Andries Bezuidenhout
Wednesday, November 30th, 2011

Dit neem ʼn paar aande se ure voor slaaptyd, maar ek is deur Umberto Eco se nuwe boek The Prague Cemetery. Dis natuurlik kontroversieel, omdat dit handel oor sameswerings en die onstaan van een van die wêreld se mees invloedryke vervalsings; een wat tot ʼn historiese tragedie gelei het – ʼn teks genaamd Protocols of the Elders of Zion. Die storie maak ʼn kragtige punt oor wat die gevolge van stories – stories as leuens, fiksie – kan wees. Ek onthou dat mense op skool oor hierdie geskrifte gepraat het, die sogenaamde “Illuminati”. ʼn Mens kry elke nou en dan studente wat hieroor wil praat en in groot dele van die VSA is daar gemeenskappe wat vas in die bestaan van sulke sameswerings glo. In tye waarin fascisme terugkeer is The Prague Cemetery ʼn belangrike boek, dink ek.
Daar’s ʼn insiggewende onderhoud met Eco in die Guardian. Stephen Moss, wat die onderhoud voer, kla oor hoe moeilik die boek in Engels lees. Dalk “sparkle” dit meer in Italiaans, sê hy. Vir Eco sal dit altyd moeilik bly om iets te skryf wat The Name of the Rose se skoene kan volstaan. Dit was natuurlik ook ʼn film. Hieroor sê Eco in die onderhoud: “A book like this is a club sandwich, with turkey, salami, tomato, cheese, lettuce. And the movie is obliged to choose only the lettuce or the cheese, eliminating everything else – the theological side, the political side. It’s a nice movie. I was told that a girl entered a bookstore and seeing the books said: ‘Oh, they have already made a book out of it.’”
Om mee af te sluit, twee aanhalings uit Eco se Baudolino, oor digters en leuens:
“In Paris you will study rhetoric and you will read the poets; rhetoric is the art of saying well that which may or may not be true, and it is the duty of poets to invent beautiful falsehoods.”
“Mind you, I am not asking you to bear witness to what you believe false, which would be a sin, but to testify falsely to what you believe true—which is a virtuous act because it compensates for the lack of proof of something that certainly exists or happened.”
NS. Die New York Times se resensie het al ‘n rukkie gelede verskyn, asook ‘n effe histeriese een in Sondag se Observer. Hier’s nog ‘n onderhoud in die Paris Review.
Tuesday, November 29th, 2011

Slaap Pikaninie ons vee’s in die kraal
Almal ons skapies en bokkies
Môre vroeg kry jy van soetpap ʼn maal
En ʼn paar spierwitte sokkies
Doedoe doedoe

Slaap Pikaninie die ou bobbejaan
Ken mos vir jou vantevore
As jy nie slaap kan jy seker wees man
Byt hy jou neus af en ore
Doedoe doedoe

Kruip nou maar diep in jou velkombers in
Mammie bak lekker vars tertjies
As jy nie slaap kry Ou Mombak sy sin
Slaat Pikanien op sy stertjies
Doedoe doedoe

Siembamba – mamma se kindjie
Siembamba – mamma se kindjie
Draai sy nek om gooi hom in die sloot
Trap op sy kop dan is hy dood

