Nini Bennett

Nini Bennett. Die huls

Thursday, February 14th, 2019

 

Empatie het baie gesigte.

 

1.

 

Now That We Have Tasted Hope

 

Now that we have come out of hiding,

Why would we live again in the tombs we’d made out of our souls?

 

And the sundered bodies that we’ve reassembled

With prayers and consolations,

What would their torn parts be, other than flesh?

 

Now that we have tasted hope

And dressed each other’s wounds with the legends of our

oneness

Would we not prefer to close our mouths forever shut

On the wine that swilled inside them?

 

Having dreamed the same dream,

Having found the water behind a thousand mirages,

Why would we hide from the sun again

Or fear the night sky after we’ve reached the ends of

darkness,

Live in death again after all the life our dead have given us?

 

Listen to me Zow’ya, Beida, Ajdabya, Tobruk, Nalut,

Listen to me Derna, Musrata, Benghazi, Zintan,

Listen to me houses, alleys, courtyards, and streets that

throng my veins,

Some day soon, in your freed light, in the shade of your

proud trees,

Your excavated heroes will return to their thrones in your

martyrs’ squares,

Lovers will hold each other’s hands.

 

I need not look far to imagine the nerves dying,

Rejecting the life that blood sends them.

I need not look deep into my past to seek a thousand hopeless vistas.

But now that I have tasted hope

I have fallen into the embrace of my own rugged innocence.

 

How long were my ancient days?

I no longer care to count.

I no longer care to measure.

How bitter was the bread of bitterness?

I no longer care to recall.

 

Now that we have tasted hope, this hard-earned crust,

We would sooner die than seek any other taste to life,

Any other way of being human.

 

Khaled Mattawa, 1964

 

2.

 

Die huls

 

’n Vrou het teruggekeer na Kaapstad en begin verander. Soos die vreemde straatname, die verwaarloosde plein in Pretoria het sy bly verander tot sy ná jare bewus geword het van ’n vreemde, onsigbare harnas wat om haar gevorm het. Dit was snags in haar drome wat sy hierdie harnas kon sien en het geweet sy naam is “huls”. Die droomliggaam vermoed veel meer as die wakker, wakende een. Die huls was gevorm deur ’n dik, horingagtige laag chitien en het haar liggaam se kontoere moeiteloos aangeneem en nageboots, in volmaakte sinkronisasie met die vleeslike lyf.

Die vrou het vanaf Lanseria-lughawe vertrek met net ’n smal tas en drie boeke in haar handsak: ’n Bybel, ’n letterkundige woordeboek en ’n kosbare digbundel. Die wolke op die vliegtuigvenster het saamgereis. Sy het tydens die twee uur lange vlug die verskillende skyngestaltes van water betrag, sweisende reënformasies in Gauteng tot sy Kaapstad se helderblou koepel binnegevlieg het.

Dit was koud op die lughawe. Lughawens is altyd koud, ongeag die tyd van die jaar. Die vrou het haar swart leerbaadjie stywer om haar gevou en vir die eerste maal gedink: harnas. Sy sou haar verlede verruil vir ’n nuwe lewe en geliefde. Te midde van die drukgang van baie passasiers kon sy die gapings tussen die vreemdes aanvoel. Leegtes.

Bedags het sy gaan stap om die eensaamheid te besweer. Haar geliefde, wat net so eensaam soos sy was, het haar stiltes begryp, onuitgesproke, of met die volheid van berusting wat slegs twee siele verstaan. Soos katte wat die winterson deel.

Die dorp was oud en waardig en met elke nuwe staproete het sy opnuut bewus geraak van die aura soos ’n ou, koloniale landheer.

Só het die vrou weer een laatmiddag gaan wandel, en voor sy die deur agter haar gesluit het, het sy doodseker gemaak die huls is in plek.

By die eerste stopstraat het sy die glasgruis van ’n onlangse motorongeluk in die son sien blink. Sy het gehurk, ’n gebuigde stuk van ’n brilraam opgetel. Die afleweringsbode op die 50 cc-motorfiets, het sy onthou: sy het daarvan in die koerant gelees. Dit was noodlottig. Vir ’n flitsoomblik kon sy hom sien ry, regop en stigtelik soos die bestuurders van klein motorfietse sit, weerloos met net sy liggaam teen die brullende, skellende verkeer. Die vrou het vorentoe geruk maar kon haar ewewig betyds herwin; die val op die teerpad, die man se baadjie wat op die rugkant oopskeur met die impak van die botsing, die valhelm wat skuins van sy kop af slinger…

Sy het die brilraam versigtig neergesit in die stof, die oorledene se laaste pyn en angs in haar huls geberg.

Sy het haar kop gedraai na ’n swiepgeluid hoër op in die straat. ’n Uber het omgedraai en stadig in die pad afgekruie, op soek na sy passasier. Die bestuurder sien alles wat sy sien, het die vrou gedink, maar hy het nie ’n huls nie; hy het ook nie een nodig nie. Daar is geen noodsaak vir hom om berig te doen oor die dag se gebeure nie; dit in woorde te week nie.

Dan het ’n beweging haar aandag getrek na die sypad, na ’n eikeboom. Die skadukol het begin lewe. ’n Man het zig-zag nader geloop toe hy die voertuig gewaar, tot baie na aan die vrou. Die man was bejaard en spookwit in die helder middagson. Die vrou het doodstil bly staan; geknik in ’n groet en na binne gekrink toe hy in ’n spastiese zig-zag zig-zag soos ’n krap bly aanskuifel na die wit Toyota. Sy hare was wintergras en sy vel perkament, vol sonvlekke.

Toe die motor wegtrek, het sy weer aangestap, maar gevoel hoe haar linkervoet al swaarder word tot sy dit agter haar moes aansleep. Die man met die swaar been. Nee, het sy haarself gedwing: stil gaan staan en gevoel hoe die onsigbare eksoskelet om haar probeer buig onder die juk wat die ou man moes dra. Maar die harnas wat sterk en horingagtig en kon baie verduur, ook haar familie se geheime, leuens en tragedies. Verál haar familie se afwesigheid – die verlange na haar bloedmense het haar harnas gevoed soos kalk en soos so dikwels het sy William Holman Hunt se Sondebok in haar geestesoog herroep, die oë geel en leeg en ontdaan van lig, die flanke ineengedoke soos dié van ’n dier wat te veel moes ly. Die agterpote wou swik onder die gewig van andere se blaam.

Die Bok het tussen die soutsuile van die Dooie See aan Hunt verskyn.

Die vrou het ’n sluk water uit die bottel in haar handsak geneem en haar gebroke voetval het reëlmatig geword. Die plaaslike hoërskool se kinders was reeds huis toe. Net die geknal van tennisballe teen rakette was nou hoorbaar. Sy het loom aangestap, die ritme van die spel in haar huls bly voel, en regs gedraai in ’n cul-de-sac, waar die Huis Janus vir Skisofrene was.

Eensaamheid het baie doppelgänger. Sy het die sestal gewaar, besig om duiwe uit ou roomysbakke te voer. Vier dames en twee mans. Hulle het op die stoep gesit, stroefgesig en hangkop, dof gemedikeer terwyl hulle stukkies brood na die grasperk slinger. Die jongste skisofreen het nie meegedoen nie en doodstil, asof in reliëf met die gefossileerde sigaret tussen sy vingers op die muurtjie langs die trapreëling bly sit. Duiwe met vet kroppe het steierend geland; pik-pik-pik weggevlieg met die inwoners se verwarring.

Die vrou het stadiger geloop, gemaak asof sy doenig was met haar selfoon om die sestal nie te ontstel nie.

“Bye,” het die jongman op die muur skielik bewus geword van haar teenwoordigheid. “Bye…”, en die dooie sigaret het tussen sy vingers deur geval. Hy het sy hand opgelig en gewaai. En vir ’n oomblik het die vrou die huls teen haar skouers voel skaaf. Chitien kan nie rek nie, het sy beangs gedink: sy sou binnekort moes vervel. Sy vervel vier keer ’n jaar wanneer die huls versadig raak van te veel pyn en invloede.

“Verskoon tog,” het ’n verpleegster skielik op die stoep verskyn. Die vrou het gegroet, die verpleegster vinnig takseer. Sy kon nie ouer as 23 gewees het nie. Haar oë was nog onaangeraak deur die inwoners en hulle psigose. Geen residu van sinisme of wanhoop nie – inteendeel: haar oë was vol hoop, oop en helder soos ’n dag sonder wolke.

“Alles reg,” het die vrou gerusstellend geglimlag, vir ’n oomblik die huls teen haar bors voel druk. Eens op ’n tyd het sy ook sulke oë gehad, gereed om onverwyld die wêreld te verander.

“Bye…” Die man se hand het bly wuif lank nadat haar rug om die draai verdwyn het. Sy het kortpad deur ’n stuk veld gekies huis toe, die klitsgras wat in haar broekspype inbyt, geïgnoreer. Die uitgetrapte voetpad was nou wel nie die veiligste roete huis toe nie, maar die vrou het uit ondervinding geweet dat haar huls haar beskerm teen mense met kwaadwillige bedoelings: selfs al kon boosdoeners dit nie sien nie, was hulle bewus daarvan. Die pad het uitgemond in ’n stil straat, ongeveer ’n blok vanaf haar woning op die landgoed met die vierhonderd huise. Sy het haar oë teen die skril middagson geskreef, want verstrengel tussen die twee weerhake van die doringdraad het daar ’n winddroë voël gehang.

Nadergestap. Dit sal die wenfoto in ’n fotokompetisie wees, was haar eerste gedagte en sy het na haar selfoon in haar handsak gereik, maar die drang onderdruk. Dit sou die Janfiskaal se waardigheid aantas. Die ironie! ’n Laksman wat homself gehang het. Waarskynlik misgis het met die wind. Sy kon die weerhake teen haar eksoskelet voel skraap, maar kon die ergste pyn afskild.

Tuis het sy die voordeur agter haar gesluit, haar handsak op ’n stoel in die verbygaan neergegooi.

Sy het oor die ou poseleinwasbak in die badkamer gehang en gewag. Haar huls het geprotesteer, onlading was nou nodig. Dit was nog nie tyd om te vervel nie.

Die bloed het moeisaam hulle weg deur die traankliere gevind, die Meiboom-kliere onder geweldige druk om die taai, dik vloeistof te formeer. Die vrou het na haar asem gesnak. Die pyn was haas onhoudbaar.

Haar kop het begin bewe en sy het omgedraai; ’n stuk toiletpapier van die rol afgeruk en gebondel, versigtig die bloedtrane weggevee en na haar dowwe weerkaatsing in die spieël gekyk. Nou kon sy kreun, want daar was niemand binne hoorsafstand om haar pyn te hoor nie. Stadig; het sy haarself gemaan; haal egalig asem.

Toe het sy die kraan oopgedraai, gekyk hoe die bloeddruppels tot ’n rooskleur verwater voor dit slurpend in die wasbak se draaikolk wegsyfer.

Die vrou het haar gesig gewas en vanuit die spieël se meniskus het sy reguit in haar bloedgestippelde oë teruggestaar.

Pyn is biologies, het sy haarself getroos. Tydelik. Dis gesetel in die liggaam. In die nalewe is daar nie pyn nie, ook nie in die hiernamaals of die lewe daarná nie. Sy het die dag se gebeure vasgelê in haar huls soos ’n neerslag; na die bedkassie gereik en ’n halwe slaappil, ’n kalmeerpil en twee pynpille afgesluk. Eufemisme. Onder die huls het haar liggaam begin ontspan, die voering rondom haar lyf sag, uitgevoer soos die dons van ’n voëlnes of die satyn in ’n doodskis.

Die vrou het verklee. Incognito ’n swart denim en bloes aangetrek, die swaar, swart stewels toegestrik en die leerarmbande met die klinknaels om haar polse vasgeknip. Sy het geen tatoeëermerke aan haar lyf gehad nie; laat maagdevlees dan maagdevlees bly, het sy gedink, binnekort moet sy weer vervel, dan bars die chitienlaag oop. Dan skeur die huls van die skedeldak tot oor die bladbene in haar rug en oor die skouergordel tot in die voetwortels se teer beentjies. Sy sou haar bewussyn verloor en op die grond val, voel hoe haar hele skelet sag word, soos bindweefsel. Sy vrees elke vervelling soos die heel eerste keer toe dit kort na haar aankoms in die Kaap die geval was. Vir dae aaneen sou sy naak op die bed lê en rook en moeg oor haar teer vel streel. Sy was kwesbaar – en moes wag tot die nuwe, murgagtige laag chitien harder word alvorens sy die huis kon verlaat.  Haar huid was besonder lig met ’n gebrek aan melanien en min natuurlike weerstand teen Afrika se skerp son. Die teelaarde vir kwaadaardige bloeiwyses. Alle babas word bleek gebore, sou sy peins: rosig, of geklee in ’n gekneusde pers. Die pigment – én die vrees en haat – kom eers veel later.

