Carina se blog hervat weer later
Tuesday, February 23rd, 2010Weens uitstedigheid sal dit nie vir Carina Stander moontlik wees om in die komende weke te blog nie. Haar vorige blogs is egter steeds in haar blogkamer te vinde.
Redaksie
Carina StanderCarina se blog hervat weer laterTuesday, February 23rd, 2010Weens uitstedigheid sal dit nie vir Carina Stander moontlik wees om in die komende weke te blog nie. Haar vorige blogs is egter steeds in haar blogkamer te vinde. Redaksie liefdesverse na aan my hartTuesday, February 9th, 2010Vandag kry ek ‘n Facebook boodskap van Margot Luyt: “Luister vanaand 22:00 na Vers & Klank op RSG.” Een van my liefdesverse word glo vanaand op die program voorgelees saam met ‘n klompie ander digters s’n. En ek hoop dat iemand (’n trokdrywer in die duister verveling van die Moordenaarskaroo/ ‘n ma wat name tags aanwerk/ ‘n student met laatnagkoffie in die hand/ ‘n boer van die Langkloof wat slapeloos rondlê oor die droogte) dat iemand vanaand na die liefdesverse sal luister en dat iets iewers sal vonk. Watter liefdesgedigte laat my vlam? Hordes, honderde. Yeruda Amichai. Rilke. Pieterse se Bloubaard-verse. Marlise Joubert se Sleursange. Ek’s nou veels te lui om die volledige verse oor te tik, so hiermee net fragmente - nie in volgorde van my gunstelinge nie. 1924 se Poems de Amor van Pablo Neruda - die priester van die liefdesvers: Die slotstrofe van ‘n agtienjarige Antjie Krog se Ek wil (vir John) jy is nooit uit my gedagtes nie Breytenbach laat my bloed bruis, veral inbrand so sal ek jou altyd onthou My gunsteling gedig van Louis Esterhuizen kom uit sy bundel Opslagsomer: Kyk, kyk. Hy vang vlinders Liefde is hier ter sprake. Die lieflied wat my waarskynlik die naaste aan die hart lê, is Suzanne van digtersanger Leonard Cohen. Suzanne takes you down And you want to travel with her Ek raai dit is die bekendheid in liefdesverse en lirieke wat mens beweeg, die oomblik van herkenning. Want ja, ook ek het op ‘n keer langs ‘n rivier gewoon, reismal, en ‘n geliefde skyfies lemoen en tee gevoer. (Sadly without having the perfect body waterkindFriday, January 29th, 2010Op Nuwejaarsdag vind ek uit dat daar ‘n druppeltjie mens in my is. Eergister die eerste sonar. 9 weke. 2,5cm lank. Armpies waai en beentjies skop. Kan die vingertjies tel. Ore, neus se punt, organe gevorm. Die stertjie weg. Reeds breingolwe, sê die dokter. Waterkind word in Augustus gebore - stiptelik 3 jaar na my eersteling. Vandag presies 3 jaar gelede op 29 Januarie 2007 het ons Hawaii toe gevlieg. Ek, Gerrit, en die ongebore seuntjie in my buik. Gerrit moes vir 5 weke lank ‘n rekenaarprogram in Hawaii installeer en ek het reisartikels gaan skryf.
Hawaii is ander kant van die aarde, 28 uur se vlug vanaf Kaapstad. Ons het 3 van Hawaii se 6 eilande verken: O’hau, Kaua’i en Big Island. Hawaii is natuurlik die plek van Pearl Harbour, blomhemde, 5000 hibuskusspesies, branderplanke, huladanse, slapsnaarkitare. ‘n Wit papegaai swiep deur ‘n bamboesbos. Baniane kraak soos ou huise, die stamme toegerank (sien kiekie hier onder.) Die boomwortels is trappe. Naby ‘n waterval groei wilde rooi gemmer en pers orgideë. Op straat sien ek orgideë wat soos spinnekoppe en bye lyk.
O’hau se hoofstad, Honolulu, is ‘n warboel van Chinese tempels, Vietnamese bakkerye, Katolieke kerke, Victoriaanse herehuise, wolkekrabbers. Die tentdorpies is morsig - stukkende skopfietse en honde aan kettings. Kombi’s vol grafitti verkoop grillerige shrimp scampi.
