Philip de Vos
Friday, November 12th, 2010
Ek sorteer alwéér koerantuitknipsels uit.
Wat is dit omtrent papier dat ek dit so opgaar? Ek kan dit ongelukkig nie oor my hart kry om velletjies papier weg te gooi nie, maar ai, die dinge wat ek soms ontdek …
Ja, dis die probleem met weggooi. Daar is kartondose vol in die spens: Bokse vol uitknipsels en foto’s en boeke wat nooit gelees is nie en wat ek dreig om vir die Heilsleër (Salvation Army lê darem vir my veel lekkerder op die tong) te skenk.
Die Salvation Army is ’n heerlike asblik en ek het al dikwels daarvan gebruik gemaak. Ja, die Salvation Army vat sommer énige iets. Ek weet, want ek het dit alte dikwels gedoen. Ek sit met honderde grammofoonplate en Video-kassette ( wie besit nog ’n grammofoon of Videomasjien?) En wat daarmee gemaak?
Die Salvation Army het al vir jare ’n baie ’n sagte plekke in my hart en ek weet hoekom.
Toe ek nog in Bloemfontein gewoon het, was ek dol oor Hollywood Musicals (wie praat ooit van Hollywood Blyspele? Seker net Woordeboekmense.) Ewenwel, daar was elke dan en wan vir drie dae lank ’n musical in een van Bloemfontein se bioskope. En ek was altyd daar in die middelste ry met my popcorn en ’n sigaret in die hand.
En dit laat my skielik dink wat een aand in die Plaza bioskoop gebeur het:
Destyds het ek my doodgegril vir films soos The House of Wax wat in 3D geskiet is en ek vasgenael gesit het met my groen en rooi brilletjie en sommer daar in my sitplek moes koes dat my popcorn so spat wanneer iemand van die doek se kant af ’n spies na my toe gooi of dalkies sommer vir die lekkerte in my rigting spoeg!
En nog ’n terloops – ek lees die ander dag dat die pa van 3D films net een oog gehad het met die gevolg dat hy nooit enige van sy films in die derde dimensie kon sien nie.

Ja, allerhande vreemde dinge het in die Plaza bioskoop gebeur. Een ding wat ek goed onthou, was die vrou met die yslike beehive haardos. Die hare was so hoog en was so stewig gehaarsprei dat die persoon wat agter haar gesit het omtrent niks van die skerm kon sien nie. Ewenwel- dit was gedurende ’n vertoning van Psycho toe die arme Janet Leigh teen die einde se kant in die stort doodgesteek word. Die outjie wat agter die beehive tannie gesit het, het; naar geword en so groot geskrik met die gevolg dat sy hele oggendontbyt van Cornflakes en gebakte eiers in dié tannie se yslike haardos beland het.

Vir presies drie dae is die musical Guys and Dolls in die Plaza vertoon. En hierdie film gee ‘n baie simpatieke beeld van die Salvation Army. En toe ek sien hoe mooi Jean Simmons en Marlon Brando lyk, het ek my ewige trou aan hierdie organisasie gesweer.

Maar dis nie oor die Salvation Army wat ek wou praat nie. En nou het ek natuurlik al vergeet wat ek eintlik elf paragrawe gelede wóú sê.
Dit was eintlik oor die stukkies papier wat ek in bokse ontdek. Partykeer kom ek op ’n versie af en wonder of dit ek was wat dit geskryf het, of dalk iemand anders. Die goed klink partykeer so half en half bekend, want destyds het ek altyd met ’n notaboekie of ’n stukkie papier in my sak rondgeloop net ingeval die Muse vir ’n oomblik op my skouer kom sit en iets in my oor kom fluister. En destyds het dit dikwels gebeur veral as ek met my bromponie op pad na die Nico Malan Operahuis gery het waar ek as operasanger gewerk het. En dan moes ek sommer daar en dan stilhou en die woorde neerkrap voor ek dit drie minute later weer vergeet het.
Daar was ook die versies wat ek dikwels by Sandy Bay uitgedink het. Dan was daar ongelukkig g’n sak om ’n notaboekie in te bêre nie en moes ek maar wag tot ek weer in Kaapstad terug is en hopelik onthou wat ek daar in die son in my kaligheid uitgedink het.

Hier is enetjie wat ek gister ontdek het. Dit is geskryf en vinnig weer vergeet.
Ek vang vir my ’n voëltjie
Ek hou hom in ’n kou.
Nou het sy wysies opgedroog
en kyk hoe lyk hy nou.
En terwyl ek so in die bokse krap, loer ek somtyds vinnig tussen-in na my e-pos en kry ek die ander dag ‘n boodskap van my oudste pêl Deon Knobel en hy sê dat hy ook in sy broer Wilhelm se koffers rondkrap en iets ontdek het.

GESIG DEUR WYN
Wie is jy
wat tot my kom
wasige
deur muur
van wyn en glas?
… ’n lied
eergister nog gesing
’n sug
wat nog die na-oor kwel.
Nee
Laat sak die glas
en weet –
Dié is die oomblik,
Jý is die nou.
En onderaan staan daar: 5.5.63 en P de Vos
En onmiddellik was daar met hierdie woorde die Desembervakansie van 1962 weer terug. En onthou ek skielik dat ek destyds een of twee persoonlike dingetjies neergekrap het.
Ek het vir Wilhelm in 1963 ontmoet en het dikwels hom besoek in die woonstel wat oor die Katolieke Kerk uitgekyk het. Ek was nog nooit intellektueel van aard nie, en in Wilhelm se geselskap het ek baie min gesê. Destyds het Lina Spies nog by haar ouers in Bloemfontein gewoon en sy en Wilhelm het gereeld bymekaar gekom om poësie te bespreek. Om een of ander rede het Wilhelm my een of twee keer genooi om saam met hom te gaan en ek het self een of twee gediggies geskryf.
Ek het al jare gelede opgehou om persoonlike versies te skryf, want lawwe versies gee seker ’n beter idee van hoe ek gebek is. Tog het ek in my kartonbokse een enkele vers ontdek:
TWEE NAGTE EN ’N OGGEND
Ons was één dié nag.
Holte van arm
het ek eers ontdek
en toe vir jóu
St. Christopher.
’n Tweede nag
het jý -
klein stukkie goud
ons
op ons reis gelei,
maar waar was jy
skynheilige
toe
met die oggend
ek en hy
weer
by die kruispad staan?
Ek sê altyd vir mense dat ek nog nooit enige persoonlike versies geskryf het nie, behalwe ’n enkele een wat later gepubliseer is.
Op die duineveld
van Bloubergstrand
sal ek vir jou onthou.
Jy het my
’n ster gewys -
’n ster verskiet
te gou.
Duinedou
verdwyn te gou -
Rots en klip
is ál
wat hou.
Sonder om dit te veel laat klink na Jakkals prys sy eie Stert. Daar is onlangs drie insetsels oor my op You Tube geplaas. In die een sing ek Albie Louw se pragtige toonsetting van hierdie versie. Dan is daar ook ’n kort onderhoud oor my werk:
http://www.youtube.com/watch?v=tM0z_OXwHqg
http://www.youtube.com/watch?v=zJ6XbDMQqVA
http://www.youtube.com/watch?v=O1M0hCdDMx0
Saturday, November 6th, 2010
Die ding met inskrywings vir ‘n gereelde blog is dat jy later glad nie meer weet waaroor presies jy behoort te skryf en hoe gereeld jy dit moet doen nie. Skryf jy een elke dag of drie is daar die moontlikheid dat die juweeltjies waaraan jy vir ure gesit en worstel het die kuberruim in verdwyn sonder dat ‘n enkele woord ooit deur iemand gelees is. Lees ander mense jou gevleuelde woorde of is dit op die ou end net ‘n egoïstiese monoloog?
Maar, nou ja …
Ek het eintlik ‘n baie oppervlakkige kennis en dit het glad niks met beskeidenheid te doen nie. Dit het miskien meer te doen met ADD; Engels vir Attention Deficit Disorder of in hoghe Afrikaans: Aandagsgebreksindroom. Ek het nooit eens geweet dat ek dit het nie tot die ander dag terwyl ek klere gestryk het en terselfdertyd na Cape Talk geluister het. Iemand bel toe in en sê dat een van die simptome (en die woord simptome klink ‘n bietjie te veel na iets waaraan jy dalk kan doodgaan), is dat jy gedurig aan die uitstel is.
En kan ek uitstel? Ja, beslis.
Jare gelede toe ek nog in Bloemfontein was, het ek vir Nico Smit ontmoet. Ons was albei nog op skool en dit was in een van die skoolgange van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein dat ek met hom begin praat het. Dit was in 1953 en hierdie vriendskap het gebly tot hy vroeër vanjaar op ouderdom 71 oorlede is.
Toe Nico sy B.A.-graad behaal by die destydse UOVS het, hy vir my as vriend gevra om ‘n paar foto’s van hom te neem. Die foto’s is toe wel in Bloemfontein geneem en ek het vir Nico later self afdrukke van hierdie foto’s in my tuisgemaakte donkerkamer gemaak. Die enigste probleem was dat dit in my donkerkamer in Kaapstad was en die ander een was dat dit ongeveer 25 jaar later was. En het Nico dit waardeer? Ja, verskriklik! Het ek vir hom die foto’s die volgende dag laat kry, was dit glad nie so besonders nie, maar ‘n kwarteeu later het hierdie foto’s ekstra, ekstra spesiaal gemaak.
En van Nico gepraat. Nico was seker die eerste persoon wat geweet het toe ek en my vriend Peter vegetaries geword het. En hierdie vegetaries-wordery van my was omdat ek in ‘n Ster Kinekor-teater gesit het en die rolprent Babe oor die pratende varkie gesien het. En toe daardie varkie sy mond oopmaak en vir sy ma vra of varke se enigste rede vir bestaan was om geëet te word, het ek daarna my mond nooit weer aan vleis gesit het nie, en dit is die reine waarheid.
Een aand, so 17 jaar gelede kry ek ‘n skielike oproep van Nico. “Wil nie vanaand by ons kom eet nie? Johannes het nou net ‘n heerlke beessert-sop gemaak.” En my woorde aan Nico was min of meer die volgende: “Nico, ek en Peter is nou vegetaries.” En ek hoor toe hoe Nico na die kombuis toe skree: “Johannes, hulle is nou vegetaries!” En ek hoor baie, baie duidelik hoe Johannes terugskree: “Wel, wat se kak is dit nou met hulle?”
Tog moet ek byvoeg dat Johannes in die jare daarna tog die heerlikste vegetariese disse vir ons voorberei het en sy Lebanese komkommersop van destyds is seker die lekkerste sop wat ek nog ooit geeet het.
Dis die lekkerte van ADD, jy spring sommer binne twee sekondes van die een onderwerp na die ander. Nooit óóit raak jy verveeld nie. Die enigste nadeel is dat dit party mense vreeslik vervies as ek sommer tussen-in oor ‘n hele ander onderwerp begin praat. Maar nou ja, dit is hulle probleem en nie myne nie.
Een ding omtrent ADD is dat jy nooit ‘n hele boek kan deurlees nie. Op bladsy drie reeds raak ek verveeld, en dan blaai ek na die eerste bladsy van ‘n volgende een. Dit is seker daarom dat ek soveel titels en skrywers se name ken, maar glad g’n idee het wat eintlik in die boek se binneste gebeur nie. Deon Meyer en Karen Brynard moet maar vergeet dat ek ooit een van hulle boeke gaan lees, want die goed is glad te dik om van Karel Schoeman nie eens te praat nie. En my boodskap aan Karin Brynard: Jou titel Plaasmoord maak my glad te bang ek sal seker nie eens so ver as bladsy drie kan kom nie. Ek lees veel liewer tot bladsy drie van Ena Murray se Die Oujongnooi van Polkadraai.
Ja, dit is die lekkerte van ADD. Jy hoef jou nie te lank by een onderwerp te bepaal nie.
Die volgende:
Ek ontmoet tog so met my omwandelinge ander mense, al is dit somtyds net vir ‘n minuut of tien.
Dinsdagoggend het ek foto’s van Zandra Bezuidenhout geneem. En die GPS in my Uno het my al die pad tot reg by haar voordeur geneem met ’n vrouestem wat sê: Destination on the left!

