Philip de Vos
Friday, October 15th, 2010
Die ander dag haal ek Lina Spies se versameling verhale en gedigte oor katte uit my boekrak.
Die titel sê alreeds alles: MAJESTEIT, die kat. En dit is sowaar so ’n deftige publikasie: koffietafel-grootte, diep karmosyn omslag en die letters in goud gedruk. En toe ek binne begin blaai en gedigte sien van ons grotes: Sheila Cussons en Johann de Lange en Antjie Krog en Elizabeth Eybers en natuurlik Lina Spies, toe voel ek ’n bietjie minderwaardig, want sou ek dalk ’n boek oor honde moet versamel, sou dit seker ’n bietjie anders daar uitsien: ’n Slapband met vergeelde papier met die minder imponerende titel: MY HOND.
Maar nou ja, dit sal maar seker altyd so wees. Die kat sit op sy troon, en die hond lê en snork saam met jou onder die komberse.
Maar daar is seker geen rede om minderwaardig oor my hondeliefde te voel nie, want na baie deeglike deurlees van my Bybel het ek met rooi pen gemerk dat honde 44 keer in die Bybel genoem word: 35 keer in die Ou Testament en 9 keer in die Nuwe Testament en Lina Spies se katte nie ’n enkele keer nie! Nou voel ek nie meer so sleg nie. die enigste probleem is dat honde alleen genoem word as hulle nare vrouens soos Isebel opvreet, maar dit daar gelaat.

En as mens eers in die wêreldletterkunde begin rondkrap, vind jy gedigte oor katte deur al die groot poëte, maar die arme honde moet maar tevrede wees met versies wat rym, maar ai tog, hoe lekker laat dit my tog nie voel nie, want groot woorde het ek nog nooit verstaan nie, en wat’s verkeerd met rym?
Selfs daardie rympies van jou kinderdae sal vir altyd by jou bly. Van Old Mother Hubbard wat na haar cupboard toe gegaan het en tevergeefs vir ’n beentjie vir haar arme hondjie gaan soek het teenoor daardie bedorwe kat van:
Hey diddle, diddle
the cat and the fiddle.
The cow jumped over the moon.
Ja, weereens trek honde aan die slegste end: Die kat speel viool terwyl die arme hondjie na ’n beentjie smag.
Maar daardie eenvoudige versies het my geliefde honde net dieper in my hart laat kruip. En kyk maar self wat gebeur as jy die Engelse woord Dog agterstevoor skryf. Ja, dit laat mens nogal dink …
In die wêreld van Hollywood was Walt Disney ’n ware hondeliefhebber. Dink maar net aan hoe liefdevol hy vir Pluto behandel en die 101 Dalmations en Lady and the Tramp. Sy katte daarenteen is aaklige gediertes, soos byvoorbeeld die vieslike kat in Cinderella.
En dink maar net aan die Hollywood-films wat jou ’n warmte om die hart laat kry: Lassie come home, en Old Yeller en Marley and Me en die onlangse Hachiko – A dog’s Story. Was daar nog ooit ’n storie oor katte wat enige iemand op aarde laat huil het? Ek twyfel.
En luister net hoe mooi rym Ogden Nash oor ’n hond:
THE DOG
The truth I do not stretch or shove
When I state the dog is full of love.
I’ve also proved by actual test
A wet dog is the lovingest.
En natuurlik weet almal hoe goed ’n hond kan hoor. Ritsel maar net ’n lekkergoedpapiertjie, en kyk wat gebeur en hoor hoe mooi stel Liesel Mueller dit:
WHAT THE DOG PERHAPS HEARS
If an inaudible whistle
blown between our lips
can send him home to us,
then silence is perhaps
the sound of spiders breathing
and roots mining the earth;
it may be asparagus heaving,
headfirst, into the light
and the long brown sound
of cracked cups, when it happens.
We would like to ask the dog
if there is a continuous whir
because the child in the house
keeps growing, if the snake
really stretches full length
without a click and the sun
breaks through clouds without
a decibel of effort,
whether in autumn, when the trees
dry up their wells, there isn’t a shudder
too high for us to hear.
What is it like up there
above the shut-off level
of our simple ears?
For us there was no birth cry,
the newborn bird is suddenly here,
the egg broken, the nest alive,
and we heard nothing when the world changed.
En die reukvermoë van honde is natuurlik legendaries. Ek wonder egter soms of honde self kan ruik as hulle daardie aaklige winde los.
G.K Chesterton rym oor die hond se reuksintuig op sy eie pittige manier:
THE SONG OF QUOODLE
They haven’t got no noses,
The fallen sons of Eve;
Even the smell of roses
Is not what they supposes
But more than mind discloses
And more than men believe.
The brilliant smell of water.
The brave smell of a stone,
The smell of dew and thunder,
The old bones buried under,
Are things in which they blunder
And err, if left alone.
The wind from winter forests,
The smell of scentless flowers,
The breath of bride’s adorning,
The smell of snare and warning,
The smell of Sunday morning,
God gave to us for ours.
And Quoodle here discloses
All things that Quoodle can,
They haven’t got no noses,
And goodness only knowses
The Noselessness of Man.
Die volgende gedig van Yehuda Amichai klink vir my ’n bietjie Bybels wreedaardig amper soos Simson gevoel het toe Delila hom met ’n ander man verraai het :
A DOG AFTER LOVE
After you left me
I let a dog smell at
My chest and my belly.
It will fill its nose
And set out to find you.
I hope it will tear the
Testicles of your lover and bite off his penis
Or at least
Will bring me your stockings between his teeth.
Maar op ’n ligter noot en veel eenvoudiger en natuurlik met met ’n bietjie sentimentaliteit wat mens van hondeliefhebbers verwag (en wat maak dit saak?) is hierdie versie van Ogden Nash:
FOR A GOOD DOG
My little dog ten years ago
was arrogant and spry,
Her backbone was a bended bow
for arrows in her eye.
Her step was proud, her bark was loud,
her nose was in the sky,
But she was ten years younger then,
And so, by God, was I.
Small birds on stilts along the beach
rose up with piping cry.
And as they rose beyond her reach
I thought to see her fly.
If natural law refused her wings,
that law she would defy,
for she could do unheard-of things,
and so, at times, could I.
Ten years ago she split the air
to seize what she could spy;
Tonight she bumps against a chair,
betrayed by milky eye!
She seems to pant, Time up, time up!
My little dog must die,
And lie in dust with Hector’s pup;
So, presently, must I.
Winnie – ’n swart Staffie was ’n wonderlike deel was van my lewe van 1993 – 2008 en op 9 Julie 1995 is my inskrywing oor haar in die Rapport-tydskrif se Skuins voor Maandag-kolom gepubliseer
WINNIE
’n Naamgeëry is ’n ernstige saak, veral as jy reken dat jy dalk vir 70 of 80 jaar daarmee opgeskeep sit. T.S. Eliot het gesê: The naming of cats is a difficult matter, maar hy kon net sowel mense of honde bedoel het.
Ek het gehoor van ’n muiserige meisietjie wat Cleopatra geheet het. Haar ma het seker gedink haar baba is allerpragtig en toe kry sy dié naam, maar later het selfs Max Factor nie eintlik verskil aan haar uiterlike gemaak nie en miskien sou die naam Mara veel beter gepas het. Cleopatra daar gelaat, want dis oor Winnie wat ek begaan is en nie oor ’n onaansienlike meisiekind nie.
’n Andersoortige dame het in my lewe gekom: ’n pikswart Staffordshire-bulterriër, en soos dit soms liefderik oor hulle gepraat word: ’n Staffie en verlangs familie van Jock of the Bushveld.
Ek het haar op Kersfees 1993 aanskou: sy was ses weke oud en pikswart behalwe vir twee wit haartjies op die pens. En toe sy haar eerste glips op die sitkamermat los – en dit was beslis nie van die nat soort nie – weet ek Winnie the Pooh is haar naam. Maar met daardie donker lyfie sou hierdie naam selfs by ons nuwe bedeling kon inpas, en dit help om polities korrek te wees. En toe noem ek haar Winnie en tot vandag toe sal sy op geen ander naam op aarde reageer nie.
Ek het nog altyd gereken ek is ’n kat-mens totdat Winnie daardie eerste keer haar nat snoet onder my duvet ingedruk het en my byna ’n hartaanval laat kry het en toe ewe onskuldig met haar honde-oë in myne gekyk het. Toe is ek gevang soos al die ander.
Die glipsies het mettertyd verdwyn, maar die frustrasies het gebly. Hulle sê mos ’n mens se karakter word in jou eerste lewensjare gevorm en ’n hond s’n in die eerste paar maande. Ek ontdek toe Winnie het literêre aspirasies. Die eerste boek wat sy in haar knaagstadium opgevreet het, was die Nuwe Testament. Toe het my vriend, Peter, opgemerk: “Nou het sy die Blye Boodskap in haar.” Maar selfs die Bybel-gedeeltes wat sy verorber het, het geen verskil aan haar maniere gemaak nie. Die volgende boek wat in die slag gebly het, was Huisgenoot, Wenresepte 2. Die halfgevrete blaaie het die huis volgelê. Toe kry sy ’n Karel Schoeman-boek beet, maar ongelukkig moet ek vermeld dat sy niks verder as die voorblad gekom het nie, wat bewys dat sy nie veel smaak vir hoghere letterkunde het nie.
By boeke het dit nie gebly nie. Een aand het Winnie my grimering bygekom … (maar eers moet ek vinnig verduidelik, ek dra nié vroueklere óf Chanel-parfuum in my vrye tyd nie, want opera is my daaglikse brood). Toneelgrimering het die hele tapyt volgelê en is deeglik met vier hondepote ingetrap. Dit was rooi en swart en pers kolle die hele wêreld vol en die volgende oggend moes ek op my knieë rondkruip en met waspoeier die skade probeer red. Vandag lyk die tapyt so effens anders as tevore: sulke wit-wit kolle, want die waspoeier wat ek gebruik het, maak glo die witste wit.
Ook van ’n hond se gehoorsintuig weet ek nou veel meer. Maak ek die yskas oop, sit Winnie gereed en kyk grootoog na my. En nou het ek ’n yslike skuldgevoel ontwikkel en kry sy gereeld ’n happie. Ek kan seker 5kg ligter weeg, sy ook.
Waarom bederf mens jou kinders so? Winnie lê langs die bed en slaap en soms skrik ek in die middel van die nag wakker. En dis nie vreemde geluide nie, maar vreemde reuke wat my laat wakker word. Winnie los die allervreeslikste winde …
En vlooie? Gou het ek agtergekom hoe lief hulle vir jong hondjies is, en het dié gebytery ’n versie geïinspireer:
Vlooie maak brakke
soms senuweewrakke
met al die gehop en gehappery.
En as hulle stop met die hap en gehop,
dan sit net die hond met die krappery.
En net so lief soos ek vir Winnie geraak het, is daar natuurlik dermiljoene ander honde-eienaars met hul eie Wagters en Fifi’s en Lulu’s en ek onthou die honde van my kinderjare: Gus wat sommerso verdwyn het, en die wonderlike herinnering van Bruno wat altyd in die huis geslaap het. Daardie aand in 1964 het dit in Bloemfontein begin sneeu, so saggies dat ons dit skaars besef het. Dié oggend toe my ma die kombuisdeur oopmaak, was die hele wêreld spierwit. Bruno het hom boeglam geskrik en het ’n grote plas net daar op die kombuisvloer gelos en ’n uur daarna was al die honde van die buurt aan die blaf en rondkerjakker in ’n splinternuwe wêreld wat so half en half bekend gelyk het.
En dan is daar die storie van Bubulina, my vriend, Deon Knobel, se hond. Terwyl hy op Bethlehem kuier, is Bubulina skielik dood. Deon word uit Kaapstad opgebel: Bubu is dood. Wat moet ek met haar maak? En
Deon antwoord: Sit haar in die diepvries tot ek terugkom.Dit was nog altyd vir my ’n heel makabere storie. Bubu in die vrieskas saam met die I & J Bevrore Ertjies. Maar nou dat ek ’n Winnie van my eie het, kan ek dit verstaan. Deon wou maar net vir Bubu vars hou om haar self te begrawe. En Ann Walton, die kunstenares-skryfster, het vir my gesê sy wil self by wees as haar eie Staffie, Honeybun, wat nou al half-blind en doof is, deur ’n veearts na ’n hondehemel gehelp word. En eendag wil ek self vir Winnie in die agtertuin begrawe.
Winnie is nou al meer as ’n jaar by my, ’n tyd van vele frustrasies, maar ook een wat my laat besef het dat die cliché dat ’n hond die mens se beste vriend is, tog die reine waarheid. is.

