Andries Bezuidenhout
Tuesday, May 15th, 2012
Amusante storie in die Guardian gister, oor ʼn hele span wiskundiges wat literêre invloed gekwantifiseer het in 7 733 literêre werke tussen 1550 en 1952. Volgens die Guardian beweer die wiskundiges: “The so-called ‘anxiety of influence’, whereby authors are understood in terms of their response to canonical precursors, is becoming an ‘anxiety of impotence’, in which the past exerts a diminishing stylistic influence on the present.” As moontlike verduideliking, skryf die navorsingsleier: “One hypothesis is that there is so much more to read now and more kinds of ‘important’ work that if we believe that style is influenced by what one reads, then it is less likely that people generally devote the preponderance of their reading to the older ‘classics’.”
Heerlike debat wat daarop volg in die kommentaar onderaan die storie.
Thursday, May 10th, 2012
Czesław Miłosz se gedig “My Faithful Mother Tongue” (“Moja wierna mowo” in Pools) is een van daardie gedigte wat ek elke nou en dan weer wil lees. In my kop gaan dit saam met Breyten Breytenbach se “Septembersee” – gedigte oor exile. Miłosz het hierdie een in 1968 in Berkeley geskryf, ʼn jaar voor ek gebore is. Hier is my tentatiewe poging om dit in Afrikaans te sê:
Troue moedertaal
nog altyd dien ek jou.
Saans het ek klein kommetjies kleur aan jou opgedien
sodat jy jou bloekom, jou kriek, jou vink kan geniet
soos in my geheue bewaar.
Dit het jare geduur.
Jy was my geboortegrond, geen ander had ek nodig nie.
Ook het ek geglo jy sou ʼn boodskapper wees
tussen my en ʼn gerf goeie mense
al was hulle min, twintig, tien
of nog nie gebore nie.
Nou bely ek vertwyfeling.
Soms voel dit of my lewe verspil is.
Want jy’s die taal van verwaandes,
van onredelikes wat hulself selfs meer
as ander volke haat,
ʼn taal van verklikkers,
ʼn taal van verwardes,
van hul eie onskuld naar.
Maar wie is ek sonder jou?
Slegs ʼn kenner in ʼn verre land,
ʼn sukses, sonder vrees of verkleinering.
Ja, wie’s ek sonder jou?
Net nog ʼn filosoof, soos al die ander.
Ek begryp, hierdie is ter stigting bedoel,
die roem van indiwidualiteit gestroop,
Voorspoed lê ʼn rooi tapyt
voor die sondaar in ʼn spel van moraliteit
met flikkerings van menslike en heilige marteling
as towerlanternskadu teen ʼn agtergrond van linne.
Troue moedertaal,
miskien is dit ten einde laas ek wat jou moet red.
Dus hou ek aan om kommetjies kleur te bedien
helder en suiwer, indien moontlik,
want waarna rampspoed vra is ʼn bietjie orde en skoonheid.
Wednesday, May 9th, 2012
Dis hier, op YouTube. ʼn Bietjie soos “Repos ailleurs”, net anders. Dalk baie anders. Die gedig se titel is “Nirvana”.
Bukowski se raad aan jong digters: “He should realize that if he writes something and it bores him it’s going to bore many other people also. There is nothing wrong with a poetry that is entertaining and easy to understand. Genius could be the ability to say a profound thing in a simple way. He should stay the hell out of writing classes and find out what’s happening around the corner. And bad luck for the young poet would be a rich father, an early marriage, an early success or the ability to do anything well.” ʼn Bietjie soos Rilke se raad, net anders. Sommer baie anders.
Dankie aan Plasticboer, wat die Waits-link gister op Facebook gesit het.
Tuesday, May 8th, 2012
Kan ʼn mens in een sinnetjie – met ʼn stuk kryt, teen ʼn muur – opsom wat jy nog wil doen voor jy sterf? Saterdagaand word ek in Foxstraat in Johannesburg deur ʼn muur gekonfronteer wat presies dít van ʼn mens verwag. Mense skryf dinge soos:
“Travel the world.”
“Be known.”
“Pay lobola.”
“Know what to write.”
Elke digter se dilemma. Ek haal my kamera uit en neem ʼn foto of twee – hou die lens nie stil genoeg nie en die foto’s lyk soos dit lyk as ʼn dronk persoon daarna sou kyk. Dalk ʼn akkurate beeld van die oomblik?
