Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout. Philipstown se kerke

Friday, February 3rd, 2012

Die skildery hier bo is van ʼn straattoneel in Philipstown, ʼn dorpie in die Noord-Kaap. Dis moeilik om lig in landskapskilderye reg te kry. ʼn Mens moet die lug bo die landskap oortuigend laat praat met hoe skaduwees teen plante en mure val. Een manier om dit te doen, is om tonele in die vroegoggend of laatmiddag te kies – lang skaduwees en kolle lig wat teen mure val. Ek eksperimenteer egter op die oomblik met tonele in die bliksemse hitte van die middel van die dag – die son reg bo.

Dit was baie warm toe ons Philipstown in Desember besoek het. Die dorp is na Sir Philip Wodehouse, goewerneur van die Kaapkolonie van 1861 tot 1870, vernoem. Philipstown is ook I.D. du Plessis se geboortedorp. Elke dorp kan seker spog met een of ander digter of skrywer wat eens daar gewoon het. Nietemin, die dorp is in 1865 gestig as kerkdorp vir die Gereformeerde Kerk na afstigting van die Colesberggemeente. Dis dus een van daardie rare Suid-Afrikaanse kerkdorpe waar die Gereformeerde Kerkgebou in die middel van die dorp staan, en die Nederduits Gereformeerdes tevrede moet wees met ʼn straatblok iewers sylangs. In Philipstown is die Gereformeerde Kerkgebou ʼn pragtige, effe strak, sandsteengebou wat vandag nog in die middel van die dorp staan. Bouwerk aan die kerk is blykbaar in 1878 voltooi.

Ou foto van Philipstown se Gereformeerde Kerkgebou

Ou foto van Philipstown se Gereformeerde Kerkgebou

Hoe dit vandag lyk

Hoe dit vandag lyk

Detail aan die agterkant

Detail aan die agterkant

Die heining

Die heining

Die NG Kerkgebou is in 1893 op die ou skoolterrein opgerig, twintig jaar na die oorspronklike afstigting van die Colesberggemeente. Die boukomitee het gesorg dat die toring darem hoër is as die Dopperkerk in die middel van die dorp.

 

Philipstown NG Kerkgebou, ou foto

Philipstown NG Kerkgebou, ou foto

NG Kerkgebou vandag

NG Kerkgebou vandag

Die onstaan van die nabygeleë dorp De Aar in die vroeë 1900s het beide Gereformeerde en NG gemeentes op Philipstown ʼn knou toegedien. In 2010 het die NG Gemeente slegs 162 lidmate gehad. Met ʼn rit deur die dorp word ʼn mens deur verskeie vervalle geboue gekonfronteer. Volgens koerantberigte het inwoners onlangs die dorp se stadsraad gedagvaar, omdat basiese dienste nie gelewer word nie.

 

Philipstown, muur en venster

Philipstown, muur en venster

Skildery:
“Somersonnewende, Philipstown”, olie op gemonteerde doek, 24 x 35 cm

Andries Bezuidenhout. Herinnering aan Szymborska

Thursday, February 2nd, 2012

Ter nagedagtenis aan Szymborska, die volgende vertaling uit die argief:

VERSLAG UIT DIE HOSPITAAL
(vertaling van Relacja ze szpitala deur Wisława Szymborska)

Ons het lootjies getrek, oor wie hom sou gaan sien.
Dit was ek. Ek het van ons tafel af opgestaan.
Dit was amper besoekerstyd.

Hy het nie my groet beantwoord nie.
Ek het sy hand probeer vat – hy’t dit teruggetrek
soos ʼn honger hond wat ʼn been beskerm.

Hy’t skaam gelyk oor doodgaan.
Ek weet nie wat jy vir iemand soos hy sê nie.
Ons het verby mekaar gekyk, soos in ʼn fotomontage.

Hy’t my nie gevra om te bly of loop nie.
Hy’t oor niemand aan ons tafel navraag gedoen nie.
Nie oor jou nie, Coetzee. Nie oor jou nie, Kotze. Nie oor jou nie, Coertze.

My kop het begin pyn. Wie gaan vir wie hier dood?
Ek’t die mediese wetenskap en drie viooltjies in die gras besing.
Ek het oor die son en donker gedagtes gesels.

Dankie tog vir die trappe om mee af te hardloop.
Dankie tog vir ʼn hek om oop te maak.
Dankie tog julle almal wag vir my by ons tafel.

Hospitaalreuke maak my siek. 

Andries Bezuidenhout. As boekwinkels sluit

Tuesday, January 31st, 2012

Hartseer foto. Die leë rakke in die agtergrond. Dis vandag Die Boekehuis se laaste dag. Die les wat ʼn mens leer is dat selfs pleidooie van die land se voorste kunstenaars en intellektuele geen verskil meer aan korporatiewe besluite kan maak nie.

“Years later he’d stood in the charred ruins of a library where blackened books lay in a pool of water. Shelves tipped over. Some rage at the lies arranged in their thousands row on row. He picked up one of the books and thumbed trough the heavy bloated pages. He’d not have thought the value of the smallest thing predicated on a world to come.”

– Cormac McCarthy, The Road

Andries Bezuidenhout. Larkin: Selected, Collected en Complete

Friday, January 27th, 2012

“A ‘Complete Poems’ is a death certificate and memorial combined. After the Selected and the Collected, the Complete marks the poet’s official demise and at the same time erects a carven monument designed to outlast the ages.”

Hoe’s daai vir die eerste sin van ʼn boekresensie? Dit kom uit John Banville se resensie van ‘n nuwe versameling Philip Larkin-gedigte deur Archie Burnett. Die uitvoerige en onderhoudende resensie is Woensdag in die Guardian gepubliseer. Ek hou ook hiérvan:

“Larkin himself would have made merciless fun of it, but the poet, and the librarian, in him would have been immensely pleased and proud.”

Lees die volledige resensie hier.

