Johann Lodewyk Marais
Sunday, February 28th, 2010
 Ilha de Moçambique
O.J.O. Ferreira het reeds ‘n groot bydrae met sy bestudering van aspekte van Portugal se meer as vyf honderd jaar lange kontak met Afrika gelewer. In sy werk word meermale onbekende of vergete fasette toegelig, wat die Afrikaanstalige leser die geleentheid bied om meer van hierdie geskiedenis te wete te kom. Aangesien sy werk op indringende navorsing in Suid-Afrika, Mosambiek en Portugal berus, word talle bronne vir die leser ontsluit en die moontlikheid van verdere navorsing gestimuleer. Sy Portugese leeskennis laat hom bowendien soos geen ander Afrikaanstalige geskiedkundige nie oor hierdie geskiedenis skryf.
Ferreira tipeer Ilha de Moçambique byna Hollands (Adamastor, 2010) as “‘n klein studie” (p. 1) waarin hy poog om iets van die grootsheid van Ilha de Moçambique, die strategies geplaasde tropiese eiland langs die noordkus van Mosambiek, onder woorde te bring. Vir hierdie doel word bykans uit elke denkbare en ondenkbare bron geput en ‘n indringende oorsig van die eiland se geografie, ligging en geskiedenis gegee. Heelwat ruimte word ook gewy aan die Nederlandse blokkades van die eiland en die onsuksesvolle pogings in 1604, 1607 en 1608 om die Fortaleza de São Sebastião te verower (pp. 29-66). Hierdie mislukte pogings is volgens die skrywer een van die redes waarom ‘n Nederlandse nedersetting later in die sewentiende eeu aan die Kaap tot stand gekom het. Tot dusver het hierdie “logiese afleiding” in die algemene geskiedenisse van Nederland en Suid-Afrika onvermeld gebly (p. 1).
Die Ooskus van Afrika het danksy handel met die Arabiere en Perse, asook latere kontak met besoekers uit Europa, wat daar die eerste permanente Europese nedersetting suid van die ewenaar gevestig het, ‘n ryk kultuurhistoriese, demografiese en genetiese nalatenskap. Vir die Portugese was die eiland “‘n uiters belangrike kommersiёle, militêre en politieke skakel tussen Lissabon en Goa in Indiё” (p. 22). Saam met die Lamu-argipel langs die kus van Kenia, asook Zanzibar en Pemba langs die kus van Tanzaniё, is Ilha de Moçambique een van die belangrikste eilande langs die Ooskus. Die wel en wee van die besetters en bewoners van die eiland word in hierdie boek boeiend weergegee en van talle illustrasies en kaarte voorsien. Op hierdie eiland het die groot Portugese digter Luís Vaz de Camões (1524–1580) boonop sy groot epiese gedig, Os Lusíadas, voltooi. Geen wonder dus dat die eiland in 1991 deur UNESCO as ‘n Wêrelderfenisterrein verklaar is nie.
Ilha de Moçambique byna Hollands is in ‘n vloeiende styl geskryf en die algemene versorging (met Schalk le Roux se hulp en talle foto’s) getuig van die hand van ‘n uiters vaardige geskiedkundige wat niks afskeep nie. (Kyk byvoorbeeld na die lys gesaghebbers van die eiland!) Ek het groot vreugde aan die lees van die boek gehad en is dankbaar dat daar nou in Afrikaans ‘n werk bestaan wat die geskiedenis en betekenis van Ilha de Moçambique met soveel respek aan die leser voorstel. Ek twyfel nie daaraan dat hierdie werk daartoe kan bydra om belangstelling in die geskiedenis van die Ooskus van Afrika verder te stimuleer nie.
Tags: Adamastor, Fortaleza de São Sebastião, Ilha de Moçambique byna Hollands, Lamu-argipel, Luís Vaz de Camões, Mosambiek, Nederlandse blokkades, O.J.O. Ferreira, Os Lusíadas, Pemba, Portugal, Schalk le Roux, UNESCO, Wêrelderfenisterrein, Zanzibar Posted in Johann Lodewyk Marais | 1 Kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Sunday, February 21st, 2010
Baie besoekers aan Kenia is bekend met die Karen Blixen-museum buite die hoofstad Nairobi waar die beroemde Deense skrywer van onder meer Out of Africa (1937) van 1917 tot 1931 gewoon en met koffie geboer het. Die huis is reeds sedert 1985 oop vir die publiek en bykans 50 000 Keniane en besoekers van dwarsoor die wêreld gaan jaarliks daarheen. Buitelanders word waarskynlik aangetrek deur die intellektuele charisma van dié skrywer en die mite wat die rolprent Out of Africa, met Meryl Streep en Robert Redford in die hoofrolle, van die skryfster en haar minnaar Denys Finch Hatton help skep het. Toe ek tydens ‘n besoek aan dié huismuseum aan die gids, Rosemary Agutu, vra of en hoeveel Keniane die huis besoek, het sy soos volg geantwoord: “There are many, because she was good for the people who worked for her.” Karen Blixen se nagedagtenis as ‘n simpatieke werkgewer vir sowat 600 werkers op haar koffieplaas het bly voortbestaan.
