Carina Stander

Deesdae eet ons ysterbrood en besemvleis

Saturday, August 28th, 2010

Deesdae eet ons ysterbrood en besemvleis. Dis Aden-drie-jaar-oud se eie woorde vir roosterbrood en beesvleis. Gister was sy verjaardagpartytjie. Sewe rampokkers in ons tuin. Tema? Dinosourusse. Hoe dan anders? Die gier is so groot, dat boetiebambi my diplomaties reghelp met: “Nee, Mama, dit lyk soos ‘n allosourus, maar eintelik is dit ‘n koelofises.” Ek hensop, maar kla nie - dino’s is ‘n gawe intro tot Latyn:).

Dinosaurussie

Dinosaurussie

Gister was die eerste keer dat ek en Gerrit soos regte, egte peuterouers ‘n temakoek gebak het. Gerslim het ‘n resep vir tuisgemaakte fondante versiersuiker gegoogle en alles netjies saam geklits. Ek het die koek gebeeldhou: ‘n onaardige stegosourus-trikeratops-kruising, kompleet met stekels en skubbe en horings en tande.

Daar is ‘n mammoet van ‘n springkasteel in die tuin staangemaak - gratis, geleen by vriende. Ons het ballonne opgeblaas, springmielies gespring, koekies gebak, klein dino’s soos fetussies in geel jellie laat stol. Ek het die kinders se gevreetjies soos oerdiere geverf. Stukke van ‘n plastiek dinosourus-geraamte en allerhande regte beendere is onder die blare in die bos versteek, waar die rakkers dit “ontdek” en gebou het. En met die skattejag kry elkeen toe stiekers en kapsules wat in die water uitswel tot dino’s. Sulke regte seuntjiepret!

Vandag is Aden se eintlike verjaarsdag. En dit bars al die hele dag in my van woorde.

“As dit donker is, is my ogies weg” sê my seuntjie.

“Askies dat ek so vlieslik (vreeslik en vieslik) op jou geskree het.”

“Dankie dat ons so lekke deurmekaar (bymekaar) kan wees,” bid hy.

Laasweek na werk: net ek en Ger en Aden op die 3km strand. Laagwater getypoele. Sien pers en oranje seesterre so groot soos ‘n man se hand. Aden steek sy vinger in die seeanemone, gooi slakkies vir die visse, roep die swart tobie op die rotse. Met die terugstap hol ‘n bosbokram voor ons uit. Later die aand ook twee bosvarke met ‘n kleintjie. Hierdie is habitat, ons broeiplek.

Vandag is my eersteling drie jaar oud en dit bars in my van woord en beeld.

Saterdag vandag. ‘n Slaapwarm lyfie kruip agt uur vanoggend by my in. Ons eet outspap met jogurt, bou torings van mega blokkies, speel met leeus en kamele. Oor die radio luister ons na Pieter en die Wolf van Prokofiev en Die Gemmerkoekman se storie, lees dan Richard Scarry en sprokies en ‘n rympieboek. Die twee ure van sy middagslapie skryf ek. Laatmiddag klim ons berg. Al deur die ouwoud tot heel bo waar die fynbos begin. Taai heide kleef aan sy trui - rooi trompetjies. Hy skater en jaag sy pa deur die keurbome wat nou pienk blom. Ek sien die strandmeer en see deur die takke. Spikkellig. Ek het geen verweer meer nie. Laat daar eendag teen my graf dan maar net dit staan: She loved well.

My skoolboyfriend is dood

Tuesday, August 17th, 2010

My skoolboyfriend is dood. Tien jaar gelede al. Dié sien ek laasweek op Facebook. Bretton is dood, en omdat ons twintig jaar laas kontak gehad het, moet dit my seker nie skok nie. Maar nou maak hy deel uit van die gruwelike statistiek in ons land. Nog ‘n bloedjong konstabel dood tydens die uitvoer van sy pligte vir die SAPD. Nog ‘n moord in Kwa-Zoeloe Natal. Hy was deel van die Spesiale Taakmag. Hy was maar 25 jaar oud.

