Philip de Vos
Tuesday, March 22nd, 2011

Daar’s miskien
nie veel te siene
in ‘n stukkende ruïne
maar Sannie
wil steeds flou val
by aanskoue
van ‘n bouval
en sy wéét
dat sy benoud is
omdat als
so hellyt oud is.
Ag sies tog!
arme Sannie
sit met hierdie wete:
oor sestig jaar van nou af
is Sannie Smit vergete …
‘n Rukkie gelede kom ek twee boeke van byna 500 bladsye elk in ‘n plaaslike tweedehandse boekwinkeltjie teë: Daar Ver oor die See asook ‘n tweede een: Andermaal Ver oor die See en albei deur ‘n skryfster met die beskeie naam van Tannie.
En voor in staan die datums 1933 en 1939 en skielik besef ek dat die een boek so oud soos ek is, en tog het die bladsye nog nie vergeel nie, anders as sommige plaaslike uitgawes van so 25 jaar gelede wat alreeds lyk soos iemand met Geelsug.
En dan is daar die skuilnaam Tannie. Wie onthou haar nog? Maar hier met twee van haar boeke op my boekrak sê Tannie as’t ware: “Ek was wel eenkeer hier, en toe het ek my ding gedoen!”
Maar waarom moet skrywers agter ander name probeer wegkruip en waarom moet ons name hê soos Anne of Green Gables se L.M. Montgomery of Harry Potter se J.K. Rowling. Waarom nie liewers Laurentia Montgomery of Juanita Rowling nie. Dit klink mos veel vriendeliker en klink mos veel eerder na iemand wat jy ‘n drukkie kan gee om nie eens van ons eie E.K.M. Dido te praat nie. Weet enige iemand op aarde wat hierdie goeie vrou se naam eintlik is? Is dit dalk Eeufesia of Eulalia of Essie of Ermé met ‘n aksent op die laaste e. Ek kan my regtig nie voorstel hoe haar man vir haar sê nie: “Kom hier E.K.M! Kom gee my ‘n drukkie!” Kom hier Estrelita! klink tog veel vriendeliker alhoewel ek moet erken dat E.K.M. tog inderdaad ‘n vriendelike vrou is.
Dit het ek alreeds jare gelede agtergekom toe ek besig was om foto’s vir my fotoboek Milieu te neem. Ek het vir E.K.M. oorkant die Kaapse Parade ontmoet, want sy het seker gewonder wie hierdie vreemde man was wat foto’s van haar wou neem, toe daag sy by die fotonemery op met ‘n hele lyfwag van ooms en tantes en nefies en niggies en kleinkinders om haar te beskerm net ingeval ek dalk ‘n psigopaat of verkragter was. Ewenwel, E.K.M. was die vriendelikheid vanself tenspyte van al daardie voorletters in haar naam.
Maar nou dwaal ek al klaar af, want hierdie skrywe is nié oor Tannie nie, nog minder is dit oor E.K.M. of L.M. of J.K. Dis eintlik oor my tante Mimmie van Kimberley wat in 1876 gebore is. Vanjaar sou sy 135 jaar oud gewees het, maar vir my persoonlik het sy nog nie gesterf nie.

En alles het begin toe ek Tannie se twee reisboeke aangeskaf het met foto’s van ‘n dapper dame wat nes my tante Mimmie van Kimberley in die laat twintigerjare vergesel van familie deur Europa gereis het.
Cricketstraat 13, die huis in Bloemfontein waar ek grootgeword het was ‘n huis sonder veel boeke, behalwe die boekklubboeke soos Die Susters du Pont, of Reisigers na Nêrens of Orion wat so dan en wan by die huis afgelewer is met die Nasionale embleem Het dag het overal.En tot vandag toe weet ek steeds nie wat hierdie woorde beteken nie. Dan was daar die donkerblou Masterpiece Library of Short Stories ‘n stel van 10 boeke met een prentjie per boek - veels te min om ‘n nuuskierige kind te bevredig.
Maar dan was daar Halkettweg 25, Kimberley: Die huis van Oupa en Ouma en die wonderlike tante Mimmie.
Een of tweekeer per jaar het ons met my pa se Model T-Ford met sy opwenslinger en kattebak Kimberley toe gery. En Oupa en Ouma se huis was so anders as Cricketstraat. As ek aan Halkettweg dink, ruik ek weer die katjiepiering en lemoenbloeisels in die tuin, maar is ek nog steeds bewus van die soet-suur reuk van urine, want Oupa het prostraatprobleme gehad. Oupa en Ouma se deel van die huis was ‘n plek van skemerte en met hortjies om die middagson uit te hou.
En dan was daar die voorhuis met ‘n groot eettafel met sy Sondagmiddag-geur van braaiboud en geelrys en Georgina, die kruppel wit huisbediende met die swart opgeboude skoen wat sê. “Don’t be shy. There is ample for everyone.”
Teen die een muur het die staanklok met die twee koper spoegbakke alkant daarvan die minute en die ure afgetik en so nou en dan sy wysie laat hoor.
Maar - dan was daar die wonderlikste deel van die huis: die drie kamers waar tante Mimmie gewoon het. Daar was ‘n klein intreeportaal langs die voordeur met prente teen die mure en ou fotoboeke met kiekies wat met swart driehoekies vasgeplak is.
En dan was daar vir my as kind die nuwe hemel en die nuwe aarde waarvan ek in die Sondagskool gelees het: ‘n kamer vol sonlig met prente teen die mure en die wonderlikste van alles: ‘n muur met ‘n hele boekrak vol boeke.
Tante Mimmie het my die De Vos-familiewapen teen die muur gewys en vertel van Wouter de Vos wat reeds in 1717 van Groenlo in Holland hier in Suid-Afrika aangekom het. “‘n Mens is nie net ‘n naam nie. het sy vir my gesê - die van is die heel belangrikste” en dan het sy my die ets gewys van die Nederlandse kunstenaar Cornelis de Vos.
En tussen die familiewapen en die ets het ‘n Hollandse bordjie gehang met die woorde: Zo als het klokje thuis tikt, tikt het nergens. En as die ou staanklok uit die sitkamer sy liedjie tot in tante Mimmie se kamer laat hoor, het sy die woorde vir my gesing: “Snel vlieg die tyd, nooit kom hy weer.”
En teen ‘n ander muur was ‘n prent van Rio de Janeiro - en alles gemaak van blou-pers skoenlappervlerke. “Dit het ek gekoop toe ek in Suid-Amerika was,” en dan het sy gewys na ‘n foto van haar in Egipte met drie piramides vaag op die agtergrond. En toe het ek alreeds gedink: eendag wil ek nes tante Mimmie by die piramides op ‘n kameel se rug afgeneem word.
En deur tante Mimmie het ek stories ontdek: Langenhoven se Brolloks en Bittergal en die wonderlike Krismiskinders. Het ek dit later self gelees, of was dit dalk met my op tante Mimmie se skoot? Vandag, na al die jare, weet ek self nie meer nie, maar hoop tog dat dit tante Mimmie was wat op ‘n warm somermiddag die stories vir my in haar sonnige kamer voorgelees het.
Wie dan was tante Mimmie?
Ek was nog altyd deurmekaar as dit by familie-sake kom. Al wat ek kan onthou is dat almal altyd gepraat het van Kissemiem, wat ek toe later agtergekom het eintlik Cousin Miem was. Dus was sy op een of ander manier familie, maar hoe weet ek nie presies nie. En net soos die Engelse Cousin Miem, onthou ek ook hoe my pa altyd die Engelse woorde Mummy en Daddy gebruik het wanneer hy van sy ouers gepraat het.
Tante Mimmie, as ek nou daaroor nadink, het maar ‘n valerige voorkoms gehad. En toe ek so 7, 8 jaar oud was, was sy seker al digby die 70. En ek onthou nou nog die ligte haartjies op haar bo-lip. Maar vir my was sy die mooiste vrou op die hele aardbol. ‘n Vrou wat in Kimberley grootgeword het en gesterf het, maar wat vir ‘n rukkie lank die vaal strate van Kimberley verlaat het en per boot gereis het na lande van tulpe en piramides en ‘n Jesusbeeld wat met uitgestrekte arms na die see se kant toe uitkyk.
Maar waarom het ek juis haar uitgekies, tante Mimmie van wie ek eintlik so min weet?
In haar testament het sy my haar bruin stel Langenhoven-boeke nagelaat. En ek weet nog na al die jare presies waar om na Brolloks en Bittergal te gaan soek, want van al die boeke was deel 5 die heel dikste.
Maar wie was sy en is daar iets wat sy in die boeke laat agterbly het sodat ek vandag nog na 53 jaar iets van haar kan weet?
Voor in een van die Langenhovenboeke was ‘n velletjie papier gedateer 13 November 1958.
In 1975 het ek my eerste boek geskryf. Na jare van skoolhou was daar ‘n skielike bevryding en ‘n nuwe bewuswording van my eie kreatiwiteit. Ek het my kinderjare onthou en Karel van Krieketstraat geskryf wat aanvanklik afgekeur is en toe uiteindelik eers as my sesde boek gepubliseer is. Tante Mimmie maak ‘n vlugtige verskyning op bladsye 37 en 38.
Tante Mimmie se gesig lyk vir Karel ‘n bietjie soos die droë peertjies aan Krieketstraat se peerboom. Hy slaan sy arms om haar nek. Haar oë blink en nou wéét Karel dat Kersfees naby is.
Na die aandete, toe dit koeler is, sit hy op die rusbank met die baie kussings. Tante Mimmie se vingers vee oor die boeke op die rak en sy vertel Karel van ander lande en van ander mense.
Teen die muur hang ‘n prent. Dis van tante Mimmie op ‘n kameel. Om haar is die sandwoestyn. Dit is ‘n ander tante Mimmie wat uit die prent na hom kyk.
“Dít is die sfinks, en dít is die piramide waar die Farao al duisende jare begrawe lê . . .” Sy vertel hom van elke prent en van elke beeldjie in haar kamer.
Agter glas blink blou skoenlappervlerke. “Dit het ek in Suid-Amerika gekry, en eendag as jy groot is, moet jy ook hierdie lande besoek.” Sy staan van die rusbank af op en Karel gaan staan langs haar voor ‘n portret aan die muur.
“Elke prent vertel ‘n ander storie,” sê sy, en dit is asof haar stem skielik anders is, en Karel weet sommer dit is tante Mimmie van die sandwoestyn en die skoenlappervlerke wat nou met horn praat.
“Hierdie seun …” en haar vingers voel langs die raam van die portret af, “is Titus, die seun van Rembrandt, ‘n beroemde skilder wat meer as driehonderd jaar gelede gelewe het. Rembrandt het hom geskilder toe hy ‘n kind was. Titus is dood op sewe-en-twintig jaar.” . Dis vir Karel asof die seun in die portret na hom kyk.
“Rembrandt was baie lief vir Titus, en ek is baie lief vir die portret. Weet jy, Karel, jy lyk mos vir my byna net soos Titus gelyk het.”
Karel kyk na die portret maar sê niks. “Kom, Karel.” Haar hand raak aan sy hand. “Jy moet nou gaan slaap.”
Dit is woorde wat ek 35 jaar gelede van haar geskryf het. Ek onthou wel hoe trots sy op Afrikaans was en hoe sy my ma berispe het omdat sy gepraat het van ‘n Wynfees in die Boland in plaas van die Wingerdfees.
En ek onthou ook hoe trots sy was, toe Mimi Coertse se eerste langspeelplaat met Afrikaanse liedjies in die laat vyftigerjare vrygestel is. En toe sy saam met my luister na Arnold van Wyk se toonsetting van I.D. du Plessis se woorde, het sy gesê: “Luister hoe mooi is Afrikaans.”
In die stilte van my tuin
flikker son en skaduwee
beurt’lings op die muur.
Blare van verbloeide rose
het die wind hier dik gestrooi
voor die ope deur.
En die maanwit skoenlappers drywe
op die geurende lug lomerig verby.
Ook die hart wat jou bemin
voel die vreugde van die uur
as jou mond so lag
as jou mond so lag.
Wat is daar meer wat ek van my geliefde tante Mimmie weet? Hier en daar in Langenhoven se versamelde werke het sy soms iets met ‘n ligte potloodmerkie uitgestip, iets wat later weer uitgevee kon word. En hier was dit veral in deel 9 met Langenhoven se Ons weg deur die Wêreld wat ek ‘n regmerkie opgemerk het. Tussen al die aanhalings wat sy met ‘n strepie gemerk het, was hierdie allenige regmerkie by Besproke Spreuke nommer 33

Doen ‘n meisie onreg aan, en wanneer jy eendag self ‘n dogter het, sal die vrees dat daar meer skurke is as jy, vir jou ‘n kanker in die siel wees.
En toe ek hierdie woorde lees dink ek aan iets wat vir my êrens deur iemand vertel is: Tante Mimmie het nooit getrou nie, en na haar aftreejare as onderwyseres het sy allenig die wêreld deurreis.
Tog was daar ‘n oomblik in haar lewe toe sy voor die preekstoel gestaan en gewag het vir haar bruidegom om op te daag. En toe die nuus later kom dat hy alreeds getroud is, het sy teruggegaan na haar kamer in Halkettweg 25 met sy prente teen die mure en die Langenhoven boeke op die boekrak.
Toe tante Mimmie op 13 November 1958 oorlede is, het my tante Marie later die kamer opgeruim en die prente en beeldjies aan die museum in Kimberley geskenk.
Die enigste ding wat sy nie geweet het wat om mee te maak nie, was die koffer onder tante Mimmie se dubbelbed. Die koffer was gesluit en toe sy uiteindelik die deksel oopkry, was daar in wit papier toegevou, ‘n trourok van die dag toe tante Mimmie voor die preekstoel staan en wag het.
Oor 60 jaar is Sannie Smit van my versie miskien vergete, maar vir tante Mimmie sal ek vir altyd onthou.

