Amanda Lourens

Amanda Lourens. Skadu’s, skoonheid, die liefde en die tanka

Tuesday, July 15th, 2014

I

Die Heiaanse periode (794-1185) word algemeen beskou as ’n merkwaardige tyd van rus, vrede en voorspoed in die dikwels bloedige Japannese geskiedenis.  Die stad Kyoto, wat aanvanklik as Heian-kyo bekend gestaan het (wat letterlik beteken die stad van rus en vrede) en waaraan die Heiaanse periode sy naam ontleen, is in hierdie periode opgerig en was die sentrum van ’n lewe wat artistieke verfyning na ongekende hoogtes sou neem.

Toe die geishakultuur eers eeue na die afloop van Heiaanse periode tot stand gekom het, was dit op die gekultiveerde lewenswyse van die Heiaanse adelstand wat die geishas hulle handelsproduk van lewe-as-kuns geskoei het.  In Heian-kyo was elke kimono ’n bestudeerde keuse, elke handgebaar ’n kunsuiting en elke tanka (’n hoogmode-digvorm van die tyd) is oorgeskryf tot perfeksie. Want in die Heiaanse samelewing was (goeie) poësie hoogmode.

Soos wat dikwels die geval is in tye van vrede en welvaart (en met genoeg arbeiders op die rysvelde om die illusie van ’n ewig harmonieuse wêreld in stand te hou), kon die kunste in die Heiaanse periode gedy – tesame met ’n ophemeling van skoonheid en die liefde.  Die adelstand, veral, het hulle tyd verwyl deur die liefde self tot ’n kunsvorm te slyp, en hierin het die poësie het geen geringe rol gespeel nie.  Trouens, die poësie het sekerlik in min ander samelewings deur die geskiedenis dieselfde aandag en status as in die Heiaanse liefdes- en skoonheidskultus geniet.  Lesley Downer sê trouens in haar boek Geisha: The secret history of a vanishing world dat die grootste vrees van ’n lid van die Heiaanse adelstand, naas die begaan van ’n sosiale blaps, eienaarskap van ’n swak gedig was.

Bevoorregte vroue met ’n goeie opvoeding het in hierdie periode die pen opgeneem en gedigte geskryf wat tot vandag toe bekend is – dink maar aan Sei Shōnagon (c.966-1025) wie se werk The Pillow Book onlangs weerklink het in Jannie Malan se bundel In ligte laaie.  Murasaki Shikibu (c. 978- c. 1014 of 1025 – oor haar sterfdatum bestaan heelwat twyfel) is die outeur van die roman Die verhaal van Genji  wat in omstreeks 1 000 geskryf is en ook heelwat uitings in versvorm bevat. Hierdie klassieke werk vertel ons van die gender-ideale wat destyds aan die keiserlike hof (waar Shikibu ’n hofdame was) geheers het – Prins Genji as die ideale man word uitgebeeld as ’n digter, sanger en danser, veel eerder as ’n krygsman.  Naas Shōnagon  en Shikibu was daar talle vroue wat in besonderhede dagboek gehou van hulle gedagtes en ervarings, sodat moderne lesers ’n goeie beeld kan vorm van hoe vroue uit die adelstand se lewens daar uitgesien het.

Alhoewel hierdie vroue volgens die standaarde van die agste tot die twaalfde eeu uiters bevoorregte lewens gelei het, was hulle lewens tog afgesonder van die groter manswêreld buite – ’n besliste eggo van die Westerse feminisme wat in die twintigste eeu tussen die openbare en private domeine onderskei het.  Hulle het hulle lewens merendeels in ’n redelik afgesonderde private vrouewêreld geslyt, merendeels binnenshuis in vensterlose huise waaruit die skemer nooit heeltemal gewyk het nie – veel anders as ons moderne beeld van die Japannese huis as oop en vol lig.  Wanneer mans hulle besoek het, sou dit geskied onder die verskansing van sygordyne of ander duur en sierlike behangsels.  Wanneer hulle dit buitenshuis gewaag het, sou dit altyd agter die gordyne van die rytuig wees.

Wat dus seker voorspelbaar was, was dat hierdie vrouewêreld (iets wat die latere geishawêreld in beginsel ook was, ten spyte van die geishas se ekonomiese afhanklikheid van die manswêreld) sigself in al hoe fyner besonderhede sou definieer.   Skoonheid en modes het ’n al belangriker rol begin speel, en die beplanning en rituele daaraan verbonde het beslis ’n redelike deel van die dag in beslag geneem.  Downer vertel dat ryk vroue tot soveel as twaalf sykimono’s oor mekaar sou dra.  Die kuns was egter om die verskillende lae in perfek berekende korter wordende lengtes te dra, sodat die berekende samespel van al twaalf ontwerpe die draer daarvan in ’n kunswerk sou transformeer. En dit is presies wat die doelstelling was: om jou liggaam en lewe as kuns te hanteer.

Soos in die Europa van die Renaissance, was ’n wasbleek vel ’n belangrike skoonheidsnorm en vroue het geen tyd en moeite ontsien om hierdie voorkoms te verkry nie.  Nagtegaalmis was die vernaamste bestanddeel van ’n gewilde gesigbleikroom.  ’n Wit gesigpoeier met ’n loodbasis is ook soms gebruik, byna in die trant van die witlood (“ceruse”) wat enkele eeue later so gewild in die Weste was. Vir die moderne Westerse oog lyk die res van die modieus gegrimeerde Heiaanse gesig ietwat vreemd: net die middelste deel van die onderlip is helderrooi getint en die wenkbroue is afgeskeer. In die plek van die wenkbroue is twee rokerige grys kolle hoog op die voorkop aangebring. Die rede hiervoor was blykbaar om aan te dui dat jy nie ’n arbeider is nie – wenkbroue hou die sweet uit die oë, maar as jy nooit sweet nie, het jy nie wenkbroue nodig nie. Die Heiaanse mode om die tande swart te kleur met ’n mengsel van verpoeierde galneut en yster wat in asyn of tee opgelos is, is waarskynlik die heel vreemdste vir die moderne oog.  Vir die Japannese fashionistas van die Heiaanse periode was ’n natuurlike gebit die hoogtepunt van onverfyndheid, en jy sou eerder dood as met maklik sigbare tande deur die lewe gaan.

‘n Gebit in skadu gehul

Al hierdie skoonheid was egter nie vir die direkte genieting van potensiële minnaars nie – dít sou jou slegs beskore wees indien jy sekere hofmaakbeginsels nougeset sou navolg.  Gerugte van ’n vrou se skoonheid sou ’n adellike man se ore bereik, waarna hy volgens die sosiale norme van die tyd te werk moes gaan om die skoonheid se aandag te trek.  (Die gerug van modieuse fisieke skoonheid sou in die besonder aangevuur word indien die betrokke skoonheid ook vir haar besonder keurige handskrif bekend was.)   Die man was byna sonder uitsondering altyd getroud, maar omdat die huwelik in hierdie tyd eerder ’n politieke reëling eerder as persoonlike keuse was, was getrouheid in die huwelik ’n bysaak.  Die aangewese roete vir die potensiële Heiaanse minnaar was dan om ’n gedig te skryf, noukeurig te redigeer en in sy beste skrif op gegeurde en gekleurde papier aan te bied. ’n Wilgetakkie of kersiebloeisel sou as afronding dien alvorens ’n boodskapper die gedig aan die potensiële minnares besorg, wat die keurigheid van die aanbod sowel as die gehalte van die gedig sou beoordeel.  Indien dit aan haar standaarde voldoen, sou die skoonheid op haar beurt ’n gedig skryf, wat die edelman dan weer op sy beurt sou beoordeel om te sien of haar handskrif en digterlike vermoëns by sy eie talente en statuur pas.

Na die geslaagde uitruiling van gedigte was die werklike affair eintlik die maklike deel. Die edelman sou gewoon sonder veel omhaal by die minnares se woning opdaag en hom op haar tatami neervly – sonder dat die huishoudsters soveel as ’n oog knip. Die minnaar se vertrek in die oggend was egter byna ’n groter geleentheid as die nag saam met die minnares.  Dit was naamlik die bron van inspirasie vir verdere gedigte – hy sou ’n klaaglied skryf oor die son wat so ’n abrupte einde aan hulle nag van passie gebring het, terwyl sy geliefde hierdie gedig sou beantwoord met haar eie pennevrug.  Dus, sê Downer, was die affair eintlik maar die ekskuus om die minnaars die geleentheid te gee om hulle poëtiese ambisies uit te leef.  Die einde van ’n affair was daarom ook eintlik ’n gulde geleentheid om weer poësie oor ’n gebroke hart te kon skryf.

Natuurlik moes so ’n kultuur tot ’n einde kom, soos ook gebeur het toe bendes afvallige priesters en hulle huurlinge besef het dat die adelstand van Heian-kyo nie in die minste krygsvaardig was nie en dus maklike teikens vir gewapende rooftogte was.  Te midde van al die poësieskryf en romantiese avonture het die stad se mans die swaardkuns heeltemal afgeleer en kon nog minder perdry.  Teen 1156 het vyandelike magte die stad oorgeneem en is die edelmanne se koppe op spiese vertoon as ’n makabere herinnering aan ’n tyd toe kuns die septer geswaai het.

II

Tog is daar talle oorblyfsels van die Heiaanse kultuur wat tot vandag in die Japannese kultuur voortleef en ook die verbeelding van Westerlinge aangegryp het. Die digteres Ono no Komachi (c.825-c.900) word nie net onthou vir die agtien onvergeetlike kort gedigte wat aan haar toegedig word nie.  Sy is ook die Japannese ekwivalent van ’n Nefertiti of ’n Helena van Troje – een van die grootste skoonhede wat ’n kultuur opgelewer het en steeds na verwys as maatstaf vir skoonheid.

Ono no Komachi

Een van die tankas (’n gedig met vyf reëls en onderskeidelik 5,7,5,7 en 7 sillabes in elk) deur Ono no Komachi handel oor die verganklikheid:

The flowers withered

Their colour faded away

While meaninglessly

I spent my days in the world

And the long rains were falling

(Engelse vertaling deur Donald Keene)

En dit is juis die verganklikheid van skoonheid wat die boustof van die legendes oor hierdie digteres was. In die dramas in die sogenaamde Noh-tradisie is Ono no Komachi ’n karakter wat herhalend optree. In een van die weergawes probeer ’n kaptein in die keiserlike wag, Fukakusa no Shi’i no Shosho, haar hart wen. Sy is egter onversetlik: hy moet hom eers bewys deur ’n honderd nagte lank buite in die koue te slaap.  Dan sal sy sy hofmakery oorweeg.  Shi’i no Shosho volhard ’n volle nege-en-negentig nagte lank, maar sterf sodra die honderdste dag breek. As straf verdryf die howelinge vir Ono no Komachi uit hulle midde, maar sy sterf geen genadige vroeë dood wat haar tot ’n ikoon van ewige jeug en skoonheid verhef nie.  Haar tragiese lot is om nog jare lank te leef as ’n onaansienlike ou vrou, geteister deur die geeste van die mans wie se harte sy gebreek het.