Andries Bezuidenhout. Punk in Afrika

Tuesday, January 24th, 2012

(met erkenning aan Keith Jones en Deon Maas en verskoning aan Gert Vlok Nel, ‘n gedig, maar met die knaende rym en refrein, dalk liriek ook)

Op die pad tussen Dealesville en Bultfontein
het ʼn sonneblom langs wiele opgekom
en verstik voor ʼn sylangse blik na die son.
Hoe punk is ʼn dooie sonneblom?
Di
é
een het vroeg reeds aaklig omgekom.
Ek weet. Ek het daar verbygery,
my deel gedoen vir die stikkery
op die pad tussen Dealesville en Bultfontein.

Op die pad tussen Dealesville en Bultfontein
is wit gruis lank gelede gestrooi
om ʼn loopvlak uit rooigrond te looi.
Maar hier is bloekombas rooi van kleur
en na reën slaan modder bloedig deur.
Ek weet. Ek het daar verbygery,
my deel gedoen vir die deurslanery
op die pad tussen Dealesville en Bultfontein.

Op die pad tussen Dealesville en Bultfontein
hou jy soms stil om rigting te vra,
want rigtingwysers is weggedra
vir skuiling of dalk skrootmetaal.
Hoe vra punks rigting in die Vrystaat?
Ek weet nie, al het ek mildelik bygedra
tot die saak van ewige padvindery
iewers tussen Dealesville en Bultfontein.

Op die pad tussen Dealesville en Bultfontein
is ʼn bakoorjakkals raakgery,
ore verbaas soos die bo
ë
bo Pablo Neruda se oë,
tandjies gryns los van die skedel,
brommers wat lêplek vir maaiers bedel.
Ek ril. Ek het daar verbygery,
op die pad tussen Dealesville en Bultfontein.

Vir wat dit saak maak, sit ek nou in Foxstraat –
drink bier van een of ander mikrobrouery,
ruitveërrubbers smous verby.
Ek wag om te sien of Deon Maas
van punk in Afrika sin kan maak
en hoeveel kak ek in die doccie praat,
die een wat netnou in Foxstraat wys,
Jo’burg, so ver van Dealesville en Bultfontein.

Punk in Africa wys nog tot 27 Januarie by The Bioscope in Johannesburg, net straataf van Arts on Main. Dit wys ook binnekort by die Rotterdam Filmfees.

Andries Bezuidenhout. Antwoord tog terug

Friday, January 20th, 2012

Die prente hier bo kom uit ʼn projek wat mense uitnooi om klassieke skilderye op te stuur met meer kontemporêre fotografiese “kunswerke” – in hierdie geval Craig White se gespot met Ingres. Lees hier meer daaroor – daar is ook baie ander snaakse voorbeelde. Dit laat my terugdink aan daardie bundel waarin Carol Ann Duffy kontemporêre digters genooi het om op klassieke gedigte te reageer. My kopie lê tuis, maar een van die meer snaakse pogings is iemand wat met Ginsberg spot. Sy gedig se titel is “Trowel” en die gedig lees iets soos:

I saw the best minds of my generation destroyed by DIY

Heel grappig, maar ook ernstig? Ek is nie seker of ek een van die beste breine van my generasie is nie, maar ek het simpatie met die kunstenaar wat van die sleutelbord/klavier/kwas weggehou word deur sleurtake. Dis deels hoekom ek in ʼn woonstel sonder dak of tuin woon.

Nou wonder ek wat sou gebeur as ʼn mens ʼn kompetisie uitskryf vir die beste satiriese oorskryf van klassieke Afrikaanse gedigte. Hoe lyk dit?

Andries Bezuidenhout. ʼn Nuwe plaat van Cohen

Wednesday, January 18th, 2012

Daar kom blykbaar binnekort ʼn nuwe plaat van Leonard Cohen uit – een met tien nuwe oorspronklike lirieke uit sy pen – met die titel Old Ideas. Die New Yorker was so gaaf om eergister een van die tien op hulle werf beskikbaar te stel, “Going Home”. Gaan luister gerus hier.

Andries Bezuidenhout. Mynhuis, Vrystaat

Tuesday, January 17th, 2012

Die Vrystaatse goudvelde. Een mynskag in Welkom het in die vyftigs, dink ek, soveel goud soos die ganse Kaliforniese goudstormloop opgelewer. So dorpe soos Welkom, Odendaalsrus en Virginia was eens die hart van Suid-Afrika se ekonomie. Nie meer nie. Die gebied sit met die probleem van onwettige myners wat met gewere teen formele mynmaatskappye kompeteer oor die beheer van skagte. Stene in verlate mynkampongs word uitgebreek en weer gebruik om mure teen inbrekers te bou. In Welkom se Casino slyt plastiekgeld deur masjiene se buise. Jy kan jou vuurwapen vir veilige bewaring by die deur inhandig. Die plek laat ʼn mens aan ʼn winkel met wasoutomate op ʼn linoleumvloer om middernag dink. Die vloer blink in die wit vibrasies van buisligte.

Ek dink aan ʼn gedig van Annie Klopper in Nuwe Stemme 4, die eerste een in die bundel. Die titel is “hoe om ʼn dorp te verf”:

begin by die posbusse
massiewe gholfballe, skoene, pampoene
geskakeer met fyn skadu’s van roes
verf dan die skoolbusse
skeur die banke en skryf op die dak
woorde wat rym met “oes” en “ak”
(onthou om spelfoute te maak)
skets die skoolmure na aan mekaar
om drome in te perk en daar te bewaar
teken dan ʼn tandlose vrou by die drankwinkel-till
ʼn skoolrok by die kliniek in ʼn ry vir die pil
ʼn beroofde bejaarde wat op ʼn sypaadjie bewe
ʼn horlosie op ʼn kerktoring sonder ʼn sewe
ʼn kind wat rook agter ʼn stegie se muur
en bergies wat baklei langs ʼn uitgebrande vuur
laat alles dan verbleik en verweer
spoeg op die sypaadjies
boor gate in die teer
en herhaal
ʼn paar honderd maal
herhaal

Die gedig gaan waarskynlik oor ʼn dorp in die Kaap. Annie Klopper kom egter oorspronklik van Virginia in die Vrystaat. Ek weet nie hoe die huis lyk waar sy grootgeword het nie. Virginia lyk waarskynlik vandag baie anders as toe sy daar gewoon het. Dit was lank gelede bekend vir die mooi tuine. By Merriespruit het die slikdam se damwal gebreek en baie mense is dood.