Wednesday, October 6th, 2010
Oor die jare heen het ek derduisende foto’s geneem vanaf die Donald Duck-kamera wat ek in my kinderdae in Cricketstraat present gekry het en later die Asahi Pentax van 1962 toe ek begin wonder het oor fotografie en begin kyk het na ander mense se foto’s en myself geleer het hoe om foto’s te ontwikkel en af te druk.
Dit is eintlik hoe ver my kennis van fotografie strek. Oor tegniese dinge sal ek nooit met ander mense kan saampraat nie. Met álles wat ek doen, of dit nou skryf, toneelspeel of foto’s neem is, was dit nog altyd intuïtief en kan ek self nie sê of iets goed of sleg is nie, want intellektueel was ek nog nooit ingestel nie, en sal ek nooit met ander skrywers of digters of fotograwe kan saampraat nie. Dis ’n geval van: hou maar liewers jou bek, want dan sal niemand regtig weet of jy slim of dom is nie.
Daardie eerste jare van foto’s neem en ontwikkel was wonderlik. Ons het destyds op Hillside– ongeveer 4 myl buite Bloemfontein gewoon. Een aand was ek juis in die badkamer besig om negatiewe te onwikkel, toe my pa vir my sê ek moet buitetoe kom. Sag, sonder dat ek daarvan bewus was, het sneeuvlokke skielik oor Bloemfontein se dakke kom uitsak.

Ons hond, Bruno het altyd in die kombuis geslaap, en toe my ma dié oggend die kombuisdeur oopmaak, het Bruno so groot geskrik toe hy ’n nuwe wêreld buite sien, dat hy die vloer papnat ge-pie het. ’n Halfuur later was al die honde van die buurt buite en het vrolik rondgehardloop in die wit wêreld buitekant.
En dit was vir my ook ’n wonderlike dag: Skole was gesluit as gevolg van die sneeu en ek kon orals met my kamera saam met my vriendin Ann Horak (ek wonder wat het van haar geword) rondloop in ’n Bloemfontein wat oornag verander het in ’n Bloemfontein wat ons nie geken het nie.