Sunday, February 20th, 2011

My ma het altyd vir my gesê mens praat nooit sleg oor die dooies nie, maar ek was nog altyd van die opinie dat as jy sleg is, is jy sleg. Net omdat jy dood is, maak jou nie skielik goed nie.
’n Ander rede is dat die dooies glo nie kan terug antwoord nie. Ewenwel – dit is seker veel erger om slegte goed oor die lewendes te sê, want dan word dit bloot skinder en die ergste is: hulle kan jou wel terug antwoord. Toe het ek gewonder of ek oor Karel Schoeman mag skryf, want sover ek uit koerantberigte kan aflei, leef hy nog. Maar gelukkig weet ek wel dat hy die een lewende is wat nooit sal terug antwoord nie. Wat hy dink, is egter ‘n ander saak.
My grootste aanspraak na aanleiding van Andy Warhol se uitspraak dat elkeen op aarde geregtig is op fifteen minutes of fame, is dat ek wel kan sê dat ek vir drie jaar langs Karel Schoeman gesit het. Dit was in die jare 1957 – 1959. Die plek; UOVS die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Toe was hy nog Tromp Schoeman en ons het albei Engels en Afrikaans-Nederlands vir ons B.A. hoofvakke gehad.

Sommer in die eerste week op universiteit het die eerstejaars reeds geweet dat Tromp anders was. Tromp was lank en bleek, onaangetas deur die Bloemfonteinse son terwyl ons ander almal kon spog met ons sonbruin lywe, nie dat jy veel daarvan kon sien nie, want ons moes almal klas toe met ‘n baadjie en ‘n das en ordentlike skoene aan daardie boerevoete van ons. Velskoene was heeltemal verbode.
Ek was van die begin af bewus van Tromp se slank delikate hande en die blinkwit hemp wat onder by die baadjiemoue uitgesteek het en wat sy hande nog bleker laat lyk het.
Die res van ons eerstejaars het bangerig rondgeloop, want alhoewel nòg ek nòg Tromp koshuisstudente was, was daar steeds ‘n week of twee van ontgroening waar ons almal met ons groenboekies moes rondloop en die handtekeninge van die Studenteraadslede moes kry en vir almal moes “oom” sê. Tromp het egter botweg geweier om deel van enigiets so studentikoos te wees. En terwyl die res van ons bang-bang rondgeloop het, het Tromp rustig sy gang gegaan en was hy êrens in die skemer biblioteek te kry.
Gedurende lesings het ek om een of ander rede altyd langs Tromp beland. Maar ek was bewus dat die lesings van Gerhard Beukes en Benedictus Kok hom erg verveel het. En van professor Kok gepraat, ek onthou nog goed wat sy laaste woorde aan ons na drie jaar in sy klas was: “In die drie jaar saam met julle het julle my g’n enkele oomblik plesier gegee nie. ‘n Goeie toekoms kan ek julle dus nie toewens nie!”
Hierdie woorde het sekerlik nie vir Tromp van stryk gebring nie. Hy was nooit werklik in die Afrikaanse letterkunde geïnteresseerd nie, en ek onthou nog goed hoe hy langs my gedurende Afrikaans lesings gesit het met ‘n dik oefeningboek langs hom waarin hy besig was met ‘n Engelse roman en ek was elke keer verbaas as ek na die nommer kyk wat bo-aan elke bladsy geskryf is. Dit het toe alreeds ver in die honderde getrek.
En een insident onthou ek nog goed: ons is gevra om ‘n Vondel drama te lees en daaroor ‘n verslag te skryf: Vir weke lank het ek met Jephtha geworstel en beswaarlik verder as bladsy 15 gevorder en toe hoor ek dat Tromp reeds Vondel se versamelde dramas van 25 of wat dwarsdeur gelees het. Toe weet ons almal Tromp is anders as ons.
En een dag het professor Gardner gedurende ‘n Engelse lesing aan ons in Tromp se afwesigheid gesê dat hy selfs by Oxford nie so ‘n briljante brein teegekom het nie. Dit het my ego glad nie goed gedoen nie. Miskien sou dit veel beter gewees het as iemand soos Ena Murray langs my in die klas gesit het.
Na 1959 het ek nie weer van Tromp gehoor nie – tot iewers in die middel sestigs. Ek het begin onderwys gee; terselfdertyd het ek sanglesse begin neem en het vir die eerste keer in Bloemfontein op die verhoog verskyn. Tromp was in Pretoria; daarna in Ierland in ’n monnikeklooster en toe skielik weer terug in Bloemfontein as bibliotekaris.
Hoe ons weer kennis gemaak het, weet ek nie, kindsheid het nog nie heeltemal by my ingetree waar die verlede helderder as vanmiddag se middagete is nie.
Ek kan egter vaagweg onthou hoe ek saam met Tromp vir Bertie van Rensburg en haar vriendin Babs Boer gaan kuier het en hoe ek nog dié aand foto’s geneem het.

Dan kan ek ook onthou hoe Tromp in die gehoor was toe ek die rol van Camille in Lehar se Vrolike Weduwee vertolk het. ‘n Soort vriendskap seker, maar nòg ek nòg Tromp het ooit vir mekaar tuis kom besoek. Dit was ‘n kwessie van hom met die motor kom oplaai en dan later daardie aand weer kom aflaai.
Toe, begin 1967 verbreek ek my bande met Bloemfontein en gaan woon ek in die Kaap waar ek steeds onderwys gee en op vryskutbasis in operas optree.
Toe gebeur dit dat ek terloops weer kennis maak met Tromp. Dit was 1971 gedurende my heel eerste besoek aan Europa. Ek het op die Dam-plein in Amsterdam tussen die hippies gesit toe Tromp onverwags daar verbystap, Tromp wat intussen bekend geword het as Karel Schoeman en reeds in 1970 die eerste keer met die Hertzogprys bekroon is.
Dit was die begin van ‘n briewevriendskap waarin Karel my elke keer gekontak het tydens sy Suid-Afrikaanse besoeke.

Maar dan keer op keer terwyl ek vir hom in Kaapstad rondkarwei, het hy vir my vir my gesê: “Onthou, ons is alleenlik vriende omdat jy ‘n motorkar het, en ek nie.” En om een of ander rede, het dit nie eens bevraagteken nie.
In 1973 neem ek een van die grootste besluite in my lewe. Dit was die begin van vyf jaar as vryskut operasanger – ‘n wonderlike tydperk waarin ek skielik my talente ontdek as sanger, met my eerste uitstalling as fotograaf asook my eerste boek – ‘n half outobiografiese novelle oor my kinderjare in Bloemfontein en as gevolg van my vriendskap met Karel noem ek dié boek dan ook Karel van Krieketstraat.

Met my optredes as vryskutsanger beland ek toe weer dikwels in my geboortedorp Bloemfontein waar ek in operas met my karakterrolle optree en terselfdertyd tydens my besoeke by my ouers tuisgaan.
Karel het destyds by die plaaslike biblioteek gewerk en het sonder aarseling vir my gesê: “Hier is die voordeursleutel van my woonstel. Ek besef dat daar g’n privaatheid is as jy by jou ouers bly nie. Gebruik dié sleutel net wanneer jy wil.”
Maar, ten spyte van sy aanbod het ek nooit hiervan gebruik gemaak of selfs die binnekant van sy woonstel gesien nie.
Hy was ook destyds besig met navorsing vir sy boek Bloemfontein – die ontstaan van ‘n stad, wat later in 1980 gepubliseer is, en omdat ek hier grootgeword het, het ek telkens gedink aan mense met wie hy ‘n onderhoud kon hê.
Een aand dink ek daaraan dat hy met die Butlers moet gaan gesels. Grace,my eerste sangonderwysers en haar drie oujongnooi susters het toe reeds al jare hier gewoon.
Dit was vroegaand toe ek by sy woonstel aankom om met hom te gesels. Ek het die voordeurklokkie gelui, voetstappe daar binnekant gehoor en toe ‘n skielike skaduwee agter die loergaatjie. Die deur het egter gesluit en onoopgemaak gebly.
Die volgende oggend het ek na die biblioteek toe gegaan. Karel was agter die toonbank. Ek het ‘n boek kom teruggee en met g’n woord van sy kant nie, het hy na my gekyk ongeïnteresseerd asof hy my nooit ooit geken het nie.

En dit was presies wat gebeur het. En ek kon dit nie verstaan nie.
Later, terug in Kaapstad het ek van verskeie mense gehoor met presies dieselfde ondervinding as ek: Leon Rousseau, Dot Serfontein, Wilma Stockenström. Een middag het ek selfs ‘n onverwagte telefoonoproep van die fotograaf Paul Alberts gehad: “Ek het vir weke lank saam met Karel deur die Vrystaat getoer. Hy is selfs die peetpa van een van my kinders. En nou – dít!”
Ja, met Paul het dit soos met al die ander ook gebeur: op die ou end word ‘n rooi streep deur jou naam getrek. Redes hoef daar nie te wees nie.
Vir jare daarna, en nou nog, het ek soms ‘n droom waarin ek en Karel weer vriende is. En in my droom vra ek altyd: “Waarom was daar nog al die jare hierdie verspottigheid?” Maar ek kan nie onthou of daar selfs in die droom ‘n antwoord kom nie.
In die vroeg-tagtigs het Karel Kaapstad toe getrek om die waarheid te sê – hy het oorkant die straat gewoon ek in Oakshof in Uniestraat en hy in Palmhof oorkant.
Een middag het ek en my vriend Peter gaan stap en besluit om vir my vriend Nico Smit te gaan kuier. Nico vir wie ek reeds sedert 1953 geken het toe ons beide in Standerd Sewe was.
Nadat ons die voordeurklokkie gedruk het, het ons besef dat al die vensters toe was en dat daar niemand tuis was nie. Langs een van die stoeppilare was daar ‘n skielike geluid en kry ons ‘n duif met ‘n beseerde vlerk. Toe Peter die duif optel om te sien wat verkeerd is, hoor ons die hek oopgaan en vir die eerste keer in jare sien ek weer vir Karel.
En sy enigste vraag: “Is die mense tuis?”
En myne: “Nee, ons het net nou hier aangekom en hierdie beseerde duif gekry.”
“Wel, dis julle probleem!” en hy draai sonder enige woorde om en stap weg.

Ek dink nie ek was nog ooit in my lewe werklik ‘n nare mens nie en die enigste wraakgedagtes het maar gewoonlik op ‘n stukkie papier beland.
Ek moes tog destyds alreeds besef het dat hy bedoel het ons is vriende net omdat ek ‘n motorkar het en hy nie. En op my eie simpel manier wou ek wraak neem. ‘n Mes in die rug sou veels te erg wees. Al waartoe ek in staat was, was ‘n effense raps oor die vingers.
By Clarkes se Boekwinkel in Langstraat het ek ‘n 1930 boekie Etiquette for Gentlemen raakgeloop. Prys 25 sent. Sonder om die prys uit te vee het ek my boodskappie voor in geskryf: Ek dink jy het hierdie boekie nodig – Philip.
Natuurlik het ek nooit ‘n antwoord verwag nie. ‘n 25 sent boekie is seker g’n antwoord werd nie.
En toe - ‘n paar jaar later.
Dit was in Blooms se Apteek oorkant die straat.
Ek het nog by die toonbank gewag om te betaal, toe ek skielik ‘n bekende stem agter my hoor. En toe ek opkyk sien ek vir Karel vir die heel laaste keer in my lewe in lewende lywe en soos dit iemand betaam wat goed grootgemaak is, groet ek hom. Nie met die hand nie, maar met ‘n ordentlike knik van die kop.
En sy manier van terugstaar was kouer as daardie middag in die Bloemfontein-biblioteek.
Die Etiketboekie het dus defintitief nie gewerk nie.
Die CNA was reg langsaan Blooms se Apteek en dit was nie eens nodig om lank te dink oor ‘n volgende stap nie. Al wat dit my sou kos was om ‘n enkele poskaart te koop.
Natuurlik het ek teen dié tyd geweet dat Karel altyd in winkels aandring om in Afrikaans bedien te word.
In my beste Engels dus, net om hom ‘n bietjie kwater te maak het ek die oop poskaart gepos sodat enigiemand dit vooraf kon lees.
Mr. Tromp Schoeman
c/o South African Library
Queen Victoria Street
Gardens
Cape Town
8005.
En dan ‘n enkele sinnetjie:
“I must apologise for greeting you this morning in Blooms Chemist. I afterwards realized that it was merely a reflex reaction.”
Sincerely,
Philip de Vos
Het ek ooit ‘n antwoord gekry? Natuurlik nie.
Maar later kom ek ook wel tot die besef dat ek deur my eie dade miskien net so eksentriek soos Karel geword het.
En tog. ‘n Paar jaar daarna in die middel tagtigs het een van die periodes van terugkerende depressie my weereens getref. En soos die vorige kere het ek besef dat ek dringend mediese hulp nodig het.
Ek het self my tassie gepak en was op pad na die Leeuwendal-kliniek om my daar vir ‘n paar dae in te bespreek. Toevallig op pad daarheen, by Blooms se Apteek loop ek klein Madeleine, Madeleine van Biljon se dogter raak en vertel ek haar waarheen ek oppad was.
‘n Paar dae daarna kry ek ‘n briefie in die pos. Dit is een van daardie briewe wat ek nooit weggegooi het nie en steeds êrens in ‘n boks lê om weer eendag ontdek te word en herlees te word.
In die brief noem hy dat Madeleine hom van my depressie vertel het, dat hy dit ten volle verstaan en dat hy aan my dink.
En onderaan geskryf is die naam
TROMP.
En dit is hoe ek hom graag wil onthou - oor daardie jare toe ons min of meer vriende was of dalk beter gestel: toe ons vir drie jaar langs mekaar gedurende die Engelse en Afrikaans-Nederlandse klasse gesit het en ek alreeds besef het: Tromp is anders as ons.

