Bernard Odendaal
Tuesday, March 9th, 2010
Die Valentynsmaand is al verby, maar ek vertel eers nog van ’n ander gedig in die leerplan vir die module oor “Die liefdesgedig as tydsdokument” wat ek in die negentien-negentigerjare vir eerstejaars aangebied het.
Tussen hakies: Een van die Februarie-uitgawes van Sarie daardie tyd, toe dié vrouetydskrif nog onder die redakteurskap van wyle I.L. de Villiers gestaan het, het ’n fokus gedra op Valentynsdag. De Villiers vertel toe wat die herkoms is van die gebruik om 14 Februarie as “liefdesdag” te vier. Miskien ken julle die uitleg reeds, maar ek haal dit tog hier aan:
Waarskynlik uit Antieke Rome, waar die jong manne teen die middel van Februarie die name van jong meisies uit ’n sogenaamde “liefdeskruik” getrek en dan vir hulle klein liefdesgeskenkies gestuur het. Die ou Christelike kerkvaders wou dit as ’n liefdesfees kersten en het dit na die martelaar Sint Valentyn genoem. Hy is op dié dag onthoof, en volgens ’n legende het twee duifies hartroerend by die toneel gekoer en by mekaar vertroosting gesoek.
Die stuur van Valentynskaartjies was glo ook die voorloper van al die groetekaartjies wat vandag by bykans elke geleentheid uitgestuur word.
Die gedig waaroor ek dit hier wil hê, is Stephan Bouwer se “jy slaap nou”, uit sy bundel Portrette, private dele & kanttekeninge (1980). Saam met “Genoeg om te leven” van Hans Andreus, waaroor ek die vorige keer geskryf het, en Breyten Breytenbach se “nagmaal” (uit: die ysterkoei moet sweet, 1964) was dit een van ’n drietal “bed-waak”-liefdesverse wat afwisselend in verskillende jare ter sprake gebring is.
1 jy slaap nou
2 eenkant en privaat
3 jou mooi kop ’n kluis vol geheime
4 my vinger volg die loodlyn van jou rug
5 die roete tussen blad en boud
6 jou vel tril soos ’n kat s’n
7 jy strek jou en onthul ’n oomblik lank
8 die bolwerk van skouers en borskruis
9 jy spin onderlangs
10 jy slaap
11 eenkant en privaat
12 jou mooi kop ’n kluis vol geheime
13 ek wag op ’n neutrale oomblik
14 om jou só in my hart te bêre
15 maar angs beklem my
16 ek plaas my kop versigtig op die kussing neer
17 om – voor die aantog van die deurnagblues –
18 my asemhaling met joue te sinchroniseer[.]
Soos Breyten se “nagmaal”, waarin lewensdrif en doodsangs op gespanne voet staan in die liefdesbewonderingmoment –
slaap nou vooroorgebuig intens asof luisterend na die riemslae
van jou bloed, jy is ’n vlinder van trillende lig
en in jou knabbel jou karkas reeds
– bevat “jy slaap nou” iets ambivalents, hoewel met ander pole. Die verhouding tussen die “ek” en die “jy” blyk deurtrek te wees van onsekerheid – altans, soos beleef deur die “ek”, die een wie se bewussyn weergegee word in die gedig.
Die spanninge hier?
Enersyds is die wakende spreker bewonderend jeens die slapende geliefde (“jou mooi kop”), en verliefd koesterend (“om jou só in my hart te bêre”). Andersyds beangs (reël 15).
Die bewondering en koestering is maklik te begryp, maar waar sou die angs by die wakende vandaan kom? Waarskynlik uit die gevoel dat die geliefde hom op ’n manier uitsluit; dat hy dalk die geliefde gaan verloor. Met die intrapslag slaap die beminde byvoorbeeld “eenkant en privaat”; sy/haar kop (ja, die studente het gou begin vra na die moontlike geslag van die “ek” en die “jy”1) is “’n kluis vol geheime” – wat alles iets van ontoeganklikheid suggereer.
Dié aanvoeling word versterk as die openingstrofe later byna woordeliks herhaal word.
Ook die “loodlyn van jou rug” (suggestief van sekure skoonheid, dus ook van selfgenoegsaamheid, sou die studente raai) en “die bolwerk van skouers en borskruis” (= verweer, ondeurdringbaarheid; of weer: selfgenoegsaamheid) pas in die kraam van die ontoeganklikheidsuggesties.
Opvallend is die vergelyking van die slapende geliefde met ’n kat. Is ’n kat dan nie ’n alte troetelige gedierte om met die indrukke van ontoeganklikheid te strook nie?
Kenmerke van katte wat die studente met die slapende se gedrag kon rym (strofes 2 en 3), was sinlikheid én kille afsydigheid. Die geliefde reageer op die toenadering en aanraking van die spreker, geniet klaarblyklik die streling … maar bly voortslaap. ’n Toonbeeld van selfgesentreerde genot. Pure kat, sou dié wat weet getuig.2
Om te slaap is in wese reeds ’n daad van uitsluiting; te meer so in dié gedig waar die “ek” op sy eentjie waak. Dat hy die uitsluiting as iets (potensieel) permanents aanvoel, word gesuggereer deur die weglating van die tydsbepalende “nou” in die eerste reël van die openingstrofeherhaling.
So sou party (oortuigend) verder redeneer.
Maar sommige het op hierdie punt begin wonder: Word die houding van die betragter nie dalk getint deur ’n doodsvrees om – selfs deur ’n doodswens vir – die beminde nie? Wat is permanenter as die dood?
Nietemin, sou die meerderheidsinterpretasie voortgaan, die “eenkant”- en “privaat”-heid van die slapende word benadruk deur dié twee woorde tipografies te isoleer in ’n eie, kort versreël (asof illustratief van die afsydigheid wat ter sprake is).
In reël 3 (dus ook in reël 11) dien die k-alliterasie om die verband tussen “kop” en “kluis” te onderstreep. Dieselfde effek word bereik deur die b-alliterasie in reël 5, waar daar sprake is van ’n roete wat “blad” en “boud” verbind.
Baie knap is die klankgebruik in reël 8, sou ons verder agterkom. Daar is die klinkende o- en medeklinkende b-, r-, en sk-herhalings in “bolwerk van skouers en borskruis”. ’n Sterk vlegsel klankbindings word bewerkstellig om as ’t ware die “bolwerk” waarvan daar sprake is, te demonstreer.
Wat is dan die “neutrale oomblik” (reël 13) waarop die spreker wag voordat hy die slapende in sy geheue vaslê? Dit word gekonstrasteer met die “angs” van reël 15, en slaan dus waarskynlik op ’n moment waartydens die wakende vry is van negatiewe gevoelens as gevolg van die waargenome afsydigheid by die geliefde. Die oomblik waartydens die spreker dus die geliefde in herinnering wil vaslê – hoe hy haar/hom wil onthou – moet spreek van vertedering en liefdevolle verinniging (“om jou só in my hart te bêre”). Op daardie oomblik moet daar nie sprake van verwydering wees nie.
Daarom, in ’n gebaar van vereenselwiging, probeer die “ek” om soos die “jy” te slaap; om “my asemhaling met joue te sinchroniseer”. Heel funksioneel is dit dat die enigste geval van eindrym in die gedig híér (reëls 16 en 18) voorkom. Ook klankmatig word ‘gesinchroniseer’.
“[D]eurnagblues” staan in verband met die twyfel of angs wat die wakende aangaande die verhouding koester. Dat hy ’n “aantog” van dié gevoelens antisipeer, is ’n aanduiding dat hy dit voorheen ook al deurgemaak het.
Teen hierdie tyd kon die wat voorheen gewonder het oor ’n moontlike doodsgedagte by die wakende, nie langer hul vermoedens vir hulleself hou nie. Die herhalende verwysing na die geliefde se geslaap – so noodlottig “eenkant en privaat” en met die “kop ’n kluis vol geheime” – dis tog nie alles so onskuldig nie, of hoe?
Is “om jou só in my hart te bêre” nie maar wrange liefdestaal vir “in ’n graf plaas” nie?
Vandaar dat “angs” die wakende dan skielik “beklem”?
En is die “neutrale oomblik” dan nie eerder een waarin hy vry voel van gewoonlik positief geagte, maar in hierdie geval belemmerende gevoelens soos liefdesvertedering nie?
Dan verteenwoordig die slaaphandelingsnabootsing deur die spreker in die slotstrofe eintlik ’n voorstelling van ’n begeerde onverbreeklike vereniging in die dood – iets soos ’n Romeo en Juliet vanouds in hul graftombe.
Dís tog uiteindelik ál wyse waarop die “deurnagblues” van twyfel en angs om verlies besweer kan word?
In dier voege het die interpretasie uit hierdie hoek verloop.
Strook “asemhaling [...] sinchroniseer” met ’n doodswens, vra die eerste interpretasiegroep dan. Sou “asemhaling suspendeer” (of iets dergliks) in so ’n geval nie meer gepas gewees het nie?
***
“[J]y slaap nou” illustreer hoe ontoereikend die gewilde bestempeling “vrye vers” meestal is.
Ja, dis ’n rymlose vers, met redelik sterk wisselende versreëllengtes. Maar sekere patroonmatighede kom ook duidelik voor. Die strofes is dwarsdeur driereëlig, en die klankstruktuur redelik heg (soos aangetoon). Die jambe oorheers as metriese patroon, hoewel talle afwykings voorkom: in uitheffende funksie (“mooi kop”, “kluis vol”, “vel tril”, ensovoorts) maar ook in betekenis-medeskeppende funksie (die amfibragties neigende, vlegtende “bólwĕrk văn skóúĕrs ĕn bórskrŭĭs”). Nie net die herhaling van strofe 1 in strofe 4 nie, maar ook die ‘hervattende’ parallelistiese sinstrukture (“jy slaap…”, “jy strek…”, “jy spin…”, “ek wag…”, “ek plaas…”) versterk die hegtheid van die gedigkomposisie. Trouens, die bykanse toneelmatigheid, die dramatiese aard van die uitbeelding in die gedig, word deur laasgenoemde verskynsels gerugsteun.
Enersyds: vormlike vryhede; andersyds: hegte bindinge. Sodoende word oorkoepelende strukturele spanninge bewerkstellig – wat juis die weifelinge in die uitgebeelde liefdesproblematiek ondervang.
Nie jou standaard-Valentynskaartjie met sy kitsgevoelens nie!
‘Organiese versvorm’ is ’n beter woord om gedigte te beskryf waarin woordbetekenisse en styl- en vormverskynsels só ineengroei dat ’n mens met oortuiging van taalvergestalting (ikoniese betekening) durf praat.
- In Neil Cochrane se artikel “Stephan Bouwer (1948-1999): ’n Herwaardering met spesifieke verwysing na sy poësie-oeuvre”, te vind op LitNet Akademies en gedateer Augustus 2008, kan meer gelees word oor, onder meer, die homoërotiese karakter van Bouwer se digkuns.
- “Goegeloer” ’n mens gou op die internet (om Joan Hambidge se Afrikaanse vinding vir “google” te benut), sien jy dat simboliese betekenisassosiasies soos “heelheid”, “onafhanklikheid”, “libidineuse temperament” en “wellus” inderdaad met katte verbind word.
Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans
Universiteit van die Vrystaat
Wednesday, February 24th, 2010
In die module “Die liefdesgedig as tydsdokument” waaroor ek in my vorige blog-bydrae geskryf het, was een van die mees asembenemende gedigte wat bespreek is die Nederlander Hans Andreus (1926-1977) se “Genoeg om te leven”.
Asembenemend vanweë die skoonheid daarvan, maar ook vanweë die naakte lyflikheid van die liefdesbelydenis.
Genoeg om te leven
1 Misschien is er iets meer goddelijk
2 dan de stiltes van een geliefd lichaam,
3 de deuken en kuilen in het geliefde vlees –
4 en de tapse kuit glijdend naar de aan een
5 ontsnapte volbloed ontvreemde enkel
6 en de heuvel van wirwar en de zo
7 zachte borst dat men wel liggend
8 knielen wil en slapen, toch
9 met ogen-toe nog toekijkende ogen –
10 en de onder landlopende vingers
11 zich spannende achterkant van de hals
12 die zich omhoog buigt naar
13 het meerdere haar en vandaar omlaag
14 naar de ogen die niet meer zijn te begrijpen,
15 en de mond bijna bars van geluk, -
16 misschien is er iets meer goddelijk
17 dan deze stiltes van de lieveling je lichaam,
18 maar nu nog nu nog nee,
19 wil ik niets anders dan daaraan te leven,
20 jouw lichaam en je hoofd onder de huif,
21 de huiverende boog van mijn hand.
tapse = wat geleidelik na een kant toe versmal en verdun
huif = kappie
Ná die lees van die gedig, met die nodige woordverklarings, en die uitpluis van die adjektiefopstapelings en verwikkelde sinsdele in veral strofe 2, was daar dan gewoonlik ’n ietwat ongemaklike swye onder die studente.
Wat word verken in hierdie gedig? vra ek dan. Maklik: ’n Minnares. ’n Vroulike geliefde. Watter eienskappe van haar word verken? Haar mooi geaardheid? Nee, haar lyf, haar kaal liggaam, haar liggaamsdele in hulle naaktheid.
Hoe sal julle die gemoedstoestand van die “ik”, die spreker in die gedig beskryf?
Ja, “orig” en “versadig” was van die antwoorde wat verskaf is.
Maar uiteindelik is tog meestal oor iets soos “ekstatiese verwondering” – tot verafgoding toe – eenstemmigheid bereik.
Waarna woorde en frases wat die verwondering oor en aanbidding van die geliefde se liggaam uitdruk, uit die gedig aangehaal moes word:
· die vroeg vermelde “goddelijk” (in die bevoorgrondende eindposisie van die eerste reël);
· die vermelding van gemetaforiseerde besonderhede soos “de stiltes”, “de deuken en kuilen” van “het geliefde vlees”; en van die “tapse kuit” en die amper onbegryplik gemaakte “ontsnapte volbloed ontvreemde enkel” – soos ook van, al maar na bowe, “de heuvel van wirwar en de zo / zachte borst” dat die “ik”, lêend langs die geliefde se liggaam, voel dat hy “knielen wil” (’n aanbiddingsposisie).
· Selfs met sy oë toe, byvoorbeeld in sy slaap, kan hy hom laasgenoemdes steeds voor die geestesoog roep;
· En verder gaan die verkenning met die oog en die strelende vingers, agter teen die rug en nek op, oor die hoof tot by die gesig, die onbegryplik mooie oë, en “de mond bijna bars van geluk”.
Wat bedoel Andreus met “Genoeg om te leven” in die titel? En, daarmee saam, met die uitdrukking “daaraan te leven” (reël 19)?
Gewoonlik is die dubbelsinnighede hier gou raakgesien: Die geliefde liggaam is nie net ’n bron van (lewens-)lus, iets om van of byna misties verenigd mee te lewe nie; vir die spreker is dit ook iets om voor te lewe. Dit vorm tans, in sy hier-en-nou, die sin van sy lewe.
