Desmond Painter
Saturday, February 4th, 2012
 Czeslaw Milosz
And Yet The Books - Czeslaw Milosz
And yet the books will be there on the shelves, separate beings,
That appeared once, still wet
As shining chestnuts under a tree in autumn,
And, touched, coddled, began to live
In spite of fires on the horizon, castles blown up,
Tribes on the march, planets in motion.
“We are, ” they said, even as their pages
Were being torn out, or a buzzing flame
Licked away their letters. So much more durable
Than we are, whose frail warmth
Cools down with memory, disperses, perishes.
I imagine the earth when I am no more:
Nothing happens, no loss, it’s still a strange pageant,
Women’s dresses, dewy lilacs, a song in the valley.
Yet the books will be there on the shelves, well born,
Derived from people, but also from radiance, heights.
Thursday, February 2nd, 2012
 Szymborska
Ek het op 5 Augustus laasjaar ‘n gedig van Wislawa Szymborska op my blog geplaas, ‘On Death, Without Exaggeration’. Sy eindig daardie gedig so: “There’s no life / that couldn’t be immortal / if only for a moment. // Death / always arrives by that very moment too late. // In vain it tugs at the knob / of the invisible door. / As far as you’ve come / can’t be undone.”
Sy is gister in die ouderdom van 88 jaar oorlede, en sy laat iets agter wat beslis nie ongedaan gemaak kan word nie. Onsterflik, op ‘n manier. En op ‘n ander manier ook nie. Vir jou kat is jy immers meer as ‘n digter.
*
Cat in an empty apartment – Wislawa Szymborska
Die — You can’t do that to a cat.
Since what can a cat do
in an empty apartment?
Climb the walls?
Rub up against the furniture?
Nothing seems different here,
but nothing is the same.
Nothing has been moved,
but there’s more space.
And at nighttime no lamps are lit.
Footsteps on the staircase,
but they’re new ones.
The hand that puts fish on the saucer
has changed, too.
Something doesn’t start
at its usual time.
Something doesn’t happen
as it should. Someone was always, always here,
then suddenly disappeared
and stubbornly stays disappeared.
Monday, January 16th, 2012
 Adam Small
Ek koop al baie jare lank tweedehandse boeke by Cafda, ʼn boekwinkel geleë net langs die Cavendish Square winkelsentrum in Claremont, Kaapstad. Cafda het altyd ʼn goeie versameling Afrikaanse boeke. Wanneer ek soms op ʼn Saterdagoggend daar gaan rondkrap, is daar amper altyd iets wat die moeite werd is om te koop; dikwels iets wat al lankal uit druk is.
Nou onlangs weer: Gesprekke met Skrywers 2, destyds uitgegee deur Tafelberg. Ek kan nie onthou hoeveel volumes daar uiteindelik in die reeks gepubliseer is nie, maar hierdie gebundelde literêre onderhoude met Afrikaanse skrywers was ‘n uitstekende projek. Ek het die eerste volume destyds toe ek nog op skool was by die Brackenfell biblioteek uitgeneem – om F.I.J. van Jaarsveld se gesprek met Etienne Leroux te lees.
Ook in Gesprekke met Skrywers 2 is fassinerende gesprekke opgeneem. Een van die interessantste in die boek is Ronnie Belcher s’n met Adam Small. Die boek is in 1972 gepubliseer; Small, gebore in 1936, was dus nog maar 36 jaar oud. Op die foto’tjie wat vir die omslag gebruik is lyk hy selfs jonger: ʼn netjiese, ernstige skoolseun. Tog was sy belangrikste werk toe al gepubliseer: Kitaar my kruis (1961), Sê sjibolet (1963) en Kanna hy kô hystoe (1965). Almal voor hy 30 was!
