Johann Lodewyk Marais
Monday, August 23rd, 2010
I
Ek het my skool- en vroeë universiteitsopleiding ontvang in die jare toe Suid-Afrika as gevolg van sy binnelandse beleid beperkte akademiese en kulturele kontak met die buiteland gehad het. Op universiteit was ek gelukkig nog deel van ‘n generasie studente wat in die kursus Afrikaans en Nederlands deeglik in die Nederlandstalige letterkunde geskool is. Ek kon indringend leer van die Nederlandse kultuurgeskiedenis, terwyl meer as die helfte van my wysbegeerte-handboeke in Nederlands was. Hoewel ek geen Nederlandse taalkursus bygewoon het nie, het ek dit reeds van my hoërskooldae af maklik gevind om Nederlands te lees en te verstaan.
Die kulturele boikot wat in 1979 deur Nederland teen Suid-Afrika ingestel is, is kort daarna deur Afrikaanstalige akademici en kultuurleiers nog meer effektief gemaak toe hulle met mening probeer én grootliks daarin geslaag het om van Nederlands as universiteitsvak ontslae te raak. Baie van ons wou al minder met die Nederlandstalige wêreld te doen hê. Binne hierdie gewaande sfeer van kulturele selfstandigheid is Nederlands al minder in Suid-Afrika gehoor (byvoorbeeld oor die radio) en het die Nederlandstalige boek as ’t ware van die rakke af verdwyn. Die afkoeling van verhoudings tussen Suid-Afrika en Nederland wat reeds rondom die Tweede Wêreldoorlog begin het, is toe voltrek.
Gedurende die 1980’s en begin van die 1990’s was dit vir my generasie al moeiliker om met die Nederlandstalige wêreld kontak te behou (en byvoorbeeld in Nederland te gaan studeer). Om hierdie rede moes ek tot so laat as 1994 wag voordat ek met ‘n lewende Nederlandse digter en akademikus, Ad Zuiderent, kon kennis maak. In dieselfde jaar was dit ook moontlik om Nederland en België te besoek en eerstehands met hulle uitgebreide boekebedryf kennis te maak. Ek het soos ons krieketspelers gevoel wat ná jare van afsondering weer die geleentheid gehad het om internasionaal gesig te wys. Dit was ‘n besonder bevrydende ervaring.
Reeds in 1995 het ek en Renée Marais as die redakteurs van Ensovoort ‘n nommer van die tydskrif aan perspektiewe op die bande tussen Afrikaans en die Nederlandstalige wêreld gewy. Dit was ‘n voorreg om kennis te maak met akademici van verskillende lande wat byna almal die waarde van die hernieude betrekkinge tussen hierdie taalgemeenskappe ingesien het. Wat my betref, het dit die grondslag help lê vir die verstewiging van die bande tussen skrywers, akademici en lesers in Suid-Afrika, Nederland en België. Dit was dan in 1997 ook vir my en Ad Zuiderent moontlik om die bundel Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse en Nederlandstalige gedigte oor die omgewing die lig te laat sien. Altesaam 70 vooraanstaande digters uit die twee taalgebiede het saam gedigte in een bundel gepubliseer. In 2009 het hierdie bundel ‘n agtste druk beleef.
Toe dit weer moontlik was om kulturele bande met die Nederlandstalige wêreld aan te knoop, was dit vir my duidelik dat daar literêr gesproke ‘n aantal dinge nodig was om hierdie projek te laat slaag. Ten eerste was dit noodsaaklik dat Afrikaanse boeke en ander leesstof in die Lae Lande beskikbaar moet wees en eweneens dat Nederlandse boeke en ander leesstof in Suid-Afrika redelik algemeen en bekostigbaar beskikbaar moet wees. Die vertaling oor en weer tussen die twee tale het sekerlik waarde, maar die tekste moes ideaal gesproke in die oorspronklike tale beskikbaar wees. Indien nie, sou hulle totaal van mekaar vervreemd raak en sou daar kwalik nog van ‘n spesiale band sprake wees. Waarom dan nie ook maar boeke uit enige ander taal (soos Duits, isiZulu, Kiswahili, Russies en Sweeds) vertaal nie?