Ek kan nou nie sê dat ek en Bretton juis mekaar se lewensweë beïnvloed het nie. Om die waarheid te sê was ons invloed op mekaar so skraps dat ek tot laasweek toe gedog het sy naam was Brenton. Maar toe ek op veertien my eerste Valentynskaartjie en ‘n botteltjie White Mist by dié hunk met die blas vel kry, het dit my tot ware Vogon poetry geïnspireer. (Dit was, terloops, my laaste Valentynsviering tot op hede. Ek het van jongs as anti-kapitalistiese neigings getoon.)

Die kys het gehou van Valentynsdag tot Paasfees. In daardie tyd het hy een keer by my op die plaas kom kuier. Die Saterdag het ons saam met my suster en broer fontein toe gestap, toe Bretton (voorwaar ‘n goeie atleet) skielik aankondig dat hy nou te moeg is om aan te gaan. En dat ek sommer net daar saam met hom in die kloof sal wag totdat die res terugkom. My ousus was nog altyd ‘n bull-dust-detector soos min. Sy het haar oë skreef getrek teen die hormoondampe, hard gehoes en gesê: “Trek aan jou hemp, boetman, en stap saam. G’n genade vir jou nie.” Boetman vir wie daar g’n genade is nie, het toe maar sy torso bedek en die berg aangedurf.

Dit is al wat ek van hom onthou. Dit, en dat hy sy ma se oë gehad het - groen halfmaantjies wanneer hy lag.

Gister het ‘n tannie in Woolies op my geskrou

Thursday, August 5th, 2010

Gister het ‘n tannie in Woolies op my geskrou. ‘n Bejaarde Britse madam wat klere gaan omruil het. Aanvanklik het sy nie op my geskree nie, maar op die kassiere met die heuningvel en kalfie-oe. Madam kyf toe so vreeslik, dat kalfogies nie ‘n woord inkry nie. Weet nie wat my ingevaar het nie - miskien was ek sommer demokraties bemoerd of lus vir ‘n bietjie adrenalien - maar toe ek myself weer kry, fluister ek in my rondste Cambridge Ingels: “Excuse me, madam, but would you please tone down a bit.”
So goed ek gooi ‘n tjoppie vir ‘n bulhond. Net daar laat los sy vir kalfogies en takel my.
“This IS my volume!” gil sy in lettergrepe. “Why should I tone down anyway?”
“Because you are making it unpleasant for the rest of us.”
Sy sampioen oor my - dubbel my ouderdom en dubbel my size - terwyl ek terstonds rondkyk om te sien of die onderklererakkie darem ‘n gawe wapen sal maak in geval van selfverdediging.
“Why should I listen to you?” dreig madam.
In wese is ek ‘n pasifis, maar net daar en dan pluk ek summier my woordgeweertjie uit en skiet so doef-doef  met ‘n doodluiterse glimlag en ‘n: “My thought exactly: why should we listen to you?”
Haar mond gaan oop, weer toe. Dit lyk amper of sy van verbasing wil lag. Sy draai terug na die kassiere. Thank-you-very-much-and-yes-please. Kalfogies knipoog skelm vir my. Ditsem, dink ek. Bere die woordgeweer weer onder my bra. Jarre vandat ek laas ‘n cowgirl was.

Woorde om asem te haal

Monday, July 26th, 2010

‘n Klompie maande gelede het Jo Prins gevra dat ek iets vir Verslangs sal skryf. Soos altyd met koerante/ tydskifte is spasie maar knap, so mens kan nie van ewigheid tot amen aanhou gorrel nie. In elk geval, hier is my ontleding van ‘n Krog-gedig soos wat dit 29 Mei in Beeld verskyn het.

Pietermaritzburg. 6 Augustus 1863

Vannag reeds sewe keer wakker.
Die onderskeid tussen drom en kamer

word al hoe swakker. Ek is pal in die bed.
Smeer balsem vir swakheid en druppels geset

in kanfer vir die vreeslike moeg - die meesmuil
wat my daagliks tussen die kluite ploeg.

Wat baat ‘n gesin sonder aptyt; ‘n man en kind
wat al my woorde aan die hakskeen byt?

Here, maak die visioen aan my bekend
en die maat van die beker:

Die nag word uitgekurk. Van pyn klamp
my eierstokke opmekaar, spits gepels stamp

hy my om, probeer kortpotig my bekoor,
tussen sy tande blits sy asem ‘n spoor

van ontbinding. Maar die pen in my hand
is styf en ek skryf hom nuut…

die Eerwaarde skoon soos ganna bessiewas
tussen bladsye. Ek het woorde snags

geskryf wat soos blare suurstof gee,
sodat ek kon bestaan

en niks giftigs agter ooglede verberg,
maar speekloos voel God dryf

my om myself kaalvoet uit te skryf
teen hierdie brons geskubde Drakensberg.

