleef, met die erotiese suggestie slim verwoord in die verwysing na die opsitkers se doodblaas:
in ‘n wilde oomblik swel my keel:
ek brul vir haar en blaas
die opsitkers dood. (p. 8 )
In die gedig “tronk” word gesuggereer dat die tronk waarin die spreker hom bevind, hom nie uiteindelik skei van die geliefde vriendin nie: sy kan op water loop, maar dit is ‘n geheim:
…ek rol in my slaap
sodat niemand kan sien waar jy gaan nie. (p.11)
Op verbeeldingryke wyse word die werklikheid en droom vermeng, word die werklikheid droom en die droom werklikheid, onder meer in “wieg”. Die onheil wat die dorp bedreig, word ondersoek deur speurders maar as die inwoners self betrokke raak, sweer die verdwene mense uit die skrapnelwonde uit hulle arms tot herbestaan sodat “die dorp weer begin beweeg/ en wieg soos ‘n bloeiende boom” (p.14). ‘n Gedig soos hierdie staan oop vir ‘n spel met interpretasie. Dit kan gaan oor onheile wat in eie boesem vertroetel word, dit kan gaan oor verwonding van buite soos in ‘n oorlog, maar wat duidelik is, is dat wanneer die mense hulself as deel van die probleem sien en so optree, kom daar ‘n soort genesing, minstens ‘n nuwe toekoms. Wat egter ook belangrik is, is dat die gedig werk soos ‘n narratief sonder om lig anekdoties te wees. Die metaforiese samehang van die water en lewe bind die gedig saam: eers ruik die water sleg en die mense verdwyn en as die bose water wegsak en daar genesing kom, is die dorp soos ‘n bloeiende boom, ‘n boom wat groei uit gesonde water. Water as metafoor figureer ook sterk in “droogtehulp” en “die nuwe winter”, albei gedigte waarin daar ‘n bepaalde onheil dreig en waarin na misterieuse verskynsels verwys word. Die droogte word deur “reën op die lagune” verbreek, maar in die winter verys die lewegewende stroom onder die gemeenskap sodat die mense “op ‘n magneetveld beweeg/ in ‘n land van ontydige weersveranderinge” (p. 17). Sulke gedigte is ten spyte van oënskynlike surrealistiese metaforiek en onwaarskynlike verhaalverloop, vir my tekenend van ‘n soeke na sin, selfs as dit nie te vinde is nie. Die gedigte vertel van vreemde moontlikhede, maar die leser besef weldeeglik dat daar ‘n probleem is wat nie met rasionele denke alleen hanteer kan of hoef te word nie. Dit gaan ook nie oor oplossings nie, maar oor ‘n poging om die ervaring van blootstelling en uitgelewerdheid, hetsy aan die eie boosheid of onheil van buite, aan die orde te stel - dink ek nou, maar soos dikwels by boeiende poësie, is ek nie seker nie en dit maak ook nie saak nie. Die gedigte laat mens anders dink en kyk terwyl jy die vreemde modulasies van die narratief geniet.
Interessant is ook die gedigte oor ouers. In die gedig “emma” word die jong meisie se eerste maandstonde verbind met geykte temas soos die vader wat niks agterkom nie en soos altyd beskermend optree waarna die dogter instinktief uitreik asof niks verander het nie, maar daar tog iets baie essensieels wel verander het. Die gewone tafereel word egter gekompliseer. Die vader beskik oor militêre kennis wat hom verlam, wat hom konfronteer met wat hy liewer nie sou wou weet nie. Die vrees vir die toekoms raak, sonder dat hy self daarvan bewus is, by implikasie ook die toekoms van sy dogter, as mens en as vrou, maar hy verberg sy vrees. Aan die ander kant is die dogter se uitreik na die vader inderwaarheid deel van haar seksuele ontwaking. In die gedig “les” word die seun se onwetende oortreding om ‘n koi-vis te vang die aanleiding vir ‘n subtiele verwysing na religieuse insig deurdat die vader sy seun van “régte vis” leer. Hierdie gedig sou ook ironies gelees kon word (wat is ‘n ou koi-vissie nou?), maar ek dink tog dat daar ‘n positiewe vaderbeeld na vore kom omdat die seun wel erg geskok is oor wat hy onwetend gedoen het.
Dit is asof daar in die bundel ‘n chronologiese verloop is want die later gedigte handel oor meer werklik onheilspellende dinge soos ‘n motorrit waartydens die berg “‘n toevallige moordenaar” word, iemand wat leer dans in ‘n ervaring wat later deur sirenes bedreig word, ‘n vader se “ongeëwenaarde” drif, die dokter se geheime vrese wat hom uit die slaap hou en die verslaafde se besef dat “die beswyming van jare …nooit moes wees nie”. Mens sou kon sê dit gaan toenemend oor ‘n meer volwasse problematiek. Gewone mense en normale optrede word aangebied vanuit die duister onderkante daarvan - alles is nie so eenvoudig as wat dit lyk nie. Vanuit ongewone hoeke beskou, is daar ook onheilige en bedreigende aspekte wat onvermydelik deel van die gewone en normale is. Gewone sake kan ondersoek word om die verskuilde absurditeite daarin raak te sien en dit is op ‘n belewenisvlak onthutsend en poëties vervreemdend.
Al is al die gedigte in die bundel nie ewe goed nie (dit kan en hoef immers ook nie wees nie) is hierdie bundel varrassend tot aan die einde. In die voorlaaste gedig word Jona se reis in die buik van die vis omgedop. Die gedig vertel van groot dier wat uit die lug val en terwyl niemand weet wat om daaromtrent te doen nie, maak die man onder die peperboom vuur en droom gespanne drome. Die gedig sluit af:
Hy eet weke lank, elke dag ‘n ander deel,
sommer hompe, venynig aan die vis. (p. 45)
Die gebruik van die woord “venynig” in hierdie versreël toon dat die digter uitstekend in staat is om betekenis oop te slaan, om die reeds enigmatiese verhaal nog verder te kompliseer deur die taal as handlanger effektief te gebruik. Taal is immers onvermydelik die digter se instrument, sy handlanger, sy metgesel, sy alter ego, dit is die hart van die poësie self. Met een woord wat dadelik opvallend is, word die leser in sy spore gestuit en dan begin hy of sy nadink of gewoon net dink.
Die slotvers is ‘n pragtige liefdesvers, hetsy vir ‘n geliefde van vlees en bloed, of die digkuns, of die gedig of watter geliefde saak ookal (ek vermoed wel die geliefde as sodanig is ‘n sterk moontlikheid). Die smeking van die spreker word uiteindelik beantwoord met ‘n sein en terwyl “sleg vrouens verbyvlieg op besems en warse wolke” slaap hierdie spesiale geliefde “adellik, op ‘n brandstapel van sterre” (p. 46). Dit is gewoon baie mooi beeldspraak.
Dit is duidelik dat die digter wel aansluit by die literêre tradisie - in klein frases klink daar telkens bekende woorde op, maar telkens so dat dit nie meer gaan om bekende betekenisse nie. Daar is onteenseglik ‘n werklik oortuigende eie stem hier hoorbaar. Dit is ook opvallend hoe die vervreemdende en surrealistiese gebruik van narratiewe strukture die verse saambind maar ook die betekenis oopslaan tot iets veel wyer as net die opeenvolging van insidente, juis omdat die poëtiese ontginning van taal uitgebuit word. Elke insident word ‘n poëtiese gebeurtenis.
Die lewe tussen pikkewyne illustreer dat hierdie jong digter inderdaad die transformerende werking van die poësie as poësie begryp en met ontsag hanteer.
Friday, June 17th, 2011
Anne-Ghrett Erasmus. 2011. die lekkerste perske is ‘n vy. Helderview: Benedic Boeke. ISBN 978-0-9814408-5-9
Resensent: Heilna du Plooy
 die lekkerste perske is
Volgens die postmodernistiese denke is ‘n hiërargiese onderskeid tussen verskillende soorte literatuur ongeldig. Populêre romans en ernstige meer filosofies georiënteerde verhalende tekste wat dikwels ook eksperimenteel met taal en tegniek omgaan, staan volgens hierdie denke teoreties op dieselfde vlak van belangrikheid. En poësie is dan altyd poësie, ongeag die estetiese kompleksiteit of die mate van tegniese vaardigheid en subtiliteit wat in die gedigte voorkom.
Maar terwyl daar inderdaad vir alles ‘n plek is onder die son, is alles wat geskryf word vir baie lesers nie dieselfde in aard of gehalte nie. Daar is die bietjie gesonde verstand wat die teoretisering relativeer en wat wel lei tot nadenke oor waar en hoe bepaalde tekste in die huis van die literatuur inpas.
Op die agterblad van Anne-Ghrett Erasmus se debuutbundel word die woord “vriendelik” tweekeer gebruik. Die digter word “die vriendelike digter” genoem en die begin van die bundel word beskryf as “‘n vriendelike uitnodiging”. En dit is dan ook so dat die bundel as geheel ‘n “vriendelike” indruk maak.
“die lekkerste perske is ‘n vy” bevat ligte verse oor verskillende aspekte van die lewe van ‘n taalsensitiewe mens. In nege kort afdelings word die gedigte in die bundel saamgegroepeer rondom temas of onderwerpe. Daar is ‘n afdeling oor skryf en die ontdekking van die vermoëns van die woord as poëtiese instrument en dan volg gedigte waarin natuurindrukke van die gewone omgewing weergegee word (eintlik impressies soos in die impressionisme). Daar is ‘n groepie gedigte oor religieë, oor vriendskap en vriende, oor seerkry en ontnugtering, maar ook oor die durende aard van liefde, aspekte van moederskap en seks, die vrees vir en verwerking van siekte, smart en die aanwesigheid van die dood.
Die gedigte toon min onderlinge samehang en is dus ‘n verslag van die verskeidenheid dinge wat ‘n lewe vul of eintlik ‘n lewe uitmaak. Dit bly dan ook ten spyte van ‘n bepaalde woordvirtuositeit losstaande stellings. Daar is duidelik ‘n literêre verwysingsveld waaruit die digter put, soos blyk uit die verwysings na Van Wyk Louw, Breytenbach, Jan (Jan Rabie?), Lindenbergh en Cloete. Daar word ook met duidelik vertroude kennis na skilderye en die praktyk van skilder verwys sodat die gedigte in die wyer wêreld van die kunste asemhaal.
Tegnies vloei die tekste glad, maar dit is asof daar ‘n metaforiese noodwendigheid en oorspronklikheid ontbreek en dat soms van oorbekende verbande gebruik gemaak word (byvoorbeeld, die herfs as tyd van besinning, wyn en seerkry, liefde en asyn, vissershuisies en die dorpshotel vir armoede en voorspoed, ens.). Dit is ook asof die poëtiese middele wat tot die beskikking van die digter is, nie genoeg ontgin word nie, asof dit onderbenut bly.
Erasmus skryf hier maklik verstaanbare verse, sag op die oor en die oog en waarskynlik vir ‘n bepaalde lesersgroep maklik om mee te identifiseer. Die gebrek aan dieperliggende binding in die verse en metafore wat soms onoortuigende oorgange of groot spronge teweegbring, asook die wisseling van byna naturalistiese verse ( “Oorryptyd” en “Pielieman”) tot verse wat eintlik ‘n bietjie sentimenteel is (”Lente”, “Kardoes” en “Diva”), val mens op. In die poësie is niks sekerlik verkeerd nie, maar die ervare poësieleser soek wel ‘n groter samehangende beweging of onderliggende gedagtegang in ‘n bundel, al handel die gedigte oor baie verskillende en selfs uiteenlopende onderwerpe. Hier is daardie deurlopende lyn bloot die uitbeelding van ‘n bewonderenswaardige vermoë om voluit te lewe, maar die vraag kom na vore, wat die toegif of meerwaarde is wat bewerkstellig word deur die feit dat dit gaan om die poësie, dat die poësie gekies is as medium van uitbeelding. Die gewaarwording dat die gedigte nie veel meer is as die belewenis van die digter as sodanig nie, wil nie wyk nie. Die vraag wat gevra kan word, is seker “Hoef gedigte meer te doen?”
Daar is ongetwyfeld ‘n plek vir ligter toeganklike poësie, waarmee mense kan identifiseer, soos wat ook met verhalende tekste die geval is. Maar daar is ook ander soorte poësie.
Junie 2011
Tuesday, May 24th, 2011
Splintervlerk. Marlise Joubert. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-472-7. Prys: R140. 96 bladsye. Prys: R140. Sagteband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
 splintervlerk
Hier is ‘n digbundel wat groot byval onder die algemene leserspubliek behoort te vind en selfs kritikasters onder die kennebak mag kielie. Diegene wat hul vooroordele en voorbehoude oor die poësie vir die duur opskort, sal ontroer word deur die gevoeligheid en veral die teerheid van Marlise Joubert se nuwe versameling.
Sedert haar debuut met ‘n Boot in die woestyn (1970) geniet Joubert bekendheid as digter en prosaïs, en meer onlangs ook as ‘n skrywer van radiodramas waarvoor sy etlike kere bekroon is. Daarby is sy ook ‘n skilder, wat die sterk visuele inslag en die tematiese ontginning van dié medium in haar digkuns verklaar. Haar poësie kan tydsgewys in vier vroeëre (voor 2000) en drie latere bundels ingedeel word, met Splintervlerk (2011) as haar sewende publikasie in dié genre. Haar jongste verse skep egter nie die indruk dat `n “ouer” stem aan die woord is nie, en ook jonger lesers sal genot put uit die wyse waarop die spreker haar met groot intensiteit in- én uitleef in die lewe en die liefde. Soos voorheen konsentreer sy op die intiem persoonlike ervaring van die liggaam en die natuur, asook op bepaalde plekke, van Cambridge tot Stilbaai, wat in fyn besonderhede beskryf word.
Terwyl die titel Splintervlerk te kenne gee dat die heelheid op een of ander wyse geskend is, bevestig die aanvang van die bundelinhoud dat die spreker ‘n fisieke aantasting ervaar. Voorlopig gaan dit gepaard met ‘n verlies aan die vermoë om voluit te funksioneer en vryelik te beweeg, of by wyse van spreke te vlieg, omdat die “vlerk” deur `n mediese ingreep “versplinter” is. Hierdie metafoor kry ook op die bundel se voorplat beslag as ‘n vrouefiguur met ‘n verwonde rug en ‘n arm wat uitreik na ‘n voël met ‘n bloeiende vlerk - ‘n toepaslike en kleurvolle kunswerk van die digter se eie hand. Hoewel die vlerkmotief reeds telkemale in Joubert se oeuvre hanteer is en deurlopend in hierdie bundel sirkuleer, word nuwe dimensies daaraan toegevoeg. Deur die liggaamlike gekwetsheid en die daaropvolgende herstelproses as boustof te benut (maar dit nie daartoe te beperk nie), verbreed die digter die tematiese register van haar oeuvre.
Die titel van die openingsafdeling “winterklou” is ‘n knap woordskepping waarin die wrede greep en die ontberinge van ‘n bepaalde seisoen saamgetrek word - ‘n sinspeling dat die spreker haar in die kloue van `n bedreigende situasie bevind. In die inleidende gedig “Die aarde weet dit” word die pasiënt gekonfronteer met trauma en sterflikheid, gepersonifieer in ‘n skrikwekkende gestalte wat vroeër slegs as ‘n vae vermoede in haar onderbewuste bestaan het:
nou sien ek hom: bek gesper
die gifgroen spleet in die vuurpyltong
hy was maar altyd daar [.]
Maar “in hierdie intensiewe folterkamer” van `n hoësorgeenheid waar die dreiging “genadeloos deur mure grinnik”, groei die gedagte “dat ek so breekbaar is”, soos dit pertinent in die gedig “besoek” gestel word. Aan die positiewe kant word die fase van broosheid gevolg deur `n langsame proses van heling, totdat die lewe van die spreker as mens, reisiger en kunstenaar uiteindelik weer sy loop neem. Die slotgedig van die bundel kondig by wyse van terugskouing ook nuwe groei in die liefdesverbintenis aan:
sagter glip
ons nou oor mekaar
sagter ons hande
oor die mos
in die lyf skryf ons
weer alle verledes af [.]
Joubert skryf uit `n tradisioneel vroulike perspektief wat merkbaar is in die verwysings na kinders, geboorte en ‘n kleinkind; in die bewustheid van ‘n eie vroulike liggaamlikheid as dogter, minnares en eggenote; en in die kuns-gedig “waterverfskildery” waar ‘n “meisie as vrou” gestalte kry. Hierdie opstelling word gesteun deur die dromerige, liriese kwaliteit en sensuele aard van haar verse wat deur die Franse teoretikus Hélène Cixous as tekenend van die vloeibare vroulike stem beskou word en na my mening die watermerk van Joubert se digterskap vorm. Oor die jare is haar werk gekenmerk deur `n hunkering na en vervulling in die liefdesgenoot, dikwels met `n swaar erotiese lading (vergelyk die “lyfskrif” in Lyfsange van 2001 en die hartstog in Passies en passasies van 2007), hoewel hierdie keer minder eksplisiet verwoord. Tydens die hospitaalverblyf, “ver verby die gloed/ van warm huise”, bly die versugting na die geliefde (”ingreep”):
in steriele kamers
wat gordyne laat sak
wil ek glo móét ek glo
dat jy iewers op my wag[.]
Daarby word Joubert se sterk visuele ingesteldheid as kunstenaar voortgesit. Onvermydelik kom die natuur met haar rykdom aan vorm en kleur ter sprake, onder andere waar die aangesprokene buite die siekekamer waak: “ek weet van son wat oor jou hand vlek/ soms kyk jy op na die stilte van wolke// soms kyk jy weg na blouer bome/ na langbeenpalms die kiepersol die den/ dalk ook die eende in die dam”. In die gedig “besoek” bring die moeder “die mandjie blommegeel/ soos taai turksvye hier aangekom/ met pakkies vrugtelekkers met Oros/ en `n glimlag van lemoen”. Hierdie vers is een van die gaafstes in die bundel vanweë die vermenging van erns, deernis en humor, tesame met die refreinmatige “hoe is dit” in sleutelposisies binne die gedig.
`n Mens sou dus kon sê dat die digter “skilder-agtig” te werk gaan - met ‘n swaarder hand as haar voorganger Sheila Cussons, en meer soos die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren in sy robuuste digdebuut Tempermes (2011), wat eweneens balanseer op die mespunt tussen visuele en woordkuns. Joubert se werk, soos dié van Jansen van Vuuren, is oorwegend beskrywend, direk en toeganklik, en in die segging byna naïef, hoewel Joubert se verse uiteraard tegnies meer afgerond is. Om die visuele aspek verder te versterk, word elk van die drie afdelings In Splintervlerk voorafgegaan deur ‘n kleiner afbeelding van ‘n kunswerk deur die digter. Dit bewerkstellig eenheid tussen die voorplat en die inhoud, tussen die onderskeie afdelings, en tussen die woord en beeld as uitdrukkingsvorme.
