Charl-Pierre Naudé
Saturday, August 28th, 2010
En so gebeur dit dat ek en Peter Holvoet-Hanssen ’n soort tandem-gedig skryf met Antwerpen as fokus. Meer twee afsonderlike gedigte in gesprek. Hy as die stadsdigter van hierdie eeue-oue Europese handelstad, wat op sy manier een van die ikoniese stede van Europa is, soos St. Petersburg of Parys of Barcelona of Brugge, en ek as pasaatvogel van Afrika. Peter het my aanvanklik uitgenooi na die Felix-Poësiefees in die stad, en deel van die ooreenkoms was dat ek ’n gedig sal agterlaat wanneer ek weer die stad verlaat.
Met ander woorde, ons sou in antwoord op mekaar elk ‘n gedig skryf. En daar sou ’n soort bewustelike interaksie in die proses plaasvind tussen ons.
Ek het my gedig eerste gelewer en dus het Peter syne geskryf in respons op myne, of minstens met myne in gedagte.
Daar is ’n samehang van geskiedkundige geheue wat ek telkemale aantref in Antwerpen. Dit maak nie saak of dit nou die standbeelde is, of die reuk van die rivier, of die verhale oor waar allerlei klein dingetjies vandaan kom, of die geverfde pleinnarre wat een of ander gebeurtenis opvoer. Daar is ’n sekere deurlopendheid van relaas.
In teenstelling met Antwerpen, ondervind ek as Suid-Afrikaan ’n hiatus in my eie omgewing – oftewel, opeenvolgende hiatusse – wat betref historiese geheue. Meer onderbrekings, wat korter op mekaar volg, minder samehang, meer weersprekings.
Wat Europeers en Afrikane wel deel, is die feit dat alle geskiedenis meer verhaal is as objektiewe feitelikheid. Hoewel ons in Afrika nog heel fundamentalisties onbewus omgaan met hierdie feit.
Dis dus ‘n “ritme”, van onderbreking, van gefnuikte middelpunte, van versteurings, wat my die vorm vir mý gedig gegee het. Dis telegramagtig – “losstaande” leidrade, ’n opeenstapeling van flarde (deur stippellyne geskei); en tussen elke reël, en voor en ná elke flard, ’n wit reël.
Maar ek moes uitreik oor die see. My tema is dus nie uitsluitlik Afrika nie. Die fokus is ‘n gedeelde fokus.
Hier is die twee gedigte.
Lesers wat Nuuswekker lees, kon dit dalk elders al raakgelees het. Eers volg myne, omdat dit eerste geskryf is, en dan Peter s’n. Ek merk dat Rubens in albei gedigte voorkom. Ook die Amerikas, en die ruilmiddels van verskillende tydperke en plekke.
Twee agtergrondsfeite. Die M.A.S. is ’n groot nuwe museum in wording in Antwerpen, en aan die sye daarvan is rye en rye klein beeldjies van handjies van bo tot onder aangebring as motief, wat die sentrale legende van Antwerpen versimboliseer. Voor die koms van gewone mense het ’n ras van reuse die plek glo bewoon. Die “klein mensies” moes buitensporige tolgeld aan die reuse betaal voor hulle op die rivier kon vaar. Hulle is as’t ware met ’n swaar hand regeer. ’n Dapper Romeinse soldaat, Silvius Brabo, het die hand van ’n tollenaar-reus afgesny en oor die rivier na die ander kant gegooi, en sodoende Antwerpen bevry.
Tweede agtergrondsfeit. Die plein voor die museum is versier met ’n vae beeltenis op die plaveisel. Op grondvlak lyk dit soos die pixels van een of ander onleesbare prentjie. Maar van die boonste vlakke van die museum, soos jy afkyk, word is dit duidelik. Dis ‘n groot skedel. Van ’n gevalle reus?
O, ‘n derde feit. Dis onlangs in die koerante gerapporteer. Die Belgiese offisier in bevel van die tragiese moord op die Kongolese bevrydingsleier, Patrice Lumumba, in die sestigerjare, het ‘n beskrywing aan die ondersoek gegee oor hoe Lumumba gelyk het nadat hy geskiet is. Hierdie woorde word in direkte rede aangehaal in die gedig.
Reusegedig
(of Continental interface)
Vroeër was daar.
’n Stad.
’n Stad was daar.
Soldate het die mure
vol gate geskiet.
Hoe skitter die pokmerke
nie in die maanlig nie …
Soos die klinknaelpak
van Elvis Presley.
O, versiering!
O, dieper betekenis!
Van Berlyn
tot Maputo.
Katanga.
Die flitsende
pangas.
——————–
Vroeër was daar.
’n Reus.
Die reus
het ’n groot gebou
vol klein, klein handjies geplak.
Die handjies
was afkomstig
uit Afrika.
Klein, as jy ’n reus is.
Reusagtig, as jy klein is.
’n Kopbeen is al
wat nou van hom oor is.
Swart. Soos silwer.
Sterre. ’n Skitterring.
Van muskiete.
Malaria! Aa, kinders.
Rat-a-tat!
In die sonlig
(sonlig!)
blink die wande
van die M.A.S.
soos die snykante
van diamante.
———–
“Soos ’n sif
het hy gelyk.”
Die lyk.
Van Patrice Lumumba.
O, die klinknaelknoppies.
Blinkertjies.
Versiering. (O, dieper betekenis!)
Van kuns. Wat alles
in die reine moet skik.
Die blyke van iets (enigiets)
is tog so verskriklik.
Skyn die son
op die water.
Dit lyk
of ’n reusagtige kopbeen
in pixels
uit die plaveisel verrys.
Miskien net stigmata?
———-
Die ou meesters.
Hoe líg
skyn hul verf
op die swaar voorwerpe.
En nát.
Rank die spoeg
van die renaissance-honde
op die geskilderde ouwerwe.
Daar is kleikalbasse
wat bak
in die koue dagbreekson van Afrika
vir ’n duisend jaar.
Bly hulle sag.
Verjongingskuur.
Skeurvallei.
Geen vrou vlei haar
só neer
op die tydsones,
soos Afrika.
Haar Janus-lippe.
Dit lê oop
na regs,
en na links.
Vetplante.
—————-
Bodemlewe.
————
O, versiering,
o, grimering!
————
Die diepste kuns
(Rubens)
is garnering!
————-
Oh, yes, oh yes,
Please, no,
Yes, oh yes,
ES! YES!
———
Haar gesig wat draai.
Haar wange.
Hierdie passie.
Na links, en na regs.
Soos in die Bybel.
Eers die linker.
Dan die regter.
—————
Dis die geboorte
wat pynlik is.
——————
Gesange.
——————
Prys u Naam,
Janus.
—————-
O, versiering!
O, grimering!
—————
Moenie vergeet.
Garnering.
Amerika.
O, paprika!
——————
Aandadig.
Soveel soorte.
Poeiers.
Ingesmokkel.
Liefling.
—————
Is die naam
van ’n plaas
in Afrika.
—————
Slegs ’n reus tog
vir die Skeurvallei?
—————-
Rat-a-tat!
Ap-a-ties.
Miskien het apies.
Die kiem versprei.
—————
Silvius.
————–
Die reus se hand.
Toemaak.
Die waak.
Tula. Tula.
—————
Afgesny.
—————
Die Hand.
Agter alles?
—————
Blare wat dryf.
———-
Klapper.
Strooisuiker.
Sneeu.
—————-
Kan dit.
Nog dieper?
————–
Swart.
———–
Afrika.
————–
Waar almal vandaan kom.
————-
Die Oerknal.
—————
Gas.
—————-
Vryswewend.
——————-
God Almagtig.
Van die omringende.
Die uitdyende.
———–
Kan jy dit ruik?
———–
Parfuum!
———
Die kern is.
PARFUUM!
