Gisela Ullyatt

Gisela Ullyatt. Twaalf gedigte, wolke & ’n roadtrip.

Monday, April 17th, 2017

Teks en foto’s: Gisela Ullyatt © 2017.

 

 

#1

duskant Jamestown:

windstil van binne

met bouvallige wolke.

#1

 

#2

in veerwolke droom ek

jou

en in Jan Blohm

se stille runaway

 

#2

 

#3

hou nooit stil

by die Sarie Marais nie

dalk net té perskepienk

of dalk was die dag

bloot beige

 

#3

 

#4

in Smithfield draai

ek die radio af.

stilte, onbeperk.

 

#4

 

#5

ek het jou naam

in die wind ontsyfer,

in die newelkleur

van wolke.

#5

 

#6

ek vertrou nie meer

gerugte van reën nie,

nog minder

in donderwolkprofete.

die hemel help ons nie:

die wit verf van wolke

sterf uit en iewers

roep woestynvaders.

 

#6

 

#7

naby Colesberg

trek ek vlieswolke na,

klank ek jou naam

in blou.

#7

 

#8

in segmente van klank

ruk-en-rol

die wind

en pynstillend

die wolke.

#8

 

#9

in karoo-gevlekte lug

ruik ek jou

en jy is die kleur

van onbeperkte lig

#9

 

#10

onder die Genl. Hertzogbrug

treur die Oranjerivier;

in Aliwal-Noord se Wimpy

skryf ek fragmente

op koerantpapier.

#10

 

 

#11

by die stop/go

is jou naam

slegs ’n nagedagte

in gruis.

 

#11

 

#12

iewers is die bome ewig,

iewers die lig fetaal.

#12

Gisela Ullyatt. “Verward, jonk en rigtingloos”: revolusie of anti-visie?

Tuesday, March 21st, 2017

Is daar enigiets vir ons oor?

tyd raak min en ek weet

ek gaan moontlik nooit die antwoord hê nie

                                       Francois van Coke: “Moontlik nooit”

 

Geruime tyd hoor en sien ons ’n revolusie uitspeel op die planke van universiteite. #feesmustfall, #openstellenbosch, et al. ’n Hashtag-generasie. Terwyl daar oor mikrofone gebulder word, word selfies geneem; neon-pienk lippe pruil op fb-tydlyne. Jy moet immers cool lyk vir die revolusie. Alhoewel die voorbokke in politieke insignia galoppeer, is die tekkies steeds ’n brand; die jeans super-styf. Dit is ’n warm vryery tussen Sosialisme en Kapitalisme.

 

Tog is studente-protes nie ’n nuwe konsep nie. Een van die deurlopende temas van Milan Kundera se Unbearable Lightness of Being (1984) is die 1968 studente-revolusie in Praag, oftewel die Praagse Lente. Die wêreldliteratuur het talle voorbeelde van dié indertydse revolusie wat ook plaasgevind het in groot dele van Europa, byvoorbeeld Parys.

 

Nog ’n voorbeeld van studente-protes is dié teen die VSA se betrokkenheid in Viëtnam in die 1960’s en 1970’s.

Kent State University, Ohio

Kent State University in Ohio is ’n voorbeeld van hoe protes gruwelooslik skeef kan trek. Neil Young, toe nog ’n jong musikant, het feitlik onmiddellik die volgende lirieke geskryf nadat hy berigte oor die nuus gesien het. 4 Mei 1970 sou nooit weer net nóg ’n datum in die geskiedenis wees nie. Crosby, Stills, Nash & Young se opname hiervan volg op 21 Mei van dieselfde jaar:

Neil Young

Tin soldiers and Nixon coming,

We’re finally on our own.

This summer I hear the drumming,

Four dead in Ohio.

 

Gotta get down to it

Soldiers are cutting us down

Should have been done long ago.

what if you knew her

and found her dead on the ground

How can you run when you know?

 

4 Mei 1970 is begroet met ’n landswye staking van oor die vier miljoen studente: honderde kolleges, universiteite en selfs hoërskole is gesluit tydens hierdie tydperk. Publieke opinie het op groot skaal begin skuif: Nixon se leuens het stadig begin uitlek.

Instellings is egter nie op die lange duur lamgelê deur studente-stakings nie. Lesings moes voortgaan.

Elke nuwe generasie voel dat hulle ’n nuwe hond het om te skop en dat hierdie skoppe die wêreld gaan omskep in ’n Beloofde Land.

En so moet dit ook wees. Die wêreld moet verander. Onregverdige gesag moet uitgedaag word. Die Kerkorrel-generasie het teen nasionale diensplig en PW Botha se militêre regime in opstand gekom. Die status quo moes val en hét.

Wat egter opmerklik is, is die anti-intellektualisme waarmee die nuwe geslag (lees born-frees) die revolusie aanpak. Slordige SMS’e word na studente uitgestuur wat wemel van spelfoute en logiese denkfoute. Laasgenoemde word gedreig en geviktimiseer as hulle nie aan hierdie revolusie deelneem nie. Die deurlopende sub-teks is geskoei op vervelige herhalings en slagspreuke wat herkou word. Gesag word nie net uitgedaag nie, maar vertrap. Die beweging begin daagliks meer beweeg na ’n militêre junta. Daar wil nié onderhandel word nie; daar wil slegs bevéél word. Dis ’n gekeuwel, gebulk; kortom, ’n uitgerekte vertoon van jong mag.

Foto: Gisela Ullyatt. 2017.

Dosente word uit hulle klasse gejaag en gedreig as hulle durf voortgaan. Toetse word gegryp en opgeskeur en talle dosente moes presensielyste wegsteek want die junta wil die name hê van die ‘verraaiers’ wat durf klas draf of toets skryf. Heiligskennis word gepleeg as jy in jou studies belangstel. Klasnotas word na verwys as ‘pamphlets’. Ja, dosente, die notas wat julle pleeg is gelykstaande aan ’n Bradlows-pamfletjie. Dit het ’n no name-brand geword.

Ek moes gister so onopsigtelik as moontlik my ‘pamphlets’ uitdeel aan ’n klein groepie studentemeisies wat opsigtelik angsbevange was. Kort voor lank het twee bully boys die meisies buite ingewag en wysvingers is rondgeswaai. Een het ’n duur selfoon uitgehaal en die ‘skuldiges’ afgeneem. Ek kon nie die sekuriteit in kennis stel nie, omdat die junta dié lok met beloftes van “insourcing”. Daar word openlik gegrynslag as jy vra om die lesinglokaal oop te sluit. Daar is reguit aan my gesê dat hul opdrag is om nie klasse oop te sluit nie, direk deurgegee deur studenteleiers. Dit terwyl dosente direk deur topbestuur opdrag gegee word  om vir klasse op te daag en dat semestertoetse sal voortgaan. Akademici sit daagliks vasgevang tussen twee ‘waarhede’: ’n niemandsland. ’n Waiting for Godot.