Aan die einde van elke gesprek word enkele feitelike vrae aan elke skrywer gestel: geboortedatum, boeke gepubliseer, pryse gewen, lewensloop, geliefkoosde skrywer, ontspanning, ens. Small se beskrywing van sy lewensloop is ʼn lieflike klein outobiografiese skets; dit verdien om volledig hier aangehaal te word:
“Lewensloop: gebore Wellington, Kaap (waar glo ook Piet Retief). Groei egter tot so 9 jaar oud op in buitewyke van Robertson waar my vader destyds ʼn plaasskooltjie van die N.G. Sending aan die gang gehou het onder die arbeiders van omringende plase. Hier waar die eerste en blywende siel van protes oor die lot van die ‘underdog’ my gegee is (God?). Gelukkige huislike lewe as kind. (Weet nou hoe my ouers ons teen die vernederings van ʼn ongelyke maatskappy waar ons aan Klaas se kant was, al was Baas dan ook hoe ongekultiveerd, beskut het.) Moeder ʼn tot die Christendom bekeerde Mohammedaan (dus die ‘Oostersheid’ van my ‘bloed’), vader ʼn diepsinnige mens, gedissiplineerd maar liberaal in lewensuitkyk, eintlik humanis (filosofie het ek dus van albei kante en twee wêrelddele. As kinders (ek het ʼn jonger suster, en dis al), alhoewel streng grootgemaak, is ons nooit tot enigiets gedwing nie, en het ons geheel en al vry van ideologieë grootgeword, iets waaroor ek nie genoeg dankbaar kan wees nie. Word feitlik uitsluitlik Afrikaans groot, alhoewel Engels vandag vir my soms ʼn geestelike toevlug is (nooit voldoende nie; daarom dat ek dikwels teen my mede-Afrikaners vloek; dan lees ek weer N.P. van Wyk Louw). Matrikuleer aan ʼn Roomse skool in Kaapstad. Woon die Universiteit van Kaapstad by, en later dié van Londen en Oxford, met beurse. Trou. Het twee slim seuns. Probleme. Skei. Het nog die twee slim seuns. Trou later weer, en my vrou is op die oomblik van publikasie hiervan akademikus saam met my aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Walg my vir die ‘rat-race’ en probeer wég van die kleinlikheid lewe, jaloers veral op my intellektuele integriteit. Reis nou onlangs nog in Amerika en leer nogal baie by die Yanks. Is op geen dag 100% fisiek gesond nie (oorsaak: my land en sy mense, en dat ek van hulle notisie geneem het).”
Wednesday, December 14th, 2011
 Liszt
Kyk, Franz Liszt word dikwels onderskat: ‘n vertonerige virtuoos wat oppervlakkige musiek geskryf het bloot om sy pianistiese vernuf ten toon te stel. Koos Human sê so in sy Die A tot Z van Klassieke Musiek. Ek het selfs al vir Lina Spies tydens ‘n boekbekendstelling so hoor sê, en sy het al ‘n mooi gedig oor Liszt geskryf… Ja, hy was ‘n superster, ‘n virtuose pianis, glo ‘n live performer soos min ander; en hy het natuurlik wel ook ‘n groot aantal werk van mindere gehalte geskep. Musiek vir die oomblik; crowd pleasers kan ons dit seker noem.
Maar dit is beslis nie al wat daar oor Franz Liszt te sê is nie. Sy latere klavierwerke en sy toondigte was vernuwend, selfs visionêr: hy het die eksperimente in atonaliteit van Schoenberg en sy volgelinge vooruitgeloop. So beskou is Liszt beslis een van die vaders van die twintigste-eeuse musiek, en ‘n komponis wat nou eers werklik na waarde geskat begin word. Kom ek stel dit so: Liszt was die Jimi Hendrix van klassieke musiek, iemand wat by nabetragting veel meer as blote instrumentalis was; iemand wat selfs ‘n cover in ‘n selfstandige kunswerk kon omskep (vergelyk Hendrix se opnames van Dylan se All Along the Watchtower en van die Amerikaanse volkslied; vergelyk Liszt se menige transkripsies van Schubert, Beethoven en ander…)
Benewens vernuwing het Liszt natuurlik gewoon ook ure se pragtige musiek geskep, insluitende sy monumentale klaviersonate. En omdat 2011 die 200ste herdenking van sy geboorte is, is daar hierdie jaar ‘n magdom nuwe opnames van sy werk vrygestel. Die een wat die meeste aandag trek, maar wat myns insiens maar flouerig is, is Lang Lang se Liszt: My Piano Hero. Ek het dit gekoop omdat ek wou hoor waarom almal so gaande is oor hierdie jong Chinese pianis. Lang Lang is nie swak nie, en daar is hoogtepunte ook op die album, maar hy doen self te dikwels juis dit waarvan mense Liszt beskuldig: vertonerige virtuositeit wat aan subtiliteit en ‘n sekere “innerlikheid” inboet.
