Blogs

Gisela Ullyatt. “Verward, jonk en rigtingloos”: revolusie of anti-visie?

Tuesday, March 21st, 2017

Is daar enigiets vir ons oor?

tyd raak min en ek weet

ek gaan moontlik nooit die antwoord hê nie

                                       Francois van Coke: “Moontlik nooit”

 

Geruime tyd hoor en sien ons ’n revolusie uitspeel op die planke van universiteite. #feesmustfall, #openstellenbosch, et al. ’n Hashtag-generasie. Terwyl daar oor mikrofone gebulder word, word selfies geneem; neon-pienk lippe pruil op fb-tydlyne. Jy moet immers cool lyk vir die revolusie. Alhoewel die voorbokke in politieke insignia galoppeer, is die tekkies steeds ’n brand; die jeans super-styf. Dit is ’n warm vryery tussen Sosialisme en Kapitalisme.

 

Tog is studente-protes nie ’n nuwe konsep nie. Een van die deurlopende temas van Milan Kundera se Unbearable Lightness of Being (1984) is die 1968 studente-revolusie in Praag, oftewel die Praagse Lente. Die wêreldliteratuur het talle voorbeelde van dié indertydse revolusie wat ook plaasgevind het in groot dele van Europa, byvoorbeeld Parys.

 

Nog ’n voorbeeld van studente-protes is dié teen die VSA se betrokkenheid in Viëtnam in die 1960’s en 1970’s.

Kent State University, Ohio

Kent State University in Ohio is ’n voorbeeld van hoe protes gruwelooslik skeef kan trek. Neil Young, toe nog ’n jong musikant, het feitlik onmiddellik die volgende lirieke geskryf nadat hy berigte oor die nuus gesien het. 4 Mei 1970 sou nooit weer net nóg ’n datum in die geskiedenis wees nie. Crosby, Stills, Nash & Young se opname hiervan volg op 21 Mei van dieselfde jaar:

Neil Young

Tin soldiers and Nixon coming,

We’re finally on our own.

This summer I hear the drumming,

Four dead in Ohio.

 

Gotta get down to it

Soldiers are cutting us down

Should have been done long ago.

what if you knew her

and found her dead on the ground

How can you run when you know?

 

4 Mei 1970 is begroet met ’n landswye staking van oor die vier miljoen studente: honderde kolleges, universiteite en selfs hoërskole is gesluit tydens hierdie tydperk. Publieke opinie het op groot skaal begin skuif: Nixon se leuens het stadig begin uitlek.

Instellings is egter nie op die lange duur lamgelê deur studente-stakings nie. Lesings moes voortgaan.

Elke nuwe generasie voel dat hulle ’n nuwe hond het om te skop en dat hierdie skoppe die wêreld gaan omskep in ’n Beloofde Land.

En so moet dit ook wees. Die wêreld moet verander. Onregverdige gesag moet uitgedaag word. Die Kerkorrel-generasie het teen nasionale diensplig en PW Botha se militêre regime in opstand gekom. Die status quo moes val en hét.

Wat egter opmerklik is, is die anti-intellektualisme waarmee die nuwe geslag (lees born-frees) die revolusie aanpak. Slordige SMS’e word na studente uitgestuur wat wemel van spelfoute en logiese denkfoute. Laasgenoemde word gedreig en geviktimiseer as hulle nie aan hierdie revolusie deelneem nie. Die deurlopende sub-teks is geskoei op vervelige herhalings en slagspreuke wat herkou word. Gesag word nie net uitgedaag nie, maar vertrap. Die beweging begin daagliks meer beweeg na ’n militêre junta. Daar wil nié onderhandel word nie; daar wil slegs bevéél word. Dis ’n gekeuwel, gebulk; kortom, ’n uitgerekte vertoon van jong mag.

Foto: Gisela Ullyatt. 2017.

Dosente word uit hulle klasse gejaag en gedreig as hulle durf voortgaan. Toetse word gegryp en opgeskeur en talle dosente moes presensielyste wegsteek want die junta wil die name hê van die ‘verraaiers’ wat durf klas draf of toets skryf. Heiligskennis word gepleeg as jy in jou studies belangstel. Klasnotas word na verwys as ‘pamphlets’. Ja, dosente, die notas wat julle pleeg is gelykstaande aan ’n Bradlows-pamfletjie. Dit het ’n no name-brand geword.

Ek moes gister so onopsigtelik as moontlik my ‘pamphlets’ uitdeel aan ’n klein groepie studentemeisies wat opsigtelik angsbevange was. Kort voor lank het twee bully boys die meisies buite ingewag en wysvingers is rondgeswaai. Een het ’n duur selfoon uitgehaal en die ‘skuldiges’ afgeneem. Ek kon nie die sekuriteit in kennis stel nie, omdat die junta dié lok met beloftes van “insourcing”. Daar word openlik gegrynslag as jy vra om die lesinglokaal oop te sluit. Daar is reguit aan my gesê dat hul opdrag is om nie klasse oop te sluit nie, direk deurgegee deur studenteleiers. Dit terwyl dosente direk deur topbestuur opdrag gegee word  om vir klasse op te daag en dat semestertoetse sal voortgaan. Akademici sit daagliks vasgevang tussen twee ‘waarhede’: ’n niemandsland. ’n Waiting for Godot.

 

Ek besit niks nie

Ek het niks om by die geselskap by te dra nie

Ek weet nie

Als is by my gevat

Inspirasie sluip deur die strate in die middel van die nag

Ek soek die waarheid

Maar die waarheid stel nie belang in my nie

Gesê ek sou alles een keer probeer

Maar ek het honderd keer

Maak my stil

Gooi my uit

Laat my verdwyn

Ek soek die waarheid

Ek soek die weg

Ek soek die lewe

 

Ek vertrou nie maklik nie

Ek het te veel nuwe leuens gehoor

Ek glo dit nie maklik nie

Besluit self wat jy wil vat

Ek sal nie weer my laat onderbreek

Of in die rede val nie

(Francois van Coke: “Waarheid, Weg en Lewe)

 

Uiteraard soek die nuwe geslag na waarheid. Kanaän is aan hulle belowe. Hulle woede is te verstane. ’n Generasie soos Kerkorrel s’n ook: God sal aan jou kant wees as jy die terries vermorsel. Dit het egter nie gebeur nie. Jong mans is aan die vaderland geoffer. Sonneskyn en Chevrolet het ’n Donkerland geword:

 

en jy ken die agterstrate

van stellenbosch tot in waterkloof

en as windhoek se fasciste smile

kan jy die beste twostep dans

of jy in bellevue na die hawe vaar

of in amsterdam verdwaal

dis oral nog banaal genoeg

om revolusie te verstaan

 

ja die sakemanne vra nog wyn

en betaal met ’n visakaart

en die joernaliste vra hier rond

grawe dooie bene oop

(hou nooit op nie)

en die gasvrou op haar TV-skou

vra haar laaste stomme vraag

en ek sit hier en sien die sin

om revolusie te versin

[…]

hulle dans nou in die strate

dis ons tyd in Afrika

ministers vlieg in boeings weg

en ons staan hier verstom […]

(Johannes Kerkorrel: Bloudruk)

Bloudruk

 

Kerkorrel en sy generasie het egter hulle moerigheid met die status quo met ’n mengsel van intellek en toeganklikheid vir die jonges van dae gebied. Daar is geboogie op “Sit dit af” en “BMW” maar daar is ook geredeneer; identiteit is bevraagteken; ou paradigmas is aan die kaak gestel. Die ‘revolusie’ het nie nodig gehad om jonges te dreig om deel te neem nie. Die lirieke, drif en boogie-woogie het vanself oortuig. Nuwe generasies soos Karen Zoid, fokofpolisiekar en ander kon voortbou op die Kerkorrels en Kombuise. Daar was dus ’n narratief wat voortgesit kon word. Maar, terselfdertyd het die narratief nie net ‘vertel’ nie (telling) maar ook ‘gewys’ (showing).

