Charl-Pierre Naudé
Thursday, March 11th, 2010
Beste lesers van my blog,
Ek was ’n rukkie van die lug af, maar bring binnekort twee diskursiewe blog-aflewerings na Versindaba.
Intussen, vir diegene wat belangstel in die debat rondom taal, Afrikaans en universiteite, lees gerus my tweede rubriek oor die aangeleentheid in Beeld by die volgende skakel.
http://www.beeld.com/Content/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/2149/428c3927687f4a879b7b6e68833ceb0b/02-03-2010-11-37/Want_taal_%C3%ADs_verbeelding
Ek sal nog een aflewering aan die onderwerp wy. (Amper skryf ek wei. Helaas, ek probeer my bes om kort en kragtig te wees. )
Charl-Pierre Naudé
Wednesday, February 3rd, 2010
Vir diegene wat belangstel in nog ‘n mening oor die huidige oplaaiende taalkwessie rondom Afrikaans en sy hoër funksies, lees gerus my rubriek in Beeld by:
http://www.beeld.com/Content/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/2149/66365be27fc5403888d5ccee4967463f/02-02-2010-10-04/Di%C3%A9_herrie_is_net_die_begin
Wednesday, January 20th, 2010
Een van die mooiste poësiebundels in Afrikaans is Innie skylte vannie Jirre – (Griekwapsalms en ander gedigte) deur Hans du Plessis. ’n Mens hoor so dikwels van hoe Afrikaners nóg nie genoeg “getransformeer” het nie, nog rassisties is, ensovoorts, maar hoe dikwels kyk ons na die morele prestasies van ons letterkunde wat onteenseglik wel daar is? En daar is baie, baie, baie.
In die stilligheid transformeer die erkenning uit eie midde van wat Afrikaans is radikaal, en voortdurend, weg van “Slegs standaard-Afrikaans” na Afrikaans in sy vele gedaantes, en dit gebeur nou al oor ’n lang ruk. Boonop gebeur dit organies, wat beteken dat dit standhoudende transformasie is, nie die soort vlagswaaiende, stertswaaiende quick-fix trans-vir-maatjies van meeste regeringsinisiatiewe nie.
Weet die ANC-regering hiervan? Waarskynlik nié. Hy lees nie Afrikaans nie, die grootste literêre taal in Suid-Afrika en die grootste inheemse literêre taal in Afrika. Want anders sou hy ook weet dat “rekonstruksie” binne Afrikaanse verband beter vaar as in meeste sfere in Suid-Afrika, veral daardie sfere onder regeringsbestuur wat meer lyk na swere.
Net verlede jaar het Anton F. Prinsloo se Annerlike Afrikaans verskyn, ’n inventaris van Afrikaanse streekstaal. Die pragtigste verbeeldingse staan in hierdie boek opgeverf.
Du Plessis se Griekwa-psalms is ’n kragtoer wat nooit ophou om te vermaak en te verkwik nie. Die boek het derduisende eksemplare verkoop, so verstaan ek. Die verse is ’n herskrywing van gedeeltes uit die Bybel: Habakuk, Psalms, Die Spreuke van Salomo, en nog meer. Maar dit is nie slegs vertalings nie, dit is transponerings na die idiome en kultuur van die Griekwa-Afrikaanses. Veral moet sulke transponerings die toonaarde van ervaring binne die ontvangertaal in ag neem, en dis nie maklik nie. Daar is dalk sommige soorte reaksies op ervarings wat jy in die Bybel kry, of onder wit Afrikaanse mense, wat ander soorte reaksies gaan ontlok onder die Griekwas weens die feit dat reaksies op soortgelyke gebeure kultuurgebonde is, en sal verskil.
Du Plessis se transponerings inkorporeer die fonetiese aspek baie sterk, want dis belangrik dat die leser hierdie Griekwa-uitspraak kan “hoor”.
As mens dink watter register van vertaling ter sprake is by so ’n transponering, verskil dit nie veel van wat betrek word in enige sogenaamde “oorspronklike” kreatiewe produk. Die oorspronklike digter transponeer tog ook sy of haar “ervaring” na “woorde”? En daar is aan die ander kant, vele sogenaamde “oorspronklike” produkte wat net blote naskrywings is van bestaande en maklik toeganklike ervaringsmodusse. Met ander woorde: “oorspronklike” gedigte is soms minder oorspronklik as sommige “vertalings” …
Só klink een vers uit De Plessis se Griekwa-psalms:
DIE GEBED VAN JABES
(1 KRONIEKE 4:10)
Jirre, stier tog nou U se wolklikheit,
en goi U se drippelse op onse koppe yt.
Gjee onse weidingse meerderder gras
en hou ons tog oener U se vlerkense vas.
Keer die beerlou* van onse lyfte af weg
en draai tog net onse lewe bietjie reg:
lattie hyl ons nie innie nagte so matlik slattie,
ennie trane ons nie oppie mirrag skierlik vattie.
*’n Aaaklige, mitologiese wese.
Hierdie is suiwer poësie van ’n hoë orde. En dit hoef nie terug te staan vir enige iets in standaard-Afrikaans nie.
Maar nou moet mens jouself ook voortdurend onder die loep neem. (Dis nie net die regering wat rassisties is nie.) Soms is van ons beste, mees menslike reaksies eintlik rassisties. Dis vreeslik om dit te sê, maar dit is waar.
Toe ek nou die aand die Griekwa-psalms aan ’n gewaardeerde vriendin voorlees, was haar reaksie: “Ag, my moeder, dis kostelik!”. Dit het my laat dink aan Nederlanders wat praat van standaard-Afrikaans as “een leuke kinder taalje”.
Sy het haar in die Griekwa-taal verkneukel, nes Nederlanders in Afrikaans, maar wat gaan skuil in daardie waarderende opmerking van haar? Dit sê: “Watter pragtige kindermensies is die Griekwas nie!”
Nee, die Griekwa-psalms is poësie in volle, volwasse en eie reg. Net soos die Griekwa-kultuur.
Die volgende stap is dat ons die historiese geheuens van die “ander Afrikaanse” mense sal konsulteer om oplossings te vind vir ons huidige politieke probleme, want politieke projeksie is aan die rokspante van historiese ervaring vasgebind. Watter ander moontlikhede skuil daar nie in die ander Afrikaners nie? Dis nie moeilik om te sien dat die blanke Afrikaner se historiese geheue (en daarmee saam die omskrywing van die toekomsprojeksies wat hy in staat is om te vind) sterk ingegee is deur die Boereoorlog. Dus: guerillastryd, sabotasie, verassingsaanvalle, die tipering van opposisie as per definsie vyandig, eerder selfmoord as oorgawe, ensomeer.
Hoe het daardie Afrikaners, wie se historiese geheue byvoorbeeld omskryf word deur eeue se onderwerping aan slawerny, histories met die omringende werklikheid onderhandel? Hulle nasate is steeds in ons midde, dit beteken hulle het oorleef, en hulle praat Afrikaans! Sal dit nie goed wees as ons bietjie gaan navorsing doen in die ander Afrikaners se histories geheuens nie? Daar skuil dalk oplossings van ’n verbeeldingsgehalte wat wit (middelklas) Afrikaanse verbeelding ver agterlaat. Dalk skuil ons enigste toekoms juis daar. Laat ons dit in gedagte hou voor ons hulle soos kinders benader.
Die opvallende aspek van die Griekwa-psalms is dat dit geskryf is deur ’n nie-Griekwa, naamlik die digter Hans du Plessis. Van die groot probleme wat mens kry by die opvang van “naiewe” poësie (lees: poësie deur basies-geletterdes), het nie hier ter sprake gekom nie. Ek praat van probleme wat ter sprake kom as die digter self die een is wie sy/haar uitinge neerpen, en daardie digter self net basies onderlê is in die taal waarin hy/sy skryf. Onder sulke dilemmas sal tel: Hoe ingrypend mag ’n uitgewer herskryf? Wat tel as poësie? Kan basies-geletterdes ook digters wees? Baie mense sal sê, nee, jy moet die gereedskap van jou medium eers “onder die knie” hê (watter knie?). Helaas, daar is egter voorbeelde uit die verlede wat die teendeel laat blyk. Wat van bluesmusiek se woorde? Wat van volksrympies? Wat van die skaapwagtersliedere van die Karoo wat David Kramer opgeteken het? Wat van die “Alibama”?
