Blogs

Andries Bezuidenhout. Billy Collins en torings

Thursday, February 9th, 2012

My blogs is seker ʼn bietjie soos ʼn plaat wat vassit, sit, sit, sit, sit. Helaas, daar is nog soveel wat ek oor kerkgeboue wil sê, so wees my platespeler tog genadig. Op die noot van vorige gesprekke met Leon Retief oor o.a. sekularisering, die volgende van Billy Collins, net om ʼn bietjie humor aan gewigtige sake te verleen:

Not only in church
and nightly by their bedsides
do young girls pray these days.

Wherever they go,
prayer is woven into their talk
like a bright tread of awe.

Even at the pedestrian mall
outbursts of praise
spring unbidden from their glossy lips.

Die gedig, uit Ballistics, se titel is “Oh, My God!”

Ook op ʼn ligter noot, ʼn gebou wat my laat glimlag het. Volgens Luckhoff se Nederduits Gereformeerde Kerkgebou se hoeksteen kom die gebou uit 1923, alhoewel die gemeente reeds is 1892 gestig is. Dis ʼn mooi gebou, van swart klip. Daar is egter twee dinge wat nie heeltemal so lekker op die nostalgiese pupil van ʼn amateurentoesias van Suid-Afrikaanse kerkargitektuur val nie.

NG Kerkgebou, Luckhoff

NG Kerkgebou, Luckhoff

Die eerste is die rooi teëldak. Waarskynlik is baie geld daaraan spandeer, maar dit lyk net ʼn bietjie té modern vir die gebou se ouer bene.

Die tweede is die kerktoring. Die gebou is aanvanklik met ʼn gewel aan die voorkant gebou en die toring is eers in 1858 bygevoeg. Soortgelyke klip is daarvoor gebruik, maar die lyne van die gewel van weleer skyn nog deur.

Die kerk se binnekant het my egter onvoorwaardelik bekoor. Die gewelmotief word in die preekstoel herhaal. Ek hou ook van kandelare vir die gloeilampe en die langsteelwaaiers wat aangebring is om die Vrystaatse somerhitte te temper. Langs die preekstoel staan ʼn ou traporrel.

 

Preekstoel en traporrel

Preekstoel en traporrel

Balkon, waaiers, lampe

Balkon, waaiers, lampe

In die konsistorie hang ʼn foto van voormalige leraars, ook Ds. E.G. Malherbe, wat die gemeente van 1895 tot 1903 gedien het. Moeilike jare hierdie, die jare van die Anglo-Boereoorlog.

 

 

Foto van 'n foto

Foto van foto

Ek wens ek kon sien hoe die kerkgebou gelyk het voor die harvey tiles en die toring.

 

Desmond Painter. En wat as Czeslaw Milosz verkeerd was?

Saturday, February 4th, 2012

Czeslaw Milosz

Czeslaw Milosz

 

And Yet The Books - Czeslaw Milosz

And yet the books will be there on the shelves, separate beings,
That appeared once, still wet
As shining chestnuts under a tree in autumn,
And, touched, coddled, began to live
In spite of fires on the horizon, castles blown up,
Tribes on the march, planets in motion.
“We are, ” they said, even as their pages
Were being torn out, or a buzzing flame
Licked away their letters. So much more durable
Than we are, whose frail warmth
Cools down with memory, disperses, perishes.
I imagine the earth when I am no more:
Nothing happens, no loss, it’s still a strange pageant,
Women’s dresses, dewy lilacs, a song in the valley.
Yet the books will be there on the shelves, well born,
Derived from people, but also from radiance, heights.

 

Marlies Taljard: Maan, onder, alleen, skink wyn …

Saturday, February 4th, 2012

Maan en water

Maan en water

 

Die maan is een van die bekendste poëtiese simbole en kom ook in die Afrikaanse poësie dikwels voor. Wie van ons het nog nooit gelees van minnaars wat mekaar in die maanskyn omhels nie, en wie ken nie I.D. du Plessis se bekende gedig Rietfontein waarin die weerkaatsing van die maan op water die sentrale motief vorm nie: “Wit is die water / en blond is die maan …”

In die Oosterse poësie is die maan ‘n diep mistieke simbool met baie ambivalente betekenisse. Ons vind iets daarvan terug in (onder andere) die poësie van Breyten Breytenbach, oor wie ek in my volgende blog wil skryf. Vandag se blog wil ek egter wy aan ‘n bekende Chinese gedig uit die Tang dinastie (agtste eeu). Die titel word algemeen vertaal as Drinking Alone by Moonlight, maar kan ook letterlik honderde ander interpretasies hê. Die gedig is deur die Tao-digter Li Bai (701 – 762) geskryf.

Omdat die Engelse taal nie naastenby so lenig en subtiel is soos Chinees nie, is dit bykans onmoontlik om Chinese gedigte in Engels te vertaal. Ook is die geweldige verskille tussen die twee tale meestal ‘n groot belemmering wanneer vertalings wel aangedurf word. Vanweë die geweldige diepte van Chinese poësie – soos ook poësie uit alle ander Oosterse tale – is dit onmoontlik om in ‘n vertaling die hele trefwydte (of ook maar net ‘n fraksie daarvan!) in die vertaalde produk vas te vang. Chinese gedigte het meestal ‘n sterk spirituele of filosofiese dimensie met simboliek wat spesifiek op dié aspekte van die gedig inwerk om dit meerduidig te maak. Vir Westerse mense is dit reeds om dié rede baie moeilik om die gedigte te verstaan, omdat ons nie die kompleksiteit van die Chinese kultuur en taal verstaan nie. Hierdie hindernisse verhoed ons egter nie om die poësie te geniet nie: die vervreemdingseffek daarvan maak dit juis vir ons as Westerlinge aantreklik. Die skoonheid van vertaalde gedigte is vir ons meestal geleë in die vrye interpretasie wat daaraan geheg kan word, ‘n vryheid wat die leser byna onbeperkte interpretasiemoontlikhede toelaat, soos gesien kan word uit die vertaling wat ek hier onder afdruk. In dié opsig werk vertaalde Chinese gedigte dus so ‘n bietjie soos die postmodernisme, waarvan ons dikwels lees dat “alles kan”.