Êrens in ’n lêer het ek nog steeds die negatiewe van daardie wonderlike dag.
Oor die jare is negatiewe weggebêre – party nog nooit afgedruk nie; ander wat ek vaagweg onthou, en ander wat nog al die jare na aan my hart lê.
In 1971 het ek Europa vir die eerste keer besoek en vir ses weke lank was ek in Amsterdam. Dit was ’n traumaties tydperk in my lewe ‘n Verhouding van vier jaar het stadig begin einde toe loop. Ek was verward en het of in my Amsterdamse kamertjie die Tarot-kaarte probeer lees om te sien wat die toekoms dalk inhou, of andersins het ek met my kamera in Sarphatipark gesit en mense dopgehou.
Dit was in die dae voor digitaal. Negatiewe-spoeletjies was of in 24 of 36 beskikbaar en dit was nie soos nou die geval waar jy ’n duisend foto’s kan neem en hoop dat een ordentlik gaan uitkom nie.
Eers terug in Suid-Afrika, sou ek die negatiewe self ontwikkel, en dan deur ’n vergrootglas beloer om te sien watter die moeite was om af te druk. En met die afdrukwerk, was dit ook ’n geval van om in ’n tuisgemaakte donkerkamer te staan en foto’s afdruk en papier te mors tot daar uiteindelik die gewenste afdruk in die ontwikkelaar lê. Vandag is alles te maklik. Jy druk ’n knoppie en jy kan die foto onmiddellik op die monitor beskou en as jy dit in sepia wil hê, druk jy weer ’n knoppie in Photoshop en daar sien jy jou meesterstuk. Destyds het jy miskien reeds 20 velle fotopapier gemors voordat jou sepia-afdruk uiteindelik gereed gelê het.
En hierdie omslagtigheid het my miskien meer krities gemaak oor my eie werk. Selfs nou met digitaal, sal ek nie sommer die knoppie druk nie.
Maar watter van destydse foto’s is blywend?
Na al die jare is daar nog een foto wat by my bly spook. Dit was in Junie 1971, lentetyd in Amsterdam. En ek het my ure dikwels verwyl in Amsterdam se Sarphatipark. Daar was oumense op parkbankies. Jong studente en hippies en spelende kinders op die grasperke.
En toe - tussen die kinders, het ek hom sien staan. ’n Jong seuntjie wat teen ’n boomstam aangeleun het.
Van my was hy glad nie bewus nie. Ek het met groot gesukkel met ’n telefotolens gefokus en die knoppie gedruk.

Dit was die laaste negatief op die spoeletjie van 36. Die oomblik was verby; die seuntjie vergete.
Eers terug in Kaapstad, twee maande later kon ek die negatiewe ontwikkel.
En van toe af, tot nou toe, 38 jaar later onthou ek hierdie kind wat nooit eens van my teenwoordigheid bewus was nie.
Waarom spook juis dié foto by my? Selfs in 1971 reeds het ek gedink dat daar iets is wat hierdie foto besonders maak. Wat dit was, het ek nooit gevra nie, maar ek het in 1971 die foto vergroot, met groot moeite die stofkolletjies en krappies op die negatief verwyder en dié foto juis gebruik vir die plakkaat van my heel eerste foto-uitstalling.
Selfs om ’n plakkaat te maak was ’n hele gedoente. Om die woorde as deel van die plakkaat te maak. moes jy eers Lettraset letters gaan koop en ’n stuk ruitglas, dieselfde grootte van die uiteindelike plakkaat. Na die plasing van die letters op die stuk glas, moes jy in jou tuisgemaakte, tydelike donkerkamer, komberse voor die vensters en deure sit om die lig buite te hou en met die vergroter die beeld deur die glas projekteer. En dan eers, na ’n yslike gesukkel en 20 fotopapier-velle in die asblik het jy hopelik uieindelik die plakkaat.

Waarom dan bly hierdie foto so spesiaal vir my? Ek het nog nooit daaroor nagedink nie, want ek het nog nooit my eie werk probeer ontleed nie. Dit klink al te veel na jakkals prys sy eie stert, maar ek het tog hierdie foto vroeër vandeesweek beter bekyk.
Om die negatief te soek = 2 minute.
Skandering = 5 minute
Die prentjie op my Rekenaar-monitor = 1 minuut
Agt minute teenoor die 3 of 4 uur wat ek dalk destyds gebruik het voordat ek die uiteindelike produk kon sien.
Ek gesels juis verlede week op Facebook met Alwyn Roux wat op die oomblik in Nederland met studienavorsing besig is. In ons gesprek kom my foto ter sprake. Wat maak dié foto dan so spesiaal vir jou? En ek kon nie die vraag beantwoord nie.
Eers gister het ek die foto weer goed bekyk.
En om die waarheid te sê, het ek nog nooit enige van my versies of foto’s ontleed nie - want op die ou end, reken ek, dit klink darem ’n bietjie te egoïsties en aanmatigend.
Ten spyte daarvan en omdat ek hierdie week iets móés hê vir my blog, is hierdie lang inleiding omdat ek nie werklik weet waaroor om te skryf nie.
In sy geheel beskou, sê hierdie foto dalkies iets van kindwees. ’n Seuntjie alleen teen ’n boom. ’n Uitdrukking van (?) Om die waarheid te sê, ek weet self nie wat nie.

Miskien sê die detail dalk meer. Eerstens die gesig as geheel en dan as jy nader beskou: Die oë – after all het iemand geskryf: The eyes are windows to the soul.

Dan die mond – effens na onder getrek.

Of is dit dalk die hande wat iets sê?
Die een hand effens geklem.

Die ander verlep na onder.

Of is dit dalk iets te doen met die voete? Die een voet stewig op die grond die ander voet, half gelig.

En dan natuurlik die feit dat hy so styf teen die boom aanleun.
Maar miskien moet ek maar liewer net die foto onthou uit ’n tydperk in my lewe toe ek self nie so gelukkig was nie.
En in elk geval, die foto van die seun teen die boom het seker maar net ’n sestigste van ’n sekonde van sy lewe vasgevang en ’n sestigste van myne.
Wie hy was, sal ek nooit weet nie en hy sal ook nooit weet dat ek hom 38 jaar gelede teen ’n boom sien staan en my kamera se knoppie gedruk het nie.

Saturday, September 25th, 2010

Iemand vra my die ander dag hoeveel versies ek al oor die jare geskryf het, en die vraag was onmoontlik om te beantwoord, want dit trek sekerlik ver oor ’n duisend (of dalk meer).
En die probleem is, van daardie versies is daar maar enkeles wat ek persoonlik voel die toets van die tyd sal deurstaan. Hope van dié versies was eintlik maar net weggooi-versies en nie bedoel om André Brink of Gerrit Komrij te laat oe! en aa! nie
Vir ’n jaar of drie moes ek vir die destydse tydskrif Afrikaans Vandag elke nou en dan ’n paar versies skryf, en dit was gewoonlik oor iets wat op die plaaslike literêre toneel gebeur het.
In 1998 was daar ’n yslike gedoente toe Madeleine van Biljon aan Maretha Maartens in ’n artikel in Finesse vertel het hoekom sy nie ’n Christen is nie. Die ATKV-dames was so ontsteld dat Madeleine ’n prys wat reeds aan haar toegeken is, moes teruggee. Hierdie affêre het die volgende versie tot gevolg gehad, en ek was veral trots op my rymwoorde beduidenis en heiden is!
Die skets is deur Cora Coetzee

Madeleine, o Madeleine,
waarom het jou prys verdwyn.
Daar was g’n beduidenis
dat jy dalk ’n heiden is.
Maar – jou storie in Finesse
leer ons wel ’n dure les:
dit is beter om te lieg
as om net te staan en bieg.
Madeleine, o Madeleine ,
dáárom het jou prys verdwyn!
Twee jaar daarna is ek deur Die Burger genader om elke week op ’n Dinsdag ’n versie gereed te hê oor iets aktueel. Dit was, snaaks genoeg, nooit ooit vir my ’n probleem nie, anders as die tekste wat ek vir my De Kat-comic saam met Piet Grobler as illustreerder moes skryf. Daar was elke week iets om oor te skryf, en as ek nou na my koerantuitknipsels kyk, is daar baie waarvan ek die insidente heeltemal vergeet het. Die sketse was altyd deur Fred Mouton.
Eugene Terreblanche is destyds veral onthou omdat hy vir ’n paar jaar tronk toe gestuur is, en natuurlik ook omdat hy nie ’n wonderlike perderuiter was nie.

