Resensies
Wednesday, April 20th, 2011
Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna. `n Versamelbundel. TT Cloete.
Pooka Uitgewers. ISBN 978-0-620-49815-9. Prys: R180. 115 bladsye. Hardeband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
 Omslag
`n Aangename verrassing vir poësieliefhebbers was die onlangse verskyning van twee bundels deur die veelbekroonde TT Cloete - deur baie beskou as ons grootste lewende Afrikaanse digter. Onversadig (2011) is voorafgegaan deur Uit die wit lig van my land gesny: vir Anna (2010), laasgenoemde `n versameling verse waardeur die digter hulde bring aan sy eggenote wat hom in 2007 ontval het. In sy insiggewende inleiding noem Cloete dat die bibliofiele uitgawe van slegs 150 eksemplare tydens die vrystelling by Aardklop 2010 uitverkoop is, wat `n herdruk in gewone formaat genoodsaak het.
Soos dit uit die inhoudsopgawe blyk, het die digter nie gewag tot ná die dood van Anna om aan haar `n prominente posisie in sy poësie toe te ken nie. Vanaf sy vroegste bundels teken hy reeds die profiel van sy geliefde, en met haar afsterwe in 2007 word dit voorlopig in die slotafdeling van hierdie versamelbundel volvoer.
Die gedigte gaan egter nie slegs oor Anna as persoon nie, hoewel haar klein afbeelding op die voorplat tesame met die opdragwoorde daardie indruk mag skep. Dit is eerder `n bundel oor die wonder van `n verbintenis; die deelwees en opgaan van liefdesgenote in mekaar. Aansluitend hierby word die geborgenheid van huis en tuin, asook van die gesinsverband, beklemtoon. Vir die spreker is dit binne hierdie koesterende ruimte dat die mens sy sterflikheid en stoflikheid deur die liefde oorwin. Terselfdertyd is daar die bewustheid dat die aardse binding eindig is, want hoewel ons saam verkeer in die net van liefde, vreet die spinnekop van die dood ons “een vir een eensaam tot harde leë beentjies en windligte dop” (”ons almal”, 65). Die aanbod van die bundel is gevarieerd, en gedigtitels wat wissel van “griekse beelde louvre” en “Vroue van Vermeer” tot “Reis na Namakwaland” en “Seepbelsondagoggend” verraai die spreker se ingesteldheid op die skoonheid in al haar vorme.
Anna word nietemin die oerbeeld van die ewige minnares, die een wat `n leeftyd lank bemin word: liggaamlik, geestelik, verstandelik en meer. Haar “profiel” (uitgesny, soos die bundeltitel suggereer) vorm weliswaar die hart van die bundel, en haar voorkoms word op verskeie plekke in fyn besonderhede besing. En tog is dié portrettering maar `n spoor na haar innerlike en haar magiese teenwoordigheid vir die spreker. Die profiel verkry hier `n ruimer tekenwaarde en verwys na die wese van die liefdesgenoot as aardmoeder, gewer, muse en maat. Uiteindelik kan dit gelees word as `n metafoor vir die vroulike komponent in elke diep bevredigende man-vrouverhouding.
Cloete gebruik as een van sy bundelmotto’s (en ook as titel vir die slotafdeling) die woorde van Dante uit sy Goddelike Komedie: “Die Liefde wat die son beweeg en die ander sterre.” So `n liefde, sê die spreker in die gedig “gratis 1″ (83), “ontsnap uit die grepe van die taal” en “het behoefte/ aan `n gans en al ander naam”, terwyl die suiwer lyflike wel in “lippetaal” omskryf en besing kan word. Nogtans vind Cloete in sy persoonlike tekenleer die woorde om iets van die grootsheid van `n allesomvattende liefde uit te beeld.
Die digter skram nie weg van liggaamlike detail nie, maar vermy banaliteit. Hoe raak verbeeld hy nie Anna se jeugdigheid in haar “jongmeisie-regop haarveergang/ met die klein ferm sampioene malvasag” nie, gevolg deur “hoe jy oor die 100 tree-hekkies gly/ met die skoot oop en die dye” (”skering en inslag”, 78). Elders transponeer hy die sinchronie van die liggaamlike liefde na die intieme samespel van musiekinstrumente (”konsert van die verliefdes”, 54, en “klankkoïtus”, 55). Waar die vleeslike oorstyg word, raak die gedig aan die sublieme, om daardeur `n flits van die onsienlike te gee.
In haar toestand van aftakeling besit die vrouefiguur vir die spreker `n delikate maar wrange skoonheid: “los lê sy in haar vel. in haar skil/ lê sy nartjie. geel en deurskynende lig/ lê satynsag op haar sweetgesig” (”siek vrou”, 75). Meermale is daar sprake van die lig wat haar omgeef, ook wanneer hy haar beeld op `n vroeëre foto oproep: “geprofileer in `n diep leunstoel, bene gekruis,/ [...] by die venster in die lig/ van die blink see en geel wasige donsson/ dromerig mymerend en byna deursigtig// skimmig geskryf met lig” (”foto van vrou by die see 1966″, 95). Maar die motief van siekte en aftakeling gaan ook gepaard met skrik, want in “roffelkonsert” (80) is die spreker bedag op die laaste slag van die hart: “na énige slag kan die timpaan/ oorslaan toeslaan”. Daarby is `n noodkreet hoorbaar in “ambraal-woordeboek” (86) waar alle moontlike middele van heling aangeroep word om die pyn te haal uit die wrede speletjie met iemand vir wie die spreker “ongeneeslik liefhet”. Selfs die weersinwekkende detail van die siekte word vir die gedig sinvol benut in “goeie helder Saterdag” (97) as teken dat die aarde weer van ons terugeis wat ons daagliks inneem: “vir ons self afstootlik. herinner sy ons aan ons aardsheid// sy doen dit langsaam tot sy ons self vat”. In kontras daarmee, en ter relativering, staan die voortgang van daaglikse aktiwiteite as “die lewe wat skreeu en gil/ en in die hande klap”.
Een van die winste van die bundel is dat die gevaar van sentimentaliteit, wat dikwels in gedigte van hierdie aard op die loer lê, knaphandig uit die verse geweer word. Daar is geen oormatige “soetheid” nie; eerder `n nugtere, dog gevoelige verwondering, en in daardie paradoks lê die trefkrag. Slegs groot digters kan dit vermag, en deur Cloete se kunstenaarsblik, aanvoeling en geoefende hand fnuik hy die lokval van oordrewe verering en omskrywing. Daarom is sy verse tegelyk eg, oortuigend en ontroerend. Wat die leser veral bybly, is die teerheid en respek - en `n bewustheid van die heiligheid van huweliksgeluk. Dit verbaas dus nie dat die verwondering van die spreker soms kosmiese proporsies aanneem nie, soos in “vrouson” (82):
die lig kry sy krag uit die hare
van `n vrou die son is hare
sy was haar hare in supernova-blou lig sy gooi
haar kop wielend agteroor sy strooi hoepelstierte rooi
superprominensies uit sy skud orkane los
parabole deur die groot ooptes van die kosmos
sy my sonvrou uit haar turkoois harebos[.]
Daar is reeds uitvoerig geskryf oor Cloete se vorige bundels waaruit gedigte vir hierdie versameling gekies is. Dit sou dus herhalend wees om weer in te gaan op die verstegniese middele wat deur die digter hanteer word, waarna daar onder meer in my resensie oor Heilige nuuskierigheid (2007) in Tydskrif vir Letterkunde 44(1) verwys is. Opsommenderwys kan daar genoem word dat lesers in hierdie versamelbundel weereens (en met ewe groot genot) sal kennis maak met Cloete se vindingryke en vernuwende taalgebruik, sy sensitiwiteit vir die natuur en sy besondere belesenheid. Sy verse word verryk met name, byname, en die benoeming van dinge en plekke. `n Mens hoef maar net weer “ambraal-woordeboek” (86) en die vyfdelige “roetes op soek na jou” (101) te lees om onder die indruk van hierdie digter se verstegniek te kom.
Cloete was uit die staanspoor `n gerekende digter, en van die vroeër verse wat in hierdie versameling opgeneem is, maak `n ewe sterk indruk as die nuwe toevoegings. Van die treffendste reëls in die versamelbundel kom voor in “Seepbelsondagoggend” (66) wat reeds in die bundel Driepas (1989) verskyn het:
[...] Daar kom `n moment delikaat
en só heel dat `n enkele uur die waarde
van `n ganse bestaan het, met `n oordaad
so gelade, so volmaak, dat die mees bedaarde
lispel dit rinkelend gaan stukkend praat.”
Die gedig “Anna”, uit dieselfde bundel, en waarvan een versreël as titel vir die versamelbundel gekies is, kan in die geheel uitgesonder word as een van die hoogtepunte. Die twee slotstrofes lui as volg:
Kyk ek sonder jou, is daar skille
oor my diep oogkasse, ek
kyk sonder pupille.
Ek soek jou in die omtrek om my getrek,
ek soek jou in die appel van my oog.
Kyk ek na die melkweg, in die gras,
in die water, na die boog
van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.
`n Aantal van Cloete se kenmerkende stylgrepe werk saam om van hierdie gedig iets onvergeetliks te maak. Daar is egter vele ander gedigte wat op die onderskeiding van die “beste” huldigingsgedig kan aanspraak maak, soos die kompakte maar veelseggende “vrou” (77), die vermaaklike en tegelyk roerende “rokke” (88), of die byna aanvoelbare “kamerjas op die divan” (90).
Dit behoort aan lesers groot genoegdoening verskaf om Cloete se verse rondom `n bepaalde tema, en dan die liefde as die grootste (en seker die mees uitdagende) van almal, in een uitgawe ter hand te neem. Daar is `n veelheid van gesigspunte, en die bekende Cloete-knipoog wissel die weemoed af. Tydens vanjaar se Woordfees op Stellenbosch het die digter genoem dat hy sy werk met ywer voortsit - voorwaar iets om oor nuuskierig te raak, te mete aan die dubbele Hertzogpryswenner se indrukwekkende oeuvre.
Sunday, April 3rd, 2011
Wanpraktyk. Andries Samuel. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5282-2. Prys: R145. 68 bladsye. Sagteband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
 wanpraktyk
Dis selde dat `n debuutbundel `n mens se aandag so vasvang as Andries Samuel se Wanpraktyk. Hier is `n nuweling wat iets het om te sê, op `n eiesoortige manier en poëties verantwoord, sodat hy met die intrapslag sy merk as digter maak.
Die bundeltitel leen hom tot verskillende interpretasies en het nie noodwendig betrekking op `n “misdryf” in die eng sin van die woord nie. Die digter bewerk juis die taal deur (onder andere) woorde se sluimerende betekenisse en assosiasies te aktiveer. Breër gesien en na aanleiding van die bundelinhoud, is Samuel se Wanpraktyk `n benaming vir handelinge of strukture wat afwyk van die norm, en daarin destruktief of disfunksioneel kan wees. Die titel kan egter ook ironies bedoel word, in welke geval die “koersafwyking” ook positiewe konnotasies dra.
Dit is verhelderend om die buite- en binneteks van hierdie bundel saam te lees. Die grys bundelomslag met afbeeldings van wasige, swewende strukture, en `n kleiner kindertekening wat tussen die voor- en agterplat verdeel word, berei die leser voor op `n onderliggende somberheid en `n gebrek aan samehang en betekenis. Van die visuele prikkels wat voor, tussen en ná die gedigte opduik, tesame met die tipografiese spel in sommige verse, kan moontlik teruggevoer word na die digter se bemoeienis met struktuur in sy beroep as argitek. Die tekeninge kan ook dui op work in progress, `n proses wat aan die einde van die gedigtekste uitloop op `n byna voltooide stadsplan, met daarna `n enkelstruktuur wat nou meer gedetailleerd voorkom. Die motief van strukture vind neerslag in die inhoud van die gedigte ten opsigte van strukturele wanpraktyke in samelewingsverband, sowel as die herstrukturering of herskikking van die menslike psige op weg na heling. Die digter mag selfs te kenne gee dat sy beoefening van die woordkuns `n “wanpraktyk” is; `n bedryf waarin die emosie `n rol te speel het, en wat ingaan teen die koel presisie van sy beroepsveld.
Ook die inhoudsopgawe is veelseggend. Die afdelings- en gedigtitels word voorafgegaan deur `n opskrif: “wanpraktyke, `n sak vol bedrieglike uitweegsels”, gevolg deur die afkorting “bv.” Hierdie ietwat ongeërgde, lakonieke en selfs wrang instelling rig aan lesers `n bedekte uitnodiging om die bundel ook so te benader. Die neologisme “uitweegsels” dra spore van “uitvaagsels” en “uitwerpsels”, maar terselfdertyd van “weeg” of “oorweging”. Dinge wat oorweeg, geweeg, en uitgewerp of verwerp is, bly agter as `n “sak vol” gedigte; en “bedrieglik” ontmoedig `n te gemaklike gevolgtrekking. Hierdie tong-in-die-kies-houding word voortgesit in die digter se benoeming van die onderskeie afdelings as wanpraktyk 1, 2, en 3, elk met `n eie omskrywing. Die twee bundelmotto’s is in `n sekere sin onrusbarend en sluit aan by die afdelingstitels. In die aanhaling van Anne Michaels word gewag gemaak van die slepende gewig van verlies, terwyl dié van Barend J. Toerien verwys na `n rilling oor die vel, maar ook na “botsels” - `n begrip wat terugkeer in die bundel se onverwagte slotreël, “ek bot in die eerste breuke”.
Die eerste afdeling, “Wanpraktyk 1 - stukke van my sleep met haar mee” verplaas die leser na Israel en die Jiddisje wêreld - `n milieu waarbinne die digter self gewoon het en waarheen hy periodiek terugkeer om sy kind te besoek. Uit die bundelkonteks kan `n mens aflei dat die spreker die situasie as `n wanpraktyk beleef. Die inleidende vers, “ykgedig”, maak gebruik van Bybelse gegewens en terminologie, waarmee daar oënskynlik ongeërg omgegaan word: “uit die pentateug, met `n bietjie proverbs en profeet”. Dit blyk dat die spreker by wyse van die digterlike woord tot klaarheid wil kom omtrent die presiese waarde wat aan ervarings toegeken moet word. Dit is `n sinvolle inset tot die bundel, omdat die gedig dien as `n yk-instrument of toetssteen waarmee verlies (en die gepaardgaande wanpraktyke of toestand van disfunksionaliteit) geweeg word. In die slot slaan die toon oor in patos: “ek weeg my daagliks/ daagliks by die verdriet van `n kind” - `n sleutelreël in die afdeling en selfs die bundel wat gelees kan word as `n “verseboek” van “verdriet” wat vir die nageslag bewaar word.
Die daaropvolgende gedig, “my dogtertjie”, sluit hierby aan. Sonder die uitspreek van direkte emosie, en met die skyn van speelsheid, is die vaderfiguur se woorde des te meer deerniswekkend:
my dogtertjie
is `n geitjie
sy bak in liefde
soos die son
vlakke mure en plafon
maak haar vasklou niks
haar klewerige vratpootjies
het my beet
haar fynsliertstertjie
krul my om”[.]
Lesers en aspirant-digters mag dit interessant vind dat Samuel op die onlangse Stellenbosse Woordfees genoem het hoeveel hy aan die bostaande vers moes snoei en skaaf om `n oormaat aan “drama” en sentiment uit die vers te weer en `n gestroopte produk staan te maak. Daaruit sou `n “fynsliertgediggie” tot stand kom wat in sy berekende eenvoud die leser omslaan. Die afdeling bevat meer gedigte wat die hartsverbintenis tussen die vader en “pa se kind” te midde van die meegaande verdriet uitbeeld. In “visitation rights”, `n gebruik wat ook sinspeel op `n wanpraktyk, is die digter se speelse en ongeforseerde omgang met taal louter genot. Met woordvondste soos “kantel ons familiewenkbroue” en “glabberige waterblom” voer die digter `n ligter toon in om die somberheid te balanseer.
In “berigte van herkoms / psalms vir die verste kind” word die afstand wat tussen ouer en kind ingetree het, en die innerlike geweld wat daarmee saamgaan, konkreet voorgestel deur `n gedig wat telkens onderbreek word deur grepe uit oorlogsberigte. Ewe interessant is die afwykende tipografie in “all god’s children took their toll” waar afsonderlike brokke vers heen en weer oor die bladsy beweeg. Dit versterk die belewenis van die inhoud, naamlik dié van `n verskeurde, gewelddadige wêreld waarin die kind, en by implikasie die vader, hulle bevind. Algaande word dit duidelik dat die begrip “wanpraktyk” onder meer van toepassing is op die versteuring van lewensvorme, en hier spesifiek op die skending van `n ouer-kindverhouding soos versinnebeeld deur die gelyklopende verwonding in tye van oorlog.
Kenmerkend van bundel is nie alleen die verskeidenheid ten opsigte van styl en toonaard, tematiek en beeldgebruik nie, maar veral die parallelstelling van verskillende sake binne een gedig. Ook in die tweede afdeling vloei die ek-spreker se donker gemoedtoestand (”blues in yk”) ineen met die triestige Kaapse weer, voelbaar gemaak deur die herhalings, ritmiek en klanknabootsing, asook in die droefgeestige, liedjie-agtige strofes. Tegelyk nugter en weemoedig klink die spreker se ervaring van sy Kaapstadse omgewing in “stadfragmente”:
hier bo bly ek in 902
half leeukopgespalkte uitsig
blokkie see
[...]
die maan skans op
in die wolkmaansop
en skif dof agter leeukop verby[.]