Erkenning:
Pikaninie-wiegelied deur Walter Spiethof
Monday, November 21st, 2011

Daar’s iets te sê vir myndorpe. Ek hou veral van Carletonville. Ek sing altyd André Letoit, nou bekend as Koos Kombuis, se “Swart Transvaal” as ek deur die dorp ry: “Ideale val soos Carletonville. Ondergronds is God die hel in vir die Boerenasie, wat bid soos Fariseërs, maar nooit kan ophou raas nie…” Daar word ook verwys na die “kil torings van klein dorpies”. Ek neem aan die “ideale wat val” verwys na die sinkgate by Carletonville, wat in die 1980s in die nuus was. “Swart Transvaal” kom oorspronklik van die kasset Ver van die ou Kalahari af, wat in die laat-1980s deur Shifty Records versprei is. Ek het dit in 1990 by Grahamstad se kunsfees gekoop, maar het reeds ʼn kopie daarvan gehad – “afgetape” van ʼn vriendin in Walvisbaai se broer s’n. Hy’t op Stellenbosch geswot en dit daar in die hande gekry. Die verkope deur Shifty Records was nie baie goed nie, want blykbaar het Letoit reeds self vir al sy vriende kopieë gemaak. Toe ek my wettige Shifty-weergawe koop, kon ek reeds die meeste van die songs op my kitaar speel.
Terug by Carletonville. Die wêreld se diepste goudmynskag – by die voormalige Western Deep Levels, nou bekend as Tautona – is naby Carletonville. In die laat 1990s het ek die dorp leer ken toe ek vir die National Union of Mineworkers (NUM) begin navorsing doen. Ek het meeste van die myne, veral hostelle, besoek om onderhoude met vakbondlede te voer – Blyvooruitzicht, Elandsrand, Wes-Driefontein, Oos-Driefontein, Kloof, ens. Sulke mooi name – klowe, rante, fonteine, alles met ʼn uitsig. Baie van die hostelle van daardie myne is egter uitsiglose plekke. Kontrakwerkers is byvoorbeeld van die laat-1990s af in Blyvooruitzicht se hostelle gehuisves.
My plan is om in die volgende paar maande aan ʼn reeks skilderye van myndorpe te werk. Ek het die een hier bo hierdie naweek voltooi. Dis van ʼn brug by Carletonville, reg oorkant die NUM se streekskantoor. Die pad laat my aan Johannes Kerkorrel se “Ry” dink, dalk ook sy “Ballade van ʼn mynwerker”. Ek het op die web gaan rondkrap en die volgende is die naaste aan ʼn transkripsie van die liriek wat ek kon opspoor. Ek het hier en daar ooglopende foute reggemaak:
Ek kom van Vryheid in Natal
Ek werk hier in die myn
Die droogte het ons plaas gebreek
Ek kon nie langer bly
Ek leer hier vir my ambag
Miskien gaan ek eendag weer boer
Tel die ure, doen oortyd
En die vakbond sal mos na my kyk
Ek werk in skofte dag na dag
Maar eenkeer ’n maand breek ek weg
Dis Vrydagaand en die naweek lê voor
Net ’n sak vol kontant en ek’s reg
My klere is koel, kam my hare perfek
Lyk skerp soos ’n skeermeslem
As ek buite toe stap is die heilige nag
Vol beloftes om later te ken
En kyk daar eenkant onder die boom
Chroom blink gevaarlik sag
Vuurperde-krag, bloedrooi geverf
Masjien in ’n cowboy se droom
En onder daai staal klop ’n hart van goud
’n Enjin wat net een verstaan
Sestienklep oopmaak en al wat sy vra:
Asseblief vat my ver hiervandaan
En buite die dorp loop die grootpad verby
Ons gaan ons wiele laat sing op die teer
Radio hard en die venters wyd oop
Gaan ons soek na die hart van die stad
En iewers in die nag
Staan ʼn neon-engel vir seker en wag.
Spreek ’n seënbede uit oor elke dief van die nag
En veterane van oorlog stroom in
Veterane van oorlog stap weg
Veterane van oorlog wonder waarheen, waarheen…
Jy eindig op met ’n vuur in die hart
Die onrustigheid diep binnekant
Jy leef en jy leer om alles te gee
Vir die kans om net eenkeer te leef
Die kans om net eenkeer te leef
Dit kom van die album Bloudruk af. Didi Kriel se verwerking van die lied is baie 1980s – snaartrom met ʼn groot eggo op, kitaarsolo en al. Ek hou daarvan, op dieselfde verleë manier wat ek steeds van Alphaville hou. Tog vat die liriek iets van die spanning tussen die name van plekke soos Blyvooruitzicht en die werklike uitsigloosheid van Suid-Afrika se myndorpe vas. Ek hoop die skildery kry dit ook reg.
 Carletonville se brug: detail
Friday, November 18th, 2011