 

’n Protes-narratief wat benoud raak, wat homself vasdraai in sy eie jeremiades, kan nooit iets anders as ’n telling bly nie. Jy moet jouself in volwasse geselskap kan handhaaf. Dit beteken nié dat jy alles moet aanvaar nie. Dit beteken wel dat jy sloppy thinking halt sal moet roep om die weg oop te baan na ’n kragmeting tussen die ou en nuwe status quo. Jy kan egter nie die ou status quo op die vloer laat sit soos stoute kleuters terwyl jy ’n tantrum gooi en op die tafels toyi-toyi nie. Dit help nie om dieselfde ou slagspreuke rond te slinger nie; niemand wil meer daarna luister nie. Dié het ironies genoeg verpiep geraak, al word dit uitgebulder op mikrofone wat kringfluit.

 

Intussen is hierdie generasie studente vinnig besig om nog ’n verlore generasie te word. Hierdie jongmense het nie ’n stewige basis om hulleself internasionaal te handhaaf nie. Jy moet immers kruip voor jy kan loop of hardloop. Anders gaan jou knieë nerf-af wees op ’n gereelde basis.

Die vraag is: kan hierdie generasie werklike leierskap voortbring? Waar is die Gandhi’s, die Martin Luther Kings, die Neil Youngs, die Kerkorrels; die fokofpolisiekarre? Ek ken  weinig studente in die revolusie wat Marx se Das Kapital deurgelees het of die Communist Manifesto in hul slaap kan opsê. Weinig stel belang in gender-teorie (of die toepassing daarvan in die praktyk. Meisies word steeds as goods and chattle gesien) of in die tydlyn van wêreldgeskiedenis, albei belangrike bakens vir die jong revolusionêr. Hoe verander jy die ‘prevailing narrative’ as jy nie weet wát dit is nie?

Of is die born frees te “verward, jonk en rigtingloos”?

 

Ek’s gebore aan die Ooste-rand

In ’n straat wat net soos ander lyk

in die kerkbanke grootgeword

Anders as jy

Vir ewig in ’n ry gestaan

Verward, jonk en rigtingloos

Alles aan toeval oorgelaat

Nes jy

 

Mekaar gevind onder neonlig

Liggelowiges

Verblind

Verbind

(Francois van Coke: “Neonlig”)

Francois van Coke

 

Is die studente-revolusie wat ons tans mee te make het, werklik ’n revolusie? Of is dit net nóg ’n regime-in-the-making, ’n papegaai wat ‘bedroë die koggel kry”? Aldus David Cooper, die bekende eksistensiële psigiater (1968):

If we persist with the theme of transformation of our institutions into revolutionary centres of consciousness, we have to be clear about why more has not been achieved by what we have already done in this way. The most immediate answer is that we have become victims of a very old colonizing technique – the technique of divide and rule.

Ek berus by Stokely Carmichael (1967, soos aangehaal in Cooper:1968), wat onder andere leier van die Student NonViolent Coordinating Committee was:

I want to start off with definitions by using a quote from one of my favourite books, which is Alice in Wonderland, by Lewis Carroll. In the book there’s a debate between Humpty Dumpty and Alice around the question of definitions. It goes like this – ‘When I use a word,’ Humpty Dumpty said, in a rather scornful tone, ‘It means just what I choose it to mean. Neither more nor less.’

‘The question is,’ said Alice, ‘whether you can make words mean so many different things’.

‘The question is’, said Humpty Dumpty, ‘Who is to be master. That is all.’

Now, I think that Lewis Carrol is correct. Those who can define, are the masters.

 

BIBLIOGRAFIE

 

Cooper, D. (ed). 1968. The dialectics of liberation. Harmonsworth, Middlesex: Penguin.

Kerkorrel, J. 1992. Bloudruk. Tusk Music.

Van Coke, F. 2015. Francois Van Coke. Supra Familias.

Young, N. 1970. Massey Hall 1971. Reprise Records.

Marlies Taljard: As niks meer heilig is nie

Tuesday, March 14th, 2017

Ek sal seker nooit die lied “Ek sien ʼn nuwe hemel kom” kan sing sonder om aan die digter daarvan, Izak de Villiers, te dink nie. De Villiers se bydrae tot die Liedboek van die Kerk (2001) is, volgens Cas Vos in sy huldiging van die digter, magistraal. In die Liedboek van die Kerk is 61 berymings van dié bekende digter opgeneem. Volgens Vos word daar “deurleefde teologie gesing”. De Villiers, ʼn ervare predikant, maar ook joernalis en voormalige redakteur van Sarie en Rapport, se godsdienstige siening soos dit uit gedigte en ander skryfwerk spreek, is gegrondves in praktiese toepaslikheid. Vos skryf: “ … natuurlik het hy skyn-heiligheid verag. Hy was pylreguit en het ook sake diep gepeil.” Dit het ek die eerste keer agtergekom toe ek in 1996 ʼn handleiding (saam met Pieter de Villiers) vir Afrikaans Letterkunde vir die Gautengse matrieksillabus geskryf het en op die gedig “Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself” uit Gelykenisse en ander verse (1975) afgekom het. In ʼn sekere sin was Izak De Villiers en Dietrich Bonhoeffer geesgenote, veral in hulle nugtere beskouing van die godsdienspraktyk. Op daardie stadium het ek wel geweet wie Bonhoeffer was, maar sekere dele van die gedig het vir my duister gebly en ek het met my oom, Hans Bodenstein (nou reeds oorlede), oor Bonhoeffer gaan gesels. Baie van die insigte in hierdie blog kom dus van hom. Hy het die meeste van Bonhoeffer se werk besit en het ʼn lewendige belangstelling in sy teologie gehad.

Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself
I.L. de Villiers

Denk mal, daß es schon reife Tomaten gibt …

Könnte ich doch wieder einen Abend im Garten zubringen! …

… Mein gnädiger Gott, bereite mir mein Grab

“Briefe und Aufzeichnungen aus der Haft”

 

as niks meer heilig is nie
word alles heilig
en die wind waai waar hy wil

ek is
ek wil
sal wees
en sal nie wees nie

was gister?

en die pad terug na kind
en kinderland is lank
selfs as jy die koers ken
maar die wind
waai alles weg
schönberg  en buchenwald
berlyn etsi deus non daretur

hoe rooi is die tamaties
op die tafel
hulle is so daar
gebring deur ‘n bewaarder
bid vir my pastor bid vir my
ek is so hier
hier in die hoek
op ‘n kombers ‘n katel
kyk die tossels roer
as ek hier raak

daar is nog rooi tamaties
iewers in tuine
hier in flossenbürg
duisende rooi tamaties
ry op ry
in kruise opgebind
soos in berlyn
toe ek ‘n kind was

as niks meer heilig is nie
word alles heilig
word die wind stil
hoor jy niks
dis winter
wit

en alles hang
hoog in die dood
groot fees van die wat vry wil wees

dit groei uit rooi tamatie-rye
uit die swart grond uit
groter en ruimer as die son
as vriend as vrou
groei uit na God
swaai aan ‘n tou

 

Dietrich Bonhoeffer (1906-1945) was ʼn Duitse Lutherse teoloog wat sterk standpunt teen Hitler ingeneem het. In 1943 word hy deur die Gestapo gevange geneem en in die konsentrasiekamp Flossenburg (die korrekte spelling van die naam het nie ʼn Umlaut op die u nie) aangehou, waar hy enkele dae voor die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog gehang is.

In sy Christelike beskouings was Bonhoeffer alles behalwe tradisioneel – hy is veral tydens sy lewe sterk gekritiseer, maar vandag word hy allerweë, wat sy teologiese insigte betref, as ʼn baanbreker beskou. Hy neem onder andere sterk standpunt in oor geestelike gevangenskap en soetsappige, onnadenkende interpretasies van die Bybel. Hy maak homself veral ongewild deur te verklaar dat kerke, plekke, feeste en sakramente nie op sigself heilig kan wees nie, behalwe op die oomblik wanneer dit doelbewus aan God gewy word. (“Heilig” beteken “aan God gewy”). Daarteenoor kan ʼn Christelik-inspirerende gesprek egter wel heilig wees. Bonhoeffer glo sterk in die sinvolheid van lyding en het ook sy eie lyding in Flossenburg as sodanig aanvaar. Sy dood het ʼn groot beroering onder die ganse Duitse volk teweeg gebring en hom sodoende ʼn moderne martelaar gemaak. Dit is algemeen bekend dat daar na sy teregstelling twee oop boeke op die lessenaar in sy sel gelê het – die Bybel en Goethe se gedigte.