Die uitdagendste deel van die bespreking was oor die wyse waarop die ekstatiese vervoerdheid van die spreker, ingehou deur ’n talmend verkennende aandagtigheid, vormlik verdiskonteer is. Opvallend is veral die sintaktiese opbou van die gedig. Dit behels een meervoudig saamgestelde sin, in hoofsaak verbind deur twee stelle herhalings (“misschien is er iets meer goddelijk” – reëls 1 & 16; en die anaforiese “en de” in reëls 4, 6, 10 en 15). So ontstaan ’n patroon van vooruitwysing en teruggryping. Die byna woordelikse hervatting van reëls 1 & 2 in reëls 16 & 17 – opmerkliker gemaak deur laasgenoemde twee reëls in ’n eie strofe te isoleer – het dan die effek dat die sintaktiese én emosionele spanning, veroorsaak deur die sintaktiese ‘afwagting’ via die uitweidende beskrywings in die twee maal in parentese geplaaste reëls 3-15 (vergelyk die aandagstrepe), soos in ’n golfslag ontlaai teen die einde.
Ironieserwys word op betekenisvlak nie voltrek wat sintakties gebeur nie. Geen bevredigende ‘antwoord’ word gegee oor wat dan moontlik “meer goddelijk” kan wees as die “geliefd lichaam” nie. Trouens, met behulp van repetisie en alliterasie (“nu nog nu nog nee”) word ten slotte nadruklik ontken dat so ’n moontlikheid tans vir hom bestaan. Die ongekende wat die huidige salige belewenis sou kon oortref, word onbepaald na die toekoms geban.
’n Volgende besprekingsvraag was hoe die “huif”, die “huiverende boog” van die spreker se hand oor die geliefde se hoof in die slotreël geïnterpreteer kan word. Ook hier is meer as een antwoord gegee: dat dit aan ’n soort stralekrans herinner, waardeur die verheerliking van die “geliefd lichaam” bevestig word; of dat dit as ’n beskermende of seënende gebaar gesien kan word wat die diepe vertedering van die “ik” openbaar.
Laastens is die volgende kenmerke (oorgeneem uit Momente in die Nederlandse letterkunde, soos geredigeer deur J. van der Elst; Academica, 1988) van die Nederlandstalige sogenaamde Eksperimentele digters (of “Vijftigers”, soos hulle ook vernoem is na die negentien-vyftigerdekade waarin hulle as skrywers op die voorgrond getree het) aan die studente verskaf. Teen hierdie tyd was dit redelik maklik vir hulle om aan te toon dat “Genoeg om te leven” heelparty van dié trekke vertoon, ten spyte van die feit dat Andreus nie die maatskaplike betrokkenheid van party van die ander Vyftigers geopenbaar het nie (Hugo Brems en Ad Zuiderent in Hedendaagse Nederlandstalige dichters, Stichting Ons Erfdeel, 1992).
a) Die Vyftigers eksperimenteer met die struktuur van die gedig; hulle gebruik byvoorbeeld weinig of geen hoofletters en leestekens nie en maak gebruik van die vrye vers.
b) Hulle skryf sintakties verwikkelde poësie. Dit skep groter interpretasiemoontlikhede, maar verg ’n baie groot inset van die leser.
c) Die klem val op die ervaring of belewing gedurende die skep van die poësie, want “eksperimenteel” is nie afgelei van “eksperiment” soos ’n mens aanneem nie, maar van “experience”. Hulle vind die skeppingsdaad, die produseer van die gedig belangriker as die produk.
d) Hulle poësie is suggestieryk. Dit gaan om die assosiasies wat in die gedig opgeroep word.
e) Die materiaal, dus die taal, waarmee die digter werk, is vir die Vyftigers belangrik. Ook hierin ondersoek hulle die onbekende, want vir hulle is taal nie bloot ‘n kommunikasiemiddel nie; dit gaan om wat hulle kan ervaar deur die taal, die taal-as-poëtiese-ervaring. Talige verwysings kom talle kere in hulle poësie voor.
f) Die Vyftigers skryf (polities-maatskaplik) betrokke poësie.
g) Hulle beskou die gedig as outonoom, as iets wat volgens eie innerlike wette ontstaan.
h) Daar is iets van die surrealisme in die Eksperimenteles se werk, want dit gaan – soos in die surrealisme – om die ervaring wat in die kunswerk vergestalt word. Soos die surrealiste plaas die Vyftigers ook soms dinge naas mekaar wat normaalweg nie met mekaar verband hou nie.
i) Liggaamlikheid speel ‘n groot rol in die Vyftigers se poësie, dit wil sê daar is talle woorde wat ’n (sowel skone as lelike) liggaamlike realiteit aandui.
j) Een van die doelstellings van die Vyftigers is om die mens se bestaan en die geheel van dinge in hulle gedigte in verband met mekaar te bring, sodat ‘n verlore kontak met “die Andere/andere” herstel kan word (’n mistieke strewe).
Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, February 15th, 2010
“Drooggemaak” is ‘n gangbare woord om te beskryf wat ek aangevang het toe ek die eerste keer ‘n inleidende poësiemodule aan universiteitstudente moes aanbied.
Nie net probeer om binne ‘n paar weke ‘n oorsig te gee van die ontwikkelingsgang van sowel die Afrikaanse as die Nederlandse digkunste nie. Ook sommer die basiese fasette van verstegniek en poëtiese taalgebruik wou tuisbring.
Die enigste een wat daardie jaar veel geleer het, was ek.
Bek-af sit ek kort daarna in ‘n kongressessie. Al wat ongeveer vassteek van wat die een referent te sê het, is dat studente nie vanselfsprekend geïnteresseerd is in poësie nie (vertel mý!); wel in hul eie lewens. In die dinge wat in hulle leeftyd en in die betrokke lewensfase waarin hulle verkeer, voorop staan.
Soos vry en fuif, dink ek nog gebelgd.
- Presies! besef ek eers ‘n paar dae later goed.
Het daardie Engelsonderwyser in Dead Poets Society nie juis beweer dat die digkuns uitgevind is om meisies te verlei nie?
‘n Module getiteld “Die liefdesvers as tydsdokument” was die volgende jaar gereed.
Moet bely: Ek het nogal manipulerend te werk gegaan. Met die retoriese deur in die huis geval deur te vra: Was jy al werklik verlief?
Soos verwag: Verleë, geamuseerde onderlangse gemompel.
Weet jy of enigiemand al werklik verlief was op jóú? Op júlle, dames?
En hoe het jy dit geweet, of weet jy dit nou?
Van die verwagte clichés (sjokolade, blomme, parfume, juwele) was daar wel. Maar ook: “Hy sê dit vir my.”
Een van die mans (hoe anders?): “Sy maak elke aand nege-uur vir my ‘n snackwich in die gezellie van haar koshuis.”
Vergeefs het ek egter gewag op: “Hy/sy skryf vir my gedigte.”
Toe slaan ek toe met aanhalings soos die volgende (sommer uit die 1986 Die groot Afrikaanse aanhalingsboek):
Hy het rondgekyk en net homself bespeur. Eers het hy gesê: Ek is. Maar vrees het hom gepak. Waarlik, dit was g’n plesier nie en van toe af ken hy wat hom so alleen bevind, g’n plesier nie. Hy het ‘n tweede begeer. Hy was so groot soos ‘n man en ‘n vrou wat mekaar styf omhels. Hy het hom in twee verdeel, en so het man en vrou ontstaan. Derhalwe is die mens soos ‘n afgebrokkelde halfstuk.
BRIHADARINJAKA UPANISHADE, aangehaal deur Marthinus Versveld, Tyd en dae.
Vrywillige afhanklikheid is die skoonste toestand en hoe sou dit moontlik wees sonder die liefde?
JOHANN WOLFGANG VON GOETHE, Dichtung und Wahrheit
En - die skaamteloosheid! - met Bybeltekste:
Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur.
Hooglied 8: 6.
Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, ensovoorts - daar uit die bekende I Korintiërs 13 …
Toe vertel ek dat dit dus nie verniet is dat die oudste bekende stukkie Dietse teks waarskynlik ‘n liefdesgedig (of ‘n fragment van een) is nie - al sê party dat dit maar ‘n Middeleeuse Vlaamse monnik se verlange na sy tuisklooster uitdruk, daar waar hy in Oxford in Engeland geskrifte aan die kopieer was. Of dat dit op verbloemde wyse homofilie in die monnikegeledere verklap. Of dat dit maar net ‘n vertaling van ‘n onbekende Latynse teks verteenwoordig, wat die monnik agterop die manuskripblad uitgevoer het om sy nuutgesnyde gansveerpenpunt te toets:
Hebban olla vogala nestas bigunnan
hinase hic enda thu,wat unbidan we nu
Het al wat voël is, nes begin te bou -
behalwe ek en jy. Wat wag ons nog!
En dis ook hoe dié 12de-eeuse versfragment geïnterpreteer is waar dit in die Afrikaanse letterkunde weerklink: as liefdesgedig, as vers van gemis. Byvoorbeeld in D.J. Opperman se “Ná ‘n besoek aan die dieretuin”, waaroor kritici soos A.P. Grové (in Woord en wonder), Ernst van Heerden (in Rekenskap) en Danie Jordaan (in Klasgids van Mei 1990) onderhoudend geskryf het.
Ná ‘n besoek aan die dieretuin
Hebban olla vogala…
Twee kraaie het hul nes gemaak
van stukkies draad;
en in staalkoue
ver van riete en riviere afgesluit
broei rooivinke en wildepoue
nog hul eiers uit;
in ysterhokke
ver van rantjies en langgras
werp ape en die waterbokke
nog hul kleintjies af;
net in ‘n enkelkamer ek en jy
van hulle vreugde afgesny.
In lesuur na lesuur het ek pragverse soos stukke aas uitgegooi (die Afrikaanses hoofsaaklik uit Fanie Olivier se 1986-samestelling van Die mooiste Afrikaanse liefdesverse - saam met Kannemeyer se Die Afrikaanse literatuur 1652-1987 ‘n voorgeskrewe boek vir die module):
Gij staat zoo heel, heel stil
met uwe handen, ik wil
u zeggen een zoo lief wat,
maar ‘k weet niet wat.
- Herman Gorter
Wys my die plek waar ons saam geloop het,
Eens, toe jy myne was -
Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra,
Wie van ons twee moet die meeste dra?
Jy wat vergeet het - of ek wat boet
Vir my liefde wat uithou en alles vergoed?
- C . Louis Leopoldt
slaap nou, ek druk my neus in die ruiker van jou nek
hoe ryp, hoe bedwelmend die geur, die reuk van lewe
jy leef
jy is ‘n delikate blom van polsende ivoor
jy is diep soos ‘n katjiepiering stil soos ‘n varkoor
- Breyten Breytenbach
[..] de tapse kuit glijdend naar de aan een
ontsnapte volbloed ontvreemde enkel
en de heuvel van wirwar en de zo
zachte borst dat men wel liggend
knielen wil en slapen, toch
met ogen-toe nog toekijkende ogen
- Hans Andreus
jy maak my amsterdam
amstelredam
amstelodamum
luister hoe sanctus
die klokke in die torings
van de oude en de nieuwe
van de zuider- en noorderkerke
jantjiesomer my klong
my krokus
- Marlene van Niekerk
In die jare daarna is gedigte soos dié ook nog aangevul of afgewissel met ander, soms met bedoelde onthutsende effek: Stephan Bouwer se “jy slaap nou”, Antjie Krog se “sonnet” of “naweekpas”, die Middelnederlandse “Egidiuslied”, Daniel Hugo se “eerste liefde”, Charles Fryer se “Verkragting”, T.T. Cloete se “Lyfspraak ongetroude swanger meisie”, Theunis Engelbrecht se “heimat-vers vir my lovely” - om maar ‘n paar te noem.
Toonsettings is voorgespeel, waar beskikbaar.
In die proses kon ek darem wys op die kenmerke van die belydeniskuns van die Dertigers in aansluiting by onder meer die Nederlandse Tagtigers en Generasie van 10; op die modernistiese gestalteverse van iemand soos Opperman; op “avantgardistiese” werk soos dié van die Sestigers of die Nederlandse sensitiwiste of Vyftigers; op die kenmerke van en eksperimente met versvorme soos die sonnet en die Middeleeuse wêreldlike lied …
In volgende blogbydraes sal ek ‘n voorbeeld of twee gee van die besprekings wat gevoer is.
Literêr-teoreties of -histories beskou, selfs didakties gesproke, was die kurrikulumsamestelling eintlik haglik. Wis ek en weet ek steeds.
Maar die studente het gekom. Begin saamgesels. Soms het ek gemerk dat daar ook studente in die klas kom sit het wat nie vir die bepaalde module ingeskryf was nie. Wat sommer uit nuuskierigheid kom luister het.
En voor die einde van daardie eerste aanbieding van die module het enkeles skoorvoetend kom vra of ek nie na hul eie pogings wou kyk nie. ‘n Voorbeeld (waarin plek-plek iets van die vroeë Krog weerklink):
Wanneer het jy?
Wanneer het jy jou
pampoenstingellyf
teen my kom nestel
jou koel-klam neus
in my nek laat snuif
jou bos kanferfoeliehare
my neus laat kielie
en jou oë …
(o, jou oë wat die
fynste viooltjies aandra)
my laat streel
wanneer het jy hier kom lê
en my liefgemaak vir jou?
- Rentia Conradie
Lomphede in ‘n plek-plek darem ook bekoorlike vers soos dié het die gedagte aan ‘n na-uurse poësiewerkwinkel vir gekeurdes laat ontstaan. Iets waarmee ek die jaar daarop begin het. Een van die opdragte daardie jaar het ‘n tema betref: “Ons het te min daarvan” (bedoelende: van die liefde). Twee produkte daarvan lui:
nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:
al ken ek al die geheimenisse
en besit ek al die kennis
en al het ek al die geld
om ‘n huis in waterkloof-rif te koop,
en ‘n sizable donation aan die anc te maak,
maar ek het geen bullshit nie,
dan is ek niks.
bullshit is geduldig
bullshit is vriendelik
bullshit is nie afgunstig nie,
is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie
bullshit bedek alles
glo alles
hoop alles
verdra alles
bullshit maak niemand seer nie
bullshit kos niks
bullshit vergaan nooit nie
bullshit gee jou nie ‘n hangover nie
bullshit kan jou nie aids gee nie
bullshit kan nie deur ‘n polisiehond geruik word nie
bullshit is ozone friendly
bullshit gee jou nie harde, lelike tandsteen nie
bullshit is nie rassisties nie
bullshit is die ultimate high
bullshit makes the world go round
en nou:
geld, seks en bullshit bly,
hierdie drie.
en die meeste hiervan is
bullshit.
- Cobus du Plessis
Of daardie jong versmakers vandag nog dig? En of hulle meer liefde as bullshit ervaar het - in die werklikheid, nie net in die woorde daaroor nie?