`n Interessante verstegniese strategie is die gebruik van mediesverwante terme om gewone dinge te benoem - ‘n procédé wat ook deur die medikus en digter Gilbert Gibson gevolg word. In Joubert se geval illustreer dit hoe die spreker se gedagtewêreld en die “morfienbelaaide droom” deurweek was met beelde van are, organe en mediese hulpmiddels, sodat sy allerlei sake sou opteken en benoem in terme van dit wat haar bestaan op dié tydstip oorheers het. Sprekende voorbeelde is ”die dun rugstring van `n trein” op `n muurprent in die hospitaalkamer; en die beeld van blomme in `n vaas “na vier steriele dae”:
agter pers vlinders bloei die trauma
van `n week, nee twee of drie tevore
toe purpertange my rug vasgeknyp het -
die kraakbeen voos soos `n neut laat bars,
weefsel soos saffraan kon kneus
en oranje meeldrade van `n vlegsel
senuwees laat knak.
Afgesien van die verwysings na vlerke wat in hierdie bundel `n noodwendige relevansie verkry, keer verskeie van Joubert se geliefkoosde motiewe, beelde en woordkeuses in haar jongste bundel terug. Bome, blomme, reën, wind, seisoene, wolke en landskappe kom dikwels voor, en beelde volg mekaar snel op. Die digter praat visueel en konkreet en streef nie na sober, onderbeklemtoonde segging nie. Hierin staan haar werk enersyds teenoor die strakker en soms meer kriptiese verse van `n huidige digtersgenerasie. Andersyds verskil dit tog van die heelwat losser en meer uitgesponne verse wat ook tans geskryf word. By Joubert is daar `n duidelike versstruktuur, hoe informeel ook al, en sy verdien krediet vir die wyse waarop sy die vryeversvorm gedissiplineerd en kundig hanteer.
Die enigsins bloemryke aanslag vorm nie `n belemmering vir haar posisie in die kanon nie, want die postmodernistiese viering van veelheid en verskeidenheid plaas `n vraagteken oor `n eensydige verwagting van wat digkuns “behoort” te wees. In dieselfde gees moet `n mens in ag neem dat poësielesers nie almal dieselfde behoeftes, en digters nie almal dieselfde benadering tot die woordkuns het nie.
Nietemin word `n digter se jongste werk onvermydelik met vorige bundels vergelyk. Met haar Passies en Passasies het Joubert vir haarself `n hoë standaard gestel, onder andere deur ander digters se werk as vertrekpunt gebruik en tot eie skeppings te omvorm, asook deur die musiek- en kunstema in meer diepte te ontgin. In die poësiewêreld, soos in al die kunste, is dit egter nie ongewoon as `n digter nie heeltemal dieselfde peil met `n daaropvolgende bundel ewenaar nie. Dikwels keer die flonkering van `n vorige werk later terug, of word `n nuwe weg ingeslaan wat ander hoogtepunte mag meebring. En tog is Splintervlerk met sy verskeidenheid aan temas, toonaarde en style nie sonder literêre meriete nie.
Die middelafdeling “rugkaatsing” roep beide “terugkaatsing” en “rug” op, motiewe wat telkens in die bundel figureer. Wanneer die pasiënt na haar huis terugkeer nadat die “splinters vlerk verwyder is”, reflekteer sy oor die tuiskoms en dinge van die verlede. Die “ou bekendes” soos “oogdruppels naellak en lyfroom/ die digbundels wat ons deel” skep `n gevoel van intimiteit, maar dit is ook die ruimte waar sy die moeisame proses aandurf om weer met “blinde tone”, `n “stomp hakskeen” en ‘n “jellierige kuit” te probeer loop. Dit vorm `n mooi parallel met die poging om opnuut haar digterlike en kunsbedrywighede op gang bring, want sy “klad onthoue aan mekaar” om “los te kom…uit hierdie tydelike gaasverband van taal”. Verwysings na die mediese toestand word ongemerk volgehou, tot by die herstelde samesyn met die geliefde in die slotgedig (”barbituur”):
my oë skuif in soos tussenwerwelkussings
ons word mekaar in greine breekbaarheid
sal alles heel soos dit was
en
ons slaap weer teen mekaar
wang teen wang: twee vliesige
blomme in `n broeikas gekweek[.]
Hoewel lesers waarskynlik deur Joubert se kleur- en beeldryke aanpak meegevoer sal word en met die tematiek sal kan identifiseer, kan sekere vrae uit ‘n literêr-akademiese oogpunt nie verontagsaam word nie, soos of die gedetailleerde ervaring van die persoonlike nie in `n sterker mate tot `n universele beginsel kon uitgroei om van hierdie bundel iets groters te maak nie. Die gegewe van lyding, heling en oorlewing is teenwoordig, maar `n geoefende poësieleser sou moontlik `n sterker bewustheid wou sien van hoe die aantasting van die liggaam ons na iets buite onsself neem; na `n verhewigde staat van hierwees en menswees, van afhanklikheid, en hoe die “splintervlerk” van `n individu by die groter raamwerk van bestaan inpas.
Hiervoor is tekens van besinning nodig, asook innoverende maar oorwoë taalgebruik met verrassende invalle en wendinge ten opsigte van die versaanbod. So ‘n benadering sou genoegsaam boei om die werklikheid oop te breek en lesers na nuwe insigte te lei. Dit is nie Joubert se styl nie, maar `n sterker filosofiese onderbou kon ‘n mens te staan bring voor welke toestand van geskondenheid dan ook al. Die persoonlike bieg is dus nog nie voldoende omgewerk om `n algemene perspektief op die menslike kondisie te gee en tot poësie gemaak nie. Aan die ander kant is dit ook lesers se taak om die produk van `n digter se ervaringe by wyse van die verbeelding op hul eie belewenis oor te dra en self by `n vraagstelling (of antwoord) uit te kom.
Joubert se nuutskeppinge is prominent en die kreatiewe omgang met taal word verwelkom, mits dit nie gesog of geforseerd voorkom nie. Lesers kan self besluit hoe samestellings soos “skuimsleep”, “brokkelrots”, “kussingkoud”, “diepseeduikersuurstofdroom”, “sirkelslang” (as werkwoord), “marmerdroom”, “eendjieweggooidoek” op die oor val; en ook of die lang ritse indrukke en herhalings nie mettertyd vermoeiend inwerk nie. Vir my staan die digter sterker waar sy spaarsamer met woord en beeld omgaan, en meer suggereer as uitsê, soos in “geboorteplek”, “poskaart” en “kerberos”. Die titel “dryfgoed” is `n raak benaming vir die slotafdeling met sy gevarieerde versameling verse wat grootliks afwyk van die tematiese stof waarmee die bundel open. Van die beste gedigte staan in hierdie afdeling en tref vanweë die verbeeldingrykheid en groter afstand (”balspel. ‘n akwarel”, “waterdans”), maar die potensiaal word in die meeste gevalle deur oortollige woorde en ‘n neiging tot sentimentaliteit gekortwiek.
Splintervlerk neem die leser op `n interessante en dikwels ontroerende reis. As die bundelafdelings van agter na voor herlees word, bied dit weer `n ander visie op die inhoud. Daarby is dit verrykend om te sien hoe ‘n digter-kunstenaar haar in die sigbare wêreld indompel en dit met haar gevoelslewe verweef. Dit is binne hierdie kader dat Marlise Joubert se jongste bundel waardeer en geniet moet word.
Lees meer
Sunday, May 15th, 2011
Braille-briewe. M.M. Walters. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-420-8. Prys: R150. 80 bladsye. Sagteband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
Die waarheid het net kans op lewe
as dit daagliks onbevrees krities gedaag word.
M.M. Walters
 Braille-briewe
Die ou Romeine het hul Juvenalis gehad; die Afrikaanse letterkunde het as teenhanger die satirikus M.M. Walters. Dit verbaas nie Walters sy jongste bundel aan sy vermaarde voorganger opdra nie, want Braille-briewe lewer dieselfde soort snydende dog komiese kommentaar op die samelewing as dié waarvoor Juvenalis in die tweede eeu na Christus bekend was. Die woorde “ter afskeid” wat Walters by die bundelopdrag invoeg, is moontlik `n aanduiding dat hy hier klaarspeel met sy voorganger én die satiriese versvorm, maar hopelik nie met sy rol as skrywer nie. `n Mens kan jou kwalik voorstel dat die literêre mantel van hierdie digter, dramaturg, essayis, bloemleser en vertaler aanstons op iemand anders se skouers kan val.
Getrou aan die aard van die satirikus gaan Walters hiperbolies en brutaal te werk. Hy stel “ongeskikte vrae”, soos Johann Degenaar na die aard van die filosofiese vraagstelling verwys het, want Walters is ten diepste `n denker eerder as bloot `n eietydse spotvoël soos dit op die oog af mag voorkom. Dit is die “manewales van die mens”, sy praktyke (of wanpraktyke) en sy gode (of afgode) wat hier ondersoek en bedink word, maar dan deur `n werkwyse wat daarop gerig is om te ontbloot, te skok, te vermaak en desnoods te vervreem. Deur hierdie berekende retoriese truuk word die aandag vir die boodskap opgeëis, want soos die kabaretgenre wil die satiriese vers die toehoorder uitlok en uiteindelik tot nadenke stem.
Die beeldende titel Braille-briewe kan geïnterpreteer word as persoonlike geskrifte aan `n ontvanger wie se sig of insig by implikasie aangetas is. Die sender gee dus voor dat die opgehewe tekens van `n kodetaal (`n metafoor vir die satire) nodig is om die boodskap in te skerp sodat dit letterlik aan die lyf gevoel word. Daarby is die briefvorm met sy informele toon by uitstek geskik om die distansie tussen die sender en ontvanger op te hef, en die leser by die argument te betrek.
Elkeen van die dertien lang briefgedigte word onderteken deur skertsname soos “Jy weet wie” of “Boetie van die Boe-kaap”, en gevolg deur `n veelseggende naskrif. Hierdie patroonmatigheid van die bundel word verder versterk deurdat `n spesifieke tema in die onderskeie briewe aan bod kom, en kontensieuse kwessies van die verlede na dié van vandag getransponeer word. Oorgelewerde godsdienstige praktyke en geloofsienings, asook prominente kerkfigure - van Augustinus met sy “soektog na salwende sakrale saligheid” tot by Calvyn en die stoere dr. Koot Vorster - kom onder skoot. Ewe skerp is die besinning oor die huidige taalsituasie, weereens met verwysing na roemryke persoonlikhede soos die Paarlse taalstryder Pannevis, maar ook na eietydse brandpunte soos die Maties se T-opsie. Een van die moedswillige strofes uit die “Ope Brief: aan die ontslape Heer Arnoldus” lui:
Ek weet egter nie wat tans
lingua franca in die hemel is nie.
Niemand het nog teruggekeer
met die verlangde informasie.
Miskien Hebreeus?
Die Grootbaas se boekagente sê
hy praat nog steeds geen ander taal nie.
En wat sy agente sê is nog steeds amptelik:
Maak nie saak uit watter aardse koninkryk
die nuwe gevleuelde arriveer nie -
hy moet Hebreeus praat soos die Jahwe van die Jode
of swyg in alle tale.
Op `n soortgelyke wyse word “onheilige kritiek” uitgespreek teen die “ydele vertoon” van akademiese geleerdheid en “die omhaal van baie woorde” (”Ope Brief: aan die nuwe Doktorandus”); asook op Afrikaners wat die land verlaat (”Ope Brief: aan die Boertjies in die Buiteland”) en op aspekte van die plaaslike maatskaplike en politieke bestel. Voorbeelde soos die volgende sal vir ingeligte lesers herkenbaar wees:
Julle Boetmans is natuurlik steeds die moer in,
maar nou nie meer oor ou pyn en skryn,
maar oor die omswaai-Antjies op die nuwe soustrein.
In die briewe aan die “Nuwe Gode” en “Bartholomeus die Seevaarder” word die veelgeroemde skoonheid van die Kaap genadeloos ontmasker, en `n mens sou Wilma Stockenström se bundel Aan die Kaap geskryf hiermee kon saamlees. In Walters se voorstelling van `n verworde landskap buit die digter die moontlike dubbele betekenisse uit:
Die eens groen vleierige vlakte
is nou een grys gerookte plakkerskamp -
van Tafelbaai tot Valsbaai se eens wit strande.
En deur die melodieuse refrein “Cabo Tormentoso” wat telkens in die brief aan Bartholomeus opklink, word die gedig ‘n roerende weeklaag oor die “donker skadu’s” wat oor die land toesak.
Vir sensitiewe lesers mag die brief aan Lucifer, om maar een te noem, ontstellend wees, maar hierdie gedigte moet met `n oop gemoed benader word, nie alleen ter wille van besinning en vraagstelling nie, maar om die genot aan die woordspel en vindingryke beelde soos die “Disney World van gode en gelowe” wat “stadig … ontbind”. Sommige lesers mag die komiese segging en siniese instelling vermaaklik vind; andere mag aanstoot neem en die boek toeslaan - en later nuuskierig verder lees. Dit is presies wat die satirikus beoog, want hy is per definisie `n polemikus, maar ook `n stilis wat sake so voorstel dat dit die leser ongemaklik of wrokkig laat.
Walters se taalaanwending was nog altyd vernuwend, prikkelend en gedurf. Afgesien van neologismes soos “ketterkanker” en “skeppelinge”, gebruik hy graag woordpare of -groepe met ooreenstemmende klank- en/of betekenisverbande soos “ikone wat gekantel het”; “preskriberende profete”; “klomp bomplant-Palestyne”; en “getoga getoor”. Daarby lei die alliterasie en onverwagte naasmekaarstelling van woorde en gedagtes tot verrassend komiese effekte. Onthutsende geringstellings kom voor, hoë en lae spreekwyses sowel as plegtige en alledaagse sake word vermeng (”die hemelse Bishop’s Court”; “`n bielie van `n biskop” of “politieke gode” afgesmelt “tot pispotte en panne”). Letterlik niks en niemand word ontsien nie en `n mens wil jou verstout om te sê dat selfs die “gode” op plekke hul lag nie sal kan hou nie. Die digter loop egter gevaar om in woordpatrone te verval wat op die duur voorspelbaar of geforseerd voorkom, waardeur die sardoniese kommentaar ontkrag word.
In meerdere opsigte is die bundel tipies postmodernisties. Afgesien van die vermenging van hoë en lae stylregisters en situasies word intertekste mildelik maar funksioneel aangewend, grense word oorskry en niks is heilig nie, selfs nie die ou, gevestigde verhale of narratiewe waarvolgens die mens nog altyd sy lewe gerig het nie. Die subteks is dat mensgemaakte gebruike, gode en konstruksies opnuut bekyk en desnoods gedekonstrueer moet word. Hierdeur verkry die bundel `n sterk intellektuele lading. Die erns waarmee die bundel open, rig `n waarskuwende vinger dat “die mens se manewales” `n geheimenis bly waarvoor die spreker antwoorde soek en waarvoor hy hom tog met piëteit tot die “Groot Onbekende” rig. Die krag van die bundel lê in hierdie wisseling tussen wete en nie-wete; tussen sekerhede en onsekerhede, lag en erns.
Juvenalis het natuurlik in Latyn geskryf en volgens die stylgebruike van sy tyd `n strenger versvorm hanteer. Walters skryf losser en gemakliker en die praattoon is in pas met hedendaagse ontwikkelinge in die digkuns. Daarby dien die gemeensame geselstrant in hierdie geval om die intieme aard van die brief na te boots. Lesers sal maar hul verwagtinge van die poësie moet aanpas by eietydse digters se voorkeur vir die prosagedig waar struktuur en binding nie altyd afhang van bekende digpatrone nie. Soos in die denke, word daar in die vormgewing van die gedig wegbeweeg van “rigoreuse rituele, reëls en reglemente”. Die hedendaagse vers, mits dit noukeurig gekonstrueer word, verkry `n eiesoortige struktuur wat gebaseer is op die inherente klank, ritme en melodie van taal, en op goedgekose sleutelwoorde en beelde wat met mekaar verband hou. Dit is juis deur die manier waarop die digter die taal hanteer dat die informele styl `n poëtiese kwaliteit verkry. By tye laat Walters egter die spanning verslap en gaan hy te direk en betogend te werk. Ook steur hy hom opsetlik en opsigtelik min aan politieke korrektheid, waarteen daar op sigself geen literêre besware is nie, maar die fasiele rym en gebrek aan subtiliteit, hoe speels ook al, pas na my mening nie by sy statuur as digter nie. Maar ook hierin wou hy waarskynlik die grense van die elitistiese poësie oorskry. Uit daardie oogpunt slaag hy wel, en die onderstaande (en ander) strofes sou byvoorbeeld gepas wees as `n kabaret-song:
Almal wat aansluit by ons nuwe weermag
word ge-promote tot hoë offisiere.
Ons het al meer gemedaljeerde generaals
as enige ander army korporaals.
Of kom sluit aan by ons nuwe navy
kom skep van al die oorsese sous en gravy.
Ons kyter selfs vir gewillige dames
wat nagtelik matrooslik bekwaam is,
met spesiale uniforms vir die bosgeboude
Saartjies met die Baartman-boude.
Lesers wat die meer tradisionele versvorm verkies en bowendien nie soveel aanklank vind by satiriese verse nie, sal hou van die gevoelige slotgedig “Ope Brief: oor die Ou Gode”. By wyse van parallelle met ou Noorse legendes (”vertelling wat homself herhaal”) gee die gedig `n liriese maar skrikwekkende (voor-)beeld van die situasie in Suid-Afrika waar die “reënboogbrug” mag breek:
Toe het Balder, die goeie god van die sagte suide
geweet dat die sterfte in die wolke hang.
Die suidelike horing van sy land wat ver
uitsteek, omspoel word deur warm strome,
waar berge, vangnet van klam winde,
blink watervalle maak wat pêrel, stort
in groen valleie diep en vrugbaar, sy land
sou ys word, ongenaakbaar hard en dood.
In die loop van die bundel neem die spreker `n hele wêreld in oënskou en die beginsel van “toe” en “nou” kom telkens aan die orde; van die vroegste tye tot die hede. Deur die digter se belesenheid en vernuf het hy `n ryk en geskakeerde bundel tot stand gebring wat lesers om verskillende redes sal laat asem ophou. Die sirkulerende “vrae en vraagtekens” bied ryke stof tot nadenke en is goeie medisyne vir dié wat in `n groef verkeer - en dit nie weet (of wil weet) nie. Of die leser met die inhoud kan identifiseer en daarmee genoeë neem dat dinge so onverskrokke aan die orde gestel word, is by die beoordeling en genot van poësie nie ter sake nie. Dit gaan om hoe effektief en verbeeldingryk die digter sy taalarsenaal ontplooi om `n teks te skep wat die aandag vasvang en die leser se bewussyn verruim. In Apocrypha het Walters hom reeds teen die veiligheid van gevestigde denke verset, hoewel toe nog in `n meer besadigde toonaard:
Ons lig bly maar vetkers,
en hoe veilig klink die teks wat sê
dat ons liewer agter ou beproefde skerms
van die denke moet bly lê.