In die gedig “Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself” is daar, benewens die begrip “heilig”, twee belangrike simbole waarmee rekening gehou moet word, naamlik die rooi tamaties en die wind.

Die motto van die gedig, uit Bonhoeffer se Briewe en notas uit gevangenskap wat postuum verskyn het, beteken letterlik: “Dink net, daar is al ryp tamaties … As ek tog net weer ʼn aand in die tuin kon deurbring! … Genadige God, maak my graf vir my gereed.” Bonhoeffer het goed geweet dat hy gehang sou word en het homself geestelik gereed gemaak om te sterf. Tog verlang hy steeds na gewone, aardse dinge – hier gesimboliseer deur die tamaties. Die konkrete, ryp, rooi tamaties vorm ʼn soort cantus firmus in die gedig wat hoofsaaklik uit herinneringe en vooruitskouings na ʼn naderende dood bestaan. Die tamaties verbind die spreker met ‘n lewe buite die tronk: eerstens is daar tamaties in privaattuine in Flossenburg. Die tamaties wat die bewaarder vir die spreker gebring het, is verder ʼn konkrete bewys van menslikheid (ʼn konkrete geloofsdaad) te midde van die tronk- en oorlogsmilieu. Dit oorspan die brug tussen gevangenskap en vryheid – binne die konteks van Bonhoeffer se teologie, sowel konkrete as geestelike vryheid en gevangenskap. Die teenwoordigheid van tamaties in die tronk bewerk egter ook ‘n verbinding met die verlede: In Berlyn, waar Bonhoeffer ʼn kind was, het mense tamatieplante teen hulle kombuismure opgebind in die vorm van kruise. Die kruis-simbool, een van die oudste simbole wat deur mense gebruik word en wat ook in die Christelike tradisie swaar dra aan simboliek, word hier doelbewus buite sy Christelike verwysingsraamwerk gebruik, hoewel die Christelike simboliek natuurlik saamresoneer as addisionele betekenislaag, gegewe die feit dat die sprekende ek in die gedig ʼn predikant is. Die tamatie-kruis illustreer Bonhoeffer se gesigspunt dat sogenaamd heilige dinge, soos ʼn kruis, meestal eenvoudig deel is van die sekulêre wêreld en dat hulle “heiligheid” nie ingebed is in hulle konkrete daarwees alvorens hulle nie gebruik word met die intensie om hulle aan God te wy nie.

Bogenoemde insigte van Bonhoeffer word verklaar deur die refrein “as niks meer heilig is nie / word alles heilig / en die wind waai waar hy wil”. Bonhoeffer moes dikwels kritiek verduur omdat hy nie die algemene ontsteltenis gedeel het oor die verwoesting van kerke en ander sogenaamd heilige plekke tydens die twee Wêreldoorloë nie: As niks inherent heilig is nie, hoef die mens hom natuurlik nie te ontstel oor die vernietiging daarvan nie. Indien streng gehou word by die definisie van die begrip “heilig”, impliseer dit egter ook dat sekulêre plekke, dinge en handelinge heilig kan word deur die intensie van die mens om dit aan God te wy. Die verwysing na die wind wat waai waar hy wil, kom uit Johannes 3:6 en het betrekking op die werking van die Heilige Gees wat nie plekgebonde is nie. Wanneer die Gees teenwoordig is, kan alledaagse dinge in heilige dinge omskep word. By implikasie: as alles wat eens heilig geag is, deur oorlog en boosheid vernietig is, het die gelowige nog niks verloor nie, want alles (wat oor is) kan deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees heilig gemaak word.

Biografiese feite sê vir ons dat Bonhoeffer nie deur sy gevangenskap verhinder is om geestelike werk te verrig nie. Deur sy lewe in diens van God te stel, het hy sy verblyf in die tronk sinvol (heilig) gemaak. Bonhoeffer se bewaarders het groot respek vir hom gehad. Hulle het selfs by geleentheid ʼn ontsnappingspoging vir hom gereël. Hoewel bewaarders dikwels gevra het dat hy vir hulle bid (“bid vir my pastor”), het hy blykbaar nooit saam met iemand gebid nie, maar het hy verkies om geestelike gesprekke met mense te voer wat op konkrete probleemoplossing fokus.

Soos die kruis, is ook die wind in hierdie gedig ʼn ambivalente simbool wat nie eensydig in sy Christelike betekenis gebruik word nie. Wanneer die spreker terugdink aan sy kinderdae, waai die wind die herinneringe weg:

ek is

ek wil

sal wees

en sal nie wees nie

 

was gister?

 

en die pad terug na kind

en kinderland is lank

selfs as jy die koers ken

maar die wind

waai alles weg

Die reëls “terug na kind / en kinderland” kom uit ʼn bekende Duitse lied, “O wüßt ich doch den Weg zurück / den Weg ins weite Kinderland” (“O, het ek tog die pad terug geken, die pad na die verre kinderland”). Hierdie lied is graag deur Bonhoeffer aangehaal ter illustrasie dat geen terugkeer na die verlede moontlik is nie en dat die mens homself nie moet teister deur te probeer om gedane sake ongedaan te maak nie. Vandaar die noem van die harde realiteit (Schönberg, Buchenwald en Berlyn) direk in aansluiting daarby. Die frase “etsi deus non daretur” (“asof God nie ʼn gegewe is nie”, oftewel “asof God nie bestaan nie”) verwoord die skreiende kontras tussen die hede en die sorgvrye kindertyd toe God waarskynlik deel van die sprekende ek se realiteit was. Dit is inderdaad waar dat Bonhoeffer dikwels daarvan beskuldig is dat hy nie die God van die Lutherse Kerk verkondig nie. Uit hierdie reëls sou wel die afleiding gemaak kon word dat hy vertroue in die kinderlike geloof en in ʼn goeie God verloor het.

Die laaste verwysing na die wind binne die gedig staan eweneens binne ʼn nie-geestelike semantiese paradigma:

as niks meer heilig is nie

word alles heilig

word die wind stil

hoor jy niks

dis winter

wit

Indien die wind hier weer – soos die eersre keer wanneer dié simbool opduik – na die Heilige Gees sou verwys, sou die stelling nie sin maak nie. ʼn Mens sou die wind hier waarskynlik kon interpreteer as simbool van stilte na ‘n storm: wanneer die lewe as sodanig heilig geword het (en aan God gewy word), word die onrus stil. (Op outobiografiese vlak weet ons dat Bonhoeffer vrede gemaak het met sy naderende dood). Hierdie geestelike waarheid kom veral ook binne die Oosterse filosofiese en godsdienstige tradisies voor. Dan bereik ʼn mens ʼn toestand (van satori) waarin die wêreld en wat gebeur geen invloed meer op die individu het nie en die dood ʼn bevryding geword het: “en alles hang / hoog in die dood /groot fees van die wat wil vry word”. Natuurlik kan ook hierdie reëls meerduidig geïnterpreteer word. “Dood” sou kon verwys na ʼn toestand waarin alles heilig geword het en waarin die mens immuun (dood) geraak het teen die verskrikkings van die lewe (soos byvoorbeeld ook in ʼn toestand van diep meditasie). Die mees voor die hand liggende verwysing is natuurlik na die naderende dood van die spreker. Die “fees van die wat wil vry word” is eweneens ʼn ambivalente beeld wat kan verwys na sowel die mens wat deur die Gees bevry wil word, as na die kannibalistiese fees van die oorlogvoerende magte in ʼn goteske poging om bevry te word van iets wat waarskynlik lank reeds sy betekenis verloor het.