Wanneer ‘n mens ‘n vertaling lees, soos dié van Drinking alone by moonlight, moet ‘n mens in gedagte hou dat Chinees ‘n baie antieke taal is, deurdrenk met rituele en spirituele betekenis waar ‘n enkele eensillabige woord etlike verskillende betekenisse kan hê. Hoewel gedigte dikwels eenvoudig en selfs naïef mag lyk, is dit meestal bedrieglik en lê daar onder die eenvoudige oppervlak ‘n ryke betekenis en simboliek verskuil vir lesers wat oor die nodige interpretasievaardighede beskik. ‘n Meesterdigter kan die hele kosmos in ‘n paar lettergrepe opsom!

Diegene wat die Tao te Ching ken, behoort te weet dat Tao-poësie gekenmerk word deur eenvoud en ‘n nie-kritiese ingesteldheid. (Lees veral die sublieme vertaling van Gia-Fu Feng en Jane English!) Die Taoïs beoefen geduld met en liefde vir alle lewe, omdat die kosmos een is en hy slegs ‘n enkele faset daarvan. Theo. Wassenaar se See-sonnet stel min of meer dieselfde tema: “Die skepping het ook my sy doel gegewe: / Een polsslag in die groot heelal.” Li Bai se werk vertoon sterk ooreenkoms met die Tao te Ching en word eweneens gekenmerk deur uiters simplistiese taal en struktuur en ‘n naïewe aanvaarding van die kosmos soos dit is. Die Taoïs begeer niks en poog slegs om deel te word van die groot ritme en harmonie van alle dinge sodat die skepping nie deur hom en sy begeertes versteur word nie. Dit is ‘n filosofie van “laat-gaan” en “laat-wees” in ‘n wêreld wat sonder voorbehoud perfek is soos dit op enige gegewe oomblik is. Selfs Chinese lesers beskou Tao-poësie as besonder diep en moeilik peilbaar.

Die onderstande is ‘n “vertaling” van Li Bai se Drinking Alone by Moonlight – meer ‘n vertaling van die woorde en/of begrippe soos dit in die gedig voorkom. Soos reeds gesê, kan die meeste van dié woorde/begrippe egter ook, soos die kwashaal breed of smal lê of soos die klem verskuif of bloot vanweë die sintaksis van die woord of sin, baie ander verskillende betekenisse ook hê:

Yuè Xià Dú Zhuó     (moon, under, alone, pour wine)

Huā jiā yī hú jiŭ     (blossom, among, one, pot, wine)

Dú zhuó wú xiāng qīn     (alone, pour wine, without, one another, intimate)

Jŭ bēi yāo míng yuè     (to lift, cup, invite, bright, moon)

Duì yĭng chìng sān rén     (couple, shadow, complete, three, people)

Yuè jì bù jiĕ yĭn     (moon, since, not understand, drink)

Yĭng tú suí wŏ shēn    (shadow, disciple, follow, my body)

 Zàn bàn yuì jiāng yĭng     (temporary, companion, moon, shadow)

Xíng lè xū jí chūn     (to go, cheer, must, to reach, spring/joy)

Wŏ gē yuè pái huí     (I, song, moon, irresolute, wander)

Wŏ wŭ yĭng líng luàn     (I, to dance, shadow, remnant, in confusion)

Xĭng shí tóng jiāo huān     (to be awake, accompanying, to make friends, joyous)

Zuì hòu gè fēn săn     (intoxicate/finally, each, divided, scattered)

Yŏng jiē wú qíng yóu     (forever, to bind, not, merciless, to travel/roaming)

Xiāng qī miăo yún hàn  (heavenly river/Milky Way, profound/remote, cloud)

Deur net die ongeïnterpreteerde vertaling hierbo te lees, sal elke leser die gedig basies (in sy/haar gedagtes) herskryf volgens ‘n persoonlike interpretasie van die taaltekens. So word die leser dus tegelyk die verbruiker én die skrywer van sy/haar eie teks – die leser word die eienaar van die teks. ‘n Mens sou die blote lees van die grammatikaal versteurde teks wat – soos dit letterlik daar staan – geen logiese en gestruktureerde betekenis het nie, selfs as ‘n soort Tao-terapie kon beskou, deurdat die leser daarvan afsien om betekenis op die teks af te druk of selfs af te forseer. Dit is dus inderdaad ‘n oefening in “laat-staan”, “laat-gaan” en “laat-wees”! Dit kan besonder bevrydend wees om jouself toe te laat om die gedig net te absorbeer, om as bo-sintaktiese konsep jou gedagtes te suiwer en jou van vooropgestelde idees oor wat betekenis is, te suiwer. So ‘n oefening kan ‘n stress-ontladingskuur wees in ‘n omgewing waarin ons selfs in ons slaap soms worstel met gedagtes en met sin-gewing aan die baie invloede wat van buite op ons inwerk. Sit alleen en laat die gedig toe om jou binne te vloei sonder om te vra wat dit beteken – laat dit net wees en sit ‘n paar minute in stilte saam met die gedig – en dit sal tot jou spreek! In Indië is daar ‘n spreekwoord wat sê die gedagtes is soos ape in ‘n boom wat gedurig van een tak na die ander spring. Om jou gedagtes te suiwer van ape, is die eerste stap na bevryding van die siel. Poësie is ook in die Ooste ‘n manier om die gedagtes tot stilstand te bring en spanning te ontlaai – ons behoort hier meer op daardie funksie van poësie te fokus!