Samuel weet hoe om `n synstoestand met `n omweg verbeeld deur die hantering van die vergelyking en metafoor. In “onttrekking” sê hy: “[dis] asof my blokkiesvloer/ oorgelê is met slange en met lere” en “die matte van my verstand/ soos baarde verleë dennenaalde/ gestrand in geutbeton”. Die digter se knap omgang met klank blyk uit versreëls soos in “tussen my skedel/ en die skil van my kopvel” en “ratelende skarrel”. In die versugting: “hoeveel dae is dit al/ watter seë koers ek in/ hoeke waters gee ek my aan oor/ watter skaaldier dieptes onder” word die radeloosheid deur die segswyse verhelder. Die oënskynlike gebrek aan samehang in die versbou verhewig die nagmerrie-agtige ondervinding.
Daar word ruim gebruik gemaak van neologismes, onder andere in “voëlvuurasem” waar oor die liefde gepraat word in terme van “teugde”, “bilg”, “skraak”, “uitskuinsend”, “ontrookte”. Saam met “dit asem” en “dit natgebore vuur” dui die woordkeuses op `n ontredderde geestestoestand. `n Mens kan jou afvra of die taalverwringing nie soms te ver gevoer word en gesog voorkom nie.
Die wyse waarop Samuel gespesialiseerde begrippe as metafoor aanwend, spreek reeds van `n gevorderde digvermoë. In “enkele tegniese besonderhede oor water” benut Samuel terme uit die argitektuur, soos Gilbert Gibson uit die mediese woordeskat put om verse op `n oorspronklike wyse in te klee. Die gedig van Samuel, een van die hoogtepunte in sy bundel, is `n ironiese gesprek met en oor water waarin verdigtingsmeganismes en die stryd teen roes en verrotting betrek word. Uiteindelik word dit `n besinning oor die “diep water” waarin ons by wyse van spreke woon, en waar die digter hom in `n “spatsel droog” bevind, “in `n fles vir woorde/ wat teen water verset”. Die slotstrofe word `n illustrasie van die stryd om water uit te sluit, as `n poging tot oorlewing en om wille die bedryf van digterskap.
“[S]oekmekaar” toon hoe die digter in die vryeversvorm ook elemente van `n meer tradisionele styl (met betrekking tot eindrym) inkorporeer. Vernuftig ook is die herhaling van bepaalde woorde en frases. Die gedig is veelseggend in sy oënskynlike eenvoud, en die manier waarop die vers tot stilstand kom in “soek daar”. Ten spyte van die praattoon word die nodige spanning gehandhaaf om die gedig te laat slaag.
Nog `n hoogtepunt in die bundel is “losklim”, waar besonderhede uit die rotsklimsport as boustof gebruik word. Die opbou van die vers simuleer die bewegings van die klimmer en die opeenvolgende momente waarin hy hom teen die natuurkragte verset. Die slotreël staan los van die res van die strofes en is besonder beeldend: “onversadigbaar wulp die grond haar dye”, asof die aarde die klimmer verlei om sy greep te los en hom oor te gee aan die aantrekkingskrag van die aarde “wat hom terug wil smyt”. Die ongewone gebruik van die werkwoord wat dikwels by Samuel voorkom, val op in “hy slak versigtig opwaarts”, asook in die grond wat “wulp” - binne hierdie konteks `n eggo van “wulps”. Weereens kan die gedig as ook as `n metafoor vir die lewensklimtog óf die maak van poësie geïnterpreteer word.
Dieselfde stryd om `n “greep” te kry word sigbaar in “my sokkies is swart”, hier met betrekking tot die greep op woorde, lettergrepe en betekenis. In die daaropvolgende vers, “strandtekens”, lyk dit of die spreker sy houvas op die werklikheid kwyt raak. Ná `n vreemde droom word die spreker wakker (”ek sweet wakker uit `n droom [...] ek dryf my bewussyn binne”) en beleef hy `n angservaring - eers by die see (”die see is aan die kom/ en die maan kan dit nie terughou nie”), en daarna op land (”ek ry terug die wêreld in [...] soos ek bruin waterspuite/ in waaiers oor die veld uitspat”. Die hele gedig skep die indruk van `n toestand van horries of `n durende nagmerrie. Woordverbindinge (”moddergrondpadlangs”), onbekende woorde (”desperasie”) en `n onverwagte beeld (‘nat pels soos `n handdoek”) is in pas met die toestand van verwarring. By wyse van kontras spreek die gedig “dwarsberg” van rustigheid en `n byna bo-aardse ervaring. Die “enkel hengelaar” by die bergpoel word omgeef deur “boë suisende helder lyn/ terugkerend silwer tussen gewrigte/ en rimpels watersterre/ van forel wat spring”. Dit is `n voorbeeld van hoe Samuel estetiese effekte bereik wat ver verwyderd is van geykte “mooiskrywery”.
Die laaste afdeling van die bundel bestaan hoofsaaklik uit liefdesverse waarin verwonding en ekstase vermeng is, met `n vooropstelling van die liggaamlike. Hoewel die gedigte ten dele tref, danksy `n innige toon of enkele raak besonderhede, maak dit vir hierdie leser die indruk van jeugwerk. Die segging is net te direk - wat `n meer toeganklike vers tot gevolg het, maar inboet aan veelvlakkigheid, soos wat vroeër in die bundel aangetref word. Die ryk, gekonsentreerde slotvers met sy meesleurende opbou (”op pad na `n nuwe bouterrein”) staan veel sterker. Ook hier sluit die titel en inhoud aan by die argitektuur, maar dit gaan om meer as die werklike bouterrein. Dit wil ook `n metafoor wees vir die proses van herstel, hier verbeeld as `n moeisame tog deur `n wildernis wat ingebreek moet word en die soeke na `n nuwe pad wat “sywaarts uit[breek]“. In die verrassende losstaande slotreël, “ek bot in die eerste breuke”, skuil `n paradoks. Deur `n besondere vonds van klank en beeld word `n nuwe fase in die vooruitsig gestel, en die bundel op `n hoë noot afgesluit.
Die feit dat Andries Samuel die seun van die bekende digter en skrywer Antjie Krog is, het hoogstens interessantheidswaarde, want met Wanpraktyk tree Samuel na vore as `n woordkunstenaar in eie reg. Sy debuut sal ook tot jonger volwassenes spreek, en tot alle poësielesers wat bereid is om `n bietjie moeite te doen vir die raakhoor van `n nuwe stem. Daar is nie net groot belofte nie; die digter se penne is reeds stewig ingeslaan op die bouterrein.
@ Zandra Bezuidenhout
Sunday, April 3rd, 2011
Tempermes, deur Louis Jansen van Vuuren. Queillerie, ISBN 9780795800214, 2010
Resensent: Heilna du Plooy
 Tempermes
‘n Titel soos Tempermes vir ‘n digbundel is ‘n duidelike aanwysing: hierdie bundel gaan iets met skilder te make hê. ‘n Tempermes is ‘n paletmes, nie die een wat soos ‘n troffeltjie lyk nie, maar die een met langer ovaalvormige slap lem. Die onmiddellike betekenisassosiasie van die titel word verder versterk deur die buiteblad van die bundel. Die diep akwamarynblou en kobaltblou bolangs word effens koeler laer af op die blad en in die voorgrond is die figuur van ‘n man in skakeringe van groen. ‘n Vertikale rank waaraan ‘n ruikertjie blomme hang, voltooi die buiteblad.
Die digter van hierdie bundel is inderdaad ‘n skilder, soos duidelik word uit die bekendstellingsnotas en berigte oor die bekendstelling van die bundel wat gepaardgegaan het met ‘n kunsuitstalling. Die visuele sintuiglikheid wat op die buiteblad so duidelik is, ‘n helder, uitbundige gebruik van kleur, word in die bundel egter ‘n algemene eienskap: in elke enkele gedig staan die sintuiglike aspekte van belewenis voorop:
Beheks deur purper kruike
koue ambrosyn
sweer ons gierig trou (p.9)
Of soos in die volgende strofe:
In die breekblou van die winternag,
in die skitterglans van ‘n lentedag
noem ek jou naam (p. 13)
Wat kleur betref, lei die digter se kleursensitiwiteit hom om kleure noukeurig te spesifiseer. In die gedig “Plaas” is die huis se dak “oksied” geverf, die mure se “smeerwitkalk” word nat en die kerkhof se muur is “doodswit”. In die gedig “Vincent” word Van Gogh se bekende skilderye opgeroep deur ‘n opstapeling van kleure:
Skitter, skitter sterrenag
huilblou hemelruim
koorsblou
loodwit en vermiljoen
son en maan wat wankeldraai
Honderd spuwende sterre
bergblou
beenwit en oksiedrooi…
…
geeloker
rooioker en omber
sonbesiekoor sing in die olyftakarms
skitter, skitter sterrenag (p.50)
En in die gedig “Narkissos” (p.49) word die selfliefhebbende mens langs die waterpoel se einde soos volg beskryf in ‘n baie mooi strofe:
Tussen klippe en bleek brokke been
groei daar ‘n rare blou blom:
botsel van ‘n vreemde liefde,
kleur wat net van kobalt kom.
Dit gaan egter ook dikwels om smaak (”Kaneel en suiker, soet die nag” , p. 18; ”dek ek tafel swierig / met pienang en komyn”, p.34), of om klank, hetsy in die verwysing na liedere soos ‘n serenade en ‘n aubade, die “Elizabeth-serenade” (p. 20) of “My hartjie, my liefie/ die son sak weg” (p. 32) of in gewone beskrywings waar die klank meespeel soos in ”Sonbesiepraatkoor met die vink” (p. 25) en “Bokbaaivygie, disseldoring/ hoor jy ook die roofmeeu roep?” (p. 33). In “Die jagter se dogter” (p.47) word die hele vroegoggendse jagatmosfeer opgeroep in die eerste strofe, spesifiek deur na geluide te verwys:
Jaghoring krul ‘n hoë noot,
miswit skoorsteenrook.
Koperklanke rasper die klipmuur op,
hoog, tot by die dak se hoogste nok.
‘n Nes vol kuikens piep.
Die bundel is deurtrek van sintuiglikheid, meer nog daar is ‘n lewensdrif en ‘n sterk drang tot lewensgenieting wat uit vele gedigte spreek. Dit is selfs asof die liefdesmart waaroor in baie gedigte geskryf word, met ‘n soort energie beleef word. Dis inderdaad byna ‘n gierigheid wat in die gedigte beskryf word, soos die eerste gedig dit self noem. Die gedigte vloei dan ook vlot voort met ‘n soort vaart en baldadigheid waarin ‘n groot energie opgesluit sit.
In geheel beskou is dit ‘n bundel wat spreek van ‘n soort dekadensie, nie as ‘n werklike lewensstyl nie, maar die lewensgenietende dekadensie van daardie estetiese ingesteldheid wat ‘n mens ook by Hennie Aucamp kry. Die energie en vloei, die sensuele aard van die temas en van die gedigte self onderskryf hierdie waarneming.
Tog is die tematiese skopus van die bundel beperk. Daar is ‘n paar gedigte oor jeugherinneringe, ‘n paar stemmingsgedigte, ‘n paar verse oor kunstenaars, (Van Gogh en Sylvia Plath as metafoor), maar die meeste gedigte gaan oor die liefde en liefdeservarings. Daar is mooi wendinge in die gedigte soos blyk uit die aanhalings hierbo en ook soms verrassende metafore. Die verse vlot ook gemaklik en val ritmies sag op die oor.
Die bundel as geheel verloop vir my gevoel net te gemaklik en te glad, asof die keuse van woorde en reëls en strofes en gedagtes net te gou en te voorspoedig gemaak is. Dit is asof daar werklike diepgang ontbreek - wat miskien nie erg is nie, want waarom kan gedigte nie oop en duidelik en by-die-eerste-aansig-mooi wees nie? By herlees begin mens egter die baie geykte frases opmerk, die clichés, die soms te voorspelbare retoriese wendinge en ook soms die geforseerde klankpatrone en woordkeuses. Op die eerste vlak is hierdie bundel ‘n kleurvolle, klankryke en smaaklike leeservaring, soms uitbundig en soms weemoedig, maar altyd op vaart. By ‘n herlees word dit yler en voorspelbaarder, woordvaardig maar waarskynlik net te moeiteloos.
@ Heilna du Plooy
Tuesday, March 29th, 2011
Duskant die donker / Before it darkens. Deur Cas Vos (met vertalings deur Leon de Kock). Protea Boekhuis. Prys: R150. Aantal bladsye: 128. ISBN 978-1-86919-412-3
Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
 Duskant die donker/Before it darkens
In net meer as ‘n dekade sedert sy debuut met Vuurtong in 1999 het Cas Vos met 5 bundels ‘n eie plek in die Afrikaans digkuns vir hom oopgeskryf.
In sy mees onlangse bundel Afrikaanse verse, Intieme afwesige (2009), het daar al ‘n Engelse vertaling van een van die gedigte langs die oorspronklike verskyn (”Afskeid” / “Farewell”). Dis verlede jaar opgevolg met die publikasie van Intimately absent, Engelse omdigtings deur bekroonde vertaler Leon de Kock van die vierde afdeling (die “Abélard en Héloïse”- en “Astralabe”-reekse) uit daardie bundel.
Met Duskant die donker / Before it darkens staan die talentvolle De Kock vir Vos verder by om laasgenoemde se digkuns wyer as die toeganklikheidsgrense van Afrikaans bekend te stel. Anders as in Intimately absent verskyn die Engelse vertalings dié keer telkens langs die Afrikaanse ‘oorspronklikes’. Dit behels ‘n keur uit die ander gebundelde gedigte van Vos, veral uit Intieme afwesige en Die afdruk van ons hande (2007), maar ook enkele nuwe gedigte.
Ek plaas ‘oorspronklik’ tussen aanhalingstekens, want ‘n hele klompie van die herpubliseerde Afrikaanse verse is in ‘n mindere of meerdere mate deur Vos herskryf.
Voorts word die keur-met-vertalings ingelei met ‘n digterskap-taksering deur Johann de Lange, wat nou al sy sout verdien het as bekwame bloemleser, bloemlesinginleier en poësievertaler.
Alles in ag geneem, tree daar nogal ‘n promoverende strewe uit die verf aangaande Vos se digterskap. ‘n Fisiese uiting van laasgenoemde is die feit dat al Vos se bundels sedert Die afdruk van ons hande, ook die bundels vertalings, aantreklik uitgegee is in hardeband - ‘n voorreg wat al lank nie meer selfs internasionaal bekende Afrikaanse digters, soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog, beskore is nie.
De Lange maak in sy inleiding, getiteld “Die spoor van papirus”, gewag van “‘n afgeronde, klassieke soort vers met tradisionele bindingsmiddele soos rym en ritme” wat Vos skryf, iets wat hy onder meer koppel aan die digter se belesenheid in byvoorbeeld klassieke en antieke literature en mitologieë.
Myns insiens is daar eerder sprake van ‘n spanning tussen vaster en vryer vormgewing in Vos se oeuvre. Dit word algaande met meer trefkrag deur hom benut om iets van die paradoksaliteit en ironie op te vang wat sy verwoorde lewenservarings kenmerk - “die spanning tussen wat oud is en nuut, verlede en hede, goddelik en Goddelik, die aardse en die boaardse, die epiese en die alledaagse”, soos De Lange ‘n aantal dergelike teenstrydighede opsom. Ek sou onder meer die spanning tussen sinneroes en sentiment aan die een kant, en intellektualiteit aan die ander kant, wou byvoeg.
Trouens, die vyf afdelings waarin die gedigte in Duskant die donker / Before it darkens gerubriseer is, kan as verteenwoordigend gesien word van die belangrikste tematiese velde wat Vos in sy oeuvre bestryk:
- religie (met aanbidding en opstand, bestaansvreugde en -pyn, vertroue en twyfel in gespanne verhouding);
- liefde (waaronder erotiese verlange en vervulling, maar ook liefdeskipbreuk, -verlatenheid en -gemis, én die impulse tot poësieskepping wat dit alles bied);
- kunsskepping en kunstenaarskap (die triomfe en verrukkings daarvan, maar ook die pyn en onvoldaanhede wat daarmee gepaardgaan);
- lyding, skeefgeloopte verhoudings, die somber kante van hierdie lewe; en, laastens,
- aftakeling (deur ouderdom en die dood, maar ook van mense ondermekaar), versuim en gefnuiktheid - dit waarop in die bundeltitel gesinspeel word.
Op boeiende en soms aantreklike wyses word geykte uitdrukkings, asook aanhalings uit en toespelings op bekende intertekste, met eie taalwendings vervleg en verlewendig om ook op stylvlak sulke spanninge op te vang. (Meersinnige) woord- en klankspel versterk in die beste gedigte die effekte wat sodoende bereik word.
Vergelyk hoe die (geïmpliseerde) uiteenplasing van die bekende samestelling “droomverlore” bykomende betekenisse moontlik maak in die volgende kwatryn - iets wat nie behoorlik spreek uit De Kock se omsetting nie:
|
volmaan
die volmaan hang
verlate oor ‘n boom
terwyl ek droom
verlore na jou verlang
|
full moon
desolate, the full moon
floats across a tree
as i dream of being free
free to take you in full swoon |
Dit alles word, in Vos se beste gedigte, onderskraag deur ‘n beeldingsvermoë wat algaande in helderheid en suggestiekrag toeneem, en wat steeds sterker uiting vind in meer objektiewe gestalteverse.