Kopiereg © 2011 Philip de Vos (Privaatversameling)
Geen foto’s mag sonder verlof van die digter gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopieëring of enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of verspreiding nie.
Wednesday, February 9th, 2011
(illustrasie: Cora Coetzee)
Oor al die menige dekades wat ek leef en beef, was ek nog altyd bekend vir my vriendelikheid en vir my goeie maniere. En dit was alles aan my ma te danke - amper sê ek dit was haar skuld – want om te ordentlik te wees, is nie altyd die beste ding op aarde nie.
Dit help tog alte deeglik om so nou en dan vies te word: Barbie Dolls se koppe af te breek en teen jou bure se voordeur te skop.
Maar – ek is ordentlik grootgemaak: Ek kan nou nog al die boeke van die Ou Testament opsê en ek weet steeds wat die voornaam is van Moses se vrou en selfs die naam van sy suster. En so ordentlik is ek grootgemaak, dat my ma in die Cricketstraatdae in Bloemfontein selfs my naels elke oggend geborsel het en vol Johnson’s Babapoeier gestrooi het vir die oggend se naelsinspeksie van die Sub B-klas – en ja, my naels was áltyd die mooiste en my maniere ook tot daardie dag in 1983 toe ek my vir ——- vervies het.
En daardie verviesery het toe gelukkig deel van my tweede boek geword en dit was op die ou end veel goedkoper as wat dit sou wees as om na ’n psigiater toe te moes gaan en te sê: “Ek het my vir ’n vroumens vervies!
En wat kry mens in ruil? ’n Rekening vir R700 en ’n voorskrif vir Valium.
Hoe ek vir ——- ontmoet het, weet ek nou nog nie. Ek was destyds ’n operasanger en sy was, óf ’n groot operaliehebber, óf dalk het sy self op ’n keer in die plaaslike operakoor gesing. Ek kan glad nie meer onthou nie.
Maar hoe dit ook al sy – daar beland ek toe om een of ander rede by haar Sondagmiddag soirees.
In haar netjiese woonstel in een van Kaapstad se voorstede het sy haar gereelde byeenkomste gehad. Of sy self so in haar skik was, met haar woonadres, kan ek nie meer so goed onthou nie, maar ek onthou tog so vaagweeg dat sy ’n CA-nommerplaat vir haar kar gehad het, in plaas van CY - die voorstad waar sy gewoon het. Wat dit ookal sou beteken?
En as jy aankom in daardie netjiese woonstel waar jy selfs van die vloere af kon eet – so skoon was dit, was jy dadelik bewus van die vars blommerangskikkings en sagte Richard Clayderman-musiek diskreet op die agtergrond. En al met die vier mure langs is stoele op ’n ry gerangskik en op elke stoel ’n netjiese persoon met skoon vingernaels. Dit was mans, mans, mans net waar jy kyk. En van die sagte bedeesde gesprekke afgelei was hulle een en almal net so operabesot as sy, en was dit ’n sagte gefluister van die groot name: Renata Tebaldi en Joan Sutherland, en die grootste van hulle almal: Maria Callas – La Divina!
En êrens in die middel, soos ’n groot termietkoningin het ——- gesit - geklee in ’n tabberd wat een van haar volgelinge vir haar ontwerp het. En groot is die regte woord, want ——- was GROOT, selfs groter as party van haar akoliete mansvriende.
En as hulle klaar gepraat het oor opera, was dit ballet se beurt en nou was die gesprek oor Margot Fonteyn en Rudolf Nureyev met daardie mooi kuite van hom.
Toe om een of ander rede het ek kontak met ——- verloor, maar tog êrens verneem dat daar nou ’n regte man in haar lewe gekom het – ’n wewenaar – en nie lank daarna nie was hy en ——- man en vrou.
En toe op ’n oggend, kry ek ’n telefoonoproep van ——- en herken ek haar onmiddellik aan haar sonore diep altstem: “Wil jy nie Sondagaand by my en my man kom eet nie? Christine Basson van Egoli-faam is een van ons geëerde gaste …” En daarna rits sy nog ’n paar belangrike name af, onder andere die naam van ’n plaaslike operasangeres.
Vir ’n oomblik was ek ietwat verbaas, want ek het nie eens geweet sy ken ander vroumense nie. Toe ek egter vra: “Mag ek vir Peter ook saambring?” kom die teenvraag: “Wie is Peter?” en my onmiddellike antwoord: “Ons woon al die afgelope drie jaar saam.”
Vir ’n paar oomblikke was daar ’n ysige stilte, toe daal ——- se altstem ’n oktaaf laer en sê sy haar finale sê: “Liewers nie!” en ploeps! sit sy die telefoon daar anderkant in Bellville neer, terwyl ek hier in Fresnaye, Kaapstad ietwat verdwaas staan.
Hoe nou gemaak, want ek was nog altyd baie, baie ordentlik.
Dus gaan ek maar na die Kaapstadse stadsbiblioteek toe en doen ek vir die heel eerste keer in my lewe ietsie onordentlik.
Dit was in die dae voor rekenaars en plaas daarvan om net ’n knoppie te druk om inligting te verkry, gaan staan ek voor een van die biblioteek se bruin kaste met klein laaitjies vol kaartjies waar boeke volgens die Dewey-sisteem gerangskik is, en soek ek die woordjie etiket en met ’n pen in die hand het ek elke boektitel wat oor hierdie onderwerp in die Wes Kaap beskikbaar was neergeskryf.
En met die lysie in my sak is ek terug huis toe en het voor my tikmasjien gaan sit en begin tik:
Vir onthaaldoeleindes is die onderstaande lys boeke onontbeerlik. Om opsporing daarvan in ’n biblioteek te vergemaklik, het ek die kodenommer van elke boek tussen hakies aangedui.

Nooit het ek weer vir ——- gesien of van haar gehoor nie, maar vergeet het ek beslis nie. En waarom sy nooit my brief beantwoord het nie, weet ek ook nie, miskien is dit die feit dat ek die Engelse woord Etiquette verkeerd gespel het met 2 t’s in plaas van een – en sy was immers ’n vrou wat haar nie eintlik met analfabete opgehou het nie.
In 1985 het ek oor ’n naweek ’n kinderstorie geskryf. Wolfgang Amadeus Muis oor ’n aaklige pretensieuse meisiekind van agt wat alle muise gehaat het en op die ou end by die jaarlikse eisteddfod deur muise oorval word net voor sy Chopin se Ballade no 3 in A-mol majeur, Opus 47 vir die gehoor kon speel. En ek moes natuurlik ’n naam vir hierdie meisiekind bedink. Toe gee ek maar vir haar die naam van my gewese vriendin.
“Dis toe dat ——- besluit om te kyk wat met die binneste van haar klavier verkeerd is. Die gehoor in die stadsaal sien hoe die krulkopdogtertjie van die klavierstoeltjie afklim. Toe sien hulle hoe sy buk om die onderste klap van die klavier oop te maak. Toe sien hulle hoe 278 muisgaste – plus Wolfgang Amadeus, natuurlik en sy ma en sy pa en sy boeties en sy sussies: Anna en Bettie en Chris en Danie en Emma en Frans en Gert en Hendrik en Ina – by die klavier uitpeul en bo-oor haar stroom.
“MUISE!” gil ——-.
En was daar muise! Daar was grotes. Daar was kleintjies. Daar was oues. Daar was jonges. Daar was vettes. Daar was maeres. Daar was muise tussen haar vingers. Daar was muise op haar neus. Daar was muise agter haar ore. Daar was muise in haar skoene. Daar was muise in haar hare. Daar was muise onder haar rok. Daar was muise, muise, muise, net waar jy kyk …”
Ja, ek mag miskien destyds toe ek in Sub B was die mooiste en skoonste naels in die hele skool gehad het en die ordentlikste maniere op aarde, maar nou – soveel jare later - as iemand my so nou en dan vies maak, is ek ek nie meer so ’n nice persoon nie en hulle word naam en al, net soos dié van ——- ’n karakter in een van my boeke …
Tuesday, February 1st, 2011
1 Februarie 2011
8:37vm
Hoe langer mens jou eie blog het, hoe moeiliker word dit om iets nuuts uit te dink.
So erg dat ek nie eens meer die Versindaba-webblad besoek nie, want doen ek dit, besef ek dat die ander bloggers soos Salomo se miere aan die gang is en kennis soos stukkies kos na die nes toe aandra. Dan kom ek agter hoe slim party mense is en selfs weet wat die verskil tussen surrealisties en sureëel is (en die ergste is ek weet nie eens om laasgenoemde woord te spel nie.)
En sonder enige valse beskeidenheid: die enigste rede hoekom ek nie skrywersvriende het nie, is omdat ek bang is dat hulle vir my slim vrae oor die letterkunde gaan vra, min wetende dat ek as slaaptydlektuur soms ’n Little Lulu comic langs die bed het in plaas van die jongste Breytenbach-bundel en die feit dat ek ewe lekker kan luister na Patti Page se Mocking Bird Hill as Mozart se Srtrykkwartet K387 in G-majeur.
Partykeer wens ek ek was slimmer as wat ek is, maar soos Langenhoven glo êrens gesê het: As jy dom is moet jy slim wees, maar nou dat ek hierdie woorde getik het, maak dit vir my g’n sin op aarde uit nie.
Waaroor moet ek skryf?

Oor hoe ek daarvan hou om klere te stryk, of hoe goed dit vir my voel as ek skielik ’n hadida in die tuin opmerk – al het Mimi Coertse (en ek is g’n namesdropper nie) vir my gesê hulle is die naarste goed op aarde. Maar vir iemand met so ’n fyngestelde oor moet dit sekerlik alte vreeslik wees as die goed oor haar huis se dak vlieg met ’n aaklige geskree en as hulle dalk nie van haar hou nie sommer skielik ’n yslike wit blerts los, dit wil sê as sy nie weet hoe om betyds te koes nie.

En omdat hierdie ’n Versindaba-blad is, moet daar sekerlik diep dinge oor die poësie gesê word, en omdat ek maar alleenlik my eie werk goed ken, noem ek maar een van my versies net om die blog ’n bietjie langer te maak:
The Turtle Dove
When God once made the turtle dove
He knew what he was doing:
He filled the bird with bits of love
and gentle sounds of cooing.
I do not mind the cooing,
but what I really dread
are unexpected blobs of love
that land upon my head.
Ek het nog altyd agtergekom dat die enigste manier om my aan die gang te kry, is om my lewe in 20-minuut stukkies in te deel en hier sit ek juis met my Pick n Pay timer langs my rekenaar op 20 minute gestel en tik ek maar enige iets wat in my kop kom, en vergeet ek maar van ’n begin en ’n middel en ’n einde, want selfs op skool met opstelle het ek gewoonilk beswaarlik meer as 4 uit 10 gekry.
Dit is tog vreemd hoe ’n mens uiteindelik oor niks op aarde skryf nie, net om jou Versindaba-gewete te streel.
En in ’n poging om ’n bietjie slimmer …..
8:57 vm
20 minute verby – nou eers ’n bietjie tyd vir rus en ’n ekstra koppie koffie
Wednesday, January 12th, 2011
Die ander dag hoor ek ’n eenvoudige klavierweergawe van Brahms se wiegelied spesiaal vir kinders verwerk op my vriendin Tertia Visser-Downie se Tots in Tune CD en skielik wou ek huil. Die waarom was nie onmiddellik duidelik nie, maar skielik was dit of ek weer my ma dit kon hoor sing:

Slaap my kindjie, slaap sag
onder rose vannag
eers die armpies om my nek
en dan saggies toegedek …
En toe vat daardie eenvoudige wysie my sommer terug na my Cricketstraatdae toe in Bloemfontein en met my heel eerste kennismaking met musiek. Dit was nie tuis wat ek musiek leer ken het nie, maar by die skool en veral by Mary Ann Green (wat het van haar geword?) wat saam met haar ma en haar pa en haar broer Alec by nommer 11 gewoon het. Dit was haar pa en ma se huis-losieshuis met wonderlike mense - in elke kamer iemand anders. En in hierdie huis het ek, toe ek 8 jaar oud was, musiek ontdek.