Dalk kry jy die algemene idee van ‘n laatmiddag in die lente onder ‘n perskeboom vol in die blom, die gevoel van die porseleinkoppie in jou hand en later die skink van ryswyn ter verkwikking onder ‘n volmaan …

‘n Laaste interessante opmerking: Ezra Pound se karakter Rihaku, die “wandering poet” is gebaseer op ‘n karakter wat Li Bai geskep het, die reisende digter wat nooit sonder sy wynfles aan sy gordel gesien is nie. Op ‘n dag, terwyl hy te veel ryswyn gedrink het, het hy verdrink toe hy probeer het om die maan se weerkaatsing in die rivier met sy drinkbeker op te skep. So kan die gedig dus heel anders geïnterpreteer word as die effek van maanlig en water op die drinker. ‘n Simboliese verklaring van die letterlike gebeure betrek die bekende yin-yang-konsep waarin die lig van die maan die yang-aspek en die skaduwee die yin-aspek verteenwoordig. So dien die menslike karakter as dinamiese balans tussen die twee teenoorgestelde kragte. Volgens die Tao-filosofie moet alle kragte in die kosmos uitbalanseer om ‘n uiteindelike harmonie tot stand te bring. Volgens hierdie interpretasie is daar dus nie ‘n letterlike maan, ‘n persoon of ‘n skadu nie, en staan hierdie simbole vir die teenstellende aspekte van die mens wat versoening vind wanneer water, rivier en mens een word en ophou om as individuele entiteite te bestaan in die oneindige wysheid en volmaaktheid van die kosmos.

Ook hierdie spekulasies lei tot onrus van gedagte: laat die gedig dus bloot wees wat dit is, aanvaar dit sonder oordeel; dit is nooit bedoel om op die vlak van die intellek verstaan te word nie – per slot van sake was die digter ‘n Taoïs!

 

Andries Bezuidenhout. Philipstown se kerke

Friday, February 3rd, 2012

Die skildery hier bo is van ʼn straattoneel in Philipstown, ʼn dorpie in die Noord-Kaap. Dis moeilik om lig in landskapskilderye reg te kry. ʼn Mens moet die lug bo die landskap oortuigend laat praat met hoe skaduwees teen plante en mure val. Een manier om dit te doen, is om tonele in die vroegoggend of laatmiddag te kies – lang skaduwees en kolle lig wat teen mure val. Ek eksperimenteer egter op die oomblik met tonele in die bliksemse hitte van die middel van die dag – die son reg bo.

Dit was baie warm toe ons Philipstown in Desember besoek het. Die dorp is na Sir Philip Wodehouse, goewerneur van die Kaapkolonie van 1861 tot 1870, vernoem. Philipstown is ook I.D. du Plessis se geboortedorp. Elke dorp kan seker spog met een of ander digter of skrywer wat eens daar gewoon het. Nietemin, die dorp is in 1865 gestig as kerkdorp vir die Gereformeerde Kerk na afstigting van die Colesberggemeente. Dis dus een van daardie rare Suid-Afrikaanse kerkdorpe waar die Gereformeerde Kerkgebou in die middel van die dorp staan, en die Nederduits Gereformeerdes tevrede moet wees met ʼn straatblok iewers sylangs. In Philipstown is die Gereformeerde Kerkgebou ʼn pragtige, effe strak, sandsteengebou wat vandag nog in die middel van die dorp staan. Bouwerk aan die kerk is blykbaar in 1878 voltooi.

Ou foto van Philipstown se Gereformeerde Kerkgebou

Ou foto van Philipstown se Gereformeerde Kerkgebou

Hoe dit vandag lyk

Hoe dit vandag lyk

Detail aan die agterkant

Detail aan die agterkant

Die heining

Die heining

Die NG Kerkgebou is in 1893 op die ou skoolterrein opgerig, twintig jaar na die oorspronklike afstigting van die Colesberggemeente. Die boukomitee het gesorg dat die toring darem hoër is as die Dopperkerk in die middel van die dorp.

 

Philipstown NG Kerkgebou, ou foto

Philipstown NG Kerkgebou, ou foto

NG Kerkgebou vandag

NG Kerkgebou vandag

Die onstaan van die nabygeleë dorp De Aar in die vroeë 1900s het beide Gereformeerde en NG gemeentes op Philipstown ʼn knou toegedien. In 2010 het die NG Gemeente slegs 162 lidmate gehad. Met ʼn rit deur die dorp word ʼn mens deur verskeie vervalle geboue gekonfronteer. Volgens koerantberigte het inwoners onlangs die dorp se stadsraad gedagvaar, omdat basiese dienste nie gelewer word nie.

 

Philipstown, muur en venster

Philipstown, muur en venster

Skildery:
“Somersonnewende, Philipstown”, olie op gemonteerde doek, 24 x 35 cm

Desmond Painter. Szymborska se kat

Thursday, February 2nd, 2012
Szymborska

Szymborska

Ek het op 5 Augustus laasjaar ‘n gedig van Wislawa Szymborska op my blog geplaas, ‘On Death, Without Exaggeration’. Sy eindig daardie gedig so: “There’s no life / that couldn’t be immortal / if only for a moment. // Death / always arrives by that very moment too late. // In vain it tugs at the knob / of the invisible door. / As far as you’ve come / can’t be undone.”