Één voorbeeld, met De Kock se (plek-plek selfs oortreffende) vertaling daarby:
|
Il Gigante
Die beeldhouer blaas asem
in ‘n massiewe stollingsklip;
sy beitel hap log marmervlees,
tap bloed in die klip tot
uit die koue rots ‘n jong wagter opstaan,
oë groot en weerloos, lyf lammetjiesag.
Hy staan onverskrokke met sy slingervel
om met Goliat, die Godterger, af te reken.
Wat weet hy van Batséba, andersmansvrou?
Of van kwellings oor kinders, twyfel
oor nasate waaruit die asem
van God iets onverwelkliks kan laat bot?
Hy staan gesnaar.
|
Il Gigante
The sculptor blows breath
into the giant, stilled rock;
his chisel bites into the hulk of marbled flesh,
taps lifeblood into the stone until
a young shepherd arises out of its frigid face,
eyes large and innocent, body soft as a lamb.
He stands there, fearless, with a sling
ready to put paid to Goliath, the godless
brute.
What would he know about Bathsheba, and
forbidden fruit?
Or about torments for the sake of children,
doubt
about descendants from whom the breath of
God
can bud into something imperishable and
strange?
Strung, he stands ready. |
Helaas blyk uit hierdie keur, hoewel uiteraard minder opvallend as uit sy oorspronklike bundels, ook dat Vos hom skuldig kan maak aan minder sekure woordkeuses en stelwyses, onder meer vanweë sy pogings om derglike spanninge te verwoord. Ietwat troebele beelding - selfs in gedigte wat hy redelik sterk herskryf het vir opname in Duskant die donker / Before it darkens - is soms ‘n bykomende gevolg hiervan.
As voorbeeld plaas ek hieronder grepe uit die oorspronklik (in Die afdruk van ons hande) gepubliseerde en uit die herskrewe weergawes van die langerige gedig “Huwelik” langs mekaar, om die vergelyking makliker te maak. Hulle word gevolg deur ‘n naasmekaarplasing van (weer eens) die herskrewe en dan die vertaalde weergawes van daardie selfde dele. Ek dui woorde en frases in Vos se herskrewe weergawe wat na my mening (steeds) ietwat mank gaan aan troebelheid, met skuinsdruk aan. Ook met betrekking tot De Kock se vertaling lig ek frases met skuinsdruk uit, maar dié keer om te fokus op hoe die vertaler (hoofsaaklik) ophelderend te werk gegaan het, of óm dowwe kolle gestuur het.
| ’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde na die man se ore.
Sy vrou talm êrens op die drumpel van
verdriet,
met swye ontken hy alles.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bad hom in die heilige modder,
proe aan donkermaan.
Hy begin die waarheid lieg,
soos digters soms
agter ironie se masker.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Man en vrou sleep mekaar
donker slote toe.
[...]
|
’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde bewustelik vaag
na haar man se dowe oor.
‘n Verlate vrou talm
op die drumpel van verdriet.
Met ‘n mond vol swye ontken hy alles.
Satire vervaag tussen hulle soos ink,
maar stilte is gebeitel in graniet.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bemors hom met heilige modder,
proe aan donkermaan,
sien ‘n lyf sag vir blinde liefde.
Hy begin die waarheid lieg,
vlugtig en woordryk.
Die muskus van die nag verwond hom,
die jasmyngeur in sy woorde is vir haar
pynlik.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Die man sleep die vrou
na ‘n donker sloot toe
seën haar met vloeke
en skelmstreke;
sy stapel verwyte teen hom op.
[...] |
| ’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde bewustelik vaag
na haar man se dowe oor.
‘n Verlate vrou talm
op die drumpel van verdriet.
Met ‘n mond vol swye ontken hy alles.
Satire vervaag tussen hulle soos ink,
maar stilte is gebeitel in graniet.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bemors hom met heilige modder,
proe aan donkermaan,
sien ‘n lyf sag vir blinde liefde.
Hy begin die waarheid lieg,
vlugtig en woordryk.
Die muskus van die nag verwond hom,
die jasmyngeur in sy woorde is vir haar
pynlik.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Die man sleep die vrou
na ‘n donker sloot toe
seën haar met vloeke
en skelmstreke;
sy stapel verwyte teen hom op.
[...] |
A year or five after the marriage
a woman turns, late at night,
utters words deliberately vague
into her husband’s deaf ear.
A woman left behind,
she lingers on the threshold of regret.
The man’s mouth is full of reticence.
He denies everything.
The coil of their satire snaps,
their silence chiseled like granite.
Thick-tongued, the man
ladles out alibis:
meetings, investments,
cocktail parties, companions;
tests for taste the moon-bereft night,
sees a body soft for the want of blind love.
He starts lying the truth,
fast and eloquent.
The night’s musk hurts him.
The jasmine in his words stabs her.
[...]
There is little place in a cold war
for god and godliness.
The man drags the wife
into a dark trench,
blesses her with curses,
sleight of hand;
she piles op reproaches against him.
[...]
|
Ek het trouens alte dikwels by die lees van die bundel die verontrustende indruk gekry dat De Kock se vertalings die brontekste ‘n bietjie in die skadu stel - en gedink hoe gelukkig Vos hom kan ag dat dié beeld van sy digterskap na die Engelstalige wêreld uitgestraal word.
Ter verdere illustrasie - en daarmee ten slotte - die verskillende weergawes van “Villanelle vir die oudag” (oorspronklik uit Enkeldiep, 2003), op dieselfde wyse as die dele uit “Huwelik” hierbo só geplaas en gekursiveer dat vergelyking vergemaklik word. (Let byvoorbeeld op hoe die gebrekkige beeldsamehang in strofe 3 deur De Kock gehanteer word.)
|
(Enkeldiep-weergawe)
Nou wil ek herinneringe vir jou koop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se koue wind jou begin sloop.
Ek skink vir jou ons volryp dae soos stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker stadig leegloop.
Mymeringe se wit gloed vonk vol hoop,
dit help om die waggeltyd te verduur,
ook as jy in die diep donkerte moet loop.
Noudat die jare jou oë in ‘n poel doop
en heimwee spoel as jy na muwwe dae tuur,
voel jy hoe die koue wind jou begin sloop.
Onthou die dae toe ons ‘n slaapmat knoop
en snags ons liefde aan mekaar afskuur;
proe in die oudag die soettyd se stroop.
As jy tyd se beker stadig sien leegloop,
laaf jou mond met herinnering se kuur;
as die jare se koue wind jou begin sloop,
proe in die grysdag die soettyd se stroop.
|
(Duskant die einders-weergawe)
Ek wil nou herinneringe vir jou ophoop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se nukkerige wind jou begin sloop.
Ek skink vir ons in die koelte geure vol stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker vinnig leegloop.
Liefde vonk ‘n wit gloed van hoop
in die voue van vergeelde papier,
ook as jy alleen in lang gange moet loop.
Noudat die jare jou oë in wasigheid doop
en jy siende blind verby knypkoue dae tuur,
voel jy hoe die rukkerige wind jou begin
sloop.
Onthou, ons het ‘n slaapmat geknoop
en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;
smak in die oudag oor ryp pere se stroop.
As jy tyd se beker vinnig sien leegloop,
Drink die herinnering wat ‘n leeftyd duur;
as die jare se blinde wind jou begin sloop,
smaak in die grystyd ryp pere se stroop. |
|
(Duskant die einders-weergawe)
Ek wil nou herinneringe vir jou ophoop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se nukkerige wind jou begin sloop.
Ek skink vir ons in die koelte geure vol stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker vinnig leegloop.
Liefde vonk ‘n wit gloed van hoop
in die voue van vergeelde papier,
ook as jy alleen in lang gange moet loop.
Noudat die jare jou oë in wasigheid doop
en jy siende blind verby knypkoue dae tuur,
voel jy hoe die rukkerige wind jou begin
sloop.
Onthou, ons het ‘n slaapmat geknoop
en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;
smak in die oudag oor ryp pere se stroop.
As jy tyd se beker vinnig sien leegloop,
Drink die herinnering wat ‘n leeftyd duur;
as die jare se blinde wind jou begin sloop,
smaak in die grystyd ryp pere se stroop. |
(Before it darkens-weergawe)
For you, now, I want to make memories,
thread them together
so you can endure the ravelled days when
things seem sour
when the storms of age take you to the end
of your tether.
Allow me, then, to make an elixir for us, full
of nectar
so you can taste my love in the darkest hour
when you feel time like a fearful and dreaded
spectre.
Look, our love sparks a white glow of perfect
weather
in the folds of a yellowing flower
even when you find yourself adrift in the
nether.
True, now that the years cloak your eyes in
heather,
half-blind, and you endure the cold days with
a glower,
the raging winds will take you to the end of
your tether.
Remember, then, how we braided a sleeping
mat together
and, at night, brought our love into full
flower;
revel now, in this syrup of ripe pears, this
nectar.
When time begins to drift like a windblown
feather
drink on the memories that endure, taste
their power;
when the blind winds of age take you to the
end of your tether,
taste the syrup of ripe pears, revel in their
nectar.
|
[Vanweë die voorstelling in kolomme is sekere reëlbreuke gemanipuleer om in te pas. - Red.]
Tuesday, March 22nd, 2011
die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). Breyten Breytenbach. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5221-1. Prys: R170. 181 bladsye. Sagteband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
 Die beginsel van stof
Breyten Breytenbach se “laat-verse” val soos skuinslig deur halfoop blindings: intiem en innig syfer woorde in- en oormekaar, sydelings word poësie gemaak. Beelde swerm soos “sprinkaanskaduwees” in gedempte lig; “aandtekeninge” wemel van betekenis.
[D]ie beginsel van stof is so ryk aan inhoud, gevarieerd in vorm en gelaai met betekenis dat elk van die sewe afdelings eintlik `n afsonderlike bespreking verdien. Die bundel eis `n langsame verkenning; dit vra van die leser om saam met elke gedig asem te haal en nie oorhaastig te probeer interpreteer of “verstaan” nie. Deur `n opeenvolging van klanke, aksente en pouseringe kom die gedagte-inhoud in beweging, en algaande manipuleer en fassineer die opper-sjamaan van die Afrikaanse digkuns sy leser.
In die geheel is die beginsel van stof `n ode aan die synstoestand, aan die mens se hierwees in stof, sy skeppende verbeelding en sy uiteindelike aflegging van stoflikheid as maaksel en maker. Tyd, so blyk dit uit hierdie gedigte, is immer in beweging; alles vloei - panta rei, soos Heraklitus dit al eeue gelede gestel het. In hierdie opsig kan Breytenbach se jongste bundel beskou word as `n vervolg op die windvanger (2007), waarin die nosie van tyd ook `n belangrike plek inneem. Bestaan vervloei tot `n “newel” (57) waar as en asem in mekaar opgaan om die groot mandala te vorm waarin lewe en verganklikheid een word.
Die raaiselagtigheid of “wonderlikheid van lewe” (101) word konkreet voorgestel. Die mens (en digter) word uitgebeeld as `n reisende figuur, waardeur `n veelvoud van plekke, situasies, mense en dinge gestalte kry. Selfs op hierdie eerste vlak sal lesers genot put uit die skoonheid en gevoeligheid waarmee `n wêreld van uiteenlopende ervarings wakker geroep word. Maar wie fyner lees, ontdek dat dit nie gaan om `n kleurvolle verslag nie, maar om die skeppende mens en sy pogings om stoflikheid deur middel van `n reis “van woord na woord” (162) in nuwe stof te be-teken en te laat beteken. Die spreker is afgestem op indrukke en afdrukke: “dis die oë wat gulsig is/ wat nie wil ophou drink…nie” (100); en “dis die oë wat soos `n vrek/ alle gesigte en landskappe/ en die fluisterversugtinge van beweging/ vas wil hou” (101). Hierdie vashou-aksie skakel met die “[w]oordfoël” (56, 57) se oorgroot pote, kloue of hande in die selfportret (autoportrait) op die voorplat. Die stip sydelingse kyk, aandagtige kop en skerp bek van die kraai-agtige voël kan met die waaksame en goedgebekte digterspersona (”die bekkige ek”, bl. 58) vereenselwig word. Tog is die voëlfiguur swaar, die lyflikheid toegeknoop; in die buiteteks is hy nog ingeperk deur kleding. Ook sy bek is nog toe; hy is staties en gooi `n skaduwee. Die voël-mens word omgeef deur `n uitgestrekte oker landskap, of `n Niet, tot hy die binneteks, dit wil sê in die vlug van die gedig (”die wegvlieglied”, bl. 66), bevry word.
In die digter se verkenning van uiterlike en innerlike landskappe delf en duik die “diepleefduiker” (146) diep in die onderbewuste. In “ondergrondse sale” (139) en “ondergrondse riviere” word die “beelderyk `n sintuig” (47) om “woorde soos moldrome” (73) en “verse as skerwe” (139) te skryf. Tussen die warboel van los drade, soos dit ook in die gedigte reflekteer, vind die spreker in sy taal `n deurgang. Hy verken die droom, kyk in spieëls, “sny kykglasskerwe” (105) - en word deel van die water, die wind, die wiegende boomtop, en daardeur van die Al. In die proses ontgin hy die moontlikhede van taal; buig hy dit om en genereer hy nuwe betekenisse. Dit is hoe die “beginsel van stof” in taal en denke ontstaan, en in kreatiewe skryfwerk vorm kry. Op hierdie wyse maak Breytenbach nogmaals die dinge vreemd en nuut. Soos sy voorganger Peter Blum, en die digters van die Nederlandse Vijftiger-beweging, skep Breytenbach sy eie verbale universum, `n persoonlike kode van neologismes, “mompelwoorde” (82) en metafore wat aan sy poësie `n gedurfdheid en vrye vlug verleen. Hierin gaan Breytenbach selfs verder as sy tydgenote Wilma Stockenström en TT Cloete. Die frekwensie en aard van hierdie drie digters se taalspel, en die virtuositeit waarmee hulle woorde verbind, “verskryf”, verwring en skep, sou as materiaal vir `n boeiende vergelykende studie kon dien.
Ingegee deur sy waarneming en wete, en gerugsteun deur sy tegniese bedrewenheid (”dis my job”, bl. 74), bring die digter met behulp van die skeppende verbeelding `n estetiese produk tot stand. Die gedig as artefak, deur die spreker gerelativeer tot “klein maaksel woorde” (87), of “woordstopseltjies” (50), groei uit tot kunswerk. Die estetiese aspek was oor die afgelope jare `n kontensieuse saak in die literêre kritiek, want moet (en mag) die gedig nog mooi wees? En wat is “mooi”? Dit is `n twispunt wat toenemend opduik by die samestelling van bloemlesings en die waardebepaling van poësie. Maar Breytenbach kan nie anders nie: hy skep skoonheid by die digvrag vol - teen wil en dank. Sy aanvoeling, vertolking en verwoording is so delikaat, oorspronklik en roerend dat dit lyk asof sy gedagtes hul voortalig in die skoonheid inbed, asof die digter se praat louter lied word. In “die sonnet as verstekenling” sê hy van die werk van “woordenaars” (31):
hier is die hooglied van besinning se versinsels
hier blye oopgaandae van sing en sing en sing[.]
Breytenbach se jongste werk is die neerslag van `n leeftyd se vakmanskap en `n liefdesverhouding met die kunste. Waar hy die skryfhandeling aan die begin van sy digtersloopbaan verbeeld het as `n gehamer teen sy “langwerpige kop om [...] `n gedig te fabriseer” (”Bedreiging van die siekes”, die ysterkoei moet sweet 1964), verwys hy in die beginsel van stof telkens na die rol van die verbeelding en die geheue. Vir hom is “verbeelding [...] die beweging van plek” (106); en “die nag se verdronke afwesigheid probeer onthou/ onthou die vreemde reisigerlyf/ in woorde wat een vir een vervaag uit die vingers” (106); “soos die skulp op die rak/ nog alles onthou van die see” (108). Die gedig is vir Breytenbach iets “wat jy hartklop vir hartklop/ van stamel tot aanhoustilte verskryf” (105); “woorde wat een vir een vervaag uit die vingers” (106) en “die metafoor wat uit die paragraaf vul/ om hier gevérs te kom ster-sterf” (107). Die digter “…hou sy bek, laat syfer/ betekenis en woorde se waaragtighede/ deur die uitmekaarhaal en inmekaarsit/ van beweging tot strukture:/ vorm is die verbeelding van plek”. Besonder tekenend in dié verband is: `n “gedig is om met herhaalde/ vlegbewegings van stokkieswoorde/ tereg te kom in die voëlnes/ van die ander bewussynsboom” (104) - met die vervorming van “bewussynstroom” tot “bewussynsboom” as tipiese voorbeeld van die digter se kreatiewe omgang met die bestaande leksikon.
`n Hoogtepunt van die digter se poëtikale refleksie is sy uitspraak in een van die fragmente (105):
hoe om die woorde te ry
asof hulle betekenisvlees is
en in die beweegweging `n ek te verwek
wat jy lief mag kry
klanke verlyf in ritme
en die koppeling verhaal
tot taal en vertaling
totdat papiervlies soos ooglede bewe
om sin en sinne singend te bevry
en aan die pen te laat ry
in die spreekspelspeeksel van ekstase[.]