Daar was Sweetie wat partykeer haar kêrel by ons huis kom opbel het. Ja, ons telefoonnnommer was maklik om te onthou: 1414 en dit laat my nou wonder hoeveel inwoners daar destyds in Bloemfontein in die laat 40’s was. Miskien moet ek vir Karel Schoeman skryf en vra – maar weet goed hy sal nie terugantwoord nie, maar volgens dié nommer kon daar nie veel gewees het wat telefone besit het nie en dit was oor daai selfde telefoon wat ek eenkeer ’n skoolmaat gebel het en vertel het van ’n stoute vrou van wie ek in die Bybel gelees het – seker die los vrou van Gadara – of dalkies Ohóla en Ohóliba. In elk geval my ma het ’n gedeelte van my gesprek gehoor – my erg berispe en uitgevra en nou weet ek waarom ek so ’n bietjie seksueel geknak is.

Maar nou dwaal ek al klaar af, want dis eintlik oor musiek wat ek wil praat en nie oor die wulpse anties van die geskiedenis nie, behalwe as die Bybelse Delila miskien ’n triomfantelike lied gesing het nadat sy Simson se pounietyl afgesny het.

Mary Ann-hulle het wonderlike dinge in hulle huis gehad – ’n klavier, maar nog wonderliker was die opwengrammofoon met sy pragtige wysies. Ek kan onthou hoe ek saam met Mary Ann op die sitkamermat gesit het omring van die grammofoonplate wat jy so een een uit hulle koeverte moes haal en versigtig op die draaitafel moes plaas en nie te hardhandig nie, anders breek daardie plaat middeldeur en dis die einde van die sublieme wysie wat in sy swart groewe weggebêre is.

En dan – voor die wonderwerk – sit jy eers ’n naaldjie in die grammofoon se kop en dan was daar die wonderlike slinger aan die kant van die staangrammofoon wat jy moes opwen totdat hy nie meer verder kon nie. En die grootste plesier vir my was, wanneer Mary Ann vir my toegelaat het om dit self te doen – g’n wonder dat sy een van my grootste maats van destyds geword het nie.
Dan sit jy die grammofoonkop op die swart plaat neer en jy luister: en dis Bing Crosby en die Andrews Sisters en Danny Kaye met sy tongknopers en die dansmusiek van Victor Silvester.
Maar die mees spesiale plaat was
Kleinjan skiet die kat,
in die middel van sy blad …
Ja, in daardie dae het musiek nog wysies gehad, en die belangrikste was daardie woorde wat jy na al die jare nog kan onthou.
En waarom was Kleinjan so spesiaal? Omdat die man wat dit geskryf het in kamer nommer 19 van die huis-losieshuis gebly het.
Wie hy was, kan ek nou glad nie meer onthou nie, maar waarom lui die naam Taffy Kikilus so ’n effense klokke uit die verre verlede? ..
En die grammofoon, ai die grammofoon – dit het twee deure gehad wat jy oop en toe kon maak sodat die musiek harder of sagter kon word en as jy ’n dieper klank wou hoor, druk jy sommer ’n paar kouse onder in die ding se bek waar die klank uitkom, en as jy die hoë note wou hoor soos wanneer die nagtegaal Erna Sack sing, haal jy weer die kouse uit.
En die snaaksste was, as jy vergeet om die slinger elke keer op te wen, dan loop die grammofoon al hoe stadiger en stadiger en klink Erna Sack later byna net soos Bing Crosby.

En dan was daar die musiek wat ek in die bioskoop gehoor het, of in die Plaza, of die Ritz of die Vaudette - ’n café-bio waar ’n prent oor en oor gedraai het – die hele dag lank.
En dan was daar die Grand – die mooiste van almal – dit was eintlik ’n teater, maar het lankal beter dae gesien. ’n Afrikaanse Musiekprent Kom saam Vanaand is vir ’n paar dae vertoon – en as jy daardie paar dae ’n film misloop, het jy nooit ooit weer ’n kans gehad om dit daarna te sien nie.
As kind, en nou nog, was ek baie nuuskierig, en Kom saam Vanaand was die een film wat ek móés sien. En toe kom die ramp: Daar was ’n skielike polio-epidemie – of liewer kinderverlamming. Geen kinders is in die bioskope toegelaat nie – om die waarheid te sê – my skool se kinders moes rondloop met ’n sakkie om die nek waarin ’n huisie knoffel versteek is. Ewenwel, ek het later gehoor, dat die sopraan Betsy de la Porte die gehoor aan die slaap gesing het met haar arias wat g’n mens op aarde kon verstaan nie, en die enigste beelde waarin jy kon vaskyk was watervalle en nogmaals watervallle. Toe voel ek nie meer heeltemal so sleg nie, want Singin’ in the Rain het veel groter plesiertjies in gehou met wysies en woorde waarmee mens kon saamsing:

Moses supposes his toeses are Roses,
But Moses supposes erroneously,
Moses he knowses his toeses aren’t roses,
As Moses supposes his toeses to be!
Moses supposes his toeses are Roses,
But Moses supposes erroneously,
A mose is a mose!
A rose is a rose!
A toes is a toes!
Hooptie doodie doodle
Moses supposes his toeses are Roses,
But Moses supposes Erroneously,
For Moses he knowses his toeses arent roses,
A Rose is a rose is a rose is a rose is
A rose is what Moses supposes his toes is
Couldn’t be a lily or a daphi daphi dilli
It’s gotta be a rose cuz it rhymes with mose.
Ja, toe reeds het verspotte woorde in my kop bly vassteek, meer nog as ernstige goed soos Totius se doringboompie wat ’n knak gekry het as gevolg van sy langs die pad stanery .
En by my niggies Sophie en Chrissie het ek later ander musiek gehoor Ketelbey se In a Persian Market of In a Monastery Garden. Te wonderbaarlik.
En as ons nie na plate geluister het nie, het ek en Chrissie in die kombuis gesit terwyl die grootmense in die sitkamer gesels.
Dan het Chrissie haar oefeningboekie uitgehaal waarin sy allerhande mooi woorde uit die films neergeskryf het en dan het ons twee heerlik saam gesing. En Indian Love Call was ’n gunsteling:
When I’m calling joe hoe hoe hoe hoe hoe hoe …
wil you answer toe hoe hoe hoe hoe hoe hoe hoe.
Dan was Chrissie Jeannette MacDonald en ek was haar kêrel Nelson Eddy.
Maar … die Cricketstraatdae en die kuiers by Chrissie en Sophie by Vantonderstasie het verbygegaan. Die 78-spoed grammofoonplaat is vervang met langspeelplate en geen slingers was meer nodig om die musiek aan die gang te kry nie.
Die huise in Cricketstraat is almal afgebreek, self die denneboom voor nommer 13 is afgekap.

Niemand het geweet wat om met hulle ou plate te maak nie, en sakke vol is partykeer sommer in die plaaslike dam of rivier gegooi.
Dié dae is vir goed verby, maar die woorde bly in my gedagtes vassteek, of selfs partykeer vashaak net soos daardie wonderbaarlike plate wat met soveel sorg hanteer moes word:

Way down in the Congo land
Live a happy chimpanzee
She loved a monkey with a long tail
Lordy how she loved him
Each night he would find her there
Swingin’ in the coconut tree
And the monkey gay
At the break of day
Like to hear the chimpie say
Aba daba daba daba daba daba dab
Said the chimpie to the monk
Baba daba daba daba daba daba dab
Said the monkey to the chimp
All night long they’d chatter away
All day long they were happy and gay
Swingin’ and singin’ in their
Honky tonky way
Aba daba daba daba daba daba dab
Means monk I love but you
Daba daba dab in monkey talk
Means chimp I love you too
Then the big baboon one night in June
He married them and very soon
They went upon their aba daba honeymoon.
Monday, January 3rd, 2011
Hierdie strokie van my en Piet Grobler het voorheen in De Kat verskyn, maar sal hopelik ‘n bietjie plesier vir die eerste week van 2011 verskaf.
KLIK OP DIE SKETS OM DIT TE VERGROOT

Monday, December 27th, 2010

Hier is my en Piet Grobler se weergawe van Beauty and the Beast soos dit destyds op De Kat se agterblad verskyn.
TIK OP DIE FOTO om dit te vergroot en beter te kan lees
Saturday, December 11th, 2010
Sommerso op ’n dag kom ek vandeesweek agter dat die Muse verdwyn het. Die hoekoms en waaroms is ’n bietjie onduidelik, maar dit het sweerlik iets te doen met die feit dat ek twee weke gelede met my R5000 kamera in ’n swembad in Tulbagh beland het.

Ek het al wel gehoor van water op die knie soos met die storie van die arme mev. Fourie wat deur vreemde vrese oorval is:
’n Sekere Kaatjie Fourie
het water gekry op die knie.
Sy raak toe bevrees
en skree haar skoon hees,
want sy ly mos aan hi-dro-fo-bie
Maar ek is doodseker daar bestaan ook iets soos water op die brein wat my skielik tot skrywersstomheid dwing en ek het g’n idee wat ek vandag op hierdie blog moet skryf nie.
Dit was op 26 November toe en Peter vir die naweek in omgewing Tulbagh gaan ontspan het.
Vir twee dae was ek gefassineer met die spel van kleure in die water. Die oord se swembad was rooi geverf en ek het gedurig geklik en met my digitale kamera kon ek onmiddellik die resultaat sien.
Vergete is die dae toe mens twee kameras moes hê: een vir swart-wit foto’s en ’n ander een vir kleur. En as jy ’n filmspoeletjie koop was dit òf vir 24 òf vir 36 foto’s en teen die tyd dat jy die knoppie 36 keer gedruk het, het ses maande of selfs ’n jaar al verbygegaan. Nou druk jy daardie knoppie sommer 382 keer binne ’n paar minute en hoop jy iets is darem bruikbaar en dan deur nog ’n druk van ’n knoppie in Photoshop word selfs die simpelste foto skielik ’n meesterstuk en lyk dit soos ’n waterverfskildery of sepia of word dit geretikuleer. Nee, dinge het te maklik geword en nou dwaal ek al klaar af voor ek by my uiteindelike skande uitkom.
Ja, om onverwags in water te beland, kom al van ver af. En nou praat ek van Bloemfontein se Cricketstraat-dae toe ek skaars 8 jaar oud was:

My suster Rea was pas twee jaar tevore gebore – op 8 Mei 1945 - presies 2 minute na die Vredeverklaring na die Tweede Wêreldoorlog.
Ek onthou goed dat die badkamer buite die huis was en dan moes daar nog met hout vuur in die geyser gemaak word om die water uiteindelik warm genoeg te kry om in te kan bad.
Om hierdie omslagtigheid te vermy, het my ma vir Rea snags in ’n bababadjie gebad wat sy langs die dubbelbed staan gemaak het. En nadat Rea gebad en gepoeier was en terug in die baba-bedjie gesit is, was dit tyd vir slaaptyd. Op sulke wintersaande het ek dan sommer tussen my ma en my pa ingekruip. Maar met Rea in haar bedjie was dit eers tyd vir my ma om saggies te bid, en omdat daar nie veel spasie tussen die bad en die bed was waar sy kon kniel nie, het sy sommer kiertsregop daar op die bed langs ons gekniel en dan was ek bewus van ’n sagte gemompel, maar kon g’n enkele woord van haar gebed uitmaak nie.

En toe gebeur dit – na ’n dag van harde werk – want sy het bedags nog vir my pa by sy markagentskap gehelp, raak sy een aand vas aan die slaap gedurende die gebed en val sy bo van die bed af, reg in die bababadjie dat die water so spat.
Gelukkig tog was dit my ma wat ondergedompel is en nie Rea wat uit haar bababed geval het nie, anders kon dinge dalk erger verloop het soos met ’n ander baba van wie ek gelees het:
’n Bybie van Bloekombosdal
het doems in ’n pie-pot geval.
Toe sê sy ma glo:
“Dit was net H20
en dít was genadiglik al…”
Maar, om deesdae te bad, lank na daardie Cricketstraatdae is nou veel makliker. Jy draai die kraan oop en met jou bad-olies of ’n skuimbad met yslike wit borrels wat jou skaamte bedek, kan jy maar daar in die warm water lê en luier totdat jou tone en vingers later soos wit rosyntjies lyk.
Maar nou dwaal ek alweer af.
In die laat sestigerjare het ek in Tamboerskloof in Kaapstad gewoon en in die woonstel bokant my was twee oujongnooi-susters wat gekla het elke keer as ek my musiek te hard speel. Dan moes ek maar die volume sagter draai, maar dit was glad niks in vergelyking met die geluide wat snags uit hulle woonstel, of liewers hulle badkamer gekom het nie.
En was hulle lief vir bad? Ja, elke liewe aand - albei van hulle. En omdat die plumbing nie van die modernste was nie, kon ek elke aand duidelik hoor as die waterkraan oopgedraai word, en die bad vol water geloop het. Die stilte wanneer die kraan toedraai word, en dan skielik, elke liewe aand: vreemde gorrel-dreungeluide van hulle woonstel bokant my tot reg onderkant hier by my, waar ek in die bed lees oor die dieper dinge van die lewe.
Ja, elke liewe aand, soos ’n ander antie van wie ek gelees het:

’n Antie van Leeudoringstad
het winde gelos in die bad.
’n Magtige dreuning
geuiter met mening
het water laat borrel en spat.
So loop die lewe en twee weke gelede het ek en Peter besluit om vir ’n naweek die Shisa gasteplaas net buite Tulbagh te besoek.

