Desmond Painter
Thursday, March 11th, 2010
Wat is die Afrikaanse woord vir ‘doodle’? Ek doodle dikwels tydens vergaderings, seminare en voorlesings, soms deur strepe, kolle en kwasi-diagramme te teken (regte sketse kan ek ongelukkig nie maak nie) en soms deur woorde, frases, beelde, gedagtes en kwasi-strofes neer te skryf. Sommer enigiets wat by my opkom. Die meeste van die tyd word die produkte hiervan saam met die agendas en kongresprogramme waarop hulle geskryf staan in die drom gegooi, maar elke nou en dan, wanneer ek my kantoor of hardeskyf skoonmaak, kom ek op een af. Soos gister weer:
nóg ‘n kleindorpse lament
ek wou verder gaan
ek het geweet jy wag agter die plantasie
en jou fyn ondergoed het by my gespook
en hoe jy jou bene sprei, o jirre, met die grasie
van ‘n gaap… en na die tyd het ons gerook
en gelê en kyk na die maan
maar nee, ek wou verder gaan
ek moes weet wat wag verby die stasie
ek het gebrand om uit hierdie dorp te loop
maar ek droom, jy weet mos, vraatsig soos
‘n vlam… en na die tyd het ons gerook
en gelê en kyk na die maan
Thursday, March 11th, 2010
 Sergei Prokofiev
Die Britse digter, Simon Armitage, het onlangs ‘n nuwe teks (’n inleiding en ‘n soort nawoord) geskryf vir ‘n Oscarbekroonde rolprentweergawe van Prokofiev se bekende Pieter en die Wolf. Die eerste opvoering van die werk het in Desember verlede jaar in Londen plaasgevind. Ek is nie seker of die speelvak al tot ‘n einde gekom het, en of ‘n mens dit nog sou kon sien nie. In die Londen-vertonings is die rolprent begelei deur ‘n lewendige uitvoering (deur die legendariese Philharmonia Orchestra onder leiding van Mark Stephenson) van Prokofiev se musiek en Armitage se teks. Lees Armitage se interessante Guardian artikel oor hierdie projek en sy musikale agtergrond hier.
Wednesday, March 10th, 2010
Voordat ek nou in alle erns begin nadink oor hierdie maand se blogfokus, is die gebruiklike bietjie Bob Dylan seker in orde. Dylan, self ‘n amateurskilder, het klaarblyklik gemengde gevoelens oor kunsmuseums. In Visions of Johanna (een van sy beste songs) sing hy:
Inside the museums infinity goes up on trial
Voices echo, this is what salvation must be like after a while
But Mona Lisa musta had the highway blues
You can tell by the way she smiles
In Don’t fall apart on me tonight sing hy:
But it’s like I’m stuck inside a painting
That’s hanging in the Louvre,
My throat start to tickle and my nose itches
But I know that I can’t move.
Is daar iets waaroor hierdie man hom nog nie uitgelaat het nie?!
Monday, March 8th, 2010
‘n Kort onderhoud wat ek per e-pos met Fanie Olivier gevoer het oor sy jongste bundel, Apostroof, is gister in Rapport Boeke gepubliseer. Ek kan dit egter nie op die elektroniese weergawe van die boekeblad opspoor nie, so ek plaas dit hier ook.
Requiem vol vuur en lig
Met sy jongste bundel, Apostroof, verbreek Fanie Olivier ’n swye van 21 jaar. Die boekbemarkers sal natuurlik wil kapitaliseer op hierdie feit, en inderdaad, dit is ’n noemenswaardige gebeurtenis. Fanie Olivier is immers al vir goed drie dekades ’n gerespekteerde digter en ’n bekende literêre persoonlikheid. En Apostroof, sy sesde bundel, is in alle waarskynlikheid die hoogtepunt in sy oeuvre tot op hede.
Dit is ’n onderbeklemtoonde, intieme en dikwels oorrompelende bundel verse oor sy vrou Rike, wat drie jaar gelede ná ’n lang stryd teen primêre progressiewe afasie oorlede is. Dit is ’n requiem vol lig en vuur, ’n werk wat getuig van die krag maar ook onmag van woorde in die aangesig van liefde en verlies. Dit is, in kort, ’n bundel wat verdien om met eerbied en vreugde, en baie wyd, gelees te word.
Olivier het self egter nie veel erg aan die bemarkingswaarde van hierdie sogenaamde verbreking van 21 jaar se swye nie. “ ‘Swye’ klink so deftig!”, skryf hy per e-pos. “Ek het oor die jare nooit ophou skryf nie: Skryf is vir my baie belangrik en baie lekker, en ek deel graag gedigte met mense rondom wie gedigte ontstaan het. En ek het wel gepubliseer in geleentheidsbundels en tydskrifte.”
Maar skryf met die oog op publikasie het, om verskeie redes, oor die jare minder belangrik geword vir hom. “Of miskien was ek net nie lus vir die regpak van die volgepropte laai nie … Daar was belangriker dinge waarmee ek my besig moes hou, nog altyd die dapperdwaas ridder wat sonder ’n prinses of blink horlosie in gedagte, die nare ou draak van korrupsie en leuens en sluwe mag gaan aanvat. Maak mens nogal moeg.” Dat Olivier meedoënloos kan baklei vir geregtigheid blyk uit sy uitgerekte stryd in die laat 1990s teen die rektor en bestuur van die destydse Universiteit van Venda, ‘n saak wat wye mediadekking gekry het, meermale in die hof gaan draai het, en Olivier uiteindelik sy werk gekos het.