Die Karen Blixen-museum het oor die jare baie ondersteuning van die Deense regering gekry, wat die huis en die grond waarop dit staan aan die regering en mense van Kenia geskenk het. Die Deense regering het ook bygedra tot die publikasie van ‘n uitstekende handleiding deur Tove Hussein getiteld The Karen Blixen Museum: Nairobi (2005).
Tags: Denys Finch Hatton, Karen Blixen, Karen Blixen-museum, Kenia, Koffie, Meryl Streep, Nairobi, Out of Africa, Robert Redford, Rosemary Agutu, The Karen Blixen Museum, The Karen Blixen Museum: Nairobi, Tove Hussein Posted in Johann Lodewyk Marais | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, February 16th, 2010
Afrika het met verloop van tyd belangrike manuskripversamelings opgebou. Hierdie dekade was daar tewens ‘n inisiatief waarby Suid-Afrika ten nouste betrokke is wat my net so opgewonde maak soos die herlewing van die Bibliotheca Alexandrina. Ek praat van die ooreenkoms tussen die regerings van Suid-Afrika en Mali wat in 2002 onderteken is om die antieke manuskripte in die Ahmed Baba-instituut vir Hoёr Onderwys en Islamitiese Navorsing in Timboektoe aan die Nigerrivier in daardie Wes-Afrikaanse land te help bewaar.
Timboektoe was lank bekend as ‘n sentrum vir navorsing op die gebied van die wiskunde, sterrekunde, chemie, medisyne, weerkunde en godsdiens. Sowat 18 000 Arabiese tekste op delikate papier wat uit die dertiende eeu dateer, het behoue gebly, baie in privaat versamelings in geboue en wonings van modder en hout. In die tyd toe Mali ‘n belangrike trans-Sahara-handelsroete (onder meer danksy die goud-, sout- en slawehandel) was, het talle kunstenaars, digters, akademici, politici en godgeleerdes daarheen gegaan. Die nagedagtenis aan Timboektoe se ekonomiese, intellektuele en geestelike glorie het voortbestaan lank nadat die handelsroete oor land veral as gevolg van Europese skeepsvaart langs die Weskus van Afrika hoofsaaklik net maar nog nomade met soutblokke op hulle kamele bedien het (kyk Shamil Jeppie & Souleymane Bachir Diagne, The meanings of Timbuktu, 2008).
‘n Insamelingsdinee vir die trustfonds wat deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika bestuur word, is op 1 Oktober 2005 vir Suid-Afrikaanse besighede en privaat skenkers gehou. Die fonds beoog om die manuskripte in die Ahmed Baba-instituut te bewaar, ‘n nuwe gebou vir die versameling op te rig en die bestudering van die versameling te bevorder. In sy toespraak by die dinee het oudpresident Thabo Mbeki onder meer die volgende oor die versameling gesê: “These manuscripts debunk the myth that the tradition in Africa was always and only an oral tradition. The manuscripts point to the significance of the written tradition – a tradition that long predates the arrival of European colonisers on the soil of Africa.”
Die Timboektoe-manuskripte, wat reeds toerisme na Mali ‘n hupstoot gegee het, het in Suid-Afrika ‘n hoё status aangesien dit die eerste amptelike kultuurprojek is van die Nuwe Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling (of NEPAD), die sosio-ekonomiese herlewingsplan van die Afrika-unie. Die manuskripte is ook ‘n Suid-Afrikaanse Presidensiёle projek, wat deur die Presidensie en die Departement van Kuns en Kultuur, deur die Nasionale Argief in Pretoria, gekoördineer word. ‘n Beraamde R36 miljoen is nodig vir hierdie projek wat oor vyf jaar strek.
Tags: Ahmed Baba-instituut vir Hoёr Onderwys en Islamitiese Navorsing, Arabiese tekste, Departement van Kuns en Kultuur, Mali, Manuskripversamelings, Nasionale Argief, Nigerrivier, Nuwe Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling, Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, Shamil Jeppie & Souleymane Bachir Diagne, Thabo Mbeki, The meanings of Timbuktu, Timboektoe, Trans-Sahara-handelsroete Posted in Johann Lodewyk Marais | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, February 9th, 2010
 Biblioteca Alexandrina
‘n Filosofiedosent aan die Universiteit van Pretoria het ‘n keer in ons eerstejaarklas ‘n verhaal oor die ondergang van die antieke biblioteek van Alexandrië in Egipte vertel. Dit bly my steeds by. Dié biblioteek, ‘n deel van die groter Μουσείον, het in die derde eeu voor Christus in Egipte in die regeertyd van Ptolemeus II ontstaan. Die Μουσείον het ‘n tuiste gebied aan musiek en poësie, maar het ook oor ‘n groot versameling kuns, en literêre en wetenskaplike geskrifte beskik, en aan ons die woord “museum” besorg.