E.T. BLUES
Neef Terreblanche sit in die tjoekie
allenig met sy Bybel-boekie.
Tot siens, ou Raaf, my brawe perd.
“Jy maak vir my die lewe werd.
Ek gee jou nou ’n afskeidskus.
Al val ek soms, sal ek jou mis.
En al het ek geen rand of sent
word tronkvoëls tog – soms
president.’
Die volgende insident onthou ek wel goed. Winnie Mandela het glo by ’n ANC-kongres haar pad na die voorste gestoeltes oop gedruk, maar sy moes nooit vir Mbeki op die wang probeer soen het nie.

JUDASKUS
Tant Sannie sê:
Dink tog gerus
voor jy
die President wil kus.
Dit word beslis ’n grote ramp
as hy jou dalkies
disnis stamp.
’n Vroumens kan mos moed verloor –
veral as sy haar hoed verloor.
Partykeer was die insidente waaroor ek gerym het, heeltemal absurd, byvoorbeeld toe daar gedurende die sensusopname vry kondome uitgedeel is deur die sensusomies wat aan die voordeure kom klop het.

SENSUSTYD
Hiep hiep hoera vir sensus.
Hul tel nou al wat mens is.
Jy kry daarby
’n fraai kondoompie
van ’n gawe
sensusoompie,
want dié sal help
(ja, glo vir my)
dat volksgetalle
staties bly.
Karel Schoeman het in 2003 vir ’n rukkie uit sy kluisenaarsdop gekruip en in Stellenbosch ’n lesing kom gee oor D.J. Opperman. Op die ou end was dit glo eerder ’n lesing oor Karel Schoeman deur Schoeman self.

’N VERSIE VIR KAREL DIE GROTE
Opperman of Schoeman?
Sê wie’s die grootste – tóé man!
Ek weet nie wie die grootste is,
maar darem wie die doodste is.
Die een het lankal heen gegaan.
Toe het ons aan die ween gegaan.
Nou bly daar nog net Schoeman
En hy’s mos GROOT - of hoe, man?
Op ’n eiland is sy woning:
daardie selfgekroonde koning.
Sy Hoogheid sit alleen en kloek
skryf nog ’n laaste, laaste boek …
Ja, hou tog op met mopper, man!
Want Schoeman is nou opper-man!
En toe was daar die groot droogte in Kaapstad waar ons slegs eenkeer per week vir ’n halfuur lank ons tuinslange kon gebruik om ons verlepte plante water te gee. Die volgende versie is seker net soveel op die inwoners van Waterkloof van toepassing sou hulle ooit deur ’n droogte geteister word.
WATERBEKBEPERKINGS
BISHOPSCOURT
O, die droogte,
o, die droogte …
Glad g’n druppels
uit die hoogte.
Die son bak neer.
Die reën bly ver.
My rose
leef van Perrier.
So is daar hope versies wat ek oor die jare geskryf het, weggooiversies wat al lankal saam met die ou koerante in die asblik beland het, maar wat my tog destyds groot plesier gegee het.
Monday, September 13th, 2010

Sou iemand vir my vra: As jy vir die res van jou lewe met een boek op ’n eiland moet sit, watter een gaan jy kies?
Oor hierdie vraag hoef en nie eens tweekeer te dink nie. Vergeet maar van Shakespeare of Tolstoy.Ek sal beslis vir ure, ja,vir die res van my lewe lank met Leon de Stadler se Groot Tesourus van Afrikaans in ’n palmboom se skaduwee sit terwyl ek die dolfyne dophou en met my wysvinger versies in die nat sand skryf.
Ja, daar is maar min boeke wat my so kan inspireer. Die feit bly dat my aandagspan nie veel groter is as dié van ‘n muskiet nie, en daarom bly woordeboeke vir my die ideale leesstof, en ek moet tot my skande erken dat en nog nooit Agaat gelees het nie, daar is darem te veel woorde, maak nie saak hoe mooi hulle agter mekaar inpas nie en woordeboeke het mos in elk geval ál daardie woorde, al is dit miskien net in verskillende volgorde. Ek sê maar net …
Toe De Stadler se Tesourus destyds verskyn het, het dit my selfs geïinspireer om vir hom ’n dankie-sê versie te skryf en aan te stuur:
Daar is ’n coleoptera
wat rondswem in my soptera.
O, vreemde woord.
so skoon en ryk –
Ek moet jou
in ’n vers gebruik.
Jy staan in die
Tesourus
en hoe durf ek
dan
nóú rus.
Jy wiel en draai
hier in my kop –
Ja, nog
’n Gogga in die Sop!
Woordeboeke was al van kindsbeen (naas Trompie) vir my die ideale vorm van letterkunde. Toe ek my eerste woordeboek op ouderdom 10 vashou het ek behoorlik gebewe toe ek na die P-woorde blaai om te kyk of die woord poep daar verskyn, en was eintlik bitter teleurgesteld toe ek dit nie kon kry nie, maar gelukkig het De Stadler se woordeboek intussen deeglik daarvoor vergoed.
’n Paar maande gelede kry ek ’n opdrag van die ATKV om woordeboekversies vir hulle Veertjie-toekennings te skryf, en ’n week of wat daarna word ’n wavrag woordeboeke per koerier by my afgelaai. Die afgelope jaar is daar glo heelwat woordeboeke in Afrikaans gepubliseer en hierdie feit verdien glo ’n versie of twee. My eerste reaksie was: Hoe op aarde skryf mens versies oor woordeboeke, maar op die ou end was daar 10 waarvan ek 5 by die Veertjie-toekennings gelees het:
Blaai jy
deur die
ABC
gee jy gou
‘n tree of 2
want
tussen
Aambeie
en
Zen
leer ‘n mens
die lewe ken .
MY EERSTE HAT-WOORDEBOEK is ’n nuutjie in Afrikaans. Kinders word aan woorde blootgestel en meestal in kort versvorm en vertaal uit die Nederlands deur Daniel Hugo.

Wil jy hê
jou kind moet slim wees
(die klein Einstein van sy klas )
en later ‘n ryk sakeman
met ‘n baadjie en ‘n das ?
Dan moet jy gou-gou –ja verdomp
Jou kind se kop vol woorde pomp.
En voor hy eers gespeen is
sal jy weet dat hy geseën is
en word jou liewe kannetjie
‘n vreeslik slimme mannetjie
en dalkies ‘n professor
of ten minste ‘n assessor
en alles
oor die ABC
uit sy eerste rympie
HAT .
Dan was daar natuurlike die yslike WOORDEBOEK VAN DIE AFRIKAANSE TAAL (deel 13 letter R) Terloops die deel met al die P-woorde bly steeds my gunsteling.
Koop vir jou
dié woordeboek
as jy dié dag na woorde soek:
Een wat glad nie in jou sak pas,
máár wat yslik op jou rak pas
soos daai grote WAT
Ons Afrikaanse ABC
wat nou reeds strek van A tot R
En dit is eintlik blêrrie ver !
Elke woord is hier verklarend
en is áltyd openbarend :
Dan kan jý ook preek en mooipraat
of oor dinge van die kooi praat.
As jy iemand wil beledig
en jou woede wil bevredig,
is daar woorde weet ek wel
waarmee jy
kan vloek en skel:
‘n Woord soos tjorts
of windlawaai
of ander wat jou kop laat draai
soos:
dimorfisme
solepsisme
kretinisme
atomisme
jingoïsme
pingoïsme –
plus ook elke ander – isme
Kry vir jou dié woordeboek
As jy wil GROTE woorde soek.
ANNERLIKE AFRIKAANS (samesteller Dr. Anton Prinsloo) Hier is wonderlike woorde wat ek nog nooit gehoor het, en blykbaar nooit ooit sal hoor nie.
Snotterblok
en drens
en moegoe
gatjieponner
bitterboegoe
diesie-diesie
spuitpoep
fiela
akkelding
en poer
en ghiela
hippetip
en hors
en hoeka
kneukelpister
en pandoeka
dit is vloek
en dit is vleitaal
Soet
en sappige
kontreitaal
Wonnerlik
en annerlik
Sing en dans
in Afrikaans !
Laastens het ek ’n versie ingesluit uit my versamelbundel Mallemeuleman