 

Ek besit niks nie

Ek het niks om by die geselskap by te dra nie

Ek weet nie

Als is by my gevat

Inspirasie sluip deur die strate in die middel van die nag

Ek soek die waarheid

Maar die waarheid stel nie belang in my nie

Gesê ek sou alles een keer probeer

Maar ek het honderd keer

Maak my stil

Gooi my uit

Laat my verdwyn

Ek soek die waarheid

Ek soek die weg

Ek soek die lewe

 

Ek vertrou nie maklik nie

Ek het te veel nuwe leuens gehoor

Ek glo dit nie maklik nie

Besluit self wat jy wil vat

Ek sal nie weer my laat onderbreek

Of in die rede val nie

(Francois van Coke: “Waarheid, Weg en Lewe)

 

Uiteraard soek die nuwe geslag na waarheid. Kanaän is aan hulle belowe. Hulle woede is te verstane. ’n Generasie soos Kerkorrel s’n ook: God sal aan jou kant wees as jy die terries vermorsel. Dit het egter nie gebeur nie. Jong mans is aan die vaderland geoffer. Sonneskyn en Chevrolet het ’n Donkerland geword:

 

en jy ken die agterstrate

van stellenbosch tot in waterkloof

en as windhoek se fasciste smile

kan jy die beste twostep dans

of jy in bellevue na die hawe vaar

of in amsterdam verdwaal

dis oral nog banaal genoeg

om revolusie te verstaan

 

ja die sakemanne vra nog wyn

en betaal met ’n visakaart

en die joernaliste vra hier rond

grawe dooie bene oop

(hou nooit op nie)

en die gasvrou op haar TV-skou

vra haar laaste stomme vraag

en ek sit hier en sien die sin

om revolusie te versin

[…]

hulle dans nou in die strate

dis ons tyd in Afrika

ministers vlieg in boeings weg

en ons staan hier verstom […]

(Johannes Kerkorrel: Bloudruk)

Bloudruk

 

Kerkorrel en sy generasie het egter hulle moerigheid met die status quo met ’n mengsel van intellek en toeganklikheid vir die jonges van dae gebied. Daar is geboogie op “Sit dit af” en “BMW” maar daar is ook geredeneer; identiteit is bevraagteken; ou paradigmas is aan die kaak gestel. Die ‘revolusie’ het nie nodig gehad om jonges te dreig om deel te neem nie. Die lirieke, drif en boogie-woogie het vanself oortuig. Nuwe generasies soos Karen Zoid, fokofpolisiekar en ander kon voortbou op die Kerkorrels en Kombuise. Daar was dus ’n narratief wat voortgesit kon word. Maar, terselfdertyd het die narratief nie net ‘vertel’ nie (telling) maar ook ‘gewys’ (showing).

 

’n Protes-narratief wat benoud raak, wat homself vasdraai in sy eie jeremiades, kan nooit iets anders as ’n telling bly nie. Jy moet jouself in volwasse geselskap kan handhaaf. Dit beteken nié dat jy alles moet aanvaar nie. Dit beteken wel dat jy sloppy thinking halt sal moet roep om die weg oop te baan na ’n kragmeting tussen die ou en nuwe status quo. Jy kan egter nie die ou status quo op die vloer laat sit soos stoute kleuters terwyl jy ’n tantrum gooi en op die tafels toyi-toyi nie. Dit help nie om dieselfde ou slagspreuke rond te slinger nie; niemand wil meer daarna luister nie. Dié het ironies genoeg verpiep geraak, al word dit uitgebulder op mikrofone wat kringfluit.

 

Intussen is hierdie generasie studente vinnig besig om nog ’n verlore generasie te word. Hierdie jongmense het nie ’n stewige basis om hulleself internasionaal te handhaaf nie. Jy moet immers kruip voor jy kan loop of hardloop. Anders gaan jou knieë nerf-af wees op ’n gereelde basis.

Die vraag is: kan hierdie generasie werklike leierskap voortbring? Waar is die Gandhi’s, die Martin Luther Kings, die Neil Youngs, die Kerkorrels; die fokofpolisiekarre? Ek ken  weinig studente in die revolusie wat Marx se Das Kapital deurgelees het of die Communist Manifesto in hul slaap kan opsê. Weinig stel belang in gender-teorie (of die toepassing daarvan in die praktyk. Meisies word steeds as goods and chattle gesien) of in die tydlyn van wêreldgeskiedenis, albei belangrike bakens vir die jong revolusionêr. Hoe verander jy die ‘prevailing narrative’ as jy nie weet wát dit is nie?

Of is die born frees te “verward, jonk en rigtingloos”?

 

Ek’s gebore aan die Ooste-rand

In ’n straat wat net soos ander lyk

in die kerkbanke grootgeword

Anders as jy

Vir ewig in ’n ry gestaan

Verward, jonk en rigtingloos

Alles aan toeval oorgelaat

Nes jy

 

Mekaar gevind onder neonlig

Liggelowiges

Verblind

Verbind

(Francois van Coke: “Neonlig”)

Francois van Coke

 

Is die studente-revolusie wat ons tans mee te make het, werklik ’n revolusie? Of is dit net nóg ’n regime-in-the-making, ’n papegaai wat ‘bedroë die koggel kry”? Aldus David Cooper, die bekende eksistensiële psigiater (1968):

If we persist with the theme of transformation of our institutions into revolutionary centres of consciousness, we have to be clear about why more has not been achieved by what we have already done in this way. The most immediate answer is that we have become victims of a very old colonizing technique – the technique of divide and rule.

Ek berus by Stokely Carmichael (1967, soos aangehaal in Cooper:1968), wat onder andere leier van die Student NonViolent Coordinating Committee was:

I want to start off with definitions by using a quote from one of my favourite books, which is Alice in Wonderland, by Lewis Carroll. In the book there’s a debate between Humpty Dumpty and Alice around the question of definitions. It goes like this – ‘When I use a word,’ Humpty Dumpty said, in a rather scornful tone, ‘It means just what I choose it to mean. Neither more nor less.’

‘The question is,’ said Alice, ‘whether you can make words mean so many different things’.

‘The question is’, said Humpty Dumpty, ‘Who is to be master. That is all.’

Now, I think that Lewis Carrol is correct. Those who can define, are the masters.

 

BIBLIOGRAFIE

 

Cooper, D. (ed). 1968. The dialectics of liberation. Harmonsworth, Middlesex: Penguin.

Kerkorrel, J. 1992. Bloudruk. Tusk Music.

Van Coke, F. 2015. Francois Van Coke. Supra Familias.

Young, N. 1970. Massey Hall 1971. Reprise Records.

Gisela Ullyatt. Om te verhuis.

Wednesday, December 14th, 2016
Foto: Gisela Ullyatt. 2016.

Foto: Gisela Ullyatt. 2016.

Met Hildegard von Bingen in die agtergrond, lees ek die afgelope jaar se dagboekinskrywings. Laasgenoemde beslaan veel minder bladsye as gewoonlik: 2016 was ’n jaar waarin ek vir lang tye niks neergepen het nie.

Ek onthou vanjaar eerder as ’n jaar van groot veranderinge. Die grootste hiervan was ’n Groot Trek; die keer na ’n ander provinsie. Om jou lewe uit te sorteer en weereens in bokse te pak, is soms net te veel. Drie trekke in vier jaar.

 

Kyrie eleison

Christe eleison

Kyrie eleison

 

’n Hele buitekamer vol boekbokse moes ternouernood aangespreek word. Wonderlike boeke moes van afskeid geneem word. ’n Egpaar wat tweedehandse boeke opkoop, verneuk ons: vragte boeke word in goeder trou aan hulle toevertrou omdat die trek baie vinnig moes plaasvind. Hulle sou na elk van die boeke kyk en dan ’n regverdige prys saamstel. Ondermeer was daar ’n hele versameling Herman Charles Bosman. Twee bakkievragte boeke word weggery waarna net R300-00 in ons rekening inbetaal word.

Stillewe met Boeddha & boeke.

Stillewe met Boeddha & boeke.

 

Boonop word van ons breekgoed onherstelbaar beskadig. Vier Boeddhas lê aan skerwe. Van die erfporselein en glase: toetentaal verbrysel. Kosbare boeke se voorblaaie word argeloos ingepak en sodoende lelik gebuig. Ek sluk langtand aan die les: tog wys die Boeddha immers daarop dat alles sal vergaan: Impermanence. Maar daar is dae wat die les nié in my hart wil gaan lê nie. Die chaos van bokse, steeds-toegedraaide skilderye en ander hope los goed se chaos sif deur tot in my DNA.