Met die vlug na Big Island kan mens die vlambome vanuit die vliegtuig sien blom. Die plaasmark van hoofstad Hilo is ‘n vrugteslaai van migrante uit die Fillipyne, China, Japan en Viëtnam. Amandelbrood, sushi in seegras, stekelrige doerian, palmhart, kakaoboon, kokosneutroomys. Mens hoor skaars ‘n Engelse woord.
Op Big Island is die wêreld se aktiefste vulkane. 50 seismograwe meet die aktiwiteit. Ons slaan tent op in die vulkaanpark. Dit reën en bo die stomende kratervloer span ‘n reënboog. Surrealisties. Stap deur donker, druppende lavatonnels. In 1959 het krater Kilauea iki 36 dae lank ontplof. Dit het ‘n rivier van lava gevorm wat byna 40 jaar geneem het om te stol! Onder in dié krater styg stoom uit die krake van die aarde. Rooi vloei die lawe slegs 200m onder ons voete.
Vieruur die oggend durf ek en Gerrit ‘n lavavlakte met ons kopligte aan. In die donker kan ons die lawa van van ver sien vloei – af met die berg, in die see in. Dit stoom bo die branders. Die vulkaanklip waaroor ons loop lyk soos swart vlegsels - metaalgrys met koperkleurige spikkels. (Sien kiekie hier onder.) Die skeure is groot genoeg dat mens halflyf kan inval, maar ons foeter voort vir 14km. Later stormreën dit en ons kan die hittegolwe nie meer volg nie. Ek is so teleurgesteld, ek vreet sommer al die grondboontjies op. Wonder so ewe waarom die rots onder ons skoensole skielik warm word en verbrokkel, en wragtag: ons loop op lava wat besig is om te stol! Slegs ‘n armlengte onder ons vloei ‘n rivier van vuur deur ‘n skeur. Ons seuntjie se naam sal Aden wees, weet ons: Gallies vir “vuur”.
Kaua’i is die Tuineiland, die kaalvoetkind van Hawaii. Watervalle in berge en strande omring met kokospalms en woude. Vanuit ‘n lighuis van 1913 kyk ek deur ‘n teleskoop na boggelrugwalvisse, wildeganse, stormvoëls, albatrosse. Die branders hoog soos berge. Wie broei hier binne my?
Vir ‘n eiland van 53km X 40km, het hier al baie op Kaua’i gebeur. Elvis Presley se Blue Hawaii is hier verfilm, ook King Kong, Jurassic Park en Thorn Birds. In 1992 het ‘n sikloon die eiland met winde van 256km per uur verinneweer.
Ons stap verby fluitvormige kranse - die berge rug teen rug - en snorkel saam met die plaaslike langhaarkinders in ‘n rif. Die seesand lyk soos sout en peper: die wit van koraal, die swart van vulkaanklip. Selfs in die vlakwater wemel dit van seeskilpaaie. Gespikkelde boksvis. Bloupers papegaaivis knibbel aan die koraal. Uit die seegras loer visse met stekels aan die vinne of lang, bont slierte wat al agter hulle aan dryf. Oral, oral sien ek die kind wat onder my asemhaling swem.
in die bloeityd in die bloeityd sien ek jou oral want dis die vlamboom se rooi blom die orgideë in die hoogste mik met nektartaai voete krioel jy selfs as fetus het jy reeds maar meestal is al wat jy Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009. (Sommige feite en fotos in dié blog is gebruik in artikels vir De Kat en Lééf, 2007.)
