Ilse van Staden

Herfs, alweer

Tuesday, March 9th, 2010

Wat kan ek sê? Dis weer herfs. Daardie tyd van elke jaar wanneer ek wens dat ek gedigte kon skryf soos etse, sodat iemand sal verstaan van die grasse. Dat ek foto’s kon neem in wit en swart maar ook in al die goue-brons-geel-Naples yellow-oker kleure van die reënboog. Wat kan ek skryf wat so liniêr is?

   //// gras gras gras grasse gras /////  en ander kant toe deur die wind \\\\\

   Tevergeefs. ’n Haikoe sou dalk werk, of ’n refrein, ’n vioolgestreep oor en oor, op en af. Iemand se blonde hare. Dis onmoontlik om te beskryf en dalk onnodig. Rumi sê:

The moon has no desire to be described.

No one needs this poetry.

The loose hair-strands of a beautiful woman

don’t have to be combed.

A, dan los ons maar

die herfs se blonde hare

los en ongekam

Engels, Engels, alles Engels

Tuesday, March 2nd, 2010

Vir die eerste maal sedert ons die Poetry Crawl begin het, voel ek toe die naweek so verlate soos ’n uil in die woestyn. Water, water everywhere and ne’er a drop to drink. Want deur die jare het ons lede een-een weggeval – opgegee of afgesterf of weggetrek – en meteens is ek die enigste van die “stigterslede” wat oorgebly het. Erger nog, ek is die enigste Afrikaanssprekende.

   Ek sit daar met my Mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (want al het ons reeds liefde as tema gehad, is daar genoeg gedigte vir ’n herbesoek) en Boerneef en Eybers en Breytenbach sidder daarbinne van wanhoop. Want vanaand is alles Engels, selfs Antjie Krog. Nie dat die meeste van die lesers en luisteraars nie tot ’n mate Afrikaans magtig is nie, maar as mens ’n gedig moet parafraseer in ’n ander taal, gaan iets verlore.

   Ja, ja, ek weet ek het al voorheen gesê jy kan maar vir my gedigte lees in Kreools en Arabies en Swahili en ek sal dit nog mooi vind. Dit geld steeds. Immers het een van ons vorige lede dikwels vir ons gedigte in die oorspronklike Russies gelees. Maar as mens aan die ander kant van die draad staan … Dan lees mens maar eerder sonder verduideliking en miskien ’n lang ritmiese gedig wat jy net om sy klank kies.

   Ek is nie ’n fanatiese kampvegter vir Afrikaans nie. Ek sal dit in en om my koester en dit praat waar ek kan, maar ek gaan nie petisies teken of toyi-toyi daaroor nie. As dit moet uitsterf op Cullinan se Poetry Crawls, dan is dit maar so. Maar miskien, na nege jaar waarin ek nie een Crawl gemis het nie, moet ek maar my taal vat en loop. Elke ding het sy bepaalde tyd. ’n Tyd om te kom en ’n tyd om te gaan.

Goue visse, goue gedigte

Tuesday, February 23rd, 2010

Van visse weet ek nie meer as die gemiddelde mens nie. Ek bedoel nou die prettige soort (vis) wat in akwariums en vistenks en tuindammetjies rondswem. Ek sal nou byvoorbeeld nie kan sê waaraan ’n vis siek is of dit ’n inspuitinkie kan gee nie. Toe ek dus ’n jaar of twee gelede ’n visdammetjie in my voortuin grawe, was dit met groot huiwering oor die welstand van die toekomstige dambewoners. Ek het nie toe kon dink dat daar iets is soos ’n troetelvis nie. Dat mens nogal geheg kan raak aan so ’n koudbloedige gliplyfie nie. ’n Papegaai streel ek nie sommer nie – die goed het snawels en kloue – maar ’n goudvis wat so onder ’n mens se vingers kom aai … Ai!

   Dus het ek ook ’n sagte plekkie ontwikkel vir dié gedig van Jan van Nijlen:

 

De goudvisch

 

‘k Was al die dagen al te zeer verlaten,

Niets leek mij aardig noch de moeite waard,

En ‘k heb een visch gekocht om mee te praten,

Een goudvisch met een wuivend-blonden staart.

