Philip de Vos

Philip de Vos. Hoe vertaal mens ‘n Mozart-brief?

Friday, January 27th, 2012

 

Vandag, 27 Januarie, is Mozart se verjaarsdag.

 

 

Mozart – volgens baie – vir my inkluis, is die grootste komponis ooit.

Mozart, van wie gesê is:

God needed Mozart to let himself into the world. – uit Peter Shaffer se toneelstuk Amadeus.

Mozart is happiness before it has gotten defined – Arthur Miller.

I believe in God, Mozart and Beethoven – Richard Wagner.

Mozart is the greatest composer of all. Beethoven “created” his music, but the music of Mozart is of such purity and beauty that one feels he merely “found” it – that it has always existed as part of the inner beauty of the universe waiting to be revealed. – Albert Einstein

Maar daar is ander wat anders dink: If a man tells me he likes Mozart, I know in advance that he is a bad musician. – Frederick Delius.

 

 Oor die jare het heelwat persone probeer om die Mozart-briewe te vertaal – veral in Engels en Frans, en elke keer het die vertalers by sekere probleme vasgesteek.

In haar inleiding tot die eerste uitgawe van haar bekende The Letters of Mozart and his Family (1938) sê Emily Anderson: “It should not be necessary to offer any apology for an English edition of letters of Mozart and his family. The only existing translations – are to be found in two collections, one by Lady Wallace (1864) and the other by M.M. Bozman (1928)”

 

 In 1864 noem Lady Wallace: “Though the essential substance of the letters has already been made known by quotations from biographies by Nissen, Jahn and myself, still in these three works the letters are necessarily not only given very imperfectly, but in some parts so fragmentary, that the peculiar charm of this correspondence – namely the familiar and confidential mood in which it was written at the time – is entirely destroyed.”

En Max Kenyon in sy 1956 A Mozart letter Book voeg by: “All editors have to face the impossibility of printing Mozart’s letters as they were written: What about Mozart’s made-up languages, partly vulgar but amusing, childish and partly a sort of code? And what about the misspelling and backward spelling when in high spirits?

En veel later kom Robert Spaethling se Mozart’s Letters, Mozart’s Life (2000)

 

 ”Young Mozart never had any formal education: his only teacher was his father, who instructed him and his older sister in music, history, German and probably some Italian, French and Latin. This lack of schooling is evident in Wolfgang’s prose, especially in his early years, when the teenager wrote letters to his sister with little concern about language and spelling. In this new translation, I have striven to bring out Mozart’s own voice and diction … and even his phonetic spelling.”

Met vier verskillende vertalers word dit tog interessant om vertalings van dieselfde brief te beskou:

Een van die heel eerste briewe van die jong Mozart was in Januarie 1770 toe hy en sy vader Leopold deur Italië getoer het:

 

 Hier is hoe Lady Wallace dit in 1864 vertaal:

“The opera at Mantua was very good. They gave Demetrio. The prima donna sings well, but is inanimate, and if you did not see her acting and only singing, you might suppose she is not singing at all, for she can’t open her mouth and whines out everything, but this is nothing new to us.”

Emily Anderson in 1938, se vertaling is min of meer dieselfde:

The opera at Mantua was charming. They played Demetrio. The prima donna sings well, but very softly …

Dan egter kom daar probleme. Destyds tussen opera-bedrywe is selfs ballet-uittreksels bygevoeg of anders hansworsery wat so ’n teateraand etlike ure laat duur het. So byvoorbeeld word Mozart se beskrywing van ‘n hanswors-toneel deur Lady Wallace vertaal:

“There is a grotesco who jumps cleverly, but cannot write as I do – just as pigs grunt.”

Emily Anderson in die 30’s praat van: “A grotesco was there who jumps well, but cannot write as I do, I mean, as sows piddle.”

Robert Spaethling in die jaar 2000 kon dit seker nader beskrywe as enige van die ander: “There was a grotesco dancer who can’t write like me: as pigs piss.”

Later word die grotesco danser weereens deur beide Anderson en Spaethling genoem, maar in die laat 19de eeu was mense blykbaar ordentliker as dié van vandag en word die volgende toneel heeltemal verswyg en uit Lady Wallace se vertaling gelaat.

Hier is hoe Emily Anderson dit beskrywe:

“The orchestra was not bad. In Cremona it is good. The first violin is called Spagnoletto. The prima donna is not bad; she is quite old, I should say, and not good looking.”

Hier is Spaethling se vertaling van wat tussen bedrywe op die verhoog plaasgevind het.

Ook hou Spaethling hom by die oorspronklike gees van die briewe, spelfoute en al soos die veertienjarige Mozart dit beskrywe het:

“The opera in Mantua was nice, they played Denetrio, the prima Dona’s singing is good, but too soft, and if you didn’t see her act with her hands but only hearde her sing, you would think she is not singing at all becaus she doesn’t open her mouth and just whines everything out very softly, but this sort of thing is nothing new to us …The Orcchestro was not at all bad. The Cremono orchestro is good, the first violinist is called Spangoletto. The prima Dona not bad, pretty old I think, and unattractive, and doesn’t sing as good as she acts… A grotesco dancer was there as well; he let out a fart each time he jumped.”

Hierdie was een van die heel eerste briewe van die jong Mozart geskryf in 1770, en vir my is Spaethling se Engels seker die naaste aan hoe Mozart geskryf het en en word hy met al sy gebreke ’n mens van vlees en bloed.

 

 Nóg Anderson, nóg Spaethling verswyg Mozart se vulgariteite, veral in die briewe aan sy niggie Maria Thekla – ook bekend as Bäsle. En vir diegene wat dink dat die Mozart-vulgariteite in die film en toneelstuk Amadeus oordrewe is, kan gerus die Spaethling-vertaling gaan lees, en besef dat Schaffer tog na aan die waarheid gekom het.

 

 ’n Hoogtepunt van my 2½ maande toer deur Noord-Amerika was toe ek vir Robert Spaethling en sy vrou Ellen kon ontmoet.

Alles was blote toeval: ’n Paar jaar gelede begin ek gesels met ’n jong Amerikaanse skrywer Troy Ygnacio Soriano in die stoomkamer by die Virgin Active gym in Groenpunt, en toe hy my tuis besoek, sien hy die Spaethling-vertalings tussen my Mozart boeke. “I know him. He is the gentleman whom I saw in a shopping mall in San Francisco and then helped when he had problems with his cellphone.”

En so het ’n e-pos korrespondensie tussen my en Robert Spaethling begin. Ek het hom vertel van my novelle Tot siens Tommasino oor die 1770 vriendskap tussen Mozart en Thomas Linley en het hom my ongepubliseerde Engelse weergawe bloot vir sy eie genot gestuur. En hier is hoe hy dit beskryf het: “A love story without sex. Two wunderkinder in search of their own humanity.”

Op 28 September 2011 het Peter en ek by San Francisco se Ferry Building vir Robert Spaethling en sy vrou Ellen gewag. Hoe sou ons mekaar herken? Ek sou ’n rooi hemp dra, en hy ’n kierie en ’n strooihoed.

 

 Vir twee uur lank het ons gepraat en was ek bewus van die warm hand van ’n tagtigjare wat myne vashou. En met die weggaan het hy vir my gesê: “Leb Wohl! I know we will never meet again.”

Vir Robert Spaethling en Ellen sal ek onthou lank, lank nadat ek Old Faithful en Mount Rushmore vergeet het. En dit alles te danke aan Troy Soriano toe hy die Spaethling-vertalings van die Mozart-briewe op my rak gesien het.

 

Philip de Vos: Ons volksplanting (die ware verhaal)

Wednesday, January 11th, 2012

 

 

 

Gister het ek weer in dose rondgekrap, en skielik was dit weer Maart 2002 – ’n Maand wat ek miskien liewers sou wou vergeet.

 Vir ’n hele paar jaar lank het Piet Grobler en ek ’n strokie op De Kat se agterblad gehad en daarna van 1999 tot 2002 in Insig. Elke maand het ek ’n strokiesteks van 28 reëls geskryf – altyd in rym, en daarna was ek dikwels verras om te sien hoeveel stoutighede die wonderlike illustreerder Piet Grobler by my stories bygevoeg het.

En toe gebeur dit – een middag word ons genooi vir middagete by ’n restaurant naby die Mouillepunt-vuurtoring en deel die redakteur van Insig ons mee dat die strokies nie meer sou verskyn nie. Die rede was dat my tekste te eenvormig geword het: te veel geslagsdele en te veel toilethumor.

Om een of ander rede het hierdie nuus my destyds baie onkant gevang met die besef dat my werk nie meer goed genoeg is nie. Omdat ek partykeer reken dat dit my kreatiwiteit is wat my aan die gang hou, was dit  die sneller vir ’n terugkerende depressie wat my vir ’n week in die hospitaal laat beland het – alhoewel ek dit destyds aan niemand behalwe Piet Grobler erken het nie.

 In ’n laaste desperate poging het ek ’n nuwe strokiesteks geskryf, hopende dat ek sou kon voortgaan, maar weer is ek meegedeel dat dit nie kon nie – dit was studentikoos, vol rassisme, afbrekend vir die vroulike geslag en daarby veels te lank – vier keer langer as enige strokiesteks wat ek ooit geskryf het.

 Gister ontdek ek weereens die teks waarvan ek so lankal al vergeet het. En ek lag vir my eie grappies; vergeet van die week in die hospitaal en besluit om dit pens en pootjies, net soos dit destyds geskryf is op my blog te sit.

 Piet het nooit ’n kans gehad om dit te illustreer nie, en nou het ek maar sommer ’n paar foto’s net vir die lekkerte bygevoeg:

  

 

1651 (DIE WARE VERHAAL VAN ONS VOLKSPLANTING)

 

Deel Een

DAAR KOM DIE ALIBABA

 

 Drie en ‘n halwe eeu gelede

was die Kaap reeds nes die hede

met kullery en vloekery

korrupsie en gekroekery.

 

 

Die V.O.C * sê: Dis ons plig

om daar ‘n halfwegpos te stig

min wetend dat die K.A.K. *

ook planne had vir Afrika.

Vir hulle klink dit goed en juis

die plek vir ‘n casino-huis.

‘n Jaar eer met die Dromedaris

vanuit Nederland gevaar is,

het die Alibaba-skip

vroeg reeds suidwaarts weggeglip

met Jan van Skeurbuik - kommandeur:

(‘n groot gekonstipeerde heer)

plus vroulief: Meraai Kwellery

bekend vir kla en skellery)

 

 

Daar was ook kêrels vol bravade:

veral neef Wolraad Marmelade

Ook J.B.* plus nog tagtig manne

met yslikgroot casino-planne.