Na ‘n paar jaar het meer “rasionaliteit” in kurrikulering die einde van daardie liefdespoësie-module beteken. En die eise van “rasionalisasie” die staking van die nie-subsidie-verdienende poësiewerkswinkel …
Monday, February 1st, 2010
Die afgelope Donderdagaand open Andries Bezuidenhout ’n Walter Meyer-uitstalling in Oliewenhuis in Bloemfontein. Op so ’n voortreflike wyse dat ’n mens voel daar val skille van die oë af waarmee jy netnoumaar na die skilderye gekyk het. En dat jy nou ’n blik op aspekte van die land en die wêreld kry wat jy nie voorheen gehad het nie.
So is ek herinner aan ’n insig wat ek agt jaar gelede in ’n praatjie, gelewer op ’n “kultuuraand” by ’n Bloemfonteinse skool, onder woorde probeer bring het. Die skool is bekend om sy openlik verklaarde Christelike inslag in beleidstelling en opvoedingspraktyk.
Ek gee die praatjie onaangepas weer, soos uit die verwysings na nuuswaardighede uit dié tyd sal blyk. Die nawerking van die proefskrif wat ek oor die digkuns van T.T. Cloete geskryf het, is ook merkbaar.
*****
’n Paar Saterdae gelede lees ek in Volksblad:
Die majesteit van die heftige ffoet-ffoet-ffoet-vlerkflappery kruis en dwars bo-oor my kop waar ’n stuk of veertig boskraaie speels tussen die kruine van ’n Transkeise galery-woud agter mekaar aan rondjaag, het vir my die kroon gespan op ’n sielsopkikkerende uitstappie.
“Galerywoud”… Wat ’n boeiende woord. Ken u dit?
Wel, ek het nie.
Ek slaan toe in die WAT na, waar net die ekwivalent, “galerybos”, opgeneem is:
Bos wat in tropiese lugstreke, waar ’n droë en nat jaargety mekaar afwissel, net in twee smal strepe aan weerskante van ’n rivier voorkom.
Soos skilderye weerskante van ’n galerygang, kry jy dus bos langs ’n rivierloop …
Maar ek lees verder in Volksblad:
Hier waar ’n enkele vis se onderwaterse oogknip amper hoorbaar oor die spieëlgladde oppervlak van ’n getymond uitkring, was my hele wese oorspoel met genoegdoening. Niks meer kon ek begeer nie.
Of só het ek gedink – totdat ’n kroonarendwyfie haar skielik van ’n tak afwerp en snel op ’n niksvermoedende blou-aap afpyl. En toe sy die teiken met haar ontsaglik kragtige kloue tref, ontplof die bosse om my in ’n kakofonie van alarmroepe – ape, neushoringvoëls, boskraaie, kakelaars, loeries, kwêkwêvoëltjies en sneeubal-laksmanne. Selfs ’n bosbok blaf diep die bos in van pure ontsteltenis.
My sitplek op ’n lekker wye kano – ek neem nie sommer my verkyker-goed op ’n wankelrige bootjie op die soutwater nie – was perfek geposisioneer om die skouspel gade te slaan.
Die genoeglike speelsheid van die boskraaie met hul agtelosige eetgewoontes en die wildevye wat soos vet reëndruppels grondwaarts plas, moes daardie arme aap se aandag net vir ’n sekonde of twee te lank afgetrek het.
Toe die kroonarend ’n rukkie later haar dooie prooi na ’n gerieflike sitplek dra, hang die aap se kop slap sywaarts en swaai sy lang stert ver ondertoe. Nes die uurwyser van ’n horlosie wat op agtuur gaan staan het.
Ek kom eers ’n ruk later regtig tot my sinne deur twee kieste vol wind deur my lippe na buite te forseer. Teen dié tyd klop my hart nog onbeteueld iewers baie na aan die steel van my tong.
Dit is toe dat ’n Knysnaloerie sy dieprooi vlerke vermakerig voor my verbyflans, asof om die kleur van bloed te bevestig.
En hier moet ek dié onderhoudende skryfstuk laat. Dis nie die werk van ’n literêre skrywer nie; wel van prof. Morné du Plessis, direkteur van die Percy FitzPatrick-instituut vir Ornitologie in Afrika aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is een van die voëlkenners wat gereeld Saterdae in Bonus-Volksblad skryf in die rubriek “Voëlmaniere”.
Dié stuk het my met hunkering laat terugdink aan toe ek en ’n paar voetslaanvriende in Julie 1985 die Wildekus-roete van Port Alfred tot Port St Johns oor vyf dae aangepak het. Ons moes ’n paar keer oor riviere swem, of roeibootjies huur – selfs skaai! – om mondings oor te steek. Ek het toe pas ’n paar maande tevore ’n verkyker en voëlboek aangeskaf en tydens hierdie staptog ’n paar vir my nog onbekende spesies kon uitken: die kalkoentjie, byvoorbeeld; die Natal-lawaaimaker; die bergklipwagter; en die moeilik tussen die ander spesieverwante uitkenbare donker koester. Opvallend is dat ek in die meeste gevalle nogal baie goed die omgewing, die weersgesteldheid en tyd van die dag kan onthou as ek deur die voëlboek blaai en die aantekening sien oor waar en wanneer ek ’n bepaalde voëlsoort die eerste keer gesien het. Dis of die ontdekking van daardie nuwigheid àl mens se sintuie toespits, jou waarneming intensiveer, sodat dit in die geheue ingebrand word.
Ek het nie van daardie voetslaantog met die Wildekus langs dagboek gehou nie, en het dus nooit iets van daardie wêreld so treffend aangeteken soos prof. Du Plessis nie. Bowendien het ek nie oor die kennis beskik, en beskik steeds nie naastenby genoegsaam daaroor nie, om die volle verskeidenheid van wat waar te neem was raak te sien, raak te hoor, raak te ruik nie. En omdat ek dit nie kon raak waarneem nie, kon dit ook nie my gemoed so nuanse- en omvangryk beweeg nie.
Mense wat baie weet, en dus ’n begrip het van die geweldige verskeidenheid dinge wat ons omring – ook van die menslike onvermoë om selfs ’n naastenby afdoende hoeveelheid daarvan te peil – daarvan is ek oortuig, leef en beleef voller én fyner as hulle wat min weet, en dus minder om hulle kan eien, ervaar en verstaan. As jy deur meerdere kennis gewek is daartoe om onder die indruk te kom van hoeveel jy eintlik nié weet nie – dan is jy soos ’n mens wat een of ander sintuiglike gebrek het, pynlik bewus daarvan dat jy altyd iets moet mis, en dan alles waaroor jy wél beskik inspan om soveel as moontlik te registreer.
Soos die man wat blind word waaroor Peter Blum gedig het:
Daardie kontoer moet ek my diep inprent –
daardie beweging honderd keer repeteer –
daardie skakering volmaak memoriseer –
daardie gesig wat vaag is of onbekend
nou in my insuig, my hele los talent
op dié geheuetoertjie streng konsentreer
tot ek àls wat ek gesien het en geleer,
sonder sig vir my kan opsê – konsekwent
alles verinnerlik.
(Uit: Enklaves van die lig, 1958)
Om dan nou maar oor myself te praat, sodat ek kan kritiseer sonder om op tone te trap!
Ek is byvoorbeeld dankbaar dat ek vier tale goed kan lees en begryp. Dat ek Duits ken, maak dit vir my moontlik om ’n lied te volg soos die volgende, waarin ’n taamlike gedig van Ludwig Rellstab (die eerste twee strofes verskyn hier; letterlike vertaling deur my) deur Franz Schubert se toonsetting tot iets wonderskoons omskep word:
|
Ständchen
Leise flehen meine Lieder
Durch die Nacht zu dir;
In den stillen Hain hernieder,
Liebchen, komm zu mir!
Flüsternd schlanke Wipfel rauschen
In des Mondes Licht,
Des Verräters feindlich Lauschen
Fürchte, Holde, nicht.
|
Serenade
Saggies smeek my liedere
deur die nag tot jou;
na die stille woud toe af,
liefling, kom na my!
Fluisterend ruis die slank boomtoppe
in die lig van die maan,
die verraaier se vyandige geluister
moet jy, lieflike, nie vrees nie.
|
Maar terselfdertyd besef ek pynlik: ek ken g’n Frans nie, of Spaans, of Russies, of Latyn, of Italiaans – noem maar op. As een van die Drie Groot Tenore ’n lied soos die volgende sing, kan ek maar net die skoonheid van die melodie volg, en vermoed ek net iets van die passie wat daarin verklank word – tensy ek ’n vertaling daarvan raakloop, wat dit minstens gedeeltelik toeganklik maak:
|
Lamento di Federico
E’ la solita storia del pastore …
Il povero ragazzo
voleva raccontarla, e s’addormi.
C’è nel sonno l’oblio.
Come l’invidio!
Anch’io vorrei dormir così,
nel sonno almeno l’oblio trovar!
La pace sol cercando io vò:
vorrei poter tutto scordar.
[…]
(Woorde: Marento; musiek: Francesco Cilea)
|
Federico se klag
Dis die gewone verhaal van die herder …
Die arme jongman wou dit sê,
maar het aan die slaap geval.
In slaap is daar vergetelheid.
Hoe beny ek hom!
As ek net slaap soos hierdie kon vind –
om minstens vergetelheid in my slaap te vind!
Ek wil slegs vrede vind:
as ek maar net alles kon vergeet.
[…]
(my Afrikaanse omsetting van ’n Engelse vertaling vanaf die CD Carreras Domingo Pavarotti in Concert, 7 July 1990, Rome)
|
Hoe het Karel die Vyfde (1519-1558) gesê?
Zoveel malen is men man
als men talen spreken kan.
Soortgelyke dinge sou ook gesê kon word van wetenskaplike dissiplines, van kunsuitinge. Hoe meer ’n mens te wete kom en begryp, hoe meer mens(e) word jy. Om ’n kontaminasie in te span: Jy vermensvuldig – tot daardie spesie wat die kroon van die skepping genoem word, “geskape na die beeld van God”.
Was dit dan nie wat een van die belangrikste opdragte behels het aan die eerste mens, toe hy nog in die paradys in die teenwoordigheid van God kon verkeer nie?
Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip. (Genesis 1:28b)
En ook:
Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas […] Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou die naam wees. (Genesis 2:15a & 19)
Dit is die sogenaamde kultuuropdrag aan die mens: om te heers, te bewerk en op te pas (te bestendig). En ’n belangrike manier van heers en oppas is benoeming: kennis(-name; beheername deur kennis), uitgedruk in naamgewing – hoe tydelik en voorlopig (onbestendig!) dan ook in groter verband.
Daar is al heelwat geredekawel oor die begrip kultuur. Dit kom mý voor of dit wesenlik die volgende momente bevat, wat almal min of meer spesifiek onderskeidend is van die menslike spesie as “kroon van die skepping”:
· Kennis – om name en uitdrukking aan die dinge en gebeure en hulle verskyningsvorme te gee (d.m.v. taal, skilderkuns, musiek, wiskundige en ander kodes).
· Gevorderde, kreatiewe denke gebaseer op kennisakkumulasie.
· Genieting, wat meer is as net liggaamlike genot – dit óók! – maar wat spruit uit verwonderde insae in die grootse samehang van die oorstelpende verskeidenheid van die verskynsels.
Twee voorbeelde ter illustrasie van laasgenoemde soort ervaring, in die vorm van twee korterige gedigte uit T.T. Cloete se reeks “Fyn vrugbare essensie”:
IV
ek lê op my rug
in die nag en kyk stadig
téén die rasende stralende reis van die lig
ín miljoene jare in die oerverlede terug
na waar die spiraal van die nautilus
en van die alikruikel, die pou
se stert en die rolvarkie toegevou
in sy eie sirkel galakties nagedoen is
V
snags as van die aarde af uit my oog rondom
in die hemel in stengels lig waaierend uitstrek
tot die sterre aan hulle punte toe sit ek
in die saadkern van ‘n onmeetlike disselblom[.]
(Uit: Jukstaposisie, 1982)
Die een lewe wat elkeen van ons het, en waarvan die meeste van ons boonop meer as ’n derde omslaap, is heeltemal te min, hééltemal te min, om so ’n omvattende kultuurtaak eerstehands uit te voer. Daarom dat die opteken- en vasleggingswerk van wetenskaplikes, filosowe, fotograwe, skrywers, kunsskilders, komponiste en derglike so waardevol is. Ook nie eens ’n behoorlike fraksie hiervan is ons in staat om binne die bestek van een lewe te (ont-)dek nie.
Behalwe die voordeel dat ek die navorsing en deurgrondende denke en verfynde aanvoelings van ander my eie kan maak deur te studeer, te lees, te kyk en te luister, kan ek ook my eie ervarings verryk en nuanseer deur te verneem van ander se belewenisse van soortgelyke dinge.
Tyd laat my toe om net ’n wyle stil te staan by laasgenoemde, noem dit maar “aanvullende”, waarde van kulturele verdieping.
Soos ek gesê het, is ek lief om voëls te kyk. Ons is gelukkig dat ons in Afrikaans waarlik ’n skat aan literatuur het oor ons land se fauna en flora. Ek vermoed min, indien enige, ander tale op die Afrika-kontinent het vergelykbare hoeveelhede gedigte oor diere en voëls.
Die uitheemse Indiese spreeu is ruimer bekend as die Indian mynah. Ek het al daar aan die Natalse kus verbaas gestaan en kyk hoe twee van dié vreeslose gediertetjies ’n veel groter inheemse geelbekwou in vlug só teister dat die wou die hasepad kies (as ek die beeldspraak so transspesiegewys mag toepas).
En oorstelp deur gevoelens van herkenning en ontdekking kry ek nou die dag weer die volgende gedig van Ina Rousseau oor dié oorlamse voëlspesie te lees:
Die plaag
Móét ek hulle nou duld,
die Indiese spreeus
met hulle neste
van vuilis,
luisig op die dakrand?
Hulle skreeu
soos skollies op mekaar,
of twis
sissend;
of anders,
klikkend soos masjinerie,
kap en sny
hulle met hulle skerp
bekke die omringende
stilte
stukkend.
En verder gebruik hulle
lelike woorde
soos smyt en skrou
en oefen op die vroom
waaierstertduiwe
‘n duiwelse
invloed uit –
Nou stryk
‘n paar van die nok af neer
en begin weer rond
te slenter oor die werf:
ongepoets,
voorbarig,
bekkig,
hulle pote en hulle bakkies
gillend geel
soos die son,
hulle rompe
soos ligniet vuilbruin:
die gomtorre van die tuin.
(Uit: Kwiksilwersirkel, 1978)
My ma was nie ’n voorslag van ’n naaldwerkster nie. Maar sy het vyf seuns grootgemaak en moes noodgedwonge dié presiese en geduld-eisende takie volvoer. My eie vrou is ewemin aangelê of lief vir naaldwerk. Maar ook sy maak seuns groot, en moet maar op ’n redelik gemiddelde inkomste sien dat ons almal net en heel gekleed gaan.