 

Dit word wellicht een lieve vreugd voor later,

Dit wentlend leven in het helder water.

 

De koopman zei: zijn afkomst is japansch

En ik geloof dat hij me niet bedroog.

Hij zwemt (de visch) nu lustig rond en ‘k ga thans

Dit dier verleiden met een monoloog.

 

Hij heeft de kleur der aardbei die gaat rijpen,

‘t Is heel erg mooi, - maar zal hij mij begrijpen?

 

Op ‘t eerste zicht voortreff’lijk polyglot,

Lijk hij niet ongevoelig voor tiraden,

Zelfs in een taal die met de regels spot,

En ook voor Fransche verzen met hiaten.

 

Wat is zijn meening? Heeft hij soms bezwaar?

Hij antwoordt enkel met een staartgebaar,

 

Zijn staat als visch is duidelijk, mij staat

Is het lang niet. Ik ben een eenzaam dichter,

Een treur’ge twijflaar die te wachten staat

Dat ‘t leven eens hem teeder wordt en lichter.

 

‘t Probleem van mensch tot mensch geeft last en hinder,

Maar van poëet tot goudvisch is ‘t niet minder.

 

Hij lijkt wel levend vuur wanneer in ‘t water

De lage gloed valt van het avondlicht.

En naast hem droomt, afwezig, de oude kater;

Het is een leerrijk en een mooi gezicht.

 

‘k Begrijp dat het de schilders inspireert,

En hun de schoonheid van de kleuren leert.

 

Waar is de Staat of zelfs de Dictatuur

Die den poëet op straf van dood verplicht

Een visch te houden die in ‘t avonduur

Zijn kamer en zijn eenzaamheid verlicht?

 

Hij zou misschien minder gedichten schrijven,

Maar dichter bij het lieve leven blijven.

 

Versigtig met die liefde

Tuesday, February 16th, 2010

Oor die liefde moet mens versigtig skryf, al skryf jy so tweedehands oor ander se skrywes. Om te kies is nie eenvoudig nie. Dis nie ’n ding van dié een kry tagtig persent en daardie een negentig nie. As die een liefdesgedig vandag jou hartsnare geroer het, gaan die volgende een môre jou tone laat tingel. Tog moet Boerneef sekerlik hoog op die lysie staan:

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê

Daardie berggansveer gaan nog lank lê en tril daar by Woeperdal.

   Die liefde kortgevat is Rumi se dertiende eeuse kwatryne. Uit die Persies vertaal deur John Moyne en Coleman Barks klink dit so, onder andere:

Come to the orchard in Spring.

There is light and wine, and sweethearts in the pomegranate flowers.

If you do not come, these do not matter.

If you do come, these do not matter.

   en:

I would love to kiss you.

The price of kissing is your life.

 

Now my love is running towards my life shouting,

What a bargain, let’s buy it.

     Die Amerikaanse digter e.e. cummings skryf ’n lang gedig, “somewhere i have never travelled” waarvan die laaste reël vir my maar op sy eie kan staan:

nobody, not even the rain, has such small hands

 

en uit my kinderdae onthou ek dié een van W.E. Henley:

 

The nightingale has a lyre of gold,

The lark’s is a clarion call,

And the blackbird plays but a boxwood flute

But I love him best of all.

 

For his song is all of the joy of life,

And we in the mad spring weather,

We too have listened till he sang

Our hearts and lips together.

   As ek verder uit Afrikaans moet kies, dan Elisabeth Eybers. Vele, vele, maar dié een bly ’n gunsteling, omdat dit die woordloosheid, die stomgeslaanwees van liefde, maar ook die somtyds onlewensvatbaarheid daarvan so reg sê.

 

Die antwoord

 

Of ek jou liefhet?… Hoe vra jy, wanneer

my oë van die antwoord vol is, weer

dieselfde vraag so twyfelloos en teer?

 

Toe Christus met die derde haangekraai

sy blik vol stil verwyt na Petrus draai,

wie kon die later vraag en antwoord raai?

 

Drie maal het hy gevra … Daar was alleen

die één gebroke antwoord oor vir een

wat in die nag oor eie verraad moes ween.