Een van die vreemdste… uhm… gesigte wat ek nog iewers uitgesnuffel het. ʼn Klomp neuse, gemonteer en geraam in ʼn museum in Denemarke. Vele standbeelde uit antieke Griekeland en Italië is in die 1800s en 1900s sonder neuse gevind. Handelaars het dan vals (meestal van marmer of gips) neusprosteses aangesit om die waarde van die standbeelde te verhoog, voor dit aan Europa se bourgeoisie (en soms regerings) verkoop is. Later het die soeke na die outentieke hierdie neuse oorbodig gemaak en is hulle van die standbeelde verwyder.
Wel, so aan die einde van die week, sowel as ʼn traumatiese jaar, ʼn mens kan seker nie die kans laat verbyglip om te hoop dat dit nie ook neusie verby is met die moderne Griekeland en Italië se ekonomieë nie. Dit lyk egter of die burgers van hierdie twee lande hulle neuse optrek vir bankiers se planne om uit die moeilikheid te bly. Landsburgers mag immers nie aan die neus rondgelei word nie. Ek hoop maar daar word oplossings gevind. Nie dat ek my neus in hulle sake wil steek nie, maar globalisering kry die hele wêreld mos verkoue as Europa of Amerika nies.
Tuesday, November 15th, 2011
Aurora lê in die Sandveld, aan die see se kant van Piketberg. Dis naby die sendingstasies van Goedverwacht en Wittewater. Vir ʼn tyd lank was die dorp wêreldberoemd. Dalk moet mens die stelling kwalifiseer. Die dorp was wêreldberoemd in sterrekundekringe. ʼn Sekere Abbé Nicolas Louis de Lacaille was in 1751 daar werksaam en het op grond van trigonometriese opmetings beweer die aarde is peervormig, ʼn stelling wat ʼn hele aantal wetenskaplikes vir ʼn paar dekades besig gehou het met pogings om te bewys hy was verkeerd. De Lacaille het blykbaar die afstand tussen Aurora en Kaapstad drie keer per voet afgelê. Sy noordelike baken was naby waar Aurora vandag is (toe nog slegs ʼn plaas genaamd Klipfontein), die westelike een op Kasteelberg en die suidelike baken op die hoek van Strand- en Adderleystraat in Kaapstad. In 1838 het Thomas Maclear die saak finaal besleg. Hy het De Lacaille se opmetings tussen Kaapstad en Aurora (steeds toe nog nie Aurora nie) herhaal en bevind dat die Fransman nie die impak van die berge se aantrekkingskrag in sy berekenings in ag geneem het nie. Die aarde was dus wel rond.
Nietemin, ten spyte van Aurora se die sterrekundige roem, of dalk eerder dan berugtheid, kom die dorp se naam nie daarvandaan nie, maar van die dogter van die Nederduits-Gereformeerde Kerk se eerste leraar – ʼn ene Ceylonia Aurora Ferreira. Dis nou die dogter. Haar vader was na bewering ʼn krygsgevangene op Ceylon tydens die Anglo-Boereoorlog. Die gemeente is in 1906 gestig, deur afvalliges van die Piketberggemeente, alhoewel daar blykbaar reeds sedert 1866 ʼn kerk was – op die plaas Rietvlei. Die huidige kerkgebou se hoeksteen kom uit 1908. Dis ʼn gebou met vreemde proporsies – erg vroeg-1900s. Nie peervormig óf rond nie.
 Aurora Kerk - vooraansig
 Vooraansig van nader
 Toring, detail
 Die hoeksteen
 Deur, detail
Tuesday, November 15th, 2011