Dan is daar ook, heel tereg, ’n bietjie misnoeë te bespeur oor hoe die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en literêre kritiek hom by tye behandel het. “In Perspektief en Profiel bestaan ek gewoon nie as ’n digter nie, word glad nie genoem nie: Publikasie is dus nie van enige betekenis nie …” En tog is daar hierdie nuwe bundel; en dalk selfs meer wat op ons wag: “Miskien is dit nou tyd om weer bestek te neem: Ek het darem twee titels waarmee ek sou kon werk.” ’n Mens kan inderdaad maar net hoop dat hy van hierdie woorde werk sal maak.
Apostroof was egter glad nie met die oog op publikasie geskryf en saamgestel nie. Dit was aanvanklik bedoel as ’n soort persoonlike gedenkskrif, ’n intieme dokument wat met vriende en familie gedeel moes word. “Die manuskrip is in die paar maande na Rike se dood gemaak om vir oulaas saam met ons vriende en families haar te gedenk – soos in ‘blommetjie gedenk aan my’. Ons het op ’n paar plekke in die land wonderlik partytjie gehou en ek het gevoel dat die manuskrip (ongelyk soos dit is) gedeelde besit is en vir elkeen iets persoonliks beteken het. Een of twee van hulle het gemeen dat dit wyer gelees moet word.”
Olivier het gehoor gegee en die bundel gepubliseer, maar hy is self klaarblyklik nog nie heeltemal oortuig dat dit die beste besluit was nie. “Ek voel werklik ambivalent oor die publikasie. Die openbare hart op die mou, en ook omdat dit weer dinge byroep wat ek probeer besweer het. Eintlik was dit vir my verby skryf, soos die gedig ‘geding’ agter op die bundel (dus: daar buite) dit uitspel.”
Miskien is dit juis omdat die verse nie oorspronklik vir onbekende oë bedoel is nie wat die lees van die bundel so ’n intieme, roerende ervaring maak. In hierdie opsig, verduidelik Olivier, moet ’n mens die verskillende betekenisse van die titel in gedagte hou. ’n Apostroof is eerstens ’n leesteken wat daarop dui dat “iets ontbreek, en dié afwesigheid kry gestalte, word verteenwoordig, in daardie klein boonste komma/aanhalingsteken wat ons in Afrikaans ook ’n ‘afkappingsteken’ noem. Die bundel as ’n apostroof moet dus in die plek van Rike staan – dis presies wat die manuskrip tussen ons as vriende en familie moes wees.”
Maar in die Griekse retoriese tradisie verwys “apostroof” ook na die aanspreek van ’n afwesige persoon. Dit was volgens Olivier “ ’n bitter belangrike beginsel by die maak van die manuskrip en ’’n hele paar gedigte. Die afwesige persoon, die aangesprokene tot wie die retorikus hom wend (en hom so van ander mense afsluit), is uiteraard Rike, maar terselfdertyd word die leser (deur die feit van die bundel) die afwesige aangesprokene.”
Olivier ontgin hierdie nuanses verder: “ ’n Mens sou hierdie kwasi-geleerde gesprek ook verder kan voer: Oor die gesprek tussen lewe en dood (die afwesige, maar altyd aanwesige dood) of liefde en dood (die afwesige, maar altyd aanwesige liefde) en die afkappingsteken wat orals huiwer. En is elke woord nie ook maar ’n soort apostroof nie, iets wat ons herinner aan alles wat agter daardie woord in die lug hang nie …? Maar nou begin die bundel na ’n groot intellektuele en vermoeiende en moeisame ding klink, terwyl dit eintlik maar sentimentele gedigte is.”
Dat die digter hom verset teen die oor-teoretisering van sy “sentimentele gedigte” is duidelik wanneer hy in ’n laaste e-pos aan my só op sy eie antwoorde reflekteer: “Noudat ek klaar daarmee is: Hemel, kan ’n mens so presieus wees? Antwoorde is heeltemal te lank. Hoop eintlik maar net dat ’n gedig hier en daar iemand aan die hart sal kom gryp.”
Met reëls soos híérdie, hoe kan dit anders:
…en hoe
pikant lek die liefde nie uit die hart
en kom sit op die mou nie: toe,
toe jy kan dit nie ontken nie: verward
het veel minder betekenis as eers, rol
soos wyn van die tong af. klaar
met die dinge van ’n kind, word jy vol
van die soelte van soveel te wees, soveel
te weet, soveel, helaas, ook te verlang.
Thursday, March 4th, 2010
Dit is snikwarm op Stellenbosch, en die Woordfees is aan die woel in die strate en lokale rondom die gebou waar ek my daaglikse brood verdien.