Eenkeer het ek in ’n gedig geskryf oor hoe dié nougesette naaldwerkery my aan die pas- en bindwerk van poësie herinner. Ek haal net ’n klein gedeelte uit die gedig aan:
langs jou singer-naaimasjien leer ek
stroke land en lug en lappies mens
puntenerig tot gedigte
stik –
hoor die dor wind buite huil
en jóú dan droogweg mate suig[.]
Ken ’n mens egter die kantwerk van die Vlaminge en Hollanders, leer jy ontsag en bewondering vir fyn naaldwerk aan. Die Hollandse skilder Jan Vermeer het talle onvergelykbare skilderye oor vroue gemaak wat alleen en rustig besig is met huiswerk, onder meer een van ’n kantwerkster.
T.T. Cloete het in sy 1989-bundel Driepas weer ’n onvergeetlike gedig oor die vroue van Vermeer geskryf, in wie se intieme huislike taak ’n bewussyn inskyn van die groter wêreld wat die Hollanders in die sestiende en sewentiende eeue op grond van hul toonaangewende skeepvaartkennis aan ’t verken en kolonialiseer was – uiteindelik ook ’n bewussyn van ’n klein lewe binne die genade van ’n Skepper van die ganse kosmos:
Vroue van Vermeer
Dit is meestal ’n mooi jong vrou.
Meestal is sy alleen binnenshuis,
dalk met ’n wit veraf brief wat sy vashou,
naby, in ’n gloeiende klein hand
voor ’n kleiner of groter oop
venster. Daar kom ’n ligte geruis
van ’n wêreld aan uit ’n land-
of groter wêreldkaart
wat teen die muurvlak oorkant
hang, daar waar seestrome en wind loop
met haar land se ganse skeepvaart.
Sy staan, sy sit, sy buk oor kant,
sy droom of sluimer
in lig wat in vlokkies of korrels brand
of dof kaats in die ruimer
ruimte van ’n skildery of spieël of in ’n wynhouer
ivoor maak, of sy speel klavesimbaal
of sy loer oor haar skouer
en dra ’n sonnende pêrel teen haar nek
se skadu. En altyd is daar lig wat áfstraal
ín in die liefs klein afgemete vertrek,
oorvloedig, uit die oop grote
universum en wat die klein aardse geslote
stilte in die onmeetlike laat asemhaal.
My klein gedig word in die lig van hierdie skilderye van Vermeer en van hierdie gedig deur Cloete nog onbenulliger, ek weet – maar tog ook vir my kosbaarder. Want ek het iets beleef wat veel groter kunstenaars as ek beleef het, en deurdat ek hulle werk ken, het daardie ervaring van my baie ryker geword.
Kultuur, in sy volle, wye betekenis, laai ons belewenisse en ons lewens met intensiteit en sin.
Natuurlik, ons lewe nie meer in die paradys met ons heerlike kultuurtaak nie. Ons moet met moeite en verdriet ons daaglikse brood verdien, kinders in die wêreld bring en versorg, en vir die armes, oues, siekes, verdruktes, agtergesteldes, ensovoorts, ensovoorts sorg. Want ook deur híérdie dinge is ons volledig mens.
Maar nou raak ons meestal so bedrywig in ons strewe om te dien en te verdien, in wat die antieke Romeine die vita activa genoem het, dat daar weinig tyd oorbly vir die vita meditativa, die betragtende, nadenkende lewe. Trouens, mense dink al te dikwels dat dit eintlik bietjie ’n mors van goeie tyd en ’n ontwyking van ons maatskaplik-ekonomiese verantwoordelikhede is om so te wil lees en studeer en jou te verwonder.
Byna iets soos Antjie Krog in ’n gedig (as ek korrek onthou, uit Kleur kom nooit alleen nie, 2000) geskryf het dat dit ietwat onbehoorlik is om soos sy, uit verlange na die Vrystaat, rose in die winderige Kaap te probeer kweek in haar agterplaas en na die einste mooie Il lamento di Federico te luister wat ek vroeër gespeel het – dít terwyl ons op ’n kontinent van nood en geweld leef.
Ék dink ons het veels te min van die vita meditativa in ons lewens. Te min verwondering.
Te veel besittings en sosiale ambisies wat ons lewens met die meegaande verantwoordelikhede oorspoel.
Te veel sport ook. Is dit die Engelse invloed wat ons so blindelings laat glo dat ’n gebalanseerde lewe uit ’n mengsel van werksverpligtinge en sport bestaan, miskien met so ’n dosis diensbaarheid in kerkverband? Onderwysers moet hulle in hulle vakke kan verdiep, klubs rondom hulle vakke op skool kan bemark en bedryf: ’n natuurleweklub deur die biologieonderwysers, ’n drama- en letterkundeklub deur die taalonderwysers, ’n kuns- en musiekklub deur die mense wat hierdie vakke gee, ensovoorts. In plaas daarvan om middae, naweke en selfs vakansies op of langs die sportveld of op die bus op pad na nog ’n toernooi te wees.
Hoeveel energie en middele stort ons nie in hierdie gejaag na wind nie! Kyk maar hoe die minister van sport nou weer om meer borgskappe vir sport wil beding – omdat dit glo soveel potensiaal het om nasionale eenheid te bevorder.
Ons moet eerder soos ’n Mark Shuttleworth ons vryetyd en beskikbare inkomstes spandeer daarop om hierdie aarde en alles wat daarin is en hierdie hemele en alles wat daarin is van naderby te betrag. Om te reis, te lees, die veld met verkykers en gidsboeke in te stap, ons tuisteleskopies op die trans te rig, stokperdjies te bedryf, teater toe te gaan. Verder te studeer. Die kuns van die oop en borende gesprek te beoefen.
Om ons te verwonder aan die verbluffende grootsheid van die skeppingsverskeidenheid, aan hoe dit is om mens te wees, en uiteindelik aan die Skepper van alles.
Dan, as ons naas ons liefdesdiens en sosiale mededoë ook ons kultuuropdrag vollediger uitvoer, sal ons myns insiens getrouer aan ons geskapenheid na God se beeld kan leef.
Monday, January 25th, 2010
In wese is die poësie van T.T. Cloete ’n verwoording van – en lofprysing op – die wyse waarop God hom in die grootse samehang van die geweldige verskeidenheid skeppingsdinge openbaar. Die dikwels paradoksale samehang van die kosmos toon verder die almag en liefdevolle sorg van die Skepper op so ’n wyse dat dit die digter met verwondering en deemoed, maar ook met lewensvreugde vul.
Dit is nie net die dinge van die alledaagse ervaring wat die vingermerke van God — of die “aanwesigheid van die afwesigheid”, soos die afdeling in die bundel Idiolek (1986) heet waaruit die gedig “Arktiese swael” geneem is — verklap nie. Ook dit wat deur byvoorbeeld die wetenskap blootgelê word, is God-openbarend. Op hierdie wyse verkry selfs biologiese feite in ’n gedig soos die onderstaande ’n religieuse beteknis (Visagie, 1988: 105).
Arktiese swael
Vleis en been. Vere. ’n Gewig
van 125 gram. Die span
van sy vlerke nege en sewentig
cm. ’n Lyflengste van
33. Swart ogies. Die instink
se teosofiese dink.
Bleekwit. Longe. Dan:
die son en sterre se lig
en hulle bestendige patrone
in die diep hemele, plus
in homself gene en hormone
met ’n chemiese onrus,
die geringe liggaampie se dryflus
oor kontinente, oseane, deur siklone,
deur die seisoene se draai geaktiveer,
deur arktika en antarktika georiënteer,
fyn gevoelig vir die aarde se magnetiese veld
kan hy dwarsdeur dag en nag feilloos navigeer.
Op sneeuvuur gerig
sien hy per jaar meer daglig
as enige ander wese, die uithaler
klein vlieër. Ryk saamgestel
is die doen van God in die mikrostraler.
Sy aërodinamiese spel in die nietige voël
speel hy reeds ’n ewigheid van pool tot pool.
Gilliard (1965: 174-175) verskaf die volgende inligting in verband met die arktiese swael: “It is famous for spending more time in daylight than any other living creature. It breeds during the arctic summer when continuous daylight prevails, and it visits the antarctic to winter, arriving there in time to enjoy the long days and then the continuous daylight of the antarctic midsummer. Among the records confirming its remarkable migrations is that of a nestling that was banded in Labrador and recovered in Natal, southeastern Africa, some 11 000 miles away, less than three months after it had learned to fly. In both the arctic and the antarctic, it feeds in the frigid waters between ice floes. It is circumpolar in distribution. Although most of its long-distance flying is over unmarked seas, it somehow manages to return and breed with regularity in large colonies on remote bits of land.”
Die biologiese feite aangaande die arktiese swael word op elliptiese wyse in die eerste sewe versreëls van strofe 1 aangebied. ’n Saaklike, eksak-wetenskaplike styl word nageboots – byna soos wanneer nugtere gegewens op ’n datakaart aangestip word. Hierdeur word die gewoonheid en amperse nietigheid van dié klein trekvoël beklemtoon.
Een woord val egter nie in die patroon van die ‘koue’, feitelike terminologie in hierdie gedeelte nie: “teosofie”. Volgens die HAT is die woord afgelei en saamgestel uit die Griekse woorde theos + sophia (= god + wysheid), en slaan dit op die “[m]istieke leer omtrent die wese van die bestaande wat gedeeltelik op Boeddhistiese opvattings berus”. Nie net kennis aangaande die wese van die geskapene word aangedui nie, rnaar ook kennis aangaande die wese van God self. “Die instink / se teosofiese dink” (versreëls 5-6) is dus ’n mededeling dat die swael se instink nie net kennis aangaande die skepping van God bevat nie, maar ook kennis aangaande God self.
Aan die einde van die eerste strofe kom daar egter ’n wending in die beskrywing van die arktiese swael. Die woordjie “Dan”, gevolg deur die dubbelpunt, dui die wending opvallend aan. Teenoor die enkelvoudige, elliptiese konstruksies van die voorafgaande gedeelte is die res van die gedig opgebou uit verwikkelde, veelvuldig saamgestelde sinskonstruksies van verskillende lengtes. Dit val saam met die “onrus” en “dryflus” van die migrerende swael waarvan daar in die res van die gedig sprake is, en is eintlik tekenend (ikonies) daarvan.
Eweneens tekenend of weerspieëlend van die genoemde “onrus” en die “aërodinamiese spel” (versreël 24) is die klankmatige strukturering van die gedig, en die benutting van enjambemente en die swewende sesuur. Gaan wat die klank betref die fyn herhaling van die g/ch- en v/f-klanke in onderskeidelik strofes 2 en 3 na, asook die rustelose eindrympatroon waar onder meer kruisryme en paarryrne mekaar onvoorspelbaar afwissel.
In teenstelling met wat in die eerste strofe aangaande die voël benadruk is, word die uniekheid van die arktiese swael in die res van die gedig beklemtoon, veral sy uitsonderlike vlieg- en navigeervermoëns. Woordeskat uit die biologiese en aardkundige vakwetenskappe word in die tweede en derde strofes ingespan orn hierdie unieke vermoëns te beskryf: “gene”, “hormone”, “siklone”, “arktika en antarktika”, ensovoorts. (Kyk ook Visagie, 1988: 106, hieroor.) Dit is die arktiese swael se instinktiewe, in sy gene en hormone vasgevange ‘kennis’ van die hemelliggame se bewegings, van seisoenale veranderings en van die magnetiese veld tussen die aarde se pole wat hom in staat stel om groot afstande af te lê en nogtans “fyn gevoelig [...] dwarsdeur dag en nag feilloos [te] navigeer” (versreëls 17-18).
Sy vliegvermoë (hy is ’n “uithaler klein vlieër”) stel horn in staat om van pool tot pool te migreer om sodoende die byna ononderbroke ligdae van die arktiese en antarktiese somers te geniet. Daarom “sien hy per jaar meer daglig / as enige ander wese” (versreëls 20-21). Die paradoksale samestelling “sneeuvuur” (versreël 19) slaan op die verblindend heldere, deur die sneeu en ys weerkaatste lig van die poolstreke. In die laaste vier versreëls verskuif die fokus weg van die swael, en val dit op die wonderbaarlik komplekse “doen van God” soos dit deur die klein arktiese swael se gedrag geopenbaar word (Visagie, 1988: 106).
Die nuutskepping “mikrostraler” benoem nie net die kleinheid van die swael nie, maar is deur sy analogiese verband met die bekende makrostraler ’n aanduiding van hoe die fyn en ryke skeppingsvermoë van God die van die mens vooraf- en te bowe gaan.
Die fokusverskuiwing in die laaste vier reëls is egter voorberei deur die woord “teosofiese” in die eerste strofe – moontlik ook reeds deur die uitdrukking “in die diep hemele” in die tweede strofe. In die lig hiervan kry die uitdrukking “(o)p sneeuvuur gerig” (versreël 19) ’n diepere betekenis. Op grond van die tradisionele religieuse konnotasies van die lig-simboliek moet dit óók gelees word as ’n gerigtheid op God. (Die woord “sneeuvuur” vang dan ook iets vas van die dikwels paradoksale aard van die skepping en van God, asook van die wyse waarop God byvoorbeeld sy grootsheid in ’n “nietige voël” openbaar.) Die arktiese swael word dus – deur middel van die simboliek – voorgestel as ’n geseënde wese wat meer in die goddelike teenwoordigheid verkeer as enige ander skepsel. (Nie verniet dat dié swael se wetenskaplike naam Sterna paradisaea is nie.)
Luidens die twee slotreëls word die skepping van die arktiese swael gesien as ’n manifestasie van die speelsheid van die Skepper. Die migrasie van die swael van pool tot pool is van die skeppingsdae af (“reeds ’n ewigheid”) ’n konkrete uitdrukking van God se “aërodinamiese spel”. (Aërodinamika is volgens die HAT die “leer van die beweging van gasse in die lug”.)
’n Taalkunswerk wat dus eweseer deur vormgewing as deur woordbetekenisse kommunikeer, en verwondering oor en vreugde aan sowel die skepping as die skeppingsdaad uitstraal.
Geraadpleegde bronne
Cloete, T.T. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.
Gilliard, E.T. 1965. Living Birds of the World. London: Hamish Hamilton.
Odendal, F.F., Schoonees, P.C., Swanepoel, C.J., Du Toit, S.J. & Booysen, C.M. 1981. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Tweede uitgawe, tweede druk. Johannesburg & Kaapstad: Perskor.
Visagie, J.A.G. 1988. Fasette van T.T. Cloete se digkuns – ‘die bruin van die aarde en die blou van die hemel’. Klasgids 23(2), Mel:99-111.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Monday, January 11th, 2010
Ek is die tweede jongste van vyf broers.
My pa het besluit om uit die stad te trek die dag toe ’n buurman kom kla oor die kleilatmerke teen sy afgewitte huis waar dit na my pa se erf toe front.