Hierdie kritiek geld beslis nie vir Nelson Freire se Liszt: Harmonies du Soir nie. Freire is ‘n deurwinterde veteraan, met tien keer die talent van Lang Lang, maar veel minder tyd in die kollig. Hierdie nuwe Liszt-opname van hom is beslis een van my albums van die jaar; ek het op ‘n stadium kompulsief in die kar en by die huis daarna geluister. Freire bring die meer sensitiewe, meer huiwerige, meer brose, meer digterlike kwaliteite van Liszt se werk na vore; maar sonder dat Liszt se speelsheid agterwee bly. Tegnies is Freire verbluffend, maar dit is tegniek wat nie onnodig aandag trek nie. Freire dien deurgans die musiek, nie sy eie sterstatus nie. Dit is ‘n album wat selfs Liszt-sinici sal stilmaak.
Die jong Franse pianis Lisa de la Salle het ook in 2011 ’n Liszt-CD uitgereik. Haar opname is nie heeltemal so subliem soos die van Nelson Freire nie, maar sy is beslis iemand om dop te hou. Sy speel met groter vuur as die meer subtiele Freire, en dit is juis daarom lekker om die twee CD’s afwisselend te luister. Moet jou dus nie deur die bemarkers laat mislei nie: vergeet van Lang Lang, en koop eerder De la Salle en, veral, Freire. Jy gaan nie spyt wees nie!
Friday, November 11th, 2011
Ek was in Brasilië as gas van die Universiteit van São Paulo (my Portugese titel, terloops, was Auxilio Professor Visitante, nogal kinky!), maar omdat my gasvrou ʼn dubbele aanstelling het, het ek die geleentheid gehad om ook die Pontifícia Universidade Católica de São Paulo (PUC-SP) twee keer te besoek – een keer om ʼn lesing aan te bied, die ander keer om te gesels met navorsers en aktiviste wat werk met jeugdiges in die favelas in en rondom die stad.
Dit was nogal vir my ʼn eer, ʼn thrill, om op die PUC-SP kampus te wees, want dit is ʼn universiteit met ʼn ryk geskiedenis en ʼn sterk tradisie van radikale denke en aktivisme – so anders as my eie universiteit, waar daar natuurlik nie werklik ʼn tradisie van kritiese teorie en radikale praktyk is nie.
 Voor die PUC-SP
Tydens die militêre diktatuur, veral, het akademici en studente van die PUC-SP nie weggeskram daarvan om kritiek te lewer en op ander maniere by te dra tot die verligting van politieke en ekonomiese ellende nie. Die universiteit het ook heenkome gebied aan etlike akademici wat, weens hulle politieke idees en aktiwiteite, by openbare universiteite afgedank is.
Die PUC-SP is ʼn private, Katolieke universiteit wat as ʼn nie-winsgewende instelling bedryf word. Dit is ‘n tipiese stadskampus: dit is in die middel van ‘n besige buurt, daar is graffiti op die mure, jy ruik bier in die stegies en jy voel die energie van studente oral aan, selfs na-uurs.
 Studente en winkel, PUC-SP
Een groot figuur in die sosiale wetenskappe wat vir baie jare aan die universiteit verbonde was, is Paulo Freire. Freire, natuurlik, het bekendheid verwerf vir sy teoretisering en toepassing van die ‘pedagogie van hoop’, ʼn begrip wat deesdae baie by my eie universiteit ook gebruik word – trouens, ʼn begrip wat toenemend deel vorm van die US se korporatiewe identiteit.
In die teoretiese en politieke verbeelding van Freire is ‘hoop’ ʼn radikale, revolusionêre beginsel, en alhoewel ek Russel Botman se goeie bedoelinge in hierdie opsig nie in twyfel trek nie, is dit moeilik om nie ʼn bietjie sinies te wees oor hoe ‘hoop’ aan die US tot ʼn bemarkbare slagspreuk verskraal word nie. Nogtans bly dit ʼn belangrike uitdaging: hoe om teorie, praktyk, die universiteit as sodanig, in terme van ʼn radikale aandrang op en uitbreiding van maatskaplike hoop te herdink.
Om dit reg te kry, volgens my, kan ons egter nie toelaat dat ons konsepte deur bemarkers oorgeneem word nie. En dit is oraloor presies wat aan die gebeur is, ʼn soort oorname en aftakeling van ons konsepte en semiotiese beweegruimtes deur die leë instrumentalisme en selfdienende opportunisme van bemarkingsdiskoers. Net laasweek nog het ek ʼn ‘Revolution’ T-hemp in Truworths gesien, kompleet met Che Guevara se gesig daarop… Die begrip ‘Occupy’ sal seker dieselfde paadjie loop.