Die vrou het opgestaan, onthou dat haar geliefde laat werk.

Die straatlampe was reeds geeste in die donker toe sy koers gekies het na die naaste restaurant. Die lampe was geel, soos die Kaap se gebruik was. Geel raak nie weg in die mis nie. Die straatlampe wat sy jare gelede in Pretoria agter gelaat het, was wit.

By die swaar houttoonbank het die vrou gaan sit. “’n Dubbel met ys”, het sy die kroegman nadergewink met haar gebruiklike whisky-bestelling en pokergesig. Hy het ’n paar sekondes te lank na haar gestaar, toe geknik en omgedraai.

“Die vrou het geen emosie nie,” het sy hom eendag oor haar hoor sê. “Wat kom soek sy hier? Sy praat nooit met iemand nie. ’n Yskoue teef, en glo my, ek ken mense. “

Fok jou, het sy gedink toe hy die glas voor haar neersit. Wat weet hy van die huls?

 

© Nini Bennett, 2019

 

 

Verwysing

https://www.poets.org/poetsorg/poem/now-we-have-tasted-hope

 

 

 

 

 

Nini Bennett. Frida Kahlo: uit binnekamers en briewe

Monday, January 21st, 2019

 

Die Meksikaanse kunstenaar Frida Kahlo se werk kan beskryf word as intiem, dog konfronterend; teer, dog realisties; vurig, dog melankolies. Kahlo (6 Julie 1907–13 Julie 1954) word onthou as een van die mees merkaardige kultuurikone van die twintigste eeu. Afgesien van die 143 skilderye en ander artefakte in haar museum-huis in Meksikostad, lewer sy ook ’n literêre bydrae. Dit behels dagboekinskrywings en briewe wat gebundel is en as The Diary of Frida Kahlo: An Intimate Self-Portrait uitgegee is.

As kind het Kahlo polio gehad, met die gevolg dat haar regterbeen misvorm was. Sy het hierdie inperking verdoesel deur helderkleurige rompe te dra. ’n Dekade later tref die volgende ramp Kahlo: sy het skaars ingeskryf as mediese student aan die gesogte Preparatoria School toe ’n busongeluk sy tol eis. ’n Metaalreling het haar uterus deurboor, ’n insident wat gelei het tot veelvoudige inwendige beserings en frakture dwarsoor haar liggaam. Na ‘n paar maande in die hospitaal het sy met moeite van voor af leer loop en geweldige pyn verduur. Tydens haar leeftyd is Kahlo meer as 35 keer geopereer. Met die eerste herstelfase, direk ná die ongeluk, het haar vader ’n spieël bo haar hospitaalbed gemonteer en vir haar ’n esel en verfkwaste gebring om haar aandag weg te lei van die trauma. Die kunstenaar, wat as kind laas geteken het, het spoedig haar talent (her-)ontdek. Sy was groot dele van haar lewe bedlêend en 55 van haar skilderye is selfportrette: sy het die subjek van haar eie alleenwees en pyn geword.

Ten spyte van ernstige terugvalle van depressie was Kahlo uitbundig en lief vir die lewe, ’n dualisme wat ook sigbaar is in haar werk. Sy het met oorgawe partytjie gehou, gerook soos ’n skoorsteen en vurige verhoudings met mans, sowel as vroue aangeknoop. In 1929 het sy die gevierde Meksikaanse kunstenaar, Diego Rivera ontmoet; op sy beurt ’n ikoon wat sy vir jare in die geheim bewonder het. Diego se rol in haar lewe het vinnig verwissel van mentor na minnaar en ten spyte van haar moeder se waarskuwings is Kahlo en Rivera twee jaar later getroud. Die egpaar het dieselfde hartstogtelike geloof in die Marxistiese Rewolusie gedeel en was aktiewe lede van die Meksikaanse Kommunistiese Party. Maar Rivera – twintig jaar ouer as Kahlo – was jaloers, dominerend en ontrou aan sy vrou. Kahlo, op haar beurt, het egter nie op haar laat wag nie en affairs aangeknoop met onder meer die sangeres, Josephine Baker, die Russiese Marxis, Leon Trotsky, en die Meksikaanse sangeres, Chavela Vargas.

Die bose siklus van liggaamlike en emosionele pyn het Kahlo se gebruik van selfmedikasie, ’n kombinasie van sterk pynstillers en Tequila, gesneller. Dit was die kunstenaar se droom om kinders van haar eie te hê, maar al drie haar swangerskappe moes noodgedwonge beëindig word as gevolg van die skade aan haar uterus. Sy het op 47-jarige ouderdom selfmoord gepleeg. In “Die goeie vrou en ander mites” beskryf Corlia Fourie Kahlo se lyding só:

 

Frida Kahlo

 

Jou been,

jou voet,

jou bekken,

gebreek

in ’n rampstamp

busrit.

 

Toe het jy jou

hele lyf

soos ’n ui afgeskil:

eers die klere,

toe die sappige

seer vleis,

laag op laag,

het die mes

dieper

en dieper

ingesny.

 

Toe die skywe

op doek na doek

uitgestal:

die bekken,

die baarmoeder,

die niere,

die hart,

die verminkte voet,

die liggaam deurboor

van pyle,

die oog wat nie wyk, wat skreeu:

kyk,

kýk.

 

Frida Kahlo het met haar skilderye dikwels na Meksiko se vroeë Asteekse en Maya-kuns verwys, en daarnaas ook fasette van die Europese kunsgeskiedenis gereflekteer. Haar werk is ’n bemoeienis met indringende sosiale en politieke kwelvrae. In Kahlo se dagboek is dit egter die besonder intense en poëtiese kwaliteit van haar briewe aan Diego Rivera wat opval. Hierdie gefragmenteerde prosa en poësie bevat geen letterlike belewenisse nie; eerder ’n tipe liefdesliriek en hartstog, gebore uit vrye assosiasie en bewussynstroomstegniek.

Diego.

Truth is, so great, that I wouldn’t like to speak, or sleep, or listen, or love. To feel myself trapped, with no fear of blood, outside time and magic, within your own fear, and your great anguish, and within the very beating of your heart. All this madness, if I asked it of you, I know, in your silence, there would be only confusion. I ask you for violence, in the nonsense, and you, you give me grace, your light and your warmth. I’d like to paint you, but there are no colors, because there are so many, in my confusion, the tangible form of my great love.

F.

 

Diego:

Nothing compares to your hands, nothing like the green-gold of your eyes. My body is filled with you for days and days. you are the mirror of the night. the violent flash of lightning. the dampness of the earth. The hollow of your armpits is my shelter. my fingers touch your blood. All my joy is to feel life spring from your flower-fountain that mine keeps to fill all the paths of my nerves which are yours.

 Auxochrome — Chromophore. Diego.

 

She who wears the color.

He who sees the color.

Since the year 1922.

 

Until always and forever. Now in 1944. After all the hours lived through. The vectors continue in their original direction. Nothing stops them. With no more knowledge than live emotion. With no other wish than to go on until they meet. Slowly. With great unease, but with the certainty that all is guided by the “golden section.” There is cellular arrangement. There is movement. There is light. All centers are the same. Folly doesn’t exist. We are the same as we were and as we will be. Not counting on idiotic destiny.

 

 

My Diego:

Mirror of the night

Your eyes green swords inside my flesh. waves between our hands.

All of you in a space full of sounds — in the shade and in the light. You were called AUXOCHROME the one who captures color. I CHROMOPHORE — the one who gives color.

You are all the combinations of numbers. life. My wish is to understand lines form shades movement. You fulfill and I receive. Your word travels the entirety of space and reaches my cells which are my stars then goes to yours which are my light.

 

 

Auxochrome — Chromophore

It was the thirst of many years restrained in our body. Chained words which we could not say except on the lips of dreams. Everything was surrounded by the green miracle of the landscape of your body. Upon your form, the lashes of the flowers responded to my touch, the murmur of streams. There was all manner of fruits in the juice of your lips, the blood of the pomegranate, the horizon of the mammee and the purified pineapple. I pressed you against my breast and the prodigy of your form penetrated all my blood through the tips of my fingers. Smell of oak essence, memories of walnut, green breath of ash tree. Horizon and landscapes = I traced them with a kiss. Oblivion of words will form the exact language for understanding the glances of our closed eyes. = You are here, intangible and you are all the universe which I shape into the space of my room. Your absence springs trembling in the ticking of the clock, in the pulse of light; you breathe through the mirror. From you to my hands, I caress your entire body, and I am with you for a minute and I am with myself for a moment. And my blood is the miracle which runs in the vessels of the air from my heart to yours.

The green miracle of the landscape of my body becomes in your the whole of nature. I fly through it to caress the rounded hills with my fingertips, my hands sink into the shadowy valleys in an urge to possess and I’m enveloped in the embrace of gentle branches, green and cool. I penetrate the sex of the whole earth, her heat chars me and my entire body is rubbed by the freshness of the tender leaves. Their dew is the sweat of an ever-new lover.

It’s not love, or tenderness, or affection, it’s life itself, my life, that I found what I saw it in your hands, in your month and in your breasts. I have the taste of almonds from your lips in my mouth. Our worlds have never gone outside. Only one mountain can know the core of another mountain.

Your presence floats for a moment or two as if wrapping my whole being in an anxious wait for the morning. I notice that I’m with you. At that instant still full of sensations, my hands are sunk in oranges, and my body feels surrounded by your arms.

 

 

For my Diego

the silent life giver of worlds, what is most important is the nonillusion. morning breaks, the friendly reds, the big blues, hands full of leaves, noisy birds, fingers in the hair, pigeons’ nests a rare understanding of human struggle simplicity of the senseless song the folly of the wind in my heart = don’t let them rhyme girl = sweet xocolatl [chocolate] of ancient Mexico, storm in the blood that comes in through the mouth — convulsion, omen, laughter and sheer teeth needles of pearl, for some gift on a seventh of July, I ask for it, I get it, I sing, sang, I’ll sing from now on our magic — love.

 

Met erkenning aan Barbara Crow De Toledo en Ricardo Pohlenz vir die vertaling van bostaande gedeeltes van Spaans na Engels.

 

Verwysings:

 

Fuentes, C. en Kahlo, F. 2005. The Diary of Frida Kahlo: An Intimate Self-Portrait. Abradale Press.

https://en.wikipedia.org/wiki/Frida_Kahlo

http://www.fridakahlofans.com/booksenglish.html

Fourie, C. 2018. Die goeie vrou en ander mites. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

Nini Bennett. Vermiste mense

Sunday, November 25th, 2018

 

 

1.

 

Jou naam kom nooit na vore

Nie in grou geregskantore

Nie in lêers oor verhore nie

Jou diepste, verste spore loop ook dood

 

Ek kan dit nie verduur nie

Daar’s geen saak en geen dossier nie

Geen deure wat nog skanier nie

En die wete: Jy’s nie hier nie

Voel soos lood

 

Ek bly opsoek na lank vermiste mense

Maar almal bly my oninhaalbaar voor

Die jare skif tot newels voor die lense

En die hart verloor maar mettertyd die spoor

 

Die stad bars uit sy nate

En die rustelose strate

Sonder jou is leeg verlate

En ek weet in watter mate ek jou mis

Ons praat soms soos tevore

En ’n droom word weer gebore

Maar ’n wêreld lê verlore

In die leegheid van die woorde

Wat daar is

 

Ek soek vergeefs na lank vermiste mense

Wat om my is, maar onbereikbaar ver

Wat langsaam uitgekring het oor my grense

Nog lokkend, maar afsydig, soos ’n ster

 

Koos du Plessis

 

Volgens kenners is daar oorkoepelend vier hoofoorsake waarom mense as vermis aangegee word. (1) Die persoon het doelbewus weggeloop vanaf die huis. (2) Die persoon was van plan om selfmoord te pleeg, en die weglooppoging ’n manier om eerder in absentia deur naasbestaandes onthou te word as om met die verdoemende tyding van selfdood gekonfronteer te word. (3) Die persoon het vermis geraak as gevolg van vuilspel soos ontvoering of moord. (4) Die persoon was ’n slagoffer van ’n ongeluk soos ’n natuurramp, ’n motorongeluk of ’n siektetoestand. Redes vir verdwynings kan verder in subklassifikasies geressorteer word, byvoorbeeld: die persoon verdwyn omdat hy voortvlugtend is vir die gereg (versuim om in die hof te verskyn); of as gevolg van geestesstoornisse soos bipolariteit, skisofrenie en demensie; die persoon verdwyn om ’n nuwe begin te maak onder ’n ander identiteit; óf om verantwoordelikhede te ontduik; dan speel verslawingstoestande, werkloosheid en huishoudelike konflik ’n rol. Uiteraard word die individu se potensiële betrokkenheid by misdaad, of selfs ’n fabrikasie van ’n eie dood vir versekeringsdoeleindes, soms ondersoek. Hoe dit ook al sy: om ’n verslag van ’n versmiste persoon saam te stel, is nooit goeie nuus nie.