Ono no Komachi as ou vrou

In ’n ander weergawe van haar verhaal het sy die vermoë om haar jeugdige skoonheid kortstondig te herwin en mans vanuit die skadu van die dood te beheer. Hierdie weergawe vorm die grondslag van “Sotoba Komachi”, een van die verhale in Yukio Mishima se werk Vyf moderne Noh-dramas (1956).  Dit speel af in ’n voorstedelike park in die 1950’s. ’n Stokou vrou knoop ’n gesprek aan met ’n besope jong digter; sy vertel hom dan van haar jeug en hoe sy deur die jong kaptein Fukakusa begeer is. Ineens bevind die jong digter hom in die beroemde Rokumeikan-saal in Tokio wat in 1883 voltooi is, destyds ’n belangrike simbool van die verwestering in Japan tydens die Meiji-era.

Dansers in die Rokumeikan-saal

Die digter, soos die ander dansendes, is verstom om die skoonheid van die jong vrou aan sy sy te sien.  Hy voel geweldig aangetrokke tot haar en spreek sy bewondering vir haar uit, sonder om te besef dat hy met hierdie woorde sy eie lot verseël – alle mans wat dit waag om vir Ono no Komachi ’n kompliment  te gee, is gedoem om te sterf .  Hy sterf daar in die danssaal en die immer parate Japannese polisie verwyder sy lyk summier.  So heers Ono no Komachi vanuit die skadu’s.

 

 Bronne

Chapter 2. Classical. Ono no Komachi (fl. ca. 850). 2014. Beskikbaar: http://www.washburn.edu/reference/bridge24/Komachi.html. [2014, 10 Julie].

Downer, Lesley. 2000. Geisha: The secret history of a vanishing world.  Londen: Headline Book Publishing.

Would Intelligence and Emotion Go Together? S.j. Beskikbaar: http://rei-saionji.com/would-intelligence-and-emotion-go-together/. [2014, 10 Julie].

 

 

Amanda Lourens. Taal as die mensdom se senuweestelsel.

Friday, February 28th, 2014

Taal as die mensdom se senuweestelsel

(Praatjie by Departement Afrikaans en Nederlands, US, 27 Februarie 2014)

Wanneer ons dink waarmee ons almal besig is, weet ons ons werk met taal.  Ons bestudeer taal en talige produkte op ’n wetenskaplike manier – soos dit op verskillende maniere in menslike samelewings waargeneem en gebruik word.

Tog vang die persepsies van mense buite ons veld my soms onkant.  ’n Mens hoor ook gereeld hoe kla oor die persepsies oor hulle beroepe – soos dokters wat beskou word as gerieflike raadgewers en voorskrifuitreikers tydens ’n naweekbraai.  Ek self werk as dosent en ook taalpraktisyn en ten opsigte van laasgenoemde doen ek veral redigering.

Wanneer mense my vra wat ek doen en ek probeer verduidelik, kry ek die idee dat hulle baie gou tot die gevolgtrekking kom dat ek tot die nare spesie van die “taalpolisie” behoort. Oftewel, iemand wat met ’n rooi pen en ’n meewarige houding besig is om te veroordeel en te verdoem.  Mense vra dikwels sommer by voorbaat om verskoning vra vir al die “foute” wat hulle glo gaan maak en Engelse woorde wat hulle gaan gebruik as hulle met my praat. Daarop sê ek gewoonlik “Dis ok, ek doen dit elke dag.” Daarmee verloor jy klaarblyklik onmiddellik alle geloofwaardigheid.

Ander hoop weer dat ons wat met taal doenig is ’n wandelende naslaanbron is, en bel jou graag om te hoor wat die “regte” opsie is of  “wat die woordeboek sê”.  Tot my groot frustrasie wil mense nie altyd hoor dat daar soms in taal nie sprake van reg of verkeerd is nie – konteks neem dikwels die besluit.  Soms ís die vakterm aangewese, ís dit nodig om “diskoers” te sê, en soms gaan ons wel saamstem dat dit beter is om “maniere van praat” te gebruik.

Of mense wil nie hoor dat hulle sowaar sélf ’n woordeboek moet aanskaf nie.  Dit laat my dink aan ’n onverkwiklike stryery wat ek op ’n keer met ’n belangrike kliënt gehad het.  Hy het ’n woordeboek uit die tagtigerjare gebruik, en daarvolgens daarop aangedring dat “buitestaander” met twee a’s gespel word.

Die dinge wat ek eintlik vir my bure, baie van my vriende en veral vir kliënte wil sê, bly dikwels versweë.  Daarom het ek gedink om my praatjie vanaand te wy aan dié dinge wat ek dikwels vir myself sê wanneer daar geen gehoor is nie, maar wat ek eintlik graag met halsstarrige kliënte en skeptiese bure wil deel.

Taal weet ons, is dinamies en meervoudig.  Die skoonheid daarvan word in die reëls én die kreatiewe moontlikhede daarvan gesien.  En veral is taal dalk dié een ding wat ons waarlik mens maak: sonder taal sal min – of selfs geen – menslike bedrywighede moontlik wees.  Ons is verbind tot taal, of ons daarvan hou of nie.  Alle mense bevind hulle in taal.

Ons glo so maklik dat taal maar net daar is, en dat jy veral jou moedertaal op ’n “natuurlike” wyse baasraak en beheers.  Let maar op hoedat leerders steeds reken dat hulle nie tale hoef te leer nie. Dit is dalk juis hierdie aard van taal om deel van alle mense se leefwêreld te wees wat tot die persepsie lei dat dit nie so gesog is as byvoorbeeld die fisika of die wiskunde is nie.  Die algemene beskikbaarheid daarvan lei as’t ware tot ’n swak markwaarde.  En tog wéét ons almal in die wêreld van tale dat dit nié so is nie, en wonder jy lank na die Saterdagaandbraai nog steeds waarom taal en die studie daarvan ’n lewenslange fassinasie is.  Want ware taalmense verraai hulle beroep maar selde: Dink maar die toegewyde taalonderwyser, die kopieredigeerder wat dien as hekwag om ’n publikasie se eer te verdedig, die vertaler wat die teks in die ander taal laat leef, die digter vir wie lewe en poësie onlosmaaklik in mekaar verstrengel is.

Ek het onlangs Robin Allott se boek The Great Mosaic Eye (2012) gelees.  Hierin gebruik Allott die metafoor van die saamgestelde insekoog wat uit duisende mikro-ogies bestaan.  Al hierdie ogies se waarnemings word deur die insek se senustelsel geïntegreer om ’n bruikbare prentjie van die insek se omgewing te skep.

In die menslike wêreld het elke individu ’n perspektief op ’n stukkie van dít wat in ruimte en tyd bestaan en maak sodoende kennis daaroor bymekaar. Binne  ’n gemeenskap is daar duisende, selfs miljoene sulke perspektiewe, en elk hiervan is soos een van die mikro-ogies in die insek se saamgestelde oog.  Tog is die informasie wat deur elke mikro-ogie gegenereer word nie beperk tot die bepaalde individu nie – deur juis táál word hierdie miljoene brokkies met mekaar geïntegreer.  Taal is die senustelsel van die groter menslike organisme wat inligting organiseer en toeganklik, interpreteerbaar maak.  Taal is dit wat ons in staat stel om informasie vanuit ons breine na die eksterne wêreld te verplaas, om dit met mekaar te deel en sodoende voordurend te kan verfyn.  Dit is wat akademiese besigwees, navorsing, is – dit waarmee julle as studente besig is.  Sonder taal sal geen student ooit tot enige diskoers kan toetree nie – ook nie die wiskundige of die rekeningkundige nie. (En dit is juis hier dat ek daaraan dink dat “diskoers” tog die beste woord is.  Studente kan gerus ook maar ’n paar nuwe woorde byleer, sou ek dink.)

Taal maak dit ook moontlik om inligting oor tyd te bewaar en oor te dra in die vorm van geskrewe taal.  Op hierdie manier is taal die bewaarplek van gebeure, maar ook van persepsies daarvan en narratiewe wat daaroor gekonstrueer word.  Maar taal is ook die een faktor wat die mens se groot hupstoot gegee het; volgens sekere navorsers is dit die “verlore skakel” tussen die mens se genetiese en kulturele vooruitgang. Slegs deur naamgewing word objekte en abstrakte konsepte werktuie wat gemeenskaplik benut kan word.  Om vir jou jagmaat te kan sê: “Gee vir my die byl aan, nie die slagmes nie”, is wat nodig is om die werktuig te laat werk – só sê Marié Heese onlangs in ’n onderhoud oor Vuurklip.

Sonder taal is moraliteit, sosiale kohesie, godsdiens, wetenskap, regspleging moeilik voorstelbaar.   Groepe vorm hulle identiteite deur taal, en dit is ook deur taal dat die mens oor sy toekoms kan nadink, dat hy hom teen die agtergrond van die kosmos kan beskou en sy eie kortstondigheid kan formuleer.  Dit is deur taal as ’n integrerende senuweestelsel dat ons, as nie-fisici, sonder toegang tot daardie diskoers, kan kennis neem van verbysterende onlangse navorsing oor die kosmos – die ouderdom, struktuur en voortgang daarvan.

Ten opsigte van die individu, is die verband tussen taal en die bewussyn van die self een waaroor reeds baie gedink en geskryf is.  Dit is in en met taal dat die individu van hom- of haarself bewus raak. En ná die besef van die self kom insig in die selfbewussyn van ander, wat die grondslag van ’n sosiale bewussyn is.

Waarmee ons ons dus besig hou by die studie van taal- en letterkunde, lyk dit my, is met die belangrikste bindingsmiddel in die menslike wêreld.  Die taalkunde beskryf onder meer die aard van die talige strukture wat oor tyd heen ontwikkel het.  Ek het min kennis oor die oorspronge van taal en daar is kollegas wat met veel meer gesag hieroor sou kon praat, maar ek verwonder my aan die boeiende navorsing wat deesdae binne die veld van die kognitiewe neurowetenskap hieroor gedoen word.  So fassineer dit my dat onlangse navorsing beweer dat wanneer ons breine woorde begryp, ons dieselfde sensorimotoriese areas in die brein inspan as wanneer ons wérklik omgaan met die objekte en entiteite waarna die woorde verwys. Daar is dus moontlik ’n intieme biologiese verband  tussen liggaam en taal.  ’n Studie in 2005 het byvoorbeeld gevind dat die werkwoorde “lek”, “pluk” en “skop” – wat verskillende liggaamdele impliseer – nie dieselfde area in die brein aktiveer nie. Hierdie soort studies werk met die hipotese dat taal gevorm is op die grondslag van die brein se kompleksiteit, vanuit die bestaande perseptuele en motoriese stelsels.

Die toegepaste dissiplines ondersoek dan hoe ons die integrasie van menslike kennis meer effektief kan laat verloop – byvoorbeeld, hoe kan vertalings geslyp word om die oordrag van kennis tussen tale sonder haakplekke te laat verloop.

Die letterkunde werk onder meer met juis die tot-taal-maak van ervarings en stories, wat ín taal deel van die groter menslike besit word.  Een digter wat my nog altyd verstom het met juis hierdie vermoë, is Sheila Cussons.  Haar bundel Die sagte sprong was die eerste enkelbundel waarmee ek kennis gemaak het.  En juis hoe sy haar mikro-ogie se waarnemings tot taal maak en met die leser deel, is na al hierdie jare steeds ontsagwekkend. Ek sluit af met ’n strofe uit die gedig “Die sagte sprong”:

Dit kom wanneer dit nie verwag

word nie: ’n aanraking van die verstand

lig soos ’n veer, vlugtig maar presies

en jy dink as sy ligtheid so is, so potent

dat die aandag nog lank daarna

die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees ?