Dit sal sinvol wees om Walters se jongste bundel saam met sy hele oeuvre te lees of herlees, met inbegrip van sy meevoerende vertalings van Chinese en Japannese gedigte. Lesers sal nie koudgelaat word deur hierdie digter se werk nie. En diegene wat al saliger is (indien wel!), sal by tye in die graf omdraai, warm of koud, met permissie gesê.
Verwysings:
Stockenström, Wilma. Aan die Kaap geskryf. Kaapstad: Human & Rousseau. 1994.
Walters, M.M. Apocrypha. Kaapstad: Nasionale Boekhandel. 1969.
Walters, M.M. Shih-Ching. Liedereboek. Chinese gedigte in Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis. 2003.
Walters, M.M. Aki no kure: Herfsskemering. `n Bloemlesing Japannese gedigte in Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis. 2006.
Wednesday, May 4th, 2011
As die woorde begin droom. ‘n Keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Saamgestel deur Johann de Lange. 2011. Bel Monte Uitgewers. Prys onvermeld. ISBN 0-620-48688-0.
Resensent: Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
 Omslag
Wilhelm Knobel se voortydige oorlye in 1974, op 39-jarige ouderdom, is as ‘n gevoelige verlies vir die Afrikaanse letterkunde ervaar. Belangrike letterkundiges soos J.C. Kannemeyer en André P. Brink het destyds getuig hoe treffend sommige van sy verse en versvertalings vir hulle was.
Intussen het Knobel as digter ietwat in die vergetelheid geraak, ten spyte van twee waarderende artikels oor hom deur mede-digter Phil du Plessis wat onderskeidelik in 1985 (in Beeld) en 1995 (in Die Burger) verskyn het. Sowel Kannemeyer as Heinrich Ohlhoff en Helize van Vuuren sonder - in hul onderskeie, kort oorsigte oor Knobel se werk in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 en in Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (deel 2, 1999) - slegs sy lykdig “Elegie” uit vir enkele waarderende opmerkings. Saam met dié gedig verskyn net nog drie ander van Knobel in André P. Brink se omvangryke, driedelige samestelling van Groot verseboek van 3 jaar gelede.
Knobel se jongste broer, Deon, het enkele jare gelede egter as die handhawer en bevorderaar van dié Sestiger-digter se nalatenskap na vore getree. Hy het voordragprogramme uit sy oorlede ouboet se woordkuns saamgestel en by verskeie kunstefeeste opgevoer. In 2005 het ‘n eiehandige uitgawe van Twee siklusse gevolg, wat twee gedigreekse uit die digter se debuut, Bloedsteen (1966), bevat het. (Waar slegs ‘n drietal “grepe” uit die tweede siklus, “Bloedsteen”, in die gelyknamige debuutbundel verskyn het, is dit in sy geheel in Twee siklusse opgeneem.)
Met As die woorde begin droom, ‘n keur uit Knobel se ganse oeuvre, word hierdie ‘restourasiewerk’ volledig gemaak. In opdrag van Deon Knobel is die keuse deur Johann de Lange gedoen en die bundel saamgestel ter herdenking van die oorlede digter se vyf-en-sewentigste geboortedag verlede jaar.
Nie slegs ‘n ruim keur uit die gepubliseerde bundels (die genoemde Bloedsteen en dan Mure van mos uit 1970 en Nagelate gedigte uit 1976) is opgeneem nie; afdelings IV en V bevat ook ‘n vyf-en-dertigtal “[o]nversamelde verse (1956-1972)”, ‘n sewetal Afrikaanse vertalings van Jules Supervielle-gedigte deur Knobel (met, om moeilik begrypbare redes, nog een deur Phil du Plessis daarby), asook agt-en-dertig Engelse omsettings van Knobel-gedigte deur ‘n verskeidenheid vertalers, waaronder Deon Knobel en die digter self.
Die samestelling is mooi uitgegee. Dat die oog daarmee ook gehou word op ‘n moontlike herwaardering van Knobel se plek in die Afrikaanse poësiegeskiedenis, spreek uit die aanhalings wat die drukwerk op die omslag en sy binneflappe deurspek. Vergelyk:
Hierdie versamelbundel van Wilhelm Knobel sal beslis die aandag weer opnuut op hom vestig as digterlike herout van Sestig nog voordat Ingrid Jonker en Breyten met hul vrye verse gekom het.
- - John Kannemeyer, persoonlike mededeling 24 Junie 2010
Voor mij is hij een van de indrukwekkendste Zuid-Afrikaanse dichters uit de tweede helft van de twintigste eeu (sic) … een dichter als Knobel laat je niet los, je keert steeds opnieuw naar zijn werk terug. [...]
- - Gerrit Komrij, NC Handelsblad (sic), 20 April 2000
Juis om hierdie rede is dit myns insiens jammer dat nie veel strenger in die keuringsproses omgegaan is met Knobel se werk nie. Die volledige publikasie van die “Bloedsteen”-siklus in Twee siklusse het al getoon dat die herhaalde kritiek oor die amorfe, prosaïese en derhalwe poëties spanninglose indruk wat ‘n groot deel van sy gepubliseerde gedigte maak, des te geldiger is ten opsigte van sy (voorheen) ongepubliseerde werk.
In meer as een gedig het Knobel gereageer op hierdie soort kritiek. ‘n Voorbeeld uit Nagelate gedigte:
So pas het ek geboorte gegee aan ‘n
Gedig
selfvoldaan gee ek dit aan ‘n kollega
vir waardering
sonder verdere omhaal
skeur hy dit uitmekaar:
dis sonder die nodige ekonomie
en eenvoud
en nuutheid geskryf
en duidelik prematuur
sal ek dit pynlik herskryf
en voorlê vir kritiek
of dit nou al stukkend skeur
en in die snippermandjie gooi waar
dit hoort
wat stront [sic].
Miskien sou Knobel ietwat ongemaklik gevoel het oor die kolligwerpery op alles wat hy nie self vir publikasie geoutoriseer het nie?
Die feit dat die skryf van verse - die kreatiewe aktiwiteit daaraan verbonde - deur Knobel gesien is as ‘n soort teenvoeter vir die bipolêre geestestoornis waaraan hy gely het, laat ‘n mens vermoed dat dit nie altyd net estetiese oorwegings was wat hom laat skryf het nie. Vergelyk die volgende twee gedigte uit Bloedsteen:
Aan die kritikus
Ek hoor jou al sê
met seker kennis
en gewigtig
“Maar die Vorm …”
En wat kan ék sê
arme digter
ek weet so min van prosodie
en voel net hoe hort my bloedstroom deur die heffings
en keer dat die krag nie dalk
onverhoeds
êrens opdam nie:
dit mag katastrofies wees
en nie nét vir my vers nie …
Dag.
Weer aan die kritikus
- Hoe kan jy so seker wees jy herhaal jouself nie?
- En wie’t miskien gesê ek is seker?
die woorde herhaal ek, ja,
tot die woorde meer word as die woorde
dinge, kole, wat brand deur brein en hand
mý dalk nog brand
in my sagtheid, wie weet?
- maar wié wil weet?
- Kén ek jou sluwe stem nie?
Trap! of ek brand jou
brand jou met kole van Bloedsteen
dat jy wéét!
Daarom ook dat die belydende element so voorop staan in die meeste van sy gedigte - dat talle van hulle in briefformaat geskryf is, of herinner aan dagboekinskrywings (anekdotes, portrette en sketse, vasgelegde stemminge en indrukke). ‘n Groot aantal gedigte in As die woorde begin droom is byvoorbeeld titelloos.
Trouens, in een so ‘n titellose (plek-plek ietwat troebel geformuleerde) gedig uit Nagelate verse identifiseer Knobel hom uitgesproke met die gevoelsuitstorting en belydeniskuns van die Dertigers (in opposisie tot die objektiverende beeldingsvers wat deur die werk van byvoorbeeld D.J. Opperman en die ietwat latere Ernst van Heerden gangbare munt in die Afrikaanse digkuns geword het):
Dat dit sieklik is om te skryf oor die hart
word deur die meeste tydgenote streng beaam
Maar skryf oor die broos glas
wat gehoorsaam tril as die vinger dit tik:
dis genoegsaam indirek om die jongste resensent
se oor simpatiek in dié rigting te neig
En skryf oor die lyf
van die koel sinlikheid van Dertig
en die ewige roering van wier en vin gestroop
word vir die nuwe direktheid luidkeels geloof
Hoe sal ons die hart en die liggaam ooit weer paar
as die hart in die rilling van glas verstar
en die lyf in siddering van saad vervloei?
Belydenisse hoef natuurlik nie taal sonder poëtiese spanning te wees nie, en Knobel demonstreer dit met onder meer ‘n evokatiewe persoonlike herinneringsvers soos die volgende (uit Mure van mos):
Herinnering
Snikheet hang die middag oor die plaas
die geknars van die windpomp is stil
en geen luggie roer in die koring nie
verdwaalde skape skuil in die koelte van die boord
en knabbel af en toe aan die afgevalle perskes
In die groen wilgers voor die agterdeur klim kinders rond
Sien kan ‘n mens hulle nie
maar hulle skaterlag en gesels
val uit die ruigte soos ‘n vrolike spruit
of meng met die koel gekoer van die duiwe
Dan is alles skielik stil
as ‘n turende figuur in die kombuisdeur verskyn
en ‘n vrouestem roep “Marié, Rinie, Wilhelm!
Waar is die kinders tog?”
Dan as sy stap in die rigting van die windpomp en dam
waar die meidjies hulle voetsole met ‘n sandklip skuur
word die stilte in die bome nogeens onderbreek
en een vir een val die kinders uit die bome
oorryp lemoene in ‘n ontydige herfs[.]
Tel ek mý keur van treffende gedigte uit die Knobel-oeuvre, met verrekening van dié wat gebloemlees is in Ronel Foster en Louise Viljoen se Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1997), in die Nederlander Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte (1999) en in Brink se genoemde Groot verseboek-samestelling, kom ek by ‘n bietjie meer as drie dosyn gedigte uit wat myns insiens oortuigend bewys waartoe Knobel in staat was.
Dit is al ‘n prestasie wat nie gering geskat mag word nie, al sou ‘n mens nie Knobel op grond daarvan ‘n groot digter wou noem nie. Voeg hierby sy vroeë bydrae, alreeds in literêre tydskrifte in die middel-vyftigerjare, tot die vestiging van die vryevers as vormeksperiment van voorkeur onder die Sestigers (waarskynlik onder die invloed van die Nederlandse Vyftigers), en dis duidelik dat Knobel, minstens literêr-histories, ‘n stewige plek in die Afrikaanse poësiekanon beklee.
Dís wat hierdie keur deur Johann de Lange onderstreep.
Tuesday, May 3rd, 2011
Cloete, T.T. 2011. onversadig. Kaapstad: Tafelberg. ISBN 978-0-624-04903-6; 152 pp., prys: R175,00
Resensent: Heilna du Plooy
Vloeibare filosofie
 Onversadig
T.T. Cloete is ‘n bekende en gevestigde digter in Afrikaans. Almal wat iets weet van Afrikaanse poësie, weet van hom en ken sy werk, meer of minder goed. Sommige hou van sy digterlike styl, ander nie, sommige dink hulle kan verstaan hoe die digterlike denke in sy oeuvre werk, ander verstaan dit nie of wil nie verstaan nie. Wat mense lees en waarvan hulle hou, bly immers ‘n persoonlike reaksie en oor mooi en lekker stem niemand ooit saam nie.
By die lees van Cloete se jongste en negende bundelbundel, onversadig, vra ek my egter af of lesers van Afrikaanse poësie en van die poësie in die algemeen, besef hoe eiesoortig Cloete se oeuvre is. By die verskyning van sy eerste bundel, Angelliera, het D.J. Opperman gepraat van “koningskos”, dit is bekende geskiedenis, maar al ken ‘n mens die tegniek en styl van hierdie digter, bly dit die noukeurige leser steeds verstom hoe hy homself in en deur die poësie vernuwe. Dit begin by die titel as sodanig: onversadig, en dit op 86-jarige ouderdom. Nie net is die publikasie van ‘n omvattende, omvangryke en ideëryke bundel op hierdie ouderdom merkwaardig nie, maar die inhoudelike skopus van die onderwerpe in die bundel toon dat die digter inderdaad steeds die werklikheid met “onversadigde” oë en ore, met alle sintuie en met sy totale geestelike vermoë intens ervaar en beleef en daar steeds verwondering en vreugde in vind. Alles wat hy belewe, word poësie, nou selfs meer as vroeër toe daar baie ander dinge was wat die digter se lewe gevul het.
Die gedagte van “onversadig” word verder uitgewerk in die gedig “die druif geel en wynrooi glansend”. In die gedig word verwys na die “Landheer” se goeie werk, van die kleinste geskape dinge tot by die skouspelagtige weerverskynsels, en hoe die Landheer die leemte wat daar nog was, gevul het met die skepping van die mens, “toeskouers wat kan waardeer/ ‘n man en vrou wat kan takseer”. Nogtans word daar iets, ‘n “On-” van die mens weerhou, volledig sal die mens nooit ken of verstaan nie. Dit is dan ook vir die digter goed dat dit so is, dat van die hele onoorsigtelike versameling appels in die boord van “Kingstar-On-weet” die meeste nog verborge gebly het. Dit hou die mens honger, dit laat hom strewe, dit hou hom aan die soek en laat hom steeds en opnuut uitreik na nuwe dinge om te weet. Hierdie onversadiging, hierdie honger, is ‘n voorreg, want daarin setel die mens se dryfkrag om uit te vind, om te ontdek en veral om hom te verwonder aan wat hy vind. Daarom sê die digter van die mens: “hou hulle/ kraaimaer en pynlik honger en gesond”.
Hoe vreemd aan die denke van ons tyd is dit om te vra dat die mens juis nie alles moet kry of moet hê nie, dat die mens sy beperkinge as ‘n voorreg sal sien! Hierdie gedagte dekonstrueer die vroeg-twintigste-eeuse aanname dat die mens alles kan hê of selfs het, dat alles toeganklik is, dat alles uitgevind kan (en sal) word, dat die mens alles kan en alles mag. Ons lewe in ‘n tyd van oordaad, van oorvoeding van die sintuie en die liggaam. Soveel dinge is beskikbaar en toeganklik en selfs maklik. Maar hierdie oordaad werk afstompend. Die gedig reageer dus ook op die kontemporêre opvattings van die belangrikheid van sukses en voorspoed, van die hele voorspoedskultuur wat voorgehou word as die ideaal. Elke mens sal eventueel toegang hê tot alles wat sy hart begeer, maar as die mens alles het en niks oorbly om na te strewe nie, as niks meer ontdek kan word nie, sal alles dan perfek wees? Sal dit goed of lekker wees vir die mens om niks meer te hê om te ontdek of om oor verwonderd te wees nie?
Hierdie selfde gedagte lê ten grondslag van “fragmente van die onvolledige gedig” waarin die siening verwoord word dat alle skeppingsdinge in hulle uniekheid en kunstige samestelling as gedigte beskou kan word (vgl. in hierdie verband ook die bekende gedig “God die digter” uit Jukstaposisie, 1982). Geen gedig kan egter alles insluit of omvat nie en omdat die heelal volgens wetenskaplikes voortdurend steeds uitdy, kan selfs hierdie gedig van die fisiese werklikheid nooit voltooid wees nie. Geen totaliteit sal dus ooit verwoord of omvat kan word nie. Dinamiek en groei en beweging is inherent deel van die heelal én van die mens as onderdeel daarvan. Die pragtige vers “Net één” bevat ‘n lewenscredo waarin bemoediging en aanmoediging maar ook ‘n waarskuwing opgeslote is. Die mens moet en kan geniet van alles, hy moet sy lewe waardeer en elke oomblik uitbuit, maar oordaad liefs vermy:
“Jy kry net één lewe. Net één.
Versorg en koester dit,
vier dit en vind daar vreugde in.
…
… Kom liefs tenger
onversadig en honger
maar voldaan terug.”
Die bundel is ingedeel in 13 onderafdelings, waarvan drie benoem is, afdeling 5 (”saamsing”), afdeling 7 (”kardoes”) en afdeling 10 (”L’amor che move il sole e l’altre stelle”). Die afdelings is egter nie afgeslote of onverbonde groepe nie en sluit subtiel by mekaar aan om ‘n deurlopende betoog te vorm. Hoe dieper ‘n mens lees, hoe meer kom jy agter hoe die gedigte in die bundel op veelvuldige maniere aan mekaar koppel. Mens sou kon sê dat die verse in die bundel oor baie onderwerpe handel, maar tog almal familie van mekaar is (wat Cloete se eie manier is om die verband tussen gedigte te beskryf). Baie van die gedigte sou op meer as een plek in die bundel kon inpas en daar is ‘n onderliggende deurlopende gesprek oor die vorme en aard van die lewe en van menslike ervaring. Juis in die aangesig van die dood word die lewe in sy onvolmaakte volheid al hoe kosbaarder en daarom word dit meer intens waargeneem en ervaar.
Die bundel begin met vier gedigte wat met vorme van menslikheid gemoeid is. Helen Keller en Helen Martins, met haar uilhuis, was beide uitsonderlik in hulle menslikheid. Liggame wat fossileer in die aarde vertoon ook steeds menslikheid. Twee ander spesifiek menslike eienskappe kom in hierdie afdeling aan die orde, naamlik die mens se vermoë om te treur en te huil en die mens wat praat of meer spesifiek, die mens wat taal tot poësie skik. Die gedig “stilhuil” eindig met ‘n besonder sterk beeld van smart, daardie diep smart wat jou laat huil in stilte, wat die uiterste kwesbaarheid inhou en as ‘n verblindende maar ragfyn fisiese pyn manifesteer:
stilhuil laat in die boom van jou are
deur jou lyf ragfyn strak
staande ‘n gloeiende gestolde weerlig vertak
Die volgende afdeling handel oor die “Landheer en pagters”. Die “blitsvinnige Landheer Skepper slaak/ uit ‘n leë niks alle bestaan in ‘n kitsoogwink” terwyl die pagters wik en “traagdink” en poleer sonder om in enige vergelykbare mate sukses te behaal. Die gedagte van die reddende waarde van onversadigbaarheid word in hierdie afdeling voortgesit. In die gedig “die eenvoud van die eenvoudiges” word die leë selftevredenheid van sommige mense, diegene met ‘n cv “so netjies verdig/ dat dit inpas in ‘n grafskrif”, vergelyk met die onversadigdes wat weet dat hulle steeds soekende sal wees, steeds sal uitreik na die ontbrekende. Hierdie lewensuitkyk word dan ook gesoek in historiese figure en historiese omstandighede in afdeling 4. Die vraag is of die mens nie eers in die dood iets van sy ideaal bereik nie: “Haal ons die ideaal …dan volmaak alleen/ as ons ophou asemhaal?”