 

Wanneer ek elke roekelose eed

van eew’ge trou en liefde reeds vergeet

het, sal ek nog soos Petrus sê: Jy wéét …

Op dieselfde trant ’n gedig van A. Roland Holst, waarvan ek ook die eerste reël ver, ver terug onthou:

 

Zwerversliefde

 

Laten wij zacht zijn voor elkander, kind –

want, o de maatlooze verlatenheden,

die over onze moegezworven leden

onder de sterren waaie’ in de oude wind.

 

O, laten wij maar zacht zijn, en maar niet

het trotsche hooge woord van liefde spreken,

want hoeveel harten moesten daarom breken

onder den wind in hulpeloos verdriet.

 

Wij zijn maar als de blaren in den wind

ritselend langs de zoom van oude wouden,

en alles is onzeker, en hoe zouden

wij weten wat alleen de wind weet, kind –

 

En laten wij omdat wij eenzaam zijn

nu onze hoofden bij elkander neigen,

en wijl wij same’ in ‘t oude waaien zwijgen

binnen een laatste droom gemeenzaam zijn.

 

Veel liefde ging verloren in den wind,

en wat de wind wil zullen wij nooit weten;

en daarom – voor we elkander weer vergeten –

laten wij zacht zijn voor elkander, kind.

Laat ons die “trotse hoë woord van liefde” dus maar met versigtigheid sê.

Mentorskap

Tuesday, February 9th, 2010

My ouma en oupa het jare lank in ’n duplekswoonstel in Pretoria gewoon. Teen die muur langs die trap op na die tweede vloer was daar, behalwe vir die gewone versameling trotse familiefoto’s, ook ’n magdom geraamde sertifikate en toekennings wat my oupa as leermeester en navorser ontvang het. As kind en later as student, is ek menigmaal goedig deur my ma gemaan: “Hou jou oog hierop en doen jou bes”. Nie dat ek ooit gedroom het om in my oupa se voetspore te volg nie, maar mens het tog iemand as held, voorbeeld en/of mentor nodig. Die uitdaging is om iewers tussen nabootsing en navolging jou eie balans te vind.

   In die veeartsenykunde was daar genoeg afstand tussen my eie loopbaan in privaatpraktyk en dié van my oupa as lewenslange Anatomie-dosent om nie te voel ek stap te veel in gebaande weë nie. Met die skilderkuns was en is dit ’n ander storie.

   Behalwe dat ek grootgeword het uit die stam van en in die skaduwee van ’n skilder-boom, het ek vir die laaste elf jaar skaars ’n halwe kilometer van daardie boom gewoon. My ma, synde ’n skilder van beroep, was ál te naby om die kans van appeltjie-nie-ver-van-die-boom-af te verhoog. Sedert ek vyf jaar gelede weer meer tyd en plek het vir skilder, moes ek doelbewus my eie pad loop. Ja, ek kon by haar leer wat tema en tegniek betref. Ek kon, wanneer ek myself in ’n hoek geverf het, die straat op stap en vra, Hoe nou? Maar ek moes (en moet nog steeds) myself met groot versigtigheid laat afkyk en nadoen.

   Op die gebied van die poësie is dit net so ’n mynveld. Daar het ek nou nie iemand tasbaar naby nie, maar woorde is daar veel van. Sit mens met ’n sak vol wanordelike woorde in jou skoot, is dit te maklik om te sê: Maar kyk hoe doen dié een of daardie een dit. Kyk na sy beelde. Kyk na haar taalmanipulering. Kyk wat doen hulle met of sonder rym, met of sonder leestekens, met of sonder emosies. Dit is tog ook wat menige mentor en kritikus sal aanbeveel. Gaan léés die goeie digters! Hou jou oog hierop en doen jou bes. Solank jy hulle dit net nie probeer nadoen nie. Overgesetsynde, leer daaruit en gaan doen iets anders. Trap lángs die paadjies.

   Iemand het gesê dat mens in die kookkuns, soos in die lewe, net moed en verbeelding nodig het. Miskien geld dit dan ook vir poësie. Sodra jy weet hoe om ’n eier te kook en ’n varkboud sappig gaar te kry, gooi weg daai kookboek. Steun slegs op jou eie kreatiwiteit en skep voort. Lepelsvol.