Dit bring my by verse wat geskryf is deur die township-digter, Yabadaka Shamah. Hy het die titelgedig geskryf van die versamelbundel My ousie is ’n blom (saamgestel deur myself). Dis ’n bundel “eiesoortige gedigte”, waarin ek juis iets te kenne wou gee van die uiteenlopendheid van die eietydse Afrikaanse digkuns (wat histories maar bra homogeen is). Die samesteller André Brink het in sy Groot Verseboek (2008) ’n besonder afwesige luister verleen aan hierdie uitinge. Dit terwyl sommige middelklasmymerings soms voorkom waarvoor liefs geen boom afgekap moes gewees het nie.
Só lui Yabadaka Shamah se gedig “My ousie” (ousie hier beteken meisie, of beminde)
My ousie,
OO!, sy is so PRAGTIG, MOOI,
dáár is ’n duur geskenk
van die Hemel af, ja daar ons
praat van volle liefde,
my ousie het ’n goeie verstaan
luister, haar stem is soet,
van ver af dit klank musiek
my ore kry heuning soet kos
as ons gesels, OO!, my ousie maak
my voël soos ’n koning
rêrig my ousie is ’n blom en
ek sal haar elke môre en naand met
’n haart vol van liefde naat maak
(dankie vir die liefde,
asb. bly net bietjie by my)
Daar is oorgenoeg spanlyne in hierdie gedig om dit as gedig te kan eien.
Maar ek vra myself: Is hierdie bloot geradbraakte Afrikaans, geskryf deur ’n Sotho-spreker wat daarvan hou om in Afrikaans te skryf eerder as in sy eerste taal? Of is die geradbraaktheid gelyk aan die legitieme wordende taalstruktuur van ’n alternatiewe Afrikaans? Het die geradbraaktheid ’n wyer sanksie, weens maatskaplike taalkreolisering? Of is dit net ’n indiwidu hierdie wat nie die taal behoorlik magtig is nie?
My antwoord sal wees: beide. Hier is geradbraakte taalkreolisering wat reeds maatskaplike struktuur geword het binne hierdie gemeenskap (soos byvoorbeeld “my ousie het ‘n goeie verstaan”). Maar daar is ook die indiwidu se persoonlike taal-onbeholpenheid: “van ver af dit klank musiek”. Helaas, in beide voorbeelde so pas genoem is ’n skeppende gees te bespeur.
Die beste voorbeeld is “’n haart vol van liefde naat maak”. In die geval van “haart” lyk dit of die digter se spelling, sowel as sy oor, “haard” (kaggel, soos in “huis en haard”) verwar met “hart”. In die geval van “naat maak”, bedoel hy oënskynlik “natmaak”, maar nie sonder spesmaas nie.
Dit is duidelik dat ondanks die taalverwarring, hier die oor en die vindingrykheid van ’n digtende gees te bespeur is. Die seksuele konnotasie in “naat” is trefseker, so ook die dubbelbetekenis in die klankspel van “haart”.
En dan is daar deurgaans bedrewe klankspel, hoofsaaklik vokaalryme. Wat beeldbeheer betref, kyk hierna: my ousie maak/ my voël soos ’n koning/
rêrig my ousie is ’n blom …/. “Voël” verwys beide na penis sowel as ’n regte voël wat ’n blom besoek vir nektar. Die dubbelsinnigheid, en sekure plasing van “voël” ten opsigte van “blom” trek die reëls baie slim saam. Die konnotasie van nektar is reeds vooruit gesuggereer in “heuning soet kos” (reël 9). Dieselfde aanvoeling vir die gespanne reël is af te lees uit die mooi slotkoeplet.
Dis ’n gespanne en musikale uiting wat mens meermale kan lees sonder om dit uit te put. Daar is nie ’n enkele fasiele, geykte of nageskrewe moment in hierdie skamele uiting nie.
Nou ja, sommiges sal steeds redeneer dis nie ’n uitgemaakte saak dat alles wat hierdie outeur voortbring poësie is nie. Ek twyfel self. Maar dat in hierdie “naïewe” uitinge ’n onnabootsbaarheid in sit, ’n vreemdsoortige eie stempel, is nie te betwyfel nie. Kyk maar na sy vreemde manier om twee titels aan sommige gedigte te gee, en nié sonder effek nie. Ook die gebruik van hoofletters (wat spruit uit karige skoolopvoeding).
Oordeel maar self uit die verse hier onder.
PAS
NUWE DOMPAS
DING-DONG DING-DONG
“WIE IS DAAR?”
MÔRE BAAS,
EK VRA VIR DIE TUINWERK, ASSEBLIEF.
“HET JY I.D.?”
NEE MENEER.
“O JAMMER,
EK KAN NIE HELP NIE.”
O ASSEBLIEF, MY BAAS,
EK IS BAIE HONGER EN
EK HET TWEE KINDERS EN ’N VROU,
ALMAL VAN HULLE KYK NA MY
OM IETS TE KRY.
“MAAR JY WEET MOS DIE I.D.
IS BAIE BELANGRIK,
SONDER ’N ID., NEE VERGEET,
HOE SAL EK JOU DAN KEN?
NEE, EK IS BAIE JAMMER
JY MOET EERS DIE I.D. KRY.
DAN KAN ONS PRAAT,
DANKIE, HOOR.”
HOEK
VREDEHOEK
EK WIL IETS SKRYF
MAAR DIT GEBEUR NIE
DIE LEWE IN KAAPSTAD
IS BAIE STIL EN VREESLIK
DIE HOND WAAR EK BLY
IS VOL RASSEHAAT
SY HAAT MY NET
WANT EK IS ’N SWART MAN
SY WIL MY BYT
EN DIE KAT
IS OOK BANG VIR MY
SY SPAANDER ALTYD
AS EK MAAR NADER KOM
WIT
WIT NÈ
“WAT SOEK HIERDIE TWEE HIER?
DIE IS MOS ’N WIT BAR.”
“EI, JAH-MAN, HIERDIE PLEK
IS VOL VAN DIE WIT WOLF.”
“JY MOENIE WORRY,
ONS SAL HULLE SLAAN MET AL KAIDA,
WAG MAAR.”
“MIDDAG ASSEBLIEF, JA!
ONS KOM VAN DIE ANC
ONS HET NET GEDINK ONS KAN
’N PAAR KOELDRANKE KRY.
JY SIEN MOS ONS SAKKE BULT
SO ONS MOET AL HIERDIE MBOWENI*
NOU SPANDEER.
JY KEN HOE WERK KORRUPSIE,
JÝ WEET MOS.”
*beteken “geld” in die townships, dikwels onwettige geld (vernoem na die voormalige president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Tito Mboweni).
POINT
POINTLESS
APARTHEID WAS WIT OP SWART.
SO, AS EK NOU SKRYF MET ’N SWART PEN
OP ’N WIT PAPIER
WAT NOEM JY DIT?
IS DÍT MESKIEN VRYHEID?
EK WEET NIE.
JALOERS IS SWART OP SWART,
MAAR WAT IS DIT?
EK HOOR NOU SWART EN SWART
IS BROERSKAP,
EN WIT EN SWART
IS ’N SPAN.
O EK HOU MOS SO VAN
TEE SONDER MELK!
SIEN, DÍS SWART,
IS EK DAN NIE VRY NIE?
VUUR
WAGVUUR
OORLOG BEGIN HEEL EERSTE
IN DIE GESIN EN DAN BREI DIT UIT
NA DIE GEMEENSKAP EN DIE NASIE
TOT IN DIE WÊRELD
WANT HOEKOM?