M.A.S. = Museum Aan De Stroom, Antwerpen-hawe
Reuzenlied
giganten in de droge regen
ijslandschap ten hemel
een zandbank was een berg voor ons
een delta voor de reuzen
hier werden wij geworpen toen
de paarden met ons spraken
wij plantten hutten tot een heem
de handen in de Schelde
en Brabo zong zijn reuzenlied
de tollenaar in trance
de zeilen bolden, torens klommen
de stroom werd afgesloten
het goud van Zuid-Amerika
met Rubens aan de kade
een eiland van bezwete tijd
een broeihaard van culturen
vergoten bloed gemixt met roet
‘wij blijven reuzenmakers’
Napoleon en wij ’t kanon
wij bleven watergravers
met honger op de donderkloot
maar toch niet klein te krijgen
de Pruizenlaars blonk als de hel
weer temmers om te temmen
de poesjenellen zingen scheel
welkom reuze reuzen
en wij hier voor het reuzenmeisje
samen nu dit wijsje
reuzinneke
naar ’t havenland
iedereen reikt u de hand
reuzinneke
dans met ons
keer u toch niet om bom bom
schoon spinneke
kleurenstoet
’t Stad is nu een toverhoed
reuzinneke
zijt ge moe
doe dan maar de luiken toe
schoon rozeke
de avond valt
de sterren voor u uitgestald
Tuesday, August 10th, 2010
In my vorige bloginskrywing impliseer ek dat ritmiese innovering van die versreël makliker en suksesvoller sal plaasvind as digters genoegsaam kennis neem van die tradisie en bewustelik daarop voortbou.
Helaas, om te bou op die tradisie beteken nie om die tradisie na te skryf nie. Wees gerus anders, wyk af, doen verskillend, maar maak net seker dat die voorafgaande tradisie weldeeglik verteer is, vir die eenvoudige rede dat dit jou taak as innoveerder gaan vergemaklik. Die Afrikaanse poësie het ’n sterk klassieke moderne tradisie vergelykbaar met die beste soortgelyke tradisies op ander plekke. Daar skuil vele leidrade vir die toekoms in. Dis sanerend om te onthou dat dit die tradisie is wat aan jou die digtaal gegee het waarin jy skryf. Tale verskil, en mens moet bewustelik omgaan met die partikulariteite van die taal waarin jy skryf. Die aflosstokkie waarmee jy hardloop, kom van iewers. Waarheen dit op pad is, is deels ingeskryf in daardie “iewers”.
Onlangs het die literator Andries Visagie die onderwerp van die eietydse verskynsel van die sogenaamde “praatdigters” in Afrikaans op veelseggende wyse aangeroer. Hy het geskryf dat hierdie digters (hoewel onderling uiteenlopend), in ’n ander tyd toe dit nog die gebruik was dalk ’n literêre manifes sou opgestel het. Sy artikel gee dus blyke dat hier ’n belangrike verdelingslyn in die poësie ter sprake is, en hy is reg.
Dat daardie verdelingslyn al op geleentheid woedende kommentaar en ontkenning – selfs van die bestaan van die verdelingslyn – uitgelok het, bekragtig die vermoede: Dis ’n verdelingslyn. En dis ’n verdelingslyn wat (per definisie) die opvolgende en die voorafgaande digkuns met mekaar sou kon vergelyk en so ’n vergelyking in objektief waarneembare terme sou kon beskryf.
Dis ’n verdelingslyn omdat bepaalde afwykende eienskappe wat oor ’n langerige tydperk in die poësie aan die broei was, op ’n spits gedryf was. Dink aan ’n kaleidoskoop: Jy draai ’n aks, en die spikkels verander maar die prentjie bly dieselfde. Jy draai nog ’n aks, en die prentjie bly steeds dieselfde. Dan draai jy wéér ’n aks: En skielik lyk die hele prentjie fundamenteel anders! Die kumulatiewe effek het ’n waarneembaar struktureel verskillende prentjie geskep.
Die nuwe soort(e) digkuns verskil van die voorafgaande tradisie onder meer in semantiese sowel as sintaktiese werking, maar veral in ritmiese voorkoms. En aangesien rimikaliteit die onderwerp van my huidige blogreeks is, beperk ek my nou tot hierdie faset.
Soms is dit meer verhelderend om eienskappe van ’n literêre “stroming” te beskryf in terme van wat dit nié is nie. Sodoende laat jy toe dat ’n prentjie langsamerhand uit die verf kom sonder om oorhaastige veralgemenings daaroor te maak. Dis wat ek hier sal doen.
Die nuwe ritmiese voorkomste is nie eenvormig nie. Dit verskil van digter tot digter en van gedig tot gedig. Maar daar is gedeelde eienskappe.
Joan Hambidge se uitlating by Versindaba 2009, in ’n gesprek met Daniel Hugo , dat “praatpoësie” eintlik “parlando” is, en dat parlando reeds voorgekom het by ’n digter soos Uys Krige en ook voorkom in ’n gedig soos “Oom Gert vertel” van Leipoldt, is tipies van beskouings oor ritmikaliteit in die hedendaagse Afrikaanse vers, en dit werk vertroebelend. Wat hierdie kommentator waarskynlik na verwys het, is Krige se gebruik van die direkte rede binne ’n gedig. Dís iets gans anders as die hedendaagse “praatpoësie”, en die gebruik kom al reeds van die vroegste tye voor, byvoorbeeld in die antieke Griekse en Latynse digkuns.
Die nuwe ritmes is nie sinoniem met parlando nie, óf colloquial speech óf die gebruik van direkte rede binne ’n gedig nie. Al hierdie stilistiese gebruike is totaal onderskeibaar. Hulle is gesamentlik ook nie sinoniem met die sogenaamde “praatdigkuns” nie, hoewel hierdie as tegnieke wel in “praatverse” mag voorkom.
Met “parlando” word normaalweg deesdae verwys na ’n geselsagtige ritme wat die gedig struktureel kenmerk (dis oorspronklik ’n term in musiek). Krige gebruik (byvoorbeeld) in sy gedig “Ken jy die see” direkte rede, maar hy doen dit binne die hegte struktuur van ’n tradisionele, retoriese ritme. Dis nie parlando nie. Dis dan in ’n tradisionele vastevers! Dit bevat wel colloquial speech (volkse spraak), maar dit op sigself is nie parlando nie of tiperend van die nuwe, losser wewings in poëtikale ritme nie. Volkse spraak kom voor oor ’n wye spektrum van ritmikaliteit, van die jambiese vastevers tot by, en slegs onder meer, by die hedendaagse “praatpoësie” in sy verskeie ritmiese voorkomste, van Catullus tot verby Adam Small. Volkse spraak en “praatpoësie” is nie sonder meer met mekaar te vereenselwig nie. Small, byvoorbeeld, staan vierkant binne die retoriese tradisie.
’n Kernaspek hier ter sprake is strukturele ritme. En Krige se gedig is allermins struktureel van die losser geweefde ritmiese variëteit wat soms as “praatpoësie” beskryf word. Dis juis ’n toonbeeld van die teenoorgestelde. Dieselfde geld “Oom Gert vertel”.
Die Afrikaanse poësie het in onlangse jare bundels die lig laat sien wat vir die eerste keer op ondubbelsinnige wyse ’n breuk maak met die retoriese ritmikaliteit wat hierdie taal se digkuns vanaf sy ontstaan kenmerk. (Daar het al heelparty ritmiese innovasies gekom, vergelyk maar Breytenbach en Krog met Van Wyk Louw en C.M. van der Heever, maar dis innovasies wat steeds ’n retoriese voorkoms nagestreef het.)
’n Ontwikkeling in die digkuns wat retoriese voorkoms so beduidend wil afplat soos wat ons in onlangse tye gesien het, is bepaald in die oog springend – en kan getipeer word op grond van hierdie neiging.
Die nuwe losser ritmikaliteite wissel van ’n klankmatige losser wewing tot ’n prosa-agtige wewing tot uit-en-uit prosagedigte. Die bindende aanname is dat daar vir ’n ritme gekies moet word wat “realisties” voel in alledaagse terme, wat die ritmes van die “ware lewe” reflekteer eerder as poëtiese konvensie. Die gedig word in ’n “lewenswaaragtige”ritme gegiet – een wat ’n geloofwaardige illusie skep dat dit ’n ritme is wat in die “werklike wêreld” bestaan en nie net ’n spel is nie (retorika). Dis nie soseer toeganklikheid wat die oorweging is nie, hoewel toeganklikheid (in sommige gevalle) die resultaat mag wees.
Dit het ook belangrik geword om ritmes te kies wat meer “filmies”werk, eerder as “musikaal”. (En dít het baie te doen met die vormende invloed van die leidende kunsvorm van ons postmoderne era, naamlik die film, op die digkuns.) Die begrip “framing” is hedendaags juis ter sprake, en word selfs deur van hierdie digters in verwysing na hul digkuns gebruik. Die eenhede van “framing” kan vertellende eenhede wees, of bloot tafereel-eenhede waarin klank ’n rol mag speel of nie. (As klank nie ’n rol speel nie, behoort daar ander bindingselemente te wees wat op oortuigende wyse instaan vir klankbindings.)