 My geliefde Foucault, boekwinkel, PUC-SP
Ons moet veg vir die outonomie van ons taal en konsepte, want hiersonder word dit onmoontlik om outonomie in ander domeine ook te bedink en te artikuleer. Bewussynsvryheid is ʼn taalpolitieke kwessie. In hierdie opsig kan ʼn mens seker praat van ʼn globale taalstryd, een wat nie rondom spesifieke tale geveg word nie, maar wat fokus op die onderwerping van alle taal, betekenis en woorde aan die imperatief van bemarking en verkope; op die korporatiewe besitname van bewussyn en die verskraling van groepe en subjektiwiteite tot individuele en kollektiewe verbruikers.
 Ek en Miriam, my gasvrou, PUC-SP
Die poësie (omdat ʼn ander verhouding met taal daar geld) bly ʼn loopgraaf in hierdie semiotiese oorlog – en in hierdie opsig is alle poësie taalpolitiek, net soos alle belangrike letterkunde op ʼn manier die politieke dimensies van ons bestaan aansny. (Politiek breed verstaan: ons moet die begrip ‘politiek’ immers ook terugeis…)
Enige aandrang op die teendeel (op die essensieel apolitiese aard van die poësie en die letterkunde) is die gevolg van ‘n verkeerde, wesenlik bourgeois opvatting dat menslike selfverwesenliking buite die verband van samelewing (die bemiddelende instellings en praktyke waardeur ons as menslike subjekte tot stand kom en gereproduseer word) tot uitdrukking (tot sê, tot segging, tot storie) kan kom.
 Miriam en ons tolk, Marcio
Taal is by uitstek die ruimte en meganisme van hierdie bemiddeling van (en tussen) die ek, die jy, die ons, en die hulle. Taal, as ‘n gedeelde ruimte, funksioneer vir die ‘ek’ as die moontlikheidsvoorwaarde waarsonder daar geen erkenning en ervaring van die ‘eie’ en die ‘ander’ kan wees nie. Dit is te danke aan taal dat ‘ek’ gesê kan word, en dat die gemeenskaplike gesubjektiveer kan word tot ‘individualiteit’ en psigologiese ‘innerlikheid’.
Die politiek en die letterkunde begin albei waar ons selfsyn en samesyn vir ons probleem en projek word. Beide is ten nouste verstrengel met die fundamentele taligheid van ons bestaan. Die poging om kennis, wetenskap en literatuur onafhanklik van die politiek te verklaar, berus op ‘n misverstand oor die aard van taal.
 Ek en kollegas, PUC-SP
Tuesday, November 8th, 2011
Dit frustreer my altyd: ek mik en mik en mik voor ek druk, en tog is die fototjies wat ek na ’n reis wil bewaar dikwels die wat ek heel letterlik van die heup geneem het — so in die loop, sonder om op die skermpie te kyk, nog voor die kamera skouerhoogte kon haal, ‘n cowboy wat vinning moet skiet. Hierdie twee, byvoorbeeld, is sulke foto’s:
 Sao Paulo 1
 Sao Paulo 2
In beide gevalle het ek nie getref wat ek wou nie, maar in beide gevalle is daar dinge in die foto wat ek baie van hou. Die man in die eerste foto: ek het hom heel per ongeluk afgeneem, maar ek verkies hierdie foto bo die een wat ek net daarna van die gebou agter hom geneem het, as korrektief, as poging om my visuele intensie te herstel. Hy gee ‘n beweeglikheid aan die foto. Sy liggaam, selfs gestol in beweging, suggereer iets van die ritme en die houding van die stad.
Die tweede foto: letterlik van die heup af, heel verkeerd gemik. Na die tyd het ek gaan staan, gewag vir nog ‘n rooi lig, halfpad oor die straat gestap, en die foto geneem wat ek aanvanklik wou neem. Maar weereens verkies ek die toevallige fonds. Behalwe dat ek baie hou van die kontras van die grys en die geel, lyk dit vir my op my skewe foto ook asof die geboue effe oorhel en begin kantel, asof bestendigheid slegs deur daardie twee waarskuwende rooi ligte, wat in die middel van die foto hang, verleen word.
Die oomblik voor alles in beweging kom, dalk selfs inmekaar tuimel.
