Resensies

Toe dit nog vroeg was

Tuesday, March 8th, 2011

Toe dit nog vroeg was. Deur Mari Grobler. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04942-5. Prys: R130. 71 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

toe dit nog vroeg was

toe dit nog vroeg was

Mari Grobler, veelsydige en bekroonde skrywer uit die Oos-Kaap, se natuurliefde was die inspirasie vir die haikoe-agtige verse in Wat sigbaar is in amber. Dit was die bundel waarmee sy in 1990 gedebuteer het.

“Volkse” elemente, soos J.C. Kannemeyer dit stel in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004, was toe al sigbaar in haar verskuns. Dít sou lei tot gedigte met die Khoi- en San-kulture en leefwyses as agtergrond in Eggo’s in bewolkte water (2004), haar tweede bundel.

Op die beskikbare gegewens oor die Khoi- en San-tradisies word voortgedig in Toe dit nog vroeg was, maar dié keer betrek Grobler ook die karige kennis beskikbaar oor die oer-strandlopermense wat die Khoi en San voorafgegaan het as bewoners van Suidelike Afrika. Die gedigte in die openingsafdeling, “Voortyd”, is spesifiek op laasgenoemde gebaseer.

Grobler verduidelik soos volg in ‘n onderhoud wat elders op die Versindaba-webwerf gepubliseer is: “Daar is min werklike kennis oor die oermens, maar genoeg sodat ‘n mens jou verbeelding saam met die feite van opgrawings kan gebruik om hulle tot versmense te verwoord.” Sy erken dat die onderneming “‘n bietjie waagsaam” was, al was dit onderskraag deur relatiewe wetenskaplike ingeligtheid. Die strewe om die prehistorie so “sonder geskiedkundige gebeure” in momentopnames te probeer vasvang, laat iets van die haikoe-agtige aard van haar vroeër verskuns voortleef.

Verbeelding en verhaalvorming, al is laasgenoemde rudimentêr, was derhalwe haas onvermydelike hulpmiddele in haar poging. Vergelyk die suggesties in die volgende gedig:

 

Oer

 

Grotvloere hou vas

aan klip, been, skulp en as.

Vlermuise swiep soos onthou

uit rotsoorhange.

 

Dis vroeg

en die aarde is groot

met genoeg kos en tyd

om stories op die wind uit te laat loop.

 

Verromantisering (ver-eksotisering) is alte dikwels die gevolg van verbeeldingskryfwerk oor die oudste inwoners van Suider-Afrika. Iets van hierdie gevaar sien ‘n mens in die feit dat liefdesverhoudings ‘n belangrike rol in al vier die bundelafdelings van Toe dit nog vroeg was speel - soos ook die geval was in Eggo’s in bewolkte water. Waarby ‘n mens kwalik anders kan as om te begin dink aan die kritiek wat uit sekere postkolonialistiese teorie-oorde teen die (Europees-Westerse) neiging uitgespreek is om die amoreuse liefde as ‘n universele literêre tema te beskou.

Selfs in “Beweging”, die slotafdeling van Toe dit nog vroeg was en waarin die sjamaanfiguur in die kollig staan, ontbreek dit nie aan ‘n liefdeskinkel nie.  As die “reënman” (”Kxau”, die sjamanistiese reënroeper) te sterwe kom, verneem ons  eensklaps van die “alleen-vrou” wat hom nou moet mis:

 

die !gixa soek waar meisies voëls naroep

             kiewiete saamloop

             skadu’s onder reënswaar bome spook

sy luister met oë asof sy uit haar lyf is

       eien niemand nie

nes ‘n grysbok wat lank sonder water kan bly

moet sy gewend word sonder hom

[...]

 

Sulke bedenkings oor die hoof gesien, is daar veel aan te prys omtrent die grootliks oortuigende, meermaals bekoorlike wyse waarop Grobler die oer-leefwêreld uitbeeld en stilisties beslag gee. Één voorbeeld:

 

dors

 

die nag is twee mane vol

dryf luglangs in die poel

waar ek maanwater drink

 

sterre wat eers meisies was

weerkaats blink in die reëngat

breek as ek bakhand skep[.]

 

Grobler vertel in die genoemde onderhoud sy moes die hele tyd streef na eenvoud en “tydlose” woorde; geen “ontydige klanke” (waarskynlik bedoelende: anachronismes) moes in die verse opklink nie.

Die benutting van - meestal ráák en suiwer - woordkeuses en natuurbeelde val dwarsdeur die bundel op; daarby die korter, dikwels enkelvoudige sinskonstruksies, soms mét kompakterende, suggestiewekkende weglatings van veronderstelde woorde. ‘n Sfeer van die magiese te midde van konkrete eenvoud word oortuigend geëvokeer.

Ek het wel ietwat langtand gekou aan ‘n uitdrukking soos “berese seeboon” in hierdie verband. En gedink die digter moes twee keer gedink het voor sy nie-inheemse fauna soos “karp” en “tier” in hierdie Suider-Afrikaanse voorwêreld laat opduik het.

Hoewel Grobler nie noodwendig berge versit in die Afrikaanse poësielandskap nie, verteenwoordig haar drie bundels, veral die laaste twee, ‘n gewaardeerde bydrae tot ‘n nou al aansienlike Afrikaanse digterlike stroom van werke oor die Khoi- en San-ervaring. In hierdie verband kan ‘n mens haar werk in dieselfde asem noem as dié van Eugène Marais, Abraham Fouché, Donald W. Riekert, Piet van Rooyen en Antjie Krog.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Onder die appelboom

Monday, February 28th, 2011

Onder die appelboom. ‘n Keur uit die gedigte van Rutger Kopland. Vertaal en ingelei deur Daniel Hugo. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-404-8. Prys: R140. 103 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Die lees van Onder die appelboom het weer die spyt by my laat opwel oor ‘n mens eintlik so min vertaalde poësie in Afrikaans gepubliseer sien.

Omslag

Omslag

In die afgelope dekade was daar sporadies enkele bundels en bloemlesings met sulke vertalings op die rakke te kry. Dit, tesame met André P. Brink se insluiting van ‘n klompie vertaalwerk in die 2000- en 2008-uitgawes van Groot verseboek, wou lyk na ‘n belofteryke prikkeling in dié rigting - ‘n verblydende ontwikkeling parallel aan die groei in gepubliseerde oorspronklike Afrikaanse digwerk sedert die millenniumwending.

Maar, helaas: Die vertaalde keur uit die Vlaming Herman de Coninck se werk, byeengebring in Die lenige liefde uit 2009, was die laaste roering in dié harmansdrupstroompie in ons digkunslandskap.

Dit kan maar net wees omdat die meeste Afrikaanse poësielesers hul sente twee-, driemaal omdraai, en dan liefs anderpad kyk, as dit by vertaalwerk kom.

Met Onder die appelboom wys Daniel Hugo en Protea Boekhuis wéér - hulle was ook die vertaler-en-uitgewer-kombinasie van Die lenige liefde - wat sulke lesers ontbeer.

In die kort inleiding tot die keur verduidelik Hugo dat Kopland (skrywersnaam van Rutger H. van den Hoofdakker) se digstyl gekenmerk word deur “die eenvoudigste taalgebruik denkbaar”. Hieraan voeg Kopland dinamiese nuanserings toe deur, onder meer, “ongewone enjambemente wat versreëls dikwels op lidwoorde, voegwoorde en voornaamwoorde laat eindig”. Sodoende druk hy sy “mistieke ervaring van die werklikheid” uit, verwoord hy “[huiwerend maar suiwer] die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes”. Hy skryf ook graag “digterlike besinnings oor die mens se belewenis van die tyd”.

Dit alles geskied met skeute milde humor en ironie, wat die sentiment help beheers.

Want, blykens die keur in Onder die appelboom, is Kopland hoofsaaklik ‘n digter van die (onverwagte, selfs onverdiende) geluk, van die onvermydelikheid van die toevallige, vervlugtigende skoonheid - en wat derhalwe kwalik deur die kuns vasgegryp kan word. Die poskaart-motief is nie verniet so ‘n opvallende een in dié gedigte nie. Vergelyk die slotdeel van “Voorskrifte vir die skryf van ‘n poskaart en ‘n voorbeeld”:

 

IV

 

Skryf dus byvoorbeeld: Hier, Augustus, Geliefdes, hier

is ‘n poskaart, sien julle daardie pleintjie, die hond

wat in die son slaap, die ou man in die skadu,

 

hoe toevallig is dit, hierdie pleintjie, die son en die

skadu, die hond en die man, ek lê en slaap in

myself, ek sit al sittend in myself, ek is alles,

 

ek weet ‘n mens lees dit nogal dikwels, jy kan geluk

nie ontvlug nie, dit haal jou in, waar jy ook al gaan,

so is dit, maar ekself weet van niks nie, julle X.

 

‘n Innemende, geheimnisvolle eenvoud - dus net ‘n oënskynlike eenvoud - lok ‘n mens al dieper die bundel in. En die goedige, ontwapende spotdrywery met ‘diepsinnigheid’ by mense, ook by digters, geniet ‘n mens in hierdie konteks terdeë (”Oneindig baie probleme”; “Diep gesprekke”).

Vandaar dat die uitgewer in die bekendstellingsbrief die verwagting uitspreek dat Onder die appelboom “baie gewild onder Afrikaanse lesers” gaan wees.

Ek hoop van harte so. Dié verse - deur ‘n man wat al veertig jaar lank ‘n “stille krag” in die Nederlandse poësie is (Hugo in die inleiding) - is deurgaans bekoorlik; verdíén om druk gelees te word.     

Soos in vorige publikasies van sy versvertalings uit Nederlands laat Hugo telkens die oorspronklike gedigte langs die vertaalde weergawes verskyn. Die vergelyking tussen die Nederlandse en Afrikaanse weergawes word hierdeur ‘n verdere boeiende speurtog vir die geïnteresseerde leser.

‘n Mens beleef via die omsetting iets van die sekure sorg van die digter om nét die regte, klinkklare segging te vind vir die misterie-in-die-gewone wat hy wou evokeer. Jy bemerk ‘n leesteken of ‘n enjambement, ‘n woordkeuse of ‘n sinswending wat deur die vertaler ‘n aks verskuif word tussen bron- en doelteks, en jy skuif dit in jou geestesoog terug en ontdek: Dis dieselfde ongrypbaarheid waaroor dit gaan - en dis eintlik om ‘t ewe, eintlik ewe lieflik, hoe die digter en die vertaler dit wil sê. Die Afrikaans en die Nederlands word ‘n bevallige, aan mekaar diep verbonde tweeling.

Let maar op hoe, in die volgende reëls uit die titelgedig, die in Afrikaans al ouderwets klinkende “langes” (vir “langs”) op funksionele wyse iets van die ouer liefdespaar se ervaringswêreld oproep, en sodoende iets toevoeg aan die oorspronklike Nederlands - terwyl die dubbelsinnige moontlikhede van die Nederlandse “zacht” nie in die Afrikaanse omsetting sit nie. Oor-en-weer gelees is al daardie konnotasies egter teenwoordig.

 

gelukkig kwam er iemand naast mijzitten, om precies te zijn jijwas het die naast mij kwam

onder die appelboom, zeldzaam

zacht en dichtbij

voor onze leeftijd.

gelukkig kom iemand langs mysit, om presies te wees jyis dit hier langes my

onder die appelboom, buitengewoon

mild en naby

vir ons leeftyd.

 

“Mild en naby” is hoe ook die twee susterstale by mekaar sit, hier en in die hele bundel.

Ligloop

Monday, February 14th, 2011

Ligloop. Deur Tom Gouws. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5239-6. Prys: R145. 91 bladsye. Sagteband.

 

Ligloop

Ligloop

Met hierdie vierde bundel van hom in 20 jaar versterk Tom Gouws sy aansien as Afrikaanse digter van die Christelike, selfs Christelik-mistieke lewens- en werklikheidservaring. Dié belewing is sterk intellektueel getint, en literêr bewus - en herinner vandaar in bepaalde opsigte, soos al deur heelparty kritici uitgewys is, aan dié van ‘n T.T. Cloete in Afrikaans.

Enersyds word byvoorbeeld die lewenseenvoud van ‘n figuur soos Moeder Theresa gehuldig, in ‘n gedig met ‘n ondertitel wat die mistieke strewes van die 13de-eeuse Vlaamse digteres Hadewijch betrek. (Deurgaans in die bundel ignoreer Gouws die konvensies van hooflettergebruik, behalwe wanneer aangehaal word, of wanneer na God en sý Naam verwys word.)

 

moeder theresa gee boedel oor

Der minnen ic doch mi selven al liet

- Hadewijch

 

moeder theresa se boedel is eenvoudig:

twee dunwit sari’s van ongebleikte linne

en ‘n moeë bybel. maar onsigbaar binne

die gerinneweerde tent skuil die minne

verterend onbenullig godgevallig[.]     

 

Aan die ander kant kom ‘n hele paar gedigte van ‘n nogals verstandelik beredenerende aard voor, selfs voorsien van voetnotas en/of ander byskrifvorme. Vergelyk:

 

2. oënskoulik onbenullige detail

Lion: A primitive or bestial side of the Ego personality: its Shadow

     - Tom Chetwynd: A dictionary of symbols

 

vir eeue al sit onze lieven [sic] meisje met haar rooi hoed

op ‘n deftige stoel met leeukoppe as puntversiering.

vir eeue al bedink die kritici die ongewone gloed

wat uit elke leeukop flonker, hul ongewone ligging.*

die oënskoulik onbenullige detail laat hul nie vermoed 

hoe alles in die klein skildery ‘n sleutel tot verklaring

bied van dit wat geheimsinnig sluimer in die binnebloed.

die oorgesiene onbenullige is die genetiese tatoeëring

wat die ongesiene skadudieptes van alle tekste voed.

 

*”The most remarkable adjustments Vermeer made in this painting occurs with the lion-head finials …  The finials … face the viewer, whereas if they belonged to the girl’s chair, they should face her. While some scholars have argued that the position of finials creates reason to doubt the attribution to the painting, these modifications of reality are consistent with those found in Vermeer’s other paintings.” (A K. Wheelock & B. Broos: Johannes Vermeer, p. 162)

 

(Na my wete moet “onze lieven meisje” eintlik, vanweë die onsydige verkleiningsvorm, as “ons lieve meisje” geskryf word.)

Die intellektuele beheersing in die weergee van dikwels wesenlik ekstatiese belewenisse word al vergestalt in die sametrekking van ‘n verskeidenheid betekenisassosiasies in die - nou al kenmerkende - eenwoord-titelkeuse van Gouws. Die Bybels-simboliese verbinding tussen lig en God word in die eerste plek betrek. Dit gaan oor die geloofsweg wat op die spoor van Hom, die Lig van hierdie wêreld, bewandel wil/moet word; maar ook oor die versigtige, liefs skaars gehegte  ”ligloop” deur die ondermaanse, wat net maar ‘n “tydelike verblyf” is, ‘n verganklike een, soos veral in die tweede afdeling van die bundel uitgebeeld word. “[T]entatief” is dan ook die titel van dié afdeling - met die woorddeel “tent” daarin wat, eweneens in Bybelse terme, as simboliserende motief van die kortstondigheid van die aardse bestaan uitgebou word.    

Lig, ligvoets, ligloop, ligspoor, ensovoorts is variasies van die titelmotief wat dwarsdeur die bundel voorkom en, soos gesê, simboliserend funksioneer. Vanweë die allesoorheersende en onverhulde Christelik-religieuse lewens- en wêreldbeskouing daarin, maak die bundel reeds ‘n hegte eenheidsindruk; die motiewedrade wat dwarsdeur loop, ook van die motiewe wat hierna ter sprake kom, versterk dié indruk.