Ten slotte wil ek, suiwer op grond van biografiese feite oor Bonhoeffer, ‘n interpretasie waag van die slotstrofe. Natuurlik resoneer baie ander interpretasies, simbole en metafore in die gedig mee en dra by tot die veelvuldige betekenislae wat hierdie uitsonderlike gedig onderlê:

dit groei uit rooi tamatie-rye

uit die swart grond uit

groter en ruimer as die son

as vriend as vrou

groei uit na God

swaai aan ‘n tou

Dit sou in pas wees met Bonhoeffer se teologie dat vryheid groei uit konkrete beoefening van die mens se geloof (soos vergestalt deur die rooi tamaties en die grond waaruit dit groei), dat vryheid beteken om na God toe te groei (heilig te word), dat vryheid groter is as aardse dinge en ons lewe op aarde. Die dood is dus die simbool van finale vrywording. Ons weet immers uit Bonhoeffer se dagboek dat hy nie bang was om te sterf nie.

Wicus Luwes. Die metafoor as geneesmiddel

Tuesday, February 28th, 2017

Die geheim lê daarin om die probleem vas te maak aan iets konkreets. Die konkrete entiteit kan aangepak word op konkrete maniere. Digkuns het ‘n spesiale plek in die geneeskuns. Daar is die ritme wat staan teenoor lewensritme; die herhaling wat staan teenoor patrone in ons lewe. Ek wil met hierdie rubriek egter aandag gee aan die belangrikheid van die metafoor. Die metafoor stel een ding gelyk aan ‘n ander. ‘Gelyk aan’ is miskien ‘n sterk stelling. Dit is nie altyd waar dat een ding wat ‘Soos’ ‘n ander is, daaraan gelyk gestel kan word nie. Daar is slegs sekere eienskappe wat ooreenstem.

Die mens as pasiënt wat sielkundig behandel word, het dikwels ‘n sekere manier waarop hul oor die probleem sou praat. Die probleem word ‘n metafoor. Die digkuns kan hier ‘n belangrike rol speel in die interpretasie en behandeling van die metafore. Daar is heelwat informasie op die internet oor behandeling deur middel van poësie. Daar is egter ‘n ander invalshoek wat ek misgekyk het: die geneser kan digkuns gebruik tydens die proses van diagnose. Ek het hierdie moontlikheid misgekyk en dit maak vir my sin, aangesien ‘n geneeskundige soms fisiese en abstrakte grense moet kruis om by die oorsaak van die probleem uit te kom.


Ek (WL) het ‘n paar vrae oor die gebruik van metafore aan Louis Awerbuck (LA), ‘n kliniese sielkundige, gestel. Awerbuck is mede-aanbieder van die radioprogram, ‘Wie is Ek met Louis en Lise’ op RSG. In die program word luisteraarsvrae bespreek.

WL: Hoe kan die gebruik van metafore ‘n mens help om probleme en spesifiek emosionele probleme te identifiseer?
LA:     Mense sukkel oor die algemeen om hulle eie probleme te identifiseer, en meestal is een van die eerste take van ’n psigoterapeut om die persoon te help om die probleem in verstaanbare taal te beskryf.  Dit is dan die taak van terapeut om die persoon se beskrywing te herdefinieer in ’n kliniese beskrywing. So word daar byvoorbeeld in sommige kulture gereeld die metafoor: “my bloed is donker/swart” gebruik om ’n teneergedrukte gemoedstemming te beskryf.  Kliniese definisie: depressie.

WL: Hoe kan die gebruik van metafore ‘n mens help om probleme te behandel?
LA: Baie keer so eenvoudig as deur middel van beelding.  Om byvoorbeeld angs as ’n monster met spesifieke eienskappe te verbeel en te visualiseer, maak dit makliker om jouself byvoorbeeld te visualiseer as superheld wat die  monster oorwin.

WL: Ek hoor dikwels mense sê: “Ek wonder hoekom ‘n sekere probleem oor my pad moes kom.” Hoe kan ‘n mens die ‘pad’-metafoor gebruik om ‘n situasie in iets positiefs te omskep?
LA: Dit is seker een van die mees bekende metafore vir geestelike of sielkundige groei. Daar word daarna verwys as “die pad wat ek moet stap”,of “haar pad wat sy self gekies het”.  ’n Pad-metafoor kan baie keer kragtig gebruik word deur dit as ’n tydlyn van mens se lewe aan te dui (“lewenspad”), en dan van buite af (soos ’n toeskouer) daarna te kyk. Sodra afstand verkry word van die  metafoor is die persoon nie meer deel van die metafoor nie.

WL: Hoe kan ‘n metafoor ‘n mens help om eienaarskap van ‘n probleem te neem?
LA: Deur ’n subjektiewe emosionele ervaring te omskep in een konsep, is om beheer te kan neem. As mens ’n unieke metafoor vir jou lyding kan skep, help dit met die gee van betekenis. Betekenis in sy kern is die fenomenologie van waarom en hoe jy ervaar wat jy ervaar. Wat kan meer eienskap as dit gee?

WL: Kan die skryf van ‘n gedig dieselfde uitwerking hê as ‘n kind wat byvoorbeeld sy omstandighede sou teken?
LA: Verseker. Net soos onbewuste indrukke, word taal ook onbewustelik gevorm.  Die kreatiewe proses van dig leen homself baie sterk tot ’n terapeutiese omgewing, om eerstens afstand te kry om te kan beskryf hoe die self met ’n krisis omgaan, asook om ’n unieke metafoor te skep vir die probleem wat help met eienaarskap.

WL: Watter gedigte of watter digter se werk het al ‘n emosionele impak op u gehad?
LA: Daar is vele, maar sonder om te weet hoekom: Kipling, Watermeyer, gert vlok nel, Breytenbach. Wat is mooier as: “vier sterk mure teen die suiderwind, my swartoog vrou, my blondhaarkind” (Watermeyer)

WL: Watter raad sou u vir mense gee om metafore / digkuns te gebruik om probleme aan te spreek?
LA: Vir die wat vaardig is in digkuns sou die aanbeveling wees om ’n metafoor te skep waarmee objektief en subjektief geïdentifiseer kan word: jy moet dit kan “sien”, maar ook voel.
Ek besef al meer dat die bespreking en skryf van metafore en by implikasie, gedigte, ‘n manier is om die groter prentjie beter te verstaan. Uit de antwoorde het ek as leek geleer dat die losmaak van die metafoor net so belangrik as die vasmaak is. Die afstand tussen die pad-metafoor en die padgebruiker is ‘n groot deel van die genesingsproses. Ek het in die inleiding daarna verwys dat die vasmaak van die metafoor die geheim is en miskien (net miskien) is die losmaak van die metafoor een van die moontlike oplossings van daardie geheim.

 

wat is beweging anders as om verwantskappe
te skep? om te voel daar is landskappe
en omgewing? indien daar iets buite
my kon wees, iets anderkant die ruite
waaraan vingertoppe mag raak om op die lappe

te bring, dan moet dit tog beteken ek bestaan?
gestel ek kan myself verbeel, dan groei en taan
die lewe immers, is daar geverfde skuite
vol laggende mense soos trane teen die ruite
en lees ek my naam soos ‘n wimpel oor die maan.

engel, jy wat as flikker donkerte tussen ooglig en lig
oor getye van die hemelruim vlug met my gesig:

praat met my, laat my as diepleefduiker na die wrak afdaal
om te sien hoe klik en klak woorde kaal soos taal

– deur breyten breytenbach uit ‘die beginsel van stof’ (human & rousseau)

 

 

*** ‘n Groot dankie vir die deelname aan u, Louis Awerback ***

Verdere leesstof:
http://www.wie-is-ek.co.za
http://www.cleanlanguage.co.uk/articles/articles/23/1/Mind-Metaphor-and-Health/Page1.html

 

Bronne:
1. Skildery: Personal Values deur Rene Magritte

Wicus Luwes. Tussen twee vure

Saturday, January 28th, 2017

vuurhoutjie

Vuur is ‘n lewende voorwerp – dit haal asem, dit beweeg en op ‘n sekere vlak plant dit  voort. ‘n Mens moet al hierdie dinge in gedagte neem as dit jou doel is om ‘n vuur te blus. Ek dink terug aan die verwoestende vure in die Noord-Kaap en Vrystaat van ongeveer vyf jaar gelede. Brandslaners het gesê dat hulle moes draf om langs die vuur te bly – die sterk winde en die droë gras, het die vuur gevoed. Die rook het vir twee dae die son uitgedoof in die area waar ek gebly het en die lug bruin gekleur. Laasjaar het ons brandbestryders selfs in Kanada vure gaan probeer blus. Vanjaar is dit die Wes-Kaap wat alles verloor. Ek sien die koerantberigte van al die kultuurskatte, plase en huise wat in vlamme opgegaan het. Die lewensverlies van mens en dier gaan ook nie ongesiens verby nie.