Gedigte onder die as uit

Tuesday, February 2nd, 2010

Dis die eerste keer dat ek ’n gedig só skryf. Of die gedig enigsins suksesvol is, twyfel ek, maar dis in elk geval ’n interessante eksperiment.

   Soos maar selde gebeur, gaan ek nou die oggend sit en binne ’n uur het ’n gedig ditself aangemeld en op die papier lê gemaak. Toe ek deur die ander papiere op my knipbord blaai, kry ek sowaar ’n stukkie verwante skryfgoed wat ek ’n week of wat vroeër uit frustrasie geskryf het en onmiddellik van vergeet het. ’n Proses dus: gedagtes in gewone taal neergesit, toegedeksel en laat prut, en ’n week later, sonder om die pot weer te roer, prut ’n gedig uit. Die onbewuste se donkerkamer.

   Die los gedagtes het só gelyk:

   Soos met die as oor Pompeii en Herkulaneum, is my emosies toegeval en begrawe, onkant gevang soos minnaars in ’n omhelsing, ’n bedelaar op straat, ’n kind buite die deur van ’n kamer waar sy ma of oppasser vir ’n oomblik wegkyk. En alles is deur die warm lae van verwoesting omgebring. Nou het die as daarom versteen en wat binne was – alles wat organies was (mense, diere, brode, borde) – het verval tot stof, het wegverweer en net die holtes het oorgebly. Die holtes behou die vorm daarvan – van mense, diere, brode – maar dit is net lug. Wanneer mens diep genoeg grawe om daarby uit te kom, help die holtes niks. Iets moet jy daar ingiet – hulpeloosheid of redelikheid, waagmoed of geloof – soos gips, wat die vorms van die holtes vul en weer substans daaraan gee. Sodat dit identifiseerbaar is en bestudeer kan word, noukeurig en wetenskaplik. Uitgestal in ’n museum soos artefakte van ’n ou beskawing.

   Die gedig lyk toe só:

 

veronderstelling, argeologie

 

as mens die koue leemtes wat wesenlikheid laat

die ruim leegtes waar wese was

opruim en afstof

soos holtes in Pompeii se versteende as

dit versigtig met ’n kwas

uitvee, voorberei en dan vul

met iets so gietbaar soos gips

iets lig wat instulp in gleuwe

wat fyn oor growwighede vloei

dit inwig in onopmerklikheid

 

lê dit die leemtes vol

 

kan jy die klip maar breek daarom

want binne lê die gietsel

van lyf, brood, bedelbak, brak

nét so

nét so soos toe dit lewend was

soos voor die vaal gordyn van as

Vriende en katte

Tuesday, January 26th, 2010

Ek het ’n vriendin. Nie ver by die blou see nie, sommer net hier anderkant in Pretoria. En elke keer as ek aan Phyllis dink, dan dink ek aan ’n gedig. Maar dis weer Operasie Gedigsoek hier, omdat ek nóg naam nóg skrywer daarvan kan onthou.

   In die digbundels op my rak, dié wat ek bereid is om vlugtig deur te blaai, kry ek niks. Dan maar gaan kyk wat Google weet van Phyllis en kat, en hoera! Daar is dit sowaar:

 

Met Phyllis ingekooi

 

Phyllis op die vensterbank

tel sneeuvlokkies, daglank, aandlank,

“Triljoen-en-twee-“ Ek sê: veel dank.

Kom Phyllis, maak my voete warm.

 

Phyllis lek haar hare glad

soos George Raft s’n, blink en nat

want Phyllis is my outydse kat.

Kom Phyllis, maak my voete warm.

 

Ek tel haar op – sy kyk ontstel

want wie gaan nou die sneeuval tel?

en sit haar op my kooi op bevel

van Phyllis-maak-my-voete-warm.

 

Dan in my lang wol-onderklere

(sy draai haar kop weg vir die gebeure)

krimpvarkie-kruip ek in die vere.

Kom Phyllis, maak my voete warm.

 

Lank opgewen slaan sy haar enjin

nou aan met por, voetvroetel, spin,

straal katte-Watte die komberse in.

So maak Phyllis my voete warm.