Ewentwil, dié simboliserende werking het tot gevolg dat ‘ligloop’-uitdrukkings wat andersins, op realistiese vlak, gesog kon aandoen, tog in die betekenissamehang van enkelgedigte en van die bundelgeheel geloofwaardig word. Vergelyk die volgende voorbeeld uit die afdeling “kroniek van elia in afrika”, waar Afrikaans ‘n profeterol aan hom toegedig kry:

 

elia leer ligloop in afrika

 

die local elia vleg khoi en germaans

tot die knarsvars tongval van ‘n nuwe taal.

profeties is dié saad oor diep waters spartaans

vervoer in biesiewiegies, kontinentaal

verplaas, geplant in die wieging van ou ossewaens. 

in die land van kus het die fetus diep asemgehaal

en uit die donker baarmoer ligvoets gedans.

soos die gees van elia vloei, ontvou die verhaal   

van God se skeppingsdroom vir afrikaans.

 

‘n Volgende motiewekompleks wat in vergelykbare mate simboliserend funksioneer, is die een rondom die weef-gegewe, wat veral in afdelings I (”delftse doek”) en II  (”tentatief”) prominent is. Dit sluit variasies soos doek, tekstiel, kantkloswerk en tent in, en is óók meerduidig soos die bundeltitelmotief, en meermale daarmee vervleg - veral opvallend só in afdeling IV, “jerusalemgangers revisted”. Dié motief wys heen na byvoorbeeld die God-openbarende skeppingsamehang én na hoe iets soortgelyks in kunswerke nagestreef word. Luidens die alleenstaande openingsgedig van die bundel:

 

he wishes for the cloths of heaven

 na yeats

 

sou dit my gegee kon wees om iets te weef

sou ek ‘n lap van lig uit brokaat en skemergrou

‘n droomfilterdoek in skakerings silwerwit weef

syspieëlings bespat met mistieke middernagblou

 

ek sou my lap van lig kom neerlê voor jou voete

maar ek het weinig meer as woorde om te knoop

die hemele lê ‘n verbeelde doek voor jou voete -

trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop[.]

 

“[T]ekstiel met siel verweef” klink ‘n paar keer soos ‘n refrein in dié bundel met sy sterk bewustheid van (profeties-) digterlike geroepenheid op - maar ook die woord “onvertaalbaar”, om die onvolkome haalbaarheid van sodanige strewe deur die mens te beklemtoon. Kwalik meer as “vae verfvermoedens en versfrakture” - dít is waartoe die kunstenaar blykens die gedig “1. blik op delft” in staat is.

En hier en daar in die bundel het dit my tóg voorgekom of die simboliekdrade, die beeldeenheid in bepaalde gedigte, ‘n bietjie rafelrig is. Vergelyk:

 

ek voel U soos ‘n leeu knaag aan my beendere

terwyl ek soetjies rym aan die bitter van my siel.

uit niks neurie ek sag oorwinningsliedere

en sien hoe U my driedraads indans tot tekstiel.

(”lied van hiskia”)

 

Of:

 

my woorde hang ‘n harige sak oor die son wat bloei,

‘n diep skadu van vrese en vermoedens, ‘n eklips

oor eden. maar almal min my as ‘n vlam wat skroei

as ek paradyse plant in die vrugbare turf van apokalips.

(”ek is mietjie gouws, profetes”)

 

Bygesê: ‘n Volgende opvallende deurlopendheid in die bundel is die benutting van (skyn-)paradokse, meermaal in die vorm van opsetlike teenstellings  en (soms gepaardgaande) betekenismeerduidighede. Boonop val sulke sterk stylfigure soms saam met bykans aforisties geformuleerde insigte. Enkele voorbeelde ter illustrasie: “niks is groter as die klein aardbol van die brein / waaraan God se eindelose uitspansel ontvou” (p. 20); “die realiteit word gespeel op verbeelde fluite” (p. 23); “hoe swaar is die gewig van lig” (p. 34); “God se genade bly onvoltooi / totdat jy die allerlaaste olie uitgooi” (p. 68).

Die goddelike en wonderbaarlike word aldus, op oënskynlik teenstrydige trant, geopenbaar in die menslike en alledaagse.

Nog opmerkings oor die hegte eenheid van die bundelopset: Die reekskarakter van heelparty van die gedigte - veral dié in afdelings I (met veral die lewe en werk van Jan Vermeer as intertekste), III (oor vergestaltings van die “elia in afrika”-figuur) en IV (oor die historiese “Jerusalemgangers”, die trekkers na “die herwonne Paradys” in Afrika, waaraan ook Antjie Krog voorheen ‘n reeks gedigte gewy het) - is ‘n verdere bindingsmanifestasie. So ook die ideolektiese kenmerke van die bundel, wat al tipies van Gouws se digkuns geword het. 

Wat laasgenoemde betref: Die digter maak sterk staat op klankspel (waaronder verwikkelde eindrympatrone uitstaan), op woordspel (waaronder dubbelsinnigheid wat betref letterlike en figuurlike betekenisse), op die kunstige benutting van vaster vorme en op intertekstuele verwysings, toespelings en siterings om sy poëtiese effekte te bewerkstellig.

Streng vormgewing op veral die klank- en versifikasievlakke is dus as ‘t ware ‘oppervlak’-manifestasies van die streng binding wat ook op die betekenissamehangsvlakke, soos hierbo bespreek, neerslag vind.    

Altesame maak dit myns insiens duidelik dat die intellektuele, visioenêre element oorheers in Gouws se digkuns, eerder as ‘n sintuiglike of emosionele ingesteldheid. Gevolglik maak ‘n gedig soos die volgende, waarin op kennelik behaaglik bedoelde wyse talle skakerings van blou opgenoem word,  nie ‘n konkreet voorstellende of sintuiglik evokatiewe indruk nie, maar werk die opnoeming eerder abstraherend en verintellektualiserend.

 

die dag is blou soos delft

     n.a.v. vermeer se studie in blou: “Vrou met ‘n waterbeker”

 

     “blue is not a colour; it is depth”

 

ek probeer my verbeelding uitpak in ‘n kleurpalet,

maar als reik uit na dimensies in skakerings blou:

baftablou akwamarynblou dempblou persblou

rooiblou staalblou opaalblou saksiesblou swartblou

fletsblou bontblou groenblou skimmelblou bergblou

marineblou berlynsblou bleekblou saffierblou

turkooisblou pruisiesblou blouselblou kobaltblou

poublou hiasintblou asuurblou waterblou delftblou.

 

hemelsblou is die letters van my ganse kleurlose alfabet.

 

Sommige verse (soos “elia en die baälprofete”, “elia en die voortrekkermonument”, “elia en die ou boereplaas” en “visioen van thomas op patmos”) se polemiserende en satiriese trekke sluit myns insiens hierby aan; dit is eweneens tekenend van die digter se sterk beskoulike standpuntinnames.

Die kunstig-strenge vormgewing, waarvan die verskeidenheid eindrympatrone ‘n alte opvallende duiding is, en die verweefdheid van die bundelgeheel, roep assosiatiewe waardes soos samehang, vastigheid, selfs sekerheid en noodwendigheid op. Dis goed te versoen met, eintlik ‘n verstegniese vergestalting van, die bepaalde lewens- en werklikheidsbeskouing wat uit die bundel spreek. Die digter - net soos Jan Vermeer as skilder, én die Woordtranskribeerders en kantklossers in die voorgeslagte van die spreker in die gedig “oorsprong” - is “een van God se kundige kurators // van voorsienigheid” (”skildery van briefskrywende vrou en kamenier”). 

Daar steek ‘n ambagtelike “verrukking” in die belewing van “hoe die gedig kant en klaar tril”, van hoe “tekstiel met siel / ineenknoop” (”1. die kantklosser”, ‘n gedig met die onderskrif: “‘n kanto as selfportret”). Laasgenoemde, twaalfreëlige gedig, met sy presies-hoekige tipografie en traprymskema, is een van die opvallendste gedigte in die bundel in hierdie verband. Trouens, sestien bladsye later word dit herhaal, dié keer met byvoeging van ‘n apartstaande, paarrymende eindkoeplet om die gedig ‘n Engelse sonnet te maak wat tipografies (in die lettertipe en -grootte op die bundelbladspieël) ‘n presiese, “verbeelde vierkant” vorm - soos die (nuwe) slotwoorde dit juis wil hê.

 

die kantklosser II

     vir johanni

 

tot ek daar myself raakloop in ‘n onverwagse spieël:

vooroorgebuig intens toegespits op inslag en skering

van my vingers, wat ritmies lig woorde klos tot kant

die gare word haspelend melodies naatloos gekantel

 

tot tapytjies teks. strooi uit ‘n verbeelde spinnewiel

word ligtende nuttelose goudspinsels vol huiwering

ononthoubare herinnering van die ou streek brabant

intiem ingeweef tot fibreuse grein. als word bladstil

 

totdat die garings begin ligloop, tot tekstiel met siel

ineengeknoop. verf loop soos lewe uit die stuwings

van ‘n kussing, word ‘n lewende keper in my hand,

voel hoe met verrukking die gedig kant en klaar tril

 

totdat hierdie koeplet eiesinnig uitspruit uit my hand

sodat my sonnet kan gaan lê in ‘n verbeelde vierkant.

 

Besonder vernuftig.  Sódanig (kon ek nie verhelp om plek-plek te vrees nie) dat die noodwendigheid daarvan vir die bepaalde digterlike kommunikasie-effekte selfs verbygestreef word. “[E]iesinnig” is miskien ‘n gepaste woord om die rol van die vakman hier te beskryf. Die afwerking van die boodskapvorm dreig om meer aandag te trek as die ‘boodskap’ self. Die ‘kunsmatigheid’ van die kunswerk staan voorop, sodat ook die egtheidsindruk van die beskoulike fasette van die bundel daaronder begin ly.

‘n Ballade soos “elia en die baälprofete”, met stafrym in die driereëlige strofes, ontaard na my gevoel in rymelary.

Of alle lesers dié bedenkinge sal hê, daarvan is ek nie seker nie. En selfs al sou my vrese gegrond wees, die gewig daarvan is nie genoeg om die skaal teen die voortreflikhede van Ligloop te swaai nie. Daar is baie in die bundel wat boei en beïndruk, wat tot nadenke en nalees noop, wat poëtiese genoeë doen.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte

Monday, January 31st, 2011

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Saamgestel deur Fanie Olivier. Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria. ISBN 978-0-7981-5182-5. Prys: R195,00. 253 bladsye. Sagteband.

 

By terugskoue maak die dekade-en-’n-half tussen ongeveer 1985 en om-en-by 2000 die indruk van ‘n bestekopmakingstyd in die Afrikaanse poësie.

Omslag

Omslag

Daar was byvoorbeeld ‘n hoogbloei in die publikasie van bloemlesings, wat uitgemond het in die samestelling van Groot verseboek 2000. ‘n Mooi klompie tematiese versversamelings - oor religie, kos en drank, musiek, kind-wees, ekologiese bewustheid, die erotiek, die vroulike perspektief, ensovoorts - het ook in hierdie era die lig gesien. Die eerste (1987) en derde (2001) uitgawes van Fanie Olivier se keur uit die Afrikaanse liefdespoësie baken dit as ‘t ware van begin tot einde af.

Toe, rondom die eeuwending, het die uitgee van sulke bloemlesings, soos amper ook van solobundels, tot stilstand geknars. Sedertdien was groei en groeistimulasie egter ‘n belangrike kenmerk van die Afrikaanse poësieveld. Die profilering van (dikwels nuwe) digterskappe in die Nuwe stemme- en Versindaba-reekse is ‘n opvallende uiting hiervan.

In 2008 het ‘n sterk uitgebreide uitgawe van Groot verseboek verskyn, en nou, laat verlede jaar, die vierde uitgawe van Olivier se liefdesvers-keuse, met 85 gedigte meer as voorheen. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte is die enigste van daardie tematiese versamelings van weleer wat bly voortleef het, maar verteenwoordig saam met Groot verseboek 2008 tog iets van ‘n heropname van ‘voorraad’.

En die stand van sake is ‘n riem onder die hart. Sonder om onnodig ydel te wees: Die liefde bloei in Afrikaans! Dis plein pakkend en roerend om deur Olivier se samestelling te lees.

Tematiese bloemlesings is kenmerkend nogal behoudend en bevestigend met betrekking tot die kanon. Olivier se samestelling is oorwegend ‘n voorbeeld hiervan. Die “mooiste” word gekies - en nié noodwendig die grondverskuiwende of uitdagende nie. En nie verniet nie: Sulke bloemlesings word meestal saamgestel vir ‘n wyer as die goed ingeligte kopersmark. Gehalte en gewildheid is die twee kante van die glansmunt hier.

Vanaf die bundelmotto (die twee slotreëls van Boerneef se alombekende “die berggans het ‘n veer laat val”) tot die laaste bladsy toe is Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte dus deurspek van ‘klassieke’, partymaal getoonsette verse in Afrikaans, of van gedigte wat onderweg lyk om daardie status te verwerf.

Kort na die verskyning van die eerste uitgawe het kritici al gewag gemaak van die “veiligheid” van Olivier se gedigkeuses. “[J]a,” erken hy aldus in die jongste woord vooraf, “ek het gedigte wat swaar in die erotiek lê, destyds bewustelik weggelaat en hulle het daarom en daardeur ‘n wonderlike tuiste gekry in Johann de Lange en Antjie Krog se bloemlesing Die dye trek die dye aan.”

Gelukkig kon hy “die versoeking” hierdie keer “nie heeltemal weerstaan [...] nie”, en kan ‘n mens strofes soos die volgende van Breyten Breytenbach te lese kry:

 

as my peester ooit die magiese

voering van jou kont sou vergeet

die diepberg en die knobbeltjie kittelaar

en die polsende grootmaak van jou tong -

mag dit dan verdor soos ‘n dooie vyeloot

mag dit stom word soos ‘n mondnar sonder tong

mag dit per ongeluk deur ‘n hond

ingesluk en uitgekak word op die strand

 

en indien my hart ooit die aanraak

van jou hande sou vergeet

sou verraai die golwing van jou hare

die ontvanklike oopgaan van jou dye nie onthou -

mag die skerpregter se mes dit deurboor

mag dit versmoor in die rooivloed van bloed

mag dit deur die eeue woed van pyn

want dan het ek jou hart nooit geken nie

 

en ek het vir wind en sotword gelewe

ja, ook dan sal die dood te genadig vir my wees[.]

 

(Slotstrofes van “die eed”, uit die windvanger, 2007 - ‘n gedig en bron wat nie in die kopieregerkenningslys agterin die bloemlesing vermeld word nie.)

 

Olivier stof dus nie maar net die vertroude Afrikaanse minneversskat af met hierdie uitgawe nie. Ek het genoem dat sowat 85 gedigte toegevoeg is tot die 2001-keur. 17 digters se name verskyn nou ook die eerste keer in die erkenningslys.

En die gedigte is hierdie keer volgens ‘n heeltemal ander beginsel gerangskik as in die vorige uitgawes: chronologies volgens eerste publikasiedatums in plaas van alfabeties volgens die digtersvanne. Dít bring myns insiens ‘n (gesonde) relativering van die kwalifisering “mooiste” teweeg. Olivier noem in die bloemlesinginleiding dat resensente voorheen “‘n verduideliking van die arrogante titel van die versameling” gevra het. Ek reken hulle het in minstens een opsig tereg hierop aangedring: Tematiese bloemlesings is tipies hede-gerig - ook wat in die verlede geskryf is, word in die lig van vandag se poësieopvattings beoordeel. Die alfabetiese plasing volgens outeursname van voorheen het die tydgebondenheid van style en literêre smake probeer ignoreer.

Die nuwe rangskikking vee nie die bepaling “die mooiste” uit nie; dit laat ‘n mens ‘skoonheid’ ewewigtiger in die lig van periodekodes sien. En laat ‘n mens des te meer respek kry vir wat mooi bly oor prosodiese en stilistiese eragrense heen - soos vir die volgende strofes uit A.G. Visser se “Rosa Rosarum”:

 

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose

Duist’re geheime vertrou aan die nag;

Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.

Drome en liefde die lang somerdag.

 

[...]

 

Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,

Open die lotus haar heilige kelk,

Dan eers bereik sy die hoogste - Nirvana -

As sy in glorie van songloed verwelk.

 

[...]