Ek besef verder dat die vuur definitief aan die vereistes van ‘n lewende wese voldoen: dit verwoes. Die vuur maak herinneringe aan die verskroeide-aardebeleid los. Ek het op skool geleer dat dit in die Anglo-Boereoorlog teen die Boere ingespan is. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Rusland vir Hitler tydens sy opmars gestuit deur haar eie oeste en kos aan die brand te steek.

 

3 Maniere om ‘n vuur te blus

Verwyder die voedingsbron

Vuur het suurstof nodig om asem te haal en brandbare items om te verorber. Brandstelsels vervang die suurstof met gas wat nie vlambaar is nie wanneer sensors die vlam of rook optel. Brandbare of ontvlambare items moet ook verwyder word om te verhoed dat vuur ontstaan of verder versprei. Water of brandblussers smoor die vuur se asemhaling.

Die vraag is wat die voedingsbron sou wees vir ‘n vuur wat in die gedagtes van iemand sou woed.

Verwyder die roete waarlangs dit loop

Daar behoort jaarliks brandpaaie gemaak te word. Die probleem is ongelukkig seisoenaal en vlamme hou van droë veld. Deur ‘n pad vir die vlamme te maak kan die roete van vuur so hopelik beheer word. Die plan sou wees dat die vuur homself (of haarself) in ‘n hoek vasloop en so uitwoed. Trekkers word ook gebruik om stukke veld om te ploeg wanneer die vlamme reeds op pad is. Dit sou die roete van die vuur dalk meer hobbelrig maak en dalk veroorsaak dat dit stadiger versprei.

Die vraag is wat die roete van die mens se gedagtevuur sou wees. Dit sou help as ‘n mens dit nie sou stuit nie, maar eerder kanaliseer.

Hou op om ekstra vure te maak

Dit klink eenvoudig en dit is miskien teenstrydig met die maak van voorbrande, maar dit is belangrik om daaraan te dink. Die spreuk lui: ‘fight fire with fire’, maar omdat die vuur ‘n lewe van sy eie het, is dit nie altyd wenslik dat ‘n mens vuur met nog vuur aan moet val nie. Daar is reeds genoeg brandstigters en veels te min brandbestreiders.

Onwillekeurig dink ek terug aan die brand wat Klein Libertas in puin gelê het. Ons kombuistaal se historiese skatte het ook onder die Wes-Kaapse vlamme deurgeloop.

 

 

Die swart kombuis

die swart kombuis het balke
die mure is berook
in ‘n groot gekraakte erdebeker
woon dags die nagskof-spook

die swart kombuis het luike
skeefgetrek en toegesluit
aartappels lê die werf rond
skedels wat loop oog uit

die vensters het geen uitsig
die werf die lug het geflou
die grond is vaal puimpoeier
die aartappels is grou

geen mens beweeg hier binne
geen mens werk op die werf
êrens tussen middag en skemer
het die aarde se lug gesterf

‘n middag hoe lank gelede
die swart kombuis is oud
daar was nooit somer-sonlig
die swart kombuis is koud

daar hang ‘n snaakse skottel
met ‘n riffel-hingsel aan ‘n riffel-rand
en ondertoe twee gate
wat loer aan die een kant

het hekse hier gebak en brou
die swart kombuis die swyg
daar in die hoek lê ‘n kat-skelet
die swart geheim bly dig

deur Sheila Cussons

tarkovsky_mirror_fire1

Indien jy egter nie die vuur geblus kry nie, het jy heel waarskynlik te doen met ‘n onblusbare vuur.

3 Onblusbare Vure

Dit is seker ironies dat ek ‘The Mirror’ gesien het tydens my verlof vroeër die jaar. Dit is ironies omdat ‘vuur’ ‘n onderliggende (of liggewende) tema van die film is. Andrei Tarkovsky se Zerkalo (‘The Mirror’) is egter nie slegs ‘n tradisionele film nie. Dit is wel op film vasgelê, maar dit volg nie die definisie van ‘n tradisionele film of fliek nie. Dit word beskryf as herinneringe. Dit word beskryf as visuele digkuns. Dit is ‘n simbool. In onderhoude is Tarkovsky dikwels gevra na die betekenis of simboliek van vuur in sy films.

Tarkovsky het geantwoord dat alhoewel hy erken dat vuur, water en sneeu dikwels voorkom in sy films, dit nie spesifieke betekenis het nie. Hy het homself ook daarvan weerhou om die beelde of simboliek vir die kyker te interpreteer of te vertaal.

 

I am a candle. I burned at the feast.
Gather my wax when morning arrives
so that this page will remind you
how to be proud and how to weep,
how to give away the last third
of happiness, and how to die with ease—
and beneath a temporary roof
to burn posthumously, like a word.

deur Arseny Tarkovsky

 

Die vuur van jeugtyd-herinneringe

Die eerste groot vuur in ‘The Mirror’ wys hoe ‘n skuur in die platteland afbrand. As agtergrond hiervoor is die Russiese bevolking se vlug na die platteland in ‘n poging om die Sovjet-opstande vry te spring. Dit word ook later duidelik dat dit dieselfde jaar was waartydens die seun, Alexei, se vader die gesin verlaat het. Die sielkunde probeer dikwels huidige probleme koppel aan jeug-gebeure, soos metafore aan die beelde wat dit voorstel. (My eie jeug-vlam neem my terug na die keer wat my Pa my as vyfjarige onder hande geneem het toe ek skelm met vuurhoutjies in my kamer begin speel het.) Die rol van die jeugtyd-vuur is onmiskenbaar. Ek stel dit hier as onblusbaar, maar dit is eintlik nie die waarheid nie. Die vuur is wel blusbaar, maar die blus daarvan op 5-jarige ouderdom of 85-jarige ouderdom kan tot veel meer lei as net die blus van ‘n vlam.

 

Die vuur van geloof

‘n Spreuk uit die Viatka-streek in Rusland lui: ‘n Stoof in die huis is dieselfde as ‘n altaar in die kerk: Brood word daarin gebak. Die Ortodokse Christelike geloof, soos uit die Russiese tradisie, is vol ikone of simboliek. Slawiese tradisie het ‘n prent van Maria, Moeder van God, teenoor die stoof in die huis gehang. Maria sou die ‘moederhart’ wat klop in die ‘vaderhuis’ voorstel. Die boek ‘All Russia is Burning!: A Cultural History of fire and Arson deur Cathy A. Frierson wei meer hieroor uit.