Die gedig, “Pietermaritzburg 6 Augustus 1863” verskyn in Antjie Krog se bundel, Otters in Bronslaai (1981). Die bundeltitel word deeglik in die verse ontgin: die otter as skugter waterdier; die bronstige otterjasie (vark) wat seksuele vernielsug simboliseer; die bron as fontein, oorsprong, moederliggaam of verwysingsdokument. Die slotsiklus in die bundel, “Die leeu en die roos”, is dan ook ‘n helder voorbeeld van ‘n historiese geskrif wat as bron vir digterlike inspirasie dien. Dis gebaseer op die dagboekinskrywings van die Voortrekkervrou, Susana Catharina Smit (1799-1863), suster van die Groottrekleier, Gert Maritz. Op dertienjarige ouderdom word sy deur haar ma aan eerwaarde Erasmus Smit (34) gegee. As gevolg van sy drankprobleem (tussen sy tande blits ‘n spoor/ van ontbinding), word hy telkens deur die sendinginstituut verplaas. Teen 1837 sluit hulle by die Trek aan.

Honderd jaar later word vyftien van Susanna Smit se dagboeke in die solder van ‘n huis in Utrecht, Natal ontdek. Sy het haarself leer skryf en lees en haar Hollands was merkbaar beter is dié van Eerwaarde. Sy was goed bekend met die boeke van Hollandse piëtiste wat aan die Kaapse Kolonie beskikbaar was. Oor die geestelikheid van Voortrekkervroue skryf Chistina Landman: “These women were dependent upon a personal relationship with God to provide them with answers… Often these answers became quite personal, when God become personally involved through visions” (1994:69). Die openingsin in “Pietermaritzburg 6 Augustus 1863”, lui dan ook: Vannag reeds sewe keer wakker./ Die onderskeid tussen droom en kamer/ word al hoe swakker. Elders in die gedig vra sy: Here, maak die visioen aan my bekend… Sy verklaar ook: God dryf my

In teenstelling met haar intieme Godsbelewenis, is daar haar huwelik met Eerwaarde: ‘n swakkeling wat ontrou was aan haar. Daar is ‘n botsing tussen haar ongelukkige gesinslewe en begeerte om te skryf: Wat baat ‘n gesin sonder aptyt; ‘n man en kind/ wat al my woorde aan die hakskeen byt? Steeds skryf sy vir selfbehoud en reiniging: die pen in my hand/ is styf en ek skryf hom nuut. En: Ek het woorde snags/ geskryf wat soos blare suurstof gee,/ sodat ek kon bestaan/ en niks giftigs agter ooglede verberg… Pieter Conradie merk hier die intertekstuele verwysing na Erica Jong: We write poems/ as leaves give oxygen –/ so we can breathe (1996:66).

In die gedigtereeks word Susanna Smit getransformeer van slagoffer tot pionier. Dié transformasie bereik ‘n hoogtepunt tydens ‘n toespraak voor kommissaris Henry Cloete wanneer sy die legendariese verklaring maak dat die vroue kaalvoet oor die Drakensberg sal stap vir vryheid en reg. Krog eggo dit in die slot: om myself kaalvoet uit te skryf/ teen hierdie brons geskubde Drakensberg.

Regdeur haar oeuvre maak Krog gebruik van uitruilbare identiteit: Jefta se dogter, Lady Anne Barnard, Antjie Somers. Wanneer sy by monde van Susanna Smit praat, verteenwoordig sy die Afrikanervrou wat veg vir vryheid, geregtigheid, eerbaarheid en kreatiewe uitlewing. Die vraagstukke rondom geslagtelikheid, die selfopoffering en dapperheid van die vrou as moeder, volksfiguur en skrywer en die strewes van die individu teen ‘n patriargale stelstel, is kenmerkend van Krog én Smit se skryfwerk.

Bronne:

Conradie, Pieter. 1996. Geslagtelikheid in die Antjie Krog-teks. Kaapstad: Pieter Conradie.