(Dr. Amanda Lourens; 2014)

Amanda Lourens. Sal jy die bitter beker drink?

Monday, January 20th, 2014

National Geographic het laat in 2013 die program Forever Young: The Fountain of Youth uitgesaai.  Ene Yogi Zen deel hierin sy wonderkuur vir ’n ewige jeug – naamlik die drink van jou eie urine.  Hierdie geheim verkoop hy ook in besonderhede tydens werksessies vir liggelowiges wat hy in sy “sentrum” in Amerika stelselmatig oorreed om die stap te neem om hulle eie “welriekende” uitskeidings af te sluk.  So, vertel hy, kan ’n mens die aftakeling van die liggaam systap.  Hy sê egter nie of hierdie kuur die dood ’n ewigheid lank van jou deur gaan weghou nie.  Self lyk hy vir my maar bra nes enige ander kêrel in sy laat veertigs wat genoeg oefen en wegbly van Coke en wyn. 

Dit is seker Yogi Zen se goeie reg om die tekens van die tyd te wil regdokter op ’n manier wat hy goeddink.  En as jy, nou ja, nie kan lont ruik met so ’n gladdebek-bedrieër wat hom ook glo gereeld van kop tot tone met urine insmeer nie, is dit seker ook jou reg om jou dollars so te mors. 

Maar op ’n meer ernstige noot: Die mens wil maar nie sy sterflikheid aanvaar nie.  Deur die eeue heen is verhale bevolk met mitiese figure wat die verganklikheid op die een of ander wyse te bowe gekom het, wat die “ware” geheim van die fontein van die ewige jeug ontdek het. En dis nie asof sulke stories abrup tot ’n einde gekom het met die aanbreek van die moderne tyd nie. Inteendeel, die onsterflikes is meer populêr as ooit vantevore, wil dit lyk. Maar terwyl pre-tieners nie kan wag vir die volgende reeks van Vampire Diaries nie, voel al wat middeljarige is waarskynlik lus om na ’n kuur van enige aard te gryp om die nagevolge van ’n jeug onder die Afrika-son te probeer omkeer.  Sulke tye mag jy wel heel geneë wees om jou ore uit te leen aan die een of ander kwaksalwer wat jou wil kom vertel urine is ambrosyn.

Die graaf van St.Germain is een van dié mitiese onsterflikes wat selfs tot vandag toe in internetlegendes voortleef.  Daar is heelparty aardige webwerwe waarop hy in astrale kleure omhul as ’n soort poster boy van die ewige lewe uitgebeeld word, en kennelik is daar steeds aanhangers van die teorie dat hy werklik die rype ouderdom van 4 000 gehaal het, soos hy glo self volgens sekere verdagte bronne beweer het. Ander bronne stel hom voor as ’n Rosekruiser met ’n kennis van verborgene, en die karakter Aglié in Umberto Eco se bitter ingewikkelde Foucault’s Pendulum (1988) laat deurskemer dat hy St. Germain is, met ’n indrukwekkende arsenaal van kennis oor die okkulte.  

Mites oor St. Germain, weliswaar ’n egte historiese figuur uit die agtiende eeu, is volop.  Daar word beweer dat hy ’n alchemis was wat die geheime van transmutasie ontsluit het; dít het hy ryklik gedemonstreer in die kosbare juwele waarmee sy uitrustings glo versier was.  Glo sou hy ’n man van vele talente wees: ’n digter, ’n komponis en ’n poliglot. Lodewyk XV, wie se vertroueling hy was, het hom volgens ander bronne selfs op geheime diplomatiese sendings gestuur. 

Maar die grootste bron van fluisteringe oor hom was dat hy deur sy kennis van die chemie die elikser van die ewige lewe ontdek het.  Deur al sy wedervaringe en herverskynings deur die tweede helfte van die agtiende eeu het hy glo glad nie verouder nie en het nooit ouer as vroeg-middeljarig gelyk nie – soos hy uitgebeeld is op die enigste portret wat daar van hom bestaan.

 

Die graaf van St. Germain, 1783

Die werklike gegewens rondom die lewe van die graaf van St. Germain is redelik skraal en word verswelg deur die mites. Die eerste keer dat hy egter as historiese karakter gedokumenteer word, is in 1745, in ’n brief van Horace Walpole, Britse historikus en politikus, wat hom in Londen teëgekom het.  Hy beskryf die “graaf” as ’n vreemde karakter wat nie sy ware naam gebruik nie en noem hom reguit “mad, and not very sensible”.   Walpole is egter daarvan oortuig dat St. Germain geen edelman is nie.

In die volgende jaar word van St. Germain se musiekkomposisies in Londen opgevoer, waarna hy twaalf jaar lank van die toneel af verdwyn en dan skielik in Versailles opduik.  Hy word aan die Franse hof voorgestel en vertoef daar van 1758 tot 1760.  St. Germain blyk gewilde geselskap aan die hof te wees met sy uitgebreide kennis van die geskiedenis en spitsvondige praatjies. Juis in hierdie tyd laat hy skimpe val dat hy in werklikheid eeue oud is, en sorg self vir genoeg skinderstories oor hom deurdat hy nooit in die openbaar eet nie en van tyd tot tyd ’n verjongende drankie vir die dames aan die hof aanbied. 

St. Germain verdwyn teen 1760 van die Franse toneel en word vir tye in België en Rusland gesien.  In België probeer hy resepte vir kleurstowwe aan die owerhede verkoop, en twee jaar later probeer hy nog ’n klomp nuwe tegnieke vir die behandeling van onder meer wyn, papier en ivoor aan die Duitse regering verkwansel.  Hiermee saam vertel hy ook dat hy die geheim van die transmutasie van metale bemeester het – iets wat sy geloofwaardigheid in Duitsland groot skade berokken het en liggelowiges tot vandag toe laat glo dat hy wel oor sonderlinge vermoëns beskik het. 

Sy talent om mooi broodjies te bak het hy in later jare na sy herverskyning aan die Franse hof ook aangewend om toekomsvoorspellings in versvorm vir Marie Antoinette aan te bied. Madame d’Adhémar – een van die Franse koningin se hofdames – se dagboek van tussen 1760 en 1821 vertel van St. Germain se profesieë oor die komende revolusie.  Die vertaling van sy erg dramatiese, woordryke voorspelling lui soos volg:

The time is fast approaching when imprudent France,
Surrounded by misfortune she might have spared herself,
Will call to mind such hell as Dante painted.
This day, O Queen! is near, no more can doubt remain,
A hydra vile and cowardly, with his enormous horns
Will carry off the altar, throne, and Themis;
In place of common sense, madness incredible
Will reign, and all be lawful to the wicked.
Yea! Falling shall we see sceptre, censer, scales,
Towers and escutcheons, even the white flag:
Henceforth will all be fraud, murders and violence,
Which we shall find instead of sweet repose.
Great streams of blood are flowing in each town;
Sobs only do I hear, and exiles see!
On all sides civil discord loudly roars,
And uttering cries on all sides virtue flees,
As from the assembly votes of death arise.
Great God! who can reply to murderous judges?
And on what brows august I see the sword descend!
What monsters treated as the peers of heroes!
Oppressors, oppressed, victors, vanquished . . .
The storm reaches you all in turn, in this common wreck,
What crimes, what evils, what appalling guilt,
Menace the subjects, as the potentates!
And more than one usurper triumphs in command,
More than one heart misled is humbled and repents.
At last, closing the abyss and born from a black tomb
There rises a young lily, more happy, and more fair.

 

Voltaire het hom blykbaar droogweg oor St. Germain uitgelaat: “’n Man wat alles weet en nooit sterf nie”.  (Helaas is daar skynbaar tot vandag toe diegene op wie Voltaire se satiriese stekie na St. Germain se beterweterige karakter vermors is, en is dit heel moontlik dat Voltaire se opmerking die bron van die bespiegelinge oor die St. Germain se onnatuurlike lang lewe is.)

Nadat hy in die laaste deel van sy lewe ’n vertroueling van Prins Karl van Hess-Kassel was en dié se beskerming geniet het, sterf St. Germain in 1784 aan longontsteking.  Hy was teen die einde van sy lewe sonder veel aardse besittings en laat geen spore van alchemistiese bedrywighede na nie.  Die feit is egter dat hy ’n groot belangstelling in die kleur van materiale gehad het, en dat hierdie stokperdjie waarskynlik die mites oor transmutasie gevoed het. 

Wat vir my uit die mites rondom St. Germain duidelik raak, is dat talle mense bykans desperaat gryp na enige “bewys” van ewige jeug of ’n ewige lewe. Sommige glo weer dat jy jouself bloot moet jonk dink; dat jy bloot die verbygaan van die tyd moet ontken.  Ter ondersteuning van hierdie hipotese vertel ’n verdagte St.Germain-webwerf die storie van die Britse vrou wat op 74 geen teken van veroudering getoon het nie, omdat sy na ’n liefdesteleurstelling in haar jeug in haar gees in die verlede gebly het.  Dus: as jy nie oortuig is van die gang van die tyd nie, sal jy onaangeraak daardeur bly. 

Veel meer oortuigend is die gedagte dat die mens mettertyd sal leer om die liggaamlike gevolge van tyd deur tegnologie te beheer, soos prof. Anton van Niekerk in ’n Forum-artikel in Die Burger van 12 November 2013 skryf.  Dit moet sekerlik wonderlik wees om jou kwynende organe stelselmatig met nuwes te kan vervang en jou moeë vel met ’n nuut gekweekte laag te kan vervang.  Maar waaroor ek ook wonder, is hoe ’n mens emosioneel daar uitsien na ’n leeftyd van ’n paar honderd jaar, indien tegnologie dit moontlik maak?  Sien jy hoegnaamd nog kans vir die daaglikse eise, en dalk veral die eise wat ’n snel veranderende wêreld aan jou gaan bly stel? Of sal emosionele vermoeidheid ook verlig word wanneer jou liggaam ewig jonk bly?  Met ander woorde, sal ’n jong liggaam altyd ’n jong gees huisves?  Of sal die sielkundiges van die transhumanistiese era met ’n gans nuwe stel probleme opgeskeep sit wanneer die menslike lewe honderde jare lank word? 

 

Bronne

Skinner, Dough. 2001. The Count of St-Germain. Beskikbaar: http://www.forteantimes.com/features/profiles/499/the_count_of_stgermain.html [1 Desember 2013].

The Comte de St. Germain, by Isabel Cooper-Oakley, [1912], http://www.sacred-texts.com/sro/csg/csg01.htm [1 Desember 2013].

 

Amanda Lourens. Final: (Show Markup)?

Friday, August 30th, 2013

 

In ’n onlangse artikel van Saartjie Botha besin sy oor die gerangeerde rol van handskrif in ons rekenaar-era.  Sy vertel dat skryf met die hand die intuïtiewe regterbreinkomponente van waarneming en herkenning aktiveer, en dus is ons eintlik besig om hierdie intuïtiewe prosesse te verloor wanneer ons op rekenaars of tablette skryf.  Sy maak ook die stelling dat om met die hand te skryf “aanvoorwerk” vra – jy moet formuleer vóór jy die pen optel, of anders verander jou bladsy in ’n slagveld van deurgehaalde dele of, erger nog, frummelende Tipp-Ex-korse.