Muizenberg se naam kom van ʼn amptenaar van die VOC, ʼn ene Sersant Muys, wat die tolhuis daar beman het. Dit was eers “Muys Zijn Bergh”, later “Muysenbergh”. Boere wat hul produkte aan skepe in Simonstad se hawe wou gaan verkwansel moes hier tolgeld betaal. Die tolhuis – Het Posthuis – is steeds daar, een van Suid Afrika se oudste geboue. Dit was al ʼn hotel en ʼn bordeel ook, maar is in die 1980s as nasionale monument gerestoureer. Cecil John Rhodes is in 1902 in Muizenberg oorlede, in ʼn huis wat ook steeds staan. Een van William Kentridge se mooiste animasiefilms, Tide Table, speel in Muizenberg af. Soho Eckstein sit op die strand. ʼn Mens kan die kleurvolle strandverkleehokkies in die video sien, maar sonder die kleur. Ek hou van die art deco-hotel in die video.
Muizenberg is een van daardie voorstede wat Suid-Afrika se ritmes versinnebeeld. Die geboue daar verval, word dan gerestoureer. Verval, restourasie, verval, restourasie. Dis ver van Johannesburg, Kentridge se gebruiklike onderwerp, maar het nogtans so ʼn bietjie van ʼn myndorpgevoel. ʼn Land met myne dans maar op daardie “boom-bust-boom-bust” ritme. Jy sien dit orals in Suid-Afrika se argitektuur. Fanatiese bouwerk, dan staan alles weer stil.
Ek werk al vir ʼn paar weke aan die skildery hier bo. Dis ʼn gebou in Muizenberg, maar nie een van die bekendes nie. Ek weet nie of dit klaar is nie. Olieverf neem tagtig jaar om droog te word. Dalk werk ek later verder daaraan. Ek dink vir eers is die titel: “Muizenberg, Renovators Dream”.
Thursday, November 10th, 2011
Hier is ʼn vertaling van “Down”, ʼn gedig deur Margaret Atwood. Moeilike een. Sy gebruik eindrym, baie subtiel. Dalk is my poging se eindrym ʼn bietjie oordadig. Woordspelings raak ook verlore met vertaling. Ek probeer so naby as moontlik aan die oorspronklike weergawe hou, maar het liberties gevat ter wille van rym en metrum. Erkenning aan Ingrid Winterbach se laaste boek vir woorde.
1
Hulle was verkeerd oor die son.
Snags daal dit nie neer
benederyk toe nie.
Die son verkas net
en die benederyk meld aan.
Dit kan enige tyd gebeur.
Dit kan in die oggend wees,
jy in die kombuis begaan
met jou middelbare roetine.
Bord, koppie, mes.
Eensklaps g’n blou nie, g’n groen nie,
g’n waarskuwing nie.
2
Ou draad, ou inkstreep
wat die leegte
wat ons “ruimte” noem in wink
waarheen wat jy my dié keer sleep?
Verby stoof, verby tafel
verby die horisontale greep
van die vloer, verby die kelder,
verby die vertroude,
af, die duisternis in
waar jy omdraai en blink.
3
Eers dink jy dis engele,
hierdie albino stemme, hierdie stemme
soos ongeverfde standbeeldoë,
hierdie stom stemme soos handskoene
sonder hande in,
hierdie mot stemme wat verbysterd
om jou ore fladder,
hulself hoorbaar probeer maak.
Wat wil hulle hê?
Jy maak ʼn kepie in jou vel,
klein gaatjie
vir die pyn om in te kom bly.
Jy laat drie druppels bloed vry.
4
Hierdie is
die koninkryk van die ongesproke
die koninkryk van die sprakelose:
almal deur oorlog verpletter
almal wat aan hongersnood ly
almal dood gemoker
en in putte begrawe, almal aan flarde gesny
vir gewin of geld
almal wat gegrendel
in kamers snotter, al die geofferde
kinders, al die afgemaaide bruide
die selfmoordenaarshuide.
Hulle sê:
Praat vir ons (met wie)
Party sê: Wreek ons (op wie)
Party sê: Neem ons plek.
Party sê: Getuig.
Ander sê (en hierdie is vroue):
Wees vir ons bly.
5
Daar’s trappe,
daar’s die son.
Daar’s die kombuis,
bord met aarbeikonfyt en ʼn sny,
jou pap verskoning,
jou lam lugspieëling.
Bloedige hande, op heterdaad betrap.
Met grond, klip en gras
wil jy dit afwas.
Hoe moet jy uiteindelik
oor sóveel verlies verduidelik?
Oorspronklike gedig:
“Down”, deur Margaret Atwood, uit Morning in the Burned House (Houghton Mifflin, 1995), pp. 72-75.
Monday, November 7th, 2011