Tussen Januarie en Desember 2015 is daar op nasionale vlak 941 mense as vermis aangegee. Die Weskaap het die meeste verdwynings gerapporteer (499) teenoor Gauteng se 380, terwyl die ander provinsies se statistiek relatief laag is (Grafika 24). Ongeveer 90% van hierdie individue is lewend (maar nie noodwendig ongedeerd) gevind nie. Die meeste verdwynings haal nooit die hoofstroommedia nie en is volledig aangewese op gemeenskapskoerante en -organisasies vir bewusmakingsveldtogte rondom vermiste mense. In hierdie verband is The Pink Ladies, ’n Artikel 21-maatskappy, van onskatbare waarde. Kriminoloë, sielkundiges en ander gedragskenners beywer hulself daagliks (in samewerking met die SAPD) om die vermistes op te spoor en die publiek te betrek by wyse van biljette, plakkate en die sosiale media. Daar word toegesien dat diegene wat teruggevind word, die nodige mediese bystand en berading ontvang. Die opspoor en behoud van verlore individue hang meer as ooit van Jan Publiek af, alhoewel daar nog polisiebeamptes is wat toegewyd is aan hierdie taak.

Agter elke verdwyning skuil ’n intrige en talle tergende vrae. 2 Februarie 2018 is Dylan de Beer (18) van Herculus, Pretoria as vermis aangegee. Sy voertuig is enkele ure later opgespoor in Mountain View – reeds te laat; die jong man het homself vergas. Op 25 September 2018 verdwyn ’n Chileense ingenieur en toeris, Slavko Yaksic (29) in KwaZulu-Natal. Dié goedgelowige rugsakpakker het ’n tent opgeslaan langs ’n straat in Bergville en ’n plaaslike pastoor het hom gewaarsku dit is Suid-Afrika dié: dit is gevaarlik, waarop hy geantwoord het dat hy al op gevaarliker plekke in Chili was, en dat vriendelikheid ’n mens ver bring. Yaksic se liggaam is op 28 September in ’n slaapsak aangetref. Hy is aan steekwonde dood. Alle verhale eindig gelukkig nie op ’n treurige noot nie. Op 2 Mei 2018 verdwyn die 13 maande oue Eden Laird van Brackendowns saam met die huiswerker. ’n Spesiale ondersoekspan is op die been gebring nadat ’n losprys van R6 miljoen op klein Eden se lewe geëis is – en die huiswerker is saam met vier Zimbabwiërs en ’n Suid-Afrikaanse man aangekeer. Die seuntjie is ongedeerd terugbesorg aan sy ouers.

Daar is geen wagperiode om ’n vermiste persoon in Suid-Afrika aan te meld nie. Hoe vinniger die nodige vorms by die naaste polisiestasie ingevul word, hoe beter. Die eerste 24-48 uur is van kritieke belang om iemand lewend terug te vind.

2.

Ek blaai deur die honderde plakkate van vermiste persone. Die anatomie van verdwyning vereis ’n baie noukeurige persoonsbeskrywing: die genadelose tentoonstelling van die liggaamlike idiosinkrasie. Die sigbare is nou onsigbaar; en die onsigbare word dwingend sigbaar gemaak. Die detail rondom jou tatoes en littekens (waar; hoeveel): wáárdevolle inligting. Liggaamsbou: swaar, medium, petite. Jou gewig in kilogram. Lengte. Die toestand van jou tande (jou eie; ’n kunsgebit; onegalige tande; vermiste tande – waar en hoeveel). Die kleur van jou hare, oë. Klerasie – tot jou skoene (die handelsmerk: Nike; Addidas). Alle detail kom onder die soeklig. Jou hele bestaan konvergeer tot een fokale punt, jou voorkoms en bewegings vóór die verdwyning. Dan word die plakkaat saamgestel en versprei, teen lamppale opgesit vir die publiek se honger oë en saam met gemorspos in voorstedelike posbusse gedruk. Jou laaste foto word ’n spookbeeld. Daar is min dinge juis so aanwesig as die plakkaat van ’n verdwene persoon. Dit word die beliggaming van eksistensiële angs.

Die naasbestaandes wat wag en agterbly, bly weifel tussen hoop en wanhoop, die digotomie van hulle bestaan. Vermiste kinders se kamers word vir jare onaangeraak gelaat. Die tyd het gaan staan. Maar in die grysland van die verbeelding is enige iets moontlik. Sommiges glo hulle geliefdes is weggeraap – dit staan immers in die Bybel – en dalk is dit genadiger só.

Ek het die afgelope paar maande van vermiste mense begin droom. In die kanon van drome is temas van verdwaal en vervreemding welbekend en dui dit waarskynlik op uitdagings of veranderende lewensomstandighede. Baie drome beland in die rommelhoop van die onderbewussyn; tog geluk dit mens soms om ’n fragment uit ’n ou droom te onderskep.

Die verlooptes

Wat oorbly, is dan die koffer met die dom hoeke, afgestomp deur reise, soos vrae sonder antwoorde. Ek droom van hekke wat bly toeskuif agter my, ek het die afstandkontroles lank gelede reeds verloor; en taxi’s met toeters, sketterend, die rugkante van mense met wapperende klere. Die wind is ongeduldig. Ek spaar suinig aan herinneringe, maar die nalatenskap is min, dog ryk: dis verlies wat nuwe leemtes opsoek en uiteindelik volkome word. Die gaping tussen onthou en gebeur word groter en die verweer is dun. Slotte swyg, toegeroes in die vagevuur van tyd. Die dooie sleutels word weggegooi. Ook die strate het wyer geword en die loopgang ontwykend. Die laaste skaduloop het begin. Lywe vloei weg sonder buitelyn of silhoeët, soos astrale wesens of diere wat in hulle digste kamoeflering sluimer. Teen die lamppaal pryk ’n plakkaat met ’n foto van ’n vermiste vrou en ek staar na die mense wat oopmond bly rondkyk en draai my gesig weg want dis ék wat in vakante ruimtes teen lang, dun pale skuil. Vermis is nie incognito nie. Dan is ek oral en die mis word swaarder en alles raak amorf soos ’n ou verdriet. Onuitgesproke. Die wit duisternis van mis.

Verwysings:

 

Morewitz. S.J. 2018. Handbook of Missing Persons. Switzerland: Springer International Organization.

Missing Children South Africa. Graphics 24.

Missing Minors. The Pink Ladies Organization NGO 2007. Facebook.

 

 

Nini Bennett. Blou

Thursday, October 25th, 2018

 

 

In die koue nag van die kosmos draai die aarde, die klein, blou planeet. Die digter Archibald MacLeish het gesê: Eeue voor Carl Sagan se Pale Blue Dot was die sterre slegs ligte aan Dante se hemel, en die aarde was die wêreld, die héle wêreld waaroor die mens volgens God se lotsbeskikking geheers het.

Op 14 Februarie 1990 is die laaste foto’s van Voyager 1 ontvang toe dit na die aarde teruggekyk het op ’n verstommende afstand van 5,9 miljard km. Dit het ’n blou kolletjie ingesluit. The Pale Blue Dot is seker een van die mooiste odes wat ooit oor die nat, blou planeet geskryf is. Hier volg ’n uittreksel: Look again at that dot. That’s here. That’s home. That’s us. On it everyone you love, everyone you know, everyone you ever heard of, every human being who ever was, lived out their lives. The aggregate of our joy and suffering, thousands of confident religions, ideologies, and economic doctrines, every hunter and forager, every hero and coward, every creator and destroyer of civilization, every king and peasant, every young couple in love, every mother and father, hopeful child, inventor and explorer, every teacher of morals, every corrupt politician, every “superstar,” every “supreme leader,” every saint and sinner in the history of our species lived there–on a mote of dust suspended in a sunbeam.

Op ’n afstand is die aarde blou. Maar blou is meer as bloot ’n chromatiese kleur, alhoewel The Telegraph se kleurkaart ongeveer 60 skakerings, skadu’s, tinte en tone van blou bevat. Dwarsdeur ons letterkunde figureer die kleur blou as ’n simbool, ’n toestand van syn, ’n uitdrukking van die liriesste en grootste transendentale hoogtes van die menslike verbeelding. Soos geel ’n element van lig bevat, skuil die beginsel van duisternis in blou. Volgens die skilder en kunsteoretikus, Wassily Kandinsky, kan blou verdiep en wegsink in swart: ’n skakering wat die ondraaglikheid van menslike verdriet verbeeld. Dan, aan die ander kant van die spektrum, verloor blou sy betowering vir die mens wanneer dit uitbleik en wegraak in wit.

In haar bekende essay, A Field Guide to Getting Lost, mediteer die skrywer Rebecca Solnit só oor die kleur blou: Vir baie jare voel ek my aangetrokke tot die blou van uiteindes; die blou van horisonne en veraf bergreekse. Die kleur van afstand is ook die kleur van emosie, die sensasie van eensaamheid en begeerte. Blou is ’n kleur wat jy nooit volledig kan bereik nie – sommige lig reis nie al die pad deur die atmosfeer nie, maar raak verstrooi saam met ander molekules in die lug in wat bekend staan as die Rayleigh-verskynsel. Die diep en dromerige melankoliese blou; die blou van atmosferiese afstand en die diepte van water is ’n illusie. Sommige dinge besit ons omdat ons dit verloor het…en sommige dinge is nié so verlore solank ons dit in die blou vergetelheid kan waarneem nie.

Dink aan korale: die swewende marienetuine onder die see. In haar grensverskuiwende Under the Sea-Wind besin die marienebioloog Rachel Carson oor die see en oor verskillende belewenisse van blou. Die monotone duisternis van die diepsee lewer die vreemdste modifikasies van fauna op. Soos die seesones verander en verdiep, verander die kleur van water ook. Tot en met 200 m vanaf die vastelandshelling word die Sonligstreek aangetref. Dit is hier waar fotosintese plaasvind; waar die meeste plante en lewensvorme floreer. Die see se Skemerstreek begin op ongeveer 1000 m afwaarts, voordat die Middernagstreek op 2 km aangetref word. Die diepsee, met sy onbekende trôe en abissale dele breek aan op ’n diepte van 8000 – 11 000 m. Dit word die hadalpelagiese sone genoem, vernoem na Hades of die onderwêreld: die berugte ‘koue nag’ van die oseaan – en dit eggo MacLeish se woorde oor die kosmos.

Op die blinde seebodem leef daar gediertes sonder oë wat aan ekstraterrestriële lewe herinner. Waar die waters langs die kuslyn blougroen – die kleur van lewe – is, vertoon die abissale water swart; of ’n kleur wat selfs swarter as swart kan wees, amper soos vulkaanglas. Die lig in die water doof uit hoe dieper jy gaan: die rooi strale verdwyn na die eerste 300 voet, en daarmee saam, die oranje en geel van die son, die stadige breeklig van strale gefiltreer deur water. Op ’n 1000 voet is slegs ’n diep en donker, fabelagtige blou sigbaar.