In die afdeling “saamsing” is die digter intertekstueel besig. Dit gaan egter nie net daaroor dat hy ander tekste aanhaal om ‘n eie teks te laat eggo nie. In “swerwende verse” kom die intertekstuele verbande tussen antieke tekste in herdigtings en omdigtings na vore. In hierdie reeks gedigte word akademiese kennis en insig in digterlike formaat aangebied. Cloete het naamlik agtergekom dat daar sterk ooreenstemmende beeldspraak in verskillende beroemde antieke tekste uit uiteenlopende tradisies voorkom, onder meer in die Bybelse Psalms, in Akhenaton se “Himne aan die Son” en “Himne aan Aton” asook in die “Canticle of the Sun” van Sint Franciskus. Hy dig gedeeltes uit hierdie tekste om en wys hoe dieselfde gedagtes en beelde gebruik word, maar hy voeg daarby die kommentaar van Vagebond 1, 2 en 3, wat natuurlik gestaltes van die digter self is. In hierdie kommentaar lê hy verbande tussen die antieke gedagtes enersyds en sy eie bestaan en die bestaan van die mens en ander lewensvorme andersyds. Hy sluit die reeks af met die gedagte dat gedigte ook ander gedigte oproep soos die een dag die volgende roep waarmee die band tussen mense en kunstenaars van alle tye gesuggereer word.
Die afdeling bevat meer intertekstuele gesprekke met ander Afrikaanse digters, maar die ander merkwaardige gedig in die afdeling is “Achilles se skild”. Die gedig beskryf die uitvoering van die taak wat Hefaistos opgelê word om vir Achilles ‘n skild te maak. Die hele proses van die maak van die skild word beskryf, maar ook dit wat op die skild uitgebeeld word. Cloete volg hierin sy bron, naamlik Homeros se Ilias en spesifiek Boeke 18 en 22, taamlik noukeurig, maar deur slim woordkeuse word daar subtiele kommentaar in die gedig ingebou.
Die skild van Achilles is ‘n representasie van ‘n hele werklikheid en al die aspekte van die menslike lewe, die skoonheid, die vrugbaarheid, die heerlikhede en die wreedheid. Cloete lê in die eerste gedeelte baie klem op Hefaistos se gebreklike liggaam: hy is “die hinkende horrelvoet Hefaistos”, “die krom kreupele” op sy “tenger hoepelbene”, maar ook op Hefaistos se kunstenaarsingesteldheid: hy weet as hy behendig is en as hy geduldig en langsaam sy werk verrig, daar iets moois tot stand sal kom.
Die gedig is ‘n ekfrastiese gedig soos wat Homeros se beskrywing van die skild ook ekfrasties ‘n visuele kunswerk in taal representeer, maar Cloete se hantering maak van sy gedig nie net ‘n her-representasie van die skild nie, maar ook ‘n toevoeging tot sy eie verkenning van die temas van krag en swakheid of onvolkomenheid en gestremdheid, asook van die funksie van die kuns en die kunstenaar wat juis nie sterk is nie, maar tog invloedryk. Ek dink hier aan die progressie in “toepassings van dante” in Idiolek (1986) waar die uitbeelding van skoonheid gekontrasteer word met die wanstaltigheid van bepaalde duifsoorte, en die suggestie dat kuns vormgewing is en as sodanig goed in die oë van die m(M)aker. Daar is in Cloete se oeuvre ook ‘n hele aantal verse oor ander gebreklike kunstenaars soos Toulouse-Lautrec, Saint-Saëns en Beethoven (vgl. “bukse”, in Driepas, 1989:75). Daar is ook gedigte oor die digter self waarin hy homself in sy kreeftegang beskryf, hoe hy voor God in sy gestremdheid en pyn huppel (vgl. onder meer “refraksie” en “artropatie” in Idiolek, 1986:44 en 50). Die belangrikheid van die kunstenaar kom ook herhaaldelik aan die orde byvoorbeeld in die gedig “beethoven 2″ (Cloete, 1986:112):
Hy het vir ‘n molto adagio
beethoven aan die lewe gehou
…
God het vir ‘n a-mineur
Hom aan beethoven gesteur
Cloete wil dus via Homeros se beskrywing van die maak van Achilles se skild iets sê oor die mens, oor hoe voortreflikheid en wreedheid, kuns en oorlog, die beste en die slegste in die mens juis onvoorstelbaar na aan mekaar lê. Cloete plaas klem op wat uitgebeeld word in die skild en as omdigter suggereer sy woordkeuse dat wat Hefaistos gedoen het, was “om ons ontglippende dubbele menslikheid/ in een stuk te smee”.
Hierdie uitbeelding van ‘n hele werklikheid geskied ook by implikasie in die bundel self wat gedigte oor ruimtereise en die “die siermotiewe van die smerige vlieg” langs mekaar plaas en in die afdeling “kardoes” kleiner gedigte saamgroepeer soos wat bont lekkers in ‘n tuitgedraaide bruinpapierkardoes saamlê. Van die grootse gedagtes en ruimste sirkels af kom die digter ook uit by die eietydse Suid-Afrikaanse werklikheid en selfs die Dakar tydren word ‘n gedig. In al die gedigte bly die besinnende digterstem die agterliggende begeleiding sodat uitbeelding en kommentaar poëties versmelt.
In die volgende twee afdelings het die digter dit oor die liefde, eers oor “die liefde wat vriendskap heet” en die komplekse vorme van die weemoed oor mense wat nie meer daar is nie, en dan die pragtige afdeling “L’amor che move il sole a l’altre stelle”. Dié afdeling staan onder die titel van die slotreëls van Dante se “Die Paradys”, die derde deel van La Divina Commedia: “deur die Liefde wat die son en die ander sterre beweeg”.
Die gedigte handel oor die afskeid en dood van die geliefde vrou, die lewensmetgesel van baie jare. Die gedigte verwoord wat eintlik onmoontlik is om verwoord te word; die smart, die verslaenheid van smart en die pogings om deur herinneringe ervarings te besweer. Die digter beskryf hoe hy uitstappies wat vroeër gedeelde ervaring was, weer onderneem:
…
het sy my ontval
my duifie sonder gal
sy het in ‘n ondeurdringbare wakkerland gaan bly.
Soms het ek die ou roetes daarna
verdwaas uit die dorp oor en oor gery
en asof dit ‘n uitkoms inhou in my wanhoop
…
Die digter sien drie troupante op ‘n plek waar hierdie voëls gewoonlik nie aangetref word nie en wonder: “vlieg jy in een van hulle rond miskien”. Hy ry ook weer terug na die plek maar weet:
…hoe maak
ek met ‘n troupant ‘n afspraak
vir wie moet ek kwaad
word vir ‘n hand vol reënboogvere se verraad
Die afdeling sluit af met ‘n gedig wat suggereer dat geen kunstenaar nog ooit met sy kuns werklike gemis kon transendeer nie: geen pigment kan “skryn” weergee nie, geen leemte kan toegemaak word deur “ondigte geperforeerde taal” nie en die klanke van die komponis verloor “hulle afsonderlikkende simf”.
Desnieteenstaande kan die digter ‘n mate van rus vind in die groter beeld van ‘n lewe en die omvattende werklikheid. Hy kan weer luister na die voëls en weet: “inskiklik/ lê ek my by die pynlike soet/ van die stadige sterflikheid neer”. Hy staan soos ‘n bonsai “klein maar droom”, en beskryf ‘n wonderlike plek, daardie plek waar “ons almal … daardie einde (sal) haal”.
‘n Bundel soos hierdie waarvan ek slegs ‘n saamgetrekte oorsig kon gee, is ‘n omvattende leeservaring - dit is nie kitsleesstof of iets waarmee ‘n uurtjie gevul word nie. Dit is ook eintlik by herlees wat ‘n mens eers ten volle begryp hoe kompleks elke gedig is, hoe sorgsaam die verwoording, die sintaksis, die tipografie en die klankpatrone ingespan word om die mees subtiele suggesties vas te vang. Vir ‘n digter soos T.T. Cloete is die skryf van gedigte ‘n natuurlike uitvloeisel van sy lewe en as sodanig bestryk die gedigte ‘n uitgebreide intellektuele en emosionele register. Hy is en bly eenvoudig “a poet’s poet” want mededigters staan telkens opnuut verwonderd oor sy virtuositeit en vindingrykheid ten opsigte van sowel tematiese as tegniese aspekte van die poësie.
In die slotgedig gee die digter self ‘n aanduiding van sy digterlike soeke en waar hy hom tans bevind. So word die noue verband tussen lewe en vers geïllustreer:
met gevou en gepas het ek gesoek
in ‘n verskietende lang moeisame verlede
waar ek inpas en langsaam het ek tuisgekom
in die deursigtige tent van my ouderdom
Die gedagtegang in onversadig is verreikend en steun op die kulturele arsenaal van ‘n belese en beleë persoonlikheid en ‘n skerp assosiatiewe brein. Daar word in gesprek getree met kerntekste uit die Westerse verlede, maar ook met ander Afrikaanse digters. Daar word kommentaar gelewer op die mens in die geskiedenis en op die mens van vandag in sy besige bedrywighede en vermaak. Hierdie poësie is nie ‘n versameling lukrake verse nie, dit is die verslag van ‘n denkwyse, dit representeer die deurlopende digtende aard van ‘n lewe en die dinge wat in daardie lewe gebeur en waaraan daardie lewe raak. Dit gaan hier nie net oor goeie en voortreflike poësie nie, hoewel dit weldeeglik deur ‘n studie van die tegniese aspekte van die gedigte aangetoon sou kon word. Dit gaan om ‘n soort poësie wat ‘n mens vloeibare filosofie sou kon noem, poësie wat denkend is, wat gedagtes wakkermaak en voed, maar steeds in taal wat oopmaak, wat dinamies is, wat ‘n vloeiende denkproses ondersteun en voortgang bewerkstellig.
Wednesday, April 20th, 2011
Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna. `n Versamelbundel. TT Cloete.
Pooka Uitgewers. ISBN 978-0-620-49815-9. Prys: R180. 115 bladsye. Hardeband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
 Omslag
`n Aangename verrassing vir poësieliefhebbers was die onlangse verskyning van twee bundels deur die veelbekroonde TT Cloete - deur baie beskou as ons grootste lewende Afrikaanse digter. Onversadig (2011) is voorafgegaan deur Uit die wit lig van my land gesny: vir Anna (2010), laasgenoemde `n versameling verse waardeur die digter hulde bring aan sy eggenote wat hom in 2007 ontval het. In sy insiggewende inleiding noem Cloete dat die bibliofiele uitgawe van slegs 150 eksemplare tydens die vrystelling by Aardklop 2010 uitverkoop is, wat `n herdruk in gewone formaat genoodsaak het.
Soos dit uit die inhoudsopgawe blyk, het die digter nie gewag tot ná die dood van Anna om aan haar `n prominente posisie in sy poësie toe te ken nie. Vanaf sy vroegste bundels teken hy reeds die profiel van sy geliefde, en met haar afsterwe in 2007 word dit voorlopig in die slotafdeling van hierdie versamelbundel volvoer.
Die gedigte gaan egter nie slegs oor Anna as persoon nie, hoewel haar klein afbeelding op die voorplat tesame met die opdragwoorde daardie indruk mag skep. Dit is eerder `n bundel oor die wonder van `n verbintenis; die deelwees en opgaan van liefdesgenote in mekaar. Aansluitend hierby word die geborgenheid van huis en tuin, asook van die gesinsverband, beklemtoon. Vir die spreker is dit binne hierdie koesterende ruimte dat die mens sy sterflikheid en stoflikheid deur die liefde oorwin. Terselfdertyd is daar die bewustheid dat die aardse binding eindig is, want hoewel ons saam verkeer in die net van liefde, vreet die spinnekop van die dood ons “een vir een eensaam tot harde leë beentjies en windligte dop” (”ons almal”, 65). Die aanbod van die bundel is gevarieerd, en gedigtitels wat wissel van “griekse beelde louvre” en “Vroue van Vermeer” tot “Reis na Namakwaland” en “Seepbelsondagoggend” verraai die spreker se ingesteldheid op die skoonheid in al haar vorme.
Anna word nietemin die oerbeeld van die ewige minnares, die een wat `n leeftyd lank bemin word: liggaamlik, geestelik, verstandelik en meer. Haar “profiel” (uitgesny, soos die bundeltitel suggereer) vorm weliswaar die hart van die bundel, en haar voorkoms word op verskeie plekke in fyn besonderhede besing. En tog is dié portrettering maar `n spoor na haar innerlike en haar magiese teenwoordigheid vir die spreker. Die profiel verkry hier `n ruimer tekenwaarde en verwys na die wese van die liefdesgenoot as aardmoeder, gewer, muse en maat. Uiteindelik kan dit gelees word as `n metafoor vir die vroulike komponent in elke diep bevredigende man-vrouverhouding.
Cloete gebruik as een van sy bundelmotto’s (en ook as titel vir die slotafdeling) die woorde van Dante uit sy Goddelike Komedie: “Die Liefde wat die son beweeg en die ander sterre.” So `n liefde, sê die spreker in die gedig “gratis 1″ (83), “ontsnap uit die grepe van die taal” en “het behoefte/ aan `n gans en al ander naam”, terwyl die suiwer lyflike wel in “lippetaal” omskryf en besing kan word. Nogtans vind Cloete in sy persoonlike tekenleer die woorde om iets van die grootsheid van `n allesomvattende liefde uit te beeld.
Die digter skram nie weg van liggaamlike detail nie, maar vermy banaliteit. Hoe raak verbeeld hy nie Anna se jeugdigheid in haar “jongmeisie-regop haarveergang/ met die klein ferm sampioene malvasag” nie, gevolg deur “hoe jy oor die 100 tree-hekkies gly/ met die skoot oop en die dye” (”skering en inslag”, 78). Elders transponeer hy die sinchronie van die liggaamlike liefde na die intieme samespel van musiekinstrumente (”konsert van die verliefdes”, 54, en “klankkoïtus”, 55). Waar die vleeslike oorstyg word, raak die gedig aan die sublieme, om daardeur `n flits van die onsienlike te gee.
In haar toestand van aftakeling besit die vrouefiguur vir die spreker `n delikate maar wrange skoonheid: “los lê sy in haar vel. in haar skil/ lê sy nartjie. geel en deurskynende lig/ lê satynsag op haar sweetgesig” (”siek vrou”, 75). Meermale is daar sprake van die lig wat haar omgeef, ook wanneer hy haar beeld op `n vroeëre foto oproep: “geprofileer in `n diep leunstoel, bene gekruis,/ [...] by die venster in die lig/ van die blink see en geel wasige donsson/ dromerig mymerend en byna deursigtig// skimmig geskryf met lig” (”foto van vrou by die see 1966″, 95). Maar die motief van siekte en aftakeling gaan ook gepaard met skrik, want in “roffelkonsert” (80) is die spreker bedag op die laaste slag van die hart: “na énige slag kan die timpaan/ oorslaan toeslaan”. Daarby is `n noodkreet hoorbaar in “ambraal-woordeboek” (86) waar alle moontlike middele van heling aangeroep word om die pyn te haal uit die wrede speletjie met iemand vir wie die spreker “ongeneeslik liefhet”. Selfs die weersinwekkende detail van die siekte word vir die gedig sinvol benut in “goeie helder Saterdag” (97) as teken dat die aarde weer van ons terugeis wat ons daagliks inneem: “vir ons self afstootlik. herinner sy ons aan ons aardsheid// sy doen dit langsaam tot sy ons self vat”. In kontras daarmee, en ter relativering, staan die voortgang van daaglikse aktiwiteite as “die lewe wat skreeu en gil/ en in die hande klap”.
Een van die winste van die bundel is dat die gevaar van sentimentaliteit, wat dikwels in gedigte van hierdie aard op die loer lê, knaphandig uit die verse geweer word. Daar is geen oormatige “soetheid” nie; eerder `n nugtere, dog gevoelige verwondering, en in daardie paradoks lê die trefkrag. Slegs groot digters kan dit vermag, en deur Cloete se kunstenaarsblik, aanvoeling en geoefende hand fnuik hy die lokval van oordrewe verering en omskrywing. Daarom is sy verse tegelyk eg, oortuigend en ontroerend. Wat die leser veral bybly, is die teerheid en respek - en `n bewustheid van die heiligheid van huweliksgeluk. Dit verbaas dus nie dat die verwondering van die spreker soms kosmiese proporsies aanneem nie, soos in “vrouson” (82):
die lig kry sy krag uit die hare
van `n vrou die son is hare
sy was haar hare in supernova-blou lig sy gooi
haar kop wielend agteroor sy strooi hoepelstierte rooi
superprominensies uit sy skud orkane los
parabole deur die groot ooptes van die kosmos
sy my sonvrou uit haar turkoois harebos[.]
Daar is reeds uitvoerig geskryf oor Cloete se vorige bundels waaruit gedigte vir hierdie versameling gekies is. Dit sou dus herhalend wees om weer in te gaan op die verstegniese middele wat deur die digter hanteer word, waarna daar onder meer in my resensie oor Heilige nuuskierigheid (2007) in Tydskrif vir Letterkunde 44(1) verwys is. Opsommenderwys kan daar genoem word dat lesers in hierdie versamelbundel weereens (en met ewe groot genot) sal kennis maak met Cloete se vindingryke en vernuwende taalgebruik, sy sensitiwiteit vir die natuur en sy besondere belesenheid. Sy verse word verryk met name, byname, en die benoeming van dinge en plekke. `n Mens hoef maar net weer “ambraal-woordeboek” (86) en die vyfdelige “roetes op soek na jou” (101) te lees om onder die indruk van hierdie digter se verstegniek te kom.
Cloete was uit die staanspoor `n gerekende digter, en van die vroeër verse wat in hierdie versameling opgeneem is, maak `n ewe sterk indruk as die nuwe toevoegings. Van die treffendste reëls in die versamelbundel kom voor in “Seepbelsondagoggend” (66) wat reeds in die bundel Driepas (1989) verskyn het:
[...] Daar kom `n moment delikaat
en só heel dat `n enkele uur die waarde
van `n ganse bestaan het, met `n oordaad
so gelade, so volmaak, dat die mees bedaarde
lispel dit rinkelend gaan stukkend praat.”
Die gedig “Anna”, uit dieselfde bundel, en waarvan een versreël as titel vir die versamelbundel gekies is, kan in die geheel uitgesonder word as een van die hoogtepunte. Die twee slotstrofes lui as volg:
Kyk ek sonder jou, is daar skille
oor my diep oogkasse, ek
kyk sonder pupille.
Ek soek jou in die omtrek om my getrek,
ek soek jou in die appel van my oog.
Kyk ek na die melkweg, in die gras,
in die water, na die boog
van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.
`n Aantal van Cloete se kenmerkende stylgrepe werk saam om van hierdie gedig iets onvergeetliks te maak. Daar is egter vele ander gedigte wat op die onderskeiding van die “beste” huldigingsgedig kan aanspraak maak, soos die kompakte maar veelseggende “vrou” (77), die vermaaklike en tegelyk roerende “rokke” (88), of die byna aanvoelbare “kamerjas op die divan” (90).
Dit behoort aan lesers groot genoegdoening verskaf om Cloete se verse rondom `n bepaalde tema, en dan die liefde as die grootste (en seker die mees uitdagende) van almal, in een uitgawe ter hand te neem. Daar is `n veelheid van gesigspunte, en die bekende Cloete-knipoog wissel die weemoed af. Tydens vanjaar se Woordfees op Stellenbosch het die digter genoem dat hy sy werk met ywer voortsit - voorwaar iets om oor nuuskierig te raak, te mete aan die dubbele Hertzogpryswenner se indrukwekkende oeuvre.