Op ’n hoewe van sowat twee dosyn morg, 10 myl buite Bloemfontein, is met ’n hoenderboerdery begin.
Onder andere.
Want daar was ook ’n klompie beeste, ’n paar skape, varke, later selfs enkele volstruise. Lanings, lanings vrugteboom; lap op lap groentebedding.
Daar het ek die lewenslig die eerste keer aanskou.
Boeke was daar wel in die huis, waaronder drie romans wat my pa as jongman geskryf het. En die koerant is elke middag by Oom Piet Kotze se Kontantwinkel gaan haal. Maar ek kan nie onthou dat daar veel gelees is of veel kunsgenietery plaasgevind het nie.
Wat my helder voor die gees staan, is eerder goed soos Vrydae se hoenderslagtery – lawaaierig, bloedig en smerig van die geplukte vere – en die eierpakkery vir die volgende dag se mark.
Of soos die keer toe ’n koei sukkel om te kalf. Later gaan sy lê, moeg gespook met die verkeerd gedraaide fetus. Die veearts moet kom. Hy steek sy gewaste en met salf besmeerde arms tot by die elmboë agter in, en ’n halfuur later steier daai kalf op sy stywe, lomp pote orent, stamp-stamp aan sy uitgeputte ma se uier dat die bies spuit.
Ook iets soos die (streng verbode!) duikery in die kristallyne swart af van die diep watertenk bokant die leidam, onthou ek goed – ’n skrik- en wildheidwekkende ervaring vir ’n piekanien soos ek daardie tyd was.
Of die rottejagpartye met windbukse en flitse naweekaande, omdat die ongedierte nie net die hoedervoer in die hokke vreet nie, maar ook die eiers en selfs die lewendige kuikens.
Eers hier van my puberjare af het ’n paar dinge gebeur wat meer herkenbaar as “literêre” prikkels geld.
Meneer Alberts was in standerd 5 ons register- en Afrikaansonderwyser. Hy kon nogal lomp wees. En gou bloos. Eenkeer op ’n skooltoer Drakensberge toe gryp hy een van die onderwyseresse onverhoeds om haar deur ’n stroompie te dra, maar sy protesteer só dat hy haar van verbouereerdheid net daar in die middel van die driffie op haar watsenaam neerplak. Sý druipnat; hý tamatierooi.
Op ’n ander dag daardie selfde jaar lees hy egter C.M. van den Heever se “Waar ruwe rotse” in die klas voor dat die gekwelde droefheid van die pa wat sy eie kind, onredbaar vasgeknel in ’n rotsskeur, die genadeskoot moet toedien, voor ons lewe kry:
Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans ‘n aflooptraan.
“Vergeef my, God!” […]
Toe mnr. Alberts, blosend van die aangedaanheid, ná die weggalmende skot aan die einde opkyk – “’n vader staar” – kon jy ’n speld in die klas hoor val.
Op hoërskool het ek Duits as keusevak geneem. En in standerd sewe of agt reeds met Romantiese ballades en liedere soos Goethe se “Heidenröslein” en “Erlkönig”, en Joseph von Eichendorff se “Mondnacht” kennis gemaak. Toe my pa dit hoor, vra hy of ek weet hoe pragtig daardie gedigte deur komponiste soos Schubert en Schumann getoonset is. En daar grawe hy ’n pak 78-spoed-vinielplate onder uit die buffet in die eetkamer, ook ’n grammofoonkas, kompleet met opwen-slingertjie en klankversterkende horing.
Hy’t Duits gehad as hoofvak op universiteit. Goethe se “Ein Gleiches” kon hy nog uit die kop opsê.
Über allen Gipfeln
Ist Ruh,
In allen Wipfeln
Spürest du
Kaum einen Hauch;
Die Vöglein schweigen im Walde.
Warte nur, balde
Ruhest du auch.
En dan lag hy ná die voordrag so verleërig oor die blyke van romantiese sentiment…
Dit was omtrent ook die tyd dat ek die eerste keer verlief geraak het. En dat Pieta, die middelste van ons broers, vakansies met bundels vertaalde poësie van Pablo Neruda en Eugenio Montale van die universiteit af huis toe gekom het. Een skemeraand op die stoep het hy ’n nuut aangeskafde langspeelplaat van Simon & Garfunkel (Sounds of Silence) voorgespeel.
April come she will
When streams are ripe and swelled with rain
May she wil stay
Resting in my arms again
June she’ll change her tune
In restless walk she’ll prowl the night
July she will fly
And give no warning to her flight
[...]
Pieta was eintlik die kunssinnigste van ons broers. Selfs op skool ’n paar jaar lank klavier geneem. Maar ons ander het hom so ge-“sissie” dat hy dit naderhand laat staan het.
In standerd nege en in matriek het ek Engels gehad by wyle mev. Hélen Cilliers, skryfster van ’n hele paar gewilde kort- en vervolgverhale in tydskrifte van die jare sestig en sewentig. Sy was ‘n groot vrou en dikwels nie alte gesond nie (diabetes). Sy moes soms sít en klas gee. Haar spitsvondighede en taalratsheid het egter ons aandag so vasgegryp dat ons skaars die sittery agtergekom het. Sy het ook goed geweet van die muisneste wat ons gehad het. Daarom was Shakespeare se Romeo and Juliet die kelk waarmee sy ons aan die verwikkelde smake van die Engelse taal gewen het.
This bud of love, by summer’s ripening breath,
May prove a beauteous flower when next we meet.
Kort voor my pa se laaste siekbed – ek het toe al skoolgehou, hoofsaaklik Duits gegee – stop hy ’n veertig, vyftig jaar oue bundelmanuskrip in my hande. ’n “Studentesonde” uit sy pen, met potloodaantekeninge deur D.F. Malherbe daarop.
Weer die verleë laggie.
Ek hoef niks te sê of daarmee te maak nie. Hy gee dit maar net vir my, eerder as om dit in die vullisdrom te smyt.
Sowat twee jaar later, terwyl ek in die skool waaraan ek toe verbonde was se saal op en af loop om eksamentoesig te hou, lees ek steels uit ’n digbundel waaroor kort tevore lowende resensies in koerante en tydskrifte verskyn het. Die lesery tydens toesig is ons streng deur die skoolhoof verbied.
Naderhand kry ek nie meer my aandag by die skrywende kinders bepaal nie. En toe ek my weer kom kry, staan die skoolhoof oor my skouer en loer wat ek lees.
“Dit beter ’n boek goed genoeg wees om die verontagsaming van uitdruklike bevele te regverdig,” sê hy sag. “Kom lees vir my buite die saal, dat ek kan besluit.”
Die gedigte was toe goed genoeg om my skotvry daarvan af te laat kom – behalwe dat ek onder die voorlesery gloeiend moes gebloos het. Die bundel was van T.T. Cloete: Jukstaposisie.
Kort daarna het ek gaan inskryf vir verdere nagraadse studie in die Afrikaanse letterkunde.
Ek het intussen heelwat méér gedigte te lese gekry waarvan ek wens dat ek dit aan mnr. Alberts en Pa en mev. Cilliers kon voordra, al sou dit my verleë maak. Trouens, die verleë word – daardie weerloosstelling van die ontvanklike leser wat bewerkstellig word – het vir my ’n soort waarmerk geword wat sê: poësie.
Ook vir Pieta, wat toe nooit leer klavier speel het nie, sou ek gedigte en bundels wou aandra. Ek voel nog altyd dat ek hom (en Pa) ’n oortuigende digkuns skuld.
Nooit weer sal ek in die tenk by die leidam afduik nie. Maar elke keer as ek as leser my in die klare donkerte van ’n nuwe digbundel begewe, kry ek die ou sensasie.
En ek het ook al kon voel hoe ’n gedig verkeerd in ’n mens lê, soms ’n lang tyd, voordat dit die lig kan sien.
Ek het al opgemerk dat dinge wat aan mense vreet, ’n bietjie met poësie besweer kan word.
En slagting en vere wat waai – die kry ’n mens sommer op die koop toe in die literêre kritiek.
Thursday, December 3rd, 2009
Satelliet
1 Kyk maar, die arme satelliet
2 kan nooit aan die planeet ontvlug
3 en wíl ook nie: wat sou sy doen
4 diep in die eindelose lug?
5 Op lyn geslaan deur swaartekrag
6 het sy ten minste nou ’n baan,
7 sy moet, as sy ’n systap waag,
8 onmiddellik te pletter slaan.
9 Daarom dat sy aandagtig tol
10 en nougeset afstand bewaar,
11 geoefen in die wakker rol
12 wat lig in stand hou teenoor swaar.
13 Sy lei, soos dit ’n maan betaam,
14 sy oseane heen en weer,
15 vir haar part kan die heelal vergaan
16 terwyl sy op hóm konsentreer.
17 Res net ’n skrefie filigraan
18 – nuut noem hulle dit, maar ai, hoe oud
19 word sy by tye, klein en koud –
20 bly sy nog met hom in die weer.
Eybers is een van Afrikaans se heel belangrikste digters. Sy was soos Van Wyk Louw een van die Dertigers en het, naas gedigversamelings en enkele ander publikasies, uiteindelik 21 digbundels die lig laat sien voordat sy op 92-jarige leeftyd op 1Desember 2007 in Amsterdam oorlede is. Merkwaardig is voorts dat sy in Nederland, waar sy sedert 1961 gewoon het, net soos in Suid-Afrika vereer is as groot kunstenaar. Beide lande het hulle hoogste literêre eerbewyse aan haar toegeken (byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Hertzogprys en die Nederlandse P.C. Hooft-prys).
Een van haar uitstaande bydraes tot die Afrikaanse poësie is die wyse waarop sy die stem van die vrou laat opklink het: eers as jong meisie en toe as volwassene, as jong getroude vrou, as moeder, as belewer van die trauma van huweliksvervreemding en egskeiding, as middeljarige en as bejaarde. Dikwels teken sy die vrou as emosioneel en droomomwaas, in teenstelling met die logiese rasionaliteit en saaklikheid van die man. Veral in haar vroeër poesie staan die vrou boonop in vrywillige afhanklikheid tot die man. Later sou ’n duideliker verset teen sodanige stand van verhoudings en teen die verdeling van rolle intree.
Van laasgenoemde is die gedig “Satelliet” uit die bundel Bestand (1982) ’n voorbeeld.
Vrae
1. Watter aanduidings kan u in die gedig vind dat daar (waarskynlik) van ’n vrou en ’n man sprake is?
Daar word van ‘n “sy” en ‘n “hy” gepraat (reëls3,6,7,9 ensovoorts).
2. Waar Eybers aanvanklik in die trant van die Dertigers hoofsaaklik direkte belydenisverse geskryf het, “ontwikkel haar verse (mettertyd) tot objektiewe beelding en beskouings van lewensmomente” (Nienaber, Roodt en Snyman, 1994:91) – hoewel ’n resensent soos Tim Huysamen (1983:34) in Eybers se bundels sedert Tussensang (1950) by Eybers ’n “terugkeer” bespeur “na die persoonlike, selfs belydenis-, poësie van haar vroegste bundels”, met “Satelliet” as eintlik die enigste “gestaltegedig” in Bestand. Verduidelik kortliks wat die sentrale beeld in die gedig is en sê ook waarvan dit ’n beeld is.
Die sentrale beeld is die van ’n maan wat as satelliet op ’n vaste baan om ’n planeet bly wentel, en slegs met katastrofiese gevolge daarvan kan losraak. Dit beeld die verhouding tussen man en vrou uit, waar die vrou in vrywillige (vergelyk reël3) afhanklikheid van die man as meerdere (vergelyk reël12) bly leef en haar na hom skik (strofe 4, byvoorbeeld).
3. Hoewel die vrou vrywillig afhanklik bly van die man, is sy tog steeds ’n soort gevangene van die verhouding. Haal woorde uit die gedig aan wat sodanige gevangenskap impliseer.
”[K]an nooit [...] ontvlug [...] nie” (reëls 2-3); “[o]p lyn geslaan” (reël 5); selfs “soos dit ’n maan betaam” (reel 13).
4. Is daar dalk aanduidings dat ’n ontsnapping aan die verhouding oorweeg is of word? Toon dit aan.
Ja. Dat die vraag ontstaan wat van die “satelliet” sou word indien sy van die planeet ontvlug, is ’n aanduiding dat so ’n ontvlugting oorweeg is (strofe 1). Eweso as daar in strofe 2 die opsie genoem word van ‘‘’n systap waag” van die vaste baan af. Wat haar weerhou daarvan om weg te breek, is taamlik negatiewe oorwegings: die vrees vir eensaamheid (reël 4) en vernietiging (reël 8). Sy is klaarblyklik nie juis positief aangetrokke tot die verhouding nie.
5. Het die spreker simpatie met die vrou (die “satelliet”)? Staaf u antwoord uit die gedig.
Ja, die woord “arme” in versreël 1 druk dit direk uit, asook die uitroep en die tekening van haar erbarmlike toestand in versreëls 18-19. Strofe 1 en versreëls 18-19 is ook die twee plekke in die gedig waar dit die duidelikste blyk dat dit eintlik om die uitbeelding van ’n menslike toestand gaan, en nie om die hemelliggame nie. Nog sterker as in die res van die gedig gryp die spreker in om sy/haar eie ingesteldheid te laat blyk. Dit het tot gevolg dat die beelding hier eintlik ’n bietjie oneg word, dat die metafoor nie heg ‘sluit’ nie. Die maan kan byvoorbeeld nie regtig “wíl” soos ’n mens nie (reël 3), net soos wat “nuut en “oud [...] by tye, klein en koud” (reel 18-19) nie in alle opsigte ewe gemaklik op die vrou sowel as die maan van toepassing gemaak kan word nie.
Indirek blyk die simpatie van die spreker natuurlik ook uit die keuse van die sentrale beeld om die verhouding uit te druk. Dit is ‘n beeld wat onontkombare vasgevangenheid en onderworpenheid (wil) suggereer. H.C.T. Müller (1982:35) wys egter op nog ’n onoortuigendheid in die beelding in hierdie verband: “Daar is ’n mate van inbreuk op die fyn, veelduidige balans van die parallel in [reëls 15 en 16]. Dis of, gesien binne die vers as geheel, die menslike (vroulike) handelswyse te dominant word in die verhouding met die satelliet wat die rol van die metaforiese beelddraer aangeneem het.” Met ander woorde: Daar is iets teenstrydigs daarin dat die vasgevange en onderworpe vrou (en maan) vasbeslote en teen alle omringende kragte in blý fokus op die man (aarde). En, aansluitend by die kritiek op die beelding in reëls 3 en 18-19 hierbo: Die deur middel van personifikasie aangeduide optrede van die vrou oorskry hier té duidelik die grense van waartoe die (in werklikheid willose) maan in staat is.