Krog, Antjie. 1981. Otters in bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau.

Landman, Christina. 1994. The piety of Afrikaans women. Pretoria: Unisa.

…as if the wound were a well…

Thursday, July 8th, 2010

Een van my vyf gunsteling boeke van alle tye en uit alle genres is The Engslish Patient. Dat Michael Ondaatje in Sri Lanka gebore is, in Toronto woon en ‘n Booker Pryswenner is, is algemene kennis. Maar ek het vanjaar eers uitgevind dat die gevierde romansier ook die drif agter ‘n volle dertien digbundels is. Daar is heelwat oomblikke in The English Patient wanneer die digtersinstink oorneem. Oomblikke wat my haunt lank nadat ek die boek gebere het:

She nursed him for months and she knows the body well, the penis sleeping like a sea horse…- p3.

There are stories the man recites quietly into the room which slip from level to level like a hawk. - p4.

He remembers picnics, a woman who kissed part of his body that now are burned into the colour of aubergine. - p4.

He listens to her, swallowing her words like water. - p5

They had reached the valley within the red high canyon walls, joining the rest of the desert’s water tribe that spilled and slid over sand and stones, their blue robes shifting like a spray of milk or a wing. - p9.

The moon is on him like a skin, a sheaf of water - p31.

…as if the wound were a well… - p41

I wanted to touch the bone at your neck, collarbone, it’s like a small hard wing under your skin. - p103

…I love the word ‘curl,’ such a slow word, you can’t rush it…”- p103

A man in a desert can hold absence in his cupped hands knowing it is something that feeds him more than water. - p155

She turns back into the house. Now her hand is held out in front of her. She walks through the kitchen and up the stairs. The patient turns to face her as she comes in. She touches his foot with the hand that holds the ladybird. It leaves her, moving onto the dark skin. Avoiding the sea of white sheet, it begins to make the long trek towards the distance of the rest of his body, a bright redness against what seems like volcanic flesh. - p207.

Ingrid se ouma, prof Hawking en ‘n dosie as

Monday, June 28th, 2010

Vanoggend sê my vriendin Ingrid dat sy vanmiddag haar ouma se dosie as by die grafgrawers moet gaan afhaal en by ‘n kerk in die ooste van Pretoria ingee. Sy stel dié grillerige gedoente al van Februarie af uit en vandag is dit nou maar sulke tyd. Sy was erg oor hierdie ouma - uitwaarts genoeg om met ‘n Land Rover in Afrika te kamp; spoggerig genoeg vir ‘n diamanttoer (beter as eersteklas) al om die wêreld. Tot op 94 ‘n eiewillige entjie mens. Hier teen die einde van haar lewe het net die lipstiffie aan haar tande soms verraai dat sy nie aldag die leisels stewig vashou nie, maar sy was enduit sterk en eksentriek en lief om die breinspier te flex.

Die dag van Ouma se dood het Ingrid my gebel sodat ons saam oor die foon kon huil. En vanoggend, so met die asdoos in die vooruitsig, dog ek dis gewoon my vriendskaplike plig om die enigste verassing-grappie wat ek ken vir haar te vertel:

‘n Paar jaar gelede het ek in Cambridge gewoon toe ek hoor Stephen Hawking soek ‘n nuwe persoonlike versorger. Oud-inwoners het gewaarsku dat dié fisikus ewe bekend is vir sy boeke as vir befoeterdheid, maar o wee, my nuuskierigheidsklier werk ooraktief en ek het besluit om hom ‘n tyd lank te versorg.

Een Saterdagaand het ons gaan fliek - ‘n Amerikaanse galgekomedie waarvan ek die naam nie kan onthou nie. In een toneel moes die twee hoofkarakters (sulke regte losers) hulle buddy se as oor die see strooi, toe die wind die as skep en dit in hulle gesigte waai sodat daar lang, grys spoegslierte uit hulle monde trek. Hawking het nie gelag nie, hy het geskater. Geluidloos, gesig vertrek van plesier, sodat ek doodsbenoud om hom moes trippel, sy kop onder my arm vasgeklem, besig om sy lugpyp met die apparaatjie skoon te suig. Sênou hy versmoor? Sênou hy lag hom morsdood? Ek kon die koerantopskrifte al sien. Wie laaste lag…

* * * * * * *

Genadiglik het ons albei sy lagbui oorleef. Maar ander kere was dit amper-stamper of hy’s permanent sekelmaan toe gestuur. Sien, Hawking is ‘n roekelose helsim met ‘n voorliefde om sy rolstoel oor dolbesige keisteenstrate te woerts-warts terwyl die karre om hom toet asof dit Nuwejaar is en sy oppassers met vertikale hare agter hom aanhol. Verkeersreëls? Obviously only for the lame and the lazy.