Vroeër die aand Johannesburg toe gery om na Matthew van der Want te kom luister. Van der Want is een van daai musikante wat vir ander musikante musiek maak. Hy het, op sy eie en saam met Chris Letcher, van die beste albums in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis opgeneem. Ek verwys nou na Low Riding (1998) en Bignity, (2002) beide saam met Letcher, asook Van der Want se solodebuut, Turn On You (1996).
Lank gelede het Van der Want oor ʼn ontmoeting met James Phillips (aan Afrikaanssprekendes dalk meer bekend as Bernoldus Niemand) gesing, oor die man wie se glas so leeg soos sy hart was:
I met a man with broken hands,
His glass as empty as his heart
He got talking about music
And I watched him fall apart
My hero
Who lost something on the road
Light has not followed him home.
As broken as his heart,
Life has not followed him home…
Phillips is op 31 Julie 1995 dood, ʼn paar dae na ʼn motorongeluk naby Grahamstad. Lloyd Ross ʼn dokumentêre film oor sy lewe gemaak. Die titel: “The man who was famous for not being famous.”
Die Suid-Afrikaanse musiekindustrie is ʼn ondankbare plek, veral as jy nie op die hoofstroom sit nie, nie jou seile na die mark se warrelwinde span nie:
Envy those whose days are filled
By playing with numbers and tapping on tills.
Those unbroken dancers,
Those with all the answers
Who never
Lost something on the road,
Who have someone to follow them home
Who never break down,
Who have someone to carry them home…
In om en by 2004 het Matthew van der Want besluit om sy musiekloopbaan vaarwel te roep en regte te gaan studeer. Deesdae praktiseer hy as advokaat (of dalk prokureur?). Chris Letcher is Engeland toe om te kyk of hy daar ʼn lewe uit musiek kan maak. Vir ʼn hele paar jaar is daar ʼn gat in Suid-Afrikaanse musiek – ʼn hol kol iewers in die krop. Vir my, altans.
Toe, verlede jaar, vra Oppikoppi vir Van der Want en Letcher om weer te kom speel. Van der Want skryf weer musiek en neem ʼn album op, wat hierdie jaar verskyn; Outstanding, ʼn donker plaat vol Faustiaanse kontrakte (as Matthew van der Want ʼn love song sing, klink so amper soos ʼn dreigement), maar ook ʼn mate van berusting. Hierdie naweek is Chris Letcher toe weer in die land en die twee tree by The Bioscope in Foxstraat op. Live musiek daar is baie lekkerder as in ʼn kroeg, want in ʼn teateropset moet mense stil sit en luister. Ek sluk aan ʼn bier van een of ander onafhanklike brouery uit Knysna en luister.
Later staan ek voor die muur. Wat wil ek nog doen voor ek doodgaan?
Baie.
Beslis nóg aande met musiek deur musikante wat verstaan waar mense soos ek vandaan kom en dit in liriek kan vasvat.

Tuesday, April 24th, 2012
1
Ek ry deesdae gereeld tussen Pretoria (of Tshwane) en Potchefstroom (of Tlokwe). Twee p’s vir twee t’s. ʼn Mens kan met die N1 suid ry en dan op die Kimberleypad klim, maar ek verkies ʼn roete wat effe langer neem – verby Carletonville en ʼn klein dorpie genaamd Welverdiend. By Welverdiend het pragtige rooibaksteen spoorweghuise en ʼn petrolstasie genaamd “Hi Way Motors” my eerste opgeval. Nou kan ek myself nie help om elke keer as ek daar verbyry met my kamera die plek in te boender nie.
Ek werk nou aan ʼn hele paar landskapskilderye van die omgewing. Ek het veral ʼn voorliefde vir bloekombome ontwikkel. Myne se skagtorings, mynhope, mielielande, bloekoms. Dis alles dinge wat ʼn landskap vir my mooi maak, my tuis laat voel.
2
Ek luister weer na Cowboy Junkies se “Trinity Sessions”. Dis ʼn opname in ʼn kerk. Margot Timmins sing met haar lieflike stem:
We are miners, hard rock miners
To the shaft house we must go
Oil bottles on our shoulders
We are marching to the slow
On the line boys, on the line boys
Drill your holes and stand in line
‘til the shift boss comes to tell you
You must drill her out on time
Can’t you feel the rock dust in your lungs?
It’ll cut down a miner when he is still young
Two years and the silicosis takes hold
and I feel like I’m dying from mining for gold
Yes, I feel like I’m dying from mining for gold.