Monday, November 7th, 2011
Pas terug uit São Paulo: wat ‘n stad! ’n Intense, besige 10 dae: vier lesings, ‘n string formele en informele ontmoetings, etes en verkeersknope, ure wat ek steel om op my eie te gaan stap. Kilometers te voet. Moltrein wanneer ek te moeg is vir die pad terug. Saans in die woonstel bestudeer ek die kaart; nie om die volgende roete te beplan nie, om te sien of ek my spoor kan vind. Ek moet probeer om iets hiervan neer te skryf; ek het dit nodig, die ervaring wil nog nie stol nie. Hier is solank ‘n vers deur een van die grootste Brasiliaanse digters van die vorige eeu:
***
Don’t Kill Yourself - Carlos Drummond de Andrade
Carlos, keep calm, love
is what you’re seeing now;
today a kiss, tomorrow no kiss,
day after day tomorrow’s Sunday
and nobody knows what will happen
Monday.
It’s useless to resist
or to commit suicide.
Don’t kill yourself. Don’t kill yourself!
Keep all of yourself for the nuptials
coming nobody knows when,
that is, if they ever come.
Love, Carlos, tellurian,
spent the night with you,
and now your insides are raising
an ineffable racket,
prayers,
victrolas,
saints crossing themselves,
ads for better soap,
a racket of which nobody
knows the why or wherefor.
In the meantime, you go on your way
vertical, melancholy.
You’re the palm tree, you’re the cry
nobody heard in the theatre
and all the lights went out.
Love in the dark, no, love
in the daylight, is always sad,
sad, Carlos, my boy,
but tell it to nobody,
nobody knows nor shall know.

Friday, October 7th, 2011
Op 14 Februarie 2011 het ek met groot stelligheid hier aangekondig dat ek op pad São Paulo toe is. Daardie uitstappie moes tot my groot teleurstelling uitgestel word, maar nou is dit weer sulke tyd. As alles volgens plan verloop, vertrek ek oor twee weke. Ongelukkig net vir 8 dae, maar ek sal darem seker iets van die pols van die Suide se grootste stad kan voel!
 Sao Paulo
Ek sal tydens my besoek ‘n gas wees van die Fakulteit Sielkunde aan die Universiteit van São Paulo, en benewens gesprekke oor die skep van moontlike navorsingsnetwerke en uitruilprogramme, sal ek ook ‘n paar lesings aanbied oor die historiese verstrengeling van sielkunde, mag en politiek in Suid-Afrika, oor ras en rassisme (die Brasiliaanse nasionale storie verskil, wat die idee van ras betref, op interessante maniere van ons eie), en oor alternatiewe, “Suidelike” benaderings tot die sielkunde hier by ons. Wat die eerste onderwerp betref, het ek hierdie wonderlike aanhaling uit Breyten Breytenbach se The True Confessions of an Albino Terrorist (1984) om die gesprek ordentlik in te lei (ek moet die bloginskrywing darem probeer terugdwing tot digters en die digkuns…):
“He had me go through the gamut of outdated tests, the Rorschach blots and blobs, squiggles and various I.Q. examinations. Naturally I was never informed about any of his deductions. I was the guinea pig. These perverted practitioners of the spurious science of psychology do not have as their first priority to help the prisoner who may be in need of it. They are the lackeys of the system. Their task very clearly is to be the psychological component of the general strategy of unbalancing and disorienting the political prisoner.” (bl. 90)
 Sao Paulo
Etlike van die kollegas wat ek daar besoek is betrokke by verskillende gemeenskapsprojekte en ander maatskaplike en politieke inisiatiewe. Ek hoop om iets hiervan te sien. En ek hoop natuurlik om tyd te kry om op my eie rond te loop, kunsgalerye te besoek en goed te eet. En musiek! Benewens allerlei nuwe klanke wat strek van salsa tot rock is die São Paulo Simfonieorkes ook nie te versmaai nie; miskien speel hulle een aand iets wat die moeite werd is om na te gaan luister. Dalk Villa-Lobos.
Enige ander Brasiliaanse voorstelle of aanbevelings vir my?
Friday, September 30th, 2011
1.
Sy parkeer die huurmotor laatmiddag voor die hotel.
Sy boek in, haal haar ringe af, vanuit haar kamer bel
sy hom. Om 20h00 ontmoet hulle in die Ocean Basket,
streng volgens die reëls wat sy self gemaak het.
2.
Sy vind dit altyd ongemaklik om voor die tyd te pis
terwyl hy op die bed lê en wag. Sy sorg dat dit porselein is
wat sy tref, nie water nie. Wanneer sy geluidloos uitloop
lê hy en glimlag, asof van sy eie naaktheid onbewus.
3.
Haar hotelkamer: dit is waar hulle eindig, vanself-
sprekend. Die TV bly aan, hulle doen dit op haar helf-
te van die bed. Dit duur nie lank nie. Hy trek
aan, is terug in sy kamer skuins na elf.