Dit is eintlik die eerste keer dat ek die fees volwaardig bywoon. Gedurende die eerste klompie jare van die fees se bestaan het ek in die Oos-Kaap gewoon, en later het ek gewoonlik hierdie tyd van die jaar by my geliefde gaan kuier in Grahamstad. Intussen het sy haar tent kom opslaan hier by my in die Boland, so daar is geen verskoning nie: ek moet my gewoon oorgee aan die literatuuraanslag! Dit was veral lekker om twee medebloggers in die strate raak te loop: Andries Bezuidenhout en Bernard Odendaal. (En ook Melt Myburgh, maar hom, synde ook ‘n Stellenbosser, loop ek in elk geval altyd in die strate raak.)
Ongelukkig kan ek nie net rondloop en digters groet nie. Ek moet werk ook! Vrydag doen ek twee onderhoude, en Saterdag nog een. Eerste aan die woord (Vrydag 13h00) is Riana Scheepers. Ek gesels in die Erfurthuis met haar oor haar ryk en verleidelike bundel kortverhale, Katvoet. Net daarna (Vrydag 14h00, ook in die Erfurthuis) gesels ek met drie ander kortverhaalskrywers oor hulle nuwe bundels: Willemien Brummer (Die dag toe ek my hare losgemaak het), Helena Gunter (Op ‘n plaas in Afrika) en Welma Odendaal (Landskap met diere). Dit was vier heerlike boeke om te lees, en die twee debutante (Brummer en Gunter) laat ‘n mens opgewonde voel oor die toekoms van die Afrikaanse kortverhaal.
Die kortverhaal is natuurlik vir baie lank al ‘n besondere sterk genre in die Afrikaanse letterkunde (Aucamp, De Vries, Prinsloo en ander): gedurende die 1980s was dit dalk selfs die toonaangewende genre, die ruimte waar die Angolese oorlog, die politiek, seksualiteit en ander temas by uitstek deurgetrap is. En tog bly die kortverhaal, hier sowel as internasionaal, so ‘n bietjie van ‘n letterkundige stiefkind. Wanneer dit kom by toekennings vir prosa, is dit die roman wat nege uit tien keer bekroon word. Het ‘n kortverhaalbundel al die Hertzogprys gewen? Aucamp het die Hertzog vir sy hele oeuvre gekry (in 1980 of 1981 dink ek), nie vir ‘n individuele bundel nie. De Vries het, sover ek kan onthou, nog nie die Hertzogprys of enige van die ander belangrike letterkundige pryse verower nie. (Of maak ek ‘n fout? Indien nie is dit ‘n skande: sy kortverhale tel onder die beste goed wat nog in die Afrikaanse letterkunde gemaak is.)
Ten slotte, Saterdagmiddag om 14h00 praat ek in Protea Boekwinkel met Bettina Wyngaard oor haar debuutroman, Troos vir die Gebrokenes. Dit is ‘n treffende roman wat kwessies soos armoede, alkoholmisbruik en gesinsgeweld tromp-op loop en met deernis beskryf. As jy in omtes is, kom luister en koop Bettina se mooi boek!
Thursday, February 11th, 2010
 Paul Wittgenstein
Ek het in ‘n vorige inskrywing vertel van my ontdekking, op skool, van Ernst van Heerden se poësie, en van die rol wat hierdie ontdekking gespeel het in die aanwakkering van my eie belangstelling in die digkuns.
Sedertdien het ek weer ‘n slag deur sy bundels geblaai, hier en daar gelees, en opnuut onder die indruk gekom van hóé goed Van Heerden op sy beste was; en tot watter mate hy steeds – en dalk toenemend – ‘n onregverdig afgeskeepte stem in die Afrikaanse letterkunde is. Heelparty van sy bundels is immers nie meer in druk nie, en sover my wete strek is ‘n versamelde werke, of selfs net ‘n keur uit sy voltooide oeuvre, nog nooit gepubliseer nie.
Ernst van Heerden was, soos Hennie Aucamp, Johann de Lange en Joan Hambidge na hom (om enkeles te noem), ‘n verteenwoordiger van ‘n soort ‘estetisisme’ in die Afrikaanse poësie. Ek verwys hiermee na digters (en skrywers) wat die estetiese (eenvoudig gestel: uitgebreide verwysings na die letterkunde en ander kunsvorme) as temas en onderwerpe in hulle werk ontgin – of eerder, by wie hierdie soort poëtiese ontginning en omploeging van ‘n estetiese verwsyingsraamwerk ‘n (of dalk díé) sleutelkomponent is in hulle digterskap.
Daar is natuurlik belangrike verskille in hoe liggaamlikheid en seksualiteit (byvoorbeeld) by Van Heerden en De Lange onderskeidelik uitgebeeld word; of hoe Van Heerden en die meer postmodernistiese Hambidge onderskeidelik met kulturele verwysings omgaan. Nogtans dink ek hierdie latere digters behoort, wat hulle posisie in die Afrikaanse literatuur (en die verskillende tradisies en tendense wat dit kenmerk) betref, met Ernst van Heerden in gedagte gelees word.
Van Heerden se oeuvre inkorporeer al sedert sy heel eerste bundel ‘n uitgebreide estetiese verwysingsraamwerk. Sy oeuvre is ryk aan verse oor digters, die skilderkuns en, wat my veral aanspreek, musiek. As jy gedigte soos ‘Symphonie Pathétique’, ‘Prélude à l’après-midi d’un faune’, ‘Nocturne’ en ‘Chopin’ lees (en daar is vele meer), is dit baie duidelik dat Van Heerden ‘n indringende kennis van en groot liefde vir die musiek moes gehad het.