Plath was natuurlik een van vele digters wat ook ʼn beeldende kunstenaar was. Nou word ʼn hele reeks van haar sketse in Londen uitgestal en te koop aangebied. Blykbaar het die meeste van hulle al ronde, rooi plakkers op. Sam Leith het ʼn heel positiewe resensie van die uitstalling in die Guardian geskryf. Maar oudergewoonte is daar teenstemme as kommentaar op die resensie. Een leser beweer: “If Sylvia Plath’s name wasn’t attached to these drawings, we would give them a second look. Simply as. They are rather conservative and amateurish, the sort of fare you’d expect from a hobby artist.” Iemand anders beweer Hitler se waterverfskilderye was beter.
Wens ek kon more Londen toe vlieg om vir myself te gaan besluit.
Wednesday, November 2nd, 2011

Fourie Botha se digbundel Donkerkamer is hierdie week in die nuus in Namibië – in die dagblad The Namibian – oor foto’s deur John Liebenberg uit die koerant se argief wat deur die digter gebruik is in twee van sy gedigte. Lees die storie hier.
Tuesday, November 1st, 2011

Augustus 1938, Robert Johnson swaai
daai laaste glas in Greenwood, Mississippi
lippe toe om Belial uit sy keel te gorrel.

Nuwejaar 1953, op die agtersitplek haal
ʼn laaste naald Hank Williams in, op die pad
tussen Knoxville, Tennessee en Canton, Ohio.

Het blitse wolke tóé gekarring,
sodat dit lyk asof die pad van Maputo na Pretoria
vir ʼn oogwink wonder waar wes is?

Seker nie. Tog vreemd waaroor weerlig
jou laat wonder, the leaves tremblin’ on the tree,
how’s about cookin’ somethin’ up with me?
Monday, October 31st, 2011

Vat nou die dag die metrotrein van Pretoria se Herbert Baker stasiegebou af Johannesburg toe om na ʼn rock konsert by Soccer City te gaan kyk. Sien langs die pad dele van Johannesburg wat jy nooit van die pad af sien nie, soos byvoorbeeld Belgravia, waar my oupa in ʼn mynhuis gebore is, nie ver van die treinspoor af nie. Baie van die huise is vervalle en die agterplase staan vol sinkplaat shacks. Ry verby ʼn stasie, waar ou treinwaens geparkeer staan om te roes. Mynhope. Die ou munisipale mark – nou net massiewe ʼn afdak. Verstomde gesigte van Alrode en Wadeville se werkers op Germinton se perronne – soveel wit gesigte in ʼn metrotrein!
Kom in Johannesburg aan. 70 000 mense in ʼn stadion – en dit vir musiek, nogal. Indrukwekkend. Die Suid-Afrikaanse support act is vir my effe beter as die hoofvertoning, al is die vuurwerke met laasgenoemde nogal iets om te aanskou. Dit voel soms bietjie soos die dienste van Amerikaanse televangeliste. Almal glo, hoekom nie ook jý nie?
Klim na die vertoning weer op die trein. Dis nou donker buite. In van die shacks brand kerse, paraffienlampe, soms elektriese lig. Ek dink aan die vuurwerke. Ek het nog altyd gewonder oor die “ligtende trein” in daai gedig van Totius:
In die eensame veld
staan ‘n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring
skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie,
deur die oop gordyn,
‘n tafel met bordjies
en glasies fyn,
wat sag in die lig
van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net
in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”
Naas die eensame tent
staan ‘n meisie klein,
in stomme bewond’ring
van die ligtende trein;
sy sien my geniet
my glansende wyn
en kost’like maal
by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte
van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net
in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.
Ek maak ʼn skildery klaar (in die foto heel bo) waarmee ek nou al vir ʼn tyd lank worstel. Dis van ʼn metrostasie se uitgang in Kopenhagen – by Nørreport. Die naam verwys na die noordelike hek van die ou stad. Groot doek. Moeilike onderwerp, omdat dit met lig en skaduwee werk. Lig is die moeilikste om met verf te meng. Suiwer wit is nie die beste kleur vir lig nie. En donker werk ook nie die beste met swart nie. Jy moet jou witte en jou swarte effe vervuil, uitdun, mee peuter. Dis die kontras wat dit laat uitwerk.
Wednesday, October 26th, 2011