DIE GEREEDSKAP VAN OORLOG WORD GESMEE
IN DIE ONMIDDELLIKE FAMILIE
MENS KAN SÊ DIE OORLOG GIS HÍÉR
RONDOM ONS
IN DIE MENSE WAT STERF
IS AL DIE GESNEUWELDES
Friday, January 1st, 2010
Voor ek in so ’n betoog uitdraf wil ek myself en enige lesers daaraan herinner dat die poësiekritiek in sy geheel minder waardevol is as die blote vreugde van die lees daarvan – en as eersgenoemde by jou laasgenoemde kompromiteer, moenie verder hier aanlees nie. Maar, as jy vandag reeds op behoorlike wyse ’n gedig geniet het en jy soek iets om te doen terwyl jy wag vir ’n telefoonoproep, doen gerus verder mee.
Soos wat die aard (en funksies) van poësie verander, moet nuwe begrippe dikwels geskep word om die beskouing daarvan betekenisvol en relevant te hou. Dit impliseer egter ook dat sommige begrippe (of waardes) wat in die verlede bruikbaar was, in onbruik sal verval.
Die rede hiervoor is omdat die aard van poësie in die wêreld in die afgelope dekades baie divers geword het en dieselfde by ons ook stadigaan begin gebeur. Ook omdat die kritiek van poësie baie verdiep het. Watter van die nuwer begrippe op die duur waardevol sal wees sal net die tyd leer.
Veel meer seker is watter waardes uit die verlede, hetsy in hul geheel of in hul ou gedaantes, vir ons nutteloos geword het. Boaan my lys hiervan is die begrip “aantal bundels gepubliseer”. Daar was ’n tyd toe hierdie waarde help “bepaal” het watter digters “groter of kleiner bydraes” tot die poësie gelewer het. Dié waarde lyk vir my egter in geen gedaante meer bruikbaar of relevant nie behalwe as kuriositeitswaarde. As ernstige maatstaf is dit in sy geheel uitskotwaardig. Miskien kan dit binne ’n bepaalde oeuvre of digsoort sylangs betrek word, maar nie meer as dit nie.
En tog klink dit asof bundelpublikasietal as waarde soms nog in gesprekke rondom die poësie by ons hoogty vier. Dié digter behoort nie in aanmerking te kom vir so en só ’n prys nie “want sy het nog net twee digbundels gepubliseer” of dáárdie digter “het al twintig bundels onder die belt” en behoort die beurs te kry. Albei hierdie soort opmerkings het ek in onlangse tye weer gehoor, en dit van mense wat nogal hoog opgee oor die “postmodernisme” (!) – daardie moederbron van alle eietydse relativerings – met ’n straight face nogal, en boonop in ’n tyd waarin Afrikaans in ’n globale konteks funksioneer en lankal nie meer ’n kerkbussie onderweg tussen Potchefstroom en Stellenbosch is nie.
Genoemde waarde het relatief geword omdat dit teruggryp na ’n era toe gedigte min of meer almal dieselfde lengte was, min of meer met dieselfde begrip van digtheid gewerk het, min of meer in dieselfde relasie gestaan het tot ander aspekte soos tematiese ontwikkeling en eenheid en digterlike ontplooiing – almal destyds vasstaande, maar sedertdien deur die bank veranderlikes.
Ander waardes wat in hul ou of eenduidige gedaante aan relativering onderworpe geraak het, is: poëtiese digtheid; wat is “hermeties”; vormvastheid; gedig- of bundeleenheid; en vele meer.
Een van die interessantste vrae vandag is, byvoorbeeld: “Wat is digterlike musikaliteit?” Dit is nie alles of enige iets nie, tog kan dit nie langer gelykgestel word aan die ou maatstawwe nie. Gaan vergelyk gerus die “vreemde” musikaliteit van die Nederlandse digter Frans van Dixhoorn, waaroor al op hierdie webblad berig is, met D.J. Opperman. Goeiste, hoe uitgelewer is ons nie aan ons begrippe nie …
Nog ’n interessante geval is metrum. Metrum beteken oorspronklik die patroon van klemverplasings in ’n gedig as dit hardop voorgelees word. Dis veral die patroon wat hieruit voortvloei wat verantwoordelik is vir “musikaliteit”. Maar dan moet mens byvoeg:’n bepaalde soort musikaliteit, overgesetsynde, ’n bepaalde soort patroonmatigheid. Dis moontlik om ander soorte patroonmatigheid aan te tref, soos byvoorbeeld in ’n prosagedig wat in paragraafvorm geskryf is en redelik monotoon voorgedra word.
Want, benewens klempatrone, kry mens ook metapatrone soos die volgende: beeldpatrone, toonpatrone (een van die moeilikstes om te skryf), metaforiese patrone en patrone van emosionaliteit. Hierdie patrone is niks minder nie as metries in effek. Die metapatrone van ’n gedig is dikwels moeiliker om te skryf as die teksturele (plastiese) patrone waaraan oudedoos-kritici poësie so maklik gelykstel. En metapatroonmatigheid is in die eietydse wêreldpoësie dikwels meer bepalend vir die patroonmatige voorkoms van ’n gedig as teksturele elemente.
Terug na pseudo-begrip numero uno: bundelpublikasietal. Vir twee digters se produksie om in hierdie opsig met mekaar vergelyk te word moet al die veranderlikes hierbo genoem, en nog meer, gelyk wees. Die tydgenootlike konteks en die moeilikheidsgraad (moeilik om te bepaal) moet óók dieselfde wees. Anders is die vergelyking vals.
Maar dis nie waar die valsheid eindig nie. Of eerder, dis miskien waar dit eindig maar nie waar dit begin nie. Gestel, argumentshalwe, twee oeuvres is wel presies “gelyk” in al die opsigte hierbo genoem, en ook in die opsig van “gehalte”. Maar, digter A het drie bundels gepubliseer en digter B, twintig. Is digter B ’n bepaalde prys of beurs of kanonisering of meer lesers of die wenprys in die Durbanse poepwedstryd, dan meer werd as digter A?
Nie noodwendig nie. As dit by nadere beskouing blyk dat digter A meer bladsye poësie gepubliseer het as digter B ondanks laasgenoemde se prolifiese bundelpublikasies, wat dan? En as digter A meer reëls gepubliseer het, meer woorde?
En hoe rym hierdie klem op ’n soort kumulatiwiteit met die beweerde waarde van beknoptheid in die poësie? Snaaks dat dit dikwels dieselfde kritici is wat met albei hierdie (teenstrydige) begrippe werk …
Red ons O Vader, van ons vergelykings.
Die getal bundels wat ’n digter agter sy of haar naam kan skryf is ’n prestasie van die uitgewersbedryf, niks meer as dit nie. Indien dit is. Want sommige veelskrywers (en uitgewers) behoort aandadig gehou te word vir die kriminele verlies van bome.
Dis ’n totaal nuttelose maatstaf van poëtiese bydrae, indien nie onnutsig nie. En daar is baie voorbeelde ook uit die plaaslike publikasiegeskiedenis wat dit sal staaf.
Tuesday, December 1st, 2009
met toekomsvoorstelle, gesien binne maatskaplike konteks
Die Versindaba 2009, onder die beskerming en reëling van Marlise Joubert en Louis Esterhuizen, het ten einde geloop.
Dit was ’n groot voorreg om deel te kon wees daarvan, al het ek nou ook vir ‘n bespreking totaal onvoorbereid opgedaag en nuwe betekenis gegee aan die frase “’n mond vol tande”. Vir elke openbare bespreking wat in die wêreld plaasvind, is daar ‘n tandarts wat wag om te gebeur. Maar die vorige aand se wyn was lekker.
In vele opsigte was Versindaba ’n sege. Versindaba het in die afgelope vyf jaar wat dit bestaan ‘n toenemend belangrike rol gespeel, veral ook omdat dit die genot wat daar uit die poësie te verkry is, so sterk beklemtoon. Dis ’n lieflike, kleurryke basaar van beeld en skaduwee en ook, belangrik, besinning (in die lesings wat aangebied word).