Een van sy latere en beste gedigte oor die musiek is te vinde in my gunsteling Van Heerden-bundel, Amulet teen die vuur (ek sal by ‘n later geleentheid iets skryf oor hierdie bundel, wat ek tans weer aan die lees is). Die gedig is ‘Paul Wittgenstein’. Wittgenstein (broer van die beroemde filosoof met dieselfde van) was ‘n bekende vroeë twintigste-eeuse pianis. Hy het sy regterarm verloor in die Eerste Wêreldoorlog, en was dus, soos Van Heerden, ‘n ‘geamputeerde’ (Van Heerden het beide sy bene in die 1970s verloor).
Na afloop van die oorlog het etlike komponiste werke ‘vir die linkerhand’ gekomponeer, wat dit moontlik gemaak het vir Wittgenstein om sy loopbaan as konsertpianis voort te sit. In Van Heerden se gedig is dit Maurice Ravel se ‘Klavierkonsert vir die linkerhand’ wat ter sprake is. Op briljante wyse versoen Van Heerden die tema van die geamputeerde ledemaat met ‘n hoogs evokatiewe uitbeelding van die stuwing, ritme, toonaard en kleur van daardie musiekstuk.
Paul Wittgenstein
Klavierkonsert vir die linkerhand (Ravel)
Wanneer ‘n ongevulde regtermou
die snyerslanfer onderstreep
en skielik aandag opeis,
bedaar geroesemoes;
algaande minder soberend
deur wilder sproeisels heen,
word tarantella-vuur gestook,
‘n teistering, ‘n woede opgewek;
wanneer weemoed en bravour
hul eie bane uitstip,
word deur gekerm en gesnater
‘n waterval van ánder kleur gebou
en vredes sprokkelwys opeengehoop.
Wilgers ruis in kontrapunt
en seë slaan ‘n hele klankbord los,
terwyl ‘n volle somer
aan die son se tepel suig.
Triomf en dawering!
Die mou buig saam
voor ‘n dubbelhandige applous.
Thursday, February 4th, 2010
 The Rest is Noise
Ek het laasjaar baie boeke gelees, en dit sou sekerlik onmoontlik wees om te sê: hierdie een was die beste, of: daardie een het ek die meeste geniet. Maar tog dink ek die boek wat die mees onmiddelike, en dalk selfs meetbare impak op my gehad het, was Alex Ross se The Rest is Noise: Listening to the Twentieth Century.
Ross se boek is ‘n meesleurende inleiding tot twintigste-eeuse kunsmusiek (of ‘klassieke’ musiek, soos dit in die volksmond bekend staan, al gee Ross ook by tye aandag aan jazz en progressiewe rock) en behoort regtig deur almal gelees te word wat in die musiek, of sommer net die kunste in die algemeen, belangstel. Dit is deeglik, intelligent en inspirerend – sonder om onnodig in musikologiese vaktaal te verval.
Wanneer ek sê The Rest is Noise het ‘n ‘meetbare’ invloed op my gehad, verwys ek na die drastiese groei van my CD-versameling die afgelope jaar – en, natuurlik, na die inverse effek wat daardie groei op my spaarrekening gehad het! Danksy Ross loop my musiekervaring nie meer dood by die vroeë twintigste-eeuse reuse Debussy en Stravinski nie, maar het ek ook komponiste soos Britten, Ligeti, Messiaen en Adés ontdek. Dit was en bly ‘n avontuur wat ek nie eers vir ‘n gerehabiliteerde spaarrekening sou verruil nie!
Ross, musiekresensent by die New Yorker, het ‘n uitsonderlike vermoë om musiek evokatief en sonder onnodige musikologiese kompleksiteit onder woorde te bring. Sy musiekbeskrywings is trouens by tye bykans ‘n literêre belewenis, en dit laat die oor hunker na onontdekte, dikwels vreemde klanke. Sy kennis van die twintigste-eeuse musiek is ensiklopedies, maar meer indrukwekkend selfs is sy vermoë om daardie musiek in etstetiese, maatskaplike en politieke kontekste te situeer.
Die biografiese gedeeltes oor spesifieke komponiste, soos Sibelius, Britten en Sjostakowitsj, is ook uitstekend: eerlik, ewewigtig en vol begrip. Gaan lees maar sy hantering van die komplekse kat-en-muis verhouding tussen Stalin en Sjostakowitsj, of van Benjamin Britten se beweerde seksuele betrokkenheid by jong seuns. En dan is daar die menige brokkies prettige skinder, soos Stravinski se buite-egtelike verhouding met Coco Chanel, of Schoenberg se pogings om groot geld te maak in Hollywood…
Heelparty vroeë twintigste-eeuse komponiste is natuurlik vandag huishoudelike name: Mahler, Strauss, Stravinski, Debussy, Prokofiev, Sjostakovitsj, en ander. Meer onlangse komponiste is egter die stiefkinders van die globale kultuurindustrie. Ross se boek is dan ook ‘n uitstekende inleiding tot fassinerende hedendaagse komponiste, soos die Amerikaners Steve Reich en John Adams, of die jong Brit, Thomas Adés. Laat ek dit so stel: Ross maak dit duidelik dat daar meer huidige komponiste is om te ontdek as die alomteenwoordige Arvo Pärt en Henryk Gorecki.