En daar was niks wat my gedwing het om enige iets te doen nie. Ek kon maar net daar op die grasperk lê en lees aan ’n efffens dunnerige maar uiters spannende Karel Schoeman-roman waar daar op bladsy 493 ‘n stoel omval.
En so nou en dan wanneer ek nie meer die spanning kon verdra nie, het ek in die swembad se rigting gestap en op ’n veilige afstand met my digitale kamera foto’s van die wisselende waterrefleksies geneem. Ek het die water maar van ver af beskou, want koue water en ek was nog nooit werklik maats nie.

En wat is daar presies in Tulbagh te doen wanneer jy reeds al die kunswinkeltjies bekyk het, en al die gerestoureerde huise bekyk het, en die huispryse in die huisagent se vensters bekyk het, en die Saronsberg-teater van buite bekyk het met eers twee weke later ’n uitvoering van Ouboet van Orkney Snork Nie se dae as die ster van die aand? Daarom vir ’n bietjie opwinding moet jy jou maar uiteindelik Shoprite toe haas om die kruideniersware met hulle vrolike kleure op die winkelrakke te bekyk.
Ja, as jy Tulbagh eenkeer gesien het, het jy dit gesien.
En wat maak mens in die aand as jy nie meer waterrefleksies kan afneem nie? Swembaddens het altyd ‘n bekoring behalwe vir blindes miskien wat glad niks kan sien nie en vir die blindes wat nie van koue water hou nie is daar ook nie veel plesier nie, soos oor die arme man van Kwazulu-Natal van wie ek gelees het:
’n Blinde van Umbogintwini
het nog nooit ’n bikini gesien nie.
Pleks van kyk, moet hy voel,
as hy spring in ’n poel.
Hierdie lot het hy glad nie verdien nie.
Ewenwel – Dit was Vrydagaand - en skielik kry ons die nuus:
Daar is vanaand ’n Drag Show in Tulbagh en voor die tyd ’n heerlike pastadis spesiaal vir die gaste. In my jong dae in Bloemfontein het ons so dan en wan Stampmotors gehad by die plaaslike skougronde. En ek het êrens in Die Burger se motorbylaag gelees dat Drag Racing deesdae so ’n populêre sport geword het. En dit is baie grênder as stampmotors. Renjaers jaag teen ’n geweldige spoed en van begin tot eindpunt duur dit partykeer slegs ’n paar sekondes.

Toe ons dus vroeg-aand by die huis/restaurant aankom vir die Drag Show was ek aan die begin ’n bietjie onkant gevang. Die gaste was, soos te verstane almal jong mans, met so hier en daar ’n dame tussen-in. En dit het my nogal verbaas hoe gesofistikeerd die Tulbagh Drag racing manne is. Ek het gedink almal sou boepe hê en hulle sou rondstaan en winde opbreek elkeen met ’n Castle of ’n Black Label of ’n glas Dop en Dam in die hand.
Maar ek is gou verkeerd bewys en het besef ‘n mens moenie sommer die gevolgtrekking maak dat die manne hier in Tulbagh agtervelders is nie. Die manne wat daar rondgestaan het, het almal langsteel wynglase vasgehou en dit was net designer outfits en goue kettings waar jy kyk. Dit was Nike en Adidas en Gucci en Calvin Klein en ek met my Mr. Price verbleikte blou jeans en t-hemp het ’n bietjie uit gevoel. Maar miskien het my R5000 kamera wat om my nek gehang het my tog ’n bietjie grênder laat lyk. En in plaas van mekaar aanspreek as Broe of ou Bees het ek my verbeel ek het so nou en dan die woord Darling gehoor, maar dit was maar seker my gehoor, want deesdae, op my hoë ouderdom hoor ek tog so nou en dan allerhande verkeerde goed.
Eenkant was daar ’n soort verhogie met kantgordyne wat vol sequins uitgeborduur was en oor ’n stoel op die verhoog is ’n jakkalsvel-stola gedrapeer, maar die jakkals het ietwat verrineweer gelyk en die een glasoog het seker al jare gelede reeds uitgeval. Toe reken ek dit is seker maar ’n jakkals wat destyds hier in die omgewing deur een van die Drag Racing manne geskiet is.
Die pasta wat in die kombuis bedien is, was glad nie sleg nie, en ek het op ’n plastiekstoel langs die swembad gesit en die weerkaatsings in die water dopgehou, want met die naderende skemer en na ’n paar glase wyn het die ligrefleksies op die swembad se water al hoe interessanter begin word.

Ek sou met een van die jong mans wou praat, maar wat sou dit my in elk geval help – ek weet absoluut niks omtrent motorkarre nie en ’n Uno en ’n BMW lyk vir my maar min of meer dieselfde – dus het ek maar met my kamera op die weerkaatsings gekonsentreer en so nou en dan ’n foto geneem.
My kamera het ongelukkig glad g’n niemand van die jongelinge beïndruk nie. Ek dink hulle het veel laer gekyk en net die Mr. Price jeans raakgesien.
Tog het iemand agter my my op die skouer getik en gevra waarom ek so gefassineerd was met die water. En toe ek omdraai sien ek twee jong dames wat baie wyslik in hierdie warm Wes-Kaapse weer hulle hare taamlik kortgeknip hou. En daar begin ’n onmiddellike vriendskap en ek gesels land en sand oor myself en wys die wonderlike water-foto’s wat ek dié dag geneem het.
Maar terwyl ek nog so foto’s op die digitale skermpie wys, hoor ek ’n gemoduleerde stem van die verhogie se kant af: “Ladies! The Drag Show is about to commence.”
Dit is eers toe dat dit my byval dat daar nie veel plek is vir motors om verby te jaag nie en moes ons almal seker buite na die straat se kant toe om te sien hoe die motormaniake alle Guinness Book of World Records in Tulbagh se strate probeer verbeter.
Maar pleks daarvan dat almal buite toe storm, begin musiek skielik van iewers oorverdowend deur die luidsprekers te blêr. Blêr is seker die verkeerde woord, want dit was sweerlik Joan Sutherland se Casta Diva, maar pleks van ’n jong Sutherland met ’n woeste bos rooi hare en ’n kakebeen soos Tobie Cronjé kom daar ’n onwulpse, lelike, vet en uiters middeljarige vrou op die verhoog en sy sing en sy sing terwyl die sequin-blinkertjies van haar rok my byna verblind. En soos baie middeljarige dames het hierdie een ook met die jare ’n uiters ongewenste harige bolip begin ontwikkel.

En toe ek omdraai om beter te kan sien, verloor ek my ewewig. Dit was ook nie heeltemal my skuld dat daar nie veel meer as ’n halwe meter spasie tussen my en my nuwe vriende en die swembad was nie.
Ja, dit was die laaste sien van my en my R5000 digitale kamera. Ek het daardie koue water ingeplons met kamera en met my Mr. Price outfit en al.
Joan Sutherland is die verhoog af en nadat iemand my uit die waterdieptes gered het, het ’n jong man my op die rand van die swembad uitgehelp en sommer daar op die plek gewys hoe ordentlik ons jong mense nog kan wees. Hy het sy designer T-shirt uitgetrek en dit aangebied sodat ek my my ’n bietjie kon droogmaak en ’n bietjie waardigheid kon herwin. En terwyl hy my sy hemp aanbied kon ek alleen maar dankie-sê terwyl hy met al sy pragtige tatoeëermerke langs ’n ander jong man gaan plaasneem terwyl ek in die kombuis gaan sit, natter as nat met selfs die water in my skoene wat sjoes-sjoes maak terwyl ek gaan kyk of ek kon red wat daar te redde was.
Om die storie kort te maak. Dit was die einde van my R5000 digitale kamera, en amper van my selfoon ook, maar dié het gelukkig die volgende dag weer begin werk.
Wat help dit om te huil – ’n kamera is deel van my lewe en ek moes toe op Maandag ’n nuwe een aanskaf. Soos die Engelse sê: It doesn’t help crying over spilt milk en dit kon natuurlik veel erger gewees het.
Die Son-koerant kon dalk berig het: VERSIEMAKER SKRIK HOMSELF WATERNAT BY ’N DRAG SHOW of anders kon my lot dieselfde gewees het van ’n omie van wie ek gelees het:
Oom Danie van Duren
duik doems in die water
en toe hul hom kry,
was dit sewe dae later.

Wednesday, November 24th, 2010
’n Gereelde blogskrywery bring sy eie probleme mee. Hier sit ek al meer as ’n week lank en dink aan watter diep dinge ek oor die poësie kan kwytraak, want die blog het immers die grênd naam Versindaba. En om onsinnige dinge te wil neerkrap, sal dalk sommige lesers en swaarwigtige digters laat kopskud: lesers en digters en oud-bloggers wat weet wat die verskil is tussen surrealisties en surreeël terwyl ek skaars weet wat die verskil tussen alliterasie en ’n metafoor is.
En hier sit ek , wat in my lese, nog nie veel verder as Leipoldt in daardie gewigtige André P Brink se Groot Verseboek 2000 gevorder het nie.
Met ’n boek van 1900g in jou arms is dit nie eintlik maklik om veel verder te vorder nie, g’n wonder die boek word nou in die nuutste uitgawe in Mazawatteetee-blikkies verpak nie. Maar nou is daar die probleem om daai blikke oop te kry, veral as die deksel halfverroes geraak het van al die klammigheid van die seelug hier in Kaapstad en jy ’n koevoet nodig het om dit oop te kry. En om die 2000 uitgawe te lees, beteken dat jy vir 6 maande by Virgin Active moet gaan oefen, om die ding selfs te kan optel, en met die geld wat jy op die gym spandeer het, kon jy net sowel die blikkies-uitgawe gekoop het, al sukkel jy met die oopkry.

Maar, nou dwaal ek alweer af. Ek het nou so ver as Leipoldt se Sekretarisvoël op bladsy 62 gevorder en Zandra Bezuidenhout lê eers op bladsy 906 voor. As ek daar uitkom, sal ek dus uiteindelik diep dinge oor die poësie kan kweel.
En van Sekretarisvoël gepraat:
Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?
Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?
Ja, wat maak ék presies op ’n literêre blog?
Vandeesweek nooi ek met my vriende, Hugh Roberton en Deon Knobel oor vir ete – en terloops kom ek toe agter dat ons almal bybies van 1939 was – 1939 wat so ’n goeie jaar vir ons Afrikaanse letterkunde was: Eers was daar Lina Spies, en J.G. Kannemeyer en Breyten Breytenbach en Karel Schoeman en ék, alhoewel ek in alle nederigheid moet erken ek sit nie langs dieselfde vuur nie alhoewel ek darem kan spog dat ek langs Karel (destyds Tromp) Schoeman op Universiteit by UOVS gesit het en hy so verveeld was met Afrikaanse letterkunde dat hy, in plaas van luister ,sit en skryf het aan Engelse romans.
Ja, 1939 was die tyd toe ons nog briewe gskryf het, en posseëls gelek het en op koeverte geplak het, en elke liewe Kersfees’n wavrag van 258 Kerskaartjies in die posbus gegooi het.Wie weet vandag nog hoe ’n Suid-Afrikaanse posseël lyk, om nie eens te vra hoeveel een kos nie?
In daardie dae was ons almal nog baie ordentlik en ’n adres moes op ’n sekere manier geskryf word: Ons moes weet waar om al die kommas in te vul en alle adresse moes afdraand loop:
Cricketstraat 13
Bloemfontein,
Oranje Vrystaat,
18 Desember 1948.
Dan was daar nog die ordentlike aanspreekvorme soos Hoogedele, Geagte, Beste en as jy heel familiêr wil raak was dit sommer Liewe, of veel erger Liefste.
En hoe sluit ’n mens ’n brief af: Hoogagtend of Met innige dank …
En wat het intussen gebeur? Jong mense weet waarskynlik nie eens wat ’n brief of ’n Kerskaart is nie – om van posseëls nie eens te praat nie.
Nou is dit e-posse en SMSe wat begin met Hi en as jy nog ’n bietjie ordentlikheid het eindig dit met Met vriendelike groete al ken jy die ontvanger van die brief glad en geheel nie en al kan jy hom dalk nie eens verdra nie.
En dan was daar die wonderlike dae van Penvriende: Iemand wat in Engeland woon, of Australië of iets eksoties soos Egipte. Dan land daar wonderlike briewe in jou posbus met koeverte en seëls en die persoon se handskrif en inkkolle wat gelos is deur ’n lekkende vulpen.
Vandag sit almal voor rekenaars en ek twyfel of Marlene van Niekerk en Deon Meyer en natuurlik Karel Schoeman met hulle geskrifte van om en by 800 bladsye selfs weet hoe hulle eie handskrifte lyk.