One flew over the cuckoo’s nestTuesday, January 19th, 2010Saterdagoggend twee uur het ek “One flew over the cuckoo’s nest” klaar gelees. Ken Kesey het dit in 1962 opgedra aan Vik Lovell “who told me dragons did not exist, then led me to their lairs.” Die verhaal van die skynbare stom Indiaan, Chief Bromden en sy gesante in die inrigting vir geestelik versteurdes, is tragies, fantasmagories, humoristies, insigryk, liries. Elke manlike karakter, veral held McMurphy, is veelgeskakeerd. ‘n “Muscular narrative”, noem die kritici dit. En dis juis hier waar die sterk verhaal myns insiens ietwat struikel, want waarom wipplank die weinige vroulike karakters almal tussen ‘n sonofabitch Big Nurse wat daarop uit is om die manne te kastreer en ‘n blonde dofkop prostituut, Candy? Okeedokee, die ekverteller se eie ma is ook ‘n gifappel en dis dalk rede genoeg vir sy eendimensionele siening van vroulike karakters, maar dis steeds jammer dat so ‘n briljante boek deur chauvinisme bedreig word. Daar gelaat. Een van die redes waarom verhale oor mense wat in ‘n ander realiteit leef my interesseer, is ouma Anna. Sy is met Alzheimer gediagnoseer toe ek twaalf jaar oud was. Sy het in die kamer langs my ingetrek en ek het haar versorg - haar gebad, aangetrek, haar naels geverf, ring blink gevryf, haar laat briewe skryf, aandstories voorgelees voordat ek haar saans in die bed sit. Hiermee het ek vir ses jaar volgehou. Omdat ek wou. Ontdat ek iets wou doen om vir haar dankie te sê, want toe ouma Anna se verstand nog helder was, het sy my leer rym. Sy sou ‘n woord sê en ek moes vinnig met ‘n rymwoord antwoord, totdat ons later spontaan in rymsinne begin praat het – soms ‘n hele gesprek wat rym! Ek was toe ses jaar oud. Die middag van haar dood - ek was agtien en dit was ‘n week voordat ek universiteit toe is - was ek en Ouma alleen in die huis. Sy was reeds dood maar nog warm toe ek langs haar inkruip met ‘n potlood en papier en haar begin teken. Ek het ‘n gedig daaroor geskryf wat opgeneem is in “die vloedbos sal weer vlieg.”
In 2000-2002 het ek een dag per week met Alzheimer pasiënte gewerk – eers in Cambridge, later in die Skotse Hoogland. Ek het spesifiek gevra om die vergeetsiekes te versorg as ‘n soort herbesoek aan my ouma. Die ouetehuis in Skotland was ‘n ou herehuis op ‘n landgoed van 8 akker. Die oumense het Skotse whisky gedrink in plaas van vieruurtee - al 43 oues, meeste met hul eie, luukse kamers. Omdat ek net een keer ‘n week hier gekom het, het ek soms hulle name vergeet. Eenkeer het ek in die geroesemoes Lamla se valstande vir Stella gegee en Stella s’n vir Lamla. Sit en kreun die armsalige anties om die tande te maak pas!
Alzheimer pasiënte is soms befoeterd en agressief, ook dierbaar, dikwels skreeusnaaks. Bob the Butcher wou bv weet of die mense van Zimbabwe soggens onder die Vic Falls stort. Hy het doodernstig gevra: “Do you believe in sex?” En saans het hy sy “naughty parts” met babaroom behandel. Dalk het dit hom ‘n kick gegee, wie weet, maar daar was g’n teken van nie.
Beaten was maar 22 jaar oud toe hy in Edinburgh deur ‘n kar omgery is en erge breinskade opgedoen het. Hy was destyds in die vloot en kon net elke ses maand Isle of Skye toe gaan met tabak vir die mans by die huis en lekkers vir die meisies. Na die ongeluk het sy ma hom versorg, maar toe word sy ‘n alkoholis. Dis hoe hy in die ouetehuis beland het - wild en verwilderd soos ‘n dier. Hy het gevloek en geskree, die verpleegsters met sy poef gegooi en geweier om enige iets behalwe Gallies te praat. Teen die tyd dat ek hom ontmoet het, was Beaten ‘n lammetjie. Hy sou met sy duim in sy neus grou en oor en oor sê: “You’re a lady. I like you. The Lord is my Shepherd. I shall not want.”
Molly was ook ‘n interessante een. Haar slaapkamer het oor die slaapveld uitgekyk. Toe sy met die skape begin gesels, is sy na die Alzheimer afdeling verskuif. Sy is toegesluit, want sênou sy verdwaal doer tussen die skape, het die Staff Nurse gesê. Molly het gehuil. “What is wrong?” het ek gevra. “What is right?” het sy geantwoord. “They dont’ understand I am a farmer’s daughter…”
Dan was daar Fran met die teddiebeer – die pels kliphard waar sy hom probeer voer het. Fran het graag aan etenstafel ertjies in haar lepel gesit en die ander daarmee geskiet. Veral vir Ant Beatrice wat nooit haar eie kinders gehad het nie en wat vir Ant Lizzie – haar ouderdom en ewe stapelgek – gemother het. Beatrice het vir Lizzie aangetrek, haar doeke probeer ruil (groot fout…), haar gevoer en wiegeliedjie gesing.