Die sukses daarvan is nie te betwyfel nie. Louis Esterhuizen, die mede-organiseerder, het beslis in sy doel geslaag: om die “diversiteit” (sy woord) wat bestaan in die Afrikaanse poësie, ten toon te stel.
Versindaba die fees staan nou voor ’n waterskeiding. Die organisasie daarvan gaan deur andere oorgeneem word (dis steeds nie seker deur wie nie). Louis is besig met die politiek daarvan. Elke verhoog het maar sy katakombes.
Daar was vir my veral drie hoogtepunte vanjaar. My gunsteling voorlesing was Cas Vos. Dit was kort, maar daarom miskien die impak: élke gedig skitterend. Met iets Oud-Grieks in die waardigheid: die Stoïsynse klipgekaptheid daarvan onder die verlate skemer-uitspansel. Hoe dit dreig om die digter soos papier toe te vou, maar die geluidmaker stáán by sy podiumpie. Hoe seg die Italiaanse digter nou weer? “Ek staan op die rand van die aarde, deur ’n enkele straal deurboor, en dan is dit aand.”
Ai, nou voel ek sommer jammer vir ons almal. Sommer vir al die digters wat daar gelees het.
Gisteraand toe ek by my eensame hideout terugkom, waar my lessenaar staan en waar ek my geld moet verdien met vryskutwerk, wie bel my? Gert Vlok Nel. Die Burgemeester van Ver, soos hy homself noem. Nee, hy wil net sê dat hy lief is vir my. Hy is bietjie dronk, sien, en dis ’n goeie tyd vir sulke woorde. Ek kon sommer sien hoe loer daai opgestopte bokkoppe teen die mure van die gemeenskapsaal/ slash/ kroeg vir Gert. Die goed slaap nooit nie. Dis ’n kroeg met ’n vloer so wyd soos die Heer se genade, slash. Gewoonlik met net een customer op. Ek het maar erg melankolies gevoel voor die oproep. Toe voel ek sommer weer lus vir aangaan. Ironies: Want dit was Gert self wat die onderskraging op daardie oomblik dalk meer nodig gehad het. Mens gee mos gewoonlik wat jy self die meeste nodig het. Veral as jy ou Gert is.
Êniewááys. Waar was ek?
Tweede hoogtepunt. Die erkenning wat aan Vincent Oliphant gegaan het in ‘n lesing deur Dianne Ferrus. Oliphant is ’n sogenaamde “bruin” digter (soos wat ek ‘n sogenaamde “wit” een is) en hy beliggaam die in skadu gehulde gedeelte van dit wat die Afrikaanse maan genoem kan word.
Hoogtepunt nommer drie. Die vertalings in Afrikaans van enkele gedigte van Paul Celan, gedoen deur Antjie Krog. Sy het dit ook voorgelees in die konteks van ‘n uitstekende lesing getiteld “My ontnugtering tot die poësie”. My onmiddelike indruk was: Ek het nog nooit sulke treffende vertalings van Celan gehoor nie, en ek het omtrent alles van Celan wat in Engels beskikbaar is gelees, ook sommige van wat in Nederlands beskikbaar is.
Die sinergie wat Krog blootlê tussen Duits en Afrikaans is tot op die naatsteek, steek vir steek, pynlik in die kol. Hier het ons vertalings van een van die grooste na-oorlogse Europese digters, en ’n moelik vertaalbare digter, wat meeste ander vertalings daarvan laat verdof op die papier - en dit in Afrikaans! Sy het dit ook asembenewend goed voorgedra.
Celan was ’n Roemeen wat in Roemeens sowel as Duits geskryf het, maar sy grootste gedigte is ongetwyfeld in Duits. As synde ’n Jood, was hy outsider-“Duitser”. Hy het dan ook meestal in Parys gewoon. Hy het die Jode-uitdelging oorleef nadat sy hele familie daarin uitgewis is.
Om verskeie redes dink ek dis gebiedend noodsaaklik dat hierdie vertalings so gou dienlik op die mark kom. ’n Hele letterkunde bewe liggies, van die bodem van sy verlede tot in die verste punte van sy toekomsgeprojeksies, wanneer sulke werk, van hierdie kaliber, daarin beskikbaar word en dan boonop (op eerste hoorslag) só suksesvol.
Skrywers van ’n bepaalde letterkunde besef nie altyd hoe gegewe die manier is waarop hulle te werk gaan nie, of lees nie. Dit is nodig om op die vlak van impulse herinner te word aan ander strukture van verbeelding ten einde by moontlikhede uit te kom waarmee jou eie plek en ervaring weer vars kan verbeel. Ons praat nie van nabootsing nie. Juis nie. Ons praat van ander horisonne.
Ek het Antjie Krog sommer haar politieke leviete wat sy aan die gehoor die vorige aand voorgelees het, sienings waarmee ek hartstogtelik verskil, vergewe. In die naam van Celan. In die naam van poësie wat groter is as enige ondergang of uitdelging.
En daarvan is daar in Suid-Afrika vandag oorgenoeg. En dit word gedoen in die naam van geregtigheid, in die reklamenaam van geregtigheid. JUSTICE can make your skin feel beautiful and soft. And you LOOK so good. Buy JUSTICE. For a lovely, soapy wash. And you’ll never look better ….
Nee, die toekoms lê nie in meer “begrip” vir wat die regering van Suid-Afrika probeer doen nie, Antjie. Dis ’n soort regering wat hom al male sonder tal in Afrika gedupliseer het. As gevolg van te veel begrip, nie te min nie.
Dit lê in ‘n kultuur van deurtastende kritiese bevraagtekening, van die ontmaskering van manipulasie, en in die noodsaak vir pluralisme. Dit lê in die omarming van verskille, in die daadwerklike uitbouing daarvan, selfs in die skep van nuwe verskille waar dit nog nie bestaan nie, nee, meer nog: die opstel van omringende spieëls sodat elk van die nuwe en ou verskille sommer duisendmaal groter sal vertoon; dit lê in ’n nasiebou wat vasstaan op die bodem van veelvoud. Nie in EEN partytjie nie, maar in VELE. In die ontelbare, en in die onkontroleerbare. In die sterre.
Trouens, dit lê myns insiens nié in ’n nasie nie, maar in mense.
PLURALISME. Dis die bestaan van plurale identiteit, van ’n plurale benadering tot die werklikheid, wat die verbeeldingsgebeurtenis van ’n Celan kon oplewer. Die toekoms van verbeelding lê in die oopwringing van die kiere, en die toekoms van moraliteit lê ook daarin. Daar, ver agter die kiere, so smal soos verbygaan self, dáár wag die sarkofae in hul rye, met hul toegemesselde deksels soos eiers in die skemer. Dit wag daar vir die heropstanding. En dis ONS wat binne lê!
Die dag toe die Toring van Babel in duie gestort het was die dag toe die tirannie van die enkelvoud begin het, en tot vandag toe sukkel ons daarmee. Ons skiet ons onself nog elke oggend met enkelvoudigheid in die voet, van die moment wat ons opstaan tot ons gaan slaap.
Die bestaan van verskillende groepe is nié ’n nagmerrie waarin ons as ’n land weer afgetrek gaan word nie (soos Antjie beweer het), nee, dis die toekoms wat ons besig is om te droom. Die enigste toekoms wat die droom werd is. En dis die enigste toekoms wat besig is om ons te bedroom.
Hierdie plurale ideaal word NIE deur die ANC bevorder nie, maar daadwerklik, elke dag, deur hulle afgebreek. Dit behoort geopponeer word. Ter wille van die “ander”. Ter wille van dit wat anders is.
Celan. En dit op sy beurt, bring ons by die tekortkominge van Versindaba. En van die omringende Afrikaanse poësieruimte. Én van haar groter sussie, die Suid-Afrikaanse poetry-geheel. En ook by die rede waarom ek hoop Antjie se vertalings kom so gou moontlik op die rakke. Sonder om dinge te haas, natuurlik. Dis noodsaaklik. Gebiedend noodsaaklik.