 

Kom as dit skitter van dou-diamante,

Rosa Rosarum, in my Paradys,

Dat ek my blomme, my bome, my plante,

Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

 

Onvermydelik, vanuit so ‘n literêr-historiese hoek gesien, begin ‘n mens dan wonder oor die ‘verteenwoordigendheid’ van die keuse. Nie omdat ‘n mens krities wíl wees nie; gewoon uit entoesiastiese meelewing. (Olivier nooi ‘n mens juis, en tereg ietwat tong-in-die-kies, in sy inleiding uit om hom te “vermaan”, waar nodig; om hom te “laat weet [...] wat ek misgekyk het”.)

Ek noem ‘n paar vrae en gedagtes wat, al lesende, in hierdie verband by my opgekom het.

Kon daar nie ‘n skeutjie volkspoësie toegevoeg gewees het nie - byvoorbeeld uit die volkskwatryneskat wat Pieter W. Grobbelaar in Die rooilappieskombers (1997) versamel het, en waarvan talle met vryery en die liefde te doen het? Die gerf wat hier geoes is van vóór Dertig, lyk hoeka skraal.

Van die Dertigers gepraat: Verdien Uys Krige om so totaal afwesig te wees hier? Haal sy “Swaels bo die kamp”, uit Hart sonder hawe van 1949, nie dalk die paal nie?

Pirow Bekker is nog ‘n naam wat opvallend ontbreek. Die liefdesvers-afdelings in sy ‘ouderdomsbundels’ Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008) het mý egter ontroer.

Toe ek die keuse uit Ina Rousseau se oeuvre betrag, het ek dadelik die onthou-vers “Jan” uit ‘n Onbekende jaartal (1995) gemis:

 

Terwyl sy vir haar gesin ‘n broodjie

van water en witmeel maak,

dink sy weer aan ‘n man met die naam

Jan. Hoe hy eens op ‘n tyd ‘n baadjie

gedra het van bruin riffelferweel

en die woord dadelik

stukkend gebreek het tot drie enkelklanke

een dodelike stormdonker dag. So: daa de lik -

en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik

is onskadelik. Sy plaas die pan

in die oond en gaan na die hoofslaapkamer.

Baie stadig kam sy haar hare

terwyl sy deur die raam

na die sonsondergang staar.

So baie herinneringe,

so baie herinneringe deur so baie jare

van haar bestaan,

aan ‘n man met die naam

 

Jan - [.]

 

Lina Spies se “Groet in pers” het my na Van Wyk Louw se “Groet in bruin” laat soek - en toe ek deur Tristia (1962) blaai, kom ek vier bladsye vroeër op die onvergeetlike liefdesverlatenheid-vers “Sy sal nooit kom nie” af, wat ek óók in die bloemlesing sou wou sien:

 

Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.

Moenie wag. Moet niks verwag nie.

Leer die verwagting af. Leer die wág af.

Leer áf om te luister. Leer af.

 

Die genot wat Danie Marais my met sy vlerksleeppoësie in die eerste afdeling van Al is die maan ‘n misverstand (2009 ) besorg het, sou, indien ek in Olivier se skoene was, hom ‘n tweede gedig in die bloemlesing laat verdien het. En ek sou iets uit Johannes Prins se Een hart (2009) ingesluit het; en ek sou …

Publikasieruimte is nie onbeperk nie, ook nie goedkoop nie, soos Olivier en sy uitgewer seker selfs beter weet as ek. (Waarskynlik vandaar die slapband-baadjie wat hierdie uitgawe dra; die tweede druk van die vorige het al dusdanig in die boekwinkels verskyn.) En keuses kan nooit sonder persoonlike voorkeure uitgeoefen word nie.

Ten spyte van kommersiële beperkings het die samesteller en sy uitgewer kon regkry om kennelike liefdeswerk te verrig.

Daarom: Duim gelig vir hulle!

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Tydelose gety

Sunday, December 12th, 2010

Tydelose gety. Gedigte deur Lina Spies. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-383-6. Prys: R120. 64 bladsye. Sagteband.

 

Omslag

Omslag

Vroeër vanjaar het ‘n keur uit Lina Spies se poësie, deur Johann de Lange onder die titel Die skyn van tuiskoms byeengebring, by Human & Rousseau verskyn. Daardeur het ‘n mens die geleentheid gekry om die beste kante van Spies se digterskap in die kalklig te sien.

Dit was ook ‘n kans om die kenmerke van haar oeuvre in oënskou te neem teen die agtergrond van ontwikkelinge in die Afrikaanse poësie oor die afgelope veertig jaar. In my resensie oor dié keur op hierdie einste webblad kon ek my sieninge hiervan weergee; ek staan dus nie weer daarby stil nie.

Wat wel gesê moet word, is dat bogenoemde beskouingsgeleentheid van die voortreflikste aspekte van Spies se digkuns ongelukkig ‘n mens se teleurstelling met wat nou, in dieselfde jaar, in Tydelose gety aangebied word, groter maak. Gebrekkige aspekte van haar digwerk staan, as ‘t ware by wyse van kontrastering, nou uit in hierdie negende bundel van haar.   

Die meerderheid gedigte in die openingsafdeling is geskryf na aanleiding van ‘n (onverwagte) liefdeservaring deur die ongetroude sewentigjarige. Sy vrees, luidens die bundelopeningsgedig, dat dit “in hierdie halfwas land [...] bejammerenswaardig” geag word “om na dertig ongetroud te wees / en ondenkbaar om na sestig verlief te raak”. Die spreekster se belewing van laasgenoemde toedrag van sake is klaarblyklik eg, en dit bring ‘n skrynendheid in die treffendste gedigte in die bundel teweeg. “Voorjaarsversoek”, “Skyn”, “Heelal”, “Moment”, “Gewoon” en dalk ‘n paar ander uit hierdie afdeling gryp ‘n mens aan. Vergelyk:

 

Voorjaarsversoek

 

Hoe dra September

die vrag van geure op sy glimmerende lug?

 

Om vir wie jy liefhet

swaar te weeg,

moet jy so lig en so deursigtig word

soos hierdie vroeë lentedae

en swewend soos ‘n swetterjoel skoenlappers

oor sproeiwit yslandse rose

onder hierdie lighartige, uitbundige, speelse son

wat lyk asof hy sing.

 

In “Gewoon” word geykte uitdrukkings en twee aanhalings funksioneel benut om iets van die kosbare in die gewoon Afrikaanse van die geliefde se naam te help evokeer:

 

Deesdae huiwer ek om iemand anders as jy

op jou naam te noem

omdat dit so spreekwoordelik is in Afrikaans,

maar jy vernieu elke cliché;

deur jou is daar weer goud

in die mond van die oggendstond:

Morning has broken like the first morning;

Blackbird has spoken like the first bird.

Praise for the singing! Praise for the morning!

Praise for them springing fresh from the Word!

 

As ek jou naam fluisterend sê

soos iemand wat die vokale en konsonante

van ‘n moedertaal van voor af leer,

maak jy die wêreld om my

nuut en ongerep en skoon

soos toe God die eerste keer gedeklameer het:

Dit is goed

 

en die lig gestraal het oor wat ‘n sekonde vantevore

chaos was en leegheid en die duister wêreldvloed.

 

In die res van die bundel is dit egter juis die geykte, die retoriese wat in die pad van egte inlewing deur die leser kom staan - of dit nou die idealisties-behoudende blik op familiale, stamverwante herkomste en op die verbondenheid aan land en taal van die tweede afdeling betref, of die huldigings van vereerdes van die derde afdeling, of die religieus getinte bemoeiing met leerstellighede en met uiterste beproewings van die slotafdeling.

Dis nie nuus dat Spies sterk uitgesproke was/is in haar gehuldigde opinies oor bepaalde aangeleenthede nie; ook nie dat dit neerslag in haar verskuns vind nie. Dikwels gee dit aanleiding tot beskoulike, bespiegelende skryfwerk - soos die talle en talle retoriese vrae in Tydelose gety reeds aandui. Dié beredenerende, retoriese meegevoerdheid vind neerslag in sintaktiese uitweidings wat meermale hele strofes en selfs groter gedigdele dek. Abstrakte en prosaïese segging voer dan ook alte dikwels die botoon in sulke sinsvlegsels. Één voorbeeld (die twee slotstrofes van “Geen eiendomsreg”):

 

Jy laat jou Suid-Afrika los

en sluit aan by die groot eksodus

wat families uitmekaar uit skeur

en ek wonder of jy jou ‘n terugblik gun

wat die slawe ontsê is toe hulle gevaar het

uit die hawens van die vaderland wat hul liefgehad het

 

en soos die behoue seevaarders van ouds

- ontkom aan storms en skeurbuik -

wat die seën van God gevra het op die kolonisasie

van ‘n onherbergsame en onbekende land

kniel ek op my geboortegrond

en stamel na die swygende kranse

dat elkeen wat hier ‘n holte gevind het vir sy voet

oor die gawes beskik wat Paulus roem

in die liriese crescendo van sy brief aan die Korintiërs

maar dat as dit strategieë van oorlewing word

die grootste nie die geloof en liefde is nie,

maar die hoop.

 

Geykte uitdrukkings - wat enersyds styltamheid tot gevolg het, andersyds, net soos die apostrofiese aansprekings van en/of opdragte aan afwesige of gestorwe beroemdes, pralerig aandoen - deurspek die grootste deel van die bundel. Op byna elke bladsy lê verslete taalwendinge vir die opraap: “wellus” wat in die “lendene gloei of smeul”; “sierlike skadu’s” van bome se takke; “blosende kleintjies” se “mollige lyfie[s]“; “knallende kleure”; “oë werktuiglik neergeslaan”; “die vervlietende  rooi / van die ondergaande son / teen ‘n verdonkerende hemel”; ensovoorts, ensovoorts.

Dit is so dat Spies se poësiebeskouings ouderwets-elitêre elemente bevat; dat haar digterstem nogals ‘n plegstatige toon kan aanneem. Vergelyk die openingstrofe van “Daphne en Apollo”:

 

Die kreet uit haar oopgesperde mond

om die bewaring van haar maagdelikheid

kon net sowel gekom het

uit orgastiese ekstase in die arms van Apollo

as hy haar soepel welwende meisieslyf

ingedring het om haar een te maak

met sy lenige, hoekiger jong liggaam[.]

 

Dit hoef nie tot esteties verslete gedigte aanleiding te gee nie, soos vroeër vanjaar se Die skyn van tuiskoms oortuigend gedemonstreer het.

Maar die hoofsaaklike onbesieldheid waarmee die retoriese grepe en wendings opmekaar gestapel word in groot dele van Tydelose gety, werk fnuikend.  Selfs die verwoordings van uiterste menslike lyding in die slotafdeling word hierdeur ontkrag - júís opmerklik gemaak deur die trefkrag van die enkele uit Duits vertaalde gedigte van Paul Celan en Pavel Friedmann wat in dieselfde afdeling naas Spies se eie staan. 

Luidens byvoorbeeld die gedig “Lectori salutem” wou Spies met hierdie bundel uitstyg bo die geykte:

 

[...]

Ontvang, liewe lesers, hierdie verse,

ongeag jul leeftyd,

as die oomblik in die tyd

waarop ‘n mens jou kan verhef

bo alles wat vals is en stereotiep.

 

Dis dan besonder ironies - en jammer - dat sy haar in dié poging so ryklik gaan bedien het van die bombas.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Toevallige tekens

Thursday, November 18th, 2010

Toevallige tekens. Gedigte deur Martjie Bosman. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-400-0. Prys: R150. 80 bladsye. Sagteband.

Toevallige tekens
Toevallige tekens

Met verse in die tematiese bloemlesings Groen (1990) en Ons klein en silwerige planeet (1997), en met haar solodebuut, Landelik (2003), het Martjie Bosman die aandag getrek as ‘n digterstem met ‘n besondere ekologiese sensitiwiteit.

Dié sensitiwiteit betref die natuur in die breë, maar sluit spesifiek ook ‘n verbondenheids- en verantwoordelikheidsgevoel in jeens Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse platteland (waaronder ook die Afrikaanse erfenis),  én jeens Afrika.

As “groen” digter is die soms opstapelende benutting van eie- en soortname as ‘t ware ‘n konkrete manifestasie van Bosman se respek vir en sorg om die verskeidenheid en integriteit van identiteite te midde van bedreigende omstandighede. In Toevallige tekens is daar byvoorbeeld Kamante, “[d]ie seun met die sere aan die been”; of “dokter Clara Santos / met die oë vol van mededoë”; of Flora Mavundla, wie se man “maandeliks / van die myn af ‘n deel van sy loon [stuur] / sodat sy kan sorg van die kinders”; of Sophie Lubisi, “donker en klein”. Maar ook plekname soos “Shongwe Mission Hospital”, Beira, Kigale, Mbozini, Gstaad, Taag en Twickenhamlaan; en spesiename soos eendagskoon, laventel, katjiepiering, mikstert, diederik, witstinkhout, tipuana, swartwitpens…

In die gedig “Mutilados” word die verminkte vroue van die bevrydingstryd in ‘n voormalige Portugese kolonie gedenk aan die hand van hulle welluidende name alleen - en waaronder die naam “Maria” herhaaldelik opklink ter versterking van die indruk dat die noem van die name ‘n roubeklag met religieuse newetone word.

In ‘n paar gedigte in Landelik het Bosman reeds die onmag van taal en poësie bely om die verskynsels en ons belewenisse daartussen enigsins indringend of omvattend weer te gee. Hierdie tweede bundel van haar begin weer met so ‘n gedig:

 

Op die spoor

 

Wildernis is nie eenvoudig nie.

Sou dit maar iets aan ons wou wys,

iets wat soos ‘n helder fluit styg

uit swamme op ‘n verrotte stomp.

Sou ons ‘n duidelike woord kon vind

vir die kort lewe van termiete

en ‘n bruin arend behoedsaam op ‘n tak.

Wat is al gesê oor ‘n dooie buffelkalf,

die woekergroei van waterhiasint?

Swart miere streep oor ‘n pad.

‘n Kiewiet weerkaats in ‘n poel.

Bruin kewers in ‘n lae web gevang.

Sou ons maar ‘n metafoor kon vind.

‘n Patroon om af te lei.

‘n Verhaal om te vertel.

In die sand lê spore kruis en dwars

en droë blare val daaroor.

 

Die bundeltitel, die veelseggendheid daarvan betreffende die menslike seggingsonmag, weerklink in die slotgedig, met ‘n ewe veelseggende titel en ‘n treffende beeld as ruggraat:

 

Toevallige digter

 

Aan die kern sit kennelik

die werkwoord “val”,

aangelap met setsels:

in-, toe-, by- en voor-.

Soos ‘n meteoriet

breek iets skielik

deur bufferlae

om die afgeplatte bol,

ontbrand en pyl

met ‘n vuurpad

tot in ‘n nagtelike tuin

waar onder fosforglans

die swart swaan

‘n oomblik lank verskyn.

 

Ons staan, luidens die bundelmotto wat Bosman aan N.P. van Wyk Louw se werk ontleen het, met ons tekortkominge en met dié van die mensetaal voor “dié Woord

/ vol bybetekenisse en bowe-tone, / té vol vir bloot net beteken en betekenis”. Inderdaad: “Wildernis is nie eenvoudig nie.”

Tot die “bybetekenisse en bowe-tone” van die werklikheid behoort ook die onontkombare verganklikheid. (Vandaar die foto van ‘n versnipperde eendagskoon-kelk op die voorplat.) “Life is very unusual,” haal Bosman vir Nassim Nicholas Taleb aan as motto van die slotafdeling van haar bundel. Dit wil sê: Die lewe is nié die reël in die skepping nie, én dit is (daarom) wonderbaarlik, selfs paradyslik om te ervaar:

 

            Ek soek nog na ‘n metafoor

vir die vergaan van ‘n lyf,

tevergeefs in hierdie soet seisoen.

As die rose pieringgroot oopvou

[...]

bly die metafoor van aftakeling

my gelukkig nog ontwyk.

In hierdie soet seisoen

sal ek nog talm by dié tekens

in hierdie tuin van alle liefde.