Sy is gister in die ouderdom van 88 jaar oorlede, en sy laat iets agter wat beslis nie ongedaan gemaak kan word nie. Onsterflik, op ‘n manier. En op ‘n ander manier ook nie. Vir jou kat is jy immers meer as ‘n digter.

 

*

 

Cat in an empty apartment – Wislawa Szymborska

 

Die — You can’t do that to a cat.

Since what can a cat do

in an empty apartment?

Climb the walls?

Rub up against the furniture?

Nothing seems different here,

but nothing is the same.

Nothing has been moved,

but there’s more space.

And at nighttime no lamps are lit.

 

Footsteps on the staircase,

but they’re new ones.

The hand that puts fish on the saucer

has changed, too.

 

Something doesn’t start

at its usual time.

Something doesn’t happen

as it should. Someone was always, always here,

then suddenly disappeared

and stubbornly stays disappeared.  

 

 

 

Andries Bezuidenhout. Herinnering aan Szymborska

Thursday, February 2nd, 2012

Ter nagedagtenis aan Szymborska, die volgende vertaling uit die argief:

VERSLAG UIT DIE HOSPITAAL
(vertaling van Relacja ze szpitala deur Wisława Szymborska)

Ons het lootjies getrek, oor wie hom sou gaan sien.
Dit was ek. Ek het van ons tafel af opgestaan.
Dit was amper besoekerstyd.

Hy het nie my groet beantwoord nie.
Ek het sy hand probeer vat – hy’t dit teruggetrek
soos ʼn honger hond wat ʼn been beskerm.

Hy’t skaam gelyk oor doodgaan.
Ek weet nie wat jy vir iemand soos hy sê nie.
Ons het verby mekaar gekyk, soos in ʼn fotomontage.

Hy’t my nie gevra om te bly of loop nie.
Hy’t oor niemand aan ons tafel navraag gedoen nie.
Nie oor jou nie, Coetzee. Nie oor jou nie, Kotze. Nie oor jou nie, Coertze.

My kop het begin pyn. Wie gaan vir wie hier dood?
Ek’t die mediese wetenskap en drie viooltjies in die gras besing.
Ek het oor die son en donker gedagtes gesels.

Dankie tog vir die trappe om mee af te hardloop.
Dankie tog vir ʼn hek om oop te maak.
Dankie tog julle almal wag vir my by ons tafel.

Hospitaalreuke maak my siek. 

Pieter Odendaal. Oor toe harte, varke en grensdrade - Nuwejaarsdag 2012

Wednesday, February 1st, 2012

Die tarentale en hadidas kwetter my wakker op Frances-hulle se plaas buite Klapmuts. Tazneem en Bradley het gisteraand voor twaalf hulle goed gepak en gery nadat ’n groep wit skoolmeisies grappies oor hotnotte en meide om die vuur gemaak het. Ons het almal saam gesit toe die woord hotnot oor die vlamme skiet terwyl ek en Bradley besig is om te praat oor sy navorsing oor die Nama kultuur. Hy vertel my hoe hy stories opteken wat dreig om deur die wind weggewaai te word. Daar is die woord weer, onmiskenbaar hierdie keer: hotnot. Die kinders kekkel van die lag – die eienaar van die woord kan nie ouer as veertien wees nie.

Bradley word stil, sy dreads hang oor sy oë. Tazneem probeer om dit te ignoreer en vertel dat sy volgende jaar hajj wil aanpak as deel van haar hernude verbintenis tot Islam.  Die skoolmeisies kom niks agter nie, hou aan gesels oor die meide wat saam hulle in die skool is. Nou word Tazneem ook stil. Sy en Bradley sit nog so ’n ruk, ons kyk  vir die vuur, dan staan hulle op en pak hulle goed in. Ek en Frances probeer hulle oortuig om te bly, vra om verskoning vir die vreemdelinge om die vuur. Maar ons weet almal dat die aand nou verby is.

Vroeër die aand het ons die lig teen die walle van die plaasdam laat dans soos ons heen en weer geswem het.

Kinds of water drown us. Kinds of water do not.  […] A pool of thoughts tilts this way and that in me. Sokrates, after bathing, came back to his cell unhurriedly and drank the hemlock. The others wept. Swans swam in around him. And he began to talk about the coming journey, to an unknown place far from their tears, which he did not understand. People really understand very little of one another.

© Anne Carson , Plainwater, 1995.

Later stuur ek en Frances saam die familie Chinese lanterns die lug in, ons vriende kwyt. Ek bly dink aan die meisies en hulle toe harte terwyl die lanterns klein soos sterre in die nag word. Hulle sal seker nooit weet of omgee wat Nama of hajj is nie, fluister Frances. Ons gaan die nuwe jaar uitsigloos binne.

*

Ons staan op en gaan drink Ricoffee op die stoep, sigaret in die hand. Die plaas lê geilgroen in die nuwejaarson. Frances se pa vra my om te help met ’n siek otjie. Hy het penisillien nodig. Die vark het homself gisteraand bemis en lê op sy sy, bied geen weerstand teen die naald wat tussen die gladde, kleurlose haartjies sy lyfie binnedring nie. Hy staan so effe op as ons klaar is, wend ’n halfhartige poging aan om weg te kom mits daar nog naalde in die oom se sak is. Hy’t dae laas geëet – die vel hang los soos ’n kombers oor sy kruis.