 

*(1) Vereenigde Oost-Indische Compagnie

 *(2) Korrupte Amsterdamse Komplotters

*(3)Jan Blom – 17de eeuse digter ook bekend as B.B.

 

Deel Twee

WAAR OU TAFELBERG SE KOP …

 

Op die skip vol dobbeltafels

bak neef Wolraad koek en wafels.

En maak ou J.B. simpel rympies.

(Word iemand seesiek sê hy: “Sjympies!”)

 

 

‘n Berg net soos ‘n tafeltop

rys vroeg-Maart uit die see uit op

en gee Van Skeurbuik sewe suggies,

want hy sien reeds casino-liggies.

 

 

Meraaia moan slegs: “Wee, o wee!

Wie’s dié verwelkomskomitee?”

Sê Van Skeurbuik: “Dis die sotte

Gerrie plus sy Snottentotte

met spraakgewoontes bra onkies:

Na elke sin word daar genies!”

 

 

En J.B. val toe byna flou

toe hy ‘n fraaie vrou aanskou.

Sy was beboud dog goedbehoue,

en heet alleenlik Krakatoa.

Van Skeurbuik was gevul met hoop

toe Gerrie hom die Berg verkoop

in ruil vir twak plus koperdraad

(‘n kullery? Ja, inderdaad!)

En Wolraad koop summier ‘n donkie

van ‘n Snottentotteklonkie.

Bileam het hy geheet

(‘n naam om nimmer te vergeet.)

 

Deel Drie

BOLANDSE NOOIENTJIE

 

Dié nag is daar maar min geslaap,

want vreemde klanke vul die Kaap:

Leeugebrul dryf op die bries

gevolg deur Snottentot-genies.

Neef J.B. het maar min gerus.

Hy’t grote planne, ja gewis.

‘n Dobbelplek bo-op die berg.

Ja, daarin glo die ou glo erg.

Sy droom? ‘n Lang-lang foefieslaaid.

en neurie hy: Here Comes the Bride.

oor darie liewe vrou der vroue:

die groot van agter – Krakatoa.

Een dag weet hy die tyd was ryp

toe hy haar agterstewe knyp.

 

 

Sy nies ‘n nies en gil toe EINA!

Sê J.B. gou: “Dit rym met BYNA!”

Sug Skeurbuik toe: “Dis glad geen pret

en wragtag teen die Ontugwet!

Jy weet tog goed dis soort soek soort.

En elk moet bly waar hy behoort.”

Aldus is J.B. (arme man)

na Robbeneiland toe verban

waar hy vir jare skoon en rein was

net oor sy droomvrou glad te bruin was!

 

Deel Vier

BY DIE RUWE KAAP VAN STORME

 

Maar - gou vergeet die ander manne

van hul groot casinoplanne;

lê heeldag in die son en braai

gaai-omhoog by Sandy Baai.

 

 

En Wolraad M. sit aangeklam

en snoesig langs sy Bileam.

Die Snottentotte het geween.

Hul twak was op; hul berg was heen.

En Krakatoa proklameer:

“My man is weg. My hart is seer!”

Toe’t Gerrie skielik boos geraak:

“Nou neem ons Snottentotte wraak!”

Met enkelringe wat bly klingel

het hul die wittes snel omsingel.

Toe gee die spul een GROTE nies!

Van Skeurbuik sê: “Nee wragtag, sies!!”

 

 

Meraaia moan: “Ek raak skoon gek.

Als, ja áls is snot-bedek!”

En almal was gewis oorstelp,

want skielik sê die donkie: “Help!”

 

 

Die dag daarna seil almal weg.

Vol griep en voel hul blerrie sleg…

En toe – presies twaalf maande later,

kom Jan van Riebeeck oor die water

En dít is hoe ons volk geplant is

en hoekom ons nog steeds astrant is.

 

 

 

Philip de Vos. Die Huis wat verdwyn het

Sunday, January 1st, 2012

 

Vroegoggend op Kersdag bel Deon Knobel my: “Het jy gehoor? John Kannemeyer is dood.”
En onmiddellik daarna gaan soek ek deur my ou negatiewe na die foto’s ek destyds van Kannemeyer geneem het, want ek het goed en wel besef, môre kry ek alweer ’n telefoonoproep van Die Burger se kunsblad oor my foto’s van ’n bekende wat dood is. En hierdie keer spring ek hulle voor en stuur dit sommer self.
Toe plaas ek sommer terselfdertyd die foto van John op my Facebook-bladsy met die woorde: J.C. Kannemeyer1939 – 2011

En kort daarna gee die eerste mense alreeds kommentaar. En so gooi elkeen sy of haar stuiwer in die armbeurs, dié wat met bewondering praat en met twee siniese opmerkings van die kunstenaar Clare Menck.

En met die terugplaas van die negatiewe van John Kannemeyer in hulle lêer, kry ek ’n bladsy wat sê: Dicky en Marikie - 4 April 1976.

En skielik besef ek, dit is nie net ’n bekende, wat ek gefotografeer het, wat uit my lewe weg is nie, maar twee vriende saam met wie ek 35 jaar gelede besluit het om in die Volkswagen te klim en te gaan foto’s neem.

En ek onthou dié herfsdag nog goed: Ek was steeds in my dertigs en hulle twee seker in hulle twintigs. Ons was jonk. Ek het ’n kamera gehad. Marikie ’n sak vol kostuums. En Dicky ’n snorretjie en loshangende syhemp – ‘n Jack Sparrow van die laat 70’s.

Ons was in Kaapstad en op pad êrens heen; en het self nie geweet waarheen nie.

Oorkant die ingang tot Kirstenbosch was ’n klipkerkie met verlate grafstene en grys graspolle. Marikie met ’n lang rok en ’n somerhoed, het rondgedwaal en na die verslete naamskrifte op die grafte gekyk; toe haar hoed eenkant toe gegooi en agter ’n graf gaan kniel vir die eerste foto’s van die middag.

 

 

Toe reeds was daar vir my ’n soort vreemdheid wat ek nie kon plaas nie.

 

 

Met die Volkswagen, oor Constantianek al met die pad langs na Houtbaai toe.

Langs die pad – die mure van ’n verlate huis, sonder deure, sonder vensters. Takke lê in die kamers rond, maar daar was ’n ligtheid terwyl Marikie weereens vir foto’s poseer met haar somerhoed in haar hand.

 

 

Foto’s geneem, ry ons oor Chapmanspiek na Noordhoek se kant toe. Wit perde wei rustig eenkant langs die pad. Ons ken die pad nie, en ry sommer net. Die teerpad word ’n sinkplaat-grondpad. Daar is donker bome alkant en weereens ’n leë huis met ’n groot nommer 17 op die voordeur geverf. ’n Ou sofa sonder stoffeersel staan op die stoep. Planke hout lê rond en ’n malvaplant sukkel teen die ogiesdraad op.

 

 

Marikie knoop ’n tulband om haar kop. Die kolletjiesrok van die kerkhof en die murasie het nou plek gemaak vir ’n gewaad met allerhande blink borduursels om die moue en om die loshangende soom.

 

 

Die binnekant van die huis het ’n soort donkerte. Op ’n houtrak lê leë bottels en verroeste blikke. ’n Heuningkleur strook hang van die plafon met ’n leërskaar dooie vlieë wat in die klewerigheid vasgevang sit. En eenkant op die vloer: ’n speelkaart onderstebo.

Dicky poseer by die oop deur waar iemand met wit kryt Peter bly Peter geskryf het.

 

 

Marikie leun oor die kombuisdeur met ’n bakpoeierblik in die hand met Dicky wat die speelkaart bokant haar kop hou.

 

 

Eenkant by raamlose venster staan ’n lendelam tafel. En hier het Marikie weer vir my poseer.

 

 

Toe ek op Kersdag die negatiewe langs dié van John Kannemeyer opspoor was daardie vreemde dag amper vir my soos gister.

En toe kom ek ook skielik agter hoeveel duisende foto’s ek oor die jare afgeneem het, maar nooit afgedruk het. Van daardie middag, slegs twee of drie. Deesdae met digitale kameras is dit so maklik om jou foto’s op die rekenaarskerm te beskou. Toe kon ek alleen maar die swart en wit negatiewe teen ’n lig ophou, en my dan indink hoe dit as foto-afdruk sou lyk. Om elke liewe foto wat ek ooit geneem het, af te druk, was in elk geval gans onmoontlik.

Maar gister met die ontdek van die negatiewe, verlang ek na Dicky, verlang ek na Marikie; verlang ek na die dae toe ons nog almal jonk en vol lag was.

Dicky het ek maar slegs eenkeer die afgelope tien jaar gesien. Marikie seker 25 jaar gelede. Maar êrens in my telefoonboek was hulle name tussen baie ander.

En toe ek vir Dicky bel en van die foto’s vertel, vra hy my: “Onthou jy nog die huis wat verdwyn het?” En met die tot siens sê, vra hy my: “Wanneer sien ons mekaar weer?”

Daarna was dit Marikie se beurt. Toe ek destyds gehoor het dat sy nie meer in Johannesburg woon nie, maar weer in die Wes-Kaap, het ek gedink – wonderlik! ’n Vriendskap kan weer voortgesit word. Maar selfs nou - na al die jare in die Kaap, is sy steeds maar net ’n adres in my boekie.

Toe ek haar bel en van die foto’s vertel, vra sy my: “Onthou jy die huis wat verdwyn het?” En toe ek vra wanneer ons mekaar weer sien, sê sy dat sy my eendag sal bel as sy weer in stad toe kom.

En voor ek tot siens sê, vertel ek haar dat die foto’s wat ek van haar geneem het, deel van my foto-essay Die Reis geword het, en dat sy een van die Wyse Vroue in dié foto-reeks geword het. “’n Wyse vrou?” het sy oor die foon gevra, en ek kon ’n bietjie twyfel in haar stem gewaar.

’n Maand na die foto’s van 4 April 1976 het Karel Schoeman Kaapstad besoek en soos gewoonlik het ek hom weer rondkarwei, want hy dit tog reeds destyds al aan my gestel dat dit die enigste rede was waarom ons vriende is.

En ek het hom van Dicky en Marikie en van die huis vertel en voorgestel dat ons Noordhoek toe ry, en op pad kan ek sommer foto’s van hom ook neem.

En ja, op pad het ek wel ’n murasie ontdek, van wat seker eenkeer ’n kerkie moes gewees het en hier het ek vir Karel afgeneem in ’n leë saal met ’n gebreekte sambreel wat om een of ander onverklaarbare rede verflenterd eenkant gestaan het.

 

 

En later daarna in ’n eenkantkamertjie met ’n gat in die dak, en ’n deur met ’n yslike kraak.

 

 

Waarom ek juis destyds so gefassineer was met leë huise, en waarom ek mense daar wou afneem weet ek tot vandag toe nie, want ek het dit nog nooit ontleed nie, en wil ook nie weet waarom nie.