Dit bly absoluut verbasend waarom sommige konserwatiewe elemente in die Afrikaanse kritiek die waterskeiding wat deur hierdie nuwe ritmikaliteite verteenwoordig word, onder die mat wil vee. Absoluut verbasend – totdat jy oor die redes vir die ontkenning nadink.
Hierdie digvorms kom al vir etlike dekades ruim voor in die wêreldpoësie, maar tot redelik onlangs kom dit nie opsigtelik voor in die Britse poësie nie (daardie tweede oggendster van die tradisionele Afrikaanse digkuns) – en glad nie in Afrikaans nie. Hoe dikwels kry jy nie ’n Afrikaanse leser wat hul bewondering sal bely vir ’n Kavafis of ’n Pessoa of ’n Szymborska sonder ’n snars van ’n besef dat dit digkuns is wat ritmikaal gesproke ver afwyk van enige iets wat hulle in Afrikaans as poësie sal eien. (Hulle eien dit in ’n ander taal, meestal in vertaling ja, maar gebeur iets soortgelyks in Afrikaans, sal hulle dit nié herken nie.)
Die “praatpoësie”-stroming in Afrikaans het ’n uiters embarraserende blindekol wat bestaan het binne die akademiese benadering tot poësie te lande, blootgelê: dat Afrikaans sowel as Engels te lande, ritmikaal gesproke, dikwels genoeg nie kennis geneem het nie van radikale vormomwentelinge in die wêreldpoësie in die afgelope dekades. Dit het waarskynlik weens ons taal-, geografiese en kulturele isolasie gebeur. Maar ook omdat ons onder die ban van die Britse blindekolle gestaan het wat ons oorgeërf het. Hierdie – swyende – verleentheid is die hoofrede waarom dit nodig is vir sommige kommentators om die “praatpoësie”-skeidslyn wat in Afrikaans opgedoem het so te onderspeel.
Eers was dit digkuns waarna op geleentheid afmakend verwys is as “verkapte prosa” – omdat dit gewoon nie herken is as poësie nie – en deesdae weer word dit wel langtand deur konserwatiewes aanvaar maar glo as “net nog ’n vorm van iets wat al lankal in die Afrikaanse digkuns bestaan”. Bog!
Dit kom neer op ’n ontkenning van ’n legitieme en belangrike waterskeiding in die plaaslike poësie. Hierdie ontkenning het die onbedoelde effek dat dit permissief inwerk op die nuwe vorme, pleks van vormend. Daar is voorbeelde in die nuwe poësie wat ongelukkig geskryf word sonder die nodige kritiese bewustheid van die ritmiese partikulariteit van die taal – en juis omdat ontkennings soos dit waarna ek pas verwys het ’n breuk met die tradisie veroorsaak, pleks van deurlopendheid. Wie kan sulke wagters van die tradisie ernstig opneem? Só skiet konserwatiewes hulself, sowel as die tradisie, sowel as onskuldige omstanders, in die voet.
Een van die mees onderspeelde groot digters van Brittanje is D.H. Lawrence. Waarom was hy onderspeel as digter? Omdat hy in ’n losgeweefde diksie (“praatpoësie”) geskryf het in ’n tyd toe dit nog heeltemal vreemd was om te doen in ’n logosentriese (en fallosentriese) retoriese tradisie.
Ter afsluiting: Die term “praatpoësie” is erg misleidend om die spektrum van losser geweefde ritmes te beskryf. In baie van hierdie gedigte, wat dikwels liriese gedigte is, is dit binnespraak, nie buitespraak wat ter sprake is. Die term “praatpoësie” skep die indruk van buitespraak. Dis ’n betekenisvolle wanindruk.
In die tweede plek smeer die term die onderskeid tussen colloquial speech (praattaal, soos mens in Raymond Carver se gedigte kry), prosa-agtige emjambiese gedigte (soos by Danie Marais en Ronelda Kamfer) en klankmatige, gestruktureerde losser wewing soos byvooorbeeld in my bundel In die geheim van die dag.
Die term “praatpoësie” skep die indruk dat hier minder, of minderwaardige bindingstrukture is as by retoriese verse. Dis vals. Die bindings is trouens dikwels moeiliker om tot stand te bring, omdat daar sonder die “resep” van eksplisiete klankpatrone of die eksoskelet van ’n tasbaar aanwysbare vorm gewerk moet word. Elke gedig moet as’t ware sy eie vormpatrone van meet af uitvind.
Waarin die term wel korrek is, is dat dit poësie is wat doelbewus alledaags of “plat” probeer klink, en die “ritmes” van alledaagse bewussyn probeer weergee. Dis op sigself nie nuut in die wêrelddigkuns nie, maar dis beslis nuut in Afrikaans. Helaas, meer belangrik as dat dit nuut is, is dat dit laat is. En ontkennings oor die bestaan daarvan (as synde ‘n poësie met ’n ander soort logika en ’n ander verwagtingshorison), maak dit nóg later.
Die Afrikaanse digters wat aan hierdie stroming deel het, is welbekend. Daar moet egter bygevoeg word dat die plaaslike Engelse letterkunde onlangs ’n skitterende bydrae gemaak het met ’n digbundel van Denis Hirson, Gardening in the dark. Die uitstekende Engelstalige digter Basil du Toit het meer as ‘n dekade gelede al soortgelyke impulse in Engels gestalte begin gee. Dis totaal onderbelig.
Om saam te vat: Daar word in sommige sektore ontken dat hier ’n waterskeiding in die benadering tot poëtiese vorm in Afrikaans is.
Die rede vir hierdie ontkenning is dat dit ’n verleentheid is om te erken dat die presiese aard van ritmikale ontwikkelinge op die digterlike wêreldfront Afrikaans vir ’n lang tyd verbygegaan het – en skielik verskyn dit in eie midde soos ‘n spook. Boonop is daar in onlangse jare van ongebreidelde onegtheid sprake, omdat daar knaend verwys word na sulke buitelandse tradisies sonder om die ritmikale implikasies daarvan na wense te begryp.
Die ontkenning het te make met die feit dat Afrikaans vir lank die retorika van sy ritmiese tradisie gelykgestel het aan poësie per se.
Maar bowenal: Dis ’n ontkenning wat permissief op nuwe ontwikkelings inwerk pleks van vormend. En hierin is ’n uitkringende gevaar geleë.
* Die woord “nuut” of “nuwe” behoort nie as vervangend ten opsigte van “vorige” gelees te word nie, maar as aanvullend.
* Hou ook in gedagte dat tradisies naas mekaar bestaan en ook soms vermeng. (So kan jy ’n gedig kry wat eienskappe uit die retoriese tradisie sowel as “praatgedig”- eienskappe bevat.)
* Digters behoort nie op permanente basis aan enige stroming nie, hulle gaan waar hul inklinasies gaan.
* Enige bespreking soos hierdie is’n ‘stilfoto’ van’ bewegende formasies’.
Sunday, August 1st, 2010
Soos ek in my vorige blog gesê het, ’n groter spektrum van ritmiese formasies kom oënskynlik deesdae in die poësie voor. Dis alles goed en welkom. Maar nie sonder risiko’s nie.
Persoonlik dink ek dat so ’n verskeidenheid van ritmiese en soms oënskynlik a-ritmiese of ekperimentele vorme slegs moontlik word in letterkundes wat ’n stewige klassieke metriese tradisie reeds gevestig het. Overgesetsyne, die poësie in daardie taal moet reeds stewig staan in die vasteversritmes en klassieke ritmes in al sy vorme.
Dis daarom, myns insiens, belangrik dat hedendaagse digters vir hul eie beswil soveel kennis dra van die tradisie as wat moontlik is. Dit lyk miskien op die oog af of ’n vers wat in een of ander “prosa”-vorm, of losser ritmiese vorm, gegiet is, min met die voorafgaande tradisie uit te waai het. Dis ’n misleidende indruk.
As leser is dit my ervaring dat die beste hedendaagse eksperimentele of losser geweefde gedigte die geheue van die tradisionele poësie weldeeglik vervat. Jy kan daardie klassieke geheue in die beter hedendaagse vorme aflees, of dit nou die geheue van Nederlands is of van Engels of ’n ander taal. Dis soos ’n genetiese bloudruk iewers daarin versteek.