‘n Prominente beeld in die film wys hoe Alexei se moeder haar hare was in ‘n emmer. Die kyker word bewus dat dit eerder ‘n droombeeld is wanneer stukke van die plafon begin val en water van die dak af instroom. Sy moeder kyk ook vir haarself in ‘n spieël en sien later ‘n ouer dame. Ek het eers vermoed dat hierdie beeld die vrou se veroudering / verval of fisiese agteruitgang sou voorstel, maar die vlam het my gepla. My internet-soektog na die betekenis het my na die Russiese Ortodokse tradisies geneem. Wat my egter die meeste opval is dat die Kommunistiese regering die film befonds het. Hulle het ook enige films met geestelike inhoud verbied. Die vuur in Torkevsky se film tart sonder twyfel die regering en bring geestelike simboliek na vore sonder om direk daarna te verwys. ‘The Mirror’ is aan die ander kant ‘n soort outobiografiese film en miskien moet ek meer kyk na die beeld as ‘n persoonlike ervaring van Tarkovsky as vorm van uittarting. Hoe dit ookal sy: Ons almal weet tog dat die beste wegsteekplek juis reg onder die neus is van die wat daarna soek.

tarkovsky_moder_vuur

Skermskoot uit ‘The Mirror’ met die moederhart wat klop in die vaderhuis (vlam in agtergrond en in spieël)

 

Andrei Tarkovsky se vader was ‘n digter en sy digkuns kry ‘n prominente plek in die film. Die vader, Arseny Tarkovsky, lees dan ook sy gedigte en bind die film, net soos die vlam, op simboliese wyse saam. Die outobiografiese aard van die film word gebou om kern-gedagtes / geheue uit Andrei Tarkovsky se lewe, maar eers by die lees van die gedigte het ek die film beter verstaan. Dit het my weer laat besef watter impak digkuns het op die manier hoe ons ook ons eie lewens onthou.

Die liefdesvuur

‘The Mirror’ wys ook hoe die hoofkarakter as seun verlief raak op ‘n rooikopdogter. Die tema is waarskynlik eersteliefde, maar die klein rooikopmeisie verskyn deur die film in verskillende tonele en haar beeld verskyn later in ‘n spieël as herinnering. Op ‘n sekere vlak wys die spieël hiermee elke kyker op sy of haar eerste liefde.

De(kon)struksie van vuur
Ons hou van die vlam, maar is bang vir die vuur. Ons hou ons hand uit na die vlam as ons koud kry in die winter. Ek is dankbaar vir die vlammetjie wat Tarkovsky se visuele poësie in my siel aangesteek het. Ek volg die Andrei Tarkovsky-garingdraad deur middel van die vuur. My gunsteling deel van ‘n vuur is die groen blare wat deurbreek wanneer alles dood en verwoes lê.

tarkovsky_vuur_hand_

Skermskoot uit ‘The Mirror’

Fire

Clear smoke,
a fire in the far off
haze of summer,
burning somewhere.

What is
a lonely heart for
if not
for itself alone.

Do the questions
answer themselves,
all wonder
brought to a reckoning?

When you are done,
I am done,
then it seems that
one by one

we can leave it all,
to go on.

deur Robert Creeley

Bronne:
1. Cussons, S. 1978. Die swart kombuis. Kaapstad: Tafelberg
2. Internet. https://readalittlepoetry.wordpress.com/2012/05/05/fire-by-robert-creeley/
3. Metres, P. & Psurtsev, D. 2015. I Burned at the Feast: Selected Poems of Arseny Tarkovsky. Cleveland University Poetry Center

Wicus Luwes. 3 Seuns

Saturday, December 24th, 2016

kutlwano

Plattelandse Pietà
vir Kutlwano Garesape van Jan Kempdorp

ek wonder hoeveel gebreekte bottel
hul uit jou klein lyf moes haal –
stukke glas wat ‘n mal man
deur jou gesteek het

jy wat jou ma teen die
bottel en die stok verdedig het
is in klein gebreekte stukke
deur my gedagtes gesteek

jy vra vir ‘n laaste soen
en sterf
bebloed
in die arms van jou ma

aylankurdi
Waterdoop

die see is ‘n doopvont
wat jou naam
saam met die water
oor jou voorkop vee
soos ‘n predikant
se hand in die oggenddiens

ek doop jou Aylan Kurdi
in die laagwater
ek doop jou vlugteling
in die hoogty
van die oorlog
ek doop jou brander van sirië
wat uitspoel aan die kus van turkye

jy is ‘n bloeisel
en ‘n opslagloot
aan die bome
van die arabiese lente

manger
El Niño

‘n leë krip
altyd vol dou
in tye van droogte

 

Bronne:
http://www.sabc.co.za/wps/portal/news/main/tag?tag=Kutlwano%20Garesape
http://www.biblelandhistory.com/israel/manger-stone.html
http: //www.robertsharp.co.uk/2015/09/05/photo-aylan-kurdi/photo-04-09-2015-22-46-39/

Wicus Luwes. Art Deco in die reën

Friday, December 16th, 2016

surrey1

Ons ry deur Durban op soek na geboue wat in die Art Deco-styl gebou is. Daar is talle voorbeelde in die middestad. Daar is ook talle geboue wat steeds van die tweede vloer af boontoe die Art Deco-styl verteenwoordig, maar met nuwe funksionaliteit van spaza-winkels aan die onderkant. Art Deco het meestal tussen 1920 en 1940 hoogty gevier. Art Deco verteenwoordig post-Eerste Wêreldoorlog. Art Deco is ook die Groot Depressie. Art Deco is die pre-Tweede Wêreldoorlog. Art Deco is die Charleston. Art Deco is die Oscars.

surrey2

Foto: Surrey Mansions. Die gebou word deur baie mense as die kroonjuweel van Durban se Art Deco-styl beskou. Die woonstelblok het ‘n basis, middel en kroongedeelte wat baie ooreenstem met New York se trapsgewyse interpretasie van die styl. Die gebou is roomkleurig geverf, met rooi en groen pastelkleure wat die patrone uit laat staan.

 

Ou Gebou

Verweerde gebou, onbeskut op ‘n besige hoek,
leun ek agteroor met blouspieëlende oë,
weerloos teen die aantog van voetganger en motoris.

Liefs neem ek die lewe in breë trekke waar. Motors
in roomyskleure om skewe kerke. Vragmotors
belaai met karkasse of kopkool. Konvooie loteringe.
Bewyse van welvaart. Soms in parke
‘n somerstorm van stuiptrekkende plante. Daagliks
die kontrapunt van skoppelmaaie. Bewys van vrede.

Afkyk het ek afgeleer: net wie nog jonk is,
kyk met durf in die gesigte van mense.

A, dat die stropers kom om my oë uit te slaan!
Genoeg het ek gesien. Oorbodige bepeinsinge
bewaar in my kamers, ek, argief van gistergerigtheid,
oumensbewend onder my dun laag dagha.

deur Wilma Stockenstrom uit ‘Vir die Bysiende Leser’

 

bereacourt1

bereacourt2

Foto: ‘Berea Court’.  Die gebou is deur dieselfde span ontwerp as Surrey Mansions. Berea bied egter ‘n meer huislike en ruim gevoel. Die voordeure van die wooneenhede maak oop in ‘n ruim binnehof en het loodglaswerk wat tipiese Durban-tonele uitbeeld. Die sekuriteitshekke, wat later bygevoeg is, het die boustyl probeer handhaaf. Baie van die oorspronklike ligtoebehore is steeds in gebruik.

 

Art Deco is meer as net geboue. Dit is ‘n verkorte weergawe van Art Décoratifs. Art Deco is meubels. Art Deco is muurpapier. Ek sien dit dikwels in ontwerp-tydskrifte, maar nie meer so baie in gebou-ontwerpe nie. Deesdae probeer die ontwerpe wegkruip en saamsmelt agter plante en sonpanele. Ek sien ook baie boustyle en dakke wat by Japan leen. Die Suncoast Casino en vermaaklikheids-kompleks is wel ‘n nuwe gebou in Durban wat die Art Deco-styl laat voortleef. Daar het selfs onlangs ‘n groep uit Duitsland na die Suncoast Casino-kompleks kom kyk as deel van hul belangstelling in die besonderse boustyl. Durbandeco, ‘n groep wat hul belangstelling in Art Deco laat voortleef, dien as belangrike skakel om bewusmaking lewend te hou. Hulle het ‘n paar roetes deur Durban uitgelê om ander belangstellendes op die regte spoor te plaas. Ons het juis een van hierdie roetes probeer volg, maar is ‘n bietjie ingeperk deur die reënweer. Natuurlik kla ons nie oor reën in tye van droogte nie en ons het probeer om dit eerder tot ons voordeel te laat meewerk.

reen1

The Rain

All night the sound had
come back again,
and again falls
this quiet, persistent rain.