Daarom skryf ek byna niks hiervan neer in my dagboek nie. Wat ek wel op afkom in hierdie einste boek, is twee gedigte van Ernst van Heerden uit Tyd van Verhuising wat ek met die hand oorgeskryf het:

 

Ernst van Heerden

Ernst van Heerden

 

Aan die verhuisingsmanne

Dra saggies, vriende,

want sierpotte en erdewerk,

keurborde en fyn glas

sluit ’n lewe

met sy drome

en verlangens in;

 

Dra saggies, mededraers,

want die drag

van veerbed,

tafels, lessenaar

druk teen die bors

se dun skelet;

 

Dra saggies, regters,

want die oordeel

oor my klein bedryf

lê vasgevang

in prente, boeke

en ’n eie ou gemakstoel;

 

Dra saggies, gode,

want die hart se porselein

is broos en tot veel seer

en kwesbaarheid geneig:

die kratte van ’n lewe

kan so maklik breek.

 

 

Verandering

In die donker orde van my huis

voel ek die aardepols verflou,

word ek met sinlose weerspannigheid

deur elk ding verwyt:

 

’n deur wat eie knip ontwyk,

’n kas wat weier om te sluit,

tapyte met ingeweefde struikelblok,

hoë trappe sonder styggerief,

dieselfde spookgesig

in elke spieël se blits;

 

bedags deur vensterruite

die wit vlam van die son se gietery:

’n tuin-vermoede van

’n hele boord tot één boom vasgesweis;

 

en saans by skryflig

die lamp

wat soos ’n knie skarnier.

 

 

Nog ’n bundel wat ek herhaaldelik na toe teruggekeer het hierdie jaar, is Olga Kirsch se Oorwinteraars in die Vreemde. Alhoewel ek gelukkig nie die ongetemperde isolasie van die émigré ken nie, resoneer ek steeds met veral die gedigte wat Kirsch-as-huurder in die vreemde oopskryf. En alhoewel die huis wat ons huur ons eie besittings bevat, ken ek die voorafgaande maande se tydelike verblyf waar jy jou tentpenne elke keer uit die grond moet trek met net die nodigste in plastieksakke en tasse.

 

Foto: Gisela Ullyatt.2016.

Foto: Gisela Ullyatt.2016.

 

 

Huurders

’n Onbekende vrou se ruim, stil huis.

Haar plante wat teen die ruite ligwaarts krul.

Alles waarin sy haar lewenslank omhul

het totdat haar gees hom veilig tuis

weet, om my. Binne dié mure is skoon

gelewe; niks steur die edele patroon,

alles hoort saam. Ek hou die kamers skoon

en, hande eerbiedig op meubels en kleinode,

voel koester my haar vreedsame huisgode.

 

 

In dié gehuurde huis besit ek niks

In dié gehuurde huis besit ek niks

as net my klere. Alles waaraan ek raak

­­- kombuisgoed, meubels, gordyne – is volgens die smaak

van andere. Nogtans, omdat ek hom – fluks

na buie van lees en luiheid – skoongemaak

het, sodat die voordeur laatmiddag vir jou

verwelkomend kan oopswaai, omdat ek nou

voor sy ou rooshoutlessenaar ’n taak

wat ek bemin verrig, mooi briewe ontvang,

voor sy boogvenster kerf, sal ek hom onthou

–  lugtig, son-vrolik – dalk na hom terugverlang.

 

 

Van Heerden/negatief

Van Heerden/negatief

Vir Ernst

Dra saggies hierdie gedig

na die man

wat die gode se porselein

op papier kon breek:

geen mank ritmes

of verkapte strofes nie.

 

Eet saggies hierdie gedig

want die digter het

room geword

en ken die donker man

nie meer nie.

 

Kyk saggies na die digter

agter daardie bril:

die lewe is geen cliché nie.

 

(Gisela Ullyatt. 2016)

 

Bibiografie

 

Kirsch, O. 1978. Oorwinteraars in die vreemde. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Heerden, E. 1975. Tyd van verhuising. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gisela Ullyatt. Poet in the Mall: Pre-krismis blues.

Tuesday, December 13th, 2016
Foto: Gisela Ullyatt. 2015.

Foto: Gisela Ullyatt. 2015.

 

Teen die eerste week in Desember tref die post-jaar blues die uwe elke jaar. Vanjaar, natuurlik geen uitsondering nie.

Die faktore wat gewoonlik die post-jaar blues in post-jaar rage omskep kan soos volg opgesom word:

#Een: ’n Beklemmende gevoel dat ek met ’n kartonbordjie op straat gaan moet bedel. Ek hou van Kersgeskenke koop. Die plek waar ek werk glo nie in die konsep van ’n bonus nie. Dus lê ek nagte wakker oor my pennies en pondjies. Januarie strek voor my soos die Knersvlakte.

#Twee: Jy kan nêrens aandoen sonder om deur  Jollie Katrollies met hul plastiektrollies teen jou hakskeen of agterstewe gekap te word nie. Boeta en Sussa gil besete soos karakters uit Nightmare on Elmstreet. Mammie & Pappie baklei oor of hulle vir sy gomgat-pêlle booze gaan koop vir Kersfees. Terwyl hulle dan besluit om vir almal shooter glasies by Checkers te koop.

Daar is die tailgaters wat op jou kom staan as jy in rus en kalmte na produkte wil kyk. Sy rek en strek óór jou: dié tailgater voel jy vat veels te lank en dat jy haar persoonlik van haar moet-hê krismisprodukte ontneem. Since yesterday wou sy dit mos hê en boonop is daar die allergrootste gevaar dat die winkel gaan verdwyn – op die daad – voor sy haar cheap x-mas biscuits gekoop het. Uit pure spite vertoef jy langer voor die rak.

#Drie: Ja, die muzak. Boney M was altyd my antagonis. Of Pan Pipe Kersfeestreffers. Maar deesdae het muzak ’n gevaarlike nuwe vlak bereik: die Warbling Diva. Soos Maria Carey, of enige ander “chick” wat hul eie klankregister gevaarlik uitdaag. Daar is meer kinkels in die Warbling Diva se stem as ’n pas in Lesotho. Elke winkel, hoe klein of hoe enorm, voel dit hulle persoonlike plig om die Warblers op hul klanksisteem uit te toets. Op ’n afgryslike hoë volume. Kla help niks, want le manager sal jou net met sulke dooie vis-oë aankyk en sê: dis ’n firm favourite met ons ander customers. Waar dit veral pla, is in restaurante en koffieplekke. En ja, die ander customers geniet dit blykbaar, want hulle praat so hard en so baie dat hulle blykbaar die Warbling Diva nié hoor nie.

Dan ruk ek my maar op: Bogger die muffin. Die koffie. Die melkskommel. Die vis & tjips in ’n pan. En dankie, Meneer Manager van die Koffiewinkel Chain, liefs drink ek maar my tee en eet my koek by die huis.

poet-in-the-mall

Foto: Gisela Ullyatt. 2016.

Ed Bremson se Poet in the Mall (2010) bevat onder meer 180 haikoes wat hy oor verskeie malls geskryf het. Alhoewel hierdie haikoes nie spesifiek oor Kersfeestye in malls geskryf is nie, is daar steeds raakpunte. Reeds as student is Bremson deur sy dosente as die “Walt Whitman of the mall” gedoop vanweë sy mall-gedigte. Hy dra ook Poet in the Mall aan Federico Garcia Lorca op.