Waarom ek dit nodig vind om hierdie nootjie aan te slaan, is omdat dit lyk of daar ’n slaggat vir digters is wanneer dit kom by meer eietydse vorme. En daardie slaggat is ’n “ritmikaliese” slaggat.
Per definisie werk die digter, veral die in kleiner tale, vandag met ’n geheue wat nie net kom uit sy eie taal nie.
En hierin lê die slaggat: Die ritmiese geheue van ’n taal se poësie kan nie uit ’n ander taal geneem word nie. Dit kan slegs uit eie vesel en bodem groei. (Miskien is dit ’n veralgemening, maar dit is my eie ervaring as digter.)
Die ritmiese aard van Afrikaans verskil van al die geografies omringende tale. En dis beslis nie sinoniem met Engels nie. Afrikaans verskil ook van Nederlands. Die versoeking is soms daar om te dink dat jy nie jou eie “homegrown” Afrikaanse ritmikaliteit hoef te vind nie, dat ritme op die een of ander manier “universeel” is.
Ons woon in ’n globale wêreld, maar poëtiese ritmes is bodemgebonde. Elke taal se poësie is in eie wieg gelê. En die ritmikaliteit daarvan is taalgebonde. Vir digters van ons tyd is hierdie dilemma a point well worth interrogating.
Sunday, July 25th, 2010
Een van die meer geheimsinnige aspekte van die digkuns is die aard van ritmikaliteit. Dis ook een van die mees misverstaande aspekte.
Die veranderende voorkoms van ritmikaliteit – ek gebruik die woord as ’n oorkoepelende term vir metrum, ritme, ensovoorts – het Poetry International, die groot jaarlikse poësiefees in Rotterdam genoop om vanjaar die tema “die prosagedig” te maak.
Prosagedigte is gedigte wat die voorkoms van prosa het, maar in wese meer soos gedigte kommunikeer. Tot heel onlangs nog het jy onder sommige sektore in Suid-Afrika die opvatting gekry dat omtrent enige gedig wat nie in jambiese metrum geskryf is nie, ’n prosagedig is! (En ons praat nou van ruim dertig jaar nadat Breytenbach ’n bundel kort skryfsels die lig laat sien het, genaamd Katastrofes. In daardie bundel word die prosagedig in sy meer radikale vorm eintlik aan Afrikaans voorgestel.) Dis min of meer die beperkte opvatting wat ook bestaan het in Brittanje in die tyd toe Ted Hughes en Daniel Weischbort die tydskrif Poetry in Translation gestig het om Britse lesers aan Europese poesie voor te stel (die jare sestig).
Prosagedigte is maar slegs die uiterste vorm van ritmikaliteit.
Sommige mense mag wonder waarom die poësie dan met ritmikaliteit gemoeid is. Sommige sal antwoord: Dis omdat die poësie wesenlik musikaal is. Ek dink daardie antwoord is misleidend omdat dit slegs ’n spektrum van poësie sal dek.
In onlangser tye in Afrikaans word die verhouding tussen prosa en ritme in die Afrikaanse digkuns op allerlei maniere geproblematiseer soos nog nooit tevore by ons. Dis jammer die kritiek is nie ewe veel geproblemaiseer wat hierdie saak betref. Daar is klaarblyklik allerlei windmeulens op die Kaaps-Hollandse vlaktes wat eerder bestorm moet word.
Sulke verskynsels lyk of dit oornag plaasvind, maar dit broei gewoonlik vir dekades, in baie digters, en skielik gebeur die nuwe manifestasies.
Ritmikaliteit vorm ’n spektrum van voorkomste: vaste vers, vrye vers met vaste klankpatrone en emjambement, vrye vers met geen klankpatrone maar met emjambement, ensovoorts, ensovoorts. Bernard Odendaal wy tans welkome ruimte aan hierdie veld van fokus af op Versindaba.
Ek dink die antwoord is gewoon: Alle bestaansvorme is wesenlik ritmies, of dit nou jou hartklop is of die “musiek van die sterre”. Volgens die wetenskap gaan frekwensie materie vooraf. Materie is frekwensie. Ervaring is frekwensie. Dus: Ritme gaan alle voorkoms en alle vorms van beliggaming vooraf.
En die poësie, meer as enige ander letterkundige vorm, werk met die gelyktydige aanwesigstelling van beliggaming en ontliggaming. (In hierdie aspek is die poësie wesenlik spiritueel, selfs al probeer dit nie wees nie.) Dus is die aspek van ritmikaliteit van wesensbelang vir die poësie. Omdat dit gewoon in die algemeen van wesensbelang is, al sien mens dit nie so duidelik raak in die alledaagse lewe nie.
Meditasie en sommige ander vorms VAN spiritualiteit is soms daarop ingestel om die belewenis van bewussyn te verander, en dit word gedoen deur die ritme van asemhaling te wysig. Deur bloot die ritme van asemhaling te verander – met ander woorde, die “emjambement” van suurstofinname – kan jy letterlik jouself ontliggaam en herbeliggaam. Ja, letterlik.
En wat is meer letterlik as die poësie, al word dit soms bietjie metafisies? Wat is meer letterlik as die metafisika? :)
Die faset van ritmikaliteit is tans in die poësie wêreldwyd in geweldige fluksie. Daar is kwasi-prosavorme wat veel meer veelsydig is wat ritmikaliteit betref as die tradisionele vaste vers. Ek dink hier aan ‘n digter soos C.K. Williams van die VSA. (Gaan lees van sy verse op die webwerf van Poetry International, Rotterdam.)
Na regte behoort die kritiek rondom ritmikaliteit ook opnuut in fluksie te wees.
NASKRIF: iN EEN VAN DIE EERSKOMENDE UITGAWES VAN BY (BEELD EN DIE BURGER) BESPREEK EK DIE SOGENAAMDE KONKRETE GEDIG AS EIETYDSE VORM VAN RITMIKALITEIT IN DIE RUBRIEK, VERSLANGS.
Monday, July 12th, 2010
Dit lyk soms of poësiekommentators die gevaar loop om die hermetiese of eliptiese vers gelyk te stel met sintaktiese of woordvernuf. Daarmee bedoel ek: die sintakties eenvoudige vers word dan per ongeluk gelykgestel met toeganklikheid.
Om laasgenoemde te doen, is foutief. Ek glo die gelykstelling vind meestal onbedoeld plaas, maar dit maak dit nie minder misleidend nie.
Die beste hermetiese verse is soms sintakties totaal eenvoudig, selfs oorvereenvoudig. Die waarheid is dat hermetiese verse dikwels deadpan gestel word.
Kyk na die volgende stelling van die literator Andries Visagie:
In Afrikaans is daar groter waardering vir die verhalende gedig en die serebrale of elliptiese poësie voer nie werklik die botoon nie. Die eietydse poësie in Afrikaans is sterk liries (en toenemend ook verhalend), maar die aandrang op toeganklikheid is veel sterker as in lande soos in Nederland of the VSA
Wat Visagie sê is heeltemal waar, maar daar gaan ’n moontlike gelykstelling in hierdie stelswyse skuil wat foutief sal wees. Dit klink of die verhalende gedig en die serebrale/eliptiese gedig hier teenoor mekaar opgestel word.
Van die mees eliptiese en serebrale verse is soms juis verhalend, juis sintakties enkelvoudig, juis tegnies gesproke on-eksperimenteel van aard.
Helaas, mens kry natuurlik ook elipsis en die hermetiese wat met woordvernuf en sintaksis te doen gaan hê.
Alle poësie werk egter met die oudste spel: wys en steek weg, wys en steek weg. Elke baba se eerste glimlag - wat dikwels volg op “Daar is hy!/Weg is hy!” – bevat die wortel van alle digkuns.
In ’n neutedop: Daar is in die breë twee maniere om die wys-en-versteek-spel te speel. Die digter kan konsentreer op die woorde self, en hoe daardie woorde soms verassenderwys ontplooi.
Of hy/sy kan konsentreer op die elemente en die eenhede van die verbeeldingspel. Dan bly woorde min of meer konstant, want daar is te veel buiten dit wat besig is om rond te skuif.
Dit sal dus verkeerd wees om van die jonger digkuns, soos aangetref by Ronelda S. Kamfer en andere, per definisie met die aandrang op toeganklikheid gelyk te stel. Dalk is hulle net besig om ’n ander soort spel na te streef wat met die tyd saam ’n ander soort hermetiese vers óók sal oplewer.