6. Hoewel nie openlike opstandigheid nie, is daar dus tog ’n duidelike toon van onvrede met die vrou se posisie in die man/vrou-ver houding wat uit die gedig spreek. Dis asof die spreker die leser wil konfronteer met ’n gegewe wat duidelik genoeg van ’n misstand spreek. Waaruit blyk die appèl op die leser se oordeel die duidelikste?
Uit die bevelsvorm (“Kyk maar”) en die retoriese vraag “wat sou sy doen / diep in die eindelose lug?”) in strofe 1. Die woord “maar” in die bevel het ongeveer die betekenis van “gerus”, waardeur die vanselfsprekendheid van die situasie soos verder in die gedig beskryf, onderstreep word. Die retoriese vraag rig nie slegs ’n appèl aan die leser om saam na te dink nie, maar impliseer eweneens die onontkombaarheid van die posisie waarin “die arme satelliet” haar bevind.
7. Die ondertoon van onvrede word ook duidelik gemaak deur die benutting van die dubbele implikasies van bepaalde woorde/uitdrukkings, in besonder deur die spel tussen letterlike en figuurlike betekenisse in die metaforiseringsproses. Gaan sodanige voorbeelde na en verklaar die verskillende implikasies. (Let terselfdertyd op die nuutmaking van sekere geykte uitdrukkings.)
- “Op lyn geslaan deur swaartekrag” (reël 5) – letterlik: deur swaartekrag in ’n vaste baan gehou; figuurlik: deur konvensie (aangaande die huwelik?) gebind aan die man, in ’n ondergeskikte rol teenoor die van die oorheersende man geplaas.
- “[H]et sy nou ten minste ’n baan” (reël 6) – letterlik: het die maan darem ’n vaste wentelbaan in plaas daarvan om koersloos deur die heelal te dryf; figuurlik: het die vrou darem ’n bepaalde plek en rol in die samelewing. (In Nederlands beteken om ‘n “baan” te hê ook om ’n betrekking/werk te hê.)
- “[A]s sy ’n systap waag” (reël 7) – letterlik: as die maan sou durf om van die wentelbaan af te wyk; figuurlik: as die vrou sou durf anders optree as wat die konvensie vir haar voorskryf, of ook as sy sou durf om uit die verhouding los te breek.
- “[N]ougeset afstand bewaar” (reël 10) – letterlik: noukeurig in die wentelbaan bly; figuurlik: oppas om nie té intiem betrokke te raak by die man se aangeleenthede nie. (Straks ook wat betref hulle eie verhouding?)
- “[G]eoefen in die wakker rol” (reël 11) – letterlik: bedrewe en bedag in die volg van die wentelbaan; figuurlik: al gewoond om haar te kwel (snags wakker te lê) oor hulle verhouding.
- “[L]ig in stand hou teenoor swaar” (reël 12) – letterlik: die minder massale maan in sy baan hou om die groter planeet; figuurlik: die minder belangrike vrou ‘op haar plek hou’ in die verhouding met die belangriker man.
- “Sy lei [...] sy oseane heen en weer” (reël 13-14) – letterlik: die maan veroorsaak deur haar aantrekkingskrag dat daar verskillende getye ontstaan; figuurlik: soos wat daar van haar as vroulike wederhelf verwag kan word, sien sy om na sy verskillende behoeftes, of streel/stuur sy op vroulik slinkse manier sy gedagtes / gemoedstemminge in gunstige koerse.
- “Res net ’n skerfie filigraan:” (reël 17) – letterlik: as net ’n fyn sekelmaantjie oorbly; figuurlik: as net ’n bietjie van haar vroulikheid/skoonheid oorbly. (Filigraan = “fyn edelsmeewerk, veral uit goud en silwer, met die voorkoms van kantwerk” – Odendal et al., 1994.)
- “[B]ly sy nog met hom in die weer” (reël 20) – letterlik: bly die maan en die planeet mekaar se meteorologiese omstandighede beïnvloed; figuurlik: bly die vrou met die man besig wees. (Die uitdrukking “in die weer wees” beteken op en besig wees; kyk Barnes, s.d: 240.)
8. Verklaar wat die uitdrukking “hoe oud word sy by tye, klein en koud” (reël 18-19) aangaande die vrou se geestestoestand suggereer.
Dat haar ervaring van die verhouding tussen man en vrou soms net te veel vir haar word, haar lewenslus blus, haar vernederd en geestelik afgestomp laat voel.
9. Gaan die rymskema in die gedig na en probeer die funksionaliteit daarvan verklaar in terme van wat geïmpliseer word aangaande die vrou se ervaring van die huweliksverhouding.
Die basiese rympatroon is kruisrym, wat ’n besonder hegte rympatroon is. Dit is funksioneel om die onverbiddelikheid van die sosiale konvensies aangaande die huwelik en die rolle van man en vrou daarbinne te suggereer, asook die ervaring van vasgevangenheid binne hierdie konvensies deur die vrou.
Daar is egter ’n aantal afwykings op die rympatroon. In strofe 1 rym versreëls 1 en 3 nie. In strofe 2 is die rym tussen reëls 1 en 3 nie heeltemal vol nie, soos ook in strofe 4. In die slotstrofe is die afwyking selfs meer ingrypend, deurdat ons hier slegs paarrym van die twee binneste versreëls vind.
Al die afwykings kan as ’n soort sigbaarmaking van die ondertoon van onvrede (in die vroulike gemoed) oor die konvensies aangaande die huweliksverhouding gesien word, miskien selfs as tekenend van die wankele voet waarop die konvensionele beskouings oor die huweliksverhouding berus.
10. Verklaar hoekom die titel bloot “Satelliet” heet, en nie byvoorbeeld “Planeet en satelliet” nie.
Die vroulike ervaring van die huweliksverhouding staan in fokus, en nie soseer die man/vrou-verhouding self nie.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Bronnelys
Barnes, A.S.V. Sonder datum. Afrikaanse spreekwoorde, gesegdes, en ander uitdrukkinge. Tiende druk. Elsiesrivier: Nasou Beperk.
Huysamen, Tim. 1983. Eybers maak hier vrede met ’n hele lewe. Rapport, 30 Januarie:34.
Müller, H.C.T. 1982. “Weloorwoë, sonder nood of haas …” Buurman 13(2), Desember 1982/Januarie 1983:35.
Nienaber, P.J.; Roodt, PH.; en Snyman, N.J. (samestellers). 1994. Digters en Digkuns. Vyfde uitgawe, eerste druk. Midrand: Perskor-uitgewers Beperk.
Odendal, F.F. (hoofred.); Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; Du Toit, S.J.; en Booysen, C.M. 1994. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Derde, hersiene, uitgebreide uitgawe, eerste druk. Midrand: Perskor-uitgewers Beperk.
Thursday, November 19th, 2009
Skoppensboer
I.
’n Druppel gal is in die soetste wyn;
’n traan is op elk’ vrolik’ snaar,
in elke lag ’n sug van pyn,
in elke roos ‘n dowwe blaar.
Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag
is Skoppensboer.
II.
Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.
Net pagters ons
van stof en dons
om oor te voer
aan Skoppensboer.
III.
Die heerlikheid van viees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in ’n goue gloed:
die dagbreek op elk’ sagte wang
en oge vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly:
Want swart en droef,
die hoogste troef
oor ál wat roer,
is Skoppensboer.
IV. L’Envoi
Gewis is alles net ’n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met ’n lamfer-lap
wat selfs die son ’n skadu gee.
Wat treur ons tog?
Viool en fluit maak nog geluid;
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
Dus onverlee
lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer!
· Eugène N. Marais
Marais is saam met Toon van den Heever, A.G. Visser, J.R.L. van Bruggen en H.A. Fagan digters van die sogenaamde Tweede Geslag. Kannemeyer (1978: 221) skryf soos volg oor hulle: “In teenstelling tot Celliers, Totius en Leipoldt, wat tot ongeveer 1920 sterk op die nasionale as boustof vir hulle poësie steun, is die digters wat vanaf 1917 aan die woord kom maar veral in die twintigerjare publiseer, oorwegend ’n kenteringsgeslag [...]. (Daar is) sprake van ’n groter indiwidualisme deur die persoonlike worsteling en aandoening, ’n dieper verkenning van liefde en erotiek en soms ‘n afwysing van die tradisionele geloof deur ’n (aarselende) geding-met-God.”
Hulle digkuns wys trouens vooruit na dié van die Dertigers (W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Uys Krige), ’n geslag digters wat die Afrikaanse poësie tot volwassenheid sou opvoer.
Marais en Van den Heever het indertyd gedigte geskryf wat nie gemaklik gepas het in die tradisionele lewensbeskoulike en ervaringswêreld van die meeste Afrikaanse lesers nie. Kritzinger (1938: xii—xiii) praat in dié verband van indiwidualistiese, “vreemde” sentimente wat in hul verse geopenbaar is. Marais is byvoorbeeld vir “swartkykery” en “pessimisme” verwyt (Lindenberg, s.d.: 208), en die gedig “Skoppensboer” is as belangrikste bewys aangevoer.
Die gedigtitel verwys letterlik na die hoogste troefkaart in ’n sekere kaartspel, maar in die gedig is dit, soos tradisioneel die geval is, simbolies van “onheil en dood” (Ohlhoff, 1999:57). Die dood word in die gedig as uiteindelike triomfeerder oor alles voorgestel. Daarom is daar ’n skadukant aan al ons genietinge (strofe I), is alle rykdom net ydelheid (strofe II), is alle lyflike genot en skoonheid verganklik (strofe III). Die besef noop egter nie tot droefheid en vrome inkeer nie; in die slotstrofe word ons opgeroep tot oorgawe aan wat nog oorbly van die aardse genietinge.
Die gedig is volgens ’n baie ou digsoort geskryf, naamlik die sestiende-eeuse Franse ballade. Die tradisionele vorm word egter nie alte getrou gevolg nie. Dit is wel in ’n betogende (= redenerende, bewysvoerende) trant en bestaan uit drie strofes en ’n finale opdragstrofe, waarin ’n refrein telkens voorkom. Die strofes is egter nie almal agtreëlig nie en die refrein is nie deurgaans dieselfde soos die tradisionele stokreël nie. Die L‘Envoi (’n direkte aanspreking van die vors, of van die regter in Middeleeuse literêre kompetisies; selfs van God – Grové, 1992:17) bevat ook geen werklike opdrag nie.
Tog is die vorm effektief benut om eerstens deur die herhalings die altyd teenwoordige bedreiging van die dood, en tweedens deur die opstapeling van kontraste die verskeurdheid van ons aardse bestaan te beklemtoon.
Hoewel die gedig destyds by sy verskyning (dit is die eerste keer in Die Brandwag van 25 Mei 1921 gepubliseer) as indiwidualisties en religieus vertwyfeld ervaar is, is dit vir die moderne smaak ietwat opsetlik en retories. Soos Lindenberg (s.d.: 208) dit stel: “Lees mens die gedig [...] teen die agtergrond van ’n ou poëtiese tradisie, dan is die konvensionele in die gedagtegang en beeldspraak te sprekend om die gedig sonder meer te interpreteer as ’n persoonlike bieg. Eintlik is dit weinig meer as die eeue-oue sug van ‘alle vlees is gras’ en die aansporing om intussen die genot van die oomblik te gryp.” (Lees maar wat in die Bybelboek Prediker in hierdie verband geskryf staan.)
Die gedig het nogtans ’n “klassieke” in die Afrikaanse letterkunde geword, weens sy literêr-historiese waarde bekend by baie mense.
1. Die gedig is vol teenstellings van lig en donker, geluk en smart” (Cloete, 1985: 7). Toon sodanige teenstellings volledig aan en formuleer in jou eie woorde wat die digter so wil beklemtoon.
Leerlinge sal die teenstellings maklik vind. Die digter wil beklemtoon dat die positiewe steeds deur die negatiewe bedreig of geneutraliseer word.
2. Sekere kritici het die reël “en lank die nag wat voorlê nog” (slotstrofe) geïnterpreteer as ’n sinspeling op die ewige nag (= die dood) wat voorlê. Stem jy saam? Motiveer.
Nee. Cloete (1985: 7-8) skryf in hierdie verband: “Weens daardie ‘nog’ (ook soos dié woord in ander verse in dieselfde strofe gebruik word) moet ons dit verstaan as troosgedagte dat die feesnag nog lank is (ook volgens strofe 1 vind die fees in die nag plaas).”
3. Cloete (1985: 7) skryf dat, hoewel die teenstellings in die gedig oppervlakkig is, hulle egter almal in die teken van ’n veel dieper teenstelling staan, “wat sinvol is deurdat dit ironies is: daar word feesgevier met wyn, musiek, gelag, rose, sinlikheid en kaartspel, om die donker te verdryf, máár – die fees vind in die nag plaas”. Hoe sou jy hierdie “diepere” teenstelling wat Cloete in gedagte het met twee enkelwoorde beskryf? Dink jy dis ‘n geldige interpretasie, gesien in die lig van wat jou antwoord op vraag 2 hierbo was?
Lewe teenoor dood. Ja, die bedreigende negatiewe kan in hierdie gedig as die dood geïnterpreteer word. “Skoppensboer” word dikwels simbolies van die dood gesien. In die gedig is dit vrolikheid, skoonheid, sintuiglike genietinge, aardse oorvloed – die dinge wat gewoonlik met “lewe” vereenselwig word – wat daardeur bedreig word.
4. Lindenberg (s.d.: 208) is van mening dat die beelde in die gedig “retories” is en dat by hulle “’n sintuiglike basis ten ene male ontbreek”. Stem jy saam?Motiveer jou antwoord met voorbeelde uit die gedig.
Ja en nee. Die beelde is oorwegend geyk, met uitsondering van miskien die volgende: “Alreeds begint die rimpel sny” (strofe III). Dit is egter nie waar dat die beelde nie ’n sintuiglike basis het nie. Vergelyk selfs retoriese beelde soos “’n (d)ruppel gal is in die soetste wyn”, “in elke roos ’n dowwe blaar”, “oge vol van sterreprag”, ensovoorts. Dalk vat die volgende woorde van Kannemeyer (1978: 229) die hedendaagse leser se oordeel oor die gedig goed saam: “Alhoewel die gedig nie sonder sy bekoring is nie en deur sy sterk sinisme in sy tyd iets nuuts in Afrikaans was, is die beeldspraak konvensioneel en word die vers in hoofsaak gedra deur die onderliggende teenstelling tussen die aardse heerlikhede en die verganklikheidsmotief.”
Bernard Odendaal, Universiteit van die Vrystaat
Bronnelys
Cloete, T.T. 1985. Gids by D.J. Opperman se Senior Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Grové, A.P. 1992. Ballade. In: Cloete, T.T. (red.). Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-literêr.
Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Band 1. Kaapstad en Pretoria: Academica.
Kritzinger, M.S.B. 1938. Eugéne N. Marais as digter. In: Versamelde gedigte van Eugéne N. Marais. Pretoria: J.L. van Schaik-uitgewers Bpk.