Ek kan hierdie boek nie sterk genoeg aanbeveel nie. Dit is ‘n reisgids vir diegene wat die landskappe van die twintigste-eeuse kunsmusiek nog moet ontdek, maar sal ook groot genot verskaf aan reeds ingelyfdes. Jy sal Ross se musiekbeskrywings en soms eiesinnige oordele met jou eie ervaring en kennis kan vergelyk.
Self het ek die boek soos ‘n roman verslind, en gebruik dit sedertdien as ‘n gids wanneer ek nuwe musiek eksploreer.
Monday, February 1st, 2010
 Ernst van Heerden
Ek het nie besef, toe dit begin gebeur het, dat ek tot die digkuns verlei word nie… As ek het, het ek dalk beter weerstand gebied!
Maar nee, ek was jonk, ek was weerloos, en ek het nie van beter geweet nie.
Dit het alles met musiek begin – eers (in chronologies orde) Anton Goosen, David Kramer, en Bruce Springsteen; en toe, deur hulle toedoen, Bob Dylan, Jim Morrison, Leonard Cohen en ‘n rits ander troebadoere – en al te gou het dit gelei tot gesteelde uurtjies in die dorpsbiblioteek, ‘n stadig groeiende persoonlike versameling digbundels, en, natuurlik, die skryf van selfbewuste gediggies op bladsye wat ek versigtig uit my skool-skryfboeke geskeur het…
Oor hierdie klas vergrype het ek natuurlik aanvanklik maar by die skool en op rugbytoere geswyg – ‘n mens kon spog dat jy U2 se nogals poëtiese The Joshua Tree besit het, maar nie juis dat jy Ernst van Heerden se Amulet teen die vuur op uitverkoping by die CNA aangeskaf het nie… ongeag hoe bitter gelukkig daardie aanwins jou ook al gemaak het!
Toe ek David Kramer, Anton Goosen en daarna Bruce Springsteen ontdek het (tydens my laaste jaar of twee op laerskool), was dit van meet af aan die lirieke, wat hierdie kunstenaars met blote Afrikaanse en Engelse woorde kon vermag, wat hulle vir my onderskei het van die popgroepe wat ek aanvanklik saam met die kudde na geluister het: Wham!, Duran Duran, Modern Talking, A-ha – ja-ja, wat kan ek sê, ek is ‘n kind van die 1980s!
Maar dat dit poësie was wat hierdie kunstenaars gepleeg het – dít het ek glad nie besef nie. Ek was ‘n niksvermoedende slagoffer! Popmusiek was toe wél gevaarlik, soos hulle op skool soms gewaarsku het, maar vir geheel en al ander redes: dit was ‘n soort Trojaanse Perd wat die poësie losgelaat het in my binnekamer; wat my verbeelding aangetas het en woorde vreemd gaan staan en maak het!
Dus, al ek het dit nie geweet nie, dit was ‘n klomp folksangers en rock ‘n rollers wat my verlei het tot die digkuns, nog lank voordat ek besef het gedigte, soos hokkie, klavierlesse en die debatsvereniging, is nie net vir bleeksiele nie. (Wel, ek moet bieg, ek is nou nog nie seker oor die debatsvereniging nie.)
Die saadjie was dus geplant, en al wat dit gekos het om dit te laat ontkiem, was daardie onafwendbare, onthutsende eerste ontmoeting met Breyten Breytenbach in Opperman se geel (as ek reg onthou) Verseboek in Standerd 6.
Ja, my storie begin ook, soos so baie Afrikaanse lesers van ‘n sekere ouderdom s’n, by BB en ‘n bietjie Krog; trouens, die eerste digbundels wat ek ooit vir myself gekoop het, was Breytenbach se Katastrofes (ja, dit is ‘n digbundel!) en Die huis van die dowe.
En tog was dit nie Breytenbach wat my die spreekwoordelike doodskoot gegee het nie. Dit was ‘n ander, miskien minder vanselfsprekende Afrikaanse digter wat seker gemaak het dat my aanvanklike belangstelling in die digkuns nie beperk sou bly tot ‘n tydelike kultus van persoonlikheid nie, maar sou lei tot ‘n langdurige belangstelling en liefde: die reeds genoemde Ernst van Heerden.
Ek weet nie meer presies hoe dit gebeur het nie, maar ek het ‘n versameling van sy eerste ses bundels in een band, Die kleur van donkerte, in die hande gekry en obsessief begin gelees. Ek weet nie presies wat die aantrekkingskrag was nie, maar Die kleur van donkerte het my as 14-jarige heeltemal onkant betrap. Skielik was ek nie net gefassineerd deur ‘n digter nie, maar deur gedigte en die skryfproses self. Skielik het ek besef woorde kan sing; en dat ek hulle dalk ook kan laat sing.
‘n Jaar of twee later het ek Amulet teen die vuur (ja, op uitverkoping) in die hande gekry… Ek het daardie bundel seker meer as enige ander bundel gelees, en probeer om daardie uitgesponne, filosofiese vrye vers-gedigte na te doen. Met min sukses, ongelukkig!