Presies hoeveel geskrifte in die biblioteek was, is vandag onbekend. Onlangse opgrawings bewys wel die biblioteek was ‘n belangrike sentrum vir navorsing en geleerdheid, wat in verskeie geboue naby die Μουσείον gehuisves was. Volgens oorlewering het Ptolemeus III sover gegaan om te bepaal dat besoekers aan dié hawestad alle boeke, perkamentrolle en ander geskrifte in hulle besit moes oorhandig om deur die amptelike skribente oorgeskryf te word. Soms was die teks so waardevol dat die biblioteek besluit het om die oorspronklike werk te hou en net ‘n kopie aan die vorige eienaar terug te gee. Met hierdie aanwinste uit “skeepsbiblioteke” en deur bykomende materiaal in die gebiede om die Middellandse See aan te koop, het die biblioteek vinnig uitgebrei. Marcus Anthonius sou ook aan Cleopatra die Grote meer as 200 000 perkamentrolle vir die biblioteek skenk, sodat die biblioteek met sy 700 000 perkamentrolle in haar regeertyd sy gelyke selfs nie in Europa geken het nie (Laura Foreman: Cleopatra’s palace: In search of a legend, 1999, pp. 46 en 49).
My dramatiese filosofiedosent het vertel dat die biblioteek van Alexandriё vernietig is toe ‘n leër onder leiding van Amr ibn al ‘Aas die stad in 642 na Christus aangeval het. Volgens verskillende weergawes deur geskiedkundiges het die bevelvoerder aan die kalief Umar gevra wat om met die geskrifte in die biblioteek te maak, waarop hy (aangehaal in Wikipedia, 2009:7) die volgende antwoord gekry het: “They will either contradict the Koran, in which case they are heresy, or they will agree with it, in which case they are superfluous.”
Vervolgens is die geskrifte verbrand om, soos die oorlewering dit wil hê, badwater vir die soldate warm te maak.
Oor hoe waar hierdie verhaal is, is daar vandag meningsverskil. Geskiedkundiges wat die geskiedenis van die biblioteek nagegaan het, noem ook drie vroeëre geleenthede toe die biblioteek ten minste gedeeltelik deur brand vernietig is. Hoe ook al, teen die agtste eeu het die biblioteek van Alexandriё sy invloed verloor. Daar is byvoorbeeld geen aanduidings dat die biblioteek ‘n rol in die Islamitiese wêreld gespeel het of selfs net gedeeltelik in die biblioteek van die Al-Azhar-moskee en later in die steeds bestaande versameling van die Universiteit van Kaïro opgeneem is nie (Anonymous, The Bibliotheca Alexandrina, 2009).
My filosofiedosent se verhaal oor die vernietiging van die biblioteek van Alexandrië het weliswaar my verbeelding aangegryp en met ‘n gevoel van groot verlies van kosbare intellektuele skatte gelaat. Toe dit enkele jare gelede bekend geword het dat ‘n inisiatief van die Universiteit van Alexandrië, met die steun van die Egiptiese president Hosni Mubarak en UNESCO, daartoe gaan lei dat ‘n nuwe Bibliotheca Alexandrina by Alexandriё aan die kus van die Middellandse See opgerig gaan word, was ek dadelik nuuskierig. Dit het sewe jaar geduur voordat die indrukwekkende gebou ten bedrae van US$212 miljoen en met heelwat steun van Arabiese lande op 16 Oktober 2002 geopen is. Die ontwerp is deur die Norweegse argiteksfirma Snøhetta gedoen. Die vernaamste kenmerk van die gebou waarin die biblioteek gehuisves word, is “its circular, tilting form; rising from the ground to reveal massive stone walls carved with alphabetic inscriptions. Covered by a light roof allowing the building to open toward the Mediterranean sea” (Anonymous, Alexandria Library, 2009). Vir my is die totstandkoming van die Bibliotheca Alexandrina met onder meer rakruimte vir agt miljoen boeke en wat gou unieke skenkings ontvang het ‘n opwindende gebeurtenis.
Tags: Alexandrië, Amr ibn al 'Aas, Bibliotheca Alexandrina, Cleopatra die Grote, Cleopatra's palace: In search of a legend, Egipte, Kalief Umar, Laura Foreman, Marcus Anthonius, Middellandse See, Museum, Perkamentrol, President Hosni Mubarak, Ptolemeus II, Ptolemeus III, Snøhetta, UNESCO, Universiteit van Alexandrië, Universiteit van Pretoria Posted in Johann Lodewyk Marais | 1 Kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Sunday, February 7th, 2010
Tydens die reis dra ek weer die gestreepte hoed wat ek ‘n vorige keer in die dorpie Victoria Falls langs die Zambezirivier in Zimbabwe gekoop het. Ek het egter die veer van die gewone troupant wat ek naby die granietkoepels en gebalanseerde rotsblokke van die Matoboheuwels opgetel het, uitgehaal. Ek is immers op pad na Botswana, ‘n ander land met ander ervarings wat ek wil vashou!
 Pontdrif
Ons het die grens by Pontdrif in die regterkantste onderste hoek van Botswana oorgesteek. Die eerste twee dae was ons in die Tuliblok langs die Limpoporivier en het daarna met die Toyota Hilux deur die mopanieveld noord met die teerpad deur Selebi-Phikwe, Francistown en Nata gery. Daarna het ons die “Mpandamatenga” (oftewel die optel-en-dra-pad, ook die Hunter’s Road genoem) gevolg, die ou transportroete al langs die grens met Zimbabwe, deur ‘n konsessiegebied.