Later kom laai Tebu en Khanyi ons met sy Mazda-bakkie op. Ek en Frances sit agterin, gebruik ’n knopkierie om die canopy oop te hou sodat ons vars lug kan kry. Ons tel Tebu se neef in Kayamandi op en skiet deur Strand toe om saam Khanyi se Sotho-familie te gaan kuier. Duisende gesinne span uit op die strand en al langs die Eersterivier, reg in die suburbs in waar tannies met krulle en ooms met boereboepe die kaperjolle aangluur. Hulle sê niks nie, kyk net afkeurend toe. Daar’s ‘n kortsluiting in hulle koppe as hulle vir my en Frances sien. Ek wil my vervies vir hulle oë, maar los dit eerder.

Ons stap af see toe om lafenis in die water te soek. Ek en Frances is die enigste witmense op die strand. ’n Jong lat skree vir my in Xhosa tussen die branders deur: “Julle mlungus moenie my besteel nie!” Ek lag en duik agteroor die golwe in. Die meeue sweef met kraalogies oor die skare. My longe trek vol osoon en my vingers verstok van die koue.

oorvertel 2
Februarie 2010

hier het ’n vrou gebly Mal Maria sy’t geloop met ’n lang tou om die
nek met haar huissluitels aan een nag toe dood sy met die sluitels
om die nek die wind het haar nek gebreek

julle Kaapse mense sê mos die son sien alles
hierso sien die mense alles

ek huil nie oor Apartheid-kak nie ek huil oor julle klo’goed net hoor
van Distrik 6 ek kon nog die St Helena in my oumoeder se hare ruik
maar bruin mense is net klopse papbekke en gomgatte om bruin
te wees is glad nie so verkakte storie soos daai slamse voorgee nie
en dan is dit nog die anner storie van boesman wees die problem is
wanner jy jou mense se storie ken en daar’s nie slams of boesman
in nie maar jy moet maar ja en amen want al wat jy het is die
oorvertel

die see spook by jou al trek jy tot teenaan die woestyn

die see is ’n teef met rooi skoene aan 

© Ronelda Kamfer. grond/Santekraam, 2011.

Terug by die uitspanplek op ’n leë erf langs die rivier, seën Khanyi se tannie ons oorvloediglik met kos: pap en gesmelte kaas, tjops, wors, chakalaka. Een van haar neefs leer my ’n paar pantsula-passies aan, waarna Ta Vusi en sy broer (die twee vorste in die familie) my uitnooi om langs hulle te kom sit. Hy stel homself uitvoerig voor: Hy werk by Portnet aan die Weskus en vertel van grensdrade wat makliker gespan word as wat hulle geknip word. Hy en sy vrou wil ’n erfie aan die Weskus koop waar hulle vir die see kan kyk as hul lywe begin ingee.  

Hulle kleinseun, Kunle, huil as ek met hom begin speel – hy’s glo vreeslik bang vir ’n lae gegggggggrom, vra sy ouma om verskoning, maar Khanyi grap dat hy maar net skrik omdat hy nog nooit ’n albino gesien het nie. Sy spot altyd dat sy my in olie gaan doop en onder haar bed gaan wegsteek as die lang messe hul skadu’s teen die hoë mure van estates begin gooi.

Ta Vusi skiet ’n bottel sjampanje oop om die nuwe jaar en sy vrou se komende studiereis na Londen te vier. Tebu laat die meisies lag en gooi elke nou en dan ’n paar moves op die dansvloer. Jack Parow bulder onverwags uit die kombi se luidsprekers en almal begin saamsing. 

*

Vroegaand skiet ons konvooi deur Gugulethu toe. Ons ry verby ’n omgekeerde taxi. Tebu verstaan nie hoekom hulle so jaag nie en klik sy tong oor die weggooibaarheid van lewens. Sy nefie chip in dat hy baie veiliger in Kayamandi voel – hulle skiet glo te veel hier. Ons braai tot vroegoggend in Khanyi se agterplaas. Orals om ons blêr klankstelsels die lugruim in. Frances se pa laat weet dat die siek otjie dit toe nie gemaak het nie en dat ons moet kom help om die ou grensdrade te knip. Die varkies se kampie is te klein. Hulle het meer spasie nodig, anders gaan hulle aanhou siekraak. 

They lied to us

They lied to us.
They told us: we shall die, wiped out in wars.
Ever since I can remember, they said: Our blood will be shed.
We ate and drank and didn’t die tomorrow,
We squandered all we had saved, flowers for example, grass…

And in this spring I sometimes think,
What did you mean when you told me, “I’ll give you
Only one night.” Did you think
That all the days of our lives are nights, night,
Or did you say it out of the great dread.

They lied to us. I told my students everything
My teachers taught me. In great haste I told them,
So I would be free a bit for myself in the end.
They lied to us:
The unshed blood
Screams louder
Than the shed. 

© Yehuda Amichai. Uit Poems of Akhziv. Vertaal deur Benjamin en Barbara Harshav

Andries Bezuidenhout. As boekwinkels sluit

Tuesday, January 31st, 2012

Hartseer foto. Die leë rakke in die agtergrond. Dis vandag Die Boekehuis se laaste dag. Die les wat ʼn mens leer is dat selfs pleidooie van die land se voorste kunstenaars en intellektuele geen verskil meer aan korporatiewe besluite kan maak nie.