Ondanks die verskeidenheid in die Afrikaanse poësie waarvan Louis Esterhuizen praat, bespeur ek min van ’n meer soepele verwagtingshorison by die poësiebelangstellende publiek. Trouens, daar is iets van ’n vasval in ’n eenvoudige en sussende romantiek. Daar is te min van die breër asemhalingsruimte wat byvoorbeeld die na-oorlogse Europese poësie gekenmerk het, en iets wat nou nodig is. Kom ons nie ook uit ‘n oorlog nie?
(Hoewel my goeie kollega Rian Malan sal sê jy kan nie apartheid met ander groot uitdelgings vergelyk nie: Die mense wat onder apartheid gesneuwel het tel glo maar 60 of 105 of so iets. Maar hy praat nonsens wanneer hy so sê. In terme van attrition, oftewel uitmergeling, het duisende, nee, miljoene, gesneuwel onder apartheid. Hoe meet jy die dood van mense? Een mens wat omval, of ontelbares wat verskraal word tot minder as niks?)
Ons kom uit verbrande aarde. Is die maniere waarop ons dit verwoord het tot dusver al moontlikhede, al maniere waarop ons die nuwer gras kan sing tot groei?
Ek dwaal weer af. Die Suid-Afrikaanse poësie as ’n geheel swymel tussen twee punte: ‘n Berggans se veer wat tydens die eerste helfte van die vorige eeu geval het naby Wuppertal, en “Africa, here we are we who people you (…) out in your vast space (…) so all of us black and white, can be a gift of life” (Mongane Wally Serote, Poetry Africa 2009).
Word daar nie dalk te min gedoen om die verwagtingshorisonne uit te brei nie? Die fout lê nie soseer by die troebadoers, soos Laurinda Hofmeyr, wat met sang en lied digters bekendstel nie, maar by ‘n gebrek aan aanvulling daarby, ‘n gebrek aan bewusmaking van dit wat buite-om die bestaande verwagtingshorison lê.
Hiervoor bestaan verskeie redes. Ek voel natuurlik die situasie aan eie bas, want my eie poësie vra toenemend om ’n verstelling van horison. Hierdie jaar toe ek by Versindaba lees, het ek ‘n bietjie die gevoel gekry van ’n muur tussen my en die gehoor se begrip, al is hulle ook HOE waarderend. As ek by Poetry International 2009 tydens ’n retrospektiewe voorlesingsaand voorlees, soos nou onlangs, kry ek meer ‘n gevoel van absorpsie by die gehoor van wat ek lees. En daar word onomwonde gesê: ‘There is not much modern poetry coming out of Africa these days”.
Dieselfde gedig wat ek voorgelees het , en wat luidkeels begroet is, is toevallig in presies dieselfde formaat in 1994 vir publikasie afgekeur deur die destydse redakteur van die Afrikaanse afdeling van New Contrast. Sê dit iets oor wat ek wil sê oor verwagtingshorisonne?
Maar weg van “ek”. Dis bloot maar my beste voorbeeld. Die reaksie van die Versindaba-gehoor op die nuwe werk van Gilbert Gibson, wat in enige leser se boek ‘n “moderne digter” behoort te wees, en wat blyk op die peil te wees van die beste in eksperimentering wat elders gebeur, was verblydend. Miskien is dit ‘n kontrapunt op my besorgdheid hierbo?
Maar, hoe ook al: Versindaba sal dalk minder “Slegs Afrikaans” moet word. Dis as dit enige durende belang gaan hê vir Afrikaans binne ’n globale ruimte, daar waar alle kulture deesdae, aan die einde van die dag, afspeel.
Wie ook al die nuwe organiseerders gaan wees: Bring ’n Nederlandse of Europese of Wes-Afrika-digter elke jaar uit na Stellenbosch. Maak die deure op. En nie vir die soort driwwel wat dikwels by Poetry Africa te hore is nie. Ek praat van die beste, nie die bemarkbaarste of toeganklikste nie. Hou klasse in vertaalde Tjeggiese poësie. Soos in “Versindaba 2010: Fokus op Tjeggiese poësie”.
Hou ‘n reeks lesings oor “Die gesproke gedig in Afrika”: van griot tot Jitsvinger”.
(Die naaste wat ons aan hierdie soort broodnodige hergeboorte gekom het, was UWK se onlangse Roots-fees. )
Met watter geld Versindaba dit sal doen, weet ek nie. Maar die afsyferingseffek wat poësie het, en die onmisbare nut van daardie afsyferingseffek vir die leefmoontlikhede van ’n samelewing, vir daardie samelewing se vermoë om die kiere van oorlewing te identifiseer en dit verder oop te druk, dit kan NIE onderskat word nie.
Poësie is nie soseer ’n viering van die is nie, maar van die nog-nie-is.
Asemhalingsruimte. Verbeelding. Nuwe denkvorme. Die gedenking van nie slegs dit wat ons geword het nie, maar VERAL van dit wat ons nog MOET en KAN word.
Nou wat kry ek hier? STOP PRESS, soos Gert Vlok Nel destyds geskryf het. STOP PRESS. Laat ek gou kyk. Wie onderbreek my blog nou weer? ‘n Boodskap oor Skype: “Chris Louw het selfmoord gepleeg.” Ekskuus? Dis seker ‘n grap!
Afsyfering/ geen afsyfering. Asemhalingsruimte/ geen asem meer nie.
Kom in, Ralph Rabie. Can you hear me, Ralph Rabie? This is ground control …
Verdrukking/ slash/ wegdrukking/ slash.
Louw was een van die mees krities geloofwaardigste stemme in die Suid-Afrikaanse joernalistiek. Hy het gewaag. Ter wille van die oopgaan. In dieselfde tyd wat almal se ore toeslaan onder die skril selfliefde van ’n Julius Malema.
Wat betref daardie mening dat apartheid nie vergelyk kan word met die Jode-uitdelging nie: Nee, EN ja. Is ’n bepaalde uitdelging meer of sterker net omdat dit sulke sigbare letsels gelaat het? Net omdat daar soveel lyke was?
Kan lyke nie ook lewend wees nie? (Sien my argument hierbo contra Rian Malan.) In die tagtigerjare het die filosoof Johan Degenaar apartheid akuraat beskryf as strukturele geweld.
Nou maar wat dan van die strukturele dood?
En kom ons besin dan behoorlik oor die dood van iemand soos Chris Louw. Kom ons besin oor die nadele van sosiale ingenieurswese soos wat dit op hierdie oomblik in Suid-Afrika plaasvind, met boonop geen meetbare voordele vir die gros histories benadeeldes nie.
En dan, as dit nie te ligsinnig van my sal klink nie: Kom ons dink daarna ook sommer weer ’n keer na oor die man wat homself in die Seine verdrink het, die digter wat oor die verskrikking van die Holocaust geskryf het, Paul Celan. Oor die verskrikking van die ingekerkerde blik.
Ja, laat ons NOOIT ophou om dit wat ons uit die geskiedenis kan leer van toepassing te maak op dit wat onmiddellik besig is om rondom ons af te speel nie.
Dis vandag wat so moeilik is om raak te sien, nie gister nie.
Calling poetry.Calling morality. Dit wat, soos Nietszche tereg beskryf het, niks anders is nie as ’n vorm van estetika.
This is ground control.
Sunday, November 15th, 2009
As Antjie Krog een ding met haar Malema-uitlatings gedoen het, is dit: Sy het spel gestop. En boonop in beseringstyd.
Dit kom hierop neer: Krog het met haar oënskynlik onbesonne opmerkings ’n dooie moetie-kat op die veld gegooi tydens ‘n bakleiery wat nie wou ophou nie. Toe het almal gevries, vir 30 sekondes lank, en verdwaas opgekyk.
Genoeg tyd vir herbesinning.
My eerste reaksie was: Die vrou is finaal van haar trollie af. Dis ook so gesuggereer deur Max du Preez in BY. Maar het Krog reggekry wat sy wou? Absoluut! (Sien hierbo).