What am I to myself
that must be remembered,
insisted upon
so often? Is it

that never the ease,
even the hardness,
of rain falling
will have for me

something other than this,
something not so insistent—
am I to be locked in this
final uneasiness.

Love, if you love me,
lie next to me.
Be for me, like rain,
the getting out

of the tiredness, the fatuousness, the semi-
lust of intentional indifference.
Be wet
with a decent happiness.

deur Robert Creeley

gainsborough

Durban is ‘n fokuspunt vir Art Deco in Suid-Afrika, maar daar is ook ander plekke in die land waar heelwat in die Deco-styl gebou is. Springs is ‘n voorbeeld. Een artikel noem dit die weggooikind van Art Deco in Suid-Afrika. Ek vermoed dat talle stede of plekke wat tussen 1920 en 1940 ‘n opbloeitydperk beleef het, dalk met ‘n paar sulke geboue sou kon spog. Deco was/is ‘n internasionale beweging wat sy styl by baie plekke geleen het. Die opgrawings in Egipte en ontdekking van die Inka-kulture het ‘n invloed op die dekoratiewe elemente van Art Deco gehad. Staal-konstruksie, vervoer en meganisasie het Deco geïnspireer, maar is op sy beurt deur Deco beïnvloed.

Durban verteenwoordig verskillende metafore vir verskillende mense. Durban is Victoriaans. Durban is Art Deco. Durban is elke styl wat daarop gevolg het.  Durban is ‘n warm blyplek vir boemelaars in die winter. Durban is seevakansies.  Durban is Gandhi. Durban is die Britse Empire. Durban is Zoeloeland. Durban is ‘n hawestad. Baie skepe doen in Durban aan om vragte op te laai en om hul vragte agter te laat.

westvilleswembad

Foto: Art Deco-hek by die Westville publieke swembad

cheviotcourt

Foto: Cheviot-gebou

manhattancourt

Foto: Manhattan Mansions. Manhattan is ‘n voorbeeld van ‘Style Moderne’. Die gevoel van ‘n masjien, passasierskip en trein word geskep deur die chroom-afwerkings en patryspoort-vensters.

 

Vir my verteenwoordig Art Deco die mens se innerlike konflik tussen funksionaliteit en dekoratiewe elemente. Dit is ‘n soort konflik wat egter die beste in ons na vore bring. Terwyl ons deur die stad ry, sien ons selfs ‘n paar Art Deco-woonhuise. Ek wonder hoe historici ons huidige leefruimte en boustyle gaan beskryf as hul ‘n paar jaar van nou af daaroor gaan besin. Art Deco is ‘n kombisasie van verskeie invloede en was nie bang om nuwe dekoratiewe elemente aan ou style te hang nie. Die konflik tussen funksionaliteit en dekor woed ook tussen ontwerper en bouer. Ek dink die grootste geskenk wat ‘n ontwerper kan kry, is ‘n bouer wat sy droombeeld in ‘n realiteit kan omskep.

 

Poetry is not only dream and vision; it is the skeleton architecture of our lives. It lays the foundation for a future of change, a bridge across our fears of what has never been before. – Audre Lorde

 

Spelreëls

Elke landskap het sy eie aard
sy eie onverbiddelike reëls.
Weet dit vooraf, reisiger:
jy’s altyd ontoereikend toebedeel.

Vir vuur uit spuwende vulkane,
vir eindeloosheid op die vlak.
Jou stamina, jou krag is minder
as die hoogtes en die dieptes
van plekke wat gemaak is,
wat gemerk is deur orkane.

Jy, een van mindere statuur,
hou tog by jou postuur!
Besoek liefs die domeine
wat mense self gemaak het,
dié wat herkenbaar is in woorde,
kleure, klanke en in lyne.

Ook hierdie landskap het sy eie aard
sy eie onverbiddelike reëls.
Ek, reisiger, weet regdeur:
ek is altyd ontoereikend toebedeel.

deur Heilna du Plooy dui ‘In die Landskap Ingelyf’

 

Bronnelys
1. Internet. http://users.iafrica.com/a/an/andryn/index.htm
2. Internet. http://www.durbandeco.org.za
3. Internet. https://www.poetryfoundation.org/poems-and-poets/poems/detail/42837

Gisela Ullyatt. Om te verhuis.

Wednesday, December 14th, 2016
Foto: Gisela Ullyatt. 2016.

Foto: Gisela Ullyatt. 2016.

Met Hildegard von Bingen in die agtergrond, lees ek die afgelope jaar se dagboekinskrywings. Laasgenoemde beslaan veel minder bladsye as gewoonlik: 2016 was ’n jaar waarin ek vir lang tye niks neergepen het nie.

Ek onthou vanjaar eerder as ’n jaar van groot veranderinge. Die grootste hiervan was ’n Groot Trek; die keer na ’n ander provinsie. Om jou lewe uit te sorteer en weereens in bokse te pak, is soms net te veel. Drie trekke in vier jaar.

 

Kyrie eleison

Christe eleison

Kyrie eleison

 

’n Hele buitekamer vol boekbokse moes ternouernood aangespreek word. Wonderlike boeke moes van afskeid geneem word. ’n Egpaar wat tweedehandse boeke opkoop, verneuk ons: vragte boeke word in goeder trou aan hulle toevertrou omdat die trek baie vinnig moes plaasvind. Hulle sou na elk van die boeke kyk en dan ’n regverdige prys saamstel. Ondermeer was daar ’n hele versameling Herman Charles Bosman. Twee bakkievragte boeke word weggery waarna net R300-00 in ons rekening inbetaal word.

Stillewe met Boeddha & boeke.

Stillewe met Boeddha & boeke.

 

Boonop word van ons breekgoed onherstelbaar beskadig. Vier Boeddhas lê aan skerwe. Van die erfporselein en glase: toetentaal verbrysel. Kosbare boeke se voorblaaie word argeloos ingepak en sodoende lelik gebuig. Ek sluk langtand aan die les: tog wys die Boeddha immers daarop dat alles sal vergaan: Impermanence. Maar daar is dae wat die les nié in my hart wil gaan lê nie. Die chaos van bokse, steeds-toegedraaide skilderye en ander hope los goed se chaos sif deur tot in my DNA.

Daarom skryf ek byna niks hiervan neer in my dagboek nie. Wat ek wel op afkom in hierdie einste boek, is twee gedigte van Ernst van Heerden uit Tyd van Verhuising wat ek met die hand oorgeskryf het:

 

Ernst van Heerden

Ernst van Heerden

 

Aan die verhuisingsmanne

Dra saggies, vriende,

want sierpotte en erdewerk,

keurborde en fyn glas

sluit ’n lewe

met sy drome

en verlangens in;

 

Dra saggies, mededraers,

want die drag

van veerbed,

tafels, lessenaar

druk teen die bors

se dun skelet;

 

Dra saggies, regters,

want die oordeel

oor my klein bedryf

lê vasgevang

in prente, boeke

en ’n eie ou gemakstoel;

 

Dra saggies, gode,

want die hart se porselein

is broos en tot veel seer

en kwesbaarheid geneig:

die kratte van ’n lewe

kan so maklik breek.

 

 

Verandering

In die donker orde van my huis

voel ek die aardepols verflou,

word ek met sinlose weerspannigheid

deur elk ding verwyt:

 

’n deur wat eie knip ontwyk,

’n kas wat weier om te sluit,

tapyte met ingeweefde struikelblok,

hoë trappe sonder styggerief,

dieselfde spookgesig

in elke spieël se blits;

 

bedags deur vensterruite

die wit vlam van die son se gietery:

’n tuin-vermoede van

’n hele boord tot één boom vasgesweis;

 

en saans by skryflig

die lamp

wat soos ’n knie skarnier.