 

 

Na die foto’s in die leë kerkie het ek en Karel Noordhoek toe gery. Die teerpad het ’n sinkplaat-grondpad geword. Daar was donker bome alkant en by die draai waar nommer 17 ’n maand tevore gestaan het, was daar nou absoluut niks. Nie ’n enkele verlate baksteen nie, nie ’n verrotte plank nie – slegs lang gras waar ek ’n maand tevore vir Dicky en Marikie afgeneem het. “Die huis het verdwyn,” was al wat ek vir Karel daardie middag kon sê. “Die huis het verdwyn.” En dit is presies wat ek glo daar gebeur het.

En ek onthou nog goed hoe Dicky in later jare aan my gesê het: “Daardie dag was tog vreemd. Daar het jy my afgeneem by ’n deur wat sê: Peter bly Peter. Met wat later met my gebeur het, klink dit vir my soos ’n soort voorbode? Ek sal seker nooit weet nie.”

As ek nou daaraan dink, was dit tog ’n vreemde dag: Marikie wat kniel agter ’n grafsteen. Later Marikie met ’n speelkaart wat bokant haar kop gehou word. Destyds nog was ek gefassineer met die lees van kaarte en het selfs die Tarot bestudeer. Maar op ’n dag het ek besluit, dat ek nie daarmee wou voortgaan nie. Ek het gevoel dat hierdie gawe maar liewers weggebêre moes word.

Ja, tot gister, kon ek nie van die negatiewe uitmaak watter soort kaart dit was wat Dicky vasgehou het nie. Met die negatief teen die lig gehou, het ek eers gedink dit is die tien van Hartens, maar toe ek die negatief skandeer, merk ek dat dit eintlik die tien van Skoppens was.

Het dit enige betekenis gehad? Deesdae met die internet waar mens deur die druk van ’n knoppie alles kan uitvind, het ek getik: “What does the ten of Spades signify?” en hier is een van die antwoorde wat ek gekry het: “It could just mean that something is coming to an end.”

En skielik besef ek dat daar tog miskien iets waar kan wees: Drie vriendskappe van destyds het aan ’n einde gekom en bestaan nie meer soos dit destyds was nie. Drie persone het dié dag nes daardie vreemde huis op een of ander manier uit my lewe verdwyn: Dicky en Marikie en Karel Schoeman.

(Tik op hierdie skakel vir die foto-essay Die Reis met Marikie as een van die Wyse Vroue): 

 
 
 
 

 

Philip de Vos: Phil du Plessis en die oue Nefertiti

Tuesday, December 20th, 2011

 Deur my eie tegniese lompheid het ek hierdie bloginskrywing wat alreeds op die Versindaba-blad verskyn het uitgevee, en voordat dit vir ewig en altyd in die kuberruim verdwyn, gee ek dit ’n nuwe titel. 

 Vroeg-oggend op die 28ste kry ek ’n e-pos van Deon Knobel.

Die digter, Phil du Plessis vanoggend in Constantiaberg Hospitaal, Kaapstad, oorlede na maande se swak gesondheid. Begrafnisreëlings by Constantiaberg Funeral Home, 0216712400. of 0836536536.

Niks verder nie, net dié paar woorde.

En nou is dit maar net my eie herinneringe waarop ek moet staatmaak. Phil du Plessis se dubbelverdiepinghuis langs die treinspoor naby die Kalkbaaihawe. Die geluid van treine sommer naby en die see daar ver onderkant. See en donker rotse. Skilderye en kunswerke oral in die skemer huis; ’n viool êrens in ’n donker hoekie en een van my versies wat ek op die graffitimuur in sy toilet gekrabbel het.

En verder – klein stukkies onthou van ’n persoon wat ek glad nie geken het nie, maar wel een of twee keer by Deon teëgekom het.

En toe ek vanoggend deur my ou negatiewe krap, kom ek agter dat ek wel vir Phil tweekeer gefotografeer het en tog kan ek niks verder onthou nie.

 

 Waaroor het ons gesels? Defintiief nie oor die poësie nie, want ek het nog al die jare van dié onderwerp weggeskram. Dit is sekerlik die rede dat ek nie werklik kunstenaars of skrywers of sangers onder my intieme vriendekring tel nie, want dis makliker (en lekkerder) om met my vriend Rob Kirsner na die Hollywood-musicals van die veertigs op die groot platskerm TV te kyk as om die jongste Breytenbach-bundel met ’n slim iemand te bespreek of dalkies oor Natalie Dessay se jongste opera DVD. Ek is ’n pleb en ek weet dit.

Dit was een aand in Milnerweg, Tamboerskloof by Roy Allen se huis.

Tussen die ander partytjiegangers het ek vir Phil du Plessis langs ’n ou dame sien sit: ’n Nefertiti soos sy straks in haar laat-sewentigs sou gelyk het. En soos soveel kere daarvoor en daarna vergeet ek alle ordentlikheid en gaan praat ek met Phil (vir wie ek glad nie geken het nie) en sê dat ek graag foto’s van sy metgesel wou neem. Later verneem ek sy is Fania Pocock en ’n skilder

Op hierdie manier het ek ook later vir die kunstenaar Beezy Bailey in die Virgin Active gym sommerso in die stoomkamer gesê: “Ek neem foto’s.” Die direct approach werk nogal partykeer alhoewel ek nie werklik voor op die wa is nie. En Beezy Bailey het toe wel ja gesê vir ’n foto wat toe later in my fotoboek Milieu verskyn het.

’n Ruk daarna is ek toe op pad Kalkbaai toe om Phil se vriendin af te neem. En later dié dag het ek toe wel vir hom ook afgeneem, want op my ou negatiewe is haar nommers op een strokie nommers 21 en 22 en syne nommers 25 en 26 en dit is alleen uit hierdie negatiewe wat ek die volgorde van dié middag kan uitpluis.

 Phil het my na haar woonplek geneem en in plaas van ’n ateljee vol esels en olieverf en die reuk van terpentyn neem hy my na ’n klein beknopte kamertjie in ’n ouetehuis; ’n onopgemaakte bed en eenkant op ’n leunstoel sit sy alreeds vir my en wag met ’n eksotiese tulband op haar kop; goue kettings en oorbelle en ringe en ’n sterborsspeld.

 

 In haar kamertjie in die ouetehuis het sy vir oulaas geglinster en moes ek my foto’s neem teen ’n grys-spikkelmuur. En voor ek wou huis toe gaan, het sy ’n kaslaai oopgetrek en ’n foto uitgehaal: “That was me when I was young and beautiful and still an artist.”

 

 Sy het nooit my foto’s gesien nie, en ’n maand daarna verneem ek dat sy oorlede is.

Fania Pocock se foto’s het tussen ander negatiewe in plastiese lêers beland en in 1978 vra Johan Bernard van SUKOVS-toneel of ek nie van my foto’s in die Sterrewag-teater bo-op Naval Hill in Bloemfotein wil kom uitstal nie.

Binne ’n week het ek ’n uitstalling uitgedink. Tussen my menige negatiewe het ek foto’s ontdek van vrouens wat ek oor die jare geneem het en so het die idee vir my foto-reeks Die Reis ontstaan. ’n Reisiger is in ’n woud op pad êrens heen. Waarheen weet hy self nie: En dit is deur drie Wyse Vroue dat hy hy uiteindelik die antwoord ontvang, en uitkom waar hy begin het.

 

 En in my donkerkamer het Fania ontsnap uit haar laaste vier mure en in ’n woud antwoorde probeer gee op vrae waarvoor daar geen antwoorde was nie.

Die hele reeks kan bekyk word deur op die volgende skakel te tik.

 http://www.facebook.com/media/set/?set=a.39275863173.51893.636813173&type=1&l=4eda4bc94a

 En voor ek vergeet – later dié middag het ek toe ’n klompie foto’s van Phil du Plessis ook geneem, maar dié foto-nemery is al lank vergete, maar Fania Pocock aan wie hy my voorgestel het, sal ek deur my foto-reis nog baie lank onthou.

 

Philip de Vos. Daar is maar baie min van ons oor

Monday, December 19th, 2011

 Elke keer wanneer ek ’n telefoonoproep van Laetitia Pople van Die Burger se kunsblad kry, is my eerste vraag gewoonlik: “Wie is nou weer dood?” En ek is gewoonlik reg ook.

 Oor die jare het ek baie dikwels foto’s van skeppende Suid-Afrikaners geneem. Waarom weet ek self nie. ’n Vriend het die ander dag suggereer: “Miskien is dit maar net ’n subtiele manier van names-dropping.” Maar ek hoop tog dit is nie regtig so nie. As ek dink aan my intieme vriendekring, het ek selde kunstenaarsvriende van watter aard ookal. Dit is vir my veel makliker om soos ’n soort groupie dié mense van ver-af te beskou.

Dit het reeds begin toe ek die wêreld-beroemde skrywer Mary Renault afgeneem het. Ek het haar werk leer ken deur The Charioteer van 1953 – een van klassieke romans van die vorige eeu. Toe ek hoor dat sy in Kaapstad woon, het ek my skaamheid in my sak gesteek en het ek ’n brief geskryf en gevra of ek haar kon fotografeer en dit is ook sy wat my later die grootste kompliment oor my fotografie gegee het: “You are the first photographer who ever made me relax.”

En hierdie woorde was seker omdat ek nooit ’n groot bohaai maak as dit by my fotonemery kom nie. Dit is maar net ek en die persoon en ’n kamera. Niks meer nie – g’n driepote of beligting nie. Dit is maar seker omdat ek eintlik niks van die tegniese sy van fotografie weet nie. Toe ek jare gelede onderwyser was by Cape Town High was ek ook in beheer van die kameraklub. Een seun met ’n peperduur Hasselblad was g’n fotograaf nie, een met ’n goedkoop Instamatic het die mees sensitiewe foto’s geneem. Op die ou end is dit die oog wat die belangrikste is en nie die feit of jou digitale kamera 20 miljoen pixels het nie.

En dit was nog altyd my werksmetode: ek neem selde net portretstudies, want soos Freda Linde eenkeer vir my gesê het: ’n Mens is nie net ’n kop en skouers nie; daarom neem ek mense in hulle eie milieu af en gebruik net natuurlike lig. En Milieu het dan ook die uiteindelike titel van my foto-boek geword.

Die ander dag kom kuier Michael Bubb, ’n nuwe vriend wat ek deur joga-klasse leer ken het, by my. Hy het nog nooit my foto’s gesien nie, en toe ons deur Milieu blaai kom ek agter hoeveel van die mense wat ek oor die jare afgeneem het alreeds vanaf 2006, toe die boek gepubliseer is, oorlede is:

Dit is seker nie die vrolikste manier om ’n blog van 2011 af te sluit nie, maar daar is tog ’n klompie skeppendes wat ek sal onthou, al is dit maar net deur die foto’s wat ek van hulle geneem het.