Ek’s nie seker of hierdie liriek korrek is nie. Dis ʼn tradisionele lied. Dit laat my aan my oupagrootjie dink – Andries Jacobus Burger Rossouw. Hy’s op die ouderdom van dertig aan myntering dood.
3
Ek is deel van ʼn nuwe projek. Ons noem onsself die Vrye Radikales. Daar’s Drikus (of Brixton) Barnard op kitaar en stem en Marguerite Visser op klawerbord, kitaar en stem. Ek slaan ook kitaar en sing. Ons neem landskapskilderye deur ek en Marguerite saam, stal dit uit by plekke waar ons optree. Ons probeer om die musiek en skilderye met mekaar in gesprek laat tree, maar ek weet nie of dit altyd so suksesvol is nie. Dis veral lekker om by Nieu-Bethesda in die tennisklub se saal op te tree. Die mense daar kyk stip na die skilderye. Marguerite se pa wil weet hoekom ons die Vrye Radikales is. Dra ons dan nie klere nie?
4
Twee werke van Marguerite is deel van ʼn uitstalling by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn. Die uitstalling se titel is “Hangende tuine”. Marguerite se werke is van mynhope, met gruis en gras in klein botteltjies daarop gemonteer.
5
Op die Vrye Radikales se toer kom Hanné Koster saam om ʼn dokumentêre program te skiet. By plekke waar daar min mense opdaag is klubeienaars waarskynlik vriendeliker met ons as andersins, weens die kamera se teenwoordigheid. In Oudtshoorn gaan kyk ek saam met Hanné na ʼn uitstalling van Walter Meyer se landskapskilderye. Daar’s een van ʼn straattoneel in Prins Albert waarvan ek baie hou.
Soms wonder ek hoekom ek aanhou om musiek te maak en voor skraal gehore op te tree. Die Afrikaanse taalgemeenskap is te klein om die tipe musiek wat ek maak te regverdig. Hoekom sleep ek nog swaar luidsprekers en kitaarkiste rond?
maak die kis oop
haal jou snare uit
steek peule met jou stemvurk stukkend
skep, kou, sluk
g’n pêrels hier nie
g’n pêrels hier nie
6
“Hier’s net leë borde in die ondergrond,” sing Trike. Steak & Ale brand af. Ek gaan die gebou mis. Dis langs ʼn treinspoor, in Bothalaan. Koos du Plessis het destyds daar gesit, in die plek se voorganger. Naas Voëlvry se backdrop, deur Catharina Scheepers gemaak, was die skildery van James Philips agter Steak & Ale se verhoog seker een van mees klassieke backdrops in Suid-Afrikaanse musiek. Niemand weet wat van die Voëlvry-backdrop geword het nie. Steak & Ale s’n het afgebrand.
7
Ek wonder of my oupagrootjie ook soos ek oor myne se skagtorings gevoel het. Seker nie. Die tipe nostalgie waaraan ek ly is waarskynlik generasiegebonde.

Friday, April 13th, 2012
Ek het René Bohnen se blog oor herfs in Johannesburg baie geniet. In Pretoria is daar ook ʼn vars byt in die lug. Witstinkhoutbome teen die koppies se toppe word al geel. In die kar werk toe luister ek vanoggend na Bacchus Nel se “Herfsman”.
Die son sit wydsbeen oor my skouers vandag
en die wind waai my hare deurmekaar,
daar’s ʼn man met ʼn besem wat die herfs opvee
en die aarde draai en draai verward,
ja, die aarde draai ek is verward.
Dis Leonard Cohen wat in my kop rond dans
like a bird on a wire in a trance
net soos die man met ʼn besem wat die herfs opvee
en die aarde draai en draai verward,
ja, die aarde draai ek is verward.
Ek stig ʼn kommissie van ondersoek
na die welstand van my siel en van my gemoed
en die man met die besem wat die herfs opvee
en die aarde draai en draai verward,
ja, die aarde draai ek is verward.
Ek speel my kitaar by die toegeeteken,
hou jou geld dit is baie werd
net soos die man met die besem wat die herfs opvee
en die aarde draai en draai verward,
ja, die aarde draai ek is verward.
Begrafnisstoet kom verbygery.
“Die lewe is meer belangrik,” skreeu ek
vir die man met die besem wat die herfs opvee
en die aarde draai en draai verward,
ja, die aarde draai ek is verward.
ʼn Kragonderbreking wat dit alles onderbreek,
maar die stadsraad sê hulle weet van my probleem
van die man met die besem wat die herfs opvee
en die aarde draai en draai en draai en draai en draai,
ja, die aarde draai en draai en draai en draai en
stop, ek is verward.