4.
Laatnag gaan try hy weer sy luck in die lobby bar.
Hy bestel ʼn whisky, sit ʼn rukkie, sien niemand daar
nie. Hy loop buitentoe, gaan rook op die parkeerterrein.
ʼn Week soos ʼn country song, vyf dae en ʼn refrein.
5.
Hy moet vlieg, hulle sal mekaar nie sommer
weer sien nie. Hy wis hulle sms’e, haar nommer
van sy foon. Te lank reeds het hy hier gesloer.
Hy los die handdoeke ongeërgd op die vloer.
Friday, September 16th, 2011
Die laaste drie dae het ek deurgebring by die jaarlikse kongres van die Psychological Society of South Africa (ek het al vantevore verwys na die akademiese stam aan wie ek teen wil en dank behoort, die sielkudde, die sielskunniges, die kopbekruipers, die bewussynsswyne, die gedragsmasjiniste, die bitterweters…).
Erger nog, die kongres was nie by ‘n universiteit aangebied nie, maar by Emperors Palace net langs die Johannesburg Internasionale Lughawe. So tussen die casino (Richmond Fontaine se wonderlike song, “Casino”, het meermale deur my kop gedraai…) en die food court met die vreemde plafon vol prente van wolke en beligting wat dit laat lyk of dit altyd skemer is (ons het een aand by die Ocean Basket gaan eet, en jou wrintie, die eerste ding wat die kelner ons vra is: “Do you want a table inside or outside?”).
Maar laat ek julle nie verveel met werkspraatjies nie. Terwyl ek so sit en luister na die een referaat na die ander, droedel ek maar in die komplimentêre notaboekies met die komplimentêre penne wat in al die lesingsale uitgedeel word. Ek skryf neer wat ook al by my opkom, en dan probeer ek die gedagtes voor afloop van die sessie in ‘n digterlike vorm indwing.
Ek het vanaand na afloop van die kongres deur my boekies geblaai, en tussen al die gedagtes en enkelsinne darem vyf kwatryne gevind wat al so half en half konsepstadium bereik het. Terloops, ek het tuisgegaan in een van die hotelle binne die Emperors Palace kompleks, wat nogal ‘n neerdrukkende ervaring was. ‘n Dooie ruimte. Iets van die vervreemdende, deels beklemmende, deels bevrydende aspek van hotelle en hotelkamers (onthou julle Stef Bos se lieflike song, “Hilton, Barcelona”?) het in die droedels neerslag gevind, lyk dit my.
En na drie dae in ‘n casino kan ek netsowel maar met ‘n paar kwatryne dobbel, so hier is hulle — en kom ons noem hulle vir nou sommer “Vyf Hotelkwatryne”
*
1.
Koffie te maak. Die oggend haar gang
te laat gaan. Te luister na die veraf sang
van die strate. Te droom, te word, prys te gee
al wat die oggend van jou verlang.
2.
gisteraand se gawes staan verleë
wanneer sy die deur agter haar toeklap
wanneer sy straataf stap
wanneer die oggend meegee
3.
hy sit na homself en staar
in die hotelkamer se spieël
staan eers op wanneer hy haar
in die hotelkamer se bed verbeel
4.
die vergifnis van kortstondigheid
of die warmte van geleende tyd
wie weet wie sy gister was
‘n hotelkamer hou jou anders vas
5.
‘n Hotelontbyt, net vlugtig die koerant
voor ek loop. Ons is nêrens nuus nie, want
laasnag in daardie rookvrye kamer
het ons ongemerk uitgebrand.
Thursday, August 25th, 2011

In ’n opstel wat nou reeds kanonieke status in die geesteswetenskappe verkry het, vra Gayatri Spivak (1993) hierdie steeds dwingend relevante vraag: “Can the subaltern speak?” Die “subaltern”-verwysing hier is na die stilgemaakte en andersins stemlose subjekte van die (veral koloniale) geskiedenis; na hulle wat die produkte is van imperialistiese projekte van subjektivering en wat voortdurend onderhewig bly – wanneer hulle wel objekte van kennis word; wanneer daar, met ander (se) woorde, wel óór hulle gepraat word – aan wat Spivak tereg “epistemiese geweld” noem (p 104). Die “subalterns” is die ondergeskiktes, die onderhoriges, die onderdruktes. Hulle na wie Frantz Fanon (1961) verwys het as “die verdoemdes van die aarde”.