Die een foto wat altyd reaksie kry, is dié van Al Debbo en meer mense word daardeur beïndruk as oor die foto van Chris Barnard die hartsjirurg of dié van Breyten Breytenbach. Meer mense ken seker Al Debbo se Hasie as een van die gedigte uit Die Ysterkoei moet sweet.

 

En dit was juis Al Debbo wat reeds vroeg in my hart gekruip het in die veertigjare oor sy films met Frederik Burgers. En ek onthou nou nog hoe teleurgesteld ek was dat ek nie destyds Die Kaskenades van Dokter Kwak kon gaan sien nie, want daar was ’n skielike polio-epidemie en ons kinders moes almal met ’n knoffelsakkie om ons nek rondloop en wegbly uit bioskope. “Dit is om die kinderverlamming weg te hou,” is aan ons gesê en dié wat mal was oor bioskoop het toe besef dit is nie net Dracula wat bang was vir knoffel nie.

En Al Debbo se Hasie was ook een van die groot plesiere van my kinderjare, maar ek kon glad nie verstaan waarom een van die woorde so stout was nie:

Jou spinnekop, jou akkedis,

jou sprinkaanvoël, jou koue pis.

Jou pikkewyn, jou pruttelaar.

Ek slaan jou inmekaar.

 

Hasie, hoekom is jou stert so kort?

Hasie, hoekom is jou stert so kort?

Hasie, hoekom is jou stert so kort?

Wat het van jou stertjie geword?

 

Eers, baie jare later, het ek agtergekom dat hy eintlik van koue vis gesing het, en toe was ’n bietjie van die lekkerte van die lied daarmee heen.

Ewenwel,’n paar jaar gelede het ek vir my ma in Bloemfontein gaan kuier en terselfdertyd besluit om Al Debbo te nader vir foto’s.

Toe ek daar aankom, moes ek eers ’n rukkie wag, want Al Debbo was aan suurstof gekoppel. Was dit emfiseem? Ek het nie gevra nie, maar toe ek begin foto’s neem was dit weer die Al Debbo van my kinderjare met ’n snaakse hoedjie op sy kop.

Op 14 Julie vanjaar is hy oorlede en dít is wat sy seun Alec in die koerant te sê gehad het:

“My pa het in die tyd wat hy in die hospitaal was só diep in die harte van die verpleegpersoneel gekruip dat almal erg ontsteld was toe hy oorlede is, want hy het gereeld in die hospitaalbed sy treffer Hasie gesit en sing.

Vir dié wat wil luister, her is ’n uittreksel. Tik maar net op die skakel.

 http://instalyrics.com/artists/462883-al-debbo/lyrics/8595605-hasie

En in Bloemfontein het ek ook vir Lucas Maree afgeneem wat vanjaar op 19 Februarie oorlede is. Van die besoek kan ek niks onthou nie, behalwe dat ek gevlei was toe ek hoor dat Lucas soms van my versies by sy vertonings voorgelees het.

 

Ook die miljoen waarna hy gesoek het, was nooit te kry nie en kort voor sy dood het Mathys Roets 30 musikante en tegniese mense bymekaar gekry om ’n CD te maak om van Lucas se yslike mediese koste te help dek.

En in Lucas se eie woorde: “Ek word partykeer wakker, dan dink ek ek kan nie glo daar is mense wat soveel moeite vir my doen nie.”

Hier is ’n skakel:

 http://www.youtube.com/watch?v=xMdSN8qr13A

 Dan was daar Fanus Rautenbach wat op 29 Januarie oorlede is en wat self so ’n bietjie met die dood kon spot:

  “Ons moet almal eendag sterwe, maar elkeen sterf volgens sy beroep: 

Reisigers gaan heen

Jagters gaan bokveld toe

Kokke steek lepel in die dak

Die horlosiemaker se tyd het aangebreek

Die melkboer het die emmer geskop

Die tuinier is van die gras afgemaak

Die begrafnisondernemer sien sy gat

 Hier is ’n skakel:

 http://www.youtube.com/watch?v=pBhtRpJlTGs&feature=endscreen&NR=1

 

Toe die komponis Hubert du Plessis op 11 Maart oorlede is, het ek onmiddellik gedink aan sy woorde.

Omdat hy alreeds verswak was, het hy sy jarelange vriend Henry gestuur om ’n kopie van die foto-boek by die bekendstelling te kom kry.

 

 En daardie selfde aand het Hubert my gebel. “Eendag wanneer ek sterf, moet jy asseblief die foto wat in Milieu verskyn vir Die Burger stuur, want dit is hoe ek graag onthou wil word.”

Later het Hennie Aucamp se artikel oor Du Plessis as woordmens op die Versindaba-blad verskyn:

  http://versindaba.co.za/2011/03/15/hennie-aucamp-hubert-du-plessis-woordmens/

 Van Phil du Plessis kan ek maar min sê. Miskien moet Marié Blomerus dit maar liewers doen:

“Vir my sal hy altyd ’n gewaardeerde enigma bly; ’n besonderse mens met ’n besondere verstand en ’n buitengewone siening van die taal: ook maklik die persoon met die donkerste psige wat ek ooit geken het. Sy benadering van die skryfkuns was so anders as dié van die gewone digter en het bepaald met die onbegryplike duisternis waarmee hy geworstel het, te doen gehad, hoewel dit soms na maklike woordspelings gelyk het.”

Verlede week sien ek vir Deon Knobel en hy sê: “Ek was by Phil du Plessis se gedenkdiens en daar was nie ‘n enkele skrywer êrens te sien nie.”

En laastens was daar Lloyd Strauss-Smith wat dood is terwyl ek en Peter vanjaar op ons 2½ maande toer in die VSA en Kanada was. Lloyd – die enigste een wat werklik oor die jare ’n vriend geword het. Lloyd, wat dalk plaaslik seker die minste bekend was, maar wat in sy nederigheid tog soveel bereik het.

 

Toe ek in 1967 in Kaapstad aangekom het, het ek sangles by Adelheid Armhold gehad en 3 jaar daarna sê Deon Knobel vir my: “Jou stem was so oop en gemaklik toe ek jou eers hoor sing het, maar nou klink dit geknyp en geforseerd. Waarom gaan jy nie na Lloyd Strauss-Smith toe nie?”

En Lloyd het vir my gesê: “Jy maak jou mond oop en jy sing”, en net deur na hom te luister, kon ek weer sing, en nie soos in Adelheid Armhold se dae hier gedink, en daar gedink, en hier gedruk, en daar gedruk nie. Teoretiese kennis het nog nooit vir my gewerk nie.

Hier is wat Barry Smith oor Lloyd geskryf het:

“Sometimes we South Africans tend to forget all too easily some of our singers who pioneered a place in world music, especially in an age where we seem to recognise younger talent that has ‘made good’ abroad quickly. One of these much neglected figures is the tenor Lloyd Strauss-Smith. Part of this neglect is possibly due to the fact that the most active part of his career was spent in England and that, although he sang in more than 80 operas, he was primarily an oratorio and lieder singer, a field which attracts less attention than that of the opera world.”

En Lloyd het inderdaad met die grotes gesing: Joan Sutherland en Kathleen Ferrier en in hierdie snit saam met Leontyne Price in Richard Strauss se Die Liebe der Danae 1959

  http://www.youtube.com/watch?v=S_tJpI6VUiU

Ek sal altyd Lloyd se vrolike stem onthou wanneer hy die telefoon beantwood met: “Lloyd here!” 

En die woorde wanneer hy tot siens sê: “Pas jouself goed op, boetie. Onthou, daar is maar baie min van ons oor!”

Philip de Vos. Die Land van Melk en Heuning en MacDonalds

Saturday, November 5th, 2011

 

 DIE LAND VAN MELK EN HEUNING EN MACDONALDS
 
 
Ons was skaars ’n week met vakansie uit die land uit, toe ek skielik besef my Muse is dalk vir goed weg. Nooit weer gaan sy slim dinge in my oor fluister nie. ’n Paar jaar tevore het ek dit tog alreeds voorspel:
 
Na ’n diepte analise
oor die wese van die Muse
besef ek sy’s ’n mite
of by Hambidge op visite.
 

En daar sukkel-sukkel ek toe in New York te voet oor die Brooklyn Bridge met die besef dat ek binne ’n tydperk van 7 dae Museloos in ’n ou man verander het. Hinke-pink is ek verder en kon ek my alreeds voorstel met ’n kierie en grys klosse hare wat by my oorholtes uitpeul. En waar is al die diep gedagtes van my verlede dan heen?

Ek het gehoop dat daar ’n inspuiting met allerhande nuwe uitinge op my wag. Miskien êrens – by Mount Rushmore waar een van die President se klipkoppe vir my sal sê: Jy is ’n uitverkorene of ’n dobbelmasjien in Las Vegas, sal voorspel hoe die geld vir my gaan inrol, maar helaas toe onthou ek wat ek êrens gelees het:

Rhyme doesn’t pay

En selfs rympies klink vir my op die oomblik slegs soos iets uit my ryke en veelbewoë verlede.

Dis die probleem van skryf: na ’n paar maande van stilte, weet ek sowaar nie waar om te begin nie.

Miskien, soos die Bybel sê: In die begin was die Woord, of anders soos onse Julie Andrews in The Sound of Music kweel: Let’s start at the very beginning. A very good place to start.

Maar waar begin ek presies? Na meer as ’n jaar van bloginskrywings, het ek wel besef dat ’n blog my eintlik forseer om te dink. Ek kan tog seker nie die heeldag sit en luister na die Andrews Sisters of my geliefde Little Lulu comics lees nie.

En watter gerespekteerde skrywer sal ooit durf erken dat sy mees geliefde film The Wizard of Oz en nie The Discreet Charm of the Bourgeosie is nie – sekerlik nie my gewese vriend Karel Schoeman nie.

Oor The Wizard of Oz sal ek wel in ’n latere bloginskrywing ’n bietjie aandag gee, want ja, ek het toe sowaar Dorothy se ruby slippers in die Smithsonian-museum in Washington DC gesien en later die nuwe Lloyd Webber-produksie van Wizard of Oz in die Palladium-teater in Londen. En ek moet erken die ruby slippers het nou wel ’n bietjie van hulle 1939 glans verloor, en in plaas van op my knieë voor hulle neer te sak, kon ek maar net wonder hoekom hulle nie meer so mooi lyk nie, maar helaas, daardie ruby slippers is presies so oud soos ek, en selfs ek het al ’n bietjie Polyfilla nodig voor ek in die openbaar wil verskyn.