Hierdie pad is vol geskiedenis, want die ontdekkingsreisiger David Livingstone, die jagters James Chapman en Frederick Courtney Selous en die avonturier en kunstenaar Thomas Baines se spore lê hier. By die panne op die roete sien ek yslike hardekoolbome.
Vyf dae ná ons by Pontdrif deur is, kom ons by die dorp Mpandamatenga aan. Nou hoef ons nie kort-kort ‘n GPS-lesing te neem om seker te maak waar ons ons bevind nie. By die Shell-vulstasie oorkant die graansilo’s (hier word nie net met wild en beeste geboer nie) staan daar dié Saterdagmiddag heelwat plaasbakkies en 4×4’s by die winkel ‘n entjie van die vulstasie af.
“Die Bokke speel teen die Aussies op Ellispark,” sê André. “Hier word vanmiddag groot rugby gekyk. Probeer om vir ons biltong in die hande te kry terwyl ek ons voertuig volmaak en die bande laat pomp.”
“En St Louis-bier, natuurlik!” voeg ek by. Met hierdie bier van Botswana het ons al in Francistown kennisgemaak.
Op die eerste sanderige deel van die Mpandamatenga het ek gehelp om die bande vir die duur van honderd tellings te laat afblaas. Rolf het André se “honderd tellings” as soveel sekondes verstaan en die regtervoorwiel was daarna effens pap. Daar is egter nie ‘n pomp by die vulstasie nie; die bietjie gekerfde biltong in die plastieksakkie waaraan die kort, bruingebrande verkoper met kouse op sy enkels staan en druk-druk, kos 18 pula en los ek liewer.
Van Mpandamatenga volg ons ‘n 100 kilometer teerpad tot by Kasane, die Chobedistrik se bedrywige administratiewe sentrum op die oewer van die boomryke Choberivier.
*
Voor ons by die Chobe Safari Lodge digby die Chobe National Park met sy baie olifante, leeus (wat saamspan om olifante te vang), lechwes, puku’s en ander ryke natuurlewe gaan afsaal, ry ons van Kasane na Kazungula, die klein grensdorpie in die noordooste by die grenspos tussen Botswana en Zambië en die samevloeiing van die Chobe- en Zambezirivier.
Dit is vroegmiddag en die Afrika-son bak. André parkeer die Hilux op die parkeerterrein in ‘n koeltekolletjie en sluit. Ons gaan reguit na die doeanekantore om te hoor of ons na die samevloeiing kan gaan kyk. Toevallig is een van die vroulike beamptes buite op die stoep.
“Dumela, Mma,” groet André op die joviale manier waaraan ek gewoond is.
“Dumela, Rra,” antwoord die vrou.
“O kae?”
“Ke teng.”
“Good!”
Om mense in Botswane in Setswana, die nasionale taal, te groet, word as ‘n besondere vorm van beleefdheid beskou. André doen dit elke keer wanneer hy iemand teëkom. Die gesprek self gaan daarna in Engels voort, maar aan die einde word die persoon weer in Setswana gegroet: “Sala sentle.”
*
André wil by die doeanebeampte weet of ons oor die brug mag stap tot waar die pont vasmeer. Sy antwoord saaklik, maar het nie beswaar nie. Sy vra ook nie dat ons ons paspoorte daar los soos ek in een van die reisgidse gelees het ‘n mens moet doen nie. Ons begin dadelik flink aanstryk. Groepe voetgangers kom van voor af by ons verbygestap.
 Chobe rivier
Dan lê die breë, skitterende watervlak voor my. Hier vloei die Chobe- en Zambezirivier saam, en ek sien vir die eerste keer hoe groot die riviere is. Dit is ‘n mooi gesig, en met die pont wat pas vasgemeer het, herinner dit aan tonele aan die begin van die vorige eeu. Lank sal dit nie meer so lyk nie, want ‘n groot brug gaan binnekort gebou word. In die middel van die rivier is Konkumba-eiland, waar vier lande bymekaarkom: Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe. Die grens tussen Botswana en Zambië hou ‘n wêreldrekord: die 700 meter maak dit die kortste internasionale grens.
By die pont is dit die ene bedrywigheid, want die passasiers en voertuie word aan wal gebring. ‘n Entjie van die pont af, op die oewer, staan die volgende op ‘n bordjie: Keep Kazungula Ferry Clean. Behalwe die mense op die pont is daar ook ‘n sedanmotor, twee 4×4’s en ‘n vragmotor. Op die kajuit van die pontbestuurder staan: Chobe Drift.
Sodra die vrag afgelaai is, begin mense opklim om na Kazungula aan die Zambiese kant te gaan. Baie is voetgangers met inkopies (veral sakkies aartappels). Van die vroue dra bont capulanas, wat uit die Ooste kom. Is die witvrou tussen hulle die voetganger wat die “Mpandamatenga”-roete aangepak het van wie ‘n beampte by die Veterinary Control Point noord van Nata ons vroeër vertel het? Nee, besef ek later, die vrou wat die roete te voet afgelê het, was sekerlik die wêreldberoemde Brits-gebore stapper Ffyona Campbell wat daaroor in On foot through Africa (1994) skryf. Campbell noem hierdie plek waar die vier lande bymekaarkom “one of the great natural wonders of the world”.