Daarna was dit Winand Grundling die hoogs begaafde jong orrelis met wie ek saam middagete in Stellenbosch se straatkafees gehad het. En om die waarheid te sê ek ken ook nie juis die orrel as instrument nie. Dit laat my te veel dink aan die ure wat ek as kind in die kerk gesit het en die dominee gepraat en gepraat en gepraat het en die orrel gespeel en gespeel en gespeel het. En vir iemand met ADD voel ‘n uur in die kerk soos ‘n honderd jaar. Die ander dag vra ‘n vriend egter: “Maar hoe kry jy dan reg om vir drie uur lank na Avatar te sit en kyk?”
En tot my skaamte moet ek erken, toe Winand dié middag my novelle Tot siens, Tommasino uithaal om geteken te word en ek voorin ietsie moois vir hom skryf, kon ek vir ‘n oomblik glad nie sy naam onthou nie. My gedagtes was seker al klaar by die volgende onderwerp: oor wat ek presies vir die volgende paar uur sou doen

O ja, ek het netnou vergeet om te sê ek lees darem so nou en dan ‘n boek deur. ‘n Paar dae gelede was dit die laaste bladsy van Damon Galgut se In a Strange Room. Die lekkerte van dié boek is dat die boek se reëls in dubbelspasie gedruk is en dat Galgut se sinne kort is. En vir my met my ADD was dit een van die roerendste en allenigste boeke wat ek al ooit gelees het. Eenvoud en diepte in kort gelaaide sinne. Intellektueel was ek nog nooit nie en ek wil dit ook nooit voorgee nie en wil daarom ook nooit gedigte of boeke probeer ontleed nie, want ontleding vat te lank en die volgende boek se eerste drie bladsye wag. Maar - vir dié wat slimmer as ek is (en ook die ander) – lees asseblief dié boek.

Dinsdagmiddag in Stellenbosch, het ek toe van 13:00 tot 17:00 tyd gehad om te wag om weer vir Piet Grobler te sien. Hy was vir ‘n baie vlugtige besoekie aan die land vir die bekendstelling van Marita van der Vyver se Die Mooiste Sprokies van Grimm saam met met Piet se soos gewoonlik, wonderlike illustrasies. En toe ek vir Piet, wat nou in Engeland woon, vra hoe dit voel om terug in die land te wees, sê hy. “Dis vreemd. Ek voel ek behoort nie daar ander kant nie, en ek behoort ook nie meer nie hier nie” En toe vertel hy my hoe hy verby sy ou huis in Paradyskloof gery het. En die wonderlike hoë heining wat die huis met die groen dak half en half weggesteek het, is nou kort gesnoei. Ja, ‘n jaar is verby en dinge het verander.
En in die wagtyd tussen 13:00 en 17:00 het ek in Protea Boekwinkel in ‘n leunstoel gesit en boeke van bladsy 1 tot 3 begin lees. Veral die fotoboeke met foto’s soos dié van David Goldblatt. Maar toe maak ek ‘n ontdekking: tussen al die boeke ingedruk is Jurie Els se Ver van Vrede. En ongelukkig moet ek nou bieg, ek is ook maar nes baie ander Suid-Afrikaners. Ek hou van skinder en is geseën met ‘n tikkie Schadenfreude en ja, ek lees ook maar Die Huisgenoot wat my buurvrou-viendin Vicky Taljaardt vir my aandra en wat ek so gewillig lees.
Ja, van Jurie Els gepraat. Nog voor al die Klay-stories begin het, was ek bewus van die man wie se gesig so gereeld op Huisgenoot se voorblaaie verskyn het. En ek kon nog nooit vat kry aan iemand wat die heeltyd glimlag nie, want ‘n smaail irriteer my verskriklik, om die waarheid te sê, vir party mense s’n, gril ek my half dood.

En daar sien ek toe Ver van Vrede op die rak, en ek wil nie hê Louis Esterhuizen moet weet wat ek so skelm-skelm in die Protea-boekwinkel sit en lees nie. Toe haal ek maar ‘n dik fotoboek van die rak af met Jurie Els se Ver van Vrede onder dié groot boek versteek. En elke keer as Louis verbystap, sug ek diep. Hy dink toe dis oor Paul Alberts se roerende foto’s wat ek sug, maar min het hy geweet dit was eintlike oor Jurie Els se manewales.
Later dié middag het ek ‘n uur of wat by Louis en Marlise aan’t huis deurgebring. Ons het buite in die tuin gesit en wag op die voëltjie wat so gereeld kom kuier het. Ons het sit en wyn drink. Daar was klaviermusiek met die wondelike andante-gedeelte van Shostakovich se tweede klavierkonsert uit die sitkamer agter ons. En die voëltjie het laatmiddag steeds nie opgedaag nie.
Toe het dit skemer begin word en moes ek met my heerlike nuwe GPS-speelding in my Uno na Oude Libertas toe ry vir Piet se boekbekendstelling.
En daar het ek met Wilma Janse van Vuuren en Hilton Paul begin gesels. En Hilton het vir my gesê ons moet eendag by Giovanni’s in Groenpunt gaan koffie drink. Ek was nog nooit daar nie, net omdat ek seker ‘n bietjie te skaam is om alleen daar in te stap. En ja, dit is tog lekker om nuwe mense te ontmoet
Vir iemand met ADD is die lewe nooit werklik vervelig nie.
Later dié naweek gaan praat ek dalk weer met my nuwe vriend Rob Kirsner oor ou MGM Musicals …
Die ander dag juis sê een van my oudste pêlle: Ja jy dink net die hele tyd aan jouself! En dit herinner my skielik aan ‘n miss Piggy cartoon.
Dit was min of meer die volgende: “I have talked much too much about myself already. Let us rather talk about you. Tell me, what do you think of me …
Amen

Tuesday, October 26th, 2010

Asof die skryf van ’n blog nie alreeds genoeg dinkwerk verg nie.
Twee dae gelede kom ek vir Danie Botha by ’n herdenking van Wilhelm Knobel se 75ste by sy broer Deon se huis teë en tussen die tafel met die yslike versuikerde aarbeie en die sjokolade-tert sê hy ewe beskuldigend:
Ek het nou net jou blog-inskrywing My Hond (deel een) gelees en merk dat al die hondeversies in Engels is. Ek neem aan deel twee gaan dié in Afrikaans hê, want daar is natuurlik hope, beginnende sommer by C.J. Langenhoven. Om darem nie te dom te klink nie, skud ek my kop op so ’n manier dat dit òf ja òf nee kon beteken, want met ’n mond vol melktert is daar nie veel kans om iets tussen die gemompel uit te maak nie.
En van gemompel gepraat, by die Wilhelm Knobel-funksie, het Deon van Wilhelm se verse voorgedra en Jeanne Goosen het ’n storie voorgelees oor een van haar nagwandelinge saam met Wilhelm destyds in Pretoria. Maar dié kon sy eers lees nadat sy aangekondig het dat sy haar bril by die huis vergeet het, en kon iemand miskien ’n keffie-bril vir haar leen?
Toe was dit later Phil du Plessis se beurt om ’n gedig voor te lees, maar hierdie keer was dit erger, want hy het sy tande by die huis vergeet, en hy het al mompelend verduidelik dat hy dit die vorige aand uitgehoes het. Toe vertel hy ook sommer hoe dat Uys Krige elke dag by Onrus gaan swem het, en met al die geswemmery het sy valstande glo die branders in verdwyn en toe het hy sommer maar by die naaste lykshuis in Hermanus vir hom ’n ekstra paar gaan uitsoek.
Ewenwel, wat ek eintlik wou sê, is dat ek vir Danie Botha eintlik moes gesê het dat die enigste Afrikaanse hondevers waarvan ek bewus was dié een van Jan F.E. Celliers is:
Ek is hier en Ma is hier
Ons twee lê op pa se baadjie.
Wie is jy? Kom loop verby
Anders word ons knor ’n daadjie.
Terloops daardie daadjie klink my so ’n bietjie na dwangrym, maar nou ja, in die dae toe Celliers dié versie geskryf het, was daar seker minder Afrikaans rymwoorde as deesdae.

Ek is toe terug huis toe en Sondagaand het ek met die yslike Groot Verseboek 2000 wat seker ’n Statebybel se grootte ewenaar voor my by die tafel gesit, want wie op aarde kan so ’n yslike gedoente in die bed regophou? Gee my veel liewers Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte want dié is darem nog hanteerbaar en is dit veel makliker om so ’n juweeltjie soos Die Durbanse poepwedstryd wat wegkruip tussen G.A. Watermeyer en Flooi du Plessis, op te spoor, al het dit niks met honde uit te waai nie.
Ewenwel, daar blaai ek toe deur Groot Verseboek en waar is die hondeverse? Daar is wel verse vir sekretarisvoëls en ietermagôs en perde en vlermuise en torras van torrevedras, maar vir die arme hond kon ek met yslike deurlees van bladsy 1 tot bladsy 942, alleen dié enkele vers van Hewitt Visser uiteindelik op bladsy 716 opspoor:
HOND VAN GOD
geen jaghond nie
net ’n troeteldier
wat heeldag op die aarde
om sy voete speel
met tussenin spronge
en albei voorpote op sy skoot
om die kalm hand op die hoof te voel
saans uitgeput die rus
op ’n bidmatjie voor die stoel.
Ek kon dus seker maar vir Danie Botha gesê het dit is veel makliker om slim te klink en Engelse hondegedigte aan te haal, want ál wat jy moet doen is om die woorde dog poems te Google en daar klink jy sommer allergeleerd en is dit dus net ’n kwessie van cut en paste en hoef jy nie dwarsdeur onse eie Afrikaanse Statebybel te lees om daardie enkele hondeversie op te spoor nie.
Honde (en katte ook , moet ek so half onwillig toegee) is ongelukkig nie vir altyd nie, en op een of ander tyd besef jy die einde is aan die kom.
So gebeur dit ongeveer drie jaar gelede dat ek en Piet Grobler en Niki Daly by ’n Insig-boeke geleentheid was, waar ons oor ons werk moes praat en ek van my versies moes voorlees.
By my aan tafel was ’n dame wat ek nog nooit voorheen ontmoet het nie, en sy vra my hoe dit met my Staffie Winnie gaan. En toe sy ’n uitknipsel van my artikel Winnie uithaal wat in 1995 in Rapport gepubliseer is (sien my vorige bloginskrywing) bars ek in trane voor daardie wildvreemde vrou uit, want toe al het ek besef, dat ek sou moes besluit wanneer dit Winnie se tyd was om te gaan, want toe alreeds het haar pootjies wankelrig begin word; sy kon my nie meer hoor nie en die groeisel aan haar nek het al hoe groter begin word.