 

 

Waarheen hierdie blog presies heen lei, weet ek steeds nie.

Maar om te begin by die begin: die eerste drie weke was op ’n bustoer met ’n vrag van 53, meesal Australiërs wat by elke rus-halte behoorlik uit die bus geval het om eerste by ’n stalletjie uit te kom om poskaarte te koop van ’n plekkie in die grammadoelas waarvan hulle nog nooit van gehoor het, of ooit weer sal hoor nie. En natuurlik ’n T-hemp om hulle later aan hierdie onvergeetlike oomblik te herinner. Ja, want dit is so lekker goedkoop om as Australiër deur Amerika te toer, terwyl ek en Peter, as die enigste twee Suid-Afrikaners alle pryse met sewe moes vermenigvuldig en aanskou hoe die Australiërs hulle elke paar uur vergryp aan Triple Hamburgers en double thick malts ( en ja sowaar, daar was ’n paartjie saam met ons op toer. Hulle was op hulle wittebrood. Hy ’n aantreklike skepsel – tall dark and handsome – en sy – alreeds so groot soos ’n tenk. Hoe lank daardie huwelik gaan hou, weet ek nie, maar ek het haar tog hoor sê: As soon as ’n get back home, I am going on a diet of water for the next six months.

En om van vettes te praat. Ek het gereken dat al die Amerikaners gaan lyk soos Tom Cruise of onse eie Charlise Theron. Maar, helaas …

My ma het altyd gesê ’n mens spot nie met siekte nie. En nee, ek spot nie, maar soveel enorme waggelendes het ek nog in my hele lewe nie aanskou nie.

 

 

En dis regtig nie ’n gespot met siekte nie, want ek het my eie oë by Disneyland aanskou, hoe ’n vet pa en vet ma hamburgers en icecream by hulle kinders se keelgatte (of is keelgaaie ’n beter woord) af forseer presies soos daardie arme foi grass-ganse.

 

 

 

En by Mount Rushmore - die Mekka waarna ek op pad was – om my verlore Muse te gaan soek, en waar die dikkes met hul kameras en selfone na daai klippresidente gemik het, het ek met my eie kamera eerder onbeskaamd in die rigting van die bultende boeppense gemik, want as ek rêrig ’n foto van Mount Rushmore wou hê, kon ek net sowel ’n poskaart daarvan gaan koop – en ek het dit toe wel gedoen, maar dit was een van Mount Rushmore se agterkant – ’n gedeelte wat minder bekend is aan die gapende toeriste.

 

 

 

En, moet ek byvoeg – my Muse was glad nie daar te kry nie, maar daar was gelukkig ’n paar digitale beelde wat ek huis toe kon terugneem.

 

 

 

Ek het toe gedink sy wag dalk geduldig vir my in die dieptes van die Grand Canyon, maar selfs in daardie yslike donga was sy nie te kry, en al wat Old Faithful kon regkry, was om haar gereelde spoeg te spoeg, en that was that.

En toe reken ek, Las Vegas (die plek van drome – meestal helaas plastic) is miskien die plek waar sy vir my by ’n roulettetafel sit en wag. Maar al wat ek van Las Vegas oorhou, is dat daar minder vettes was, want mens moet tog mooi lyk as jy strakkies hier vir jou ’n man kom soek.

 

 

Van vetsug gepraat – volgens die jongste statsitieke van die National Health and Examination Survey kom die volgende

About one-third of U.S. adults (33.8%) are obese.

Of these approximately 17% (or 12.5 million) of children and adolescents aged 2 – 19 are obese.

 

 

 

 

En ek glo nie dis geneties nie, en het my eie oë gesien hoe hulle eet en soos iemand êrens gesê het: What goes through your lips will sit on your hips.

En in een van my versies sê ek juis:

 

Coca-Cola

bier

en

vleis

oliebolle

room

en

rys

kabeljou

en

kreef

en

snoek

hot dogs

Russians

Krismiskoek

macaroni

pienk polonie

tjips

spaghetti

Hallo, Vettie!

 

illustrasie: Piet Grobler

 

En nou na 2½ maande oorsee is ek terug in ons land van die minder dikkes, en deur die skrywe van my eerste bloginskrywing het ek agtergekom my Muse sit miskien nog altyd die hele tyd vir my hier en wag – en soos Dorothy juis in Wizard of Oz sê: There’s no place like Home.

En alleen ’n ware Friend of Dorothy sal ooit werklik hierdie wyse woorde verstaan.

 

 
 
  
 
  

 

 

 

 

Philip de Vos. ‘n Tyd om Koebaai te sê

Wednesday, August 3rd, 2011

 

‘n Tyd om Koebaai te sê                          illustrasie: Piet Grobler
 
 
Soos Koning Salomo 0p 18 April 2584 vC aan een van sy derduisende vrouens voor ’n aand van lepellê gesê het: “Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan, en vanaand is dit ongelukkig die tyd vir laasgenoemde, want selfs gepoeierde renosterhoring het vanaand sy effek verloor.”
En nou, nes, die wyse koning, weet ek is dit nou tyd om koebaai te sê, al is dit miskien net vir ’n klein rukkie.

 

Op 17 Augustus is ek op pad oor die groot waters (iets wat alreeds deur my frenoloog in 1957 voorspel is – lees gerus my eerste bloginskrywing;

 

  http://versindaba.co.za/2009/08/05/van-mooi-dinge-in-die-lewe/

 

Maar - as ek dalk genoegsaam deur Mount Rushmore en deur Disneyland geïnspireer word, is daar miskien teen einde Oktober weer ’n inskrywing of twee op hierdie blog om mense te laat weet watter diep dinge ek dink.
Intussen moet ek maar liewer soos my skapie sê:
 

 

Slaap kindjie slaap

daar buite

loop ’n skaap.

En as skapie

loop en mê,

wat wil skapie

eintlik sê?

“Kriewel

met jou vingers

deur my

warm

troetelwolletjies.

Moet my

net nie druk nie

anders los ek

tjoklitdrolletjies . . . ”

Slaap kindjie slaap

daar buite

loop ’n skaap.

Skapie blêr

en skapie mê . . .

Skapie het

sy sê

gesê.

 

En indien die VSA met al die MacDonalds en Colonel Sanders-hoenders my nuwe muse gaan wees, skryf ek dalkies weer my diep gedagtes op papier neer.

Maar as dit miskien nie gebeur nie, wil ek net noem dat my bloginskrywings begin volgende jaar as boek deur Proteaboekhuis gepubliseer gaan word. En hierdie is dalkies die omslag:

 

Philip de Vos: Wanneer is ordentlik nie meer ordentlik nie?

Sunday, July 10th, 2011

 

ASPOESTER

Partykeer begin ek wonder.

Ek het nog altyd gereken ek is baie ordentlik wat my skryfsels betref. Stout soms, maar dit was lank gelede. Deesdae dat ek ouer is, dink ek eerder aan die kortstondigheid van alles.

Maar ongelukkig is daar een of twee of dalkies meer mense wat slegs my stoutkant raaksien. So byvoorbeeld kan ek noem wat ‘n paar tannies destyds te sê gehad het oor my strokiesteks met Piet Grobler se illustrasies wat destyds in De Kat verskyn het. Hier is hulle skrywe:

Philip de Vos en Piet Grobler se strokie oor Adam en Eva is met een woord banaal. Ek hoop soos die res van ons dat dit ‘n vroeë dood sal sterf en dat werklike spitsvondige humor sal seëvier bo vieslikheid.

S. Mostert en 10 ander, Vrouediens, Citrusdal

 

Ter selfverdediging mag ek ek seker noem dat ek in al die jare nog nooit ‘n enkele vierletterwoord in my versies of wat ookal gebruik het nie. Natuurlik ken ek al die woorde wat met P begin. En dit was ook die eerste ding wat ek gedoen het, as ek as kind deur ‘n woordeboek blaai. En as ek daardie P-woord opspoor, het dit my gewoonlik groot plesier gegee.

Dit is seker iets daarmee te doen dat ek in die laat dertigerjare, drie maande voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog gebore is. Destyds in die veertigerjare was ons almal nog baie onskuldig en baie, baie ordentlik. Lelike gedagtes is onmiddellik onderdruk en die enigste pornografie waaraan ons blootgestel is, was Koning Salomo se Hooglied.

En al het my ma my nooit van the birds and the bees vertel nie, het het ek vroeg reeds ‘n effense verdraaide weergawe daarvan in my laerskooljare verkry.

En dít is seker die rede dat ek wat my skrywe betref ‘n soort naïwiteit behou het, want ek het nog altyd gedink aan die graffiti wat ek êrens op ‘n muur gelees het:

 

I don’t care what the world knows about me, as long as my mother never finds out.

 

Wat ek dus in my vroeë versies gehad het, was ‘n tipe double entendre wat die stoutigheid aan die leser se gedagtes oorgelaat het.

Kyk maar na die volgende limericke:

 

‘n Vrou van distrik Soutpansberg

Was vreeslik verlief op ‘n dwerg.

       As dit kom by die vlees

      Was hy rêrig ‘n reus,

En sy dade was erger as erg.

 

of die volgende een:

 

‘n Kêrel van Onderstepoort

Was glad nie ‘n man van sy woord.

      Hy nooi Koeks Maree

      Vir koekies en tee,

Maar eintlik vir onderste poort.

 

In beide limericke het ek na die P-woord verwys, sonder om die ding op sy naam te noem.

Maar skielik op ‘n dag gee een van daardie P-woorde vir my probleme. Toe ek met die De Kat-strokies begin het, het ek die bekende sprokies as inspirasie gebruik en gou was dit Aspoester se beurt. Ongelukkig het daardie vrou se naam nog altyd vir sommige mense aan goeters onder die belt laat dink.

En na ‘n bietjie dink het ek ‘n 28 reëlige versie uitgedink en Piet het dit geillustreer:

 

En kort daarna verskyn die volgende brief op die De Kat se brieweblad:

 

Ek word telkemale begroet deur ‘n afskuwelike strokiesprent deur mnre. Piet Grobler en Philip de Vos. Na die walglike Aspoester-strokie kan ek dit egter nie hanteer nie. Om dus gewalg te word in dit wat ek voorheen so geniet en trots op was, is ‘n bitter pil om te sluk.

Christel Robbertze, Londen

 

Wat het ek dus uiteindelik met hierdie strokie probeer sê?  Was dit oor hoe sekere Afrikaanse woorde oor die jare hulle betekenis verander het, of was dit maar net my poging om op ‘n studentikose manier (Joan Hambidge se woord omtrent my limericke) vieslik te probeer wees.

Besluit maar self.