Die titel van die skildery hier bo is “Mynhuis, Vrystaat”. Al is die Vrystaatse goudvelde ʼn landskap waarvan die horison deur mynhope en skagtorings gebreek is, is dit vir my mooi. Ek hou van mynhuise, soos die een op die foto – uit die veertigs en die vyftigs van die vorige eeu. Daar’s iets standhoudend aan die blokvorm, hoe die son op die stene val. Ek hoop die skildery vang iets van gemengde gevoelens oor verganklikheid en standvastigheid van die Vrystaatse goudvelde vas.

Skildery:
“Mynhuis, Vrystaat”, olie op doek, 40 X 60 cm

Andries Bezuidenhout. Lughawens en kragstasies

Monday, January 16th, 2012

Die prente hier bo is van werke deur die Anselm Kiefer. “Margarethe” (uit 1981) en “Sulamith” (uit 1990). Hy gebruik ʼn kombinasie van tradisionele materiale, maar ook hare, lood, as en strooi. Die inspirasie is natuurlik Paul Celan se gedig “Todesfuge”. Vreemde onderhoud met Kiefer in die Guardian. Hy’t onlangs ʼn ou kernkragsentrale gekoop. Twee aanhalings uit die onderhoud:

“Nazi art is really horrible, it’s boring, but the architecture of the 30s isn’t specifically German, it was the architecture of its time. Speer was a bad politician, but he wasn’t a bad architect.”

“In Germany, if something is finished, they like to flatten it, bring it down, make the grass grow over it. That’s no good. You should keep these old buildings because they played a role and they can teach us something. I’m against the idea of bringing all these power stations down. I said, ‘I’ll take them all if you want’.”

Lees dit hier. (Dankie aan Charles Leonard vir die skakel.)

Andries Bezuidenhout. Die skuifelende kerke van Cradock

Saturday, January 7th, 2012

Oosgrens, het hulle dit genoem. Die Oos-Kaap ís frontier country. Dis ook deksels mooi. Hier was nie verniet ʼn hele aantal oorloë oor waar die grens moes lê nie. My voorsate, daardie skarminkels van die Slagtersnekrebellie, se grafte lê juis net anderkant Cookhouse, of Kookhuis, soos sommige mense dit noem. Na die oorlewende Bezuidenhouts uit die distrik verban is, het Thomas Pringle se mense hulle plaas gekry. Soms wonder ek of daai oorloë al verby is. Meer as die helfte van die 1980s se necklaceteregstellings het in die Oos-Kaap voorgekom. Op van die plaaspaaie is deesdae toegangsbeheer met sekuriteitskameras en dubbelhekke. Dis die vreemde kombinasie van indrukwekkende kerkgeboue en ʼn geweldadige geskiedenis wat jou oor hierdie dinge laat wonder, veral as jy vir ʼn paar dae in ʼn dorp soos Cradock vertoef.

Andries Stockenström, die einste een wat die Bezuidenhouts tot orde moes roep, het in 1812 ʼn fort hier opgerig om ʼn hof – ʼn drosdy – op die been te kan bring. In vandag se taal was dit dalk eerder ʼn afdelingshof, of ʼn streekshof. In 1814 is die dorp geproklameer en vernoem na Sir John Cradock, die destydse goewerneur van die Kaapkolonie. In die meer onlangse geskiedenis is Cradock bekend, of dalk eerder berug, vir die “Cradock Vier” – Fort Calata, Matthew Goniwe (in die foto hier bo), Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto – wat op 27 Junie 1985 deur die destydse Veiligheidspolisie vermoor is; of, in die woorde van die opdrag van Brigadier Joffel van der Westhuizen, wat “permanent uit die samelewing, as ʼn saak van dringendheid, verwyder” is. Aan die vier liggame is meer as vyftig meswonde toegedien, hulle is geskiet en is toe saam met die motor, waarin hulle van die pad af gedwing is, aan die brand gesteek. Vandag kan ʼn mens die vier aktiviste se grafte, ʼn gedenktuin en ʼn galery wat aan hulle toegewy is by die plaaslike museum besoek.

Matthew Goniwe was ʼn onderwyser wat aan Fort Hare studeer het. Weens sy aktivisme in Cradock is hy Graaff-Reinet toe oorgeplaas. Hy het die oorplasing van die hand gewys en is tronk toe gestuur – Polsmoor toe. Met sy vrylating was Goniwe werkloos. Hy het voltyds vir die United Democratic Front (UDF) begin werk en baie vinnig daarin geslaag om UDF-strukture in bykans elke klein dorpie in die Oos-Kaap te stig. Dit het die outoriteite nog meer ontstel as sy politieke aktiwiteite as onderwyser. Sy einde was tragies – ʼn ware Suid-Afrikaanse verhaal uit die 1980s.

Die storie van die Cradock Vier Galery by die plaaslike museum behels ook ʼn onderwyser wat ʼn oorplasing geweier het. Ek en Irma het hom ʼn paar jaar gelede by die museum ontmoet, maar kan hom nou nie meer opspoor nie. Hy kom uit heel ander omstandighede as Goniwe. Hy was die liggaamsopvoeding onderwyser by ʼn plaaslike “wit” skool, asook die rugbyafrigter. As deel van besnoeiings in onderwys in die 1990s is sy pos oortollig verklaar. Hy is ʼn verplasing elders heen aangebied, maar wou Cradock nie verlaat nie. As alternatief is ʼn betrekking by die plaaslike museum aan hom beskikbaar gestel, waar hy begin het om op te lees oor die geskiedenis van die dorp. Die gevolg hiervan, asook moeilike onderhandelinge met familielede en owerhede, is die Cradock Vier Galery in ʼn nuwe gebou langs die bestaande museum wat oor die Trekboere se geskiedenis in die streek handel.