II
 Ernst van Heerden
Gedurende Junie en Julie 1997 het ek ‘n kursus oor die taal en kultuur van Nederland en Vlaandere aan die Rijksuniversiteit Gent en die Universiteit Utrecht bygewoon. Die kursus was ‘n inisiatief van die Nederlandse Taalunie om Suid-Afrikaanse Neerlandici die geleentheid te bied om ná jare van afsondering met die Lae Lande kennis te maak en byskoling in die taal en kultuur in Gent en Utrecht te ontvang. In Gent het die groep van vyftien Suid-Afrikaanse Neerlandici ‘n keer die Poëziecentrum besoek. Ek was aangenaam verras oor die groot versameling Nederlandstalige digbundels, literêre tydskrifte en kritiek wat in die sentrum gehou en vir die publiek beskikbaar was. Ons gids het vertel dat min of meer alle Nederlandstalige digbundels in hierdie versameling opgeneem is. Aangesien die versameling in een gebou gehuisves is, was dit boonop maklik toeganklik vir navorsers. So byvoorbeeld het Gerrit Komrij sy navorsing vir al sy bloemlesings hoofsaaklik in die Poëziecentrum gedoen. Hy het ‘n gunstelingstoel en -plek in die sentrum wanneer hy daar navorsing doen.
Aangesien daar onder die groep Suid-Afrikaners wat daardie dag die Poëziecentrum besoek het heelparty letterkundiges was, was daar meer as gesonde belangstelling in die versameling. Ek het dit nogtans ‘n groot jammerte gevind dat daar nie ook in die sentrum ‘n volledige of ten minste betreklik volledige versameling Afrikaanse digbundels, tydskrifte en kritiek bestaan het nie. Ons gids dié dag, me. Van der Perre, en later die hoof, mnr. Willy Tibergien, het positief op die gedagte aan so ‘n versameling Afrikaanse digbundels gereageer. So ook my kollegas proff. Wannie Carstens van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (deesdae die Noordwes-Universiteit) en Dorothea van Zyl van die Universiteit van Stellenbosch.
Vir my was die uitdaging om ‘n redelik uitgebreide bestaande versameling Afrikaanse digbundels in die hande te kry om aan die Poëziecentrum te skenk. Terwyl ek nog in die sentrum rondgekyk het, het ek onthou van Ernst van Heerden se versameling digbundels wat ek ‘n keer tydens ‘n besoek aan sy huis te siene gekry het. Van Heerden het genoem dat sy bundels in die twee groterige boekrakke in sy studeerkamer naastenby volledig is en dat baie daarvan deur die digters geteken is en persoonlike opdragte aan hom bevat het. Tydens my besoek aan België was Van Heerden reeds ernstig siek en het ek geweet dat die digter Lucas Malan na sy afsterwe sy literêre kurator en die erfgenaam van sy boekery gaan wees.
In gesprekke daarna tussen my, Carstens, Van Zyl en Anton Basson (met heelwat Belgiese bier daarby!) het die opgewondenheid toegeneem om ‘n Ernst van Heerden-versameling in Gent te vestig. Ek het onderneem om Ernst van Heerden en Lucas Malan te probeer oorreed om die digbundels aan die Poëziecentrum te skenk. Van Heerden het boonop in 1953 op ‘n proefskrif oor die beeldgebruik in N.P. van Wyk Louw se poësie aan die Rijksuniversiteit Gent gepromoveer. Dit sou dus heeltemal gepas wees om die versameling daar te huisves en om op dié manier hulde aan Van Heerden te bring wat saam met heelparty ander verdien om wyer bekend te wees.
Ek het Lucas Malan gebel en hom gevra of hy my versoek aan Van Heerden sal oordra. Dit het min oorreding geverg om Malan se goedkeuring te kry en hy het onderneem om met Van Heerden daaroor te gaan praat. Hy kon my kort daarna meedeel dat ‘n erg verswakte Van Heerden ingestem het en dit as ‘n goeie gedagte beskou het. Ek het die besluit aan Carstens oorgedra. Van Heerden het in September 1997 gesterf en die taak is aan Basson, destyds verbonde aan die Universiteit van Vista, opgelê om die versameling te katalogiseer.