Ek staan onder ‘n appelblaar en maak aantekeninge in my notaboekie. Van die groot worsboom of “mzungula” waaraan Kazungula sy naam te danke het en wat hier by die samevloeiing op Mparia-eiland gestaan het, was reeds enkele jare gelede nie meer ‘n teken nie. Die boom het bekend geword nadat David Livingstone in sy dagboek beskryf het hoe hy vier dae voor hy die Victoria-waterval op 16 November 1855 stroomaf in die Zambezi ontdek het, hier uitgespan het. Livingstone skryf in Missionary travels and researches in South Africa (1857) die waterval “had never been seen before by European eyes, but scenes so lovely must have been gazed upon by angels in their flight”.
Ek brand om die toneel voor my af te neem, maar was huiwerig om my kamera saam te bring. André haas hom intussen terug na die Hilux wat alleen (sonder ‘n Suid-Afrikaanse motorwag!) op die parkeerterrein agtergebly het. Rolf is gou op ‘n drafstap voor my uit om André te probeer inhaal. Dit is warm, maar ek het gelukkig my hoed op.
*
Laat die middag kom ons uiteindelik by ons kampplek by die Chobe Safari Lodge aan. Ons kies ‘n staanplek teenaan die rivier waar ons onmiddellik begin regmaak vir die nag. Agter ons is twee pare by ‘n motorwoonwa met ‘n Gauteng-registrasienommer. Hulle slaan ons doen en late van hul kampstoele af gade. ‘n Man staan later van sy stoel af op en praat met ons van ‘n afstand af.
“Julle moet soos ons reis. Dit neem ons twee minute en vyf en dertig sekondes om kamp op te slaan,” spog hy openlik terwyl Rolf André help om sy daktent op te slaan.
“Het julle gehoor die Bokke het verloor?” gaan hy voort.
Daar is ‘n doodse, byna geskokte stilte.
“Nee …,” sê André uiteindelik.
“Dertig – agtien.”
“Moenie hom glo nie,” sê die man wat agter hom bly sit. “Hy is ‘n professionele leuenaar. Die Bokke het gewen.”
Ons maak kennis en vind uit die “professionele leuenaar” is dr. Eugène Joubert, wat die eerste doktorsgraad in natuurlewebestuur aan die Universiteit van Pretoria verwerf het en lank in Saoedi-Arabië aan die World Conservation Union verbonde was. Hy is ook die skrywer van die belangrike On the clover trail: The plight of the world’s rhinos (1996).
“Ek is na Eugène Marais vernoem, maar ek was lank in die buiteland. Vir party mense is dit vreemd dat Jan Smuts nou O.R. Tambo International is. Ek moet nog daaraan gewoond raak dat Palmietfontein Jan Smuts geword het!” spot hy.
*
Later die aand sit ons op die dek van die rivierkroeg met drankies en kyk saam met ander buitelanders oor die Chobe uit. Teen twee houtpilare is die afstande na die verskillende bestemmings op plankies met pyle op aangedui:
Moremi 270 km →
South Gate 257 km →
Gaborone 934 km →
Savuti 161 km →
← Lusaka 510 km
 Chobe
Kort voordat die son ondergaan, kom verskillende groottes rivierbote met toeriste van oral af om voor ons op die rivier te wag om die toneel op film vas te lê. Ek probeer om die sonsondergang in my notaboekie te beskryf, maar ‘n mens moet ‘n waterverfkunstenaar of soiets wees om die kleure name te kan gee. “Voor die son ondergaan, is hy dieprooi: ‘n stamvrug op die horison,” skryf ek na ‘n rukkie.
Oorkant die rivier loop ‘n trop olifante op ‘n eiland en dit val my op hoe baie wildemakoue daar in die oewergras wei. Selfs waar ek staan, kan ek deur my verkyker sien dat dit ‘n swerm van honderde moet wees. Talle van ons watervoëls (byvoorbeeld van die Nylsvley in die Waterberg) kom hier oorwinter. Aan weerskante van die rivier groei papirus en ‘n voël vlieg met ‘n uitgestrekte nek na sy slaapplek.
“Ek gaan môre vir my hoed ‘n wildemakouveer probeer kry wanneer ons met die rivierboot tussen die eilande vaar,” sê ek vir Rolf. Hy hoor my nie eens nie; die perfekte foto wat hy van die sonsondergang oor die Chobe wil neem, neem al sy aandag in beslag.