Cradock is Toast Coetzer se dorp, maar die toerismeborde noem ongelukkig nie hierdie feit nie. Die Cradock Vier, Oliver Schreiner en die kerkgebou in die middel van die dorp word egter duidelik as toerismebesienswaardighede bemark. Die Cradock Vier het ek nou al genoem. Naby die dorp, op die plaas Buffelskop, is Oliver Schreiner se graf. Sy het in haar jeug, van 1868 tot 1870, op die dorp gebly. Dan is daar die Nederduitse Gereformeerde Moederkerk, waarvan die ontwerp op die “St Martin-in-the-fields” kerk in Londen gebaseer is. Dis op die perseel opgerig waar die ou kerk – die Kruiskerk, in 1823 gebou – eens gestaan het. President Paul Kruger is in 1826 in die Kruiskerk gedoop. Die museum met die Cradock Vier Galery is in die Kruiskerk se ou pastorie. Ek moet byvoeg dat die gebou wat in die Kruiskerk se plek opgerig is se dak deur Britse troepe as ʼn uitkykpunt tydens die Anglo-Boereoorlog gebruik is. Kerke is selde verhewe bo oorlog en geweld. Soms is hulle die oorsaak daarvan. In hierdie geval was die een se doop die ander se kraaines.

NG Moederkerk, Cradock, 1866

NG Moederkerk, Cradock, 1866

Moederkerk, oggendson

Moederkerk, oggendson

Moederkerk, vooraansig detail

Moederkerk, vooraansig detail

Moederkerk, syaansig

Moederkerk, syaansig

Moederkerk, syaansig detail

Moederkerk, syaansig detail

Vandag staan die NG Kerk van 1866 steeds as die mees prominente baken in Cradock. Dalk sê dit iets oor die aspirasies van die destydse gemeente – ʼn tipe imperiale, Britse respektabelheid? So van Britse respektabelheid gepraat; Cradock se kerke het my weer aan Philip Larkin se gedig “Church Going” laat dink:

Once I am sure there’s nothing going on
I step inside, letting the door thud shut.
Another church: matting, seats, and stone,
And little books; sprawlings of flowers, cut
For Sunday, brownish now; some brass and stuff
Up at the holy end; the small neat organ;
And a tense, musty, unignorable silence,
Brewed God knows how long. Hatless, I take off
My cycle-clips in awkward reverence.

Cradock se Engelse inwoners het minder oordadige kerke as die Afrikaners opgerig. In Breëstraat, die dorp se oudste straat, staan die oorspronklike Anglikaanse - en Metodiste kerkgeboue vandag nog. In beide gevalle is nuwer kerke op dieselfde perseel as die oorspronklike kerke opgerig. Die eerste Anglikaanse kapel, die een met die pragtige klipwerk, is in 1869 opgerig, die nuwer een in 1893. Die Metodiste se oorspronklike gebou is in 1849 gebou en die latere een (van klip) in 1870. Miskien het die Metodiste gevoel die Anglikane se klipkerk is mooier as hulle s’n; daarom die bou van hul tweede kerk skaars ʼn jaar na die oprigting van die Anglikaanse kapel. Keeping up with the Anglicans? (Miskien het ek dit verkeerd. Volgens een van die inligtingsbrosjures in die gastehuis kom die Anglikaanse klipkerk uit 1858. Ek vertrou egter eerder hoekstene vir datums as gefotokopieerde inligtingsbrosjures.) Ek sukkel om goeie kameraskote van die Metodistekerke te kry. Dis regtig jammer hulle so ʼn lelike staalheining om hul twee kerke laat plant. Deesdae is selfs kerkgangers bang vir misdaad en vele kerkgeboue word deur sekuriteitsmaatreëls ontsier. Weer Larkin:

Move forward, run my hand around the font.
From where I stand, the roof looks almost new -
Cleaned, or restored? Someone would know: I don’t.
Mounting the lectern, I peruse a few
Hectoring large-scale verses, and pronounce
‘Here endeth’ much more loudly than I’d meant.
The echoes snigger briefly. Back at the door
I sign the book, donate an Irish sixpence,
Reflect the place was not worth stopping for.

Cradock Anglikaanse kerk, 1869

Cradock Anglikaanse kerk, 1869

Cradock Anglikaanse kerk, 1893

Cradock Anglikaanse kerk, 1893

Cradock Metodistekerk, 1849

Cradock Metodistekerk, 1849

Cradock Metodistekerk, 1870

Cradock Metodistekerk, 1870

Dis jammer die Engelse se Afrikanerbure het nie die gebruik om nie die ouer kerk te sloop vir ʼn groter, nuwer een gevolg nie, want dan sou ons vandag dalk nog kon sien hoe die Kruiskerk gelyk het waarin Paul Kruger gedoop is.

Nietemin, verder in die straat af, langs ʼn kettingwinkel, staan die kerkgebou van die Congregational Church uit 1853. Dis as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar, maar staan klaarblyklik en vergaan. Die perseel is só vol onkruid en vullis en stink só na frank alkohol en menslike uitwerpsel dat ek nie naby genoeg kan kom om ʼn behoorlike foto van die hoeksteen te neem nie (My “All Stars” is ongelukkig nie gumboots nie). Dis werklik jammer dat niemand na hierdie gebou omsien nie. Steeds Larkin:

Yet stop I did: in fact I often do,
And always end much at a loss like this,
Wondering what to look for; wondering, too,
When churches will fall completely out of use
What we shall turn them into, if we shall keep
A few cathedrals chronically on show,
Their parchment, plate and pyx in locked cases,
And let the rest rent-free to rain and sheep.
Shall we avoid them as unlucky places?

Cradock Congregational kerkgebou, 1853

Cradock Congregational kerkgebou, 1853

Die ou Union Church, wat in 1893 gebou is, is darem onlangs deur die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se Cradockgemeente oorgeneem. So die gebou word na omgesien. Dan het die Katolieke ook ʼn kerk in 1930 opgerig, selfs nederiger in ontwerp as die Union Church se gebou van drie dekades vroeër.