 

Dis ’n gedig van Barend J. Toerien en ek dink dis heerlik! Van sneeuvlokkies weet ek nie veel nie, maar van katte wel en hierdie is in die kol. Hulle sê mos ’n kat is nie so skoon nie, dit is net vol katspoeg.

   Juis is my liefste kat vanoggend soek, seker aan ‘t jag in die grasvelde om my huis. Wie gaan nou my skoot warm sit en kla as ek opstaan om tee te maak? Wie gaan nou my woorde tel?

Ingeprent op woorde

Tuesday, January 19th, 2010

Vir ’n oomblik kon ek nie onthou wie was die man met die ganse nie. Die man wat wou wys en bewys hoe inprenting werk by diere, in besonder pasgebore of pasuitgebroeide diere. Na ek deur ’n paar name in my geheue geblaai het (Linnaeus, Pavlov, Robert Ardrey), gaan blaai ek toe maar deur ’n paar boeke in my kas. Konrad Lorenz, dis die man. Hy het ganskuikens met die uitbroeislag op homself laat inprent, sodat hulle hom as hulle gans-ma (en ganse ma?) beskou het en oral gevolg het.

   Ek dink dié inprent-ding is min of meer die metafoor waarna ek soek om iets vreemds te verduidelik. Want – om die storie van “woordgebore” bietjie verder te vat – ek reken my bewussyn (of onderbewussyn) is ingeprent op woorde.

   Eendag lees ek in ’n artikel oor geheuetruuks dat mens prentjies moet gebruik om feite te onthou. Want, sê die skrywer, dis ’n wetenskaplik bewese feit dat mens in beelde dink. Wanneer jy byvoorbeeld aan iemand dink wat jy ken, sien jy daardie persoon in jou gedagtes. ’n Bewese feit? Nie aan dié kant van my oë nie. Ek dink in woorde. Ingeprent daarop, reken ek.

   Wanneer ek aan iemand dink, sien ek sy of haar naam, letterlik uitgespel in my kop. Selfs as ek aan my ouers dink, sal ek die woorde “Mamma” of “Pappa” in my gedagtes sien, eerder as hul gesigte. Ek sal sien “Pretoria” of “Kaapstad” eerder as ’n beeld van die Uniegeboue of Tafelberg. Ek sal, bewus van my oortreding, die Engelse woorde sien wat ek soms in gesprekke gebruik – obviously, anyway. Ek het probeer dink of ek nie in elk geval hele sinne so in my gedagtes sien afspeel nie, asof dit op ’n skerm uitgetik word. Maar dit is ’n bietjie soos om jouself te kielie, jy kan nie werklik tot ’n gevolgtrekking kom nie.

   Ironies genoeg, is dit nie maklik om iets nuuts te laat gebeur in so ’n woordkop wat heeldag in woorde week nie. Jy het iets nodig om alles deurmekaar te krap, soos ’n Scrabble-bord waaroor die kat gehardloop het. Dit is vir sulke oomblikke wat ek wag, hier tussen die lettervenstertjies van my skriptorium. Kom, Kietsie-kietsie …

 

Woordgebore

Monday, January 11th, 2010

Om voortdurend gebalanseer te staan op die rand tussen kuns en wetenskap verg konstante psigiese aandag. Praat maar van kombinasie en integrasie en kreatiewe spanning. So maklik is dit nie.

   Net soos ek dikwels spot dat my beroep as veearts “geneties onvermydelik” was – my oupa, pa, pa se neef en oom is of was immers almal veeartse – so is my doenigheid met die kunste seker tot net so ’n mate “oorgeërf”. Einste pa en oupa is/was nie te sleg met woorde nie en my oupa kon op tagtig nog wonderlike kleibeelde maak. Met houtsneewerk en borduurwerk was my een ouma heel vaardig. Van my ma praat ek nie eers nie. Oortreffende trap.

   Waar genetika en liefde egter saamsweer, broei baie dinge uit. In ’n huis vol boeke en prente, met ’n ma wat al op sewe of agt, saam met Newton se wette, ook Shakespeare moes aanhoor en soortgelyke aspirasies vir haar eie dogter gehad het, hoe anders as dat ek in poësie gebore en getoë sou word?