(”Soet seisoen”)

 

Dieselfde geld tale en digkunste. Ek het ‘n knop in my keel betrap by die lees van die slotgedig van afdeling 2:

 

Vanishing voices

The extinction of the world’s languages

  • - Daniel Nettle & Suzanne Romaine

 

Hoe onvoorstelbaar eensaam moet die laastes wees

wat nog woorde van gewone dinge weet,

hoe onvoorstelbaar eensaam die ore wat nooit meer

die woorde hoor waarmee die dinge genoem is nie.

Hoe eensaam die stemme wat vergeefs die son besing,

hoe eensaam as die koue nou net joune is,

as die wind jou roep vergeefs oor die vallei wegdra.

Hoe onuitspreeklik eensaam dat niemand jou verstaan

as jy sou sê nie: “Ek vrees dat alles doodstil raak.”

Hoe onuitspreeklik eensaam die kennis

dat in jou mond die sinne stol, die woorde

waarmee jy behoort het aan ‘n verlore stam.

 

Dis juis afdelings 1 en 2 waarin verminking, lyding, misdaad, doodslag en die gepaardgaande vrese van die huidige Suid(er)-Afrika in die kollig staan, sodat ‘n “[h]esperiese neerslagtigheid” selfs dreig om die subjek in die gelyknamige gedig te oorval. Toespelings op bekende gedigte van Ingrid Jonker, D.J. Opperman, Van Wyk Louw en Toon van den Heever word effektief benut om (onder meer) verwilderende hede met identiteitsbevestigende verlede te kontrasteer. En klink iets van C. Louis Leipoldt se “‘n Handvol gruis uit die Hantam” nie ironieserwys deur as die “breek-en-gryp”-slagoffer haar besittings byeenraap in die volgende gedig nie?

 

            Handsak

 

By die plek van breek-en-grypslae

lê besittings argeloos uitgestrooi:

Uit al dié dinge van min waarde

sal ‘n mens dalk ‘n lewe kan herbou -

‘n gesig kyk uit ‘n natgereënde

paspoortblad bleek na boontoe;

‘n rybewys skuil half onder gras;

tussen bou-afval lê ‘n besmeerde

ID-boek ouderdom en blyplek bloot;

‘n verwese sakdoek verkondig

intieme nommers van bekendes,

die huisarts, die versekeraar;

lipstif, ‘n bril, ‘n hoofpynpil,

kaartjies vir die simfoniekonsert.

Ek raap dit alles blindelings bymekaar,

probeer onthou hoedat ek gister was.

 

Téén hierdie vernietiging in voel die digter “dat jy nou / alle vensters oop moet maak / om in die woonhuis van die sinne / die kortstondige geilte te behou” (”Bosveldvisvanger”); dat die verskynsels aangegryp beleef en byvoorbeeld onder woorde gebring moet word om miskien so iets daarvan te bestendig. Dít is die sentrale tematiek van afdelings 3 tot 5 in die bundel. Één voorbeeld van hoe Bosman sodanige intensies glansend in vervulling laat gaan:

 

Wolf op die tweesprong

Na ‘n foto van Jim Brandenburg

 

Hy het reeds sy staanplek

op die ysskots verlaat

en gespring.

Sy skraal skadu weerkaats

swart in die ysblou water:

onbeduidend onder die groot groot lug,

onbeduidend op die spieëlsee, diep en koud,

onbeduidend teen die dreiging van grys wolke.

Maar op hierdie oomblik, nou,

waag hy die sprong,

sweef hy vry in sy onveiligheid,

los en bly oor alles wat syne is:

hiérdie stuk dryfys, hiérdie see,

hiérdie uitgestrekte yl bestaan.

 

Myns insiens kry Bosman dit in hierdie bundelafdelings reg om plek-plek eggo’s van ander digters se werk - hoor ‘n mens nie byvoorbeeld Wilma Stockenström en T.T. Cloete fynweg deurklink in dele van bostaande vers nie? - in ‘n verdere intertekstuele funksie te benut: die aktivering, sodoende ook bewáring/wáármaking, van ‘n literêre tradisie.

Die belydenis aangaande die digterlike seggingsonmag vind myns insiens funksionele uiting ook op stilistiese en vormlike vlakke in Toevallige tekens. Pretensies dat ‘n omvattende of deurvorsende greep op die dinge moontlik is, word vermy. Vryeversvorme word hoofsaaklik ingespan, soms met vaster geneigdhede, soos eindrym wat meer “toevallig” as volgens vaste patrone opduik. Wanneer vaste vormgewing wel voorkom, soos in “Die kind van Kigali” (met sy eggo’s van een van Ingrid Jonker se beroemdste gedigte), voeg die dwangmatigheid daarvan op funksionele wyse ‘n element van “noodlottigheid” by tot die strekking van wat gesê word.

 

            Die kind van Kigali

 

Dis die kind van Kigali wat moet loop

om vir die gesin ‘n brood te gaan koop.

 

Die kind kom gou terug met die brood

en vind om die huis die spoor van die dood.

 

Die aanval was oorwoë en subiet:

Met mortiere is alles platgeskiet.

 

Die kind swerf deur die land sonder ‘n pas,

op sy skouers lê oorlewing ‘n loodsware las.

 

Die styl is eerder aan die ingetoë kant; verstild eerder as flambojant. Deur benoeming en beskrywing - eerder as deur metaforiek, aandagvergende woord- en klankspel en direk verdiepende of verruimende suggestie - word die dinge toegelaat om as ‘t ware vir hulself te spreek. Waardeur “groen” bundels van Lucie Möller (Watermerke) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) uit die afgelope sowat ‘n jaar sterk in die herinnering geroep word.

Op my maak Bosman se bundel, hoe persoonlik die verwoorde belewenisse en sieninge daarin ookal is, ‘n indruk van brandende aktualiteit, in die besonder wat die Afrika-mens (ook die Afrikaner) se verhouding met sy omgewing betref. Dit sluit aan by wat al ‘n sterk stroming in die Afrikaanse digkuns geword het. Naas die name van Möller en Marais, kom dié van onder meer Eugéne Marais, C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Trienke Laurie en Carina Stander dadelik by my op.

Met Toevallige tekens word Bosman s’n na my oordeel ‘n besonder verdienstelike stem in hierdie name-rei. 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Versindaba 2010

Thursday, October 28th, 2010

Versindaba 2010. Bloemlesing saamgestel deur US Woordfees. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-291-4. Prys: R140. 78 bladsye. Sagteband.

Versindaba 2010

Versindaba 2010

“‘n Mens kan tans sonder enige vrees vir teëspraak sê dat dit besonder goed gaan met die Afrikaanse digkuns.”

Dít is die bevinding van Louis Esterhuizen in sy “Inleiding” tot Versindaba 2010. Daarin skets hy eers die heropbloei in die publikasie van Afrikaanse digbundels sedert “die droë jare” rondom 2000, voordat hy die redes gee vir die inisiatief deur hom en Marlise Joubert om ‘n jaarlikse Versindaba op Stellenbosch te organiseer en ‘n jaarlikse bloemlesing na aanleiding daarvan saam te stel. Hulle wou naamlik publieke en media-”blootstelling” aan Afrikaanse digters en digbundels help gee, en ‘n “waarmerk” verskaf van die stand en gehalte van die Afrikaanse poësie.

‘n Literêr-histories oorsigtelike bloemlesing soos Groot verseboek verskyn met dikwels groterige tussenposes. Daarom speel geleentheidsbundels soos die jaarlikse Versindaba tussendeur ‘n nuttige ‘boekhoudingsrol’ met betrekking tot ontwikkelinge in die Afrikaanse digkuns.

Ómdat Esterhuizen en Joubert op hierdie wyse kon meedoen om die huidige gelukkige stand van sake te help bewerkstellig en bestendig, het hulle verlede jaar, met die totstandbrenging van die Versindaba­-webtuiste, die internet-perd opgesaal om ‘n volgende bestemming vir die Afrikaanse digkuns te probeer bereik: groter internasionale blootstelling en verkeer.

Vandaar dat hulle die organisering van die Versindaba-byeenkoms aan die US Woordfees oorgegee het, wat derhalwe ook die samestelling van vanjaar se bloemlesing waargeneem het.

Nicol Stassen van Protea Boekhuis, wat vanuit die staanspoor een van die belangrikste borge van die Versindaba-onderneming was, lewer ook sy gebruiklike voorwoord tot die bloemlesing. Soos voorheen is dit ‘n interessante relaas. Hy wys byvoorbeeld op die (oënskynlike) teenstrydigheid dat digkuns tans wêreldwyd “heterogener” en “regionaler” word terwýl die digterlike gesprekvoering oor grense heen toeneem. Ook hý kom dus tot die gevolgtrekking dat internasionalisering, byvoorbeeld via vertaling uit en in Afrikaans, ‘n toekomsroete vir ons digkuns inhou.

Nóg uitlatings deur hom in dier voege:

            Ek vermoed dat [...] die tyd waarin Afrikaanse digters gepubliseer is sonder dat hulle in die “wêreldpoësie” belese is, verby is. Ek vermoed ook dat ons die laaste Afrikaanse literatuurgeskiedenis gesien het waarin dit geïsoleer van die wêreldliteratuur beskou word.

Ongeveer ‘n derde van die Versindaba-webblad se intekenare (wat uit meer as 120 lande kom) is uit die Lae Lande, soos ook in die geval van Protea Boekhuis se facebook-vriende, toon hy aan.

Myns insiens bewys sulke syfers dat Afrikaans-departemente aan ons universiteite wys was om Nederlands in hul kurrikula te behou, terwyl Nederlandse voorgeskrewe boeke op jammerlike wyse byna totaal uit Suid-Afrikaanse skoolleerplanne verdwyn het.

Stassen bring verder tydige hulde aan die uitgewer-redakteurs van Afrikaanse digbundels. Hy noem Martjie Bosman van Protea, Riana Barnard van Tafelberg, Etienne Bloemhof en Alida Burger van Human & Rousseau en Dineke Volschenk van Lapa by die naam.

Korttermyn finansiële voordele kan nie juis ‘n oorweging wees waarom uitgewers soveel sorg aan die publikasie van digbundels bestee nie. Die feit dat, volgens Stassen, “nie eers vier boekwinkels in die land [...] ‘n gesaghebbende aantal Afrikaanse digbundels aanhou nie”, bewys iets in hierdie verband.

‘n Mens neem dus met ‘n vleugie trots en ‘n skeutjie dankbaarheid ‘n publikasie soos Versindaba 2010 ter hand. Agtien digters, wat almal by vanjaar se indaba op Stellenbosch opgetree het, is met een of twee gedigte daarin verteenwoordig. Dit beteken dat meer as ‘n honderd digters nou in die ses jaar van die bestaan van dié poësiefees daaraan deelgeneem het, ongeveer almal wat tans as digters aktief is in die Afrikaanse literêre veld.

Die eerste deel van Versindaba 2010 bevat (dikwels voorheen ongepubliseerde) werke van tien “gevestigde” digters (Floris A. Brown, Louis Esterhuizen, Tom Gouws, Joan Hambidge, Kobus Lombard, Johann Lodewyk Marais, Melt Myburgh, Marlene van Niekerk, M.M. Walters en Koos Oosthuysen - laasgenoemde as vertaler).

Onder alles in hierdie afdeling wat geniet kan word, haal ek ter illustrasie slegs die volgende van Marlene van Niekerk aan:

ek berei ‘n slaai voor die oë van my vader

 

ek berei ‘n slaai voor die oë van my vader watse blare

vra hy watse gras watse klein groen kiewiete

krakeel daar onder in die vlei van lig en van genade

hy blaai deur die jare ‘n wit servet om sy nek en tree met adel kuite

deur die toppe van wilde mosterd waarin die blou kieriekoppe

van tarentale roer en die someravond bruin en soet

op die stellasie sit en die horlosiegras afdraai in die stof

in hierdie kuil van skadu sê my pa en hef die skaal op in sy hande

sit die klein goue blaarvouer in die geul van die palmiet

te pierewiet vou my ook so o heer in u alsontsiende kroes,

maak my soet en hoor my lied laat hierdie groen kos

geseënd wees aan ons gees

my pa eet blare my pa eet gras en praat in tale[.]

Anders as sommige vorige jare, is daar hierdie keer weer ‘n afdeling met “nuwe digters”. Drie van die agt het M.A.’s in kreatiewe skryfwerk onder Joan Hambidge aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.

Hoewel dit moeilik is om digterskappe op grond van slegs twee gedigte elk te beoordeel, meen ek dat daar rede tot optimisme is dat minstens party van hierdie nuwelinge, soos ook gebeur het met Versindaba-opkomelinge in die verlede, uiteindelik met eie bundels vorendag sal kom. Verse soos Aniel Botha se “krismis” en Pieter Odendaal se “noord-namibië” sal ek byvoorbeeld lank onthou.

Die Versindaba-fees en -bloemlesing speel tesame kennelik ‘n stimulerende rol in die bedrywighede binne die Afrikaanse poësiesisteem. Waardevol is egter ook die genoemde besondere argivale en literêr-historiese waarde wat die bloemlesingreeks algaande aan die opbou is.

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Diorama

Monday, October 18th, 2010

Diorama. Deur Johann Lodewyk Marais. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-356-2. Prys: R140. 87 bladsye. Sagteband.

 

Diorama

Diorama

 

Met Diorama lewer Marais ‘n waardige voortbouing op sy vorige digwerk.

Temas en vormlike en stilistiese fasette bekend uit veral die vorige drie bundels van Marais, oorheers. Veral sy reputasie as voorste natuur- en omgewingsbesorgde digter in Afrikaans word versterk.

Soos ook in die uitgewersbrief aangedui, brei Marais met die fauna- en floraverse in hierdie sewende bundel van hom veral uit op sy “voëlboek” uit 2002, Aves - hoewel sulke gedigte ook in sy ander bundels ‘n belangrike rol gespeel het. ‘n Soort versmuseum van spesies word algaande opgebou. Of, lewendiger gesien, en soos dit in deel III van die openingsgedig lui:

 

 

 

Ek wil in my gedig ‘n wildtuin skep

en jou uitnooi om besoek te kom bring

aan sy goed ingerigte boskampe

en wildernisgebiede langs waters

en by koeltebome waar daar rus is.

Gedigte oor soogdiere is in afdeling II van die bundel versamel, voëlgedigte in afdeling III en gedigte oor inheemse plante in afdeling IV. 

Maar dit gaan nie net oor die diere en plante self nie. Dis ook, en miskien veral, die mens se verhouding en bedreigende omgaan met hierdie dinge wat dioramies belig word. (Luidens die HAT is ‘n diorama “‘n visuele voorstelling waardeur ‘n skildering deur deurvallende lig lewendig na vore kom”.)

Die genoemde sentrale bundelafdelings II-IV word byvoorbeeld voorafgegaan deur ‘n soort natuurbewaringskundige én digterlike oriëntering in afdeling I. ‘n Mens kan jou verbeel dat dit dié twee, die digter en die natuurbewaringskundige, is wat in “Die spore van Laetoli” saam die res van die bundel in stap:

Ons twee, die aasmense, is die eerstes

wat in die skaduwee van Sadiman

se aswolk tussen die fluitdorings deur

na die opkomende son toe kan stap

met ons twee rye spore weggesak

op die pad na dié wat voor ons wegkoes:

haas, tarentaal, olifant en giraf.

Soms word die (lots-)verbondenheid tussen die mens en die ander skeppingsdinge sterk aangevoel. Één voorbeeld:

Rooijakkals

Canis mesomelas

 

‘n Wilde, ongetemde roep

sny skerp deur die klowe

en sterf weg in die nag.

Iets tintel teen my rug

asof daar hare op my groei

en regop sou moes staan.

          Na Alda Orton

Ook sê sulke verse dikwels meer van die mens as van die natuurdinge wat uitgebeeld word. Dringend word die verhulde aanklag deur die vormgewing in die volgende gedig:

Wildehond

Lycaon pictus

 

Die wildehond gee nie sy woord nie.

 

Die wildehond toon nie berou nie.

 

Die wildehond het nie skaamte nie.

 

Die wildehond kan nie verstaan nie.

 

Die wildehond ken nie sy plek nie.

 

Die wildehond sal jou nie groet nie.

 

Die wildehond is nie ‘n vriend nie.