Carson vervolg: Om die see te verstaan, moet die mens alle begrippe van lengte, breedte, diepte, tyd en ruimte laat vaar. Geen mens of soogdier kan dit kilometers onder die water waag nie – die waterdruk is te hoog en dit sou noodwendig lei tot ’n inploffing van so ’n liggaam. In die abissale see word alle kleur, alle lig opgeskort. Wetenskaplikes kan marienelewe slegs met gesofistikeerde tegnologiese toerusting bestudeer: die swartduiwel, wat waarskuwend met sy sirenes deur die water blits; of die seespinnekoppe wat met hulle lang speekbene uit die modder peul. In die onderwêreld vorm bentoniese organismes ’n geil gemeenskap van gruwelike en fantastiese kreature – sponse, blomagtige naakslakke, knorhane, heilbotte, buiswurms en oesters, soos antieke beursies, om ’n paar te noem. Dáár waar die menslike oog nie kan sien nie – en waar kleur ophou bestaan.

*

Blou   

 

As aasvoëls ’n broklyf ten hemele neem

die kadawer kluif en reinig tot die laaste ritueel

 

en as ons brandaltare  van verassings agterlaat

en lywe spookwit in kole skei

ja, as ons vuurstof word

 

of ’n stoet ’n mens ter aarde bestel

uitgeloot aan beloftes van wortels

en die ongenadige skoonheid van verval

as vaatbundels nuwe lewe neem

ja, voor ons grondfossiele word

 

en as ons weeksag in water vergaan

met wrakke en skatte in die siersteen

van oseane groei, oor koraalriwwe

tot op die been

as skulpe ons stilte amplifeer

en branders hoogty sketter

as eko-skelette

die verlore tyd aangee en ons

iewers koraalmusiek word

 

ja, as vuur self sterf

en die aasvoëls vertrek,

grond wroet aan die toeverlaat

van nog ’n liggaam

en ook die laaste beenmeel wuif,

die see se asem verslaan

dan sal net die lug oorbly

en as selfs die lug leeggewaai is

 

sal ons blou word,

want blou is die verste kleur

ja, dan sal ons eendag word.

 

Nini Bennett, Boekstaaf 2015.

 

Verwysings:

 

http://www.planetary.org/explore/space-topics/earth/pale-blue-dot.html

http://cecelia.physics.indiana.edu/life/moon/Apollo8/122568sci-nasa-macleish.html

Bennett, N. 2015. Boekstaaf. Pretoria: Cordis Trust-Publikasies.

Nini Bennett. Hoekie vir eensames

Monday, September 17th, 2018

 

 

Alleenwees het ’n lonende bedryf geword. Daar is verhoudingsbloggers, huweliksmakelaars, liefdesoekwebwerwe, aanlynromanse en kuberontrouheid. Welkom in die wêreld van virtuele liefde. Welkom, Webliefde 2.0. En nou praat ek nie eens van die slimfoontoeps en TV-programme wat alleenlopers bymekaar uitbring nie. Kyk, alleenwees is ’n bemarkbare kommoditeit. Dit behels persoonlike branding, maar jy moet net nie te eklekties wees nie. As ’n reël is mense maar sku vir Outsiders. Die ideale profiel is gangbaar, ietwat konvensioneel (dit boesem vertroue in), maar met daardie X-faktor. Ek is eensaam, maar ook gesog en nie net nog ’n verloopte alleenloper nie. Die profileerders en rooflesers mag lag, maar vir enkellopendes is dit ’n ernstige saak. (Wat my nou laat wonder of daar dan ook webweduwees en -wewenaars bestaan?)

Te oordeel aan die maandelikse fooie om aan te sluit by ’n alleenloperswebwerf, is dit te verstane dat mense hulle soeke na liefde gratis op die sosiale media uitleef. Daar bestaan ’n legio groepsbladsye waarin die frase “hoekie vir eensames” voorkom. En talle variasies op die tema: Alleenlopers van Delmas, Klerksdorp, Volksrust, Delareyville, Orkney, De Aar, Ermelo, ensovoort. En, baie insiggewend: nie een van hierdie groepe spel die woord “alleenlopers” reg nie – nee, dit word as “alleen lopers” (sic) aangegee. ’n Soort Freudiaanse glips dalk, om die woord “alleen” te aksentueer? “Alleenlopers” het tog so weemoedige klank. Suid-Afrikaners kon nog nooit saamstaan nie, ook nie die enkellopendes ter plaatse nie. Hoekies spat uitmekaar, breek weg, halsstarrig soos Afrikaner politieke platforms en tentkerke want almal soek mos ’n seepkis om op te staan. Kyk, ek geniét hierdie navorsing. Een hoekie verander gans van gedaante en word oornag “stoutgat singles” – vermoedelik geld ander kriteria hiér. En nog een met ’n meer stigtelike karakter word “silwer gerwe alleenlopers”. Maar die goue oues bly: Smag na ware liefde, Alleenlopers bo veertig, Gebreekte harte en Enkel en ernstig vir liefde.

Vir die alleenlopers wat ledegelde wil betaal en meer professionele pasmaats wil ontmoet, is daar webwerwe wat jou data versamel en in lyn met jou unieke alleenlopersprofiel vir jou ’n geskikte maat soek. ’n Pasmaat, pasgemaak. Sagtewareprogramme, rekenaars en statistiek mistifiseer die meeste mense. ’n Rekenaar maak mos nie foute nie en vertel ook nie leuens nie. Voeg net die woord “lab / laboratorium” by “dating”, en voila – die eensame koop in, duur ledegelde ten spyt, want nou word eensaamheid op analitiese wyse geprofileer. Veral vroue gee mildelik persoonlike inligting uit. Wat interessant is, is die wyse waarop die biografiese vorms ingevul word; die stelwyses en die ekstras. Op so ’n webwerf verklap ’n ene Meraai van Mpumalanga dat haar droomman 210 cm (of langer!) moet wees. Hierdie dame mik hóóg –  of dalk is haar wiskunde nie so goed nie. Die langste Springbok tot op hede was Andries Bekker wat 208 cm in sy sokkies gerank het.

Die tradisionele hoekie vir eensames soos ons dit ken, het nie veel verander nie: dit bly geskoei op dieselfde sjabloon van dekades gelede en soos dit verskyn het in Huisgenoot of Keur. Of die Landbouweekblad se immergroen Opsitkers. Ek moet bieg: hoekies maak my kloustrofobies, dis soos stegies en mens verwag enige oomblik die silhoeët van ’n man wat, mes in die hand, tussen die bosse kan uitspring. Tog is hierdie hoekies die oudste en mees gevestigde konsep van eensaamwees. Ek doen ’n uitgebreide soektog op die sosiale media na al wat oop groep is: al die hoekies beland in my visier. Want ek is patologies nuuskierig; dit is my beste en slegste eienskap. Uiteindelik ontdek ek ’n Facebook-gemeenskap met 25 000 lede, ’n oop groepsbladsy waar die meeste van my vriende ook rondsnuffel. Want hier het ons pret; sluip ons in die virtuele gange rond met die voyeuristiese genot wat net ’n skrywer verstaan. Só kom ek op drie Hoekies vir eensames af, maar elkeen het slegs een lid. Nou dít is tragies, is my eerste gedagte, en ek wonder of dit nie die een of ander grap is nie. Nee. (Tog wil ek byvoeg: as ek op ’n godverlate dorp met net ’n paar huise, ‘n kerk, ’n plaasskool en ’n PEP Store gewoon het, het ek waarskynlik ook ’n Hoekie begin met myself as enigste lid en administrateur.) Wat my egter meer kwel, is die Hoekies wat uit drie lede bestaan. Het dit uiteindelik uitgemasel tot die een of ander makabere liefdesdriehoek? Het dit?

Ek haal enkele van die aanlynversoeke hier aan. En ek plaas dit met taal- en spelfoute en al, omdat laasgenoemde nogal heelwat van die mentaliteit, die opderrigpeil en psige van alleenwees verraai. Ek kon dit nie verhelp nie en het spontaan onder aan die plasings begin kommentaar lewer.

Sterretjie

Ek is ‘n plaasmeisie van die Limpopo. Ek hou van die natuur, alles wat mooi is, dans, kamp, kuier om ’n kampvuur en tuinmaak. My ideale man mag nie rook of drink nie en moet ’n lidmaat wees van die AGS-kerk. Mans (35-40) met dieselfde belangstellings mag skryf. Geen kansvatters, asb.  

NB: Hierdie is min of meer die standaard versoek en lingua franca van die hoekies vir eensame mense. Die versoeke klink oorwegend homogeen, want almal hou van die natuur en die mooi dinge in die lewe. Wat ’n mens laat wonder waarom eensames met dieselfde belangstellings dan nie pasmaats kry nie? O, en let op die pedanterie: “mag nie rook of drink nie en moet ’n lidmaat wees van die AGS-kerk.” As daar reeds soveel voorskriftelikheid geld vóór die verhouding, is ’n pantoffelregering gewis die twee se voorland.

Shadow

Ek is ‘n boeremeisie van Noordwes. Ek hou van jag, braai, skyfskiet, avontuur en kleilat. Ek is eintlik maar ’n tomboy, maar probeer hard om ’n dame te wees. Manne (24-30) wat kans sien vir my, kan gerus skryf.

Op die foto kniel ’n jong vrou in kamoe-klere met witgekeukelde vingers om ’n bok se horings. Die bebloede trofee staar met glasige oë in die kamera, en sý glimlag triomfantlik soos ’n amasone van ouds. Jaaaa, juig die manne, kom ons speel kleilat, toe.

NB: Natuurlik het die vrou ’n paar mans se alfamangeen geprikkel. Ek weet nie, maar hierdie versoek maak my kriewelrig. Maar vir al wat ons weet is Shadow een van daardie beskermende moeders wat Saterdae die ánder ma’s langs die kantlyn opdons as haar laaitie bulletjierugby speel.

Leo

Ek is ’n 25-jarige boerseun op soek na ’n goed passende maat. Ek boer met gras en beeste in die Wes-Kaap. Ek het ’n nuwe Hilux met pad tyres sodat ek jou baie kan uitvat. My mags blink. Ek het vele talente, ek kan my eie bier oopmaak. Ek hou van vuur aansteek maar ek het genoeg vriende wat die rooster kan draai. Ons het ’n redelike groot familie so ons neem gewoonlik selfies met 3 kameras. My perfekte lewensmaat is iemand met kort voetjies sodat sy nader aan die stoof kan staan. Nee, ek grap net, ek het maar ’n goeie sin vir humor. So as enige enkellopende dame ’n kans wil vat, ek verjaar die 21 ste Augustus dan sal ek die gelukkige een kies. Maak gou, ek hou julle dop.

NB: Daar bestaan regtig mens wat dink hulle karre se magnesiumwiele gaan ’n vrou se hart vinniger laat klop. As ’n man jou eers probeer beïndruk met sy grotmanhumor, is die kans goed dat hy wel ’n seksis is. Hierdie klink soos die een of ander raffle of lucky draw.

Woestynroos

Ons probeer een laaste keer. Goeie middag. Ons wag geduldig vir die reën…en ek…ek wag vir my ander helfte, my pot se deksel, my beste vriend. Ek is ’n 32-jarige vrou van die Karoo. Ek is die ma van 2 klein karnallies wat my jonk hou en uit die moeilikheid hou…maar ek het ’n leemte in my, daar kort iets in my lewe. Ek soek ’n man wat vir my sal lief wees maar ook vir my seuns. Ons is ’n package deal! Hy moet eerlik, opreg en getrou wees. Hy moet asb. ’n werk hê, ek verwag van die man in my lewe om so hard soos ek te werk. Hy kan kinders hê…dis geen probleem nie. Buiten my twee seuns bly my ouers ook by my. Hulle is my verantwoordelikheid en deel van wie ek is. As enige van die goedjies vir jou ’n issue is ….hou verby, maar as jy iemand soek wat jou hart sal bewaar en waarde heg aan familiebande, godsdiens en lojaliteit….los ’n boodskap of like.

Sy skryf soos ’n vrou met planne. Hiérdie gaan ’n veeleisende pasmaat wees; geen wonder sy probeer “een laaste keer” nie. Sterkte daar, Meneer.

Tarzan

Hallo dames haha wel ek gaan volgende jaar oorsee ek’s nou 26 ’n wit outjie 😅 😃 🙄  lol haha ek soek net vriende om mee te gesels 🍿 🍤 🍩 🍡 🍦 🌯 ek het op ’n plaas groot geraak  🐒 🐖 🐄 🐃 🐐  haha as jy graag meer wil weet los ’n comment of ’n like 😉 hoor gou van julle 🌹 🌺 🌻  (sic)

NB: Iemand wat so baie emojis gebruik is emosioneel onvolwasse.