Kry vir jou ’n woordeboek
as jy die dag na woorde soek
twee vir nou
en twee vir later
drie wat jou laat skree en skater;
Lapa lemma
Liefie loef
Poelepetater
Proos en poef
twee wat nes ‘n engelekoor is
drie wat aaklig- naar
en goor is
Mallemeule oleander
Gagga
pitsweer
heksverbrander
Kry vir jou ‘n woordeboek
en dan kan jý ook kweel en kloek

Sunday, September 5th, 2010
fotograaf: Philip de Vos
(tik op foto om te vergroot.)
So elke maand of twee kry ek ’n bevlieging om te begin opruim en bokse uit te pak, maar het intussen uitgevind dat hierdie proses feitlik oneindigend is. Dis boeke wat nooit gelees is nie en papiere en foto’s en ou briewe (uit die tyd voor e-pos toe mense nog briewe vir mekaar geskryf het) en ou programme van operas waarin ek opgetree het en toneelstukke wat bygewoon is en al lankal vergete is.
En tussen dié programme kry ek eergister een wat sê: PATRICK MYNHARDT celebrates 50 years in the Theatre (1953 – 2003) with BOY FROM BETHULIE.
Elke keer wat Patrick vir my en Peter kom kuier het, was ek bewus van die feit dat ek met ’n ware gentleman te doen het; iemand wat nog kon bel of skryf en dankie-sê nadat hy jou besoek het.
En in dié program kry ek ’n lang vers wat ek spesiaal vir Patrick geskryf het – ’n vers wat nooit êrens in druk verskyn het, of selfs deur iemand – behalwe deur Patrick, gelees is nie.
Destyds was daar nog die S.A.K.R.U.K- toekennings vir (wit) Suid-Afrikaners wat êrens ’n kulturele bydrae gelewer het. Die vorige jaar was dit die dirigent Leo Quayle, Taubie Kushlick, die filmmaker Pierre de Wet, en Anna Cloete, ’n vroeë NTO-toneelspeler vereer is. Ek is juis dié jaar gevra om ’n lang vers vir Anna Cloete te skryf, wat toe deur Albie Louw getoonset is en deur my by die toekenningsaand in die Nico Malan-operahuis gesing is.
Die volgende jaar was dit Patrick Mynhardt se beurt. Weereens is ek genader vir ’n vers wat getoonset sou word. Al die inligting oor Patrick is aangestuur, en nadat ek die versie geskryf het, was die enigste terugvoering dat daar nie genoeg geld was nie, en dié versie het dus vergete gebly tot ek dit weer in die boks ontdek het:
PATRICK MYNHARDT
THE BOYTJIE FROM BETHULIE
Please listen to my story;
Please listen to my song
and when we reach the chorus
you are free to sing along.
CHORUS:
Dear Patrick Mynhardt
Your fans all love you truly!
Dear Patrick Mynhardt
the boytjie from Bethulie! (repeat)
Sy pappa was ‘n boereseun;
Sy ma - an Irish gal,
En dus sal ek sy storie
maar bilingually vertel:
Een aand in die dorpie Bethulie
Die weer was bitterlik koud
Is ‘n bybietjie gebore.
(Gelukkig tog was hul getroud!)
CHORUS:
Dear Patrick Mynhardt
Your fans all love you truly
Dear Patrick Mynhardt
the boytjie from Bethulie!
Ons hoop hy word ‘n dokter;
of dalk ‘n argitek;
or otherwise a salesman
wat glad is met sy bek.
Toe - laat een middag kuier hul
by die buurvrou Missus Barling
en daar sê hy sy eerste woord
en dit was wragtig: “Darling!”
‘n Bybietjie wat “Darling” sê
word eendag mos an actor.
But Mamma really wanted him
to be a chiropractor!
Die jare kom, die jare gaan.
Ja, dis ‘n nare feit .
En toe stuur hul hom Grahamstad toe
na die universiteit.
“Miskien kry hy sy Bachelors,
of anders dalk sy Masters,
Maar - oh, alas - die drie jaar was
vol yslike disasters!
Maar daar hoor hy van Hamlet
To be or not to be!
En toe sê Patrick Mynhardt:
“It’s an actor’s life for me!”
In neëntien drie-en-vyftig
join hy die NTO
Want hy dog toe dis vreeslik nice
as mense skree: “Bravo!!”
Then off he went to London
(an actor’s dream of heaven)
But soon became a porter:
Number K 1 0 3 7.
While he was pushing luggage
(With theatre still besotted)
quoting Hamlet as he worked -
by agents he was spotted.
So thanks to dear old Shakespeare’s
“To be or not to be”
he soon was seen on ev’ry stage,
and BBC TV!
In nineteen sixty back he came.
Some bitch sighed:” Oh,Good grief!”
But Patrick said:”Ag, shame on you!
Ek het my land te lief!”
He then read H.C.Bosman
in nineteen sixty-nine.
And Patrick cried: “Eureka!
I’ve found a diamond mine!”
“I’ve been in more than ninety plays,
in films and also theatre
Maar nóú weet ek Schalk Lourens
van Marico is veel beter!
Nou doen ek “Jerepigo”
Tot die einde van my dae.
An actor also has to live,
En waarom sal ek kla?
I might not be Clark Gable
Or Lord Olivier …
Maar die Boytjie van Bethulie
Sal vir áltyd hierso bly
CHORUSDear Patrick Mynhardt
Your fans all love you truly!
Dear Patrick Mynhardt
The Boytjie from Bethulie!
(Weliswaar ’n weggooiversie, maar tog een wat my destyds groot plesier gegee het en as ’n soort dankie-sê vir Patrick vir sy Boere-ordentlikheid.)
Monday, August 30th, 2010
Een van die vrae wat ek gereeld gevra word, is: Waarmee is jy nou besig? Versies is ongelukkig nie iets wat ek sommer kan uitryg nie, en partykeer dink ek in elk geval ek het reeds my sê gesê, maar party mense dink daar is ’n oneindige bron van woorde, nes die weduwee se kruik waarmee ek toevallig in my laerskooljare gedurende Bybelkenniseksamens kennis gemaak het.
Daai kruik is egter soms ’n bietjie aan die droë kant, maar tog is ek gelukkig dat naas skryf, fotografie al vir jare een van my belangstellings is.
Dit het in die vroeë sestigs gebeur toe ek my Donald Duck-kamera verruil het vir ’n Asahi Pentax en saans foto’s in my ma se kombuis begin ontwikkel en afdruk het. My ma het skielik begin wonder waarom al die roeskolle skielik op haar nuwe wasbak verskyn het, en ek kon dit nooit oor my hart kry om te sê dit was die foto-fikseerder se skuld nie en selfs Vim het niks vir daardie kolle gehelp nie, hulle was vir ewig en altyd daar.
Toe ek in die Kaap kom woon het, het ek aangehou met my fotografie en om een of een of ander rede het ek bekendes begin nader om foto’s in hulle eie omgewing af te neem.
Dit was toe dat ek verneem het dat Mary Renault, die wêreldberoemde romanskrywer in Kaapstad woon. Ek het haar per brief genader en was verras toe sy ja gesê het, en dis ook van haar wat ek later my grootste kompliment oor my fotografie ontvang het: You are the only photographer who ever made me relax. En die rede is, dat ek slegs met ’n kamera gewapen opdaag. Geen ligte nie, geen driepote nie, net ek en my kamera en die persoon wat ek afneem.
’n Vriend het my eenkeer gevra of my afnemery van bekendes nie miskien’n subtiele manier van names dropping is nie, maar ek hoop nie so nie. Ek weet self nie waarom hierdie tipe fotografie my interesseer nie, maar op die ou end het dit seker êrens ’n waarde – ál is dit net vir die optekening van kreatiewe persone wat op ’n sekere tydperk in Suid-Afrika hulle ding gedoen het.
Net een persoon het vir my nee gesê toe ek hom wou afneem. Tretchikoff het vir my gesê hy wou volkleur ateljee-foto’s het en toe hy hoor myne was net swart-wit met natuurlike lig, is die telefoonoproep gou beëindig.
Maar as jy ’n persoon afgeneem het, hoe kies jy die beste, of liewers die enigste foto wat jy op die ou end gaan gebruik? En daardie een foto is dikwels ontwykend, want jou flops is op die ou end net vir jou eie oë bedoel.
Ek wil vandag die foto’s van ons webmeesters Louis Esterhuizen en Marlise Joubert as voorbeeld gebruik.
’n Klompie jare gelede is ek genader vir ’n foto-uitstalling van my werk by die KKNK en omdat ek ’n tema moes hê, het ek besluit op Boekmense van die Kaap. En die enigste rede was, dat ek minder skaam is om skrywers te nader as fris en miskien visueel aantrekliker rugbyspelers, omdat al wat ek tot vandag toe van sport weet, is dat ’n sokkerbal rond is en dat ’n rugbybal effens na ’n eier lyk.
Toe ek dus begin foto’s van skrywers en digters neem het ek verneem dat Louis Esterhuizen nou in die Kaap woon en onderwyser was by Rondebosch Boys High.
Ek onthou steeds dat ek nooit met daardie dag se foto’s tevrede was nie. Daar was net hierdie iets wat ontbreek het. Ek het vanmiddag die ou negatiewe uitgegrawe, en tot my skande het ek dit opgeteken as negatiewe van Louis Eksteen (jammer, Louis!)
Die foto wat ek uiteindelik van Louis gebruik het, was een waar hy teen ’n boom staan – wat op die ou end taamlik niksseggend is.