En ja, sy het waarskynlik ’n punt beet.  Ek wil my verbeel dat ek in die vervloë jare voor woordverwerking (erg om te moet erken jy is so oud dat jy dit beleef het) nie so geswoeg het om ’n sin darem so amper te laat werk nie.  In eksamentye met die oog op die horlosie mos jy probeer om redelik te slaag met jou eerste poging tot ’n sin. (En ek vermoed deesdae se studente behoort dit steeds te kan doen?)  “Rofwerk” was soms bloot die potloodweergawe van jou eerste weergawe van ’n opstel (nogal in pen) wat jy wederregtelik ná die tyd gaan invoeg het om te “bewys” dat jy vooraf “beplan” het.  Maar of daardie “vlot” eerste pogings regtig so vlot of vaardig was, is natuurlik die vraag. 

Botha skryf dan dat woordverwerkingstegnologie aan ons die moontlikheid bied om ’n sin op enige manier te begin, te besluit dat dit nie werk nie, dit te skrap en van nuuts af te begin.  Maar ek wonder of ons regtig ons formuleringstegnieke aangepas het namate woordverwerking ons juis die geleentheid begin gee het om woorde letterlik in die teks te verwerk?  Dink ons deesdae minder alvorens ons ’n sin neerpen – skrap en opnuut begin is immers veel makliker as in die dae toe ons naarstigtelik papier moes spaar?  Is ’n sin in pen meer finaal, as’t ware jou eerste en laaste kans en daarom dink jy meer voor jy skryf?  Of is dit ’n fout om te dink dat ons die elektroniese skryfproses anders benader? 

’n Rukkie gelede was ek bevoorreg genoeg om oorspronklike handgeskrewe stukke van enkele van die ouer Afrikaanse digters in die afdeling vir spesiale versamelings in die J.S. Gericke-biblioteek te besigtig.  Een teks wat my veral opgeval het, was die toespraak wat Uys Krige vir Ingrid Jonker se begrafnis voorberei het.  Dit is ’n lywige dokument (ek wonder nogal hoe lank die toespraak geduur het), met die hand geskryf op die keersy van ’n reeds gebruikte teks, waarskynlik om papier te bespaar, volgens die bibliotekaris. Maar behalwe vir hierdie ouwêreldse suinige omgang met papier (wat my skielik laat dink aan die handskrifoefeninge waarmee ons op laerskool die laaste oop reël op ’n bladsy moes vul – ’n bra desperate poging om die inspekteurs te oortuig dat ons skool tog net nie kosbare papier vermors nie) het dit my ook opgeval dat dit nie ’n netjies geskrewe manuskrip is nie.  Inteendeel, net op die eerste bladsy is meer deurgehaal as wat daar behou is – daar is duidelik gewroeg om die inhoud en formulering hulle lê te laat kry, as ’n mens nou só mag verwys na idees en woorde wat hulle plekke in ’n teks moet vind. 

Die eerste bladsy van Uys Krige se toespraak

 

Die tweede bladsy

Ook die wordingsgeskiedenis van Opperman se “Digter” wys duidelik hoe die gedig mettertyd sy uiteindelike vorm aangenaam het.  Die talle weergawes van hierdie gedig getuig dat die digproses ’n moeisame herbewerkingsproses was.  Die genommerde bladsye waarop Opperman die gedig laat groei het, vertel die verhaal van ’n aanvanklike idee, deur al die verskillende transformasies heen tot by die weergawe wat uiteindelik gebundel is. 

Vroeë weergawes van “Digter”

 

Latere weergawes

 

Getikte weergawe, 25 Januarie 1946

Ek vermoed dus dat (goed) skryf – en veral dig – in die dae van pen en papier dalk nie altyd so vlot verloop het nie.

Wat my wel ook fassineer, is die vraag of digters deesdae ook in woordverwerkingsprogramme dig?  Of is dig verbonde aan die intieme gevoel van pen op papier?  (Maar wie sê ’n toetsbord kan nie ook sy eie intimiteit hê nie? Die nuwe geslag kan juis almal beter tik as skryf.)  En sekerlik beleef vandag se digters se werk ewe veel transformasies?  Maar bly die spore agter indien hulle wel op rekenaar werk?  Is daar iewers ’n “original showing markup” wat as geheue van die proses dien, of is al die tussenstadia vergete?   En dit laat my wonder: hoe belangrik is dit dat lesers hoegenaamd van die transformasies kennis neem?  Wou die digter dit ooit?  Is “navorsing” daaroor ’n geldige onderneming? Immers is dit die finale produk wat in die bundel aangebied word? Is die wordingsproses deel van die gedig, of kan die digters van die elektroniese era bloot “accept all” sonder enige skuldgevoelens teenoor toekomstige lesers? 

 

Bron: Spesiale Versamelings, J.S. Gericke-biblioteek, US
Met dank aan Marina Brink vir die inskandering van die oorspronklike tekste

 

Amanda Lourens. Trompie en die transhumanisme

Friday, July 19th, 2013

Vanoggend was daar ’n interessante gesprek op RSG oor die geweldige groei in realiteitstelevisiereekse en hoe hierdie genre selfs in die toekoms daarin kan slaag om sepies te verdring.  Die gas op die program het toe ook verwys na The Hunger Games as ’n voorbeeld van hoe ver die reality show in teorie gevoer kan word: dit werk met die wetenskapsfiksiegegewe waar ’n spel tot die dood toe ten tonele gevoer word. 

Dit laat ’n mens dink aan die geweldige potensiaal wat wetenskapsfiksie as genre het om toekomstige scenario’s – hetsy goed of boos – aan ons voor te hou.  As tiener het ek Robert Silverberg se bekroonde “Born with the Dead” gelees – ’n sonderlinge fantasie van diegene wat uit die dood opgewek is en hulle daaropvolgende sielkundige vervreemding en afsluiting van die wêreld van die lewendes (die sogenaamde “warm”).  Hierdie vertelling sonder ruimteskepe en monsters het my laat besef dat wetenskapsfiksie nie net beperk is tot ontdekkingsreise na vreemde wêrelde met pienk wolke en reptielagtige inwoners in Star Trek-styl nie. (Alhoewel ek toegee dat ek ’n groot Star Trek-aanhanger was en in der waarheid steeds is.)

Juis in hierdie verband het ek die gedeelte oor wetenskapsfiksie in Die Afrikaanse Skryfgids (wat as geheel ’n uitstekende en welkome publikasie is) tog teleurstellend gevind.  In die betrokke afdeling lyk wetenskapsfiksie onder die opskrif “Koel monsters en taai ouens” na ’n bra lig-in-die-broek genre.  Alhoewel daar kortliks genoem word dat wetenskapsfiksie “berus op wetenskaplike feite of veronderstellings wat dan in fiksie verander word”, word daar nie regtig gewys op die verreikende en soms ontstellende implikasies wat goeie wetenskapsfiksie kan hê nie – dink maar aan die moontlikhede wat deur Arthur C. Clarke ondersoek is in 2001: A Space Odyssey en hy later ook op uitgebrei het in 2010: Odyssey Two en 3001: The Final Odyssey.  In hierdie  romans het ek veral Clarke se verkenning van transhumanistiese konsepte boeiend gevind – dink maar aan die “vaders” van die monoliet wat deur tegnologie hulle vlees-en-bloed-liggame kon verlaat en hulleself eers in masjiene, en later in die tekstuur van die ruimte self huisves.  Om dus, soos in bovermelde gids gedoen word, na wetenskapsfiksieverhale te verwys as “Trompie-in-die-ruimte”, hou dalk die gevaar in dat lesers nie sal rekening hou met die eksistensiële resonansies wat hierdie genre baie dikwels inhou nie. 

Maar moontlik is ek onregverdig in my oordeel en is die doel van die betrokke hoofstuk geensins om mense te laat besin oor ’n toekoms waarin menslikheid dalk heel ander gedaantes mag aanneem as dit wat ons as sintuiglike, liggaamlike menswees ken nie. 

Maar waarby ek wil stilstaan, te midde van die wetenskapsfiksiemoontlikheid dat ons almal eendag ons ouerwordende lywe sal kan agterlaat en onsselwers oplaai na ’n rekenaar en ’n volkome virtuele, artritislose lewe, is die gedagte of taal end-uit met die mens sal wees.  En indien die nodigheid vir taal iewers in ’n toekoms sou verval, wat sou die aard van menslike belewenis wees?  En, wil ek byvoeg, op watter maniere sal ons subjektiwiteit daardeur geraak word?

 In hierdie verband dink ek graag aan Louis MacNeice se gedig “To posterity”, wat in Visitations (1957) verskyn het. MacNeice stel hier vrae wat seer sekerlik gesien sou kon word as behorende tot die domein van die wetenskapsfiksie:

When books have all seized up like the books in graveyards
And reading and even speaking have been replaced
By other, less difficult media, we wonder if you
Will find in flowers and fruit the same colour and taste
They held for us for whom they were framed in words,
And will your grass be green, your sky be blue,
Or will your birds be always wingless birds?

Louis MacNeice

 

Amanda Lourens. ‘n Somber lewe bly.

Monday, March 18th, 2013

I

In ’n uitgawe van die Franse revolusionêre blad Moniteur van 6 Februarie 1793, verskyn die volgende strofe van ’n sogenaamde patriotiese gedig deur die digter Ponce-Denis Écouchard Lebrun:

Purgeons le sol des patriotes,
Par des rois encore infectes.
La terre de la liberte
Rejette les os des despotes.
De ces monstres divinises
Que tous lea cercueils soient brises!
Que leur memoirs soit fletrie!
Et qu’avec leurs manes errants
Sortent du sein de la patrie
Les cadavres de ses tyrants!”

(Die vertaling wat deur die redakteur van die elektroniese boek verskaf word, lui soos volg:

Let us purge the patriot soil

By kings still infected

The land of liberty

Rejects the bones of despots.

Of these monsters deified

Let all the coffins be destroyed!

Let their memory perish!

And with their wandering manes

Let issue from the bosom of the fatherland

The bodies of its tyrants!)

 Lebrun was die Franse revolusie se “amptelike” digter, en het ’n lewe gemaak (en gerieflike verblyf in die Louvre bekom) deur gereeld gedigte vol galbrakery teenoor die Franse aristokrasie te skryf.  

Die digter Lebrun

 

Die gedig waarvan hierdie strofe ’n deel is, was van die eerste geluide in die revolusionêre Frankryk van 1793 om die graftombes van die Franse koninklikes in die nekropolis van Saint Denis te vernietig.  Tydens ’n sitting van die Nasionale Konvensie van 31 Julie 1793 word ’n verslag voorgelees waarin die Konvensie die voorneme uitspel om die koninklike graftombes te vernietig as ’n finale poging om die nalatenskap van die gehate konings te vernietig:

To celebrate the day of August 10, which overthrew the throne, the pompous mausoleums must be destroyed upon its anniversary.Under the Monarchy, the very tombs were taught to flatter kings. Royal pride and luxury could not be moderated even on this theatre of death, and the bearers of the sceptre who had brought such ills on France and on humanity seemed even in the grave to vaunt a vanished splendor. The strong hand of the Republic should pitilessly efface these haughty epitaphs, and demolish these mausoleums which might recall the frightful memory of kings.

 II

Nadat ek ’n hele paar maande gelede oor die lotgevalle van die jong prins Lodewyk-Karl van Frankryk geskryf het, bly my gedagtes steeds besig met die hele gegewe van trauma, veral in tye van sosiale verandering en opstand. Dat sosiale verandering op sekere tye in die geskiedenis nodig is, of eerder deel is van ’n groter natuurlike proses, is onbetwisbaar. Tog is dit die tragiese nagevolge daarvan, veral op die onskuldiges, wat my ontstem en lei om meer te probeer agterkom oor die lewens van die prins en sy suster. 

