Philip de VosDie Reis (deel drie)Wednesday, April 21st, 2010Die Reis (deel twee)Saturday, April 17th, 2010Die Reis (deel een)Wednesday, April 14th, 2010Hoe ver moet ek reis?Monday, April 12th, 2010(klik op foto om te vergroot)
Hoe ver moet ek reis na Heuningkrans?
“Myle!” skree die wildegans.
“Duisend!’ krys die tarentaal: “Heuningkrans sal jý nooit haal!”
“Naby!” sing die geel kanarie: “Reis net voort tot Jannewarie!”
“Nee!” sê die kraai: “Verby! Verby! Heuningkrans sal jy nimmer kry!”
(uit my versamelbundel Mallemeuleman) Dido en AeneasMonday, March 29th, 2010Gister, sommer so uit die blou kry ek ‘n vroeg-oggend telefoonoproep – aan die ander kant die stem van ‘n ou dame: ” Is dit Philip de Vos, die sanger? Dis Louise Cronjé.” Louise Cronje? En ek weet ek moet onmiddellik antwoord, want blykbaar ken die persoon my. “Ons het albei gesing in Dido and Aeneas. Toe was ek nog Louisa le Roux-Cronjé.” En skielik was ek weer terug in ‘n Bloemfontein van 47 jaar gelede. Twee jaar tevore het ek my eerste sangles gehad by miss Grace Butler wat saam met haar drie oujongnooi-susters in Koffiefontein in die Vrystaat grootgeword het en wat na byna 70 jaar nog geen Afrikaans kon verstaan nie.
Dit was deur Grace Butler wat ek my eerste sangrol gekry het. En ongelukkig was ek toe die tweede keuse, want Cor, die kurator van die plaaslike dieretuin sou die rol sing, maar toe word sy geliefde sjimpansee siek en in plaas van tyd vir repetisies, moes hy ma speel totdat sy geliefde gedierte weer fris en op die been was. En daar sing ek toe my heel eerste rol, dié van Samuel, die seerower in Gilbert and Sullivan se Pirates of Penzance. En wat gebeur? Toe die sjimpansee gesond word, kry dié ‘n rol en dit sowaar in die eerste toneel waar ek die Bloemfontein se gehoor moes wys dat ‘n nuwe ster op die toneel verskyn het. En wat gebeur? Die sjimpansee het al die shine gevang en niemand in die hele gehoor het eers van my bestaan geweet nie, en boonop het die sjimpansee so groot geskrik toe die gehoor begin handeklap, dat hy die verhoog papnat gepie het. Toe daar ‘n resensie in Die Volksblad verskyn, is my naam nêrens ooit genoem nie en ek glo nou nog dit was eintlik daardie kurator se werk, want hy wou eintlik die rol gehad het … En ‘n jaar daarna kry ek ‘n telefoonoproep van professor Leo Quayle van die musiekkonserwatorium van die Vrystaatste Universiteit om te kom vir ‘n oudisie vir Purcell se Dido and Aeneas wat die volgende jaar in die plaaslike skouburg aangebied sou word. En in een van die bokse lê daar nou nog foto’s van destyds toe ek die rol van Aeneas gesing het: foto’s wat my vandag laat lagkry. Geld vir rekwisiete was destyds seker maar min, want daar lê ‘n foto van my en Dido. Ek swaar-gegrimeer, soos dit geen Griekse held ooit sou betaam nie en die goue bekers
waaruit ek en Dido gedrink het, was duidelik styrofoam bekertjies wat gespuitverf is. En in een foto staan ek alleen met ‘n besemstok in my hand. My Griekse staf was duidelik nie gereed nie, maar dit was tyd vir foto’s neem, en tyd vir publiteit het kort geraak, en moontlik sou die Bloemfonteinse publiek verby die besemstok kyk en die verpiepte jongman en hulle verbeel dus ‘n gespierde jong Griek. (Gelukkig het darem destyds al mooi bene gehad van al die fietsry en dit was al genoeg).