Philip de Vos: Die Sage van Simson Richter

Friday, June 24th, 2011

Philip de Vos: Die Sage van Simson Richter

Partykeer lewer ‘n boks-uitpakkery allerhande dinge op waarvan jy al lankal vergeet het. En so ‘n uitpakkery vat ook dubbeld die tyd op wat dit behoort, want nou word vergete stukkies en brokkies weer deurgelees, en in plaas van weggooi net weer in ‘n ander boks geplaas.

En dit is hoe ek vanoggend op my ellelange Sage van Simson Richter afkom. As Die Durbanse Poepwedstryd goed genoeg was om in Komrij se versversameling te verskyn het Simson Richter seker ewe veel reg om op ‘n blog te verskyn en na ‘n week of twee weer êrens vergete die kuberruim in te verdwyn.

En ja, die vers is maar net weer ‘n verskoning om iets op my blog met sy tanende idees te plaas: En ja, ek het wel my Bybelkenniseksamens as kind geslaag en ek kan nog al Bybelse rigters se name uit my kop opsê …

 

DIE SAGE VAN SIMSON RICHTER
Simson Richter, klein en skugter
Simson was ‘n sissie.
Al sy maters speel en jol,
maar hy sê: “Issielissie!”

AI die ander spot met hom.

(Dis wroeging en dis pyn)

En die ergste van die spotters

was Delila Phyllis Steyn.

Dié aaklig-nare meisiekind

was pragtig-mooi en slank.

Sy lag en spot:

“Jy lyk maar vrot…

En jou hare is te lank!”

So allenig - Simson Richter:

broos en klein en hoogs ontnugter.

Hy’t sy oë uitgehuil;

en afgedroog met sy pounietyl.

Van sotterny-gespottery

was hy gedaan en siek

en koop vir hom ‘n spierbou-boek:

Build your Muscles in a week:

Vir honderd agt en sestig ure

bou hy knaend aan sy spiere.

Eers werk hy aan sy biseps

en kort daarna sy triseps

en toe aan sy trapesius;

sy vastus intermedius.

Na sewe dae had álles spiere

selfs sy toonnaels, neus en niere

en dit was ook presies ‘n week

toe hy sy neus na buite steek

en sien hoe nig Delila kwyl

oor sy Iyf en pounietyl.

Toe sug sy sag: “Ek was ‘n sot

om u die heeltyd te bespot.

Aanskou tog hoe ek needrig bewe …

Ek vra u nou om te vergewe.”

En Simson Richter, GROOT en skugter

sê: “Dis om ‘t ewe.

En jý - Delila Phyllis Steyn

word op die plek vergewe!”

(Nig D. P. Steyn was wel gewis

‘n adderbroedsel vol van lis.)

Maar kort daarna - ja, glo vir my

begin die ou na haar te vry.

En na ‘n maand is daar getrou.

Na nog ‘n maand was daar berou.

Sy vroutjie was verveeld en moeg

en smag toe na ’n dameskroeg.

Maar Simson sug: “Noem my ’n sissie.

Vir ’n bar is ek nie lus ‘ie.”

Sy was so vies; sy wou hom klap,

maar sê: “My skat, tamatiesap

is óók mos in ‘n kroeg te kry.

met neute. chips en kaas daarby.”

En Simson - breinloos, fris en sterk

gaan reguit kroeg toe, plaas van kerk,

maar drink geen wyn of sterke drank;

speel domino’s vir ure lank.

Hy was gespierd en op sy plek.

Die kampioen by vinger-trek.

Hy sit daar nugter - heel apart:

‘n Ou so na ‘n ma se hart

Maar vroutjie was gou afgerem

Deur sap van hanepoot kondem.

 

Maar, dis nie áI nie -  tyd is wreed…

Groot afguns gryp Delila beet.

Haar nagte was vol wakker-lê;

Haar man se hare wou sy hê.

Syne was so skoon en pragtig,

háre was vol skilfers – wragtig!

Toe dink die merrie: “Dis koebaai,

my man se hare sal moet waai!

Saans snork die ou dat balke kraak.

O, soet soos heuning is my wraak!”

Toe - tioef-tjaf! met ‘n vlymskerp byl,

en woerts-weg was die pounietyl.

Sy’s sak en pak daar uit, en vort

en hy sou nie eens wakker word …

 

Die oggendlig wys hom die skade:

Sy vrou is weg - en o, genade:

hy skrik hom vrek, en wou beswyk

toe hy hom in die spieël bekyk!

Teen skemer was hy poegaai-moeg;

gaan soek sy skattie by die kroeg.

En almal daar wou dolgraag weet,

hoe Iyk hy dan so motgevreet?

Toe sê die kroegman: “Sluk ‘n dop.

Dit Iyk mos sy het jou gefop!”

En Simson sug: “Sy’t weggehol.

Ja, bring tog maar die alkohol!”

En daardie aand … dit klink maar gek

verloor hy by die vingertrek …

 

Die jare snel, só snel verby.

o waar is Simson, waar is hy?

Hy’s by die kroeg van Andy

vol whisky en vol brandy.

Ja Simson was ’n nuwe mens

die ene boep, die ene pens.

G’n meisies wou hom meer beloer.

na al daai witblits, en mampoer.

Maar steeds mis hy sy vroutjie;

vergete was die bloutjie

wat hy eens met haar geloop het,

toe sy hom van krag gestroop het:

Darie mooie pounietyl.

Hy was so sêd dat hy kon huil.

 

Een middag, uitgeput en moeg.

(Hy was allenig in die kroeg)

kom daar ‘n tannie ingestap.

Sy wieg en waggel op die trap.

Dié vrou het half bekend gelyk,

en toe: O, hemel, satan wyk!

Delila was nou vet en ouer,

steeds met skilfers op die skouer

en aan haar sy ‘n mooi jong kêrel:

‘n body-builder van die Pêrel.

Simson loop die kêrel storm …

stamp hom met daai boep enorm.

Delila gil: “Die man is gek,

Ag, hy verwoes die hele plek!”

Die pens stamp hom teen ‘n pilaar.

Dis nou sy einde, ja, sowaar!

Die Pêrel kêrel tref ‘n rak.

Kyk hoe die kroeg in duie sak!

En ál die bottels alkohol

stort toe ineen voor hul kon hol.

(Hul einde was wel ietwat gek)

Die drietiies is deur drank bedek:

Ons held, Delila plus haar ou

is daarmee heen - dis tyd vir rou.

En Andy? AI wat dit oorleef,

hoor hoe ‘n stem vir oulaas beef:

“My naam is Simson Richter.

Ja, ek is ROND en skugter.

maar ek is glad g’n sissie.

Ek issie,

issie ….

ISSIE.”

 

 

 

 

 

 

Philip de Vos. Arme juffrou Aggenbag

Wednesday, June 15th, 2011

 

‘n Gereelde blogskrywery bring later sy eie probleme mee en na meer as 18 maande begin ek besef dat ek seker reeds my sê gesê het. My inskrywings word al hoe minder en dit is nou ‘n geval van scraping the bottom of the barrel.

Oor twee weke tree ek by Nelspruit se InniBos-fees op en binne twintig minute moet ek ‘n hele leeftyd se kreatiewe werk probeer opsom - my versies, my foto’s, my sang.

En van Nelspruit gepraat - dié is glo naby die Krugerwildtuin. En in my hele lewe was ek nog nooit in enige wildtuin nie, en nog nooit eens by ‘n rugbywedstryd nie.  Die eerste kameelperd wat ek ooit gesien het, was in die Calgary-dieretuin in Kanada en die enigste ding wat ek van rugby weet, is dat Joost van der Westhuizen so nou en dan skandes maak danksy Huisgenoot, Rapport en Die Son-koerant.

Nee, in plaas van wildtuine en rugbywedstryde verkies ek liewer die stilte van my binnekamer waar ek kan mediteer en dink oor die dieper dinge van die lewe.

Maar nou het ek al klaar afgedwaal nog voor ek eens begin het.

Ewenwel - hier moet ek nou vir die mense in Nelspruit gaan wys dat ek oud maar nog gelukkig nie koud is nie, en dat my kreatiewe sy nog steeds funksioneer.

Een van my versies sê dit seker:

 

Daar’s ‘n liedjie in my sak

en ‘n versie op my rak

vir die dag as ek wil sing

of wil bolmakiesie-spring.

‘n Versie vir die dag

en ‘n versie vir die nag

en ‘n liedjie in my bladsak

vir die stomtyd wat nog wag.

 

En, ja, ek is wel bewus van die stomtyd wat voorlê, want die Bybelse three score and ten is helaas al verbygesteek.

En om iets voort te bring, moes ek my versies, my sang en my foto’s kombineer.

Ek kom agter dat ek dikwels oor allenige tannies skryf. Kyk maar na die volgende een:

 

Magdalena Aggenbag

sit al jare lank en wag.

elke dag en elke nag.

Arme juffrou Aggenbag.

 

Op een of ander manier moes ek ’n foto saamstel.

Vir baie jare reeds is ek gefassineer deur die foto van die Hutchinson-susters wat ek in ‘n fotoboek American Album opgespoor het. Hier is wat daar oor hierdie twee dames gesê is:

The twins on a tintype are Uranie and Susanie Hutchinson. Clearly they are wearing their finest black frocks, but whether for mourning or in a more festive spirit would be difficult to say. It is equally clear that neither of them has a tooth in her head.

Die eerste ding was om die swart/wit foto van die twee dames te skandeer.

 

En met ‘n raampie om sou dit miskien die tweetjies opvrolik en dalk sou ‘n bietjie sepia ook help. In Photoshop word alles deesdae ‘n werklikheid deur die druk van ‘n knoppie, terwyl dit 20 jaar gelede ‘n geswoeg en gesweet afgegee het om enige foto te verbruin. En miskien was daar teen dié tyd alreeds 10 velle vermorste fotopapier wat in die snippermandjie beland het.

Na ‘n raampie moes ek vir die twee dames ‘n tuiste vind, en tussen my duisende foto’s het ek een opgespoor van ‘n ewe droewige blou deur wat ek êrens afgeneem het. Waar dit was het ek nou geen idee nie.

Maar twee dames het elkeen hulle eie deur nodig, en met nog ‘n druk van ‘n Photoshop-knoppie is daar nou twee deure: een vir Eulalie en een vir Susanie.

En met ‘n versie, oor arme Mara wat ook wagtend is, en helaas nooit verwagtend sal wees nie, is ek, tesame met 20 ander gedokterde foto’s nou reg vir InniBos.

 

Al wat arme Mara het

is ‘n dubbelbed

en ‘n ou spinet.

Die klawers wil nie speel nie.

Haar bed wil niemand deel nie.

Al wat arme Mara het,

is ‘n leë bed

en ‘n stil spinet.