Wanneer die Staff Nurse wegkyk, het ek soms dié weird and wonderful dinge neergepen, sodat een van die pasiënte my eendag gedreig het met: “One of these days I’m gonna borrow that pen from you!” Nietemin het ek al hoe meer geskryf. Net skelmer. Hiermee sommige van die sêgoeters wat ek afgeluister het:
Hartroerendste was die dag toe ‘n nuwe pasiënt, May, op en af in die gang loop met haar naamkaartjie in haar hand. Ek het gevra waarna sy soek. May het haar naamkaartjie in my hand gesit - verwonderd, verdwaas. Haar antwoord was so ‘n klokhelder definisie vir vergeetsiek, dat dit my lank sonder woorde gelaat het: “May Donker is me name, but I can’t find me anywhere.”
vergeetsiek ek was ses jaar oud ouma het gesê terwyl ons rym-rym sinne praat eendag het ouma ouma, kon jy hoor na járe van gekheid dalk is grysaards nes blaarreste ek was agtien ineens was alles wit ek het ingekruip onder haar arm my bekering tot die digkunsThursday, January 7th, 2010Van my vroegste herinneringe as kind is waar my ma se matrikulante Duitse gedigte voordra en die praatkoor Raka van Van Wyk Louw opvoer. Ek was so vier jaar oud en kon nog nie lees nie, maar het probeer om die woorde van Marais se “Dans van die reën” en “Mabalêl” te onthou. Wanneer niemand kyk nie, het ek dié gedigte vol verdraaiings voor die badkamerspieël opgesê. Hierdie verse het my siening van die Afrikaanse digkuns en Afrika gevorm - ‘n eksotiese, geheimsinnige, gevaarlike plek.
Toe ek agt jaar oud was, het my enigste maatjie na ‘n ander dorp verhuis. Daardie aand, terwyl ek besig was om te bad, het die eerste versreël my bekruip. Ek het dit dadelik neergeskryf: “Die Leonie-week” was ‘n volle bladsy lank. As ek eendag groot is, het ek gesê, gaan ek gedigte skryf. My ma het gesê dit ís ‘n gedig en vir my ‘n boek gegee waarin ek alles wat by my opkom, kon neerskryf. Ek het daardie jaar besluit dat ek eendag my lewe aan die skeppende woord wil wy.
Die plaas waar ek grootgeword het is afgeleë en ek was tien jaar oud toe ons eers elektrisiteit gekry het – en ‘n televisie. My vroegste verbeelding is dus eerder wakker gemaak deur boeke en kontreistories. Visuele prikkels was in die bekende: in die leiklipvloer van die plaashuis het ek verbeelde diere gesien; daar was gesigte in die vlamme; ek het beeldjies uit miershoopklei gemaak; die skil van ‘n ryp mango was die kleur van sonopkoms. Vanuit die berg het die visarende gekom en die rooijakkalse, ystervarke, koedoes, klipspringers, luiperds. Wanneer die boorgat opdroog, het ons gesin in die Mokolorivier tussen die waterlelies, riete en krokodil se sleepsels gebad. Hierdie landskap het my van kleins af gefassineer, ontroer, woedend gemaak en lief. Ek wou daaroor skryf. Vandag nog dryf die natuur my om te skryf.
Op elf het ek begin om in die middae na skool met Opperman se Groot Verseboek en ‘n gehawende HAT te sit en lyste te maak van woorde wat vir my mooi is. Ek het my blou BMX al om die huis getrap terwyl ek bit-ter-bes-sie-dag-breek-bit-ter-bes-sie-son sing. ‘n Verlange sonder naam. Ek onthou nog hoe die slot van Leipoldt se “koperkapel” my geskok het (die reën was toe al die tyd mensebloed). En al het “Rietfontein” van Du Plessis my bang gemaak, het ek dit oor en oor gelees. Daardie jaar (ek was steeds elf) het ek ook vir myself die vreemde reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ‘n vers móét skryf. Ek het dit jare lank volgehou en aan die einde van my skoolloopbaan had ek ongeveer 200 bogrympies & gedigte in twee swart boeke. Ek het steeds al dié handgeskrewe verse.