Hoe dit ook al sy: dit was my heel eerste operarol en daarna was dit dertig jaar van mannetjies wat hakkel of ander wat ‘n bietjie na Notredame se Quasimodo lyk. En na al die jare van operasing, luister ek deesdae nooit meer na opera nie, behalwe steeds na Dido and Aeneas waarvan daar seker 16 verskillende opnames op my Cd-rak staan, plus 4 Dvd-opnames van lewendige uitvoerings. En waarom dan, het juis hierdie opera by my ’n obsessie geword? Ek weet self nie waarom nie, en dis nie omdat ek Aeneas gesing het, nie want dié rolletjie is inderwaarheid piepklein, met slegs ‘n paar stukkies resitatief. Hierdie opera het vir my alles wat ‘n opera moet hê: liriese momente, ‘n hoofkarakter waarvoor ‘n mens omgee, kore en danse, en as mens mooi soek, ‘n stukkie humor, plus van die mees roerende arias wat ooit geskryf is, en dit alles binne bestek van 55 minute. Die laaste element is wat my Gemini-temperament seker die beste pas. Dis gou en dis verby. Nie soos ‘n Wagner-opera waar jy ongeveer drie uur moet wag vir die eerste pouse nie. Soos iemand dit destyds gesê het: “I went to a Wagner opera. It started at six o clock and when I looked at my watch four hours later is was ten past six.” En dan is daar die 17de eeuse Engels van Dido and Aeneas, want die opera het reeds in 1689 sy eerste uitvoering by Josua Priest se skool vir jong meisies gehad. Alhoewel ons min weet omtrent die ontstaan en eerste uitvoering van die opera, weet ons wel dat die die libretto deur Nahum Tate geskryf is met rymende teks vir die koorgedeeltes:
To the hills and the vales to the rocks and the mountains to the musical groves and the cool shady fountains.
Maar ook rym vir die resitatiewe en arias soos in Dido se ontroerende When I am laid in earth:
Thy hand, Belinda, darkness shades me, On thy bosom let me rest, More I would, but death invades me; Death is now a welcome guest. When I am laid in earth, May my wrongs create No trouble in thy breast; Remember me, but ah! forget my fate. Remember me, but ah! forget my fate.
Rym het my nog altyd geïnteresseer veral waar dit teks is wat later gesing moet word. In een van my bokse lê die partituur wat ek destyds gebruik het met alleen my sanggedeeltes in potlood ingeskryf. Robert Mohr het dit destyds in Afrikaans vertaal, en óf dit goed óf sleg is, sal ek na soveel jare nie kan bepaal nie, en ek kan slegs oordeel aan die gedeeltes wat ek moes sing:
Hier is die oorspronklike Engels:
Jove’s command shall be obeyed. Tonight our anchors shall be weighed. But, ah! But, ah! What language shall I try My injured queen to pacify? No sooner she resigns her heart, But from her arms I’m forced to part: How can so hard a fate be took? One night enjoyed; the next forsook! Yours be the blame ye gods, For I obey your will, But with more ease could die. But with more ease could die.
En hier is Robert Mohr se Afrikaans:
Zeus beveel en ek moet gaan. Ek volg my godsbestemde baan. Maar a! Maar a! Gewonde koningin So gou verlaat, so kort bemin. Haar liefde het sy pas gegee, En liefdesdroom word liefdeswee! Wat kan die brose hart beskerm, Waar gode self hul nie ontferm! Zeus, u het my vervloek! ’n Koning leef vannag, maar liefde sterf vannag, Maar liefde sterf vannag.
Op die oog af klink dit na ’n goeie vertaling totdat mens dit met ’n sangersoog beskou. Ek het vir baie jare karakterrolle in operas gesing, en weet dus watter klanke, in watter taal ookal singbaar is. ’n Vertaler of librettoskrywer moet altyd die sanger deeglik in ag neem.
Die klanke in die Engels is almal singbaar en Nahum Tate moes sangers geken het. Beskou slegs die volgende reëls:
Yours be the blame, ye gods
teenoor
Zeus, u het my vervloek
ook
But with more ease could die. But with more ease could die.
teenoor die Afrikaans:
maar liefde sterf vannag, Maar liefde sterf vannag.
In die Engels sing die sanger more op ’n hoë F. In die Afrikaans is dit liefde op dieselfde noot.
Die ô klank is vir ’n sanger veel makliker as ie en wat op hoë note probleme begin gee. Ook in die geval: Yours be the blame teenoor die moeilike uu-klank van: Ze-us
Met hierdie voorbeeld wil ek slegs wys dat hoe goed ’n vertaling ookal is, daar gekyk moet word na watter klanke die beste op die oor gaan val. Dido and Aeneas bly vir my die perfekte opera. Gaan luister gerus na Janet Baker se vertolking op Youtube of anders na ons eie Hannah van Niekerk se roerende vertolking van When I am laid in earth.