Lesers kan self nagaan hoeveel betekenis in “begweegweging” en “spreekspelspeeksel” opgesluit lê, hoe dit met die digtersambag verbind is en watter poëtiese middele hier benut word. Of vir beginnende Breyten-lesers: waarom sê die digter dit juis só? En vir Breyten-skeptici: kon hy dit anders gestel het?
Die aandag vir die skryfambag word uitgebrei na die digter se gereedskap: “sit jy met die vel papier/ op die buitetafelblad/ en klad woorde”(100); en “potlode wat skerp gemaak moet word/ om die dag te skryf// om die dag te skryf:” (96). `n Voorbeeld van die bemoeienis met taal in die algemeen is: “maar hoe kan ek ooit/ hierdie berg en branders en wind/ en die vlug van voëls/ anders ervaar as geskep uit die taal/ van die voorouers se sagte klik/ en nie-nie?” (102). Daar word ook geïllustreer hoe die mens in en deur taal (en poësie) sy lewensverbintenisse koester, soos deur briewe of gesprekke - onder andere deur `n gedig opgedra aan sy vriend, die literator Ampie Coetzee. Ander brief-gedigte word aan familielede, die gedig self (14), die taal (18), mede-digters (127) en aan die Here gerig (30). Die bundel sit vol verwysings na die die digkuns en die woord: “landskappe gesyfer/ deur `n kors van woorde” (107). By tye voel die digter dat hy sy taak volvoer het: “ek het te veel geskrywe/ ek het te veel gesterwe”- en “dieselfde lywe [is] begrawe/ onder klank” (107). Hy wonder of hy bloot `n “vermenigvuldiger” is wat “wurmtaal” pleeg (108), soos dit in die speelse grafskrif uitgedruk word. Oor die huidige fase van sy lewe en digterspraktyk beweer hy: “dis waar dat ek swaar/ in die mond geword het/ en baie begrippe het nou/ die muwwe smaak van mompeling” (102).
`n Uitsonderlik wye doek word bestryk, en tussendeur vertoef die digter op die “wit/ wieggang van wolke” (156). Hy gee hom oor aan die veelheid en sinnelikheid van bestaan, en konkretiseer sy ervarings en waarnemings in ontelbare dinge, van die “nagkoninginne se bates” (31) tot die “nat silwer vel” van water (90), en hy roep die mens in al sy gedaantes, rolle en landskappe op. Hierdie digter is in vlees en gees `n nomade - en die derde bundelafdeling wat uit losstaande fragmente bestaan, dra die innoverende titel: “nomadismes (`n fragmentarium)”. Hierin herverbeel die digter sy reise deur die wêreld en die lewe. Fragmente volg mekaar sonder punktuasie op, en word deur `n asterisk geskei om die idee van eenheid in afsonderlikheid visueel voor te stel. Die “rondloperklong” (59) som sy ervarings só op: “wat `n wonderlike reis was dit/ oor vastelande en seisoene/ verby stede met name/ wat sing op die tong” (108), gevolg deur die enumerasie van uiteenlopende dinge: “die kind het met stokkies in die stof gespeel/ in boekwinkels het papierstemme gemurmel/ in galgkamers het mense aan toue geswaai/ soos pendulums oor `n landkaart van lewe” - met die subtiele herhaling van die l-klank as bindingsmiddel.
Ook die humoristiese gebruik van bekende name en volkse uitdrukkings, en die ontyking daarvan, bly deel van die Breyten-binnepret. Berekend moedswillig, maar hoogs funksioneel, herdoop hy “Worcestersous” na “woestersous” (94):
koester daai oester
met `n druppel woestersous:
hoe skaam swel haar lippies!
Van die skerp beelde wat `n mens bybly (ook hiervoor is `n uitgebreide artikel nodig), is die “operahoer met roekoerkoerborste” (73) en “nonne met hul skuwe enkels” (96) wat in `n volgende fragment gevolg word deur “sonneblomme staan soos vrome Moslems/ met geboë hoofde en lapppe oor gelate ooswaarts gerig/ en wag vir die ligvlam om te roer… dat hulle lippe mag bewe” (95); en kort daarna die maan as `n “glimmende kopbeen” (96). Opvallend ook is die vindingryke gebruik (en skep) van werkwoorde om beelde te versterk, soos “dan sou jy van kerk tot kerk wou Sondag” (42) en “om hier gevérs te kom ster-sterf” (107).
Sommige lesers mag die vermoedens van afskeid en dood as die spilpunt van die bundel beskou: “lyke, lyke, lyke” lui `n reël in “die onvoltooide vers (23); “[s]o flikker en flikflooi die verganklike/ naderhand op die tong” (28), en “jy sien dit alles dalk `n laaste keer”, sê die spreker (95). Die oorgawe aan die aarde en alles wat bokant en onder die aarde is, word inderdaad gekomplementeer deur `n groeiende bewustheid van dood en verval. Reeds die openingsvers van die bundel staan in die teken van eindigheid, beide wat die mens en die taal betref. `n Drafsessie word verbind met “koggelpassie” waar die asem die dood sing-sing inhaal, “tot aan die oewer van die Styx” (14). Die “aarde as verrottende onvergeetlikheid” (96) resoneer in voorstellings van die sprekende instansie se aftakeling: “dis jy en jy alleen/ wat oud en ylhoofdig geword het [...] het jy gedink jy sou vir ewig lewe [...]?” (97). Voorbeelde kan na willekeur aangehaal word, soos “tot siens sê vir dit/ wat nooit weer gesien of besoek/ sal word nie”; en “die hart en die kop het lankal laat staan/ verstaan dat die kort lewe versaak gaan word/ om gou-nou te verdonker/ gebraak in die gat van sterwe” (100, 101). Veral die twee laaste afdelings van die bundel bestaan uit `n genuanseerde tematisering van die dood, waar die onderwerp afwisselend met erns, luim en teerheid ingeklee word. Die een “wat aanbly skryfel teen die dood/ kry `n oumanslyf gevrug in die woord - / maar die voëltjies van verganklikheid/ sit kwetter reeds in die gedigteboord” (167). Dit sou interessant wees om in hierdie verband Elisabeth Eybers se ryper werk met dié van Breytenbach te vergelyk, veral ten opsigte van stylverskille in die uitbeelding van die later lewensfase.
Die fokus op die ek-spreker en die biografiese word gebalanseer `n ironiese distansie; enersyds bewerkstellig deur humor en selfspot, en andersyds deurdat die spreker se ervarings dikwels algemeengeldend is, of minstens raakpunte het met die leser. Die aflê van die lewe en die lewenstaak, met die gepaardgaande winste en verliese, is immers die lot van die mensdom. Die digter spreek homself aan as “verdrommelde Bitterblaf” (97), of teken homself as `n starende “kromskouer-voël” (102), en werk sodoende die skyn van selfverheerliking teë. Hy verwys ook na sy vroeëre werk, en soos literatore dit graag stel (en oor die gewillige boeg van die postmodernisme gooi), skep hy intertekste deur by homself en andere te leen, en homself daardeur te ironiseer. Wanneer hy noem dat “die sterre wurms is” (96), voeg hy in parentese by: “(soos die voortvarende digter gesê het)”. Sterre, soos ook die maan, donker, nag, swart, dood, engele, spieëls, visse, wind, water en asem is van die deurlopende motiewe in die bundel en die oeuvre, maar dan altyd nuut, altyd weer anders aangewend.
Tegnies gesproke is die bundel `n kragtoer. Die vryeversvorm, wat hier meestal `n praattoon aanneem, besit `n inherente spankrag en natuurlike voortstuwende ritmiek wat soms ontbreek by ander digters wat hierdie tipe vers bedryf. Danksy Breytenbach se gedissiplineerde hand is daar geen insinkings vanweë te veel losheid, wydlopigheid of slordigheid in die versbou nie. Hiervoor is die digter eenvoudig te bedrewe, te `n groot kunstenaar. Elke vers is sorgvuldig gestruktureer, onder ander deur slim reëlsamestellings en -breuke, sinvolle beeld-, woord-, klank- en betekenisverbande, en die vindingryke keuses, kombinasies en ordening van woorde en woordgroepe. Ook die aanwending van klassieke poëtiese middele dra by tot die spankrag van die vers, bv. die funksionele gebruik van toevallige of versteekte rym in “jou skoene het jou tog al die seisoene gehou” binne een reël (97); “barkas” en “dakterras” in opeenvolgende reëls (105), met “karkas” kort daarna (106). Op `n speelse wyse maak die digter van binne- sowel as eindrym gebruik: “tussen verskyn en verdwyn/ [...] darem `n glasie wyn/ vir die pyn”. (97) of “in waarheid was die lippe natuurlik klippe/ wat hulle voordoen as wippe” (105).
Opvallend ook is die voortsetting van die skatologiese: “laat die sluwe bitter eende op my graf kak”, `n reël uit die openingsgedig van “Bedreiging van die siekes” in die ysterkoei moet sweet, resoneer onder andere in “die stroom onverdunde stront/ uit jou mond” (76) en “die onderskeid/ tussen skyt en modder” (103). Hierteenoor staan die verhewene deur die invoer van Bybelse gegewens, as parodie al dan nie, soos in “nog `n bietjie sluimer/ nog `n bietjie slaap” (82) (vgl. Spreuke 6:10), later omvorm tot “nog `n bietjie soek/ nog `n bietjie vloek in die donker” (107); asook in “en dit was goed” (98, 99) (vgl. Genesis 1:31).
Afdeling 4, getiteld “buig en prewel buig en prewel/ baie woorde o baie woorde”, mag vir lesers omrede die vorm en inhoud vreemd aandoen, veral vir diegene wat nie met Breytenbach se surrealistiese aanslag en die moderne prosagedig bekend is nie. Deur die fantasie en die naasmekaarstelling van oënskynlik onverwante sake probeer die digter die maalkolk van die onderbewussyn blootlê deur `n alternatiewe werklikheid op te roep. Die titels van die gedigte in hierdie afdeling staan tussen hakies; moontlik as `n aanduiding van voorlopigheid of die gebrek aan finale naam- en betekenisgewing, wat weer aansluit by die toestand van onsekerheid wat in hierdie afdeling beklemtoon word. Die grens tussen prosa en poësie word opgehef en die prosagedigte kan gelees word as gedagtes wat in die bewussynstroomstyl weergegee word. Dié tekste is woordryk en vloeiend, en besonder poëties. Beskrywings van dinge en situasies mag egter duister en selfs grillerig voorkom, soos in “(koop `n hond)” (115), wat op `n verrassend ligte noot afsluit met die aandrang om daaroor `n gedig te skryf, maar te “waak teen vlieë”.
In hierdie afdeling neem die digter afstand van die reële wêreld en, nog meer as gewoonlik, van die konvensionele bewoording daarvan. Hy probeer nie `n “verstaanbare” afbeelding van die sogenaamde werklikheid gee nie; hy wil juis die leser saamneem op `n verbeeldingsvlug wat hier en daar raakpunte met die bekende het, maar waar die oorvloed van indrukke nie klop volgens die leser se verwagtingshorison nie. `n Mens kan jou egter afvra of die gegewe, en die gedig self, nie eksemplaries is van die lewe self nie, en of die verwarring, die “trillings” en “klankpiramides” in “(Wat het van tyd geword)” (117) nie ooreenstem met ons daaglikse ervaring nie. Ook daarvan moet ons immers self sin maak deur “`n oseaan onsin [...] leeg te skep” met “[t]eelepels” gemaklike “waarheid” wat as troostende “[s]uigware” dien. “Die lewe is `n lieg” sê die digter, en die gedig is `n afbraakproses en revolusie waar “donker klowe” oopgeskryf word, desnoods met behulp van die lag, soos die gedig aan die einde te kenne gee. Die gedig “(Wanneer die wêreld onder ons vlerke wit is)” (119) beeld die mens se vervreemding uit, en impliseer dat die poësie soms die skokinstrument wil wees, die stok waarmee die “steiltes (die stellings/ en die stellasies) van die woord” uitgeklim word, want:
Die gedig is immers die hand wat soos `n skaduhond al
langs die woorde loop. Om af en toe `n been te lig.
Die onderliggende vraag is of ons nog te midde van die stilte, onbegrip en die impasse die vermoë het om “boor-geboorte/ woorde uit die stilte te toor”, want ons is “besmet met Woord” - met clichés en meesterverhale wat geen begrip bring vir mekaar en ons situasie nie, en inspeel op die huidige situasie in Afrika.
Die gedig “(eg(g)olalie” (121) is `n filosofiese beskouing oor moraliteit, die handeling van gee en neem, en die rol van kuns om bruikbaar te wees - as iets “om die oë mee te vang”. In die titel word die letter “g” in hakies geplaas sodat beide “ego” en “eggo” raakgelees word. Die ruimte wat herinner aan Parys op “`n skoon blou Europese somermiddag” kan by implikasie herlei word na die plaaslike omstandighede, soos dit later duideliker word in “(Ek was een van die bevoorregtes)” (129), “(In die ruim vertrek)” (131) en “(Ons is hier”)” (133), waar alles verby is en die land leegvloei. Die genoemde “(eg(g)olalie)” ontgin ten slotte die woordeboekbetekenis van die term, naamlik die dwangmatige herhaling van woorde, en dien as metafoor vir ons huidige gesprekke. Terselfdertyd verwys “ego” na die oordrewe klem op die eiewaan van `n fiktiewe gespreksgenoot, met die implikasie dat ons woorde en diskoers selfgerig, hol en nutteloos geword het. Breytenbach se versreël “[o]m aan te hou beweeg en geraas te maak” eggo in dié verband die woorde van die robot-figuur in Jan Rabie se verhaal “Ek het jou gemaak” (Een-en-twintig, 1956).
Die bundeltitel die beginsel van stof word geïntegreer in die vers “(toe ek hom sien)” (124). Vir die spreker is die mens maar “`n sak verrottende vel van vlees en vet met binne-in/ die glibberige organe en beendere soos grafstingels”. Hy sien die swermende woorde wat die digter in `n doos versamel as die redding (die “Vervanger” of teenpool van God). Die teenspreker antwoord: “dis teen die beginsel van stof wat skepping is”. Hiermee word die opposisie tussen skepsel (uit stof geskape, en tradisioneel gesien as die “beginsel” of beginpunt van stoflikheid) en die mens se woorde, denke of gedigte (as alternatiewe stof) aan die orde gestel. My interpretasie is dat die digter die woord as die superieure beginsel sien, as `n skeppings- of ordende funksie, verhewe bo die stof waaruit die skepsel fisies gemaak is. Die woord, as uitvloeisel van die menslike bewussyn, kan die reddende beginsel wees; daarna moet ons boor, en dit moet ons baar. Die mens as die een wat vergaan en verrot, maak “woordstof” - waardeur hy sin maak en (tydelik) oorleef.
Die afdeling “veertien sonnette vir `n engel in Hengelo” het betrekking op `n uitstalling van Breytenbach se visuele kunswerke en poësie (”die gelakende onverwoorde verse as skerwe” in sonnet 1) wat in 2009 in dié Nederlandse stad gehou is. Teenoor die ekstreme (reël- en strofe-lose) vorm van die vryevers in die vorige afdeling, perk die digter hier sy woordkuns in binne die veertien reëls van `n sonnet, sommige kompleet met rymvorm en tradisionele strofebou - maar dan besonder beeldryk en selfs surreël. Dit word `n verruklike besinning oor die skryf van gedigte. Sonnet 5 eindig met: “So, presies/ so, las `n mens `n gedig van in- en uitdrukke niks”. Deur die verbeeldingsvryheid binne die relatief vormvaste raamwerk te verpak, demonstreer die digter sy veelsydigheid en vernuf. Deur die verbeelding systap hy “die daggang wat deurgaan vir werklikheid” (sonnet 10). Sonnet 14 bevat een van die blinkste momente van taalspel: “wanneer [...] die voël se skaduwee soos `n hond se gedagte// haas oor die pad - dan mondmaak mens woorde/ as `n net om die son mee te vang en mondmak te maak:”.
In Afdeling 6, “uitvaart”, kom die tema van die dood as “enkelreis” (157) en afskeid op `n treffende wyse aan bod; stil soos `n meditasie, met die wete dat die dood deel is van die lewe, maar nie sonder pyn nie. Die veronderstelde doodskleed van Christus in Turyn, “agter glas uitgestal soos die vlerke van `n vlermuis” dien as impuls vir die makabere dog gevoelige gedig “Piedmont” (159). Saam met die ander vier gedigte word dit in verband gebring met die dood van die digter se broer, en die dood in die algemeen.
Die slotafdeling dra die titel “laat-verse” en kan sinspeel op verse wat “laat” geskryf is; of “gelaat”, “nagelaat” of selfs “toegelaat” word. Een van die kwatryne (167), redelik atipies van Breytenbach se styl, lui soos volg:
anderdag was ek jonk en fier
die hand vol woorde en `n mooi gesig -
nou brand my vel soos dooie papier
en elke dag is `n gedig[.]
In die mens se “vertrekuur” (169) word sy bemoeienis met die dood dringender. Die drang om te onthou val saam met die afskeid, en word in “die voëltjieroepers” (170) se paradoksale slot opgesom: “alle vergeet is boordensvol onthousels”. Met “vir oopmaak wanneer dood my oë toegemaak het” (171) relativeer die spreker sy posisie as gelouerde skrywer wanneer hy sê “in my hele lang lewe het ek/ geen enkele gedagte of insig gehad/ wat die moeite werd is om te onthou nie”. Die kwatryn “oopskryf” waarmee die bundel afsluit, staan in kontras met die digter se woordryke verse. Uiteindelik is selfs die groot woordsmid naak en weerloos, en die patetiek van die situasie spreek uit sy versugting om deur woorde bedek te word:
hoe om jouself toe te maak
met woorde
as beskerming teen die woordlose
koue gekerm van die ewigheid[.]