In die algemeen bevat baie gedigte ’n mengsel van die twee benaderings waarna ek hierbo verwys.
Dit het alles te doen met wat jy “stil” wil hou terwyl jy die res “laat beweeg”. As jy alles gelyktydig laat beweeg, gaan niemand jou verstaan nie. As jy alles stil hou, soos dit was toe jy dit gekry het, gaan jy dit wat gegewe is herkonstateer of jy gaan ’n cliché kwytraak.
Ek wil afsluit met ’n gedig wat sintakties uiters eenvoudig is, maar tog uiters hermeties. Hier is geen woordvernuf in die plasties-tegniese sin nie. Die vernuf is elders. Dis geskryf deur Antonio Gamoneda, die Spaanse digter. Die vertaling in Nederlands is gedoen deur Bart Vonck, en die gedig kom uit Brandend verlies (Arden las pérdidas (Uitgeverij P).
Achter het donker staan de gezichten die mij verlaten hebben.
Ik zag hun huid door bliksems verweerd. Nu,
in het gele ogenblik, zie ik nog slechts
de schittering van hun verre oogleden.
Sunday, July 4th, 2010
Ons sien in hedendaagse Suid-Afrika baie argumente waarin taalbeskerming en identiteit met mekaar gekoppel word. Die twee begrippe word aangebied asof hulle noodlottig en onlosmaakbaar met mekaar verbind is.
Dis nie noodwendig verkeerd om identiteit – wat in terme van aanvaarde menseregte kan aanspraak maak op beskerming – te verbind met taalregte en taalbeskerming nie. Die twee sake kan wel hand in hand gaan.
Maar sentimente rondom kulturele identiteit het eweneens ’n groot potensiaal om ’n taal wat met daardie identiteit verbind word, te bedreig, te ondergawe en selfs op kulturele vlak te vernietig.
Die waarheid is dat kulturele identiteit ’n gemene deler is. In teenstelling, werk taal oplaas – wanneer die koskas vol en die kulturele oorlewing relatief beveilig is – in die rigting van verfyning en uitstyging. Wanneer taal daardie punt bereik waar sy ter wille van haarself kan bestaan en dit waarna sy heenwys, nie slegs ter wille van haar sprekers se basiese behoefte aan gemeensaamheid nie, is sy in daadwerkike opsigte nié ‘n gemene deler maar ’n onderskeier, ’n room-áfskeier pleks van ’n bindmiddel, ’n diskrimineerder, ’n meedoënlose atoomsplyter, ja inderdaad: ’n beiteltjie! En beiteltjie-wees (om Van Wyk Louw by te haal) beteken nié ’n gelykmaker, nie ’n strykyster, nie ’n koekroller of ‘n pletter van staalplate nie.
Die taal en die letterkunde en veral die poësie mag wel ja sê vir die swakkeres, by uitstek, maar dit sê nie ja vir die domastrantes nie. Nee wat: Laat húlle en hul driewiele maar “des moers brand”, soos Breyten destyds oor apartheid-Pretoria geskryf het. (In aanhalingstekens, natuurlik.)
Hoe dikwels moes ons nou al die tam “argument” aanhoor oor watse volksveraaiers en elitiste sekere resensente is “omdat hulle woorde gebruik wat Jan Alleman nie kan verstaan nie”. Hierdie kleinsielige “demokratiese” debat het selfs die bladsye van Versindaba bereik.
’n Ruk gelede het die nuwe boekeredakteur van Rapport laat weet wat haar etos is: om toeganklike resensies oor toeganklike boeke te plaas. Dit klink lofwaardig. Maar daar is ook ‘n gevaar hierin. Presies hoe toeganklik?
Dit is nie ongewoon onder Afrikaanse mense om ’n taalgenoot wat behoorlike taal gebruik toe te snou met: “Praat Afrikaans, jong, laat ons almal kan verstaan.” Mens hoor dit heel dikwels.
Dis ’n dus mistasting om te dink dat die identiteitstryders of sentimentmakers rondom taal noodwendig omgee vir Afrikaans. Nee, waarvoor hulle in werklikheid omgee, is dit wat gemeen is. Dit wat seil op die grond. Dit wat genoeg lyk op hulle. Hulle gee vir huself om.
“Gemeen” het nie verniet twee verskillende betekenisse nie. Mens kan so gemeen wees dat jy jou eie regterarm afsny.
Wednesday, June 30th, 2010
Onlangs het ek twee voorregte gehad: om ’n besonderse digter, Antonio Gamoneda, van Spanje te hoor voorlees en om sy Nederlandse vertaler Bart Vonck te ontmoet.
Bart het ek aan huis van my vriende Piere-Marie en Suzanne Finkelstein in Brussel ontmoet. Pierre-Marie is die pryswennende vertaler in Frans van Karel Schoeman. Hy en Bart het ooglopend veel in gemeen.
Bart Vonck het jare gelede ’n versameling vertalings van Cesar Vallejo in Nederlands die lig laat sien. Net soos Vallejo, is Gamoneda ’n baie metafisiese digter, maar veel makliker om te vertaal as die vermaarde en uiters eiesinnige Peruaanse meester. Laasgenoemde is bekend vir neologismes gebaseer op streekstaal.
Ek self het my hand al aan menige “vertaling” van Vallejo uit Spaans (via Engelse intertekste) in Afrikaans gewaag. (Daar verskyn twee van hulle op Versindaba.) Ek sal die manuskrip binnnekort hersien – en vir publikasie voorlê. Dis omskrywings, nie regstreekse vertalings nie (wat my netnou sal bring by die onderwerp van hierdie bloginskrywing).
Ek dink die tyd is nou ryp vir so ’n publikasie. Hoewel hierdie manuskrip vertalings van my, voorsien van aantekeninge, al in 1994 gedoen is dink ek nie daar het tot nou toe in Afrikaans ’n mark daarvoor bestaan nie. Ek het dit dus nog nooit voorgelê nie. Ons poësie was gewoon nog te onblootgestel aan sekere strominge om sulke “vreemdsoortige” digkuns te assimileer. Desondanks moet ek byvoeg dat Tydskrif vir Letterkunde al in 1993 van hierdie vertalings gepubliseer het, en enkele lesers my persoonlik bedank het. (Ons was nog altyd vóór, sowel as bietjie agter …)
Vonck het Gamoneda uitmuntend vertaal in twee gepubliseerde werke, Boek van de kou (2005) en Brandend verlies (2009). Hóé uitnemend, het duidelik geblyk toe Gamoneda onlangs voorgedra het by die Felix-fees te Antwerpen. Die Nederlandse sowel as Engelse vertalings het oorhoofs uit ‘n projektor verskyn, en laasgenoemde vertalings was maar uiters vaal langs die Nederlands.
Maar nou wil ek ’n voorbeeld van Vonck se vertalings aanhaal wat myns insiens enigsins verbeterbaar is.
Vonck vertaal redelik nougeset. En ek reken dat ’n getroue vertaling van die gedig ter sprake slegs sou kon plaasvind in oorsetting, nie vertaling nie. Dit wil sê, deur ’n interpretatiewe – nie regstreekse – vertaling.
Ek wil dus twee modusse van vertaling teenoor mekaar afspeel. Maar slegs met spesifieke verwysing na die onderhawige gedig en soortgelyke gevalle. Ek wil dus nie ’n algemeen geldende punt maak nie.
Afrikaans beskik terloops oor een van die wêreld se meer suksesvolle oorsetters (’n vertaler wat met oorsetting as modus werk): Uys Krige. Daar bestaan dus ’n baie oortuigende presedent vir hierdie soort vertaling in ons taal.
Hier volg ’n gedig van Gamoneda in Spaans:
Entra otra vez en las alcobas blancas.
Grandes son las jarras de la tristeza en las manos mortales.
Entra otra vez en las alcobas blancas.
Die Nederlands lui:
Loop nog eens binnen in de witte alkoven.
Groot zijn de kruiken van de droefheid in de sterfelijke handen.
Loop nog eens binnen de witten alkoven.
Dis ’n goeie vertaling maar vir die metafisiese betekenis om werklik oor te kom moet “witte” sowel as “sterfelijke” eintlik in die eindposisies staan ten einde ’n voldonge konseptuele spanning met mekaar te vorm, soos dit is in die Spaans. Maar dis haas onmoontlik om dit so te kry, as jy nie woorde byvoeg en verander nie …
Só sou ek dit in Afrikaans wou sien:
Loop weer die wit alkowe binne, hul witheid.