Alice in WonderlandWednesday, March 10th, 2010
Vir baie maande reeds word dit geadverteer dat Tim Burton se rolprent Alice in Wonderland wêreldwyd op 5 Maart 2010 sou begin draai met wonderlike foto’s om kykers alreeds ’n voorsmakie te gee. Gisteraand dus, sit ek in ’n donker Ster Kinekor-teater met ’n grys 3D brilletjie om al die nuwe wondere van die tegnologie te aanskou. En onmiddellik was ek weer terug in Bloemfontein in 1953 in die Plaza met ’n groen en rooi brilletjie terwyl ek my doodgril vir Vincent Price in The House of Wax met allerhande dinge wat sommer reg uit die skerm spring en op my skoot beland. En gister toe Alice by die erdvarkgat (het hulle erdvarke in Engeland?) af val tot by die wonderwêreld het ek eers ge-oe en ge-a, want daardie wêreld was amper nog wonderliker as die foto’s wat ek alreeds op internet gesien het: pratende blomme en ’n yslike pyp-rokende ruspe op ’n paddastoel, ’n Cheshire Cat wat soos ’n wasempie rook verskyn en verdwyn en ’n wonderlike Queen of Hearts met ’n kop wat lyk of jy haar deur ’n vergrootglas aanskou. Maar teen die einde se kant, nadat ek alreeds een of twee keer vir ’n paar sekondes ingedut het, dink ek skielik aan my gunsteling rolprent van alle tye: The Wizard of Oz en wens ek dat ek liewer in Oz kan vertoef as in Alice se donker Wonderland. Nou wonder ek, is dit miskien ’n teken van oud-word, want The Wizard of Oz is in 1939 uitgereik, die presiese jaar toe ek gebore is en is dit dalkies die reken waarom ek so ’n sagte plekkie vir hierdie rolprent het? Die vytigerjare toe ek grootgeword het, was onskuldige jare met liedjies soos:
How much is that doggie in the window? The dog with the waggley tale (woof! woof!)
of
She wore an itsy bitsy teeny-weeny yellow polkadot bikini …
Deesdae is dit musiek wat doef-doef met woorde wat g’n mens kan uitmaak nie of Zef Side met Die Antwoord. Nou dat ek kan terugsit en dink oor Alice en die land van Oz reken ek dat Oz my veel meer menslike warmte bied as wat Alice se wêreld my ooit kan gee.
The Wizard of Oz het inderdaad karakters vir wie ’n mens met liefde kan omgee. Dorothy Gale met haar:
Somewhere over the rainbow way up high, there’s a land that I heard of once in a lullaby.
En drie karakters: een sonder hart, een sonder verstand, en een wat bra bangerig is. Karakters met wie mens kan identifiseer. In Alice is daar niemand met warmte vir wie ek kan omgee nie. Vir Alice leer ’n mens nie ken nie. The Mad Hatter (nee!) The White Queen (nee!) The Jabberwocky (beslis nee!) Die enigste karakter vir wie ek liefgekry het was ’n klein krimpvarkie wat deur die Queen of Hearts gedurende haar croquet-spel met ’n flamink gemoker word, maar dié toneel was binne drie sekondes verby. The Wizard of Oz (ten spyte van sy kru effekte) is na 70 jaar nog steeds wêreldwyd geliefd. Ek twyfel of Tim Burton se Alice in Wonderland (met al sy oe- en a-effekte) steeds in 2080 met liefde onthou sal word. Want The Wizard of Oz se menslike boodskap bly nog steeds There’s no Place like Home en dít is myns insiens waarom hierdie film oor 70 jaar nog êrens vertoon sal word.
Wat elke seun en dogter moet weetFriday, February 26th, 2010
Stenig my, maar nuttelose kennis gee my oneindige plesier en hier is 15 dingetjies wat ek oor beroemde skrywers en digters en oor 4 Suid-Afrikaners uitgesnuffel het:
Walter de la MareTuesday, February 16th, 2010Ek was nog altyd gefassineer deur die pittigheid en humor van ligte versies veral dié van Ogden Nash, (seker omdat ek sy versies kon verstaan). Maar met die gedigte van De la Mare het daar egter ’n ander, vreemder wêreld vir my oopgegaan. Weereens was dit verse, wat op die oor af miskien ’n bietjie outyds klink, maar tog’n vreemde melancholie het wat my bygebly het. Waar, wanneer en hoe ek die gedigte van Walter de la Mare ontdek het, weet ek nou nie meer nie, maar met die rondkrap in kartondose kom ek tog op die volgende versie af wat ek op 3 November 1983 geskryf het, ’n jaar voor die publikasie van my eerste boek. Petronella, kokkerot. Daar’s ’n melkkoei in die pot. Ek lig die deksel; sy sê MOE!!! Toe maak ek weer die deksel toe.