Foto van Bacchus Nel deur Toast Coetzer.
Thursday, March 22nd, 2012
 NG Kerk, Dealesville
In sy bundel Soom (2012, Griffel) verwys Hennie van Coller so sylangs na Dealesville:
In die Vrystaat is water min, die fontein
lank reeds weg; ons lot word net deur die son
besleg en whisky word ook g’nnie verdunnie.
Van winde kry ons hier genoeg,
veral sirokko’s uit die verre weste
wat Dealesville bring en Petrusburg se reste…
Die dorpie Dealesville is omring deur soutpanne. G’n wonder dat dit stuk-stuk Bloem se kant toe waai nie. In die kerkgebou hang ʼn foto van die dorp soos dit in 1950 gelyk het. Die kerkgebou self is in die middel van die foto. ʼn Mens kan dele van die vliegtuig, waaruit die foto geneem is, se vlerk in die voorgrond sien. Ek verbeel my ek kan soutpanne in die agtergrond bespeur.
 Foto van die foto uit 1950
Die Nederduits Gereformeerde Kerkgebou se hoeksteen is in 1912 gelê. ʼn Plafon van staalpanele gee die gebou se binnekant ʼn besonderse atmosfeer.
 Staalplafon
Wat egter opval as ʼn mens om die gebou stap, is hoe ʼn daklose gedeelte van die kerkgebou nou deur ʼn funksionele sinkdak teen donderbuie (al is dit skaars) beskerm word.
 Dak oor dak
Op een plek is die nok se punt gebreek om die sinkdak se strak raamwerk te akkommodeer.
 Dak oor nok
Ek wonder oor hierdie sinkdakskuur wat die kerk se agterkant bedek. Is dit ʼn tydelike maatreël, tot die gemeente genoeg geld het om die oorspronklike dak te restoureer? Of is dit hoe die dak nou maar daar gaan uitsien?
Dan weer: Ten minste is daar ʼn dak oor die gebou, anders as soveel ander historiese kerkgeboue wat gemeenteloos in wind en reën verweer.
Monday, February 27th, 2012
Vreemde, maar onderhoudende artikel oor die pad wat Wallace Stevens werk toe gestap het in die New York Times hierdie week. Nou wonder ek of iemand al gaan kyk het hoe die pad tussen Van Wyk Louw se huis en die Universiteit van die Witwatersrand gelyk het. Hoe lyk dit met ʼn staproete? ʼn Mens sou selfs tot werkverskaffing kon bydra deur die indiensneming van gewapende wagte om die stappers op te pas.
Friday, February 17th, 2012
Esmé Evakwaad (van Trike en Plank) sit gisteraand ʼn skakel na Calexico se weergawe van The Guns of Brixton op Facebook. Ek tref dit vanoggend en luister twee keer daarna. As jy ʼn classic cover, moet jy dit op ʼn klassieke manier doen. Calexico verplaas dit van Londen na die grens van die VSA en Meksiko. Vreemd hoe goed gewere travel, ook in musiek.
You know it means no mercy
They caught him with a gun
No need for the Black Maria
Goodbye to the Brixton sun
You can crush us
You can bruise us
But you’ll have to answer to
Oh-the guns of Brixton
When they kick out your front door
How you gonna come?
With your hands on your head
Or on the trigger of your gun
Opgedra aan Thato Mokoka (16), wat Dinsdag in Bramfischerville doodgeskiet is.
Skildery:
“Garingboom afdraai”, olie op doek, 41 x 51 cm
Thursday, February 16th, 2012

Meestal moord en doodslag, korrupsie, stede wat in ondergrondse damme van sianied wegsink (“Die Groot Vrot”) en boekwinkels wat hul deure sluit. Hoe lekker is dit nie om vanoggend oor die heropening van Johannesburg se stadbiblioteek te lees nie. Dis in 2009 gesluit vir restourasie en opgradering, ʼn proses wat nou voltooi is.
Lees meer daaroor in die Mail & Guardian en die Daily Maverick. (Die foto hier bo kom van lg. se werf af.)
Monday, February 13th, 2012
Ry deur die Karoo en jy sou sweer garingbome (agave sisalana) en turksvye (opuntia tuna) is inheemse plante. Hulle pas net so mooi in woestynlandskappe en ʼn mens sou die Karoo kwalik sonder die twee plantspesies kon voorstel. Tog kom beide oorspronklik uit Meksiko en is na Suid-Afrika toe ingevoer om verskillende redes.