Lindenberg, E. (Sonder datum.) Profiel oor Eugéne N. Marais. In: Nienaber, P.J. (samest.). Nuwe hersiene uitgawe. Perspektief en profiel. ’n Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde.Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. Bladsye 205-214.
Ohlhoff, Heinrich. 1999. Perspektief op die Afrikaanse poësie: die poësie van voor 1900 tot 1960. In: van Coller, H.P. (red.) Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria. J.L. van Schaik. Bladsye 21-243.
Wednesday, November 11th, 2009
Die lied van die gebreekte riete
1 Die wind uit die Torwana-berge
2 het haar skoot vol mos
3 Sy dra ’n slapende kind
4 sy siteer die sterre
5 met die stem van breë waters
6 teen die wit gebeente van die dag
7 Die wind uit die Torwana-berge
8 oewerloos sonder horison sonder seisoene
9 het die gesig van alle mense
10 het die aalwyn van die wëreld voor haar bors
11 het die lam van alle vreugde oor haar skouer
12 en die laksman van elke dagbreek in haar oë
13 Die wind uit die Torwana-berge
14 met haar skoot vol mos
15 dra ’n slapende kind
16 dra ’n nag van distels
17 dra ’n dood sonder duisterheid
18 en waai deur die gebreekte riete
· Ingrid Jonker
Saam met ’n digter soos Peter Blum is Ingrid Jonker een van die wegbereiders van die vernuwing in die Afrikaanse poësie wat in die negentien-sestigerjare ingetree het.
’n Paar van die opvallendste kenmerke van Jonker se digwerk is die tot liriek omgestileerde spreektaligheid en die liedagtige kwaliteit daarvan. Daarby kom die dikwelse benutting van mitiese en volksliedagtige gegewens, die assosiatiewe eerder as tekenende beeldspraak, “die inkanterende gebruik van die herhaling [...] en afwesigheid van interpunksie, wat tot verrassende jukstaposisies en funksionele dubbelsinnighede lei” (Kannemeyer, 1983:286).
In die bundel Rook en oker (1963), waarin “Die lied van die gebreekte riete” verskyn het, is Jonker kennelik deur die Nederlandse Vyftigers en die Franse surrealis Eluard beïnvloed. Hierdie invloede het ’n wegswaai van die “dwang van die bewaakte denke [...] die tirannie van ’n logiese, estetiese, sosio-morele bewussyn” behels (Meiring, 1992:513). Haar poësie is daarom ryk aan die assosiatiewe beelde wat nie altyd logies beredeneer is nie; die vryeversvorm en die tipografie word deur haar benut, terwyl die leestekengebruik meestal agterweë bly.
Van bogenoemde is “Die lied van die gebreekte riete” ’n redelik goeie voorbeeld.
Vrae
1. Die wind word in hierdie gedig gepersonifieer, en wel as vrou. Watter aanduidings is daar in die gedig dat die wind vroulik is?
Die voornaamwoorde sy en haar, die verwysing na die “skoot vol mos” (= vrugbaarheid) en die “slapende kind” wat sy dra.
2. Wat word alles aangaande die “wind uit die Torwana-berge” in strofe 1 meegedeel? Is daar dalk ’n gemeenskaplike noemer tussen al die beelde wat haar so kenmerk?
Dat sy ’n skoot vol mos het, ’n slapende kind dra, die sterre “siteer” en ’n stem het wat aan die geluid van “breë waters” herinner. Die gemeenskaplike noemer is waarskynlik vrugbaarheid of lewegewendheid. Die “skoot vol mos” en die kind wat sy dra suggereer dit redelik pertinent. Sterre as die lig- en energiekerne van sonnestelsels en water as lewensnoodsaaklike element is egter ook hiermee in verband te bring, hoewel nie so direk nie.
Die beelde kan egter ook ander betekenisassosiasies hê. Sadie (1978:386-387) skryf byvoorbeeld die volgende: “As draer van die slapende kind word sy (= die wind — BJO) ’n soort troosterfiguur, die versorgende en sorgsame, maar dit is net een van haar eienskappe. Sy is betrokke by die kosmiese sowel as by die aardse kleinighede; sy versoen uiterstes en teenstrydighede. So stel sy — met die stem van breë waters — die sinrykheid van die ewige sterre, simbool van hoop vir die mens in die duisternis, teen die wit gebeente van die dag.”
3. Hoe moet “siteer” in versreël 4 geïnterpreteer word?
Nie as “aanhaal” nie, maar eerder as “suggereer”, “laat dink aan” of “herinner aan”. (Kyk Driesse, 1971:84.)
4. Hoe kontrasteer “die wit gebeente van die dag” met die res van die beelde in strofe 1?
Teenoor die beelde van vrugbaarheid en lewenskrag staan hierdie beeld wat totale gestrooptheid en doodsheid oproep. Die wind word in hierdie strofe dus as ’n positiewe teenvoeter vir die doodse dag geteken.
5. Gaan nou die beelde in strofe 2 na. Skryf neer wat hier aangaande die wind gesê word, en probeer ook ’n gemeenskaplike noemer hier vind.
Dat dit onbegrens is wat ruimte en tyd betref (“oewerloos sonder horison sonder seisoene”), dat dit alle mense verteenwoordig (derde versreël), dat dit die bitterheid (en/of skoonheid — kyk Sadie, 1978:387) van die wêreld inhou (vierde versreël), maar ook “alle vreugde” (versreël 5) en die doodsdreiging “van elke dagbreek” (versreël 6). (Beklemtoning deur my — BJO.) Die gemeenskaphike noemer hier is waarskynlik iets soos onbegrensdheid (Driesse, 1971:82), omvattendheid of algemeen-geldigheid.
6. Die wind hou dus sowel positiewe as negatiewe dinge in. [Dis iets wat nogal kenmerkend van Jonker se poësie is: die “kierang-spel in lewe en liefde” (Nienaber, Roodt en Snyman, 1994:138).] Toon aan hoe hierdie teenstellings ook in die derde, ‘samevattende’ strofe tot uitdrukking kom.
Vrugbaarheids- (reëls 2 en 3) sowel as ondergangsbeelde (reëls 4 en 5) kom in hierdie strofe voor. In versreël 5 van hierdie strofe staan die teenstellings selfs paradoksaal langs mekaar: “’n dood sonder duisterheid”.
7. Watter assosiasies ward na jou mening deur die beeld “n nag van distels” opgeroep?
Waarskynlik dinge soos onheil, teistering en pyn, selfs iets soos ’n doodsworsteling.
8. Toon die semantiese ooreenkomste aan tussen die slotreëls van die eerste drie strofes.
Dood/doodsdreiging word in al drie gesuggereer, maar telkens staan dit paradoksaal in verband met lig/dag.
9. Probeer nou sê waarvan die wind in hierdie gedig ’n beeld af simbool is.
Omdat dit mitiese kwaliteite aanneem en uitgebou word tot simbool, is dit moeilik om met ’n enkele woord te sê. Die surrealistiese beelde, wat die grense van die logiese oorskry en teenstrydighede soos die tussen lewe en dood ophef, dra by daartoe om die presiese betekenis moeilik uitsegbaar te maak. Dit verteenwoordig in elk geval iets soos ’n lewegewende krag wat, ten spyte van beproewings en doodsdreigings, tot ’n oorstyging of sublimering van die immanente dood lei.
Sadie (1978:387) stel dit só: “Met haar ‘gesig van alle mense’ verteenwoordig sy die universele rnenslikheid, maar as draer van jong lewe — die slapende kind — en draer van ’n dood sonder duisterheid styg sy uit bo die bloot menslike. Haar portret, uiteindelik, is die van ’n bonatuurlike wese, ’n soort argetipiese vrouefiguur, wie se invloed onrneetlik wyd uitstrek.” Ook Van Wyk (1999:31) skryf dat die wind “bo die menslike” uitstyg.
Waarskynlik sluit ook die verwysing na die “Torwana-berge” by hierdie mitiese inslag aan. In ’n brief aan Uys Krige gedateer Augustus 1959 (opgeneem in Metelerkamp2003:94-95) skryf Jonker uit Johannesburg dat sy die gedig geskryf het “na ’n toertjie na die fantastiese Torwana-berge”. ’n Mens soek egter tevergeefs na die Torwana-berge in atlasse soos Reader’s Digest Atlas of Southern Africa (1984), The Reader’s Digest Great World Atlas (1981) en Dorling Kindersley se Wêreldatlas (1998), of selfs in ’n Suid-Afrikaanse reisgids soos Erasmus (1995) se Op pad in Suid-Afrika. Is dié berge ’n versinsel van Jonker, of ’n naam wat sy gegee het aan berge wat eintlik onder ’n ander naam bekendstaan?
10. Probeer ook die slotstrofe in die lig van bogenoemde verklaar. Sê m.a.w. wie/wat die “gebreekte riete” kan wees, en verduidelik ook of “waai” iets positiefs soos heling, of iets negatiefs soos vernietiging impliseer.
In die lig van die bogenoernde interpretasie moet die riete in die slotstrofe as die ontvanger(s) van die lewegewende krag (soos versimboliseer deur die wind) gesien word. Die riete is “gebreek”, dus beskadig of verwond, en kan sowel die natuur as die mens, of selfs ’n of die mens se innerlike verbeeld. Die personifiëring van die wind in die res van die gedig regverdig die interpretasie dat die riete ook iets mensliks kan verteenwoordig.
Die “waai” van die wind impliseer dus waarskynlik iets soos heling of onderskraging.
Dit moet egter weer gesê word dat die simboliek nie eenduidig hoef te wees nie, om dieselfde redes as in antwoord 9 genoem. Sadie (1978:388-389) wys byvoorbeeld daarop dat die “gebreekte riete” verband kan hou met die uitdrukking “’n geknakte riet”, waarmee verwys word na ’n persoon waarop ’n mens nie kan staatmaak nie. Sy haal in dié verband tekste uit 2 Konings 18:21 en Jesaja 36:6 aan. Sy noem ook dat die Engelssprekende Suid-Afrikaanse skrywer Jack Cope verklaar het dat Jonker die gedig geskryf het na aanleiding van ’n uitdrukking wat hy gebruik het. Hy het naamlik gesê dat hy sukkel om sy twee kinders groot te maak en op te voed, dat “I’m just like an old broken reed”. (In die reeds vermelde brief van Jonker aan Uys Krige skryf sy egter: “Jack het ’n maand gelede aan my geskryf ‘ Uys thinks you’re a broken reed,’ wat ’n baie groot indruk op my gelaat het, en ek het ’n gedig geskryf van die gebreekte riete[.]”)
In die lig hiervan verklaar Sadie dan: “Daar is niks in die gedig wat aantoon dat die wind die oorsaak is van die breek van die riete nie, dit waai net deur die riete. Miskien is dit juis die gesuis van die wind deur die riete wat die ‘lied’ in die titel van die gedig verskaf. In elk geval is daar kontak tussen wind en riete, waardeur die riete as’t ware bewus gemaak moet word van die onbegrensde, veel omvattende vroulike persoonlikheid, ongebonde deur tyd of ruimte: die versorgende en versoenende teenwoordigheid.”
11. Toon aan dat die gedig basies uit sesreëlige strofes opgebou is.
Die eerste twee strofes is sesreëlig, en as die enkelreëlige slotstrofe as deel van die derde gesien word, kan eintlik gesê word dat die gedig uit drie sesreëlige strofes bestaan. Sadie (1978:388) toon aan dat die gedig inderdaad eers só in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer was. Die uitplasing van die slotreël om ’n selfstandige strofe te vorm, het ’n sterk beklemtonende en ook klimaktiserende funksie.
12. Driesse (1971:79-81) het onder andere ernstige bedenkinge oor die gepastheid en funksionaliteit van die gedigtitel. Volgens hom gaan dit in die gedig eintlik nie oor die riete nie, maar is die wind die hooffiguur.
Om iets van die wind in die titel te gehad het, sou dus meer gepas gewees het. Bowendien wonder hy wie dan nou eintlik die “lied” sing waarvan daar in die titel sprake is. Die riete, of iemand anders? Ook is die woordjie “van” hier vir horn dubbelsinnig. Beteken dit “oor”, “in verband met” of selfs “deur”? En waarom is die riete “gebreek”? Wat/wie het dit veroorsaak? Daar is volgens hom nie aanduidings in die gedig wat hierdie vrae beantwoord nie.
Neem nou alles wat tot dusver oor die gedig gesê is in ag, en gee dan jou opinie oor die funksionaliteit, al dan nie, van die titel wat Jonker gekies het.
Op eerste sig lyk dit of Driesse wel ’n punt of twee beet het. Miskien het Jonker self iets van Driesse se eerste beswaar aangevoel en deur die uitplasing van die slotreël gepoog om groter prominensie aan die riete te verleen. Dit is wel so dat die wind eintlik die gedig oorheers.
Maar wie sing inderdaad die “lied”? Dit kan net dui op die geluid wat die wind maak as dit deur die riete waai. Só gesien, moet die “van” in die titel geïnterpreteer word as “deur”. Dit is ’n lied deur die riete oor die “wind uit die Torwana-berge”. Omdat dit ’n wind is met ’n oorwegend positiewe uitwerking, moet dit dus as ’n soort loflied gesien word, ’n getuienis deur die verwondes en versukkeldes van ’n helende, onderskragende krag.
In die lig hiervan is die titel dus nie onvanpas nie. Die wind is die oorheersende faktor, maar die bestaan en uitwerking daarvan word eintlik slegs rugbaar in “die lied van die gebreekte riete”.
Die parallelistiese sinskonstruksies en ander herhalings (beelde, woorde) dra die “lied”-karakter van die gedig. Saam met die sesreëlige strofebou bewerkstellig dit ’n patroonmatigheid en reëlmaat wat liedagtig aandoen. Dit verbaas dus nie dat “Die lied van die gebreekte riete” een van die Jonker-gedigte is wat op treffende wyse getoonset kon word deur Chris Chameleon vir sy gewilde CD Ek herhaal jou (2005) nie.
Bernard Odendaal, Universiteit van die Vrystaat
Bronnelys
Chameleon, Chris. 2005. Ek herhaal jou. Suid-Afrika: Rhythm Records.
Driesse, O.E. 1971. Die poësie van Ingrid Jonker. M.A.-verhandeling. Universiteit van Kaapstad.
Erasmus, B.P.J. 1995. Op pad in Suid-Afrika. Johannesburg: Jonathan Ball Uitgewers.
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Band 2. Kaapstad en Pretoria: Academica.
Kindersley, Dorling. 1998. Wêreldatlas. Londen: Dorling Kindersley Limited.
Meiring, E. 1992. Surrealisme. In: Cloete, T.T. (red.). Literére terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr. Pp. 512-514.
Metelerkamp, Petrovna. 2003. Ingrid Jonker: Beeld van ’n digterslewe. Hermanus: Hemel & See Vermont.
Nienaber, P.J.; Roodt, P.H.; en Snyman, N.J. (samestellers). 1994. Digters en Digkuns. Vyfde uitgawe, eerste druk. Midrand: Perskor-uitgewers Beperk.