Union Church uit 1893, nou die NH Kerk

Union Church uit 1893, nou die NH Kerk

Cradock Katolieke kerk, 1930

Cradock Katolieke kerk, 1930

Nou sit ek met ʼn tameletjie. Ek wil eintlik, met my draai deur die geskiedenis en Larkin se gedig, by ʼn kerk uitkom wat in 1971 gebou is. Dis ʼn storie wat (deels) oor modernisme en nasionalisme gaan, maar soveel het tussenin gebeur. Die dele tussenin loop deur kerkbanke in Cradock se twee townships – Lingelihle en Michausdal – asook ʼn nuwer voorstad van die “wit” dorp.

Laat ek maar met die Nederduits Gereformeerde Gemeente Cradock-Oos se nuwe kerkgebou uit 1952 begin. Die Nasionale Party met hul apartheidsbeleid is reeds vier jaar in die saal en die Afrikaners is heel selfversekerd. Die kerkgebou wat hulle nou in Cradock oprig wil nie meer soos ʼn Engelse kerk in Londen lyk nie. Dit het strakker lyne en verskillende kleure siersteen word gebruik om die lyne met detail te breek. Die ontwerp is reeds modernisties, dalk effe deur die Nederlandse De Stijl-beweging beïnvloed. Die loodglasvensters is meer geometries en veral blou en oranje word gebruik vir afwisseling. Tóg is dit ʼn imposante gebou, wat van bouvakmanskap getuig. Die hoeksteen noem helaas nie die argitek se naam nie. Dis ʼn kerk wat sê: Ons verklaar ons teenwoordigheid en dat ons hierdie landskap besit, “op gesag van die Hoogste se hand.” Waar die Moedergemeente se gebou Engeland toe gekyk het vir respektabelheid, kyk hierdie een na Nederlandse wortels as alternatief.

Cradock-Oos NG Kerk, 1952

Cradock Oos NG Kerk, 1952

Cradock Oos NG Kerk, detail

Cradock Oos NG Kerk, detail

Cradock Oos NG Kerk, loodglaswerk

Cradock Oos NG Kerk, loodglaswerk

Cradock Oos NG Kerk, detail

Cradock Oos NG Kerk, detail

ʼn Sprong terug in die verlede. Op die kant van Lingelihle, naby aan die ou “wit” dorp, kom ons op ʼn kerk af wat in 1942 gebou is. Daar is geen aanduiding van denominasie nie – nie hoeksteen of inligtingbord met dienstye nie. Dit staan net daar. Dit lyk of dit nog in gebruik is, maar van die vensters is gebreek. In 1942 het die Tweede Wêreldoorlog nog voort gewoed. Wie het hierdie kerk gebou en waarom is dit in hierdie spesifieke styl? Dit herinner aan van Herbert Baker se pogings om ʼn inheemse Suid-Afrikaanse argitektuur daar te stel deur byvoorbeeld die Kaaps-Hollandse gewel by neo-klassieke geboue te inkorporeer. Van die skoolkoshuise in Cradock is in daardie styl gebou, maar hierdie kerk lyk meer soos ʼn meer bekostigbare namaaksel van die styl as ʼn voorbeeld daarvan. Tog, ten spyte van die gebreekte vensters en die geroeste sinkdak, het die geboutjie nie sleg verouder nie. Daar sit ʼn tipe sjarme in die onbeholpe lyne van die gewels.

Cradock, skoolkoshuis met gewels

Cradock, skoolkoshuis met gewels

Naamlose kerk in Lingelihle, 1942

Naamlose kerk in Lingelihle, 1942

Naamlose kerk, detail

Naamlose kerk, detail

Dít in teenstelling met die kerk wat die Nederduits Gereformeerde Kerk vir hul “swart” lidmate in 1961 teen ʼn bult in Lingelihle oprig. Dis ook ʼn tipe namaaksel, maar ʼn baie slegte, afskeepweergawe van die NG Gemeente Cradock-Oos se gebou. Die ooreenkomste is daar, maar daar is geen van die siersteenwerk en loodglas detail om die lyne te breek nie. Die gebou sê: Hier is vir julle ʼn namaaksel, ʼn tweederangse gebou vir tweederangse Christene. Die hoeksteen is op Kersdag 1961 deur Ds. A.G. Kellermann gelê. Volgens ʼn kennisgewing is dit nou die kerk van die Uniting Reformed Church in Africa, die samesmelting van die NG Kerk se drie apartheidstakke, en die leraar is Rev. L.L. Plaatjie.

Lingelihle NG Kerk in Afrika, 1961

Lingelihle NG Kerk in Afrika, 1961

In 1963 het die Anglikane ook ʼn kerk in Lingelihle gebou, ook nie juis ʼn wafferse stuk argitektuur nie. ʼn Paar jaar later, in 1965, het die Metodiste dalk ʼn bietjie meer moeite met ontwerp gedoen, maar nie véél meer nie.

Lingelihle Anglikaanse kerk, 1963

Lingelihle Anglikaanse kerk, 1963

Lingelihle Metodistekerk, 1965

Lingelihle Metodistekerk, 1965

Die Metodistekerk is in 2006 as die Skweyiya Church herdoop, ter ere van “Oom Gili”, oftewel Alfred Sithethi Skweyiya, wat ʼn belangrike rol gespeel het om die ouer, konserwatiewe gemeenskap van die township by die stryd teen apartheid te betrek. Hiervoor het hy van 1986 tot 1988 tronkstraf uitgedien en was werkloos tot en met sy dood in 2006. Hy was nogtans by die gemeenskap betrokke en is verkies as die eerste voorsitter van die ANC se plaaslike tak na die organisasie wettig verklaar is in 1990. Dis jammer die kennisgewingbord buite die kerk met hierdie inligting is so swak versorg. Die laaste paragraaf word twee keer herhaal, beide in Engels en IsiXhosa.

In Michausdal blyk die meeste kerkgeboue uit die 1970s te dateer. Daar’s die Katolieke Kerk van Sint Johannes die Evangelis, wat in 1974 gebou is, asook ʼn Afrikaanssprekende Metodistegemeente, waarvan die kerkgebou in 1976 opgerig is. Wat toe nog die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk was se gebou kom uit 1978 – die NGS Kerk Immanuel, volgens die hoeksteen. Dis ʼn dienlike gebou van klinkersteen, met ʼn sinkdak en ʼn losstaande kloktoring. Die gebou se geskiedenis sit in die vorm, maar die boumateriaal is 1970s.