Uitsonderlik is hy gewis. Om vir 40 jaar onder ALS (amyotrophic lateral sclerosis) te ly en steeds dertig jaar lank professor van Wiskunde by Cambridge te wees, wêreldwyd te doseer, topverkopers te skryf terwyl kommunikasie slegs bestaan uit wenkbroue wat lig vir “ja”, ‘n mond wat skeef trek vir “nee” en ‘n duim waarmee hy die rekenaar beheer. Wanneer iemand hom op straat herken, kies hy graag dié frase op sy praatrekenaar: “Not again! They always mistake me for that man.”

In die heel begin was ek so bewerig dat, toe ek eenmaal sy ritssluiter in die badkamer moes optrek, ek sy “privaatjie” (soos Ouma sou sê) vasgezip het. Kon nie mooi verstaan wat’s hy tog so halstarrig om stil te sit nie, tot ek afkyk met ‘n: “O bother, prof Hawking! How horrid! Would the world ever forgive me for messing with these genes?”

Sy tumbs up en beleefde laggie - die onthou ek goed.

Drie jaar later terug in Kaapstad kry ek ‘n oproep uit Cambridge. Konstabel sus en so seg Hawking se kinders het ‘n klag van aanranding teen sy tweede vrou, Elaine, gelê. Vermoed ek iets? Van haar het ek maar bittermin gesien, want sedert sy destyds teruggekeer het van haar kaperjolle in Italië, was ek skielik my werkie kwyt. Ha! lag Konstabel. Elaine het eintlik net mans en bejaarde oujongnooiens toegelaat om Hawking te versorg. Natuurlik alte skrikkerig dat iemand haar toertjie herhaal. Sy was voorheen getroud met die ontwerper van die eerste weergawe van Hawking se pratende rekenaar. Dis hoe sy Prof se verpleegster en sy tweede vrou geword het. In 2006 het hulle paaie geskei.

* * * * * * *

Vanaand SMS ek vir Ingrid: “Hoe was die middag met Ouma?”
Daar was net voorletters en ‘n van op ‘n bruinpapier boksie, skryf sy. En die as was vreemd-swaar.

Heart of darkness

Wednesday, June 16th, 2010

Gister lees ek in die voorwoord van Joseph Conrad se “Heart of darkness” (1902) hoe hy as vierjarige saam met sy Poolse ouers verban is na die verre noorde van die Oekraïne. As gevolg van bitterswaar omstandighede het sy ouers jonk gesterf en op elf is Joseph wees gelaat. Op 21 skiet hy homself deur die bors, maar die koeël mis sy hart en hy oorleef wonderbaarlik. En skielik weerklink ‘n frase oor anti-held Kurtz ‘n bietjie bisar en totaal buite konteks in my kop: “It echoed loudly within him because he was hallow at the core…”

‘n Prose poet van die hoogste graad wat hier praat.

Dit sien ek, ja. Die digterlike inslag, die uitmuntende ingehoue emosie van die verteller, die psigologiese realisme, die simboliek, die fassinerende karakters en historiese konteks, the paw-strokes of the wilderness. En tog is dit 110 bladsye wat ek asseblieftog nooit weer wil lees nie. Waarom nie? En wat maak dat mens wel soms wil terugkeer na ‘n boek, ‘n fliek, ‘n spesifieke sonkol, sofa, koffiebeker, ‘n uitsig, ‘n graf; dat jy ‘n sekere mens wil herhaal?

My rol in ‘n Skotse cartoon

Friday, June 4th, 2010

    Gister wonder ek uit die bloute of Gerald nog leef. Google hom en kom af op http://www.geraldlaing.com/. Ja wragtag, die briljante ou blikskottel se kunskliere werk nogsteeds oortyd!