Die skildery hier bo, getiteld “Poets Day”, is deur die Britse skilder George Shaw. Ek is nie heeltemal seker hoe om sin daarvan te maak nie, alhoewel ek op ʼn instinktiewe vlak baie daarvan hou. Shaw is in die nuus omdat hy op die kortlys vir die Turner-prys is – ʼn onwaarskynlike aanspraakmaker, omdat sy werk amper fotorealisties is. Die Turner-prys word gewoonlik aan kunstenaars toegeken wat meer konseptueel werk. Shaw gebruik Humbrol-verf vir sy skilderye – die tipe kleure wat gebruik word om modelvliegtuigies te verf – wat die eindprodukte ʼn vreemde, blink tekstuur gee.
Tog is die gesprekke wat Shaw se posisie op die kortlys in die media ontketen het nogal interessant. Daar word kommentaar gelewer op die feit dat hy meestal council estates uit die 1970s verf, veral tonele uit Coventry, waar hy grootgeword het. Philip Larkin kom ook van Coventry, soos Tim Adams in die Observer noem: “Philip Larkin, another Coventry exile – Shaw now lives in north Devon – would have loved these paintings, but they are made with love as much as any kind of bitterness. They are also a hard act to follow.”
Die volgende deur Charles Darwent in die Independent: “I’d love it if George Shaw won, though I doubt he will. The trouble here is that Shaw’s paintings are the opposite of attention-grabbing, being, on the face of it, archaically skilful. They are landscapes and cityscapes, although, being modern, they are not picturesque. Very much not: the scenes Shaw depicts are of a grungy 1950s housing estate in Coventry, the setting of his own childhood… That is nothing new, either: the bringing of high-art techniques to low-art subjects is a favourite Postmodern game. That Shaw paints in Humbrol colours – the ones used for model aeroplanes – might also be put down to a bit of conceptual playing around, ironic nostalgia. Except that the result doesn’t feel like that: it feels both new and – shock! – sincere. The sheen of Shaw’s paint glazes his surface, so that we are actually looking at the deadening places he paints; a déja vu we didn’t want to see, even once.”
En Jonathan Jones se blog op die Guardian se werf, met ʼn verwysing na die skildery hier bo: “Shorn of people, it is the scenography of everyday life that achieves poetry in these paintings. A wall spattered with red – paint or blood? – is called Poets Day. In another painting we see a dilapidated public library. If Shaw looks back to a Britain of the 1970s and 1980s, his morbid nostalgia now has a more political edge, in spite of his introspective intentions. It might be argued that Britain is about to take in reality the same journey he takes in imagination, back to neglect… In the end, it is a poignant eye for images of eerie emptiness that makes Shaw special.”
Hier onder is nog ʼn paar foto’s van Shaw se skilderye.




Tuesday, October 25th, 2011
Ek het hierdie skildery gisteraand voltooi. ʼn Toneel by Welverdiend, net buite Carletonville, op die pad Potchefstroom toe. Ek is daar verby met Aardklop vroeër hierdie maand. Die skildery se titel is “Hi Way Motors”. Dis ook die titel van die gedig wat daarmee saamgaan.

Ek móés net hier stilhou
al kan jy nie meer diesel koop nie –
pompe seker skroot, saam met foondrade, kragdrade
in suur gedoop, toe opgesmelt en herverbruik.
Sinkplaat op stelte kamp nog skadu af
al skakel niemand meer hier enjin af nie:
“Tien rand, asseblief.” Lood standaard.
Iewers ondergronds dalk leë tenks,
koud soos die murg van uitgemynde skagte.
Parkeer, klim uit. Kamera gereed.
Oë op skrefies, son op teer en sement
suggereer nog die woord “Wes-Transvaal”,
soos daai ou gedig van Eybers.
Iewers op die agterpad tussen Carletonville en Potchefstroom
móés ek vir ʼn oomblik stilhou –
die afdak, die afdop, die afgeskilferde naam
wat steeds vol hoop in verf geskryf staan:
Hi Way Motors.
Monday, October 24th, 2011
Goeie naweek. Tyd vir lees en tyd om na musiek te luister – Gil Hockman se nuwe CD Too early in the journey. Die lees het ook oor musiek gegaan – Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers se nuwe biografie van David Kramer.