Nie al die haikoes in die bundel is tradisioneel wat vorm aanbetref nie, maar laat eerder die indruk van ’n kontemporêre haikoe-vorm. Bremson gebruik die Amerikaanse mall as vertrekpunt en metafoor wat gelykertyd interessant maar ook ’n obstruksie is vir lesers wat nie malls in die VSA ken nie:  jy gaan nie sommer Spaans in een van ons malls hoor nie; ons het nie “animal crackers” hier nie en die kans dat twee ou mans die Tweede Wêreldoorlog gaan “rehash” is na aan onmoontlik.

Interessant is die herhalende motiewe en beelde wat Bremson utiliseer, byvoorbeeld die morbidly obese Amerikaanse publiek:

on a fat woman’s shirt

the slogan, “just do it!”

do what? Eat a pie?

Nog ’n deurlopende motief is die identifikasie van mall shoppers deur middel van kleur of klas:

young redneck

whacks his girlfriend hard

on the butt

big black guy

in a chartreuse shirt

and a chartreuse cap

four black guys

making eyes

at two white girls

young black woman

walking arm in arm

with an old white woman

Sommige van die haikoes het ook ’n “fascination with the grotesque”:

woman at the mall

eats corn kernels off the cob

one at a time

girl in the shoe store

using her long hair

to floss her teeth

girls

at Brookstone

checking out the vibrators

Laastens maak Bremson ook mildelik gebruik van die paradoks, die mees geslaagde poëtiese strategie in Poet in the Mall:

Mexican woman

eating

Japanese food

September 24

shopping

at the Christmas store

woman

sitting alone

on a kiddie ride

old muslim woman

resting with her head covered

and shoes off

Vier faux haikoes tydens die laaste jaargety

 

1.

en oral faux sneeu

Kersvader se glittering balls

wat saam met beurtkrag flikker

2.

spur mugg & bean

kfc wimpy

gee, gee, gee

3.

swart vrydag

verreken in rooi

kredietkaart: hoerkind

4.

i wish you a stille nag

sonder #hastags of insta-

gram of ’n very merry xmas

 

(Gisela Ullyatt. 2016)

Bibliografie

Bremson, E. 2010. Poet in the Mall. 180 haiku + 21 poems. New York: iUniverse.

 

 

Gisela Ullyatt. Skryftafel-koans en ’n onverwagse kerktoring.

Tuesday, December 6th, 2016

 

Teks en foto's: Gisela Ullyatt. 2016.

Teks en foto’s: Gisela Ullyatt. 2016.

 

 

1.

1.

 

1.

Drink die Boeddha sans soet:

vergeet die skyn, volg

jou mandala van porselein.

2.

 

2.

The typewriter is holy.

#thetypewriterisholy

Is the typewriter holy?

 

3.

3.

 

3.

Die laaste droesem drink ek nooit:

koppie word kommetjie

wat uit my stilte sing.

4.

4.

4.

“Strelend, helend, antiseptiese kruiesalf”.

Eensame opsluiting ten spyt.

5.

5.

 

5.

Goedkoop swanesang

van die kantgordyn:

tog sal die lig bly skyn.

 

6.

6.

 

6.

Zen van die rooi pen:

markeer die niks.

Drink jou tee.

7.

7. Hermes Baby

 

7.

Die hart, ’n eensame tikmasjien:

Hermes Baby met geen boodskap aan die gode nie.

Laat ek hul dan maar eenmaal prys

want Odusseus ruik moer.

8.

8.

 

8.

Daar was ’n kerktoring

sonder duiwe maar met wolke en Whitman.

Iewers was daar son en eindelose drade:

I sing the body electric.

 

 

 

Gisela Ullyatt. Fragmente en ’n reis.

Sunday, November 13th, 2016
Foto’s en teks: G.Ullyatt

Foto’s en teks: G.Ullyatt. 2016

fragment-as-inleiding

die middag se long is broos,

verdraaide haikoe, verbreek:

ek bou sillabes teen lig

 

 

deur/van/vuur

1.deur/van/vuur

fragment #1

na-middag in blom:

tatoeëermerke van die son

teen deur en muur

 

2.vuur/en/glas

2.vuur/en/glas

fragment #2

teen badkamerruit

vlek die laatmiddag:

haikoe in vuur

onder in my glas

3.onder/ in /my glas

fragment #3

onder in my glas:

klein Verneukpan krakeluur

ry/want/die/nag

4.ry/want/die/nag

fragment #4

ry, want die nag kom nader

kruip uit stralekrans:

toevallige cliché

 

kragmas/as/wolke

5.kragmas/as/wolke

fragment #5

oker, wolke en kragmas:

onnaspeurbare sein,

die oneindige teer

dra/jou/wol/by/Laingsburg

6.dra/jou/wol/by/Laingsburg

fragment #6

dra jou wol by Laingsburg

verby gerugte van reën:

die Karoo-as-moordenaar

omtes/van/wellinngton

7.omtes/van/wellington

fragment #7

daar was garingbome

naby Swellendam

en ’n vlamrooi Ford

lanskap/as/telegraafpaal

8.landskap/as/telegraafpaal

 

geel/sper/die/streep

8.geel/sper/die/streep

fragment #8

padkaart van droogte

deur beige landskappe

karteer jy ’n matrys

van telegraafpale

sperstrepe

op die pad se grys

wees/geduldig

9.wees/geduldig

fragment #9

stop/go

meditasie in geel

so it goes

Gisela Ullyatt. Ballade van ’n tweedehandse bibliofiel.

Friday, February 19th, 2016

Boeddha en boeke

Die reuk van tweedehandse boekwinkels is onmiskenbaar: dié van muf en ou sigarette. Sommige word deurdrenk met die giftige geur van motbolle. Uit ander sypel ’n ongedefinieerde, suurderige klankie.

Dikwels sit daar ’n triest persoon agter die kasregister. Soos in die winkel-in-‘n-stegie wat ons gedurende ’n kort besoek aan ’n ander stad ontdek het. Ter wille van veiligheid is daar ’n deurklokkie om toegang tot dié ‘boeketronk’ te beperk. Geroeste burglar bars; ruite bespikkeld met ou vuil. Metaal-hard klik die veiligheidshek oop. Toegang op eie risiko.

Die plek ruik na nat mat en verlatenheid. Agter die toonbank staan ’n bejaarde dame (dalk chronologies nie só bejaard nie). Haar gesig is gevlek; haar mond ingeplooi soos dié van ’n skilpad. Bebrilde oë volg elke beweging.

Swak ventilasie: ’n waaiertjie hersirkuleer die benoude lug.

Ons begin van ’n punt af: bibliofiele is immers ou strydrosse wat (byna) enigiets sal trotseer. Spoedig het ons ’n hele stapeltjie bymekaar: Ernst van Heerden se Etikette op my koffer en Wolk van die mooi weer. Opperman se Naaldekoker en Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan. Etienne Leroux se Onse Hymie. Plus ’n paar interessante selfhelp-boeke in Engels. ’n Biografie of twee. Die FAK-sangbundel, derde druk: 1963.

Ons vorder fluks tot by die toonbank. Die dame kyk na elke boek voordat sy die pryse intik. Vra ons hoekom ons so baie van Afrikaanse boeke hou. Die meeste lesers is immers versot op Engels. ’n Paar gawe woorde later en haar ingetoënheid verander in ’n gebreekte damwal waardeur woorde spuit. Dis asof haar skouers minder hang.
Al meer as twintig jaar wat sy vir die eienaar van dié winkel werk.
My man grap dat dit meer na ’n vonnis klink. Haar oë word vogtig: Ja, seg sy.
Weinig customers oor die jare  het die moeite gedoen om na die storie van ’n old biddy soos sy te luister.  Soos haar man.