Swaar is die droewe kruike in sterflike hande, so sterflik.
Loop weer die wit alkowe binne, hul witheid.
Wat is die “wit alkowe”? Dit lyk vir my na gewelfde graftombes (wat die uitwissing van bewussyn suggereer) maar terselfdertyd ook na nisse in ’n Roomse kerk of katedraal (om by te kniel en te besin of te bid, dus die voltrekking van bewussyn).
Die “trick” is om die volgende konnotasie te verkry: dat die lewe en die sterflikheid ewe “blanko” is. En dit kan nie in ’n volledig getroue vertaling weergegee word nie, myns insiens. Nie in Nederlands of Afrikaans nie.
Miskien het lesers ander idees hieroor?
Monday, June 28th, 2010
Ek het Woensdagmiddag die voorreg gehad om die onthulling van die vierde stadsgedig van die huidige stadsdigter van Antwerpen, Peter Holvoet-Hanssen, by te woon as lid van die publiek.
Die publiek het sommer so in die straat voor die pas gerestoureerde Palais de Meir, op ’n pleintjie in Antwerpen saamgedrom. Dit was die eerste ware somersdag van Antwerpen, en hoewel dit ’n werksdag was, was almal uit op die strate. Kort rokkies en kort broeke oral waar jy kyk. Selfs ’n paar knape met goedbedeelde bolywe wat rondloop sonder hemp.
Peter is die vyfde stadsdigter van hierdie ou handelstad van Europa. Die voriges was Tom Lanoye, Ramsey Nasr, Bart Moeyaert en Joke van Leeuwen. Hierdie is almal top-digters en wat mens opval is hoe radikaal, in persoon sowel as digterlike instink, hulle verskil. Die verskille kan nie groter wees nie.
Daar is ’n groot muur in Antwerpen wat ’n gedig van Nasr op bevat. Joke van Leeuwen het die eindelose lang voetgangerstonnel onder die Schelde deur met ’n gedig op albei wande beskilder.
En Holvoet-Hanssen, met sy diep innemende, grapperige, populistiese aanslag, is insgelyks so eiesoortig as wat jy kan kry. Hierdie populistiese aanslag is in akute spanning met die aard van sy werk, wat nogal hermeties is. Dus: geen populistiese digter nie, hoor. Geen performance poet nie, hoewel hy die lewende bewys is dat moeilike digkuns siself nie as verhewe bo voordrag moet beskou nie.
Peter aktiveer verskeie historiese argetipes met sy optredes: die boodskapper, die koninklike ambassadeur en selfs die koninklike nar, die “imposter’.
Sy optrede het my herinner daaraan hoe belangrik dit is dat ’n maatskappy sy historiese argetipes geaktiveerd hou, want so onthou jy jouself, so herinner jy die bewussyn dat dit bewuste syn is, so hou jy die psigiese netwerk wat menslike bestaan beslaan (wat sigself altyd in spesifieke terme eerder as universele terme nie, voltrek), lewendig.
In Suid-Afrika sal soortgelyke historiese argetipes die volgende kon wees: die pryssanger, die rapportryer, selfs die missionaris en die tolk.
Holvoet-Hanssen, een van Vlaandere se meer enigmatiese en verbeeldingryke digters, het drie duiwe tydens sy voorlesing oor die aanhoorders onder in die straat losgelaat. Hy het gestaan op die katbalkon van die paleis, waar Napoleon op sy dag oorgebly het kompleet met aangrensende kamers vir sy “maitresses”. Trouens, die stadsdigter het ’n “maitresse” van sy eie aan die gehoor voorgestel! Sy is ’n vroulike mededigter, Ruth Lasters.
Holvoet-Hanssen is andersins met die Belgiese romansier Noëlla Elpers getroud.
’n Stewige perskontingent het die onthulling van sy vierde stadsgedig gedek. Diegene wat nie teenwoordig was nie, kon later op plaaslike televisie na die geleentheid kyk. Daar was verskeie berigte oor, waarvan die dagblad De Morgen se berig tot my aandag gekom het.
Hier onder volg die gedig van Peter Holvoet-Hanssen. Die gedig beweer dat sy maitresse hom gehelp het om die gedig te skryf. Die volgende gedig gaan deur myself en ‘n klomp skoolkinders geskryf word, sê Peter.
Salette
Mijn vorstelyck cauwke,
ontsnapt uit een schouw, ach je bed werd een buffet
het paleis een kooi van bladgoud en kristal - kijk die kakstoel
zat je daar maar in het zonnetje in je kattenjaponnetje
een gele eend parkeert haar rode auto bij de hoge esdoorn
dan landde ik als een lieveheersbeestje op je borst, zochten we
de goudvissen op het dak en zag je in mijn ogen een oude
landbouwer, hij legt een deken over een zieke koe
en vijf chocoladekevers in je mond die de dienstboden opgeilt -
Chevalier chéri,
soms wil ik ’s nachts met de dienstbode in spiegels stappen
Maar dan hoor ik jou ademen in alle zalen alsof je slaapt onder
de houten vloeren en in je bedstee niet jij ligt maar het licht dat
gisteren hier hing tijdens die ene korte wals. Vannacht heb ik de
grootste, fraaiste goudvis van het bassin op het dak naar onze
dienstbode Gilbert genoemd. En die vale schimmelvis noemde ik
naar jou. Ik ving hem in mijn hand en wilde gauw een scheurtje
maken in zijn linkervin, maar toen stond je plots achter mij, ik zei:
‘Je smaakt naar bloemkoolchocola en je bent kleiner dan je denkt,
behalve ’s nachts.’
Gij koude korenblomme,
kibbel maar de paarden terug in de stallingen, zadel mij op met je
geheime gangen, gil, krijs, kom klaar - vertoon weer inktvlekken
dit paleis begint er van te zingen
Peter Holvoet-Hanssen en Ruth Lasters
Monday, June 14th, 2010
Nou die dag hoor ek ’n interessante opmerking van ’n (blanke, Afrikaanse) regsgeleerde. Hy kyk na ’n afdruk van Che Guevara op ’n blikkie. “Die ou was die kluts kwyt, maar ten minste was hy ’n doener”, se die regsgeleerde, “nie net ’n prater nie.”
En hy voeg sommer by: “’n Blote prater, soos daardie Breyten Breytenbach.”
Dit was min of meer toe Breyten in die nuus was met sy onlangse besoek aan Suid-Afrika. Ek dag toe die opmerking is nogal pikant, komende van ’n regsgeleerde. Want daai’s is nogal ouens wat die lansering van spraakballonne – as ingenome en trotse genre van die sweefkuns – heel goed verfyn het.
Nie dat ek enige iets teen ’n goeie ballon het nie. As hy sweef, is dit mos ’n gedig.
En as hy plof, goeiste, dan is dit ’n geweer van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, net meer gevaarlik.
Ter sprake in die aannames van die regsgeleerde was die kwessie van wat konstitueer ’n optrede. Overgesetsynde, wanneer is iets ’n daad, en wanneer nie? Wie se dade tel die meeste of het die grootste impak op die samelewing? Wie is RÊRIG die doeners, en wie is RÊRIG die praters?
Mens kan praat van alfa-dade, en anderste dade. Alfa-daders maak dikwels onomwonde daarop aanspraak dat hulle dade die enigste dade is. Vir hulle is die daad ’n swaaibyl, ’n swaard of ’n spiespunt – en die res is net warm lug of ’n gedans op eiers of selfingenome onanering.
“Ander daders” (die andersdoeners) glo weer alfa-daders is jammerlike fundamentaliste wat nie onsigbaar kan dink nie, trouens dikwels glad nie dink nie en daarom omtrent niks regkry nie en dus gewoon niksdoeners is, al breek hulle ook hoe heeltyds aan klippe. Vir die andersdaders is die daad eerder ’n laserstraal.
Dink ook aan ’n horlosie, hy loop sonder dat jy hom dit sien doen. Miskien kan mens praat van Omega-daders?
Digters, meer as enige iemand anders, is omega-daders. Hulle, soos ook filosowe, verrig ’n underlabourer-funksie, dit wil sê wat hulle skryf verander en torring aan die swyende aannames en konsepte en aanblikpunte en waarnemingsterme wat onderliggend is aan almal se optredes. Op hierdie – indirekte – manier beïnvloed skrywers en digters en filosowe dinge soos die gang van politiek, en selfs die produksie van vrugte en veral – beslis – die waarneming van skoonheid. Ons het ook ’n handjie in die toekomstige vorm van toiletbakke, al dink al wat aandadige alfa-k*kker is hy is al een wat hieroor die poep sal voer.