Ander kere staan die mens as (beskaamde) vyand van dier en plant geteken:

Ratel

Mellivora capensis

 

Ná al sy gromgeluide en draaie

was die doodmaak van die rateltaaie

regtig nie te moeilik nie - ek skaam my

daarvoor tussen hierdie boek se blaaie.

Soos tevore in Marais se oeuvre, neem hy sorg om sy uitbeeldings met wetenskaplike kennis te laat klop. Onderaan die volksname vir die fauna en flora in die gedigtitels, verskyn telkens ook die wetenskaplike name. Die digter wil ‘n optekenaar en bewaarder wees soos die natuurkundige.

Of is hy soms ook maar net ‘n soort trofeejagter?

Rooiduiker

Cephalophus natalensis

 

Nóg ‘n dier moet vrekgemaak word

en in my vers in die stof byt,

met wyd oopgesperde kake

die laaste asem uitroggel,

dalk jammerlik ‘n bietjie bloed

by sy neusgate laat uitloop

en met dowwe oё bly lê.

Kyk, dié keer het ‘n sku ooitjie

in die waai van die Lebombo

mooitjies in my vangstrik getrap!

In afdeling V word gefokus op “[g]rondsake” - om die titel van een van die gedigte daarin te leen - met ‘n oog vir veral die sosio-politieke spoke van grondbesit. (In meer as een gedig hier kom dwalende geeste voor.) Plaasaanvalle is ‘n verdere manifestasie van dié kwessie waaroor gedig word. Let op hoe suggesties in hierdie verband met die minimum aan middele opgeroep word in:

Afrikaanse haikoes

 

I

Toe die duif opvlieg,

was dit vir hom ‘n teken

om die deur te sluit.

 

II

Dis nag en die maan

se perdehoef trap ligweg

op die vensterbank.

 

III

Ná hulle weg is,

het die bloed op die kosyn

‘n bruin swam geword.

Afdelings VI behels potretterings, wat meestal ook huldigings word, van figure wat deur hulle natuurstudie en -optekenings uitgemunt het (François le Vaillant, Phillip V. Tobias, Thomas Baines, Richard E. Leaky, en derglike); of wat dit as hulle “taak” sien of gesien het “om ‘n vinger te verroer / om soos Atlas die aarde te kan dra” (”Friedrich Dürrenmatt”).  Ten slotte volg ‘n afdeling met drie gedigte waarin die digter se verhouding met die natuur en met “hierdie stof” waartoe hy sal “terugkeer” (”RIV”, die bundelslotgedig), uitgedruk word.

In die verband van dié bundel en van sy raakpunte met Marais se voriges, verkry die indiwiduele gedigte bykomende waarde, vorm hulle onderling-na-mekaar-toe kaatsende onderdele van ‘n groter geheel - skyn daar ook op hierdie vlak ‘n soort lig deur hulle ter verlewendiging van enkelverse wat andersins weinigseggend sou kon wees.

Vergelyk hoe die volgende enkele, haas metonimiese duiding van Jane Goodall se reddingswerk met sjimpansees sterker resoneer teen die agtergrond van die talle “groen” gedigte in Marais se oeuvre - d.w.s. bý die versterkende werking van die verwysing na die bekende Michelangelo-skildery in die eerste strofe van die gedig:

Jane Goodall

 

In die begin het God

met sy wysvinger

Adam s’n

liggies aangeraak.

 

Lank daarna het ‘n vrou

ook só deur tralies

‘n sjimpansee se vinger

liggies aangeraak.

Daar is ‘n gevaar dat sommige gedigte van Marais op sigself yl kan aandoen, in kwalik meer as mededeling of beskrywing kan vassteek; dat hulle naderhand té min bevat om poëties/esteties te boei - júís ook vanweë Marais se kenmerkend onderbeklemtonende, weinig demonstratiewe styl. Dit is inderdaad asof hy in hierdie bundel (veral in die afdelings met die diere- en plant-”portrette”) nog vollediger gehoor gee as voorheen aan die “sy” se raad in “Ex unguine leonem”, naamlik om as subjek te “leer terugtree uit die lig”.

Kortom, ek vrees dat die voortgesette aanpak van dieselfde soort onderwerp met dieselfde gestrooptheid op die duur eenselwigheid in die hand werk.

Gelukkig bring die digter op verskeie wyses variasie in hierdie gedigte teweeg, byvoorbeeld deurdat sommige gedigte beskrywend of sketsagtig geaard is, ander bespiegelend of besinnend; of deurdat in sommige die in die titel aangekondigde onderwerp die hele gedig oorheers, terwyl die benoemde dier of plant in ander eintlik net sydelings ter sprake is.

Ook: soms word spesies kennelik bewonder; ander kere gaan dit om menslike aantastings van dié spesies (se leefwêreld), of om die verhouding tussen mens en natuurding, soos aangetoon. En gedigte soos “Okapi” (’n eenwoordgedig: “Aha!”) en “Rietduiker” bring welkome stilistiese en tipografiese afwisseling.

         

Rietduiker

Phalacrocorax africanus

 

Hy het uit die kabbelende water

geglip

en op ‘n seepgladde klip

langs die rivier tussen die mopanies

gewip

e n  h o m  m e t  u i t g e s p r e i d e  v l e r k e

in die wit son

droog gedrup en gedrup.

 

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Nadoodse ondersoek

Monday, October 11th, 2010

Nadoodse ondersoek. Martina Klopper. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5224-2. Prys: R145,00. 64 bladsye. Sagteband.

Omslag

Omslag

Dit is telkens boeiend en uitdagend om ‘n nuwe digterskap in die gestalte van ‘n debuutbundel teë te kom; des te meer as dit, byvoorbeeld op psigologiese en  poësiebeskoulike vlak, om ‘n verwikkelde werk soos Martina Klopper se Nadoodse ondersoek gaan.

Nie verniet nie word aan die einde van die bundel verklaar dat dit voltooi is as ‘n M.A. in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Die uitdrukking dat poësie nie vir sissies is nie, kom hier vanpas.

Geen letterlike lykskouings word met die bundeltitel bedoel nie (hoewel Klopper in ‘n onderhoud wat elders op hierdie webwerf verskyn, getuig dat sy wel al so ‘n outopsie bygewoon het).

Dit gaan, eerstens, eerder om die ontrafeling van, en die intellektuele en emosionele beheerneming oor, bepaalde lewenservarings - volgens Jaco Barnard-Naudé in die essayportaal op hierdie selfde wefwerf waarskynlik te sien as ‘n rouproses, na aanleiding van liefdesontnugtering, wat deur middel van die poësie gevoer word. Daar is van verskillende verhoudings met mans sprake in die bundel, waarvan nie die minste nie dié met die vader. ‘n Gedig soos “Nom du père” (= die “naam van die vader”, ‘n verwysing na die Franse psigoanalis Jacques Lacan se konsep van die simboliese vader) suggereer dat die uitbeelding van aspekte van laasgenoemde (selfs bloedskandelike) verhouding nie as van outobiografiese aard gesien hoef word nie.

Nom du père

 

Jy’t jouself in haar panties ingepráát,

jul dogter - ‘n spieëlbeeld van haar ma -

se eerste woorde was “ek’s lief vir Pa”,

daarna het jy ophou praat.

 

In die begin was stilte en stilte was wet

op die reële maat van ‘n squeaking bed.

Nou is haar woordskatte onverstaanbaar

nes die vuil liefdestaal van haar pa.

Onvermydelik hou die betragting van sulke ervarings ook ‘n selfondersoek deur die “ek” (die subjek) in. Dis geen sentimentele of simpatieke selfblik wat gegee word nie. (’n Blad word nie juis voor die mond gehou aangaande byvoorbeeld selluliet, swangerskap-rekmerke, maandstondes, ensovoorts nie.) Via twee gedigtitels word byvoorbeeld na die “ek” as ‘n “skedonk” verwys. Vergelyk:

Skedonk II

 

Hy is ‘n diesel mechanic [sic],

sy dogter ‘n geroeste kar -

die agterplaas is swart gevlek

van haar onklaar enjin-hart se lek.

 

Sy word elke maand gebloei:

Ma pomp-pomp-hou-die-clutch

terwyl Pa koes vir die olie-spuit

uit sy skedonk se vuil onderbuik.

Dié ondersoeke, soos al gesê, geskied deur middel van - of dan: op die wyse van - die poësie; dis óók, luidens die slotgedigtitel, ‘n “[n]awoordse ondersoek”. Poësiebeskoulike gedigte, waarin sowel die inspirasies en prosesse van (die subjek se) digterskap as die subjek se blootgesteldheid aan die aanskouing deur die leser ter sprake kom, is dus relatief volop in die bundel. Só lui grepe uit die driedelige openingsgedig:

Patologie

 

[...]

Hier is my liggaam

op die praalbed van papier,

dis jóú taak om die oorsaak

van my dood te bepaal.

[...]

 

Gebruik die en masse-tegniek

vir interne disseksie:

weeg elke woord,

sny “hart” en “brein”

in dik stukke fillet [sic],

vind metafore vir “moord”.

 

Hoeveel weeg ‘n gedig?

Jou verslag sal bepaal;

lywig of te lig.

[...]

 

Die digter is ‘n patoloog,

‘n gedig die lykskouingsverslag:

om te skryf is om te soek

na die oorsaak van ‘n woord.

Meer as een maal word die subjek, wat in haar gedigte met haar lewenservarings en -kwessies ‘klaarspeel’, ook as ‘n “reeksmoordenaar” bestempel. Meer spesifiek word die New Yorkse reeksmoordenaar “Seun van Sam” (skuilnaam van David Berkowitz) as metafoor in hierdie verband uitgesonder.

Die toonaard in die bundel kan dus kwalik anders as ontluisterend, disillusionêr wees. Koel-afstandelik, stropend, bytend (self-)satiries, grimmig en grillig is terme wat by ‘n mens opkom as beskrywers hiervan. In meer as een gedig tree die motief van grimeringverwydering na vore.

Klopper se oog vir die abjekte laat ‘n mens plek-plek dink aan dié van iemand soos Breyten Breytenbach:

Kwatryn

 

Woorde krioel in jou mond

soos maaiers uit ‘n wond,

dikgevreet aan jou leuen

se versadigende gangreen.

Skending, vernieling, verval, siekte en dood is uitstaande motiewe in die bundel, en word meestal in verband met lewe gebruik. Selfs die liefde is “‘n pes /  wat binnetoe vrot”. Die dood is daarom die verkiesliker toestand, bied suiwering. Soos aan die slot van die gedig “Dialise” uitgedruk: “om te sterf is om te leef [...] lewe lewer leefste dood.”

Dis in hierdie verband dat die bundelmotto, “Hic locus est ubi mors gaudet succurere vitae”, al verstaan kan word. (Funksioneel só in die ‘dooie’ Latyns aangehaal, met die betekenis: “Dit is die plek waar afgestorwenes juig om die lewendes te help”).

Maar dit slaan in hierdie bundel ook op die “[m]isdaadtoneel” van die digkuns (soos die eerste bundelafdeling, met sy sterk poësiebeskoulike fokus, heet). Die subjektiewe lewenservarings van die digter as vrou word tot literêre objektiwiteit ‘vermoor’ via byvoorbeeld die beelding en die stilistiese en vormgewingsvernuf in die bundel: “digter ontbindend tot gedig”, soos die slotreël in die bundel dit wil hê. Eers híéruit, soos in die einste slotgedig geïmpliseer, is iets van ‘n herlewing moontlik:

[...] die lyk bloos

[...]

Spier-outolise het reeds ingetree

haar ledemate is buigbaar -

die aanvang en verloop, dus,

van rigor mortis onpeilbaar.  

Die lewenservarings en -kwessies ter sprake is die onderwerp van die middelste, twee langste afdelings in Nadoodse ondersoek. Afdeling 2, “Eksterne ondersoek”, behels ‘n fokus op die subjek se eintlik deurgaans skeefgeloopte en mislukte verhoudingslewe, byvoorbeeld gekenmerk deur mishandeling en molestering, leuenagtigheid, egskeiding, (buite-egtelike) seksuele vergrype en haatlikheid (as afloop).

In “Interne ondersoek”, die derde afdeling, word die loep oor innerlike sake gehou: liefdes- en wraakgevoelens; emosionele felheid teenoor kilheid; (vroulike) seksdrange en swangerskap; kwesbaarheidsgevoelens; siektetoestande (nierversaking en migraine). Motiewe uit (veral die jonger) Elisabeth Eybers se werk, ook in soverre dit die spanning tussen “hart” en “hoof” betref (vergelyk die driedelige “Vishudda”), weerklink hier op soms grimmige wyse.

Pa

 

Jy het jou in haar volbring

en so ‘n nageslag begin,

van jou het sy ryp geword

en uit haar het ‘n vrug gestort.

 

My lyf is ‘n oorryp papaja

in die helfte deurgesny,

uit my peul jou wilde hart

pit vir pit en pikswart.

Die digterlike ‘vernuf’ in die bundel word nogal opvallend gemaak: kragtige metaforiek, klank- en woordspel, kompakte versvormgewing. Terselfdertyd gee dit selde aanleiding tot volgehoue reëlmaat of vormgeyktheid. Eindrymgevalle kom byvoorbeeld sporadies voor, en dan liefs op die paarpatroon, veral in die gedigslotposisie. Meer dikwels word die patrone daarvan egter onderbreek, word dit afgeswak tot halfryme. Kwatryne en sonnetvorme duik op, maar sonder die geykte metrum- en rympatrone.   

Myns insiens kan hierdie min of meer weifelende stellingname tussen stilistiese en vormlike beheer/vastheid en onvolkomenheid as na twee kante toe funksioneel gesien word. Dit kan ‘n versvergestalting wees van die rasionele greep op die emosionele ontwrigting wat (slegs deels suksesvol) nagestreef (kan) word; én dit kan as ‘n uitdrukking gesien word van dit wat die digkuns in die traumaverwerkingsproses soos uitgebeeld in die bundel sélf verteenwoordig: objektiverende ‘geweld’ op subjektiewe inhoude.

Die digter is ‘n “eksorsis’ (bladsy 16); die digkuns as ‘n “monster” (bladsy 18).

Die merke wat hy laat

sal later rowe maak.

‘n Gedig is die litteken

van afgekrapte woorde,

staan daar in “Monster”.

Hier en daar het ek op ‘oneffenhede’ afgekom wat myns insiens nie bevredigend tuisgebring kan word onder sulke sieninge aangaande styl en vorm in die bundel nie:

  • ‘n paar twyfelagtige woordkeuses (”besete / met bose beelde”; “trek [...] ‘n [...] gewaagde lae hals aan”; “tussen die lyne / vou dit toe in snawel en rug” [pleks van "tot"?]; “My hart is ‘n ou kragboks: / swaar gelaaide drade / peul daaruit”);
  • enkele eindryme wat van dwang getuig (”kaal wortels droom van tak-wees / van weer groen en hand-wees“; “tot vlesige blare by my vel uitpeul - / my eie hart in dorings verseël“);
  • metafore wat nie oral haaks voeg nie (uit “Die brein is ‘n aartappel”: “hy eet jou saam met bangers op / uit jou mond peul jou mashed-up kop“); of wat ‘n bietjie verstandelik geforseerd uit die outopsiewêreld betrek is; of wat (miskien as gevolg van laasgenoemde) ‘verduidelik’ (moet) word. Deel II (reeds deels aangehaal) van “Nawoordse ondersoek” kan as voorbeeld dien (die vindingryke, klinkende momente daarin ten spyt):

Rigor mortis

 

Beelde is soepel:

as die liggaam suurstof verloor

en die proteïene in spiere

onnatuurlik verbind

soos geheue met die leuen

verstyf beeld tot metafoor.

 

Wanneer is sy dood?

En was dit moord?

Spier-outolise het reeds ingetree

haar ledemate is buigbaar -

die aanvang en verloop, dus,

van rigor mortis onpeilbaar.

Maar Nadoodse ondersoek bevat baie meer wat dubbel en dwars vergoed vir sulke onafhede. Dit beïndruk as bundelgeheel en munt uit in bepaalde besonderhede, soos uit heelparty van bostaande aanhalings behoort te blyk.