En ek onthou nog dat hierdie lawwigheid definitief geïnspireer is deur die volgende kinderversie van De la Mare
ALAS, ALACK Ann, Ann! Come quick as you can! There’s a fish that talks In the frying pan. Out of the fat, As clear a glass, He puts up his mouth And moaned ‘Alas!’ Oh, most mournful, ‘Alas, alack!’ Theb turned to his sizzling, And sank him back
Dan was daar die volgende kinderversie:
SOME ONE Some one came knocking At my wee, small door; Some one came knocking, I’m sure – sure – sure; I listened, I opened, I looked to left and right, But nought there was a-stirring In the still dark night; Only the busy beetle Tap-tapping in the wall, Only from the forest The screech-owl’s call, Only the cricket whistling While the dewdrops fall, So I know not who came knocking, At all, at all, at all.
’n Paar jaar gelede het ek ‘n versie geskryf, en nou wonder ek of dit dalk De la Mare was wat daardie dag oor my skouer kom loer het.
Die nagvoël skree om middernag. Wie is dit wat buite wag? Ek hoor iets roer. ek hoor iets roep. Ek hoor ’n voetstap op my stoep. Ek huiwer by die vensterraam. Buite hang ’n skewe maan, maar daar is niks wat ek gewaar: alleen die roering van ’n blaar.
Agter in my kopie van Walter de la Mare se Collected Rhymes and Verses het ek op die agter binneblad die bladsynommer 259 in potlood neergeskryf, sodat ek dié spesifieke gedig weer later maklik sou ontdek:
GONE Where’s the Queen of Sheba? Where King Solomon? Gone with Boy Blue who looks after the sheep, Gone and gone and gone. Lovely is the sunshine; Lovely is the wheat; Lovely the wind from out the clouds Having its way with it. Rise up, Old Green Stalks! Delve deep, Old Corn! But where’s the Queen of Sheba? Where King Solomon?
Dit was veral daardie eerste twee reëls oor die verganklikheid wat my ontroer het en verlede jaar toe ek Engelse sowel as Afrikaanse versies vir Moessorgski se Prente by ’n Uitstalling geskryf het,was dit veral De la Mare se versie wat ek onthou het.
DIE OU KASTEEL Sal iemand weer die snare pluk en sing om middernag? Sal iemand weer die snare pluk tot met ‘n nuwe dag? Die ou kasteel lê afgebreek sy stene lê versprei: Dis onkruid, gras en disselplant. Die blomtyd is verby. Die mure het só trots gestaan. Waar het die koning heen gegaan? Wie sal óóit die koning mis? Die tyd het alles weggewis.
Stories oor die LiefdeMonday, February 1st, 2010Met my boks-uitpakkery kom ek gister op ’n skryfsel af, en na die deurlees daarvan, kom ek met ’n sug agter dat hierdie stuk nooit in druk die lig sal sien en daarom nooit oorweeg sal word om naas uittreksels uit Raka in Groot Verseboek te verskyn nie. Maar met die terugdink, was dit tog ’n groot plesierigheid wat ek onthou. Twee jaar gelede is ek deur die ATKV genader om iets te skryf vir hulle jaarlikse Veertjies-toekennings. Dit moes juis oor die liefde wees, want ten spyte van my hoë ouderdom is daar verneem dat ek oud, maar nog nie koud is nie. Die gevolg was toe Stories oor die Liefde – ’n lang vers wat ek moes skryf oor wat alles tussen die lakens gebeur het van Adam se tyd tot nou met onse Steve Hofmeyr toe. Na ’n paar dae van skryf, en daarna dae van memorisering (selfs as ek by die gym my boeglam op ’n oefenfiets oefen) was ek gereed om my resitasie by die groot aand te gaan opsê. Ek was bewus van ’n paar glimlagte en paar fronse by die uitgelese gehoor en het toe besef dat dit die laaste aanhoor van my meesterwerk gaan wees, want daar was ongelukkig geen resensente wat hulle indrukke op papier kon neerkrabbel nie. Tog was daarna twee persone wat persoonlik hulle indrukke oor hierdie grootse werk aan my kom oordra het. Eers was daar Helen Zille wat vir my kom sê hoe sy dit geniet het, en omdat ek alreeds van dié vrou se goeie smaak gehoor het, het ek elke woord geglo (net jammer oor al daardie Botox). Toe was dit dr. Niel le Roux, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees se beurt en hy was blykbaar vreeslik onsteld dat ek die woord moffie in die openbaar kon gebruik, en die ergste nog by ’n ATKV-geleentheid. En daarna vra hy my ook sommer pertinent of ek ooit die gewraakte k-woord k++++r in die openbaar of selfs in skrif sou gebruik. “Nee, nooit!” het ek geantwoord, “want ongelukkig is daar geen rymwoorde wat ek vir dié woord sal kan opspoor nie.” “Ja, soveel dae, soveel dinge.”