Die onderhoriges is dus hulle wat uitgesluit word van sisteme van representasie; hulle wat stemloos is; hulle wat letterlik nie ’n sê het nie, wat nie in die posisie is om by te dra tot amptelike diskoers nie (p 104). Maar nie net uitsluiting is ter sprake nie – die onderhoriges word ook verteken en wanvoorgestel binne heersende sisteme van representasie, hetsy histories, polities, wetenskaplik, artisitiek of literêr.
Daar word verder van die onderhoriges verwag (oftewel: hulle word hiertoe gedwing ter wille van ekonomiese en maatskaplike oorlewing) om hulleself te “vertaal” – hulle word sigbaar en stemhebbend in die mate waarin hulle koloniale sisteme van representasie aanneem en hulleself in koloniale terme voorstel: ’n koloniale naam; ’n koloniale godsdiens; ’n koloniale regsisteem; ’n landskap wat koloniaal gekarteer, benoem en begrens is; ’n koloniale taal. Op hierdie manier word die moontlikheidsvoorwaardes vir identiteit, verlossing, geregtigheid, mobiliteit en selfs betekenis en kommunikasie effektief gekolonialiseer.
Koloniale wanvoorstelling en blatante negering van die onderhoriges kan ook nie sommer reggestel word deur bloot stem te verleen aan “die ander” nie (en terloops, die alomteenwoordige verwysings na “die ander” in die geesteswetenskappe, dikwels eerbiedig in hoofletters geskryf, loop immer die gevaar om koloniale verhoudinge op allerlei maniere te depolitiseer, ten gunste van ’n ahistoriese, kwasimetafisiese diskoers oor self en ander): die sosiale wetenskappe ontkom nie so maklik aan hulle gedeelde geskiedenis van koloniale meewerking en gepaardgaande epistemiese geweld nie; en die romantisering van die (onvervreemde en onvervreemdende) “stem” van die onderhoriges hou dikwels nie rekening met presies hoe onagterhaalbaar enige idee van ’n “oorspronklike kultuur/identiteit” of “prekoloniale leefwyses” eintlik is nie.
Waarmee ons gelaat word, is dus die buikspraak van die koloniale geskiedenis. Spivak se vraag bly beslis relevant: Kan die onderhoriges praat? Maar miskien is die eintlike vraag (vir ons, in elk geval) nie soseer of die onderhoriges kan praat nie, maar veel eerder of die geesteswetenskappe kan hoor. Want natuurlik is daar ook veel meer as bloot koloniale buikspraak ter sprake: geen proses van kolonisering is volledig nie; daar is altyd oorblyfsels, hibridisering, mutasies en allerlei herwinningspogings. Die onderhoriges het eintlik nooit opgehou om te praat nie.
Maar hoe kan die geesteswetenskappe in Suid-Afrika voorgee om te luister en te hoor wanneer taal, en spesifiek die Afrikatale, so laag op die akademiese agenda is? Pogings om die Afrikatale as akademiese tale te bemagtig word dikwels met agterdog en hovaardigheid bejeën. Weinig navorsing word in die geesteswetenskappe in Suid-Afrika (en ek verwys nie na taaldissiplines soos die sosiolinguistiek nie) oor die maatskaplike en politieke dimensies van taal, taaldiversiteit en ons spesifieke “taalgeskiedenis” gedoen. Selfs in plaaslike publikasies oor kwalitatiewe navorsingsmetodes, oor etnografie en orale geskiedenis, aktiwiteite wat fundamenteel afhanklik is van taal en vertaling, word daar weinig sistematiese energie bestee aan die implikasie van taalverskeidenheid en vertaling.
Ek probeer nie hiermee voorgee dat die geesteswetenskappe in Suid-Afrika van hulle koloniale bagasie ontslae kan raak bloot deur inheemse tale aan te leer, of deur middel van inheemse tale te werk nie. So eenvoudig is dit ook nie. Die inheemse tale is in ’n sekere sin ook koloniale produkte, nie ongeskonde prekoloniale gegewens nie. Inheemse spraakvorme is immers koloniaal toegeëien en gereduseer en gestandaardiseer tot “tale” in die Europese sin van die woord, waarop verskillende en meestal heel arbitrêre etnonasionalistiese konstruksies boonop staangemaak is …
Maar hierdie historiese kompleksiteit is nogtans geen verskoning vir die negering van die Afrikatale in die geesteswetenskappe nie – want miljoene mense praat dit, hoe arbitrêr die grense tussen verskillende “tale” dan ook somtyds is. Die negering van die Afrikatale in die geesteswetenskappe bly ’n vorm van epistemiese geweld. Dit laat die meeste Suid-Afrikaners sprakeloos binne die diskoerse en voorstellings van die geesteswetenskappe. Hulle bly ongehoord en onderhorig. En dit laat ons, diegene wat die geesteswetenskappe bedryf, horende doof. En ons dissiplines sonder luister.