 

 

Philip de Vos. Vir my liewe Moeder

Sunday, May 22nd, 2011

 

Dit is tog te lekker om altyd iets of iemand te blameer vir my sogenaamde tekortkominge, maar ek glo vas dit het iets te doen met hoe die sonne en die mane en die sterre gestaan het daardie oggend toe ek op 16 Junie om 6:35 in Bloemfontein die eerste lig gesien het.

 

 

Ja, die ander dag het ek ’n Birth Chart CD Rom by Incredible Connection vir slegs R49,99 raakgeloop (waarom daar altyd 99 sent is, weet ek nou nog nie.) Maar ek het gereken dit sou my glad nie armer maak nie en ’n halfuur later by die huis kon ek al my besonderhede intik en nou weet ek alles omtrent myself.

En daar staan dit:

 

Ascendant: GEMINI

Sun: GEMINI

Moon: GEMINI

Venus: GEMINI

Mars: AQUARIUS

Jupiter: ARIES

Uranus: TAURUS

Neptune: VIRGO

Pluto: LEO

 

Ek het alreeds vroeër vermoed dat ek ’n nogal interessante mens is. Gemini’s is mos nie verniet sulke sprankelende persoonlikhede nie. En dit is versterk deur die volgende woorde:

Your nature is infused with a youthful curiosity and a restless desire to be stimulated mentally and socially. You are constantly active and spread yourself very thin tending to have a superficial knowledge of a vast array of things and a finger in many pies.

Verder as daardie eerste paragraaf het ek nie eintlik gelees nie.

 

As hulle eers begin praat van superficial knowledge, raak dit nou aan ’n taamlike sensitiewe snaar, alhoewel ek ongelukkig moet erken dat daardie superficial knowledge gedeelte dalk tog effens waar kon wees.

 

Die ander dag kyk iemand na die duisende boeke op my boekrakke en vra: “Hoeveel van hierdie boeke het jy al gelees?” Maar soos daar êrens geskryf is: Stilbly is ook ’n antwoord.

Ek kon seker gesê het: “Hou enige boek 30 meter van my af en as ek die omslag sien, sal ek al klaar vir jou die titel kan sê,” maar dit was seker nie die antwoord wat verwag is nie.

En ek kon ook gesê het, dat as gevolg van my kort aandagspan die eerste drie bladsye van enige boek in elk geval vir my die plesierigste is, want in daardie eerste bladsye se opdragte of aanhalings in allerhande vreemde tale (behalwe Pedi) verraai die skrywer tog  soms iets omtrent sy privaat-lewe of andersins hoe slim hy is met al daardie slim aanhalings.

Me voici donc seul sur la terre, n’ayant plus de frère, de prochain, de societé que moi-même. Mais moi, détaché d’eux et de tout , que suis-je moi-même? Voilà ce qui me reste à cherher

– J.J. Rousseau

So staan dit voor in André P. Brink se Lobola vir die Lewe  maar wat dit ookal beteken, het ek g’n idee nie, maar dit lyk tog wel indrukwekkend op papier.

 

Maar dit wat voor in boeke staan – al daardie name en ander dinge is goed wat my wel interesseer.

Kyk maar wat die eksentrieke wonderlike Herrmione Gingold in haar ewe eksentrieke wonderlike outobiografie How to grow old disgracefully sê:

 

 

 

I dedicate this book to all my dear friends without whose help it would have been written in half the time.

 

Dan is daar die opdrag van Etienne Leroux in sy Sewe dae by die Silbersteins:

 

Opgedra aan Marianna en Alexander Podlashuc.

En toe ek dié opdrag lees, was ek onmiddellik weer terug in Bloemfontein van die veertigerjare waar ek buitekant een van die vertoonvensters van Fichardts se afdelingswinkel net skuinsoor die Tweetoring kerk vir Alexander en Marianna Podlashuc – die twee Bloemfonteinse kunstenaars saam met ander nuuskieriges dopgehou het.

Klik jy Alexander Podlashuc se naam op Google, lees jy meer van hierdie gerekende Suid-Afrikaanse kunstenaar wat saam met sy vrou Marianna destyds bekend was as die kunste-tweeling. Ja, hierdie twee kunstenaars was wel dié dag geklee in hulle kunstenaarsfrokkies, staangemaak voor twee yslike skilder-esels met palette in die hand, en voor hulle was nié hulle eie kunswerke nie, maar wel die Mona Lisa en Gainsborough se The Blue Boy met buitelyne afgeteken op skilderdoek met nommertjies gereed vir die kunstenaar om in te vul. Rooi is nommer 1; Geel is nommer 2; Blou is nommer 3 en so voort tot jy 290 bereik. Ja, dit was die dae van Paint by Numbers – en as jy klaar is, kon jy jou kunswerk gaan hang langs die drie vlieënde eende teen jou voorkamermuur.

 

 

Ongelukkig was dit hoe kunstenaars destyds ‘n bietjie ekstra geld moes verdien.

Dan was daar Een vir Azazel, die tweede boek in die Silberstein-trilogie wat opgedra is aan John Kannemeyer wat dan later self ’n outobiografie oor Leroux sou skryf.

En in Kannemeyer se lywige Leipoldt-biografie en Die Goue Seun (dié oor Uys Krige) is beide opgedra aan Santa. Twee sulke groot presente is sekerlik nie te versmaai nie.

Vanoggend het ek onmiddellik ‘n paar boeke nader getrek en die opdragte beskou.

Almal stel seker belang in Hettie Smit se geliefde in Sy Kom met die Sekelmaan en I.D. du Plessis s’n in Vreemde Liefde, maar van opdragte was daar ongelukkig geen sprake nie en verraai die skrywer absoluut niks vir nuuskierige Gemini’s nie

Maar wat dan van die ander: Lina Spies, en Joan Hambidge, Adam Small en Ingrid Jonker?

Voor in Ingrid Jonker se Rook en Oker staan:

Vir Uys Krige en Jack

(maar waarom word Uys op sy van genoem en nie Jack nie? Dit klink mos vir my al te veel na ‘n geval van names-dropping of skuil daar dalkies ietsie meer agter hierdie opdrag?

 

In Lina Spies se Winterhawe staan daar:

Aan wie vir my ’n tent opgeslaan het

 

En in Adam Small se Sê Sjibbolet staan daar:

Vir die eenvoudiges wat dink en ook mag praat

 

En wat van Joan Hambidge?

 

 

Die volgende was my eie opdrag in my limerickbundel Die Deng van Gauteng:

 

Hierdie

ordentlike limericke

is nie

vir Joan Hambidge

óf

Karel Schoeman

óf

vir my ma

nie

maar wel

vir Johann de Lange

 

Eerstens was Joan se nié-opdrag omdat sy nie van my eerste limerickbundel Die Worcester Asporcester gehou het nie en dit in ‘n resensie as studentikoos en nie stout genoeg beskou het nie. Maar ek het vooraf geweet Joan sou ’n sterk genoeg vrou wees om so ‘n nie-opdra te vat. Want later het sy my in die gym teëgekom en gesê: “Ek sien jy het ‘n boek nie aan my opgedra nie,” en toe het sy vir my ‘n liefderike druk gegee. Maar ek is doodseker met daardie druk kon ek destyds êrens ‘n rib hoor kraak.

Oor Karel Schoeman hoef ek liewers niks te sê nie.

En vir my ma? Sy het nie geweet dat ek van lelike dinge bewus was nie. Dinge waarvan mens eerder in die Son-koerant sou lees en nie in haar seun se versiebundels nie:

 

‘n Kêrel van Onderstepoort

was glad nie ’n man van sy woord.

     Hy nooi Koeks Maree

     vir koekies en tee,

maar éintlik vir onderste poort.

 

Dan is daar Andre P Brink se opdrag in Orgie. ‘n Opdrag wat ‘n volle bladsy beslaan, maar die probleem is, jy moet die boek skuins hou om dit dit te kan lees, of anders op jou kop staan, want hierdie is nie ’n sommer-so boek nie: Alles is dwars gedruk. Partykeer is daar maar net 4 woorde op ‘n bladsy; dan lê alles skielik skuins gedruk, en dan is bladsye 93 en 94, pik-, pikswart. Dink net aan al die drukkersink wat gebruik is. G’n wonder die boek was destyds so duur nie. In groot potloodletters staan daar voor in my boek R2-50 geskryf.

 

 

En hier is hoe Brink se opdrag begin:

 

Kokon,

Dis jy wat my vertel het van die kunsbal waar jy ‘n bokkie was, bruin met spits horinkies; en dat jy dronk geword het en net kon onthou dat jy hoog bo die koppe op uitgestrekte hande rondgedra is; en dat jy die volgende dag in ‘n vreemde bed wakker geword het, kaal, met net jou horinkies onaangeraak …

En heel onder staan:

André

1963-1965

 

Ek reken persoonlik ‘n boek-opdrag is altyd ‘n soort-dankie sê; ‘n soort present wat beter is as ‘n boks tjoklits wat jy by Pic ‘n Pay kan gaan koop.

Hier is die opdragte wat die Amerikaanse fantasieskrywer Tad Williams by sy Otherland–reeks geskryf het.

 
City of the Golden Shadow
“This Book is dedicated to my father Joseph Hill Evans with love.
Actually Dad doesn’t read fiction, so if someone doesn’t tell him about this, he’ll never know.”

 

River of the Blue Fire
“This Book is dedicated to my father Joseph Hill Evans with love.
As I said before, Dad doesn’t read fiction. He still hasn’t noticed that this thing is dedicated to him.
Mountain of Black Glass
“This is still dedicated to you-know-who, even if he doesn’t.
Maybe we can keep this a secret all the way to the final volume.”

 

Sea of Silver Light
“My father still hasn’t actually cracked any of the books – so, no, he still hasn’t noticed. I think I’m just going to have to tell him. Maybe I should break it to him gently.

 

 

 

Maar vir my persoonlik bly die volgende een van C.S. Lewis voor in sy boek The Lion, the Witch and the Wardrobe die roerendste en heel mooiste van almal:To Lucy Barfield

 

My Dear Lucy,

 

I wrote this story for you, but when I began it I had not realized that girls grow quicker than books. As a result you are already too old for fairy tales, and by the time it is printed and bound you will be older still. But some day you will be old enough to start reading fairy tales again. You can then take it down from some upper shelf, dust it, and tell me what you think of it. I shall probably be too deaf to hear, and too old to understand, a word you say, but I shall still be
your affectionate Godfather,
C.S. Lewis

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Philip de Vos. Die Boek wat my lewe verander het

Friday, April 22nd, 2011

 

  

 

Dikwels is daar die klein dingetjies wat jou lewe vir altyd verander. In my eie lewe is daar ‘n paar wat ek goed onthou: Daardie dag toe ons kooroefening by Hoërskool Sentraal gehad het en ek op ‘n stoel naby mnr. Casaleggio gesit het. Sy opmerking was seker maar bloot toevallig: “Eendag as jy uit matriek is, moet jy sangles neem.”