Ek was bevoorreg om, as eksterne eksaminator van Klopper se M.A.-verhandeling, haar bundel in ‘n vroeër stadium van ontwikkeling onder oë te gehad het. Ek meld dit omdat daar in die afgelope week in ander portale op die Versindaba-webwerf geskryf is oor die werkinge en (vermeende) uitwerkinge van slypskole en die begeleiding van kreatiewe skryfwerk. Ja, ek meen dat ek sweme van die eie digpraktyke van Klopper se studieleier (Joan Hambidge) kan verneem - maar dit is beperk genoeg om onnoemenswaardig te wees. Wat wél werd is om te noem is dat die verdere ontwikkeling/slyping van die bundel ‘n steeds meer afgewerkte produk opgelewer het, een waarin die eie stem van Klopper duideliker en sekerder spreek.

As dít die resultaat van skryfleiding is, wil ek sê: Maak gerus weer so.  

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

aan’t stap

Monday, October 4th, 2010

[A]an’t stap. Len S. Louw. Hond BK. ISBN 978-1-874969-17-4. Prys: R100. 48 bladsye. Sagteband.

omslag
omslag

Anders as gewoonlik die geval met solobundels, is aan’t stap nie deur die digter daarvan saamgestel en afgerond nie.

Dit bevat ‘n keur van byna 40 verse uit alles wat Len S. Louw oor ‘n tydperk van 40 jaar gedig het. Die uitgewersbrief lig ‘n mens in dat ‘n ernstige siekte hom verhoed het om “die taak van verwerking en oorweging en skaaf en skuur” te onderneem ten einde die bundel publikasiegereed te kry.

Op aandrang van kollegas en vriende het “keurders en vriende” dit toe gedoen.

Wat die mate van ingrype deur laasgenoemde was, is nie duidelik nie. Die respek vir die digter wat uit die uitgewersbrief blyk, laat my egter aanneem dat die finale produk minstens sy goedkeuring wegdra.

Vandaar dat ek die opeenvolging van gedigte as bedoeld beskou, as ‘n rangskikking wat ‘n bundeleenheid verteenwoordig. Ook die bundeltitel sien ek as ‘n betekenisvolle duider in hierdie verband.

Dit blyk dat ‘n lewensloop (in relatief skrapse besonderhede) geteken word in aan’t stap, hoewel nie in streng chronologiese volgorde nie. Dat die gedigtekorpus as ‘n aaneenlopende geheel aangebied word, sonder groeperings in bundelafdelings, kan as ‘n vergestalting van die lewensloop-gedagte gesien word. Tematiese gedigreekse kan wel onderskei word: Daar is huweliksgedigte; verse oor en vir die digter se kinders en ouers; oor die Namibiese plaaswêreld waarin die digter grootgeword het; verse met Nieu-Seeland as agtergrond (die digter het ‘n tydperk daar gaan woon en werk); gedigte waaruit die digter se nering as arts blyk; en die laaste agt gedigte is gewy aan die digter se slopende siekte.

Tussendeur kom ‘n aantal gedigte voor wat, in aansluiting by die bundeltitel, die reis- en stap-motiewe op die voorgrond stoot. ‘n Sekere verydelende onafwendbaarheid aangaande die menslike lot - onderworpe soos “ons” aan byvoorbeeld die verganklikheid is - word gesuggereer. Blykens die titelgedig, in die slotposisie in die bundel, moet ons

            [s]tap kleinword toe,

            verkyker-gunter spikkels ver

            is ons pikkewyne

            in die dimensies van sneeu.

            Stap ons voort,

            want ons het niks om na te laat nie,

            die strande skoongespoel

            woestyne skoongewaai,

            bosse donker toegegroei.

            Rotsetse sonder handtekeninge.

            Ver weg vervloei ons stap-stap soos mirages

            in die dimensieloosheid van hierdie ewige oomblik.

Die lakoniese “Te voet” vat dié lotsessensie wrang-satiries vas:

pienkvoet

kaalvoet

voor die voet

katvoet, vlugvoet

koevoet

sleepvoet

sesvoet[.]

‘n Ander “stap”-gedig in die bundel het bowendien newetone wat selfs iets noodlottigs aangaande die toekoms van inheemse mense (dus ook Afrikaanses én Afrikaans) kan impliseer:

Laaste staptog

 

Sy skud die werwels

in ‘n abbabondel

steek twee voete in die pad

en skop hulle voor haar uit.

 

Hier’t ek klaar gebly, huil haar hart,

hier’t ek die klippe blink gesit.

 

‘n Kar toet haastig verby

en sonder askies rol haar spu

hom ewe vies toe in die stof.

 

Sy boggel ‘n rantjie op

tuur oor die rimpels van gister terug

en vorentoe skel die lig te fel

vir klaarte, maar

 

knorrig karring sy die steekse heup

agter die belofte aan

van ‘n halwe klaargebakte brood

‘n spuit teen die diepe pyn

 

alles in ‘n witter vreemde taal

waarin sy ten minste

sin sal vind om weg te kwyn.

Tereg word in die uitgewersbrief gewag gemaak van “‘n sombere, amper siniese ondertoon” in die bundel. Maar daar is darem ook heelparty verse, veral onder dié wat oor die huwelik- en gesinslewe handel, of waarin teruggehunker word na die grootwordjare op die plaas (na “die geur / van reën wat Khoi praat op die dakke”!), waaruit lewensvreugde en -drif duidelik spreek. Hierby sluit die volgende liries-speelse vers met sy religieuse newetone aan:

Liedjie

 

Wie’t gesê die sonneblom

moet son se kant toe blom?

Wie’t my voete genoop

om klippies te skop in die loop?

Wie’t die skielike springhaas verpes

dat hy so gly-gly om graspolle es?

Wie’t die tarentale gehiertjy

om so kerrelend deur die gras te kierie - jy?

Wie’t die wind reg laat draai

om drywende beelde uit die wolke te waai?

Wie’t die bosse gepaljas

om silwergroen mantels aan te pas?

Wie’t gesê ‘n stukkie geluk

moet staccato aan my snare kom pluk?

Trouens, die gehegtheid aan die hiermaalse lewe én die ontgogeling daardeur word soms, soos in die openingsgedig van die bundel, as saambestaande aangebied:

Reis

 

Waar ons vandaan kom,

was dit bekend, veilig en vervelig.

 

Ons reis deur hierdie hitte

met hipnotiese selfoortuiging.

Ons is taai van die stof

stram in die hitte

begin twyfel aan die vreemde pad

wat elke vyf minute verby

dieselfde klipkoppie lei.

 

Gister het ons gepraat net van ons bestemming.

Ná baie pap bande en klipkoppe

het ons versagtend

die reis begin beklemtoon

as belangrik vir ‘n bestemming.

 

Ons reis is nou ons bestemming:

waar ons heengaan

is dit bekend, veilig en vervelig.

Op heelparty plekke in die bundel is daar tekens van digterlike dwang, van óórsegging in die nastrewing van poëtiese effekte. Sekere gesogte samestellings (”nagsê-naam”, “dynsver”, “wonder-soek”, “weet-soek”, “glipblink”, “verkyker-gunter”) en segswyses of beelde (”die musiek van ewewig”, “om skaapskap te laat wei”, “reuke, kleure, nat soos asters / mooi”, “die see kielie / onder die blaaie van branders”,  ”postpuberse mieliepapdye”, “al blaas die omkyk / beloftes van vergesigte”) getuig hiervan. En in klaag- en skeldgedigte soos “die kuur”, “Banneling ná die stryd” en “Zoo toe” lê die emosies nog te vlak, het dit nog te onvoldoende taal- en versgestalte aangeneem, om bo indiwiduele geldigheid uit te styg.

Maar dit wat beïndruk, ontroer of genot verskaf in aan’t stap oorskadu mankemente soos bogenoemde. Selfs al sou ‘n mens huiwerig wees om die bundel, gegewe die bepaalde ontstaansgeskiedenis, as ‘n afgewerkte eenheidsbundel te beoordeel, steek daar genoeg in om ‘n mens van Louw se digterskap te oortuig.

As poësieliefhebber is ek sy vriende en uitgewer dankbaar vir die geleentheid om die verse onder oë te kon kry.  

 [Beskikbaar by Protea Boekwinkels. Lees ook die onderhoud met Len S Louw hier.]

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

oewerbestaan

Sunday, July 25th, 2010

oewerbestaan. Melt Myburgh. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-369-0. Prys: R140. 76 bladsye.

 

oewerbestaan

oewerbestaan

Dis al amper ‘n dekade sedert ek van Melt Myburgh as digter te wete gekom het, naamlik deur ‘n bydrae van agt gedigte tot Nuwe stemme 2 (2001).

Intussen het dié oud-onderwyser (aan ‘n Engelse privaatskool in Grahamstad) bekendheid verwerf as redakteur van LitNet, ook via sy verslaglewering oor literêre gebeure in veral die Wes-Kaap op die einste webwerf. Onlangs is verneem dat hy by die Woordfees-span op Stellenbosch aangesluit het as mede-organiseerder van dié jaarlikse fees, asook van die jaarlikse Versindaba (tot verlede jaar georganiseer deur Louis Esterhuizen en Marlise Joubert).

Poësieliefhebbers se nuuskierigheid oor sy digterskap word nou bevredig met die verskyning van oewerbestaan, sy solodebuut.

Dis ‘n ietwat teruggetrokke, fyngevoelige maar tog beheersd-hartstogtelike persona wat na vore tree uit die bundel. 

Die bundeltitelwoord wys nie slegs heen na Myburgh se grootwoordjare op Karos, ‘n besproeiingsboere-nedersetting naby Upington langs die Oranjerivier nie. (Hiervan verneem ons veral uit die gedigte van afdeling1 in die bundel.) Ook die eenkant-houding van die buitestandersfiguur, die betragtende bewonderaar van die driftige lewenstroom word hierdeur aangedui - van die stoepsitter wat “geduldig die agterplaas [fynkam] / vir leidrade wat dalk mag verklap / dat ‘n visioen op hande is” (eerste strofe van die titellose openingsgedig van die derde bundelafdeling).

Daar word méérmale op die stoep gesit in dié bundel, veral in die genoemde afdeling 3. En die bundelmotto (’n vertaling van ‘n ou Sjinese spreuk) lui:

as ‘n mens lank genoeg op een plek bly sit,

sal die hele wêreld mettertyd verby jou draai.

Vandaar - vanuit ‘n ietwat onttrokke posisie - is dit miskien makliker om ‘n (illusie van) deurskouing en beheer te handhaaf. Onbewaakte blootstelling aan die werklikheid, so word in die alleenstaande openingsgedig van die bundel gesuggereer (’n gedig wat, beeldveldspronge en al, myns insiens ook iets poësiebeskouliks kommunikeer), kan ontluisterend wees:

 

aankoms

 

daar is iets sexy in die manier

waarop die falcon sy flappe beur teen die wind

en met hidrouliese presisie neerstryk op warm teer

 

wanneer die kajuitdeur lig en treetjies sak

slaan die hitte bloedneus

 

die matador se hemp geruïneer[.]

 

As sensitiewe, gay persoon (soos ‘n mens al uit ‘n gedig soos “swem in die kanaal” uit die openingsafdeling kan aflei) moes die digter hom van jongs af ‘n buitestander gevoel het te midde van die veeleisende, nugtere en rigiede boerderybestaan in die woestynagtige gebied waar hy opgegroei het. Dis in die lig van só ‘n lewenservaring dat ‘n kort, titellose gedig soos die volgende veelseggend word:

 

sleepwaens met kafbale waterpas gepak

kruip in ‘n prosessie deur hekke wawyd oop

werkers wag in oorpakke, lusernhake in die hand,

gereed om die vrag by die koöperasie

se halfklaar piramide te voeg[.]

 

Sonder liefde vir daardie wêreld is die digter nie. Maar dan behels dit ‘n gekompliseerde, ironie-gelade deernis. Één gedig ter illustrasie:

 

terugblik

 

alles lyk so eenvoudig

deur die oë van ‘n kind

 

bekend aan my die flets gesig

van ‘n lyk uit die rivier gebring

 

my oog het gewoond geraak

aan trekvoëls in oranje kolomme lig

 

lokasievroue rek tussen takke

na nawels soet en pit en skurf

 

die herfs speel met windpompsterte

bedompig luier die aandwind in wingerdblare

 

hart-karos, besaai met motorwrakke

standplaas van omsingelde gedagtes

 

eendag kom ek permanent terug

om in ‘n kameeldoring se koelte te rus[.]

 

“[K]anale en onderpaaie” is nie verniet die titel van afdeling 1 nie.

Iets wat met die komplekse verhouding met daardie wêreld verband hou, is die tekening van die vaderfiguur in enkele boeiende gedigte. “[I]nfancio y muerte” in die eerste afdeling lyk plek-plek voorafskaduwend van “by my pa se dood” in die slotafdeling. Uit laasgenoemde blyk dat die vader selfmoord gepleeg het (”maneuvers vir dié klein slagveld sorgsaam beplan”). Die “ek” in die gedig stel hom die vader in die hemel voor, arbeidsaam “in die grootbaas se olyfboord”, wakend oor die geliefdes wat op die aarde agtergebly het. Diepe deernis, innig identifiserende medelye met die vader, blyk uit die onstellende slotreëls:

 

intussen hou ek die spieël angstig dop    

vir lyne wat jóú lees as voorsaat[.]

 

Van vroeg af in die bundel word ‘n behoefte uitgespreek om te ontsnap aan so ‘n (eintlik bedreigende) werklikheid (kyk die treffende gedig “visioen van die kanaalape”); ‘n strewe om dit te transformeer of transendeer. ‘n Lokkende figuur, wat redelik gou assosieerbaar word met die Spaanse digter Federico Garcia Lorca (vergelyk die Spaanse woorde vega en sierra, en die aanspreking van “dierbare frederik” in “karos”), duik al in enkele gedigte van afdeling 1 op.

Lorca lyk, gemeet aan wat byvoorbeeld Uys Krige in sy inleiding tot Verse van Lorca oor hom skryf (in 1987 by Human & Rousseau gepubliseer), na die identifikasiefiguur wat die ingetoë subjek in oewerbestaan wens te wees. Lorca was ‘n “vulkaan van geesdrif en lewenskrag”, onweerstaan in sy sosiale aantreklikheid, veelvuldig begaafd - aldus Krige. Dat hy homoseksueel was, en oor “‘n diep tragiese sin vir die lewe” beskik het, vermeerder die identifikasiemoontlikhede.

Vandaar dat die tweede bundelafdeling “om federico” heet, met die volgende openingstrofe:

 

ontvlugting bring troos

só wou hy altans glo

daarom rol hy ‘n kaart van spanje oop[.]

 

Die dor jeugwêreld van Myburgh (en ander dele van Suid-Afrika) word in ‘n hele paar gedigte hier verheffend parallel gestel aan die Spaanse suide (of ander dele van Spanje). Ook die vader word, in ‘n roerende gedig, by wyse van spreke na dié ‘grootser’ wêrelddeel (Lorca se geboorteplek) verplaas:

 

nét hier

fuente vaqueros

 

hierso, pa, nét hier

deur die landerye in die vega

kan jy met die honde loop

 

en soos christus op ‘n hoë noot

jou hande hemelwaarts reik

terwyl hulle op agterpote

jou lyf probeer natrek

 

hiér, pa, is die ideale plek

waarheen jy hulle ook kan lei

en met ‘n gedempte knal verlos

van pyn opgedoen met hondebaklei

 

soos don federico garcía rodriques eens

kan jy jou vingers berekend

oor die toppe van suikerbeetlote sprei

(die diere aanbiddend aan jou skene)

 

en as hulle vermoeid vas wil steek

sal jy met ‘n laaste blyk van genade

‘n oomblik lank wag

en verwonderd in die rigting van die alhambra kyk[.]

 

Dis eers in hierdie sfeer dat die grootliks onderdrukte (homoëroties getinte) sensualiteit tot duideliker botviering kan kom:

 

duende

 

dié gedig sneuwel in my hand

 

ek mis jou ek verlang ek wil aan

jou raak seën my met jou lippe

bederf my met jou hande wys my

af stal my uit beroof my van alles

draai my om eet my op ek sal jou

koester seun van my welbehae[.]