Asem in, asem uit - dit is vir my die sleutel tot Breyten Breytenbach se poësie, en tot sy jongste bundel. In die polsslag en asemteue waarmee daar aan die inhoud beslag gegee word, lê die appèl van sy gedigte. [D]ie beginsel van stof is `n bundel van groot gevoeligheid en deernis met die self, die medemens, en die skeppende kunstenaar. Dit is ook `n bundel van terugskouing en besinning, en van versoening tussen opposisies. Met hierdie toevoeging tot Breytenbach se veelbekroonde oeuvre het die Afrikaanse poësie haar ysterkoei van die 21ste eeu ryker geword, nie soseer in terme van opspraakwekkende vernuwing nie, maar wel in terme van verryking en beleënheid, danksy `n nomade-digter wat in sy ryper jare voortgaan van die gedagte woord te maak, en van die woord, gedagte - in sy moedertaal.
Monday, March 21st, 2011
Visums by verstek – Joan Hambidge (2011. Human & Rousseau, R150.00)
Resensent: Heilna du Plooy (Potchefstroom, 18 Maart 2011)
 Visums by verstek
Reis is ‘n terugkerende motief in die literatuur. Trouens, dit word as een van die argetipiese temas van literatuur beskou. In die beskrywing of verslag van ‘n reis, selfs in ‘n blote verwysing na aspekte van ‘n reis of die beskrywing van ‘n moment of fase in ‘n reis, is daar egter altyd ook sprake van ‘n narratief.
Sulke stellings aan die begin van ‘n resensie oor ‘n digbundel vra om verduideliking. In ‘n boek met die titel The Rituals of Life skryf Langdon Elsbree (1982) dat vertel een van die rituele is waardeur mense sin maak van die werklikheid. ‘n Ritueel is in hierdie sin ‘n handeling deur middel waarvan mense in ‘n bepaalde gemeenskap of kultuur (of ook in ‘n kommunikatiewe situasie) aan die gebeure of situasies in hulle lewe betekenis toedig of probeer toedig, vir hulleself en vir ander. Mense vertel dus om te verstaan of te verklaar, hoewel daar in die postmoderne era hoogstens gepraat kan word van die strewe of uitreik na verstaanbaarheid en verklaring. Of daar ‘n geldige gevolgtrekking of slotsom bereik word deur die verhalende handeling, is nie ter sake nie (waarskynlik word daar in hierdie stadium van die geskiedenis geglo dit is ook nie moontlik nie). Dit gaan om die vertel self, om die daad die beskrywing, ordening en verwoording van gebeure op ‘n bepaalde manier. In hierdie daad, die vertelhandeling as sodanig, sit die waarde opgesluit, in welke formaat dit ook al aangebied word, in beeld, in poëtiese vorm, in ‘n gewone prosavertelling, in ‘n mondelinge vertelling, ‘n dans of ‘n stuk musiek.
Trouens, daar word tans aanvaar dat vertel so ‘n basiese menslike handeling is, dat alle menslike tekste op een of ander manier ‘n narratiewe aspek sal vertoon. In die inleiding tot die boek The Narratological Analysis of Lyric Poetry (Peter Hühn en Jörg Schönert, 2005:1) word gestel dat daar verhalende aspekte in liriese gedigte voorkom gewoon op grond daarvan dat vertelling ‘n antropologies universele semiotiese praktyk is. Onafhanklik van kultuur of historiese plasing, word vertelling gebruik om ervaring te struktureer ten einde sin daarvan te maak en om die sodanig gegenereerde betekenis te kommunikeer. Die kerneienskap van ‘n verhaal is dat dit in ‘n verhaal altyd gaan om verandering, sonder verandering is daar nie ‘n verhaal moontlik nie. ‘n Verhaal is dus altyd dinamies en ontwikkelend.
Reis word egter ook beskou as een van die argetipiese temas wat in klassieke werke van die wêreldliteratuur altyd weer terugkom. Elsbree beskryf 5 sulke temas: die vind en wyding van ‘n tuiste; konflik - gevegte, botsing en kompetisie; reis; lyding; die soeke na vervulling. Hoewel die argument oortuigend is, is die getal argetipiese temas wat hy gee aanvegbaar. Elsbree toon nogtans aan dat hierdie 5 temas herhaaldelik in die groot klassieke werke van die wêreldliteratuur voorkom en dat literatuur oor hierdie temas lesers altyd opnuut boei omdat dit gaan om belewenisse wat universeel as belangrik en insiggewend beleef word.
Nou wil ek nie Hambidge se bundel reisgedigte narratologies ontleed nie en ek wil ook nie die verse tot hulle narratiewe aspekte reduseer nie, maar dit is wel van groot belang om te begryp hoe sterk die reis as ‘n motief of tema is. Ook dat reis altyd met beweging en verandering te make het en as sodanig gaan oor die ervaring van en besinning oor toestande van beweging en verandering. Reis sluit stagnasie en stilstand uit, reis is dinamies. Om reise te beskryf, impliseer die representasie van verandering, van beweging. Die reisiger bevind sigself in ‘n onvaste staat, ‘n liminale situasie (soos in die inleiding ook vermeld word), in omstandighede van oorgange tussen plekke, met die noodwendige gepaardgaande veranderinge en wisselinge van gemoedstemminge van die reisiger vanweë verskillende en uiteenlopende reaksies op die ruimtes.
‘n Reis impliseer ook noodwendig die opeenvolging van gebeure en van reismomente. Al word daar in ‘n gedig net een moment uit die reis beskryf, is die voorafgaande reis tot op dié bepaalde plek en die daaropvolgende vertrek geïmpliseerd teenwoordig in die beskrywing of besinning.
Dit is ook in die lig van hierdie argumente noodwendig so dat iemand wat graag en dikwels reis en wat ook deurlopend oor die reis as sodanig en die inhoud en ervaringe van die reis bespiegel en daaroor skryf, ‘n bepaalde soort persoonlikheid is. In die kombinasie van hierdie dinge, die reis, die onderliggende vertelling, die verwoording van belewenisse van reis en besinning en die soekende beweeglike digterlike psige, lê die aantreklikheid van hierdie versameling gedigte.
In Visums by verstek versamel Hambidge reisgedigte uit haar oeuvre, maar sluit ook ‘n aantal verse in wat nuut is of nog nie in bundels verskyn het nie. Sy gee ook in die inleiding van die bundel belangrike sleutels tot die lees en verstaan en waardering van die spesifieke versameling.
Die gedigte weerspieël inderdaad die omvang van Hambidge se reise. Sy skryf na aanleiding van haar belewenis en persoonlike aanwesigheid in plekke en stede in die VSA (New York, San Francisco, Las Vegas, Dallas), Suid-Amerika (Santiago, Rio de Janeiro, Machu Picchu), Europa (Amsterdam, Parys, Rome, Stockholm, Barcelona), die Ooste (Hongkong, Bangkok, Tokio) en eilande soos Zanzibar en Kuba, om slegs die belangrikstes te noem. Maar die gedigte handel oor sowel die plek en aspekte van die plek as oor die belewenis daarvan, Meer nog, die digter interpreteer die plek en haar belewenis van die plek. Soms word die gedig oor ‘n plek as sodanig metafoor vir iets anders en soms word die plek die aanleiding tot ‘n reeks assosiasies waardeur sy die plek vir haarself merk, of waarmee sy belewenis van die plek in haar geheue merk.
New York is die stad wat in die eerste gedig beskryf word. Die stad word opgeroep deur verwysings na sy/haar vele gesigte, Chinatown, Greenwich Village, die Statue of Liberty, Central Park en die Empire State-gebou. Ook deur verwysings na die geskiedenis van die stad, Charles Lindbergh se historiese transatlantiese vlug en die depressie waarvoor Wall Street simbool geword het. Maar die gedig begin met ‘n verwysing na die dwingende aanwesigheid van die afwesigheid van die “imposante, tuimelende Twee Torings”. Die val van die toringgeboue het die sentrale gebeurtenis in die geskiedenis van die stad geword en sal dit waarskynlik lank bly, soos gesuggereer word deur die vooropgestelde posisie van die verwysings na die torings in die gedig. Die aanval op die torings word simbool van ‘n stad wat as ‘t ware sy veelbewoë geskiedenis oorleef en transendeer. Hierdie verandering bevestig die voortbestaan van ander behoue aspekte en plekke in die stad. En van dié stad wil die digter ereburger wees.
Die gedig beskryf dus nie net die stad nie, maar gaan eerder oor die digter se siening van die stad, ‘n siening wat ingegee word deur haar konkrete belewenis van die stad. Saam met die digter reis die leser deur die stad, sien die opeenvolgend beskrewe plekke en merkers tot by die digter se belydenis van haar bewondering en liefde van die stad. Uiteindelik weet die leser ook, die begin en die einde van die verhaal van New York is gemerk deur die geweld van die vallende torings. Dit is dus belangrik dat die stad nie in ‘n statiese toestand beskryf word nie, maar juis as ‘n veranderende, groeiende en ontwikkelende simbool en die reisiger reis ook deur die stad en beskryf nie net een blik op die stad nie. So word die dinamiese en veranderende aard van die digter se belewenis direk met die eerste gedig aan die orde gestel.
Die New York-gesig sluit aan by vier ander gedigte (p. 88-92) wat spesifiek die tragiek van gebeure by Ground Zero as tema het. In al hierdie gedigte word dit ook duidelik dat vir die digter die reisbelewenis en die skryfhandeling onlosmaak verbonde en vervleg is, eintlik ineengegroei is en saam ontwikkel. In die aanvangsgedig plaas die digter die deur op dubbelslot en gee haar oor aan herinnering, maar in die gedig “Memorial Day: New York 25.5.2000″ kan die wete van die skrikwekkende gebeurtenis nog nie ‘n gedig word nie: ” …in die Hotel Prosody grendel die digter/ haar onbewuste teen ‘n gedig/ wat broei uit bloedsweet” (p.88).
Die ineengestrengelde weergawe van feit en belewenis kan in bykans elke gedig gevind word. In die gedig “Via dolorosa” (p. 52) stap die digter-reisiger die stasies van die Jesus van Nazareth se lydensweg af saam met ‘n groep ander toeriste in Jerusalem. Die gedig word ‘n uitbeelding van die voorkoms en ingesteldheid van kontemporêre toeriste: een met ‘n T-hemp waarop “I got stoned in Jerusalem” staan, ander wat dink oor iets om te drink, iemand wat prakties toegerus is vir ‘n dag se uitstappie, ander met selfone en sigarette. Die gedig vertel egter hoe die digter self, “vér van huis en haard” wens sy kon die plek meer ongestoord beleef, die”steurnisse/ uitwis soos ‘n raam/ op my digitaal”. Die gedig beskryf dus ‘n plek en omstandighede, maar eindig in belewenis.
Op ‘n soortgelyke wyse is daar ‘n gedig wat gaan oor eet in Madrid (p.37), wat eindig met “Weet net ek verteer/ nog broksgewys aan jou”. Die gegewens oor die stad, inderdaad elemente kenmerkend van die stad se eetkultuur en ook kenmerkende geboue, groei ineen met herinneringe en emosies. Die reisiger is nie net op weg in die stad nie, maar ook op weg in terme van verbintenisse: die herinnering suggereer ‘n verbygegane verhouding sodat die reis afgesien van ‘n soeke na nuwe horisonne en ervaringe is, ook ‘n beweging wég van die verlede en pynlike aspekte van die verlede is. Want reis impliseer onvermydelik altyd afskeid. Elke nuwe reis voorveronderstel ‘n voorafgaande afskeid en die reis kan ook gesien word as ‘n reeks afskeide.
Die lug, sand, oseaan:
‘n tafereel oor aankoms
en hierby ingesluit: vertrek. (”Zanzibar. Spore op die sand”, p. 43)
Die reis word metafoor van verskillende sake in verskillende gedigte. Eintlik is elke reis en (tydelike) bestemming ‘n uitgebreide metafoor vir iets anders. Hoewel daar soveel detail in die gedigte gegee word, is dit dikwels die geval dat die reis en plek en belewenis daarvan ‘n middel tot ‘n doel word (vgl. “Halifax”, p. 39, “Afskeid”, p. 70, “Jouissance”, p. 74). Aan die ander kant word die metaforiese moontlikhede van beelde uit reise ontgin in ander verbande: “Nou maak ek ‘n linksomkeer in hierdie gedig./ ‘n Vliegtuig bars deur my World Trade-sekerhede,/ die brokstukke van dertienreëls tuimelende Lego-blokkies” (”Dromende denke”, p. 56).
Hambidge skryf ‘n oop toeganklike soort vers. Of dit altyd werklik so oop en toeganklik is, is egter wel ‘n vraag, want daar is soveel assosiasies en verwysings in die gedigte opgeneem, daar is soveel kennis van kultuur en geskiedenis in elke gedig geïntegreer dat daar waarskynlik veel dieper op die, selfs onbewuste, inhoude van die gedigte ingegaan kan word. Soms voel ‘n mens dat ‘n gedig strakker kon wees, of digter geweef, dat die opnoem van detail byna te maklik kom en die oorgange miskien soms ietwat voorspelbaar is as mens die oeuvre goed ken. Nogtans is die volgehoue vloei van die gedigte aantreklik en word die ritmiese gang van taal oor die grense van sin en versreël heen trefseker hanteer, van die vroeë verse af tot by die heel resentes.
Daarby kom die interessante werking van die verhouding tussen los elemente en ‘n saambindende onderliggende verhaal. Die opnoemtegniek laat die gedig skynbaar verbrokkel (tipies postmodernisties) maar die onderliggende reismotief, in enkel gedigte en die bundel (oeuvre?) as geheel, werk soos ‘n verhaal en bewerkstellig weer koherensie.
Die reisgedigte is dan ook inderdaad op ‘n bepaalde manier tiperend en beskrywend van Hambidge se oeuvre: die voortbeweeg van plek tot plek, van verbintenis tot verbintenis. Die onderliggende gedagte is altyd, die reis gaan voort, plekke en mense kom en gaan. Die verandering en voortgang vorm ‘n verhaal van vervlietende reiservarings en van die skryf- en leeservaring van beperkte duur van die gedig, maar dit is ook die verhaal van ‘n lewe. Daar is momentele oomblikke van stilstand en nadenke, maar die beweging gaan onvermydelik weer voort. Verandering, selfs rusteloosheid, dryf die beweging en die reis. Want uiteindelik is die reis ‘n reis in die self in, en daardie reis is sonder einde. In die gedig “El Condor Pasa” (p.75) word verwys na die kosmiese plan wat argetipies in die rotse afgedruk is in die heilige Inka-stad, Machu Picchu, terwyl die digter “reis in die self: ‘n smagting/ na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid”. Hierdie stilte word nie bereik nie en dan word daar weer verder gereis.
In die slotgedig in die bundel word nog ‘n sleutel, of dalk dié sleutel, tot die reis as motief gegee, vir daardie reis wat fisies en konkreet dwingend noodsaaklik is om die grense van die gees uit te stoot, maar wat psigies en metafories dui op die ongrypbaarheid van die dinamiek van die gees. Ook van die onsegbare. In hierdie gedig word die veranderende reisiger beskryf as iemand wat nou “‘n Ander Reis” onderneem, ‘n reis wat selfs die geliefde woord van die digkuns oorstyg:
In die winter het die waterval opgedroog,
dog die berge staan in hulle groenheid groener,
die lug in blouheid blouer, selfs hoër, helderder.
So laat ons nog ‘n mislukte sonnet skryf,
nog ‘n plek herbesoek en die hereweet,
dankbaar wees vir dit wat buite benoeming lê.
Die mens is ‘n reisiger, deur die wêreld, deur sy eie lewe en ook in sy eie psige. ‘n Digter soos Hambidge ondersoek en bedink en deurdink egter al hierdie soorte reise eksplisiet. Haar poging om wat sy sien en beleef op reise te verstaan en te deurgrond, is vervleg met die pogings om die elemente en aspekte van haar bestaan te deurgrond. Hierdie verstaansprosesse en deurgrondingspogings vorm afsonderlik en saam verhale (een groot verhaal met baie verhaallyne?) want die vertel van verhale is die verstaansritueel van die mens.
@ Heilna du Plooy
Tuesday, March 8th, 2011
Toe dit nog vroeg was. Deur Mari Grobler. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04942-5. Prys: R130. 71 bladsye. Sagteband.
Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
 toe dit nog vroeg was
Mari Grobler, veelsydige en bekroonde skrywer uit die Oos-Kaap, se natuurliefde was die inspirasie vir die haikoe-agtige verse in Wat sigbaar is in amber. Dit was die bundel waarmee sy in 1990 gedebuteer het.
“Volkse” elemente, soos J.C. Kannemeyer dit stel in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004, was toe al sigbaar in haar verskuns. Dít sou lei tot gedigte met die Khoi- en San-kulture en leefwyses as agtergrond in Eggo’s in bewolkte water (2004), haar tweede bundel.