Sunday, April 3rd, 2011
Wanpraktyk. Andries Samuel. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5282-2. Prys: R145. 68 bladsye. Sagteband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
 wanpraktyk
Dis selde dat `n debuutbundel `n mens se aandag so vasvang as Andries Samuel se Wanpraktyk. Hier is `n nuweling wat iets het om te sê, op `n eiesoortige manier en poëties verantwoord, sodat hy met die intrapslag sy merk as digter maak.
Die bundeltitel leen hom tot verskillende interpretasies en het nie noodwendig betrekking op `n “misdryf” in die eng sin van die woord nie. Die digter bewerk juis die taal deur (onder andere) woorde se sluimerende betekenisse en assosiasies te aktiveer. Breër gesien en na aanleiding van die bundelinhoud, is Samuel se Wanpraktyk `n benaming vir handelinge of strukture wat afwyk van die norm, en daarin destruktief of disfunksioneel kan wees. Die titel kan egter ook ironies bedoel word, in welke geval die “koersafwyking” ook positiewe konnotasies dra.
Dit is verhelderend om die buite- en binneteks van hierdie bundel saam te lees. Die grys bundelomslag met afbeeldings van wasige, swewende strukture, en `n kleiner kindertekening wat tussen die voor- en agterplat verdeel word, berei die leser voor op `n onderliggende somberheid en `n gebrek aan samehang en betekenis. Van die visuele prikkels wat voor, tussen en ná die gedigte opduik, tesame met die tipografiese spel in sommige verse, kan moontlik teruggevoer word na die digter se bemoeienis met struktuur in sy beroep as argitek. Die tekeninge kan ook dui op work in progress, `n proses wat aan die einde van die gedigtekste uitloop op `n byna voltooide stadsplan, met daarna `n enkelstruktuur wat nou meer gedetailleerd voorkom. Die motief van strukture vind neerslag in die inhoud van die gedigte ten opsigte van strukturele wanpraktyke in samelewingsverband, sowel as die herstrukturering of herskikking van die menslike psige op weg na heling. Die digter mag selfs te kenne gee dat sy beoefening van die woordkuns `n “wanpraktyk” is; `n bedryf waarin die emosie `n rol te speel het, en wat ingaan teen die koel presisie van sy beroepsveld.
Ook die inhoudsopgawe is veelseggend. Die afdelings- en gedigtitels word voorafgegaan deur `n opskrif: “wanpraktyke, `n sak vol bedrieglike uitweegsels”, gevolg deur die afkorting “bv.” Hierdie ietwat ongeërgde, lakonieke en selfs wrang instelling rig aan lesers `n bedekte uitnodiging om die bundel ook so te benader. Die neologisme “uitweegsels” dra spore van “uitvaagsels” en “uitwerpsels”, maar terselfdertyd van “weeg” of “oorweging”. Dinge wat oorweeg, geweeg, en uitgewerp of verwerp is, bly agter as `n “sak vol” gedigte; en “bedrieglik” ontmoedig `n te gemaklike gevolgtrekking. Hierdie tong-in-die-kies-houding word voortgesit in die digter se benoeming van die onderskeie afdelings as wanpraktyk 1, 2, en 3, elk met `n eie omskrywing. Die twee bundelmotto’s is in `n sekere sin onrusbarend en sluit aan by die afdelingstitels. In die aanhaling van Anne Michaels word gewag gemaak van die slepende gewig van verlies, terwyl dié van Barend J. Toerien verwys na `n rilling oor die vel, maar ook na “botsels” - `n begrip wat terugkeer in die bundel se onverwagte slotreël, “ek bot in die eerste breuke”.
Die eerste afdeling, “Wanpraktyk 1 - stukke van my sleep met haar mee” verplaas die leser na Israel en die Jiddisje wêreld - `n milieu waarbinne die digter self gewoon het en waarheen hy periodiek terugkeer om sy kind te besoek. Uit die bundelkonteks kan `n mens aflei dat die spreker die situasie as `n wanpraktyk beleef. Die inleidende vers, “ykgedig”, maak gebruik van Bybelse gegewens en terminologie, waarmee daar oënskynlik ongeërg omgegaan word: “uit die pentateug, met `n bietjie proverbs en profeet”. Dit blyk dat die spreker by wyse van die digterlike woord tot klaarheid wil kom omtrent die presiese waarde wat aan ervarings toegeken moet word. Dit is `n sinvolle inset tot die bundel, omdat die gedig dien as `n yk-instrument of toetssteen waarmee verlies (en die gepaardgaande wanpraktyke of toestand van disfunksionaliteit) geweeg word. In die slot slaan die toon oor in patos: “ek weeg my daagliks/ daagliks by die verdriet van `n kind” - `n sleutelreël in die afdeling en selfs die bundel wat gelees kan word as `n “verseboek” van “verdriet” wat vir die nageslag bewaar word.
Die daaropvolgende gedig, “my dogtertjie”, sluit hierby aan. Sonder die uitspreek van direkte emosie, en met die skyn van speelsheid, is die vaderfiguur se woorde des te meer deerniswekkend:
my dogtertjie
is `n geitjie
sy bak in liefde
soos die son
vlakke mure en plafon
maak haar vasklou niks
haar klewerige vratpootjies
het my beet
haar fynsliertstertjie
krul my om”[.]
Lesers en aspirant-digters mag dit interessant vind dat Samuel op die onlangse Stellenbosse Woordfees genoem het hoeveel hy aan die bostaande vers moes snoei en skaaf om `n oormaat aan “drama” en sentiment uit die vers te weer en `n gestroopte produk staan te maak. Daaruit sou `n “fynsliertgediggie” tot stand kom wat in sy berekende eenvoud die leser omslaan. Die afdeling bevat meer gedigte wat die hartsverbintenis tussen die vader en “pa se kind” te midde van die meegaande verdriet uitbeeld. In “visitation rights”, `n gebruik wat ook sinspeel op `n wanpraktyk, is die digter se speelse en ongeforseerde omgang met taal louter genot. Met woordvondste soos “kantel ons familiewenkbroue” en “glabberige waterblom” voer die digter `n ligter toon in om die somberheid te balanseer.
In “berigte van herkoms / psalms vir die verste kind” word die afstand wat tussen ouer en kind ingetree het, en die innerlike geweld wat daarmee saamgaan, konkreet voorgestel deur `n gedig wat telkens onderbreek word deur grepe uit oorlogsberigte. Ewe interessant is die afwykende tipografie in “all god’s children took their toll” waar afsonderlike brokke vers heen en weer oor die bladsy beweeg. Dit versterk die belewenis van die inhoud, naamlik dié van `n verskeurde, gewelddadige wêreld waarin die kind, en by implikasie die vader, hulle bevind. Algaande word dit duidelik dat die begrip “wanpraktyk” onder meer van toepassing is op die versteuring van lewensvorme, en hier spesifiek op die skending van `n ouer-kindverhouding soos versinnebeeld deur die gelyklopende verwonding in tye van oorlog.
Kenmerkend van bundel is nie alleen die verskeidenheid ten opsigte van styl en toonaard, tematiek en beeldgebruik nie, maar veral die parallelstelling van verskillende sake binne een gedig. Ook in die tweede afdeling vloei die ek-spreker se donker gemoedtoestand (”blues in yk”) ineen met die triestige Kaapse weer, voelbaar gemaak deur die herhalings, ritmiek en klanknabootsing, asook in die droefgeestige, liedjie-agtige strofes. Tegelyk nugter en weemoedig klink die spreker se ervaring van sy Kaapstadse omgewing in “stadfragmente”:
hier bo bly ek in 902
half leeukopgespalkte uitsig
blokkie see
[...]
die maan skans op
in die wolkmaansop
en skif dof agter leeukop verby[.]
Samuel weet hoe om `n synstoestand met `n omweg verbeeld deur die hantering van die vergelyking en metafoor. In “onttrekking” sê hy: “[dis] asof my blokkiesvloer/ oorgelê is met slange en met lere” en “die matte van my verstand/ soos baarde verleë dennenaalde/ gestrand in geutbeton”. Die digter se knap omgang met klank blyk uit versreëls soos in “tussen my skedel/ en die skil van my kopvel” en “ratelende skarrel”. In die versugting: “hoeveel dae is dit al/ watter seë koers ek in/ hoeke waters gee ek my aan oor/ watter skaaldier dieptes onder” word die radeloosheid deur die segswyse verhelder. Die oënskynlike gebrek aan samehang in die versbou verhewig die nagmerrie-agtige ondervinding.
Daar word ruim gebruik gemaak van neologismes, onder andere in “voëlvuurasem” waar oor die liefde gepraat word in terme van “teugde”, “bilg”, “skraak”, “uitskuinsend”, “ontrookte”. Saam met “dit asem” en “dit natgebore vuur” dui die woordkeuses op `n ontredderde geestestoestand. `n Mens kan jou afvra of die taalverwringing nie soms te ver gevoer word en gesog voorkom nie.
Die wyse waarop Samuel gespesialiseerde begrippe as metafoor aanwend, spreek reeds van `n gevorderde digvermoë. In “enkele tegniese besonderhede oor water” benut Samuel terme uit die argitektuur, soos Gilbert Gibson uit die mediese woordeskat put om verse op `n oorspronklike wyse in te klee. Die gedig van Samuel, een van die hoogtepunte in sy bundel, is `n ironiese gesprek met en oor water waarin verdigtingsmeganismes en die stryd teen roes en verrotting betrek word. Uiteindelik word dit `n besinning oor die “diep water” waarin ons by wyse van spreke woon, en waar die digter hom in `n “spatsel droog” bevind, “in `n fles vir woorde/ wat teen water verset”. Die slotstrofe word `n illustrasie van die stryd om water uit te sluit, as `n poging tot oorlewing en om wille die bedryf van digterskap.
“[S]oekmekaar” toon hoe die digter in die vryeversvorm ook elemente van `n meer tradisionele styl (met betrekking tot eindrym) inkorporeer. Vernuftig ook is die herhaling van bepaalde woorde en frases. Die gedig is veelseggend in sy oënskynlike eenvoud, en die manier waarop die vers tot stilstand kom in “soek daar”. Ten spyte van die praattoon word die nodige spanning gehandhaaf om die gedig te laat slaag.
Nog `n hoogtepunt in die bundel is “losklim”, waar besonderhede uit die rotsklimsport as boustof gebruik word. Die opbou van die vers simuleer die bewegings van die klimmer en die opeenvolgende momente waarin hy hom teen die natuurkragte verset. Die slotreël staan los van die res van die strofes en is besonder beeldend: “onversadigbaar wulp die grond haar dye”, asof die aarde die klimmer verlei om sy greep te los en hom oor te gee aan die aantrekkingskrag van die aarde “wat hom terug wil smyt”. Die ongewone gebruik van die werkwoord wat dikwels by Samuel voorkom, val op in “hy slak versigtig opwaarts”, asook in die grond wat “wulp” - binne hierdie konteks `n eggo van “wulps”. Weereens kan die gedig as ook as `n metafoor vir die lewensklimtog óf die maak van poësie geïnterpreteer word.
Dieselfde stryd om `n “greep” te kry word sigbaar in “my sokkies is swart”, hier met betrekking tot die greep op woorde, lettergrepe en betekenis. In die daaropvolgende vers, “strandtekens”, lyk dit of die spreker sy houvas op die werklikheid kwyt raak. Ná `n vreemde droom word die spreker wakker (”ek sweet wakker uit `n droom [...] ek dryf my bewussyn binne”) en beleef hy `n angservaring - eers by die see (”die see is aan die kom/ en die maan kan dit nie terughou nie”), en daarna op land (”ek ry terug die wêreld in [...] soos ek bruin waterspuite/ in waaiers oor die veld uitspat”. Die hele gedig skep die indruk van `n toestand van horries of `n durende nagmerrie. Woordverbindinge (”moddergrondpadlangs”), onbekende woorde (”desperasie”) en `n onverwagte beeld (‘nat pels soos `n handdoek”) is in pas met die toestand van verwarring. By wyse van kontras spreek die gedig “dwarsberg” van rustigheid en `n byna bo-aardse ervaring. Die “enkel hengelaar” by die bergpoel word omgeef deur “boë suisende helder lyn/ terugkerend silwer tussen gewrigte/ en rimpels watersterre/ van forel wat spring”. Dit is `n voorbeeld van hoe Samuel estetiese effekte bereik wat ver verwyderd is van geykte “mooiskrywery”.
Die laaste afdeling van die bundel bestaan hoofsaaklik uit liefdesverse waarin verwonding en ekstase vermeng is, met `n vooropstelling van die liggaamlike. Hoewel die gedigte ten dele tref, danksy `n innige toon of enkele raak besonderhede, maak dit vir hierdie leser die indruk van jeugwerk. Die segging is net te direk - wat `n meer toeganklike vers tot gevolg het, maar inboet aan veelvlakkigheid, soos wat vroeër in die bundel aangetref word. Die ryk, gekonsentreerde slotvers met sy meesleurende opbou (”op pad na `n nuwe bouterrein”) staan veel sterker. Ook hier sluit die titel en inhoud aan by die argitektuur, maar dit gaan om meer as die werklike bouterrein. Dit wil ook `n metafoor wees vir die proses van herstel, hier verbeeld as `n moeisame tog deur `n wildernis wat ingebreek moet word en die soeke na `n nuwe pad wat “sywaarts uit[breek]“. In die verrassende losstaande slotreël, “ek bot in die eerste breuke”, skuil `n paradoks. Deur `n besondere vonds van klank en beeld word `n nuwe fase in die vooruitsig gestel, en die bundel op `n hoë noot afgesluit.
Die feit dat Andries Samuel die seun van die bekende digter en skrywer Antjie Krog is, het hoogstens interessantheidswaarde, want met Wanpraktyk tree Samuel na vore as `n woordkunstenaar in eie reg. Sy debuut sal ook tot jonger volwassenes spreek, en tot alle poësielesers wat bereid is om `n bietjie moeite te doen vir die raakhoor van `n nuwe stem. Daar is nie net groot belofte nie; die digter se penne is reeds stewig ingeslaan op die bouterrein.
@ Zandra Bezuidenhout
Sunday, April 3rd, 2011
Tempermes, deur Louis Jansen van Vuuren. Queillerie, ISBN 9780795800214, 2010
Resensent: Heilna du Plooy
 Tempermes
‘n Titel soos Tempermes vir ‘n digbundel is ‘n duidelike aanwysing: hierdie bundel gaan iets met skilder te make hê. ‘n Tempermes is ‘n paletmes, nie die een wat soos ‘n troffeltjie lyk nie, maar die een met langer ovaalvormige slap lem. Die onmiddellike betekenisassosiasie van die titel word verder versterk deur die buiteblad van die bundel. Die diep akwamarynblou en kobaltblou bolangs word effens koeler laer af op die blad en in die voorgrond is die figuur van ‘n man in skakeringe van groen. ‘n Vertikale rank waaraan ‘n ruikertjie blomme hang, voltooi die buiteblad.
Die digter van hierdie bundel is inderdaad ‘n skilder, soos duidelik word uit die bekendstellingsnotas en berigte oor die bekendstelling van die bundel wat gepaardgegaan het met ‘n kunsuitstalling. Die visuele sintuiglikheid wat op die buiteblad so duidelik is, ‘n helder, uitbundige gebruik van kleur, word in die bundel egter ‘n algemene eienskap: in elke enkele gedig staan die sintuiglike aspekte van belewenis voorop:
Beheks deur purper kruike
koue ambrosyn
sweer ons gierig trou (p.9)
Of soos in die volgende strofe:
In die breekblou van die winternag,
in die skitterglans van ‘n lentedag
noem ek jou naam (p. 13)
Wat kleur betref, lei die digter se kleursensitiwiteit hom om kleure noukeurig te spesifiseer. In die gedig “Plaas” is die huis se dak “oksied” geverf, die mure se “smeerwitkalk” word nat en die kerkhof se muur is “doodswit”. In die gedig “Vincent” word Van Gogh se bekende skilderye opgeroep deur ‘n opstapeling van kleure:
Skitter, skitter sterrenag
huilblou hemelruim
koorsblou
loodwit en vermiljoen
son en maan wat wankeldraai
Honderd spuwende sterre
bergblou
beenwit en oksiedrooi…
…
geeloker
rooioker en omber
sonbesiekoor sing in die olyftakarms
skitter, skitter sterrenag (p.50)
En in die gedig “Narkissos” (p.49) word die selfliefhebbende mens langs die waterpoel se einde soos volg beskryf in ‘n baie mooi strofe:
Tussen klippe en bleek brokke been
groei daar ‘n rare blou blom:
botsel van ‘n vreemde liefde,
kleur wat net van kobalt kom.
Dit gaan egter ook dikwels om smaak (”Kaneel en suiker, soet die nag” , p. 18; ”dek ek tafel swierig / met pienang en komyn”, p.34), of om klank, hetsy in die verwysing na liedere soos ‘n serenade en ‘n aubade, die “Elizabeth-serenade” (p. 20) of “My hartjie, my liefie/ die son sak weg” (p. 32) of in gewone beskrywings waar die klank meespeel soos in ”Sonbesiepraatkoor met die vink” (p. 25) en “Bokbaaivygie, disseldoring/ hoor jy ook die roofmeeu roep?” (p. 33). In “Die jagter se dogter” (p.47) word die hele vroegoggendse jagatmosfeer opgeroep in die eerste strofe, spesifiek deur na geluide te verwys:
Jaghoring krul ‘n hoë noot,
miswit skoorsteenrook.
Koperklanke rasper die klipmuur op,
hoog, tot by die dak se hoogste nok.
‘n Nes vol kuikens piep.
Die bundel is deurtrek van sintuiglikheid, meer nog daar is ‘n lewensdrif en ‘n sterk drang tot lewensgenieting wat uit vele gedigte spreek. Dit is selfs asof die liefdesmart waaroor in baie gedigte geskryf word, met ‘n soort energie beleef word. Dis inderdaad byna ‘n gierigheid wat in die gedigte beskryf word, soos die eerste gedig dit self noem. Die gedigte vloei dan ook vlot voort met ‘n soort vaart en baldadigheid waarin ‘n groot energie opgesluit sit.
In geheel beskou is dit ‘n bundel wat spreek van ‘n soort dekadensie, nie as ‘n werklike lewensstyl nie, maar die lewensgenietende dekadensie van daardie estetiese ingesteldheid wat ‘n mens ook by Hennie Aucamp kry. Die energie en vloei, die sensuele aard van die temas en van die gedigte self onderskryf hierdie waarneming.
Tog is die tematiese skopus van die bundel beperk. Daar is ‘n paar gedigte oor jeugherinneringe, ‘n paar stemmingsgedigte, ‘n paar verse oor kunstenaars, (Van Gogh en Sylvia Plath as metafoor), maar die meeste gedigte gaan oor die liefde en liefdeservarings. Daar is mooi wendinge in die gedigte soos blyk uit die aanhalings hierbo en ook soms verrassende metafore. Die verse vlot ook gemaklik en val ritmies sag op die oor.