   Toe my broer, ’n jaar ouer as ek, skool toe is en die skool my op vyf jaar oud nie saam met hom wou toelaat nie, het my ma my tuis leer lees. ABC met ’n verfkwas agterop skilderye, terwyl sy in haar ateljee besig was. Van toe af kon jy my nie van woorde weghou nie.

   Ek vermoed die Kleuterverseboek het gou gevolg, al onthou ek dit glad nie. Wel Opperman se Groot Verseboek, met “Klaas Geswind” en “Nuttige resepte” (wat ek probeer nadoen het) en “Ek hou van blou”. Vroeg die volgende jaar, toe ek wel in die skool uitkom, het ek dus verklaar dat ek ’n “digteres” gaan word.

   My eerste eie pogings tot poësie het ek daardie jaar, 1979, saamgevat in ’n “bundel” wat ek bloot genoem het: Gedigteboek deur Ilse. Dit was skynbaar ’n Kersgeskenk aan my Oupa de Boom, want agterop staan daar: “My liewe vadie ek het hierdie boek spiesiehaal vir my liewe vadie gemaak”. Ensovoorts. Ek het dit nog steeds. Dit is foliogrootte, met garing vasgewerk in die middel, met ’n totaal van nege gediggies en meegaande illustrasies in helder poeierverf. Nóg gedigte nóg tekeninge getuig van enige toekomstige talent. Daar is darem een wat skaflik is en wat ek as wegspringpunt gebruik het in die gedig “Variasie op ’n tema” in Watervlerk:

Eendjie eendjie plattepoot

sy loop daar in die watersloot.

Sy sien ’n vis

en kyk gou of dit ene is.

   Vir daardie selfde Kersfees het ek van my ma, ewige optimis, ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers gekry. En “Maria” en “Die eerste nag” leer ken. Sy bly my eerste liefde.

   ’n Bekering tot poësie was dit dus nie. Eerder ’n gebore-word tot woorde. Die vraag waarom ek my bemoei met poësie is dan net so onbeantwoordbaar soos waarom ek bry of blou oë het. Dit is maar soos dit is. Ek is erflik belas.

Om te muis

Tuesday, January 5th, 2010

Daar was ’n storie, toe ek heuphoog was, van Frederik Muis. Ek onthou selfs nog die prentjies. Dit was soortgelyk aan die fabel van die sprinkaan en die miere, maar met ’n ander les. Terwyl die miere heel somer kos versamel het (“gaan na die mier, luiaard”), het die sprinkaan net gesing en is in die winter droëbek weggewys van die miere se oorvol spens.

   Met Frederik Muis was dit anders.

   Terwyl die ander muise die hele lente en somer en herfs kos versamel het, het Frederik Muis in die son gesit. Op ’n klip, as ek reg onthou. Hy het na die velde gekyk en na die voëls geluister en die blomme geruik en die aanmanings van die ander flukse muise met ’n glimlag geïgnoreer. En toe die winter kom en almal bedruusd en bedruk in hul grotjie sit en wag dat die tyd verby gaan, toe het Frederik Muis sy versamelde skatte uitgehaal – stories, wat die koue verdryf het en die tyd laat vlieg het.

   Werk en werskaf is goed, maar soms is dit nodig om te muis. Om figuurlik gesproke in die son te sit en stories te versamel, indrukke wat deur osmose jou siel insyfer vir latere gebruik. Nie vir ’n uur of twee nie, vir lánk. Dae, weke. En dis nie noodwendig maklik nie. Meeste van ons het die kuns verloor van stilsit en stilbly en kyk hoe die sonlig op die aarde val. Sodra daar ’n paar druppels ink in die leë pot versamel het, wil jy jou pen gryp en begin skryf. Jy wil uitjaag na die naaste winkel en die ink gaan kóóp. Ongeduldig. Daardie soort ink kry jy nie in winkels nie. Dis die druppels gesuiwerde sonlig wat een vir een uit ’n druif drup tot wyn. Dis ambrosia, maar dis ook ou, ou koolstof uit miljoene jare terug se woude. Se sonlig.

   Gaan na die mier, ja, kyk na sy weë. Hou hom dop vir ure en ure met net die son in jou kop. En word hierdie jaar só wys.