Dié is jare terug geboard. Stook glo soos ’n ou koolstoof. Sit-lê heeldag voor die tiewie. Sy jeremiades en rookasem kan sy nie meer verduur nie. Vyf-en-veertig jaar van haar lewe, gemors op ’n hypochondriac.
Maar wat, vra sy, is die alternatief?

Sy lyk verniel soos die winkel se weeskinders van papier.
Lankal uit druk. Moontlike waterskade. Gevreet deur silwermotte van die verlede.

Die tweedehandse dame is alleen. Sans assistent. Maar sy ken haar plig: om boeke uit bokse te pak, te sif, te organiseer. Daar is nie ’n boek in hierdie boekegrot wat nié deur haar onversorgde hande is nie.
Hier is sy die enigste doeane: sy ken elke immigrasie- en emigrasiewet van boeke op die punte van haar stomp vingers. Maar immers is die doeane niemand se vriend(in) nie.

***

Daar is ’n paar redes waarom ek die weeskinders onder boeke so bemin: elkeen is soos ’n outydse lucky packet. Jy weet nooit wat jy tussen die blaaie gaan ontdek nie: boekmerke, vergeelde resensies. Vergete briewe. Onderstreepte woorde wat eens iets vir die leser beteken het. Aantekeninge, notas; sommige netjies neergestip in potlood, ander vernielsugtig in blou of rooi ink.

Ek deel met lesers ’n paar voorbeelde van tweedehandse Afrikaanse digbundels en boeke oor poësie wat ek in die laaste jaar of wat ontdek het.

Wilhelm Knobel se Mure van mos (1970) is besonder goed opgepas en reukloos.

Wilhelm Knobel

Die eienaar was kennelik ’n musiekliefhebber: twee knipsels oor die komponis, Arnold van Wyk, die onderwerp van die reeds-bekroonde Nagmusiek deur Stephanus Muller. Die eerste knipsel dateer uit Die Volksblad van Saterdag, 20 Oktober 1979. Prys: 14c + 1 c belasting= dus ’n hele 15c. Die opskrif: “Roomse mis in ’n N.G. Kerk”. Van Wyk self is die outeur van hierdie artikel wat handel oor sy ‘Missa in illo tempore’ wat reeds in 1945 in ’n sketsboek deur dié komponis aangeteken is. Eendag hoop ek om genoeg te spaar om Muller se Nagmusiek aan te skaf.

Arnold v Wyk 2 Arnold v Wyk 3

Ook vind ek die agterkant van knipsels mateloos interessant. In hierdie geval is dit ’n veelbesproke boksgeveg tussen Gerrie Coetzee en John Tate wat ‘omstreeks 22h20 gebeeldsaai’ sou word. Voorgevegte: omstreeks 18h15: een van hulle tussen Kallie Knoetze en Randy Stephens van die VSA. Wie het uiteindelik geseëvier?

Boks paradoks

Knipsel 2 oor die Van Wyk-Mis is ongedateer en moontlik ook uit Die Volksblad geknip. Die joernalis/resensent was ene ‘D. de V’. In die resensie word dit aangedui dat die Mis in die NG Kerk Dalsig, Stellenbosch, uitgevoer is. Groot lof is Van Wyk toegesing.

Arnold v Wyk 1

Die eerste druk van Breyten Breytenbach se Kouevuur (1969) bevat ’n interessante knipsel (sommer ingegom).

Breyten 1

Dié kort resensie is in Engels deur ene ‘D.M.’ geskryf. Daar is egter geen aanduiding van die koerant nie (lesers is ongelukkig nie noodwendig navorsers nie). Die Engels klink plek-plek onaf: “Breyten Breytenbach lives today in Paris” […] “Even high up in the pressurized aircraft, he can feel the heat and smell the sweat”. En “Then the poet cries: ‘Africa, my Africa, the land which is God to me. You dare not remain just an abstract, not for me.” Sela.

Breyten 2

NP van Wyk Louw se Berigte te velde. Opstelle oor die idee van ’n Afrikaanse Nasionale Letterkunde (derde druk, 1971) het twee gefotostateerde gedigte: die een, “Hansie en Grietjie” en die ander, “Die slagoffer”.

Van Wyk Louw 1

Beide is gedigte van Eveleen Castelyn uit die bundel, Hemel en aarde. Verder blyk dit dat die persoon die tema wat deur beide gedigte aangespreek word, dalk persoonlik ervaar het en daarom die knipsels bewaar het. Of dalk was hulle bloot voorgeskrewe gedigte op universiteit.

Hansie en Grietjie

daar was eendag ’n woud
aan die kant van die son,
die maan is ’n flou olielamp,
saans brand honderde kersies,
die volgende môre word die kindertjies
afgelaai by die heks se huisie
hulle huil tot vanaand
na-vyf, na-werk kom die
stiefmammies en -pappies hulle haal
met ’n ysterswaan
die nuutste model blaas rook
en jaag oor riviere teer
tot by kelders parkering
dan word hulle opgehys
gebad en gevoer in ’n hok
moet hulle soet gaan slaap
eennag [sic?] het hansie en Grietjie
weggeloop, bo-oor die tralies geklim
en fyn en flenters geval
op die paadjies sement
ver van die huis af

Eveleen Casteleyn knipsel 2

Die slagoffer

Ma het toesig verkry oor my
volgens ’n hofbevel
op voorwaarde dat:

Pa my al om die ander naweek
kan kom haal en elke vakansie
moet ek by hom ook gaan kuier

hoekom haat hulle mekaar so dat
hulle my wil verskeur
en soos ’n pop
rondpluk aan my arms?
hulle verwyte steek
gate in my lyf
die semels loop uit
my maag voel hol
van verlange

my ma en my pa,
Mammie en Pappie,
Moeder en Vader
het my almal kwaadwillig verlaat

Eveleen Castelyn knipsel 1

Groot was my vreugde toe ek DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok by ’n boekmark opspoor.

Opperman 1

Talle potlood-aantekeninge kan in hierdie kopie gevind word, soos gesien in ‘Vreters van die Bossie’ (56).

Opperman 2

Sommige van die gekrabbel kon ek egter nie uitmaak nie. Ek haal die versreëls aan wat hier betrekking het en dui die dienooreenkomstige aantekeninge in hakies aan wat ek wel kon ontsyfer:

in die Donker Kolk [Marais] die swart serpentyn […]
en in die vreugde van die laterale lyn
die ongeordende, evangeliese walrus
preek [Erasmus Smit] […]
en wilder die goue kruier rol –
almal na die jonger nimf in blinker skubberok
wat haar treurlied tussen Drie Ankers sing [Ingrid Jonker]
in benede- en in bowetone
voor die opper- en die ondermane

Opperman 3

Eenkant wei afwykende amfibiane; [Van Wyk Louw]
diepseeskilpaaie deur lou waters […]
en die seeluis en slierdrelle
van die eerste kwalle uit die Dal, [Patrioters? (Sic?)]
[…] visse van die stok en spies, die glad en die glibberige [Peter Blum]
tong, die bekbroeiers en die horingslakkies
wat in vlakwaters vroetel
met die blaasoppies en muntelose meerminbeursies
oor die streep gespat. [die vier laaste reëls word genoteer as: ‘groepering homoseksuele digters’]

Opperman 4

Marié Blomerus se Fosforblom (1968) sluit ’n briefie tussen bladsye 54 en 55 in.

Marie Blomerus

Die gedig op eersgenoemde bladsy is ‘L’hirondelle’ wat ‘swaeltjie’ in Frans beteken:

Al die swawels is weg.
Soms haal ek een baie somers oud
wat soet soos water ruik
uit skemer sakke van my jurk
en blaas in sy neus
blaas in sy bek:
sy vleueltjies wil nie sprei
sy oë wil nie roer
hy sit
gebalsem in my hand.