In 1851 verwoord die Franse historikus en literêre kritikus C-A Sainte Beuve my gedagtes hieromheen veel beter in sy inleiding tot ’n huldeblyk aan Marie-Thérèse, ook bekend as Madame Royale (19 Desember 1778 – 19 Oktober 1851), die enigste oorlewende kind van Lodewyk XVI en Marie Antoinette:

All suffers change; all dies or renews itself; the oldest and the most revered races have their end; nations themselves before they fall and end have their several ways of being successive, they take on divers forms of government in their diverse epochs; what was religion and fidelity in one age is only a monument and commemoration of the past in another; but through all (so long as vitiation does not come) something remains, namely: human nature and the natural sentiments that distinguish it, respect for virtue, for misfortune, especially if undeserved and innocent, and pity, which itself is piety towards God in so far as it turns towards human sorrow.

Die sestienjarige Marie-Thérèse kort voor haar vrylating

Marie-Thérèse se verhaal is inderdaad een wat jou ontstem oor die onverdiende hartseer wat ’n jong meisie moes ervaar, en dit omdat sy deel van een van die mees gehate families in die geskiedenis was. Op ’n manier was veral sy en Lodewyk-Karl die onskuldiges wat die prys moes betaal vir die beëindiging van die ancien régime. Die meeste mense sou dalk reken – dit was maar twee kinders; wat van die miljoene ander wie se lewens uiteindelik deur die omverwerping van die ou orde verbeter is?  Ek is nie bekwaam om ’n verantwoorde gesprek oor die etiek hiervan te voer nie.  Tog wonder ek steeds of die ontsettende lyding van enkelinge ooit geregverdig mag word deur die argument van die “greater good” te gebruik?  Mag ’n samelewing wat homself as moreel wil bestempel, ooit oorgaan tot die aanvaarding van lyding deur onskuldiges?

Marie-Thérèse is aanvanklik saam met haar ouers, broer en tante in die Tempeltronk aangehou. Lodewyk-Karl is egter reeds in 1793, sowat ses maande na Lodewyk XVI se teregstelling, van die res van sy gesin geskei  – kwansuis om die jong seun volgens revolusionêre beginsels groot te maak en hom te suiwer van sy oorblywende familielede se korrupterende invloed. Nadat Marie Antoinette en Madame Elisabeth, die koning se suster, ook tereggestel is en Lodewyk-Karl in 1795 oorlede is, het die tienderjarige prinses in eensame aanhouding oorgebly.

Reeds voor haar jonger broer se dood moes Marie- Thérèse saamleef met die gruwelike wete dat hy alleen, in ’n kamer onder hare, aan sy bewaarders se genade oorgelewer was, terwyl sy onmagtig was om sy lot te verbeter. Geluide van sy marteling het haar moontlik vertel waaraan hy onderwerp is: Die seun is deur sy ruwe bewaarders in die gesig geskop wanneer hy sy gebede opgesê het soos Marie Antoinette hom geleer het; hy is blootgestel aan alkohol en pornografie en aangemoedig om sy verfynde opvoeding die rug te keer om sy eengesindheid met die revolusionêres te “bewys”. Die kru liedjies wat hy luidkeels moes sing, moes eweneens bewys hoedat hy sy lewe as aristokraat agter hom gelaat het.  Tog het die meisie se grootse trauma miskien gespruit uit die feit dat sy moes aanhoor hoe Karl Lodewyk tydens Marie Antoinette se verhoor getuig het dat sy moeder hom seksueel gemolesteer het – waarskynlik die resultaat van breinspoeling deur revolusionêre opstokers.  Hierdie getuienis was letterlik die laaste strooi wat die koningin na die skavot gestuur het en die Marie-Thérèse moes vir die res van haar lewe saamleef met die gedagte dat haar ma se lieflingseun as’t ware direk vir haar dood verantwoordelik was.  ’n Mens kan jou kwalik die konflik in haar jong gemoed voorstel. 

Anders as Lodewyk-Karl het Madame Royale haar eensame opsluiting oorleef en is op pas sewentien in Desember 1795 uit die Tempeltronk bevry en na Oostenryk geneem, waarna sy in 1799 met haar neef, Louis Antoine d’Artois getroud is en die titel van die hertogin van Angoulême verkry het. Hierna het sy en haar skoonfamilie na Brittanje verhuis en in ballingskap gewoon tot in 1814, toe Lodewyk XVIII na Napoleon se abdikasie die Bourbon-troon in ere herstel het en sy na Frankryk kon terugkeer. Lodewyk XVIII het in hierdie tyd sy hande vol gehad met botsings tussen liberales en ultra-rojaliste, en het moes boonop probeer huishou die tientalle aanspraakmakers op die identiteit van Karl-Lodewyk, wie se aansprake vir Marie-Thérèse groot ellende veroorsaak het. Haar terugkeer na Frankryk was dus vir haar uiters emosioneel dreinerend en sy het uiters wantrouig geraak teenoor voormalige Republikeinse ondersteuners. 

In Maart 1815 keer Napoleon terug na Frankrk en begin pogings om weer ’n weermag op die been te bring.  Lodewyk XVIII vlug in hierdie tyd uit Frankryk, maar Marie-Thérèse probeer op haar beurt om ’n kontra-weermag byeen te bring.  Alhoewel die troepe bereid was om haar te verdedig, was hulle nie bereid om in ’n burgeroorlog met die Napoleontiese troepe betrokke te raak nie.  Uiteindelik besef sy dat dit ’n verlore stryd is.  Om onnodige bloedvergieting te voorkom, stem sy oplaas in om die land te verlaat, wat Napoleon dan die opmerking laat maak dat sy die enigste ware man in haar familie is (Nagel 2010). Na Napoleon se 1815-nederlaag word die Bourbon-troon opnuut herstel, en Lodewyk XVIII keer weer terug na Frankryk. Wanneer hy in 1824 sterf, word die hertog van Angoulême die troonopvolger, en Marie-Thérèse verkry die titel van Madame la Dauphine, soos Marie Antoinette baie jare gelede.  Na vele politieke verwikkelinge onder die ultra-regse heerskappy van Karel X, waaronder die driedaagse revolusie van Julie 1830, abdikeer hy uiteindelik en vertrek Marie-Thérèse, haar eggenoot en sy direkte familie opnuut na ’n lewe in ballingskap. Na ’n verblyf in Edinburgh verhuis die familie na Praag as gas van keiser Francis I.   Na haar eggenoot se dood in 1844 verhuis Marie-Thérèse na Schloss-Frohsdorf, ’n kasteel net buite Wenen waar sy haar dae deurgebring het met lees, naaldwerk en gebede en uiteindelik op 72-jarige ouderdom aan natuurlike oorsake sterf.

In later jare as die hertogin d’Angoulême

Aanvanklik het ek gewonder of sy, synde die oorlewende suster, dalk die een sou wees wat in onromantiese vergetelheid sou verdwyn, terwyl die kort en hartseer lewe van haar broer die een sou wees wat die verbeelding aangryp. Dit blyk egter nie die geval te wees nie. Alhoewel sy ’n vroeë en tragiese dood gespaar is, het haar lewe, soos ook dié van haar broer, ’n bron geraak van talle mites en bespiegelings, onder meer dat sy en ’n buite-egtelike halfsuster plekke geruil het en dat die prinses haar lewe in Duitsland deurgebring het as die sogenaamde “Donker Gravin” van Hildburghausen terwyl die halfsuster namens haar as die hertogin van Angoulême geleef het.

Gissings oor die identiteit van die hertogin van Angoulême is begin deur ene Karl Kühner wat kort na haar dood in 1852 die werk Die Geheimnisvollen im Schlosse zu Eishausen: Eine wahre Geschichte ohne Lösung publiseer waarin hy spekuleer dat die “Donker Gravin” in werklikheid Marie Thérèse Charlotte van Frankryk, oftewel  Madame Royale was. (Die interessante van sy formulering van sy teorie is dat hierdie intrige, volgens hom, maklik deur  ’n beginnerdigter uitgedink kon wees: “The age of the lady … (58 years in 1837), would tally with the age of the daughter Louis XVI, and it would not become difficult to a novel poet to invent an intrigue by which this real king’sdaughter, half by force, half voluntarily, would be exiled in the Castle Eishausen and a wrong Duchess of Angoulême would be put to her place.”)

Hierdie voorgestelde omruilingsintrige het duidelik die populêre verbeelding aangegryp, en, soos in die geval van haar broer, is die prinses se lewe later deur meer mite as waarheid omgeef. Eietydse navorsing is dan ook onderneem om die egtheid van hierdie mites oor die Donker Gravin te probeer vasstel. In Susan Nagel se boek, Marie-Thérèse, Child of Terror: The Fate of Marie Antoinette’s Daughter (2010), ondersoek die outeur die omruilingsteorie en bevind uiteindelik op grond van handskrifontleding, nadat DNS-analise misluk, dat die Donker Gravin in alle waarskynlikheid nié Madame Royale was nie.  Sy was moontlik ’n lid van die Bourbon-familie, maar die hertogin van Angoulême was waarskynlik die laaste prinses van Frankryk.

Die vraag is dus: Waarom wou mense so graag oortuig word dat die hertogin van Angoulême nié Madame Royale was nie?  Skrywer Elena Maria Vidal, outeur van Madame Royale (2000), reken dat die mitevorming oor die hertogin van Angoulême se identiteit moontlik aangevuur is deur haar geaardheid, wat op die oog af soveel verskil het van die sjarmante en lewenslustige Marie Antoinette. Die hertogin is deur tydgenote beskryf as ’n hartseer, senuweeagtige en gespanne vrou wat dikwels deur floutes oorval is, en vir sommiges het dit onmoontlik gelyk dat hierdie somber persoonlikheid aan die flambojante koningin van Frankryk verwant kon wees. Volgens Vidal kan moderne konsepte soos post-traumatiese stressindroom en oorlewendes se skuldgevoelens (survivor’s guilt) vandag heelwat insig bied in die lewe en persoonlikheid van die enigste oorlewende dogter van die laaste Franse koningin.