Die bundel as geheel verloop vir my gevoel net te gemaklik en te glad, asof die keuse van woorde en reëls en strofes en gedagtes net te gou en te voorspoedig gemaak is. Dit is asof daar werklike diepgang ontbreek - wat miskien nie erg is nie, want waarom kan gedigte nie oop en duidelik en by-die-eerste-aansig-mooi wees nie? By herlees begin mens egter die baie geykte frases opmerk, die clichés, die soms te voorspelbare retoriese wendinge en ook soms die geforseerde klankpatrone en woordkeuses. Op die eerste vlak is hierdie bundel ‘n kleurvolle, klankryke en smaaklike leeservaring, soms uitbundig en soms weemoedig, maar altyd op vaart. By ‘n herlees word dit yler en voorspelbaarder, woordvaardig maar waarskynlik net te moeiteloos.
@ Heilna du Plooy
Tuesday, March 29th, 2011
Duskant die donker / Before it darkens. Deur Cas Vos (met vertalings deur Leon de Kock). Protea Boekhuis. Prys: R150. Aantal bladsye: 128. ISBN 978-1-86919-412-3
Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
 Duskant die donker/Before it darkens
In net meer as ‘n dekade sedert sy debuut met Vuurtong in 1999 het Cas Vos met 5 bundels ‘n eie plek in die Afrikaans digkuns vir hom oopgeskryf.
In sy mees onlangse bundel Afrikaanse verse, Intieme afwesige (2009), het daar al ‘n Engelse vertaling van een van die gedigte langs die oorspronklike verskyn (”Afskeid” / “Farewell”). Dis verlede jaar opgevolg met die publikasie van Intimately absent, Engelse omdigtings deur bekroonde vertaler Leon de Kock van die vierde afdeling (die “Abélard en Héloïse”- en “Astralabe”-reekse) uit daardie bundel.
Met Duskant die donker / Before it darkens staan die talentvolle De Kock vir Vos verder by om laasgenoemde se digkuns wyer as die toeganklikheidsgrense van Afrikaans bekend te stel. Anders as in Intimately absent verskyn die Engelse vertalings dié keer telkens langs die Afrikaanse ‘oorspronklikes’. Dit behels ‘n keur uit die ander gebundelde gedigte van Vos, veral uit Intieme afwesige en Die afdruk van ons hande (2007), maar ook enkele nuwe gedigte.
Ek plaas ‘oorspronklik’ tussen aanhalingstekens, want ‘n hele klompie van die herpubliseerde Afrikaanse verse is in ‘n mindere of meerdere mate deur Vos herskryf.
Voorts word die keur-met-vertalings ingelei met ‘n digterskap-taksering deur Johann de Lange, wat nou al sy sout verdien het as bekwame bloemleser, bloemlesinginleier en poësievertaler.
Alles in ag geneem, tree daar nogal ‘n promoverende strewe uit die verf aangaande Vos se digterskap. ‘n Fisiese uiting van laasgenoemde is die feit dat al Vos se bundels sedert Die afdruk van ons hande, ook die bundels vertalings, aantreklik uitgegee is in hardeband - ‘n voorreg wat al lank nie meer selfs internasionaal bekende Afrikaanse digters, soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog, beskore is nie.
De Lange maak in sy inleiding, getiteld “Die spoor van papirus”, gewag van “‘n afgeronde, klassieke soort vers met tradisionele bindingsmiddele soos rym en ritme” wat Vos skryf, iets wat hy onder meer koppel aan die digter se belesenheid in byvoorbeeld klassieke en antieke literature en mitologieë.
Myns insiens is daar eerder sprake van ‘n spanning tussen vaster en vryer vormgewing in Vos se oeuvre. Dit word algaande met meer trefkrag deur hom benut om iets van die paradoksaliteit en ironie op te vang wat sy verwoorde lewenservarings kenmerk - “die spanning tussen wat oud is en nuut, verlede en hede, goddelik en Goddelik, die aardse en die boaardse, die epiese en die alledaagse”, soos De Lange ‘n aantal dergelike teenstrydighede opsom. Ek sou onder meer die spanning tussen sinneroes en sentiment aan die een kant, en intellektualiteit aan die ander kant, wou byvoeg.
Trouens, die vyf afdelings waarin die gedigte in Duskant die donker / Before it darkens gerubriseer is, kan as verteenwoordigend gesien word van die belangrikste tematiese velde wat Vos in sy oeuvre bestryk:
- religie (met aanbidding en opstand, bestaansvreugde en -pyn, vertroue en twyfel in gespanne verhouding);
- liefde (waaronder erotiese verlange en vervulling, maar ook liefdeskipbreuk, -verlatenheid en -gemis, én die impulse tot poësieskepping wat dit alles bied);
- kunsskepping en kunstenaarskap (die triomfe en verrukkings daarvan, maar ook die pyn en onvoldaanhede wat daarmee gepaardgaan);
- lyding, skeefgeloopte verhoudings, die somber kante van hierdie lewe; en, laastens,
- aftakeling (deur ouderdom en die dood, maar ook van mense ondermekaar), versuim en gefnuiktheid - dit waarop in die bundeltitel gesinspeel word.
Op boeiende en soms aantreklike wyses word geykte uitdrukkings, asook aanhalings uit en toespelings op bekende intertekste, met eie taalwendings vervleg en verlewendig om ook op stylvlak sulke spanninge op te vang. (Meersinnige) woord- en klankspel versterk in die beste gedigte die effekte wat sodoende bereik word.
Vergelyk hoe die (geïmpliseerde) uiteenplasing van die bekende samestelling “droomverlore” bykomende betekenisse moontlik maak in die volgende kwatryn - iets wat nie behoorlik spreek uit De Kock se omsetting nie:
|
volmaan
die volmaan hang
verlate oor ‘n boom
terwyl ek droom
verlore na jou verlang
|
full moon
desolate, the full moon
floats across a tree
as i dream of being free
free to take you in full swoon |
Dit alles word, in Vos se beste gedigte, onderskraag deur ‘n beeldingsvermoë wat algaande in helderheid en suggestiekrag toeneem, en wat steeds sterker uiting vind in meer objektiewe gestalteverse.
Één voorbeeld, met De Kock se (plek-plek selfs oortreffende) vertaling daarby:
|
Il Gigante
Die beeldhouer blaas asem
in ‘n massiewe stollingsklip;
sy beitel hap log marmervlees,
tap bloed in die klip tot
uit die koue rots ‘n jong wagter opstaan,
oë groot en weerloos, lyf lammetjiesag.
Hy staan onverskrokke met sy slingervel
om met Goliat, die Godterger, af te reken.
Wat weet hy van Batséba, andersmansvrou?
Of van kwellings oor kinders, twyfel
oor nasate waaruit die asem
van God iets onverwelkliks kan laat bot?
Hy staan gesnaar.
|
Il Gigante
The sculptor blows breath
into the giant, stilled rock;
his chisel bites into the hulk of marbled flesh,
taps lifeblood into the stone until
a young shepherd arises out of its frigid face,
eyes large and innocent, body soft as a lamb.
He stands there, fearless, with a sling
ready to put paid to Goliath, the godless
brute.
What would he know about Bathsheba, and
forbidden fruit?
Or about torments for the sake of children,
doubt
about descendants from whom the breath of
God
can bud into something imperishable and
strange?
Strung, he stands ready. |
Helaas blyk uit hierdie keur, hoewel uiteraard minder opvallend as uit sy oorspronklike bundels, ook dat Vos hom skuldig kan maak aan minder sekure woordkeuses en stelwyses, onder meer vanweë sy pogings om derglike spanninge te verwoord. Ietwat troebele beelding - selfs in gedigte wat hy redelik sterk herskryf het vir opname in Duskant die donker / Before it darkens - is soms ‘n bykomende gevolg hiervan.
As voorbeeld plaas ek hieronder grepe uit die oorspronklik (in Die afdruk van ons hande) gepubliseerde en uit die herskrewe weergawes van die langerige gedig “Huwelik” langs mekaar, om die vergelyking makliker te maak. Hulle word gevolg deur ‘n naasmekaarplasing van (weer eens) die herskrewe en dan die vertaalde weergawes van daardie selfde dele. Ek dui woorde en frases in Vos se herskrewe weergawe wat na my mening (steeds) ietwat mank gaan aan troebelheid, met skuinsdruk aan. Ook met betrekking tot De Kock se vertaling lig ek frases met skuinsdruk uit, maar dié keer om te fokus op hoe die vertaler (hoofsaaklik) ophelderend te werk gegaan het, of óm dowwe kolle gestuur het.
| ’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde na die man se ore.
Sy vrou talm êrens op die drumpel van
verdriet,
met swye ontken hy alles.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bad hom in die heilige modder,
proe aan donkermaan.
Hy begin die waarheid lieg,
soos digters soms
agter ironie se masker.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Man en vrou sleep mekaar
donker slote toe.
[...]
|
’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde bewustelik vaag
na haar man se dowe oor.
‘n Verlate vrou talm
op die drumpel van verdriet.
Met ‘n mond vol swye ontken hy alles.
Satire vervaag tussen hulle soos ink,
maar stilte is gebeitel in graniet.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bemors hom met heilige modder,
proe aan donkermaan,
sien ‘n lyf sag vir blinde liefde.
Hy begin die waarheid lieg,
vlugtig en woordryk.
Die muskus van die nag verwond hom,
die jasmyngeur in sy woorde is vir haar
pynlik.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Die man sleep die vrou
na ‘n donker sloot toe
seën haar met vloeke
en skelmstreke;
sy stapel verwyte teen hom op.
[...] |
| ’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde bewustelik vaag
na haar man se dowe oor.
‘n Verlate vrou talm
op die drumpel van verdriet.
Met ‘n mond vol swye ontken hy alles.
Satire vervaag tussen hulle soos ink,
maar stilte is gebeitel in graniet.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bemors hom met heilige modder,
proe aan donkermaan,
sien ‘n lyf sag vir blinde liefde.
Hy begin die waarheid lieg,
vlugtig en woordryk.
Die muskus van die nag verwond hom,
die jasmyngeur in sy woorde is vir haar
pynlik.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Die man sleep die vrou
na ‘n donker sloot toe
seën haar met vloeke
en skelmstreke;
sy stapel verwyte teen hom op.
[...] |
A year or five after the marriage
a woman turns, late at night,
utters words deliberately vague
into her husband’s deaf ear.
A woman left behind,
she lingers on the threshold of regret.
The man’s mouth is full of reticence.
He denies everything.
The coil of their satire snaps,
their silence chiseled like granite.
Thick-tongued, the man
ladles out alibis:
meetings, investments,
cocktail parties, companions;
tests for taste the moon-bereft night,
sees a body soft for the want of blind love.
He starts lying the truth,
fast and eloquent.
The night’s musk hurts him.
The jasmine in his words stabs her.
[...]
There is little place in a cold war
for god and godliness.
The man drags the wife
into a dark trench,
blesses her with curses,
sleight of hand;
she piles op reproaches against him.
[...]
|
Ek het trouens alte dikwels by die lees van die bundel die verontrustende indruk gekry dat De Kock se vertalings die brontekste ‘n bietjie in die skadu stel - en gedink hoe gelukkig Vos hom kan ag dat dié beeld van sy digterskap na die Engelstalige wêreld uitgestraal word.
Ter verdere illustrasie - en daarmee ten slotte - die verskillende weergawes van “Villanelle vir die oudag” (oorspronklik uit Enkeldiep, 2003), op dieselfde wyse as die dele uit “Huwelik” hierbo só geplaas en gekursiveer dat vergelyking vergemaklik word. (Let byvoorbeeld op hoe die gebrekkige beeldsamehang in strofe 3 deur De Kock gehanteer word.)
|
(Enkeldiep-weergawe)
Nou wil ek herinneringe vir jou koop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se koue wind jou begin sloop.
Ek skink vir jou ons volryp dae soos stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker stadig leegloop.
Mymeringe se wit gloed vonk vol hoop,
dit help om die waggeltyd te verduur,
ook as jy in die diep donkerte moet loop.
Noudat die jare jou oë in ‘n poel doop
en heimwee spoel as jy na muwwe dae tuur,
voel jy hoe die koue wind jou begin sloop.
Onthou die dae toe ons ‘n slaapmat knoop
en snags ons liefde aan mekaar afskuur;
proe in die oudag die soettyd se stroop.
As jy tyd se beker stadig sien leegloop,
laaf jou mond met herinnering se kuur;
as die jare se koue wind jou begin sloop,
proe in die grysdag die soettyd se stroop.
|
(Duskant die einders-weergawe)
Ek wil nou herinneringe vir jou ophoop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se nukkerige wind jou begin sloop.
Ek skink vir ons in die koelte geure vol stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker vinnig leegloop.
Liefde vonk ‘n wit gloed van hoop
in die voue van vergeelde papier,
ook as jy alleen in lang gange moet loop.
Noudat die jare jou oë in wasigheid doop
en jy siende blind verby knypkoue dae tuur,
voel jy hoe die rukkerige wind jou begin
sloop.
Onthou, ons het ‘n slaapmat geknoop
en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;
smak in die oudag oor ryp pere se stroop.
As jy tyd se beker vinnig sien leegloop,
Drink die herinnering wat ‘n leeftyd duur;
as die jare se blinde wind jou begin sloop,
smaak in die grystyd ryp pere se stroop. |
|
(Duskant die einders-weergawe)
Ek wil nou herinneringe vir jou ophoop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se nukkerige wind jou begin sloop.
Ek skink vir ons in die koelte geure vol stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker vinnig leegloop.
Liefde vonk ‘n wit gloed van hoop
in die voue van vergeelde papier,
ook as jy alleen in lang gange moet loop.
Noudat die jare jou oë in wasigheid doop
en jy siende blind verby knypkoue dae tuur,
voel jy hoe die rukkerige wind jou begin
sloop.
Onthou, ons het ‘n slaapmat geknoop
en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;
smak in die oudag oor ryp pere se stroop.
As jy tyd se beker vinnig sien leegloop,
Drink die herinnering wat ‘n leeftyd duur;
as die jare se blinde wind jou begin sloop,
smaak in die grystyd ryp pere se stroop. |
(Before it darkens-weergawe)
For you, now, I want to make memories,
thread them together
so you can endure the ravelled days when
things seem sour
when the storms of age take you to the end
of your tether.
Allow me, then, to make an elixir for us, full
of nectar
so you can taste my love in the darkest hour
when you feel time like a fearful and dreaded
spectre.
Look, our love sparks a white glow of perfect
weather
in the folds of a yellowing flower
even when you find yourself adrift in the
nether.
True, now that the years cloak your eyes in
heather,
half-blind, and you endure the cold days with
a glower,
the raging winds will take you to the end of
your tether.
Remember, then, how we braided a sleeping
mat together
and, at night, brought our love into full
flower;
revel now, in this syrup of ripe pears, this
nectar.
When time begins to drift like a windblown
feather
drink on the memories that endure, taste
their power;
when the blind winds of age take you to the
end of your tether,
taste the syrup of ripe pears, revel in their
nectar.
|
[Vanweë die voorstelling in kolomme is sekere reëlbreuke gemanipuleer om in te pas. - Red.]
Tuesday, March 22nd, 2011
die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). Breyten Breytenbach. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5221-1. Prys: R170. 181 bladsye. Sagteband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
 Die beginsel van stof
Breyten Breytenbach se “laat-verse” val soos skuinslig deur halfoop blindings: intiem en innig syfer woorde in- en oormekaar, sydelings word poësie gemaak. Beelde swerm soos “sprinkaanskaduwees” in gedempte lig; “aandtekeninge” wemel van betekenis.
[D]ie beginsel van stof is so ryk aan inhoud, gevarieerd in vorm en gelaai met betekenis dat elk van die sewe afdelings eintlik `n afsonderlike bespreking verdien. Die bundel eis `n langsame verkenning; dit vra van die leser om saam met elke gedig asem te haal en nie oorhaastig te probeer interpreteer of “verstaan” nie. Deur `n opeenvolging van klanke, aksente en pouseringe kom die gedagte-inhoud in beweging, en algaande manipuleer en fassineer die opper-sjamaan van die Afrikaanse digkuns sy leser.
In die geheel is die beginsel van stof `n ode aan die synstoestand, aan die mens se hierwees in stof, sy skeppende verbeelding en sy uiteindelike aflegging van stoflikheid as maaksel en maker. Tyd, so blyk dit uit hierdie gedigte, is immer in beweging; alles vloei - panta rei, soos Heraklitus dit al eeue gelede gestel het. In hierdie opsig kan Breytenbach se jongste bundel beskou word as `n vervolg op die windvanger (2007), waarin die nosie van tyd ook `n belangrike plek inneem. Bestaan vervloei tot `n “newel” (57) waar as en asem in mekaar opgaan om die groot mandala te vorm waarin lewe en verganklikheid een word.
Die raaiselagtigheid of “wonderlikheid van lewe” (101) word konkreet voorgestel. Die mens (en digter) word uitgebeeld as `n reisende figuur, waardeur `n veelvoud van plekke, situasies, mense en dinge gestalte kry. Selfs op hierdie eerste vlak sal lesers genot put uit die skoonheid en gevoeligheid waarmee `n wêreld van uiteenlopende ervarings wakker geroep word. Maar wie fyner lees, ontdek dat dit nie gaan om `n kleurvolle verslag nie, maar om die skeppende mens en sy pogings om stoflikheid deur middel van `n reis “van woord na woord” (162) in nuwe stof te be-teken en te laat beteken. Die spreker is afgestem op indrukke en afdrukke: “dis die oë wat gulsig is/ wat nie wil ophou drink…nie” (100); en “dis die oë wat soos `n vrek/ alle gesigte en landskappe/ en die fluisterversugtinge van beweging/ vas wil hou” (101). Hierdie vashou-aksie skakel met die “[w]oordfoël” (56, 57) se oorgroot pote, kloue of hande in die selfportret (autoportrait) op die voorplat. Die stip sydelingse kyk, aandagtige kop en skerp bek van die kraai-agtige voël kan met die waaksame en goedgebekte digterspersona (”die bekkige ek”, bl. 58) vereenselwig word. Tog is die voëlfiguur swaar, die lyflikheid toegeknoop; in die buiteteks is hy nog ingeperk deur kleding. Ook sy bek is nog toe; hy is staties en gooi `n skaduwee. Die voël-mens word omgeef deur `n uitgestrekte oker landskap, of `n Niet, tot hy die binneteks, dit wil sê in die vlug van die gedig (”die wegvlieglied”, bl. 66), bevry word.