Die briefie is hartseer en in ’n kinderlike handskrif. Dis gerig aan ‘Marie’, maar is nie Blomerus (Marié) nie, maar vermoedelik die vorige eienaar van die bundel, wat Mari sonder ’n ‘e’ gespel word voor in die bundel. Ek haal verbatim aan, sonder redigering van taal- en spelfoute:

Liewe Marie

Ek wil graag saam marie vakansie hou
speel in die kamer
met my asb
baie dakie
vir alles
baie dankie vir
die mooi
brief. Ek sal baie na marie vallang as marie
weggaan
ek sal eensaam
wees

maro marcelle

briefie 1briefie 2

’n Resensie oor I.L. de Villiers se Manna oor die duine (1974) word voor in die gelyknamige bundel gevind.

Izak de Villiers 1

Die eerste eienaar (1974) word aangedui as iemand wat woonagtig was in Strand waarna dit in 1995 aan ’n persoon in Stellenbosch behoort het. Die publikasie van die knipsel word nie aangedui nie, maar val onder die rubriekhoof ‘Boekbeskouing’. Die resensent word as JJM aangedui.

Izak de Villiers 3

Op die agterkant van die resensie is daar ’n interessante brief (’n leser?) van iemand genaamd GM Daneel van Pretoria; die opskrif: ‘Liefde vir swart medemense’. Wat sou die reaksie op so ’n ‘progressiewe’ brief wees?

Izak de Villiers 2

Antjie Krog se Otters in Bronslaai (1981) is in ’n goeie kondisie, behalwe vir die dele wat kwistig in blou ink genoteer en onderstreep is.

Krog 1

Dalk die swaar hand van ’n gefrustreerde student?

Krog 2

Die laaste voorbeeld van my tweedehandse boek-ervaring is geweldig sinchronisties. Ek en my gabba, Ilisna Nel, gaan verken een van die winkels in Bloemfontein. Ons steek vas by die Afrikaanse digbundels, meeste vir ‘n appel en ’n ei te koop. Ek soek vir haar twee bundels uit (maar sonder om binne-in te loer), een daarvan NP van Wyk Louw se Gestaltes en diere (1972-uitgawe).

Gestaltes en diere

Dieselfde aand kry ek ’n paar whatsapp’e van haar: ‘check bietjie wat kry ek binne-in …’
Die eerste gefotostateerde knipsel is deur ene G.T.:

Conception

At a time of such uncertain certainties
such certain uncertainties
– it’s dark in this room –
what do we know of the light beyond the windows –
of the morning which will come noisily tomorrow
using our face to call our name?
All you, for whom hurting
is synonymous with living –
I live.
I also live –
shielding my modest flame with my hand
as in a storm –
I open the door of the tomb
and go in …

Empie 1

Die tweede whatsapp lees: is hierdie digter familie van julle?

Three ways of Hearing a Solitary Bird
(for Diane)

Whispering of …
terribly far off…
my lady,
my love,
a solitary bird calls.

A solitary bird calls:
my lady my love
lady my love
my love my lady
love my lady
my lady my love
a solitary bird calls,
and I ride upon its song.

Across the empty desert lands,
a solitary bird sings,
a whisper on the wind terribly far,
and you are with me,
my lady,
my love.

Inderdaad ken ek toe die digter. A.G. Ullyatt oftewel Tony, my man. Dié gedig het verskyn in Unisa English Studies (1975). Soos menige digter voel hy dat hy hierdie ou gedig eenvoudig wil junk. Die foto wys die oorspronklike tipografie wat ongelukkig deur Word Press omgekrap is.

Empie 3

Toeval, sal party dit noem.
Vir ’n tweedehandse bibliofiel bestaan die woord ‘toeval’ nie.
Daarvoor is die kanse nét te skraal.

Bibliografie
Blomerus, M. 1968. Fosforblom. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Breytenbach, B. 1969. Kouevuur. Kaapstad: Buren.
De Villiers, I.L. 1974. Manna oor die duine. Kaapstad: Tafelberg.
Knobel, W. 1970. Mure van mos. Kaapstad: Human & Rousseau.
Krog. A. E. 1981. Otters in Bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau.
Louw, N.P. Van Wyk. 1939 (1971). Berigte te velde. Kaapstad: Tafelberg.
Louw, N.P. Van Wyk. 1942 (1972). Gestaltes en diere. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. 1979. Komas uit ’n bamboesstok. Kaapstad: Human & Rousseau.
Ullyatt, A.G. 1975. “Three ways of hearing a solitary bird”. Unisa English Studies, 13(1), 26.

Gisela Ullyatt. ‘Ek wil weer jou rooikors breek’: ontworteling in Klankmanwoordboom.

Tuesday, December 15th, 2015

‘Soul searching’. Meyer van Rensburg.

Deel drie van die Meyer van Rensburg-blog het die meganika van klank geëksploreer, deur die klankman/klankmenger/klankoperateur-motief:http://versindaba.co.za/2015/12/13/gisela-ullyatt-wanneer-die-klankman-begin-droom/

Klankmanwoordboom, sy debuutbundel (1983), verweef die wêreld van die klankman, die geskrewe woord, die soeke na die Woord en die boom-motief. Laasgenoemde is uitgestippel aan die hand van die klankboom wat terselfdertyd die Kruis-motief naspeur.

Die jukstaposisie van die kunsmatige omgewing van die klankateljee en die natuur wat neerslag vind in die digter se geboortewêreld, die Noord-Kaap, word tasbaar in die bundel. Deel vier ondersoek die land van herkoms (Suid-Afrika), die kontinent (Afrika) en die harde natuur (droogte, son) word verder verbind met die moedertaal (Afrikaans). Hierdie elemente roep die situasie van die expat op. Alhoewel Meyer eers later na Engeland geëmigreer het, word die bundel ’n profesie van nie net sy eie ontworteling nie, maar ook van duisende ander ontheemdes in die buiteland. Soos R.B. Jurgens tereg opmerk in As almal ver is (228):

You said, ‘I will go to another land, I will go to another sea.
Another city will be found, beter than this …
Kavafis, daardie groot eksponent van die ontwortelde siel.

Die bundelmotto aktiveer die stamboom van die Afrikaanse digkuns met ’n aanhaling uit ’n Peter Blum-gedig:

… Want wat is ons? ’n Boompie
Oop vir enige wind – vir enige meslem
Kerfbaar die bas; maar as die helderheid kom en
Jy dit gee, is daar skyn van lig op
Mense en dinge, hulle lewe is heerlik.

Verder verduidelik Meyer hoe die Blum-aanhaling met Klankmanwoordboom verband hou:

Ek het die lig gesoek in die mens in sy skeppende of digterlike aktiwiteite (veral in die eerste afdeling: Woord), sy behoeftes (esteties, intellektueel, seksueel en emosioneel) en ook in dinge. Dinge wat my omring het by die werk, die tegnologiese wêreld van klank en ook dinge uit my jeug as plaasseun in die Noord-Kaap […] Die Bybel sê: “Aan die begin was die Woord en die Woord was … en dit is waar ek begin het.

Stamboom

Die Klasie wat de waarheid zeggen
en met hogen hout willen schrijf soos ons praet,
die drieman klingel saam ’n passie
(Janfrederik soen sy Martjie)
en langs die suikerbos en rand
vry visvanger ’n rosarum hartjie.

Die toon van die sangers word verhewe,
weemoedig klink tinktinkietaal
uit die haak-en-steek-besluit;
’n Zoeloeland-jandiederik
skop verkeerdom eiers uit,
soek na die alfa en omega
in alles wat hom stuit.