Terselfdertyd wys hierdie persepsie van die somber Marie-Thérèse as teenpool van haar ma moontlik ook in die rigting van ’n oppervlakkige siening en begrip van Marie Antoinette se karakter, wat waarskynlik nie in haar openbare lewe in al sy fasette tot sy reg gekom het nie. Propaganda en daarmee saam Marie Antoinette se volgehoue weiering om kwaadstokery te probeer teenwerk, het natuurlik ook veel daartoe bygedra om haar openbare beeld as flambojante plesiersoeker en verkwister te vestig.  Uit Marie-Thérèse se eie vertellinge blyk dit dat sy ’n groot bewondering vir haar ma gekoester het en dat Marie Antoinette in alle opsigte ’n liefdevolle, verantwoordelike en toegewyde ma was.  Haar groot liefde vir haar ouers, en lyding ook omdat sy onbewus was van haar ma se dood op die skavot, blyk uit die volgende woorde, wat uitgekrap is op die muur van die kamer waarin sy ’n paar jaar lank alleen aangehou is:

 

Marie-Thérèse Charlotte is the most unhappy person in the world. She can obtain no news of her mother; nor be reunited to her, though she has asked it a thousand times. Live, my good mother! whom I love well, but of whom I can hear no tidings. O my father! watch over me from heaven above. O my God! forgive those who have made my parents suffer.” (The Ruin of a Princess, p.290)

Hierdie inskrywing is op die muur gedoen, omdat haar bewaarders haar alle skryfbehoeftes ontsê het. Teen die einde van haar aanhouding in 1795 word toestemmin egter verleen dat sy skryfbehoeftes mag kry,  en so begin sy om haar verhaal neer te skryf vanaf die eerste spore van opstand teen die koningshuis op 5 Oktober 1789, tot in Junie 1795 met Lodewyk-Karl se dood, wanneer haar vertelling eindig.  Die vreemde van hierdie herinneringe is dat sy in later jare beweer het dat die teks nie outentiek is nie en dat dit in werklikheid onder die wakende oog van ’n revolusionêre spioen geskryf sou wees.  Historici spekuleer wel oor die waarheid van hierdie aanspraak, omdat so ’n “deuntjieverandering” sprekend van getraumatiseerde herinneringe kan wees en selfs op ontkenning van die hele tydperk van trauma kan neerkom.  Nietemin bied hierdie relaas ’n interessante blik op die belewenise van ’n jong meisie in aanhouding, en deur haar omgaan met taal en vertelling kan eietydse lesers ietwat nader aan haar psige kom as deur slegs eksterne waarnemers se vertellings. 

Marie-Thérèse se eerstepersoonsvertelling (in Engels vertaal en uitgegee in 1912) is merkwaardig in die sin dat lesers ’n indruk van haar kan vorm as met ’n goeie taalvermoë, ’n sober verstand en geensins geneig tot selfkoestering of -bejammering nie.  Sy gee byvoorbeeld ’n redelik getailleerde beskrywing van die gruwelike omstandighede waaronder Lodewyk-Karl aangehou is, alhoewel dit nie duidelik is waar sy hierdie inligting vandaan gekry het nie, aangesien sy tot en met sy dood alle kontak met hom verbied is):

He lay in a bed which had not been madefor more than six months, and he now had no strength to make it; fleas and bugs covered him, his linen and his person were full of them. His shirt and stockings had not been changed for a year; his excrements remained in the room, no one had removed them during all that time. His window, the bars of which were secured by padlock, was never opened; it was impossible to stay in his chamber on account of the foul odor. It is true that my brother neglected himself; he might have taken rather more care of his person; he could at least have washed himself, because they gave him a pitcher of water. But the unhappy child was half dead with fear, so much did  Simon and the others terrify him. He spent the day in doing nothing; they gave him no light; this condition did as much harm to him morally as it did physically. It is not surprising that he fell into a fearful marasmus; the time that his health remained good and was able to resist such cruelties proves the strength of his constitution. (The Ruin of a Princess p. 281)

Merkwaardig van haar vertelling is die moed en selfs dankbaarheid waarmee sy haar eie situasie beskryf, tesame met ’n gebrek aan haat of verbittering teenoor haar aanhouders.  Sy skryf byvoorbeeld:

As for me, I only asked for simple necessaries; often they were refused to me harshly. But at least I could keep myself clean; I had soap and water; I swept my room daily, and I finished by nine o’clock when the guard brought me my breakfast. I had no light, but during the long days I  suffered less from that privation. They would not give me books, I had only some of piety and travels which I had read a hundred times. (The Ruin of a Princess, p. 285)

Haar kennelik sterk en onselfsugtige karakter blyk uit klein grepe in haar herinneringe, soos wanneer sy vertel dat sy “gelukkig” siek geraak het kort na die koning se teregstelling, sodat Marie Antoinette se aandag daardeur afgelei is. Oor die aard van die siekte of haar eie pyn skryf sy egter min. Volgens die beskrywing van een van die amptenare wat haar teen die einde van haar aanhouding besoek het, het die prinses armoedig daar uitgesien, maar was sy deurentyd besig met breiwerk, ten spyte van erge pyn en swelling as gevolg van wintershande wat sy opgedoen het omdat haar kamer baie swak verhit was. Nêrens in haar vertelling verwys Marie-Thérèse egter na haar eie fisieke ongemak nie. Inteendeel vertel sy hoe sy en Madame Elisabeth probeer het om hulle kamer netjies te hou nadat alle huishoudelike hulp gestaak is, onder meer hoe hulle aanvanklik gesukkel het om die kamer uit te vee omdat hulle dit nog nooit vantevore gedoen het nie, maar ook hulle vreugde toe hulle dit uiteindelik goed genoeg kon doen. Uiteindelik bly die leser met ’n beeld van ’n sterk jong vrou, wat ondanks die verlies van haar hele familie nooit toegee aan die verleiding van selfbejammering of wraakgedagtes nie. Veel eerder wend sy haar tot die religieuse as bron van krag, en verklaar sy dan ook onomwonde aan die simpatieke amptenaar wat haar oplaas vra of sy nie verveeld is met net die paar religieuse boeke in haar kamer nie: “’Those books, monsieur,’ she replied, ‘are precisely the ones that suit my situation’”.

Dit is uit haar vlot en tog gestroopte skryfstyl, maar ook die inhoud van en perspektief op haar vertellings dat die leser na meer as twee honderd jaar iets van die prinses se binnewêreld begin begryp. Deurgaans fokus sy op die pyn wat sy ervaar vanweë die verlies van haar ouers en tante, eerder as op haar eie ontberings. (Sy verneem eers teen die einde van haar aanhouding van haar ma en tante se dood, en beskryf die wreedheid van veral laasgenoemde se teregstelling, waarskynlik gegrond op ooggetuievertellings.) Ten spyte hiervan bly haar vertelling ontdaan van bitterheid of haat, en dit is slegs by uitsondering dat sy oorgaan tot negatiewe uitbeeldings van die revolusionêres – soos byvoorbeeld wanneer sy die sielkundige wreedheid van Madame Elisabeth se teregstelling beskryf, toe sy eers die teregstelling van 24 ander vroue moes aanskou voor sy aan die beurt gekom het.)

 III

In die laaste dae van Marie-Thérèse se aanhouding in die Tempeltronk het daar, interessant genoeg, ’n hele rojalistiese literatuur ontstaan wat haar lof besing en haar bevryding bepleit het. Die jong prinses het haar egter deur die loop van haar lewe min gesteur aan enige vorm van sekulêre literatuur, en het volgens Sainte-Beuve (1851) se oorsig oor haar lewe nooit in enige vorm van literatuur belang gestel nie.  Alhoewel sy as deel van haar opvoeding geskiedenis- en reisboeke – naas bronne oor godsdiens en moraliteit – gelees het, het die bloeiende Franse literatuur van die negentiende eeu nooit deel van haar wêreld geword nie. 

In haar latere lewe het Marie- Thérèse bly vashou aan godsdiens as ’n bron van innerlike krag, en het sy blykbaar min erg gehad aan ’n lewe van pret of plesier. Sy kon haar ewe min steur aan Volgens oorlewering het sy merendeels ou klere gedra en haar gewy aan liefdadigheid waar sy ook al kon – moontlik ’n meganisme om die populêre beeld van Marie Antoinette as modeslaaf en verkwister teen te werk, maar dalk wel ook ’n refleksie van haar inherent altruïstiese geaardheid.

Haar daaglikse lewe is gekenmerk deur eenvoud, roetine en selfs somberheid,  Sy het daagliks reeds om 5.30 opgestaan, haar kamer uitgevee soos jare vantevore in die Tempeltronk en haar dag met ’n klein, intieme mis begin.  Sy is egter selde tydens openbare godsdiensseremonies opgelet – eerder het sy verkies om haar geloof in die klein ruimte van haar kamer te beoefen. 

Die hertogin van Agoulême het nooit gepraat oor die pynlike belewenisse van haar jeug nie, maar op haar ouers se sterfdae – 21 Januarie en 16 Oktober – het sy haar van die wêreld onttrek en uitkoms in die ruimte van haar kamer gesoek.  Kort voor haar dood in 1851 beskryf graaf Falloux haar soos volg:

Madame la Dauphine was, if I may express it, pathos in person. Sadness was imprinted on her features and revealed in her attitude; but, in the same degree, there shone about her an unalterable resignation, an unalterable gentleness. Even when the tones of her voice were brusque, which often happened, the kindness of her intention remained transparent. She liked to pass in review the Frenchmen she had known; she kept herself closely informed about their family events; she remembered the slightest details with rare fidelity: ‘How Madame loves France!’ I said to her one day. ‘That is not surprising,’ she replied. ‘I take it from my parents.’ At Frohsdorf she was seated nearly the whole day in the embrasure of a certain window. She had chosen this window because of its outlook on copses which reminded her a little of the garden of the Tuileries; and if a visitor wished to be agreeable to her, he remarked upon the resemblance.

Die somber lewe van Frankryk se verlore dogter van die Revolusie word afgesluit met die volgende woorde op haar grafsteen: O vos omnes qui transitis per viam, attendite et videte si est dolor sicut dolor meus (“O all you who pass by the way, pay heed, and see, if there is any sorrow like my sorrow”).

Mag hierdie donker vrou in vrede rus.

 

Bronne

Sainte-Beuve, C-A. 1912 (1851). “The Duchesse d’Angoulême”. In The Ruin of a Princess as told by the Duchesse d’Angoulême, Madame Elisabeth, Sister of Louis XVI, and Cléry, the King’s Valet de Chambre, translated by Katharine Prescott Wormeley. New York: The Lamb Publishing Co., http://digital.library.upenn.edu/women/wormeley/princess/princess.html#295 [15 Desember 2012].

De St Amand, I. G.d. The Duchess Of Berry/Charles X.  http://www.fullbooks.com/The-Duchess-Of-Berry-Charles-X1.html [3 Maart 2013].

“Madame Royale”  Historical Society. 2008.  Identity of the Dark Countess once more critically investigated: Prof. Susan Nagel (USA) publish biography about Madame Royale.  http://www.madame-royale.de/en/special/news/review-nagel2008.htm

“Madame Royale”  Historical Society. G.d. The DarkCountess of Hildburghausen.. http://www.madame-royale.de/en/countess.htm [13 November 2012].

Nagel. S. 2010. Marie-Therese, Child of Terror: The Fate of Marie Antoinette’s Daughter.  Bloomsbury.

The Ruin of a Princess as told by the Duchesse d’Angoulême, Madame Elisabeth, Sister of Louis XVI, and Cléry, the King’s Valet de Chambre, translated by Katharine Prescott Wormeley. New York: The Lamb Publishing Co., http://digital.library.upenn.edu/women/wormeley/princess/princess.html#295 [15 Desember 2012].

 

 

Amanda Lourens. Daardie dekselse papierknippie

Tuesday, January 22nd, 2013

Met die nuwe jaar alreeds byna ’n maand lank op dreef, is dinge soos goeie voornemens en slegte gewoontes nog steeds in my gedagtes.  Alhoewel ek die nare gewoonte om nuuskommentare te lees gelukkig so twee jaar gelede kon afsweer, het ek hier vroeg in 2013 die wete dat ek steeds byna kompulsief allerlei volslae nuttelose brokkies en uitsprake lees.  Ek lees gruwelberigte op Nuus24 oor die verskriklike dinge wat mense en diere oorkom, diverse brokkies skindernuus oor mega-irriterende rolprent- en popsterre, voedselinligting op tweeminuutnoedels, doodsberigte, motorregistrasienommers, fortuinvertellers se advertensies in die grootse Afrikaanse gesinstydskrif, die etiket op my hond se vlooimedikasie.  Miskien word navorsingsresultate nog eendag gepubliseer wat bewys dat die lees van nuttelose stukke teks dalk vir jou brein kan doen wat rooiwyn vir jou hart kan doen.  Intussen probeer ek stellig nie hard genoeg om die gewoonte ’n nekslag toe te dien nie, en het ek eerder ’n nuwe genre ontdek: swak internetgedigte. 