 

 

Nog ’n bundel wat ek herhaaldelik na toe teruggekeer het hierdie jaar, is Olga Kirsch se Oorwinteraars in die Vreemde. Alhoewel ek gelukkig nie die ongetemperde isolasie van die émigré ken nie, resoneer ek steeds met veral die gedigte wat Kirsch-as-huurder in die vreemde oopskryf. En alhoewel die huis wat ons huur ons eie besittings bevat, ken ek die voorafgaande maande se tydelike verblyf waar jy jou tentpenne elke keer uit die grond moet trek met net die nodigste in plastieksakke en tasse.

 

Foto: Gisela Ullyatt.2016.

Foto: Gisela Ullyatt.2016.

 

 

Huurders

’n Onbekende vrou se ruim, stil huis.

Haar plante wat teen die ruite ligwaarts krul.

Alles waarin sy haar lewenslank omhul

het totdat haar gees hom veilig tuis

weet, om my. Binne dié mure is skoon

gelewe; niks steur die edele patroon,

alles hoort saam. Ek hou die kamers skoon

en, hande eerbiedig op meubels en kleinode,

voel koester my haar vreedsame huisgode.

 

 

In dié gehuurde huis besit ek niks

In dié gehuurde huis besit ek niks

as net my klere. Alles waaraan ek raak

­­- kombuisgoed, meubels, gordyne – is volgens die smaak

van andere. Nogtans, omdat ek hom – fluks

na buie van lees en luiheid – skoongemaak

het, sodat die voordeur laatmiddag vir jou

verwelkomend kan oopswaai, omdat ek nou

voor sy ou rooshoutlessenaar ’n taak

wat ek bemin verrig, mooi briewe ontvang,

voor sy boogvenster kerf, sal ek hom onthou

–  lugtig, son-vrolik – dalk na hom terugverlang.

 

 

Van Heerden/negatief

Van Heerden/negatief

Vir Ernst

Dra saggies hierdie gedig

na die man

wat die gode se porselein

op papier kon breek:

geen mank ritmes

of verkapte strofes nie.

 

Eet saggies hierdie gedig

want die digter het

room geword

en ken die donker man

nie meer nie.

 

Kyk saggies na die digter

agter daardie bril:

die lewe is geen cliché nie.

 

(Gisela Ullyatt. 2016)

 

Bibiografie

 

Kirsch, O. 1978. Oorwinteraars in die vreemde. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Heerden, E. 1975. Tyd van verhuising. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gisela Ullyatt. Poet in the Mall: Pre-krismis blues.

Tuesday, December 13th, 2016
Foto: Gisela Ullyatt. 2015.

Foto: Gisela Ullyatt. 2015.

 

Teen die eerste week in Desember tref die post-jaar blues die uwe elke jaar. Vanjaar, natuurlik geen uitsondering nie.

Die faktore wat gewoonlik die post-jaar blues in post-jaar rage omskep kan soos volg opgesom word:

#Een: ’n Beklemmende gevoel dat ek met ’n kartonbordjie op straat gaan moet bedel. Ek hou van Kersgeskenke koop. Die plek waar ek werk glo nie in die konsep van ’n bonus nie. Dus lê ek nagte wakker oor my pennies en pondjies. Januarie strek voor my soos die Knersvlakte.

#Twee: Jy kan nêrens aandoen sonder om deur  Jollie Katrollies met hul plastiektrollies teen jou hakskeen of agterstewe gekap te word nie. Boeta en Sussa gil besete soos karakters uit Nightmare on Elmstreet. Mammie & Pappie baklei oor of hulle vir sy gomgat-pêlle booze gaan koop vir Kersfees. Terwyl hulle dan besluit om vir almal shooter glasies by Checkers te koop.

Daar is die tailgaters wat op jou kom staan as jy in rus en kalmte na produkte wil kyk. Sy rek en strek óór jou: dié tailgater voel jy vat veels te lank en dat jy haar persoonlik van haar moet-hê krismisprodukte ontneem. Since yesterday wou sy dit mos hê en boonop is daar die allergrootste gevaar dat die winkel gaan verdwyn – op die daad – voor sy haar cheap x-mas biscuits gekoop het. Uit pure spite vertoef jy langer voor die rak.

#Drie: Ja, die muzak. Boney M was altyd my antagonis. Of Pan Pipe Kersfeestreffers. Maar deesdae het muzak ’n gevaarlike nuwe vlak bereik: die Warbling Diva. Soos Maria Carey, of enige ander “chick” wat hul eie klankregister gevaarlik uitdaag. Daar is meer kinkels in die Warbling Diva se stem as ’n pas in Lesotho. Elke winkel, hoe klein of hoe enorm, voel dit hulle persoonlike plig om die Warblers op hul klanksisteem uit te toets. Op ’n afgryslike hoë volume. Kla help niks, want le manager sal jou net met sulke dooie vis-oë aankyk en sê: dis ’n firm favourite met ons ander customers. Waar dit veral pla, is in restaurante en koffieplekke. En ja, die ander customers geniet dit blykbaar, want hulle praat so hard en so baie dat hulle blykbaar die Warbling Diva nié hoor nie.

Dan ruk ek my maar op: Bogger die muffin. Die koffie. Die melkskommel. Die vis & tjips in ’n pan. En dankie, Meneer Manager van die Koffiewinkel Chain, liefs drink ek maar my tee en eet my koek by die huis.

poet-in-the-mall

Foto: Gisela Ullyatt. 2016.

Ed Bremson se Poet in the Mall (2010) bevat onder meer 180 haikoes wat hy oor verskeie malls geskryf het. Alhoewel hierdie haikoes nie spesifiek oor Kersfeestye in malls geskryf is nie, is daar steeds raakpunte. Reeds as student is Bremson deur sy dosente as die “Walt Whitman of the mall” gedoop vanweë sy mall-gedigte. Hy dra ook Poet in the Mall aan Federico Garcia Lorca op.

Nie al die haikoes in die bundel is tradisioneel wat vorm aanbetref nie, maar laat eerder die indruk van ’n kontemporêre haikoe-vorm. Bremson gebruik die Amerikaanse mall as vertrekpunt en metafoor wat gelykertyd interessant maar ook ’n obstruksie is vir lesers wat nie malls in die VSA ken nie:  jy gaan nie sommer Spaans in een van ons malls hoor nie; ons het nie “animal crackers” hier nie en die kans dat twee ou mans die Tweede Wêreldoorlog gaan “rehash” is na aan onmoontlik.

Interessant is die herhalende motiewe en beelde wat Bremson utiliseer, byvoorbeeld die morbidly obese Amerikaanse publiek:

on a fat woman’s shirt

the slogan, “just do it!”

do what? Eat a pie?

Nog ’n deurlopende motief is die identifikasie van mall shoppers deur middel van kleur of klas:

young redneck

whacks his girlfriend hard

on the butt

big black guy

in a chartreuse shirt

and a chartreuse cap

four black guys

making eyes

at two white girls

young black woman

walking arm in arm

with an old white woman

Sommige van die haikoes het ook ’n “fascination with the grotesque”:

woman at the mall

eats corn kernels off the cob

one at a time

girl in the shoe store

using her long hair

to floss her teeth

girls

at Brookstone

checking out the vibrators

Laastens maak Bremson ook mildelik gebruik van die paradoks, die mees geslaagde poëtiese strategie in Poet in the Mall:

Mexican woman

eating

Japanese food

September 24

shopping

at the Christmas store

woman

sitting alone

on a kiddie ride

old muslim woman

resting with her head covered

and shoes off

Vier faux haikoes tydens die laaste jaargety

 

1.

en oral faux sneeu

Kersvader se glittering balls

wat saam met beurtkrag flikker

2.

spur mugg & bean

kfc wimpy

gee, gee, gee

3.

swart vrydag

verreken in rooi

kredietkaart: hoerkind

4.

i wish you a stille nag

sonder #hastags of insta-

gram of ’n very merry xmas

 

(Gisela Ullyatt. 2016)

Bibliografie

Bremson, E. 2010. Poet in the Mall. 180 haiku + 21 poems. New York: iUniverse.