Dis duidelik vir enige een met oë, dat ‘n sinergie bestaan tussen prof. Jonathan Jansen, die “vergewende rektor” van Vrystaat-universiteit en Krog, insluitende ’n gedeelde modus operandi.
Ek en ander het ons in die afgelope tyd gedistansieer van Jansen. Ons punt is dat sy soort universiteit nie die bestaan van inheemse tale as intellektuele denkruimtes sal waarborg nie, soos hy self kennelik glo. Ek glo saam met die Keniaanse skrywer-denker Ngũgĩ wa Thiong’o in sy seminale boek Decolonising the Mind: Afrika sal nooit van die juk van sielkundige kolonialisme bevry wees as sy nie haar eie tale praat nie. Hierin is die bestaan van taal-universeite kardinaal.
Helaas, daar is ’n ander faset van Jansen se denke wat uiters progressief is, en dit is sy benadering tot rassisme, iets wat besig is om aan alle fronte in Suid-Afrika skrikwekkend toe te neem.
En dit is hierdie besorgdheid wat Krog se klemverskuiwing onderlê. Was dit werklik so onbesonne? Laat ons eers kyk na die logiese implikasies van haar oënskynlik onlogiese argument: Daar moet gekyk word na Julius Malema se “raamwerk”, histories en kultureel, voordat hy verdoem word vir sy omstrede uitsprake. Dit is presies dieselfde argument waarop Jansen sy omstrede vergifnis van die rassistiese Reitz-4-studente baseer.
Ek dink nie Jansen het die regte ding gedoen met sy vegifnisgebaar nie. Ek dink die kultuur van vergifnissoeke wat begin het by die WVK loop gevaar om die gereg te ondermyn. Wat is die vrylating van Shabir Shaik anders as ‘n soort bedekte “vergifnis”, WVK-styl?
Maar wat doen Jansen wél reg? Beide hy én Krog vra vir ’n historiese analise van rassisme. Hulle sê: Só is ál manier waarop ons sal weet waarom rassisme in Suid-Afrika ná 20 jaar demokrasie steeds so sterk is. Ons moet voortdurend kyk na waar ‘n bepaalde rassisme vandaan kom, om die redes sowel as die oplossings daarvoor te snap.
En hierin is ons twee gedugte spanspelers 120% korrek!
As ons dit doen, blyk dit dat daar goeie – inderdaad vergeefbare – redes bestaan vir beide Afrikaner-rassisme én (dalk) Malema s’n. Kom ons kyk allereers na die rassisme van Afrikaners. Niemand durf ontken dat dit ‘n groot probleem is nie.
Ek hou van in kroeë sit en luister na mense, hoe kleindorpser hoe beter. Nou die dag sit ek so. Dit was ná ‘n rugbywedstryd op televisie. Twee wit Afrikaanse ouens raak rassistiese stellings kwyt, en sit al hoe nader aan mekaar. Toe kom ’n swart ou in. Hulle vergeet op die plek alles wat hulle so pas gesê het, en sit nader aan die inkommer want hy ondersteun hulle span. Die drie het vir omtrent twee ure lekker gesels. Toe gaan die swart ou huis toe. Die wit ouens sit toe met hierdie gat tussen hulle. Dis nie lank nie of hulle maak die gat toe. En wat was die onderwerp? Rassistiese kla-stories, een na die ander! Maar die swart ou het sy trui vergeet, sien, en kom later terug. Hy besluit toe maar op ‘n loopdop. Sy aand was in elk geval moer toe. Die whities en hy hervat toe hul gesprek, passievol, in Engels, asof daar nie ’n enkele rassistiese stelling daardie aand gemaak was nie.
Wat gaan hier aan? Met twee sulke weifelaars kan mens mos ’n nasie bou. Ek besef toe hul gedeelde rassisme was bonding. Dit was die middelterm van hulle Afrikaansheid.
Afrikaners het hulself histories nooit gedefinieer in terme van gedeelde eienskappe nie, maar in terme van ’n gedeelde vyand. Daar is nie vir wit Afrikaners uitsluitlike eienskappe van identiteit nie, slegs een: ’n gedeelde vyand (enige een). Dit is histories die geval. En dít is ’n belangrike wortel van die rassisme-refleks. Dis ’n identiteit wat in ’n baie kort tyd geskep is, en slegs een faktor het die mag om dit reg te kry: ’n gedeelde vyand. Eers was dit die “Engelse”. En daarna? Daar was tog nie baie kandidate nie …
Geskiedkundiges wys daarop dat die geskiedenis dikwels uit “reflekse” bestaan met hul oorsprong in die verlede, wat keer op keer bloot met nuwe inhoud gevul word.
Lyk die twee ouens in die kroeg na laakbare, haatlike karakers? Sou hul gedrag ’n goeie rede wees vir ‘n burgeroorlog? Dis wat Jansen en Krog vra.
En hulle vra dieselfde soort begrip vir Malema.
* Bogenoemde uiteensetting het slegs betrekking op die genoemde faset van Antjie en Jansen se maneuvers. Dit moenie gelees word as steun vir ander argumentspunte waaraan die saak deur Krog en Jansen onderskeidelik gekoppel is nie, soos Krog se kritiek op die media se hantering van Malema, of Jansen se verdagte beskrywing van Malema as “baie slim”.
Thursday, November 5th, 2009
Die Noord-Amerikaanse digter Raymond Carver het op ’n keer die volgende gedoen.
Hy het ’n kortverhaal van die Russiese skrywer Anton Tjekhof geneem. Hy het toe ’n passasie daarin afgemerk, ’n natuurtoneel natuurlik, atmosferies geskets, met ’n bepaalde – hoe sal mens sê? – resonansie. Soos mens maar van ’n groot skrywer (ek bedoel nou Tjekhof ) sal verwag.
Ek wens ek kan dit nou hier weergee, maar my boeke is almal gestoor en ek is in limbo. Dis maar my persoonlike huldeblyk aan Francois Villon, laat mens maar sê. Ek het darem nog my tande.
In elk geval, die kortverhaal van Tjekhof. Die gras waai nie net nie, nee, dit waai op ’n bepaalde manier, ’n manier wat impliseer dat die hele wêreld, nie net daardie grassies nie, deurtrek is van ’n waarheid. En nie net sommer enige waarheid nie. ’n Bepaalde waarheid wat terugherlei kan word na daardie gras, daardie bepaalde gras, geen ander gras nie, op daardie bepaalde agtermiddag, nie die vorige agtermiddag nie, naby ’n dachau iewers nie sover van Moskou, nie St. Petersburg of Salzburg, nie.
Wat Carver gedoen het was om die passasie, net so, onveranderd uit die prosa van Tjekhof, as losstaande snit aan te bied. Hy het dit dus “omraam”. En wat gebeur toe?
Die passasie word op die plek ’n gedig! Ja, die onnutsige fee het haar staffie geswaai. ’n Gedig deur Raymond Carver! Sonder dat hy wat Carver is ’n enkele woord geskryf het. Lazy genius. Ek bedoel nou, Tjekhof.
Was dit Carver se gedig of Anton s’n? Wel, moeilik om te sê. Dis so mooi dat dit nie eintlik saak maak nie.
Die heer Raymond het ’n hele paar dinge met daardie eksperiment bewys. Hy het onder meer gewys dat prosa en poësie integraal verbind is en inmekaar in vloei, en dat die genregrense relatiewe konsepte is. Hy het gewys hoedat ’n goeie prosais en ’n goeie digter minstens een ding in gemeen het: ’n sin vir metrum. Al is dit bietjie vermom by die prosais. En al is die “prosa” ’n bietjie vermom by die digter.
Pas het ek dieselfde gedoen met ’n Afrikaanse kortverhaalskrywer. Daar is nie baie Suid-Afrikaanse skrywers wat in suiwerheid van woordkeuse en ongerepte fokus aan Tjekhof herinner nie. Al is sy nuuste kortverhaalbundel nie sy beste nie. Ek bedoel nou die Afrikaanse skrywer.