Vele oorloë is in die afgelope maande oor hierdie teer punt geveg, en ek gaan dus nie weer die hele sage oprakel nie.  Eintlik wil ek my eie lastige, tydrowende gewoonte voorhou as vertrekpunt vir die dinge wat soms deur my kop gaan wanneer ek vrotsige pennevrugte tydens ’n middaguur oor my toebroodjies bekyk. 

Ek lees gister hierdie besondere poging raak, met die titel “Wag vir die finale uur”, wat ek anoniem aanhaal:

Wag vir die finale uur

Sit met my rug teen die vuil muur

Mond proe na lemoen suur

Tyd stap stadig aan

 

Hoor harde geskree oorkant die stoep

Mense staar verbaas aan in ’n groep

Pa lees koerant soek na die beorep

Altyd geraas in oms straat

 

Bedruk voel ek in my siel nou

Loop weg! Daar loop ek gou

Voete is rooi en rou

Stilte is vergete hier

 

Karre is koper bruin geroes

Boemelaar gee ’n harde hoes

Waar is my goue oes?

Hoop op beter dae

 

Donker middenag breek blou aan

Staar op na die helder wit maan

My tuiste sal ek na terug moet gaan

Lewe met geloof op elke nuwe dag

Nou ja.  Die lees hiervan grens sekerlik aan die kyk na Keeping up with the Kardashians, of die lees van vrouetydskrifte met suikersoet artikels.  Dit is só grusaam dat jy dit skoon geniet.  (En waarom, wonder ek, geniet ek heimlik hierdie soort irritasie?  Maar dit daar gelaat.) 

Waaroor ek éintlik wonder, is die hele sielkunde van die wannabee-digter.  Wat op aarde is dit wat mense laat dink hulle kan skryf as hulle regtig, hoegenaamd nie kan nie? Juis nou met die nuwe skooljaar en al die atletiek-uitdunne, tesame met my spruit se geweeklaag oor wáárom sy tog juis vir die hele skool moet gaan wys dat sy glad nie kan hardloop nie, reken ek dat ’n redelik maklik afleibare beginsel hier geld: Gewoonlik haat mense dit waarvoor hulle regtig geen talent het nie, en geniet hulle dit wat hulle darem redelik goed kan doen.  Hoe op dees aarde is dit dan te verklaar dat volkome talentloses gedig na gedig produseer en met groot gebaar op Facebook of waar ook al plaas vir die hele wêreld om te aanskou? 

En ek kan my lysie vrae aanvul: Hoekom wil ieder en elk wat nie eens kan spel nie, so graag ‘n groot digter wees – wat is vir diesulkes die bekoring? Wat weet hulle ooit van digterskap? Wat op aarde laat hulle dink dat hulle skryfseltjies enigsins aan moderne gedigte verwant kan wees?

Ek is kortom vervaard aan’t soek na die motiverings agter swak – nee, verleentheidswekkende poësie.

Ek het by ’n paar kennisse gaan kers opsteek en van hulle het interessante verklarings.  Dit is moontlik die sogenaamde Idols-sindroom: Werklikheidstelevisie – soos die sosiale media – kan dalk net van jou ’n ster maak.  Jy kán mos as jy net graag genoeg wil (soos sekere tydskrifte ons so graag vertel).  Kuns is vir sulkes dalk die groot gelykmaker, want álmal is talentvol en daar durf nie goed en sleg wees nie.  En hoe durf die nare literêre establishment dan tog dink dat hulle dalk net ’n bietjie beter weet?  Roem op kennis is deesdae immers so polities inkorrek.  Mense se ego’s is dalk net groter as hulle begeerte om te leer (en word aangevuur deur laerskooljuffrouens wat spelfoute met ’n ligte rooi dotjie merk – ’n kruisie is darem so ’n skandemerk). 

Daarby laat hierdie gruwelgedigte my wonder of die skoolstelsel enige skuld het aan die soort poëtika wat duidelik in die geledere hierdie soort digters geld.  Die meeste van hierdie wannabees is waarskynlik deel van die veertigplussergroep, en ek kan my darem herinner dat ons werklik goeie digkuns op skool behandel het (weliswaar “mak” gedigte, maar ons het wel deeglik geleer waaruit goeie gedigte bestaan).  Wat op aarde is dan daarvoor verantwoordelik dat die produktiewe modelle (in Even Zohar se jargon) wat tans daar buite werksaam is, net blote rymelary en brouwerk is?  Waarom word goeie eietydse digkuns nie gelees en dan ten minste dalk net nagevolg nie? 

Dit is sekerlik te laat vir die meeste van hierdie brou-digters.  Tog wonder ek watter profilaktiese salf daar is om te keer dat ons nie nog ’n generasie taalgebruikers grootmaak wat dink dat ’n skepping soos “Wag vir die finale uur” poësie is nie? 

Of kasty ek my met hierdie soort vrae net soveel as met my bisarre leeskompulsies?  Miskien kan ek weer Breyten se verhaal gaan lees oor die karakter wat kompulsief papierknippies opgetel het.   

 

Amanda Lourens. Lodewyk XVII en Victor Hugo se hemelpoorte.

Friday, October 5th, 2012

Die onlangse gebeure in ons land – opstand, bloedvergieting, onderdrukking en daarmee saam ’n goeie skoot populistiese opportunisme – het my laat dink aan die waterskeidingsopstand wat die einde van die ou orde aangekondig het: die Franse Revolusie.  En dit is moeilik om hierdie gebeure te kontempleer sonder dat die figuur van die laaste Franse koningin by jou opkom. 

Die lewe van Marie Antoinette is moontlik in ons eie tyd ’n ietwat afgesaagde verhaal met nie al die elemente daarvan werklik verifieerbaar nie – soos die welbekende staaltjie van ’n jong Wolfgang Amadeus Mozart wat tydens sy besoek aan die Habsburgse vorstehuis onderneem het om eendag met haar te trou.  Die berugte uitspraak dat die verhongerde Franse burgers koek moet eet, is volgens die biograaf Antonia Fraser histories foutief, en kan volgens Fraser eerder herlei word na Marie-Therese, eggenote van Louis XIV.  Ander bronne reken weer dat Jean-Jacques Rousseau die skepper van hierdie berugte woorde was, naamlik in sy outobiografiese werk van 1782, waarin hy verwys na ’n onbekende “groot prinses”: “Enfin je me rappelai le pis-aller d’une grande princesse à qui l’on disait que les paysans n’avaient pas de pain, et qui répondit: Qu’ils mangent de la brioche.”  Volgens die Fraser berus die koek-eet-mite in der waarheid ook op ’n foutiewe vertaling uit die (waarskynlike) oorspronklike Frans, naamlik “Qu’ils mangent de la brioche“, wat letterlik “ryk, geel broodrolletjie”  beteken.

Ongeag die werklike oorsprong van hierdie uitspraak, dui die geesdrif waarmee die “koek-eet-mite” deur die geskiedenis oorgedra is, op die geweldige mag van propaganda en populistiese opsweping waarvan die Franse koningin ongetwyfeld ’n slagoffer was, naas haar eie tekortkominge.  Wanneer ’n volk honger genoeg is, maak hulle die heersers tot monsters (of tot groter monsters) deur die mag van mitevorming.

’n Biograaf soos Evelyne Lever bied ’n karakterskets van die Oostenryks-gebore koningin as oppervlakkig, nie-intellektueel en plesiersoekend, maar tog in haar meer volwasse jare ’n toegewyde ma en aristrokraat met ’n onwrikbare geloof in die absolute gesag van die monargie, alhoewel sy self min politieke ambisies gehad het (maar deur haar magtige Oostenrykse familie geboelie is om invloed te bekom).  Uiteindelik was Marie Antoinette se  ondergang waarskynlik die gevolg van die tragiese saamloop van verskeie faktore, maar waarvan haar eie gebrek aan insig in die veranderende Frankryk tesame met ’n kragtige propaganda-aanslag teen haar, die belangrikste was. 

Natuurlik het die vraag by my opgekom of die Franse koningin dan volkome insigloos was, en nooit enige poging aangewend het om haar openbare beeld te verander nie.  Klaarblyklik het sy wel pogings aangewend om die openbare persepsie van haar as die ydel, promiskue verkwister en manipuleerder te verander deur haarself as toegewyde moeder te posisioneer (wat sy klaarblyklik wel ook was).  Dit mag dan ook wees dat Marie Antoinette, veral teen die agtergrond van jare van openbare vernedering vanweë haar onmag om swanger te raak, gereken het dat ’n fokus op haar as moeder haar openbare beeld kon verbeter. Die kunstenaar Elisabeth Vigée-Le Brun se dienste is dus bekom om die koningin spesifiek as moeder te skilder. 

 

Marie Antoinette en haar kinders, 1788

In hierdie ikoniese skildery is Marie Antoinette saam met haar kinders  in Versailles.  Die portret was bedoel om haar met haar vier kinders – Madame Royale,  die kroonprins, Lodewyk-Karel en Sophie-Béatrix – uit te beeld.  Sophie is egter oorlede voor die portret voltooi is en dus is die wieg leeg. 

Tydens haar kort verhoor voor die Revolusionêre Tribunaal in Oktober 1793 was die skokkendste taktiek wat teen haar ingespan is, juis om haar integriteit as moeder te bevraagteken, en wel deur bewerings van ’n bloedskandige verhouding met haar seun wat op daardie tydstip slegs 8 jaar oud was.  Die jong kroonprins, wat na Louis XVI se teregstelling saam met die res van sy gesin in die tempeltronk aangehou is, het meegedoen aan hierdie mitevorming: Hy het naamlik getuig dat daar ‘n bloedskanige verhouding tussen hom en sy moeder was; ook is sy tante by die bewerings betrek.  Die jong prins is waarskynlik deur revolusionêre bewakers voorgesê, maar nietemin was die kind se verraderlike getuienis die deurslag wat die koningin na die guillotine gestuur het. Sy suster, Marie-Thérèse het wel in haar moeder se guns getuig en haar broer se getuienis as leuens bestempel, maar die mite het reeds wortel geskiet: l’Autrichienne, wat reeds gebrandmerk is as permissief en spandabel, was ook skuldig aan bloedskande.

Die hedendaagse populêre geskiedenis se bemoeienis met Marie Antoinette eindig gewoonlik met haar laaste oomblikke, en die afbeelding van haar in ’n eenvoudige wit rok en kappie voor sy die trappies na die skavot betree het, is moontlik die laaste raam in die populêre narratief.

Maar tog is die gebeure na haar dood, en veral die geweldige trauma wat haar twee kinders beleef het, eintlik ’n veel meer aangrypende tragedie as die lewe en sterwe van die koningin.   