Tags: Botswana, Chobe Safari Lodge, Chobedistrik, Choberivier, David Livingstone, Eugène Joubert, Ffyona Campbell, Francistown, Frederick Courtney Selous, Hunter's Road, James Chapman, Kasane, Kazungula, Konkumba-eiland, Limpoporivier, Missionary travels and researches in South Africa, Mpandamatenga, Mparia-eiland, Nata, Nylsvley, On foot through Africa, On the clover trail: The plight of the world's rhinos, Pontdrif, Selebi-Phikwe, Thomas Baines, Tuliblok, Victoria-waterval, Waterberg, Zambië, Zimbabwe Posted in Johann Lodewyk Marais | 1 Kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Sunday, February 7th, 2010

- Mombasa
Wanneer Air Kenya se Boeing 737-300 naby Mombasa deur die wolke breek, sien ek lappies lande en groepies huise tussen palmbome in die plooie van die heuwelagtige landskap. “Eindelik – die hawe van Mombassa in gesig!” onthou ek Sangiro se woorde. In Op safari (1924) beskryf hy hoe hy en sy reisgenote destyds per skip hier aangekom het. Ek is gretig om die stad te sien wat reeds op Middeleeuse Arabiese kaarte voorgekom het en waar Ibn Battúta, die grootste reisiger van die ou tyd, in die veertiende eeu ‘n nag vertoef het.
Mombasa was ook die beginpunt van ontdekkingstogte soos dié van die Victoriaanse reisiger Joseph Thomson, wat deur die vyandige Maasai se gebied tot by die Victoriameer gestap het. Die Boere wat tussen 1902 en 1914, ná die Anglo-Boereoorlog, na Oos-Afrika verhuis het, het hier per skip aangekom op weg na hulle nuwe tuistes. ‘n Halfeeu later sou hulle en hulle afstammelinge helaas weer hiervandaan teruggaan.
Bykans tweeduisend jaar reeds val die Arabiese invloed langs dié kus op. Die noordelike moesonwinde van vroeg-Desember het Arabiese koopmanne met hulle dhows na hawedorpe soos Lamu, Malindi en Mombasa gebring. Teen middel-Mei het hulle weer met die suidelike moesonwinde vertrek. Vir die suiker, gedroogde koningsvis, tapyte en tradisionele kiste wat hulle gebring het, het hulle palmolie, manglietpale en koraalstene vir bouwerk saamgeneem. Vroeёr het slawe en ivoor die grootste deel van die vrag uitgemaak.
In 1498 het Vasco da Gama eers Mombasa besoek en daarna ook Malindi, hoёr op teen die kus. Die sigbaarste oorblyfsel van die Portugese teenwoordigheid is die imposante ruïne van Fort Jesus in Mombasa. Hierdie strategiese fort het lank as bastion gedien, met kanonne deur die geskutpoorte op die see gerig, en is ‘n hanetreetjie van die ou Swahili- en Arabiese buurt. Deur die smal strate stap heelparty van die vorige reisigers se afstammelinge.

- Ou deure in Mombasa
Vandag is Mombasa die naasgrootste stad in Kenia, en belangrik vir in- en uitvoerhandel. In die ou deel van die stad, met sy sterk Moslemkarakter, het die tyd feitlik stilgestaan. Hier pryk talle swaar, versierde houtdeure en moskees. Hoewel die dhows van vroeёr nou selde in die dhowhawe besoek aflê, bly Mombasa ‘n toegangsroete tot die binneland en ‘n mikrokosmos van Oos-Afrika.
Noord van Malindi is Lamu, ‘n eiland waar jy jou maklik in ‘n ander tyd kan indink. Die hoё Swahilihuise langs die stegies, die donkies, dhows en rustiger lewe neem ‘n mens na eeue gelede en word jaloers gekoester. Dhows word nog hier gebou en daagliks as vervoermiddels gebruik. Vissersbote vaar so ver uit as die kus van Somaliё. In sommige huise gebruik mense selfs nog van die Chinese porselein wat hierheen gebring of uit skeepswrakke herwin is.
Joy Adamson van Born free-faam het unieke skilderye van die verskillende groepe in Kenia gemaak. Langs die kus het ek meermale onwillekeurig gedink dat party mense wat deur die strate stap net sowel uit haar skilderye kon gekom het. Daar is iets tydloos in die leefwyse langs die kus van Kenia, waar mense oor eeue heen daarin geslaag het om stryd en tweedrag te oorkom.
Uit Pomp 08.
Tags: Air Kenya, Dhow, Fort Jesus, Ibn Battúta, Joseph Thomson, Joy Adamson, Kenia, Lamu, Malindi, Moesonwinde, Mombasa, Op safari, Sangiro, Swahilihuise, Vasco Da Gama, Victoriameer Posted in Johann Lodewyk Marais | 1 Kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Friday, January 29th, 2010
Mombasa has all the look of a picture of Paradise, painted by a small child.
Karen Blixen: Out of Africa (1937)
*
For people who lived alone in the silence of their memories, and who could understandably have been diffident of strangers, the Kenya coast community were sociable, and made us instantly welcome.
Kuki Gallmann: African nights (1994)
*
I enjoyed seeing the town [Lamu] with its narrow streets separating the tall, whitewashed houses with their elaborately carved doors, and I was interested to meet the people here.