Michausdal NG Sendingkerk Immanuel, 1978

Michausdal NG Sendingkerk Immanuel, 1978

So die meeste kerke in Lingelihle is in die 1960s gebou en Michausdal s’n in die 1970s. Die kerkgebou in Cradock wat ek die interessantste vind, is een waaroor daar andersins min bohaai gemaak word. Dis deur die argitek A.P.S. Conradie ontwerp en is vir die Cradock-Noord NG Gemeente gebou, in 1971 – ʼn jaar wat min of meer in die middel van die 60s en die 70s ingewig sit. Die gebou is ook, anders as die NG Moedergemeente en die NG Gemeente Cradock-Oos se geboue, minder imposant. Om die waarheid te sê, die gebou se vertoon sit in die ontwerp, eerder as die grootte daarvan. Waar die Moedergemeente Engeland toe kyk en die Cradock-Oos-gebou Nederland toe (al is dit dalk skuins, oor die skouer), kyk hierdie een na die VSA toe – Frank Lloyd Wright om presies te wees. Die argitek is een van die meer interessante modernistiese ontwerpers van Afrikanerkerke.

Albertus Petrus Snyman Conradie is op 16 November 1925 gebore en is op 26 Desember 1999 oorlede, ʼn dag na Kersfees en ʼn paar dae voor die aanbreek van die nuwe millenium. Sy argitekpraktyk – Ateljee APS Conradie Argitektuur, in Durbanville – is in 1952 geregistreer en is eers op 25 Februarie 2000 formeel gesluit. Sy werk het onder my aandag gekom na ʼn gesprek met die argitek Jaco-Ben Roos, asook twee foto’s deur David Goldblatt van ʼn kerkgebou wat Conradie ontwerp het by Op-die-Berg in die Koue Bokkeveld. Goldblatt het vervolgens ʼn skriftelike onderhoud met hom gevoer, wat in Engels vertaal is en in die boek South Africa: The Structure of Things Then (The Monacelli Press, 1998) gepubliseer is. Goldblatt skyf só oor die kerkgebou by Op-die-Berg: “Of the many triumphant churches built in the 1960s perhaps none expressed the spirit of the times with greater conviction and clarity than Conradie’s Op-die-Berg. Dominant over the unyielding landscape, it celebrated the ascendancy of the volk and its faith.”

Op Goldblatt en Conradie se gesprek oor argitektuur, modernisme en nasionalisme wil ek nie nou weer ingaan nie; ek het voorheen ʼn blog daaroor geskryf en ʼn aangepaste weergawe word binnekort in die nuwe uitgawe van Pomp gepubliseer. Ek wil egter elemente van die Cradockkerk hier dokumenteer, aangesien ek nou al lank na nog voorbeelde van Conradie se werk op soek is. Dis heel toevallig dat ek daarop afgekom het, net ʼn straatblok van ʼn gastehuis in Cradock waar ek en Irma tuisgaan. Ek het die gebou dadelik, tot my vreugde, as ʼn Conradie herken.

Eers ʼn kykie na die vooraansig van Conradie se gebou by Op-die-Berg:

NG Kerk Op-die-Berg, 1966

NG Kerk Op-die-Berg, 1966

En hier is die een in Cradock:

Cradock Noord NG Kerk, 1971

Cradock Noord NG Kerk, 1971

ʼn Mens kan sien dat daar sterk ooreenkomste is – beide is pure Frank Lloyd Wright. Wat ek van Conradie bewonder is sy vermoë om deurgaans met dieselfde patrone te werk. Hy is besonder lief vir ruit- en driehoekpatrone. Hy skenk ook baie aandag aan detail. Sy belangstelling in houtwerk kom van sy pa af en dit word in sy geboue weerspieël. Let op hoe hy vorm gebruik in die voordeur, die voordeur se handvatsels, asook ʼn sydeur:

Cradock Noord NG Kerk, voordeur

Cradock Noord NG Kerk, voordeur

Cradock Noord NG Kerk, voordeur detail

Cradock Noord NG Kerk, voordeur detail

Cradock Noord NG Kerk, sydeur

Cradock Noord NG Kerk, sydeur

Hout word ook aan die buitekant gebruik in dele wat van reën beskut is:

Cradock Noord NG Kerk, vooraansig detail

Cradock Noord NG Kerk, vooraansig detail

Ek moes op my tone staan en my kamera teen vensters hou om ʼn idee van die kerk se binnekant te kry. Ek kon ongelukkig nie die koster of ʼn dominee opspoor nie – ek neem aan dis weens die vakansietyd. Op die web vind ek egter uit dat die kerk in 2010 ʼn nuwe orrel laat installeer het, so dit kan nie te sleg met die gemeente se finansies gaan nie. Die dominee is klaarblyklik self ʼn kranige orrelis. Ek hou van hoe Conradie die vorm aan die kerk se vooraansig binne in die gebou herhaal. Let op die detail bo die balkon, asook die kerkbanke se kante in die foto’s:

Cradock Noord NG Kerk, balkon

Cradock Noord NG Kerk, balkon

Cradock Noord NG Kerk, banke en orrelpype

Cradock Noord NG Kerk, banke en orrelpype

Cradock Noord NG Kerk, detail

Cradock Noord NG Kerk, preekstoel en orrelpype

Cradock Noord NG Kerk, balkon en plafon

Cradock Noord NG Kerk, balkon en plafon

Ek wil nou afsluit. Dis laat en môre vroeg ry ons Graaff-Reinet toe. Wat kan ʼn mens sê oor Cradock se kerkgeboue en die plek se traumatiese geskiedenis? Conradie se modernisme is gekoppel aan Afrikanernasionalisme. In die sestigs en sewentigs is vele ander kerke met soortgelyke lyne gebou, maar met baie minder elegansie, helaas. Die gebou blyk ook minder te wil bewys as die geboue uit 1866 en 1952. In 1971, toe dit gebou is, het min mense verwag dat die stelsel se bene sou knak. Toe, in 1973, breek stakings reg deur die land uit en in 1976 kom Soweto se jeug in opstand. Die trauma wat daarop gevolg het – o.a. die dood van die Cradock Vier – laat steeds letsels op hierdie landskap. Aan alle kante het mense in kerke aanbid, waarskynlik ook mense wat ander mense se lewens in die geweld geneem het.