“Years later he’d stood in the charred ruins of a library where blackened books lay in a pool of water. Shelves tipped over. Some rage at the lies arranged in their thousands row on row. He picked up one of the books and thumbed trough the heavy bloated pages. He’d not have thought the value of the smallest thing predicated on a world to come.”

– Cormac McCarthy, The Road

Philip de Vos. Hoe vertaal mens ‘n Mozart-brief?

Friday, January 27th, 2012

 

Vandag, 27 Januarie, is Mozart se verjaarsdag.

 

 

Mozart – volgens baie – vir my inkluis, is die grootste komponis ooit.

Mozart, van wie gesê is:

God needed Mozart to let himself into the world. – uit Peter Shaffer se toneelstuk Amadeus.

Mozart is happiness before it has gotten defined – Arthur Miller.

I believe in God, Mozart and Beethoven – Richard Wagner.

Mozart is the greatest composer of all. Beethoven “created” his music, but the music of Mozart is of such purity and beauty that one feels he merely “found” it – that it has always existed as part of the inner beauty of the universe waiting to be revealed. – Albert Einstein

Maar daar is ander wat anders dink: If a man tells me he likes Mozart, I know in advance that he is a bad musician. – Frederick Delius.

 

 Oor die jare het heelwat persone probeer om die Mozart-briewe te vertaal – veral in Engels en Frans, en elke keer het die vertalers by sekere probleme vasgesteek.

In haar inleiding tot die eerste uitgawe van haar bekende The Letters of Mozart and his Family (1938) sê Emily Anderson: “It should not be necessary to offer any apology for an English edition of letters of Mozart and his family. The only existing translations – are to be found in two collections, one by Lady Wallace (1864) and the other by M.M. Bozman (1928)”

 

 In 1864 noem Lady Wallace: “Though the essential substance of the letters has already been made known by quotations from biographies by Nissen, Jahn and myself, still in these three works the letters are necessarily not only given very imperfectly, but in some parts so fragmentary, that the peculiar charm of this correspondence – namely the familiar and confidential mood in which it was written at the time – is entirely destroyed.”

En Max Kenyon in sy 1956 A Mozart letter Book voeg by: “All editors have to face the impossibility of printing Mozart’s letters as they were written: What about Mozart’s made-up languages, partly vulgar but amusing, childish and partly a sort of code? And what about the misspelling and backward spelling when in high spirits?

En veel later kom Robert Spaethling se Mozart’s Letters, Mozart’s Life (2000)

 

 ”Young Mozart never had any formal education: his only teacher was his father, who instructed him and his older sister in music, history, German and probably some Italian, French and Latin. This lack of schooling is evident in Wolfgang’s prose, especially in his early years, when the teenager wrote letters to his sister with little concern about language and spelling. In this new translation, I have striven to bring out Mozart’s own voice and diction … and even his phonetic spelling.”

Met vier verskillende vertalers word dit tog interessant om vertalings van dieselfde brief te beskou:

Een van die heel eerste briewe van die jong Mozart was in Januarie 1770 toe hy en sy vader Leopold deur Italië getoer het:

 

 Hier is hoe Lady Wallace dit in 1864 vertaal:

“The opera at Mantua was very good. They gave Demetrio. The prima donna sings well, but is inanimate, and if you did not see her acting and only singing, you might suppose she is not singing at all, for she can’t open her mouth and whines out everything, but this is nothing new to us.”

Emily Anderson in 1938, se vertaling is min of meer dieselfde:

The opera at Mantua was charming. They played Demetrio. The prima donna sings well, but very softly …

Dan egter kom daar probleme. Destyds tussen opera-bedrywe is selfs ballet-uittreksels bygevoeg of anders hansworsery wat so ’n teateraand etlike ure laat duur het. So byvoorbeeld word Mozart se beskrywing van ‘n hanswors-toneel deur Lady Wallace vertaal:

“There is a grotesco who jumps cleverly, but cannot write as I do – just as pigs grunt.”

Emily Anderson in die 30’s praat van: “A grotesco was there who jumps well, but cannot write as I do, I mean, as sows piddle.”

Robert Spaethling in die jaar 2000 kon dit seker nader beskrywe as enige van die ander: “There was a grotesco dancer who can’t write like me: as pigs piss.”

Later word die grotesco danser weereens deur beide Anderson en Spaethling genoem, maar in die laat 19de eeu was mense blykbaar ordentliker as dié van vandag en word die volgende toneel heeltemal verswyg en uit Lady Wallace se vertaling gelaat.

Hier is hoe Emily Anderson dit beskrywe:

“The orchestra was not bad. In Cremona it is good. The first violin is called Spagnoletto. The prima donna is not bad; she is quite old, I should say, and not good looking.”

Hier is Spaethling se vertaling van wat tussen bedrywe op die verhoog plaasgevind het.

Ook hou Spaethling hom by die oorspronklike gees van die briewe, spelfoute en al soos die veertienjarige Mozart dit beskrywe het:

“The opera in Mantua was nice, they played Denetrio, the prima Dona’s singing is good, but too soft, and if you didn’t see her act with her hands but only hearde her sing, you would think she is not singing at all becaus she doesn’t open her mouth and just whines everything out very softly, but this sort of thing is nothing new to us …The Orcchestro was not at all bad. The Cremono orchestro is good, the first violinist is called Spangoletto. The prima Dona not bad, pretty old I think, and unattractive, and doesn’t sing as good as she acts… A grotesco dancer was there as well; he let out a fart each time he jumped.”

Hierdie was een van die heel eerste briewe van die jong Mozart geskryf in 1770, en vir my is Spaethling se Engels seker die naaste aan hoe Mozart geskryf het en en word hy met al sy gebreke ’n mens van vlees en bloed.