Ek lees nie juis meer die gedigte in Kleur van donkerte nie. Baie van hulle neig na die sentimentele, is dalk ietwat selfbewus verestetiseerd, of vertoon gewoon swak teen die beste verse wat Opperman, Van Wyk Louw, Eybers en ander op daardie stadium geproduseer het. Van Heerden het sy blywende bydrae (en dit is nie ‘n geringe bydrae nie) tot die Afrikaanse poësie, myns insiens, met sy latere bundels gelewer – rofweg, die bundels vanaf Tyd van verhuising.
Hoe ook al, Ernst van Heerden is steeds disproporsioneel verteenwoordig op my boekrak; sy digbundels en ook sy outobiografiese werke en reisverhale, was ‘n konstante teenwoordigheid gedurende my skooljare. En of ek dit nou lees of nie, Die kleur van donkerte, met sy nou reeds gebleikte blou omslag, staan trots tussen al die ander bundels wat ek sedertdien gekoop en gelees het.
Dit herinner my aan ‘n vroeë verleiding.
Friday, January 22nd, 2010
 Bob Dylan
Ek moet erken, hoe opgewonde ek ook al was oor die verskyning van Bob Dylan se outobiografiese Chronicles Vol. 1, het ek nie veel hoop gehad dat dit as ‘n boek sou slaag nie. Ek kon (en wou) myself nie indink dat hierdie inkennige, dikwels geheimsinnige, verkleurmannetjie van ‘n kunstenaar hom skuldig sou maak aan wat deesdae ‘n soort epidemie geword het nie: triviale en voortydige outobiografiese bieg- en spogboeke deur elke tweede popmusikant en sportster. En indien dan nie daardie soort boek nie, watter soort boek sou dit dan kon wees?
Wat ook al my verwagtinge was, Dylan het hulle almal hier oortref. Hierdie boek is baie dinge, maar triviale, selfdienstige portret is dit beslis nie. Dit is inderwaarheid geen lewensverhaal in die konvensionele sin van die woord nie, maar eerder ‘n reeks meditasies oor folkmusiek, die blues, kunstenaarskap, persoonlike en openbare identiteit, tradisie en moderniteit. Hierdie kronieke, soos hy hulle noem (dis die eerste volume – ons sal maar moet wag en sien hoeveel meer sal verskyn en wat hulle sal behels), fokus op enkele, maar deurslaggewende momente in ‘n lang loopbaan. Interessant genoeg is die momente, liedjies en albums waarby Dylan hier stilstaan redelik periferaal in sy groter oeuvre – ten minste, hulle blyk dit te wees, omdat mens die gewoonte het om die betekenis van ‘n kunstenaar se lewe en werk vanuit die perspektief van sy suksesse te verstaan; daardie kere wanneer hy in pas is met homself en die pas aangee vir ander.
Bob Dylan het natuurlik nie ‘n tekort aan sulke momente nie. Dit sou vir hom meer as maklik gewees het om etlike volumes te skryf oor sy musikale en literêre mylpale, sy verskillende hergeboortes, en sy onontkenbare kulturele impak op die tweede helfte van die twintigste eeu. Hy sou sekerlik sonder veel probleme die baie persoonlike mislukkings, swak albums, en oninspirerende konsertreekse kon ignoreer of as onbenullige episodes afmaak in ‘n integrerende en selfkanoniserende terugblik. En tog is sy preokkupasie hier juis met artistieke stryd, musikale mislukkings en identiteitskrisisse. Die toonaard van die boek – en dit is wat dit so ‘n fassinerende leeservaring maak – is enduit selfrelativerend, eerder as selfbevestigend.