Maar dit kon ek glad nie vir die vreemdeling vertel nie. Dit was net daardie stukkie papier wat my skielik laat huil het en die arme vrou verwar het.
Maar ek is sekerlik nie die enigste persoon wat deur ’n hond se oudword en naderende dood geraak is nie.
EPITATH FOR A DOG
Near this spot
Are deposited the Remains of one
Who possessed Beauty
Without Vanity,
Strength without Insolence,
Courage without Ferocity,
And all the Virtues of Man
Without his Vices.
This Praise, which would be unmeaning flattery
If inscribed over Human Ashes,
Is but a just tribute to the Memory of
“Boatswain,” a Dog
Who was born at Newfoundland, May, 1803,
And died at Newstead Abbey Nov. 18, 1808.
Lord Byron
Hier is nog ’n gedig wat ek deur Google ontdek het:
YOUR DOG DIES
it gets run over by a van.
you find it at the side of the road
and bury it.
you feel bad about it.
you feel bad personally,
but you feel bad for your daughter
because it was her pet,
and she loved it so.
she used to croon to it
and let it sleep in her bed.
you write a poem about it.
you call it a poem for your daughter,
about the dog getting run over by a van
and how you looked after it,
took it out into the woods
and buried it deep, deep,
and that poem turns out so good
you’re almost glad the little dog
was run over, or else you’d never
have written that good poem.
then you sit down to write
a poem about writing a poem
about the death of that dog,
but while you’re writing you
hear a woman scream
your name, your first name,
both syllables,
and your heart stops.
after a minute, you continue writing.
she screams again.
you wonder how long this can go on.
Raymond Carver
En dan, nog ’n versie, maar hierdie keer op ’n ligter trant:
THE LITTLE DOG’S DAY
All in the town were still asleep,
When the sun came up with a shout and a leap.
In the lonely streets unseen by man,
A little dog danced. And the day began.
All his life he’d been good, as far as he could,
And the poor little beast had done all that he should.
But this morning he swore, by Odin and Thor
And the Canine Valhalla—he’d stand it no more!
So his prayer he got granted—to do just what he wanted,
Prevented by none, for the space of one day.
“Jam incipiebo, sedere facebo,”
In dog-Latin he quoth, “Euge! sophos! hurray!”
He fought with the he-dogs, and winked at the she-dogs,
A thing that had never been heard of before.
“For the stigma of gluttony, I care not a button!” he
Cried, and ate all he could swallow—and more.
He took sinewy lumps from the shins of old frumps,
And mangled the errand-boys—when he could get ‘em.
He shammed furious rabies, and bit all the babies,
And followed the cats up the trees, and then ate ‘em!”
They thought ’twas the devil was holding a revel,
And sent for the parson to drive him away;
For the town never knew such a hullabaloo
As that little dog raised—till the end of that day.
When the blood-red sun had gone burning down,
And the lights were lit in the little town,
Outside, in the gloom of the twilight grey,
The little dog died when he’d had his day.
Rupert Brooke
’n Jaar na Winnie se dood, het ek weer ’n artikel oor haar geskrywe. Maar hierdie keer was dit 15 jaar na die eerste een, en wys iemand dalk hierdie knipsel oor ’n paar jaar vir my sal my reaksie dalk dieselfde wees as toe die wildvreemde vrou die vergeelde artikel by die Boeke-Insig byeenkoms voor my neergeplak het;
WINNIE (Rapport 17 Mei 2009)

Winnie het in my lewe gekom op ‘n warm Desemberdag in 1993 - ‘n klein pikswart Staffie wat bo-oor al haar broers en susters geklim het toe ek by die hondeteler ‘n hondjie gaan soek het, en sy so te sê aangekondig het: “Wel, hier is ek en van nou af gaan ek deel van jou lewe wees”.
En toe 15 jaar later, op ‘n Novemberdag het ons tot siens gesê. Ek was langs Winnie waar sy op die vloer lê en slaap het. En vir oulaas, vir ‘n hele halfuur lank, het ek my arms om haar warm lyfie gevou, want ek het geweet die veearts sou nou enige tyd die deurklokkie lui met ‘n inspuitnaald in sy sak.
Toe ek haar gekry het, was sy so klein dat ek haar in my rugsak kon dra. Maar twee jaar later toe ek een middag met haar gaan stap het, het ‘n glasstuk haar pootjie gesny en het ek agtergekom hoe swaar dit is om 20kg huis toe te dra.
In haar jongmeisie dae het sy gedoen wat alle hondekinders doen. As jou tandvleise jeuk, dan móét jy kou en ek het agterkom dat honde ook maar hulle eie smaak het. Vir Karel Schoeman-boeke het sy egter g’n smaak gehad nie, want Na die Geliefde Land het sy net so effens om die randjies gekou.
En een aand moes ‘n kuiergas hinkepink terug na sy motor toe stap minus een van sy duur Italiaanse skoene terwyl Winnie ewe vroom onder die eetkamertafel gelê en nog steeds aan ‘n stukkie Italiaanse leer geknabbel het. Maar hoe kon ‘n grênd gas so kommin wees om sy duur skoene uit te skop terwyl hy by jou kuier?
Daarna was dit die potty-training-dae. Een oggend toe ek besef sy is besig om haar druk te druk, moes ek daardie swart lyfie gryp maar dit was reeds te laat en het haar hondedrolletjies een een met ‘n streep vloer toe geval het terwyl ek met haar tot by die grasperk hardloop.
Waar moet honde slaap? Buitekant natuurlik, want hoe anders gaan die hond jou beskerm teen gevare van die nag? Winnie het vir presies vir ‘n week in ‘n skattige houthuisie gewoon, maar saans was sy so allenig daar buitekant, dat ek besef het ‘n hond se plek is binne-in die huis, want vandag se inbrekers klim sommer dwarsdeur jou diefwering, en wie is dan daar om jou binne in die huis teen die gevare van die nag te beskerm?
Winnie het haar eie bedjie reg langs die dubbelbed gekry. As ek party aande teruggekom het by die huis, het Winnie kamstig in haar bedjie lê en slaap maar ek het tog gewonder waarom daar dan ‘n klein duikie op die dubbelbed se duvet was en hoekom dit nog steeds so effens warm voel? Haar bedjie was nie vir baie lank haar lêplek nie en soos almal weet – ‘n hond se slaapplek is eintlik bo-op jou bed. En saans as ons so saam-saam slaap, was ek altyd bewus van Winnie wat haar lyfie so warm teen myne aandruk.
Destyds kon sy sommer woerts op die bed beland, maar wat het dan gebeur? ‘n Paar jaar gelede merk ek hoe sy sukkel-sukkel om op die bed te kom, dus het ek maar die dubbelbed se pote afgeskroef en was die bed baie nader aan die vloer. Toe vind sy dit makliker, maar ‘n jaar of wat daarna was dit skielik my beurt om haar op te tel om bo-op die bed te kom.
Maar – voor daardie dae, was daar die wonderlike dae van Walkies. En sy het my behoorlik bult-af gesleep as ek haar aan die leiriem het, en wildvreemdes het skielik met my op straat begin gesels. Sou mens minus ‘n hond met ‘n vreemdeling gesels, word jy straks van seksuele teistering aangekla, maar met Winnie aan die leiriem was alles skielik anders.
Met die loop van jare het haar lyfie minder swart geword met wit haartjies om die snoet en soms was ek bewus van ‘n melkerigheid in haar oë.
Elke keer as daar ‘n polisiemotor met loeiende sirene verbyjaag, het Winnie soos haar Wolwe-voorsate met kop omhoog gehuil totdat die sirene in die verte verdwyn, maar later het motors met hulle sirenes verbygejaag en Winnie het maar net daar op die dubbelbed bly lê met haar grys snoet warm onder haar rooi kombersie ingevou en nou was dit nog net skielike harde klapgeluide wat haar kon laat skrik.
Winnie was altyd ‘n party-girl. As ek eenkeer ‘n jaar partytjie hou, het Winnie soos ‘n mal ding voordeur toe gejaag elke keer as die voordeurklokkie lui, want sy het geweet dit beteken elkeen van die wonderlike besoekers gaan haar allerhande soetigheidjies voer. Wat maak dit dan saak as sy die volgende paar dae gaan olik voel, want koekies is mos altyd maar lekker.
Maar – op ‘n dag kon die voordeurklokkie maar lui, want dié kon sy glad nie meer hoor nie en toe was selfs soetigheidjies nie meer so lekker nie en het sy soms maar net na haar kos gesit en staar en dan later na haar rooi kombersie toe teruggesukkel. Toe was daar skielik ‘n groeisel aan haar nek wat by die maand al groter geword het. En ek besef: een van die dae sal ek moet besluit wat die regte ding is om te doen.
‘n Paar weke voor haar verjaarsdag word sy in die middel van die nag wakker, en in plaas van deur haar eie hondedeurtjie na die tuin toe te gaan, begin sy rondtol. Die huis en die tuin het skielik ‘n vreemde plek geword, waar sy saans en selfs in die middel van die dag teen meubels en plante in die tuin begin vasloop.
Op die Woensdag het die veearts gesê hy sal Maandag na ons huis toe kom. En ek besef toe vir haar is daar nog net vyf dae oor. Vyf dae, word vier, vier word drie, en later was daar net ‘n paar uur oor. In daardie laaste vyf dae het ek haar elke dag na die groen gras op Groenpunt-meent geneem en hier kon sy op haar manier nog tussen die graspolle rondsnuffel, en daardie laaste dae was dae van biefstuk en biltong en lekker koekies.
Vir ‘n hele halfuur voor die koms van die veearts, het ek ek langs haar daar op die vloermatjie gelê met my arms om haar warm lyfie. Om eenuur het die voordeurklokkie gelui en om twee-uur het ek en my vriend Peter, haar graffie in die tuin langs die visdammetjie gegrawe en haar later in haar rooi kombersie toegevou.
Nou lê sy daar met twee meerminne van Nieu-Bethesda se Uilhuis wat oor haar waghou. En die solar-lampie langs haar graffie, brand tot laataand nog – en dan onthou ek dat Winnie vir 15 wonderlike jare deel was van my lewe.

Friday, October 15th, 2010
Die ander dag haal ek Lina Spies se versameling verhale en gedigte oor katte uit my boekrak.
Die titel sê alreeds alles: MAJESTEIT, die kat. En dit is sowaar so ’n deftige publikasie: koffietafel-grootte, diep karmosyn omslag en die letters in goud gedruk. En toe ek binne begin blaai en gedigte sien van ons grotes: Sheila Cussons en Johann de Lange en Antjie Krog en Elizabeth Eybers en natuurlik Lina Spies, toe voel ek ’n bietjie minderwaardig, want sou ek dalk ’n boek oor honde moet versamel, sou dit seker ’n bietjie anders daar uitsien: ’n Slapband met vergeelde papier met die minder imponerende titel: MY HOND.
Maar nou ja, dit sal maar seker altyd so wees. Die kat sit op sy troon, en die hond lê en snork saam met jou onder die komberse.
Maar daar is seker geen rede om minderwaardig oor my hondeliefde te voel nie, want na baie deeglike deurlees van my Bybel het ek met rooi pen gemerk dat honde 44 keer in die Bybel genoem word: 35 keer in die Ou Testament en 9 keer in die Nuwe Testament en Lina Spies se katte nie ’n enkele keer nie! Nou voel ek nie meer so sleg nie. die enigste probleem is dat honde alleen genoem word as hulle nare vrouens soos Isebel opvreet, maar dit daar gelaat.