Wat hoor ek dus wanneer Suid-Afrika op die praatbank gaan lê? ’n Roesemoes van stemme, ja, maar weinig sin. Soos so baie van my kollegas is ek gewoon nie toegerus om na hierdie land se mense te luister nie, om hulle te hóór nie …
[Hierdie kort essay het verlede jaar op LitNet verskyn as deel van ‘n Mini-seminaar oor die onderwerp: Suid-Afrika op die Praatbank.]
Verwysings
Fanon, F. 1961. Les damnés de la terre. Paris: Francois Maspéro. [In Engels vertaal deur Constance Farrington as The wretched of the earth, Penguin Books, 1990.]
Spivak, G. 1993. Can the subaltern speak? In P Williams & L Chrisman (reds), Colonial discourse and post-colonial theory (pp 66–111). New York: Harvester Wheatsheaf.
Tuesday, August 9th, 2011
Dimitri Sjostakowitsj se 24 Preludes en Fugas is myns insiens een van die wonderwerke van die 20ste-eeuse klaviermusiek. Dis ‘n epiese kopknip in die rigting van J.S. Bach se Das Wohltemperirte Clavier, maar dis ook ‘n idiosinkratiese, inspirerende weefwerk van allerlei invloede en musikale verwysings: Russies, Joods, modernisties, tradisioneel, jazz, aangebied in ‘n veelheid van stemme en aksente wat wissel tussen kompleks en kinderlik eenvoudig, voorbedag en improviserend, sarkasties en teer, speels en morbied. Om na die hele siklus te luister is ‘n sublieme ervaring wat (soos die 15 strykkwartette) Sjostakowitsj op sy beste verteenwoordig. ‘n Siklus waarna ‘n mens telkemale kan terugkeer; musiek vir alle seisoene.

Daar is ‘n hele paar legendariese opnames van die 24 Preludes en Fugas op die mark. Vladimir Ashkenazy en Keith Jarrett se opnames is met reg beroemd, en beide is ook nog geredelik beskikbaar (Jarrett s’n is die opname wat ek meestal in Suid-Afrikaanse musiekwinkels op die rak sien). Die talentvolle jong Konstantin Scherbakov het ‘n opname vir Naxos gemaak wat ook baie goeie resensies ontlok het. Maar die Preludes en Fugas is vir baie dekades al sinoniem met die Russiese pianis Tatiana Nikolayeva. Die rede hiervoor is eerstens omdat Sjostakowitsj die werk vir haar (of met haar in gedagte) gekomponeer het. Tweedens is dit omdat haar interpretasies werklik besonders is. Sy het etlike opnames van die werk gemaak – die opname waarna ek luister is in 1991 deur Hyperion uitgereik. Dit is een van daardie CD’s waar die uitwys van tegniese foute nie saak maak nie. Die uitvoering is tot so ‘n mate deurstraal van musikale aanvoeling vir en emosionele meelewing met die komponis en sy musikale strewes dat haar interpretasie amper bepalend is. Jy vra jouself: is dit vir enige pianis nodig, en selfs moontlik, om na Ashkenazy, Jarrett, en veral Nikolayeva, nog iets vars tot ons waardering van hierdie werk toe te voeg?

Ek het nie so gedink nie. En tog was een van die beste CD’s wat ek die afgelope jaar gekoop het juis ‘n opname van Sjostakowitsj se 24 Preludes en Fugas. Die pianis wat dit reggekry het om hierdie werk opnuut vars, dringend en musikaal onmisbaar te maak, is Alexander Melnikov (geb. 1973). Die opname is in 2010 deur Harmonia Mundi uitgereik. Melnikov is een van daardie musikante wat ‘n intelligente, analitiese ingesteldheid gemaklik versoen met ‘n digterlike, sielvolle aanslag. Sy opname van die Sjostakowitsj het met reg onlangs die BBC Music Magazine se toekenning vir beste instrumentele opname van die jaar 2011 gewen.
Ek sal nooit ophou om na Nikolayeva se opname te luister nie, maar Melnikov, sonder om enigsins radikaal af te wyk van haar intepretasie, het dit reggekry om die werk sy eie te maak — hy gee ons ‘n Sjostakowitsj vir die 21ste eeu.
|
|