Billboy

Hiiiii. Ek’s 26 van Secunda ’n nederige God vreesende (sic) man plat op die grond (sic) tipe ou. Ek’s baie romantics (sic) en lojaal…Indien iemand sou belangstel om my beter te leer ken… Jy weet wat om te doen xxxxxx

NB: Glimlag.

Jasmyntjie

Hi hi! Ek is ’n amper 39-jarige weduwee van Centurion. Ek het ’n geballanseerde uitsig (sic) oor die lewe Ek is ’n baie selfstandige enkelma met 2 kids. Ek’s opsoek na ’n maaikie (sic) om my lewe te deel.

NB: Jasmyntjie is ‘amper’ ’n weduwee. Sy laat nie gras onder haar voete groei nie! Wees versigtig, Meneer: heel moontlik soek hierdie dame net ’n man om vir haar en haar twee kinders te sorg.

Plaaspop

Okay hier gaan ons vir die laaste keer. Ek is 33 jaar oud ek bly in Cradock in die Oos-Kaap en is op soek na my ridder op sy wit perd (bakkie). Ek soek ’n man wat na homself kan kyk, ’n man wat weet hoe om ’n vrou op sy hande te dra (sic) en nie bang is vir ‘curves’ nie.  ’n Man wat die Here liefhet en glo aan respek vir ’n vrou! Mag julle almal gebles (sic) en bewaar word. As jy die post like of comment is jy gereed om vriende te wees en vinnig op ’n date te gaan. Slegs geldig tot 31 Augustus 2017.

NB: Die laaste keer wat ek gesien het hoe ’n man ’n vrou op sy hande dra, was met die Boswell Wilkie Circus in 1997. Plaaspop is haastig. Terwyl voorraad hou.

Goedkoop bemarkingslenters word ingespan om die Self meer aanloklik te maak. En van die alleenlopers verromantiseer hulle eensaamheid en raak skoon digterlik daaroor… soos die hookline van ’n goedkoop popsong.

Die menslike kondisie is inderdaad  ’n tragiese een.

 

Hoekie vir eensames

 

Hoe tintel die bloed as die hormone ontwaak

en ’n vreemde gloed die liggaam laat ontdooi.

Nou roer die rower met kwyl aan sy kaak

nou sidder die sag en gewillige prooi.

Ek droom van ’n slagter met bloed aan sy mes –

kom kalmeer die bewing van Bakvissie op S.

 

Die blom het ontvou met ’n bedwelmende geur

om die oesman na die tuin te lok.

Die soet trosse hang vol geswel en verkleur

aan die gewillige loot van die wingerdstok.

Die ganse oes sal ek gewilliglik gee –

dis die aanbod van Jong Dame op E.

 

Ek word stadig gesetter maar steeds leef die hoop

dat ’n ridder sal kom om my te verlos.

Die swaaibrug is af en die poort staan oop

en die preutse bewaarder het sy greep laat los.

Hoe lank moet ek nog vrugteloos kla –

dis die noodsein van Middeljarige Dame op K.

 

Die rimpels vermeerder en die spiere verslap

net die een beklemming bly leef om die hart.

Aan wie kan ek die geheim verklap

van die één begeerte wat die ouderdom tart?

Voordat ek sterf moet ek die groot dors les –

dis die wanhopige bede van Ou Dame op S.

 

M.M. Walters

 

Verwysing

 

Brink, A.P. 2008. Groot Verseboek. Deel 2. Kaapstad: Tafelberg.

 

Nini Bennett. Voetstoots

Sunday, August 19th, 2018

 

1.

 

Die reuk van vrees is altyd bekend.

Die diere het dit eerste geweet. Hulle het begin hardloop met platgetrekte ore en neusvleuels wydgesper. Dae voor die ramp was die waarskuwing daar: ’n subtiele verandering in lugdruk. Lae frekwensieklank was duideliker hoorbaar as normaalweg. Niemand weet presies hoe diere dit weet nie, maar diere is fyner gekallibreer.

Die aarde se magneetveld het opgelaai, prikkelbaar soos ’n lading statiese elektrisiteit. Daar is foutlyne en frakture in die aardkors.

Huiskatte het dit ook vermoed, en soos die diere van die veld, dae vantevore reeds verkas – uiteindelik getrou aan hulle wilde natuur. Net honde, die mens se beste vriend, het by hulle eienaars gewag en gewaak, hulle gesigte gelek en getjank; bondgenote tot die dood.

Ook die voëls was hiervan bewus. Hulle het laat spaander met ’n gekrys en die skerp kringfluit van fladderende veerstof; ’n brokkeling vlerke wat die lug, die wolke, en later die son sou klad. Die drang om te lewe is brutaal.

Tydens ’n aardbewing word alle menslike kapasiteit opgeskort. Tyd ontspil. Iets verskrikliks is op pad, die zero-uur is op hand.

In sy oerste wese herken iedereen ’n natuurramp. Strate spleet oop, afgryslik en swart soos ’n adder of rolgolf wat reg onder die oppervlak kronkel. Monde gaap oop in gille maar nié die getjank van sirenes en alarms, nié die geskreeu uit stembande maak enige verskil nie.

Geboue steier; tuimel op mekaar in soos domino’s. Die stad sneuwel voor hierdie aanslag, nietig soos ’n diorama; tragies, soos ’n kind se geografieprojek by die skool.

Die kosmiese afslaer is elke oomblik van die dag bedrywig. Op wie word die hoogste bod toegestaan? Wie word tweedehands opgeveil, en wie word voetstoots uitverkoop aan die noodlot? Wié van ons het die afslaer se simpatie?

Dan rammel die aarde finaal in ’n reuse grand mal – die gebeur en gekreun van skuiwende tektone. Die chaos is ontsagwekkend. ’n Kraak beitel vanself af in die pad tot by ’n vulstasie en ontvlam in ’n oogwink. Die ontploffingshitte van die brandstof se opgaartenks lig die motors op en slinger dit skuins die bruisende vure in, die insittendes soos vlermuise in ’n swart inferno.

Uit die lug vlie wrakstukke, stukke dak en puin en glas en skerp metaal en tuimel op die weerloses neer. ’n Verdwaalde skoen. Uit gebarste pypleiding pomp water, surrealisties mooi, en verdeel in kleiner fonteine. So ver as die oog kan kan sien, blits die kragdrade. Sweisvuur.

En argeloos, hoog bo die verwoesting, draal ’n kind se heliumballon steeds hoër die wolke in.

Ek is uit my seismiese diepte geruk.

Vanoggend vroeg was ek by die rivier. Dit was stil. Loodstil. Ek het vorentoe gebuk en gekyk hoe rimpels oor die wateroppervlak breek: konsentriese sirkels soos vinnig uitkringende wentelbane. Daar was geen geluid, geen stoornis. Toe het ek die hadidas hoor skree. Was dit nader, dringender as tevore? Ek weet nie. Dalk was dit die wanklank van dissonante sirenes wat doof op die menslike oor val. Maar soos ek sê, niemand weet hoe diere dit weet nie. Plotseling het ’n vrees my beetgepak en ek wou wegkom, maar ek het nie geweet waarom, waarheen nie. Ek was weerloos, net ’n mens. “Die kind is weer ongedurig vandag,” sou my ouma gesê het.

*

“Die kind is weer ongedurig vandag,” het sy ’n paar dae tevore voorspel.

Ek staan styf teen haar kamerdeur met my kinderlyf teen die raam, my oor sentimeters van die deurslot af. Dis donker; dis nag, ’n dag losgeskeur uit die somer van 1985.

Die geluid van ’n outydse vanity case wat ooprits. Ek verbeel my sy kyk in die dowwe bedlamp na die geheime goetertjies wat haar vrouwees definieer. Sakdoekies met kantpatrone, in presiese vierkante gestryk. Parfuum. Lipstiffie. Ek rek my oë in die stilte wat volg. Tjieng…kirrr. Klonk. Die fyn perkussie van ys in ’n glas. Die halfjack is oop: die goudstof stort nou oor die glas se rand.

Ek beweeg my oor nader aan die deurknop. Voor sy die eerste sluk whisky vat, is daar ’n siddering; die geluid van ’n vrou wat geluidloos huil, verdriet wat in een golfbeweging deur haar skouers breek.

Teug diep, my matriarg: drink, en laat die eufemisme oor jou spoel. Versigtig; haal versigtig asem nou. Die godedrank is sterk, dit blus jou keel, dit vlam hoog deur die sinusholtes, dit brand salig in die slukderm. Dit streel jou stembande; dit herken jou stemlose pyn. Sjuut. Die bekende lafenis is op hand.

Sekondes later volg die neweling van die brein. Die sig versag in dowwer piksels. Stiller nou, my ou moeder. Voel jy dit? Ek weet; ek weet jy huil nie voor mense nie.

*

Sy vee oor haar bolip. “My ma se dogters huil nie voor mense nie.”

Hy frons. “Jou neus bloei,” en hy leun besorg vorentoe.

Hulle is anders grootgemaak,” hou sy vol.

“Jy het nie agtergekom nie,” val hy haar weer in die rede. “Jou neus bloei.”

“Nie óns nie. Nee, ons huil nie in die openbaar nie.” Sy hou onverwags op met praat en kyk minagtend na die bloedstreep op die rugkant van haar hand.

(Bostaande fragment is geneem uit ’n groter teksgeheel.)

2.

Desember 2006 het ek die noodlot leer ken. En dis nie ’n vriend wat jy intiem wil leer ken nie: nié deur die onverwagse dood van ’n eggenoot; nié op die wyse waarop jy oornag padgee van ’n groot kleinhoewe omdat dit bloot te gevaarlik geword het om alleen daar te bly nie. Ook nie die finansiële terugslae of die aanslag op jou gesondheid nie. Ek onthou dit was kort voor kersfees en ek het in die straat gaan staan en vir ’n halfuur aaneen gelag, ’n leë lag tot net my maagspiere later geruk het en daar geen lag meer wou uitkom nie. Die naskokke van ’n noodlotsgebeurtenis besoek jou nog vir jare daarna in jou drome: dit bly herhaal in swoel en donker drome. En dit herhaal wéér wanneer jy hoor van die moord op ’n vriend; die siekte van ’n geliefde.

Vandag, as ek my oë toemaak, dink ek aan daardie tyd as ’n aardbewing. Dit is die enigste metafoor, simbool, allegorie, analoog, of wat ook al wat reg laat geskied aan die impak en ontwrigting van soveel kataklismiese lewensgebeurtenisse. Vrees en respek beweeg baie ná aan mekaar. Die Moment Magnitude, noem kenners dit – die omvang van ’n aardskok.

Tog is ’n aardbewing nie ’n onderwerp waaroor digters dikwels dig nie, waarskynlik as gevolg van die gelokaliseerdheid van so ’n ramp. ’n Aardbewing word eerder geassosieer met distopiese en apokaliptiese romans en films. Of die eindtye, aldus die Bybel.

Tog is daar ’n groot voorkoms van aardbewingpoësie onder Japannese digters. Na die katastrofiese aardbewing, gevolg deur ’n seebewing wat Japan 11 Maart 2011* getref het, het verskeie digters dwarsoor die wêreld aangesluit by webtuistes as deel van ’n gemeenskapsprojek om hierdie slagoffers en oorlewendes by te staan. Die verse is oorwegend kort. Ook Twitter-poësie het oornag ’n nuwe impetus gekry, en verse, wat kwalik as poësie in die ware sin van die woord geklassifiseer kan word maar wat as “pebble poetry” bekend staan, het vir weke lank deur die Net geblits. Eenreël-verse wat poog om die skok en ongeloof oor die onlangse gebeure poëties te verwoord. ’n Mens kan iets hiervan verstaan: na ’n aardbewing is die topografie verwoes. Samehang ontbreek. Dit is moeilik om ’n lang vers oor ’n aardbewing te skryf. Japannese vertalers het op hul beurt van die verse vertaal na Engels, en uit alle tale en dwarsoor die wêreld het opkomende en gevestigde digters die Tohokoe-ramp uit een mond in versfragmente betreur.

Enkele voorbeelde, en ek haal aan vanuit die webtuistes.

The earthquake and tsunami that devastated Tôhoku last March and the nuclear crisis that followed continue to affect every aspect of Japanese life. Literature is no exception. Struggling against a despairing sense that this was no time for literature, contemporary writers have responded in a variety of ways since disaster struck on March 11.