In die digter se verkenning van uiterlike en innerlike landskappe delf en duik die “diepleefduiker” (146) diep in die onderbewuste. In “ondergrondse sale” (139) en “ondergrondse riviere” word die “beelderyk `n sintuig” (47) om “woorde soos moldrome” (73) en “verse as skerwe” (139) te skryf. Tussen die warboel van los drade, soos dit ook in die gedigte reflekteer, vind die spreker in sy taal `n deurgang. Hy verken die droom, kyk in spieëls, “sny kykglasskerwe” (105) - en word deel van die water, die wind, die wiegende boomtop, en daardeur van die Al. In die proses ontgin hy die moontlikhede van taal; buig hy dit om en genereer hy nuwe betekenisse. Dit is hoe die “beginsel van stof” in taal en denke ontstaan, en in kreatiewe skryfwerk vorm kry. Op hierdie wyse maak Breytenbach nogmaals die dinge vreemd en nuut. Soos sy voorganger Peter Blum, en die digters van die Nederlandse Vijftiger-beweging, skep Breytenbach sy eie verbale universum, `n persoonlike kode van neologismes, “mompelwoorde” (82) en metafore wat aan sy poësie `n gedurfdheid en vrye vlug verleen. Hierin gaan Breytenbach selfs verder as sy tydgenote Wilma Stockenström en TT Cloete. Die frekwensie en aard van hierdie drie digters se taalspel, en die virtuositeit waarmee hulle woorde verbind, “verskryf”, verwring en skep, sou as materiaal vir `n boeiende vergelykende studie kon dien.
Ingegee deur sy waarneming en wete, en gerugsteun deur sy tegniese bedrewenheid (”dis my job”, bl. 74), bring die digter met behulp van die skeppende verbeelding `n estetiese produk tot stand. Die gedig as artefak, deur die spreker gerelativeer tot “klein maaksel woorde” (87), of “woordstopseltjies” (50), groei uit tot kunswerk. Die estetiese aspek was oor die afgelope jare `n kontensieuse saak in die literêre kritiek, want moet (en mag) die gedig nog mooi wees? En wat is “mooi”? Dit is `n twispunt wat toenemend opduik by die samestelling van bloemlesings en die waardebepaling van poësie. Maar Breytenbach kan nie anders nie: hy skep skoonheid by die digvrag vol - teen wil en dank. Sy aanvoeling, vertolking en verwoording is so delikaat, oorspronklik en roerend dat dit lyk asof sy gedagtes hul voortalig in die skoonheid inbed, asof die digter se praat louter lied word. In “die sonnet as verstekenling” sê hy van die werk van “woordenaars” (31):
hier is die hooglied van besinning se versinsels
hier blye oopgaandae van sing en sing en sing[.]
Breytenbach se jongste werk is die neerslag van `n leeftyd se vakmanskap en `n liefdesverhouding met die kunste. Waar hy die skryfhandeling aan die begin van sy digtersloopbaan verbeeld het as `n gehamer teen sy “langwerpige kop om [...] `n gedig te fabriseer” (”Bedreiging van die siekes”, die ysterkoei moet sweet 1964), verwys hy in die beginsel van stof telkens na die rol van die verbeelding en die geheue. Vir hom is “verbeelding [...] die beweging van plek” (106); en “die nag se verdronke afwesigheid probeer onthou/ onthou die vreemde reisigerlyf/ in woorde wat een vir een vervaag uit die vingers” (106); “soos die skulp op die rak/ nog alles onthou van die see” (108). Die gedig is vir Breytenbach iets “wat jy hartklop vir hartklop/ van stamel tot aanhoustilte verskryf” (105); “woorde wat een vir een vervaag uit die vingers” (106) en “die metafoor wat uit die paragraaf vul/ om hier gevérs te kom ster-sterf” (107). Die digter “…hou sy bek, laat syfer/ betekenis en woorde se waaragtighede/ deur die uitmekaarhaal en inmekaarsit/ van beweging tot strukture:/ vorm is die verbeelding van plek”. Besonder tekenend in dié verband is: `n “gedig is om met herhaalde/ vlegbewegings van stokkieswoorde/ tereg te kom in die voëlnes/ van die ander bewussynsboom” (104) - met die vervorming van “bewussynstroom” tot “bewussynsboom” as tipiese voorbeeld van die digter se kreatiewe omgang met die bestaande leksikon.
`n Hoogtepunt van die digter se poëtikale refleksie is sy uitspraak in een van die fragmente (105):
hoe om die woorde te ry
asof hulle betekenisvlees is
en in die beweegweging `n ek te verwek
wat jy lief mag kry
klanke verlyf in ritme
en die koppeling verhaal
tot taal en vertaling
totdat papiervlies soos ooglede bewe
om sin en sinne singend te bevry
en aan die pen te laat ry
in die spreekspelspeeksel van ekstase[.]
Lesers kan self nagaan hoeveel betekenis in “begweegweging” en “spreekspelspeeksel” opgesluit lê, hoe dit met die digtersambag verbind is en watter poëtiese middele hier benut word. Of vir beginnende Breyten-lesers: waarom sê die digter dit juis só? En vir Breyten-skeptici: kon hy dit anders gestel het?
Die aandag vir die skryfambag word uitgebrei na die digter se gereedskap: “sit jy met die vel papier/ op die buitetafelblad/ en klad woorde”(100); en “potlode wat skerp gemaak moet word/ om die dag te skryf// om die dag te skryf:” (96). `n Voorbeeld van die bemoeienis met taal in die algemeen is: “maar hoe kan ek ooit/ hierdie berg en branders en wind/ en die vlug van voëls/ anders ervaar as geskep uit die taal/ van die voorouers se sagte klik/ en nie-nie?” (102). Daar word ook geïllustreer hoe die mens in en deur taal (en poësie) sy lewensverbintenisse koester, soos deur briewe of gesprekke - onder andere deur `n gedig opgedra aan sy vriend, die literator Ampie Coetzee. Ander brief-gedigte word aan familielede, die gedig self (14), die taal (18), mede-digters (127) en aan die Here gerig (30). Die bundel sit vol verwysings na die die digkuns en die woord: “landskappe gesyfer/ deur `n kors van woorde” (107). By tye voel die digter dat hy sy taak volvoer het: “ek het te veel geskrywe/ ek het te veel gesterwe”- en “dieselfde lywe [is] begrawe/ onder klank” (107). Hy wonder of hy bloot `n “vermenigvuldiger” is wat “wurmtaal” pleeg (108), soos dit in die speelse grafskrif uitgedruk word. Oor die huidige fase van sy lewe en digterspraktyk beweer hy: “dis waar dat ek swaar/ in die mond geword het/ en baie begrippe het nou/ die muwwe smaak van mompeling” (102).
`n Uitsonderlik wye doek word bestryk, en tussendeur vertoef die digter op die “wit/ wieggang van wolke” (156). Hy gee hom oor aan die veelheid en sinnelikheid van bestaan, en konkretiseer sy ervarings en waarnemings in ontelbare dinge, van die “nagkoninginne se bates” (31) tot die “nat silwer vel” van water (90), en hy roep die mens in al sy gedaantes, rolle en landskappe op. Hierdie digter is in vlees en gees `n nomade - en die derde bundelafdeling wat uit losstaande fragmente bestaan, dra die innoverende titel: “nomadismes (`n fragmentarium)”. Hierin herverbeel die digter sy reise deur die wêreld en die lewe. Fragmente volg mekaar sonder punktuasie op, en word deur `n asterisk geskei om die idee van eenheid in afsonderlikheid visueel voor te stel. Die “rondloperklong” (59) som sy ervarings só op: “wat `n wonderlike reis was dit/ oor vastelande en seisoene/ verby stede met name/ wat sing op die tong” (108), gevolg deur die enumerasie van uiteenlopende dinge: “die kind het met stokkies in die stof gespeel/ in boekwinkels het papierstemme gemurmel/ in galgkamers het mense aan toue geswaai/ soos pendulums oor `n landkaart van lewe” - met die subtiele herhaling van die l-klank as bindingsmiddel.
Ook die humoristiese gebruik van bekende name en volkse uitdrukkings, en die ontyking daarvan, bly deel van die Breyten-binnepret. Berekend moedswillig, maar hoogs funksioneel, herdoop hy “Worcestersous” na “woestersous” (94):
koester daai oester
met `n druppel woestersous:
hoe skaam swel haar lippies!
Van die skerp beelde wat `n mens bybly (ook hiervoor is `n uitgebreide artikel nodig), is die “operahoer met roekoerkoerborste” (73) en “nonne met hul skuwe enkels” (96) wat in `n volgende fragment gevolg word deur “sonneblomme staan soos vrome Moslems/ met geboë hoofde en lapppe oor gelate ooswaarts gerig/ en wag vir die ligvlam om te roer… dat hulle lippe mag bewe” (95); en kort daarna die maan as `n “glimmende kopbeen” (96). Opvallend ook is die vindingryke gebruik (en skep) van werkwoorde om beelde te versterk, soos “dan sou jy van kerk tot kerk wou Sondag” (42) en “om hier gevérs te kom ster-sterf” (107).
Sommige lesers mag die vermoedens van afskeid en dood as die spilpunt van die bundel beskou: “lyke, lyke, lyke” lui `n reël in “die onvoltooide vers (23); “[s]o flikker en flikflooi die verganklike/ naderhand op die tong” (28), en “jy sien dit alles dalk `n laaste keer”, sê die spreker (95). Die oorgawe aan die aarde en alles wat bokant en onder die aarde is, word inderdaad gekomplementeer deur `n groeiende bewustheid van dood en verval. Reeds die openingsvers van die bundel staan in die teken van eindigheid, beide wat die mens en die taal betref. `n Drafsessie word verbind met “koggelpassie” waar die asem die dood sing-sing inhaal, “tot aan die oewer van die Styx” (14). Die “aarde as verrottende onvergeetlikheid” (96) resoneer in voorstellings van die sprekende instansie se aftakeling: “dis jy en jy alleen/ wat oud en ylhoofdig geword het [...] het jy gedink jy sou vir ewig lewe [...]?” (97). Voorbeelde kan na willekeur aangehaal word, soos “tot siens sê vir dit/ wat nooit weer gesien of besoek/ sal word nie”; en “die hart en die kop het lankal laat staan/ verstaan dat die kort lewe versaak gaan word/ om gou-nou te verdonker/ gebraak in die gat van sterwe” (100, 101). Veral die twee laaste afdelings van die bundel bestaan uit `n genuanseerde tematisering van die dood, waar die onderwerp afwisselend met erns, luim en teerheid ingeklee word. Die een “wat aanbly skryfel teen die dood/ kry `n oumanslyf gevrug in die woord - / maar die voëltjies van verganklikheid/ sit kwetter reeds in die gedigteboord” (167). Dit sou interessant wees om in hierdie verband Elisabeth Eybers se ryper werk met dié van Breytenbach te vergelyk, veral ten opsigte van stylverskille in die uitbeelding van die later lewensfase.
Die fokus op die ek-spreker en die biografiese word gebalanseer `n ironiese distansie; enersyds bewerkstellig deur humor en selfspot, en andersyds deurdat die spreker se ervarings dikwels algemeengeldend is, of minstens raakpunte het met die leser. Die aflê van die lewe en die lewenstaak, met die gepaardgaande winste en verliese, is immers die lot van die mensdom. Die digter spreek homself aan as “verdrommelde Bitterblaf” (97), of teken homself as `n starende “kromskouer-voël” (102), en werk sodoende die skyn van selfverheerliking teë. Hy verwys ook na sy vroeëre werk, en soos literatore dit graag stel (en oor die gewillige boeg van die postmodernisme gooi), skep hy intertekste deur by homself en andere te leen, en homself daardeur te ironiseer. Wanneer hy noem dat “die sterre wurms is” (96), voeg hy in parentese by: “(soos die voortvarende digter gesê het)”. Sterre, soos ook die maan, donker, nag, swart, dood, engele, spieëls, visse, wind, water en asem is van die deurlopende motiewe in die bundel en die oeuvre, maar dan altyd nuut, altyd weer anders aangewend.
Tegnies gesproke is die bundel `n kragtoer. Die vryeversvorm, wat hier meestal `n praattoon aanneem, besit `n inherente spankrag en natuurlike voortstuwende ritmiek wat soms ontbreek by ander digters wat hierdie tipe vers bedryf. Danksy Breytenbach se gedissiplineerde hand is daar geen insinkings vanweë te veel losheid, wydlopigheid of slordigheid in die versbou nie. Hiervoor is die digter eenvoudig te bedrewe, te `n groot kunstenaar. Elke vers is sorgvuldig gestruktureer, onder ander deur slim reëlsamestellings en -breuke, sinvolle beeld-, woord-, klank- en betekenisverbande, en die vindingryke keuses, kombinasies en ordening van woorde en woordgroepe. Ook die aanwending van klassieke poëtiese middele dra by tot die spankrag van die vers, bv. die funksionele gebruik van toevallige of versteekte rym in “jou skoene het jou tog al die seisoene gehou” binne een reël (97); “barkas” en “dakterras” in opeenvolgende reëls (105), met “karkas” kort daarna (106). Op `n speelse wyse maak die digter van binne- sowel as eindrym gebruik: “tussen verskyn en verdwyn/ [...] darem `n glasie wyn/ vir die pyn”. (97) of “in waarheid was die lippe natuurlik klippe/ wat hulle voordoen as wippe” (105).
Opvallend ook is die voortsetting van die skatologiese: “laat die sluwe bitter eende op my graf kak”, `n reël uit die openingsgedig van “Bedreiging van die siekes” in die ysterkoei moet sweet, resoneer onder andere in “die stroom onverdunde stront/ uit jou mond” (76) en “die onderskeid/ tussen skyt en modder” (103). Hierteenoor staan die verhewene deur die invoer van Bybelse gegewens, as parodie al dan nie, soos in “nog `n bietjie sluimer/ nog `n bietjie slaap” (82) (vgl. Spreuke 6:10), later omvorm tot “nog `n bietjie soek/ nog `n bietjie vloek in die donker” (107); asook in “en dit was goed” (98, 99) (vgl. Genesis 1:31).
Afdeling 4, getiteld “buig en prewel buig en prewel/ baie woorde o baie woorde”, mag vir lesers omrede die vorm en inhoud vreemd aandoen, veral vir diegene wat nie met Breytenbach se surrealistiese aanslag en die moderne prosagedig bekend is nie. Deur die fantasie en die naasmekaarstelling van oënskynlik onverwante sake probeer die digter die maalkolk van die onderbewussyn blootlê deur `n alternatiewe werklikheid op te roep. Die titels van die gedigte in hierdie afdeling staan tussen hakies; moontlik as `n aanduiding van voorlopigheid of die gebrek aan finale naam- en betekenisgewing, wat weer aansluit by die toestand van onsekerheid wat in hierdie afdeling beklemtoon word. Die grens tussen prosa en poësie word opgehef en die prosagedigte kan gelees word as gedagtes wat in die bewussynstroomstyl weergegee word. Dié tekste is woordryk en vloeiend, en besonder poëties. Beskrywings van dinge en situasies mag egter duister en selfs grillerig voorkom, soos in “(koop `n hond)” (115), wat op `n verrassend ligte noot afsluit met die aandrang om daaroor `n gedig te skryf, maar te “waak teen vlieë”.
In hierdie afdeling neem die digter afstand van die reële wêreld en, nog meer as gewoonlik, van die konvensionele bewoording daarvan. Hy probeer nie `n “verstaanbare” afbeelding van die sogenaamde werklikheid gee nie; hy wil juis die leser saamneem op `n verbeeldingsvlug wat hier en daar raakpunte met die bekende het, maar waar die oorvloed van indrukke nie klop volgens die leser se verwagtingshorison nie. `n Mens kan jou egter afvra of die gegewe, en die gedig self, nie eksemplaries is van die lewe self nie, en of die verwarring, die “trillings” en “klankpiramides” in “(Wat het van tyd geword)” (117) nie ooreenstem met ons daaglikse ervaring nie. Ook daarvan moet ons immers self sin maak deur “`n oseaan onsin [...] leeg te skep” met “[t]eelepels” gemaklike “waarheid” wat as troostende “[s]uigware” dien. “Die lewe is `n lieg” sê die digter, en die gedig is `n afbraakproses en revolusie waar “donker klowe” oopgeskryf word, desnoods met behulp van die lag, soos die gedig aan die einde te kenne gee. Die gedig “(Wanneer die wêreld onder ons vlerke wit is)” (119) beeld die mens se vervreemding uit, en impliseer dat die poësie soms die skokinstrument wil wees, die stok waarmee die “steiltes (die stellings/ en die stellasies) van die woord” uitgeklim word, want:
Die gedig is immers die hand wat soos `n skaduhond al
langs die woorde loop. Om af en toe `n been te lig.
Die onderliggende vraag is of ons nog te midde van die stilte, onbegrip en die impasse die vermoë het om “boor-geboorte/ woorde uit die stilte te toor”, want ons is “besmet met Woord” - met clichés en meesterverhale wat geen begrip bring vir mekaar en ons situasie nie, en inspeel op die huidige situasie in Afrika.
Die gedig “(eg(g)olalie” (121) is `n filosofiese beskouing oor moraliteit, die handeling van gee en neem, en die rol van kuns om bruikbaar te wees - as iets “om die oë mee te vang”. In die titel word die letter “g” in hakies geplaas sodat beide “ego” en “eggo” raakgelees word. Die ruimte wat herinner aan Parys op “`n skoon blou Europese somermiddag” kan by implikasie herlei word na die plaaslike omstandighede, soos dit later duideliker word in “(Ek was een van die bevoorregtes)” (129), “(In die ruim vertrek)” (131) en “(Ons is hier”)” (133), waar alles verby is en die land leegvloei. Die genoemde “(eg(g)olalie)” ontgin ten slotte die woordeboekbetekenis van die term, naamlik die dwangmatige herhaling van woorde, en dien as metafoor vir ons huidige gesprekke. Terselfdertyd verwys “ego” na die oordrewe klem op die eiewaan van `n fiktiewe gespreksgenoot, met die implikasie dat ons woorde en diskoers selfgerig, hol en nutteloos geword het. Breytenbach se versreël “[o]m aan te hou beweeg en geraas te maak” eggo in dié verband die woorde van die robot-figuur in Jan Rabie se verhaal “Ek het jou gemaak” (Een-en-twintig, 1956).
Die bundeltitel die beginsel van stof word geïntegreer in die vers “(toe ek hom sien)” (124). Vir die spreker is die mens maar “`n sak verrottende vel van vlees en vet met binne-in/ die glibberige organe en beendere soos grafstingels”. Hy sien die swermende woorde wat die digter in `n doos versamel as die redding (die “Vervanger” of teenpool van God). Die teenspreker antwoord: “dis teen die beginsel van stof wat skepping is”. Hiermee word die opposisie tussen skepsel (uit stof geskape, en tradisioneel gesien as die “beginsel” of beginpunt van stoflikheid) en die mens se woorde, denke of gedigte (as alternatiewe stof) aan die orde gestel. My interpretasie is dat die digter die woord as die superieure beginsel sien, as `n skeppings- of ordende funksie, verhewe bo die stof waaruit die skepsel fisies gemaak is. Die woord, as uitvloeisel van die menslike bewussyn, kan die reddende beginsel wees; daarna moet ons boor, en dit moet ons baar. Die mens as die een wat vergaan en verrot, maak “woordstof” - waardeur hy sin maak en (tydelik) oorleef.