Daar is mense wat beweer turksvye as indringerspesie was ʼn ekologiese ramp, baie soos in Wes-Australië, waar ʼn kranige boervrou in 1839, heel onskuldig, steggies met vriendinne gedeel het en sodoende haar plek in die land se geskiedenisboeke verseker het – as oorsaak van die een van die land se grootste ekologiese katastrofes. Teen 1886 het die Australiese regering wetgewing aanvaar met die gedetermineerde titel van The Commonwealth Destruction of Pricly-pear Act. In 1924 is ʼn Prickly-pear Destruction Commission op die been gebring. In 1926 is ʼn tipe rusper ingevoer as biologiese agent teen die indringerplante.
In Suid-Afrika was daar soortgelyke drama rondom turksvye. Waar boere aanvanklik in hul noppies was met die soet vrugte, is die plant blitsvinnig as indringer beskou. Ek sien William Beinart en Luvuyo Wotshela het pas ʼn boek gepubliseer oor die geskiedenis van turksvye in die Oos-Kaap (Prickly Pear: The Social History of a Plant in the Eastern Cape, Wits University Press, 2012). ʼn Uittreksel uit bemarkingsmateriaal:
“Plants are not quite historical actors in their own right, but their properties and potential help to shape human history. Plants such as prickly pear tend to be invisible to those who do not use them, or at least on the peripheries of people’s consciousness. This book explains why they were not peripheral to many people in the Eastern Cape and why a wild and sometimes invasive cactus from Mexico, that found its way around the world over 200 years ago, remains important to African women in shacks and small towns… The central tension at the heart of this history concerns different and sometimes conflicting human views of prickly pear. Some accepted or enjoyed its presence; others wished to eradicate it. While commercial livestock farmers initially found the plant enormously valuable, they came to see it as a scourge in the early twentieth century as it invaded farms and commonages. But for impoverished rural and small town communities of the Eastern Cape it was a godsend. In some places it still provides a significant income for poor black families. Debates about prickly pear… have played out in unexpected ways over the last century and more. Some scientists, once eradicationists, now see varieties of spineless cactus as plants for the future, eminently suited to a world beset by climate change and global warming.”
Skildery:
“Turksvy naby Middelburg”, olie op gemonteerde doek, 35 x 24 cm
Thursday, February 9th, 2012
My blogs is seker ʼn bietjie soos ʼn plaat wat vassit, sit, sit, sit, sit. Helaas, daar is nog soveel wat ek oor kerkgeboue wil sê, so wees my platespeler tog genadig. Op die noot van vorige gesprekke met Leon Retief oor o.a. sekularisering, die volgende van Billy Collins, net om ʼn bietjie humor aan gewigtige sake te verleen:
Not only in church
and nightly by their bedsides
do young girls pray these days.
Wherever they go,
prayer is woven into their talk
like a bright tread of awe.
Even at the pedestrian mall
outbursts of praise
spring unbidden from their glossy lips.
Die gedig, uit Ballistics, se titel is “Oh, My God!”
Ook op ʼn ligter noot, ʼn gebou wat my laat glimlag het. Volgens Luckhoff se Nederduits Gereformeerde Kerkgebou se hoeksteen kom die gebou uit 1923, alhoewel die gemeente reeds is 1892 gestig is. Dis ʼn mooi gebou, van swart klip. Daar is egter twee dinge wat nie heeltemal so lekker op die nostalgiese pupil van ʼn amateurentoesias van Suid-Afrikaanse kerkargitektuur val nie.
 NG Kerkgebou, Luckhoff
Die eerste is die rooi teëldak. Waarskynlik is baie geld daaraan spandeer, maar dit lyk net ʼn bietjie té modern vir die gebou se ouer bene.
Die tweede is die kerktoring. Die gebou is aanvanklik met ʼn gewel aan die voorkant gebou en die toring is eers in 1858 bygevoeg. Soortgelyke klip is daarvoor gebruik, maar die lyne van die gewel van weleer skyn nog deur.
Die kerk se binnekant het my egter onvoorwaardelik bekoor. Die gewelmotief word in die preekstoel herhaal. Ek hou ook van kandelare vir die gloeilampe en die langsteelwaaiers wat aangebring is om die Vrystaatse somerhitte te temper. Langs die preekstoel staan ʼn ou traporrel.