Met die hulp van die Algemeen Nederlands Verbond, die Orde van den Prince, die Vlaamse Instituut voor Zuidelijk Afrika (VIZA) en die Gentse tak van die Marnixring is die versameling van 609 bundels na België geneem. Met die steun van die Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit en Protea-boekwinkel op Stellenbosch word die versameling gereeld aangevul.
 Poëziecentrum
Die Ernst van Heerden-versameling is op 27 November 1998 amptelik aan die Poëziecentrum oorgedra. Die geleentheid is deur Carstens en Van Zyl bygewoon. Hulle het ook die tiende herdenking van die bestaan van die versameling bygewoon, wat gereeld met nuwe bundels aangevul word. Carstens noem die versameling “die grootste erflating vir Afrikaans van die Taalunieprojek, wat eintlik ingestel was op die uitbou van Nederlands in Suid-Afrika. Dit demonstreer die waardevolle wedersydse gevolge van ‘n sinergie tussen Afrikaans en Nederlands.” Vir my is dit nog steeds ‘n wonderlike gedagte dat daar so ‘n versameling tot stand gekom het waarin Afrikaanse poësie, die belangrikste enkele skepping in die Afrikaanse kultuur, opgeneem is.
III
Die afgelope paar jaar is daar ‘n lewendige debat oor die voortbestaan van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein. (Ensovoort het verlede jaar ‘n hele nommer daaraan gewy.) Uit dié gesprek en my eie betrokkenheid by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) weet ek hoe riskant die bewaring van ons kulturele erfenis is. Ek het immers beleef hoedat die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) Africanaboeke wat vroeër onder spesiale toestande bewaar is vir R1 stuk verkoop het. Die instandhouding, voortbestaan en gebruik van sulke versamelings is op die spel.
In ‘n era waarin duisende Suid-Afrikaners (onder andere ‘n groot aantal Afrikaanssprekendes) hulle in die buiteland bevind, is dit gewens om Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) boeke daar beskikbaar te hê. Saam met die akademiese belangstelling in Afrikaans by ‘n twintigtal buitelandse universiteite kan dit daartoe bydra om die belangstelling in en bestudering van Afrikaans lewendig te hou. My droom is dus dat daar selfs meer versamelings soos dié in Gent tot stand sal kom. Dit behoort wonderlik te wees om ten minste één boekery (benewens die versameling in die Suid-Afrikaanse Instituut in Keizersgracht 141, Amsterdam) in die buiteland te hê waarin ‘n uitgebreide versameling Afrikaanse boeke in alle genres bewaar word. Hopelik sal ons die nodige befondsing vir sulke inisiatiewe en skenkings bekom.
(Aangebied vir die Marnixring van Johannesburg op 12 Augustus 2010. Johann Lodewyk Marais.)
Thursday, August 19th, 2010
 Eugène Marais
Eugène Nielen Marais se ouers trek elf jaar voor sy geboorte van die plaas Nektar in Jonkershoek, Stellenbosch, weg en woon daarna ‘n aantal jare in Bloemfontein, in die Republiek van de Oranje-Vrijstaat. Ongeveer drie jaar voor Marais se geboorte vestig sy ouers hulle in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), ofskoon heelparty van Marais se broers en susters in die Boland of in die Vrystaat agterbly.
Marais is op 9 Januarie 1871 op die plaas Les Marais by Daspoort net buite die destydse Pretoria gebore. Ek kon tot dusver nog nie vasstel presies waar Marais gebore is nie. Gedurende die eerste tien jaar van sy lewe woon Marais in Pretoria by sy ouers: eers op die geboorteplaas by Daspoort, en daarna in Lynnwood House aan die westelike oewer van die Apiesrivier. Op vyfjarige ouderdom begin hy sy skoolopleiding by ‘n Nederlandstalige onderwyseres, mej. Anna Pottger, in die konsistorie van die ou grasdakkerkie op Kerkplein. Daarna ontvang hy onderrig van ‘n Engelse predikant, aartsdeken A. Roberts. Sy eerste Nederlands-onderrig (”feitlik as ‘n vreemde taal”, volgens M. Nienaber-Luitingh) ontvang hy een keer per week van ds. A.J. Begemann.