Die afdeling “veertien sonnette vir `n engel in Hengelo” het betrekking op `n uitstalling van Breytenbach se visuele kunswerke en poësie (”die gelakende onverwoorde verse as skerwe” in sonnet 1) wat in 2009 in dié Nederlandse stad gehou is. Teenoor die ekstreme (reël- en strofe-lose) vorm van die vryevers in die vorige afdeling, perk die digter hier sy woordkuns in binne die veertien reëls van `n sonnet, sommige kompleet met rymvorm en tradisionele strofebou - maar dan besonder beeldryk en selfs surreël. Dit word `n verruklike besinning oor die skryf van gedigte. Sonnet 5 eindig met: “So, presies/ so, las `n mens `n gedig van in- en uitdrukke niks”. Deur die verbeeldingsvryheid binne die relatief vormvaste raamwerk te verpak, demonstreer die digter sy veelsydigheid en vernuf. Deur die verbeelding systap hy “die daggang wat deurgaan vir werklikheid” (sonnet 10). Sonnet 14 bevat een van die blinkste momente van taalspel: “wanneer [...] die voël se skaduwee soos `n hond se gedagte// haas oor die pad - dan mondmaak mens woorde/ as `n net om die son mee te vang en mondmak te maak:”.
In Afdeling 6, “uitvaart”, kom die tema van die dood as “enkelreis” (157) en afskeid op `n treffende wyse aan bod; stil soos `n meditasie, met die wete dat die dood deel is van die lewe, maar nie sonder pyn nie. Die veronderstelde doodskleed van Christus in Turyn, “agter glas uitgestal soos die vlerke van `n vlermuis” dien as impuls vir die makabere dog gevoelige gedig “Piedmont” (159). Saam met die ander vier gedigte word dit in verband gebring met die dood van die digter se broer, en die dood in die algemeen.
Die slotafdeling dra die titel “laat-verse” en kan sinspeel op verse wat “laat” geskryf is; of “gelaat”, “nagelaat” of selfs “toegelaat” word. Een van die kwatryne (167), redelik atipies van Breytenbach se styl, lui soos volg:
anderdag was ek jonk en fier
die hand vol woorde en `n mooi gesig -
nou brand my vel soos dooie papier
en elke dag is `n gedig[.]
In die mens se “vertrekuur” (169) word sy bemoeienis met die dood dringender. Die drang om te onthou val saam met die afskeid, en word in “die voëltjieroepers” (170) se paradoksale slot opgesom: “alle vergeet is boordensvol onthousels”. Met “vir oopmaak wanneer dood my oë toegemaak het” (171) relativeer die spreker sy posisie as gelouerde skrywer wanneer hy sê “in my hele lang lewe het ek/ geen enkele gedagte of insig gehad/ wat die moeite werd is om te onthou nie”. Die kwatryn “oopskryf” waarmee die bundel afsluit, staan in kontras met die digter se woordryke verse. Uiteindelik is selfs die groot woordsmid naak en weerloos, en die patetiek van die situasie spreek uit sy versugting om deur woorde bedek te word:
hoe om jouself toe te maak
met woorde
as beskerming teen die woordlose
koue gekerm van die ewigheid[.]
Asem in, asem uit - dit is vir my die sleutel tot Breyten Breytenbach se poësie, en tot sy jongste bundel. In die polsslag en asemteue waarmee daar aan die inhoud beslag gegee word, lê die appèl van sy gedigte. [D]ie beginsel van stof is `n bundel van groot gevoeligheid en deernis met die self, die medemens, en die skeppende kunstenaar. Dit is ook `n bundel van terugskouing en besinning, en van versoening tussen opposisies. Met hierdie toevoeging tot Breytenbach se veelbekroonde oeuvre het die Afrikaanse poësie haar ysterkoei van die 21ste eeu ryker geword, nie soseer in terme van opspraakwekkende vernuwing nie, maar wel in terme van verryking en beleënheid, danksy `n nomade-digter wat in sy ryper jare voortgaan van die gedagte woord te maak, en van die woord, gedagte - in sy moedertaal.
Monday, March 21st, 2011
Visums by verstek – Joan Hambidge (2011. Human & Rousseau, R150.00)
Resensent: Heilna du Plooy (Potchefstroom, 18 Maart 2011)
 Visums by verstek
Reis is ‘n terugkerende motief in die literatuur. Trouens, dit word as een van die argetipiese temas van literatuur beskou. In die beskrywing of verslag van ‘n reis, selfs in ‘n blote verwysing na aspekte van ‘n reis of die beskrywing van ‘n moment of fase in ‘n reis, is daar egter altyd ook sprake van ‘n narratief.
Sulke stellings aan die begin van ‘n resensie oor ‘n digbundel vra om verduideliking. In ‘n boek met die titel The Rituals of Life skryf Langdon Elsbree (1982) dat vertel een van die rituele is waardeur mense sin maak van die werklikheid. ‘n Ritueel is in hierdie sin ‘n handeling deur middel waarvan mense in ‘n bepaalde gemeenskap of kultuur (of ook in ‘n kommunikatiewe situasie) aan die gebeure of situasies in hulle lewe betekenis toedig of probeer toedig, vir hulleself en vir ander. Mense vertel dus om te verstaan of te verklaar, hoewel daar in die postmoderne era hoogstens gepraat kan word van die strewe of uitreik na verstaanbaarheid en verklaring. Of daar ‘n geldige gevolgtrekking of slotsom bereik word deur die verhalende handeling, is nie ter sake nie (waarskynlik word daar in hierdie stadium van die geskiedenis geglo dit is ook nie moontlik nie). Dit gaan om die vertel self, om die daad die beskrywing, ordening en verwoording van gebeure op ‘n bepaalde manier. In hierdie daad, die vertelhandeling as sodanig, sit die waarde opgesluit, in welke formaat dit ook al aangebied word, in beeld, in poëtiese vorm, in ‘n gewone prosavertelling, in ‘n mondelinge vertelling, ‘n dans of ‘n stuk musiek.
Trouens, daar word tans aanvaar dat vertel so ‘n basiese menslike handeling is, dat alle menslike tekste op een of ander manier ‘n narratiewe aspek sal vertoon. In die inleiding tot die boek The Narratological Analysis of Lyric Poetry (Peter Hühn en Jörg Schönert, 2005:1) word gestel dat daar verhalende aspekte in liriese gedigte voorkom gewoon op grond daarvan dat vertelling ‘n antropologies universele semiotiese praktyk is. Onafhanklik van kultuur of historiese plasing, word vertelling gebruik om ervaring te struktureer ten einde sin daarvan te maak en om die sodanig gegenereerde betekenis te kommunikeer. Die kerneienskap van ‘n verhaal is dat dit in ‘n verhaal altyd gaan om verandering, sonder verandering is daar nie ‘n verhaal moontlik nie. ‘n Verhaal is dus altyd dinamies en ontwikkelend.
Reis word egter ook beskou as een van die argetipiese temas wat in klassieke werke van die wêreldliteratuur altyd weer terugkom. Elsbree beskryf 5 sulke temas: die vind en wyding van ‘n tuiste; konflik - gevegte, botsing en kompetisie; reis; lyding; die soeke na vervulling. Hoewel die argument oortuigend is, is die getal argetipiese temas wat hy gee aanvegbaar. Elsbree toon nogtans aan dat hierdie 5 temas herhaaldelik in die groot klassieke werke van die wêreldliteratuur voorkom en dat literatuur oor hierdie temas lesers altyd opnuut boei omdat dit gaan om belewenisse wat universeel as belangrik en insiggewend beleef word.
Nou wil ek nie Hambidge se bundel reisgedigte narratologies ontleed nie en ek wil ook nie die verse tot hulle narratiewe aspekte reduseer nie, maar dit is wel van groot belang om te begryp hoe sterk die reis as ‘n motief of tema is. Ook dat reis altyd met beweging en verandering te make het en as sodanig gaan oor die ervaring van en besinning oor toestande van beweging en verandering. Reis sluit stagnasie en stilstand uit, reis is dinamies. Om reise te beskryf, impliseer die representasie van verandering, van beweging. Die reisiger bevind sigself in ‘n onvaste staat, ‘n liminale situasie (soos in die inleiding ook vermeld word), in omstandighede van oorgange tussen plekke, met die noodwendige gepaardgaande veranderinge en wisselinge van gemoedstemminge van die reisiger vanweë verskillende en uiteenlopende reaksies op die ruimtes.
‘n Reis impliseer ook noodwendig die opeenvolging van gebeure en van reismomente. Al word daar in ‘n gedig net een moment uit die reis beskryf, is die voorafgaande reis tot op dié bepaalde plek en die daaropvolgende vertrek geïmpliseerd teenwoordig in die beskrywing of besinning.
Dit is ook in die lig van hierdie argumente noodwendig so dat iemand wat graag en dikwels reis en wat ook deurlopend oor die reis as sodanig en die inhoud en ervaringe van die reis bespiegel en daaroor skryf, ‘n bepaalde soort persoonlikheid is. In die kombinasie van hierdie dinge, die reis, die onderliggende vertelling, die verwoording van belewenisse van reis en besinning en die soekende beweeglike digterlike psige, lê die aantreklikheid van hierdie versameling gedigte.
In Visums by verstek versamel Hambidge reisgedigte uit haar oeuvre, maar sluit ook ‘n aantal verse in wat nuut is of nog nie in bundels verskyn het nie. Sy gee ook in die inleiding van die bundel belangrike sleutels tot die lees en verstaan en waardering van die spesifieke versameling.
Die gedigte weerspieël inderdaad die omvang van Hambidge se reise. Sy skryf na aanleiding van haar belewenis en persoonlike aanwesigheid in plekke en stede in die VSA (New York, San Francisco, Las Vegas, Dallas), Suid-Amerika (Santiago, Rio de Janeiro, Machu Picchu), Europa (Amsterdam, Parys, Rome, Stockholm, Barcelona), die Ooste (Hongkong, Bangkok, Tokio) en eilande soos Zanzibar en Kuba, om slegs die belangrikstes te noem. Maar die gedigte handel oor sowel die plek en aspekte van die plek as oor die belewenis daarvan, Meer nog, die digter interpreteer die plek en haar belewenis van die plek. Soms word die gedig oor ‘n plek as sodanig metafoor vir iets anders en soms word die plek die aanleiding tot ‘n reeks assosiasies waardeur sy die plek vir haarself merk, of waarmee sy belewenis van die plek in haar geheue merk.
New York is die stad wat in die eerste gedig beskryf word. Die stad word opgeroep deur verwysings na sy/haar vele gesigte, Chinatown, Greenwich Village, die Statue of Liberty, Central Park en die Empire State-gebou. Ook deur verwysings na die geskiedenis van die stad, Charles Lindbergh se historiese transatlantiese vlug en die depressie waarvoor Wall Street simbool geword het. Maar die gedig begin met ‘n verwysing na die dwingende aanwesigheid van die afwesigheid van die “imposante, tuimelende Twee Torings”. Die val van die toringgeboue het die sentrale gebeurtenis in die geskiedenis van die stad geword en sal dit waarskynlik lank bly, soos gesuggereer word deur die vooropgestelde posisie van die verwysings na die torings in die gedig. Die aanval op die torings word simbool van ‘n stad wat as ‘t ware sy veelbewoë geskiedenis oorleef en transendeer. Hierdie verandering bevestig die voortbestaan van ander behoue aspekte en plekke in die stad. En van dié stad wil die digter ereburger wees.
Die gedig beskryf dus nie net die stad nie, maar gaan eerder oor die digter se siening van die stad, ‘n siening wat ingegee word deur haar konkrete belewenis van die stad. Saam met die digter reis die leser deur die stad, sien die opeenvolgend beskrewe plekke en merkers tot by die digter se belydenis van haar bewondering en liefde van die stad. Uiteindelik weet die leser ook, die begin en die einde van die verhaal van New York is gemerk deur die geweld van die vallende torings. Dit is dus belangrik dat die stad nie in ‘n statiese toestand beskryf word nie, maar juis as ‘n veranderende, groeiende en ontwikkelende simbool en die reisiger reis ook deur die stad en beskryf nie net een blik op die stad nie. So word die dinamiese en veranderende aard van die digter se belewenis direk met die eerste gedig aan die orde gestel.
Die New York-gesig sluit aan by vier ander gedigte (p. 88-92) wat spesifiek die tragiek van gebeure by Ground Zero as tema het. In al hierdie gedigte word dit ook duidelik dat vir die digter die reisbelewenis en die skryfhandeling onlosmaak verbonde en vervleg is, eintlik ineengegroei is en saam ontwikkel. In die aanvangsgedig plaas die digter die deur op dubbelslot en gee haar oor aan herinnering, maar in die gedig “Memorial Day: New York 25.5.2000″ kan die wete van die skrikwekkende gebeurtenis nog nie ‘n gedig word nie: ” …in die Hotel Prosody grendel die digter/ haar onbewuste teen ‘n gedig/ wat broei uit bloedsweet” (p.88).
Die ineengestrengelde weergawe van feit en belewenis kan in bykans elke gedig gevind word. In die gedig “Via dolorosa” (p. 52) stap die digter-reisiger die stasies van die Jesus van Nazareth se lydensweg af saam met ‘n groep ander toeriste in Jerusalem. Die gedig word ‘n uitbeelding van die voorkoms en ingesteldheid van kontemporêre toeriste: een met ‘n T-hemp waarop “I got stoned in Jerusalem” staan, ander wat dink oor iets om te drink, iemand wat prakties toegerus is vir ‘n dag se uitstappie, ander met selfone en sigarette. Die gedig vertel egter hoe die digter self, “vér van huis en haard” wens sy kon die plek meer ongestoord beleef, die”steurnisse/ uitwis soos ‘n raam/ op my digitaal”. Die gedig beskryf dus ‘n plek en omstandighede, maar eindig in belewenis.
Op ‘n soortgelyke wyse is daar ‘n gedig wat gaan oor eet in Madrid (p.37), wat eindig met “Weet net ek verteer/ nog broksgewys aan jou”. Die gegewens oor die stad, inderdaad elemente kenmerkend van die stad se eetkultuur en ook kenmerkende geboue, groei ineen met herinneringe en emosies. Die reisiger is nie net op weg in die stad nie, maar ook op weg in terme van verbintenisse: die herinnering suggereer ‘n verbygegane verhouding sodat die reis afgesien van ‘n soeke na nuwe horisonne en ervaringe is, ook ‘n beweging wég van die verlede en pynlike aspekte van die verlede is. Want reis impliseer onvermydelik altyd afskeid. Elke nuwe reis voorveronderstel ‘n voorafgaande afskeid en die reis kan ook gesien word as ‘n reeks afskeide.
Die lug, sand, oseaan:
‘n tafereel oor aankoms
en hierby ingesluit: vertrek. (”Zanzibar. Spore op die sand”, p. 43)
Die reis word metafoor van verskillende sake in verskillende gedigte. Eintlik is elke reis en (tydelike) bestemming ‘n uitgebreide metafoor vir iets anders. Hoewel daar soveel detail in die gedigte gegee word, is dit dikwels die geval dat die reis en plek en belewenis daarvan ‘n middel tot ‘n doel word (vgl. “Halifax”, p. 39, “Afskeid”, p. 70, “Jouissance”, p. 74). Aan die ander kant word die metaforiese moontlikhede van beelde uit reise ontgin in ander verbande: “Nou maak ek ‘n linksomkeer in hierdie gedig./ ‘n Vliegtuig bars deur my World Trade-sekerhede,/ die brokstukke van dertienreëls tuimelende Lego-blokkies” (”Dromende denke”, p. 56).
Hambidge skryf ‘n oop toeganklike soort vers. Of dit altyd werklik so oop en toeganklik is, is egter wel ‘n vraag, want daar is soveel assosiasies en verwysings in die gedigte opgeneem, daar is soveel kennis van kultuur en geskiedenis in elke gedig geïntegreer dat daar waarskynlik veel dieper op die, selfs onbewuste, inhoude van die gedigte ingegaan kan word. Soms voel ‘n mens dat ‘n gedig strakker kon wees, of digter geweef, dat die opnoem van detail byna te maklik kom en die oorgange miskien soms ietwat voorspelbaar is as mens die oeuvre goed ken. Nogtans is die volgehoue vloei van die gedigte aantreklik en word die ritmiese gang van taal oor die grense van sin en versreël heen trefseker hanteer, van die vroeë verse af tot by die heel resentes.
Daarby kom die interessante werking van die verhouding tussen los elemente en ‘n saambindende onderliggende verhaal. Die opnoemtegniek laat die gedig skynbaar verbrokkel (tipies postmodernisties) maar die onderliggende reismotief, in enkel gedigte en die bundel (oeuvre?) as geheel, werk soos ‘n verhaal en bewerkstellig weer koherensie.
Die reisgedigte is dan ook inderdaad op ‘n bepaalde manier tiperend en beskrywend van Hambidge se oeuvre: die voortbeweeg van plek tot plek, van verbintenis tot verbintenis. Die onderliggende gedagte is altyd, die reis gaan voort, plekke en mense kom en gaan. Die verandering en voortgang vorm ‘n verhaal van vervlietende reiservarings en van die skryf- en leeservaring van beperkte duur van die gedig, maar dit is ook die verhaal van ‘n lewe. Daar is momentele oomblikke van stilstand en nadenke, maar die beweging gaan onvermydelik weer voort. Verandering, selfs rusteloosheid, dryf die beweging en die reis. Want uiteindelik is die reis ‘n reis in die self in, en daardie reis is sonder einde. In die gedig “El Condor Pasa” (p.75) word verwys na die kosmiese plan wat argetipies in die rotse afgedruk is in die heilige Inka-stad, Machu Picchu, terwyl die digter “reis in die self: ‘n smagting/ na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid”. Hierdie stilte word nie bereik nie en dan word daar weer verder gereis.
In die slotgedig in die bundel word nog ‘n sleutel, of dalk dié sleutel, tot die reis as motief gegee, vir daardie reis wat fisies en konkreet dwingend noodsaaklik is om die grense van die gees uit te stoot, maar wat psigies en metafories dui op die ongrypbaarheid van die dinamiek van die gees. Ook van die onsegbare. In hierdie gedig word die veranderende reisiger beskryf as iemand wat nou “‘n Ander Reis” onderneem, ‘n reis wat selfs die geliefde woord van die digkuns oorstyg:
In die winter het die waterval opgedroog,
dog die berge staan in hulle groenheid groener,
die lug in blouheid blouer, selfs hoër, helderder.
So laat ons nog ‘n mislukte sonnet skryf,
nog ‘n plek herbesoek en die hereweet,
dankbaar wees vir dit wat buite benoeming lê.
Die mens is ‘n reisiger, deur die wêreld, deur sy eie lewe en ook in sy eie psige. ‘n Digter soos Hambidge ondersoek en bedink en deurdink egter al hierdie soorte reise eksplisiet. Haar poging om wat sy sien en beleef op reise te verstaan en te deurgrond, is vervleg met die pogings om die elemente en aspekte van haar bestaan te deurgrond. Hierdie verstaansprosesse en deurgrondingspogings vorm afsonderlik en saam verhale (een groot verhaal met baie verhaallyne?) want die vertel van verhale is die verstaansritueel van die mens.
@ Heilna du Plooy
|
|