 Chronicles.Bob Dylan
Die grootste gedeelte van die boek – die eerste twee en die laaste hoofstukke – fokus op sy verblyf in New York in die laat 1950s en vroeë 1960s. Hierdie is die tyd voor sy eerste opnames, voor hy begin liedjies skryf het (anders as wat mense dikwels dink, wou Dylan aanvanklik net ‘n sanger wees, en het hy geen behoefte gehad om te komponeer nie…), en voor hy op die naam Bob Dylan besluit het, ‘n besluit wat beide arbitrêr en finaal was:
“Bob Dylan looked and sounded better than Bob Allyn. The first time I was asked my name in the Twin Cities, I instinctively and automatically without thinking simply said: ‘Bob Dylan.’ (…) As far as Bobby Zimmerman goes, I’m going to give this to you straight and you can check it out. One of the earliest presidents of the San Bernardino Angels was Bobby Zimmerman, and he was killed in 1964 on the Bass Lake run. The muffler fell off his bike, he made a U-turn to retrieve it in front of the pack and was instantly killed. That person is gone. That was the end of him.” (p. 79)
Hierdie hoofstukke oor sy vroeë verblyf in New York, op ander se rusbanke en later in sy eie woonstel, is sonder twyfel ‘n kunswerk. Die ritme en toon van sy vertelling is enduit trefseker; hy beweeg seepglad tussen fyn waarnemings, ligte humor en elegiese beskrywings. Herinnering of verbeelding – maak dit regtig saak? Die intimiteit waarmee hy verlore landskappe en mense oproep en huldig kan nie ontken word nie:
“Across the way a guy in a leather jacket scooped frost off the windshield of a snow-packed black Mercury Montclair. Behind him, a priest in a purple cloak was slipping through an opened gate on his way to perform some sacred duty. Nearby, a bareheaded woman in boots tried to manage a laundry bag up the street. There were a million stories, just everyday New York things if you wanted to focus in on them.” (p. 32)
En die aweregse Dylan-humor bly ook nie agterweë nie:
“Once I put on Beethoven’s Pathetique Sonata – it was melodic, but then again, it sounded like a lot of burping and belching and other bodily functions. It was funny – sounded almost like a cartoon. Reading the record jacket, I learned that Beethoven had been a child prodigy and he’d been exploited by his father and that Beethoven distrusted all people for the rest of his life. Even so, it didn’t stop him from writing symphonies.” (p. 94)
Die middelgedeeltes van die boek bestaan uit twee hoofstukke, wat elkeen fokus op ‘n latere era in sy loopbaan en op die maak van ‘n album. Daar is interessante paralelle en verskille tussen die twee periodes wat hy kies om oor te skryf: die laat 1960s en die laat 1980s. In beide bevind hy homself in ‘n musikale, kreatiewe en emosionele doodloopstraat; en in beide probeer hy om in samewerking met ‘n ander kunstenaar iets te produseer. Maar waar hy in die laat 1960s probeer ontsnap van die verstikkende mediabeeld wat van hom geskep is, probeer hy twintig jaar later desperaat iets red van ‘n loopbaan wat stadig agteruit begin gaan en ‘n reputasie wat jaarliks verder vervaag.
Amper volledig vervreem van die populêre kultuur van die dag, getroud en met drie kinders, probeer Dylan in die laat 1960s vir homself artistieke en emosionele ruimte skep deur sy rug doelbewus te draai op die dikwels absurde voorstellings en verwagtinge wat deur die media van en vir hom geskep is:
“Whatever the counterculture was, I’d seen enough of it. I was sick of the way my lyrics had been extrapolated, their meanings subverted into polemics and that I had been anointed as the Big Bubba of Rebellion, High Priest of Protest, the Czar of Dissent, the Duke of Disobedience, Leader of the Freeloaders, Kaiser of Apostasy, Archbishop of Anarchy, the Big Cheese. What the hell are we talking about?” (p. 120)
Hy tree nie op by Woodstock en Altamont nie; om die waarheid te sê, vir etlike jare tree hy glad nie op nie. Hy maak ‘n ouderwetse album, Nashville Skyline – pure Country & Western, lirieke ver verwyderd van die poëtiese dringendheid van sy vroeëre werk, en sy stem byna onherkenbaar – en Self Portrait, sekerlik een van die mees doelbewuste pogings tot selfontluistering in die geskiedenis van populêre musiek. Op uitnodiging van die Amerikaanse digter Archibald MacLeish begin hy liedjies skryf vir een van MacLeish se toneelstukke, maar die projek eindig in mislukking. Die liedjies word uiteindelik gebruik vir die album New Morning (1970). Alhoewel dit goeie resensies kry, en inderdaad ‘n mooi album is, oordeel Dylan so daaroor: “To be sure, the album itself had no specific resonance to the shackles and bolts that were strapping the country down, nothing to threaten the status quo” (p. 141).
Maar hierdie huiwerende periode in sy loopbaan, wat sou duur tot die middel 1970s (Blood on the Tracks, die dikwels onderwaardeerde Desire en die later uitgereikte Live 1975 verteenwoordig die einde daarvan), is niks in vergelyking met die woestyn waarin hy homself in die laat 1980s bevind nie. Hy skryf so oor die windstilte in sy loopbaan op daardie stadium: “There were many reasons for this, reasons for the whiskey to have gone out of the bottle. Always prolific but never exact, too many distractions had turned my musical path into a jungle of vines” (p. 146). En selfs meer sinies: “Wherever I am, I’m a ’60s troubadour, a folk-rock relic, a wordsmith from bygone days, a fictitious head of state from a place nobody knows. I’m in the bottomless pit of cultural oblivion. You name it. I can’t shake it” (p. 147).
In ‘n poging om aan hierdie soort selfoordele te ontsnap, begin Dylan met Daniel Lanois werk aan die album Oh Mercy (1989). Die boek gee ‘n redelik volledige ontstaansgeskiedenis van die liedjies op hierdie album, asook ‘n oorsig van die opnames vir die album in New Orleans. Alhoewel Dylan deur die maande se werk aan Oh Mercy volgens sy eie getuienis weinig begrip het van waar die proses heen lei, en dikwels moed verloor in die samewerking met Lanois, verteenwoordig Oh Mercy uiteindelik ‘n meer suksesvolle samewerking as die een met MacLeish, asook ‘n eerliker, dieper betrokkenheid by homself en by die wêreld as wat die geval was met New Morning. “We did it as we damn well pleased and there was nothing more to say. When the record was all added up, I hoped it would meet head on with the realities of life” (p. 217). Dit is duidelik dat hierdie album, leemtes (waaroor hy baie eerlik is) ten spyt, vir hom ‘n besondere betekenis het.