Die kwessie van wat ’n daad (en wat ’n droom) is, is nogal belangrik vir Suid-Afrika, ’n land waarvan jy teenstrydige stellings en frases soos die volgende sal hoor:
* “The National Democratic Revolution is our only ideal.” / “Watter rewolusie? Die Rayban-rewolusie, of Gucci?”
* “Umkontho we Siswe het Suid-Afrika bevry.” / “Die ANC se oorwinning was heeltemal diplomatiek van aard.”
* ’n Gids in Soweto wat met sy vinger na skietgate in ’n kerk se plafon wys, sê: “This was an important moment in our freedom struggle.” / “Strike the women, and you strike a rock.” (Die bekende frase uit die struggle het verwys na vroue in hul kardinaal belangrike hoedanigheid as meer “passiewe” daders, oftewel hul sogenaamde ondersteunende rol.)
Ensovoorts, ensovoorts. Ek het maar enkele hedendaagse voorbeelde genoem.
Daar is ’n groot skoot onegtheid en gebrek aan logika in die uitlating van die regsgeleerde wat ek hierbo aanhaal. Die digter as dader se deursyferingseffek is soortgelyk aan dié van die staatshoof wat ’n aankondiging maak wat onmiddelik uitloop op ’n wysiging in die samelewing. Die wysiging in die samelewing wat uit die digter se woorde voortspruit, is net veel, veel meer langsaam in effek, maar die patroon is wesenlik dieselfde.
Overgesetsyne, die politikus se daad verskil nie so veel van die digter se daad waarop hy so dikwels neerkyk nie. En wie is meer “alfa” as ’n politikus? Beteken dit die digter is ook darem ‘n bietjie alfa op sy maniertjie? Trouens, “soorte” dade verskil dikwels nie soseer in aard nie, maar in graad.
Laat ek ’n klip in die bos gooi. Breyten Breytenbach het meer gedoen om Suid-Afrika van apartheid te bevry as die ANC se weermag, Umkhonto iSiswe.
Die ANC het een van die oneffektiefste weermagte gehad in die militêre geskiedenis van Afrika, en die apartheid-weermag was waarskynlik die effektiefste. Hierdie feit kon helaas niks doen om apartheid te beveilig nie. Die groot mediagebeurtenis wat Breytenbach se vrylating uit die tronk tot gevolg gehad het, was – soos ander soortgelyke mediagebeurtenisse – een van die sekerste spykers in apartheid se doodskis. Min dinge het meer gedoen as dit om apartheid as ’n vergryp teen die mensdom te ontmasker en die indruk die nek in te slaan wat die Nasionale Party van destyds gepropageer het, naamlik dat dit ’n tragiese maar noodsaaklike manier van kulturele en ekonomiese selfverdediging is. En dis daardie besef wat gemaak het dat die Westerse wêreld sy steun ontrek het waarsonder apartheid-Suid-Afrika nie kon voortbestaan nie. Want die feit dat Breytenbach self Afrikaner, self “Westerling”, was en een wat liefde vir sy eie uitgestraal het ondanks sy kritiek, was deurslaggewend.
En ag, hy is maar net een voorbeeld.
Laat ek julle van ’n voorval vertel, tragies en komieklik en siekmakend gelyktydig. En dit het werklik gebeur. Ek gaan dit in sy naakte waarheid hier oorvertel. Ek het as vryskutwerker lank by die Engelstalige dagblad The Star gewerk, ’n beproewing wat dank Vader verbygegaan het. Daar het ’n baie inemende man, ’n voormalige vryheidsvegter van die ANC ook as joernalis gewerk. Die man se gesig was heeltemal geskend want in die strugglejare het hy ’n bom geplant wat in sy gesig ontplof het. Ek het hom dikwels jammer gekry. Dat dit jou eie bom moes wees, kan tog nie maklik wees nie … Op ’n dag het hy papiere en woordeboeke begin rondgooi. Daar was iets oor Antjie Krog in die koerant. Hoe durf ’n skrywer, ’n witte boonop, soveel aandag op haarself plaas, het hy geskree. Sy gee voor sy het Suid-Afrika bevry. Sy is ’n verdomde imposter, a thief. ’n Pennelekker wat masturbeer op ‘n masjiengeweer. So seg ons man. Sy behoort geskiet te word! So seg ons man weer.
Nou moet ek sê, ek stem nie met alles saam wat Antjie Krog sê nie. Maar dié bepaalde dag het sy niks anders gedoen as om die lot van die armes onder die ANC te bekla nie.
So waarom die reaksie? Omdat sy wit was en nie bruin of swart nie? ’n Skrywer is en nie ’n soldaat nie? Omdat sy minder onhandig was? Omdat sy eintlik meer regkry? Die man was kwaad, hoor, ons vryheidsvegter!
Die uitbarsting was die gesig van die logosentrisme, van die paternalisme. Dit was die wrewel van die nuwe hierïargie. Dit was die aangee van die oudste aflosstokkie …
Want, in der waarheid, was dit diplomasie, die woord, die passiewe daad, die rughandhou, die vlietende skaduwee, die verstelde aanblik, die ingehoue asemteug, die weerkaatsing, die weifeling, die skemer-uur, die middernagson van die verbeelding, wat Suid-Afrika van apartheid bevry het. G’n byl of swaard nie.
Trouens, die relatiewe gebrek aan daad-sukses van die alfadaders in Suid-Afrika is ’n groot bron van verleentheid vir die land se skrywers en ideemakers. Want dit loop uit op ’n onbebydenswaardige situasie. Dit lyk oplaas of die land ’n plek is van slegs idees en projeksies, pleks van idees en projeksies wat konkrete beliggaming ook kan verkry. Sonder die vooruitsig van konkretisering val die hele proses vas en dít gee aanleiding tot mitologisering.
Mitologisering is narratief wat nie meer in die werklike of die aktuele gewortel is nie, en dikwels nie enige wil openbaar om daarin gewortel te raak nie. Dis ’n besonder onoutentieke – lees: leuenagtige – toedrag van sake. Dis ook geweldig onprakties.
Dat dit so is, is nie die skuld van die digters en skrywers nie. Ons verrig ons taak so goed ons kan. Ons wag nou op die vertalers daarvan. Maar dis soos “om te wag op die kaptein”, om Elsa Joubert by te haal.
Die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing en die land se politieke narratief het vasgeval in blote narratief, blote gekiedskrywing. Dis omdat ons oor redelik sterk omega-daders beskik en oor sulke swak alfadaders. Só swak dat hulle vir omtrent alles op ons, die omega-daders, begin staatmaak het.
En dit sal gaaf wees as hulle die vrugte van ons dade nie as hul eie opeis nie. Want dis ’n leuen. Ja, julle liegbekke. Julle spul warm-asembliksems. Styg op! Dis iets wat julle kan doen?
Siestog, meneer die regsgeleerde. Julle (wat ook maar eintlik meer beta- as alfadaders is, maar dit nou daar gelaat ..) en die politici en die plaaslike en nasionale bewindhebbers, en die oud-soldate, ja julle ook, julle is skoon pateties. Dis nou as mens kyk na die betreurenswaardige praktiese beliggaming van die goeie idees wat voortdurend na julle aangegee word.
Kon mens maar besems van julle maak.
Geskryf in Antwerpen op 14 Junie 2010. Oorkant van my waar ek koffie drink is die Justisiepaleis van Vlaandere met sy pragtige, self-ironiserende motto op die groot glasdeure, die woorde van Willem Elschot, beroemde Vlaamse romansier:
WANT TUSSEN DROOM EN DAAD
STAAN WETTEN IN DE WEG
EN PRAKTISCHE BEZWAREN
Naskrif: Wetmakers wat dít in gedagte kan hou, húlle is digters.
Thursday, April 29th, 2010
Dis interessant hoe dissiplines meer van hulself kan leer deur na ander dissiplines te kyk, en sodoende ‘n buiteoog te kan werp op die self se wêreld.
‘n Dissipline waarvan ek nie veel weet nie, is sake. Maar nou die dag het ek iets geleer oor die letterkunde deur na ‘n besigheidspersoon te luister. Die persoon had die volgende te sê: “Dikwels doen mense in besigheid iets opsetlik nie reg nie, sodat hulle dit kan regstel.”