STORIES OOR DIE LIEFDE
Stories oor die liefde is al jare lank by ons: Stories wat jou sag laat ween, of wat jou hart laat bons. Al wil jy my nie glo nie; al klink dit somtyds raar, is elkeen van die stories gewis en wragtag waar.
Ek weet wel in die Bybel was daar g’n Koos of Mybel, maar wel dat daar geliefdes was en dat hul soms mekaar betas. Adam kla glo meer of min: “Jou appel het dit als begin!” En sê vir Eva: “Jy’s ‘n luis. Nou moet ons uit die Paradys.!” Simson kuier by Delila. (Hy’s harig nes ‘n bosgorilla), Maar Lilla gril en sê: “Nee stop!” En gee sy pounietyl die tjop. Met Dawid en sy Jonatan het dit ook soms maar woes gegaan. Tot Koning Saul steun en kreun: “Wat maak mens met ‘n moffieseun?”
Nou kom die res - al klink dit Grieks. Ons storie raak nou opgemieks. ‘n Meisiekind genaamd Helena had twee harig Griekse bene en met haar volle lipstieklippies lok sy gou ‘n duisend skippies. En van almal daar in Troje was Heleen die mooiste mooie. Tog raak die manne siek en sat oor sy alreeds ‘n boyfriend had. En klim toe wragtag in ‘n perd. “Wie wil trou met só ‘n tert?”
Nou reis ons na die sandwoestyn waar plante van die droogte kwyn. En hier het neef Antonius en Cleopatra min gerus. En al was hy alreeds getroud, vind Cleo glad nie daarmee fout, want al wat sy gereeld wou hê was om met hom te lepellê. Tog was hul einde ietwat goor: ‘n Dolk het vir Antoon deurboor. En toe hy sterf het sy gesnik en ‘n tuinslang teen haar bors gedruk.
Vir Romeo en Juliet was daar net leed en glad niks pret. Op haar balkon het sy gewag. “Ai, waar’s die man? O, gee my krag.” En gou het sy hom toegesnou: “Oh, wherefore art thou Romeo?” Nou raak ons storie minder laf. Hul einde was besonder taf! Juliet is eers vergiftig. Sy laaste woord was glo: ” Genugtig!”
En nou ‘n storie wat erg naar is, maar wat beslis en rêrig waar is: Abelard wou Eloise net nou en dan ‘n bietjie squeeze, maar squeezery word vryery en op en af geryery en eindig met ‘n skree-bek bybie. Ongetwyfeld en nié mybie! Haar oom raak toe verskriklik vies oor sy vir Abelard verkies. En toe’t daai oom – ja, glo vir my die ou se tottie afgesny. Al was dié daad wel ongehoord leef hulle liefde nou nog voort.
Nou kom ons by ‘n eeu gelede, en kan ons ween met goeie rede: Van Gogh sou nimmer-immer trou nie; ken g’n liefde van ‘n vrou nie. En sterwe later liefdeloos; sonder warmte of troos.
Liefde deesdae is maar goor, ja David Beckham en Victoria. Tog is daar dié wat ons besiel soos onse Frans en Sannie Briel. Of anders lees ons Mills & Boon waar almal druk en almal soen. En is jy lief vir Ena Murray hoef jy rêrig nie te worry. Hierie antie kry geen rus – Dis omnibus na omnibus Hoeveel is daar? O, ja wragtag! Niks minder nie as agt-en-tagtig!
Vandag se vryers is maar flou en werklik niks om te aanskou. Gee my liewer Cleopatra as Mia Farrow en Sinatra. Of Romeo en Juliet, al was hulle einde sonder pret. Plus Dawid en sy Jonatan wat net kon druk soos manne kan. Daai mense het geweet van soen en ook hoe om die ding te doen. Dus het ons deesdae goeie rede om iets te leer uit die verlede. En wil jy werklik leer wat vry is, gaan leer by dit wat lank verby is. |




