As leerling aan die First Class Public School in Paarl (later die Hoër Jongenskool Paarl) publiseer hy vroeg reeds gedigte in Engels, volg daarna ‘n joernalistieke loopbaan en word op negentienjarige ouderdom redakteur en, die jaar daarna, eienaar van Land en Volk, ‘n koerant wat krities teenoor pres. Paul Kruger was. In 1894 trou Marais met Aletta (Lettie) Beyers wat uit Natal gekom het. Sy sterf elf maande later met die geboorte van hulle seun, Eugène Charles Gerard Marais. Reeds voor haar dood raak Marais aan morfien verslaaf, wat ‘n ingrypende invloed op sy lewe sou hê, maar waarvan die rol in sy lewe dalk oorbeklemtoon word.
Sedert 1896 studeer hy aan die Inner Temple in Londen in die regte. Hy toon ook belangstelling in die medisyne, hiёrogliewe, dierenavorsing, hipnotisme, spiritisme en goёlery en maak met die laat-negentiende eeuse lewens- en wêreldbeskouing en wetenskapsopvattings kennis. Gedurende die Anglo-Boereoorlog neem hy deel aan ‘n geheime ekspedisie om medisyne en plofstowwe na die Boeremagte te neem, maar onderweg in die huidige Mosambiek ontvang hulle berig van die vredesluiting. Tydens die reis doen hy malaria op, wat hom daarna telkens weer pla, volgens hom.
Terug in Pretoria hervat hy sy joernalistieke werk by Land en Volk en praktiseer as advokaat in Pretoria en Johannesburg. Op lord Alfred Milner, met wie Marais korrespondeer, maak hy ‘n besondere indruk en dié noem pertinent sy naam wanneer hy sy opvolger per brief oor die Transvaal oriёnteer. Marais maak tussen 1907 en 1916 in die Waterberg ‘n studie van die gedrag van bobbejane, termiete en slange en tree as “wonderdokter” en vrederegter op. Ervarings wat Marais daar opdoen, lei onder meer tot die publikasie van Die siel van die mier (1934), Burgers van die berge (1938), The soul of the ape (1969) en Dwaalstories (1927).
In 1917 vestig Marais hom as prokureur in Pretoria en daarna op Erasmus (later Bronkhorstspruit), waar hy met die geneesheer en digter A.G. Visser bevriend raak. Sedert 1927 woon hy in Pretoria, onder meer by sy vriend Gustav S. Preller en sy vrou Hannie; hy verhuis later saam met die Prellers na Pelindaba. Hy lewer in hierdie jare heelwat bydraes vir (Ons) Die Vaderland. Op 29 Maart 1936 neem hy sy eie lewe op Pelindaba.
Behalwe die wetenskaplike werk waarna reeds verwys is, verskyn daar uit Marais se pen ook onder meer Versamelde gedigte (1933). In 1956 verskyn ‘n bundel Engelse vertalings van sy poёsie deur Anthony Emerson Thorpe. Verhaalbundels van hom sluit in Die huis van die vier winde (1933) en Die leeus van Magoeba (1934). Hy het ook dramas geskryf, byvoorbeeld Nag: Drama in vier bedrywe (1937).
Sunday, June 27th, 2010
 Jakarandas
Pretoria is groot en Kerkstraat is altesaam 26 kilometer lank. Volgens oorlewering is dit die langste hoofstraat in die wêreld. In Kerkstraat-Oos is daar aan albei kante van die straat jakarandabome. Ek is elke jaar op die uitkyk vir die eerste jakarandas wat begin blom, en 2 September was die vroegste wat ek ‘n jakarandaboom al sien blom het, hoewel hulle eers teen Oktober in hulle volle glorie staan. Nog ‘n interessantheid is dat ‘n mens jakarandabome met blomme aan baie maande van die jaar kan sien. Ek het vanjaar nog tot in Mei bome met blomme aan gesien. Dit beteken ‘n mens kan eintlik nege maande van die jaar jakarandas met blomme aan kry.