“Regtig?” vra ek, ietwat verbaas.
“Ja, dit registreer dan as veel meer positief as wat die geval sou gewees het as dit in die eerste plek reg gedoen was. Dis eintlik ‘n aanvaarde praktyk … Perfeksie beteken niks as dit nie gemeet kan word nie.”
Wel, wel, wel. ‘n Insiggewende sin daardie: Perfeksie beteken niks as dit nie gemeet kan word nie.
En dit het my toe laat dink aan boeke en resensies. Is dit beter vir ‘n resensent om ‘n boek of digbundel se vermeende sterkpunte op te noem (te sê), of om dit eerder te wys - aan te toon, ‘n snuifie te gee van hoe daardie sterkpunte binne die boek- of bundelverband, binne die netwerk van die teks se verbande, funksioneer? Ek stem vir die tweede: Wys, moenie sê nie, lui die kitsreël. Dit is nie net waar van boeke skryf nie, maar ook van die skryf oor boeke (resensies).
Daar is verskeie maniere waarop ‘n resensent kan “wys” waaroor ‘n boek gaan eerder as om te sê, en as dit suksesvol gedoen word, is dit gewoonlik ‘n voorbeeld van critique. Daar is verskeie redes waarom critique-beoefening ‘n belangrike onderdeel van ‘n letterkundige dampkring behoort te wees. Dis veel belangriker as blote kritiek (positief sowel as negatief), in Engels genoem criticism.
Maar eers iets oor die manier waarop critique kan plaasvind. Een van die wyses waarop critique sigself voltrek is om dit wat “verkeerd” is (na die mening van die resensent) of die vermeende swakpunte aan te toon. Dit is nie om opsetlik fout met die boek of bundel te vind nie, maar meer om dit wat wel goed is, by wyse van teenstelling uit te lig. Sodoende verkry jy ‘n “patroon” van vermeende negatiewe en positiewe punte waarin die resensieleser die positiewe punte veel meer driedimensioneel kan voorstel - soos wat dit in die werk voorkom; en ook herinner kan word van die breër gesprek waaruit sulke punte hul betekenis put.
Critique het te doen met die problematisering van die teks deur middel van kontra-insette. Problematisering werk met die idee van skering en inslag: deur middel van kontrapunte sit jy die kritiese leser aan die dink oor die teks en of dit slaag in terme van sy eie doel. Natuurlik behoort die kontra-insette geloofwaardig en gemotiveerd te wees in terme van die teks.
Trouens, wat kontra-insette ook doen, is om die leser ook te laat nadink oor die waarde en toepasbaarheid van die maatstawwe self. Critique word juis hierin van ander vorme van kritiek onderskei: Dis ‘n tweerigtingvorm van kritiek wat sigself, nie net die teks nie, gelyktydig onder die loep plaas.
Critique is baie duidelik te onderskei van die begrip “kritiek”. Omdat dieselfde woord (”kritiek”) in Afrikaans, soos in Engels, dikwels gebruik word om beide begrippe aan te dui, word die betekenis en aard van critique gekompromitteer. Maar dis critique wat jy meestal lees in New York Times Book Review, dis critique wat jy meestal in die Times Literary Supplement lees. Dis critique wat die hoogste standaard van resensering in toonaangewende literêre tydskrifte verteenwoordig.
En dis critique wat nog te min in ons eie resensering te lande te bespeur is, en dikwels ondermyn word, en veral misverstaan word (ondanks verblydende tekens van die teendeel).
Critique het twee voorvereistes: die doelbewuste strewe daarna, en ‘n leserskorps wat daardie strewe begryp. As jy die eerste het sonder die tweede, gaan critique verlore wees. Die Suid-Afrikaanse resensiegehore verstaan nie critique nie. En as critique misgelees word, word dit gewoonlik as kritiek verstaan. Natuurlik kan critique ook kritiek impliseer, maar nie alle kritiek is critique nie.
Critique het bepaalde eienskappe. Dis “onderskeidend”. Dit werk met die naasliggende begrippe “geldigheid”, “omgrensing” (limiete), “besinning”, “ondersoek”, “motivering”, en veral “sistematies”.
Om onderskeidend te werk te gaan impliseer om waardes teenoor mekaar op te stel en te vergelyk. Op sy beurt impliseer dit ondersoek en besinning. Die limiete (grense) van ‘n bepaalde geldigheid is ook belangrik. Alle geldighede het grense. Dit beteken dat waardes in die letterkunde nie grensloos toepasbaar is nie. As jy verby ‘n bepaalde waarde se geldigheid beweeg het, gewoonlik omdat die teks dit noodsaak, word geldigheid aan ander waardes afgestaan.
Vir critique is geldigheid eerder as “korrektheid” of die “regte” of die “ware” van belang. Die uitvloeisel hiervan is dat critique nie dogmaties is nie. En as dit ‘n gevolgtrekking maak, dan gooi dit tegelykertyd “skaduwees” van alternatiewe gevolgtrekkings. Daar sit, met ander woorde, ‘n geur van tentatiwiteit in, wat bedoel is om die kritiese leser aan die dink te sit. Tentawiteit beteken helaas nié om ongefokus óf dubbelsinnig te resenseer nie. Die strengheid wat deur critique vereis word, skakel dubbelsinnigheid uit.
Verder is critique altyd in die vorm van ‘n argument en bespiegelend van aard. Dogmatiese resensies argumenteer nie, dit maak stellings, het dikwels ‘n vooropgestelde rangorde wat dit wil bevredig, werk met ‘n vasgestelde verwysingsveld, verwys na hiërargiese begrippe soos “die kanon” op onkritiese wyse, is dikwels reduksionisties of vereenvoudigend, en is meestal nie ontledend nie maar beskrywend, of kwasi-ontledend.
Maar ja, nie alle critique is noodwendig die beste critique nie. En resensies bevat soms trekke van beide ‘n dogmatiese benadering sowel as critique.
Ek glo daar moet wegbeweeg word van die beskrywende kritiek wat dikwels resensies kenmerk, in die rigting van critique. (So iets is egter slegs moontlik as die beskrywende kritiek reeds goed gevestig is, wat by ons wel die geval is.)
Goeie beskrywende kritiek sal ‘n werk in literêre of droë (hoewel akkurate) akademiese terme beskryf; dis wesenlik ‘n studie van oppervlaktes wat selde uitkom by die geheimsinnige bedrading daaragter. Hoewel dit belangrik is dat skrywers van resensies terme grondiglik ken, is dit eers wanneer kritiek agter hierdie terme begin loer dat dit vir lesers interessant sal word, eers wanneer daar na die baie spesifieke senings en skakels van ‘n spesifieke werk gekyk word. Resensies moet dus op intuïtiewe vlak veel meer kreatief met die werk omgaan en minder steun op die gebruik van beskrywende terme. Laasgenoemde laat die fokus vasval in generiese aspekte, en die grootsheid en misterie van kuns lê juis in die spesifieke aard daarvan.
Critique is by uitstek toegerus om met die spesifieke aard van ‘n werk om te gaan.
Dit lyk egter soms of daar tans in die Afrikaanse akademiese kringe ‘n klein konserwatiewe drukgroep is wat pogings om weg te beweeg van beskrywende, dogmatiese kritiek as ‘n verval wil sien. Dis te verstane, in die lig van die feit dat hoër kultuurbedrywighede op die oomblik onder druk verkeer en inderdaad plek-plek verval in die gesig staar.
Maar waar geldige vrese oor verval bestaan, sal mens ook vind dat konserwatisme (dit wat iets ewe erg as verval naamlik stagnasie verteenwoordig), die kans sal probeer gryp om vooruitgang te fnuik.
Die ou beskrywende kritiek, wat op ‘n droë proses van toetsing aan vasgelegde generiese waardes steun pleks van op kreatiewe analise, is ‘n anachronisme in die postmoderne tyd - ‘n tyd waarin die spesifieke en afwykende aard van werke beklemtoning geniet.
Die resensie moet in sigself meer van ‘n kunswerk wees as ‘n beskrywing. Dogmatiese resensering is gewoon nie soepel of kreatief genoeg vir die vereistes van die eietydse literêre werk nie.
En die begrafnis wat wag is een wat ek beslis nie self sal bywoon nie. Daarvoor sal ek (met respek) te besig wees om dronk te word.
|
|