Die jong prins, Lodewyk-Karel, was haar enigste oorlewende seun na die oorspronklike kroonprins op sewejarige ouderdom oorlede is ná ’n uitgerekte siekte.  Eweneens was Marie-Thérèse die enigste oorlewende dogter na Sophie as baba dood is.  Volgens Evelyne Lever se biografie was die jong Marie-Thérèse ’n onaangename en hovaardige meisietjie, maar Marie Antoinette het dit goedgedink om ’n burgerlike kind van dieselfde ouderdom, Ernestine de Lambriquét, saam met die prinses te laat grootword en te laat onderrig.  Daar was spekulasie dat Ernestine (so gedoop deur Marie-Antoinette nadat sy die kind in haar sorg geneem het) in werklikheid Lodewyk XIV se buite-egtelike dogter by ’n kamermeisie was, maar daar is nie historiese bewyse wat hierdie feit ondersteun nie.  Eerder was Lodewyk volgens alle bronne volkome toegewy aan Marie Antoinette en sy religieuse oortuigings. 

Die hartseer verhaal van die jong Lodewyk-Karl word baie knap deur Naòmi Morgan in ’n 2007-artikel in Literator weergegee. Die seun is na sy ouers se dood onder uiters swak omstandighede in die Tempeltronk aangehou. Hy en sy suster is alle kontak met mekaar verbied, en Marie-Thérèse is ook nie toelaat om sy lyk uit te ken toe hy op 8 Junie 1795 op tienjarige ouderdom weens tuberkulose oorlede is nie. 

Na die jong prins se dood het daar egter talle gerugte die rondte begin doen, waaronder dat hy nooit gesterf het nie, maar ná Robespierre se val deur sy nuwe, simpatieke bewaarder in ’n wasgoedmandjie uit die Tempeltronk gesmokkel is.  Ook het die gerug ontstaan dat hy dood is, maar dat sy plek deur ’n ander kind ingeneem is.  Deur die jare het talle persone dan ook na vore getree wat beweer het dat hulle die verlore prins is, en oor hierdie aanspraakmakers skryf Morgan dan ook baie onderhoudend in haar artikel.  Volgens oorlewering het Marie-Thérèse lewenslank bly twyfel of haar broer werklik gesterf het, maar nietemin het sy tot met haar eie dood geweier om enige van die aanspraakmakers te ontmoet.

 

Lodewyk-Karel, portret deur Kucharski

 

Interessant genoeg het die The British Medical Journal van 3 Oktober 1891 asook van 8 Julie 1893 heelwat redes aangevoer waarom die kind wat in die tempeltronk gesterf het, moontlik nié die kroonprins was nie: Die vrou van burger Simon, die prins se republikeinse “voog”, het getuig dat sy gesien het hoe ’n ander (ragitiese) kind in die Tempeltronk ingebring word.  Daarbenewens is twee artse, ene Dessault en Choppart,  na die kind gebring.  Albei artse is enkele dae na hulle besoek oorlede, en daar is gespekuleer dat Dessault die kind se vals identiteit aan die kaak wou stel.  Nóg ’n arts, Doublet, is daarna geneem om na die seun om te sien, maar is ook kort na die besoek dood.  Voorts wys beide artikels daarop  dat die gedetaillerde verslag van die artse wat die lykskouing uitgevoer het – Pelletan, Dumangin, Jeanroy en Lassus – geen melding maak van die prins se naelbreuk nie.  Hierdie breuk is eksplisiet in Junie 1793 in ’n verslag van die konsul-generaal van Parys vermeld:  “The Council of the Temple reports that the son of the prisoners has a hernia, and submits a proposal made by the medical officer who has examined him that he should be attended by Citizen Piplé, bandage-maker.”

Die raaisel rondom Lodewyk-Karel se lotgevalle is uiteindelik in 2000 opgelos.  Wetenskaplikes het eers DNS van Karl Wilhelm Naundorff, die mees prominente aanspraakmaker dat hy die verlore prins is, vergelyk met DNS van twee lewende familielede van die ware kroonprins – prinses Anna van Roemenië en haar broer, André de Bourbon-Parme.  Daardeur is gevind dat Naundorff se oorskot nié die van Lodewyk XVII kon wees nie.  Verdere DNS-toetse op haarlokke van twee tantes van die jong Lodewyk-Karel, asook van Marie Antoinette self, het die bevindinge bevestig.  Daarna kon wetenskaplikes voortgaan om toetse uit te voer op die versteende hart wat toe reeds vir meer as 200 jaar as relikwee rondgeswerf het, en vermoedelik die hart van Lodewyk XVII is wat op die dag van sy dood deur Pelletan verwyder is. Twee onafhanklike laboratoria het die mitochondriale DNS vergelyk met die genetiese sekwensie van Lodewyk se familielede, en die resultate bied sterk aanduidings dat die hart wel die jong Lodewyk s’n was.  Die hart is oplaas in 2004 in Saint-Denis te ruste gelê.

Maar steeds is daar die skeptici.  Sommige beweer dat die hart in werklikheid dié was van die eerste kroonprins wat reeds in 1789 gesterf het, alhoewel historici daarop wys dat die twee koningskinders se harte op verskillende maniere verwyder en gebalsem  is.  En immers het die genetiese toetse slegs bewys dat die eienaar van die hart en Marie Antoinette wel familie van mekaar was. 

Die historikus Philippe Delorme, outeur van L’affaire Louis XVII [Louis XVII: the Truth] en organiseerder van die genetiese toetse, maak dan die uitspraak dat die gruwelike feite van die ongelukkige prinsie se lewe mense wil laat glo dat daar ’n gelukkige einde móét wees – dat mite oorneem wanneer die werklikheid te brutaal is. 

En só wil dit dan lyk asof die mite telkens in die geskiedenis wil seëvier: hetsy om die volk se haat vir ’n uitlandse koningin te artikuleer (en by proxy selfs hulle woede vir hulle eie impotente jong koning), of om die volk se beskaamdheid by die besef van die onreg wat aan ’n kind gedoen is, te wil bedek. 

Dit is dan op hierdie punt dat ek die (lang) gedig wil aanhaal waarin Victor Hugo die dood van die prins op ’n ander manier tot mite maak – naamlik deur hom in die hiernamaals as koning voor te stel, sy lyding soortgelyk aan dié van Christus, en só sin aan die kind se verskriklike lot probeer gee.  (Of ons hierdie soort romantiese mitevorming durf aanvaar, is waarskynlik ’n vraag wat nie in ons eeu tuishoort nie.) 

 

King Louis XVII (an ode)

Vertaling: Dublin University Magazine
(“En ce temps-la du ciel les portes”, 1822)


The golden gates were opened wide that day,
All through the unveiled heaven there seemed to play
Out of the Holiest of Holy, light;
And the elect beheld, crowd immortal,
A young soul, led up by young angels bright,
Stand in the starry portal.

A fair child fleeing from the world’s fierce hate,
In his blue eye the shade of sorrow sate,
His golden hair hung all dishevelled down,
On wasted cheeks that told a mournful story,
And angels twined him with the innocent’s crown,
The martyr’s palm of glory.

The virgin souls that to the Lamb are near,
Called through the clouds with voices heavenly clear,
God hath prepared a glory for thy brow,
Rest in his arms, and all ye hosts that sing
His praises ever on untired string,
Chant, for a mortal comes among ye now;
Do homage–“‘Tis a king.”

And the pale shadow saith to God in heaven:
“I am an orphan and no king at all;
I was a weary prisoner yestereven,
My father’s murderers fed my soul with gall.
Not me, O Lord, the regal name beseems.
Last night I fell asleep in dungeon drear,
But then I saw my mother in my dreams,
Say, shall I find her here?”

The angels said: “Thy Saviour bids thee come,
Out of an impure world He calls thee home,
From the mad earth, where horrid murder waves
Over the broken cross her impure wings,
And regicides go down among the graves,
Scenting the blood of kings.”

He cries: “Then have I finished my long life?
Are all its evils over, all its strife,
And will no cruel jailer evermore
Wake me to pain, this blissful vision o’er?
Is it no dream that nothing else remains
Of all my torments but this answered cry,
And have I had, O God, amid my chains,
The happiness to die?

“For none can tell what cause I had to pine,
What pangs, what miseries, each day were mine;
And when I wept there was no mother near
To soothe my cries, and smile away my tear.
Poor victim of a punishment unending,
Torn like a sapling from its mother earth,
So young, I could not tell what crime impending
Had stained me from my birth.

“Yet far off in dim memory it seems,
With all its horror mingled happy dreams,
Strange cries of glory rocked my sleeping head,
And a glad people watched beside my bed.
One day into mysterious darkness thrown,
I saw the promise of my future close;
I was a little child, left all alone,
Alas! and I had foes.

“They cast me living in a dreary tomb,
Never mine eyes saw sunlight pierce the gloom,
Only ye, brother angels, used to sweep
Down from your heaven, and visit me in sleep.
‘Neath blood-red hands my young life withered there.
Dear Lord, the bad are miserable all,
Be not Thou deaf, like them, unto my prayer,
It is for them I call.”

The angels sang: “See heaven’s high arch unfold,
Come, we will crown thee with the stars above,
Will give thee cherub-wings of blue and gold,
And thou shalt learn our ministry of love,
Shalt rock the cradle where some mother’s tears
Are dropping o’er her restless little one,
Or, with thy luminous breath, in distant spheres,
Shalt kindle some cold sun.”

Ceased the full choir, all heaven was hushed to hear,
Bowed the fair face, still wet with many a tear,
In depths of space, the rolling worlds were stayed,
Whilst the Eternal in the infinite said:

“O king, I kept thee far from human state,
Who hadst a dungeon only for thy throne,
O son, rejoice, and bless thy bitter fate,
The slavery of kings thou hast not known,
What if thy wasted arms are bleeding yet,
And wounded with the fetter’s cruel trace,
No earthly diadem has ever set
A stain upon thy face.

“Child, life and hope were with thee at thy birth,
But life soon bowed thy tender form to earth,
And hope forsook thee in thy hour of need.
Come, for thy Saviour had His pains divine;
Come, for His brow was crowned with thorns like thine,
His sceptre was a reed.”

 In ’n volgende inskrywing kyk ek weer na die lewe van Madame Royale, en die mites wat rondom Lodewyk XVII se oudste suster ontstaan het.  

 

Bronne

 

Fraser, A. 2001. Marie Antoinette: The journey. N.A. Talese/Doubleday.

Jehaes E., Decorte R., Peneau A., Petrie J.H., Boiry P.A., Gilissen A., Moisan J.P., Van den Berghe H., Pascal O., & Cassiman J.J. 1998. Mitochondrial DNA analysis on remains of a putative son of Louis XVI, King of France and Marie-Antoinette.Europen Journal of Human Genetics 6(4): 383-395.

Jehaes, E., Pfeiffer, H., Topak, k., Decorte, R., Brinkmann, B. & Cassiman, J.J. 2001.  Mitochondrial DNA analysis of the putative heart of Louis XVII, son of Louis XVI and Marie-Antoinette. Europen Journal of Human Genetics 9(3): 185-90.

Heart of Louis XVII gets royal funeral. 2004.
http://www.chinadaily.com.cn/english/doc/2004-06/03/content_336254.htm [3 Maart 2004]. 

Lever, E. 2001. Marie Antoinette: The last queen of France. St. Martin’s Press.

Morgan, N. 2007. Van Tempeltronk tot katedraal: die kruisweg van Lodewyk XVII.  Literator 28(2): 47-69.

The fate of Louis XVII. 1891. British Medical Journal 2(1605): 759-760.

The death of Louis XVII 1893. British Medical Journal 2(1697); 86.