En dit is uit die dae van penvriende dat ek my vriend Hugh Roberton se wonderlike storie vertel.
En die beste is – hierdie storie is die reine waarheid en is so wonderlik dat ek verlede week my bandmasjientjie uitgehaal het en dit opgeneem het sodat ek droewige dae kan opkikker met dit wat Hugh in sy kinderdae aangevang het.
Dit was om en by 1949/1950 toe Hugh 10 was en hulle op die kaal haai vlakte op ’n plaas êrens tussen Odendaalsus en Kroonstad gewoon het. Hugh se ouers was beide van Skotland en sy pa het die nabye myne van stene en keramiekteëls voorsien.
Met Skotse ouers, en ’n seun in ’n Afrikaanse omgewing en leerling by die Wessel Marais-skool was daar nie veel kontak met ander Engelse kinders nie en het sy ma (volgens Hugh ’n taamlike ernstige Skotse vrou) besluit haar seun het kontak met die Engelse wêreld nodig om hom te laat besef daar is ander plekke buiten Odendaalsrus. Die gevolg was dat sy ’n tydskrif met ’n penvriend-afdeling gekoop het en nie lank daarna nie skryf Hugh toe gereeld briewe aan ’n meisiekind van sy eie ouderdom genaamd Shirley Valz.
Alhoewel Hugh gefassineerd was met ’n penvriend uit die gesofistikeerde New York was Shirley meer as 10 keer in haar skik met haar penvriend uit Donker Afrika en sommer met die eerste brief reeds wou sy weet of daar leeus en ander gediertes in Hugh se omgewing was. Dit was in die dae van die Tarzan-films. Tarzan wat in die oerwoud rondswaai met sy Jane en sy aap Cheeta. En Johnnie Weissmuller wat die rol vertolk het, was so pragtig en gespierd en soveel mooier as die ander manne van New York.

En Hugh het haar vrae beantwoord:
Ja, die Roberton-huis was naby ’n meer in die oerwoud by Odendaalsrus en dit was eintlik maar gevaarlike gebied met krokodille en seekoeie en ander gediertes wat met hulle oë in die moerasse uitloer.
Sy vervoer na die skool toe was op ’n olfant se rug met die Robertons se mak troetelleeu wat langsaan die olifant draf om die ander wilde leeus van hulle weg te hou. En ja, saam met hom op die olifant se rug was sy mak aap wat sy skoolboeke vasgehou het, presies net soos Tarzan se Cheeta.

En so begin ’n briefwisseling van byna 6 maande. Die probleem was dat Shirley al hoe nuuskieriger geword het en graag meer foto’s van die mak olifant wou sien. Hugh het tussen sy pa se ou foto’s rondgekrap en ’n sepia-foto opgespoor van ’n olifantjag en ’n olifant wat sy pa destyds in Zambia doodgeskiet het. En gou-gou het Hugh in sy brief verduidelik dat hulle die kiekie geneem het terwyl hulle mak olifant slaap.

Maar na ’n paar maande het Hugh begin moeg raak vir hierdie speletjie en die feit was dat Shirley nog meer foto’s wou sien. Die enigste uitweg was dat Hugh sy suster Marie gevra het om ’n brief namens hom te skryf. Marie was bewus van die inhoud van die briefwisseling en Hugh moes haar ompraat met ’n belofte dat hy haar sy hele maand se sakgeld sou gee.
Die gevolg was dus ’n brief in Marie se handskrif waarin sy vir Shirley Valz baie, baie slegte nuus meedeel: Hugh was nie meer deel van die Roberton-gesin nie.
’n Paar dae tevore het hulle besluit om ’n piekniek te gaan hou langs die rivier in die oerwoud (die Vaal) en omdat Hugh so lief was vir swem het hy kort daarna in die water rondgeplas. En toe gebeur die verskriklike: Hy is deur ’n krokodil beetgekry en in eenvoudige Engels skryf sy: Our Hughie is no more.

Ten spyte van klippe wat hulle na die gedierte gegooi het, was alles tevergeefs. Sy ouers was so verskiklik ontsteld oor die hele aaklige voorval, dat hulle skaars kon praat.
Met die woorde op die papier neergepen, het Hugh sy maand se sakgeld van 5 sjielings aan sy suster oorhandig.
Ongelukkig (vir Hugh) was dit glad nie die einde van die storie nie.
Een middag omtrent ‘n maand later het die Robertons op die stoep gesit met hulle tee en scones. Op die Vrystaatse vlaktes êrens tussen Odendaalrus en Kroonstad kon jy glo vir myle ver sien as daar dalk besoekers aankom. En dit is presies wat gebeur het: Besoekers was op pad in ’n toe vragmotortjie.
Die bestuurder het uitgeklim, die agterste deur van die motortjie oopgemaak en die allergrootste blommeruiker met dahlias en rose en lelies uitgehaal en vir mnr. Roberton gevra om te teken.
Toe sy ma uiteindelik die groetekaartjie uit sy koevert haal, was sy heel verward:

From Shirley Valz and the Valz family
to Mr and Mrs Roberton and Marie
with our deepest sympathy
at the loss of Hugh.
Hugh se ma wou onmiddellik weet wat aangaan, en volgens wat Hugh my vertel, was sy suster Marie baie maklik geïntimideer en het sy vertel presies wat gebeur het en wat Hugh gevra het sy namens hom moes doen.
Daardie dag het sy ma hom glo gedwing om ’n brief terug te skryf om verskoning te vra vir al sy leuens.
Hugh vertel dat hulle omtrent die hele middag daar gesit het, en sy ma het die een vel na die ander opgeskeur omdat sy woorde en verskonings nie opreg genoeg geklink het nie, totdat hulle uiteindelik klaar was en die brief gepos kon word.
Hulle het gewag, maar tevergeefs. En dit was die einde van Shirley Valz, en hy het nooit ooit weer van haar gehoor nie.
Hugh is toe weg uit Odendaalsrus en omdat hy ’n slim seun was, beland hy uiteindelik by Michaelhouse in Natal en was hy later vir baie jare lank assistent redakteur en politieke redakteur en verteenwoordiger van die Argusgroep by die Verenigde Volkere-organisasie en was vir 4 jaar in Washington DC gestasioneer.

In New York het hy weer vir Shirley onthou en wou graag na al die jare weer kontak maak, maar daar was glo 6 bladsye van mense met dié van in die telefoongids, en dié sou ’n onmoontlike taak wees.
Hugh kan hierdie storie maar elke keer vir my vertel wanneer hy vir ons kom kuier, want dit bly vir my die mooiste storie van die dae voor balpuntpenne, en rekenaars en e-posse toe ons almal nog geweet het hoe om te spel.
Intussen sal ek maar vir die volgende bloginskrywing my kennis oor die Afrikaanse letterkunde slyp met Leipoldt se grootste gedig
Klossies, jul bewe en bibber:
Is dan die aandlug so koud?
Moet julle so teen die westewind koes?
Sal hy vir julle die blou en die goud,
Alles verwoes?
Intussen kwel iets my al vir 10 jaar lank: waar is Mabalêl in André P. Brink se Groot Verseboek 2000?

Friday, November 12th, 2010
Ek sorteer alwéér koerantuitknipsels uit.
Wat is dit omtrent papier dat ek dit so opgaar? Ek kan dit ongelukkig nie oor my hart kry om velletjies papier weg te gooi nie, maar ai, die dinge wat ek soms ontdek …
Ja, dis die probleem met weggooi. Daar is kartondose vol in die spens: Bokse vol uitknipsels en foto’s en boeke wat nooit gelees is nie en wat ek dreig om vir die Heilsleër (Salvation Army lê darem vir my veel lekkerder op die tong) te skenk.
Die Salvation Army is ’n heerlike asblik en ek het al dikwels daarvan gebruik gemaak. Ja, die Salvation Army vat sommer énige iets. Ek weet, want ek het dit alte dikwels gedoen. Ek sit met honderde grammofoonplate en Video-kassette ( wie besit nog ’n grammofoon of Videomasjien?) En wat daarmee gemaak?
Die Salvation Army het al vir jare ’n baie ’n sagte plekke in my hart en ek weet hoekom.
Toe ek nog in Bloemfontein gewoon het, was ek dol oor Hollywood Musicals (wie praat ooit van Hollywood Blyspele? Seker net Woordeboekmense.) Ewenwel, daar was elke dan en wan vir drie dae lank ’n musical in een van Bloemfontein se bioskope. En ek was altyd daar in die middelste ry met my popcorn en ’n sigaret in die hand.
En dit laat my skielik dink wat een aand in die Plaza bioskoop gebeur het:
Destyds het ek my doodgegril vir films soos The House of Wax wat in 3D geskiet is en ek vasgenael gesit het met my groen en rooi brilletjie en sommer daar in my sitplek moes koes dat my popcorn so spat wanneer iemand van die doek se kant af ’n spies na my toe gooi of dalkies sommer vir die lekkerte in my rigting spoeg!
En nog ’n terloops – ek lees die ander dag dat die pa van 3D films net een oog gehad het met die gevolg dat hy nooit enige van sy films in die derde dimensie kon sien nie.

Ja, allerhande vreemde dinge het in die Plaza bioskoop gebeur. Een ding wat ek goed onthou, was die vrou met die yslike beehive haardos. Die hare was so hoog en was so stewig gehaarsprei dat die persoon wat agter haar gesit het omtrent niks van die skerm kon sien nie. Ewenwel- dit was gedurende ’n vertoning van Psycho toe die arme Janet Leigh teen die einde se kant in die stort doodgesteek word. Die outjie wat agter die beehive tannie gesit het, het; naar geword en so groot geskrik met die gevolg dat sy hele oggendontbyt van Cornflakes en gebakte eiers in dié tannie se yslike haardos beland het.

Vir presies drie dae is die musical Guys and Dolls in die Plaza vertoon. En hierdie film gee ‘n baie simpatieke beeld van die Salvation Army. En toe ek sien hoe mooi Jean Simmons en Marlon Brando lyk, het ek my ewige trou aan hierdie organisasie gesweer.

Maar dis nie oor die Salvation Army wat ek wou praat nie. En nou het ek natuurlik al vergeet wat ek eintlik elf paragrawe gelede wóú sê.
Dit was eintlik oor die stukkies papier wat ek in bokse ontdek. Partykeer kom ek op ’n versie af en wonder of dit ek was wat dit geskryf het, of dalk iemand anders. Die goed klink partykeer so half en half bekend, want destyds het ek altyd met ’n notaboekie of ’n stukkie papier in my sak rondgeloop net ingeval die Muse vir ’n oomblik op my skouer kom sit en iets in my oor kom fluister. En destyds het dit dikwels gebeur veral as ek met my bromponie op pad na die Nico Malan Operahuis gery het waar ek as operasanger gewerk het. En dan moes ek sommer daar en dan stilhou en die woorde neerkrap voor ek dit drie minute later weer vergeet het.
Daar was ook die versies wat ek dikwels by Sandy Bay uitgedink het. Dan was daar ongelukkig g’n sak om ’n notaboekie in te bêre nie en moes ek maar wag tot ek weer in Kaapstad terug is en hopelik onthou wat ek daar in die son in my kaligheid uitgedink het.

Hier is enetjie wat ek gister ontdek het. Dit is geskryf en vinnig weer vergeet.
Ek vang vir my ’n voëltjie
Ek hou hom in ’n kou.
Nou het sy wysies opgedroog
en kyk hoe lyk hy nou.
En terwyl ek so in die bokse krap, loer ek somtyds vinnig tussen-in na my e-pos en kry ek die ander dag ‘n boodskap van my oudste pêl Deon Knobel en hy sê dat hy ook in sy broer Wilhelm se koffers rondkrap en iets ontdek het.