 

 Nóg Anderson, nóg Spaethling verswyg Mozart se vulgariteite, veral in die briewe aan sy niggie Maria Thekla – ook bekend as Bäsle. En vir diegene wat dink dat die Mozart-vulgariteite in die film en toneelstuk Amadeus oordrewe is, kan gerus die Spaethling-vertaling gaan lees, en besef dat Schaffer tog na aan die waarheid gekom het.

 

 ’n Hoogtepunt van my 2½ maande toer deur Noord-Amerika was toe ek vir Robert Spaethling en sy vrou Ellen kon ontmoet.

Alles was blote toeval: ’n Paar jaar gelede begin ek gesels met ’n jong Amerikaanse skrywer Troy Ygnacio Soriano in die stoomkamer by die Virgin Active gym in Groenpunt, en toe hy my tuis besoek, sien hy die Spaethling-vertalings tussen my Mozart boeke. “I know him. He is the gentleman whom I saw in a shopping mall in San Francisco and then helped when he had problems with his cellphone.”

En so het ’n e-pos korrespondensie tussen my en Robert Spaethling begin. Ek het hom vertel van my novelle Tot siens Tommasino oor die 1770 vriendskap tussen Mozart en Thomas Linley en het hom my ongepubliseerde Engelse weergawe bloot vir sy eie genot gestuur. En hier is hoe hy dit beskryf het: “A love story without sex. Two wunderkinder in search of their own humanity.”

Op 28 September 2011 het Peter en ek by San Francisco se Ferry Building vir Robert Spaethling en sy vrou Ellen gewag. Hoe sou ons mekaar herken? Ek sou ’n rooi hemp dra, en hy ’n kierie en ’n strooihoed.

 

 Vir twee uur lank het ons gepraat en was ek bewus van die warm hand van ’n tagtigjare wat myne vashou. En met die weggaan het hy vir my gesê: “Leb Wohl! I know we will never meet again.”

Vir Robert Spaethling en Ellen sal ek onthou lank, lank nadat ek Old Faithful en Mount Rushmore vergeet het. En dit alles te danke aan Troy Soriano toe hy die Spaethling-vertalings van die Mozart-briewe op my rak gesien het.

 

Andries Bezuidenhout. Larkin: Selected, Collected en Complete

Friday, January 27th, 2012

“A ‘Complete Poems’ is a death certificate and memorial combined. After the Selected and the Collected, the Complete marks the poet’s official demise and at the same time erects a carven monument designed to outlast the ages.”

Hoe’s daai vir die eerste sin van ʼn boekresensie? Dit kom uit John Banville se resensie van ‘n nuwe versameling Philip Larkin-gedigte deur Archie Burnett. Die uitvoerige en onderhoudende resensie is Woensdag in die Guardian gepubliseer. Ek hou ook hiérvan:

“Larkin himself would have made merciless fun of it, but the poet, and the librarian, in him would have been immensely pleased and proud.”

Lees die volledige resensie hier.

Andries Bezuidenhout. Punk in Afrika

Tuesday, January 24th, 2012

(met erkenning aan Keith Jones en Deon Maas en verskoning aan Gert Vlok Nel, ‘n gedig, maar met die knaende rym en refrein, dalk liriek ook)

Op die pad tussen Dealesville en Bultfontein
het ʼn sonneblom langs wiele opgekom
en verstik voor ʼn sylangse blik na die son.
Hoe punk is ʼn dooie sonneblom?
Di
é
een het vroeg reeds aaklig omgekom.
Ek weet. Ek het daar verbygery,
my deel gedoen vir die stikkery
op die pad tussen Dealesville en Bultfontein.

Op die pad tussen Dealesville en Bultfontein
is wit gruis lank gelede gestrooi
om ʼn loopvlak uit rooigrond te looi.
Maar hier is bloekombas rooi van kleur
en na reën slaan modder bloedig deur.
Ek weet. Ek het daar verbygery,
my deel gedoen vir die deurslanery
op die pad tussen Dealesville en Bultfontein.

Op die pad tussen Dealesville en Bultfontein
hou jy soms stil om rigting te vra,
want rigtingwysers is weggedra
vir skuiling of dalk skrootmetaal.
Hoe vra punks rigting in die Vrystaat?
Ek weet nie, al het ek mildelik bygedra
tot die saak van ewige padvindery
iewers tussen Dealesville en Bultfontein.

Op die pad tussen Dealesville en Bultfontein
is ʼn bakoorjakkals raakgery,
ore verbaas soos die bo
ë
bo Pablo Neruda se oë,
tandjies gryns los van die skedel,
brommers wat lêplek vir maaiers bedel.
Ek ril. Ek het daar verbygery,
op die pad tussen Dealesville en Bultfontein.

Vir wat dit saak maak, sit ek nou in Foxstraat –
drink bier van een of ander mikrobrouery,
ruitveërrubbers smous verby.
Ek wag om te sien of Deon Maas
van punk in Afrika sin kan maak
en hoeveel kak ek in die doccie praat,
die een wat netnou in Foxstraat wys,
Jo’burg, so ver van Dealesville en Bultfontein.

Punk in Africa wys nog tot 27 Januarie by The Bioscope in Johannesburg, net straataf van Arts on Main. Dit wys ook binnekort by die Rotterdam Filmfees.

René Bohnen. Waterdraak

Monday, January 23rd, 2012

Sommer omdat die Sjinese Nuwejaar so aanhoudend gevier word in Johannesburg en omdat ons gister by die tempel in Bronkhorstspruit was, plaas ek vandag  ʼn paar foto’s. Nie almal is gister geneem nie, dit kom ook van ander jare.