Almost immediately, a number of poets responded with lines that were plain, poignant, and fierce. Wago Ryoichi, a Fukushima-based poet previously known for rather abstruse contemporary verse, suddenly shifted gears after the disaster, using Twitter to publish a succession of short pieces that rapidly gained a substantial following:

 

Radiation is falling. The night is quiet.

In the end, there are only tears. I want to write furiously, like a man possessed.

 

*

 

Will we meet again?

Here at your flowering grave:

two white butterflies

 

― Matsuo Basho. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

Spring has come:

the nameless hill

lies shrouded in mist

 

― Matsuo Basho. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

A kite floats

at the same place in the sky

where yesterday it floated …

 

― Buson Yosa. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

We cannot see the moon

and yet the waves still rise

 

― Shiki Masaoka. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

What indeed is Earth but a Nest

from whose rim we are all falling?

 

—Emily Dickinson.

 

*

 

To see a World in a grain of sand

And a Heaven in a wild flower,

Hold Infinity in the palm of your hand

And Eternity in an hour.

 

—William Blake.

 

*

 

Ring the bells that still can ring

Forget your perfect offering

There is a crack in everything

That’s how the light gets in.

 

—Leonard Cohen.

 

*

 

I took one Draught of Life—

I’ll tell you what I paid—

Precisely an existence—

The market price, they said.

 

—Emily Dickinson.

 

*

 

Our life here on earth:

to what shall we compare it?

It is not like a rowboat

departing at daybreak,

leaving no trace of us in its wake?

 

― Takaha Shugyo. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

The snake slipped away

but his eyes, having held mine,

still stare in the grass

 

― Kyoshi Takahama. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

Which plunderer’s hand

ransacked the pure gold statute of your dreams

In this horrendous storm?

 

—Nadia Anjuman, Afghaanse digter.

 

*

 

Meanwhile, Henmi Yo published a series of vivid, almost grotesque poems titled “Me no umi—Watashi no shisha tachi ni (Sea of Eyes: To My Departed)”. For the author, who grew up in one of the Tôhoku towns devastated by the tsunami, the work is at once an act of mourning, a requiem, and above all, a poet’s desperate attempt to summon the power of poetic expression and pit it defiantly against the violent forces of the universe.

 

My departed dead:

You must sing your poems alone.

Let the shore daisies keep from flowering,

Let the yellow plants that cling to the cliffs refrain

from mourning—

Until the right words have been found, each one unique

and singular,

And assigned to the lungs

Of my departed dead.

* Op Vrydag 11 Maart 2011 het ‘n katastrofiese aardbewing, gevolg deur ’n seebewing, Japan getref. Met die episentrum diep onder in die see sowat 70 km van die Osjika-skiereiland van Tohokoe, het dit die aarde met ‘n krag van 9.0 op die MM-skaal geruk en die planeet se as na berekening met byna tien sentimeter laat skuif. Duisende mense is gedood en vermis en minstens drie kernkragreaktors is beskadig.

 

Verwysings

 

https://japan-afterthebigearthquake.blogspot.com/2012/04/poetry-after-march-2011.html

http://www.thehypertexts.com/Japan%20Earthquake%20Tsunami%20Poetry.htm

http://www.asahi.com/ajw/articles/AJ201804140021.html

 

 

 

Nini Bennett. Die taal van bome

Friday, July 27th, 2018

Bioloë, ekoloë en dendroloë beweer dat bome kan praat; en dat mense na alle waarskynlikheid kan leer om hierdie “taal” te verstaan. Sommiges van ons sukkel om laasgenoemde konsep te begryp, omdat ons bome in isolasie, in stede van interafhanklike netwerke beskou. Netwerkgedrag / interafhanklikheid, soos in die geval van enige sosiale groep, vereis kommunikasie en die ontwikkeling van taal. Vir ’n stedeling kan dit selfs absurd klink. Die skrywer en bioloog David George Haskell verwys as voorbeeld graag na die reënwoude in die Amasone se Waorani-inwoners. In Waorani-taal is die pluraliteit van biologiese wesens geïmpliseer, en vind dit ook neerslag in hulle taal.  ’n “Kapokboom”, byvoorbeeld, is nie net ’n “kapokboom” nie, maar ‘’n kapokboom, bedek met sampioene”, of “die kapokboom, oortrek met klimop.” Dit is moeilik om Waorani-begrippe na Engels te vertaal, aangesien Westerse sienings boomspesies individueel, en sonder ekologiese konteks definieer.

Deur die geskiedenis van musiek en letterkunde is daar verwysings na die sang van bome en die wyse waarop bome praat: denne fluister; dis die gekraak van vallende blare, of die hipnotiese gezoem van bye in ’n woud. Kunstenaars het nog altyd op ’n fundamentele vlak verstaan dat bome kan praat of kommunikeer. Volgens die ekoloog, professor Suzanne Simard, wat reeds vir 30 jaar navorsing in woude doen, is die taal (of moontlik linguistiek) van bome ’n logiese volgende stap. Simard spesialiseer in die wetenskap van boomkommunikasie, en meer spesifiek: die ondergrondse netwerke van fungi wat bome aan mekaar verbind en só die interaksie en voortspruitende kommunikasie tussen bome bewerkstellig. Onder die woud se blaremat, diep onder die grond lewe daar ’n ander wêreld; ’n oneindige wêreld van biologiese vertakkinge en substrata wat inligting uitruil en al die bome as een organisme laat optree. Dit herinner aan ’n hoër intelligensie, soortgelyk aan die internet of aan neurale netwerke by die mens.

Bome ruil chemikalieë met fungi uit en stuur hulle saad soos inligtingspakkies via die wind, vlermuise, voëls, en ander boodskappers. Die mikroskopiese sampioenspore word versprei deur lugstrome en verander dan in die grond in miselium. Staan jy in ’n woud, vertak daar honderde kilometer miselium reg onder jou voete. Filamente van fungi versprei voedingstowwe, water en koolstofdioksied na die bome van álle spesies. Hierdie simbiotiese netwerke is baie menslik en mimiek die sosiale netwerke van die mens. Die moederbome is op sentrale punte gesetel om die inligtingsvloei na die res van die bome te reguleer; en die interverwantskap tussen alle bome help die bioom as geheel om siektes soos swaminfeksies te beveg. Moederbome wat in gevaar verkeer, stuur betyds hulle inligting na die nuwe generasie saailinge / jong bome. In Simard se navorsing lewer sy ’n pleidooi vir die moederbome – as al die moederbome in ’n woud gelyk uitgekap word, is die hele woud in gevaar en staar dit dalk uitwissing in die gesig.

Die bosbou-wetenskaplike, Peter Wohlleben het navorsing gedoen in ’n antieke beuke-plantasie in Duitsland. Op ’n dag het hy gestruikel oor ’n ou stomp sonder enige blare. Die stomp was meer as 500 jaar oud, maar was groen van die chlorofil en het steeds gelewe. Alle lewende organismes het voeding nodig om te leef. Die buurbome het hierdie ou stomp aan die lewe gehou deur ’n suikeroplossing! Hierdie deurbraak in Wohlleben se werk verander die siening dat bome bloot wedywer om sonlig, voeding, en ruimte. Dis vir die plantasie as geheel belangrik dat al die bome in die kollektief moet lewe. Wohlleben se werk, The Hidden Life of Trees was in 2015 ’n blitsverkoper in Duitsland, en is steeds in aanvraag in 11 lande, onder meer die VSA en Kanada.

Dendrochronoloë, die wetenskaplikes wat ’n studie maak van bome se jaarringe, weet dat jaarringe ’n boom se outobiografie is, ’n rekord van alle biofisiese inligting soos klimatologiese faktore, droogtes, oorstromings, vulkane, aardverwarming, ensovoort. Kenners het geleer om hierdie boomgeskrifte of natuurhistoriese argiewe onder die boombas korrek te lees, en die ouderdom van bome deur die tel van jaarringe en radiokoolstofdatering te bepaal. Net soos die mens se vingerafdrukke van individu tot individu verskil, so sal jaarringe van boom tot boom ook verskil. Die donker ringe dui op ’n stadiger groeitempo in die laat somer (die volheid van die seisoen.) Gedurende die lente vermeerder die boom se selle vinnig, en lente en nuwe lewe word verteenwoordig deur ligte patrone. Groot spasies tussen die ringe dui op gunstige groeitoestande, temperature en genoeg reën: dit gaan goed met die boom. Smal spasies tussen die jaarringe dui op swak groei, veroorsaak deur droogte, lang koue winters, of ’n strestoestand soos insek- of fungusbesmetting. Die boom het swaar gekry; trek noustrop, en dis of die fyner ringe ook konkreet die meer fynbesnaarde karakter van die boom en sy beproewing uitbeeld.

Haskell verwys na bome as ons biologiese filosowe. Want bome is nie beweeglik nie, tog is hulle sterk en hulle floreer, ’n bewys dat hulle ’n spesifieke lokus báie goed verstaan, selfs beter as die andersins beweeglike of nomadiese diere.

Volgens Wohlleben het wetenskaplikes die afgelope 100 jaar na die natuur gekyk asof dit ’n masjien is, ’n gemeganiseerde proses sonder ’n siel. Hy vervolg: bome het vriende, ervaar eensaamheid, skreeu geluidloos van pyn, en kommunikeer ondergronds via ’n woudwye web. Bome kommunikeer ook met mekaar deur middel van reuke en feromone, en wanneer ’n boom seerkry, stuur dit elektriese impulse uit, soortgelyk aan gewonde menslike weefsel. Sommige bome tree op as goeie ouers, sibbe en bure. Deur hulle wortelstelsels ken en herken bome mekaar. Sommige verrotte stompe, afgesny van die sosiale struktuur van ander bome, is soos kluisenaars; en in ’n sekere sin funksioneer ’n woud of plantasie soos ’n dorp. In die diereryk, as ’n dier afdwaal van sy trop, of binne die menslike samelewing, wanneer ’n kluisenaar of buitestaander ontwortel is van ’n sosiale groep, is hulle ook kwesbaarder. Bome vorm binne ’n kollektief ook alliansies of verbintenisse; dis nou afgesien van vriendskappe. Die skrywer verwys na baie ou bome wat sáám groei: na hulle skeletagtige, yl winterkrone; en dat bejaarde bome nie mekaar se ruimte om sonlig betree nie. Sterf een van die ou bome, sal ’n ander een kort ná hom volg, want hulle hegte verwantskap is tot in hulle wortels verweef. Die kroonprinse wag immers dat die ou monarge val om hulle regmatige plek in te neem in die volle glorie van die son…En dit alles gebeur stadig, baie stadig, want die tydlyn van bome is lank en strek oor honderde jare. En van verbintenisse en alliansies gepraat: ’n boomkollektief tree op soos een super-organisme om indringers te verdryf. Wohlleben aan die woord, en ek haal aan:

 Four decades ago, scientists noticed something on the African savannah. The giraffes there were feeding on umbrella thorn acacias, and the trees didn’t like this one bit. It took the acacias mere minutes to start pumping toxic substances into their leaves to rid themselves of the large herbivores. The giraffes got the message and moved on to other trees in the vicinity. But did they move on to trees close by? No, for the time being, they walked right by a few trees and resumed their meal only when they had moved about 100 yards away.

The reason for this behavior is astonishing. The acacia trees that were being eaten gave off a warning gas (specifically, ethylene) that signaled to neighboring trees of the same species that a crisis was at hand. Right away, all the forewarned trees also pumped toxins into their leaves to prepare themselves. The giraffes were wise to this game and therefore moved farther away to a part of the savannah where they could find trees that were oblivious to what was going on. Or else they moved upwind. For the scent messages are carried to nearby trees on the breeze, and if the animals walked upwind, they could find acacias close by that had no idea the giraffes were there.

David Haskell het in sy grensverskuiwende The Song of Trees: Stories from Nature’s Great Connectors (2017) geskryf oor die ekosoniese elemente van ’n woud. Om op empiriese vlak die taal of linguistiek van ’n reënwoud te definieer, is ’n komplekse proses en reuse uitdading. Tog is Haskell se observasies belangrik en magies – en dit lees soos vloeibare poësie.