Afrikaanse digters soos Lina Spies (kyk “Somnambule” en “Van die weer gepraat” in Van sjofar tot sjalom (1987)) en Ina Rousseau (kyk “Jakarandatyd ‘83″ in Grotwater (1989)) het onvleiend oor Pretoria se jakarandas geskryf, maar die Griekse digter George Seferis (1900-1971), wat gedurende die 1940’s ‘n diplomaat by die Griekse Ambassade in Pretoria was en in 1963 die Nobelprys vir Literatuur verower het, het in Oktober 1941 met waardering oor Pretoria-Oos se jakarandas geskryf!
Kerk Straat Oost, Pretoria, Transvaal
Jacarandas playing castanets and dancing
threw around their feet a violet snow.
The rest’s uninteresting, and that
Venusberg of bureaucracy with its twin
towers and its twin clocks
profoundly torpid like a hippopotamus in blue sky.
And cars raced by showing
backs glistening like dolphins.
At the end of the street waiting for us -
strutting idly about its cage -
was the silver pheasant of China,
the Eurlocamos Nychtemerus, as they call it.
And to think we set out, the heart full of shot,
saying goodbye
to Onokrotalus the Pelican - he
with the look of a trampled Prime Minister
in the zoological garden of Cairo.
(Uit Roy McNab (ed.): George Seferis: South African Diaries, Poems and Letters (Cape Town: Carrefour Press, 1990)
Friday, June 25th, 2010
DIE ROETE
Tydens vandag se uitstappie op Eugène N. Marais se spoor gaan ons begin deur deur Pretoria te ry. Die strate (soos Kerk-, Blackwood-, Beatrix- en Proesstraat) wat ons gaan gebruik, het reeds in Marais se tyd bestaan, al het hulle sedertdien ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek sal tydens die toer ‘n aantal besienswaardighede uitwys wat op sy lewe betrekking het. Tydens die toer sal ons enkele afklimpunte besoek. Net een hiervan is in Pretoria. In die Kerkstraatse begraafplaas gaan ons naamlik na Marais en sy vrou se graf langs die Heldeakker kyk. Daar is natuurlik heelwat ander plekke in Pretoria wat met Marais verbind word, maar vandag gaan ons nie daaraan aandag gee nie. Dit regverdig eintlik ‘n toer op sy eie. Van die begraafplaas af ry ons weswaarts na Pelindaba waar ons besoek bring aan Gustav en Hannie Preller se huis, die rondawelhuis daarnaas waar Marais gewoon het, Lood Pretorius se huis waar Marais die geweer geleen het en die plek waar Marais homself geskiet het.
Monday, June 21st, 2010
Jare gelede het ek een middag in my motor geklim om die eerste keer na die plekke te gaan kyk waar die digter, prosaïs, joernalis, regsgeleerde, amateurwetenskaplike, morfinis en kindervriend Eugène N. Marais in die Waterberg gebly het. Dié dag was Leon Rousseau se Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) op die sitplek langs my, saam met twee of drie topografiese kaarte en ‘n aantekeningboek.
Oor sy Waterbergse ervarings het Marais baie geskryf en van dié boeke het hom beroemd gemaak. Die Waterberg met sy fauna, flora en mense het Marais besiel (vandaar waarskynlik sy boektitels Die siel van die mier en The soul of the ape) en hom heel aan die einde vergeefs laat hunker om soontoe terug te keer. Miskien daarom het die Waterberg my reeds as jong leser geboei en was dit die plek waar my reise op Marais se spore begin het.
Daardie middag in die Waterberg het ek ‘n bietjie koersloos na die Rietfontein van die gedig “Wanneer dit reёn op Rietfontein” tussen al die ander Rietfonteine op die kaart op my knie gesoek. Kort-kort het ek by die venster uitgeleun en by ‘n voetganger of fietsryer probeer hoor: “Waar is Rietfontein?”
Dié middag op die savanne het vir een van die unieke ervarings tydens my navoring oor Marais gesorg: Op ‘n werf buite Naboomspruit het ek hoopvol afgeklim en na die huis gestap waarheen ‘n jong man beduie het. “My ma het hom geken,” het hy tussen sy malende boelhonde agter my aan gesê. Op die agterstoep het ek die enigste persoon in al my navorsing oor Marais ontmoet wat hom nog uit die tyd van sy Waterbergse verblyf, 1907 tot 1916, self geken het. ‘n Ouerige mev. Van Heerden het vertel hoe sy meer as sestig jaar vantevore as dogtertjie op die Wonderdokter se skoot gesit en hoe hy met sy vinger liggies oor haar voorkop gevryf en haar “gemesmeraais” het.