 

Ander wyses van omvorming of oorstyging van die alledaagse geskied deur die deurskouende, openbarende en verwonderde kyk, soos met die titel van die derde afdeling, “gesigte”, vooropgestel. Indrukke, insigte, verbeeldingsvlugte en vergesigte (ook aangaande die self), maar ook bevooroordeelde sienings en pretensies (uiteraard gesatiriseerd) word gebied in gedigte wat meermale aantreklik en/of treffend is (”eisteddfod”, “privaat skool”, “voor elsa se stoep I”, “gedagtes van ‘n stoepsitter”, ensovoorts). Gedigte oor die virtuele wêreld van digitale speletjies (”playstation 2″) en films (”sissy spacek in ‘n kombuistoneel”), asook oor die mistieke wonderwêreld wat deur “miss helen” in die Uilhuis op Nieu-Bethesda geskep is (”‘n beeld raak los”, “www.owlhouse.co.za”), kom voor - maar ook verse waarin ontdek word dat “die wêreld sy wonders versteek onder klippers / wat vir ‘n oomblik lank onder skoensole blink” (”gedagtes van ‘n stoepsitter”).

Die “donker stroom” van verval en die dood (om vir ‘n oomblik ‘n beeld by Eugène Marais te leen) maak egter dat die lewe self eintlik ook ‘n soort “oewerbestaan” is.  “[I]nkdood”, die slotafdeling, stel dié tematiek, en verwante motiewe soos verlies, versaaktheid en afskeid (en ook die digterlike ínskryf daartéén), aan bod.

‘n “[C]lose encounter” word deur die digter self beleef:

 

dagsê, mnr. myburgh

long time no see

jy het ietwat kleiner geraak

jou oë effens rooierig

jou ken ‘n aks skerper

jou mond stink na knoffel en dooie woorde

staan bietjie terug, so ja,

laat die warm damp opklaar

ek sien

daar’s ‘n love bite

op jou nek[.]

 

Een van die mooiste gedigte in die bundel staan ook hier - ‘n gedig wat herinner aan bekende Afrikaanse ‘liefdeswaak’-gedigte soos Breyten Breytenbach se “nagmaal” en “slaap klein beminde”, en Stephan Bouwer se “jy slaap nou”:

 

jy slaap nog, my skat

terwyl ek bloots op die rug van die highway ry.

onder my vingers vibreer

die klein spiertjies van jou lae rug.

in die baai trek die fregatte laer

fyn komeetstertjies waaier olierig agter hulle.

ons is beleër in ons liefde!

op die strandfront klap nigeriërs kleurvol hulle lappe uit,

(jy roer onrustig in jou slaap) ek wonder

op watter markplein is jou droom te koop.

 

werkgedagtes seil stroef saam met die eerste boeing in oor

                                                                          die stad.

my hart hunker na die soet reuk van jou slaap.

die taxi’s se getoet sit vas in die beton

en sinjale bly die spoor leepoog byster.

jou sluimering kerf lieflike patrone onder die laken.

ou mense trap met sweetbande en honde

‘n verbete mars teen die dood wat in die oggendmis hang

 

iewers los ‘n hadida ‘n smeekroep[.]

   

Uit die liefs onderbeklemtonende, eerder suggestiewe as uitsêende hantering van byvoorbeeld die vader- en gay-motiewe blyk ‘n sekere huiwering tussen ver- en onthulling in oewerbestaan. Dit is hoofsaaklik ‘n wins vir die bundel, deurdat die gedigte meermale aan suggestiekrag wen en gevolglik, deur die sterker appél op lesersdeelname, oorstyging van die vertolkte indiwiduele belewenisse help bewerkstellig.

Aan die debietkant staan die gevaar van mistifikasie, waaraan Myburgh myns insiens nie heeltemal ontkom nie. Om sommige van die gedigte wat inspeel op die lewens en leefwêrelde van Lorca en Helen Martins te verstaan, verg byvoorbeeld nogal besondere agtergrondkennis.  En wie is die “jy” en “ek” in “waarheen dra jou voete jou, my liefste”? Watter gebeurtenis en omstandighede moet ‘n mens jou voorstel wat tot die skuldgevoelens van die digter aanleiding gee in “beswering”? Waar bevind die skrywende ek hom in “grahamstad”? (Dit sou makliker gewees het om uit te maak indien “dié ou stadjie” as “daai ou stadjie” gestel was.)       

Maar selfs al trek ‘n mens hiervoor punte af, slaag Myburgh die toets van die solodebuut oortuigend. [O]ewerbestaan getuig van volbloeddigterskap.

 

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

   

 

Vlerke vir my houteend

Saturday, June 26th, 2010

Vlerke vir my houteend. Deur Kobus Lombard. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-354-6. R130.

 

Vlerke vir my houteend

Vlerke vir my houteend

Kobus Lombard se Geknipte naelstring uit 2001 was na my wete die heel eerste digdebuut wat deur Protea Boekhuis uitgegee is. Dit was in ‘n tyd toe uitgewers nie maklik sulke finansiële ‘waagstukke’ sou aangaan nie.

Vier jaar later kon Tussen wysvinger en duim egter by dieselfde uitgewer volg, nou ook Lombard se derde bundel.

Heelparty van die temas uit sy vorige werk is terug in Vlerke vir my houteend: die liefde vir die Namibiese natuur en landskappe, asook die (christelike) geloofsworstelinge en -belydenisse (beide in veral die eerste, maar deels ook in die derde bundelafdelings); die plattelandse mens se gevoelens van ontuisheid in die stad (in enkele gedigte in die derde bundelafdeling - minder dringend verwoord as in byvoorbeeld die digter se debuut); die (gemis aan ‘n vervullende) verhouding met die biologiese, “wegloop”-ma en die identiteitskwessies wat hiermee saamhang (die kort slotafdeling).

‘n Temakompleks in sy oeuvre wat aansienlik uitgebou word in hierdie derde bundel, is die poësie- en digterskapbeskoulike gedigte van afdeling II. (In die debuutbundel het die slotgedig en in Tussen wysvinger en duim die slotafdeling dié onderwerp aangeroer.)

Die eis dat die taal in versverband ‘n sintuiglik oortuigende werking moet hê, is veral opvallend. Vergelyk:

 

Taal

 

as woorde nie op my lippe

wil sterf nie

moet dit ruik

na kameelhout se vuur

dit moet vrank wees

soos rosyntjiebosblaar,

‘n duin se maanhaar

lemskerp na kan trek

 

as woorde kan blêr

soos pasgebore lammers

hoe kan dit ooit op my lippe sterf[.]

 

Dit is daarom tog ‘n bietjie ironies dat, naas bevredigende en onthoubare voorstellings, onderdele van die beelding in hierdie afdeling (maar ook in die ander afdelings, soos ook voorheen in sy oeuvre) mank gaan aan troebel- en gesogthede. Die (titellose) openingsgedig en die slotvers van hierdie bundeldeel bied byvoorbeeld sluitende, suggestiewe beelde van die gedigskryfproses. Ek haal laasgenoemde gedig aan, omdat dit ook die een is waaraan die bundeltitel ontleen word.

 

Vlerke vir my houteend

 

‘n ruwe eend

dryf tussen snawel en stert

op die gehekelde water

van die eikehouttafel

kraaloog staar sy na die man

met ‘n plank op sy skoot

en ‘n harpsnaar in sy oor

sy woordmes gereed

om vlerke vir sy houteend te kerf[.]

 

Maar dan lol dit in gevalle soos die volgende (uit hierdie én ander afdelings):

 

kewer ek my weg

in die rooi pit

van ‘n kameelboom se stam

piets blitse my

fyn tot vuurmaakhout

(Uit: “Water, hout, sand”)

 

hoe ver van die sweepklap

kan jou pen se op en neer

met jou oortrom resoneer

(Uit: “Wegskryf”)

 

somers buig my pen

as dit vrug wil dra

(Uit: “Ryping”)

 

Op ‘n hele paar plekke in die bundel word die geharde kameeldoring vermeld, en eintlik tot beeld van Namibiese bewoners (van menslike slag, al dan nie) uitgebou. Ook die gedig met hierdie boomnaam as titel is belangrik in hierdie verband:

 

Kameeldoring

 

kleintyd was jy die agterplaasboom

die klimboom en die tekenboom

vir my dom hande

in ydeler jare was jy net ‘n ver boom

op die horison, ‘n vryboom

met die maan agter sy takke

maar nou is jy die nabyboom -

ons bas het ewe vaal en skurf geword

ons wortels tas na dieselfde klamte

nes jy moet ek my kroon vol dorings

met gekromde arms dra[.]

 

‘n Gedig met bekoorlike momente strand op ‘n haperende slotbeeld. “[M]y kroon vol dorings” is ‘n uitdrukking wat dadelik bekende voorstellings van die lydende Christus met ‘n doringkroon op die hoof oproep. As in die slotreël dan staan dat dit “met gekromde arms” gedra word, strook dit wel nog met die voorkoms van die boom oortrek van dorings aan gekromde takke en twye, maar wil dit nie steek hou met die opgeroepte beeld van ‘n persoon wat met dorings gekroon is nie.

‘n Gesonde skeut digterlike (self-)relativering, soos in die gedig “Ek maak versies, Enos”, help dan om die leser se oordele in hierdie verband ietwat te versag.

Die derde afdeling, ongetiteld soos die ander in die bundel, maak die indruk van ‘n tematiese potpourri. Trouens, hegtheid en noodwendigheid van struktuur en samehang is nie ‘n opvallende kenmerk van die bundel in sy geheel nie. Die bundeltitel kry dit myns insiens kwalik reg om die hele inhoud daarvan te oorkoepel; dit speel té beperk toe op die digterskapstrewe en -ervaringe soos verwoord in die tweede afdeling.

Hoewel (noukeurig beplande) bundelopbou geen beslissende kriterium vir oortuigende digwerk of vir ‘n suksesvol geagte digterskap hoef te wees nie, wek die spesifieke, klinkende bundeltitel - soos dit boonop resoneer binne die konteks van die gedig waaruit dit geneem is - tog bepaalde verwagtings in hierdie verband. Vandaar dat ek meen die bundel as geheel ook ‘n bietjie teleurstel.

Soos die vorige Lombard-werke bevat Vlerke vir my houteend ‘n aantal gedigte wat op alte weinig uitloop; verse waarvan die betekenisimplikasies te kort skiet. “Briefwisseling”, “Gesprek met ‘n portret”, “Skryfplank”, “Konstante veranderlike”, “Moederskamer”, “Skoonmaakster” en “Foto’s teen die muur” is na my oordeel sulkes.

Maar daar staan in die bundel ook treffender werk. Naas enkeles wat hierbo aangehaal of vermeld is, noem ek graag nog “Klokkespel” (met sy T.T. Cloete-eggo’s), “Visserman”, “Ander oë”, “Hardekool”, “Sondag in Windhoek, 2007″, “Namibië”, “Verkyker”, “Eenrigtingkaartjie”, “Naggeluide”, “Terugreis”, “Sluitsteenwerf”, “Onthou” en “Ma se erflating”.

Die afskeidsgedigte na aanleiding van die afsterwe van die “wegloopma” van die slotafdeling bou plek-plek roerend voort op veral die gedigte in Geknipte naelstring waarin die soektog na haar verwoord is.

Lombard se verse is dikwels van korter bestek, en tematies en stilisties nogal beperk. Ander digters het al gewys dat dít nie ‘n belemmering op die pad na onvergeetlikheid hoef te wees nie. Hy kan dus bemoediging put uit die wete dat sy derde bundel al ‘n klompie gedigte bevat wat ‘n stewiger indruk maak as sy vorige werk. 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Notas uit die empire

Tuesday, June 8th, 2010

Notas uit die empire. Deur Hans Pienaar. Alto Media, mwhanspi@mweb.co.za. ISBN 978-06-620-4509-0.

 

Notas uit die empire

Notas uit die empire

Hans Pienaar, joernalis wat vanweë sy beroep dikwels buitelands reis, is ietwat van ‘n geleentheidsbesoeker aan die Afrikaanse poësiewêreld.

Meer bekend vir sy drama- en fotografiekunsbydraes by kunstefeeste (waarvoor hy al vir pryse in aanmerking gekom het), of vir sy nie-fiksie-skryfwerk (in 1992 is die Rapportprys vir die geskiedskrif Die derde oorlog teen Mapoch aan hom toegeken), het ‘n klompie gedigte van hom tog wel oor die jare in literêre tydskrifte en verskunsversamelings verskyn. En in 2002 het Die taal van voëls die lig gesien, ‘n selfgepubliseerde bundel deur Pienaar.

Teen die tyd dat ek egter kontak met hom kon maak om daardie bundel aan te skaf, was dit nie meer beskikbaar nie - volgens Pienaar te wyte aan een van die bekendste kwale van Suid-Afrika: misdaad. (Die dose met die meeste van sy bundelkopieë is gesteel, as ek korrek onthou, met die motor waarin dit was en al.)

Ek lei af dat ook André P. Brink nie Die taal van voëls onder oë gehad het nie, want die vyf gedigte van Pienaar wat in die 2008-uitgawe van Groot verseboek opgeneem is, kom almal uit Nuwe stemme 2 van 2001.

‘n Opvallende verskil tussen hierdie vyf gedigte en die verse in Notas uit die empire (voortaan: Notas) betref die vormgewing en stilering. Waar die vroeër gedigte vryer vorme gehad het, is die neiging in Notas na vastigheid, en daarmee saam na stilistiese eksperiment en geswollenheid.

Hierdie kenmerke van Notas staan vermoedelik in verband met, of verteenwoordig waarskynlik ‘n vorm- en stylvergestalting van die (gewelddadige) magsuitoefening en retoriek wat met imperiale politiek geassosieer word. Historiese én eietydse imperiums en tirannieke staatsbestelle word te berde gebring, soms op a-historiese wyse deuréén. In byvoorbeeld die openingsgedig, “Lank leef”, is die funksie van die a-chronologiese aanbod om die terugkerendheid van die imperiale strewe te beklemtoon:

 

Dis eenvoudig. Solank daar elektrisiteit

op hierdie aarde van gods (sic! - BO) is. Solank

die nulpunt sonder huiwering (Allah

sy behaag) staan by sy aansprake. So

dikwels as wat die koeie gemelk word

in lugverkoelde stalle (Boeddha bo).

So ver as wat die blote oog kan sien,

panteïsties ofte nie. Shakespeare is

die kommissaris van ede, Marco Polo

die doeanedokter, Hammoerabi houvas

die mikrofoon. Solank sekondes sekondes

is, en tril in hul orbitale soos Helena

van Troje op haar tone in haar desperate

striptease: Ek is die verdunner in jou bloed,

die asem van mag in jou murg.

 

Die empire is dood. Lank leef die empire!

 

Pienaar wil sodanige magswellus blootlê, ook die meer verhulde vorme daarvan, byvoorbeeld die hedendaagse variante wat onder die dekmantel van “demokrasie” voortleef, maar beheers word deur die (weer eens hegemoniserende) ideale van tegnologiese vooruitgang, inligtingsvloei en welvaartskepping. Hy skryf op die agterkant van die bundelomslag: “Vandag is daar [...] net ‘empire’ wat dwarsdeur die heelal strek, en in die virtuele ruimtes tussenin en daaromheen. Sy hoofkwartiere en hoofstede is oral te vinde, en nêrens. Almal staan in diens daarvan, en almal kom in opstand daarteen.”

Uit sommige gedigte in Notas spreek ‘n byna apokaliptiese wanhoop in hierdie verband. Nie verniet word George Orwell se 1984 deur middel van suggestie én direkte verwysing (die dubbele reeks “Tweeduisend-en-vier”) betrek nie. Vergelyk ook die slotsonnet uit die reeks “Die smarte van die empire”:

 

Later jare sal die ryk se uitverkorenes

hul seëninge en gemodifiseerde gene

in die suiwer bloed van eersgeborenes

tel. Die regering van die algemene

belang en gedrang sal gaan oor homo sapiens

sapiens en hoe in ‘n heelal van gebrek

ons sorg vir oorlewing van die mens.