Amazonian rain differs not just in the volume of what it has to tell — three and a half meters dropped every year, six times gray London’s count — but in its vocabulary and syntax. Invisible spores and plant chemicals mist the air above the forest canopy. These aerosols are the seeds onto which water vapor coalesces, then swells. Every teaspoon of air here has a thousand or more of these particles, a haze ten times less dense than air away from the Amazon. Wherever people aggregate in significant numbers, we loose to the sky billions of particles from engines and chimneys. Like birds in a dust bath, the vigorous flapping of our industrial lives raises a fog. Each fleck of pollution, dusty mote of soil, or spore from a woodland is a potential raindrop. The Amazon forest is vast, and over much of its extent the air is mostly a product of the forest, not the activities of industrious birds. Winds sometimes bring pulses of dust from Africa or smog from a city, but mostly the Amazon speaks its own tongue. With fewer seeds and abundant water vapor, raindrops bloat to exceptional sizes. The rain falls in big syllables, phonemes unlike the clipped rain speech of most other landmasses.

Bome het emosies en ’n karakter van hulle eie. Ons dink verkeerdelik aan plante as robotiese wesens, uitgelewer aan ’n genetiese kode. Nee: bome se sosiale gedrag herinner aan etniese groepsgedrag. Bome beskerm onverwyld hulle eie spesies. Beuke, byvoorbeeld, intimideer ander spesies (soos eike) tot hulle begin verswak. Dennefamilies (soos die Douglas fir en die spruce) vind bondgenote in mekaar. Wilge, op hulle beurt, is alleenbome. Hulle saad waai honderde kilometer, wég van ander bome af. Ook populiere is nie baie sosiaal nie, en berke sal ander bome verdring om meer ruimte vir hulle krone te kry. Dit herinner aan ’n trotse familie, geneties sterk, maar met ’n neerbuigende karakter. Stadsbome, weer, is soos straatkinders – geïsoleer en gewikkel in ’n alleenstryd teen die elemente van verstedeliking, maar sonder sterk wortels of stewige fondasie.

Poëtiese wetenskaplektuur met dendrologie as tema is aan die toeneem. ’n Boom: ’n ekologiese esteet. ’n Misterieuse gestalt. Bome word in verband met gebring met die antieke kuns van dendromansie. In die Griekse mitologie tree eike op as pratende orakels wat die toekoms kan voorspel, en dis vir die duiwe en ander ingewydes om hierdie profesieë te verstaan. Al vir eeue probeer skrywers en digters die taal van bome beskryf in liriese prosa of poësie, want ’n boom verbeeld die kragtigste metafoor in die siklus van lewe en dood. En dit wat skrywers vermoed – of intuïtief wéét – probeer die wetenskap later bewys. Maar uiteindelik deel die wetenskap en letterkunde dieselfde siening, om Haskell en ander skrywers voor hom aan te haal: “There can be no separate literature of science because the aim of science is to discover and illuminate truth, which is also the aim of literature.”

Amper ’n eeu gelede het Hermann Hesse hierdie aangrypende fragment oor bome geskryf.

For me, trees have always been the most penetrating preachers. I revere them when they live in tribes and families, in forests and groves. And even more I revere them when they stand alone. They are like lonely persons. Not like hermits who have stolen away out of some weakness, but like great, solitary men, like Beethoven and Nietzsche. In their highest boughs the world rustles, their roots rest in infinity; but they do not lose themselves there, they struggle with all the force of their lives for one thing only: to fulfill themselves according to their own laws, to build up their own form, to represent themselves. Nothing is holier, nothing is more exemplary than a beautiful, strong tree. When a tree is cut down and reveals its naked death-wound to the sun, one can read its whole history in the luminous, inscribed disk of its trunk: in the rings of its years, its scars, all the struggle, all the suffering, all the sickness, all the happiness and prosperity stand truly written, the narrow years and the luxurious years, the attacks withstood, the storms endured. And every young farmboy knows that the hardest and noblest wood has the narrowest rings, that high on the mountains and in continuing danger the most indestructible, the strongest, the ideal trees grow.

Trees are sanctuaries. Whoever knows how to speak to them, whoever knows how to listen to them, can learn the truth. They do not preach learning and precepts, they preach, undeterred by particulars, the ancient law of life.

A tree says: A kernel is hidden in me, a spark, a thought, I am life from eternal life. The attempt and the risk that the eternal mother took with me is unique, unique the form and veins of my skin, unique the smallest play of leaves in my branches and the smallest scar on my bark. I was made to form and reveal the eternal in my smallest special detail.

A tree says: My strength is trust. I know nothing about my fathers, I know nothing about the thousand children that every year spring out of me. I live out the secret of my seed to the very end, and I care for nothing else. I trust that God is in me. I trust that my labor is holy. Out of this trust I live.  

Soos aangehaal uit Hermann Hesse: Wandering, Notes and Sketches (1920).

Die kommunikasie tussen bome en die mens het ook uiteraard ook neerslag gevind in die Afrikaanse letterkunde. Vervolgens ’n gedig van Dolf van Niekierk.

 

2111

 

Herfs breek in vlokkies geel

ná witstinkhout se najaarsbieg

op die nat aarde van my bos;

buurstamme glim swart in hul waternate.

Ek praat met die bome,

voel hul stuwing deur my vel

en in die brein tril ’n lied

oor my boom se kaal verdriet

en die aarde se beskeie plekkie in die niet.

 

Wind sonder naam raap die blare op;

dit warrel oor die horisonne,

kantel in geel lug van fabrieke en skoorstene

in kontinente, skroei in oorverhitte landskappe,

verkleur tot roes in suurreën

wat woude verskrompel.

 

Witstinkhout se blare bedek die aarde

en waar dit val, gloei alles geel

in ’n seisoen van stilte – ’n geel planeet,

museumstuk in die ruim.

 

Uit: Bleek planeet, 2013

 

 

Verwysings

 

Hesse, H. en Wright, J. 1972. Hermann Hesse: Wandering, Notes and Sketches (1920). New York: Farrar, Straus & Giroux.

Van Niekerk, D. 2013. Bleek planeet. Pretoria: Protea Boekhuis.

https://www.smithsonianmag.com/science-nature/the-whispering-trees-180968084/

The Songs of Trees: A Biologist’s Lyrical Ode to How Relationships Weave the Fabric of Life

https://www.theguardian.com/environment/2016/sep/12/peter-wohlleben-man-who-believes-trees-talk-to-each-other

 

Nini Bennett. Sonde met die bure

Friday, June 22nd, 2018

 

’n Spreuk is ’n baie ou digvorm, ’n bondige segswyse wat ’n didaktiese, moraliserende of godsdienstige strekking het. Deur die eeue heen hou mense daarvan as daar seën op hulle huishoudings rus, en huisspreuke is oral in huise op gebruiksartikels aangetref. Vandag is dit steeds die geval. Of dit ’n kombuisteël met woorde van wysheid is, of die tonikumgedagtes op yskasmagnete; dalk muurplakkers met inspirerende woorde, of heel moontlik die skurwe lewenswaarhede van kroegmemorabilia – die spore van ou huisspreuke maak steeds deel uit van ons dekor.

Hans du Plessis se Griekwapsalms bly gewild.

C. J. Langenhoven was ’n mensekenner par excellence – en hy het ook heelwat spreuke oor bure en die vreugdes en frustrasies van buurmanskap geskryf. Dit is nou afgesien van sy roman, Sonde met die bure, (1921).

  • Stuur jou buurman se vee skut toe en vind die skutgeld te min om vir jouself nog ’n veewagter te huur.
  • Vat al die kwaad wat jy in jou buurman sien en al die goed wat jy in jouself sien, en maak daar ’n derde mens uit. Hy sal maar naastenby so lyk soos elk van julle twee.
  • Koop jou wingerdstokkies van jou buurman. Jy het nie die vreemde wingerd se druiwe geproe nie.
  • Dis nie reg van my buurman om te bid vir reën solank as my gerwe nog op die land lê nie. Waarom dink hy net aan sy eie belange?
  • Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se familie.

*

Twee jaar gelede het ek en my geliefde getrek na ’n kraaknuwe landgoed in Somerset-Wes. ’n Trek is soos ’n troue, het my ma nog geskerts: daar loop altyd iets verkeerd. Maar wonder bo wonder het alles seepglad verloop. Die probleme het eers ná die intrekkery begin.

Die betrokke Saterdagaand het ek spykers in die muur gekap, besig om my portette op te hang. Dit was tien voor agt: ek hét die huisreëls, wat die agent my in die hand gestop het, bestudeer. Jy mag nie na agt op ’n Saterdagaand met toebehore werk wat ’n geraas maak nie.  Ek was nog betyds. Ek het iewers in die agtergrond verneem dat die Springbokke weer ’n epiese neerlaag teen die All Blacks gely het. Nie dat dit my kon skeel nie: ek was ywerig aan’t uitpak en nesskrop, verstrik in my talle lysies. Beddegoed in hoofslaapkamer. Koppel eerste yskas, ketel, mikrogolf. Badkamer toiletpapier NB. Reël vir wifi. Etes?? Mr D Food. Onthou medikasie in handsak.

Die volgende oomblik is daar ’n harde klop aan die voordeur. Onthuts sit ek my hamer neer; dan weer: dié keer ’n gebulder van ’n vuis teen die deur.

Ek maak oop. Voor my staan ‘n jongman. Aggressief. Hy praat my groet dood en val summier met die deur in die huis: “Jy raas! As jy aanhou kap, dan sal jy ’n ding sien. Ek kom  ?#@*&%!  breek hierdie deur van jou af.”

Ek protesteer; beduie dat ek binne die huisreëls is – dit is nog nie agtuur nie, dat ons nuwe intrekkers is, en dat ek net my skilderye ophang…

Mellet kom om die draai en staan nader. “Wat is die probleem?”

Maar nou het Buurman ’n ander man gesien, ’n rooi doek voor ’n bul. Hy fleks sy armspiere. 100% beef, lees ek op sy T-hemp.

“Térug,” waarsku ek hom. Jy kom nie in nie.”

Hy gluur na my en bly onseker op my nuwe Welcome-deurmat staan. Die geveg waarop hy gehoop het, gaan nie plaasvind nie.

Mellet praat met die knaap soos hy met ’n rebelse student praat. Stadig, bedaard, en in ’n lae stemtoon. Ek draai om na my selfoon wat op die eetkemertafel lê; aktiveer ongemerk die bandopname-ikon. Buurman se tirade duur voort. Hy vertel ons in kleur en geur dat hy ‘n Libanees nie (ja, hy het Afrikaans grootgeword), maar dat sy pa “hoog op” is in die Libanese mafia; en in gekruide taal (waarvan ek nie die sosiolek kan vasstel nie, dalk bendetaal in die tronk?) dreig hy wat hy nog alles aan ons gaan doen. Die Springbokke het verloor, maar sy alfaman-geen het ontwaak. “Gaan slaap nou maar. Gaan slaap jou roes af, ” bits ek tussenbeide voor ons saam die voordeur toedruk.

“Ek gaan polisie toe. Ons het skaars ingetrek en ons word gedreig met die dood,” lig ek my geliefde inderhaas in en gryp die motorsleutel. En só ry ek, agtuur op ’n Saterdagaand, op soek na Somerset-Wes Polisie. By die klagtetoonbank sit ’n konstabel, besig om ’n weekoue verkreukelde Son te lees. En verder geen siel in sig nie: geen gewondes, geen misdadigers, geen klagtes; nie eers ’n burger wat ’n Kommissaris van Ede se polisiestempel benodig nie.

Weer vertel ek die storie van my buurman, die Afrikaanse Libanees (of die Libanese Afrikaner, ek is nie seker nie.) Die konstabel lyk vaak. Sy luister onbetrokke, buig dan vertroulik vorentoe en sê: “Die karre daar by julle estate staan onder ’n skadunet. Ons het al baie klagtes gekry van karre wat gekrap word…Mevroutjie wil tog nie hê hy moet jou kar beskadig nie? Ignoreer hom net, hy sal iewers afkoel.” Die son sien alles is die laaste wat ek op die voorblad lees voor ek op my tande kners en wegloop. Nou voel ek éérs geviktimiseer. In die kar herroep ek stories van frustrerende pennelekkers en staatsamptenare. In Nikolai Gogol se legendariese kortverhaal, Die jas, het Akakii Akakiiwitsj ná die diefstal van sy jas tragies tot sterwe gekom en by ’n polisiegeneraal begin spook. En in Marcel Aymé se verhaal, Die man wat deur mure geloop het, het die afgeknoude klerk, Dutelleul, op sy baas wraak geneem deur op ’n magiese wyse dwarsdeur mure te beweeg. Die frustrasie met die burokrasie is ’n gewilde onderwerp in die ouer Russiese en Wes-Europese kortverhaalkuns. Want daar was en ís altyd ’n amptenaar wat die burgery se lewens versuur.