    Gerald Laing is ‘n volbloed Skot wat in 1960’s deel was van die Pop Art-beweging in New York. Só kon hy genoeg dollars verdien om ‘n Skotse kasteel te koop. Die afgelope 40 jaar woon en werk hy in die sewentien eeuse Kinkell Castle met sy enorme beeldhoutuin vol klippaadjies en kersiebloeisels. Gerald word gereken as een van Skotland se voorste grafiese kunstenaars, skilders en beeldhouers. Sy werk is in talle museums van Japan en Duitsland tot Puerto Rico, in universiteite soos Harvard, in die Tate en National Gallery in Londen, in die Britse koningin se versameling.

galina-series-dreaming

galina-series-dreaming

    In 2002 het ek vir ‘n halwe jaar in die Skotse Hoogland gewoon. Werkolis Gerald was op daardie stadium 66 jaar oud en doenig met twee solouitstallings en drie commissions vir publieke beelde, dus het hy ekstra hande nodig gehad. Die eerste dag het ons met klei gemodelleer: ‘n skaalmodel van ‘n eenhoring wat later in ‘n lewensgroot bronsbeeld omskep is. ‘n Ander keer moes ek vir agt aaklige ure aanmekaar ‘n blok swart graniet met die grinder skaaf - die basis vir ‘n beeld vir Isle of Skye. Ek moes ook breinlose werk doen soos hout saag en bokse bou waarin ons sy beelde kon verskeep, maar later het Gerald my darem genoeg vertrou om sy beelde te elektroplateer.

    Een middag sit ons in die tuin, eet eendsop, tuisgebakte brood en vrugtekoek, toe hy na die vallei beduie en kos in die kies vra: “I wonder what those people are doing with their lives.” Those people, sou ek hom kon sê, het nie in die minste gewonder wat in sý lewe aangaan nie – hulle was oortuig hulle weet. Sien, een maal ‘n jaar het Gerald sy kasteel se hekke oopgestoot en die valleimense gestiek vir ‘n somersparty. Ná die tyd is daar wild en wakker geskinder oor presies hoe skatryk en suksesvol hy is; dat hy ewe bekend behoort te wees vir befoeterdgeit as vir beeldkuns; dat sy studio so georganiseerd soos ‘n militêre basis is. En natuurlik het dit gegons oor sy drie beeldskone vroue (en drie egskeidings), sy ses kinders tussen die ouderdom van 5 en 35 en sy nuutste minnaresse. Die mense vertel toe Pavarotti destyds vir ‘n borsbeeld kom poseer het, het hy dit gewaag om die modelleermes uit Gerald se hand te gryp en self in te spring. Gie-gie, giggel hulle, dink net: twee grumpy geniuses onder een dak! Maar self het ek Gerald nie as beneuk ervaar nie. Stiptelik, ja, en soms arrogant, maar altyd beleef. Galant.

    al die gewerskaf aan die uitstallings was my biseps en triseps nogal iets aanskouliks. Gerald het gevra dat ek sy seiljag help restoureer - skuur, verf, vernis. Dit was ‘n lieflike Ierse jag wat uit die oorlog dateer. Hy het graag naweke daarmee op Loch Ness gevaar. Gerald had baie speelgoed. Behalwe vir die seiljag en kasteel was daar sy 1925 Austin Seven en Audi, twee brulmoterfietse, ‘n 4 X 4 en natuurlik sy meisie, Emma. Sy was 37 jaar jonger as hy. ‘n Cambridge gegradueerde klipkerwer. ‘n Vat-g’n-twak ontluikende intellektueel. Wanneer sy en Gerald stry kry, het hy my weggestuur om te gaan tee maak. As ek so met die skinkbord in die kasteelkombuis staan, het dit vir my gevoel asof ek in ‘n cartoon speel. Ek sien nog die prentjie: doer buite stap Gus die tuinier – ‘n middeljarige, getatoeëerde buksie met ‘n kop vir ‘n bar fight. Voor die venster staan Gerald. Uitgevat in ‘n statige baadjie sing hy opera uit volle bors saam met die radio terwyl hy die heup van ‘n vrou modelleer. En eenkant sit Emma: mooi en emosieloos in haar grys trui, lang swart rok en los bruin hare, besig om dag en nag, week na week ‘n meter breë granietblok vol Latynse gesegdes en Keltiese simbole te beitel, totdat die blok in ‘n oomblik middeldeur kraak en voor haar voete val en sy wegspring, haar mond vertrek asof sy wil skreeu. Sy het stil omgedraai en uitgestap, kil soos ‘n koningin.