En as mens eers in die wêreldletterkunde begin rondkrap, vind jy gedigte oor katte deur al die groot poëte, maar die arme honde moet maar tevrede wees met versies wat rym, maar ai tog, hoe lekker laat dit my tog nie voel nie, want groot woorde het ek nog nooit verstaan nie, en wat’s verkeerd met rym?
Selfs daardie rympies van jou kinderdae sal vir altyd by jou bly. Van Old Mother Hubbard wat na haar cupboard toe gegaan het en tevergeefs vir ’n beentjie vir haar arme hondjie gaan soek het teenoor daardie bedorwe kat van:
Hey diddle, diddle
the cat and the fiddle.
The cow jumped over the moon.
Ja, weereens trek honde aan die slegste end: Die kat speel viool terwyl die arme hondjie na ’n beentjie smag.
Maar daardie eenvoudige versies het my geliefde honde net dieper in my hart laat kruip. En kyk maar self wat gebeur as jy die Engelse woord Dog agterstevoor skryf. Ja, dit laat mens nogal dink …
In die wêreld van Hollywood was Walt Disney ’n ware hondeliefhebber. Dink maar net aan hoe liefdevol hy vir Pluto behandel en die 101 Dalmations en Lady and the Tramp. Sy katte daarenteen is aaklige gediertes, soos byvoorbeeld die vieslike kat in Cinderella.
En dink maar net aan die Hollywood-films wat jou ’n warmte om die hart laat kry: Lassie come home, en Old Yeller en Marley and Me en die onlangse Hachiko – A dog’s Story. Was daar nog ooit ’n storie oor katte wat enige iemand op aarde laat huil het? Ek twyfel.
En luister net hoe mooi rym Ogden Nash oor ’n hond:
THE DOG
The truth I do not stretch or shove
When I state the dog is full of love.
I’ve also proved by actual test
A wet dog is the lovingest.
En natuurlik weet almal hoe goed ’n hond kan hoor. Ritsel maar net ’n lekkergoedpapiertjie, en kyk wat gebeur en hoor hoe mooi stel Liesel Mueller dit:
WHAT THE DOG PERHAPS HEARS
If an inaudible whistle
blown between our lips
can send him home to us,
then silence is perhaps
the sound of spiders breathing
and roots mining the earth;
it may be asparagus heaving,
headfirst, into the light
and the long brown sound
of cracked cups, when it happens.
We would like to ask the dog
if there is a continuous whir
because the child in the house
keeps growing, if the snake
really stretches full length
without a click and the sun
breaks through clouds without
a decibel of effort,
whether in autumn, when the trees
dry up their wells, there isn’t a shudder
too high for us to hear.
What is it like up there
above the shut-off level
of our simple ears?
For us there was no birth cry,
the newborn bird is suddenly here,
the egg broken, the nest alive,
and we heard nothing when the world changed.
En die reukvermoë van honde is natuurlik legendaries. Ek wonder egter soms of honde self kan ruik as hulle daardie aaklige winde los.
G.K Chesterton rym oor die hond se reuksintuig op sy eie pittige manier:
THE SONG OF QUOODLE
They haven’t got no noses,
The fallen sons of Eve;
Even the smell of roses
Is not what they supposes
But more than mind discloses
And more than men believe.
The brilliant smell of water.
The brave smell of a stone,
The smell of dew and thunder,
The old bones buried under,
Are things in which they blunder
And err, if left alone.
The wind from winter forests,
The smell of scentless flowers,
The breath of bride’s adorning,
The smell of snare and warning,
The smell of Sunday morning,
God gave to us for ours.
And Quoodle here discloses
All things that Quoodle can,
They haven’t got no noses,
And goodness only knowses
The Noselessness of Man.
Die volgende gedig van Yehuda Amichai klink vir my ’n bietjie Bybels wreedaardig amper soos Simson gevoel het toe Delila hom met ’n ander man verraai het :
A DOG AFTER LOVE
After you left me
I let a dog smell at
My chest and my belly.
It will fill its nose
And set out to find you.
I hope it will tear the
Testicles of your lover and bite off his penis
Or at least
Will bring me your stockings between his teeth.
Maar op ’n ligter noot en veel eenvoudiger en natuurlik met met ’n bietjie sentimentaliteit wat mens van hondeliefhebbers verwag (en wat maak dit saak?) is hierdie versie van Ogden Nash:
FOR A GOOD DOG
My little dog ten years ago
was arrogant and spry,
Her backbone was a bended bow
for arrows in her eye.
Her step was proud, her bark was loud,
her nose was in the sky,
But she was ten years younger then,
And so, by God, was I.
Small birds on stilts along the beach
rose up with piping cry.
And as they rose beyond her reach
I thought to see her fly.
If natural law refused her wings,
that law she would defy,
for she could do unheard-of things,
and so, at times, could I.
Ten years ago she split the air
to seize what she could spy;
Tonight she bumps against a chair,
betrayed by milky eye!
She seems to pant, Time up, time up!
My little dog must die,
And lie in dust with Hector’s pup;
So, presently, must I.
Winnie – ’n swart Staffie was ’n wonderlike deel was van my lewe van 1993 – 2008 en op 9 Julie 1995 is my inskrywing oor haar in die Rapport-tydskrif se Skuins voor Maandag-kolom gepubliseer
WINNIE
’n Naamgeëry is ’n ernstige saak, veral as jy reken dat jy dalk vir 70 of 80 jaar daarmee opgeskeep sit. T.S. Eliot het gesê: The naming of cats is a difficult matter, maar hy kon net sowel mense of honde bedoel het.
Ek het gehoor van ’n muiserige meisietjie wat Cleopatra geheet het. Haar ma het seker gedink haar baba is allerpragtig en toe kry sy dié naam, maar later het selfs Max Factor nie eintlik verskil aan haar uiterlike gemaak nie en miskien sou die naam Mara veel beter gepas het. Cleopatra daar gelaat, want dis oor Winnie wat ek begaan is en nie oor ’n onaansienlike meisiekind nie.
’n Andersoortige dame het in my lewe gekom: ’n pikswart Staffordshire-bulterriër, en soos dit soms liefderik oor hulle gepraat word: ’n Staffie en verlangs familie van Jock of the Bushveld.
Ek het haar op Kersfees 1993 aanskou: sy was ses weke oud en pikswart behalwe vir twee wit haartjies op die pens. En toe sy haar eerste glips op die sitkamermat los – en dit was beslis nie van die nat soort nie – weet ek Winnie the Pooh is haar naam. Maar met daardie donker lyfie sou hierdie naam selfs by ons nuwe bedeling kon inpas, en dit help om polities korrek te wees. En toe noem ek haar Winnie en tot vandag toe sal sy op geen ander naam op aarde reageer nie.
Ek het nog altyd gereken ek is ’n kat-mens totdat Winnie daardie eerste keer haar nat snoet onder my duvet ingedruk het en my byna ’n hartaanval laat kry het en toe ewe onskuldig met haar honde-oë in myne gekyk het. Toe is ek gevang soos al die ander.
Die glipsies het mettertyd verdwyn, maar die frustrasies het gebly. Hulle sê mos ’n mens se karakter word in jou eerste lewensjare gevorm en ’n hond s’n in die eerste paar maande. Ek ontdek toe Winnie het literêre aspirasies. Die eerste boek wat sy in haar knaagstadium opgevreet het, was die Nuwe Testament. Toe het my vriend, Peter, opgemerk: “Nou het sy die Blye Boodskap in haar.” Maar selfs die Bybel-gedeeltes wat sy verorber het, het geen verskil aan haar maniere gemaak nie. Die volgende boek wat in die slag gebly het, was Huisgenoot, Wenresepte 2. Die halfgevrete blaaie het die huis volgelê. Toe kry sy ’n Karel Schoeman-boek beet, maar ongelukkig moet ek vermeld dat sy niks verder as die voorblad gekom het nie, wat bewys dat sy nie veel smaak vir hoghere letterkunde het nie.
By boeke het dit nie gebly nie. Een aand het Winnie my grimering bygekom … (maar eers moet ek vinnig verduidelik, ek dra nié vroueklere óf Chanel-parfuum in my vrye tyd nie, want opera is my daaglikse brood). Toneelgrimering het die hele tapyt volgelê en is deeglik met vier hondepote ingetrap. Dit was rooi en swart en pers kolle die hele wêreld vol en die volgende oggend moes ek op my knieë rondkruip en met waspoeier die skade probeer red. Vandag lyk die tapyt so effens anders as tevore: sulke wit-wit kolle, want die waspoeier wat ek gebruik het, maak glo die witste wit.
Ook van ’n hond se gehoorsintuig weet ek nou veel meer. Maak ek die yskas oop, sit Winnie gereed en kyk grootoog na my. En nou het ek ’n yslike skuldgevoel ontwikkel en kry sy gereeld ’n happie. Ek kan seker 5kg ligter weeg, sy ook.
Waarom bederf mens jou kinders so? Winnie lê langs die bed en slaap en soms skrik ek in die middel van die nag wakker. En dis nie vreemde geluide nie, maar vreemde reuke wat my laat wakker word. Winnie los die allervreeslikste winde …
En vlooie? Gou het ek agtergekom hoe lief hulle vir jong hondjies is, en het dié gebytery ’n versie geïinspireer:
Vlooie maak brakke
soms senuweewrakke
met al die gehop en gehappery.
En as hulle stop met die hap en gehop,
dan sit net die hond met die krappery.
En net so lief soos ek vir Winnie geraak het, is daar natuurlik dermiljoene ander honde-eienaars met hul eie Wagters en Fifi’s en Lulu’s en ek onthou die honde van my kinderjare: Gus wat sommerso verdwyn het, en die wonderlike herinnering van Bruno wat altyd in die huis geslaap het. Daardie aand in 1964 het dit in Bloemfontein begin sneeu, so saggies dat ons dit skaars besef het. Dié oggend toe my ma die kombuisdeur oopmaak, was die hele wêreld spierwit. Bruno het hom boeglam geskrik en het ’n grote plas net daar op die kombuisvloer gelos en ’n uur daarna was al die honde van die buurt aan die blaf en rondkerjakker in ’n splinternuwe wêreld wat so half en half bekend gelyk het.
En dan is daar die storie van Bubulina, my vriend, Deon Knobel, se hond. Terwyl hy op Bethlehem kuier, is Bubulina skielik dood. Deon word uit Kaapstad opgebel: Bubu is dood. Wat moet ek met haar maak? En
Deon antwoord: Sit haar in die diepvries tot ek terugkom.Dit was nog altyd vir my ’n heel makabere storie. Bubu in die vrieskas saam met die I & J Bevrore Ertjies. Maar nou dat ek ’n Winnie van my eie het, kan ek dit verstaan. Deon wou maar net vir Bubu vars hou om haar self te begrawe. En Ann Walton, die kunstenares-skryfster, het vir my gesê sy wil self by wees as haar eie Staffie, Honeybun, wat nou al half-blind en doof is, deur ’n veearts na ’n hondehemel gehelp word. En eendag wil ek self vir Winnie in die agtertuin begrawe.
Winnie is nou al meer as ’n jaar by my, ’n tyd van vele frustrasies, maar ook een wat my laat besef het dat die cliché dat ’n hond die mens se beste vriend is, tog die reine waarheid. is.

Wednesday, October 6th, 2010
Oor die jare heen het ek derduisende foto’s geneem vanaf die Donald Duck-kamera wat ek in my kinderdae in Cricketstraat present gekry het en later die Asahi Pentax van 1962 toe ek begin wonder het oor fotografie en begin kyk het na ander mense se foto’s en myself geleer het hoe om foto’s te ontwikkel en af te druk.
Dit is eintlik hoe ver my kennis van fotografie strek. Oor tegniese dinge sal ek nooit met ander mense kan saampraat nie. Met álles wat ek doen, of dit nou skryf, toneelspeel of foto’s neem is, was dit nog altyd intuïtief en kan ek self nie sê of iets goed of sleg is nie, want intellektueel was ek nog nooit ingestel nie, en sal ek nooit met ander skrywers of digters of fotograwe kan saampraat nie. Dis ’n geval van: hou maar liewers jou bek, want dan sal niemand regtig weet of jy slim of dom is nie.
Daardie eerste jare van foto’s neem en ontwikkel was wonderlik. Ons het destyds op Hillside– ongeveer 4 myl buite Bloemfontein gewoon. Een aand was ek juis in die badkamer besig om negatiewe te onwikkel, toe my pa vir my sê ek moet buitetoe kom. Sag, sonder dat ek daarvan bewus was, het sneeuvlokke skielik oor Bloemfontein se dakke kom uitsak.

Ons hond, Bruno het altyd in die kombuis geslaap, en toe my ma dié oggend die kombuisdeur oopmaak, het Bruno so groot geskrik toe hy ’n nuwe wêreld buite sien, dat hy die vloer papnat ge-pie het. ’n Halfuur later was al die honde van die buurt buite en het vrolik rondgehardloop in die wit wêreld buitekant.
En dit was vir my ook ’n wonderlike dag: Skole was gesluit as gevolg van die sneeu en ek kon orals met my kamera saam met my vriendin Ann Horak (ek wonder wat het van haar geword) rondloop in ’n Bloemfontein wat oornag verander het in ’n Bloemfontein wat ons nie geken het nie.