Op die beskikbare gegewens oor die Khoi- en San-tradisies word voortgedig in Toe dit nog vroeg was, maar dié keer betrek Grobler ook die karige kennis beskikbaar oor die oer-strandlopermense wat die Khoi en San voorafgegaan het as bewoners van Suidelike Afrika. Die gedigte in die openingsafdeling, “Voortyd”, is spesifiek op laasgenoemde gebaseer.
Grobler verduidelik soos volg in ‘n onderhoud wat elders op die Versindaba-webwerf gepubliseer is: “Daar is min werklike kennis oor die oermens, maar genoeg sodat ‘n mens jou verbeelding saam met die feite van opgrawings kan gebruik om hulle tot versmense te verwoord.” Sy erken dat die onderneming “‘n bietjie waagsaam” was, al was dit onderskraag deur relatiewe wetenskaplike ingeligtheid. Die strewe om die prehistorie so “sonder geskiedkundige gebeure” in momentopnames te probeer vasvang, laat iets van die haikoe-agtige aard van haar vroeër verskuns voortleef.
Verbeelding en verhaalvorming, al is laasgenoemde rudimentêr, was derhalwe haas onvermydelike hulpmiddele in haar poging. Vergelyk die suggesties in die volgende gedig:
Oer
Grotvloere hou vas
aan klip, been, skulp en as.
Vlermuise swiep soos onthou
uit rotsoorhange.
Dis vroeg
en die aarde is groot
met genoeg kos en tyd
om stories op die wind uit te laat loop.
Verromantisering (ver-eksotisering) is alte dikwels die gevolg van verbeeldingskryfwerk oor die oudste inwoners van Suider-Afrika. Iets van hierdie gevaar sien ‘n mens in die feit dat liefdesverhoudings ‘n belangrike rol in al vier die bundelafdelings van Toe dit nog vroeg was speel - soos ook die geval was in Eggo’s in bewolkte water. Waarby ‘n mens kwalik anders kan as om te begin dink aan die kritiek wat uit sekere postkolonialistiese teorie-oorde teen die (Europees-Westerse) neiging uitgespreek is om die amoreuse liefde as ‘n universele literêre tema te beskou.
Selfs in “Beweging”, die slotafdeling van Toe dit nog vroeg was en waarin die sjamaanfiguur in die kollig staan, ontbreek dit nie aan ‘n liefdeskinkel nie. As die “reënman” (”Kxau”, die sjamanistiese reënroeper) te sterwe kom, verneem ons eensklaps van die “alleen-vrou” wat hom nou moet mis:
die !gixa soek waar meisies voëls naroep
kiewiete saamloop
skadu’s onder reënswaar bome spook
sy luister met oë asof sy uit haar lyf is
eien niemand nie
nes ‘n grysbok wat lank sonder water kan bly
moet sy gewend word sonder hom
[...]
Sulke bedenkings oor die hoof gesien, is daar veel aan te prys omtrent die grootliks oortuigende, meermaals bekoorlike wyse waarop Grobler die oer-leefwêreld uitbeeld en stilisties beslag gee. Één voorbeeld:
dors
die nag is twee mane vol
dryf luglangs in die poel
waar ek maanwater drink
sterre wat eers meisies was
weerkaats blink in die reëngat
breek as ek bakhand skep[.]
Grobler vertel in die genoemde onderhoud sy moes die hele tyd streef na eenvoud en “tydlose” woorde; geen “ontydige klanke” (waarskynlik bedoelende: anachronismes) moes in die verse opklink nie.
Die benutting van - meestal ráák en suiwer - woordkeuses en natuurbeelde val dwarsdeur die bundel op; daarby die korter, dikwels enkelvoudige sinskonstruksies, soms mét kompakterende, suggestiewekkende weglatings van veronderstelde woorde. ‘n Sfeer van die magiese te midde van konkrete eenvoud word oortuigend geëvokeer.
Ek het wel ietwat langtand gekou aan ‘n uitdrukking soos “berese seeboon” in hierdie verband. En gedink die digter moes twee keer gedink het voor sy nie-inheemse fauna soos “karp” en “tier” in hierdie Suider-Afrikaanse voorwêreld laat opduik het.
Hoewel Grobler nie noodwendig berge versit in die Afrikaanse poësielandskap nie, verteenwoordig haar drie bundels, veral die laaste twee, ‘n gewaardeerde bydrae tot ‘n nou al aansienlike Afrikaanse digterlike stroom van werke oor die Khoi- en San-ervaring. In hierdie verband kan ‘n mens haar werk in dieselfde asem noem as dié van Eugène Marais, Abraham Fouché, Donald W. Riekert, Piet van Rooyen en Antjie Krog.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, February 28th, 2011
Onder die appelboom. ‘n Keur uit die gedigte van Rutger Kopland. Vertaal en ingelei deur Daniel Hugo. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-404-8. Prys: R140. 103 bladsye. Sagteband.
Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Die lees van Onder die appelboom het weer die spyt by my laat opwel oor ‘n mens eintlik so min vertaalde poësie in Afrikaans gepubliseer sien.
 Omslag
In die afgelope dekade was daar sporadies enkele bundels en bloemlesings met sulke vertalings op die rakke te kry. Dit, tesame met André P. Brink se insluiting van ‘n klompie vertaalwerk in die 2000- en 2008-uitgawes van Groot verseboek, wou lyk na ‘n belofteryke prikkeling in dié rigting - ‘n verblydende ontwikkeling parallel aan die groei in gepubliseerde oorspronklike Afrikaanse digwerk sedert die millenniumwending.
Maar, helaas: Die vertaalde keur uit die Vlaming Herman de Coninck se werk, byeengebring in Die lenige liefde uit 2009, was die laaste roering in dié harmansdrupstroompie in ons digkunslandskap.
Dit kan maar net wees omdat die meeste Afrikaanse poësielesers hul sente twee-, driemaal omdraai, en dan liefs anderpad kyk, as dit by vertaalwerk kom.
Met Onder die appelboom wys Daniel Hugo en Protea Boekhuis wéér - hulle was ook die vertaler-en-uitgewer-kombinasie van Die lenige liefde - wat sulke lesers ontbeer.
In die kort inleiding tot die keur verduidelik Hugo dat Kopland (skrywersnaam van Rutger H. van den Hoofdakker) se digstyl gekenmerk word deur “die eenvoudigste taalgebruik denkbaar”. Hieraan voeg Kopland dinamiese nuanserings toe deur, onder meer, “ongewone enjambemente wat versreëls dikwels op lidwoorde, voegwoorde en voornaamwoorde laat eindig”. Sodoende druk hy sy “mistieke ervaring van die werklikheid” uit, verwoord hy “[huiwerend maar suiwer] die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes”. Hy skryf ook graag “digterlike besinnings oor die mens se belewenis van die tyd”.
Dit alles geskied met skeute milde humor en ironie, wat die sentiment help beheers.
Want, blykens die keur in Onder die appelboom, is Kopland hoofsaaklik ‘n digter van die (onverwagte, selfs onverdiende) geluk, van die onvermydelikheid van die toevallige, vervlugtigende skoonheid - en wat derhalwe kwalik deur die kuns vasgegryp kan word. Die poskaart-motief is nie verniet so ‘n opvallende een in dié gedigte nie. Vergelyk die slotdeel van “Voorskrifte vir die skryf van ‘n poskaart en ‘n voorbeeld”:
IV
Skryf dus byvoorbeeld: Hier, Augustus, Geliefdes, hier
is ‘n poskaart, sien julle daardie pleintjie, die hond
wat in die son slaap, die ou man in die skadu,
hoe toevallig is dit, hierdie pleintjie, die son en die
skadu, die hond en die man, ek lê en slaap in
myself, ek sit al sittend in myself, ek is alles,
ek weet ‘n mens lees dit nogal dikwels, jy kan geluk
nie ontvlug nie, dit haal jou in, waar jy ook al gaan,
so is dit, maar ekself weet van niks nie, julle X.
‘n Innemende, geheimnisvolle eenvoud - dus net ‘n oënskynlike eenvoud - lok ‘n mens al dieper die bundel in. En die goedige, ontwapende spotdrywery met ‘diepsinnigheid’ by mense, ook by digters, geniet ‘n mens in hierdie konteks terdeë (”Oneindig baie probleme”; “Diep gesprekke”).
Vandaar dat die uitgewer in die bekendstellingsbrief die verwagting uitspreek dat Onder die appelboom “baie gewild onder Afrikaanse lesers” gaan wees.
Ek hoop van harte so. Dié verse - deur ‘n man wat al veertig jaar lank ‘n “stille krag” in die Nederlandse poësie is (Hugo in die inleiding) - is deurgaans bekoorlik; verdíén om druk gelees te word.
Soos in vorige publikasies van sy versvertalings uit Nederlands laat Hugo telkens die oorspronklike gedigte langs die vertaalde weergawes verskyn. Die vergelyking tussen die Nederlandse en Afrikaanse weergawes word hierdeur ‘n verdere boeiende speurtog vir die geïnteresseerde leser.
‘n Mens beleef via die omsetting iets van die sekure sorg van die digter om nét die regte, klinkklare segging te vind vir die misterie-in-die-gewone wat hy wou evokeer. Jy bemerk ‘n leesteken of ‘n enjambement, ‘n woordkeuse of ‘n sinswending wat deur die vertaler ‘n aks verskuif word tussen bron- en doelteks, en jy skuif dit in jou geestesoog terug en ontdek: Dis dieselfde ongrypbaarheid waaroor dit gaan - en dis eintlik om ‘t ewe, eintlik ewe lieflik, hoe die digter en die vertaler dit wil sê. Die Afrikaans en die Nederlands word ‘n bevallige, aan mekaar diep verbonde tweeling.
Let maar op hoe, in die volgende reëls uit die titelgedig, die in Afrikaans al ouderwets klinkende “langes” (vir “langs”) op funksionele wyse iets van die ouer liefdespaar se ervaringswêreld oproep, en sodoende iets toevoeg aan die oorspronklike Nederlands - terwyl die dubbelsinnige moontlikhede van die Nederlandse “zacht” nie in die Afrikaanse omsetting sit nie. Oor-en-weer gelees is al daardie konnotasies egter teenwoordig.
| gelukkig kwam er iemand naast mijzitten, om precies te zijn jijwas het die naast mij kwam
onder die appelboom, zeldzaam
zacht en dichtbij
voor onze leeftijd. |
gelukkig kom iemand langs mysit, om presies te wees jyis dit hier langes my
onder die appelboom, buitengewoon
mild en naby
vir ons leeftyd. |
“Mild en naby” is hoe ook die twee susterstale by mekaar sit, hier en in die hele bundel.
Monday, February 14th, 2011
Ligloop. Deur Tom Gouws. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5239-6. Prys: R145. 91 bladsye. Sagteband.
 Ligloop
Met hierdie vierde bundel van hom in 20 jaar versterk Tom Gouws sy aansien as Afrikaanse digter van die Christelike, selfs Christelik-mistieke lewens- en werklikheidservaring. Dié belewing is sterk intellektueel getint, en literêr bewus - en herinner vandaar in bepaalde opsigte, soos al deur heelparty kritici uitgewys is, aan dié van ‘n T.T. Cloete in Afrikaans.
Enersyds word byvoorbeeld die lewenseenvoud van ‘n figuur soos Moeder Theresa gehuldig, in ‘n gedig met ‘n ondertitel wat die mistieke strewes van die 13de-eeuse Vlaamse digteres Hadewijch betrek. (Deurgaans in die bundel ignoreer Gouws die konvensies van hooflettergebruik, behalwe wanneer aangehaal word, of wanneer na God en sý Naam verwys word.)
moeder theresa gee boedel oor
Der minnen ic doch mi selven al liet
- Hadewijch
moeder theresa se boedel is eenvoudig:
twee dunwit sari’s van ongebleikte linne
en ‘n moeë bybel. maar onsigbaar binne
die gerinneweerde tent skuil die minne
verterend onbenullig godgevallig[.]
Aan die ander kant kom ‘n hele paar gedigte van ‘n nogals verstandelik beredenerende aard voor, selfs voorsien van voetnotas en/of ander byskrifvorme. Vergelyk:
2. oënskoulik onbenullige detail
Lion: A primitive or bestial side of the Ego personality: its Shadow
- Tom Chetwynd: A dictionary of symbols
vir eeue al sit onze lieven [sic] meisje met haar rooi hoed
op ‘n deftige stoel met leeukoppe as puntversiering.
vir eeue al bedink die kritici die ongewone gloed
wat uit elke leeukop flonker, hul ongewone ligging.*
die oënskoulik onbenullige detail laat hul nie vermoed
hoe alles in die klein skildery ‘n sleutel tot verklaring
bied van dit wat geheimsinnig sluimer in die binnebloed.
die oorgesiene onbenullige is die genetiese tatoeëring
wat die ongesiene skadudieptes van alle tekste voed.
*”The most remarkable adjustments Vermeer made in this painting occurs with the lion-head finials … The finials … face the viewer, whereas if they belonged to the girl’s chair, they should face her. While some scholars have argued that the position of finials creates reason to doubt the attribution to the painting, these modifications of reality are consistent with those found in Vermeer’s other paintings.” (A K. Wheelock & B. Broos: Johannes Vermeer, p. 162)
(Na my wete moet “onze lieven meisje” eintlik, vanweë die onsydige verkleiningsvorm, as “ons lieve meisje” geskryf word.)
Die intellektuele beheersing in die weergee van dikwels wesenlik ekstatiese belewenisse word al vergestalt in die sametrekking van ‘n verskeidenheid betekenisassosiasies in die - nou al kenmerkende - eenwoord-titelkeuse van Gouws. Die Bybels-simboliese verbinding tussen lig en God word in die eerste plek betrek. Dit gaan oor die geloofsweg wat op die spoor van Hom, die Lig van hierdie wêreld, bewandel wil/moet word; maar ook oor die versigtige, liefs skaars gehegte ”ligloop” deur die ondermaanse, wat net maar ‘n “tydelike verblyf” is, ‘n verganklike een, soos veral in die tweede afdeling van die bundel uitgebeeld word. “[T]entatief” is dan ook die titel van dié afdeling - met die woorddeel “tent” daarin wat, eweneens in Bybelse terme, as simboliserende motief van die kortstondigheid van die aardse bestaan uitgebou word.
Lig, ligvoets, ligloop, ligspoor, ensovoorts is variasies van die titelmotief wat dwarsdeur die bundel voorkom en, soos gesê, simboliserend funksioneer. Vanweë die allesoorheersende en onverhulde Christelik-religieuse lewens- en wêreldbeskouing daarin, maak die bundel reeds ‘n hegte eenheidsindruk; die motiewedrade wat dwarsdeur loop, ook van die motiewe wat hierna ter sprake kom, versterk dié indruk.
Ewentwil, dié simboliserende werking het tot gevolg dat ‘ligloop’-uitdrukkings wat andersins, op realistiese vlak, gesog kon aandoen, tog in die betekenissamehang van enkelgedigte en van die bundelgeheel geloofwaardig word. Vergelyk die volgende voorbeeld uit die afdeling “kroniek van elia in afrika”, waar Afrikaans ‘n profeterol aan hom toegedig kry:
elia leer ligloop in afrika
die local elia vleg khoi en germaans
tot die knarsvars tongval van ‘n nuwe taal.
profeties is dié saad oor diep waters spartaans
vervoer in biesiewiegies, kontinentaal
verplaas, geplant in die wieging van ou ossewaens.
in die land van kus het die fetus diep asemgehaal
en uit die donker baarmoer ligvoets gedans.
soos die gees van elia vloei, ontvou die verhaal
van God se skeppingsdroom vir afrikaans.
‘n Volgende motiewekompleks wat in vergelykbare mate simboliserend funksioneer, is die een rondom die weef-gegewe, wat veral in afdelings I (”delftse doek”) en II (”tentatief”) prominent is. Dit sluit variasies soos doek, tekstiel, kantkloswerk en tent in, en is óók meerduidig soos die bundeltitelmotief, en meermale daarmee vervleg - veral opvallend só in afdeling IV, “jerusalemgangers revisted”. Dié motief wys heen na byvoorbeeld die God-openbarende skeppingsamehang én na hoe iets soortgelyks in kunswerke nagestreef word. Luidens die alleenstaande openingsgedig van die bundel:
he wishes for the cloths of heaven
na yeats
sou dit my gegee kon wees om iets te weef
sou ek ‘n lap van lig uit brokaat en skemergrou
‘n droomfilterdoek in skakerings silwerwit weef
syspieëlings bespat met mistieke middernagblou
ek sou my lap van lig kom neerlê voor jou voete
maar ek het weinig meer as woorde om te knoop
die hemele lê ‘n verbeelde doek voor jou voete -
trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop[.]
“[T]ekstiel met siel verweef” klink ‘n paar keer soos ‘n refrein in dié bundel met sy sterk bewustheid van (profeties-) digterlike geroepenheid op - maar ook die woord “onvertaalbaar”, om die onvolkome haalbaarheid van sodanige strewe deur die mens te beklemtoon. Kwalik meer as “vae verfvermoedens en versfrakture” - dít is waartoe die kunstenaar blykens die gedig “1. blik op delft” in staat is.
En hier en daar in die bundel het dit my tóg voorgekom of die simboliekdrade, die beeldeenheid in bepaalde gedigte, ‘n bietjie rafelrig is. Vergelyk:
ek voel U soos ‘n leeu knaag aan my beendere
terwyl ek soetjies rym aan die bitter van my siel.
uit niks neurie ek sag oorwinningsliedere
en sien hoe U my driedraads indans tot tekstiel.