Wednesday, June 16th, 2010
Eugène N. Marais (1871–1936) is in die Afrikaanse letterkunde van vroeg af as digter gekanoniseer ten spyte daarvan dat hy ook ‘n beduidende hoeveelheid bellettristiese en wetenskaplike prosa geskryf het.
*
Marais het hom in Londen in die regte bekwaam (1897–1901), maar daarna min belangstelling getoon in die één rigting waarin hy formele opleiding gehad het.
*
Marais was besonder ontvanklik vir Charles Darwin se The origin of species (1859), wat ‘n groot invloed op die lewens- en wêreldbeskouing tydens die tweede helfte van die negentiende eeu gehad het.
*
In die verhaal oor Marais se lewe en werk is daar een groot skurk: die Belgiese Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck (1862–1949).
*
F.G.M. du Toit se Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940) is ‘n goed gedokumenteerde studie, wat nog steeds ‘n belangrike bron van inligting is.
*
Na die aandag wat Robert Ardrey in African genesis: A personal investigation into the animal origins of nature and man (1961) aan Marais gegee het, het Marais se bydrae op die gebied van die etologie vir die eerste keer duidelik begin word.
*
W.C.H. du Randt het gedurende die 1960’s ‘n hele aantal studies aan Marais gewy, wat van die winste van die stilistiek op linguistiese grondslag getuig. Hy kom egter ook met ‘n aantal enigmatiese lesings vorendag.
*
Leon Rousseau se navorsing vir die skryf van Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) kan nie herhaal word nie.
*
Letterkundiges het lank jaloers oor Marais se literêre nalatenskap gewaak en min moeite gedoen om erkenning vir sy wetenskaplike werk te beding.
*
Danksy die besondere wyse waarop sy ‘n sfeer kan beskryf, het Elize Botha in 1980 en 1987 twee rigtinggewende essays oor Marais as prosaïs gepubliseer.
*
Deur in die veld agter diere aan te loop en hulle gedrag waar te neem, het Marais tot ‘n belangrike paradigmaverskuiwing in die natuurwetenskappe bygedra.
*
Na die differensie van die dissiplines het die opvatting lank bestaan dat literatuur en wetenskap twee onversoenbare wêrelde is.
*
Die paradigmaverskuiwing wat Thomas S. Kuhn se The structure of scientific revolutions (1962) bewerkstellig het, het daartoe bygedra dat die leser met ander oë na Marais se wetenskaplike geskrifte kan kyk.
*
Volgens Jonathan Culler (1997) is daar ‘n “basic human drive to hear and tell stories”. Natuurwetenskaplikes is eers onlangs bewus gemaak van die rol wat die vertelling (en ander literêre strategieë) in wetenskaplike tekste speel.
*
Die Waterberg is ‘n essensiële ruimte in Marais se lewe en werk.
*
Marais het baie daartoe bygedra om die soms bygelowige lesers van sy tyd (en daarna!) van die belangrikheid van rasionele verklarings vir verskynsels in die natuur te sensitiseer.
*
Die ontdekking van die Waterbergse broodboom (Encephalartos eugene-maraisii Verdoorn) weerlê die aanname dat Marais as natuurwetenskaplike ‘n boereverneuker was (’n idee onderliggend aan S. Zuckerman se tirade).
*
Marais sou hom verlustig het in David Copperfield se toertjies en self met een vorendag gekom het.
Tags: African genesis: A personal investigation into the animal origins of nature and man, Charles Darwin, David Copperfield, Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais, Elize Botha, Encephalartos eugene-maraisii, Etologie, Eugène N. Marais, Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, F.G.M. du Toit, Jonathan Culler, Leon Rousseau, Londen, Maurice Maeterlinck, Regte, Robert Ardrey, S. Zuckerman, Stilistiek op linguistiese grondslag, The origin of species, The structure of scientific revolutions, Thomas S. Kuhn, W.C.H. du Randt, Waterberg, Waterbergse broodboom Posted in Blogs, Johann Lodewyk Marais | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Monday, June 14th, 2010
 Platrand Gedenkteken
By Platrand, digby Ladysmith in KwaZulu-Natal, waar op 6 Januarie 1900 ‘n bloedige slag tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het, is ‘n kwatryn van Ernst van Heerden op een van die mure van die gedenkteken aangebring. Dit lees soos volg:
Deur hierdie hande het ‘n groter Hand
gestorte bloed so mildelik gesprei,
dat vingertoppe oor die heuwelland
na akkers wys waaruit die vryheid groei.