Voor ek onder die skadunet indraai, luier ek eers stadig by Buurman se parkeerplek verby. Hy ry ’n Ford Fiesta, en sy kar staan wydsbeen geparkeer oor twee parkeerareas. Die ekstra een is seker vir sy pa, my gesiglose vyand in die Libanese mafia.

En geen verwelkoming by ons nuwe tuiste nie – net ’n ontgroening. Maar as ek so na koshuispolitiek kyk, is verwelkoming en ontgroening dalk een en dieselfde ding. Enkele bure het kom inloer; hulself vlugtig voorgestel. Geen koek of karmenaadjie in die hand, soos outydse plattelandse etiket vereis nie. Tye verander. Tog gebruik mense dwarsoor die wêreld vandag steeds verwelkomingsrituele om ’n nuwe huis in te wy, en hierdie rituele, bygelowe, of seënwense is afkomstig uit verskillende kulture en gelowe.

Die brand van ’n kers die eerste nag is ’n belangrike verwelkomingsritueel. Volgens oorlewering besweer dit slegte geeste en dryf die duisternis simbolies na buite. Hierdie brandende kers word vergesel van ’n gebed, seënwens, of vorm deel van ’n groter offergawe of sakrament.  “Housewarming” beteken ook die aansteek van ’n vuur in die kaggel; ’n ou tradisie wat op sy beurt sy herkoms in die middeleeue het. Vuur is ’n kragtige simbool van lewe en dit beliggaam suiwerheid.

Brood en sout. Die bygeloof (uit Joods-Russiese oorsprong) lui dat brood en sout die eerste items moet wees wat oor die drumpel van die nuwe huis gebring word. Beide brood en sout simboliseer gasvryheid en voorspoed. Brood is ook bedien saam met maaltye in Europese huishoudings, en sout, wat eens op ’n tyd so kosbaar en skaars was dat dit as handelseenheid gebruik is, verteenwoordig die smaak van die lewe.

Lui ‘n klok in elke vertrek. Vir diegene wat Feng Shui in hulle huise beoefen, is die lui van ‘n Tibetaanse klok niks nuut nie. Die beierende klok reinig die nuwe huis van ou en stagnante energie (si Chi). Die oopmaak van vensters, die oopdraai van waaiers en die verwelkoming van sonstrale is ander maniere om positiewe energie binne te laat.

Tradisionele Boeddhistiese intrekrituele is volop. Binne die Thaise kultuur word ’n onewe getal monnikke genooi om die nuwe woonplek te seën, ook bekend as die Khuan Ban Mai-seremonie. Tydens so ’n geleentheid ontvang die huisbewoners geskenke, en word spesiale disse berei; die huisbewoners dra dan die Sai Seen, of ’n heilige draad of toutjie om hulle polse.

Die brand van gedroogde salie. Daar word geglo dat wanneer jy hierdie krui aan die brand steek en saggies daaroor blaas totdat dit rook, dit kragtige beskerming teen bose invloede kan bied. Die gebruik is ontleen van inheemse Amerikaanse stamtradisies. Tydens hierdie ritueel word alle elektroniese toestelle afgeskakel, en die spieëls en vensters in ’n huis word toegegooi met ’n kleed.

Daar bestaan talle Indiese huisverwelkomingstradisies. Die nuwe intrekkers kook rys in melk tot die kastrol letterlik oorloop: dit simboliseer reinheid en ’n lang lewe van oorvloed. Volgens ’n ander tradisie moet jy ’n melkkoei met ’n blommekrans om die nek oor jou drumpel lei, en dié ritueel waarborg glo voorspoed en vooruitgang in alles wat jy aanpak.

Hartlike Franse verwelkomingstradisies. Die Franse het ’n instelling dat die skoorsteen se haak, oftewel die pendaison de crémaillère verander moet word tydens die voorbereiding van ’n dankseggingsmaaltyd.

In Suid-Afrika verwys ons na “dak natmaak”, ’n gebruik waartydens mense genooi word vir ’n ete of braai om die nuwe woning in te wy. Geskenke word onderling uitgeruil. Die herkoms van die uitdrukking is afgelei van ’n tradisie waar die bouer of eienaar van ’n gebou letterlik die dak moet natmaak om te bepaal of dit waterdig is. ’n Tweede herkoms van die gebruik is om wyn tydens ’n fees op die grond uit te giet as dankoffer om die gode te behaag.

Tydens verwelkomingsrituele gee gaste ook graag vir die nuwe inwoners gedigte of mooi groetekaartjies. Ek het afgekom op ’n paar webwerwe wat pasgemaakte verse, kompleet met template en grafika, vir dié geleentheid voorberei het. Die verse is nie bedoel om groot poësie te wees nie, maar om die liminale oorgang (die intrek in ’n nuwe woonplek) te vier en die seën daaroor uit te spreek.

Maar terug na ons trek en Buurman se onwelkome ontvangs.

Dit is ’n mooi landgoed met die Hottentots-Hollandberge in die agtergrond wat kort-kort verkleur, ligspelend tussen grys, Pruisiese blou en skakerings van gekneusde pers. Die name van plekke bly voortdurend verander; dorpe, strate, stede… maar die name van berge verander selde, indien ooit. Berge is die bloedlyne van ’n landskap. Dit staan vas. En dit is ’n deftige landgoed: selfs die katte stap aan leirieme. Dit is nie sommer hierjy rondloperkatte nie – nee, elke troeteldier dra ’n blink naamplaatjie met die besonderhede van die eienaar aan die halsband. Reëls, reëls; hier is streng huisreëls. Ek ontmoet die opsigter. Sy naam is Giep Steyn. Hy is ’n dun gedrinkte man met ’n jaartbesem vir ’n snor. Hy dra geruite hemde en groet almal in die verbygaan, glimlaggend met sy spierwit klawerbord. Sy kunsgebit is te groot. Hy maak ’n fluitgeluid as hy ’n ‘s’ sê, kompleet soos ’n ou Hervormde predikant wat aandgodsdiens hou. Sjomersjet-Wesj. Die groot snor dra ’n geel skynsel van te veel Paul Revere. Binne die mikrokosmos van die landgoed is Giep ’n belangrike man. Hiér het hy mag. En jy mag nie na hom verwys as die “opsigter” of “caretaker” nie, nee, hy is die voorsittende beampte. Uit die staanspoor besef ek hier word die bodorp en die onderdorp se vetes net voortgesit, maar hierdie keer in die gedaante van rusies tussen die huurders en die eienaars, deeltitelakte en huisreëls in die hand. Giep moet beslis. En soos dit mos gaan, het eienaars altyd meer seggenskap as huurders. Maar dit was ná ons ingetrek het, en maande voor die Groot Droogte.

Februarie hierdie jaar ontvang ek ’n selfoonvideo van me Zille – (waar hét die DA my nommer in die hande gekry?) Die Weskaapse premier praat met ’n beswaarde gesig en met haar platgekamde, praktiese nuwe haarstyl. Water is skaars. Kapenaars bad hopeloos te veel – ’n vlugtige stort een, hoogstens twee maal ’n week is meer as genoeg. “Daar is niks verkeerd met ’n outydse waskom en lap nie,” vervolg sy. Die politikus is geklee in ’n knalrooi baadjiepak om die erns van haar boodskap te beklemtoon. Sy word die simbool van droogte en van ’n vegtende matriarg wat die lot van miljoene droogtegeteisterde Kapenaars op haar skouers neem. Kort na hierdie onthutsende boodskap ontvang ek nóg ’n video, die keer van Mmusi Maimane. Hy is minder dreigend en meer paaiend as die premier. Daarna biep my foon met ’n skakel na ’n rits klagtenommers om jou bure te rapporteer indien hulle water misbruik. Nou kyk, dis nie baie bevorderlik vir goeie buurmanskap as die leier van die amptelike opposisie jou aansê om op jou bure te spioeneer en hulle te verklik vir watervermorsing nie. Op die landgoed is daar baie buitekrane – dit vorm deel van die gemeenskaplike eiendom. En o wee die arme drommel wat vinnig sy emmer probeer opvul…Giep Steyn se waterpatrollie het begin. Hy huiwer, altyd iewers in die agtergrond en binne sigafstand van ’n kraan. Water is ’n nasionele bate, en die opsigter neem sy nuwe taak ernstig op, al rokende, ’n blik Coke in die ander hand en ’n bofbalkeps op sy kop teen die bloedige son. Dan tree die nuwe Vlak 6B-waterbeperkings in werking en die inwoners se agterdog verander in paranoia: wie het onlangs hulle motors gewas? En hoe is daardie motor gewas? Die karwassers, wat altyd met hulle waentjies vol skoonmaakmiddels en stofsuiers ronddool tussen die parkeerareas, raak oornag ’n skaars gesig. Die motors onder die skadunette vertoon al dowwer en stowweriger, bemors met die skuins blertse van die hadidas. Die gebruik van ’n tuinslang is teen dié tyd lankal geskiedenis.

Op ’n dag klop ’n karwasser blinkgesig aan my deur. “Ek het water gekry, maar ek charge nou R10 meer vir die was, want ek moet ’n deposit op die water neersit.”

“Ja..?” vra ek ongelowig. En met ’n omweg vertel hy my dat die kroegman water verkoop, of eerder: dat daar ’n florerende sluikhandel in gryswater in die landgoed se klubhuis ontstaan het. “Cheap-cheap”, en hy knipoog toe hy die motorsleutel by my neem.

’n Huis is ’n sosiale konstruk, ’n idee. ’n Tuiste, daarenteen, is ’n woonplek wat ingeleef en beliggaam word; dit dra die slytasie en verweer van die lewe self. Dit is die beloftes van kosgeure half sewe elke aand… of die vingermerke op verkillende hoogtes teen die mure wat verklap dat jong, groeiende kinders hier speel. En “tuiste” impliseer ’n moedswillige buurman wat met die lang verwagte winterreën van 2018 sy moddervoete aan my deurmat kom afvee. Maar ek het geleer om hom op ’n geamuseerde afstand te bejeën. Uiteindelik kom dit neer op grense.

Anders as die moraliserende spreuke van Langenhoven, skryf Robert Frost met ’n satiriese knyp oor die grense van buurmanskap.

Mending Wall

Something there is that doesn’t love a wall,

That sends the frozen-ground-swell under it,

And spills the upper boulders in the sun;

And makes gaps even two can pass abreast.

The work of hunters is another thing:

I have come after them and made repair

Where they have left not one stone on a stone,

But they would have the rabbit out of hiding,

To please the yelping dogs. The gaps I mean,

No one has seen them made or heard them made,

But at spring mending-time we find them there.

I let my neighbour know beyond the hill;

And on a day we meet to walk the line

And set the wall between us once again.

We keep the wall between us as we go.

To each the boulders that have fallen to each.

And some are loaves and some so nearly balls

We have to use a spell to make them balance:

“Stay where you are until our backs are turned!”

We wear our fingers rough with handling them.

Oh, just another kind of out-door game,

One on a side. It comes to little more:

There where it is we do not need the wall:

He is all pine and I am apple orchard.

My apple trees will never get across

And eat the cones under his pines, I tell him.

He only says, “Good fences make good neighbours.”

Spring is the mischief in me, and I wonder

If I could put a notion in his head:

“Why do they make good neighbours? Isn’t it

Where there are cows? But here there are no cows.

Before I built a wall I’d ask to know

What I was walling in or walling out,

And to whom I was like to give offence.

Something there is that doesn’t love a wall,

That wants it down.” I could say “Elves” to him,

But it’s not elves exactly, and I’d rather

He said it for himself. I see him there

Bringing a stone grasped firmly by the top

In each hand, like an old-stone savage armed.

He moves in darkness as it seems to me,

Not of woods only and the shade of trees.

He will not go behind his father’s saying,

And he likes having thought of it so well

He says again, “Good fences make good neighbours.”

 

Verwysings:

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Scannel, J. Spreuke van Langenhoven. 2002. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

https://holidappy.com/greeting-cards/Congratulations-messages-for-new-home-Housewarming-wishes-poems-and-quotes-for-new-home-cards

https://www.bustle.com/articles/118785-8-housewarming-traditions-from-around-the-world

10 of the Best Poems about Houses and Homes

https://maroelamedia.co.za/afrikaans/idiome-en-uitdrukkings/uitdrukking-dak-natmaak/