Met die deurkyk van die negatiewe, is daar ’n ander een wat ek seker liewers destyds moes gebruik het. Louis op sy bed in ’n koshuiskamer. En skielik onthou ek dat ons saam rooiwyn gedrink het, en dat ek vir hom een van my strokiestekste gelees het, vir my comic wat destyds saam met Piet Grobler se sketse in De Kat verskyn het.

Ek dink hierdie middag se foto’s is geneem nog voordat hy vir Marlise Joubert geken het, en kort daarna het ek vir Marlise by haar huis in Stellenbosch gaan afneem. Hierdie keer was dit veel makliker om die beste foto te kies, want Marlise, en die bloese wat sy dié dag gedra het, het as’t ware saamgesmelt met die muurskildery by die voordeur.

En met vandag se deurkyk van die negatiewe, kry ek ’n paar wat ek dié middag van Marlise en haar dogter geneem het – albei uiters fraai op die oog af.

In 2005 het ek weer foto’s van Marlise en Louis, wat intussen getroud is, gaan afneem en was ek bewus van ’n groot warmte tussen hulle – en het gehoop dat ek dit in ’n enkele foto kon vasvang.
Party van die foto’s van dié middag, was slegs plesierig, en net vir die lekkerte. Marlise het nog steeds die vrolike bloese van die vorige keer besit, en ek het haar weer by die muur gaan afneem, met Louis wat geamuseerd agter die hek staan en toekyk.
Maar die foto wat ek uiteindelik gebruik het, was binnehuis geneem, met Marlise en Louis onderkant die skildery van twee geliefdes.En hierdie keer het ek onmiddellik geweet: hierdie kiekie is die mooiste een van almal. Dit sê alles en is goed genoeg om in my fotoboek Milieu te verskyn.

Friday, August 20th, 2010
Op die 4de Augustus kry ek ’n e-pos:
Fiona Coyne wants to be friends on Facebook,
Dié dag het ek gewonder waarom Fiona Coyne juis vir my skielik as Facebook-vriend wou hê en het met my slegte gewoonte van uitstel, besluit om wel later daarop te reageer.
Ek het Fiona leer ken toe ek destyds nog operasanger was,en ons saam in die musical Annie opgetree het.
Ek het later weer van haar bewus geword as die sogenaamde bitsige aanbieder van The Weakest Link TV-program.
In 2004 was ek juis besig met foto’s neem vir my fotoboek Milieu met foto’s van kreatiewe Suid-Afrikaners en het besluit om haar te nader, maar is vertel dat sy deur die TV-maatskappy beveel is dat sy slegs in haar kenmerkende swart drag afgeneem mag word.
Met die neem van die foto’s was ek, ten spyte van haar swart klere van ’n skugterheid bewus, so anders as haar beeld op TV.
Daarna het ek Fiona nooit weer gesien nie.
Vandeesweek , op 18 Augustus lees ek die volgende opskrif in Die Burger:
Weakest Link aanbieder sterf.
’n Dag daarna:
Aktrise neem eie lewe.
En op die 20ste:
Vrees vir mislukking en eensaamheid lei tot selfmoord.
En skielik onthou ek van die e-pos van die 4de en dat ek nooit daarop reageer het nie. Op die Facebook-blad is daar slegs twee opsies as iemand vra om jou vriend te wees: confirm as friend of anders ignore. En ek het geen een van die die twee gedoen op die dag dat ek dit ontvang het nie.
En al wat my nou steeds bybly is die foto van haar in Milieu, weerloos en effens skugter.
Tuesday, August 10th, 2010
In 1984 toe Milos Forman die Peter Shaffer-toneelstuk as Amadeus verfilm het, het dit agt Oscars gewen en is dit by een rolprentteater in Kaapstad vir bykans ‘n jaar vertoon en het baie jongmense vir die eerste keer kennis gemaak met die musiek van Mozart. Maar nié net die musiek nie maar ook met Mozart as persoon.
Mozart is uitgebeeld as die skepper van sublieme musiek, maar ook terselfdertyd as ‘n kru, kinderagtige nar.
Mozart-liefhebbers het onmiddellik hierdie siening verwerp en dit selfs as ‘n soort heiligskennis beskou, maar dikwels was dit liefhebbers wat nog nooit enige van die Mozart-briewe gelees het nie of anders nooit enige van die menige biografieë in die hande gehad het nie.
As mens egter dieper begin delf, wonder mens of Milos Forman en Shaffer nie miskien reg was nie. Toe ek in 1990 begin skryf het aan my novelle oor Mozart – Trazom wat later as Tot siens, Tommasino gepubliseer is, het ek vir meer as ‘n jaar lank alles gelees en gekoop wat ek oor Mozart in die hande kon kry. Hier was dit veral die vertaling van die Mozart-briewe deur Emily Anderson asook die uitstekende Mozart – a documentary biography van Otto Erich Deutsch waarin hy alle bestaande dokumente oor Mozart versamel het.
In hierdie boek is daar fassinerende stukkies oor Mozart as persoon, Mozart as komponis en selfs Mozart as versiemaker.
Voordat mens by die versiemaker uitkom, is dit interessant om te lees hoe tydgenote hom as persoon ervaar het.