Die digter D.J. Opperman, wat in Noord-Natal gebore en grootgeword het, het die volgende kwatryn oor Platrand geskryf, wat moontlik as ‘n enigsins geïrriteerde ‘antwoord’ op Van Heerden se kwatryn beskou kan word:
PLATRAND BY LADYSMITH
Met vergesigte oor ‘n ou slagveld
lig ons beskermend en diep ontsteld,
O Heer, bo hierdie Burgerbeendere:
betongebare uit die groot geweld.
In die 1970’s het daar byna op Platrand ‘n Afrikaanse universiteit tot stand gekom. Die grond is deur die kinderlose mnr. Thys Jacobs, ‘n welgestelde boer van die distrik en oudstudent van die Universiteit van Stellenbosch, en sy vrou vir ‘n takkampus van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat beskikbaar gestel. Volgens oorlewering was Jacobs so vermoënd die Stadsraad van Kaapstad het by hom ‘n lening gehad!
Monday, June 14th, 2010
Bewaringsaksies kan skouspelagtig wees, soos dié wat gespruit het uit die visie van François Mitterand, ‘n voormalige Franse president, met die bou van Parys se Bibliothèque Nationale de France. Die biblioteek is in 1995 ingewy, en bevat elke boek en tydskrif wat sedert 1537 in Frans gepubliseer is. Met hierdie kolossale en moderne projek het Mitterand ‘n grootse argitektoniese nalatenskap vir hom en sy tyd geskep. Die bewaringsaksie kan ook minder skouspelagtig wees, soos dié van een van die eienaars van ‘n oorgelewerde Arabiese manuskrip in Timboektoe wat ‘n stryd teen die opdringerige sand van die Sahara voer deur voortdurend sand van die blaaie van sy boek weg te blaas. Of iemand wat nie oor die vermoë beskik om sy of haar gedagtes neer te skryf nie wat ‘n wonderlike storie êrens in die groot Afrikaanse nag aan belangstellendes oorvertel. Ja, die versameling, bewaring en benutting van dié skatte is belangrik en kan baie tot die prestige en trots van ‘n nasie bydra.
Sunday, February 28th, 2010
 Ilha de Moçambique
O.J.O. Ferreira het reeds ‘n groot bydrae met sy bestudering van aspekte van Portugal se meer as vyf honderd jaar lange kontak met Afrika gelewer. In sy werk word meermale onbekende of vergete fasette toegelig, wat die Afrikaanstalige leser die geleentheid bied om meer van hierdie geskiedenis te wete te kom. Aangesien sy werk op indringende navorsing in Suid-Afrika, Mosambiek en Portugal berus, word talle bronne vir die leser ontsluit en die moontlikheid van verdere navorsing gestimuleer. Sy Portugese leeskennis laat hom bowendien soos geen ander Afrikaanstalige geskiedkundige nie oor hierdie geskiedenis skryf.
Ferreira tipeer Ilha de Moçambique byna Hollands (Adamastor, 2010) as “‘n klein studie” (p. 1) waarin hy poog om iets van die grootsheid van Ilha de Moçambique, die strategies geplaasde tropiese eiland langs die noordkus van Mosambiek, onder woorde te bring. Vir hierdie doel word bykans uit elke denkbare en ondenkbare bron geput en ‘n indringende oorsig van die eiland se geografie, ligging en geskiedenis gegee. Heelwat ruimte word ook gewy aan die Nederlandse blokkades van die eiland en die onsuksesvolle pogings in 1604, 1607 en 1608 om die Fortaleza de São Sebastião te verower (pp. 29-66). Hierdie mislukte pogings is volgens die skrywer een van die redes waarom ‘n Nederlandse nedersetting later in die sewentiende eeu aan die Kaap tot stand gekom het. Tot dusver het hierdie “logiese afleiding” in die algemene geskiedenisse van Nederland en Suid-Afrika onvermeld gebly (p. 1).