Hoe sou die gebou lyk as ʼn NG Gemeente vandag ʼn nuwe gebou in Cradock moes oprig? Ek kan nie help om te wonder nie. Vir eers is daar steeds verskeie gemeentes – drie in die ou dorp en een in Michausdal. Ek weet nie of Lingelihle se NG Gemeente nog bestaan nie. Miskien moet ek vir eers maar net sê: “Here endeth.” Die laaste woorde aan Philip Larkin:

Or, after dark, will dubious women come
To make their children touch a particular stone;
Pick simples for a cancer; or on some
Advised night see walking a dead one?
Power of some sort will go on
In games, in riddles, seemingly at random;
But superstition, like belief, must die,
And what remains when disbelief has gone?
Grass, weedy pavement, brambles, buttress, sky,

A shape less recognisable each week,
A purpose more obscure. I wonder who
Will be the last, the very last, to seek
This place for what it was; one of the crew
That tap and jot and know what rood-lofts were?
Some ruin-bibber, randy for antique,
Or Christmas-addict, counting on a whiff
Of gown-and-bands and organ-pipes and myrrh?
Or will he be my representative,

Bored, uninformed, knowing the ghostly silt
Dispersed, yet tending to this cross of ground
Through suburb scrub because it held unspilt
So long and equably what since is found
Only in separation - marriage, and birth,
And death, and thoughts of these - for which was built
This special shell? For, though I’ve no idea
What this accoutred frowsty barn is worth,
It pleases me to stand in silence here;

A serious house on serious earth it is,
In whose blent air all our compulsions meet,
Are recognized, and robed as destinies.
And that much never can be obsolete,
Since someone will forever be surprising
A hunger in himself to be more serious,
And gravitating with it to this ground,
Which, he once heard, was proper to grow wise in,
If only that so many dead lie round.

Andries Bezuidenhout. Restourasie en verval in Greylingstad en Val

Monday, December 26th, 2011

Val Hotel, met skoene oor die telefoondraad

Val Hotel, met skoene oor die telefoondraad

In Val Hotel se kroeg is plakkate wat vertonings deur Gert Vlok Nel en Bacchus Nel adverteer. Daar is skilderye van Bob Dylan (nie deur Bob Dylan nie) en lirieke van Nick Cave teen die muur. Dis nie juis wat ʼn mens in ʼn hotelkroeg hier op die Hoëveldse platteland sal verwag nie. Rita en André Britz, die eienaars van die hotel, het egter die hotel (gebou in 1896) gerestoureer en sommer die ou poskantoor en stasiegebou ingerig as backpackers en selfsorgeenhede. As Rita en André nie die geleentheid raakgesien het nie, sou die geboue waarskynlik heeltemal verval het, soos soveel ander konstruksies wat deur die spoorweë laat staan is na kostebesnoeiing in die 1990s.

Val bestaan nie uit veel meer as die hotel, poskantoor en stasie nie. Alhoewel die treine elke halfuur hier verbyrammel – veral goederetreine tussen Johannesburg en Durban – is die stasie nie meer funksioneel nie. Die voetgangerbrug oor die spoor roes. Van die geboue se mure is gebreek, die vensters is stukkend. Daar is steeds ʼn polisiestasie met die straat af, asook ʼn paar huise, ʼn halfvervalle laerskool en graansuiers aan die ander kant van die spoor. Dis egter die Hoëveld op sy mooiste – massiewe ou bloekoms en populiere, mielielande. En dít skaars ʼn uur en ʼn bietjie se ry uit Johannesburg en Pretoria, op die pad tussen Heidelberg en Standerton.

Bloekoms, voetgangerbrug by die stasie

Bloekoms, voetgangerbrug by die stasie

Ou graansuier langs die treinspoor

Ou graansuier langs die treinspoor

Prinses en padda by Val se laerskool

Prinses en padda by Val se laerskool

Min mense weet dit, maar Val se mees beroemde inwoner was Gandhi, al was dit dan slegs tydelik. Hy is vir een nag hier in die tronk aangehou tydens sy kampanje van lydelike verset. ʼn Entjie buite die dorp is die winkel en petrolstasie van “Latib Janoo and Son”. Legende wil dit hê Mnr. Janoo se oumagrootjie gevra is om vir Gandhi te kook terwyl hy hier in aanhouding was.

 

Latib Janoo and Son - winkel en petrolstasie

Latib Janoo and Son - winkel en petrolstasie

Op Rita se aanbeveling gaan besoek ons Greylingstad se spookdorp. Ek was al voorheen in Greylingstad, maar was nie van hierdie spookdorp bewus nie. Voortrekkers het in 1842 in die gebied aangekom en begin boer. In 1877 is goud ontdek, maar die ontginning daarvan was onekonomies. In 1888 is ʼn poskantoor opgerig en met die voltooiing van die spoorlyn tussen die Witwatersrand en Durban in 1894 ʼn stasie. Die spoorlyn het egter 5 km noord van die dorp verbygeloop. Twee prominente boere, ʼn ene Greyling en ʼn ene Bezuidenhout, het gewedywer oor wie die stasie mog vernoem, asook op wie se plaas ʼn nuwe dorpsgebied – wat nader aan die stasie sou wees – uitgelê sou word. Beide was lede van die Volksraad in Heidelberg en die dispuut het so lelik geraak dat Paul Kruger persoonlik moes bemiddel. ʼn Tafel is onder ʼn boom opgeslaan en die twee here het hul saak gestel. Kruger – sekerlik beïnvloed deur die storie van Koning Salomo – het besleg dat die dorp aan die een kant van die rivier Greylingstad genoem sou word en aan die ander kant Willemsdal (Bezuidenhout se voornaam was Willem).

Met die koms van die stasie het mense stadigaan die ou dorp verlaat en na die nuwe deel getrek, een deel op Greyling se plaas en die ander op Bezuidenhout s’n. Die dorp is in 1914 amptelik tot Greylingstad gedoop, maar het tot en met die 1950s twee poskantore gehad, ʼn kilometer uit mekaar, wat die twee name gedra het.