Êrens in ’n lêer het ek nog steeds die negatiewe van daardie wonderlike dag.
Oor die jare is negatiewe weggebêre – party nog nooit afgedruk nie; ander wat ek vaagweg onthou, en ander wat nog al die jare na aan my hart lê.
In 1971 het ek Europa vir die eerste keer besoek en vir ses weke lank was ek in Amsterdam. Dit was ’n traumaties tydperk in my lewe ‘n Verhouding van vier jaar het stadig begin einde toe loop. Ek was verward en het of in my Amsterdamse kamertjie die Tarot-kaarte probeer lees om te sien wat die toekoms dalk inhou, of andersins het ek met my kamera in Sarphatipark gesit en mense dopgehou.
Dit was in die dae voor digitaal. Negatiewe-spoeletjies was of in 24 of 36 beskikbaar en dit was nie soos nou die geval waar jy ’n duisend foto’s kan neem en hoop dat een ordentlik gaan uitkom nie.
Eers terug in Suid-Afrika, sou ek die negatiewe self ontwikkel, en dan deur ’n vergrootglas beloer om te sien watter die moeite was om af te druk. En met die afdrukwerk, was dit ook ’n geval van om in ’n tuisgemaakte donkerkamer te staan en foto’s afdruk en papier te mors tot daar uiteindelik die gewenste afdruk in die ontwikkelaar lê. Vandag is alles te maklik. Jy druk ’n knoppie en jy kan die foto onmiddellik op die monitor beskou en as jy dit in sepia wil hê, druk jy weer ’n knoppie in Photoshop en daar sien jy jou meesterstuk. Destyds het jy miskien reeds 20 velle fotopapier gemors voordat jou sepia-afdruk uiteindelik gereed gelê het.
En hierdie omslagtigheid het my miskien meer krities gemaak oor my eie werk. Selfs nou met digitaal, sal ek nie sommer die knoppie druk nie.
Maar watter van destydse foto’s is blywend?
Na al die jare is daar nog een foto wat by my bly spook. Dit was in Junie 1971, lentetyd in Amsterdam. En ek het my ure dikwels verwyl in Amsterdam se Sarphatipark. Daar was oumense op parkbankies. Jong studente en hippies en spelende kinders op die grasperke.
En toe - tussen die kinders, het ek hom sien staan. ’n Jong seuntjie wat teen ’n boomstam aangeleun het.
Van my was hy glad nie bewus nie. Ek het met groot gesukkel met ’n telefotolens gefokus en die knoppie gedruk.

Dit was die laaste negatief op die spoeletjie van 36. Die oomblik was verby; die seuntjie vergete.
Eers terug in Kaapstad, twee maande later kon ek die negatiewe ontwikkel.
En van toe af, tot nou toe, 38 jaar later onthou ek hierdie kind wat nooit eens van my teenwoordigheid bewus was nie.
Waarom spook juis dié foto by my? Selfs in 1971 reeds het ek gedink dat daar iets is wat hierdie foto besonders maak. Wat dit was, het ek nooit gevra nie, maar ek het in 1971 die foto vergroot, met groot moeite die stofkolletjies en krappies op die negatief verwyder en dié foto juis gebruik vir die plakkaat van my heel eerste foto-uitstalling.
Selfs om ’n plakkaat te maak was ’n hele gedoente. Om die woorde as deel van die plakkaat te maak. moes jy eers Lettraset letters gaan koop en ’n stuk ruitglas, dieselfde grootte van die uiteindelike plakkaat. Na die plasing van die letters op die stuk glas, moes jy in jou tuisgemaakte, tydelike donkerkamer, komberse voor die vensters en deure sit om die lig buite te hou en met die vergroter die beeld deur die glas projekteer. En dan eers, na ’n yslike gesukkel en 20 fotopapier-velle in die asblik het jy hopelik uieindelik die plakkaat.

Waarom dan bly hierdie foto so spesiaal vir my? Ek het nog nooit daaroor nagedink nie, want ek het nog nooit my eie werk probeer ontleed nie. Dit klink al te veel na jakkals prys sy eie stert, maar ek het tog hierdie foto vroeër vandeesweek beter bekyk.
Om die negatief te soek = 2 minute.
Skandering = 5 minute
Die prentjie op my Rekenaar-monitor = 1 minuut
Agt minute teenoor die 3 of 4 uur wat ek dalk destyds gebruik het voordat ek die uiteindelike produk kon sien.
Ek gesels juis verlede week op Facebook met Alwyn Roux wat op die oomblik in Nederland met studienavorsing besig is. In ons gesprek kom my foto ter sprake. Wat maak dié foto dan so spesiaal vir jou? En ek kon nie die vraag beantwoord nie.
Eers gister het ek die foto weer goed bekyk.
En om die waarheid te sê, het ek nog nooit enige van my versies of foto’s ontleed nie - want op die ou end, reken ek, dit klink darem ’n bietjie te egoïsties en aanmatigend.
Ten spyte daarvan en omdat ek hierdie week iets móés hê vir my blog, is hierdie lang inleiding omdat ek nie werklik weet waaroor om te skryf nie.
In sy geheel beskou, sê hierdie foto dalkies iets van kindwees. ’n Seuntjie alleen teen ’n boom. ’n Uitdrukking van (?) Om die waarheid te sê, ek weet self nie wat nie.

Miskien sê die detail dalk meer. Eerstens die gesig as geheel en dan as jy nader beskou: Die oë – after all het iemand geskryf: The eyes are windows to the soul.

Dan die mond – effens na onder getrek.

Of is dit dalk die hande wat iets sê?
Die een hand effens geklem.

Die ander verlep na onder.

Of is dit dalk iets te doen met die voete? Die een voet stewig op die grond die ander voet, half gelig.

En dan natuurlik die feit dat hy so styf teen die boom aanleun.
Maar miskien moet ek maar liewer net die foto onthou uit ’n tydperk in my lewe toe ek self nie so gelukkig was nie.
En in elk geval, die foto van die seun teen die boom het seker maar net ’n sestigste van ’n sekonde van sy lewe vasgevang en ’n sestigste van myne.
Wie hy was, sal ek nooit weet nie en hy sal ook nooit weet dat ek hom 38 jaar gelede teen ’n boom sien staan en my kamera se knoppie gedruk het nie.

Saturday, September 25th, 2010

Iemand vra my die ander dag hoeveel versies ek al oor die jare geskryf het, en die vraag was onmoontlik om te beantwoord, want dit trek sekerlik ver oor ’n duisend (of dalk meer).
En die probleem is, van daardie versies is daar maar enkeles wat ek persoonlik voel die toets van die tyd sal deurstaan. Hope van dié versies was eintlik maar net weggooi-versies en nie bedoel om André Brink of Gerrit Komrij te laat oe! en aa! nie
Vir ’n jaar of drie moes ek vir die destydse tydskrif Afrikaans Vandag elke nou en dan ’n paar versies skryf, en dit was gewoonlik oor iets wat op die plaaslike literêre toneel gebeur het.
In 1998 was daar ’n yslike gedoente toe Madeleine van Biljon aan Maretha Maartens in ’n artikel in Finesse vertel het hoekom sy nie ’n Christen is nie. Die ATKV-dames was so ontsteld dat Madeleine ’n prys wat reeds aan haar toegeken is, moes teruggee. Hierdie affêre het die volgende versie tot gevolg gehad, en ek was veral trots op my rymwoorde beduidenis en heiden is!
Die skets is deur Cora Coetzee

Madeleine, o Madeleine,
waarom het jou prys verdwyn.
Daar was g’n beduidenis
dat jy dalk ’n heiden is.
Maar – jou storie in Finesse
leer ons wel ’n dure les:
dit is beter om te lieg
as om net te staan en bieg.
Madeleine, o Madeleine ,
dáárom het jou prys verdwyn!
Twee jaar daarna is ek deur Die Burger genader om elke week op ’n Dinsdag ’n versie gereed te hê oor iets aktueel. Dit was, snaaks genoeg, nooit ooit vir my ’n probleem nie, anders as die tekste wat ek vir my De Kat-comic saam met Piet Grobler as illustreerder moes skryf. Daar was elke week iets om oor te skryf, en as ek nou na my koerantuitknipsels kyk, is daar baie waarvan ek die insidente heeltemal vergeet het. Die sketse was altyd deur Fred Mouton.
Eugene Terreblanche is destyds veral onthou omdat hy vir ’n paar jaar tronk toe gestuur is, en natuurlik ook omdat hy nie ’n wonderlike perderuiter was nie.

E.T. BLUES
Neef Terreblanche sit in die tjoekie
allenig met sy Bybel-boekie.
Tot siens, ou Raaf, my brawe perd.
“Jy maak vir my die lewe werd.
Ek gee jou nou ’n afskeidskus.
Al val ek soms, sal ek jou mis.
En al het ek geen rand of sent
word tronkvoëls tog – soms
president.’
Die volgende insident onthou ek wel goed. Winnie Mandela het glo by ’n ANC-kongres haar pad na die voorste gestoeltes oop gedruk, maar sy moes nooit vir Mbeki op die wang probeer soen het nie.

JUDASKUS
Tant Sannie sê:
Dink tog gerus
voor jy
die President wil kus.
Dit word beslis ’n grote ramp
as hy jou dalkies
disnis stamp.
’n Vroumens kan mos moed verloor –
veral as sy haar hoed verloor.
Partykeer was die insidente waaroor ek gerym het, heeltemal absurd, byvoorbeeld toe daar gedurende die sensusopname vry kondome uitgedeel is deur die sensusomies wat aan die voordeure kom klop het.

SENSUSTYD
Hiep hiep hoera vir sensus.
Hul tel nou al wat mens is.
Jy kry daarby
’n fraai kondoompie
van ’n gawe
sensusoompie,
want dié sal help
(ja, glo vir my)
dat volksgetalle
staties bly.
Karel Schoeman het in 2003 vir ’n rukkie uit sy kluisenaarsdop gekruip en in Stellenbosch ’n lesing kom gee oor D.J. Opperman. Op die ou end was dit glo eerder ’n lesing oor Karel Schoeman deur Schoeman self.

’N VERSIE VIR KAREL DIE GROTE
Opperman of Schoeman?
Sê wie’s die grootste – tóé man!
Ek weet nie wie die grootste is,
maar darem wie die doodste is.
Die een het lankal heen gegaan.
Toe het ons aan die ween gegaan.
Nou bly daar nog net Schoeman
En hy’s mos GROOT - of hoe, man?
Op ’n eiland is sy woning:
daardie selfgekroonde koning.
Sy Hoogheid sit alleen en kloek
skryf nog ’n laaste, laaste boek …
Ja, hou tog op met mopper, man!
Want Schoeman is nou opper-man!
En toe was daar die groot droogte in Kaapstad waar ons slegs eenkeer per week vir ’n halfuur lank ons tuinslange kon gebruik om ons verlepte plante water te gee. Die volgende versie is seker net soveel op die inwoners van Waterkloof van toepassing sou hulle ooit deur ’n droogte geteister word.
WATERBEKBEPERKINGS
BISHOPSCOURT
O, die droogte,
o, die droogte …
Glad g’n druppels
uit die hoogte.
Die son bak neer.
Die reën bly ver.
My rose
leef van Perrier.
So is daar hope versies wat ek oor die jare geskryf het, weggooiversies wat al lankal saam met die ou koerante in die asblik beland het, maar wat my tog destyds groot plesier gegee het.
Monday, September 13th, 2010