’n Piet-my-vrou wyk verder,
weg van die lou geykte lied,
beitel glad deur jaarringe,
kyk wat die rooi pit bied
en grootoog in die skaduwee,
slaan janblom die ganse gade:

sal ek aanklank vind en saam rinkink
as janfiskaal of luistervink?

Hier enkodeer die digter die Afrikaanse digtradisie met leidrade wat die leser na die verskeie digters lei:
Die ‘Klasie’ is heel moontlik ’n verwysing na F.W. Reitz se gedig ‘Klaas Geswind en syn perd’

F.W. Reitz

F.W. Reitz

Meyer van Rensburg se intensie met hierdie deel van die gedig is egter die volgende:

Louis Henri Meurant/Klaas Waarzegger

Louis Henri Meurant/Klaas Waarzegger

Wikipedia https://af.wikipedia.org/wiki/Klaas_Waarzegger verduidelik Meurant se ‘onbewustelike’ bevordering van Afrikaans. Meyer verduidelik in sy kommentaar op die blog soos volg: “‘Klasie wat die waarheid zeggen’, is ’n verwysing na ‘Klaas Waarzegger’. Klaas Waarzegger (19 Februarie 1811 – 29 Maart 1893) was die skrywersnaam van Louis Henri Meurant. Meurant was in die middel van die 19de eeu ’n drukker, joernalis en ’n onopsetlike bevorderaar van Afrikaans as taal”.

Die verwysing in die gedig na ‘hogen hout’ is voor die hand liggend.

CP Hogenhout

CP Hoogenhout

Die ‘drieman’ is ’n moontlike sinspeling op Louis Leipoldt se Uit drie wêrelddele (1923); hy was skoolarts in Londen, mediese skoolinspekteur in die Transvaal en later kinderarts in Kaapstad.

Louis Leipoldt

Louis Leipoldt

Die spesifieke intensie van die digter met die woord ‘drieman’ sluit egter nog twee digters in: Jan FE Celliers en Totius. Meyer se aanhaling uit JC Kannemeyer lui soos volg en kan ook in die kommentaar-gedeelte op hierdie blog gelees word:

Ek haal J.C. Kannmeyer aan: ‘Daarteenoor publiseer Celliers, Totius en Leipoldt reeds in die eerste tiental jare ná die Anglo-Boereoorlog hulle eerste bundels waarin daar poësie van besondere formaat voorkom. Heelparty Afrikaanse kritici het dan ook na hierdie drie digters as die Driemanskap verwys, ’n ongelukkige term omdat dit assosiasies met die drie Boereleiers (Kruger, Joubert en Pretorius) ná die Eerste Vryheidsoorlog het en omdat dit ’n hegte verband en gesamentlike optrede tussen die drie digters en hul poësie veronderstel wat die inherente verskille in aard en ingesteldheid uit die oog verloor’ (Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur; Academica, Pretoria, 1984).

Jan FE Celliers word opgeroep in ‘Janfrederik soen sy Martjie’, na aanleiding van Martjie (1911).

Jan FE Celliers

Jan FE Celliers

‘en langs die suikerbos en rand/vry visvanger ’n rosarum hartjie’ verwys na AG Visser wat met Suikerbosrand verbind word asook sy gedig, ‘Rosa Rosarum’ (Roos van die Rose).

AG Vsser

AG Visser

‘Die toon van die sangers’ is ’n verwysing na Toon van den Heever.

Toon van den Heever

Toon van den Heever

‘Haak-en-steek-besluit’ dui op Totius se gedig ‘Die Godsbesluit’ (82) terwyl ‘Tinktinkietaal’ na dieselfde digter verwys.

n Jong Totius

n Jong Totius

Jare terug skilder Meyer ‘n skildery wat op Totius se ‘Die wêreld is ons woning nie’ geskoei is:

Meyer van Rensburg.

Meyer van Rensburg.

’n ‘Zoeloeland-jandiederik’ aktiveer DJ Opperman wat in die Dundeese distrik gebore is en ook skoolgegaan het op ander dorpe in KwaZulu-Natal.

Opperman deur Philip Terblanche

Opperman deur Philip Terblanche

’n Piet-my-vrou wyk verder,
weg van die lou geykte lied,
beitel glad deur jaarringe,

Bogenoemde speel in op ‘wyk’: NP van Wyk Louw; ‘weg van die lou’ na sy digter-broer, WEG Louw en ‘beitel’ onder andere na die alombekende NP van Wyk Louw se ‘Die beiteltjie’.

NP van Wyk Louw

NP van Wyk Louw

WEG Louw

WEG Louw

‘Janblom’ is een van die meer ooglopende kodes: ‘n skryfpersona van Breyten Breytenbach.

Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach

In ’n resensie van Klankmanwoordboom skryf E.C. Britz (1983) oor die twee laaste reëls van ‘Stamboom’ soos volg: ‘Die digter vra homself uiteindelik af of hy as ‘janfiskaal’ (d.w.s. die voël wat al die ander opvreet) of as ‘luistervink’ (d.w.s. as blote volgeling van die tradisie) by ons sal ‘aanklank vind’.

Die feit dat die titel van die resensie lui, ‘Treffer in ou styl’, versterk vir die leser die gevoel van die Afrikaanse stamboom van digters; iets wat die taalkwessie by universiteite wat ons tans ondervind reaktiveer. Die kwessie van die literêre kanon kom ook ter sprake: wié is die Afrikaanse kanon en hóé is dit saamgestel in die loop van jare?

In ‘Versteende woord’ (16) word die beeldgebruik verder uitgebrei na die eg Afrikaanse milieu wat skakel met begrippe soos ‘moerland’, en ‘hartland’, alhoewel die bundel nege jaar voor Chris Barnard se roman, Moerland (1992) verskyn. ‘Baaierdland’ mag ook moontlik inspeel op die titel van Opperman se 1956-bundel, Blom en baaierd. Volgens die HAT (2015:71) beteken ‘baaierd’ onder andere ‘(1) ongevormde elemente waaruit die aarde ontwikkel het. (2) verstrengelde massa 2. (fig) warboel; chaos’. Die leser volg die innerlike chaos van die spreker: ‘hart koffiesak’; ‘swart moer’; ‘klipkil hartland’ en ‘bitter baaierdland’. Tog is daardie verlossende aspek van bogenoemde deur die ‘woordsteen’ en die digproses (‘suikerklontjie’; ‘blink kristal’, en ‘reënboog uit prismastreke’).

Herbore uit die lakens nes ’n slang vervel,
spoel ek my hart koffiesak uit
met, kaatsend in my hand,
’n suikerklontjie
uit die swart moer van ’n bitter baaierdland.

Die koue winterlig
verskerf teen die blink kristal
en gister vlam in warm stukke uit.

Jy, klein woordsteen
wat uit die verre suikerveld
oorbly in die asbestrooide grond,
haal baie bitter boeretroos
se dae uit my mond
en reënboog uit die prismastreke
my klipkil hartland oop.

In jou lig
staan ek verwese, teruggevoer,
voor my gesmelte suikerbrug
en my hart vol moer.

Die ‘baaierd’ herinner aan die volgende gedeelte in T.S. Eliot se ‘East Coker'(v:31):

[…] And so each venture
Is a new beginning, a raid on the inarticulate
With shabby equipment always deteriorating
In the general mess of imprecision of feeling,
Undisciplined squads of emotion […]

Talle ander gedigte skakel met die digter se Noord-Kaapse herkoms; die idee van wortelskiet; ook die jukstaposisie wat tussen Engels en Afrikaans geskep word: lank het die digter net Engels gepraat (‘Brits gesoog’), maar terselfdertyd het hy ook in Brits skoolgegaan.