En die dag toe Leon Rousseau vir my gesê het: “Hoekom skryf jy nie kinderversies nie?” En Kerneels Breytenbach: “Hoekom skryf jy nie limericke nie?”

Ek het nooit geweet ek kon nie, en ja, dit het later toe wel gebeur. En in die geval van Kerneels het dit toevallig gebeur toe my arme Volkswagen gesteel is en later in Benoni sy herverskyning gemaak het en ek my eerste limerick geskryf het en daarna vir drie maande glad nie kon ophou nie:

 

‘n Brose jong maagd van Benoni

sê immer en altyd: “Ninoni!”

Haar kêrel sê: “Jinne!

Ag, kom tot jou sinne,

want ek kan die glad nee meerhoni!”

 

Ja, klein dingetjies soos dié kan jou lewe vir goed verander. En wat van die boeke waarmee mens in jou kinderdae kennis gemaak het? En is daar wel boeke wat ‘n mens se lewe kan verander? Seker wel.

Deesdae is dit so maklik om inligting te bekom. Te maklik. Jy sit maar net daar voor jou rekenaar. Maak die Google webblad oop en tik: Books that changed my life.

Dit is tog vreemd wat jy nie alles op dié manier kan opspoor nie. Eers het ek gedink ek is uniek en het gereken ek kan iets intik wat geen ander aardse wese nog ooit gedoen het nie.I hate sellotape was my eerste soektog. Ek haat daardie halfgeel kleefband wat glo aan alles kleef. By my kleef dit aan niks vas nie, behalwe as dit skeur en aan my vingers vaskleef, en weier om weer los te kom, nes ‘n tiener wat soms in sy neus rondgrawe. En wat was die uitslag van my soektog?

Daar is selfs ‘n klub in Amerika vir sellotape-haters dus voel ek nie meer so alleen nie.

Die volgende was: I hate putting on duvet covers. En hier het ek al vooraf besef ek is nie alleen nie, en ek was reg. Dit is natuurlik te lekker met bed-opmaak sonder al daardie ekstra lakens en komberse, maar hoe om daardie duvetoortreksel oor die ding te kry, bring natuurlik ander probleme mee. En so-iets moet wel soms gedoen word. Jy kan sekerlik nie vir ses maande onder daardie duvet lê en broei nie.

Maar dit is iets wat die goeie Martin Luther wel gedoen het voordat hy daardie 967 leerstellinge teen een of ander kerkdeur êrens in Londen vasgespyker het. Volgens prentjies wat ek van dié man gesien het, was hy ook maar bra onaansienlik.

 

 

 Maar as dit maar ál was. Luther het somtyds glo vir ‘n hele jaar lank glad nie sy beddegoed laat was nie, want hy het glo gedink die sweetreuk maak hom ‘n regte man. Dink maar hoe hy die ander gemeentelede moes weggestink het. En ja, so godsdienstig soos hy was, het hy ook glo notas gemaak van sy defekasie-gewoontes, want hy was glo uiters gelowig en hardlywig, en het verklaar dat hy die duiwel of ander bose gees met ‘n enkele poep uit iemand kon verdrywe.

En dit is glo die reine, reine waarheid soos ek verneem het uit Irving Wallace se boek The Intimate Sex lives of Famous People en hierdie gunsteling boek van my staan heel gesellig tussen Lina Spies en Elizabeth Eybers se boeke op my boekrak.

 

 

 

Gunsteling boeke wat mense se lewens verander het?

Maar, soos gewoonlik het ek alweer, soos soveel kere vantevore, weggedwaal van die gewigtige onderwerp waaroor ek eintlik wou skrywe.

Om terug te kom by die duvet-storie. Ja, ek is nie die enigste wat duvet-probleme het nie. Op Youtube wys ‘n man vir die hele wêreld hoe hy dit regkry om die ding oor te trek. Hy klim sommer binne-in daardie gedoente in. En dit is presies wat ek ook doen. Maar, dit daar gelaat

Ek wil eintlik praat oor ‘n literêre werk wat my hele lewe vir goed verander het. ‘n Boek wat geen ander mens op aarde nog ooit gelees het nie.

‘n Ruk gelede het die Guardian-koerant ‘n paar bekendes gevra of daar enige boeke is wat hulle lewe vir goed verander het, en die antwoorde het my net ‘n bietjie slegter laat voel, want waarom kon ek nie sê dit was Periandros van Korinthe of Stephen Hawking se Singularities in Collapsing Stars and Expanding Universes of Schopenhauer se On the Fourfold Root of the Principle of Sufficient Reason nie?

Myne was waarskynlik ‘n bietjie minder bekend:

Howard Jacobson, wenner van die 2010 Booker Prize het genoem dat dit Palgrave se Golden Treasury of the Best Songs and Lyrical Poems in the English Language was.

Hy noem: “It was from Palgrave that I learned that literature had a sound, that language mattered more than story, that rhythm haunted the imagination, and that love and grief and loneliness interested me more than any other subject.”

En dan is daar Jo Brand, die Britse stand-up comedian wat vir 10 jaar lank ‘n verpleegster in ‘n psigiatriese inrigting was:

 

 

“The book that changed my life was One Flew over the Cuckoo’s Nest by Ken Kessey. I suppose it changed my attitude towards those with mental health problems. I read it in a few days, and I when I got to the final page was immensely pissed off to discover someone had torn it out …”

En die boek wat my persoonlik vir goed geknak het? Krompie en Stompie deur Pattie Beukes – en miskien is hierdie sublieme titel destyds deur haar man Gerhard Beukes voorgestel. Dink maar aan een of twee van sy ander titels As ons twee eers getroud is of dalk Die Vonkel in haar Oë.

As ek nie daardie boek gelees het nie, was ek dalk vandag ‘n ander man – ‘n man wat allerhande diep dinge kon dink en mense kon besig hou met filosofiese gesprekke tot moreoggend vroegdag. Iemand wat selfs weet wat die woorde metafisika en outodidakties beteken. En dan is daar daai ander woord wat Leon Rousseau eenkeer in ‘n brief gebruik het toe ek pas versies begin skryf. Hy het gesê: Vermy epigonie – en tot vandag weet ek nie wat dié groot woord beteken nie.

En dit moes die volgende prosagedeelte gewees het wat my ontroer het, want luister net hoe mooi begin dié storie:

Krompie en Stompie was twee snaakse ou vuurhoutjie-maatjies in ‘n propvol vuurhoutjiedosie in Pa se sak. Elke keer as Pa wou rook, het hy die moeite ontsien om met die mismaakte, skewe en stomp ou vuurhoutjies sy pyp op te steek; vererg het hy hulle dan eenkant toe gestoot om ‘n mooi reguit vuurhoutjie uit te haal.

“Is ons tweetjies dan heeltemal niks werd nie, Krompie?” het sy een aand met ‘n huilstemmetjie gevra. “Kan ons dan vir niks gebruik word nie? Is ons dan regtig so sleg”

Toe het Krompie sy armpies om haar gesit. “Toe maar, Stompie, eendag kom ons kans … eendag sal ons hulle wys …”

En tot vandag toe – en dis ongelukkig die reine, reine waarheid voel ek half treurig as ek ‘n mismaakte vuurhoutjie in ‘n dosie opspoor. Dié sal ek sal dan verkies bo enige van die ander en as die vlammetjie nog uitgaan voor ek dalk ‘n wierookstokkie aangesteek het, dan voel ek eers sleg!

En ongelukkig het hierdie jammer-voel vir vuurhoutjies oorgestoot na ander dinge in my lewe. Met Kersfees word daar altyd simpel klappers getrek terwyl mens ewe verspotte papierhoedjies dra. En na die klapper sy klap geklap het, val daar ‘n ewe simpele stukkie papier met ‘n ewe simpel grappie uit. En as dit nie genoeg is nie: ‘n stukkie pienk of geel speelding wat êrens in Sjina gemaak is vir mense wat dink dat hierdie goed wat uit die goedkoop klapper val hulle Kersdag gaan vervrolik.

En so sinies as wat ek oor klappers en Krismishoede is, so jammer kry ek later vir daardie pienk speelding. Ek wil dit weggooi, maar dan dink ek: hierdie stukkie plastiek moet seker êrens ‘n doel in die lewe hê en om dit sondermeer in die asblik te gooi, klink ook nie heeltemal reg nie en dan hoor ek weer Krompie se stemmetjie: “Is ons dan regtig so sleg? Toemaar Stompie … eendag kom ons kans …”

En ja, ek kry selfs jammer vir onkruid en sal dit nie sommer-sommer uittrek nie. Hoekom kan die onkruid en die katjiepiering nie saam-saam woon nie? Ek vra maar net.

Maar toe begin ek die ander dag effens wonder toe my vriend Peter onkruid wou uittrek. Toe ek hewig begin protesteer het vir my toegesnou. “Hemel, is jy dan van lotjie getik?”

En toe begin ek selfs wonder en reken ek moet maar weer Google se hulp inroep, en hierdie keer tik ek: Do you ever feel sad about inanimate objects? En na ‘n paar minute voel ek sommer stukke, stukke beter, want skielik besef ek daar is selfs ‘n Facebook-bladsy vir mense wat soos ek voel.

En hier is een of twee inskrywings wat ek teëgekom het:

Is it normal feeling sorry or pity for inanimate objects? Like the last mangled cookie that gets thrown out, or a broken light bulb in a packet of light bulbs that will never get its turn to shine?

En iemand anders wat skryf: “I always have to eat all the food on my plate because seeing that last green bean getting thrown away is rough for me. The bean was planted in soil and nurtured through growth and then picked by a farmer and cleaned and packaged and sent to a grocery store where it was purchased taken home and cooked. Its last moment is lying on this nice dinner plate arranged with other foods that have travelled long and hard to be eaten by me. So I make sure their life was worth it and eat everything on my plate.

En dan voeg ‘n simpatieke wese iets by: I think it sounds beautiful and poetic.

En iemand anders: This is the stupidist thing I’ve ever read. I think you should go and see a shrink.

Die een ding wat ek wel uit my ge-Googlery geleer het, is dat ek nie alleen is nie. Daar is miskien baie ander soos ek. Hulle wil net nie daaroor praat nie, maar heimlik dink hulle dalkies in die stilte van hulle binnekamers: “Toemaar, eendag kom my kans … eendag sal ek julle wys.

Maar tog, maar tog. Hoekom kon dit nie maar liewer Dostoyevksy of T.S. Eliot gewees het wat my lewe vir goed verander het nie.

En wie het al in elk geval ooit van Krompie en Stompie of Pattie Beukes gehoor (behalwe natuurlik haar goeie ou man en hy is alreeds in 1998 daarmee heen).