Sou iemand vir my vra: As jy vir die res van jou lewe met een boek op ’n eiland moet sit, watter een gaan jy kies?
Oor hierdie vraag hoef en nie eens tweekeer te dink nie. Vergeet maar van Shakespeare of Tolstoy.Ek sal beslis vir ure, ja,vir die res van my lewe lank met Leon de Stadler se Groot Tesourus van Afrikaans in ’n palmboom se skaduwee sit terwyl ek die dolfyne dophou en met my wysvinger versies in die nat sand skryf.
Ja, daar is maar min boeke wat my so kan inspireer. Die feit bly dat my aandagspan nie veel groter is as dié van ‘n muskiet nie, en daarom bly woordeboeke vir my die ideale leesstof, en ek moet tot my skande erken dat en nog nooit Agaat gelees het nie, daar is darem te veel woorde, maak nie saak hoe mooi hulle agter mekaar inpas nie en woordeboeke het mos in elk geval ál daardie woorde, al is dit miskien net in verskillende volgorde. Ek sê maar net …
Toe De Stadler se Tesourus destyds verskyn het, het dit my selfs geïinspireer om vir hom ’n dankie-sê versie te skryf en aan te stuur:
Daar is ’n coleoptera
wat rondswem in my soptera.
O, vreemde woord.
so skoon en ryk –
Ek moet jou
in ’n vers gebruik.
Jy staan in die
Tesourus
en hoe durf ek
dan
nóú rus.
Jy wiel en draai
hier in my kop –
Ja, nog
’n Gogga in die Sop!
Woordeboeke was al van kindsbeen (naas Trompie) vir my die ideale vorm van letterkunde. Toe ek my eerste woordeboek op ouderdom 10 vashou het ek behoorlik gebewe toe ek na die P-woorde blaai om te kyk of die woord poep daar verskyn, en was eintlik bitter teleurgesteld toe ek dit nie kon kry nie, maar gelukkig het De Stadler se woordeboek intussen deeglik daarvoor vergoed.
’n Paar maande gelede kry ek ’n opdrag van die ATKV om woordeboekversies vir hulle Veertjie-toekennings te skryf, en ’n week of wat daarna word ’n wavrag woordeboeke per koerier by my afgelaai. Die afgelope jaar is daar glo heelwat woordeboeke in Afrikaans gepubliseer en hierdie feit verdien glo ’n versie of twee. My eerste reaksie was: Hoe op aarde skryf mens versies oor woordeboeke, maar op die ou end was daar 10 waarvan ek 5 by die Veertjie-toekennings gelees het:
Blaai jy
deur die
ABC
gee jy gou
‘n tree of 2
want
tussen
Aambeie
en
Zen
leer ‘n mens
die lewe ken .
MY EERSTE HAT-WOORDEBOEK is ’n nuutjie in Afrikaans. Kinders word aan woorde blootgestel en meestal in kort versvorm en vertaal uit die Nederlands deur Daniel Hugo.

Wil jy hê
jou kind moet slim wees
(die klein Einstein van sy klas )
en later ‘n ryk sakeman
met ‘n baadjie en ‘n das ?
Dan moet jy gou-gou –ja verdomp
Jou kind se kop vol woorde pomp.
En voor hy eers gespeen is
sal jy weet dat hy geseën is
en word jou liewe kannetjie
‘n vreeslik slimme mannetjie
en dalkies ‘n professor
of ten minste ‘n assessor
en alles
oor die ABC
uit sy eerste rympie
HAT .
Dan was daar natuurlike die yslike WOORDEBOEK VAN DIE AFRIKAANSE TAAL (deel 13 letter R) Terloops die deel met al die P-woorde bly steeds my gunsteling.
Koop vir jou
dié woordeboek
as jy dié dag na woorde soek:
Een wat glad nie in jou sak pas,
máár wat yslik op jou rak pas
soos daai grote WAT
Ons Afrikaanse ABC
wat nou reeds strek van A tot R
En dit is eintlik blêrrie ver !
Elke woord is hier verklarend
en is áltyd openbarend :
Dan kan jý ook preek en mooipraat
of oor dinge van die kooi praat.
As jy iemand wil beledig
en jou woede wil bevredig,
is daar woorde weet ek wel
waarmee jy
kan vloek en skel:
‘n Woord soos tjorts
of windlawaai
of ander wat jou kop laat draai
soos:
dimorfisme
solepsisme
kretinisme
atomisme
jingoïsme
pingoïsme –
plus ook elke ander – isme
Kry vir jou dié woordeboek
As jy wil GROTE woorde soek.
ANNERLIKE AFRIKAANS (samesteller Dr. Anton Prinsloo) Hier is wonderlike woorde wat ek nog nooit gehoor het, en blykbaar nooit ooit sal hoor nie.
Snotterblok
en drens
en moegoe
gatjieponner
bitterboegoe
diesie-diesie
spuitpoep
fiela
akkelding
en poer
en ghiela
hippetip
en hors
en hoeka
kneukelpister
en pandoeka
dit is vloek
en dit is vleitaal
Soet
en sappige
kontreitaal
Wonnerlik
en annerlik
Sing en dans
in Afrikaans !
Laastens het ek ’n versie ingesluit uit my versamelbundel Mallemeuleman

Kry vir jou ’n woordeboek
as jy die dag na woorde soek
twee vir nou
en twee vir later
drie wat jou laat skree en skater;
Lapa lemma
Liefie loef
Poelepetater
Proos en poef
twee wat nes ‘n engelekoor is
drie wat aaklig- naar
en goor is
Mallemeule oleander
Gagga
pitsweer
heksverbrander
Kry vir jou ‘n woordeboek
en dan kan jý ook kweel en kloek

Sunday, September 5th, 2010
fotograaf: Philip de Vos
(tik op foto om te vergroot.)
So elke maand of twee kry ek ’n bevlieging om te begin opruim en bokse uit te pak, maar het intussen uitgevind dat hierdie proses feitlik oneindigend is. Dis boeke wat nooit gelees is nie en papiere en foto’s en ou briewe (uit die tyd voor e-pos toe mense nog briewe vir mekaar geskryf het) en ou programme van operas waarin ek opgetree het en toneelstukke wat bygewoon is en al lankal vergete is.
En tussen dié programme kry ek eergister een wat sê: PATRICK MYNHARDT celebrates 50 years in the Theatre (1953 – 2003) with BOY FROM BETHULIE.
Elke keer wat Patrick vir my en Peter kom kuier het, was ek bewus van die feit dat ek met ’n ware gentleman te doen het; iemand wat nog kon bel of skryf en dankie-sê nadat hy jou besoek het.
En in dié program kry ek ’n lang vers wat ek spesiaal vir Patrick geskryf het – ’n vers wat nooit êrens in druk verskyn het, of selfs deur iemand – behalwe deur Patrick, gelees is nie.
Destyds was daar nog die S.A.K.R.U.K- toekennings vir (wit) Suid-Afrikaners wat êrens ’n kulturele bydrae gelewer het. Die vorige jaar was dit die dirigent Leo Quayle, Taubie Kushlick, die filmmaker Pierre de Wet, en Anna Cloete, ’n vroeë NTO-toneelspeler vereer is. Ek is juis dié jaar gevra om ’n lang vers vir Anna Cloete te skryf, wat toe deur Albie Louw getoonset is en deur my by die toekenningsaand in die Nico Malan-operahuis gesing is.
Die volgende jaar was dit Patrick Mynhardt se beurt. Weereens is ek genader vir ’n vers wat getoonset sou word. Al die inligting oor Patrick is aangestuur, en nadat ek die versie geskryf het, was die enigste terugvoering dat daar nie genoeg geld was nie, en dié versie het dus vergete gebly tot ek dit weer in die boks ontdek het:
PATRICK MYNHARDT
THE BOYTJIE FROM BETHULIE
Please listen to my story;
Please listen to my song
and when we reach the chorus
you are free to sing along.
CHORUS:
Dear Patrick Mynhardt
Your fans all love you truly!
Dear Patrick Mynhardt
the boytjie from Bethulie! (repeat)
Sy pappa was ‘n boereseun;
Sy ma - an Irish gal,
En dus sal ek sy storie
maar bilingually vertel:
Een aand in die dorpie Bethulie
Die weer was bitterlik koud
Is ‘n bybietjie gebore.
(Gelukkig tog was hul getroud!)
CHORUS:
Dear Patrick Mynhardt
Your fans all love you truly
Dear Patrick Mynhardt
the boytjie from Bethulie!
Ons hoop hy word ‘n dokter;
of dalk ‘n argitek;
or otherwise a salesman
wat glad is met sy bek.
Toe - laat een middag kuier hul
by die buurvrou Missus Barling
en daar sê hy sy eerste woord
en dit was wragtig: “Darling!”
‘n Bybietjie wat “Darling” sê
word eendag mos an actor.
But Mamma really wanted him
to be a chiropractor!
Die jare kom, die jare gaan.
Ja, dis ‘n nare feit .
En toe stuur hul hom Grahamstad toe
na die universiteit.
“Miskien kry hy sy Bachelors,
of anders dalk sy Masters,
Maar - oh, alas - die drie jaar was
vol yslike disasters!
Maar daar hoor hy van Hamlet
To be or not to be!
En toe sê Patrick Mynhardt:
“It’s an actor’s life for me!”
In neëntien drie-en-vyftig
join hy die NTO
Want hy dog toe dis vreeslik nice
as mense skree: “Bravo!!”
Then off he went to London
(an actor’s dream of heaven)
But soon became a porter:
Number K 1 0 3 7.
While he was pushing luggage
(With theatre still besotted)
quoting Hamlet as he worked -
by agents he was spotted.
So thanks to dear old Shakespeare’s
“To be or not to be”
he soon was seen on ev’ry stage,
and BBC TV!
In nineteen sixty back he came.
Some bitch sighed:” Oh,Good grief!”
But Patrick said:”Ag, shame on you!
Ek het my land te lief!”
He then read H.C.Bosman
in nineteen sixty-nine.
And Patrick cried: “Eureka!
I’ve found a diamond mine!”
“I’ve been in more than ninety plays,
in films and also theatre
Maar nóú weet ek Schalk Lourens
van Marico is veel beter!
Nou doen ek “Jerepigo”
Tot die einde van my dae.
An actor also has to live,
En waarom sal ek kla?
I might not be Clark Gable
Or Lord Olivier …
Maar die Boytjie van Bethulie
Sal vir áltyd hierso bly
CHORUSDear Patrick Mynhardt
Your fans all love you truly!
Dear Patrick Mynhardt
The Boytjie from Bethulie!
(Weliswaar ’n weggooiversie, maar tog een wat my destyds groot plesier gegee het en as ’n soort dankie-sê vir Patrick vir sy Boere-ordentlikheid.)
Monday, August 30th, 2010
Een van die vrae wat ek gereeld gevra word, is: Waarmee is jy nou besig? Versies is ongelukkig nie iets wat ek sommer kan uitryg nie, en partykeer dink ek in elk geval ek het reeds my sê gesê, maar party mense dink daar is ’n oneindige bron van woorde, nes die weduwee se kruik waarmee ek toevallig in my laerskooljare gedurende Bybelkenniseksamens kennis gemaak het.
Daai kruik is egter soms ’n bietjie aan die droë kant, maar tog is ek gelukkig dat naas skryf, fotografie al vir jare een van my belangstellings is.
Dit het in die vroeë sestigs gebeur toe ek my Donald Duck-kamera verruil het vir ’n Asahi Pentax en saans foto’s in my ma se kombuis begin ontwikkel en afdruk het. My ma het skielik begin wonder waarom al die roeskolle skielik op haar nuwe wasbak verskyn het, en ek kon dit nooit oor my hart kry om te sê dit was die foto-fikseerder se skuld nie en selfs Vim het niks vir daardie kolle gehelp nie, hulle was vir ewig en altyd daar.
Toe ek in die Kaap kom woon het, het ek aangehou met my fotografie en om een of een of ander rede het ek bekendes begin nader om foto’s in hulle eie omgewing af te neem.
Dit was toe dat ek verneem het dat Mary Renault, die wêreldberoemde romanskrywer in Kaapstad woon. Ek het haar per brief genader en was verras toe sy ja gesê het, en dis ook van haar wat ek later my grootste kompliment oor my fotografie ontvang het: You are the only photographer who ever made me relax. En die rede is, dat ek slegs met ’n kamera gewapen opdaag. Geen ligte nie, geen driepote nie, net ek en my kamera en die persoon wat ek afneem.
’n Vriend het my eenkeer gevra of my afnemery van bekendes nie miskien’n subtiele manier van names dropping is nie, maar ek hoop nie so nie. Ek weet self nie waarom hierdie tipe fotografie my interesseer nie, maar op die ou end het dit seker êrens ’n waarde – ál is dit net vir die optekening van kreatiewe persone wat op ’n sekere tydperk in Suid-Afrika hulle ding gedoen het.
Net een persoon het vir my nee gesê toe ek hom wou afneem. Tretchikoff het vir my gesê hy wou volkleur ateljee-foto’s het en toe hy hoor myne was net swart-wit met natuurlike lig, is die telefoonoproep gou beëindig.
Maar as jy ’n persoon afgeneem het, hoe kies jy die beste, of liewers die enigste foto wat jy op die ou end gaan gebruik? En daardie een foto is dikwels ontwykend, want jou flops is op die ou end net vir jou eie oë bedoel.
Ek wil vandag die foto’s van ons webmeesters Louis Esterhuizen en Marlise Joubert as voorbeeld gebruik.
’n Klompie jare gelede is ek genader vir ’n foto-uitstalling van my werk by die KKNK en omdat ek ’n tema moes hê, het ek besluit op Boekmense van die Kaap. En die enigste rede was, dat ek minder skaam is om skrywers te nader as fris en miskien visueel aantrekliker rugbyspelers, omdat al wat ek tot vandag toe van sport weet, is dat ’n sokkerbal rond is en dat ’n rugbybal effens na ’n eier lyk.
Toe ek dus begin foto’s van skrywers en digters neem het ek verneem dat Louis Esterhuizen nou in die Kaap woon en onderwyser was by Rondebosch Boys High.
Ek onthou steeds dat ek nooit met daardie dag se foto’s tevrede was nie. Daar was net hierdie iets wat ontbreek het. Ek het vanmiddag die ou negatiewe uitgegrawe, en tot my skande het ek dit opgeteken as negatiewe van Louis Eksteen (jammer, Louis!)
Die foto wat ek uiteindelik van Louis gebruik het, was een waar hy teen ’n boom staan – wat op die ou end taamlik niksseggend is.