(”lied van hiskia”)
Of:
my woorde hang ‘n harige sak oor die son wat bloei,
‘n diep skadu van vrese en vermoedens, ‘n eklips
oor eden. maar almal min my as ‘n vlam wat skroei
as ek paradyse plant in die vrugbare turf van apokalips.
(”ek is mietjie gouws, profetes”)
Bygesê: ‘n Volgende opvallende deurlopendheid in die bundel is die benutting van (skyn-)paradokse, meermaal in die vorm van opsetlike teenstellings en (soms gepaardgaande) betekenismeerduidighede. Boonop val sulke sterk stylfigure soms saam met bykans aforisties geformuleerde insigte. Enkele voorbeelde ter illustrasie: “niks is groter as die klein aardbol van die brein / waaraan God se eindelose uitspansel ontvou” (p. 20); “die realiteit word gespeel op verbeelde fluite” (p. 23); “hoe swaar is die gewig van lig” (p. 34); “God se genade bly onvoltooi / totdat jy die allerlaaste olie uitgooi” (p. 68).
Die goddelike en wonderbaarlike word aldus, op oënskynlik teenstrydige trant, geopenbaar in die menslike en alledaagse.
Nog opmerkings oor die hegte eenheid van die bundelopset: Die reekskarakter van heelparty van die gedigte - veral dié in afdelings I (met veral die lewe en werk van Jan Vermeer as intertekste), III (oor vergestaltings van die “elia in afrika”-figuur) en IV (oor die historiese “Jerusalemgangers”, die trekkers na “die herwonne Paradys” in Afrika, waaraan ook Antjie Krog voorheen ‘n reeks gedigte gewy het) - is ‘n verdere bindingsmanifestasie. So ook die ideolektiese kenmerke van die bundel, wat al tipies van Gouws se digkuns geword het.
Wat laasgenoemde betref: Die digter maak sterk staat op klankspel (waaronder verwikkelde eindrympatrone uitstaan), op woordspel (waaronder dubbelsinnigheid wat betref letterlike en figuurlike betekenisse), op die kunstige benutting van vaster vorme en op intertekstuele verwysings, toespelings en siterings om sy poëtiese effekte te bewerkstellig.
Streng vormgewing op veral die klank- en versifikasievlakke is dus as ‘t ware ‘oppervlak’-manifestasies van die streng binding wat ook op die betekenissamehangsvlakke, soos hierbo bespreek, neerslag vind.
Altesame maak dit myns insiens duidelik dat die intellektuele, visioenêre element oorheers in Gouws se digkuns, eerder as ‘n sintuiglike of emosionele ingesteldheid. Gevolglik maak ‘n gedig soos die volgende, waarin op kennelik behaaglik bedoelde wyse talle skakerings van blou opgenoem word, nie ‘n konkreet voorstellende of sintuiglik evokatiewe indruk nie, maar werk die opnoeming eerder abstraherend en verintellektualiserend.
die dag is blou soos delft
n.a.v. vermeer se studie in blou: “Vrou met ‘n waterbeker”
“blue is not a colour; it is depth”
ek probeer my verbeelding uitpak in ‘n kleurpalet,
maar als reik uit na dimensies in skakerings blou:
baftablou akwamarynblou dempblou persblou
rooiblou staalblou opaalblou saksiesblou swartblou
fletsblou bontblou groenblou skimmelblou bergblou
marineblou berlynsblou bleekblou saffierblou
turkooisblou pruisiesblou blouselblou kobaltblou
poublou hiasintblou asuurblou waterblou delftblou.
hemelsblou is die letters van my ganse kleurlose alfabet.
Sommige verse (soos “elia en die baälprofete”, “elia en die voortrekkermonument”, “elia en die ou boereplaas” en “visioen van thomas op patmos”) se polemiserende en satiriese trekke sluit myns insiens hierby aan; dit is eweneens tekenend van die digter se sterk beskoulike standpuntinnames.
Die kunstig-strenge vormgewing, waarvan die verskeidenheid eindrympatrone ‘n alte opvallende duiding is, en die verweefdheid van die bundelgeheel, roep assosiatiewe waardes soos samehang, vastigheid, selfs sekerheid en noodwendigheid op. Dis goed te versoen met, eintlik ‘n verstegniese vergestalting van, die bepaalde lewens- en werklikheidsbeskouing wat uit die bundel spreek. Die digter - net soos Jan Vermeer as skilder, én die Woordtranskribeerders en kantklossers in die voorgeslagte van die spreker in die gedig “oorsprong” - is “een van God se kundige kurators // van voorsienigheid” (”skildery van briefskrywende vrou en kamenier”).
Daar steek ‘n ambagtelike “verrukking” in die belewing van “hoe die gedig kant en klaar tril”, van hoe “tekstiel met siel / ineenknoop” (”1. die kantklosser”, ‘n gedig met die onderskrif: “‘n kanto as selfportret”). Laasgenoemde, twaalfreëlige gedig, met sy presies-hoekige tipografie en traprymskema, is een van die opvallendste gedigte in die bundel in hierdie verband. Trouens, sestien bladsye later word dit herhaal, dié keer met byvoeging van ‘n apartstaande, paarrymende eindkoeplet om die gedig ‘n Engelse sonnet te maak wat tipografies (in die lettertipe en -grootte op die bundelbladspieël) ‘n presiese, “verbeelde vierkant” vorm - soos die (nuwe) slotwoorde dit juis wil hê.
die kantklosser II
vir johanni
tot ek daar myself raakloop in ‘n onverwagse spieël:
vooroorgebuig intens toegespits op inslag en skering
van my vingers, wat ritmies lig woorde klos tot kant
die gare word haspelend melodies naatloos gekantel
tot tapytjies teks. strooi uit ‘n verbeelde spinnewiel
word ligtende nuttelose goudspinsels vol huiwering
ononthoubare herinnering van die ou streek brabant
intiem ingeweef tot fibreuse grein. als word bladstil
totdat die garings begin ligloop, tot tekstiel met siel
ineengeknoop. verf loop soos lewe uit die stuwings
van ‘n kussing, word ‘n lewende keper in my hand,
voel hoe met verrukking die gedig kant en klaar tril
totdat hierdie koeplet eiesinnig uitspruit uit my hand
sodat my sonnet kan gaan lê in ‘n verbeelde vierkant.
Besonder vernuftig. Sódanig (kon ek nie verhelp om plek-plek te vrees nie) dat die noodwendigheid daarvan vir die bepaalde digterlike kommunikasie-effekte selfs verbygestreef word. “[E]iesinnig” is miskien ‘n gepaste woord om die rol van die vakman hier te beskryf. Die afwerking van die boodskapvorm dreig om meer aandag te trek as die ‘boodskap’ self. Die ‘kunsmatigheid’ van die kunswerk staan voorop, sodat ook die egtheidsindruk van die beskoulike fasette van die bundel daaronder begin ly.
‘n Ballade soos “elia en die baälprofete”, met stafrym in die driereëlige strofes, ontaard na my gevoel in rymelary.
Of alle lesers dié bedenkinge sal hê, daarvan is ek nie seker nie. En selfs al sou my vrese gegrond wees, die gewig daarvan is nie genoeg om die skaal teen die voortreflikhede van Ligloop te swaai nie. Daar is baie in die bundel wat boei en beïndruk, wat tot nadenke en nalees noop, wat poëtiese genoeë doen.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, January 31st, 2011
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Saamgestel deur Fanie Olivier. Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria. ISBN 978-0-7981-5182-5. Prys: R195,00. 253 bladsye. Sagteband.
By terugskoue maak die dekade-en-’n-half tussen ongeveer 1985 en om-en-by 2000 die indruk van ‘n bestekopmakingstyd in die Afrikaanse poësie.
 Omslag
Daar was byvoorbeeld ‘n hoogbloei in die publikasie van bloemlesings, wat uitgemond het in die samestelling van Groot verseboek 2000. ‘n Mooi klompie tematiese versversamelings - oor religie, kos en drank, musiek, kind-wees, ekologiese bewustheid, die erotiek, die vroulike perspektief, ensovoorts - het ook in hierdie era die lig gesien. Die eerste (1987) en derde (2001) uitgawes van Fanie Olivier se keur uit die Afrikaanse liefdespoësie baken dit as ‘t ware van begin tot einde af.
Toe, rondom die eeuwending, het die uitgee van sulke bloemlesings, soos amper ook van solobundels, tot stilstand geknars. Sedertdien was groei en groeistimulasie egter ‘n belangrike kenmerk van die Afrikaanse poësieveld. Die profilering van (dikwels nuwe) digterskappe in die Nuwe stemme- en Versindaba-reekse is ‘n opvallende uiting hiervan.
In 2008 het ‘n sterk uitgebreide uitgawe van Groot verseboek verskyn, en nou, laat verlede jaar, die vierde uitgawe van Olivier se liefdesvers-keuse, met 85 gedigte meer as voorheen. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte is die enigste van daardie tematiese versamelings van weleer wat bly voortleef het, maar verteenwoordig saam met Groot verseboek 2008 tog iets van ‘n heropname van ‘voorraad’.
En die stand van sake is ‘n riem onder die hart. Sonder om onnodig ydel te wees: Die liefde bloei in Afrikaans! Dis plein pakkend en roerend om deur Olivier se samestelling te lees.
Tematiese bloemlesings is kenmerkend nogal behoudend en bevestigend met betrekking tot die kanon. Olivier se samestelling is oorwegend ‘n voorbeeld hiervan. Die “mooiste” word gekies - en nié noodwendig die grondverskuiwende of uitdagende nie. En nie verniet nie: Sulke bloemlesings word meestal saamgestel vir ‘n wyer as die goed ingeligte kopersmark. Gehalte en gewildheid is die twee kante van die glansmunt hier.
Vanaf die bundelmotto (die twee slotreëls van Boerneef se alombekende “die berggans het ‘n veer laat val”) tot die laaste bladsy toe is Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte dus deurspek van ‘klassieke’, partymaal getoonsette verse in Afrikaans, of van gedigte wat onderweg lyk om daardie status te verwerf.
Kort na die verskyning van die eerste uitgawe het kritici al gewag gemaak van die “veiligheid” van Olivier se gedigkeuses. “[J]a,” erken hy aldus in die jongste woord vooraf, “ek het gedigte wat swaar in die erotiek lê, destyds bewustelik weggelaat en hulle het daarom en daardeur ‘n wonderlike tuiste gekry in Johann de Lange en Antjie Krog se bloemlesing Die dye trek die dye aan.”
Gelukkig kon hy “die versoeking” hierdie keer “nie heeltemal weerstaan [...] nie”, en kan ‘n mens strofes soos die volgende van Breyten Breytenbach te lese kry:
as my peester ooit die magiese
voering van jou kont sou vergeet
die diepberg en die knobbeltjie kittelaar
en die polsende grootmaak van jou tong -
mag dit dan verdor soos ‘n dooie vyeloot
mag dit stom word soos ‘n mondnar sonder tong
mag dit per ongeluk deur ‘n hond
ingesluk en uitgekak word op die strand
en indien my hart ooit die aanraak
van jou hande sou vergeet
sou verraai die golwing van jou hare
die ontvanklike oopgaan van jou dye nie onthou -
mag die skerpregter se mes dit deurboor
mag dit versmoor in die rooivloed van bloed
mag dit deur die eeue woed van pyn
want dan het ek jou hart nooit geken nie
en ek het vir wind en sotword gelewe
ja, ook dan sal die dood te genadig vir my wees[.]
(Slotstrofes van “die eed”, uit die windvanger, 2007 - ‘n gedig en bron wat nie in die kopieregerkenningslys agterin die bloemlesing vermeld word nie.)
Olivier stof dus nie maar net die vertroude Afrikaanse minneversskat af met hierdie uitgawe nie. Ek het genoem dat sowat 85 gedigte toegevoeg is tot die 2001-keur. 17 digters se name verskyn nou ook die eerste keer in die erkenningslys.
En die gedigte is hierdie keer volgens ‘n heeltemal ander beginsel gerangskik as in die vorige uitgawes: chronologies volgens eerste publikasiedatums in plaas van alfabeties volgens die digtersvanne. Dít bring myns insiens ‘n (gesonde) relativering van die kwalifisering “mooiste” teweeg. Olivier noem in die bloemlesinginleiding dat resensente voorheen “‘n verduideliking van die arrogante titel van die versameling” gevra het. Ek reken hulle het in minstens een opsig tereg hierop aangedring: Tematiese bloemlesings is tipies hede-gerig - ook wat in die verlede geskryf is, word in die lig van vandag se poësieopvattings beoordeel. Die alfabetiese plasing volgens outeursname van voorheen het die tydgebondenheid van style en literêre smake probeer ignoreer.
Die nuwe rangskikking vee nie die bepaling “die mooiste” uit nie; dit laat ‘n mens ‘skoonheid’ ewewigtiger in die lig van periodekodes sien. En laat ‘n mens des te meer respek kry vir wat mooi bly oor prosodiese en stilistiese eragrense heen - soos vir die volgende strofes uit A.G. Visser se “Rosa Rosarum”:
Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag.
[...]
Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste - Nirvana -
As sy in glorie van songloed verwelk.
[...]
Kom as dit skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!
Onvermydelik, vanuit so ‘n literêr-historiese hoek gesien, begin ‘n mens dan wonder oor die ‘verteenwoordigendheid’ van die keuse. Nie omdat ‘n mens krities wíl wees nie; gewoon uit entoesiastiese meelewing. (Olivier nooi ‘n mens juis, en tereg ietwat tong-in-die-kies, in sy inleiding uit om hom te “vermaan”, waar nodig; om hom te “laat weet [...] wat ek misgekyk het”.)
Ek noem ‘n paar vrae en gedagtes wat, al lesende, in hierdie verband by my opgekom het.
Kon daar nie ‘n skeutjie volkspoësie toegevoeg gewees het nie - byvoorbeeld uit die volkskwatryneskat wat Pieter W. Grobbelaar in Die rooilappieskombers (1997) versamel het, en waarvan talle met vryery en die liefde te doen het? Die gerf wat hier geoes is van vóór Dertig, lyk hoeka skraal.
Van die Dertigers gepraat: Verdien Uys Krige om so totaal afwesig te wees hier? Haal sy “Swaels bo die kamp”, uit Hart sonder hawe van 1949, nie dalk die paal nie?
Pirow Bekker is nog ‘n naam wat opvallend ontbreek. Die liefdesvers-afdelings in sy ‘ouderdomsbundels’ Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008) het mý egter ontroer.
Toe ek die keuse uit Ina Rousseau se oeuvre betrag, het ek dadelik die onthou-vers “Jan” uit ‘n Onbekende jaartal (1995) gemis:
Terwyl sy vir haar gesin ‘n broodjie
van water en witmeel maak,
dink sy weer aan ‘n man met die naam
Jan. Hoe hy eens op ‘n tyd ‘n baadjie
gedra het van bruin riffelferweel
en die woord dadelik
stukkend gebreek het tot drie enkelklanke
een dodelike stormdonker dag. So: daa de lik -
en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik
is onskadelik. Sy plaas die pan
in die oond en gaan na die hoofslaapkamer.
Baie stadig kam sy haar hare
terwyl sy deur die raam
na die sonsondergang staar.
So baie herinneringe,
so baie herinneringe deur so baie jare
van haar bestaan,
aan ‘n man met die naam
Jan - [.]
Lina Spies se “Groet in pers” het my na Van Wyk Louw se “Groet in bruin” laat soek - en toe ek deur Tristia (1962) blaai, kom ek vier bladsye vroeër op die onvergeetlike liefdesverlatenheid-vers “Sy sal nooit kom nie” af, wat ek óók in die bloemlesing sou wou sien:
Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.
Moenie wag. Moet niks verwag nie.
Leer die verwagting af. Leer die wág af.
Leer áf om te luister. Leer af.
Die genot wat Danie Marais my met sy vlerksleeppoësie in die eerste afdeling van Al is die maan ‘n misverstand (2009 ) besorg het, sou, indien ek in Olivier se skoene was, hom ‘n tweede gedig in die bloemlesing laat verdien het. En ek sou iets uit Johannes Prins se Een hart (2009) ingesluit het; en ek sou …
Publikasieruimte is nie onbeperk nie, ook nie goedkoop nie, soos Olivier en sy uitgewer seker selfs beter weet as ek. (Waarskynlik vandaar die slapband-baadjie wat hierdie uitgawe dra; die tweede druk van die vorige het al dusdanig in die boekwinkels verskyn.) En keuses kan nooit sonder persoonlike voorkeure uitgeoefen word nie.
Ten spyte van kommersiële beperkings het die samesteller en sy uitgewer kon regkry om kennelike liefdeswerk te verrig.
Daarom: Duim gelig vir hulle!
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Sunday, December 12th, 2010
Tydelose gety. Gedigte deur Lina Spies. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-383-6. Prys: R120. 64 bladsye. Sagteband.
 Omslag
Vroeër vanjaar het ‘n keur uit Lina Spies se poësie, deur Johann de Lange onder die titel Die skyn van tuiskoms byeengebring, by Human & Rousseau verskyn. Daardeur het ‘n mens die geleentheid gekry om die beste kante van Spies se digterskap in die kalklig te sien.
Dit was ook ‘n kans om die kenmerke van haar oeuvre in oënskou te neem teen die agtergrond van ontwikkelinge in die Afrikaanse poësie oor die afgelope veertig jaar. In my resensie oor dié keur op hierdie einste webblad kon ek my sieninge hiervan weergee; ek staan dus nie weer daarby stil nie.