Bob Dylan se Chronicles: Volume 1 is ‘n intieme, dikwels weerlose boek. Dit is gevul met roerende eerbetone aan die mense wat die jong Robert Zimmerman se aanvanklike, huiwerende treë in die musiekwêreld moontlik gemaak het. Dit is ook vol skerp, dikwels humoristiese, soms lakonieke pensketse van plekke, mense, boeke en musiek. Veral musiek – die ryke tradisies van Amerikaanse folk.
Maar ten spyte van hierdie intimiteit verval Dylan nie een keer in oordrewe ontboeseminge nie. Om die waarheid te sê: hy bly grootliks ‘n enigma. Soms dink jy jy kom nader aan die man as ooit tevore, maar hy verdwyn telkens soos rook. Jy sal, na die lees van hierdie boek, byvoorbeeld nie weet hoeveel keer hy getroud was nie, en wat sy vroue se name was nie. Uiteindelik is alles wat hy skryf ‘n rigtingwyser na die musiek; na sy eie musiek, en ook na die musiek, die tradisies, die “invisible republic” (in die woorde van Greil Marcus) wat agter sy eie musiek lê. En dit is om hierdie rede dat jy hierdie boek moet lees.
(Ek het hierdie stukkie etlike jare gelede in Johann Rossouw se Die Vrye Afrikaan gepubliseer. Intussen bestaan daardie blad nie meer nie, en wag ons steeds vir Vol. 2 van Dylan se Chronicles…)
Thursday, January 21st, 2010
Ek probeer vanoggend orde skep op my hardeskyf toe ek op hierdie resensie, wat ek ‘n paar maande gelede vir Die Burger geskryf het, afkom. Dit handel oor Tweede Refleksie: ‘n Keur uit die Denke van Johan Degenaar, saamgestel en ingelei deur WL van der Merwe en P Duvenhage (SUN PReSS, 2008).
Degenaar is so ‘n belangrike denker - ook in die konteks van die Afrikaanse digkuns - dat ek sekerlik verskoon sal word as ek ‘n weergawe van die resensie hier ook plaas. Ek hoop dit moedig een of twee mense aan om hierdie belangrike publikasie te koop! Ek is seker dit is beskikbaar by Protea.
*
Met hierdie bundel uitgesoekte essays en artikels deur Johan Degenaar het die samestellers, W.L. van der Merwe en Pieter Duvenhage, nie net aan Degenaar nie, maar aan die Afrikaanse kultuurlewe as sodanig, ‘n besondere guns bewys.
Geen van hierdie bekende en invloedryke Suid-Afrikaanse filosoof se boeke is na my wete meer in druk nie, en sy menige korter stukke lê oor verskillende publikasies versprei, meestal slegs bekombaar vir diegene met toegang tot ‘n universiteitsbiblioteek.
Dit is niks minder as ‘n tragedie nie, veral in ‘n taal waar vervlietende versamelings rubrieke en ander meningstukke instaan vir meer duursame filosofiese boeke en ernstige essaybundels. ‘n Mens kan die aantal Afrikaanse boeke oor die laaste dekade wat filosofies betekenisvol is, of aanspraak kan maak op die benaming van literêre essays, op een hand tel.
So ‘n stand van sake moet ‘n impak hê op die peil van openbare diskoers. Wanneer denkers van Degenaar se formaat toegelaat word om uit druk te gaan, eintlik bloot om finansiële redes, kry ‘n kultuur alte maklik katarakte, en kort voor lank wil al wat Eenoog is koning word in die land van die blindes.
Degenaar se denke is wydlopend en deurtastend. Maar hy beliggaam ook ‘n denkstyl. Sy kritiese vraagstelling is onverskrokke maar nooit skril of dogmaties nie. Hy is demokraties in politieke oortuiging, maar ook in die manier waarop hy intellektueel met tekste en gespreksgenote omgaan, soos goed gedemonstreer in die onderhoud met Degenaar (deur Duvenhage gevoer) wat ook by die bundel ingesluit is.
Die samestellers het ‘n goeie keuse van tekste versamel en sinvol ingedeel onder die onderwerpe filosofie, religie, kuns en politiek. Hoogtepunte is essays oor sprokies, die mite van nasieskap, en die betekenis van pyn. Maar daar is baie ander wat op verskillende maniere boeiend en fassinerend is. Heelwat van die werk, selfs die politieke essays oor nasionalisme en pluralisme, is vandag steeds net so relevant as toe hulle geskryf is.
Ek het een punt van kritiek. Dit is jammer dat die samestellers geen van Degenaar se filmanalises hier ingesluit het nie. In hierdie opsig is hulle lys van Degenaar se publikasies klaarblyklik ook nie volledig nie. Ek herinner my ten minste twee analises wat in die vroeë 1990s in Die Burger gepubliseer is, oor ‘The silence of the lambs’ en ‘The crying game’ onderskeidelik, maar nie in die publikasielys voorkom nie. Hulle insluiting hier sou ‘n belangrike dimensie van Degenaar se intellektuele nalatenskap toegelig het.
Maar ten spyte hiervan is dit ‘n uitstekende bundel opstelle, en die samestellers en uitgewer verdien lof vir wat hulle vermag het.
|
|