Gil is ʼn stigterslid van The Buckfever Undergound, saam met Toast Coetzer. In Buckfever speel hy gewoonlik baskitaar. Nou het hy ʼn solo-CD uitgereik, met ʼn hele paar van sy eie komposisies, maar ook pragtige covers van ander mense se musiek, insluitende ʼn mooi weergawe van Johannes Kerkorrel se “Gee jou hart vir Hillbrow”, James Philips se “Shot down”, en die Handsome Family se “So much wine”. Die album is lo-fi opgeneem, meestal net stem en kitaar. Gaan luister gerus na ʼn paar van die tracks of Gil se Facebook-blad.

Die biografie van David Kramer het ek werklik geniet. Ek hoop dis die eerste in ʼn lang rits boeke oor Suid-Afrikaanse musikante wat deur letterkundiges geskryf word; beide Slabbert en De Villiers werk by die Universiteit van Stellenbosch se Engels-departement. Die boek is oorspronklik in Engels geskryf, maar ek is beïndruk met die Afrikaanse vertaling daarvan. Ek hoop dit word wyd gelees, omdat die boek onder die vel van een van ons beste en mees enigmatiese kunstenaars inklim. Ek hou van hoe Kramer se liriek ernstig opgeneem word en in historiese konteks deur die skrywers herlees en uitgelê word.
In kommentaar op ʼn onlangse artikel oor ʼn geleentheid waaraan ek deelgeneem het, skryf Johann de Lange die volgende: “Die ‘rocksterre’ moet nou nie laf wees & lirieke met gedigte verwar nie. Weinig van lirieke plaaslik haal die paal as gedigte. Lirieke is iets heel anders & uniek, maar gedigte is hulle nie sonder meer nie.” David Kramer is dit met hom eens. In ʼn onderhoud op LitNet sê hy die volgende:
“A lyric is not a poem and needs to conform to a structure and specific form. A poem often needs to be read again and again for its intention to be revealed, but a lyric has to be sung and understood on first hearing. In some ways it’s like that competition where you have to write a story with only seventeen words. It needs to be concise, much like a haiku. Another analogy would be miniature painting as opposed to broad strokes on a large canvas… Lyric writing is a process of distillation. Beginners tend to be too verbose or imprecise in their first attempts. A good lyric uses simple, singable words to convey big and strong ideas sometimes… A successful song needs to have a good idea. It needs to be fresh and personal but embody something that an audience can recognize or identify with… The way the lyric scans and its marriage to the melody are vital. A weak lyric will sink a good melody. A strong lyric will survive a weak melody, but it will soon be forgotten… The title and the melodic hook are vital and need to be placed properly. There is a craft to lyric writing, but that craft needs to be applied to an inspired idea. Without a fresh idea or twist to an old subject (like love) lyrics are prone to be clichés – a list of greeting card emotions. Sensitivity to your surroundings and your own emotional landscape is often a trigger for inspired ideas… You need to listen to great songwriters whose work has become evergreen. Read poetry and sharpen your powers of observation; be critical of your own work and rewrite.”
Tog wil ek myself verstout, ten spyte van wat Johann de Lange en David Kramer self sê, om te beweer dat van David Kramer se lirieke ook volwaardige gedigte is. Dis deels hoekom letterkundiges genoop voel om oor sy lewe en sy werk te skryf, dink ek. Oor die aanhalingstekens by “rocksterre” is ek De Lange dit eens – Suid-Afrika is te klein om van rocksterre sonder ʼn goeie riff of lick ironie te praat. Tog het ons ʼn veelsydige argief om te ontgin – soos Gil Hockman se afstof van James Phillips se “Shot down”. Dis voorwaar ʼn classic. Dalk nie ʼn gedig nie, maar as jy ʼn rock song só lo-fi kan doen, sonder verwerkings om agter weg te kruip, ís dit ʼn classic.
|
|