GESIG DEUR WYN
Wie is jy
wat tot my kom
wasige
deur muur
van wyn en glas?
… ’n lied
eergister nog gesing
’n sug
wat nog die na-oor kwel.
Nee
Laat sak die glas
en weet –
Dié is die oomblik,
Jý is die nou.
En onderaan staan daar: 5.5.63 en P de Vos
En onmiddellik was daar met hierdie woorde die Desembervakansie van 1962 weer terug. En onthou ek skielik dat ek destyds een of twee persoonlike dingetjies neergekrap het.
Ek het vir Wilhelm in 1963 ontmoet en het dikwels hom besoek in die woonstel wat oor die Katolieke Kerk uitgekyk het. Ek was nog nooit intellektueel van aard nie, en in Wilhelm se geselskap het ek baie min gesê. Destyds het Lina Spies nog by haar ouers in Bloemfontein gewoon en sy en Wilhelm het gereeld bymekaar gekom om poësie te bespreek. Om een of ander rede het Wilhelm my een of twee keer genooi om saam met hom te gaan en ek het self een of twee gediggies geskryf.
Ek het al jare gelede opgehou om persoonlike versies te skryf, want lawwe versies gee seker ’n beter idee van hoe ek gebek is. Tog het ek in my kartonbokse een enkele vers ontdek:
TWEE NAGTE EN ’N OGGEND
Ons was één dié nag.
Holte van arm
het ek eers ontdek
en toe vir jóu
St. Christopher.
’n Tweede nag
het jý -
klein stukkie goud
ons
op ons reis gelei,
maar waar was jy
skynheilige
toe
met die oggend
ek en hy
weer
by die kruispad staan?
Ek sê altyd vir mense dat ek nog nooit enige persoonlike versies geskryf het nie, behalwe ’n enkele een wat later gepubliseer is.
Op die duineveld
van Bloubergstrand
sal ek vir jou onthou.
Jy het my
’n ster gewys -
’n ster verskiet
te gou.
Duinedou
verdwyn te gou -
Rots en klip
is ál
wat hou.
Sonder om dit te veel laat klink na Jakkals prys sy eie Stert. Daar is onlangs drie insetsels oor my op You Tube geplaas. In die een sing ek Albie Louw se pragtige toonsetting van hierdie versie. Dan is daar ook ’n kort onderhoud oor my werk:
http://www.youtube.com/watch?v=tM0z_OXwHqg
http://www.youtube.com/watch?v=zJ6XbDMQqVA
http://www.youtube.com/watch?v=O1M0hCdDMx0
Saturday, November 6th, 2010
Die ding met inskrywings vir ‘n gereelde blog is dat jy later glad nie meer weet waaroor presies jy behoort te skryf en hoe gereeld jy dit moet doen nie. Skryf jy een elke dag of drie is daar die moontlikheid dat die juweeltjies waaraan jy vir ure gesit en worstel het die kuberruim in verdwyn sonder dat ‘n enkele woord ooit deur iemand gelees is. Lees ander mense jou gevleuelde woorde of is dit op die ou end net ‘n egoïstiese monoloog?
Maar, nou ja …
Ek het eintlik ‘n baie oppervlakkige kennis en dit het glad niks met beskeidenheid te doen nie. Dit het miskien meer te doen met ADD; Engels vir Attention Deficit Disorder of in hoghe Afrikaans: Aandagsgebreksindroom. Ek het nooit eens geweet dat ek dit het nie tot die ander dag terwyl ek klere gestryk het en terselfdertyd na Cape Talk geluister het. Iemand bel toe in en sê dat een van die simptome (en die woord simptome klink ‘n bietjie te veel na iets waaraan jy dalk kan doodgaan), is dat jy gedurig aan die uitstel is.
En kan ek uitstel? Ja, beslis.
Jare gelede toe ek nog in Bloemfontein was, het ek vir Nico Smit ontmoet. Ons was albei nog op skool en dit was in een van die skoolgange van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein dat ek met hom begin praat het. Dit was in 1953 en hierdie vriendskap het gebly tot hy vroeër vanjaar op ouderdom 71 oorlede is.
Toe Nico sy B.A.-graad behaal by die destydse UOVS het, hy vir my as vriend gevra om ‘n paar foto’s van hom te neem. Die foto’s is toe wel in Bloemfontein geneem en ek het vir Nico later self afdrukke van hierdie foto’s in my tuisgemaakte donkerkamer gemaak. Die enigste probleem was dat dit in my donkerkamer in Kaapstad was en die ander een was dat dit ongeveer 25 jaar later was. En het Nico dit waardeer? Ja, verskriklik! Het ek vir hom die foto’s die volgende dag laat kry, was dit glad nie so besonders nie, maar ‘n kwarteeu later het hierdie foto’s ekstra, ekstra spesiaal gemaak.
En van Nico gepraat. Nico was seker die eerste persoon wat geweet het toe ek en my vriend Peter vegetaries geword het. En hierdie vegetaries-wordery van my was omdat ek in ‘n Ster Kinekor-teater gesit het en die rolprent Babe oor die pratende varkie gesien het. En toe daardie varkie sy mond oopmaak en vir sy ma vra of varke se enigste rede vir bestaan was om geëet te word, het ek daarna my mond nooit weer aan vleis gesit het nie, en dit is die reine waarheid.
Een aand, so 17 jaar gelede kry ek ‘n skielike oproep van Nico. “Wil nie vanaand by ons kom eet nie? Johannes het nou net ‘n heerlke beessert-sop gemaak.” En my woorde aan Nico was min of meer die volgende: “Nico, ek en Peter is nou vegetaries.” En ek hoor toe hoe Nico na die kombuis toe skree: “Johannes, hulle is nou vegetaries!” En ek hoor baie, baie duidelik hoe Johannes terugskree: “Wel, wat se kak is dit nou met hulle?”
Tog moet ek byvoeg dat Johannes in die jare daarna tog die heerlikste vegetariese disse vir ons voorberei het en sy Lebanese komkommersop van destyds is seker die lekkerste sop wat ek nog ooit geeet het.
Dis die lekkerte van ADD, jy spring sommer binne twee sekondes van die een onderwerp na die ander. Nooit óóit raak jy verveeld nie. Die enigste nadeel is dat dit party mense vreeslik vervies as ek sommer tussen-in oor ‘n hele ander onderwerp begin praat. Maar nou ja, dit is hulle probleem en nie myne nie.
Een ding omtrent ADD is dat jy nooit ‘n hele boek kan deurlees nie. Op bladsy drie reeds raak ek verveeld, en dan blaai ek na die eerste bladsy van ‘n volgende een. Dit is seker daarom dat ek soveel titels en skrywers se name ken, maar glad g’n idee het wat eintlik in die boek se binneste gebeur nie. Deon Meyer en Karen Brynard moet maar vergeet dat ek ooit een van hulle boeke gaan lees, want die goed is glad te dik om van Karel Schoeman nie eens te praat nie. En my boodskap aan Karin Brynard: Jou titel Plaasmoord maak my glad te bang ek sal seker nie eens so ver as bladsy drie kan kom nie. Ek lees veel liewer tot bladsy drie van Ena Murray se Die Oujongnooi van Polkadraai.
Ja, dit is die lekkerte van ADD. Jy hoef jou nie te lank by een onderwerp te bepaal nie.
Die volgende:
Ek ontmoet tog so met my omwandelinge ander mense, al is dit somtyds net vir ‘n minuut of tien.
Dinsdagoggend het ek foto’s van Zandra Bezuidenhout geneem. En die GPS in my Uno het my al die pad tot reg by haar voordeur geneem met ’n vrouestem wat sê: Destination on the left!

Daarna was dit Winand Grundling die hoogs begaafde jong orrelis met wie ek saam middagete in Stellenbosch se straatkafees gehad het. En om die waarheid te sê ek ken ook nie juis die orrel as instrument nie. Dit laat my te veel dink aan die ure wat ek as kind in die kerk gesit het en die dominee gepraat en gepraat en gepraat het en die orrel gespeel en gespeel en gespeel het. En vir iemand met ADD voel ‘n uur in die kerk soos ‘n honderd jaar. Die ander dag vra ‘n vriend egter: “Maar hoe kry jy dan reg om vir drie uur lank na Avatar te sit en kyk?”
En tot my skaamte moet ek erken, toe Winand dié middag my novelle Tot siens, Tommasino uithaal om geteken te word en ek voorin ietsie moois vir hom skryf, kon ek vir ‘n oomblik glad nie sy naam onthou nie. My gedagtes was seker al klaar by die volgende onderwerp: oor wat ek presies vir die volgende paar uur sou doen

O ja, ek het netnou vergeet om te sê ek lees darem so nou en dan ‘n boek deur. ‘n Paar dae gelede was dit die laaste bladsy van Damon Galgut se In a Strange Room. Die lekkerte van dié boek is dat die boek se reëls in dubbelspasie gedruk is en dat Galgut se sinne kort is. En vir my met my ADD was dit een van die roerendste en allenigste boeke wat ek al ooit gelees het. Eenvoud en diepte in kort gelaaide sinne. Intellektueel was ek nog nooit nie en ek wil dit ook nooit voorgee nie en wil daarom ook nooit gedigte of boeke probeer ontleed nie, want ontleding vat te lank en die volgende boek se eerste drie bladsye wag. Maar - vir dié wat slimmer as ek is (en ook die ander) – lees asseblief dié boek.

Dinsdagmiddag in Stellenbosch, het ek toe van 13:00 tot 17:00 tyd gehad om te wag om weer vir Piet Grobler te sien. Hy was vir ‘n baie vlugtige besoekie aan die land vir die bekendstelling van Marita van der Vyver se Die Mooiste Sprokies van Grimm saam met met Piet se soos gewoonlik, wonderlike illustrasies. En toe ek vir Piet, wat nou in Engeland woon, vra hoe dit voel om terug in die land te wees, sê hy. “Dis vreemd. Ek voel ek behoort nie daar ander kant nie, en ek behoort ook nie meer nie hier nie” En toe vertel hy my hoe hy verby sy ou huis in Paradyskloof gery het. En die wonderlike hoë heining wat die huis met die groen dak half en half weggesteek het, is nou kort gesnoei. Ja, ‘n jaar is verby en dinge het verander.
En in die wagtyd tussen 13:00 en 17:00 het ek in Protea Boekwinkel in ‘n leunstoel gesit en boeke van bladsy 1 tot 3 begin lees. Veral die fotoboeke met foto’s soos dié van David Goldblatt. Maar toe maak ek ‘n ontdekking: tussen al die boeke ingedruk is Jurie Els se Ver van Vrede. En ongelukkig moet ek nou bieg, ek is ook maar nes baie ander Suid-Afrikaners. Ek hou van skinder en is geseën met ‘n tikkie Schadenfreude en ja, ek lees ook maar Die Huisgenoot wat my buurvrou-viendin Vicky Taljaardt vir my aandra en wat ek so gewillig lees.
Ja, van Jurie Els gepraat. Nog voor al die Klay-stories begin het, was ek bewus van die man wie se gesig so gereeld op Huisgenoot se voorblaaie verskyn het. En ek kon nog nooit vat kry aan iemand wat die heeltyd glimlag nie, want ‘n smaail irriteer my verskriklik, om die waarheid te sê, vir party mense s’n, gril ek my half dood.

En daar sien ek toe Ver van Vrede op die rak, en ek wil nie hê Louis Esterhuizen moet weet wat ek so skelm-skelm in die Protea-boekwinkel sit en lees nie. Toe haal ek maar ‘n dik fotoboek van die rak af met Jurie Els se Ver van Vrede onder dié groot boek versteek. En elke keer as Louis verbystap, sug ek diep. Hy dink toe dis oor Paul Alberts se roerende foto’s wat ek sug, maar min het hy geweet dit was eintlike oor Jurie Els se manewales.
Later dié middag het ek ‘n uur of wat by Louis en Marlise aan’t huis deurgebring. Ons het buite in die tuin gesit en wag op die voëltjie wat so gereeld kom kuier het. Ons het sit en wyn drink. Daar was klaviermusiek met die wondelike andante-gedeelte van Shostakovich se tweede klavierkonsert uit die sitkamer agter ons. En die voëltjie het laatmiddag steeds nie opgedaag nie.
Toe het dit skemer begin word en moes ek met my heerlike nuwe GPS-speelding in my Uno na Oude Libertas toe ry vir Piet se boekbekendstelling.
En daar het ek met Wilma Janse van Vuuren en Hilton Paul begin gesels. En Hilton het vir my gesê ons moet eendag by Giovanni’s in Groenpunt gaan koffie drink. Ek was nog nooit daar nie, net omdat ek seker ‘n bietjie te skaam is om alleen daar in te stap. En ja, dit is tog lekker om nuwe mense te ontmoet
Vir iemand met ADD is die lewe nooit werklik vervelig nie.
Later dié naweek gaan praat ek dalk weer met my nuwe vriend Rob Kirsner oor ou MGM Musicals …
Die ander dag juis sê een van my oudste pêlle: Ja jy dink net die hele tyd aan jouself! En dit herinner my skielik aan ‘n miss Piggy cartoon.
Dit was min of meer die volgende: “I have talked much too much about myself already. Let us rather talk about you. Tell me, what do you think of me …
Amen

Tuesday, October 26th, 2010

Asof die skryf van ’n blog nie alreeds genoeg dinkwerk verg nie.
Twee dae gelede kom ek vir Danie Botha by ’n herdenking van Wilhelm Knobel se 75ste by sy broer Deon se huis teë en tussen die tafel met die yslike versuikerde aarbeie en die sjokolade-tert sê hy ewe beskuldigend:
Ek het nou net jou blog-inskrywing My Hond (deel een) gelees en merk dat al die hondeversies in Engels is. Ek neem aan deel twee gaan dié in Afrikaans hê, want daar is natuurlik hope, beginnende sommer by C.J. Langenhoven. Om darem nie te dom te klink nie, skud ek my kop op so ’n manier dat dit òf ja òf nee kon beteken, want met ’n mond vol melktert is daar nie veel kans om iets tussen die gemompel uit te maak nie.
En van gemompel gepraat, by die Wilhelm Knobel-funksie, het Deon van Wilhelm se verse voorgedra en Jeanne Goosen het ’n storie voorgelees oor een van haar nagwandelinge saam met Wilhelm destyds in Pretoria. Maar dié kon sy eers lees nadat sy aangekondig het dat sy haar bril by die huis vergeet het, en kon iemand miskien ’n keffie-bril vir haar leen?
Toe was dit later Phil du Plessis se beurt om ’n gedig voor te lees, maar hierdie keer was dit erger, want hy het sy tande by die huis vergeet, en hy het al mompelend verduidelik dat hy dit die vorige aand uitgehoes het. Toe vertel hy ook sommer hoe dat Uys Krige elke dag by Onrus gaan swem het, en met al die geswemmery het sy valstande glo die branders in verdwyn en toe het hy sommer maar by die naaste lykshuis in Hermanus vir hom ’n ekstra paar gaan uitsoek.
Ewenwel, wat ek eintlik wou sê, is dat ek vir Danie Botha eintlik moes gesê het dat die enigste Afrikaanse hondevers waarvan ek bewus was dié een van Jan F.E. Celliers is:
Ek is hier en Ma is hier
Ons twee lê op pa se baadjie.
Wie is jy? Kom loop verby
Anders word ons knor ’n daadjie.
Terloops daardie daadjie klink my so ’n bietjie na dwangrym, maar nou ja, in die dae toe Celliers dié versie geskryf het, was daar seker minder Afrikaans rymwoorde as deesdae.