Woordboom 1

Trek uit my woord
’n blokdiagram wat langbeen wys
hoe ek in houtskoolbanke
Engelse woorwaarde prys;
probeer dan stam en soort
bepaal deur analise van die klanke,
dring deur die vlees af na die pit,
die geraamte, wit
bevrees en biltongdroog:
’n Boerskelet wat, Brits gesoog,
op dertig begin wortelskiet
in diederik se roepgebied
(Afrika se wisselende windewyk
waar woorddele soos vrugte pryk).
Daar, tussen rotse aan die rand,
begin desibels Boerwees die doring dryf
om meters klank neer te skryf:
klink en kopuleer nou hier en daar
die klankboomwortels aanmekaar.

'Veldfire and aloes' . Meyer van Rensburg.

‘Veldfire and aloes’ . Meyer van Rensburg.

Die doring-motief word verder in die bundel uitgestippel en verleng deur die ‘enkeldoring’ of Acacia-robusta; snoei-metafore; Boer en Brit(s). Totius se ‘Daar het ’n doringboompie/ vlak by die pad gestaan’ (‘Vergewe en Vergeet’:47) word hier gereaktiveer en in ’n nuwe konteks geplaas. Totius se gedig is ook te sien by die Vrouemonument in Bloemfontein. Ter wille van spasie haal ek slegs sekere gedeeltes uit Van Rensburg se gedig aan:

Acacia Robusta of Enkeldoring.

Acacia Robusta of Enkeldoring.

Boom-Stam-Boom (27)
Vir Lorraine

(i)
Die penwortel vroetel-voel vir watervoeding,
druk dit osmoties na die kroon:
Acacia-robusta of enkeldoring
(soms Engelse doring genoem) vertoon
geel bloeiselballe en beenwit
dorings teen die Noord-Kaaplug:
bied skaduwee waar ek kan sit
maar stamdorings steek my ruweg in die rug.

(ii)
Van Prince Albert tot in Suid-wes
het my oupa met snoeiskêr en mes
bome ge-okuleer […]

(iii)
Maar die weefsels se Boerbloedvlam
groei oor letsels van die Engelse robuuste stam […]

'Piet Painter'. 'n Skildery wat Meyer van sy pa gemaak het.

‘Piet Painter’. ‘n Skildery wat Meyer van sy pa gemaak het.

‘Bittereinder’ (28) aktiveer die Anglo-Boereoorlog (tog net nié die Suid-Afrikaanse Oorlog nie!) wat weereens die stryd tussen Engels en Afrikaans uitspel. Let op die woord ‘kombuisuitskot’ en ‘gepuurde stam’. Hierdie gedig het ’n profetiese kwaliteit: dink aan duisende expats in die buiteland asook die verdrukking wat Afrikaans tans beleef. Tog neem die gedig ’n positiewe wending, wat dalk ook profeties mag wees: ‘die rebellie se vuur’, die ‘botsels’ en die ‘feniks’:

Uit my heilig-geagte grond
is ek wreed vir ’n ander losgeskeur,
my stam vertrap, my takke afgebeur.
Ek is verdruk, in depressie leeggebloei
en op die vullishoop sal dit boomskraap gaan,
maar stammaak my net voor ek stomp word
sodat ek ’n wortel tot by water kan roer,
sodat ek die rebellie se vuur weer voer
en soos ’n feniks
nuwe vlinderblare en botsels ontvou
om van meet af ’n gepuurde stam
uit kombuisuitskot te bou.

Gedigte soos ‘Snoeityd (30); ‘Noord-Kaap (31), ‘umNgamanzi’ (33) wat die enkeldoring se Zoeloenaam vergestalt en ‘Boom’ (34) is verdere voorbeelde van bogenoemde tematiek.
Die versugting na reën, iets wat die meeste van ons tans ondervind met die knellende droogte, word meesterlik in ‘Noord-Kaap’ uitgebeeld. Ek haal die laaste agt reëls aan:

Dorre Noord-Kaap, in drome
stoot die windpomp jou leivoorare
weer vol blinkende bloedwater-strome
en my hartkeerwal loop oor.
Ek ruik die voor-die-reën-kom-reuk
as die ploeglem deur jou sooie gaan
en ek wil weer jou rooikors breek
en kniediep in jou kluite staan.

'Veldfire and Aloes ii'. Meyer van Rensburg

‘Veldfire and Aloes ii’. Meyer van Rensburg

Laastens haal ek drie van Meyer se meer resente gedigte aan wat in die negentigerjare geskryf is voor hy geëmigreer het. Hy skryf die volgende oor hulle:

Die nuwe Afrikaanse gedigte is saamgevat in ‘n bundel met die naam Motsa wat uittog of eksodus beteken. (Ek wou dit eers ‘Ek sȇ dus:’Eksodus’ genoem het). Dit was geskryf voordat ek seker was dat ek oorsee sou kom, maar dit gaan juis daaroor. Dit het ook drie gedeelte : Eksodus (wat die geskiedenis van die Eksodus van toepassing maak op al die mense wat uit SA emigreer); ‘Uitspraak’ (wat weer met klank te doen het, maar die keer gaan dit oor ‘spraak’ en nie oor ‘hoor’ nie); en dan, laastens, ‘Uitgang’, wat weer terugkeer na die uitgang van mense uit SA uit.

Aftrede

Hy dink sy oudag in

bou ’n pensioenpensie op
sodat hy kan aftree daar agter
met jakopeweroë t’rug kan sit

om binnevet te eet
mooi bakvissies te beloer
wat oor die duine manna
en kwartel saans
die sardiens loop wulps in Durban
lê ka(a)lbas(sies) in die sand.

*

Eks. 18:5
‘Jetro, Moses se skoonpa, het met Moses se seuns en vrou
na hom toe gegaan waar hy kamp opgeslaan het’.

Na ’n lang stryd van lei
en stryd van haar met my

oor besnydenis en bloed
wat maande lankal woed

om middernag terwyl sy slaap
met my wat tussen bid en gaap

my omdraai om ’n nuwe lê te lê
(so baie antwoorde wil ek nog hê)

vat ek die punte van haar liggaam raak
en wonder oor U haar so anders maak.

*
Trek uit my woord

..
..
uit
hierdie
klein vertrek
moet woordwys
’n duister volk
verhuis

trek uit my woord
my kleinvolk
…gekopuleerde klinkers van my klankbord…
uit taai tradisieklou
wat verstaal
vas wil hou

trek uit
my Woord
hang
vasgehamer
hale oor
kaal blaaie
uitge(s)trek
want die
Groot Vertrek
verlang
dit so
..
..
.

Noord-Kaapse rooigrondpad

Noord-Kaapse rooigrondpad

My hartlike dank aan Meyer van Rensburg wat soveel materiaal (resensies, analise, foto’s, en so meer) aan my beskikbaar gestel en aan my toevertrou het. Mag die Woordman van die Noord-Kaap weer in Afrikaans begin droom.
En my ewige dank aan my digmentor wat Klankmanwoordboom vir my gestuur het.

Bibliografie
Brink, A.P. (ed). 2008. Groot Verseboek, Deel 1. Kaapstad: Tafelberg.
Britz, E.C. (1983). ‘Klankmanwoordboom. Treffer in ou styl’. Die Vaderland, 22 Desember 1983, 12.
Eliot. T.S. (1972). Four Quartets. Londen: Faber.
Handboek van die Arikaanse Taal. (2015). Kaapstad: Pearson.
Marais, D. (ed). 2009. As almal ver is. Suid-Afrikaners skryf huis toe. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. (ed). 1990. Senior Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Van Rensburg, M. (1983). Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.