Ek praat nou nie van myself nie. Ek bedoel nou, ek het die gedig geskryf. Of het ek nie? Dit maak nie saak nie. Hier volg dit. Ek het effens anders as Carver te werk gegaan. Ek het strofe-indelings ook gebruik, so “my” gedig is nie ’n prosagedig soos Carver s’n nie. Dis proppers.
Ou man dink terug
My lieflikste herinnering
aan wolke gaan terug na ’n dag
toe die reën my vasgekeer het
teen die Bakenberg. Ek wou waaibesems
vir my ma gaan pluk, daardie blomme
wat lyk of dit soos fonteine
opspring uit splete in die kranse;
lang, soepel stele
wat buig van die gewig – veerligte,
ligpers klokkies, ook die kleur van wyn
soms, maar selde.
Ek het na waaibesems
teen die agtergrond van wolke
opgekyk en my toe na die skuiling
van ’n bakkrans gehaas, die een
waar ’n Boesmankunstenaar
’n pruimswart bokkie geskilder het,
’n onherkenbare plant daarnaas.
En toe kom die reën, ook lieflik,
en hang sy stippelgordyn
tussen my en die droëveld.
Hier volg die passasie soos dit in die prosastuk voorkom. Ek het enkele woorde verander, nie veel nie:
Een van my lieflikste herinneringe aan wolke op Rust-mijn-ziel gaan terug na ’n dag toe die reën my vasgekeer het teen die Bakenberg. Ek wou waaibesems
vir my ma gaan pluk, daardie elegante blomme (familie Dierama) wat lyk of dit soos fonteine opspring uit splete in die kranse; lang, soepel stele wat buig van die gewig – veerligte gewig – van ligpers klokkies; soms maar seer selde, ook wynpers.
Ek het verlangend na waaibesems teen die agtergrond van wolke opgekyk en my toe na die beperkte skuiling van ’n bakkransie gehaas, die een waar ’n Boesmankunstenaar ’n pruimswart bokkie geskilder het, met ’n onherkenbare plant daarnaas.
En toe kom die reën, ook lieflik, en hang sy stippelgordyn tussen my en die droëveld.
(Poëtiese omsetting van ’n passasie uit “Waar die wolke middag maak”, geneem uit Die huis van die digter en ander liefdesverhale, deur Hennie Aucamp (Protea, 2009).
Thursday, October 15th, 2009
Nee, ook nog nie van haar gehoor nie.
Maar pleks van die Nobelpryskomitee van regionalisme en wat ook al te beskuldig, sal dit dalk heel in orde wees vir mense wat in die skadu van die Engelstalige wêreld leef om ’n slag hul eie relatiewe belangrikheid te besef.
Die Engelstalige wêreld is nie die sentrum van die universum nie. Veral nie, o, veral NIE, wat uitnemende verbeelding en letterkunde betref nie.
Net vandag lees ek ’n artikel in Die Burger. Daarin sê die koerantskrywer dat sy nie Herta Müller sal lees nie, hoofsaaklik omdat sy nog nooit van haar gehoor het nie, en eerder sal bly by die een of ander “bekende boek”.
Wie se “bekendheid”? Uit watter hoek gesien? As Suid-Afrikaanse kritici maar net ‘n bietjie minder “onderlê” was in die nuuste Engelstalige perdevy, en bietjie wyer waardering gehad het as die skaduwee wat die koloniale grensdraad gooi.
Die Nobelkomitee is al op geleentheid deur Breytenbach beskryf as “ook maar mens, ook maar dronk”. Inderdaad.
Maar hierdie bekroning van ’n outeur uit die kommunistiese wêreld, in ’n tyd wat die kapitalisme (van veral die Engelstalige wêreld) se imperialisme en mensontering dit in elke opsig ewenaar, behalwe in oëverblindery (daarin is die nuuste variant veel groter en veel meer boosaardig) is die bekroning van Herta Müller waarskynlik tydig en baie reg.
Onlangs toe ek drie maande in Duitsland deurgebring het, het ek weer besef hoe groot die kloof is tussen die Engelstalige wêreld en die Europese. En dis nie ’n kloof wat daar deur hulle gestel is nie.
Die bekroning van Müller lyk reg. En na een van integriteit.
Dan haal die koerantskrywer half neerbuigend “’n kenner, ene Michael Krüger” aan. Wel, “ene” Krüger is een van Duitsland se top digters en kritici. Dit het ek weldeeglik op my onlangse verblyf agtergekom. Hy het dalk sy blindekolle en sy dronkenskap. Maar gaan lees eers sy poësie, en sy kritiese uitsprake. Dis beter as meeste wat aan ons “bekend” is.
Maar ag, miskien het die koerantskrywer net geskerts? Kom ons hoop maar so.
Friday, October 9th, 2009
… (oftewel Vrae aan Gerrit Brand en Neville Alexander)
Een van die belangwekkendste onlangse referate oor taal is pas gelewer by die Roots-fees aan die Universiteit van Wes-Kaapland deur dr. Neville Alexander, ’n akademikus van bewese gehalte en ’n voormalige anti-apartheidstryder met ’n amper vanselfsprekende rekord.
En, of moet ek eerder sê, maar, soos in die geval van emiritus-aartsbiskop Desmond Tutu, is hy een van daardie mense wat meestal die woud vir die bome kan eien, en andersom – om die Engelse spreekwoord so ’n bietjie te parafraseer, en wat gou is om te sien waar en wanneer die spoor byster geraak word.
Dis ’n uitstekende referaat oor Afrikaans, oor taal, en oor die etiese en analitiese mistastings rondom die debatte oor taal in Suid-Afrika. Gaan lees dit. Dit is inderdaad puik. Die titel is “Afrikaans as a language of reconciliation, restitution and nation-building”.
Wat die fyner besonderhede van sy argumentasie betref is dit nie sonder aanvegbaarhede nie (hy erken dit self in die referaat wat in Litnet se Seminaarkamer te lees is), maar hier word minstens spore gelê in die regte rigting, en met duursame stawe wat weerbestand kan wees. Hier word oor Delagoabaai gedroom – maar ten minste word daar oos gekyk, nie wes nie.
Persoonlik dink ek Alexander was ’n bietjie “knockdown” gewees oor Standaard-Afrikaans. Gaan lees ook prof. Jef van der Elst se referaat, ook in Seminaarkamer, oor die waarde van hierdie variant van Afrikaans as byvoorbeeld wetenskaptaal. ’n Baie bruikbare, kreatiewe spanning ontstaan tussen die twee referate. Hulle weerspreek mekaar nie, trouens dit vul mekaar aan, maar op ’n potensieël prikkelbare wyse (niks daarmee verkeerd nie).
Aan dr. Alexander sou ek wou sê: Daar is tog min, indien enige, standaard-variante van tale, of dit nou Frans of Russies of wat ook al is, wat geheel en al sonder moreel en politiek bedenklike wyses hulself gevestig het? Trouens daar is seker min standaardtale wat hulself gevestig het sonder hoofsaaklik sulke maniere …? Dis jammer, dit kon anders gewees het, maar Afrikaans se standaardvariant is nie so buitensporig meer skuldig hieraan nie as ander standaard-tale. Omdat Afrikaans my taal is, ervaar ek die feit van die rasse-geskiedenis wat hierdie taal se sprekers van mekaar afgesny het, as geweldig pynlik en absurd. Helaas, ek kan my kop op ’n blok sit, as Afrikaans ’n Suid-Amerikaanse taal was sou die rasseskeiding amper nul gewees het – maar die klasseskeiding sou nie veel verskil het nie …
Dis maklik om ’n geskiedenisgewrig, enige een, van buite sy eie tydruimte te kritiseer. Makliker as, sê maar, om die regte besluite daarbinne te geneem het .. Helaas, begrip vir die dooies se foute verminder dit nie, óf die historiese skuld nie. Of die plig om ’n beter wêreld te konstrueer nie.
Die regstelling van die verlede vir Afrikaans binne sy sprekersbasis gaan tog lê in die herapropieëring van die standaardtaal deur sy volledige sprekersbasis, nie enige miskenning daarvan nie? (Ek dink nie Alexander misken dit werklik nie, maar sy bewoording in een paragraaf kan wel daardie indruk skep by sommige lesers).