Ek is toe terug huis toe en Sondagaand het ek met die yslike Groot Verseboek 2000 wat seker ’n Statebybel se grootte ewenaar voor my by die tafel gesit, want wie op aarde kan so ’n yslike gedoente in die bed regophou? Gee my veel liewers Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte want dié is darem nog hanteerbaar en is dit veel makliker om so ’n juweeltjie soos Die Durbanse poepwedstryd wat wegkruip tussen G.A. Watermeyer en Flooi du Plessis, op te spoor, al het dit niks met honde uit te waai nie.
Ewenwel, daar blaai ek toe deur Groot Verseboek en waar is die hondeverse? Daar is wel verse vir sekretarisvoëls en ietermagôs en perde en vlermuise en torras van torrevedras, maar vir die arme hond kon ek met yslike deurlees van bladsy 1 tot bladsy 942, alleen dié enkele vers van Hewitt Visser uiteindelik op bladsy 716 opspoor:
HOND VAN GOD
geen jaghond nie
net ’n troeteldier
wat heeldag op die aarde
om sy voete speel
met tussenin spronge
en albei voorpote op sy skoot
om die kalm hand op die hoof te voel
saans uitgeput die rus
op ’n bidmatjie voor die stoel.
Ek kon dus seker maar vir Danie Botha gesê het dit is veel makliker om slim te klink en Engelse hondegedigte aan te haal, want ál wat jy moet doen is om die woorde dog poems te Google en daar klink jy sommer allergeleerd en is dit dus net ’n kwessie van cut en paste en hoef jy nie dwarsdeur onse eie Afrikaanse Statebybel te lees om daardie enkele hondeversie op te spoor nie.
Honde (en katte ook , moet ek so half onwillig toegee) is ongelukkig nie vir altyd nie, en op een of ander tyd besef jy die einde is aan die kom.
So gebeur dit ongeveer drie jaar gelede dat ek en Piet Grobler en Niki Daly by ’n Insig-boeke geleentheid was, waar ons oor ons werk moes praat en ek van my versies moes voorlees.
By my aan tafel was ’n dame wat ek nog nooit voorheen ontmoet het nie, en sy vra my hoe dit met my Staffie Winnie gaan. En toe sy ’n uitknipsel van my artikel Winnie uithaal wat in 1995 in Rapport gepubliseer is (sien my vorige bloginskrywing) bars ek in trane voor daardie wildvreemde vrou uit, want toe al het ek besef, dat ek sou moes besluit wanneer dit Winnie se tyd was om te gaan, want toe alreeds het haar pootjies wankelrig begin word; sy kon my nie meer hoor nie en die groeisel aan haar nek het al hoe groter begin word.

Maar dit kon ek glad nie vir die vreemdeling vertel nie. Dit was net daardie stukkie papier wat my skielik laat huil het en die arme vrou verwar het.
Maar ek is sekerlik nie die enigste persoon wat deur ’n hond se oudword en naderende dood geraak is nie.
EPITATH FOR A DOG
Near this spot
Are deposited the Remains of one
Who possessed Beauty
Without Vanity,
Strength without Insolence,
Courage without Ferocity,
And all the Virtues of Man
Without his Vices.
This Praise, which would be unmeaning flattery
If inscribed over Human Ashes,
Is but a just tribute to the Memory of
“Boatswain,” a Dog
Who was born at Newfoundland, May, 1803,
And died at Newstead Abbey Nov. 18, 1808.
Lord Byron
Hier is nog ’n gedig wat ek deur Google ontdek het:
YOUR DOG DIES
it gets run over by a van.
you find it at the side of the road
and bury it.
you feel bad about it.
you feel bad personally,
but you feel bad for your daughter
because it was her pet,
and she loved it so.
she used to croon to it
and let it sleep in her bed.
you write a poem about it.
you call it a poem for your daughter,
about the dog getting run over by a van
and how you looked after it,
took it out into the woods
and buried it deep, deep,
and that poem turns out so good
you’re almost glad the little dog
was run over, or else you’d never
have written that good poem.
then you sit down to write
a poem about writing a poem
about the death of that dog,
but while you’re writing you
hear a woman scream
your name, your first name,
both syllables,
and your heart stops.
after a minute, you continue writing.
she screams again.
you wonder how long this can go on.
Raymond Carver
En dan, nog ’n versie, maar hierdie keer op ’n ligter trant:
THE LITTLE DOG’S DAY
All in the town were still asleep,
When the sun came up with a shout and a leap.
In the lonely streets unseen by man,
A little dog danced. And the day began.
All his life he’d been good, as far as he could,
And the poor little beast had done all that he should.
But this morning he swore, by Odin and Thor
And the Canine Valhalla—he’d stand it no more!
So his prayer he got granted—to do just what he wanted,
Prevented by none, for the space of one day.
“Jam incipiebo, sedere facebo,”
In dog-Latin he quoth, “Euge! sophos! hurray!”
He fought with the he-dogs, and winked at the she-dogs,
A thing that had never been heard of before.
“For the stigma of gluttony, I care not a button!” he
Cried, and ate all he could swallow—and more.
He took sinewy lumps from the shins of old frumps,
And mangled the errand-boys—when he could get ‘em.
He shammed furious rabies, and bit all the babies,
And followed the cats up the trees, and then ate ‘em!”
They thought ’twas the devil was holding a revel,
And sent for the parson to drive him away;
For the town never knew such a hullabaloo
As that little dog raised—till the end of that day.
When the blood-red sun had gone burning down,
And the lights were lit in the little town,
Outside, in the gloom of the twilight grey,
The little dog died when he’d had his day.
Rupert Brooke
’n Jaar na Winnie se dood, het ek weer ’n artikel oor haar geskrywe. Maar hierdie keer was dit 15 jaar na die eerste een, en wys iemand dalk hierdie knipsel oor ’n paar jaar vir my sal my reaksie dalk dieselfde wees as toe die wildvreemde vrou die vergeelde artikel by die Boeke-Insig byeenkoms voor my neergeplak het;
WINNIE (Rapport 17 Mei 2009)

Winnie het in my lewe gekom op ‘n warm Desemberdag in 1993 - ‘n klein pikswart Staffie wat bo-oor al haar broers en susters geklim het toe ek by die hondeteler ‘n hondjie gaan soek het, en sy so te sê aangekondig het: “Wel, hier is ek en van nou af gaan ek deel van jou lewe wees”.
En toe 15 jaar later, op ‘n Novemberdag het ons tot siens gesê. Ek was langs Winnie waar sy op die vloer lê en slaap het. En vir oulaas, vir ‘n hele halfuur lank, het ek my arms om haar warm lyfie gevou, want ek het geweet die veearts sou nou enige tyd die deurklokkie lui met ‘n inspuitnaald in sy sak.
Toe ek haar gekry het, was sy so klein dat ek haar in my rugsak kon dra. Maar twee jaar later toe ek een middag met haar gaan stap het, het ‘n glasstuk haar pootjie gesny en het ek agtergekom hoe swaar dit is om 20kg huis toe te dra.
In haar jongmeisie dae het sy gedoen wat alle hondekinders doen. As jou tandvleise jeuk, dan móét jy kou en ek het agterkom dat honde ook maar hulle eie smaak het. Vir Karel Schoeman-boeke het sy egter g’n smaak gehad nie, want Na die Geliefde Land het sy net so effens om die randjies gekou.
En een aand moes ‘n kuiergas hinkepink terug na sy motor toe stap minus een van sy duur Italiaanse skoene terwyl Winnie ewe vroom onder die eetkamertafel gelê en nog steeds aan ‘n stukkie Italiaanse leer geknabbel het. Maar hoe kon ‘n grênd gas so kommin wees om sy duur skoene uit te skop terwyl hy by jou kuier?
Daarna was dit die potty-training-dae. Een oggend toe ek besef sy is besig om haar druk te druk, moes ek daardie swart lyfie gryp maar dit was reeds te laat en het haar hondedrolletjies een een met ‘n streep vloer toe geval het terwyl ek met haar tot by die grasperk hardloop.
Waar moet honde slaap? Buitekant natuurlik, want hoe anders gaan die hond jou beskerm teen gevare van die nag? Winnie het vir presies vir ‘n week in ‘n skattige houthuisie gewoon, maar saans was sy so allenig daar buitekant, dat ek besef het ‘n hond se plek is binne-in die huis, want vandag se inbrekers klim sommer dwarsdeur jou diefwering, en wie is dan daar om jou binne in die huis teen die gevare van die nag te beskerm?
Winnie het haar eie bedjie reg langs die dubbelbed gekry. As ek party aande teruggekom het by die huis, het Winnie kamstig in haar bedjie lê en slaap maar ek het tog gewonder waarom daar dan ‘n klein duikie op die dubbelbed se duvet was en hoekom dit nog steeds so effens warm voel? Haar bedjie was nie vir baie lank haar lêplek nie en soos almal weet – ‘n hond se slaapplek is eintlik bo-op jou bed. En saans as ons so saam-saam slaap, was ek altyd bewus van Winnie wat haar lyfie so warm teen myne aandruk.
Destyds kon sy sommer woerts op die bed beland, maar wat het dan gebeur? ‘n Paar jaar gelede merk ek hoe sy sukkel-sukkel om op die bed te kom, dus het ek maar die dubbelbed se pote afgeskroef en was die bed baie nader aan die vloer. Toe vind sy dit makliker, maar ‘n jaar of wat daarna was dit skielik my beurt om haar op te tel om bo-op die bed te kom.
Maar – voor daardie dae, was daar die wonderlike dae van Walkies. En sy het my behoorlik bult-af gesleep as ek haar aan die leiriem het, en wildvreemdes het skielik met my op straat begin gesels. Sou mens minus ‘n hond met ‘n vreemdeling gesels, word jy straks van seksuele teistering aangekla, maar met Winnie aan die leiriem was alles skielik anders.
Met die loop van jare het haar lyfie minder swart geword met wit haartjies om die snoet en soms was ek bewus van ‘n melkerigheid in haar oë.
Elke keer as daar ‘n polisiemotor met loeiende sirene verbyjaag, het Winnie soos haar Wolwe-voorsate met kop omhoog gehuil totdat die sirene in die verte verdwyn, maar later het motors met hulle sirenes verbygejaag en Winnie het maar net daar op die dubbelbed bly lê met haar grys snoet warm onder haar rooi kombersie ingevou en nou was dit nog net skielike harde klapgeluide wat haar kon laat skrik.
Winnie was altyd ‘n party-girl. As ek eenkeer ‘n jaar partytjie hou, het Winnie soos ‘n mal ding voordeur toe gejaag elke keer as die voordeurklokkie lui, want sy het geweet dit beteken elkeen van die wonderlike besoekers gaan haar allerhande soetigheidjies voer. Wat maak dit dan saak as sy die volgende paar dae gaan olik voel, want koekies is mos altyd maar lekker.
Maar – op ‘n dag kon die voordeurklokkie maar lui, want dié kon sy glad nie meer hoor nie en toe was selfs soetigheidjies nie meer so lekker nie en het sy soms maar net na haar kos gesit en staar en dan later na haar rooi kombersie toe teruggesukkel. Toe was daar skielik ‘n groeisel aan haar nek wat by die maand al groter geword het. En ek besef: een van die dae sal ek moet besluit wat die regte ding is om te doen.
‘n Paar weke voor haar verjaarsdag word sy in die middel van die nag wakker, en in plaas van deur haar eie hondedeurtjie na die tuin toe te gaan, begin sy rondtol. Die huis en die tuin het skielik ‘n vreemde plek geword, waar sy saans en selfs in die middel van die dag teen meubels en plante in die tuin begin vasloop.
Op die Woensdag het die veearts gesê hy sal Maandag na ons huis toe kom. En ek besef toe vir haar is daar nog net vyf dae oor. Vyf dae, word vier, vier word drie, en later was daar net ‘n paar uur oor. In daardie laaste vyf dae het ek haar elke dag na die groen gras op Groenpunt-meent geneem en hier kon sy op haar manier nog tussen die graspolle rondsnuffel, en daardie laaste dae was dae van biefstuk en biltong en lekker koekies.
Vir ‘n hele halfuur voor die koms van die veearts, het ek ek langs haar daar op die vloermatjie gelê met my arms om haar warm lyfie. Om eenuur het die voordeurklokkie gelui en om twee-uur het ek en my vriend Peter, haar graffie in die tuin langs die visdammetjie gegrawe en haar later in haar rooi kombersie toegevou.
Nou lê sy daar met twee meerminne van Nieu-Bethesda se Uilhuis wat oor haar waghou. En die solar-lampie langs haar graffie, brand tot laataand nog – en dan onthou ek dat Winnie vir 15 wonderlike jare deel was van my lewe.

|
|