    In die deur was ek met ‘n beker koue rooibostee in die hand, besig om die intrige te vertaal: ‘n bars van die beitel af dwarsdeur die sterre loop.

galina-series-an-american-girl

galina-series-an-american-girl

O, wat is die brand?

Thursday, May 13th, 2010

Die digters wie se werk ek bewonder, ontgin albei die bonatuurlike deur middel van woord én beeld. By sowel Breyten Breytenbach (skilderdigter) as Sheila Cussons (digter en etser) vind ons in bundel na bundel ‘n behoefte om in die bo-tydruimtelike in te beweeg.

Gestaltes 1947

Gestaltes 1947

In haar prosabundel, Gestaltes 1947 herroep Cussons ‘n herhaalde kinderdroom: “Dis ‘n brandende see en ek daarin, ‘n klein geparaliseerde liggaam ongeveer ses jaar oud… Ek is, erens in ‘n helder kol binne my paniek, bewus dat die enigste lig in my spartelende liggaam gekonsentreer is, want alleen die vlamme wat naaste aan my beweeg, is ‘n donker deursigtige rooi… Agter strek ‘n waterduisternis of ‘n duisternis van vuur – ‘n swart vuur met ‘n rooi hart en binne die hart my blink sparteling, terwyl ek herhaaldelik na my vader roep” (1982:5).

In 1974, ongeveer 45 jaar ná die vuurdroom, word “’n jarelange vermoede bevestig” toe ‘n gasoond in haar gesig ontplof. Twee jaar van hospitalisasie volg. Veloorplantings. Amputasies. En verse oor verminking en die herskepping van liggaam, siel, gees en aarde.

Ek was veertien jaar oud toe ek “Christ of the Burnt men” vir die eerste keer raakgelees het in haar bundel, Die swart kombuis (1978). Dié gedig gryp my sedertdien aan die hart. Die titel verwys na Thomas Merton: eens Cambridge student en agnostikus, later priester, Trapistemonnik, sosiale aktivis en digter. Cussons is sterk beïnvloed deur sy meditatiewe joernale en boeke oor die kontemplatiewe lewe. In The sign of Jonas skryf Merton: “I know well the burnt faces of the Prophets and Evangelists, transformed by the white-hot dangerous presence of inspiration… they are the burnt men.” (1961:220.)

Christ of the Burnt Men”

(Thomas Merton)

Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en voet en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van ‘n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was -
- O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

Sheila Cussons

Sheila Cussons

Cussons put uit ‘n breë verwysingsveld: skilderkuns, musiek, mitologie, letterkunde en die natuur, maar religie vorm die vernaamste stramien van haar poësie. Regdeur haar oeuvre is daar gesprekke met gelowiges oor eeue en kulture heen. As metafisies-religieuse digter praat sy by monde van mistici soos Franciscus van Assisi, Jan van die Kruis en Teresa van Avila. Mistisisme is ‘n strewe na die innige vereniging van die siel met God; ‘n aanraking tussen mens en God. So is daar byvoorbeeld die aardsmistiek, reismistiek, ligmistiek en die hermetiese wetenskap van Alchemistiese transformasie. “Christ of the burnt men” is ‘n voorbeeld van die bruidsmistiek waar die God-mens-verhouding vergelyk word met ‘n verhouding tussen bruid en bruidegom.

Daar is diep medemenslikheid in die beskrywing van die “skerts-oog blinkoog Christus” wat in ‘n visioen aan haar verskyn met net die trekking van ‘n glimlag/ van uiterse pyn om die mondhoeke.” Op ‘n paradoksale wyse is Hy intiem betrokke en tog hou Hy haar vir jare op ‘n afstand dop. Waarom die skynbare afwesigheid? Die sleutel is in fragmente versprei oor die gedig: Hy wou haar oorlaat aan haar vrye wil, aan die avontuur om self te kies of sy agter Sy “ságsinnigheid” aan wil kom en “heeluit sê: gryp my hande.”