Wilfred Thesiger: My Kenya days (1994)
Friday, January 29th, 2010
‘n Mens se eerste belangstellings kan ‘n eie Eden skep wat jy ten minste een keer moet besoek. Ek was sestien jaar en in standerd agt aan die Hoёrskool Harrismith toe ek geweet het dat ek Kenia toe wil gaan. Op 22 Mei van daardie jaar skryf ek in my opstelboek oor my “safari in Oos-Afrika”, en wanneer ek nou die opstel lees, is ek verbaas oor hoeveel ek toe van dié land in Oos-Afrika geweet het. Maar natuurlik was die feite nie oral korrek nie.
Ek skryf in die opstel dat ek die wenner van “‘n safari na een van Afrika se bekende wildtuine - die Masai Mara Wildtuin in Kenia” was. “Die wedstryd is deur ‘n bekende Engelse tydskrif, World of Wildlife, georganiseer.” Dié tydskrif met artikels en foto’s oor diere in hulle natuurlike habitat is tussen 1970 en 1974 uitgegee en was tydens my hoёrskooljare by die CNA op Harrismith te koop. Veral die artikels oor die diere van Afrika het my verbeelding geprikkel.
In een van die vroeё nommers van World of Wildlife was ‘n artikel met foto’s oor die Masai Mara en ‘n plakkaat van ‘n leeuwyfie (wat lank in my kamer gehang het), terwyl die tydskrif ook ‘n wedstryd vir ‘n “BOAC camera safari for two” na Nairobi en die Nairobi Game Park aangebied het. Sowel die artikel oor die Masai Mara as die wedstryd het my drome laat droom, want ek het onder meer die volgende oor dié verbeelde reis geskryf:
“Na al my voorbereidings is ek Londen toe waar ek sommige van die tydskrif se base ontmoet het. Daar het ek ook by ander safarilede aangesluit. Van Londen af is ons per vliegtuig terug na my kontinent - Afrika. Na sowat agt uur se vlieg het die vlieënier aangekondig dat ons op die lughawe naby Nairobi gaan neerstryk.
“Nadat ons by die doeanebeamptes verby is – ek as Suid-Afrikaner het nogal moeilik gekry – is ons per bus na seker vir my die mooiste wildtuin in die wêreld – die Masai Mara.”
Die res van die opstel handel oor die grootte van die wildtuin en die buitengewone natuurskoon. “Daar is seker min wildtuine wat só klein is en tog so baie bied. Die Masai Mara is veral ryk aan lede van die katfamilie!” Ek skryf ook hoe “staan bome geil en berge troon hoog teen die hemel op. Baie van die berge is só hoog dat hulle selfs in dié tropiese streek met sneeu op hul kruine bedek is.” Na ek uitgewei het oor die diere wat ons gesien en gehoor het, sluit ek af: “Ek kan nie uitgepraat raak oor al die mooi dinge in die natuur nie.”
Vandag weet ek sneeubedekte berge kom helaas nie in die Masai Mara voor nie, maar dié beeld is nie heeltemal vergesog nie. In Oos-Afrika en naby die ewenaar is wel sulke berge te sien. Hiervan is Kilimanjaro, Afrika se hoogste berg, in die noordooste van Tanzanië en teenaan die grens met Kenia, die bekendste. Verder noord in Kenia, en sestien kilometer suid van die ewenaar, is berg Kenia met sy sneeuhoed. In 1833 het ‘n sendeling oor dié sneeubedekte piek verslag gedoen, maar niemand het hom geglo nie.
Die beskrywing van hoe ek as Suid-Afrikaner in die 1970’s in Kenia ontvang is, is enigsins optimisties aangesien ek sekerlik nie ‘n visum sou kry om die land te besoek nie. Formele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Kenia was as gevolg van ons land se rassebeleid nie voor 12 April 1994 moontlik nie. Die beskrywing van die natuurlewe in die opstel was redelik getrou, maar in die Masai Mara met sy tipiese savanneplantegroei staan die doringbome met hulle kenmerkende sambreelvorm yl op die uitgestrekte grasveld.
Saturday, December 12th, 2009
Aan die Universiteit van Kaapstad was Marthinus Versfeld ‘n gewaardeerde gespreksgenoot van digters soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis, Boerneef en D.J. Opperman. Hy het poёsie geskryf, maar net enkele van die gedigte is gepubliseer. In sy skryfwerk toon hy groot waardering vir die poёsie en sluit so by twintigste-eeuse filosowe soos Martin Heidegger en Jacques Derrida aan. Hopelik sal sy bydrae as gespreksgenoot vir van die belangrikste Afrikaanse skrywers nog behoorlik ondersoek word en sy bydrae tot die Afrikaanse essay die erkenning kry wat dit verdien. Ook latere skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Petra Müller en Marlene van Niekerk het waardering vir sy werk gehad.
Oudstudente wat oor Versfeld se invloed op hulle getuig het, sluit Adam Small, Athol Fugard en Jeremy Cronin in. Cronin het gesê: “[H]e was trying to integrate different dimensions of life, and to think intellectually about that kind of integration, which was very different from what was increasingly becoming the dominant tradition in UCT.”
W.A. de Klerk, wat baie saam met Versfeld gaan bergklim het, het die volgende gesê: “Marthinus Versfeld is die soort mens wat gesoek word as hulle die dag nie meer daar is nie.” Mag Versfeld in hierdie huldigingsjaar, en hierna, sy regmatige plek in ons denke en samelewing kry.