Voor ʼn mens by Greylingstad se spookdorp uitkom, ry jy verby ʼn pragtige sandsteenkerk. Dis deur die argitekte Cowin en Powers ontwerp, na ʼn kompetisie wat deur Herbert Baker beoordeel is. Die hoeksteen is in 1913 deur Generaal C.F. Beyers gelê en bouwerk is die volgende jaar voltooi.

NG Kerk, Greylingstad - vooraansig

NG Kerk, Greylingstad - vooraansig

NG Kerk, Greylingstad - syaansig

NG Kerk, Greylingstad - syaansig

NG Kerk, Greylingstad - detail

NG Kerk, Greylingstad - detail

As jy ʼn entjie met die staat af ry, is daar ʼn nuwe kerk, in modernistiese styl. Agter die kerk verby is ʼn grondpad wat jou spookdorp toe vat. ʼn Mens moet ʼn plaashek oopmaak en dan ry jy verby beeste tot in ʼn kloof. In die kloof is die bouvalle van die oorspronklike dorp. Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Scottish Rifles hier kamp opgeslaan om die spoorlyn teen aanvalle deur die Boere te beskerm. Bo-op die berg is die grootste dele van hul kamp blykbaar nog ongeskonde.

Die eerste gebou wat ʼn mens sien is ʼn vervalle kerk, wat deur Gerhard Moerdyk ontwerp is. Dit het ʼn gewel bo die ingang en ʼn eenvoudige, maar elegante kloktoring. Die dak, deurrame en kosyne is weg. Binnekort sal daar bitter min van die gebou oor wees. 

Greylingstad spookdorp, Moerdykkerk

Greylingstad spookdorp, Moerdykkerk

Vooraansig

Vooraansig

Kloktoring

Kloktoring

Iemand het die hoeksteen verwyder

Iemand het die hoeksteen verwyder

Uitsig waar 'n venster was

Uitsig waar die venster was

As ʼn mens verder in die kloof opstap, is daar verskeie bouvalle van huise wat teen die hange gebou is. Dit moes eens ʼn pragtige dorp gewees het. Die uitsig oor die Hoëveld se vlaktes is lieflik. Hier en daar staan daar nog vye- en perskebome. Ek kom op ʼn perskeboom af wat dra.

 

Kliphuis bouval met vyeboom, Greylingstad se spookdorp

Kliphuis bouval met vyeboom, Greylingstad se spookdorp

Perskeboom by Greylingstad se spookdorp

Perskeboom by Greylingstad se spookdorp

Bouval teen koppie

Bouval teen koppie

Ek sukkel om betroubare inligting oor die spookdorp te bekom. Dit wil voorkom asof mense dit verlaat het om nader aan die spoorlyn en die stasie te wees. ʼn Ander weergawe is dat daar nie water is nie. Die Moerdykkerk is waarskynlik ná die sandsteengebou opgerig, te oordeel aan die geel sierstene in die fondament. Blykbaar is swart inwoners later hiervandaan na die township op die vlakte buite die dorp verskuif in die tye van apartheid se gedwonge verskuiwings. Die plek voel spookagtig hartseer.

Met die bou van die N4 nasionale pad in die 1960s, het die nuwe pad, soos die spoorlyn van weleer, ʼn paar kilometer buite die Greylingstad verbygery. Soos soveel ander klein dorpies, het dit die plaaslike ekonomie geknak. Eens winsgewende winkels – soos Melmans en Hendrik Morsner s’n, en koffiewinkels soos dié van Tina Fourie – se deure is gesluit. In 1990 het ʼn brand by die geboue van die plaaslike owerheid groot dele van die dorp se argief uitgewis.

Ons vertrek met die cliché van meer vrae as antwoorde. Hoekom is daar nie meer oor die dorp se geskiedenis beskikbaar nie? Hoekom is daar nie toegangsbeheer by die spookdorp en die historiese Skotse oorlogskamp nie? Hoeveel van die geskiedkundige artefakte hier is nie al deur mense weggedra nie? Hoekom gebruik Greylingstad se plaaslike owerhede nie die plek en die geskiedenis om toerisme aan te moedig nie? (As Rita Britz ons nie van die spookdorp vertel het nie, sou ons nooit daarvan uitgevind het nie.)

Of is die geskiedenis só donker dat Greylingstad eerder daarvan wil vergeet?

Greylingstad se spookdorp - uitsig

Greylingstad se spookdorp - uitsig

Erkenning:
Webwerf van Val Hotel, asook Nuusbrief Nr. 178 (Julie-Augustus 2010) van die Boksburg and East Rand Historical Association.

Andries Bezuidenhout. Vervalle kerkgebou iewers tussen Dewetsdorp en Smithfield

Friday, December 23rd, 2011

Dat ons dit hier moes aantref –
kerkgebou in sandsteen gefondament
teen hierdie bult, op ʼn stofpad iewers
tussen Dewetsdorp en Smithfield.
Toringhaan se stertvere wapper blikkerig suid,
snawel snak noord vir asem.
Van waar, Gehasi?
Net verbygery, Rabboenie,
hier afgekom op U bouvallige huis.

ʼn Enkele bloekom dans Pinksterhallelujas,
garingbome blom ʼn meer ingeto
ë

(dalk selfs Calvinistiese) groen.
Wie het lank gelede hier aanbid?
Katoliek of Anglikaan –
die Smiths van Smithfield?
Nederduits of andersins Gereformeerd –
die De Wette van Dewetsdorp?
Dalk sendingtakke van koloniale wortels?
Januarie, Februarie, Maart.
Of mense wat sing uit
Lifela tsa Sione.

Nou net ʼn toe deur en die wind.
Dat alles hier buite so wild ruk-en-pluk
maak die swye tussen mure soveel stiller,
die lemme van gebreekte vensters soveel skerper,
die roes van sinkplaat soveel meer
finaal.

Ek lig my hand om die klok te lui,
los dan die ketting.
Niemand meer hier
om met klank te loop haal nie.