Vroeër het Hy homself “verdoesel”, maar nou verskyn Hy as ‘n “verwoede, stormende son” - ‘n alomteenwoordige, “kosmiese Christus.” Die verwysings na lig (“sengende”, “blink” , “brand”, “brandender”, “gloei”, “wit” en “son”) dui op wat Cussons elders die omtoorvuur” noem: simbole van loutering en heiligmaking. Voorts herinner dit aan die vuurtonge van die Heilige Gees ná hemelvaart en aan die offerlewe van die feniks. In ikonografie is die feniks die samebinder van vuur en lug - ‘n vroeë-Christelike simbool van opstanding uit die dood.

Cussons sien haar eie lyding in die vyf kruisigingswonde van Christus: “in hand/ en voet en romp en hoof”. Dis asof die naby-dood-ervaring haar forseer om buite die bewustheidsdimensie te beweeg: eers met ‘n skyndood of introspektiewe afdaling, dan in die opstyging na God. die opstanding uit die onderwêreld of vaevuur, bereik sy ex nihilo‘n plek anderkant die dood. Die inisiant word dus ‘n soort bonatuurlike wese – ‘n konsep wat sterk inspeel op onsterflikheid of die ewige lewe.

Digters wat die gees verken, maak graag gebruik van ‘n intuïtiewe skeppingsproses; ‘n misterieuse oriëntasie wat alte maklik in oorvereenvoudiging of newelagtige clichés verval. By Cussson word mistieke ekstase egter in beheersde, weldeurdagte taal weergegee. Elke woord is versigtig in die hand geweeg en trefseker geplant.

Christ of the burnt men” is aanbiddingspoësie: ‘n beweging van God na mens en mens na God. Vir die digter word God ‘n waaragtige teenwoordigheid - iemand wat sy “raaksien, raak weet, raak het.” Sy, wat “altyd waaghalsig was”, bevind haar midde in ‘n spirituele én skeppende avontuur.

Hierdie essay het oorspronklik in Rapport Boeke van 1 Nov 2009 verskyn.

 

visumkoors

Monday, May 3rd, 2010

Die laaste maand had ek nie ‘n enkele kuier sonder dat iemand op ‘n stadium begin spekuleer oor wat die gaafste plek vir kits-emigrasie is nie. Kanada? Australië? Singapoer? Hierdie naweek het die visumkoors my ook oorval - die drang om ‘n agterdeur, ‘n sleutelgat na ‘n ander land te vind. Net vir ingeval… Want al is ek skaamteloos lief vir my land en al woon ek in ‘n paradyslike kuswoud, is ek ook nou nie skoon besimpeld van optimisme nie. Tog kon nie eers Dilemma Malema se rampokkerpraatjies my koors so laat styg soos gister se besoek aan Port Elizabeth se eers befaamde pofadders en pikkewyne nie. In “Oppad in Suid-Afrika” (’n reisboek wat in 1997 gepubliseer is) pronk PE met sy Bayworld wat honderd jaar gelede deur F.W. FitzSimons gestig is - ‘n slangpark met 1 000 spesies waarvan sommiges gereeld vir serum gemelk is. Gister was daar dalk 15 slange by die park, dalk minder… Op dieselfde perseel is die oseanarium waar ‘n skool stompneusdolfyne vir dekades lank die wonderbaarlikste toertjies uitgevoer het - gister was dolfynloos. Glo weggestuur na Hong Kong om te gaan broei, vertel ‘n plakkaat. Glo verkoop omdat die een of ander flierefluiter die beskikbare R500 000 verduister het, skinder ‘n inwoner. Glo wat jy wil, sug ek, maar die swembad is vrot van die alge, die pawiljoen leeg en die pikkewyne wat onder ‘n hondebok saambondel, lyk bipolêr. En die Tropiese Huis wat ‘n paar jaar gelede nog die ene eksotiese plante en voëls was? Die is nou ‘n konferensie-sentrum… Toegegee, die lewensgroot dinosourusse wat grom en beweeg is oulik. En die seeleeu klap mooi hande. En dit alles saam is nie slegte waarde teen R40 per kaartjie nie. Maar dat Bayworld tot so onlangs as 2006  in Getaway se deksels netjiese “1001 Moet-sien-plekke in Suider Afrika” gelys is, dit laat my visumkoors styg. Is dit wat in vier jaar se tyd kan gebeur?  Slaan my om met ‘n pap snoek…