In 1808 het Joseph Lange die volgende opgemerk: “Niemand sou ooit vir Mozart na aanleiding van sy gesprekke as ‘n groot gees beskou het nie veral nie as hy besig was met die komponeer van ‘n grootse werk nie. By sulke geleenthede het hy deurmekaar en onsamehangend gepraat, en het dikwels grappies gemaak wat mens nooit van hom sou verwag het nie. Dan was sy vulgêre uitbarstings in skerp kontras met die wonderskone idees van sy musiek.”
En selfs Johann Andreas Schachtner – ‘n huisvriend, het vir Mozart, in 1792, ‘n jaar na sy dood so aan sy suster Nannerl beskrywe: “Wolfgang het ‘n vurige geaardheid gehad, en niks kon sy aandag vir meer as ‘n paar oomblikke hou nie. Ek reken dat as hy nie so ‘n goeie opvoeding van sy vader ontvang het nie, kon hy in ‘n opperste skurk ontaard het, so aangetrokke was hy tot die goeie sowel as die slegte.”
En in Karoline Pichler se memoirs het sy hom as volg beskryf: “Een middag toe ek by die klavier gesit het en die Non più andrai uit Die Huwelik van Figaro gespeel het, het Mozart wat by ons kom kuier het, agter my kom staan. Hy moes tevrede gewees het, want hy het self die melodie begin neurie en die ritme van die musiek op my skouer uitgetik, maar toe het hy skielik ‘n stoel nader getrek; vir my gesê om die basgedeelte te speel terwyl hy die wonderlikste melodieë begin improviseer het en ons almal met ingehoue asem daarna geluister het. Maar toe het hy skielik verveeld geword, en nes hy so dikwels tevore gedoen het, nes ‘n gek opgespring; oor die tafels en stoele gespring, nes ‘n kat begin miaau en begin ronddans presies net soos ‘n stoute kind.”
Wat hier deur tydgenote van Wolfgang Amadeus Mozart gesê is, wys dat Forman en Shaffer miskien nié so ver verkeerd was in hulle uitbeelding in die film Amadeus nie.
Van jongs af was Mozart behalwe vir sy musiek ook lief vir allerhande woordspeletjies, die verdraaiing van woorde en die maak van sy eie rympies.
In 1770 was hy en sy pa Leopold op pad Italië toe en het Wolfgang in die briewe aan sy suster en ma dikwels grappies begin maak.
Op 10 Februarie 1770 op ouderdom 14 sluit hy ‘n brief met die volgende woorde af: “Ek soen Mamma se hand en vir my suster gee ek ‘n lekker sopnat soen – en ek bly steeds die ou – hoe sal ek nou sê? – dieselfde ou gek: Wolfgang in Germania, Amadeo in Italia De Mozartini.
En twee jaar daarna voeg hy alreeds versies by sy briewe. (Vir die versies sal ek elke keer die uitstekende Engelse vertaling van Robert Spaethling gebruik, wat meer as die Emily Anderson die gees van die Mozart-versies vasvang. In die dorpie Botzen was hy blykbaar verskriklik verveeld en skryf hy die volgende:
Before I come back to the Botzen place,
I’d rather smack myself in the face.
Groot poësie is dit sekerlik nie, maar heel onskuldig in vergelyking wat hy in later jare sou skryf. In baie briewe daarna het hy woorde agterstevoor begin skryf of selfs in geskrewe sinne die een woord met die ander laat rym: En hier is dit veral by die briewe wat hy vir sy niggie Maria Thekla geskryf in 1777 geskryf het en bekend geword het as die Bäsle-briewe. (Weereens gebruik ek die Spaethling-vertaling)

Dearest cozz buzz!
I have received reprieved your highly esteemed writing biting, and I have noted doted that my uncle garfunkle, my aunt slant, and you too, are all well mell. We too, thank god are in good fettle kettle. Today I got the letter setter from my Papa Haha safely into my claws paws. I hope too you have gotten rotten my note quote that I wrote to you from Mannheim. So much the better, better the much so! But now for something more sensible …
En dan teken hy sy briewe dikwels in dié tyd as:
Gnaglow Trazom
neiv ned 12 tsugua 7771
En kort daarna verval sy briewe aan sy niggie in absolute toilethumor en rymelary:
Dreck! Dreck! O Dreck!
O süsses Wort
Dreck! Schmeck!
Auch schön
Dreck! Schmeck!
Dreck! Leck!
o charmante!
Dreck Leck!
Das freüet mich!
Dreck Schmeck!
und leck!
Schmeck dreck
und leck dreck!
En dit is nié net aan sy niggie wat hy op hierdie manier skryf nie, maar ook aan sy moeder wat blykbaar sy toilet-humor gedeel het:

Op 31 Januarie, 1778 skryf hy:
Madame Mutter!
I like to eat Butter.
We are, Thank the Lord
Healthy and never bored.
Our trip is bright and sunny,
Though we haven’t any money;
We enjoy the company we keep,
We are not sick, we do not weep.
Of course, the people I see
Have shit in their bellies, just like me.
But they will let it out with a whine,
either before or after they dine.
There’s a lot of farting during the night.
And the farts resound with thunderous might.
Yesterday, though, we heard the king of farts.
It smelled as sweet as honey tarts.
While it wasn’t in the strongest of voice.
It still came out with a powerful noise.
We have now been here for over a week
Shitting muck upon muck in a steady streak …
But now I’d better stop this Poetry of wit.
That’s not counting the hole on which we sit.
Just one more thing allow me to add:
Monday coming please don’t be sad.
For I’ll have the honour of kissing your hands
Though before I see you, I’ll shit in my pants.
adieu Mamma
Yours with deep respect and allegiance
and full of scabs and obedience
TRAZOM
Maar, in 1779, wys Mozart ook sy romantiese kant en skryf hy ‘n liefdesversie vir sy geliefde niggie Maria Thekla
Your picture sweet, O Bäsle
hovers before my eye,
but each sad tear will tell me
that you are- nowhere nigh.
I see it in the setting sun,
I see it in the rising moon,
I see it and I weep and sigh
that you are nowhere nigh.
In the flowers of the valley
which I have gathered for her,
in each of the myrtle branches
which I twist and twine for her.
I conjure up her image,
I implore her to appear;
if only by some magic
I could bring Bäsle here.
Met die verbygaan van die jare het die rympies en vulgariteite minder geword, maar tog het dit glad nie heeltemal verdwyn nie en in sy laaste jare in Wene het hy saam met sy vriende kanons by huiskonserte gesing met woorde wat hy spesiaal vir dié geleenthede geskryf het:

Leck mich in Arsch,
Lasst froh uns sein!
Murren ist vergebens,
Murren, Brummen ist vergebens
Ist das wahre Kreuz des Lebens.
Das Brummen is vergebens
Drum lasst uns froh und fröhlich sein.
(Lek maar my agterent.
en laat ons vrolik wees.
Dit help nie om te kla nie.
‘n Knor en ‘n gemor deug glad nie
selfs al sou jy ‘n sware kruis moet dra
help ‘n gemor glad nie.
Laat ons daarom gelukkig en vrolik wees!)
En laastens kom Mozart se menslikheid na vore met sy versie vir sy gestorwe kanarie.
In 1787 is sy troetel-kanarie dood. En omdat hy in die Mozart-huishouding grootgeword het, kon hy glo die rondo-gedeelte van Mozart se klavierkonsert (K 453) fluit.
Volgens oorlewering het Mozart by sy voëltjie se dood ‘n treuroptog gereel en almal wat kon sing, moes sing en swart sluiers dra. En vir hierdie treurspel het hy ‘n requiem vir sy geliefde voëltjie geskryf:

Here rests a bird called Starling
A foolish little Darling.
He was still in his prime
When he ran out of time,
And my sweet little friend
Came to a bitter end,
Creating a terrible smart
Deep in my heart.
Gentle Reader! Shed a tear
For he was dear.
Sometimes a bit too jolly
And at times quite folly,
But nevermore
a bore.
I bet he is now up on high
Praising my friendship to the sky,
Which I render
Without tender;
For when he took his sudden leave,
Which brought to me such grief,
He was not thinking of the man
Who writes and rhymes as no one can.

Tuesday, August 3rd, 2010
Toe dit laas partytjietyd was by my vriend Deon se huis was dit Mahler se Kindertotenlieder wat as partytjiemusiek op die agtergrond gespeel het en ek is doodseker my vriend Bennie luister alreeds voor brekfis na elke liewe noot van Wagner se Tristan und Isolde om hom op te kikker voor hy met sy dagtaak begin.
Ek luister na Gilbert and Sullivan.
Dit het seker begin toe ek destyds my debuut as sanger gemaak het as seerower in Gilbert and Sullivan se Pirates of Penzance en my openingstoneel met ’n sjimpansee moes deel wat toe al die shine gevang het. Daarom sê ek steeds sjimpansees moet liewer aan takke in die oerwoud bly hang of soos Panyo, die tierwyfie, liewers in Bengale moet bly en so nou en dan ‘n Bengalees opvreet vir middagete in plaas van om in alle luuksheid in ’n Toyota-bakkie rondvervoer te word.