Ná skool het ek Beeldende Kuns by Tuks gaan swot, maar steeds gereeld gedigte geskryf en gelees - altyd met ‘n pen in die hand, besig om the tricks of the trade te probeer ontsyfer. So het “God die digter” van Cloete, Stockenström se klipverse en Opperman se “Vincent van Gogh” uit die bladsye gespring. Ek het die skreeusnaakse vers van Letoit ontdek waar die vlieë hom nie meer groet nie en kennis gemaak met Bezuidenhout se dorpsmeisies van dertien wat vir die boere tee skink en Grobler se mooie grootjie wat soos ‘n god kon liefhê. Vir ‘n verrassende slot had ek ook groot bewondering gekry, soos die eenhoring wat uit die niet verskyn in “Oupa Marais” of die vrou wat straataf loop terwyl haar hare vlam in Joubert se gedig of Bouwer se “Koue oorlog” waar ‘n stalagtiet van ys van die son tot op die aarde hang. Hoe pragtig is die kind wat die son se kokosmelk drink in De Bruyn se gedig! Vir my was die mooiste Afrikaanse liefdesverse Olivier se “lieflingbruinoogvolborsmooilyfmens”, Myburg se “Lied van die bruidegom” en Pieterse se fantasiese Bloubaard-verse.
In 2004 het ek ingeskryf vir die meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Prof Joan Hambidge se opdrag was dat, voor mens die eerste keer jou voet in haar klas sit, jy ten minste die hele Groot Verseboek, Poskaarte en 1001 Gedigte moes kafdraf. Sy was ‘n uiters toegewyde dosent wat ons elke Vrydagmiddag vir ure lank gedril het met teorie, die tradisie waarbinne ons skryf en die geite en giere van die bedryf. Ek is gewys op hebbelikhede waarvoor ek in my pasoppens moet wees en natuurlike sterkpunte waarmee ek kon woeker. Ná ‘n uitstekende kursus in Teksanalise by prof Henning Snyman, het ek geweet waarom Breytenbach my beweeg soos geen ander nie. Om BB te lees was om ‘n gerug aan te hoor van lewe op ‘n ander planeet.
In 2006 het my digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg verskyn. Van die 70 verse in die bundel, is 25 lank terug geskryf - sommiges in my hoërskooljare – en die res was ‘n uitvloeisel van die MA by UCT. Sedertdien het ek al hoe meer anderstalige digters begin lees: Yehuda Amichai, Rainer Maria Rilke, Sylvia Plath, Leonard Cohen, Lorca en natuurlik Pablo Neruda. Ek raai dis deels waarom ek met my tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke, die venster oopmaak na ander kontinente. Dalk word my volgende gerfie gedigte geplant in Europese grond?
Die laaste halfjaar “vas” ek egter ‘n bietjie van die skryf van gedigte. Ek honger my uit, sodat ek weer die woorde kan proe.
kersfeesversFriday, December 25th, 2009Vlam onder die water sy onthou ‘n Asem oor haar wang in die windstil namiddag verstaan sy geen tyding of taal slegs dat ‘n Blom bestuif is
women who run with wolvesFriday, December 18th, 2009‘n Aanhaling uit een van die boeke wat my die laaste 10 jaar die naaste aan die hart lê: “We are born and reborn night after night from the same wild dream, and we return to daylight grasping a coarse hair, the soles of our feet black with damp earth, our hair smelling like forest or cook fire.” - Clarissa Pinkola Estés, Women who run with wolves
Terloopse versreëls wat ek die afgelope week afgeluister hetWednesday, December 2nd, 2009Terloopse versreëls wat ek die afgelope week afgeluister het: Ellen vertel in die kombuis van haar 19jarige seun op Tik: Aden (my seuntjie van 27maande) in die tuin: Welpies op die strandThursday, November 12th, 2009Ek wens dit was anders, maar my nagdrome is nie juis interessant nie. ‘n Keer of wat het ek wel iets waardevols gedroom; iets wat waarsku, bevestig of troos. Maar meestal is my drome ‘n vrugteslaai van skynbaar niksseggende smake en herinnering. ToonsettingThursday, October 29th, 2009Drie jaar gelede het ek en Herman van den Berg mekaar raakgehoor by die Skemerverse op Stellenbosch. Dit was waardering met die eerste luisterslag, veral vir sy toonsettings van Van Wyk Louw se “Die beiteltjie” en Krog se “Hoe ver is eendag?” ‘n Groot lekkerte dus toe Herman laasmaand die slotgedig in my nuwe bundel toonset - ‘n gedig wat ek geskryf het toe my kind net drie dae oud was. Sy naam, Aden, beteken “vuur” in Gallies, vandaar die “vuurling” in die song. Luister na die MP3 van “Varsgeborene” |