2012 is die jaar van die Waterdraak wat blykbaar “gentle transformations” bring. In Johannesburg stroom mense elke jaar na Commissionerstraat (wat die “ou” Chinatown is) se middernagvieringe (dis nogal ‘n belewenis om middestad toe te ry in die nag en dan wemel dit van voetgangers). In die “nuwe” Chinatown, in Cyrildene, begin die jolyt vroegmiddag reeds – gedekte tafels staan op die teerstraat, kos word op die sypaadjies voorberei, mense kom in hul feesklere (babatjies in satynfrille en juwele) en wanneer dit donker is begin die vuurwerke wat die draak moet wakker maak. By die Nan Hua tempel word die draak sommer helder oordag wakker gemaak.

Vieringe vind ook plaas by etlike winkelsentrum en parke. Wensboompies vorm deel van baie mense se Nuwejaarsgebruike en hulle skryf dit op klein papiertjies wat in die boompies se takke bly hang en wapper nadat dit (amper soos muntstukke in fonteine) in die blare gegooi is.

Die groot Nan Hua tempel by Bronkhorstspruit word met Nuwejaar omskep in ʼn plek van samekoms en fotogeleenthede vir almal. Gister het ek gedink daar is meer fotoklubs teenwoordig as Sjinese! Dit is ʼn noemenswaardige verandering sedert die heel eerste keer dat ek Nan Hua se nuwejaarsvieringe beleef het iewers in die 90’s. Toe was ons omtrent tien Westerlinge wat gegaan het.

En dit is seker vir my die lekkerste van die Sjinese Nuwejaar hier – die diversiteit van ons samelewing is duidelik sigbaar en almal meng ewe vrolik. Dit gee my altyd moed. Wit, swart, Indiër, Sjinees, Frans, Duits; al hierdie tale het ek gister gehoor - en dis so gerusstellend om weer te sien dat alle kinders dieselfde is: hulle gil, lag en hardloop vir dieselfde redes, laat val roomyse en kerm vir koeldrank.

Ek het baie van hierdie mense afgeneem, alhoewel ek nie graag herkenbare kindertjies op die internet plaas nie (maar hulle bly vir my pragtig)

Die feit dat die tempel groot gronde het, baie gras en bome, asook die gevoel van veiligheid, help ook dat kinders hier taamlik vryelik kan speel en ontspan, selfs sonder hul ouers rondbeweeg.

Daar is goths en feetjies ook, jongmense in kostuum, soms. Maar sommige kulture is vanself kleurvol.

Die Sjinese Nuwejaarsvieringe is ʼn kulturele fees, nie ʼn godsdiensfees nie. Ek het verneem dat verskeie van die geleenthede geboikot word as gevolg van ons renosterkwessie. Ek kan net hoop dat bewaring vir almal ewe belangrik sal word, sodat die grense wat tydelik opgehef word uitgebou kan word. Dalk kan die Waterdraak daardie transformasie meebring, ek weet nie. Maar ek vermoed die draak gaan ʼn rol moet speel in die oplossing van die probleem.

Ek plaas ʼn gedig wat deur J.P. Seaton in Engels vertaal is en in 2008 in Afrikaans deur my verwerk is omdat ek een oggend langs die Boesmansrivier in Estcourt gedink het landskappe kan kulture transendeer. Dis nie ʼn Nuwejaarsgedig nie, maar praat wel oor verlange en broosheid.

A leaf this boat

A leaf this boat, its light sail rolled

lies moored by the Ch’u’s south bank.

As dusk descends on the lonely wall, the post horn

draws mournful notes like those of a Tartar whistle.

The waters vast,

wild geese on flat sand

settle, startled, scatter.

Mist gathers in the cold woods,

the painted screen is spread,

horizon’s far, the mountains small

like faintly traced eyebrows.

Old joys cast off lightly,

I’m here to seek an official post

but weary of this journeying

and the waning year.

The manners and the sights of this strange place

are desolate and mournful,

the eyes despair,

the capital’s far away,

the towers of Ch’in cut off,

the soul of a traveler dismayed.

The fragrant grass spreads in

empty vastness

and the evening glow spreads

no news of her,

a few broken clouds

far off.

Liu Yung (fl. 1034)

Vrye verwerking van “a leaf this boat” (Liu Yung)

’n Blaar hierdie boot

hierdie boot is ‘n blaar

te water gelaat een winternag

met seile van sis wat wapper –

dryf op ‘n oker stroom

van Monk’s Cowl en Giant’s Castle

na die dorp en dagha

’n Blaar hierdie boot, haar seile van lig opgerol

waar sy vasmeer op die oewerklei

van die Boesmansrivier

Skemer daal oor die verlate kraal,

ʼn kiewiet draf-draf op kieselklip

Die fabrieksfluit ’n bees se eensame bulk;

die kiewiet vlieg-skrik-vlieg

Skimbeelde tussen die wilgers se wortels

– borduurlap oopgesprei –

die horison is ver, die drakensberg klein

(verbeelde wenkbroue van ʼn verbeelde god)

My ou vreugdes ʼn verslete beschu,

is ek moeg van hierdie kranse se bergpad

op soek na werkwoorde

en so verloop van my stat

Die pieke en assegaaie stomp geslyt

die soetgras swyg onder ʼn nagkaros

Geen aandvuur-vers ontbrand nie;

ver en verskriklik breek die wolke los.

René Bohnen 2008