Maar luister net wat The Friend op 5 November 1962 oor daardie sjimpansee berig het:
I almost forgot to mention that Omella, the Bloemfontein Zoo’s new chimpanzee just about stole the first scene and certainly stole the last - the latter with a piece of unrehearsed simian informality.
Laasgenoemde sin verwys na Omella wat die verhoog papnat gepie het toe die gehoor entoesiasties begin handeklap het. Van my eie pragtige vertolking was daar helaas g’n enkele woord in die koerant nie.
Ek troos myself egter daaraan dat ek volgens die programfoto – en as seerower (met die hulp van eye-liner) nogal mooi gelyk het in daardie dae.

Maar nou dwaal ek mos af.
In 1982 het ek ’n wonderlike rolprent gesien van die Joseph Papp-produksie van Pirates met Kevin Kline, Angela Lansbury en Linda Ronstadt. Hierdie film vang vir my al die sjarme van Gilbert and Sullivan vas. Dit is vol pret, satiries, vermaaklik, verskriklik snaaks (alhoewel my vriend Roelof nie so dink nie) en boweal met die wonderlikste woordspel van W.S. Gilbert.

Baie mense word al vir meer as ’n honderd jaar vermaak (of word straks geïrriteer) deur die Major General se patter song:
“I am the very model of a modern Major-General,
I’ve information vegetable, animal and mineral,
I know the kings of England, and I quote the fights historical,
from Marathon to Waterloo, in order catagorical;
I’m very well acquainted too with matters mathematical,
I understand equations, both the simple and quadratical.
About binomial theorem I’m teeming with a lot o’ news
with many cheerful facts about the square of the hypotenuse.
Dan volg daar nog vyf versies van die mees ongelooflike woordspel, en hoe die arme sanger al hierdie woorde moet kan sing en memoriseer is natuurlik ’n ander vraag. Maar met Gilbert se wonderlike oor vir woorde word dit nooit ooit tongkopers nie.
En te midde van al die vrolikheid, na die Major General se lied is daar skielik ’n ode aan die poësie:
Although we live by strife,
we’re always sorry to begin it.
For what we ask is life
without a touch of Poetry in it?
Hail Poetry, thou heaven-born maid!
Thou gildest e’en the pirate’s trade:
Hail, flowing fount of sentiment!
All hail, Divine Emollient!
En hier dit kom weer die belangrikheid wat ek self by die skryf van rympies ervaar het. Wanneer jy iets geskryf het, móét jy daardie woorde hardop vir jouself voorlees, want as jy oor jou eie woorde struikel gaan jou leser dit beslis ook doen. Daarom moet jou uiteindelike produk perfek wees. Die klem moet van die begin op die regte lettergrepe val en ’n sin moet alreeds met die eerste deurlees perfek wees.
Partykeer lees ek versies wat ek lank gelede geskryf het, en dan skielik kom ek agter daar is êrens fout en met die byvoeging of weglating van ’n enkele woord of selfs lettergreep kan daardie versie perfek wees.
Hier is die beginreëls van ’n versie wat ek in 2001 vir Die Burger geskryf het oor aktuele dinge van daardie week. Dit was presies die week toe Allan Boesak uit die tronk vrygelaat is. Ek kom nou eers agter dat met die weglating van ’n woord by die een sin, en die byvoeging van ’n ander sou dié versie perfek gelees het.

HOMEWARD BOUND
O, getroue Elna Boesak –
Vreugde gaan weer op jou toesak.
Tyd van wag is gans verby
en jy hoef nie meer te ly.
Jy’s nou terug by liewe Allan
en glad nie meer die nare hel in
oor jou manlief in ’n sel
met ’n selfoon (weet ek wel).
Nou kan hy saans in jou oortjies fluister
en na Paul Simon Cd’s luister.
Die vierde reël moes liewers gelees het: En jy hoef GLAD nie meer te ly.En die negende: Nou kan hy in jou oortjies fluister.
Nou is dié versie metrumgewys heeltemal perfek, maar weereens dwaal ek af, want dis eintlik oor W.S. Gilbert se lirieke wat ek veronderstel is om te gesels.
Gilbert and Sullivan het in die laat negentiende eeu begin saamwerk aan hulle Savoy Operas en onmiddellik ’n gier begin wat tot vandag toe in Engelse lande voortduur. Party mense dink dit is wonderlik, ander kan dit nie verdra nie, maar nes Mozart se musiek móét dit perfek uitgevoer word of anders liewer met rus gelaat word.
Sullivan wat die musiek geskryf het, was die ekstrovert wat van al die publisiteit en aandag gehou het. Gilbert was die presiese teenoorgestelde. Die meeste mense het hom as nors en ongenaakbaar ervaar. Selfs die verhouding tussen dié twee here was formeel (dié dag as hulle nog met mekaar gepraat het.) Dan was die aanspreekvorms vir mekaar: Yes, Mr. Sullivan of No, Mr. Gilbert. Ten spyte van hierdie vreemde verhouding het dié twee se talente saamgesmelt tot die vrolikste musiek en die prettigste lawwe en satiriese lirieke.
In my eie skryfsels ervaar ek self dikwels dat die skieilike vreemde kombinasie van rymwoorde dikwels ’n suksesvolle versie tot gevolg het.
In een van my verveelde oomblikke toe ek destyds opera gesing het en gedurende repetisie-tyd moes sit en wag het ek begin dink wat rym met adder en dit het die volgende versie tot gevolg gehad:
As ’n adder
jou beswadder
en sy skinder
krap en hinder,
dan moet jy net
’n snoek gaan vloek.
Dan krap
die hinder
minder.
En hier was dit net die gevolg van sekere woorde wat met mekaar rym. Kyk net na die volgende rymkombinasies op die woord not, waar die middeljarige Ruth aan die begin van Pirates of Penzance haar lot bekla, en waar dié woorde in die verloop van die verhaal tog sin maak:
Frederick: You told me you were fair as gold!
Ruth: And, master am I not so?
Frederick: And now I see you’re plain and old!
Ruth: I’m sure I’m not a jot so.
Frederick: Upon my innocence you play.
Ruth: I’m not the one to plot so.
Frederick: Your face is lined, your hair is grey.
Ruth: It’s gradually got so.
Doodeenvoudige rymwoorde en op die ou end, snaaks én effektief.
Ek kyk ook na die volgende reëls wanneer die seerowers die jong meisies aanskou en besluit dit is nou tyd vir ontvoer en trou:
Here’s a first-rate opportunity
to get married with impunity,
and indulge in the felicity
of unbounded domesticity.
You shall quickly be parsonified
conjugally matrimonified,
by a doctor of divinity
who resides in this vicinity.
Wat kan lekkerder wees as hierdie vrolike en slim woorde?
Gilbert, wat deur sommiges beskou is as ’n norse, liefdelose man het uiteindelik tog gewys wat se tipe persoon hy werklik was:
Op 29 Mei 1911 het Gilbert swemlesse gegee aan twee jong dames by die meer van sy woning Grim’s Dyke. Een van die meisies het in die moeilikheid beland en toe Gilbert haar probeer red, het hy self verdrink.
Vandag lê hy begrawe by the Church of St John the Evangelist, by die dorpie Stanford. En daarenteen lê, Sullivan, die ekstroverte komponis, met wie hy niks in gemeen gehad het nie, maar saam met wie hy onvergeetlike werke geskep het, begrawe in St. Paul’s Katedraal in Londen.

Luister gerus op Youtube na George Rose se wonderlike vertolking van die Major-General se lied: |