Met die deurkyk van die negatiewe, is daar ’n ander een wat ek seker liewers destyds moes gebruik het. Louis op sy bed in ’n koshuiskamer. En skielik onthou ek dat ons saam rooiwyn gedrink het, en dat ek vir hom een van my strokiestekste gelees het, vir my comic wat destyds saam met Piet Grobler se sketse in De Kat verskyn het.

Ek dink hierdie middag se foto’s is geneem nog voordat hy vir Marlise Joubert geken het, en kort daarna het ek vir Marlise by haar huis in Stellenbosch gaan afneem. Hierdie keer was dit veel makliker om die beste foto te kies, want Marlise, en die bloese wat sy dié dag gedra het, het as’t ware saamgesmelt met die muurskildery by die voordeur.

En met vandag se deurkyk van die negatiewe, kry ek ’n paar wat ek dié middag van Marlise en haar dogter geneem het – albei uiters fraai op die oog af.

In 2005 het ek weer foto’s van Marlise en Louis, wat intussen getroud is, gaan afneem en was ek bewus van ’n groot warmte tussen hulle – en het gehoop dat ek dit in ’n enkele foto kon vasvang.
Party van die foto’s van dié middag, was slegs plesierig, en net vir die lekkerte. Marlise het nog steeds die vrolike bloese van die vorige keer besit, en ek het haar weer by die muur gaan afneem, met Louis wat geamuseerd agter die hek staan en toekyk.
Maar die foto wat ek uiteindelik gebruik het, was binnehuis geneem, met Marlise en Louis onderkant die skildery van twee geliefdes.En hierdie keer het ek onmiddellik geweet: hierdie kiekie is die mooiste een van almal. Dit sê alles en is goed genoeg om in my fotoboek Milieu te verskyn.

Friday, August 20th, 2010
Op die 4de Augustus kry ek ’n e-pos:
Fiona Coyne wants to be friends on Facebook,
Dié dag het ek gewonder waarom Fiona Coyne juis vir my skielik as Facebook-vriend wou hê en het met my slegte gewoonte van uitstel, besluit om wel later daarop te reageer.
Ek het Fiona leer ken toe ek destyds nog operasanger was,en ons saam in die musical Annie opgetree het.
Ek het later weer van haar bewus geword as die sogenaamde bitsige aanbieder van The Weakest Link TV-program.
In 2004 was ek juis besig met foto’s neem vir my fotoboek Milieu met foto’s van kreatiewe Suid-Afrikaners en het besluit om haar te nader, maar is vertel dat sy deur die TV-maatskappy beveel is dat sy slegs in haar kenmerkende swart drag afgeneem mag word.
Met die neem van die foto’s was ek, ten spyte van haar swart klere van ’n skugterheid bewus, so anders as haar beeld op TV.
Daarna het ek Fiona nooit weer gesien nie.
Vandeesweek , op 18 Augustus lees ek die volgende opskrif in Die Burger:
Weakest Link aanbieder sterf.
’n Dag daarna:
Aktrise neem eie lewe.
En op die 20ste:
Vrees vir mislukking en eensaamheid lei tot selfmoord.
En skielik onthou ek van die e-pos van die 4de en dat ek nooit daarop reageer het nie. Op die Facebook-blad is daar slegs twee opsies as iemand vra om jou vriend te wees: confirm as friend of anders ignore. En ek het geen een van die die twee gedoen op die dag dat ek dit ontvang het nie.
En al wat my nou steeds bybly is die foto van haar in Milieu, weerloos en effens skugter.
Tuesday, August 10th, 2010
In 1984 toe Milos Forman die Peter Shaffer-toneelstuk as Amadeus verfilm het, het dit agt Oscars gewen en is dit by een rolprentteater in Kaapstad vir bykans ‘n jaar vertoon en het baie jongmense vir die eerste keer kennis gemaak met die musiek van Mozart. Maar nié net die musiek nie maar ook met Mozart as persoon.
Mozart is uitgebeeld as die skepper van sublieme musiek, maar ook terselfdertyd as ‘n kru, kinderagtige nar.
Mozart-liefhebbers het onmiddellik hierdie siening verwerp en dit selfs as ‘n soort heiligskennis beskou, maar dikwels was dit liefhebbers wat nog nooit enige van die Mozart-briewe gelees het nie of anders nooit enige van die menige biografieë in die hande gehad het nie.
As mens egter dieper begin delf, wonder mens of Milos Forman en Shaffer nie miskien reg was nie. Toe ek in 1990 begin skryf het aan my novelle oor Mozart – Trazom wat later as Tot siens, Tommasino gepubliseer is, het ek vir meer as ‘n jaar lank alles gelees en gekoop wat ek oor Mozart in die hande kon kry. Hier was dit veral die vertaling van die Mozart-briewe deur Emily Anderson asook die uitstekende Mozart – a documentary biography van Otto Erich Deutsch waarin hy alle bestaande dokumente oor Mozart versamel het.
In hierdie boek is daar fassinerende stukkies oor Mozart as persoon, Mozart as komponis en selfs Mozart as versiemaker.
Voordat mens by die versiemaker uitkom, is dit interessant om te lees hoe tydgenote hom as persoon ervaar het.

In 1808 het Joseph Lange die volgende opgemerk: “Niemand sou ooit vir Mozart na aanleiding van sy gesprekke as ‘n groot gees beskou het nie veral nie as hy besig was met die komponeer van ‘n grootse werk nie. By sulke geleenthede het hy deurmekaar en onsamehangend gepraat, en het dikwels grappies gemaak wat mens nooit van hom sou verwag het nie. Dan was sy vulgêre uitbarstings in skerp kontras met die wonderskone idees van sy musiek.”
En selfs Johann Andreas Schachtner – ‘n huisvriend, het vir Mozart, in 1792, ‘n jaar na sy dood so aan sy suster Nannerl beskrywe: “Wolfgang het ‘n vurige geaardheid gehad, en niks kon sy aandag vir meer as ‘n paar oomblikke hou nie. Ek reken dat as hy nie so ‘n goeie opvoeding van sy vader ontvang het nie, kon hy in ‘n opperste skurk ontaard het, so aangetrokke was hy tot die goeie sowel as die slegte.”
En in Karoline Pichler se memoirs het sy hom as volg beskryf: “Een middag toe ek by die klavier gesit het en die Non più andrai uit Die Huwelik van Figaro gespeel het, het Mozart wat by ons kom kuier het, agter my kom staan. Hy moes tevrede gewees het, want hy het self die melodie begin neurie en die ritme van die musiek op my skouer uitgetik, maar toe het hy skielik ‘n stoel nader getrek; vir my gesê om die basgedeelte te speel terwyl hy die wonderlikste melodieë begin improviseer het en ons almal met ingehoue asem daarna geluister het. Maar toe het hy skielik verveeld geword, en nes hy so dikwels tevore gedoen het, nes ‘n gek opgespring; oor die tafels en stoele gespring, nes ‘n kat begin miaau en begin ronddans presies net soos ‘n stoute kind.”
Wat hier deur tydgenote van Wolfgang Amadeus Mozart gesê is, wys dat Forman en Shaffer miskien nié so ver verkeerd was in hulle uitbeelding in die film Amadeus nie.
Van jongs af was Mozart behalwe vir sy musiek ook lief vir allerhande woordspeletjies, die verdraaiing van woorde en die maak van sy eie rympies.
In 1770 was hy en sy pa Leopold op pad Italië toe en het Wolfgang in die briewe aan sy suster en ma dikwels grappies begin maak.
Op 10 Februarie 1770 op ouderdom 14 sluit hy ‘n brief met die volgende woorde af: “Ek soen Mamma se hand en vir my suster gee ek ‘n lekker sopnat soen – en ek bly steeds die ou – hoe sal ek nou sê? – dieselfde ou gek: Wolfgang in Germania, Amadeo in Italia De Mozartini.
En twee jaar daarna voeg hy alreeds versies by sy briewe. (Vir die versies sal ek elke keer die uitstekende Engelse vertaling van Robert Spaethling gebruik, wat meer as die Emily Anderson die gees van die Mozart-versies vasvang. In die dorpie Botzen was hy blykbaar verskriklik verveeld en skryf hy die volgende:
Before I come back to the Botzen place,
I’d rather smack myself in the face.
Groot poësie is dit sekerlik nie, maar heel onskuldig in vergelyking wat hy in later jare sou skryf. In baie briewe daarna het hy woorde agterstevoor begin skryf of selfs in geskrewe sinne die een woord met die ander laat rym: En hier is dit veral by die briewe wat hy vir sy niggie Maria Thekla geskryf in 1777 geskryf het en bekend geword het as die Bäsle-briewe. (Weereens gebruik ek die Spaethling-vertaling)

Dearest cozz buzz!
I have received reprieved your highly esteemed writing biting, and I have noted doted that my uncle garfunkle, my aunt slant, and you too, are all well mell. We too, thank god are in good fettle kettle. Today I got the letter setter from my Papa Haha safely into my claws paws. I hope too you have gotten rotten my note quote that I wrote to you from Mannheim. So much the better, better the much so! But now for something more sensible …
En dan teken hy sy briewe dikwels in dié tyd as:
Gnaglow Trazom
neiv ned 12 tsugua 7771
En kort daarna verval sy briewe aan sy niggie in absolute toilethumor en rymelary:
Dreck! Dreck! O Dreck!
O süsses Wort
Dreck! Schmeck!
Auch schön
Dreck! Schmeck!
Dreck! Leck!
o charmante!
Dreck Leck!
Das freüet mich!
Dreck Schmeck!
und leck!
Schmeck dreck
und leck dreck!
En dit is nié net aan sy niggie wat hy op hierdie manier skryf nie, maar ook aan sy moeder wat blykbaar sy toilet-humor gedeel het:

Op 31 Januarie, 1778 skryf hy:
Madame Mutter!
I like to eat Butter.
We are, Thank the Lord
Healthy and never bored.
Our trip is bright and sunny,
Though we haven’t any money;
We enjoy the company we keep,
We are not sick, we do not weep.
Of course, the people I see
Have shit in their bellies, just like me.
But they will let it out with a whine,
either before or after they dine.
There’s a lot of farting during the night.
And the farts resound with thunderous might.
Yesterday, though, we heard the king of farts.
It smelled as sweet as honey tarts.
While it wasn’t in the strongest of voice.
It still came out with a powerful noise.
We have now been here for over a week
Shitting muck upon muck in a steady streak …
But now I’d better stop this Poetry of wit.
That’s not counting the hole on which we sit.
Just one more thing allow me to add:
Monday coming please don’t be sad.
For I’ll have the honour of kissing your hands
Though before I see you, I’ll shit in my pants.
adieu Mamma
Yours with deep respect and allegiance
and full of scabs and obedience
TRAZOM
Maar, in 1779, wys Mozart ook sy romantiese kant en skryf hy ‘n liefdesversie vir sy geliefde niggie Maria Thekla
Your picture sweet, O Bäsle
hovers before my eye,
but each sad tear will tell me
that you are- nowhere nigh.
I see it in the setting sun,
I see it in the rising moon,
I see it and I weep and sigh
that you are nowhere nigh.
In the flowers of the valley
which I have gathered for her,
in each of the myrtle branches
which I twist and twine for her.
I conjure up her image,
I implore her to appear;
if only by some magic
I could bring Bäsle here.
Met die verbygaan van die jare het die rympies en vulgariteite minder geword, maar tog het dit glad nie heeltemal verdwyn nie en in sy laaste jare in Wene het hy saam met sy vriende kanons by huiskonserte gesing met woorde wat hy spesiaal vir dié geleenthede geskryf het:

Leck mich in Arsch,
Lasst froh uns sein!
Murren ist vergebens,
Murren, Brummen ist vergebens
Ist das wahre Kreuz des Lebens.
Das Brummen is vergebens
Drum lasst uns froh und fröhlich sein.
(Lek maar my agterent.
en laat ons vrolik wees.
Dit help nie om te kla nie.
‘n Knor en ‘n gemor deug glad nie
selfs al sou jy ‘n sware kruis moet dra
help ‘n gemor glad nie.
Laat ons daarom gelukkig en vrolik wees!)
En laastens kom Mozart se menslikheid na vore met sy versie vir sy gestorwe kanarie.
In 1787 is sy troetel-kanarie dood. En omdat hy in die Mozart-huishouding grootgeword het, kon hy glo die rondo-gedeelte van Mozart se klavierkonsert (K 453) fluit.
Volgens oorlewering het Mozart by sy voëltjie se dood ‘n treuroptog gereel en almal wat kon sing, moes sing en swart sluiers dra. En vir hierdie treurspel het hy ‘n requiem vir sy geliefde voëltjie geskryf:

Here rests a bird called Starling
A foolish little Darling.
He was still in his prime
When he ran out of time,
And my sweet little friend
Came to a bitter end,
Creating a terrible smart
Deep in my heart.
Gentle Reader! Shed a tear
For he was dear.
Sometimes a bit too jolly
And at times quite folly,
But nevermore
a bore.
I bet he is now up on high
Praising my friendship to the sky,
Which I render
Without tender;
For when he took his sudden leave,
Which brought to me such grief,
He was not thinking of the man
Who writes and rhymes as no one can.

Tuesday, August 3rd, 2010
Toe dit laas partytjietyd was by my vriend Deon se huis was dit Mahler se Kindertotenlieder wat as partytjiemusiek op die agtergrond gespeel het en ek is doodseker my vriend Bennie luister alreeds voor brekfis na elke liewe noot van Wagner se Tristan und Isolde om hom op te kikker voor hy met sy dagtaak begin.
Ek luister na Gilbert and Sullivan.
Dit het seker begin toe ek destyds my debuut as sanger gemaak het as seerower in Gilbert and Sullivan se Pirates of Penzance en my openingstoneel met ’n sjimpansee moes deel wat toe al die shine gevang het. Daarom sê ek steeds sjimpansees moet liewer aan takke in die oerwoud bly hang of soos Panyo, die tierwyfie, liewers in Bengale moet bly en so nou en dan ‘n Bengalees opvreet vir middagete in plaas van om in alle luuksheid in ’n Toyota-bakkie rondvervoer te word.

Maar luister net wat The Friend op 5 November 1962 oor daardie sjimpansee berig het:
I almost forgot to mention that Omella, the Bloemfontein Zoo’s new chimpanzee just about stole the first scene and certainly stole the last - the latter with a piece of unrehearsed simian informality.
Laasgenoemde sin verwys na Omella wat die verhoog papnat gepie het toe die gehoor entoesiasties begin handeklap het. Van my eie pragtige vertolking was daar helaas g’n enkele woord in die koerant nie.
Ek troos myself egter daaraan dat ek volgens die programfoto – en as seerower (met die hulp van eye-liner) nogal mooi gelyk het in daardie dae.

Maar nou dwaal ek mos af.
In 1982 het ek ’n wonderlike rolprent gesien van die Joseph Papp-produksie van Pirates met Kevin Kline, Angela Lansbury en Linda Ronstadt. Hierdie film vang vir my al die sjarme van Gilbert and Sullivan vas. Dit is vol pret, satiries, vermaaklik, verskriklik snaaks (alhoewel my vriend Roelof nie so dink nie) en boweal met die wonderlikste woordspel van W.S. Gilbert.

Baie mense word al vir meer as ’n honderd jaar vermaak (of word straks geïrriteer) deur die Major General se patter song:
“I am the very model of a modern Major-General,
I’ve information vegetable, animal and mineral,
I know the kings of England, and I quote the fights historical,
from Marathon to Waterloo, in order catagorical;
I’m very well acquainted too with matters mathematical,
I understand equations, both the simple and quadratical.
About binomial theorem I’m teeming with a lot o’ news
with many cheerful facts about the square of the hypotenuse.
Dan volg daar nog vyf versies van die mees ongelooflike woordspel, en hoe die arme sanger al hierdie woorde moet kan sing en memoriseer is natuurlik ’n ander vraag. Maar met Gilbert se wonderlike oor vir woorde word dit nooit ooit tongkopers nie.
En te midde van al die vrolikheid, na die Major General se lied is daar skielik ’n ode aan die poësie:
Although we live by strife,
we’re always sorry to begin it.
For what we ask is life
without a touch of Poetry in it?
Hail Poetry, thou heaven-born maid!
Thou gildest e’en the pirate’s trade:
Hail, flowing fount of sentiment!
All hail, Divine Emollient!
En hier dit kom weer die belangrikheid wat ek self by die skryf van rympies ervaar het. Wanneer jy iets geskryf het, móét jy daardie woorde hardop vir jouself voorlees, want as jy oor jou eie woorde struikel gaan jou leser dit beslis ook doen. Daarom moet jou uiteindelike produk perfek wees. Die klem moet van die begin op die regte lettergrepe val en ’n sin moet alreeds met die eerste deurlees perfek wees.
Partykeer lees ek versies wat ek lank gelede geskryf het, en dan skielik kom ek agter daar is êrens fout en met die byvoeging of weglating van ’n enkele woord of selfs lettergreep kan daardie versie perfek wees.
Hier is die beginreëls van ’n versie wat ek in 2001 vir Die Burger geskryf het oor aktuele dinge van daardie week. Dit was presies die week toe Allan Boesak uit die tronk vrygelaat is. Ek kom nou eers agter dat met die weglating van ’n woord by die een sin, en die byvoeging van ’n ander sou dié versie perfek gelees het.

HOMEWARD BOUND
O, getroue Elna Boesak –
Vreugde gaan weer op jou toesak.
Tyd van wag is gans verby
en jy hoef nie meer te ly.
Jy’s nou terug by liewe Allan
en glad nie meer die nare hel in
oor jou manlief in ’n sel
met ’n selfoon (weet ek wel).
Nou kan hy saans in jou oortjies fluister
en na Paul Simon Cd’s luister.
Die vierde reël moes liewers gelees het: En jy hoef GLAD nie meer te ly.En die negende: Nou kan hy in jou oortjies fluister.
Nou is dié versie metrumgewys heeltemal perfek, maar weereens dwaal ek af, want dis eintlik oor W.S. Gilbert se lirieke wat ek veronderstel is om te gesels.
Gilbert and Sullivan het in die laat negentiende eeu begin saamwerk aan hulle Savoy Operas en onmiddellik ’n gier begin wat tot vandag toe in Engelse lande voortduur. Party mense dink dit is wonderlik, ander kan dit nie verdra nie, maar nes Mozart se musiek móét dit perfek uitgevoer word of anders liewer met rus gelaat word.
Sullivan wat die musiek geskryf het, was die ekstrovert wat van al die publisiteit en aandag gehou het. Gilbert was die presiese teenoorgestelde. Die meeste mense het hom as nors en ongenaakbaar ervaar. Selfs die verhouding tussen dié twee here was formeel (dié dag as hulle nog met mekaar gepraat het.) Dan was die aanspreekvorms vir mekaar: Yes, Mr. Sullivan of No, Mr. Gilbert. Ten spyte van hierdie vreemde verhouding het dié twee se talente saamgesmelt tot die vrolikste musiek en die prettigste lawwe en satiriese lirieke.
In my eie skryfsels ervaar ek self dikwels dat die skieilike vreemde kombinasie van rymwoorde dikwels ’n suksesvolle versie tot gevolg het.
In een van my verveelde oomblikke toe ek destyds opera gesing het en gedurende repetisie-tyd moes sit en wag het ek begin dink wat rym met adder en dit het die volgende versie tot gevolg gehad:
As ’n adder
jou beswadder
en sy skinder
krap en hinder,
dan moet jy net
’n snoek gaan vloek.
Dan krap
die hinder
minder.
En hier was dit net die gevolg van sekere woorde wat met mekaar rym. Kyk net na die volgende rymkombinasies op die woord not, waar die middeljarige Ruth aan die begin van Pirates of Penzance haar lot bekla, en waar dié woorde in die verloop van die verhaal tog sin maak:
Frederick: You told me you were fair as gold!
Ruth: And, master am I not so?
Frederick: And now I see you’re plain and old!
Ruth: I’m sure I’m not a jot so.
Frederick: Upon my innocence you play.
Ruth: I’m not the one to plot so.
Frederick: Your face is lined, your hair is grey.
Ruth: It’s gradually got so.
Doodeenvoudige rymwoorde en op die ou end, snaaks én effektief.
Ek kyk ook na die volgende reëls wanneer die seerowers die jong meisies aanskou en besluit dit is nou tyd vir ontvoer en trou:
Here’s a first-rate opportunity
to get married with impunity,
and indulge in the felicity
of unbounded domesticity.
You shall quickly be parsonified
conjugally matrimonified,
by a doctor of divinity
who resides in this vicinity.
Wat kan lekkerder wees as hierdie vrolike en slim woorde?
Gilbert, wat deur sommiges beskou is as ’n norse, liefdelose man het uiteindelik tog gewys wat se tipe persoon hy werklik was:
Op 29 Mei 1911 het Gilbert swemlesse gegee aan twee jong dames by die meer van sy woning Grim’s Dyke. Een van die meisies het in die moeilikheid beland en toe Gilbert haar probeer red, het hy self verdrink.
Vandag lê hy begrawe by the Church of St John the Evangelist, by die dorpie Stanford. En daarenteen lê, Sullivan, die ekstroverte komponis, met wie hy niks in gemeen gehad het nie, maar saam met wie hy onvergeetlike werke geskep het, begrawe in St. Paul’s Katedraal in Londen.

Luister gerus op Youtube na George Rose se wonderlike vertolking van die Major-General se lied: |