Tags: Adam Small, André P. Brink, Athol Fugard, Boerneef, Breyten Breytenbach, DJ Opperman, Filosofie, I.D. du Plessis, Jacques Derrida, Jeremy Cronin, Marlene van Niekerk, Marthinus Versfeld, Martin Heidegger, NP van Wyk Louw, Petra Müller, Universiteit van Kaapstad, W.A. de Klerk, W.E.G. Louw Posted in Johann Lodewyk Marais | 1 Kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Sunday, December 6th, 2009
Marthinus Versfeld is op 11 Augustus 1909 gebore. Hy het aan die South African College Schools (SACS) skoolgegaan, aan die Universiteit van Kaapstad studeer en in 1934 ‘n doktorsgraad aan die Universiteit van Glasgow behaal. Vanaf 1937 was hy verbonde aan die Departement Filosofie van die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1970 ‘n professor geword het. Hy het hom glo min aan administratiewe sake gesteur en nooit ‘n senaatsvergadering bygewoon nie. In 1974 het hy afgetree. Hy het eredoktorsgrade van die Universiteit van Kaapstad en die Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) ontvang. Versfeld was getroud met Barbara (hy verwys meermale na haar as sy “Penelopeia”) en het nege kinders gehad. Op 18 April 1995 sterf hy in sy huis.
Oor die jare heen het Versfeld as deel van sy sowat dertig boeke en ander publikasies ‘n klompie essaybundels in Afrikaans en Engels die lig laat sien. As kenner van die Middeleeuse filosofie en die werk van Augustinus het hy internasionaal lof ingeoes. Met Food for thought: A philosopher’s cook-book (1983) het hy in die trant van Capon se The supper of the lamb ‘n klassieke werk vol verwondering oor kosmaak gelewer.
By Versfeld kry ‘n mens selde “droë filosofie” en boekhandelaars het nie altyd geweet op watter rak sy boeke hoort nie. Die essays in bundels soos Klip en klei (1968), Tyd en dae (1982) en Die neukery met die appelboom (1985) handel immers oor dinge soos huise, klippe, koskook, bergklim, hengel en jag. Hy het ook baie waarde aan vakmanskap geheg. Hy vertel byvoorbeeld trots hoe hy gehelp het om die berghut by Waaihoek in die Worcesterse berge te bou en self sy huisie in die Kouga aangepak het. Hierdie gerigtheid op die konkrete besorg aan sy werk ‘n minder verliteratuurde karakter as dié van sy tydgenote. Die meeste van sy boeke was nooit bedoel as handboeke vir studente nie; bergklimmers en natuurliefhebbers kan wel heelwat leer uit Berge van die Boland (1947 en 1965), wat hy saam met W.A. de Klerk geskryf het, en Die buitelewe (1970).
Die kwessie van mag en staatsfilosofie het Versfeld redelik koud gelaat. Hy bemoei hom ook nie direk met die eietydse filosofie nie, maar wel met eietydse vraagstukke wat hy dikwels toelig met verwysings na filosowe soos Sokrates, Augustinus en Thomas Aquinas. Opvallend is ook hoe die vraagstelling in sy werk voorop staan en hoedat die een onderwerp gemaklik uit die ander voortvloei. Dit maak sy essays minder gestruktureerd en oënskynlik nie tot in die vesels afgerond nie.
Hy vertaal ook Plato en die Chinese digter Lao-Tse in Afrikaans en verryk sy geskrifte met perspektiewe uit die werk van Oosterse denkers.
“Jan van Riebeeck het in die Kaap ‘n tuin kom aanlê vir die reisigers na die Ooste, maar ons het nog nie in die Ooste uitgekom nie,” het Versfeld by geleentheid vir my gesê.
Waarvoor Versfeld vandag baie erkenning moet kry, is die vroeë insig dat daar ‘n wanverhouding tussen die mens en die omgewing bestaan. Hy het venynige kritiek op die sewentiende-eeuse Franse filosoof van die Verligting, René Descartes, gelewer, omdat Descartes beweer het dat die mens met analitiese denke besit en beheer van die natuur kon kry. Versfeld het, soos Martin Heidegger, sy rug op die tegniek gekeer. Hy het nooit ‘n motor, ‘n tikmasjien of ‘n rekenaar besit nie.
Tags: Augustinus, Berge van die Boland, Die buitelewe, Die neukery met die appelboom, Essay, Food for thought: A philosopher's cook-book, Klip en klei, Lao-Tse, Marthinus Versfeld, Martin Heidegger, Middeleeuse filosofie, Omgewing, Plato, Randse Afrikaanse Universiteit, René Descartes, Robert Farrar Capon, Sokrates, South African College Schools (SACS), Tegniek, The supper of the lamb, The supper of the lamb: A culinary reflection, Thomas Aquinas, Tyd en dae, Universiteit van Glasgow, Universiteit van Kaapstad, Verligting, W.A. de Klerk, Waaihoek Posted in Johann Lodewyk Marais | 2 Kommentare »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|