 Preekstoel en traporrel
 Balkon, waaiers, lampe
In die konsistorie hang ʼn foto van voormalige leraars, ook Ds. E.G. Malherbe, wat die gemeente van 1895 tot 1903 gedien het. Moeilike jare hierdie, die jare van die Anglo-Boereoorlog.
 Foto van foto
Ek wens ek kon sien hoe die kerkgebou gelyk het voor die harvey tiles en die toring.
Friday, February 3rd, 2012
Die skildery hier bo is van ʼn straattoneel in Philipstown, ʼn dorpie in die Noord-Kaap. Dis moeilik om lig in landskapskilderye reg te kry. ʼn Mens moet die lug bo die landskap oortuigend laat praat met hoe skaduwees teen plante en mure val. Een manier om dit te doen, is om tonele in die vroegoggend of laatmiddag te kies – lang skaduwees en kolle lig wat teen mure val. Ek eksperimenteer egter op die oomblik met tonele in die bliksemse hitte van die middel van die dag – die son reg bo.
Dit was baie warm toe ons Philipstown in Desember besoek het. Die dorp is na Sir Philip Wodehouse, goewerneur van die Kaapkolonie van 1861 tot 1870, vernoem. Philipstown is ook I.D. du Plessis se geboortedorp. Elke dorp kan seker spog met een of ander digter of skrywer wat eens daar gewoon het. Nietemin, die dorp is in 1865 gestig as kerkdorp vir die Gereformeerde Kerk na afstigting van die Colesberggemeente. Dis dus een van daardie rare Suid-Afrikaanse kerkdorpe waar die Gereformeerde Kerkgebou in die middel van die dorp staan, en die Nederduits Gereformeerdes tevrede moet wees met ʼn straatblok iewers sylangs. In Philipstown is die Gereformeerde Kerkgebou ʼn pragtige, effe strak, sandsteengebou wat vandag nog in die middel van die dorp staan. Bouwerk aan die kerk is blykbaar in 1878 voltooi.
 Ou foto van Philipstown se Gereformeerde Kerkgebou
 Hoe dit vandag lyk
 Detail aan die agterkant
 Die heining
Die NG Kerkgebou is in 1893 op die ou skoolterrein opgerig, twintig jaar na die oorspronklike afstigting van die Colesberggemeente. Die boukomitee het gesorg dat die toring darem hoër is as die Dopperkerk in die middel van die dorp.
 Philipstown NG Kerkgebou, ou foto
 NG Kerkgebou vandag
Die onstaan van die nabygeleë dorp De Aar in die vroeë 1900s het beide Gereformeerde en NG gemeentes op Philipstown ʼn knou toegedien. In 2010 het die NG Gemeente slegs 162 lidmate gehad. Met ʼn rit deur die dorp word ʼn mens deur verskeie vervalle geboue gekonfronteer. Volgens koerantberigte het inwoners onlangs die dorp se stadsraad gedagvaar, omdat basiese dienste nie gelewer word nie.
 Philipstown, muur en venster
Skildery:
“Somersonnewende, Philipstown”, olie op gemonteerde doek, 24 x 35 cm
Thursday, February 2nd, 2012
Ter nagedagtenis aan Szymborska, die volgende vertaling uit die argief:
VERSLAG UIT DIE HOSPITAAL
(vertaling van Relacja ze szpitala deur Wisława Szymborska)
Ons het lootjies getrek, oor wie hom sou gaan sien.
Dit was ek. Ek het van ons tafel af opgestaan.
Dit was amper besoekerstyd.
Hy het nie my groet beantwoord nie.
Ek het sy hand probeer vat – hy’t dit teruggetrek
soos ʼn honger hond wat ʼn been beskerm.
Hy’t skaam gelyk oor doodgaan.
Ek weet nie wat jy vir iemand soos hy sê nie.
Ons het verby mekaar gekyk, soos in ʼn fotomontage.
Hy’t my nie gevra om te bly of loop nie.
Hy’t oor niemand aan ons tafel navraag gedoen nie.
Nie oor jou nie, Coetzee. Nie oor jou nie, Kotze. Nie oor jou nie, Coertze.
My kop het begin pyn. Wie gaan vir wie hier dood?
Ek’t die mediese wetenskap en drie viooltjies in die gras besing.
Ek het oor die son en donker gedagtes gesels.
Dankie tog vir die trappe om mee af te hardloop.
Dankie tog vir ʼn hek om oop te maak.
Dankie tog julle almal wag vir my by ons tafel.
Hospitaalreuke maak my siek.
|
|