Uiteraard behoort die standaardtaal van Afrikaans veel, veel oper en osmoties te word ten opsigte van sy variante as wat tans die geval is, maar goeie werk word tog reeds geruime tyd gedoen. (Terloops, ek kan nie sien hoe die vereiste mate van openheid kan geskied in die huidige geforseerde en gemanupuleerde omgewing nie.) En histories bestaan die presendente om mee te woeker. Van ons beste digkuns is in spreektaalvariante geskryf. Boerneef, Adam Small … gedeeltes van Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie. Dis maar enkele voorbeelde.
Kyk maar na Anton F. Prinsloo se woordeboek van streekstaal-Afrikaans, Annerlike Afrikaans. Goeie werk. Jammer oor die othering – al is dit met gewyde respek – waarvan die titel spreek, en net daarin lê dit wat nog verkeerd is. Presies daarin, hoe goed bedoel ook al. Dit sal moet verander.
En wat van Breyten se lieflik grillige private taal in sy “brabbelgedigte”? Wat daardie gedigte probeer doen is om te wys hoe tentatief, hoe histories kontingent, die gebeurtenis van ’n standaard by enige taal is! Nee, hoe histories kontingent enige taal is, van Queen’s English tot Spaans, Galisiaans en Baskies en Katalaans - sowel as Mundobabelas moenie dit vergeet nie, daardie lieflike kustaaltjie wat in Mauritanië bestaan, met sy purper tinte van afvallige, apokriewe vorme van Kastiliaans en die Afrika-invloede uit die sestiende eeu wat so kostelik daarmee vermeng. (Oukei, dis ’n variant wat ek so pas opgedink het. Die nog ongebore variante van tale is óók belangrik.) (Terloops, ’n Portugese vorm van Mundobabelas kom wel voor in Mosambiek.)
Maar ek is eintlik elders op pad heen. In die vaarwater van Alexander se toespraak, het Gerrit Brand op Dinknet, sy blog, ’n gesprek gevoer met ene Etienne, oor regstellende aksie. Laasgenoemde het die vraag gevra: As regstellende aksie gewerk het vir die Afrikaners, waarom kan dit nie werk vir die swart en bruin mense nie? Brand se antwoord was iets in dier voege: Regstellende aksie het nooit gewerk nie, nie toe nie en ook nie nou nie, omrede dit rasgebaseer was en omdat daardie kategorie soveel skade doen.
Hier word babas met die badwater uitgegooi deur Mnr. Brand. Aan Etienne, die voorstander van regstellende aksie soos dit tans plaasvind in Suid-Afrika, aan die ander kant, kan mens net sê gaan lees byvoorbeeld Moeletsie Mbeki se boek Architects of Poverty. Daar is inligting daarin wat jy kortkom om deel te kan neem aan hierdie debat.
Regstellende aksie vir Afrikaners onder die vorige bedeling het nie in breë nasionale verband moreel gewerk nie, maar wel binne nou gemeenskapsverband en wel materieël (ongelukkig slegs gedeeltelik, anders was daar nie nog steeds soveel arm blankes nie).
Regstellende aksie soos dit tans in Suid-Afrika toegepas word, werk nóg moreel, nóg in breë of nou verband, nóg prakties. Dit werk wel materieël, en wel vir ‘n klein persentasie, wat reeds ryk is! Dit werk nie vir die armes nie.
Die netto politieke mislukking van albei vorme van RA verskil nie veel nie, MAAR om hulle onder een mat te vee omdat albei rasgebasseer is, is oorvereenvoudigend.
Daar is belangrike verskille tussen hierdie twee vorme van regstellende aksie wat ondersoek moet word. Voor dit nie gedoen word nie, gaan ons nie in besonderhede weet wat hier aangaan nie, en gaan ons onsself ’n rat voor die oë draai.
Verskille: net daar kon Thabo Mbeki se vorm van RA meer suksesvol gewees het, as hy meer geredelik by die Suid-Afrikaanse geskiedenis gaan afkyk het. Maar nee, hy het die SA geskiedenis “afgedank” met ’n goue handdruk en sy RA eerder uit die mausoleum van Stalin gegaps.
Dis veral in die morele sfeer, waar die RA van die “wit” Afrikaner en die van die nuwe SA verskil as tipes mislukking.
Ek gaan kortlik ’n paar verskille tussen die twee vorme van RA noem, soos ek dit sien:
1. Die RA van die wit Afrikaners se klem was op opleiding, nie onmiddellike verryking nie, soos die geval is met die huidige RA.
2. Voortspruitend hieruit, het dit veel meer organies geskied, nie kosmeties soos die huidige vorm nie, veel meer van onder, en nie van bo nie.
3. Dit het dus ook veel meer sistematies – sowel as sistemies – geskied.
4. Dit was gedryf deur sterk, onderling gemeenskaplike waardes. Let wel: ek sê sterk waardes, nie politiek suksesvolle, of selfs volledig morele waardes nie. Die huidige vorm van RA se enigste “waarde” is na blyke “comfort” (gemak). En dis nie ’n morele waarde nie, wel ’n materiële een.
5. Die huidige vorm van RA gaan dus gepaard met ’n massiewe in duie storting van waardes – as mens dink aan die trotse plek waar Suid-Afrika se swart en bruin mense uit kom. Dit kon nie gesê word van die Afrikaners van Afrikaner-nasionalisme nie, let’s be honest. Massief: Ek gebruik nie die woord ligtelik nie. Totdat die ontleders in die nuwe orde hieraan regmatige aandag skenk (Moeletsi Mbeki het daarmee begin in sy boek), sal hulle vir hulself lieg – en vir ander. Hier moet ’n kulturele ontleding plaasvind wat bereid is tot meer selfondersoek as wat ons gesien het tot op hede. Persoonlik dink ek die verskil het te doen met die feit dat Afrikaners die voordeel gehad het van meer historiese kontak met die waardestelsel van ruiling onderliggend aan die kapitalisme, wat ’n Europese sisteem is, as die huidige swart kapitalistiese klas (wat histories gesproke grotendeels ’n feodale agtergrond het).
6. Dit bring ons by ’n verskil tussen die soort korrupsie soos aangetref by Afrikaner-RA, en soos aangetref by die huidige RA. Die eerste vorm se morele korrupsie was veel minder sistemies, as sisteem het dit moreel geklop. Die onderliggende waardes was deels onbesonne (en juis omdat dit ras- en oligargies gebaseer was), maar nie op sigself ingekalwe nie. Die huidige RA se sistemiese waardes is deur die bank swak, sowel as tentatief, en het gou ingekeer op sigself. Meer spesifiek: die Afrikaners van die ou bedeling het nie gesteel by hul eie stelsel nie. Wel van “die ander”.
Hierdie is maar ’n paar, voorlopige verskille wat mens kan aandui. Ek besef my opgafie kan doen met verdere nuansering en problematisering.
En net voor iemand dink ek wil ’n saak daarvoor uitmaak dat apartheid se RA minder bedenklik was in sy uitsluitingsmiddele as die huidige RA: Die rassebewussyn van SA se swart en bruin mense het, sover ek weet, nooit deur die afgryslike fase gegaan waar dit ’n ander “ras” as “minderwaardig” getipeer het nie. Dáárdie mislukking is die “wit” mense s’n. As morele vergryp, kan jy nie laer sink as dit nie.
Maar, dit was ‘n morele vergryp. Nie ’n morele hiatus nie. En dit lyk vir my na (nog) ’n groot verskil tussen die ou ras-oligargie en die nuwe rasgebaseerde Suid-Afrika.
NASKRIF: Oor my sin hierbo: “Jy kan nie laer sink as dit nie.” Daardie vergryp het baie bepaalde kulturele wortels, kulturele beweegredes. Dit sal nogal verblydend wees om meer van ’n self-ondersoek te sien na die morele verval van die swart elite, waarna ek verwys. Nie net verblydend nie – maar reddend.
|
|