Wat wel gesê moet word, is dat bogenoemde beskouingsgeleentheid van die voortreflikste aspekte van Spies se digkuns ongelukkig ‘n mens se teleurstelling met wat nou, in dieselfde jaar, in Tydelose gety aangebied word, groter maak. Gebrekkige aspekte van haar digwerk staan, as ‘t ware by wyse van kontrastering, nou uit in hierdie negende bundel van haar.
Die meerderheid gedigte in die openingsafdeling is geskryf na aanleiding van ‘n (onverwagte) liefdeservaring deur die ongetroude sewentigjarige. Sy vrees, luidens die bundelopeningsgedig, dat dit “in hierdie halfwas land [...] bejammerenswaardig” geag word “om na dertig ongetroud te wees / en ondenkbaar om na sestig verlief te raak”. Die spreekster se belewing van laasgenoemde toedrag van sake is klaarblyklik eg, en dit bring ‘n skrynendheid in die treffendste gedigte in die bundel teweeg. “Voorjaarsversoek”, “Skyn”, “Heelal”, “Moment”, “Gewoon” en dalk ‘n paar ander uit hierdie afdeling gryp ‘n mens aan. Vergelyk:
Voorjaarsversoek
Hoe dra September
die vrag van geure op sy glimmerende lug?
Om vir wie jy liefhet
swaar te weeg,
moet jy so lig en so deursigtig word
soos hierdie vroeë lentedae
en swewend soos ‘n swetterjoel skoenlappers
oor sproeiwit yslandse rose
onder hierdie lighartige, uitbundige, speelse son
wat lyk asof hy sing.
In “Gewoon” word geykte uitdrukkings en twee aanhalings funksioneel benut om iets van die kosbare in die gewoon Afrikaanse van die geliefde se naam te help evokeer:
Deesdae huiwer ek om iemand anders as jy
op jou naam te noem
omdat dit so spreekwoordelik is in Afrikaans,
maar jy vernieu elke cliché;
deur jou is daar weer goud
in die mond van die oggendstond:
Morning has broken like the first morning;
Blackbird has spoken like the first bird.
Praise for the singing! Praise for the morning!
Praise for them springing fresh from the Word!
As ek jou naam fluisterend sê
soos iemand wat die vokale en konsonante
van ‘n moedertaal van voor af leer,
maak jy die wêreld om my
nuut en ongerep en skoon
soos toe God die eerste keer gedeklameer het:
Dit is goed
en die lig gestraal het oor wat ‘n sekonde vantevore
chaos was en leegheid en die duister wêreldvloed.
In die res van die bundel is dit egter juis die geykte, die retoriese wat in die pad van egte inlewing deur die leser kom staan - of dit nou die idealisties-behoudende blik op familiale, stamverwante herkomste en op die verbondenheid aan land en taal van die tweede afdeling betref, of die huldigings van vereerdes van die derde afdeling, of die religieus getinte bemoeiing met leerstellighede en met uiterste beproewings van die slotafdeling.
Dis nie nuus dat Spies sterk uitgesproke was/is in haar gehuldigde opinies oor bepaalde aangeleenthede nie; ook nie dat dit neerslag in haar verskuns vind nie. Dikwels gee dit aanleiding tot beskoulike, bespiegelende skryfwerk - soos die talle en talle retoriese vrae in Tydelose gety reeds aandui. Dié beredenerende, retoriese meegevoerdheid vind neerslag in sintaktiese uitweidings wat meermale hele strofes en selfs groter gedigdele dek. Abstrakte en prosaïese segging voer dan ook alte dikwels die botoon in sulke sinsvlegsels. Één voorbeeld (die twee slotstrofes van “Geen eiendomsreg”):
Jy laat jou Suid-Afrika los
en sluit aan by die groot eksodus
wat families uitmekaar uit skeur
en ek wonder of jy jou ‘n terugblik gun
wat die slawe ontsê is toe hulle gevaar het
uit die hawens van die vaderland wat hul liefgehad het
en soos die behoue seevaarders van ouds
- ontkom aan storms en skeurbuik -
wat die seën van God gevra het op die kolonisasie
van ‘n onherbergsame en onbekende land
kniel ek op my geboortegrond
en stamel na die swygende kranse
dat elkeen wat hier ‘n holte gevind het vir sy voet
oor die gawes beskik wat Paulus roem
in die liriese crescendo van sy brief aan die Korintiërs
maar dat as dit strategieë van oorlewing word
die grootste nie die geloof en liefde is nie,
maar die hoop.
Geykte uitdrukkings - wat enersyds styltamheid tot gevolg het, andersyds, net soos die apostrofiese aansprekings van en/of opdragte aan afwesige of gestorwe beroemdes, pralerig aandoen - deurspek die grootste deel van die bundel. Op byna elke bladsy lê verslete taalwendinge vir die opraap: “wellus” wat in die “lendene gloei of smeul”; “sierlike skadu’s” van bome se takke; “blosende kleintjies” se “mollige lyfie[s]“; “knallende kleure”; “oë werktuiglik neergeslaan”; “die vervlietende rooi / van die ondergaande son / teen ‘n verdonkerende hemel”; ensovoorts, ensovoorts.
Dit is so dat Spies se poësiebeskouings ouderwets-elitêre elemente bevat; dat haar digterstem nogals ‘n plegstatige toon kan aanneem. Vergelyk die openingstrofe van “Daphne en Apollo”:
Die kreet uit haar oopgesperde mond
om die bewaring van haar maagdelikheid
kon net sowel gekom het
uit orgastiese ekstase in die arms van Apollo
as hy haar soepel welwende meisieslyf
ingedring het om haar een te maak
met sy lenige, hoekiger jong liggaam[.]
Dit hoef nie tot esteties verslete gedigte aanleiding te gee nie, soos vroeër vanjaar se Die skyn van tuiskoms oortuigend gedemonstreer het.
Maar die hoofsaaklike onbesieldheid waarmee die retoriese grepe en wendings opmekaar gestapel word in groot dele van Tydelose gety, werk fnuikend. Selfs die verwoordings van uiterste menslike lyding in die slotafdeling word hierdeur ontkrag - júís opmerklik gemaak deur die trefkrag van die enkele uit Duits vertaalde gedigte van Paul Celan en Pavel Friedmann wat in dieselfde afdeling naas Spies se eie staan.
Luidens byvoorbeeld die gedig “Lectori salutem” wou Spies met hierdie bundel uitstyg bo die geykte:
[...]
Ontvang, liewe lesers, hierdie verse,
ongeag jul leeftyd,
as die oomblik in die tyd
waarop ‘n mens jou kan verhef
bo alles wat vals is en stereotiep.
Dis dan besonder ironies - en jammer - dat sy haar in dié poging so ryklik gaan bedien het van die bombas.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Thursday, November 18th, 2010
Toevallige tekens. Gedigte deur Martjie Bosman. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-400-0. Prys: R150. 80 bladsye. Sagteband.

- Toevallige tekens
Met verse in die tematiese bloemlesings Groen (1990) en Ons klein en silwerige planeet (1997), en met haar solodebuut, Landelik (2003), het Martjie Bosman die aandag getrek as ‘n digterstem met ‘n besondere ekologiese sensitiwiteit.
Dié sensitiwiteit betref die natuur in die breë, maar sluit spesifiek ook ‘n verbondenheids- en verantwoordelikheidsgevoel in jeens Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse platteland (waaronder ook die Afrikaanse erfenis), én jeens Afrika.
As “groen” digter is die soms opstapelende benutting van eie- en soortname as ‘t ware ‘n konkrete manifestasie van Bosman se respek vir en sorg om die verskeidenheid en integriteit van identiteite te midde van bedreigende omstandighede. In Toevallige tekens is daar byvoorbeeld Kamante, “[d]ie seun met die sere aan die been”; of “dokter Clara Santos / met die oë vol van mededoë”; of Flora Mavundla, wie se man “maandeliks / van die myn af ‘n deel van sy loon [stuur] / sodat sy kan sorg van die kinders”; of Sophie Lubisi, “donker en klein”. Maar ook plekname soos “Shongwe Mission Hospital”, Beira, Kigale, Mbozini, Gstaad, Taag en Twickenhamlaan; en spesiename soos eendagskoon, laventel, katjiepiering, mikstert, diederik, witstinkhout, tipuana, swartwitpens…
In die gedig “Mutilados” word die verminkte vroue van die bevrydingstryd in ‘n voormalige Portugese kolonie gedenk aan die hand van hulle welluidende name alleen - en waaronder die naam “Maria” herhaaldelik opklink ter versterking van die indruk dat die noem van die name ‘n roubeklag met religieuse newetone word.
In ‘n paar gedigte in Landelik het Bosman reeds die onmag van taal en poësie bely om die verskynsels en ons belewenisse daartussen enigsins indringend of omvattend weer te gee. Hierdie tweede bundel van haar begin weer met so ‘n gedig:
Op die spoor
Wildernis is nie eenvoudig nie.
Sou dit maar iets aan ons wou wys,
iets wat soos ‘n helder fluit styg
uit swamme op ‘n verrotte stomp.
Sou ons ‘n duidelike woord kon vind
vir die kort lewe van termiete
en ‘n bruin arend behoedsaam op ‘n tak.
Wat is al gesê oor ‘n dooie buffelkalf,
die woekergroei van waterhiasint?
Swart miere streep oor ‘n pad.
‘n Kiewiet weerkaats in ‘n poel.
Bruin kewers in ‘n lae web gevang.
Sou ons maar ‘n metafoor kon vind.
‘n Patroon om af te lei.
‘n Verhaal om te vertel.
In die sand lê spore kruis en dwars
en droë blare val daaroor.
Die bundeltitel, die veelseggendheid daarvan betreffende die menslike seggingsonmag, weerklink in die slotgedig, met ‘n ewe veelseggende titel en ‘n treffende beeld as ruggraat:
Toevallige digter
Aan die kern sit kennelik
die werkwoord “val”,
aangelap met setsels:
in-, toe-, by- en voor-.
Soos ‘n meteoriet
breek iets skielik
deur bufferlae
om die afgeplatte bol,
ontbrand en pyl
met ‘n vuurpad
tot in ‘n nagtelike tuin
waar onder fosforglans
die swart swaan
‘n oomblik lank verskyn.
Ons staan, luidens die bundelmotto wat Bosman aan N.P. van Wyk Louw se werk ontleen het, met ons tekortkominge en met dié van die mensetaal voor “dié Woord
/ vol bybetekenisse en bowe-tone, / té vol vir bloot net beteken en betekenis”. Inderdaad: “Wildernis is nie eenvoudig nie.”
Tot die “bybetekenisse en bowe-tone” van die werklikheid behoort ook die onontkombare verganklikheid. (Vandaar die foto van ‘n versnipperde eendagskoon-kelk op die voorplat.) “Life is very unusual,” haal Bosman vir Nassim Nicholas Taleb aan as motto van die slotafdeling van haar bundel. Dit wil sê: Die lewe is nié die reël in die skepping nie, én dit is (daarom) wonderbaarlik, selfs paradyslik om te ervaar:
Ek soek nog na ‘n metafoor
vir die vergaan van ‘n lyf,
tevergeefs in hierdie soet seisoen.
As die rose pieringgroot oopvou
[...]
bly die metafoor van aftakeling
my gelukkig nog ontwyk.
In hierdie soet seisoen
sal ek nog talm by dié tekens
in hierdie tuin van alle liefde.
(”Soet seisoen”)
Dieselfde geld tale en digkunste. Ek het ‘n knop in my keel betrap by die lees van die slotgedig van afdeling 2:
Vanishing voices
The extinction of the world’s languages
- - Daniel Nettle & Suzanne Romaine
Hoe onvoorstelbaar eensaam moet die laastes wees
wat nog woorde van gewone dinge weet,
hoe onvoorstelbaar eensaam die ore wat nooit meer
die woorde hoor waarmee die dinge genoem is nie.
Hoe eensaam die stemme wat vergeefs die son besing,
hoe eensaam as die koue nou net joune is,
as die wind jou roep vergeefs oor die vallei wegdra.
Hoe onuitspreeklik eensaam dat niemand jou verstaan
as jy sou sê nie: “Ek vrees dat alles doodstil raak.”
Hoe onuitspreeklik eensaam die kennis
dat in jou mond die sinne stol, die woorde
waarmee jy behoort het aan ‘n verlore stam.
Dis juis afdelings 1 en 2 waarin verminking, lyding, misdaad, doodslag en die gepaardgaande vrese van die huidige Suid(er)-Afrika in die kollig staan, sodat ‘n “[h]esperiese neerslagtigheid” selfs dreig om die subjek in die gelyknamige gedig te oorval. Toespelings op bekende gedigte van Ingrid Jonker, D.J. Opperman, Van Wyk Louw en Toon van den Heever word effektief benut om (onder meer) verwilderende hede met identiteitsbevestigende verlede te kontrasteer. En klink iets van C. Louis Leipoldt se “‘n Handvol gruis uit die Hantam” nie ironieserwys deur as die “breek-en-gryp”-slagoffer haar besittings byeenraap in die volgende gedig nie?
Handsak
By die plek van breek-en-grypslae
lê besittings argeloos uitgestrooi:
Uit al dié dinge van min waarde
sal ‘n mens dalk ‘n lewe kan herbou -
‘n gesig kyk uit ‘n natgereënde
paspoortblad bleek na boontoe;
‘n rybewys skuil half onder gras;
tussen bou-afval lê ‘n besmeerde
ID-boek ouderdom en blyplek bloot;
‘n verwese sakdoek verkondig
intieme nommers van bekendes,
die huisarts, die versekeraar;
lipstif, ‘n bril, ‘n hoofpynpil,
kaartjies vir die simfoniekonsert.
Ek raap dit alles blindelings bymekaar,
probeer onthou hoedat ek gister was.
Téén hierdie vernietiging in voel die digter “dat jy nou / alle vensters oop moet maak / om in die woonhuis van die sinne / die kortstondige geilte te behou” (”Bosveldvisvanger”); dat die verskynsels aangegryp beleef en byvoorbeeld onder woorde gebring moet word om miskien so iets daarvan te bestendig. Dít is die sentrale tematiek van afdelings 3 tot 5 in die bundel. Één voorbeeld van hoe Bosman sodanige intensies glansend in vervulling laat gaan:
Wolf op die tweesprong
Na ‘n foto van Jim Brandenburg
Hy het reeds sy staanplek
op die ysskots verlaat
en gespring.
Sy skraal skadu weerkaats
swart in die ysblou water:
onbeduidend onder die groot groot lug,
onbeduidend op die spieëlsee, diep en koud,
onbeduidend teen die dreiging van grys wolke.
Maar op hierdie oomblik, nou,
waag hy die sprong,
sweef hy vry in sy onveiligheid,
los en bly oor alles wat syne is:
hiérdie stuk dryfys, hiérdie see,
hiérdie uitgestrekte yl bestaan.
Myns insiens kry Bosman dit in hierdie bundelafdelings reg om plek-plek eggo’s van ander digters se werk - hoor ‘n mens nie byvoorbeeld Wilma Stockenström en T.T. Cloete fynweg deurklink in dele van bostaande vers nie? - in ‘n verdere intertekstuele funksie te benut: die aktivering, sodoende ook bewáring/wáármaking, van ‘n literêre tradisie.
Die belydenis aangaande die digterlike seggingsonmag vind myns insiens funksionele uiting ook op stilistiese en vormlike vlakke in Toevallige tekens. Pretensies dat ‘n omvattende of deurvorsende greep op die dinge moontlik is, word vermy. Vryeversvorme word hoofsaaklik ingespan, soms met vaster geneigdhede, soos eindrym wat meer “toevallig” as volgens vaste patrone opduik. Wanneer vaste vormgewing wel voorkom, soos in “Die kind van Kigali” (met sy eggo’s van een van Ingrid Jonker se beroemdste gedigte), voeg die dwangmatigheid daarvan op funksionele wyse ‘n element van “noodlottigheid” by tot die strekking van wat gesê word.
Die kind van Kigali
Dis die kind van Kigali wat moet loop
om vir die gesin ‘n brood te gaan koop.
Die kind kom gou terug met die brood
en vind om die huis die spoor van die dood.
Die aanval was oorwoë en subiet:
Met mortiere is alles platgeskiet.
Die kind swerf deur die land sonder ‘n pas,
op sy skouers lê oorlewing ‘n loodsware las.
Die styl is eerder aan die ingetoë kant; verstild eerder as flambojant. Deur benoeming en beskrywing - eerder as deur metaforiek, aandagvergende woord- en klankspel en direk verdiepende of verruimende suggestie - word die dinge toegelaat om as ‘t ware vir hulself te spreek. Waardeur “groen” bundels van Lucie Möller (Watermerke) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) uit die afgelope sowat ‘n jaar sterk in die herinnering geroep word.
Op my maak Bosman se bundel, hoe persoonlik die verwoorde belewenisse en sieninge daarin ookal is, ‘n indruk van brandende aktualiteit, in die besonder wat die Afrika-mens (ook die Afrikaner) se verhouding met sy omgewing betref. Dit sluit aan by wat al ‘n sterk stroming in die Afrikaanse digkuns geword het. Naas die name van Möller en Marais, kom dié van onder meer Eugéne Marais, C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Trienke Laurie en Carina Stander dadelik by my op.
Met Toevallige tekens word Bosman s’n na my oordeel ‘n besonder verdienstelike stem in hierdie name-rei.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
|
|