In verrinneweerde woude en gestrek

oor megaplakkerstede sal die misrook

dryf waarin goddelike gedaantes spook

om groter aanhang onder die afvalliges.

En so sal ons aanbid word, die helde

wat die aarde nog moet red en selde

iets kan doen vir sy armsaliges.

 

Slegs in die enkele liefdesgedigte, soos “Hals” en “Maaglandskap”, is spore van behae en suggesties van ideologiese onbevangenheid te vind.

Treffende momente kom in bepaalde gedigte voor: sekere beelde in “Dienaar”, “Au clair de lune”, “Ete in die burokratiese hoofstad” en “Gedeeltelike sonsverduistering”; en ‘n gedig soos “Die tyd is ryp vir die revolusie” bevredig byna in sy geheel. Verder is daar egter werklik te min wat die mas op kom in vergelyking met die gedigte van Pienaar wat uit Nuwe stemme 2 in Groot verseboek oorgeneem is.

Die strenger vorme en gewaagde stilistiese aanpak wat hy gekies het, het, soos al deels gesê, té dikwels iets gedwonge, gesogs of geswolle tot gevolg: rymelary en rymdwange, byvoorbeeld bewerkstellig deur geforseerde sintaktiese omkerings, valse of twyfelagtige woordkeuses (”temende lewe”, as klaarblyklik in die eerste plek iets soos “wemelende lewe” bedoel word), en afkappings waarin selfs die gewone lettergreepbreuke geïgnoreer word (”meesterlik” wat as “mee- / sterlik” afgekap word om met “smee” te rym); dreunende klankherhalingsvorme, soos alliterasies en akkonsonansies, wat gepaardgaan met vertonerige maar weinig treffende woordspel en -nuutskepping (”om pletterbote / ploeter myne, tenks vertrap, vermink, vermank / beter al beter, monderige wonder verteer / bajonet, koeël, granaatgespat…”); lomp of ongewone, implikasietroebele fraserings en beelde (”winde [...] skuur / hul af teen hierdie mure”; “verdampte voetsole / in ‘n nulgrond”).

Die vyfde ‘sonnet’ in die reeks “Die smarte van empire” (ek plaas ‘sonnet’ tussen aanhalingstekens, want dit kom my nie voor of dié gedigte die wesenskenmerkende wending van die sonnet vertoon nie) illustreer baie van hierdie stylgeforseerdhede:

 

Ou tale glinster op uit versigtig ontblote

palimpseste, en in fyn beplande mutasies

ontflikker hul in skimpe van hergeboorte

en wil luister gee aan ou ryke se murasies

in ‘n futurale lig van nostalgiese verval.

Waar offerandes eers gemaak is en bloed

gestort is ter wille van vermaak spel pal

die logoletters wette uit van voorspoed.

In die kampanjes om ons drome, die beleg

van skadu’s om ons idiome, is die uitweg

afgesluit soos opgeskorte woordeboeke.

Die tale van ons harte waarin ons skuiltes

eenmaal veilig was weergalm uit die holtes

van die hinterland se afgesperde hoeke.

 

Die styl- en vormspel word ver gevoer in party gedigte, sodat dit soms grens aan konkrete poësie (”Tombe-taal”, “Vigelied”, “Prozac Dreams”) - maar myns insiens sonder besonder verdiepende effek. Dieselfde geld die gedigte-by-foto’s in die afdeling “Tweeduisend-en-vier”, wat meestal bly steek in impressieverwoordings wat implikasiegewys nie die spesifieke situasies wat deur die foto’s en die plekaanduidings ingegee is, verbygestreef kry nie. Alternatiewelik doen die pogings tot “betekenisverdieping” bepaald geforseerd aan.

Één voorbeeld van laasgenoemde (bladsye 94-95): By ‘n foto van ‘n windverweerde muur met die oorblyfsels van ‘n haarwasmiddel-advertensieplakkaat daarop, geneem by Mampong in Ghana, staan die gedig “Sand”.

 

Winde waai al dekades lank en skuur

hul af teen hierdie mure, laat laag

op laag van stof gevang in sweet

en dalk bloed sodat die blindelingse

tyd wat die skrif in braille kom lees

kan voel hier was mense ook, al kan

hy nie sien al wat hul wou hê is een laaste

vlaag om die hare te skik soos ‘n voël

haar vere as sy regmaak vir die vlug[.]

 

Meer indrukwekkend is die Peter Blum-agtige woordwaansin oor die Amerikaanse besetting van Irak in “Edenode” - maar weens die uitgesponnenheid daarvan begin dit op die duur ongelukkig verveel.  

Die ironie is dat die stilistiese en vormlike ‘geweld’ wat die taal aangedoen word, die ontstemming oor die verwoorde menslike vergrype ontkrag of fnuik. Pleks daarvan om belewing van afgryse en onthutsing oor die verwoorde gebeure en verskynsels te wek, trek die bombastiese stem van die spreker die aandag. Hiertoe dra die neiging tot abstrakte segging in baie gedigte (eerder as verlewendigende, verbeeldingprikkelende uitbeelding) nie weinig by nie. ‘n Gedig soos die volgende bly slap mededeling - ook omdat die beeldspraak wat wel voorkom, al geyk is:

 

Die empire heers diktatorloos en sonder

keiserlike dekreet of edik van konings.

Algar is nou howelinge aan die wonder

of hul ontvangers van belonings

is of teikens van messe in die rug.

Die gewone man dink dis demokraties

en klou aan die hardnekkige gerug

dat hy sy eweknie tot mag verkies.

Gemiddeld is sy wense en gematig

sy proteste teen alles wat te statig

plaasvind om ooit iets te kan vermag.

Dat sy wil swig voor groter besluite

geneem deur leiers wat hul te buite

gaan het hy nog maar altyd verwag.

 

Blykens ‘n gedig of twee uit die reeks “Die smarte van empire” besef die digter self iets van hoe sy digterskap te kort skiet - hoewel, weens die (lawwig-)ironiese trant waarin die gestel is, nie in die werklik kritiese sin soos ek dit hier moet aanvoer nie.

 

[...]

Die ritmes, gans te stadig, en ryme

wat hul lesers dwing tot swyme,

kan net trane pers uit weduwees.

 

Notas, tematies én in omvang ‘n nogal ambisieuse bundel, is mooi deur Pienaar self uitgegee (en sy fotografie dra heelwat tot hierdie indruk by). Ek skep dus geen behae daarin om soveel kritiek daarop te lewer nie.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Die skyn van tuiskoms

Tuesday, May 25th, 2010

Die skyn van tuiskoms. ‘n Keur uit die gedigte van Lina Spies. Saamgestel deur Johann de Lange. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5144-3. Prys: R160.

Die skyn van tuiskoms

Die skyn van tuiskoms

By die oorhandiging, in 1973, van die Ingrid Jonker-prys aan Lina Spies vir haar 1971-debuut Digby Vergenoeg (sy het ook die Eugène Marais-prys daarvoor ontvang), het Uys Krige ‘n standpunt oor literêre oorspronklikheid herhaal wat hy al voorheen uitgespreek het: “‘n Digter moet ‘n oorspronklike eie stem hê. Maar oorspronklikheid is dikwels ‘n gejaagdheid. As jy jouself is, is jy reeds anders - oorspronklik; Lina Spies is in haar gedigte haarself.” (Terblanche, 2009)

Veertig jaar later is die digterstem van Spies steeds so “herkenbaar” haar “eie” as destyds (luidens die samestellerswoord op die agterplat van die onderhawige keur uit haar werk).

Daarvoor sorg eerstens die “meditatief-outobiografiese” inslag van haar werk (E.C. Britz, 1999:588), en die herhalende terugkeer van sekere uitstaande onderwerpe en temas:

  • familiefigure en jeugherinneringe;
  • ‘n voorliefde vir bepaalde omgewings, met name die Noord-Vrystaat (Harrismith waar sy grootgeword het), die Boland (veral Stellenbosch) en Nederland (veral Amsterdam);
  • in samehang met laasgenoemde, die reistema;
  • (hoofsaaklik onvervulde) liefdesverhoudings en vriendskappe (wat soms in afkerigheid eindig);
  • vrouwees en kinderloosheid (waarin die intieme en kwesbare van die liggaam soms verken word);
  • (’n indiwidualistiese) godsdiensbelewing, wat meermale opstandigheid jeens dogma tot gevolg het;
  • verknogtheid aan die aarde en die aardse;
  • kuns en kunstenaarsfigure “met wie sy ‘n sterk verwantskap voel en in wie se nood sy haar eie kan verreken” (agterplat);
  • kinders (in verse waarin sy “onskuld, weerloosheid en verbondenheid deur die gebruik van die volkse, sprokies en kinderrympies [ondersoek]” - agterplat).

 

‘n Verdere faset van haar eiesoortige posisie in die Afrikaanse poësielandskap word eweneens deur Britz uitgewys: Dat sy “as ‘t ware ‘n Sestiger [is] wat haar ouderdom betref, en ‘n Sewentiger in terme van die publikasiedatums van haar eerste bundels, maar as digteres [...] nie werklik ‘n kind van sestig óf sewentig nie. Haar ontroerde, meditatiewe of belydende betoë, haar fraai en soms speelse poëtiese segging en haar preokkupasie met haar emosionele, spirituele en sosiale verhoudings maak haar nog die beste vergelykbaar met Elisabeth Eybers.” (Britz, 1999:588)

Spies identifiseer derhalwe nie net met Eybers nie, maar veral ook met iemand soos die Amerikaanse digteres Emily Dickinson. In die gedig “Vir Emily Dickinson” bestempel sy laasgenoemde as “naaste geesverwant”.

‘n Ietwat ouderwetse, elitêre estetiese houding spreek uit haar verskuns sowel as uit sommige van haar openbare uitsprake, veral vergeleke met die werk van haar dikwels eksperimenterende tydgenote. Onder meer hierom was sy meermale “vatbaar vir miskenning en selfs ridikulisering onder die meer radikale verteenwoordigers van die generasies van sestig, sewentig en ook tagtig” (Britz, 1999:589).

Voeg hierby dat sy van tyd tot tyd sterk en omstrede, selfs strydvaardige standpunte ingeneem het oor sake soos homoseksuele en nie-responsiewe mans, oor godsdiens, oor Pretoria as woonplek wat in haar oë sleg afsteek by byvoorbeeld Stellenbosch (in gedigte soos “Verpot” en “Verootmoediging” uit Van sjofar tot sjalom), oor die miskenning van Afrikaans … selfs oor die vraagstuk of katte in die hemel sal kom, al dan nie. Sulke standpunte het, soos reeds gesien, ook haar verse binnegedring (veral in sekere “haatgedigte” - Britz, 1999:592). Trouens, haar poësie neem meermaals ‘n betogende trant aan, vergestalt in hoofsaaklik beheerste maar dikwels ook woordryke, retoriekbesmette vryeverse, wat hoogstens “amusant” aandoen vanweë die felheid wat dit kan aanneem (Britz, 1999:595). In sulke gevalle mis ‘n mens dan die gedistansieerdheid en (self-)ironie, of taaldurf van byvoorbeeld ‘n Elisabeth Eybers en ‘n Emily Dickinson. Dit word volgens Britz (1999:591 & 592) “nogal breedsprakige ‘praatverse’” met ‘n gebrek aan “intensiteit”.       

Oor sulke dinge is Spies dan ook in die kritiek oor die kole gehaal.

‘n Keur soos die onderhawige, wat baie van bogenoemde ‘besondigings’ wegsnoei, laat ‘n mens egter die sterker kante van Spies se werk sien. En laat myns insiens duideliker uitstaan dat Digby Vergenoeg (”haar oerbundel” - Britz, 1999:589) en Hiermaals uit 1992 (”‘n ryp, volwasse bundel” - Britz, 1999:595) hoogtepunte in haar oeuvre verteenwoordig.  

‘n Groeipunt ná Hiermaals is die groter religieuse nederigheid in die aangesig van die naderende lewenseinde. Ná die rebelserigheid van Hiermaals en ook nog Die skaduwee van die son (1998), is daar in Duskant die einders (2004) ‘n religieuse inkeer te bespeur (al staan sy steeds “wars van elke leer”, luidens “Wyding”). Dis ‘n aantreklik aardse, sintuiglike religiositeit wat verwoord word. Die lewe duskant die graf word ervaar as ‘n bestek van verwondering. 

Na my smaak is Spies op haar beste wanneer sy as spreker meer op die agtergrond tree, soos in sekere portrette, en baie van die kuns- en kunstenaarsgedigte wat verspreid deur haar oeuvre voorkom. Hoewel die onvermydelike vergelyking wat die intertekstuele verwysings in laasgenoemde gevalle tot gevolg het, meermale ongunstig vir Spies uitval.

Momente van weerloosheid, wat in Spies se later bundels steeds dikwelser verwoord ord, en waartydens sy dan suggestiewer te werk gaan as in die betogende gedigte, is ‘n ander bron van haar aantreklikste digkuns. Die slotgedig uit Duskant die einders is ‘n voorbeeld:

 

Heemkeer

            For I am homesick after mine own kind

            Ezra Pound: “In durance”

 

Daar is donker en valstrikke in ‘n bos

maar smagtend op pad na eie soort

moet jy daardeur; moet jy roep of skree

dat ‘n waaksame jou hoor,

‘n vuur maak of ‘n lamp aansteek

dat jy die spoor nie byster raak,

tuiskom by wie jy hoort.

 

Die titel van hierdie samestelling deur Johann de Lange is derhalwe eintlik ‘n goeie een om Spies se onthoubaarste bydraes tot die Afrikaanse poësieskat te benoem. By wyse van die relativering impliseer Die skyn van tuiskoms dat reis en verlange eintlik die sentrale motiewe van haar oeuvre is. Britz (1999:589) het juis aangetoon dat die meerderheid van die titels van haar vroeër bundels “met die idee van ‘n lewensreis verband hou” (soos ook enkele van die lateres): Digby Vergenoeg, Winterhawe, Dagreis, Oorstaanson, Duskant die einders… In ‘n aantal gedigte (byvoorbeeld “Weteringschans”, “Wie die verlange ken”, “Tweespalt” en “Manifes”) word die verlange as digterlike leitmotief pertinent uitgehef. Vergelyk laasgenoemde gedig:

 

Ek wil die heimwee behou

na al die Edens van my wêreld

sodat Goethe se versugting

na die land waar die sitroene bloei

nooit aan my vreemd sal word nie

en my verse kan leef

omdat die verlange

die asem is van die poësie[.]

 

So word die tema van die voortdurende (emosionele sowel as fisiese) migrasie tussen die genoemde drie streke waarin sy haar besonders tuis voel (veral die Boland en Holland), gesinjaleer. Ook, by uitbreiding, haar verse oor die kosbare, wonderbaarlike aardse - maar waarin dan dikwels juis ‘n bewussyn figureer van die tydelike van die belewing vanweë die mens se sterflikheid, óf waarin die lig van die hemelse afskyn (soos in “Heemkeer” hierbo). Die spanninge tussen bestaanekstase en bedroënheid, tussen liefde en onvervuldheid/afkerigheid, tussen kunsskepping (waaronder die “taalspel” en “tekstase” van die digkuns, wat op die boemlesingagterplat vermeld word) en ontnugterende werklikheid, word eweneens in die bloemlesingtitel opgevang.  

De Lange se keur versterk dus Spies se profiel as unieke, nie-modieuse digter wat miskien nie poëtikale en tematiese berge versit het nie, maar toeganklik skryf “oor sentimente en menslike probleme van baie poësieliefhebbers [...] sodat sy altyd ook ‘n besonder gewilde en selfs geliefde digteres was” (Britz, 1999:589).

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Bronnelys  

Britz, E.C. 1999. (Profiel oor) Lina Spies (1939-). In: Van Coller, H.P. (redakteur). Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies. Bladsye 588-597.

Terblanche, Erika. 2009 (geplaas op 5 Maart). Lina Spies (1939). Sanlam/ATKV/LitNet Afrikaanse Album. http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_itme&cause_id=1270&new... (Besoek op 25 Mei 2010.)