Die Ooskus van Afrika het danksy handel met die Arabiere en Perse, asook latere kontak met besoekers uit Europa, wat daar die eerste permanente Europese nedersetting suid van die ewenaar gevestig het, ‘n ryk kultuurhistoriese, demografiese en genetiese nalatenskap. Vir die Portugese was die eiland “‘n uiters belangrike kommersiёle, militêre en politieke skakel tussen Lissabon en Goa in Indiё” (p. 22). Saam met die Lamu-argipel langs die kus van Kenia, asook Zanzibar en Pemba langs die kus van Tanzaniё, is Ilha de Moçambique een van die belangrikste eilande langs die Ooskus. Die wel en wee van die besetters en bewoners van die eiland word in hierdie boek boeiend weergegee en van talle illustrasies en kaarte voorsien. Op hierdie eiland het die groot Portugese digter Luís Vaz de Camões (1524–1580) boonop sy groot epiese gedig, Os Lusíadas, voltooi. Geen wonder dus dat die eiland in 1991 deur UNESCO as ‘n Wêrelderfenisterrein verklaar is nie.
Ilha de Moçambique byna Hollands is in ‘n vloeiende styl geskryf en die algemene versorging (met Schalk le Roux se hulp en talle foto’s) getuig van die hand van ‘n uiters vaardige geskiedkundige wat niks afskeep nie. (Kyk byvoorbeeld na die lys gesaghebbers van die eiland!) Ek het groot vreugde aan die lees van die boek gehad en is dankbaar dat daar nou in Afrikaans ‘n werk bestaan wat die geskiedenis en betekenis van Ilha de Moçambique met soveel respek aan die leser voorstel. Ek twyfel nie daaraan dat hierdie werk daartoe kan bydra om belangstelling in die geskiedenis van die Ooskus van Afrika verder te stimuleer nie.
Tags: Adamastor, Fortaleza de São Sebastião, Ilha de Moçambique byna Hollands, Lamu-argipel, Luís Vaz de Camões, Mosambiek, Nederlandse blokkades, O.J.O. Ferreira, Os Lusíadas, Pemba, Portugal, Schalk le Roux, UNESCO, Wêrelderfenisterrein, Zanzibar Posted in Johann Lodewyk Marais | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Sunday, February 21st, 2010
Baie besoekers aan Kenia is bekend met die Karen Blixen-museum buite die hoofstad Nairobi waar die beroemde Deense skrywer van onder meer Out of Africa (1937) van 1917 tot 1931 gewoon en met koffie geboer het. Die huis is reeds sedert 1985 oop vir die publiek en bykans 50 000 Keniane en besoekers van dwarsoor die wêreld gaan jaarliks daarheen. Buitelanders word waarskynlik aangetrek deur die intellektuele charisma van dié skrywer en die mite wat die rolprent Out of Africa, met Meryl Streep en Robert Redford in die hoofrolle, van die skryfster en haar minnaar Denys Finch Hatton help skep het. Toe ek tydens ‘n besoek aan dié huismuseum aan die gids, Rosemary Agutu, vra of en hoeveel Keniane die huis besoek, het sy soos volg geantwoord: “There are many, because she was good for the people who worked for her.” Karen Blixen se nagedagtenis as ‘n simpatieke werkgewer vir sowat 600 werkers op haar koffieplaas het bly voortbestaan.
Die Karen Blixen-museum het oor die jare baie ondersteuning van die Deense regering gekry, wat die huis en die grond waarop dit staan aan die regering en mense van Kenia geskenk het. Die Deense regering het ook bygedra tot die publikasie van ‘n uitstekende handleiding deur Tove Hussein getiteld The Karen Blixen Museum: Nairobi (2005).
Tags: Denys Finch Hatton, Karen Blixen, Karen Blixen-museum, Kenia, Koffie, Meryl Streep, Nairobi, Out of Africa, Robert Redford, Rosemary Agutu, The Karen Blixen Museum, The Karen Blixen Museum: Nairobi, Tove Hussein Posted in Johann Lodewyk Marais | 1 Kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|