Reader’s Digest. 1981. Great World Atlas. Kaapstad: The Reader’s Digest Association South Africa.
Reader’s Digest. 1984. Atlas of Southern Africa. Londen, New York, ensovoorts: The Reader’s Digest Association.
Sadie, E. 1978. Ingrid Jonker— ’n monografie. D.Phil-proefskrif, Universiteit van Natal, Pietermaritzburg.
Van Wyk, Johan. 1999. Gesig van die liefde: Ingrid Jonker. Durban: Selfuitgawe.
Thursday, October 29th, 2009
Hiermee ’n volgende aflewering in die reeks gedigontledings, bedoel vir onderrig op hoërskoolvlak.
*****
(“die geheue ’n kou vol voëltjies”) – Plato
partykeer (maar gelukkig byna elke dag) laterig in die middag
net voordat dit aand word (die donkerte val geruisloos en snel)
is daar ’n voëltjie iewers hier buite en bo onder die afdak
wat die katloop op hoogte van die selvensters
waar die bewaarders snags met flitsligte en gewere patrolleer
moet beskerm,
is daar ’n voëltjie met ’n skoon deurdringende geluid –
ek hou my asem vas uit vrees dat ’n argelose wag
of die holknars van ’n staaldeur wat sluit
die besoeker sal verwilder,
want met al die ore en die holtes van my liggaam en verlange
wil ek glo dat dit jy is, wil ek jou my naam hoor roep,
in die stilte bly knoop ek ’n dialoog, roep nog één keer
dan is dit ’n teken, dan is dit nuus.
geveerde, kleintjie, jy met die ruime noot van buite,
ek het jou nog nooit gesien nie – is jy rooi? is jy grys?
of het jy werklik háár donker oë, haar skouers, die lippe
om haar mond, die warm plekkies agter haar ore?
ek sal my stilte in die hoek sit en knoop
sodat jy mag praat, enigiets, enigiets.
gisteraand, tydens die nagskof, het een van die wagte
(so jonk, nog ’n seun met ’n pet en die eerste sukkelsnor)
hier van bo deur die tralies my vertel
dat die owerhede beoog om die afdak tóé te maak
voor volgende winter, teen die koue.
en die ore en ruimtes van my liggaam het leeg geword,
want dán is die graf verseël,
en ek soek diep in my na jou stem:
Breyten Breytenbach, Voetskrif, 1976
Soos die aantekeninge by die gedig in die bloemlesing Versreise (Vermaak et al, 2001:135) verduidelik, is dié gedig geskryf toe Breytenbach in eensame aanhouding was. Hy is tronk toe gestuur omdat hy aan terroristiese bedrywighede skuldig bevind is. Sy verset teen die destydse regering se apartheidsbeleid het onder meer gespruit uit die feit dat hy met ’n Viëtnamese vrou, Hoang Lien (of Yolande), getroud was, ’n huwelik wat beskou is as ’n oortreding van die Ontugwet. Weens haar afkoms wou die apartheidsregering voorts nie ’n visum aan haar toestaan om Suid-Afrika te besoek nie.
Die gedig kan dus, na die voorbeeld van Van Vuuren (1999:279), as “tronkpoësie” getipeer word. Volgens haar is Breytenbach die hoofeksponent van sulke poësie in Afrikaans, maar verskil syne van die poësie van ander gevangenes deurdat die politieke betrokkenheid daarin nie op die voorgrond staan nie, maar wel die tema van “die konstante outsiderfiguur”. As resultaat hiervan skryf hy eerder “surrealistiese en neo-romantiese poësie” in die vyf bundels wat tydens sy gevangenskap (1975-1982) ontstaan het, naamlik Voetskrif (1976), Eklips (1983), (‘YK’) (1983), Buffalo Bill (1984) en Lewendood (1985).
“(‘die geheue ’n kou vol voëltjies’) – Plato” het in die eerste afdeling van Breytenbach se eerste tronkbundel verskyn, ’n afdeling waarin “naas liefdesverse en besinnings oor die aard van die woord en die digterskap veral gedigte oor die gevangenis, die situasie van die ek en die karige indrukke van die buitewêreld” opgeneem is; “’n (b)eduidende aantal verse handel oor die afwesige geliefde wat nogtans ’n belangrike kontak met die buitewêreld is” (Kannemeyer, 1983:485-486).
Breytenbach se uitbeelding van sy situasie in die tronksel in hierdie gedig roep, soos die gedigtitel, die beeld wat die antieke Griekse filosoof Plato van die menslike lewe en kennis gegee het in gedagte.
Soos onder meer Störig (1972:151-154) verduidelik, het Plato naamlik ’n onderskeid getref tussen die ewige Ryk van die Ideë (van die Grieks eidos of idea, oorspronklik “beeld, gestalte” – dus: vorme, soorte, algemene state van Syn) en die hiermaalse wêreld van die sintuie, waar die algemene Ideë uiting vind in partikuliere verskynsels, maar wat net afskaduwings is van die volstrekte, metafisiese werklikhede van die Ideë. Die afsonderlike dinge vergaan, maar as hulle ewige voorbeelde is die Ideë onverganklik.
Plato het die onderskeid probeer verklaar deur middel van sy beroemde grotvoorstelling. Mense, geslaan in boeie soos in ’n gevangenis, verkeer in die hiermaalse lewe in ’n soort onderaardse, grotagtige verblyf, wat ’n lang toegangsweg na die lig het, maar waarheen mense nie hul hoofde kan draai nie. Die lig straal af van ’n vuur bokant en ver agter hulle. Tussen die vuur en gevangenes, en bokant die gevangenes langs, loop ’n paadjie, met ’n muurtjie daarvoor. Agter die muurtjie dra mense allerlei voorwerpe, wat bo die muurtjie uitsteek. Sommige van die draers praat, ander swyg.
Wat die mense dus van mekaar en van die voorwerpe (verteenwoordigend van die aardse dinge) te wete kom, is soos die skadu’s wat op die rotswand teenoor hulle gewerp word en waarvan hulle sekere dinge uit die monde van die sprekende draers te hore kry. Hulle glo dat daardie afskaduwings en daardie beskrywings die dinge self is.
Die ewige werklikheid van die dinge, hulle Ideë, bestaan egter in die volle lig, en is té verblindend en té pynlik vir die mens om in hierdie lewe te aanskou.
Plato het egter verder gegaan en drie funksies van die menslike siel onderskei: denke, wil en begeerte. Die denke het sy setel in die hoof, die gevoel in die bors, die begeerte in die onderlyf. Alleen die denke, die gees, vorm die onsterflike bestanddeel van die siel. Die onsterflike siel het nie begin of einde nie en is wat wese betref één met die sogenaamde wêreldsiel. Dit is die deel van die mens waardeur hy deel het aan die Ideëryk. Al ons kennis is wederherinnering uit die oorspronklike wêreldsielstaat en uit die vroeëre beliggaminge (die reïnkarnasies) van die siel.
Daarom dat Plato die liggaam as die graf van die siel beskryf het. Die hiermaalse lewe is ’n gevangenis of ’n graf wat die metafisiese wêreld ontoeganklik maak.
Plato skryf voorts: “Omdat die siel onsterflik is en baie kere gebore, en omdat dit alle dinge wat hier en in die onderwêreld is, gesien het, is daar niks wat dit nie ervaar het nie. Dit is daarom nie verwonderlik dat dit in staat is om sig die deug en al die ander dinge te herinner, wat dit tog vroeër reeds geweet het nie. Want gesien die feit dat die gehele natuur onderling verwant is en die siel alles meegemaak het, is daar niks wat verhinder dat iemand wat maar aan ’n kleinigheid herinner word – iets wat by mense as leer bekend staan – al die vorige kennis uit homself vind nie, mits hy moedig is en onverpoosd in sy soeke. Want soeke en leer is geheel en al herinnering.”
Vrae
a) Toon aan watter elemente uit Plato se bogenoemde grotvoorstelling in Breytenbach sy gedig gebruik is, soms in aangepaste vorm.
Daar is eerstens die grot- of gevangenissituasie. By Breytenbach is dit egter ’n letterlike tronk wat ter sprake is, hoewel ook die bestaan van eensame opsluiting parallel gestel word aan Plato se siening dat die beperkinge van die hiermaalse lewe in die liggaam soos ’n gevangenis of ’n graf is. Vergelyk die tweede laaste versreël van die gedig, waarin die toegeboude sel bestempel word as ’n verseëlde graf.
Tweedens herinner die hoë selvensters en die loopgang (“katloop”) met sy afdakbedekking daarvoor aan die vuur ver en bokant die gevangenes in Plato se grot, asook aan die bemuurde paadjie bokant hulle waarlangs die draers van die voorwerpe beweeg het.
In Plato se voorstelling is daar derdens sommige van die draers wat praat. In Breytenbach se gedig word hulle enersyds vervang met die “voëltjie […] met ’n skoon deurdringende geluid”; andersyds met die jong wag wat later met die “ek” in gesprek tree om (onwetend) die slegte nuus aangaande die toebou van die loopgang mee te deel.
In die vierde plek word die vae afskaduwings van die onsigbare draers en voorwerpe teen die grotwand in Plato se uitbeelding, geëggo in die onsigbaarheid van die voëltjie (“ek het jou nog nooit gesien nie – is jy rooi? is jy grys?”) as teken van die afwesige, slegs herinnerde geliefde. Trouens, soos die gevangenes in Plato se allegorie die skadubeelde met die werklike voorwerpe vereenselwig, vereenselwig die spreker in die tweede strofe eintlik die voëltjie met die geliefde. As hy byvoorbeeld hier sê: “ek sal my stilte in die hoek sit en knoop/ sodat jy mag praat, enigiets, enigiets”, kan dit sowel die voëltjie as die geliefde wees wat hy aanspreek.
b) Hoe vind Plato se siening dat ’n “kleinigheid” aan inligting ’n hele vrag aan opgedane kennis in die ewige mensesiel kan oproep, neerslag in Breytenbach se gedig? Betrek ook die gedigtitel hierby. Lewer kommentaar op die gebruik van die hakies in die gedigtitel.
Die voëltjie funksioneer soortgelyk aan die “kleinigheid” van inligting waardeur, volgens Plato se siening, ’n hele drag aan opgedane ervaring en kennis in die ewige mensesiel opgeroep word. In die geval van Breytenbach se gedig is dit herinneringe (“nuus”) aan die erg vermiste geliefde wat opgeroep word: “háár donker oë, haar skouers, die lippe/ om haar mond, die warm plekkies agter haar ore”. Die roep van ’n enkele klein voëltjie (“’n teken” – reël 14) aktiveer die “kou vol voëltjies” van die geheue, soos die gedigtitel dit wil hê. Die hakies in die gedigtitel (tesame met die aanhalingstekens) is nie net ’n veraanskouliking (verikonisering) van die “kou” waarin die voëltjies hulle luidens die titel bevind nie, maar dalk ook van die “ek” se kop, waarin die herinneringe bevat is wat deur die voëltjie se geroep ontketen word.
c) Waarom is die nuus wat die jong wag die gevangene meedeel, so verpletterend?
Die toebou van die loopgang sal die toegang wat die voëltjie tot die afdak van die loopgang gehad het, verhinder. Dit sal beteken dat die gevangene nie meer die voëltjie (“teken” van sy geliefde) se geroep sal verneem nie, en dat sy eensame opsluiting dus nog erger sal word.
d) Toon aan hoe die volgende kenmerkende belewenisse van gevangenes in Breytenbach se gedig weerspieël word:
· ’n Hiperbewustheid van tyd en tydverloop.
· Opgeskerpte sintuiglike waarnemings.
· Verlangens na geliefdes.
· ’n Behoefte aan eie identiteitsbevestiging.
· Gevoelens van wanhoop.
Die hiperbewustheid van tyd en tydsverloop spreek duidelik uit die eerste twee versreëls van die gedig.
Die opgeskerpte sintuiglike waarnemings is af te lees uit frases soos “skoon deurdringende geluid”, “holknars van ’n staaldeur” en “al die ore en holtes van my liggaam” – trouens, ook uit die presiesheid waarmee die tyd wanneer die voëltjie hoorbaar word, asook die posisie van die loopgang, beskryf word.
Die verlangens word duidelik uitgedruk in reëls 11-12 en 17-18.
Die behoefte aan eie identiteitsbevestiging spreek uit die gevangene se begeerte om die geliefde sy naam te hoor roep (reëls 12-13), uit die dringendheid waarmee hy wil hê dat sy “enigiets, enigiets” moet sê (reël 20) en na haar stem soek (reël 28).
Die hoop om tog iets vanaf die geliefde te verneem (“want met al die ore en die holtes van my liggaam en verlange/ wil ek glo dat dit jy is” – reëls 11-12), wat in die eerste twee strofes uitgedruk word, verander in wanhoopsgevoelens in die slotstrofe, treffend uitgedruk deur die voortsetting van die beeld uit reëls 11 en 26: “en die ore en ruimtes van my liggaam het leeg geword”.
e) Na aanleiding van watter twee bekende segswyses is die kontaminasie “e)k hou my asem vas” waarskynlik gevorm?
“Ek hou my asem op” en “ek hou my hart vas”.
f) Wys op hoe die toenemende wanhoop op kommunikasie met die geliefde in die slotgedeeltes van strofes 1, 2 en 4 uitgedruk word.
In die eerste strofe maak die spreker nog gewag van ’n “dialoog” wat hy “in die stilte […] bly knoop”. Gewoonlik sal ’n mens sê dat jy ’n dialoog of gesprek aanknoop. Deur “knoop” te gebruik, wil Breytenbach die dilemma van die spreker (die feit dat hy in ’n knoop verkeer) uitdruk weens die feit dat hy geen werklike kommunikasie met die geliefde kan bewerkstellig nie.
In die slot van strofe 2 word die isolasie van die spreker sterker uitgedruk: Hy sit “in die hoek” en kan slegs “my stilte […] knoop”. In die slotstrofe, as die spreker verneem het dat hy waarskynlik heeltemaal van die buitewêreld afgesny gaan word, besef hy dat hy net nog “diep in my na jou stem” soek. Die dubbelpunt waarop die gedig eindig, gevolg deur die afwesigheid van wat ’n mens normaalweg as uitbreiding op hierdie leesteken verwag, veraanskoulik die leegte én die stilte wat oorbly op sy hoop om iets van die geliefde te verneem.
Bernard Odendaal, Universiteit van die Vrystaat
Bronnelys
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, deel 2. Pretoria, Kaapstad & Johannesburg: Academica.
Störig, Hans Joachim. 1972. Geschiedenis van de filosofie, deel 1. Twaalfde, gewijzigde en bijgewerkte druk. Utrect & Antwerpen: Uitgeverij Het Spectrum.
Van Vuuren, Helize. 1999. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960-1997). In Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.
Vermaak, Adinda et al. 2001. Versreise. Kaapstad: Tafelberg.
|
|